Opwindende nuwe boek oor vergewing!

Book Title: Volkome vergifnis
Author: R. T. Kendall
ISBN: 978-1-77000-912-7
Publisher: CUM, 2011, R89,95*
*Book price at time of review

Reviewer: George Lotter
Affiliation: 1Practical Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa
Postal Adress: 1PO Box 20777, Noordbrug 2522, South Africa
How to cite this book review: Lotter, G., 2012, ‘Opwindende nuwe boek oor vergewing!’, In die Skriflig/In Luce Verbi 46(1), Art. #124, 1 page. http//dx.doi.org/10.4102/ids.v46i1.124
Copyright Notice: © 2012. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

Vergifnis is en bly steeds ’n baie aktuele onderwerp binne die geloofsgemeenskap en die verskyning van hierdie boek illustreer die feit weer eens. Die subtitel lui: ‘Om te vergewe, is God se pad tot volkome vryheid’, en dui die eintlike fokus van die boek duidelik aan. Die skrywer, R.T. Kendall, was vir baie jare verbonde aan die Westminster Chapel in Londen (alhoewel hy oorspronklik van Amerika af gekom het) en het ’n indrukwekkende lys van boeke geskryf. Hierdie boek is die resultaat van ’n lang en vrugbare bediening en deel Kendall se eie ervarings met betrekking tot vergifnis. Dit is deurgaans binne ‘n goeie teologiese raamwerk geplaas, terwyl dit ook getuig van sy pastorale agtergrond.

Kendall hanteer, wat my betref, al die belangrikste aspekte van vergewing wat steeds noodsaaklik is wanneer oor die tema geskryf word, soos dat vergewing by God begin, dat dit moet deurwerk na jou naaste en ook dat vergewing terapeutiese waarde het. Dit doen hy deur tersaaklike verwysings in die Skrif wat spesifiek oor vergewing handel te bespreek en ook deur dit toe te pas in die hedendaagse konteks. Verder word ander sake ten opsigte van vergewing ook bespreek, soos die hantering van jou vyand en woede en ander emosies wat betrokke is wanneer jy vergewe of dalk nie vergewe nie.

Na ’n breë inleiding kom Kendall tot ’n planmatige aanbieding van die verskillende aspekte van vergewing (bl. 36 e.v.) waar onder andere die volgende aan bod kom: wat volkome vergifnis nie is nie (hy noem tien sake) en daarna wat volkome vergifnis is (bl. 43 e.v.), ingedeel in tien aspekte. Die laaste twee wat hy noem, naamlik om God te vergewe (bl. 53 e.v.) en om onsself te vergewe (bl. 55–56) is egter problematies. Hierdie aspekte van vergewing kom dikwels in die hedendaagse literatuur na vore (veral die feit dat jy jouself moet vergewe), maar is myns insiens nie ’n geldige bybelse begrip van vergewing nie. Vanweë die beperking van die resensie kan die saak nie volledig teologies bespreek word nie, maar dis tog noodsaaklik dat enkele redes aangevoer word waarom so ’n siening nie houdbaar is nie. Om te vergewe impliseer dat iemand teen jou moes gesondig het of jou te na gekom het en dit kan onder geen omstandighede van God gesê word nie. Die werklikheid is juis die teenoorgestelde: die mens het teen God gesondig en moet van Hom vergifnis ontvang! Verder is die sogenaamde selfvergewing ook nie bybels nie; die bedoeling is waarskynlik eerder om God se vergewing te aanvaar en te beleef. So nie sou die mens die finale gesag met betrekking tot vergewing wees en nie God nie (hierdie tema word bespreek op bl. 146–156).

In die tweede hoofstuk van die boek (bl. 59 e.v.) kom Kendall by die toepassing van vergewing in ons eie lewens deur die vraag te vra: ‘Hoe weet ons ons het volkome vergewe?’ Hier leun hy swaar op die geskiedenis van Josef (Gen 37–50). Hy maak die saak prakties deur van die leser te vra om dit toe te pas in sy of haar lewe (bl. 66 e.v.) en noem dan sewe aspekte wat ter sake is. Hy noem ook ’n saak waaroor ’n mens nie te dikwels in verband met vergifnis dink nie: met vergifnis sal ons hulle toelaat om hulle aansien te red (bl. 73) en wys daarop dat dit presies is wat God doen wanneer Hy ons vergewe.

Ter wille van beperkte ruimte word die volgende hoofstukke slegs gemeld:

• Hoofstuk 3: Die Ons Vader-gebed en vergifnis
• Hoofstuk 4: Om God te speel
• Hoofstuk 5: Wanneer dit vir ons reg is om te oordeel
• Hoofstuk 6: Die kuns van vergewe en vergeet
• Hoofstuk 7: Hoe om te vergewe – volkome

Die boek sluit af met praktiese toepassings: ‘Stappe om ander volkome te vergewe’ (bl. 176–180) en ‘Die vyf stadiums van vir ons vyande bid’ (bl. 181–183).

Benewens die kritiek hierbo op die stellings dat ’n mens God en jou naaste moet vergewe, reflekteer die res van die boek goeie teologiese insigte en heelwat praktiese voorbeelde uit Amerika en Engeland wat Kendall self beleef het. Daar is selfs ’n verwysing na Nelson Mandela as voorbeeld van iemand wat tot versoening kon kom (bl. 143).

Ek beveel graag die boek aan vir ’n verskeidenheid van lesers: dié wat gewoon uit (akademiese) belangstelling meer wil weet oor vergewing, ander wat self die pad van vergewing moet loop en dié wat ander begelei tot vergewing (predikante, pastore en beraders). Die boek bied ’n kort, kernagtige hantering van die belangrike tema van vergewing, lees maklik en is lesersvriendelik.



Crossref Citations

No related citations found.