ʼn Boek oor ʼn besondere manier van geloofsgroei

Book Title: Groei in die geloof ... en vestig God se lewende Woord in jou hart
Author: W. Cordeiro
ISBN: 978-1-77000-725-3
Publisher: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2011, R109.95
*Book price at time of review

Reviewer: George Lotter1
Affiliation: 1Department of Practical Theology, North-West University, South Africa
Postal address: PO Box 20777, Noordbrug 2522, South Africa
How to cite this book review: Lotter, G., 2013, ‘ʼn Boek oor ʼn besondere manier van geloofsgroei’, In die Skriflig/In Luce Verbi 47(1), Art. #123, 1 page. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v47i1.123
Copyright Notice: © 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

Wayne Cordeiro huldig ’n interessant benadering in hierdie boek: hy beskryf die bybelse ‘mentors’ as sy beste vriende, mense soos Dawid, Moses, Jeremia en Nehemia, om maar enkeles te noem. In die tyd waarin mentorskap weer opnuut aandag in die algemene en sakelewe kry, is sodanige benadering besonder toepaslik. Hy gebruik hierdie benadering as vertrekpunt om verder te beskryf hoe die Bybel in die hele proses van geloofsgroei- en ontwikkeling gebruik kan word.

Die boek word in drie dele verdeel, naamlik ‘Die stem wat lewe bring’, ‘Hoe om God se stem te hoor’ en ‘Hoe soet die klank van daardie stem’.

Agter in die boek is ’n bylaag waarin vrae ten opsigte van die hou van ’n Skrifstudiejoernaal gevra word. Daar is ook voorbeelde van joernale met afdelings waar die Bybelgedeelte, jou eie waarneming, die toepassing en ’n gebed opgeteken kan word. In die boek self word die motivering en agtergrond gestel waarom ’n joernaal van jou eie Skrifstudie en geloofslewe geskryf behoort te word.

Die metafoor wat dwarsdeur die boek gebruik word, noem Cordeiro ’n heilige omheining rondom die wortels van jou geestelike lewe. Dit gaan dus oor die beskerming van jou geestelike lewe op verskillende maniere en op verskillende terreine. Op bladsy 87 beskryf hy die manier om dit as ’n ywerige student van die lewe aan die Universiteit van die Heilige Gees te doen. ’n Mens moet die volgende toerusting beskikbaar hê: die Bybel, ’n pen, ’n joernaal, ’n Bybelleesplan en ’n dagbeplanner. Hy stel self ’n leesplan vir die leser beskikbaar (bl. 158–166) waarin hy planmatig op ’n maandelikse wyse aandui hoe die Bybel binne een jaar deurgelees kan word.

Wat my veral beïndruk het, is die wyse waarop Cordeiro die dissipline van daaglikse Skrifstudie, gebed, nadenke en die toepassing daarvan in die alledaagse lewe beklemtoon. ’n Mens sou dit maklik kon afmaak as tipiese Amerikaanse pragmatisme, maar al lesende deur die boek, besef jy dat hedendaagse Christene sodanige ‘geestelike dissipline’ nodig het en dat die gejaagde lewe ’n mens verlei (of so besig hou) dat dit nie meer nagekom word nie. Die toets sou waarskynlik wees om die riglyne wat hy in die boek voorstel, ten minste vir ’n jaar na te volg.

Wat ’n mens waardeer, is die aanvaarding van die Bybel as gesagvol en uniek, veral in hierdie tyd waarin sodanige elemente wêreldwyd onder verdenking staan by baie teoloë. Cordeiro formuleer dit in vier stellings soos volg:

• Die Bybel is die enigste boek wat God ooit belowe het om te inspireer.
• Die Bybel is die enigste boek waarin al die hemelse mentors gevind kan word.
• God belowe Sy seën spesifiek aan die wat die Bybel lees.
• Die Bybel is die enigste boek wat vir ewig sal bestaan (bl. 172–175).

Hierdie boek van Wayne Cordeiro handel nie noodwendig oor nuwe, dramatiese sake nie, maar open weer die debat oor die waarde van geestelike dissipline. Geestelike dissipline is uiters nodig in die tyd van geloofsvervlakking en die uitlewing daarvan. Die boek lees gemaklik en word interessant aangebied met vertellings van alledaagse sake asook ’n eietydse parafrasering van bybelse gebeure.

Ek sal graag hierdie boek koop en lesers aanmoedig om dit te koop. Dit is veral geskik vir mense wat erns maak met hulle geloofsgroei en ook vir diegene wat hulle daarin begelei (predikante, pastore en beraders), sowel as vir mense wat jong Christene ondersteun op die nuwe geloofspad waarop hulle loop. Dit word ook sterk aanbeveel vir volwasse gelowiges wat verder in hulle geloof en heiligmaking wil groei.



Crossref Citations

No related citations found.