In die lig van die Christelike etiek is 'n beroep op die Skrif 'n
sine qua non waar standpunte oor etiese vraagstukke ingeneem
word. Deur 'n beroep op die Skrif te doen, is die probleem ongelukkig
nie sonder meer opgelos nie. Hierdie artikel toon aan dat die begrip
koninkryk van God as tema as 'n hermeneutiese vertrekpunt kan
dien in die soeke na antwoorde op etiese vraagstukke. Daar word
aangedui dat die koninkryk van God 'n noodsaaklike tema is omdat sekere
wetsbepalings en kontekstueel bepaalde beginsels en norme in die
voortsetting van die gedagte van die koninkryk van God in die Ou en
Nuwe Testament ingebed is. Daar is egter ook sekere voorskrifte binne
die teokratiese bestel wat vir die volk Israel in hulle spesifieke
konteks gegee is wat nie noodwendig direk in die hedendaagse
samelewingskonteks kan en mag toegepas word nie. Die boodskap van die
Skrif moet dus op 'n verantwoordelike en geldige wyse gekonstateer word
en effektief aan die moderne samelewing oorgedra word.
The kingdom of God as a contextual paradigmatic key for using
Scripture in ethics. The use of Scripture is, in light of Christian
ethics, a sine qua non when positions with regard to ethical
problems are assumed. A simple interpretation of Scripture does not
necessarily settle the problem. This article shows that the concept
kingdom of God as a theme can serve as a hermeneutical point of
departure in the search for answers to ethical questions. It is shown
that the kingdom of God is a necessary theme due to the fact that
certain legal stipulations and contextual based principles and norms
are embedded in the idea of the kingdom of God in the Old and New
Testament. There are also certain prescriptions within the theocratic
system of Israel in its specific context that may not and cannot be
directly applied to the modern day societal context. The message of the
Bible must thus be established in a responsible and valid way, and
communicated effectively to modern day society.
God regeer. Die Skrif bevestig reeds vanaf die eerste hoofstukke dat
God die Skepper en Regeerder van alle dinge is (Gen 1 e.v.; Ps 8, 24,
33; Dan 2, 7; Helberg 1993:485). Die
boodskap van die koninkryk van God is die middelpunt van bybelse
verkondiging. 'n Noukeurige studie van die hele Bybel toon dat dit die
‘Boek van die koninkryk van God’ is (Van der Walt 1980:27). Bright (1953:7) stel dit selfs sterker as hy sê dat
‘the concept of the kingdom of God involves, in a real sense,
the total message of the Bible’ (vgl. Ridderbos 1972:24–28).
In die lig hiervan kan onomwonde gestel word dat die koninkryk van
God een van die grootste, indien nie die heel grootste, tema van die
Skrif is nie (Van Wyk 1991a:186). Vorster
(1993:524) beskou die koninkryk van God as
'n sentrale bybelse motief. Die koninkryk van God is immers die
fokuspunt en bestemming van die hele menslike lewe. Dit plaas die
soewereiniteit van God sentraal en stel alle lewensterreine en mense
onder die gesag van Christus as Hoof van die skepping. Só
beskou, moet die koninkryk van God 'n sentrale plek in die teologie, en
spesifiek die etiek, inneem (Van Wyk 1995:256). Die vraag is dus nie óf God en sy
heerskappy bely moet word nie, maar hóé dit gedoen moet
word (Helberg 1993:487).
Van der Watt (2013:207) is daarvan
oortuig dat etiese besluitneming een van die uitdagings van ons tyd is.
Die beslissings van die kerk sowel as die morele reg om sekere
standpunte in te neem, word vanuit verskillende hoeke steeds meer
bevraagteken. Die bedoeling van die artikel is om teen die agtergrond
van die uitdagings van ons tyd aan te toon dat die tematiese begrip
koninkryk van God kan dien as 'n hermeneutiese vertrekpunt in
die soeke na antwoorde op etiese vraagstukke.
Die bespreking wat volg, is 'n poging om aan te dui dat die
koninkryk van God sonder twyfel 'n noodsaaklike tema is in die soeke na
antwoorde omdat sekere wetsbepalings en kontekstueel bepaalde beginsels
en norme in die ontwikkeling van die gedagte van die koninkryk van God
in die Ou en Nuwe Testament ingebed is. Verder word ook aangedui dat
daar beslis sekere voorskrifte binne die teokratiese bestel vir die
volk Israel, in hulle spesifieke konteks, gegee is wat nie noodwendig
direk op die hedendaagse samelewingskonteks kan en mag toegepas word
nie.
Die artikel gaan eerstens aandag gee aan 'n omskrywing van die
tematiese begrip koninkryk van God. Tweedens volg 'n
uiteensetting van wat onder die koninkryk van God in die Ou en Nuwe
Testament verstaan word en wat die koninkryk van God in werklikheid
inhou. Derdens word die koninkryk van God as
kontekstueel-paradigmatiese tema op Romeine 13:1-7 van toepassing
gemaak. Laastens word die etiese implikasies en sedelike
verantwoordelikheid van die koninkryk van God as
kontekstueel-paradigmatiese tema vir die doodstraf as etiese probleem
aangetoon.
Omskrywing van die begrip koninkryk van
God |
|
Van der Walt (1980:27) verwys na die
koninkryk van God as die feitelikheid – die terrein en wyse van
God se soewereine heerskappy. Die gedagte van die heilryke
soewereiniteit van God is grondliggend aan die begrip koninkryk van
God (Van der Walt 1962:33). Die begrip
koninkryk van God of basileia tou theou is 'n
teosentriese begrip wat op die koningskap van God dui (N. Vorster
2002:388). Met die koninkryk van God word
bedoel dat God se heilige en genadige heerskappy in Jesus Christus en
deur sy Gees op aarde aangebreek het en dat mense tot
geloofsgehoorsaamheid en lewensvernuwing opgeroep word.
Viljoen (2009:664) wys daarop dat die
koninkryk van God in Jesus gekom het. Hierdie keerpunt in die
geskiedenis het daartoe gelei dat 'n nuwe volk van God tot stand gekom
het. Die evangelis Matteus roep hierdie gemeenskap tot geregtigheid op.
Marais (2010:196-197) beskou op sy beurt
die koninkryk van God as 'n werklikheid wat oral bestaan waar
wedergebore kinders van God in Hom glo en aan Hom gehoorsaam is. Daarom
is ‘die koninkryk van God’ 'n enger begrip as ‘die
heerskappy van God’.
Sommige outeurs meen dat koninkryk van God die
‘sentrale’ tema van die ganse bybelse verkondiging is. Tog
is Van Wyk (1995:257) huiwerig om die
koninkryk van God as die sentrale tema in die Skrif te beskou en vra
die vraag of die verbond nie nét so 'n sentrale tema is en of
daar nie tereg van verbondsteologie gepraat kan word nie. Dit sou,
volgens Van Wyk, 'n volkome onvrugbare debat wees om twee temas soos
verbond en koninkryk, wat in die Skrif spanningloos langs
mekaar funksioneer, in 'n óf-óf-skema te probeer hanteer.
Albei handel immers oor die heilsame verhouding tussen God en sy
skepping. Die verbond beklemtoon die liefdevolle gemeenskap tussen God,
mens en die koninkryk – die genadige heerskappy van God oor die
mens en wêreld. Die verbond bring gemeenskap, die koninkryk vra
gehoorsaamheid. Die verbond dui op die omvattende en genadige
verhouding waarin God in gemeenskap met sy volk wil leef, terwyl die
koninkryk veral op God se handeling met die wêreld dui (vgl. Van
der Walt 1996:526). Die verbond sou as die
inwendige gestalte van die koninkryk tipeer kon word en die koninkryk
as die uitwendige gestalte van die verbond.
Ten spyte van Van Wyk se bedenkinge, oordeel N. Vorster (2002:244) dat die soewereine koningsheerskappy van
God as die vertrekpunt in enige teologiese bespreking behoort te dien.
Die koninkryk van God het besondere implikasies vir die owerheid en hoe
die owerheid reg en geregtigheid binne die sfeer van God se
heilshistoriese openbaringsgeskiedenis laat geskied. Die owerheid het,
volgens N. Vorster (2002:406), veral 'n
integrale plek binne die koninkryk van God, omdat dit 'n instelling van
God is. Die taak van die owerheid is om reg en orde in die samelewing
te handhaaf sodat die kerk vreedsaam die evangelie van God in die
wêreld kan bedien (NGB, art. 36).
Volgens N. Vorster (2002:244) impliseer
die soewereiniteit van God egter dat menseregte teosentries, en nie
antroposentries gefundeer moet word nie. In die lig hiervan sal die
soewereine koningsheerskappy van God of, anders gestel, die koninkryk
van God, nie oorspan word om as 'n hermeneutiese vertrekpunt in 'n
tematiese benadering tot etiese vraagstukke te dien nie.
Die belangrikste aspekte van die koninkryk van God as
kontekstueel-paradigmatiese tema kan soos volg gestel word:
-
Alle skepsels staan onder die heerskappy van God. Dus kan of
moet die sin van alles vanuit die verhouding van die skepsel tot
God ontdek word.
-
God het wette vir die skepsels gegee en nieteenstaande die sonde
voer God onder meer sy heerskappy deur hierdie wette uit.
-
Daar is 'n onherleibare verskeidenheid in die skepping.
-
Die heerskappy van God word deur die Bose as die antimag betwis.
Die kwaad openbaar 'n anti-normatiewe karakter omdat dat dit die
wet van God teenstaan. Alle skepsels en ook alles wat deur die
skepsels tot stand gebring word, is aan die mag van die kwaad
onderhewig.
-
Christus verlos eers die mens en maak van hom 'n ‘nuwe
skepsel’, 'n burger van die koninkryk van God.
-
Die koninkryk van God het verskillende bedelings. In die
bedeling tussen die eerste en die tweede koms van Christus duur die
stryd teen die antimag voort.
-
Die taak van die burgers van die koninkryk van God is om op 'n
tipiese wyse uitdrukking aan hierdie gehoorsaamheid aan die wet van
God op elke gebied te gee.
Samevattend kan gesê word dat die teosentriese karakter van
die koninkryk van God daaruit bestaan dat God in Christus sy koninklike
heerskappy op alle terreine in die hemel en op aarde weer tot volle
glorie kom herstel.
Pieterse (2009:19) toon aan dat Jesus
Christus die koninkryk van God as 'n lewe in die teenwoordigheid van
God verkondig en dat dit reeds tot stand gekom het. Hy sê verder
dat dit 'n ander leefruimte is wat teenoor die gewelddadige en
ongeregtige ryke van die wêreld staan. Die etiese eskatologie van
die koninkryk spoor die volgelinge van Jesus aan om geregtigheid, vrede
en liefde in hulle geloofsgemeenskappe uit te leef.
Die kernbetekenis van die term koninkryk van God is dus die
volgende: God heers heilig en lewewekkend oor alle dinge en Hy beoefen
persoonlike gemeenskap, dit wil sê verbondsgemeenskap met die
mens. God doen dit ondanks die dodelike gevallenheid van die mens en
die wêreld (Helberg 1980:4).
Die samevattende opmerkings in die afdelings hierna oor die
eksegetiese en openbaringshistoriese resultate van die begrip
koninkryk van God in die Ou en die Nuwe Testament onderstreep en
ondersteun hierdie konsep.
Die begrip koninkryk van God as tema in
die Ou Testament
Die begrip koninkryk van God is 'n sentrale motief in die Ou
Testament, al word die uitdrukking as sodanig nie daarin aangetref nie
(Vorster 1993:525). Matera (1996:18) bevestig hierdie stelling as hy opmerk:
‘... although the expression“the kingdom of God”
does not occur with any frequency in the Old Testament, the notion of
God's kingship does’. Nel en Van Aarde (2002:1117) verskil van hierdie siening wanneer
hulle daarop wys dat die gedagte aan 'n ‘Koninkryk van God’
wel in die Ou Testament na vore kom. In dele van die Ou Testament wat
na die soewereiniteit van God verwys, byvoorbeeld in Psalm 99, word die
gedagte van die ‘Koninkryk van God’ sigbaar in die
uitoefening van die koninklike krag van God in sy handelinge van
oordeel en verlossing. Die term wat vir ‘koninkryk’ gebruik
word, is malkut in Hebreeus, malku in Aramees en
basileia in Grieks. Peels (2001:175), daarenteen, dui aan dat dit die Ou
Testament aan 'n tegniese term vir die begrip koninkryk van God
ontbreek in teenstelling met die Nuwe Testament waar dit in
uitdrukkings soos die koninkryk van die hemele of koninkryk
van God vervat is. Helberg (1976:30)
stel dit nog sterker as hy eksplisiet sê dat ons nie die
uitdrukking koninkryk van God in die Ou Testament vind nie. Tog
konsentreer die hele Ou Testament op die aktiewe, dinamiese
heerskappyuitoefening van God (Helberg 1976:30).
Wanneer ons in ag neem dat die uitdrukking koninkryk van God
nie in die Ou Testament voorkom nie, word die koninkryksgedagte
duidelik as die heerskappy van God oor sy volk geopenbaar (Van der Walt
1989:128; vgl. ook Bright 1953:18; Du Toit 1969:12). Vorster (1993:525) is dit eens met hierdie siening wanneer
hy aandui dat, hoewel die uitdrukking koninkryk van God
ontbreek, God Hom in die Ou Testament as die ‘accompanying
God’ openbaar wat as Koning sy volk in 'n lewende verhouding
regeer. Reymond (1998:986) stem saam
wanneer hy daarna verwys dat, hoewel die uitdrukking koninkryk van
God nie in die Ou Testament voorkom nie, die idee daarvan beslis
duidelik is in talle verwysings na God as die Koning van Israel (Eks
15:18; Num 23:21; Deut 33:5; Ps 84:3; Jes 43:15) en van die hele aarde
(2 Kon 19:15; Ps 29:10; 47:2; 96:10; 97:1; 99:1–4;
145:11–13; Jes 6:5; Jer 10:7; 46:18; Dan 2:44; 4:34–35).
Die koninkryk van God in die Ou Testament gaan dus oor God wat heers en
uit 'n gevalle wêreld vir hom 'n volk kies wat in 'n persoonlike
verhouding met Hom leef en met wie Hy 'n lewende verbondsgemeenskap tot
stand bring (Vorster 1993:525).
Alhoewel die term koninkryk van God as sodanig nie in die Ou
Testament voorkom nie en dit waarskynlik eers tydens die
intertestamentêre periode ontwikkel het, moet ons aanvaar dat die
saak self, naamlik God se alomvattende heerskappy, oral aanwesig is
(vgl. Ps 103:19; 145:13). Die uitdrukking basileia dui daarop
dát God regeer, waaróór Hy regeer (oor alles), en
hóé Hy regeer (met genade en seën) (Van Wyk 2003:17). Volgens Du Toit (1969:11) is dit juis hierdie koninkryksgedagte wat
die Ou en Nuwe Testament met mekaar verbind en aan die twee Testamente
hulle eenheid verleen.
Die sentrale plek wat die teokratiese heerskappy van God in die
volkslewe van Israel ingeneem het, het eweneens die
samelewingsgerigtheid van die kerk beklemtoon. Die duidelikste
voorbeeld van 'n teokrasie was die Ou-Testamentiese volk, Israel.
Jahweh was die koning (Deut 33:5), Israel was sy leër (Eks 7:4) en
hulle oorloë was sy oorloë (Num 21:14).
Hierdie besef dat God die koning van die geskiedenis is en dat sy
wil alle lewensterreine beheers, gee aanleiding tot die idee van 'n
teokrasie in die openbaringslyn van die Ou en Nuwe Testament. N.
Vorster (2002:256) se siening is dat die
teokrasie in die Ou Testament diep in die idee van die verbond ingebed
is en konkreet met die afkondiging van die wet op Sinai ingestel
is:
Die teokratiese aard van die Israelitiese samelewing was
hoofsaaklik gevestig op die idee van die verbond, wat Israel
gestempel het as God se volk wat direk deur God geregeer word en
direk onder die wet van God leef. Die verbond kan daarom ook die
inwendige grond of grondwet van die koninkryk van God genoem word.
(Vorster, N. 2002:377)
Van Rooy (2000:4) is van mening dat die
beloftes van God aan die volk Israel en hulle voorvaders dikwels binne
die raamwerk van die verbond gefunksioneer het. Die vryheid van die
volk Israel, in staatkundige sin, kan in die Ou Testament dus ook nie
van die verbond losgemaak word nie. Deuteronomium 28 bevat 'n lang
reeks beloftes (seëninge) en strawwe (vervloekinge) wat
onderskeidelik die gevolg sou wees van gehoorsaamheid of
ongehoorsaamheid aan die bepalings van God se verbond. Die besit van 'n
eie land en vryheid word eweneens met gehoorsaamheid aan die
verbondsbepalings verbind, terwyl ongehoorsaamheid die verlies van land
en vryheid sou kon beteken. Die voorwaarde vir die ontvangs van
seën is gehoorsaamheid aan God se verbond. Die teenpool hiervan is
dat ongehoorsaamheid oordeel sal beteken (Van Rooy 2000:9).
Hierdie verhouding tussen koninkryk en verbond word verder belig
wanneer Van Wyk (2001:27-28) daarop wys dat
die almagtige God ook die Verbondsgod is – die God wat in
gemeenskap en noue verbintenis met die mens wil leef. Die
koninkryksvolk is tegelykertyd verbondsvolk. Koninkryk en verbond is
dus nie twee teenoorstaande temas in die Skrif nie, maar is
onlosmaaklik aan mekaar verbind soos blyk uit die instellingswoorde van
die nagmaal (Matt 26:26–29). Die verhouding tussen die koninkryk
en verbond kan soos volg omskryf word: Die verbond is die innerlike
gestalte van die koninkryk en die koninkryk is die uiterlike gestalte
van die verbond.
Peels (1999; 2001) sien 'n ontwikkeling in die gedagte van die
koninkryk van God in die Ou Testament. Hy beskryf dit soos volg (Peels
1999):
... the confession of the kingdom of God is definitely a
fundamental element of God's revelation in die Old Testament, a
fundamental conviction which in the course of time was expressed in
various ways but was never lacking in the faith of Israel. We have
sufficient reason to assume that Old Testament belief in God from the
very beginning included a theocratic component, even though the
specific terms for kingship and kingdom only became established over
the course of time. (p. 20ff.)
Peels (2001:184) is in die lig hiervan
self onseker of die koninkryk van God as die ‘sentrum’, of
anders gestel, die ‘verenigende tema’ van die Ou Testament
beskou kan word. Hy kom tot die gevolgtrekking dat die tema van die
koningskap of koninkryk van God wel groot gedeeltes van die Ou
Testament beslaan en dat dit selfs 'n sentrale neiging mag wees, maar
dat dit onverantwoordelik sou wees om dit op 'n absolute wyse as die
kern van die Ou Testament te beskou.
Peels (2001:186) wys daarop dat die Ou
Testament die koninkryk van God enersyds beskryf as 'n
permanent-statiese koninkryk wat ewigdurend is, maar dat dit andersyds
ook as 'n aktief-dinamiese koninkryk beskryf kan word wat 'n doel
nastreef in die realiteit van hierdie aardse bestaan. Dit is die
koninkryk wat is en wat moet kom. Die koninkryk van God is sonder
twyfel die begrip waaronder die sosiaal-etiese taak van die Christen
tuishoort. Immers, die evangelie van die koninkryk gee nie net
innerlike vrede en dankbaarheid nie, maar roep die mens tot bekommernis
op (Matt 6:33) oor dié dinge waaroor die bergrede handel,
byvoorbeeld geregtigheid, vrede en barmhartigheid (Denkema 1991:226-227).
Die hermeneutiese vereiste van die beroep op die Skrif, veral op die
Ou Testament, is dat dit saam met die Nuwe Testament in 'n
geheelraamwerk gelees moet word (Helberg 1980:7). Dus moet die Ou Testament in die lig van
die Nuwe Testament en die Nuwe Testament in die lig van die Ou
Testament gelees word. Sodoende sal die Ou Testament 'n waardevolle
bron van etiese voorskrifte in die samelewingskonteks wees.
Van der Walt (1989:128) merk op dat die
koninkryksgedagte in die Ou Testament veral die kerk se roeping ten
opsigte van etiese vraagstukke in die samelewing benadruk. Reeds by die
skepping kom die kosmies-gerigte omvang van die koninkryk na vore as
die almagtige Skepper die skepping in aansyn roep en soewerein oor die
magte van die natuur heers. Die ganse skepping is tot 'n eenheid onder
God se heerskappy verenig.
Van Rooy (1997:1-2) meen dat daar in die
etiek van die Ou Testament besondere aandag gegee moet word aan die
raamwerk waarbinne die etiek van die Ou Testament benader word. So 'n
raamwerk is belangrik omdat dit kan verhoed dat individuele gedeeltes
wat met die etiek verband hou (soos in die geval van die koninkryk van
God as kontekstueel-paradigmatiese sleutel vir Skrifberoep in die
etiek), op hulle eie, los van die groter verband van die Ou Testament
in debatte oor etiese vraagstukke gebruik word. ‘Although the
ethics in the Old Testamentical sense should not be treated in a
Biblicist and extremist way, they are valid in the light of the full
revelation of Scripture’ (Vorster 2004:129). God se regering en sy gemeenskap met die
mens vereis reaksie. Mense kom tot geloof, vorm 'n nuwe
verbondsgemeenskap en toon liefde en trou teenoor God en hulle naaste.
Dieselfde grondgedagte word in die Nuwe Testament aangaande die begrip
koninkryk van God aangetref. In die lig hiervan word daar
vervolgens ook na die begrip koninkryk van God in die Nuwe
Testament gekyk. Die begrip koninkryk van God as tema in die Nuwe
Testament
In die Nuwe Testament word die uitdrukking koninkryk van God
dikwels met uitdrukkings soos koninkryk van die Hemele en
koninkryk van Christus afgewissel (Van der Walt 1962:32; vgl. Vorster 1993:525). Volgens Vorster (1993:525) bewys 'n ontleding van hierdie begrippe
in hulle konteks dat die woord koninkryk 'n omvattende
gesigspunt verteenwoordig wat nie maklik onder een noemer tuisgebring,
of in 'n bepaalde skema ingedruk kan word nie. Wat wel vasstaan, is dat
die grondbeginsels wat die Ou Testament oor die koninkryk bied, in die
Nuwe Testament voortgesit word. In die hele openbaring van God in sy
Woord ontvou die koninkryk van God as die daadkragtige, deurlopende
regering van God. Hierdeur kom mense tot geloof en staan hulle in 'n
nuwe verhouding tot God en mekaar. Deur die krag van die Heilige Gees
werk hulle vernuwend op die wêreld in deur vrede, versoening,
hoop en liefde te verkondig, prakties toe te pas en te vergestalt
(Vorster 1993:525–526). Soos in die
geval van die Ou Testament is daar in die Nuwe Testament ook 'n
korrelasie, 'n innige samehang, tussen die begrippe verbond en
koninkryk.
Dit blyk duidelik uit die Nuwe Testament wat die besondere weg van
koninkryk na kerk en die spesifieke verhouding tussen die twee begrippe
is. Die begrip koninkryk gaan veral oor die feitelikheid,
terrein en wyse van die heerskappy van God in Christus. Die koninkryk
van God dui op die dinamiese regering van God in en deur Jesus Christus
– 'n regering wat deur sy kinders of onderdane gehoorsaam moet
word. Waar die Woord en God gehoorsaam word, het die koninkryk gekom en
staan daardie gemeenskap van gelowiges as die kerk bekend (Du Plooy
1995:152).
Die begrip koninkryk van God word veral op drie
betekenisvlakke in die Nuwe Testament gebruik, naamlik as gebied, as
regering en as aanduiding van die dinge wat met die onderdane in sy ryk
gebeur. Juis in die Evangelies word dit beklemtoon dat die koninkryk
van God in 'n Persoon gekom het. Dit is daarom opvallend dat die
koninkryksbegrip in die briewe van Paulus konsekwent met God verbind
word (1 Kor 4:20; Ef 5:5; Venter 1997:26).
Vorster (2003:259) merk op dat die idee
van 'n teokrasie soortgelyk aan dié van die Ou Testament, nie in
die Nuwe Testament gevind word nie. Die Israel van die Ou Testament is
met die ekklesia [kerk] in die Nuwe Testament vervang. Hierdie
nuwe ‘volk van God’ was nie 'n etniese of staatkundige
eenheid nie, maar was oor die destydse wêreld versprei. Die
koninkryk van God omvat immers die kerk (N. Vorster 2002:393). Die kerk mag nie met die koninkryk
geïdentifiseer word nie, maar dit mag ook nie dualisties van die
koninkryk van God losgemaak of naas die koninkryk gestel word nie. Die
koninkryk van God is immers 'n teenswoordige realiteit in die hier en
nou en die kerk is teken hiervan. Tussen kerk en koninkryk is daar 'n
integrale verband – albei is in Christus gefundeer. Christus is
die Hoof van die kerk, maar ook die Hoof oor die hele skepping (vgl.
Kol 1:15–20). In Christus kom die koninkryk van God na die
aarde.
Die verband tussen die koninkryk van die kerk word soos volg deur N.
Vorster (2002) omskryf:
Die koninkryk dui op die allesomvattende, dinamiese herskeppende
werk van God in Christus, wat beide die teenswoordige en toekomstige
omvat, en met die voleinding van die wêreld in volle vorm net
aan gelowiges geopenbaar word, terwyl die koninkryk in sy toekomstige
vorm duidelik sigbaar aan alle mense sal wees. (bl.
391–392)
Floor (1974:1) beweer dat die begrip
koninkryk grondliggend is aan die gedagte van die heilryke
soewereiniteit van God en die verlossende heerskappy van Christus. Die
koninkryk is in die Persoon, woord en werk van Jesus reeds 'n
teenwoordige werklikheid, maar geen afgeslote en voltooide grootsheid
nie. Die koninkryk van God is steeds aan die kom (vgl. Matt
13:31–33) en die volle realisering daarvan word nie binne die
grense van hierdie bedeling verwag nie. Die volkomenheid van die
koninkryk is daarmee saam 'n eskatologiese realiteit in die bedeling
van die nuwe hemel en aarde waar God alles in almal sal wees (vgl. HK,
So. 45, V & A 123).
Volgens die getuienis van die Skrif is die koningskap van Christus
'n universele heerskappy (vgl. Matt 28:18; 1 Kor 15:27 e.v.; Ef 1:10,
20–22; Kol 1:16–20; 1 Tim 6:12–16; Heb 1:1–14;
2:8; Op 1:5). As Koning van die konings is aan Christus alle mag in die
hemel en op aarde gegee (Van der Walt 1989:156). Die koningskap van Christus is dus so
omvattend dat geen deeltjie van die wêreld of menselewe aan die
heerskappy van Christus onttrek kan word nie (Velema & Velema
1968:94).
Heyns (1974:37) oordeel dat die kerk en
samelewing albei geroep is tot die gestaltegewing van 'n groter en
omvattender werklikheid, naamlik die koninkryk van God. Vorster
(2003:260) wys daarop dat die koninkryk 'n
nuwe lewe van gehoorsaamheid aan God vereis. Dit is 'n lewe van
heiligmaking, liefde en geregtigheid en moet na alle lewensfere
uitkring (vgl. Ridderbos 1971:349). Hierdie
lewe moet ook in die gelowige se onderwerping aan die owerheid, selfs
'n ongelowige owerheid, vergestalt word (Rom 13:1–7; 1 Tim
2:1–4; Tit 3:1). Die gehoorsaamheid aan die aardse owerheid is
deel van die gelowige se geestelike offerdiens. Tog is daar 'n
wesenlike verskil tussen die koninkryk van God in die
Nuwe-Testamentiese bedeling en die idee van die teokrasie in die Ou
Testament. Die implikasies hiervan word soos volg deur Vorster
(2003) saamgevat:
-
Daar is in die Nuwe Testament geen aanduiding dat die idee van
die Ou-Testamentiese teokrasie voortgesit word in die sin dat die
owerheid die instrument moet wees vir die bewaring en uitbouing van
die Christelike godsdiens nie. Die owerheid is wel vir die
uitoefening van gesag aan God verantwoording verskuldig.
-
Die koninkryk van God is 'n geestelike koninkryk wat nie
polities sigbaar word nie, maar wat kom in die ‘harte’
van mense deur die prediking van die evangelie en die werking van
die Heilige Gees. Die staat kan nie deur 'n politieke manifes die
koninkryk van God 'n sigbare werklikheid maak nie.
-
Die owerheid moet so regeer dat die gelowige ‘'n rustige
en stil lewe kan lei’ (1 Tim 2:2). Die afleiding is dat die
owerheid orde en vrede moet handhaaf sodat die gelowige sy diens
aan God en sy getuienis teenoor die wêreld onbekommerd en
onbelemmerd kan lewer. Daarmee saam hou dit ook in dat die
verhouding van kerk en staat 'n verhouding van wedersydse respek
moet wees. Die kerk en staat moet albei die vrymoedigheid hê
om advies te gee en te ontvang – albei instansies is immers
deur God gewil.
-
As die idee van die koninkryk, die taak van die owerheid en die
Christelike beginsel van liefde aan alle mense in die gesigsveld
geplaas word, kan afgelei word dat die handhawing van die reg op
lewe as 'n fundamentele reg van mense Bybels gefundeer is.
-
Die begronding van die idee van 'n staatsgodsdiens in die
teokrasie van die Ou Testament vind geen prinsipiële steun in
die Bybelse openbaring nie en kan nie as 'n Christelik-etiese
perspektief vir die moderne samelewingskonteks aangebied word nie.
(bl. 261)
Die ontleding van die begrip koninkryk van God kom daarop
neer dat die grondbeginsels wat die Ou Testament oor die koninkryk bied
in 'n groot mate in die Nuwe Testament voortgesit word. In die hele
openbaring van God in sy Woord ontvou die koninkryk van God as die
daadkragtige, deurlopende regering van God.
Die werklikheid van die
koninkryk van God
As die koninkryk van God slegs 'n toekomstige realiteit sou wees,
moet dit noodwendig tot piëtistiese wêreldvermyding deur die
kerk lei. Daarom is dit noodsaaklik dat die verhouding tussen die
‘teenswoordigheid’ en ‘toekomstigheid’ van die
koninkryk uitgespel word. Die kerk as volk van God, liggaam van
Christus en tempel van die Heilige Gees word tans beskou as 'n
voorlopige gestalte van die gerealiseerde verbond en die koninkryk van
God, met die doop en nagmaal as tekens en seëls van die verbond en
die koninkryk. Die voltooiing van God se werk met die mens en die
wêreld vind egter eers in die voleinding plaas. Verder staan
verbond en koninkryk in die nouste verhouding tot mekaar in die
voleinding. Dan bereik die verbondsgemeenskap van God en mens sy
hoogtepunt met God se volledige inwoning in die gehoorsame en dienende
mens. Dan is die tabernakel van God by die mense en God alles vir, en
in almal (Van Wyk 2003:20).
Die koninkryk se omvang moet ook vanuit die toekomstige realiteit
beskou word (Van Wyk de Vries 1970:14). Die
ryk is wel reeds hier op aarde teenwoordig, maar nog nie in 'n
georganiseerde vorm nie – dit is oral waar die geestelike weldade
van Jesus geskenk is, maar nêrens afgerond of voltooi nie. Dit is
duidelik dat slegs die uitverkorenes die burgers van die koninkryk sal
wees in die toekoms. Hulle ingang daarin geskied nie deur Farisese
wetsonderhouding nie, maar deur bekering, geloof en wedergeboorte (Matt
18:3; Mark 1:15; Joh 3:3). Die koninkryk staan oop vir armes,
verlorenes, tollenaars en sondaars (Matt 5:3; 9:11; 11:5; 28:30; Luk
19:10) – dit moet egter allereers gesoek word (Matt 5:20; 6:37;
13:44–46 e.v.). Dit word voorgestel as loon wat in die hemel
bewaar word (Matt 5:12) en kom op die vergewing van sondes neer (Matt
9:2; 26:28 e.v.). Binne die grense van die koninkryk word die heil van
God geniet (die skat en die pêrel; Matt 13:44–46), maar die
koninkryk word eers in die ewige lewe ten volle verkry. Marais
(2011:4; 2010:450, 475–476) merk op dat al word die
koninkryk van God ‘alreeds’ hier en nou intensief
gerealiseer, is dit ongelukkig ‘nog nie’ ten volle vervul
nie. Daarom word hierdie tydperk deur Marais as 'n
alreeds-maar-nog-nie-spanningsveld gekenmerk.
Die koninkryk van God op grond van Romeine 13:1-7 en
die doodstraf as etiese probleem |
|
Du Rand (2005:351) meld dat sommige
voorstanders van die doodstraf Romeine 13:1–7 as deurslaggewend
beskou. Van Wyk (1991b:285) verwys onder
andere daarna dat Romeine 13:1–7 in sommige gevalle as
deurslaggewende argument ten gunste van die doodstraf aangevoer word.
Die argument is gebaseer op Paulus se stelling dat alle gesag van God
afkomstig is, dat alle owerhede deur Hom beskik word en dat hulle
dienaars van God is.
Die Skrif leer egter heel eksplisiet in Romeine 13 dat die owerheid
deur God ingestel is (Vorster 2001:19). Du
Rand (2005:351) ondersteun hierdie stelling
as hy oor Romeine 13:1–7 soos volg skryf: ‘Die
sekulêre owerheid is beklee met gesag wat van God af kom (v 1) en
moet aan iemand wat in opstand kom sy verdiende straf laat toekom (v
2).’ Die instelling van die owerheid is nodig vanweë die
sonde en gebrokenheid van die aardse bedeling. In die Ou Testament was
die owerheidsvorm 'n teokrasie. In die Nuwe Testament word geen
uitspraak gemaak oor die vorm en samestelling van die owerheid nie.
Christus het geleer dat die keiser, 'n heidense outokraat, gehoorsaam
moes word (Vorster 2001:19; vgl. Vorster,
N. 2002:247). Hoewel die Skrif geen
voorskrifte vir die vorm van owerheid gee nie, kan daar op grond van
die etiese beginsel van lewensontplooiing, en met menseregte of -pligte
as uitgangspunt, soos volg geoordeel word: van al die bekende
historiese staatsvorme gee die konsep van die regstaat tot dusver die
beste uitdrukking aan Christelik-etiese beginsels (Vorster 2001:20).
In die lig hiervan word Romeine 13:1–7 in die teologie as die
locus classicus vir die begronding van die gesag van die staat
en die verantwoordelikheid van die kerk (die Christelike gemeenskap)
beskou (vgl. Velema 1985:15; Venter
1996:81). Romeine 13 word meermale in die
besinning oor die staat en sy gesag betrek (Abineno 1972:27; vgl. ook Goldstein 1973:88–104). Volgens N. Vorster (2002:398) druk Romeine 13:1–7 die verhouding
van die owerheid tot die koninkryk van God die duidelikste uit. God
gebruik die owerheid as sy dienaar (Rom 13). Die owerheid is 'n
instelling van God aan wie gehoorsaamheid betoon moet word. Christus
het self die mag van die owerheid erken en bevestig dat die mag van die
heidense Romeinse owerheid van God afkomstig is (Joh 19:11). So het
Paulus (Rom 13:1–7; 2 Tim 2) en ook Petrus (1 Pet 2:13–14)
die bestaan en gesag van die owerheid erken. Tog is daar perke aan die
gesag (Hand 4 en 5 saam met Dan 6). God moet méér as
mense en owerhede gehoorsaam word.
Op eksegetiese vlak kom die gedeelte van Romeine 13:1–7 in 'n
omvattende paranese voor wat vanaf Romeine 12 tot 15:13 strek. Hierdie
belangrike kontekstuele verband word deur Van Wyk (1991b:286) beklemtoon wanneer hy daarop wys dat
Romeine 13:1-7 deur teksgedeeltes waarin die liefdesmotief prominent
figureer (12:21 en 13:8) omsoom word, en dat daar uitdruklik aan
Christene gesê word om nié wraak te neem nie, maar die
oordeel aan God oor te laat (12:19).
Venter (1997:28) toon in 'n verkenning
van die struktuur van Romeine 13:1–7 duidelik aan dat sekere
struktuurmerkers wat gesag uitdruk, prominent in hierdie bepaalde
perikoop voorkom. Die begrip eksousia [gesag] kom in Romeine
13:1, 2 en 3 voor en die begrip argontes [owerhede] ook in vers
3. Hiermee saam word die voorsetsel hupo [onder] nie minder as
drie keer in Romeine 13:1 saam met die werkwoord tasso (v. 1, 2
en 5) gebruik nie. Die voorsetsel huper [bo-oor], as aanduiding
van die gesag van die owerheid, word ook in Romeine 13:1 gebruik. Wat
op grond van hierdie uitdrukkingswyse duidelik is, is dat die gedagte
van orde en gesag hier op die voorgrond staan. In die verhouding van
die owerheid tot mense, staan gesag voorop (Venter 1997:29). Van Wyk (1991b:87) beklemtoon dat gesag, op grond van
Romeine 13, verstaan moet word as God se seggenskap aan sekere mense
(owerhede) oor ander. Alle gesag kom van God, wat nooit sy gesag aan
bepaalde mense óórdra nie, maar dit wel aan hulle
ópdra.
Hierdie gesagsdimensie in Romeine 13:1–7 word van vers 6 af
omgekeer. In hierdie gedeelte is 'n duidelike verandering in die
gedagtegang en struktuur sigbaar. Die begrip eksousia staan nie
meer in Romeine 13:4-6 op die voorgrond nie. Die begrippe theou
diakonos (Rom 13:4) en leitourgoi theou vorm 'n nuwe,
feitlik beklemtoonde lyn in die gedagtegang. Die uitdrukkings
diakonos en leitourgoi vorm boonop 'n omramingspatroon
vanaf Romeine 13:4–6. Sodoende beklemtoon dit dat alles wat in
hierdie verse staan, gesien moet word vanuit die perspektief dat die
owerheid God se dienaar (diakonos of leitourgos) is
(Venter 1997:29).
In sy verhouding tot God is die owerheid dus 'n dienaar. Hierdie
uitspraak van Paulus moet as besonder veelseggend beskou word teen die
agtergrond van die destydse beskouing van die staat. Die keiser as hoof
van die staat het homself as god beskou. Oor hierdie keiser verklaar
Paulus dat hy 'n dienskneg van God is, nie God self nie. Venter
(1997:29) se bevinding uit die ontleding
van hierdie gedeelte is dat die staat in sy verhouding tot onderdane in
'n posisie van gesag staan, maar in sy verhouding tot God is die
owerheid 'n dienaar.
Die owerheid staan in diens van God en daarom moet die mens die
owerheid gehoorsaam. Dit beteken egter nie dat daar geen ruimte vir 'n
demokratiese bestel van die owerheid kan wees nie, maar dit beteken ook
dat die owerheid nie bo kritiek verhewe is nie.
Baie Christene voel dat die staat nie die rol van morele waghond
bevredigend vervul of die regte van die individu en die gemeenskap
voldoende beskerm nie en pleit dus dat die doodstraf heringestel moet
word. Ten opsigte van die moratorium op die doodstraf en die
herinstelling daarvan is 'n mens se gehoorsaamheid aan die owerheid nie
afhanklik van die mate waarin 'n mens met die beleid van daardie
betrokke owerheid saamstem nie. Velema (1985) interpreteer die verhouding tussen die
owerheid en die gemeenskap soos volg:
… een grens aan de gehoorzaamheid jegens de overheid is
daar waar zij van ons eist wat God verbiedt (Hand. 5:29); of waar zij
verbiedt wat God van ons vraagt (Dan. 6:11). Meermale is erop gewezen
dat de passage over die overheid in Romeinen 13:1–7 onderdeel
vormt van een groter geheel. Direct eraan vooraf gaat de opwekking
tot liefde, 12:9-21, en direct erop volgt opnieuw het liefdegebod. Er
worden ook andere geboden genoemd, maar de liefde is de vervulling
van de wet (13:8-14). Hoofdstuk 12 word ingeleid met: ‘Ik
vermaan u dan broeders, met beroep op de barmhartigheden Gods, dat
gij uw lichamen stelt tot een levend, heilig en Gode welgevallig
offer’ (12:1). We zullen van de hoofdstukken 12 en 13 mogen
zien als de concretisering van het heilige en Gode welgevallige
offer. Dan staat het gebod om de overheid te eren in het kader van de
heiliging. (bl. 15)
Om Romeine 13:1–7 op verantwoorde wyse te verklaar, stel Van
Wyk (1991b:151) voor dat daar op die
volgende gelet word:
-
Romeine 13:1–7 moet kontekstueel verklaar word, dit wil
sê dit moet gesien word in verband met die voorafgaande,
naamlik ‘oorwin die kwaad deur die goeie’ (12:12),
én wat daarop volg, naamlik ‘hy wat 'n ander liefhet,
het die wet vervul’ (13:8).
-
Daar moet duidelik onderskei word tussen die eksousiai
[wetgewende regering] van vers 1 en die archontes [regters]
van vers 3. As dit waar is dat die archontes die swaard dra
en dat die kwaaddoeners wat gestraf moet word onder andere
belastingontduikers is (vers 6), dan kan goeie gronde aangevoer
word om die swaard hier figuurlik te verklaar as 'n simbool van
gesag. Van Wyk (1991b:285) wys daarop
dat die hele debat oor Romeine 13:1–7 in 'n groot mate deur
die eksegese van een enkele woordjie, naamlik swaard
oorheers word. Die deurslaggewende vraag, syns insiens, is: Na
watter soort owerheidswaard word hier verwys? Is dit 'n letterlike
swaard, wat dus doodstraf (en oorlog) insluit, of dien die woord
swaard hier as simbool van gesag en mag, wat die vraag na
doodstraf dus onbeantwoord laat? Daar is immers 'n verskil tussen
die reg om te straf en om die doodstraf toe te pas (vgl. 1 Pet
2:14). Daar is volgens Van Wyk (1991b:286) sterk aanduidinge dat Paulus in
Romeine 13:4 eerder aan 'n simboliese swaard (soos ook in Ef 6:17)
as aan 'n letterlike swaard dink.
-
Daar moet in gedagte gehou word dat Paulus hier na 'n heidense
owerheid verwys. Sy advies aan 'n Christelike of Christenowerheid
kon dalk anders gewees het. Veral belangrik in die verklaring van
Romeine 13:1–7 is dat Paulus se redenasie op die destydse
(Romeinse) staatsbeskouing van straf gebaseer is en nié op
Christelike beginsels van straf nie (Van Wyk 1991b:286; vgl. Trilhaas 1965:187).
-
Van deurslaggewende betekenis is die feit dat die apostel Paulus
in Romeine 13 die verhouding tussen onderdaan en owerheid behandel,
dit wil sê 'n intranasionale situasie. Dit gaan nie oor die
verhouding van die een owerheid tot 'n ander, dit wil sê die
verhouding in 'n internasionale situasie nie. Dit gaan hier dus nie
oor die milisiële nie, maar oor die polisiële en
justisiële taak van die owerheid. Paulus skryf immers nie 'n
brief aan die Romeinse owerheid nie, maar aan die Romeinse gemeente
wat ook as onderdane van die staat Christelik moes leef (Van Wyk
1991b:286).
-
Paulus beweer dat die kwaaddoeners gestraf moet word, maar ook
dat die weldoeners geloof sal word (v. 3).
Na aanleiding van sy bespreking oor die swaard in Romeine
13:1–7, kom Van Wyk (1991b:287) tot
die gevolgtrekking dat owerhede wel deur God ingestel is en van Hom die
gesag ontvang om te regeer en om kwaaddoeners te straf –
uiteraard langs die weg van regsprosedure. Dat hierdie straf outomaties
die doodstraf insluit, kan nie sonder meer uit Romeine 13 afgelei word
nie. Indien die owerheidswaard van Romeine 13 doodstraf sou insluit,
bly die vraagstuk oor in presies watter gevalle dit geoorloof sou wees,
nog onbeantwoord (Van Wyk 1991b:290).
Marais (2010:352) stel dit ondubbelsinnig
dat die straf wat in Romeine 13 vermeld word glad nie die doodstraf as
sodanig impliseer nie. Volgens Du Rand (2005:352) proklameer Paulus nie 'n reglement vir
die Romeinse owerheid nie, maar skryf hy aan gelowige onderdane hoe
hulle ingesteldheid en verwagtinge moet wees.
In die lig van die beskouing dat die lys misdrywe waarvoor die
doodstraf in veral die Ou Testament toegeken is, tydsgebonde en eie aan
die Israelitiese kultuur (binne die sfeer van God se teokratiese
koningsheerskappy) was soos baie ander sede- en heiligheidswette, word
die lys nie meer as normatief vir vandag beskou nie. J.M. Vorster
(2002:189) wys daarop dat Douma (1996) meen dat die enigste geldige beskouing 'n
beroep op Genesis 9:6 en Romeine 13 is. Oor die beroep op Genesis 9:6
en Romeine 13 as regverdiging van die doodstraf vandag, kan egter ook
anders geoordeel word. J.M. Vorster (2002)
bied as argumente ten opsigte hiervan die volgende aan:
-
Die Ou-Testamentiese regspraak moet in die lig van die teokrasie
beoordeel word. Die burgerlike en die geestelike reg was met mekaar
verweef en die terreine van die Godsvolk en die staat was nie so
geskei soos in die geval van die Nuwe-Testamentiese kerk nie. In
die Christelik-etiese samelewingsleer word die teokrasie nie meer
as normatief vir 'n moderne samelewing gestel nie. Die teokrasie
vind immers sy volle vergestalting in die hoofskap van Christus oor
die koninkryk en die kerk as volk van die koninkryk van God. Vir
die burgerlike regering moet norme uit die sedelike beginsels van
die Skrif afgelei word, met inagneming van die hele bybelse
boodskap en die kultuurhistoriese agtergrond (konteks).
Genesis 9:6 stel duidelik 'n breë beginsel waarin die
belangrikheid van lewe en die verbod op doodslag uitgespel word.
J.M. Vorster (2002:198) stel tereg die
vraag of die afleiding gemaak moet word dat die doodstraf deur alle
owerhede in alle tye vir doodslag toegepas moet word. Syns insiens
word dit nie eens in die Skrif gedoen nie. Du Rand (2005:353) sluit hierby aan as hy tot die
gevolgtrekking kom dat die Ou-Testamentiese verwysings na die
doodstraf vanuit 'n Christelike waardevoorkeur kontekstueel is en
nie nét so toegepas kan word na Christus in 'n totaal nuwe
situasie nie. God het, onder andere, deur wetlike voorskrifte oor
sy volk se identiteit en heiligheid gewaak. Christus het deur sy
menswording die vervulling van God se bedoelinge geword.
-
J.M. Vorster (2002:198) vra tereg of
'n beroep op Romeine 13 om die doodstraf te regverdig, aanvaarbaar
is, en of die swaardmag waarvan hier sprake is, werklik op die reg
tot doodstraf dui. Hy wys veral op die historiese situasie wat hier
van besondere belang is: die Jode moes die regspraak van die
Romeinse owerheid erken, omdat alle gesag in God gesetel is en deur
God ingestel word. Romeine 13 handel dus in die eerste plek oor
gesonde gesagsverhoudinge. Hieruit kan en mag nie noodwendig
afgelei word dat die owerheid die reg het om doodstraf toe te pas
nie. Du Rand (2005:353) voel dat die
staat, wat sy gesag van God ontvang, al is dit nie 'n sogenaamde
Christelike staat nie, die medeverantwoordelikheid het om vanuit
die etos van liefde oor lewe met medemenslikheid te waak.
Hoogstens kan daar op grond van die bybelse perspektiewe
(kontekstueel-paradigmatiese benadering) gesê word dat die
owerheid die doodstraf mag toepas, maar dat dit nie 'n gebod is nie. Du
Rand (2005:352) onderstreep hierdie siening
as hy betoog dat die Bybel geensins belangstel om alle moderne vrae
volgens hedendaagse denkkategorieë te beantwoord nie. Dit is, syns
insiens, nie regstegnies georiënteerd om byvoorbeeld onderskeid
tussen moord (opsetlike bloedvergieting) en manslag (nalatige
doodstraf) te maak nie. In die bybelse geskiedenis is die doodstraf
immers nie as 'n gebod toegepas nie, maar meermale as afskrikmiddel of
om die ernstigheid van die misdrywe te beklemtoon (vgl. Du Rand
2005:352).
Die koninkryk van God as kontekstueel-paradigmatiese
tema vir die doodstraf as etiese probleem |
|
Dat die tema koninkryk van God etiese implikasies en 'n
sedelike verantwoordelikheid vir die burgers van die koninkryk in hom
saamdra, word bevestig deur Wielenga (1992)
wat die volgende beweer:
... whoever wants to plead today for a reconstruction of the
temple in Jerusalem is going against the normative development of the
tradition of faith in the canonical Bible and is not consonant with
the kerygmatic Christological unity of canonical Scripture. Another
example: whoever pleads for a form of theocratic government in South
Africa is neglecting a very clear biblical theocracy towards a
messianic-eschatological perspective which has to be accepted as
normative because of its canonicity. (pp. 34, 35)
Du Plooy (1991:117) wys daarop dat dit
sekerlik geregverdig kan wees om te stipuleer dat daar 'n Christelike
staat behoort te wees, maar dan is hy tog huiwerig in sy
bevraagtekening van die stelling of die teokratiese ideaal, oftewel 'n
ware Christelike owerheid, realiseerbaar in 'n wêreld met soveel
heterogeniteit, gebrokenheid en sondigheid is. Dit wil dus, volgens
hom, voorkom asof die oortuigings in die owerheid se geloofsbelydenis
inderdaad en primêr 'n belydenis is. Gesien in lig van die wese
en aard van die kerk en die kerk se verhouding met die owerheid, is dit
belangrik dat die kerk slegs oor die ware grondslag van die staat en
die gesag van die Woord, wat ook op staatkundige terrein in wette
gepositiveer of vergestalt moet word, kan getuig. Die Kerk moet dit
egter aan die owerheid stel dat sy ten diepste deur God geroep is om in
diens van die koninkryk van God te regeer. Parlementswette behoort aan
die hand van 'n objektiewe maatstaf getoets te word. Die beginsels en
norme waarvolgens wette gemeet en getoets moet word, kan vanuit 'n
Christelike hoek gesien, nie buite die Skrif as absolute gesagsbron en
maatstaf bepaal word nie (Du Plooy 1991:124).
'n Demokrasie ('n regering deur middel van volksverteenwoordigers),
soos tans in Suid-Afrika die geval is, moenie teenoor teokrasie
(Godsregering) gestel word nie, maar moet veel eerder in diens daarvan
staan. Ook 'n demokratiese regering bly in die laaste instansie nie aan
die volk nie, maar aan God verantwoording verskuldig en moet dus
só regeer dat die beginsels van die koninkryk van God in die
samelewing neerslag kan vind (Van Wyk 1994:1). Die demokratiese regering van Suid-Afrika
mag nie losgemaak word van die koninkryk van God nie. Die samelewing
van Suid-Afrika moet diensbaar wees aan die koninkryk van God, en
Christene moet probeer om die beginsels van die Ryk in die samelewing
te laat neerslag vind (Van Wyk 1994:2).
In die bespreking van die koninkryk van God is dit duidelik dat
veral die Ou-Testamentiese uitsprake oor die doodstraf binne die
raamwerk van 'n Goddelike teokratiese perspektief beskou moet word. Van
Wyk (1991b) maak die volgende stelling:
Dit is natuurlik vanselfsprekend dat godsdienstige wette slegs in
'n teokrasie, soos by Israel te vind was, konsekwent toegepas kan
word. In 'n ongelowige of gemengde samelewing kan sulke wette moeilik
op dieselfde wyse toegepas word. (bl. 290–291)
In die lig van hierdie uitgangspunt waarsku N. Vorster (2002:344) dat teokratiese ideale nie op die
gemeenskap afgedwing moet word nie. Binne 'n pluralistiese samelewing
sal teokratiese ideale moeilik implementeerbaar wees. Die gemeenskap se
gewetens moet nie aan 'n teosentriese fundering van menseregte gebind
word nie. Die kerk word egter as unieke bedienaar van God se reg geroep
om sover moontlik getuienis van die relevante gegewens in die Woord van
God na vore te bring. Dit is nie net die taak van die kerk in sy
institusionele gestalte of meerdere vergaderinge nie, maar dit bly die
roeping van die individuele gelowiges wat in hulle amptelike
hoedanigheid besig is om dit direk uit te voer (vgl. Du Plooy 1991:124).
De Villiers (2000:41) dui ook aan dat
daar binne die etiek die teokratiese versoeking bestaan om van die
huidige regering te verwag om die morele wil van God as uitgangspunt
vir die beleid en wetgewing te gebruik. Die grond vir hierdie redenasie
is, volgens hom, die oortuiging dat die drie-enige God die enigste ware
en almagtige God is. Alle aardse owerhede is dus aan Hom onderworpe.
Dit is daarom hulle plig om toe te sien dat die wette wat die
samelewing reël in ooreenstemming met die wet van God is. Wetlik
behoort hulle nie voorsiening te maak vir die gebruike en moraal van
groepe wat nie die ware God aanbid nie. De Villiers waarsku tereg dat
dit glad nie moontlik is om in moderne liberale demokrasieë
hierdie teokratiese model toe te pas nie. De Villiers (2000:33) is heeltemal korrek met sy bewering dat
die teokratiese model nie net so in die moderne samelewingskonteks
toegepas kan word nie. Tog moet daar van hom verskil word wanneer hy
beweer dat dit glad gedoen mag word nie. Dit is waar dat die
teokratiese model soos wat dit in die Skrif, en veral die Ou Testament
voorkom, nie as 'n bloudruk in die hedendaagse samelewingskonteks
toegepas mag word nie, maar die ideaal sou wees om die beginsels van 'n
teokratiese regering soos in die Skrif uiteengesit, ook van toepassing
te maak op die hedendaagse samelewingskonteks.
In die lig hiervan moet 'n saak soos die doodstraf as 'n etiese
probleem nie bloot as 'n suiwer juridiese kwessie beskou word nie, maar
moet daar ook besef word dat dit ten diepste ook 'n morele
aangeleentheid is. Deur die doodstraf net as 'n suiwer juridiese
kwessie te beskou, is beslis 'n standpunt wat uitgaan vanuit 'n
positivistiese beskouing dat regspraak paradigmavry of moreel neutraal
is. Hierdie positivistiese beskouing kan met goeie rede bevraagteken
word. Die postmodernistiese wetenskapsbeskouing het reeds so 'n
benadering as ongeldig bewys (Kuhn 1970:viii; Knox 1993:1;
Rossouw 1993:894; Vorster 1996:10).
Alle wetenskapsbeoefening en rasionele standpuntinnames word bepaal
en funksioneer deur bepaalde paradigmas. Dieselfde kan van regspraak
gesê word. Ook regspraak is altyd waardegedrewe en geskied binne
'n geldende paradigma. In die lig hiervan moet daar deeglik onderskei
word tussen die taak van die staat (regering) en die roeping van die
kerk. Dit beteken dat onderskeid getref moet word tussen
staatsregtelike wettiging en morele regverdiging van 'n bepaalde saak.
Alles wat die staat wettig, is nie vanselfsprekend moreel korrek nie.
'n Staat regeer oor Christene en nie-Christene, gelowiges en
ongelowiges, ateïste en agnostici. Juis daarom moet die staat soms
wette maak en toepas waarmee die kerk, vanuit 'n morele oogpunt gesien,
groot probleme kan ondervind. Dit beteken nié dat die kerk sy
profetiese roeping en getuienis teenoor die staat moet laat vaar nie,
maar daarmee rekening sal hou dat die staat nie net oor Christene
regeer asof dit 'n teokratiese bedeling is nie, maar oor 'n wye
verskeidenheid mense met uiteenlopende standpunte. Uiteraard is daar
bepaalde grense aan die rekbaarheid van die staatsgesag.
Samevatting en gevolgtrekking |
|
In hierdie artikel is aangetoon dat hedendaagse etiese vraagstukke
binne die kontekstueel-paradigmatiese benadering ondersoek kan word
deur in plaas van geïsoleerde teksgedeeltes, eerder die koninkryk
van God as 'n tema te gebruik. Die metode omseil die probleem van 'n
biblistiese of 'n fundamentalistiese omgaan met die Skrif. Du Rand
(2005) verwys na die probleem as hy
skryf:
Om met behulp van geïsoleerde Bybeltekste as sogenaamde
Skrifbewyse die opheffing of handhawing van die doodstraf te
‘bewys’, blyk nie alleen 'n onbegonne taak te wees nie,
maar neig tot biblisisme (oorvereenvoudigde oorsien van eksegetiese
problematiek) of fundamentalisme (letterlike uitleg sonder inagneming
van historiese gegewenhede. (bl. 352)
Met die tema koninkryk van God, 'n koninkryks- en teokratiese
perspektief met betrekking tot Romeine 13:1–7, is baie duidelik
aangetoon dat veral die Ou-Testamentiese uitsprake oor die doodstraf
binne die raamwerk van 'n Goddelike teokratiese perspektief beskou moet
word. Daar is ook gevind dat teokratiese ideale moeilik in 'n
pluralistiese samelewing geïmplementeer sal kan word.
Die idee van die teokrasie en die implikasies daarvan vir die
hedendaagse samelewingskonteks is onder die soeklig geplaas en daar is
bevind dat die staatkundige idee van 'n teokrasie nie vandag op die
staatsbestel van toepassing gemaak kan word nie. Verder bied die konsep
van 'n regstaat die beste waarborg vir die beskerming van die reg op
lewe en vir die vryheid van die kerk om sy profetiese roeping te
vervul.
Die implikasie hiervan vir die etiek is dat die Ou-Testamentiese
regspraak altyd in die lig van die teokrasie beoordeel sal moet word.
In die lig van die teokrasie is die toepassing van die tema
koninkryk van God as kontekstueel-paradigmatiese sleutel
onontbeerlik. Daar is ook gevind dat daar op grond van bybelse
perspektiewe (kontekstueel-paradigmatiese benadering), hoogstens
gesê kan word dat die owerheid die doodstraf mag toepas, maar dat
dit nie 'n gebod is nie.
Daar is vasgestel dat die Ou-Testamentiese wette nie lynreg na die
hedendaagse samelewing op 'n a-historiese wyse oorgedra kan word nie.
Die sedelikheid van die Ou Testament word dan verabsoluteer as 'n
direkte Goddelike antwoord op hedendaagse samelewingsvraagstukke. Dit
sou beslis 'n biblistiese benadering wees en sou nie in sy praktiese
toepassing in die moderne samelewingskonteks die agtergrond van die
Israelitiese godsdienstige etiek voldoende in ag neem nie.
As enkele vereiste word gestel dat die sosio-politiese verskille
tussen die verhoudings wat geheers het toe die wette van Israel
saamgestel is en die samelewingsverhoudinge van vandag deeglik verreken
moet word om sodoende die bybelse eenheid tussen leer en lewe
konsekwent te handhaaf. Wanneer die Ou-Testamentiese wette bespreek
word, moet daar enersyds rekening gehou word met die kultuurhistoriese
konteks waarin hulle gegiet is. Besondere aandag aan die oorspronklike
konteks van so 'n gedeelte, word ingesluit.
In die lig van bogenoemde uiteensetting blyk dit dat die
kontekstueel-paradigmatiese benadering 'n besonder waardevolle manier
is waarop die Skrif ontgin kan word om sodoende lig op die problematiek
van die hedendaagse samelewingskonteks te werp sonder om in die slaggat
van óf 'n biblistiese Skrifgebruik óf Skrifkritiese
Skrifgebruik te trap. Die rede hiervoor is dat die
kontekstueel-paradigmatiese benadering die totale openbaring van God
verreken. Binne die werkingsfeer van die kontekstueel-paradigmatiese
benadering, blyk dit uit die hooftemas van die Skrif, soos die
koninkryk van God en ander moontlike temas, dat dit inderdaad vir die
Christelike etikus moontlik is om hom op die Skrif te beroep, veral ten
opsigte van 'n baie kontensieuse etiese probleem soos die doodstraf.
Die kontekstueel-paradigmatiese benadering slaag byvoorbeeld daarin om
te verhoed dat tekste wat oënskynlik op die doodstrafproblematiek
van toepassing is, geïsoleerd buite hulle kontekstuele verband
geïnterpreteer, verklaar en toegepas word. Ewe min word die
gesagvolle boodskap van die Skrif binne die kontekstueel-paradigmatiese
benadering gerelativeer tot eenvoudige morele sedelesse.
Die koninkryk van God as kontekstueel-paradigmatiese sleutel vir
Skrifberoep in die etiek is 'n geestelike werklikheid wat in die geloof
aanvaar en bely word, maar terselfdertyd is dit ook 'n werklikheid wat
nou reeds transformerend op sosiale strukture inwerk. Die voleinding
van die koninkryk is egter nooit van menslike aktiwiteite afhanklik
nie, hoewel God ons menslike aktiwiteite in diens van die koms van sy
koninkryk gebruik. Alleen aan God kom die hoogste gehoorsaamheid en
grootste lojaliteit toe. Die Woord van God is die finale kriterium
(vgl. Van Wyk 1991b:112).
Mededinge belange
Die outeur verklaar hiermee dat sy geen finansiële of
persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig of
voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel
nie.
Abineno, J.L.C., 1972, ‘The state according to Romans
thirteen’, South East Asia Journal of Theology 14(1),
23–27.
Bright, J., 1953, The kingdom of God: The Biblical concept and
its meaning for the church, Abingdon, New York.
Denkema, F., 1991, ‘Persoonlike bekering of strukturele
verandering vir 'n toekomstige Suid-Afrika’, in J.L. Helberg
(red.), Kerkwees as getuienis in Suid-Afrika vandag, bl.
225–237, Potchefstroomse Teologiese Publikasies,
Potchefstroom.
De Villiers, D.E., 2000, ‘Suid-Afrika in jaar 2000: Watter
morele leiding kan die NG Kerk gee?’, Skrif en Kerk 21(1),
33–47.
Douma, J., 1996, The ten commandments: manual for Christian
life, P&R Publishing Company, Philipsburg.
Du Plooy, A. le R., 1991, ‘Enkele bakens in die verhouding
tussen kerk en staat met die oog op die ontstaan van 'n nuwe
Suid-Afrikaanse staat’, in J.L. Helberg (red.), Kerkwees as
getuienis in Suid-Afrika vandag, bl. 104–126, Potchefstroomse
Teologiese Publikasies, Potchefstroom.
Du Plooy, A. le R., 1995, ‘Die grondslag en relevansie van die
Gereformeerde kerkreg as teologiese wetenskap’, In die
Skriflig 29(1&2), 35–160.
Du Rand, J.A., 2005, ‘Die doodstraf: 'n Teologiese
standpunt’, Verbum et Ecclesia 26(2), 341–356.
http://dx.doi.org/10.4102/ve.v26i2.228
Du Toit, S., 1969, ‘Die koninkryk van God in die Ou
Testament’, in S. du Toit, T. van der Walt, W.J. Snyman &
S.C.W. Duvenage (reds.), Die koninkryk van God, bl. 11–13,
Pro Rege, Potchefstroom.
Floor, L., 1974, Die koninkryk van God en die vernuwing van die
maatskappy, Pro Rege, Potchefstroom.
Goldstein, R., 1973, ‘Die politischen Paränesen in 1
Petr. 2 und Rom 13:1–7’, Bibel und Leben 14(2),
88–104.
Helberg, J.L., 1976, Ou-Testamentiese teologie in verleentheid?
Twee studies oor uitgangspunt en metode, PU vir CHO,
Potchefstroom.
Helberg, J.L., 1980, Die HERE regeer: Openbaringslyn deur die Ou
Testament, NG Kerkboekhandel, Pretoria.
Helberg, J.L., 1993, ‘Openbarings historiese aksente:
Owerheidstaak en godsdiens’, Koers 58(4),
485–500.
Heyns, J.A., 1974, ‘Kerk en samelewing’, in E.J. Smit,
J.A.L. Taljaard, P.D. van der Walt & S.C.W. Duvenage (reds.),
Reformasie en revolusie, bl. 37–48, Instituut vir die
bevordering van Calvinisme, Potchefstroom.
Knox, C., 1993, Changing Christian paradigms and their
implications for modern thought, Brill, New York.
Kuhn, T.S., 1970, The structure of scientific revolutions,
University of Chicago Press, Chicago.
Marais, S.J.L., 2010, ‘Die koninkryk van God as
sistematies-teologiese kategorie in die werk van J.A. Heyns’,
Ph.D.-proefskrif, Universiteit van Pretoria.
Marais, S.J.L., 2011, ‘Die koninkryk van God as
sistematies-teologiese kategorie in die werk van J.A. Heyns’,
Verbum et Ecclesia 32(1), 1–9. http://dx.doi.org/10.4102/ve.v32i1.475
Matera, F.J., 1996, New Testament ethics: The legacies of Jesus
and Paul, Westminster John Knox, Louisville.
Nel, G.C.J. & Van Aarde, A.G., 2002, ‘Die koninkryk van
God by Jesus: 'n Apokalipties-eskatologiese of eties-eskatologiese
begrip’, HTS Teologiese Studies 58(3),
1113–1133.
Peels, H.G.L., 1999, ‘Eschatologie in het Oude
Testament’, in W. van 't Spijker (red.), Eschatologie, p.
9–50, De Groot-Goudriaan, Kampen.
Peels, H.G., 2001, ‘The kingdom of God in the Old
Testament’, In die Skriflig 35(2), 173–189. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v35i2.554
Pieterse, H.J.C., 2009, ‘Prediking oor die koninkryk van God:
'n Uitdaging in 'n nuwe konteks van armoede’, HTS Teologiese
Studies 65(1), 14–20. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v65i1.106
Reymond, R.L., 1998, A new systematic theology of the Christian
faith, Thomas Nelson, Nashville.
Ridderbos, H.N., 1971, Paulus: Ontwerp van zijn theologie,
Kok, Kampen.
Ridderbos, H.N., 1972, De komst van het koninkrijk: Jezus’
prediking volgens de synoptische evangeliën, Kok,
Kampen.
Rossouw, G.J., 1993, ‘Theology in postmodern culture: Ten
challenges’, HTS Theological Studies 49(4),
894–907.
Trilhaas, W., 1965, Ethik, Alfred Töpelmann,
Berlin.
Van der Walt, B.J., 1980, ‘Koninkryk, kerk,
wêreld’, In die Skriflig 14(55), 27–32.
http://dx.doi.org/10.4102/ids.v14i55.768
Van der Walt, S.J., 1989, ‘Die roeping van die kerk ten
opsigte van etiese vraagstukke in die samelewing met toespitsing op
uitsprake van sinodes van die Gereformeerde Kerke in
Suid-Afrika’, Th.D.-proefskrif, PU vir CHO.
Van der Walt, T., 1962, Die koninkryk van God-naby! Eksegetiese
verkennings van die toekomsperspektief van Jesus Christus volgens die
getuienis van die sinoptiese evangelies, Kok, Kampen.
Van der Walt, T., 1996, ‘Hoekpale van Gereformeerd wees:
Kernwaarhede van die Gereformeerde leer’, In die Skriflig
30(4), 519–532. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v30i4.1594
Van der Watt, J.G., 2013, ‘Etiese besluitneming volgens 1
Johannes’, Acta Theologica 33(2), 207–225. http://dx.doi.org/10.4314/actat.v33i2.12
Van Rooy, H.F., 1997, ‘Etiek en Ou Testament: 'n Kritiese
bespreking van Bybelse grondslae vir moderne etiese vraagstukke’,
In die Skriflig 31(1&2), 1–17.
Van Rooy, H.F., 2000, ‘Vryheid en verbond: 'n Ou-Testamentiese
perspektief’, In die Skriflig 34(1), 3–16.
Van Wyk, J.H., 1991a, ‘Kerklike getuienis in 'n
polities-gepolariseerde Suid-Afrika’, in J.L. Helberg (red.),
Kerkwees as getuienis in Suid-Afrika vandag, bl. 172–192,
Potchefstroomse Teologiese Publikasies, Potchefstroom.
Van Wyk, J.H., 1991b, Moraliteit en verantwoordelikheid: Opstelle
oor politieke etiek, PU vir CHO, Potchefstroom.
Van Wyk, J.H., 1994, ‘Perspektiewe op die verkiesing’,
Woord en Daad 34(348), 1–2.
Van Wyk, J.H., 1995, ‘Die relevansie van die Gereformeerde
teologie vir vandag’, In die Skriflig 29(1&2),
241–267.
Van Wyk, J.H., 2001, ‘Kerk en koninkryk’, in J.H. van
Wyk (red.), Kerk- en Christenwees vandag, bl. 25–34,
Potchefstroomse Teologiese Publikasies, Potchefstroom.
Van Wyk, J.H., 2003, ‘Teologie van die verbond of teologie van
die koninkryk? Dogmatiese nadenke oor die verhouding tussen die verbond
en die koninkryk as sentrale teologiese temas’, In die
Skriflig 37(1), 1–26. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v37i1.456
Van Wyk de Vries, K.S., 1970, ‘'n Oriëntering in
breë trekke: Begrips- en plekbepaling van die koninkryk van God
ten opsigte van en in verhouding tot die uitverkiesing, die kerk, die
verbond en die maatskappy’, In die Skriflig 4(15),
5–17. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v4i15.922
Velema, J.H. & Velema, W.H., 1968, Nieuwe wegen oude
sporen, Semper Agendo, Apeldoorn.
Velema, W.H., 1985, Geroepen tot heilig leven, Kok,
Kampen.
Venter, C.J.H., 1996, Uitkringende liefdesbetoon: Kommunikatiewe
handelinge in diens van die onderlinge liefdesgemeenskap in die
kerk, RGN, Pretoria.
Venter, C.J.H., 1997, ‘Prediking oor politieke sake: Riglyne
vanuit Romeine 12–15’, In die Skriflig 31(1&2),
19–32.
Viljoen, F.P., 2009, ‘Die kerk en geregtigheid in die
Matteusevangelie’, In die Skriflig 43(3), 649–667.
http://dx.doi.org/10.4102/ids.v43i3.241
Vorster, J.M., 1993, ‘Die koninkryk van God as paradigma vir
kerkvernuwing’, Nederduits Gereformeerde Teologiese
Tydskrif 34(4), 522–531.
Vorster, J.M. 1996, Is die kerk funksioneel? Gedagtes oor
Gereformeerde kerkvernuwing in 'n post-moderne konteks,
Potchefstroomse Teologiese Publikasies, Potchefstroom.
Vorster, J.M., 2001, ‘'n Christelike teorie van
menseregte’, In die Skriflig 35(1), 1–23. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v35i1.542
Vorster, J.M., 2002, ‘Die reg op lewe’, In die
Skriflig 36(2), 185–206. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v36i2.504
Vorster, J.M., 2003, ‘'n Etiese perspektief op
godsdiensvryheid’, In die Skriflig 36(2),
251–269.
Vorster, J.M., 2004, Ethical perspectives on human rights,
Potchefstroom Theological Publications. Potchefstroom.
Vorster, N., 2002, ‘Kerk en menseregte binne 'n regstaat: Die
profetiese roeping van die kerk ten opsigte van die vestiging van 'n
etos van menseregte in Suid-Afrika’, Th.D.-proefskrif,
Potchefstroom.
Wielenga, B., 1992, ‘The Bible in a changing South Africa: The
quest for a responsible Biblical hermeneutic in mission’,
Missionalia 20(1), 28–37.
|