Article Information

Author:
Jan A. du Rand1

Affiliation:
1Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence to:
Jan du Rand

Postal address:
PO Box 441044, Linden 2104, South Africa

Dates:
Received: 06 June 2013
Accepted: 17 Mar. 2014
Published: 18 Nov. 2014

How to cite this article:
Du Rand, J.A., 2014, ‘Die Christelike hoop – ’n Bybelse eskatologiese belydenis? Deel 1: Bybelse getuienis − ’n verhaal van hoop?’, In die Skriflig 48(1), Art. #1253, 9 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
ids.v48i1.1253

Copyright Notice:
© 2014. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Die Christelike hoop – ’n Bybelse eskatologiese belydenis? Deel 1: Bybelse getuienis − ’n verhaal van hoop?
In This Original Research...
Open Access
Abstrak
Abstract
Uitsig bring insig: Oriëntasie, probleemstelling en doel
’n Algemene tipering van ’n Westerse tydgees en denke as aanloop om die bybelse hoop in konteks te verstaan
Die noodsaaklike belang van ’n standhoudende Christelike meta-narratief
’n Teologiese vashouplek aan ’n bybelse oriëntasiepunt
Wat is die plek en rol van hoop in God se eskatologiese verhaal volgens die Ou en Nuwe Testament?
   • Tersaaklike tendense in die getuienis van die Ou Testament
   • Nie meer ’n vashou aan die Tora nie – tersaaklike Nuwe-Testamentiese perspektiewe
Gevolgtrekking: Die spoor wat eskatologiese hoop volgens die Bybel laat
Erkenning
   • Mededingende belange
Literatuurverwysings
Abstrak

Hierdie artikel is die eerste van twee artikels om die vraag te beantwoord of die gebruik van die bybelse hoop beskou kan word as die primêre belydenis om die bybelse eskatologiese boodskap van Christelike hoop te verduidelik. Dit is nie slegs ’n bybelse belydenis nie, maar beïnvloed ook reformatoriese teologiese nadenke oor die saak van eskatologiese hoop op subtiele wyse. Indien dit aangetoon kan word, moet die teologiese klem in die reformatoriese belydenis vir ’n Christen se hede en toekoms daarvolgens beskryf word. In die bespreking van eskatologiese hoop volgens tipies bybelse gebruike, kom ’n basiese vraag na vore: Wat is die wesenlike eindbestemming van die Christen? Is dit die geskape wêreld in God of God in die geskape wêreld? Terwyl die bybelse begrip hoop semanties en eksegeties nagespeur word, kom die verhouding tussen God en sy verganklike skepping, soos ons dit ken, op ’n nuwe wyse ter sprake. ’n Tipiese kenmerk van die huidige Westerse beskawing, oor die algemeen beskou, is die onverbiddelike strewe na ontwikkeling ongeag die koste. Dit geskied egter nie vir Christene sonder die belydenis van hoop nie. Selfs teologiese publikasies oorbeklemtoon die hede deur die beslissende betekenis van God se toekoms vir sy eie te relativeer. Die eksegetiese vertrekpunt van hierdie artikel is die verstaan van die Christelike eskatologiese hoop volgens Romeine 5:1−5. Met so ’n kragtige Pauliniese vertrekpunt word die tendense van eskatologiese hoop volgens die Ou en Nuwe Testament nagegaan om aan die navorser ’n bybelse basis te voorsien waarop die teologiese bespreking kan voortbou.

Abstract

The Christian hope – a biblical eschatological confession? Part 1: Biblical witness − a narrative of hope? This is the first of two related articles to answer the question whether the usage of biblical hope can be regarded as the ultimate confession in explaining the biblical eschatological message of Christian hope. It is not only a biblical confession, but it also subtly influences the theological reformational reflection on the issue of eschatological hope. If proven the case, a correction of theological emphasis is necessary to bring the present and hereafter in biblical and theological perspective. In this discussion of eschatological hope in its typical biblical description, the fundamental question to be answered is: What is the ultimate port of destination? Is it the world in God or God in the world? Exploring the biblical concept of hope semantically and exegetically, according to the Old and New Testaments, pushes the relationship between God and his perishable creation, as we know it, to the foreground, but not without the fundamental confession of hope. In general, the typical recent characteristic trend in Western civilisation is the ruthless striving towards development – whatever the cost may be. Even theological publications reflect the overestimation and the exclusiveness of the present by relativising the importance of God’s biblical and theological future for humankind. The exegetical point of departure is the understanding of Paul’s decisive accentuating of the eschatological hope in the argumentative narrative according to Romans 5:1−5. With such a powerful framework of thought the tendencies of eschatological hope, according to the Old and New Testaments, are investigated to provide the researcher with a biblical basis to be further explored in theological reflections.

Uitsig bring insig: Oriëntasie, probleemstelling en doel

Om met die deur in die huis te val: die Christelike eskatologiese hoop kan beskou word as die Godgegewe geloofsbelydenis wat met insig aan die uitsig op God se toekoms vashou, maar wat ook as uitsig, insig aan die Christen se huidige belydenis en leefstyl gee.

Gedurende ’n donker tydperk van wanhoop in die Westerse geestesgeskiedenis aan die begin van die twintigste eeu, besing die Franse digter Charles Péguy (1996:22) op kreatiewe wyse die betekenis van geloof, hoop en liefde in 1 Korintiërs 13. Hy teken die Christelike hoop as ’n klein dogtertjie aan die hande van haar twee ouer susters: Geloof en Liefde. Die dogtertjie is die kind van die toekoms, maar sy gee besondere betekenis aan die hede wanneer sy haar ouer susters aan God se toekoms bly herinner. Hulle bestaan en voortbestaan is geheel en al afhanklik van hulle jong sustertjie, want sy is die waarborg van hulle toekoms. Sy is egter net so afhanklik van hulle vertroeteling en liefderike versorging. Geloof en Liefde dra die dogtertjie, Hoop, deur tye van wanhoop en hooploosheid. Geloof se blikveld is grotendeels beperk tot die huidige bestel waarin God se skepping en herskepping afspeel. Liefde fokus veral op die toegeneentheid teenoor God en die naaste tot in die hiermaals. Hoop, daarteenoor, se fokus is oorwegend op die toekoms gerig en sy herinner haar susters gedurig aan die hiernamaals. Al swaaiende aan hulle hande, word die dogtertjie groter. Sy ly nog nie aan die tipiese kenmerke van volwassenheid of die beperkende versoekings van hubris [trots] nie. En tog, sy is die toekoms in die hede!

Dit bring ons by die wesenlike vraag na die eskatologiese verhouding tussen hoop in die huidige bedeling aan die een kant, en die ewigheid in die hiernamaals aan die ander kant.

Tjaart van der Walt (1962) se teologiese en Nuwe-Testamentiese belangstelling en bydraes is grotendeels op bybelse en teologiese eskatologie toegespits, veral in ’n tyd soos hierdie. Hy het reeds in sy doktorale proefskrif oor die Koninkryk van God ’n waardevolle bydrae tot die verstaan van die Sinoptiese eskatologie gelewer.

Richard Bauckham (1999) verdiep die problematiek van die Christelike eskatologie as deel van die probleemstelling in ’n artikel deur die huidige tydvak en denke van die Westerse beskawing só te tipeer:

It is a time in which the secular eschatologies of the modern age, that remarkable period of hopeful striving for a utopian future, have lost credibility and even turned against hope. At such a time it is vital that the Christian hope be rediscovered in its own integrity and distinctive character. (p. xi)

Dit is duidelik dat die verstaan van hoop tot ’n groot mate die perspektiewe op die hiermaals en hiernamaals raak, veral as dit oor tyd (geskiedenis) en ewigheid gaan! Die teoloog, Jürgen Moltmann, wat bekend geword het vir sy Theologie der Hoffnung (1964), antwoord Richard Bauckham oor die rol van eskatologie in die Christelike hoop in die publikasie God will be All in All (1999) só:

The great eschatological question is this, What is the ultimate goal? Is it the world in God or God in the world? This is the question of whether the world’s redemption and consummation takes place within the divine Trinity, or whether the divine Trinity communicates itself and goes out of itself into history and the consummation of the world’s salvation, thereby glorifying itself. (p. 37)

Wanneer ons die Judaïstiese onderrig oor God se sjekina [inwoning], saam met die menswording van die Seun van God en die inwoning van die Heilige Gees, teologies in ag neem, kan die oneindige God wel ‘inwoon’ by sy eindige of verganklike skepping (vgl. Polkinghorne 2002:43 e.v.; Sauter 1996:147).

Dit bring die ondersoek by ’n noodsaaklike aanloop tot die probleemstelling: Waarom sou nadenke oor die Christelike hoop ’n merkbare opbloei toon gedurende die twintigste en een-en-twintigste eeu? Het die bybelse getuienis enigsins ’n bydrae om te lewer om die eskatologiese hoop beter te verstaan? Indien dit bybels oortuigend is dat die Christelike hoop wesenlik deel is van ’n Christelike eskatologie, moet ’n alternatiewe Christelike metanarratief wat die ‘teo’ terugplaas in ‘teologie’ geformuleer word. Die doel van hierdie artikel is om die verstaan van die Christelike hoop direk terug te voer tot die bybelse fundering om daardeur aan te toon dat hoop die primêre bybelse eskatologiese belydenis is. In die volgende betoog word breër kontoere geteken om dié vraag binne perspektief te plaas.

’n Algemene tipering van ’n Westerse tydgees en denke as aanloop om die bybelse hoop in konteks te verstaan

Sekere algemene opvallende tendense is in onlangse Westerse denke waargeneem. Bernard McGinn lê in sy Visions of the End (1979) die verband tussen die finale einde van die huidige tydvak en eskatologiese teologie só in perspektief:

The most fundamental appeal of apocalypticism is the conviction it holds forth that time is related to eternity, that the history of man has a discernible structure and meaning in relation to its End, and that this End is the product, not of chance, but of divine plan. (p. 36)

Die gang van ons Westerse beskawing kan deur die lens van denkstrome in die gang van die geskiedenis gesien word. Eeue lank is eskatologie slegs as ’n mindere bylaag tot sistematiese teologie beskou en beskryf. Dit is veral Albert Schweizer wat aan die begin van die twintigste eeu met sy uitleg van die Nuwe Testament, eskatologie weer op die voorgrond geplaas het.

Die vraag wat beantwoord moet word is of die Christelike eskatologie ons geskiedenis van denke kon beïnvloed het en steeds beïnvloed. Die geskiedenis van denke kan siklies of in terme van agter- of vooruitgang verstaan word (Osborn 1986:43; vgl. Chesneaux 1992). Die agteruitgang van die antieke Persiese en Romeinse ryke is sprekende voorbeelde daarvan. Die kenmerkendste maatstaf is sekerlik die populêre beginsel van vooruitgang. Op die altaar van vooruitgang word tyd en ewigheid, veral op tegnologiese gebied, geoffer. Vooruitgang dien dikwels die menslike selfsug en word dan materialisties en veral tegnologies verwerf. Ronald Osborn, ’n kerkhistorikus, verwys egter goedkeurend na die bybelse model, naamlik dat die goeie en slegte langs mekaar bly voortbestaan deur die geskiedenis heen tot by die Goddelike ingrype aan die einde. Augustinus (354−430 n.C.) het in sy denke ’n soortgelyke interpretasiemodel gebruik, veral in sy Die Stad van God (vgl. Mountain 1968).

Aansluitend by die algemene historiese dominante denkraamwerk aan die einde van die negentiende eeu, vind ons ’n gees van optimisme sowel as van pessimisme na aanleiding van die maatstawwe voor- en agteruitgang. Die een lofrede na die ander word opgedra aan die menslike gees wat veral vrede en voorspoed en soveel tegnologiese ontwikkeling bewerkstellig het. Die mite of metanarratief van vooruitgang is as die allesbepalende riglyn vir sukses gesien. Pragmatiek en hedonisme het hand aan hand langs vooruitgang gefloreer. Die verheerliking van die menslike rede, wat veral tydens die Europese tydperk van Verligting in die laat agtiende eeu ontstaan het, het sogenaamde vrede en voorspoed voortgebring. Kolonialisasie en die misbruik van natuurlike bronne was kenmerkend solank dit net ekonomiese vooruitgang vir die mens sou beteken.

Enige denkrigting oor die toekoms is egter in die heel onderste laai gebêre. Algaande is die rol van transendensie, God se betekenisvolle ingrype in die geskiedenis, verplaas deur eksklusiewe immanensie, gestut deur die mite van menslike denke en vooruitgang. Die Westerse beskawing het na ’n allesbepalende metanarratief ‘gesmag’. Negatiewe en positiewe gebeure is rasioneel geregverdig solank dit op die immanente doel van ’n salige utopia aan die einde van die aardse bestaan sou uitloop. Ons sou dié denkmoeras die immanente humanistiese teleologie van die menslike rede kon noem. Die menslike rede is in die sentrum en in beheer van hede en toekoms geplaas.

Die twintigste eeu het egter teleurstellend afgeskop. Oorloë (Anglo-Boere oorlog, 1899–1902; Eerste Wêreldoorlog, 1914–1918 en Tweede Wêreldoorlog, 1939–1945), politieke onstabiliteit en terrorisme soos beliggaam in die Joodse massaslagting, opkoms van kommunisme, Viëtnam en Kambodja, Bosnië, Rwanda en Midde-Oosterse konflik het ontnugtering tot gevolg gehad. Dit blyk asof vooruitgang teen homself gedraai het (vgl. Bauckham 1999:15). Vooruitgang, hoe aantreklik ook al, kan nie vergoed vir die kinders wat lewendig verbrand is by Auschwitz en dié wat lewendig begrawe is by Kambodja nie! Immanensie is getoets en het nie die toets geslaag nie. Op die horison van Westerse selfvernietiging verskyn daar nou kernwapens en chemiese en bio-chemiese wapentuig van massaverwoesting. Die toekoms het in ’n weegskaal beland.

Die behoefte aan ’n volhoubare metanarratief in die plek van selfvernietigende en ambisieuse vooruitgang, het ’n dringende denkbehoefte geword. Die mens het meer en meer na die standhoudende en transendente gehunker.

Die vraag wat ’n gelowige dan vra is: Kan die Christelike metanarratief met sy oriëntasie in die Goddelike bybelse eskatologie die antwoord bied en, indien wel, hoe? Hoe kan die huidige historiese situasie van verstaan en bestaan en die uiteindelike eskatologiese toekoms volgens God se Woord by mekaar uitkom? Is die einde ’n finale afsluiting, ’n apokaliptiese ingrype om dekadensie af te rond, of is dit die verwerkliking van God se doel met die geskiedenis van die mensheid? Hoe pas dit in by bybelse vervulling, wanneer ‘God alles sal wees vir alles’? (1 Kor 15:28)

Dit is die uitgangspunt en doel van die volgende beredenering, naamlik dat die Christelike eskatologiese hoop herontdek moet word in die sin van die primêre bybelse getuienis oor die hoop, want die humanistiese mite van vooruitgang het gefaal.

Die noodsaaklike belang van ’n standhoudende Christelike meta-narratief

Betower deur die asemrowende tegnologiese vooruitgang en aansprake om self die toekoms te bestuur het Helga Nowotny (1988:29) neerhalend gepraat van ‘[...] what nostalgically is still called the future’ en sy voorspel dat ’… the abolition of the category of the future and its replacement by die idea of an extended but manageable and controllable present’. Só ’n standpunt staan lynreg teenoor die transendente en Christelike eskatologiese boodskap met ’n visie van ’n Goddelike telos [einddoel] vir die kosmiese prosesse. Die verdere vraag wat beantwoord moet word, is waarin die funksionele krag van só ’n Christelike metanarratief lê.

Vernard Eller (1969) stel dit só:

… That which man needs and needs unconditionally, if he is to have any chance of fulfilling his role in the drama which is history, is a script or an eschatological perspective … (p. 23)

Jürgen Moltmann (1964) bevestig dit kragtig en beweer:

’Van begin tot einde, en nie net in die epiloog nie, is die Christelike godsdiens, eskatologie en hoop wat in die hede vorentoe kyk en beweeg om die hede te transformeer …’ (bl. 16, [outeur se vertaling])

Dit is die algemene waarneming dat daar gedurende die twintigste eeu ’n nuwe dag gebreek het, naamlik ’n herdefiniëring van die toekoms, en dan vanuit ’n Christelike eskatologiese perspektief. Dit laat Charles Horne (1988:54) die volgende indringende vraag stel: ‘Does the current theological emphasis on eschatology coincide with a genuine general revival of hope in our Western world?’ Hy beantwoord dit self en wys op wesenlike veranderinge op die terreine van psigiatrie (met vermelding na Karl Menninger se werk), sekulêre futurologie, die wetenskap, politiek en gebeure onder die jeug. Carl Braaten (1969a) stem roerend saam en propageer die verband tussen die apokaliptiese Christelike eskatologie en sekulêre futurologie só:

The Christian Gospel can expect to get a hearing in modern culture only when it has some important news to bring about our human future, when it is really concerned about the world’s tomorrows. If it has nothing to say about the future, it is properly and understandably dismissed as irrelevant. (p. 28)

Só ’n uitspraak herinner aan 1 Petrus 3:15: ‘Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking vra oor die hoop wat in julle lewe.’

Dit is van wesenlike Christelike belang om te bely dat die huidige bedeling oppad is na God se telos. Die Godgerigte plot van die Christelike hoop beweeg na die einde en gee betekenis aan die hede en die Christelike metanarratief (vgl. Kermode 1967:64; Walls 2008).

Die Christelike metanarratief wat vanaf God se skepping tot die afronding daarvan in Christus se wederkoms strek, is die verhaal van hoop met ’n sinvolle einde omdat dit ook ’n definitiewe begin het. In rekenaartaal sou dit algoritmies so voorgestel kon word: van O tot O tot O – vanaf God se oorwinning by die skepping (Gen), deur Christus Jesus se oorwinning aan die kruis en die leë graf (Evangeliebeskrywings) tot by die finale oorwinning op Sionsberg wanneer die 144 000 saam met die Lam die oorwinning besing met die lied van die Lam (Op 14). Gelowiges is nie net teoreties deel van hierdie metanarratief nie, maar beleef dit deur te hoop, en vind só hulle identiteit. Die huidige menslike geskiedenis word Goddelik deur die Christelike hoop begelei, gefundeer in die Christusgebeure.

By die leë graf het God reeds, by wyse van spreke, die kontrak van die Christelike einde onderteken met die Heilige Gees as getuie en waarborg. Die skepping wat histories gefaal het, is eskatologies deur ’n algehele nuwe skepping herstel. Die Christelike metanarratief, gedra deur die eskatologiese hoop, kry betekenis op grond van sy transendente einde op aarde. Só ’n einde is nie net die finale afsluiting van die geskiedenis nie, maar ‘open-ended’, die begin van die volmaakte nuwe skepping wanneer God se alleenheerskappy universeel erken sal word (vgl. Calvyn 1977:176). Die Christelike eskatologie van hoop het die toekoms uit die kloue van die pretensieuse humanisme verlos (vgl. Bauckham 1999:267; Ellis 2002:106 e.v.).

Ter wille van ’n gemotiveerde grondslag met die oog op die verdere beredenering, moet die tersaaklike bybelse tendense en spoor van hoop self aan die woord kom. So ’n benadering is nie nuut nie, maar moet nuut omhels word.

’n Teologiese vashouplek aan ’n bybelse oriëntasiepunt

Marxisme het aan die begin van die twintigste eeu die uiteindelike vervulling van die geskiedenis as ’n immanente humanistiese prestasie as vertrekpunt voorsien. Dit sou plaasvind wanneer die utopia van ’n klaslose gemeenskap aanbreek. Dit het egter geen volhoubare antwoord of oriëntasiepunt gebied nie. Selfs ’n verheerliking van die hede as vrug van vooruitgang deur liberale postmoderniste, kon nie die verband met die einde bevredigend beantwoord nie.

Alhoewel nie noodwendig met elke uitspraak saamgestem hoef te word nie, het Adolf Schlatter, Johannes Weiss en veral Albert Schweitzer (1961), om enkeles te noem, aan die begin van die twintigste eeu die bybelse teleologiese eskatologie laat herleef. Die eskatologiese uitsprake van Jesus, mensgeworde Seun van God, oor die einde, saam met Joodse profetiese en apokaliptiese verwagtinge, het die bybelse metanarratief weer volledig in die fokus van eskatologiese besinning geplaas. Daarom word Romeine 5:1−5 as oriëntasiepunt vir ’n gefundeerde teleologiese eskatologie van hoop geneem, om dan kortliks daarna ’n beknopte ondersoek van die Ou- en Nuwe-Testamentiese spore van die eskatologiese hoop te doen.

Wanneer Paulus waarskynlik gedurende 57 n.C. aan huis van sy vriend en bekeerling Gaius in Korinte die Romeinebrief aan sekretaris Tersius dikteer, het hy ’n bepaalde doel voor oë (Michel 1966:29; Bruce 1977:12; Keck 2005:29). As sendingapostel van die nasies wil Paulus nog in Spanje uitkom en berei hy die Christene van Rome solank voor om hom te ondersteun. In die Romeinebrief, sy laaste brief voor sy inperking, beklemtoon Paulus die sterwe en opwekking van Jesus Christus as God se regverdigverklaring deur geloof en hoe die gelowiges deur te hoop hulle belydenis en leefstyl eskatologies moet verstaan.

Die eskatologiese hoop volgens Romeine 5:4 en 5 vind semanties reliëf teen die agtergrond van die voorafgaande redenasies in Romeine 1:18−4:25: As gevolg van sonde staan almal skuldig en veroordeeld voor God (1:18−3:20); slegs hulle wat op grond van God se onverdiende goedheid regverdig verklaar is, ontvang vergifnis en lewe (3:21−4:25). Die mens wat hoop, is die vrygespreekte of regverdigverklaarde (dikaiosuné; vgl. Rom 3:21 e.v.). In Romeine 5−8 behandel die apostel die gelowige wat regverdig verklaar is se nuwe lewe self (Lekkerkerker 1974:202; Keck 2005:133 e.v.).

Romeine 5:1−5 dien as ’n teologiese inleiding op hoofstukke 5−8, veral wat die eskatologiese hoop betref. Die genoemde verse in Figuur 1 kan só uiteengesit word [outeur se direkte vertaling]:

FIGURE 1: Romeine 5:15 dien as ’n teologiese inleiding op hoofstukke 58, veral wat die eskatologiese hoop betref.

Laasgenoemde gevolg word verbesonder deurdat geloof die drakrag van die geregverdigde se huidige nuwe lewe word, tesame met die hoop op die toekoms ‘wat nie teleurstel nie’ (alternatiewe vertaling volgens die Grieks). Hoop gee betekenis aan ’n logiese Pauliniese teologiese ketting. Eerstens maak dit die verdrukking draaglik, gevolg deur volharding, gevolg deur beproefdheid, gevolg deur hoop! Hoop vorm dus die klimaks van Paulus se aaneengerygde redenasie oor die resultate van die regverdigverklaarde se nuwe lewe.

Die regverdigverklaring of vryspraak, om juis die juridiese betekenis uit te lig, beteken dat só ’n persoon se verhouding voor en met God herstel is (Rom 5:1). Só ’n herstelde verhouding bring vrede met God, ’n tydelike en eskatologiese vrede, maar ook met die medemens (vgl. Rom 14:17). Dit vind plaas binne die raamwerk van regverdigverklaring en versoening (vgl. Rom 5:11) wat iemand deur geloof ontvang. Die vyandskap tussen God en mens is opgehef deur die aanbreek van vrede.

Die tweede gevolg van die regverdigverklaring is om toegang tot God se genade (onverdiende goedheid) te verkry. Die genadevoorreg is om toegelaat te word om, volgens die Grieks, in die teenwoordigheid van ’n hoogwaardigheidsbekleër of godheid te mag verskyn (Michel 1966:179). Dié toegang word deur Jesus Christus bewerk (vgl. Heb 4:14−16).

Paulus het nie die hede vergeet nie, maar behou perspektief oor die toekoms. Daarom raak die derde resultaat die eskatologiese snaar, naamlik om op God te roem deur te hoop op die eskatologiese heerlikheid (Rom 5:2). Die ondertoon van roem is dankbaarheid, vreugde en vryheid (Lekkerkerker 1974:208; Keck 2005:134; vgl. ook De Boer 2011:310 e.v.). Die vrygespreekte kry nou weer deel aan ‘die hoop op die heerlikheid van God’ (Rom 5:2). Deur sonde het die mens se heerlikheid in die slag gebly. Deur die regverdigverklaring word die mens ook ingelyf in die heerlikheid van God wat as eskatologiese volkome verlossing eenmaal die vrygespreekte se deel sal word. Gelowiges se hede word op so ’n wyse volledig by die eskatologiese hiermaals en hiernamaals betrek. Die hoop is, semanties geheel en al, op die toekoms gerig, wat reeds in die hede beleef word (Lekkerkerker 1974:67 e.v.; Michel 1966:58 e.v.).

Die eskatologiese hoop is dus ’n geloofsvertroue wat op die toekoms gerig is en wat van sekerheid en nie van onsekerheid getuig nie. Die eerste belewenis van die regverdige lewe is verdrukking of swaarkry (thlipsis). Daarvoor is volgehoue volharding (hupomonē) nodig. Die verwagte swaarkry van die geregverdigde is wesenlik deel van die vroeë kerk se verwesenliking van hulle getuienistaak. Verdrukking en swaarkry, as die toetsing van geloof, word deur volharding oorwin. Dit is die wag op God met geloofsgeduld dat sy koninkryk in sy volheid moet aanbreek.

Die sakelys van volharding bestaan uit twee items, naamlik geloof en hoop en nie uit heldemoed nie (Hauck 1974:582−584). Christene word geroep om volhardend te ly (vgl. Hand 14:22). In só ’n leefproses, as toetsing van iemand se geestelike allooi, word die Christen se beproefdheid of geloofsintegriteit deur die Griekse woord dokimē uitgedruk. Dit kan direk vertaal word met ‘beproefdheid’ (Rom 5:4).

Indien hoop, in breë trekke, op die eskatologiese hiernamaals gerig is, is om as beproefde na al die verdrukking uit die toetsproses te kom, ’n uitdrukking van die kwaliteit van hoop in die hede te midde van swaarkry en verdrukking. Die Griekse dokimē hou duidelik met ‘toetsing’ verband. Só ’n toetsing loop uit op oordeel of heerlikheid, afhangende van die ‘uitslag’ (vgl. 1 Kor 3:13; 1 Tess 2:4). Die egtheid van die ‘geloofsallooi’ gee afgerondheid en karakter aan die gelowige se aardse bestaan van hoop (Grundmann 1974:255−260).

Die swaarkry van die hede word deur hoop ‘gevier’ wanneer die uitslag beproefdheid is. Hoop neem, daarvolgens, ’n dominante plek in Paulus se eskatologiese denke in. Hoop is die lofprysing van die gelowige, die dankbare eskatologiese viering van vrede, die toegang tot, en die eerste paaiement van heerlikheid wat in die hiernamaals volkome voortgesit sal word. ‘Maar as ons hoop op dit wat ons nie sien nie, wag ons gretig daarop, met volharding’ (Rom 8:25).

Die klimaks in hierdie biografiese opbou is die hoop wat ‘nie beskaam nie’ (Rom 5:5), dit wil sê, nie teleurstel nie [outeur se alternatiewe vertaling]. Eskatologiese uitsig, soos vervat in hoop, gryp nie net na die toekoms nie, maar gee ook insig in die hede. Vryspraak, vrede en die uitsien na heerlikheid word as alreedse deel van die eskatologiese hiermaals in die Christelike hoop gedefinieer.

Die grondslag van Christelike hoop as primêre eskatologiese belydenis, rus op die motivering dat ‘God sy liefde in ons harte uitgegiet het deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is’ (Rom 5:5). Die drakrag van die hoop lê in God se liefde, soos dit sigbaar geword het in Christus se sterwe en opwekking, asook in die dinamiese rol van die Heilige Gees (Rom 5:5; vgl. Beale 1997:14 e.v.).

Die dinamika van die eskatologiese hoop setel in die Goddelike liefde (agapē). Augustinus (vgl. Mountain 1968:293) stel dit só: infusio gratiae, infusio caritas, na aanleiding van die Griekse ‘uitgiet (ekkechutai) van die liefde van God in ons harte’. Op só ’n wyse is ook vrede, verdrukking, volharding en beproefdheid eskatologies gestempel deurdat hoop op die ewige heerlikheid uitloop. Hierdie eskatologiese hoop, sê Paulus, beskaam nie – stel dus nie teleur nie. Die objektiewe verdrukking en subjektiewe hoop vind mekaar in die eskatologiese raamwerk wat op die heerlikheid uitloop (Murray 1980:164; Bruce 1977:122). Dit laat die gelowige egter nie verleë voor God en wêreld nie, maar verwonderd.

Wat is die plek en rol van hoop in God se eskatologiese verhaal volgens die Ou en Nuwe Testament?

Tersaaklike tendense in die getuienis van die Ou Testament
Die eskatologiese uitsprake oor hoop in die vroeë Judaïsme, Koemran-geskrifte, die Ou Testament self en intertestamentêre literatuur word ondersoek as getuienis van God se verhaal van hoop, asook die moontlike beïnvloeding van die Nuwe-Testamentiese siening van hoop (vgl. Elliott & Browser 1997:42 e.v.; Von Rad 1965:27 e.v.). Slegs tersaaklike penstrepe word getrek.

Geloof in God het aan die Ou-Testamentiese mens gemoedsrus gegee dat God ’n toekoms vir sy eie beloof het. Die toekoms hou oordeel in sowel as die nuwe wat moet aanbreek. Donald Gowan (1986:96 e.v.) praat van ’n drievoudige eskatologiese transformasie of vernuwing na aanleiding van die voorbeeld uit Esegiël 36−38. Eerstens moet die mens self ’n nuwe hart en gees kry (Eseg 36:25−27); tweedens moet die beloofde land en herboude stede getuies van hoop voor die nasies word (Eseg 36:24−28 en 33−36); en derdens moet die natuur sy opbrengs lewer (Eseg 36:30, 35).

Die skeppingsverhale volgens Genesis 1−3 fokus op die identiteit van Skepper en skepsel in ’n nuwe verhouding. Die huidige skepping sien sugtend uit na die volmaakte nuwe skepping. Mens en natuur het op God se toekoms gehoop. Volgens Genesis 6:17−18 sluit God ’n verbond met Noag. Die verbond sou die goue draad van hoop deur die Judaïsme heen verteenwoordig en beskryf.

Abraham word ook geroep om die nasies tot seën te wees op God se eskatologiese pad met sy eie (vgl. Zimmerli 1971:68 e.v.).

Die ‘eerste’ eksodus na die beloofde land onder leiding van Moses, is ’n hoopvolle uitkoms. Die Sinaï-verbond (Eks 19−24), naas die Abrahamitiese, Dawidiese en nuwe verbond (Jer 31:3134), bevestig God se belofte van ’n toekoms vir sy eie. Die verwagte Messiaskoning sou God se eskatologiese beloftes van hoop waar maak. Die tien gebooie (Eks 20) bind hulle wat hoop, God se eie volk, teologies en histories saam.

Toe die beloofde land nie die antwoorde kon bied nie, is op ’n toekomstige Goddelike ingrype gehoop.

Gedurende die Rigterperiode het aanbidding en sosiale vertroue op die Here algaande begin taan en plek gemaak vir die koningskap en profesie. Nou moet koningskap en verbond met mekaar in harmonie gebring word (vgl. 1 Sam 13; 25). Veral koning Dawid, wat in Jerusalem geheers het, moes die eskatologiese Messiaanse fakkel van hoop brandend hou.

Die verbondsformule ‘Ek sal vir hom ’n vader wees en hy sal vir My ’n seun wees’ (2 Sam 7:14), plaas Israel en koningskap in Goddelike perspektief. Die eskatologiese uitkoms in die toekoms, word al hoe belangriker na die val van die Noordryk in 722 v.C. en die Suidryk in 586 v.C. In die lig daarvan moes die agtste-eeuse profete Amos, Miga en Jesaja die volk in nood nuwe perspektiewe oor God se toekoms met, en vir, hulle gee.

Op die Goddelike hoop-horison kry Sion, volgens Jesaja, nuwe eskatologiese betekenis as fokuspunt van die nuwe skepping (60-62; 65:17−18). ’n Nuwe Dawid as Messiaskoning, sal God se vrederyk vestig. Die ‘oorblyfsel’ moet daaraan vashou en daarop bly hoop.

Jeremia se profesie oor die nuwe verbond (31:31−34) is eskatologies bepalend. Daar is weer hoop en ’n toekoms om na uit te sien. Vervulling van God se beloftes word reeds voltrek met die terugkeer uit ballingskap, die Seun van God se menswording, en die volmaakte vervulling wanneer die ‘nuwe’ volkome by Christus se wederkoms aanbreek.

Volgens Esegiël lê ’n nuwe eksodus (36:24) voor vir die volk van God. Uit die ‘droë bene’, deur die ballingskap veroorsaak, staan mense op met nuwe harte en ’n nuwe gees

(Eseg 36: 37). Ook die tempel sal herbou word (Eseg 36:40−48). Esegiël se profesieë het die volk van God met nuwe hoop besiel.

Volgens Jesaja 40-66 moet die volk van God hoop op ’n nuwe hemel en nuwe aarde! Die Kneg het ’n besondere plek en taak in God se eskatologiese toekoms. Jesaja 56−66 dra ’n baie duidelike boodskap van hoop. Die oorblyfsel, die nuwe volk van God, sal geseën word en vir al die volke tot ’n seën wees (Jes 60:11−22).

Ons sou kon praat van drie eksodusse in God se bybelse eskatologiese dramatiese metanarratief, naamlik uit Egipte na die beloofde land; uit ballingskap na hulle eie land; en laastens, uit die geskape huidige wêreld na die Nuwe Jerusalem.

Maleagi se verbondstaal adem ’n gees van hoop by die oorblyfsel. Op die verbondsbeloftes kan die volk bly hoop (Mal 3:16) totdat die Dag van die Here aanbreek.

’n Krisis het ontwikkel toe die beloofde verwagtinge nie in die gang van die geskiedenis en volgens profetiese uitsprake in vervulling gegaan het nie. Dit is verplaas deur apokaliptiese denke waarvolgens God van buite die geskiedenis ingryp. In die plek van profesie het apokaliptiek gekom. Die huidige wêreld en tyd word nou pessimisties bejeën en hoop is geheel en al op God se toekomstige eskatologiese uitredding van buite die geskiedenis geplaas (vgl. Hebblewaite 2010:19). Slegs by God vind die oorblyfsel weer hoop.

Die apokriewe geskrif, 1 Henog, vermeld ’n eskatologiese lewe na die dood, oordeel oor sonde en die aanbreek van die Dag van die Here (81:4; vgl. 1−36), en in 4 Esra word vertel van God se nuwe wêreld en verlossing. Die oorblyfsel moet hoop op die herstel van Sion en die Messiaanse ryk (4 Esra 7:27 e.v.). Vir die volk van God is daar deurgaans ’n eskatologiese toekoms waaraan hulle hoopvol moet vashou (Braaten 2002:27 e.v.; Collins 2008:46).

Gedurende hierdie Judaïstiese periode kan die volgende temas en verwagtinge aan die eskatologiese hoop gekoppel word: die geskiedenis in tydvakke, die koms van ’n eskatologiese leier (profeet), die terugkeer van die verlore stamme van Israel, ’n heilige oorlog, die nuwe Jerusalem, die opwekking van die dooies, oordeel oor die goddeloses en ’n tussentydse Messiasryk as voorbereiding van die Godsryk (vgl. Hubbard 1983:74 e.v.). Die Tora (Wet of Onderwysing) moet in hierdie periode die hoop lewendig hou (vgl. Hubbard 1983:37 e.v.).

Nie meer ’n vashou aan die Tora nie – tersaaklike Nuwe-Testamentiese perspektiewe
Jesus Christus se menswording het nie net die middelpunt van God se verlossingsgeskiedenis geword nie, maar ook die fokuspunt van God se eskatologiese program van hoop. Karl Barth (1918:298) stel dit duidelik: ‘’n Christendom wat nie geheel en al eskatologie is nie, het ook geheel en al niks te doen met Christus nie’ [outeur se eie vertaling]. In Jesus Christus het die eskatologiese hoop volledig, maar nog nie volmaak nie in vervulling gegaan.

Navolgers van Jesus steek nie meer hulle hande van hoop op verlossing na die Tora uit nie, maar na die aanbreek van die erkenning van God en Jesus se volmaakte koningskap. Hoop word onder andere kragtig deur die eskatologiese fokus op die titels van die Seun van God gedra, naamlik Messias (Gesalfde) en Seun van die Mens (Mark 14:62; vgl. Dan 7). Deur Jesus se lyding, sterwe en opwekking uit die dood is die eskatologiese grondslag vir ’n geborgde hoop op die voleinding gelê wanneer ‘God alles in alles sal wees (vgl. Hebblewaite 2010:35; Kelly 2006:54 e.v.).

Verskeie gelykenisse van Jesus onderstreep ’n eskatologiese hoop op die einde (vgl. Snodgrass 2008:477). Dit is ook die Dag van die Here wanneer die oordeel finaal voltrek en verlossing volvoer sal word. In die swaarkry van die hede moet die gelowiges bly hoop op die erkenning van die volmaakte deurbraak van God se alleenheerskappy (Matt 25).

Volgens die Markus-evangelie is die opwekking van Christus uit die dood die eskatologiese waarborg en grondslag van alle eskatologiese hoop (vgl. 16:6). Getroue dissipelskap is die verpersoonliking van hoop en laat dit in die eskatologiese raamwerk van dringendheid funksioneer (Mark 8:34−9:1).

Volgens Lukas se Evangelieboodskap is God die Here van die geskiedenis wat op ’n bepaalde einddoel, die voleinding, afstuur. Die Evangelie is ’n boodskap van hoop vir Israel en die nasies vanaf Jerusalem tot Rome volgens Lukas en Handelinge (vgl. Schnelle 2009). As eskatologiese Agent van God stuur die verheerlikte, opgewekte Here die Heilige Gees om die eskatologiese vlam van hoop universeel brandend te hou (vgl. Hand 1−2).

’n Karakteristieke Lukaanse leefstyl maak erns met die eskatologiese hoop en vertel dit binne die raamwerk van akute gereedheid met die oog op die wederkoms (Luk 12:40; 21:34, 36). Die lewe voor die dood word met hoop gevul en die lewe na die dood met die verwagting van die opwekking en oordeel tot ’n ewige lewe. Die hede is dus ’n hoopvolle lewe tussen ‘alreeds’ en ‘nog nie’.

Die Johannes-evangelie plaas groter klem op die ‘alreeds’ van die ewige lewe. Om eskatologies te hoop, beteken om nóú reeds te deel in die ewige lewe, maar om ook uit te sien na die vervolmaking daarvan by die wederkoms. Iemand wat eskatologies hoop, dink nou reeds volgens Johannes ‘van bo’ om só sin te maak van die ‘hieronder’ (vgl. Joh 3:3). Die navolgers word in hulle eskatologiese hoop oppad na die einde deur die Heilige Gees begelei (Joh 14−16).

Paulus gee besondere aandag aan die eskatologiese opwekking van die dooies en die lewe na die dood (1 Kor 15), oordeel (Rom 2−3) en die antichris (2 Tess 2; vgl. Dunn 1998:46 e.v.). Vir Paulus is die opwekking van Christus uit die dood die grondslag en uitgangspunt van alle nadenke oor die eskatologiese hoop (1 Kor 15). Die hele skepping is oppad na ’n volmaakte einde wanneer ‘God alles in alles sal wees’ (1 Kor 15:28). Die belofte van hoop (Rom 8:20) is as versekering gegee dat die hele skepping bevry sal word van ‘verganklikheid’. Uit hierdie hoop op algehele bevryding, leef die gelowige (Rom 8:24). As riglyn vir ’n Christelike leefstyl moet die gelowiges hulle ‘verbly in die hoop en vasstaan in verdrukking’ (Rom 12:12). ’n Christen se lewe is deurtrek van hoop omdat hy of sy die bybelse oproep tot volharding en bemoediging ter harte geneem het.

Hoe treffend vat Paulus dit nie in Romeine 15:13 saam nie: ‘Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul sodat julle oorloop van hoop deur die krag van die Heilige Gees.’

Paulus se nadenke oor eskatologie is Christologies afgestem (vgl. Kol 1:27). Daarom sê hy in 2 Korintiërs 1:10: ‘Op Hom [Christus] is ons hoop gevestig. Hy sal ons ook verder red.’ Paulus beklemtoon dat ons hoop op die ‘blywende heerlikheid’ gevestig is (2 Kor 3:11).

Volgens Paulus hoort hoop en die Heilige Gees heg by mekaar in die eskatologiese verwagtinge: ‘Deur die werking van die Gees is dit ons hoop en verwagting …’ (Gal 5:5). Dit is die eskatologiese hoop wat Christene definieer en aan hulle Christosentriese identiteit gee.

Die Efesiërs was vroeër ‘sonder hoop en sonder God in die wêreld’ (2:12). Ingeplant in Christus, is gelowiges nou deel van ‘… net een liggaam en net een Gees, soos daar net een hoop is waartoe God julle geroep het’ (Ef 4:4). In Kolossense 1:5 sê Paulus: ‘Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word …’. Gelowiges kan hulle dus reeds in hierdie bedeling op grond van so ’n ‘belegging’ van eskatologiese hoop op die toekomstige volmaakte lewe by Christus instel. Daarom moet Christene jaloers waak oor die geloof en hoop wat in hulle deur die Evangelie gewek is (Kol 1:23). Die gelowiges van Tessalonika word genoem ‘ons hoop en ons blydskap’, waarop Paulus trots gaan wees ‘wanneer ons met sy wederkoms voor die Here Jesus sal verskyn’ (1 Tess 2:19; vgl. ook 4:13). Deur geloof neem gelowiges deel aan Christus se opwekking uit die dood en deur hoop op sy wederkoms. (1 Kor 15:22). Om reeds ‘in Christus’ en ‘in die Gees’ te lewe, word, volgens Paulus se beskrywing, deur hoop in die alledaagse leefstyl uitgedra (Rom 8:11). Indien dit só voorgestel kan word, is die Heilige Gees die Goddelike brug tussen Christus se opwekking uit die dood en sy wederkoms. Die eskatologiese hoop is die ‘balans’ om oor dié brug te loop.

Die eerste Petrusbrief se tema sou só opgesom kon word (vgl. Janse van Rensburg 2010:215): Hoop en blydskap te midde van swaarkry in afwagting op die finale einde. Die hoop staan vas op grond van Jesus Christus se opwekking uit die dood (1 Pet 1:3, 13, 21). Deur dié opwekking deel die gelowiges in ’n ewige hoop. Na binne geprojekteer, dra die eskatologiese hoop die gelowiges deur ’n leefstyl van blydskap ten spyte van lyding (Goppelt 1978). Hoop moet die wêreld daar buite van ongeloof gaan oortuig, maar ook van verlossing in Christus (1 Pet 3:15). Die daaglikse swaarkry word vreugdevol en gelate met hoop gedra.

Die finale bestemming van die gelowiges in hierdie wêreld, al is hulle vreemdelinge, is, volgens 1 Petrus, die telos [einddoel] van die tyd wanneer Christus weer kom (vgl. Janse van Rensburg 2006:481-488; 2010:206 e.v.). Daarom word die hede as kairos [die bepalende tyd] beskryf – ’n vreugdevolle en hoopvolle wag op die wederkoms. Gevolglik is die eskatologiese hoop volgens 1 Petrus ‘… om uit te sien na die vervulling van God se verlossingsbeloftes met selfvertroue, gebaseer op die opwekking van Christus’ (Janse van Rensburg 2010:219). By uitnemendheid benoem hoop die primêre eskatologiese belydenis.

Hebreërs 3:6 noem die gelowiges ‘God se huis’: ‘En ons is sy huis as ons maar net met moed en oortuiging bly vashou aan wat ons hoop.’ Om te hoop op ‘die dinge wat in vervulling moet gaan’ (Heb 6:11) bring mee dat die gelowige end-uit met ywer vir God sal leef. Hoopvolle Christene leef in die alreedse sekerheid van God se beloftes as sy erfgename en vier dit deur te hoop (Heb 6:17−18). Daarom beklemtoon Hebreërs die ‘vashou aan die hoop op wat vir ons weggelê is’ (Heb 6:18). Dié hoop is vir die gelowige ’n ‘veilige en onbeweeglike lewensanker’, ’n versekerings‘polis’ (Heb 6:19).

Alhoewel die boek Openbaring nie eksplisiet die term vir hoop gebruik nie, handel die hele narratief semanties oor hoop as alreedse belewenis van wat voorlê (vgl. Du Rand 2007:406 e.v.; 2013:267 e.v.). Hoop is die alreedse geloofsinsig op grond van die eskatologiese uitsig op die Goddelike einde. Die erkenning van God se alleenheerskappy op aarde, soos dit reeds in die hemel bestaan, loop soos ’n goue koord deur Openbaring. Die gemerkte 144 000 (Op 7:1 e.v.), as eiendom van God se ewige tuiste, is by God en die Lam in die Nuwe Jerusalem. Daarom word hoop futuristies op die hiernamaals gevestig deur die Gees-getemperde vooruitsig daarvan in die hede. Dit is slegs moontlik op grond van die geslagte Lam, Jesus Christus (Op 7:9 e.v.). Hoop word semanties deur die gelowiges se oorwinning gedefinieer. Die gelowiges is oorwinnaars ten spyte van tydelike swaarkry en vervolging op aarde (Op 5:9−10, 14). Die oorwinnaars wat nou reeds deur hoop gedra word, is reeds burgers van die Nuwe Jerusalem (vgl. Op 7:4, 8; 21:12−13; 13:8; 17:8).

Gevolgtrekking: Die spoor wat eskatologiese hoop volgens die Bybel laat

Bogenoemde penstrepe van die tersaaklike begrip hoop in die Ou- en Nuwe Testament vertel die Goddelike verhoudingsverhaal met die mens deur dit as ’n eskatologiese hoop vanaf menslike kant te benoem. Vanaf die skeppingsverhale in Genesis tot by die Nuwe Jerusalem volgens Openbaring, is die bybelse getuienis op feitlik elke bladsy eskatologies gelade. Deurgaans vind ons dat die ‘volk van God’ gemotiveerd leef deur aan dié boeiende toekomsperspektief te glo. God is in beheer en sal in die toekoms sy oordeel oor die rebellerende bose, maar ook sy verlossing van sy eie, bekendmaak. Deur die bybelse spoor van hoop te volg, is aangetoon dat die profete, geskiedenisvertellings en die geskrifte in die Ou Testament, asook die evangelies, briewe en ander Nuwe-Testamentiese getuienisse, ’n verstaanshand uitgesteek het na God se groot ingrype in die toekoms aan die einde van die huidige geskiedenis. So ’n lewensgerigtheid op die einde het die verwagting daarvan betekenisvol gemaak deur die goue draad van die eskatologiese hoop. In die dominante denkraamwerk van die eskatologiese hoop vind die bybelse boodskap reliëf. Die tipiese beskrywings van voor- en agteruitgang in die Westerse denkwêreld kom binne die Christelike perspektief van die eskatologiese hoop in balans. Dit is bevind dat die bybelse getuienis oor hoop Nuwe-Testamenties saamgevat word in die biografie van hoop volgens Romeine 5:1−5.

Met bogenoemde as bevinding noop dit ons om in die volgende artikel daarop voort te bou deur tot ’n grondige verstaan te probeer kom van wat die betekenis en funksie van die eskatologiese Christelike hoop in na-bybelse teologiese en filosofiese nadenke is.

Erkenning

Mededingende belange
Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Bauckham, R., 1999, God will be all in all: The eschatology of Jürgen Moltmann, T&T Clark, Edinburgh.

Barth, K., 1918, Der Römerbrief, 2 Aufl., Kaiser Verlag, München.

Beale, G.K., 1997, ‘The eschatological conception of New Testament theology’, in K.E. Brower & M.W. Elliott (eds.), Eschatology in Bible and theology: Evangelical essays at the dawn of a new millennium, pp. 11−52, InterVarsity Press, Downers Grove.

Braaten, C.E., 1969a, The future of God: The revolutionary dynamics of hope, Harper & Row, New York.

Braaten, C.E., 1969b.’Toward a theology of hope’, Theology Today 27(2), 208−226.

Braaten, C.E., 2002, The last things: Biblical and theological perspectives on eschatology, Eerdmans, Grand Rapids.

Bruce, F.F., 1977, Romans, InterVarsity Press, Leicester.

Calvyn, J., 1977, Institutes of the Christian religion, vol. 2, transl. F. Battles, Westminster, Philadelphia.

Chesneaux, J., 1992, Brave modern world: The prospects for survival, transl. D. Johnstone, Thames & Hudson, London.

Collins, J.J., 2008, ‘Apocalyptic eschatology in the ancient world’, in J.L. Walls (ed.), The Oxford handbook of eschatology, pp. 40−55, Oxford University Press, Oxford.

De Boer, M.C., 2011, Galatians, Louisville, Westminster John Knox Press.

Dunn, J.D.G., 1998, The theology of Paul the apostle, T&T Clark, Edinburgh.

Du Rand, J.A., 2007, Die A-Z van Openbaring: ’n Allesomvattende perspektief op die boek Openbaring, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.

Du Rand, J.A. 2013, Die Einde: Die A−Z van die Bybelse boodskap oor die eindtyd, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.

Eller, V., 1969, His end up getting God into the new theology, Abingdon, New York.

Elliot, M.W. & Brower, K.E. (eds.), 1997, Eschatology in Bible and Theology: Evangelical Essays at the dawn of a new millennium, InterVarsity Press, Downers Grove.

Ellis, G.F.R., 2002, The far-future universe: Eschatology from a cosmic perspective, Templeton, London.

Goppelt, L., 1978, Der erste Peterbrief, 8 Aufl., Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Gowan, D.E., 1986, Eschatology in the Old Testament, Fortress, Philadelphia.

Grundmann, W., 1974, ‘dokimos’, in G. Kittel, Theologisches Worterbuch zum Neuen Testament, vol 2, pp. 255−260, Kohlhammer Verlag, Stuttgart.

Hauck, F., 1974, ‘Hupomonēin G. Kittel, Theologisches Wörterbuch zum Neuen Testament, vol. 4, pp. 574−588, Kohlhammer Verlag, Stuttgart.

Hebblewaite, B., 2010, The Christian Hope, Oxford University Press, Oxford.

Horne, C.M., 1988, ‘Eschatology – the controlling thematic in theology’, Journal of the Evangelical Theological Society 41(3), 53−63.

Hubbard, D.A., 1983, ‘Hope in the Old Testament’,Tyndale Bulletin 34(2), 33−56.

Janse van Rensburg, J., 2010, ‘Die eskatologie van 1 Petrus: Hoop en vindikasie vir tydelike en permanente uitlanders’, In die Skriflig 44 (1), 201−228.

Keck, L.E., 2005, Romans, Abingdon, Nashville.

Kelly, A., 2006, Eschatology and hope, Orbis Books, New York.

Kermode, F., 1967, The sense of an ending, Oxford University Press, Oxford.

Lekkerkerker, A.F.N., 1974., De brief van Paulus aan de Romeinen, vol. 1, Callenbach, Nijkerk.

McGinn, B., 1979, Visions of the end: Apocalyptic traditions in the Middle Ages, Columbia University Press, New York.

Michel, O., 1966, Der Brief an die Römer, 16 Aufl., Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Moltmann, J., 1964, Theologie der Hoffnung, transl. J. Leitsch, London/München, SCM/Kaiser.

Mountain, W.J. (ed.), 1968, Corpus Christianum: Series Latina, vol, 50, Brepols, Turnholt.

Murray, J., 1980, The epistle to the Romans, Eerdmans, Grand Rapids.

Nowotny, H., 1988, ‘From the future to the extended present’, in G. Kirsch (ed.), The formulation of the preferences in a multidisciplinary perspective, pp. 17−28, Avebury, Aldershot.

Osborn, R.E., 1986, ‘Hope beyond history and fulfilment in history’, Encounter 27(2), 41−60.

Pėguy, C., 1996, The portal of the mystery of hope, transl. D. Schindler, Eerdmans, Grand Rapids.

Polkinghorne, J., 2002, God of hope and the end of the world, SPCK, London.

Sauter, G., 1996, Eschatological rationality: Theological issues in focus, Baker Academic, Grand Rapids.

Schnelle, U., 2009, Theology of the New Testament, transl. M.E. Boring, Baker Academic, Grand Rapids.

Schweitzer, A., 1961, The Quest of the historical Jesus transl. W. Montgomery, SCM, London.

Snodgrass, K., 2008, Stories with intent, Eerdmans, Grand Rapids.

Van der Walt, T., 1962, Die koninkryk van God, naby! Eksegetiese verkennings van die toekomsperspektief van Jesus Christus volgens die getuienis van die Sinoptiese Evangelies, J.H. Kok, Kampen.

Von Rad, G., 1965, Old Testament theology, transl. D. Stalker, Oliver & Boyd, Edinburgh.

Walls, J.L., (ed.), 2008, The Oxford handbook of eschatology, Oxford University Press, Oxford.

Zimmerli, W., 1971, Man and his hope in the Old Testament, SCM, London.



Crossref Citations

No related citations found.