Article Information

Author:
Jan A. du Rand1

Affiliation:
1Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence to:
Jan du Rand

Postal address:
PO Box 441044, Linden 2104, Johannesburg

Dates:
Received: 06 June 2013
Accepted: 17 Mar. 2014
Published: 18 Nov. 2014

How to cite this article:
Du Rand, J.A., 2014, ‘Die Christelike hoop – ’n Bybels eskatologiese belydenis? Deel 2: Teologiese besinning: Wat beteken die Christelike hoop?’, In die Skriflig 48(1), Art. #1255, 8 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
ids.v48i1.1255

Copyright Notice:
© 2014. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Die Christelike hoop – ’n Bybels eskatologiese belydenis? Deel 2: Teologiese besinning: Wat beteken die Christelike hoop?
In This Original Research...
Open Access
Abstrak
Abstract
Inleidend: Vraagstelling, doel en metode
Kan die inhoud van die Christelike eskatologiese hoop nader geformuleer word?
   • Pessimisme oor hede lei tot telos [einddoel]
   • Die skeppingsmatige doelgerigte telos
   • Binne die historiese raamwerk van God se betrokkenheid
   • Hoop as gawe vanuit die transendente teenoor die immanente verhumanisering daarvan
   • Hoop bely ’n ‘alreedse’ identiteit in die hede
   • Hulle wat hoop is rigtinggewend deel van die Bybelse meta- narratief
   • Inhoudelik ontlok hoop kennis, verwagting, verwondering en ’n besluit
   • Hoop transformeer die hede en plaas gelowiges in ’n ‘nuwe’ raamwerk van verstaan
   • Waarop is die eskatologiese hoop inhoudelik gerig?
   • Teosentries gefundeer
Voëlvlug van voorspruitende en tersaaklike teologiese besinning oor hoop
Enkele tersaaklike filosofiese tendense
Die herontdekking van eskatologie
Resumé: Die Christelike hoop as eskatologiese denkraamwerk
Erkenning
   • Mededingende belange
Literatuurverwysings
Abstrak

Hierdie is die tweede artikel wat die vraag moet beantwoord of die Christelike eskatologiese hoop by uitnemendheid die primêre eskatologiese belydenis is van die Christelike teologie soos in die Bybel gefundeer. Is dit enigsins ook die geval in ’n verskeidenheid van teologiese en filosofiese argumentasies? In die eerste artikel is die basis gelê deur die bybelse spoor van die Christelike eskatologiese hoop te beskryf. In Deel 2 wat op Deel 1 volg, is die fokus op die teologiese bespreking rakende die Christelike eskatologiese hoop. Die verdere vraag wat beantwoord moet word is: Wat is die teologiese kern en inhoud van die Christelike eskatologiese hoop? Binne hierdie raamwerk van argumentasie, en verbandhoudend met die onderwerp, word ook van die filosofiese tendense van veral Immanuel Kant, Gabriel Marcel en Ernst Bloch kennis geneem. Die betekenisvolle teologiese sieninge van Johannes Calvyn, Karl Barth, Wolfhart Pannenberg, Jurgen Moltmann en Hendrikus Berkhof word ook aangeraak. Hierdie artikel konkludeer met ’n eie standpuntstelling oor die Christelike hoop as noodsaaklike eskatologiese raamwerk wat die Christen se uitsig, verwagtinge en etos [leefstyl] bepalend raak. Die Christelike siening van hoop, gefundeer in die opwekking van Jesus Christus uit die dood, word volmaak afgerond wanneer ‘God alles in alles sal wees’ (1 Kor 15:28) by die finale einde.

Abstract

The Christian hope – a Biblical eschatological confession? Part 2: Theological reflection: What is the meaning of the Christian hope? This is the second of two articles answering the question whether the Christian hope can be seen as the ultimate biblical eschatological confession. Is it by interpretative reflection also the viewpoint of a selection of topic related theologians and philosophers? In the first article the foundation was done by determining what the ultimate expression and confession describing Biblical eschatology is. The motivated finding was formulated as the eschatological concept hope. Building on the first, the second article’s focus falls on the consequential theological discussion. The further question to be answered is: What is the theological core and content of Christian eschatological hope in a wider framework than the biblical? Within such a framework of argumentation and in terms of tendencies the philosophical argumentation of Immanuel Kant, Gabriel Marcel and Ernst Bloch on hope are taken notice of. The comprehensive theological views on hope by Johannes Calvyn, Karl Barth, Wolfhart Pannenberg, Jürgen Moltmann and Hendrikus Berkhof are also briefly mentioned. This article concludes with an own viewpoint on Christian hope as eschatological framework, determining one’s views, expectations and ethos (lifestyle). The eschatological view of hope, grounded in the resurrection of Jesus Christ, is a confession, coming to a full circle when ‘God will be all in all’ (1 Cor 15:28) at the final end.

Inleidend: Vraagstelling, doel en metode

it het duidelik uit Deel 1 geblyk dat hoop as bybelse gawe en belydenis die primêre drakrag van bybelse eskatologie gevorm het. Dit het die basis voorsien wat tot die beantwoording van verdere vraagstelling en besinning oor die doel van hierdie opvolgartikel gelei het. Die vraag wat hieruit voortvloei, is of hoop ook die verdiende hemeneutiese plek in na-bybelse teologiese en filosofiese denke inneem. Wat is die drakrag van die eskatologiese hoop in ’n verskeidenheid teologiese en filosofiese interpretasies? Wat hierop volg, is enkele grepe uit ’n gekose aantal denkrigtings met die doel om vas te stel wat die rol en funksie van hoop in teologiese en eskatologiese besinning is. Het die dominansie van bybelse hoop na die teologiese eskatologie en apokaliptiek deurgefilter? Hierdie artikel kom tot ’n eie slotsom oor die teologiese plek en funksie van Christelike hoop in die eietydse eindtydse eskatologie deur verskillende toonaangewende teologiese en filosofiese denkers se sieninge na te gaan.

Kan die inhoud van die Christelike eskatologiese hoop nader geformuleer word?

Om die volle trefkrag van die bybelse Christelike eskatologiese hoop volgens bevinding (vgl. Du Rand 2014) nog beter te verstaan, moet die hermeneutiese en teologiese konteks rakende hoop, vervolgens nagegaan word ten einde ’n beter greep op die inhoud van eskatologiese hoop te kry:

Pessimisme oor hede lei tot telos [einddoel]
Stanley Grenz (2000) beskryf die eskatologiese hoop binne die teologiese verband van ’n visie van die telos:

Pessimism about the future of the world has given renewed credence to expectations of an actual catastrophic apocalypse at the very time incredulity toward metanarratives has called into question any talk about a universal human history … the Christian eschatological message with its vision of the telos, or goal, of the cosmic processes, still retains power to inform and transform life in the present. (p. 339)

Die skeppingsmatige doelgerigte telos
’n Eskatologiese teologie van hoop funksioneer binne die Godgegewe skeppingsmatige telos (Grenz 2000:340). Die hele Goddelike skepping kom eers doelgerig tot ’n einde wanneer die ‘nuwe’ begin in volle heerlikheid ’n aanvang neem. ’n Telos-raamwerk gee doelmatig rigting aan ’n teologie van hoop. Dit put uit die skepping (begin van alles) en reik na die wederkoms (einddoel) solank die fokus op die Eschatos [Jesus Christus] val, en nie net op die eschata [laaste dinge] nie; op die adventus [aankoms van Christus] en nie net op die futurum [toekomstige] nie (vgl. Souter 1996:146). Die teologiese-geïnterpreteerde ‘nog nie’ van die vervulling van die ‘nuwe’ word in die huidige tydvak as die ‘alreedse’ beleef, dit is die alreedse deurbraak van die nuwe skepping (vgl. 2 Kor 5:17).

Binne die historiese raamwerk van God se betrokkenheid
Jürgen Moltmann (1975:45) het reeds van die ‘geskiedenis as God se boek van beloftes’ gepraat [outeur se vertaling]. Dit was immers ’n korrektief op Bultmann (1884−1976) se eensydige program van ontmitologisering waarvolgens hoop op God se apokaliptiese verwagtinge vereng is tot ’n huidige eksistensiële ervaring van ewige lewe (Bultmann 1951:143; vgl. Moltmann 1967:33). Hoop pas beslis by ’n historiese raamwerk in – God se pad met sy eie, in die hede, asook ’n definitiewe transendente finale historiese bestemming.

Die Christelike hoop funksioneer op ’n duidelike waarneembare liniêre historiese tydlyn asook binne ’n historiese bewussyn, naamlik dat die Goddelike eskatologiese tydlyn ’n begin en ’n einde het. God se verlossingsdade begin in die paradys en ontvou op die tydlyn van sy onverdiende genade, om uiteindelik op die einde as bestemmings-telos uit te loop. Hoop verloop dus binne die bewussyn dat God se dade ’n toekoms het en dat hoop self rigtinggewend in die Goddelike eskatologiese gang is.

Die Ou-Testamentiese gelowige het deurgaans geleef asof God die alleenbeskikker van die toekoms is. Daar is nog groter dade in God se toekoms vir sy eie te wagte. Die Nuwe Testament gee aan die besondere ingrype van God ’n konkrete naam, naamlik die wederkoms van die opgewekte en verheerlikte Jesus Christus. Die inhoud van hoop is dus ’n vasstaande geloofsgreep op God se historiese ingrype. Dit is allermins ’n antroposentriese illusie of wensdenkery soos dit soms moedswillig in die modernisme en postmodernisme aangebied is (vgl. Meeks 1974:18).

Hoop as gawe vanuit die transendente teenoor die immanente verhumanisering daarvan
Om die Christelike hoop te verhumaniseer tot ’n menslike hunkering na ’n beter einde, is net so onvanpas (Bloch 1986:32). ’n Universele menslike normatiwiteit van die werklikheid bied ’n vals grondslag. Die Christelike hoop as Goddelike gawe is nie net teoreties van aard nie, maar moet op grond van die sterwe en opwekking van Jesus Christus as vasstaande realiteit geïnterpreteer word. Teenoor die verhumanisering van die Christelike hoop, is die transendent-georiënteerde hoop eerder bestem om bybels-gedefinieerd as ’n geloofsgrype en antisipasie van die Goddelike visie van die doelmatige einde (telos) te wees. ’n Eskatologie van hoop berus eerder op die bybelse Goddelike belofte om die skepping tot volmaakte vervulling in ’n Goddelike ewigheid te bring. Dit streef dus nie net na ’n vae toekoms nie, maar na die God van die toekoms; nie maar net na die telos van menslike bestaan nie, maar na die Goddelike einddoel. Openbaring 21:5 druk dit só uit: ‘Kyk, Ek maak alles nuut.’ Om saam te vat, die Christelike hoop strek nie net uit na die ‘laaste dinge’ as eshata nie, maar na die transendente Goddelike einddoel.

Hoop bely ’n ‘alreedse’ identiteit in die hede
Die belydenis van Christelike hoop is direk verbind aan die gelowige se identiteit omdat só ’n persoon met ’n visie leef wat op die bybelse verhaal van eskatologiese hoop gebou is. Die ’nuwe skepping’ is dus ’n eskatologiese realiteit wat op die gelowige se toekoms sowel as sy hede dui (vgl. Ef 2:4−7; 1 Joh 3:1−3). Daarvolgens dra die Christelike hoop ook kosmiese betekenis.

Hemel en aarde is kosmies-gedefinieer. Gelowiges wat hoop, weet ook dat hierdie leefwêreld uit die eskatologiese hoop put. Hoop is nie net ’n menslike Christelike belydenis en leefstyl nie, maar juis die Goddelike deelname aan God se eie skepping met die oog op sy toekoms. Voortspruitend uit die Christelike hoop, moet die beelddraers van God die Godgegewe mandaat uitvoer om die huidige wêreld volgens God se eskatologiese einddoel daarvoor te bewoon en te bestuur.

Hulle wat hoop is rigtinggewend deel van die Bybelse meta- narratief
Die Christelike hoop konstitueer dinamiese deelname aan die Christelik-bybelse metanarratief wat nie immanent eindig nie, maar transendent met ’n immanente belewenis daarvan. Hierdie metanarratief vertel die verhaal van die drie-enige God se oppad-wees met sy skepping. Wie hoop, neem op ’n dinamiese wyse aan hierdie metanarratief deel. Dié dinamiek moet egter nie simplisties as ’n postmodernistiese ‘mite van vooruitgang’ gesien word nie. Die ‘mite van vooruitgang’ faal juis weens die gebrek aan transendensie en die redusering van eskatologie tot die immanente doel van bloot die menslike geskiedenis. Bauckham (1999:41) beklemtoon dat hoop allermins deel het aan ’n einde bloot as eindproduk van die menslike geskiedenis: ‘The sense of an ending impels us to seek the meaning of a story finally and fully only in the meaning given by its end.’

Samevattend kan gesê word dat die doelgerigte einde van die Christelike metanarratief die ‘alreedse’ hoop betekenisvol vul omdat dit transendent afgestem is en die gelowiges God gedurende hierdie fase vir die ‘nog nie’ moet vertrou. Gelowiges se hoop loop op die transendente uit op grond van geloof in die God van die opwekking uit die dood (vgl. Beardslee 1970:234).

Inhoudelik ontlok hoop kennis, verwagting, verwondering en ’n besluit
Die Christelike hoop gee inhoudelik ook gestalte aan die elemente van kennis, verwagting en ’n besluit. Dit is juis kennis van die opwekking van Christus uit die dood wat lei tot die gefundeerde verwagting dat almal in Christus opgewek sal word by sy wederkoms. Om te hoop, beteken om God in volle vertroue te neem.

William Lynch soos aangehaal deur Hebblewaite (2010), beskryf hoop:

… as a constant decision to move into the future, a bid to transcend the present with its perceived limits and difficulties, to imagine a way out of that which constrains and threatens to engulf or imprison us into a brighter and better alternative. (p. 181)

Daarmee kan heelhartig saamgestem word, want sodoende verruim, verbreed en verdiep eskatologiese hoop die gelowige se geloofshorisonne. Jürgen Moltmann (1967) het dit, kenmerkend van hom, só geformuleer:

Wanneer geloof ontwikkel in hoop, veroorsaak dit nie rus nie, maar onrus, nie geduld nie, maar ongeduld. Dit kalmeer nie die gelowige se hart nie, maar word self die onrustige hart. (bl. 21, [outeur se vertaling])

Die gevolgtrekking kan reeds gemaak word dat die Christelike hoop nie op die immanente self (die ego-self) staatmaak nie, maar op die transendente telos, om uiteindelik volmaak by God en die Lam te wees. Intussen gee die Heilige Gees aan die hoopvolles se hoop begeleidende en uitvoerbare inhoud! Die Christelike hoop beliggaam by uitnemendheid die element van ‘nuutheid’ wat die hoop nuut definieer. Richard Bauckham (1999) verwoord dit só:

The Christian hope is finally invested not in an extension of or a development from the conditions, actualities and potentialities of the present order of things, but in a decisive activity of the God who in the beginning called this same order into being out of nothing, and who promises us a transformation of our situation so radical as to be pictured under the figure of a wholly new creative act on God’s part. (p. 77)

Hoop transformeer die hede en plaas gelowiges in ’n ‘nuwe’ raamwerk van verstaan
God se nuwe toekoms bepaal ook die hede. Die nuwe is kwalitatief nuut (kainos) en nie spekulatief nuut nie, maar ’n identifiseerbare Goddelike ingrype word beleef en verwag. Die toekoms lê in God se hande. Geloof kan nie net tot die hede ingeperk word nie, maar reik na die toekoms deur die Christelike hoop. Die eskatologiese hoop is besig om die hede te transformeer (vgl. ook Jes 65:17; Op 21:5). Die waarmerk van God se genade is dat die nuwe lewe oor die dood en die dood se magte triomfeer. Die Gees bewerk die nuwe in gelowiges en word deur hoop, as gelowige belydenis, sigbaar gehandhaaf (vgl. Rom 8:6).

Waarop is die eskatologiese hoop inhoudelik gerig?
Die antwoord is dat hoop sy inhoud wesenlik vind in die raamwerk van die finale tydvak van die menslike geskiedenis, die wederkoms van Christus self en die ewige lewe in die hiernamaals. Dit bring ons by Louw en Nida (1988: subdomeine 25.59−25.64) wat drie verwante betekenisse vir die Griekse word elpis onderskei wat hoofsaaklik deur ‘hoop’ vertaal word. Die eerste betekenis is ‘hope, to look forward with confidence to that which is good and beneficial’; die tweede is to hope, to hope for, that which is hoped for’, en die derde is ‘the basis for hope, that which constitutes the cause or reason for hoping – the basis for hope, the reason for hope’.

Die Pauliniese grondslag en motivering vir hoop setel in die opwekking van Jesus Christus uit die dood. Die gelowige kyk met verwagting en geloof na die toekoms wat God vir sy eie beplan. Dit sluit in die wederkoms van Christus , die oorwinning van die Antichris, die opwekking uit die dood, die finale oordeelsbekendmaking, die bruilofsfees en die aanbreek van die volkome erkenning van die koningskap van God – alles wanneer die volmaakte Nuwe Jerusalem die geskiedenis ‘van bo’ deurbreek. Wat in ’n tuin begin het, word in ’n stad afgerond, die begin van die volmaakte nuwe (vgl. Ratzinger 1988:48 e.v.).

Teosentries gefundeer
Die Christelike hoop is teosentries omdat die gelowige sy volkome vervulling in die eskatologiese visie van God vind. Nie uit homself nie, maar gebore in ’n verhouding met God (vgl. Joh 1:18). In Jesus Christus het die gelowige God gesien (2 Kor 4:6; vgl. 1 Kor 13:12). Daarom lê die inhoud van hoop ten diepste in die Goddelike transendente. Die eskatologiese hoop dra die gelowige deur dik en dun (Bauckham 1993:184 e.v.).

Die gebed ‘… laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied soos in die hemel …’ (Matt 6:10), kan gesien word as ’n eskatologiese deelname van hoop aan die einde deur bemiddeling van die Heilige Gees. Só ’n hoop wat in God rus vind, maak ’n mens vry van vrees en angs, en gereed tot getuieskap. ‘Hope is intent not on the ‘survival of the fittest’, but on the fittingness of all finding life’s fullness and fulfilment’ (Kelly 2006:8).

Kort en kragtig: God, die Vader neem die inisiatief vir die Christelike hoop deur sy Seun die hoogste prys te laat betaal en weer op te wek uit die dood. Dit is die Heilige Gees wat die vlam van eskatologiese hoop brandend hou.

Voëlvlug van voorspruitende en tersaaklike teologiese besinning oor hoop

Teologiese besinning gedurende die negentiende eeu het grotendeels in ’n gebrekkige eskatologie vasgeval. Toonaangewende liberale protestantse teoloë soos onder andere Friedrich Schleiermacher (1768−1834), Albrecth Ritschl (1822−1889) en Adolf von Harnack (1851−1930), het as die belangrikste woordvoerders van dié tydvak na vore getree. Die dominante aanleiding tot eskatologiese ‘bloedarmoede’ was dat die Christelike hoop op die immanente en humanistiese ingestel was omdat die Koninkryk van God aan ’n perfekte etiese gemeenskap in die hiermaals gelyk gestel is. Volgens Ludlow (1821−1911) en Charles Kingsley (1819−1875) het veral die sosiale teologie die transendente dimensie van hoop sodoende afgewater (Hebblewaite 2010:120). Eskatologie en etiek is nie geïntegreer nie omdat die humanisme so hoog aangeslaan is (Hebblewaite 2010:124) en die werklikheid van die bose totaal onderskat is.

Johannes Calvyn het, op voetspoor van Augustinus, veral op die kerk as liggaam van Christus gefokus. Thomas Torrance (1956:41 e.v.) het nie verniet Calvyn se eskatologie ‘an eschatology of hope’ genoem nie. Deur die Heilige Gees word die eskatologiese hoop tot by die voleinding in stand gehou (vgl. Hebblewaite 2010:72). Veral twee eras, naamlik die huidige fase van die verborge pelgrimskerk en die toekomstige fase van die heerlikheid by Christus se wederkoms, is onderskei. Die sigbare Kerk het ’n definitiewe historiese sendingtaak om hoop aan ’n stukkende wêreld te gee.

Aan die begin van die twintigste eeu het veral Johannes Weiss (1863−1914) en Ernst Troeltsch (1865−1923) die fokus van die eskatologiese hoop op Jesus se eskatologiese prediking geplaas (vgl. Hebblewaite 2010:126). Dit het as korrektief op die vroëere liberale etiese beskouing oor die Koninkryk van God gedien. Tjaart van der Walt (1962:53 e.v.) het in sy proefskrif ook gepoog om die Koninkryk van God bybels en reformatories te verduidelik.

Alhoewel Albert Schweitzer (1961:24) se eskatologiese besinning nog meer radikaal was as dié van Weiss (1892), het hy die Judaïstiese invloede op Jesus se eskatologiese prediking opnuut beklemtoon. Volgens hom verwag Jesus ’n spoedige einde na aanleiding van sy bekende Bergrede. Gedurende die tussentyd word die Christelike hoop deur ’n ‘interim-etiek’ gedra. Jesus sterf teleurgesteld omdat die Messiaanse Koninkryk nie reeds gedurende sy aardse lewe aangebreek het nie Dit blyk dus dat Schweitzer (1961:27 e.v.) nie die Christelike hoop volledig verbind kon kry aan die historiese Jesus nie. Sy sieninge het egter eskatologie weer op die teologiese radarskerm geplaas, alhoewel sy sienswyses nie oortuig het nie.

Karl Barth (1886-1968) lui met sy epogmakende kommentaar op Romeine (Barth 1918; vgl. ook 1972:38 e.v.) ’n nuwe era en fokus op eskatologie in teen die reliëf van twee wêreldoorloë wat pessimisme en ontnugtering gebring het. Volgens Barth is die Christelike hoop eerder gerig op die ewige, oneindige en ‘anderse’ God wat die menslike geskiedenis binnetree en mense oorreed om in Jesus Christus te glo (McDowell 2000:74 e.v.). Elke oomblik is, volgens Barth (1918), ’n hoopryke eskatologiese moment om deur bekering en geloof op God se verlossingsdaad in Christus te antwoord. Gelowiges se hoop is op die transendente God en Christus gevestig. In Christus is die oordeel reeds gefel. Die mens hoop op die ewige lewe wat nie die tweede toekomstige lewe is nie, maar die huidige wat God alleen nou reeds kan raaksien, maar vir die mens nog versteek is (Barth 1972):

We thus wait and hope, even in view of our death, for our manifestation with Him, with Jesus Christ who was raised again from the dead, in the glory of not only the judgement but also the grace of God. (p. 9)

Volgens Barth (1972:34) gaan hoop nie oor die voortgang van die huidige nie, maar oor die Goddelike voleinding van lewe volgens sy einddoel. Gelowiges hoop op die toekomstige volmaakte deelhê aan God se heerlikheid. Die bestemming van die gelowige is geborg in Christus. Christus het die veroordeling van sonde op Hom geneem en Hy is ook die brug tot verlossing. Daarom moet die uitsien na die hiermaalse lewe vanuit die perspektief van die hiernamaals geskied. Wat tog kortkom in Barth se eskatologie, is ’n Christelike hoop op ’n nuwe skepping en ’n nuwe wêreld van volmaaktheid wat God sal laat aanbreek.

Vir Rudolf Bultmann (1958) is Jesus Christus die eskatologiese moment deur wie God ’n einde aan die ou wêreld gebring het. Hy onthistoriseer die eskatologie en meen die bybelse boodskap is suiwer ’n mite en interpretasie. Die wederkoms is nie ’n toekomstige historiese gebeurtenis nie, maar ’n eksistensiële moment wat die gelowige tans reeds kan beleef in sy konfrontasie met die bybelse kerugma. Eskatologie is dus eksistensieel op die huidige kairos [bestemde tyd], dit is die oomblik van beslissing, gerig (Bultmann 1958:62). Hy het nie slegs die Christelike hoop ontneem van ’n geloofsverwagting op die toekoms wanneer die koninkryk van God volmaak sal aanbreek nie, maar ook verhumaniseer deur sy fokus op die individu se eksistensiële belewenis daarvan in die hede.

Charles Dodd (1884−1973), bekend vir sy ‘gerealiseerde eskatologie’, toon eweneens aan dat Jesus in sy gelykenisse ’n gerealiseerde hoop binne eskatologiese perspektief handhaaf. Die koninkryk van God het, volgens sy interpretasie, reeds in Jesus aangebreek en die hede is die tyd van verlossing en oordeel. Elkeen wat glo, deel reeds in die ewige lewe. Van die oomblik dat iemand Jesus as die Here bely, is hy deel van die ‘nuwe skepping’ (Dodd 1961). Hy het egter nie rekening gehou met die toekomstige volkomenheid nie en het die funksie van hoop dus gerelativeer en eksklusief op die hede afgestem.

Barth, Bultmann en Dodd het die eskatologiese klem sterk en, na my mening, eensydig op die hede geplaas en sodoende die toekomskomponent in die Christelike hoop afgewater.

Emil Brunner (1889−1966) se siening oor die Christelike hoop is verhelderend en tersaaklik (Brunner 1962). Hy verkondig ook die sentraliteit van Christus en die ‘nuutheid’ van ’n eskatologiese bestaan as antwoord op God se goedheid wat deur Golgota en die leë graf weerspieël word. Hy weier egter om te aanvaar dat daar nie ook ander wyses is waarvolgens ons die openbaring kan leer ken nie. Om te hoop, is, volgens hom, om ’n toestand van ‘eskatologiese spanning’ te beleef in die eskatologiese geloofsverwagting op die vervolmaking van alles en almal. Die ewige lewe en die Koninkryk van God het albei betekenis vir die hede sowel as vir die toekoms. Daarom leef gelowiges in ’n gesonde eskatologiese spanning in afwagting op die volmaakte (vgl. McGrath 2011:64 e.v.).

Enkele tersaaklike filosofiese tendense

Ter wille van breër perspektief op die verstaan van Christelike hoop, is dit gepas om kennis te neem van enkele momente uit tersaaklike filosofiese denkstrome.

Kom ons gaan staan ’n oomblik stil by die drie deurslaggewende vrae wat Immanuel Kant (1781) in sy Kritik der reinem Vernunft gevra het: eerstens, ‘Wat kan ek weet?’; tweedens, ‘Wat behoort ek te doen?’; en derdens, ‘Wat moet ek hoop?’ (Smith 1929:34). Oor eersgenoemde twee vrae het filosowe (en teoloë) al heelwat kommentaar in hulle geskrifte gelewer, maar oor laasgenoemde ongelukkig bloedweinig. Selfs Kant se eie beantwoording van die vraag oor hoop, naamlik die onsterflikheid van die siel, is sogenaamd as swak filosofie en swak teologie beskou (Braaten 1969b:210; 2002:43 e.v.).

Teen die agtergrond van twee ontnugterende wêreldoorloë sou filosofie en teologie nuut oor die Christelike hoop moes dink en formuleer.

Die Franse Christenfilosoof, Gabriel Marcel, is van mening dat hoop ’n integrale deel van ’n Christen se oppad-wees na God se toekoms is: ‘Hope is to human consciousness what breathing is to the living organism’ (vgl. Bauckham 1999:87). Hoop is eers hoop as dit wanhoop kan oorwin. Die teenoorgestelde van hoop is wanhoop en geen hoop. Marcel noem die mens wat reis die homo viator. Hoop is eers hoop as dit in die aangesig van wanhoop funksioneer en versoeking weerstaan. Hoop stel die mens in staat om uit die web van die geïsoleerde ego te ontsnap (vgl. Bauckham 1999:87).

Omdat hy ’n bepalende invloed op die ‘teoloog van hoop’, Jürgen Moltmann, sou uitoefen, is dit noodsaaklik om ook kennis te neem van die Oos-Duitse Marxistiese filosoof, Ernst Bloch. In drie lywige volumes bespreek hy hoop (Bloch 1986). Hoop is volgens hom aan die novum [nuwe] verwant – om ’n nuwe gemeenskap van hoop daar te stel. Dit is by die mens die diepgewortelde honger na die ‘nog nie’ wat hoop lewend hou. Hoop is nie ’n vae aspirasie nie, maar ’n aktiewe antisipasie van ’n regverdige maatskappy. Die hede is oppad na die toekoms deur die hoop op wat nog verwesenlik moet word. Vir Bloch lê daar ’n klaslose regverdige gemeenskap in die toekoms. God is vir Bloch (1986:3) slegs ’n simbool van die ‘nog-nie’-moontlikhede vir die menslike vryheid. Deur hoop strek die mens homself na die toekoms uit en dit vind op ’n historiese lyn plaas. Wanneer hoop die regte keuses help maak, word die behoeftes begeertes. Sodoende stu die hele geskiedenis voort na die ideale. Vir Bloch moet die hede getransformeer word om deur hoop by die ideale klaslose maatskappy uit te kom. Dit is soos bergklim, sê hy. Van onder sien jy die bopunt, maar in die klimproses sien jy slegs ’n volgende krans. Vir hom bly hoop egter Godloos en immanent in die gang van die menslike geskiedenis (Bloch 1986:146). Bloch propageer ’n hoop sonder geloof of, anders gestel, ’n humanistiese filosofiese siening sonder God. Tog het hy in sy denke ’n opening gelaat vir die bybelse belofte van die Koninkryk van God: ‘Man is open-ended toward the future; this openness is evident in his hopes!’ (vgl. Moltmann 1967:542).

Die herontdekking van eskatologie

Die bekendste gekose teoloë wat op dinamiese wyse die Christelike hoop teologies ‘herontdek’ het, is sekerlik Jürgen Moltmann en Wolfhart Pannenberg. Volgens Moltmann se kommentaar, veral oor Bloch, het Bloch die vraag na die ware Christelike hoop opnuut aan die orde gestel. (vgl. Moltmann 1967:245; 1996:64 e.v.). Braaten (1969:216) noem Moltmann se teologiese bydrae ‘rediscovering the logos of hope’. In sy Theologie der Hoffnung noem Moltmann (1967:7) dat eskatologie by uitnemendheid die medium van die Christelike geloof is. Volgens hom leef die Christelike geloof uit die historiese werklikheid van Christus se opwekking uit die dood wat mense se hoop op ’n Goddelike pad na die toekoms, die wederkoms van hierdie Christus, geplaas het. Daarteenoor is die werklikheid, volgens die Griekse ontologie, nie oop na die toekoms nie en is daar dus geen behoefte aan hoop nie (vgl. Moltmann 1974:36 e.v.). In die Christelike eskatologie is hoop op God se toekoms egter in sy beloftes en sy pad met sy eie gefundeer. Dit is, volgens Moltmann, die roeping van die ‘Eksodus-kerk’ om die menslike lewe van onderdrukking te bevry en, met die oog op die koms van die Koninkryk van God, te transformeer (vgl. Tang 2011:14 e.v.).

Moltmann (1967) stel dit so in sy eie woorde:

Wirklichkeit des Leidens und des Todes stimmt sich der Glaube auf der Hoffnung und eilt über diese Welt hinaus. Er meinte damit nicht das der christliche Glaube weltflüchtig, wohl aber er zukunftssüchtig sei. … Hoffnung und Glaube binden den Menschen an Christus ... Die Hoffnung ist darum der ‘unzertrennliche Begleiter’ des Glaubens. (S. 15)

Dit is die Christelike hoop wat die belydende Kerk bely en haar herinner en motiveer om God se historiese toekoms te verwag. Dit is ook die taak van die Kerk om deur hoop eskatologiese rigting aan die wêreld te help gee, oppad na die toekomstige Koninkryk van God (Moltmann 1999:46 e.v.; 1996:86 e.v.; 2005:154).

Moltmann (1968:16) verstaan die Christelike hoop Christologies op grond van Christus se opwekking uit die dood: ‘Glauben heist, die Grenzen in vorgreifender Hoffnung uberschreiten, die durch die Auferweckung des Gekreuzigten durchbrochen sind.’ Wright (2003:553−583) bespreek volledig die opwekking van Christus as die basis van hoop onder die opskrif: ‘Hope in person: Jesus as Messiah and Lord’.

Volgens Wright gaan God se beloftes, volgens die Ou Testament, in vervulling in God se eie toekoms. Deur te hoop, neem gelowiges aan die Goddelike eskatologiese proses deel (vgl. Bauckham 2011:557). Die eskatologiese Koninkryk is nie ’n uitvloeisel of ontplooiing van huidige immanente humanistiese moontlikhede nie, maar verteenwoordig ’n radikale nuwe toekoms. Die opwekking van Christus het God se eskatologiese proses aan die gang gesit om uiteindelik tot ’n volkome transformasie van die huidige te lei. Hoop is dus die vaste wete dat God hierdie wêreld transformeer. Tans beleef gelowiges nog ’n teëspraak tussen die bestaande en die toekomstige. Daarom inspireer die eskatologiese hoop die gelowige tot sosiale transformasie van die huidige wêreld.

In ’n antwoord aan Bauckham vra Moltmann (1999:37) opnuut die indringende vraag: Wat is die hoogste doel? Is dit die wêreld in God of God in die wêreld? Hy het dit self reeds beantwoord in sy boek The Coming of God (Moltmann 1996:49 e.v.; vgl. Wright 2008:174 e.v.). Daarvolgens word die ewige Drie-eenheid verheerlik in die verlossingsgeskiedenis van die wêreld. Moltmann (1999:41) kombineer sy eie antwoorde volgens ’n Joodse midrasj [wetuitlegmetode] soos volg: ‘The world will find space in God in a worldly way when God indwells the world in a divine way.’. God se toekoms bepaal dus die hede. Die mens neem daaraan deel deur die konstruktiewe Christelike hoop. Moltmann (1967:299, 300) benoem die Woord van God as ‘… selber eine eschatologische Gabe’ en die Christendom die getuie ‘… Im Erwartungshorizont des Reiches Gottes’.

Die bydrae van Carl Braaten (1969) wat ook oor die eskatologie van hoop skryf, verdien vermelding al word dit nie vollediger bespreek nie.

’n Tydgenoot van Moltmann, Wolfhart Pannenberg (1964; 2008) het net soos Moltmann gewerk aan ’n ‘eskatologie van hoop’ (vgl. veral Pannenberg 1964; 1984; 2008). Hy beklemtoon dat die Godheid van Jesus wat sy verlossende eskatologiese plek en funksie in God se plan betref, allesbepalend is. Apokaliptiek is nodig om die eskatologiese hoop verstaanbaar voor te stel omdat die ingrype van God van buite die geskiedenis die dominante in hoop konstitueer (vgl. Pannenberg 1964:58 e.v.; vgl ook Mostert 2002). Die universele geskiedenis bereik sy vervulling in die opwekking van die dooies by die wederkoms en die volmaakte deurbraak van God se Koninkryk. Dit moet die inhoud van hoop bepaal. Slegs deur apokaliptiese denke kan die rol van hoop verstaan word. Dit verwys na die Goddelike vervulling van die geskiedenis. Hoop ontsluit ons openheid tot God se apokaliptiese toekoms. Slegs die God van hoop kan betekenisvolle vryheid aan die gelowiges gee (Pannenberg 2008:496). Pannenberg neem ook hewig stelling in teen die liberale, eksistensialistiese en politieke eskatologieë deur aan die verwagte opwekking van die dooies allerbelangrike betekenis as die volkome deelname aan die Koninkryk van God toe te ken. Dit is die universele kerk wat aan God se Koninkryk deel het en gaan hê (Pannenberg 1984:126) en die Gees wat gelowiges deur hoop in God se toekoms vir sy eie laat deel.

Vanuit ’n meer reformatoriese perspektief het Hendrikus Berkhof (1914−1995) ’n gefundeerde bydrae in sy Christian Faith (1979) gelewer. Hy meen dat slegs ’n buitestander sou kon dink dat die eskatologiese hoop die aardse lewe van sy belangrikheid stroop. Die teendeel is egter eerder waar: die ewige hoop gee juis perspektief aan die huidige aardse lewe. Die aardse lewe is nie ’n doel op sy eie nie, maar slegs die pad na God se doel. Sy Calvinistiese insig kom duidelik na vore, naamlik dat die Christelike hoop nie eksklusief tot die individu beperk is nie, maar ook in die kerk en wêreld as geheel ’n invloed uitoefen deur die werk van die Heilige Gees. Die volmaakte lê egter in die Goddelike einde van hierdie wêreld opgesluit. Tog is daar ’n verband tussen die aardse heiliging en vervolmaking in die hiernamaals in die sin van kontinuïteit en diskontinuïteit. Die implimentering van die Christelike hoop het definitief ook ’n beslissende invloed op sosiale en politieke terreine (Berkhof 1979:488; Calvyn 1977).

Resumé: Die Christelike hoop as eskatologiese denkraamwerk

Die slotsom waartoe ’n navorser van hierdie onderwerp kom nadat die bybelse en teologiese beredeneringe nagegaan is, is dat die Christelike hoop dominant en rigtingaanduidend is omdat dit eskatologies op God se toekoms vir sy eie afgestem is. Uit ’n gegewe en gemotiveerde geloofsverlange vertrou die mens wat op God se beloofde verlossingswaarheid in die toekoms hoop terwyl die Christelike hoop ook die hede in die rigting van die toekoms transformeer. Dit is bevind dat die Christelike hoop sekerlik die sentrale identiteitsbelydenis is wat eskatologies drakrag aan Skrifuitleg en die Christelike teologie verleen.

By die aanvang van ’n lesing het Jürgen Moltmann (2005:1) die volgende in ’n oomblik van rou waarheid kwytgeraak: ‘It is simple, but true, to say that theology has only one single problem: God. As theologians, God is our dignity, God is our agony. God is our hope.’

Die Christelike geloof en liefde inspireer die hoop, en hoop dra geloof en liefde God se toekoms in (vgl. 1 Kor 13:7, 13 ). Veral hulle wat die felheid van vervolging met volharding deurstaan en geslaag het, kan as beproefdes hoop beoefen (Rom 5:4, 5).

Die eskatologiese hoop gee nie ’n gedetailleerde uiteensetting van God se toekoms nie, maar reik daarna met geloofsvertroue.

Teologie is in sy nadenke op God se volmaakte toekoms afgestem. Daarom word Skrifuitleg en teologie eskatologies verstaan en is ’n eskatologiese teologie een van hoop. Dit is die Christelike visie en verwagting van die einde, uitgedruk as telos, die Goddelike einddoel, wat ook betekenis aan die hede gee. Om dit Paulinies uit te druk:

… daar is ’n volgorde: die eersteling is Christus, daarna by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort. Daarna kom die einde (telos) wanneer Hy die koningskap aan God die Vader oordra … sodat God alles in alles sal wees … (1 Kor 15:23, 24, 28).

Wanneer die hoopvolle uitsig op die Goddelike telos gerig is, is hoop die geloofsvertroue om na die volkome vervulling van God se verlossingsbeloftes uit te sien.

Die voedingsbron van die eskatologiese hoop is die opwekking van die gekruisigde Christus uit die dood. Daarom is die Christelike hoop nie op die eschata (laaste dinge) gerig nie, maar op die Eschatos (die Laaste Persoon), Jesus Christus, die opgewekte Here.

Dit is ook noodsaaklik om die balans tussen die historiese toekoms en die apokaliptiese toekoms raak te sien. Laasgenoemde verwys na die Goddelike ingrype in die huidige historiese bedeling. Die eskatologiese hoop, by monde van die getuienis van die Kerk, strek hom uit na God se toekoms en motiveer die gelowiges om die hede te beoordeel en betekenis daaraan te gee volgens hierdie toekoms. Deur die eskatologiese hoop kan die verloop van die Goddelike metanarratief (skepping (uit niks), nuwe volledige herskepping (Jesus Christus) en die volkome herskepping (Christus se wederkoms)) op ’n eenheidslyn gesien en beleef word. Wanneer God ‘alles in alles’ is (1 Kor 15:28), sal die eerste skepping en die herskepping eers afgerond wees.

Elke teologie het sy eie besondere kairos in die sin van ’n beslissende tyd of fase wanneer alle ander humanistiese utopias buite die raamwerk van die Goddelike telos gefaal het. Die teenoorgestelde is, as ’n herontdekking van die eskatologiese hoop, ook vir gelowiges in die huidige Suid-Afrika uiters betekenisvol.

Erkenning

Mededingende belange
Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Barth, K., 1918, Der Römerbrief, 2nd edn. , Kaiser Verlag, München.

Barth, K., 1972, Protestant theology in the nineteenth century, transl. G.W. Bromiley & T. F. Torrance, SCM, London.

Bauckham, R., 1993, The theology of the book of Revelation, Cambridge University Press, Cambridge.

Bauckham, R., 1999, God will be all in all: The eschatology of Jürgen Moltmann, T&T Clark, Edinburgh.

Bauckham, R., 2011, ‘Richard Bauckham on Jürgen Moltmann’s Eschatology’, in A.E. McGrath (ed.), The Christian Theological Reader, pp. 556−558, Wiley-Blackwell, Oxford.

Beardslee, W.A., 1970, ‘Hope in Biblical eschatology and in process theology’, Journal of the American Academy of Religion 38 (3), 227−239. http://dx.doi.org/10.1093/jaarel/XXXVIII.3.227

Berkhof, H., 1979, Christian Faith: An Introduction to the Study of the Faith, Eerdmans, Grand Rapids.

Bloch, E., 1986, The principle of hope, 3 vols., Blackwells, Oxford.

Braaten, C.E., 1969, Toward a theology of hope, Theology Today 69(2), 208−226.

Braaten, C.E., 2002, The last things: Biblical and theologicalperspectives on eschatology, Eerdmans, Grand Rapids.

Brunner, E., 1962, The Christian doctrine of the church, faith and Consummation: Dogmatics, Lutterworth, London.

Bultmann, R., 1951, Theology of the New Testament, transl. K. Grobel, Charles Scribners’ Sons, New York.

Calvyn, J., 1977, Institutes of the Christian religion, vol. 2, transl. F. Battles, Westminster, Philadelphia.

Dodd, C.H., 1961, The parables of the kingdom, Collins, London.

Du Rand, J.A., 2014, ‘Die Christelike hoop – ‘n Bybelse eskatologiese belydenis? Deel 1: Bybelse getuienis − ‘n verhaal van hoop?’, In die Skriflig 48(1), in press.

Grenz, S.J., 2000, ‘Eschatological theology: Contours of a postmodern theology of hope’, Review and Expositor 97(2), 339−354. http://dx.doi.org/10.1177/003463730009700305

Hebblewaite, B., 2010, The Christian hope, University Press, Oxford.

Kant, I., 1781, Kritik der reinem Vernunft, 2nd edn., transl. N. Smith, St Martins, New York.

Kelly, A., 2006, Eschatology and hope, Orbis Books, New York.

Louw, J.P. & Nida, E.A., 1988, Greek-English Lexicon of the New Testament, 2 vols., UBS., New York.

McGrath, A.E., 2011, Christian Theology: An Introduction, Oxford University Press, Chisester.

McDowell, J., 2000, Hope in Barth’s Eschatology, Aldershot, Ashgate.

Meeks, W.D., 1974, Origins of the theology of hope, Fortress, Philadelphia.

Moltmann, J., 1967, Theologie der Hoffnung, 2nd edn., Kaiser, München.

Moltmann, J., 1974, The crucified God: The cross of Christ as the foundation and criticism of Christian theology, transl. T. Wilson, Harper, New York.

Moltmann, J., 1975, The experiment hope, transl. M.D. Meeks, Fortress, Philadelphia

Moltmann, J., 1996, The coming of God: Christian eschatology, transl. M. Kohl, Fortress, Minneapolis.

Moltmann, J., 1999, God for a secular society: The public relevance of theology, SCM, London.

Moltmann, J., 2005, ‘The blessing of hope: The theology of hope and the full gospel of life’, Journal of Pentecostal Theology 13(2), 147−161. http://dx.doi.org/10.1177/0966736905053242

Mostert, C., 2002, God and the future: Wolfhart Pannenberg’s eschatological doctrine of God, T&T Clark, Edinburgh.

Pannenberg, W., 1964, Grundzüge der Christologie, Gerd Mohn, Gütersloh.

Pannenberg, W., 1984, ‘Construction and critical functions of Christian eschatology’, Harvard Theological Review 77(2), 119−139. http://dx.doi.org/10.1017/S0017816000014255

Pannenberg, W., 2008, ‘Modernity, history and eschatology’, in J.L. Walls (ed.), The Oxford handbook of eschatology, pp. 493−499, University Press, Oxford.

Ratzinger, F., 1988, Eschatology, death and eternal life, transl. M. Walstein, Catholic University of America Press, Washington.

Smith, N., 1929, Critique of pure reason, St. Martin’s, New York.

Souter, G., 1996, Eschatological rationality: Theological issues in focus, Baker, Grand Rapids.

Schweitzer, A., 1961, The quest of the historical Jesus, transl. W. Montgomery, SCM, London.

Tang, A.S.K., 2011, ‘What is theology? Revisiting Jurgen Moltmann’s Theology of hope’, Sino-Christian Studies 11(3), 9−23.

Torrance, T., 1956, Kingdom and Church: A Study in the Theology of the Reformation, Oliver Boyd, Edinburgh.

Van der Walt, T., 1962, Die koninkryk van God, naby! Eksegetiese verkennings van die toekomspersperspektief van Jesus Christus volgens die getuienis van die Sinoptiese Evangelies, J.H. Kok, Kampen.

Weiss, J., 1892, Die Predigt Jesu vom Reiche Gottes, 3rd ed., Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Wright, N.T., 2003, The resurrection of the Son of God, S.P.C.K., London.

Wright, N.T. 2008, Surprised by hope: Rethinking heaven, the resurrection and the mission of the church, Harper Collins, New York.



Crossref Citations

No related citations found.