Article Information

Author:
Bertus van Rooy1

Affiliation:
1School of Languages, North-West University, Vaal Triangle Campus, South Africa

Correspondence to:
Bertus van Rooy

Postal address:
PO Box 1174, Vanderbijlpark 1900, South Africa

Dates:
Received: 21 Oct. 2013
Accepted: 13 May 2014
Published: 07 Nov. 2014

How to cite this article:
Van Rooy, B., 2014, ‘’n Korpuslinguistiese vergelyking van die Totius- en Cloete-Psalmomdigting’, In die Skriflig 48(2), Art. #1806, 10 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
ids.v48i2.1806

Copyright Notice:
© 2014. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
’n Korpuslinguistiese vergelyking van die Totius- en Cloete-Psalmomdigting
In This Original Research...
Open Access
Abstrak
Abstract
Inleiding
Talige dimensies van die Psalmdebat
Die navorsingsvraag
Metodologie
Bevindings
   • Lengte van die Totius- en Cloete-omdigting
   • ’n Woordelysvergelyking tussen die twee omdigtings
   • Argaïese vorms
   • Neweskikkende voegwoorde
   • Grammatikale vorms
   • Inhoudswoorde
   • Hulpwerkwoordelike vorms
   • Ander grammatikale vorms
   • Inhoudswoorde
   • Woordelysvergelyking van omdigtings met die Taalkommissiekorpus
   • Verskille: Selfstandige naamwoorde, voegwoorde en voorsetsels
   • Argaïsmes
   • Inhoudelike woorde
Gevolgtrekking
Erkennings en mededingende belange
Literatuurverwysings
Voetnotas
Abstrak

Kritiek teen die Cloete-omdigting van die metriese psalms word beoordeel deur die Totius-omdigting en die Cloete-omdigting met behulp van ’n korpuslinguistiese analise te vergelyk. Die analise geskied vanuit ’n kritiese beskouing van die aannames oor taal en vertaling onderliggend aan die resente debatte oor psalmomdigting. Die aanname van ’n deursigtige verhouding tussen die vaste betekenisse en spesifieke woorde, sowel as die moontlikheid dat formele ekwivalensie in die vertaling bewerkstellig kan word, word as vertrekpunte van die kritici van die Cloete-omdigting geïdentifiseer. Die data-analise toon dat die ooreenkomste tussen die twee omdigtings omvangryk is, maar dat die verskille beperk is. In die Totius-omdigting word meer van argaïese woorde gebruik gemaak. Nederlandse sowel as argaïese grammatikale konstruksies soos die genitief, die datief en die infleksie van die werkwoord kom selfs sporadies voor. Daar kom ook heelwat naamwoorde in die Totius-omdigting voor wat op ʼn formeler digterlike styl dui. Daarteenoor kom meer werkwoorde in die Cloete-omdigting voor, asook taaleienskappe wat verband hou met ’n spreektaalregister. Werklik beduidende teologiese verskille blyk nie uit die korpusanalise nie. Totius maak byvoorbeeld van drie verskillende Godsname gebruik, terwyl Cloete van ’n groter verskeidenheid adjektiewe gebruik maak wat soortgelyke betekenisse verwoord as wat in die Godsname vervat is.

Abstract

A corpus linguistic comparison of the psalm versifications of Totius and Cloete. Criticism of the Cloete versification of the metrical psalms is evaluated by comparing the Totius and Cloete versification with the aid of a corpus linguistic analysis. The analysis is presented against the backdrop of a critical assessment of assumptions about language and translation that underlie the recent debates on psalm versification. The assumption of a transparent relation between fixed meanings and specific words, as well as the degree to which formal equivalence can be attained in translation, is identified as the points of departure of the critics of the Cloete versification. The data analysis shows that the two versifications share many similarities, but the differences are limited. In the Totius versification, archaic forms are used more often. Dutch as well as archaic grammatical constructions such as the genitive, dative and verbal inflection are still occasionally encountered. There are also many nouns in the Totius versification, which points to a more formal poetic style. By contrast, there are more verbs in the Cloete versification, as well as language features that are typical of a spoken language register. Really substantial theological differences do not emerge from the corpus analysis. For instance, where Totius uses three names for God, Cloete uses a wider range of adjectives that encode similar meanings to what Totius encodes in proper nouns.

Inleiding

Navorsing oor die Cloete-omdigting van die psalms, dikwels met verwysing na die Totius-omdigting, kan in drie breë kategorieë ingedeel word. Eerstens is daar tekstuele analises van problematiese of waardevolle aspekte van die tekste, met ’n sterk fokus op spesifieke tekste self. Kwessies wat ter sprake kom, sluit in:

• die aard van die proses van psalmomdigting of -beryming1 (Cloete 1996; 1998; 2002; Van Rensburg 2005; 2006; Vos 2000; Vos & Olivier 2002);

• die messiaanse interpretasie van bepaalde psalms (Helberg 2006; Van Rooy 2004; 2005); en

• die verstaanbaarheid van die argaïese woordeskat in die Totius-omdigting (Van Helden & Coetzee 2006).

Tweedens word daar verskil oor die mate waartoe die oorspronklike Hebreeuse teks in sy totaliteit in die metriese omdigtings weergegee moet word, teenoor die alternatief van verwerkings wat korter is (Kloppers 2000; 2002a; Vos 2000). Derdens bestaan daar empiriese navorsing oor die mate waartoe die psalms in die kerklike liturgie gebruik word, binne die Gereformeerde Kerk (Van Rooy 2008) sowel as in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (Jankowitz & Kruger 2010).

Daarbenewens bestaan daar ’n versameling artikels wat nie in ewekniebeoordeelde vaktydskrifte verskyn het nie, maar wat wel in populêre blaaie voorkom. Sterk standpunt word hierin teen die teologie en die vertaalproses van die Cloete-omdigting ingeneem, terwyl die Totius-omdigting se kwaliteit en Skrifgetrouheid beklemtoon word (vgl. byvoorbeeld d’Assonville, 2002; d’Assonville et al. 2004; Van der Dussen 2004). Ten dele is hierdie kritiek navorsingsverantwoordbaar, en verskeie van die hoofstroomwetenskaplike bydraes (bv. Van Rensburg 2005; Van Rooy 2004; 2009) maak melding van en reageer hierop. Om ’n omvattende beeld op die Cloete-omdigting te verkry, is dit daarom noodsaaklik om hierdie publikasies by die bespreking in te sluit.2

Tussen die verskillende geskilpunte waaroor gedebatteer word, kan ’n aantal geïdentifiseer word wat direk op die taal van die tekste dui, terwyl ander punte indirek ook aansprake oor die taal maak. Hierdie artikel wil ’n bydrae maak om deur middel van ’n ander metodologie die geskilpunte te belig. Aspekte soos die gebruik van die psalms in die liturgie en die debat oor die geldigheid of deurdagtheid van die vertrekpunte van die Interkerklike Kommissie vir die Psalmberyming sal daarom nie in hierdie artikel aandag geniet nie.

Op tekstuele vlak blyk dit duidelik uit die argumentasie van d’Assonville (2002) dat sy vertrekpunt die moontlikheid van ’n letterlike vertaling is – in Nida (1964:144) se terme, ’n formeel-ekwivalente vertaling. Hierdie vereiste maak hy ook van toepassing op die omdigting van die psalms vir die gebruik in kerksang.3 Nida (1964:141) wys egter daarop dat ’n volledige ooreenstemming tussen die bronteks en die vertaalde teks nie moontlik is nie. Ook Toury (1995:170) gaan van die veronderstelling uit dat ’n volledige ooreenstemming tussen die bronteks en die vertaalde teks dikwels nie behaal kan word nie, maar stel voor dat verskeie norme die verhouding tussen die twee tekste en die mate van verwyderdheid reguleer.

Die teenpool van formele ekwivalensie is dinamiese ekwivalensie. Hiervolgens bereik die vertaalde teks ’n soortgelyke effek op die leser as wat die bronteks op die oorspronklike leser gehad het (Nida 1964:150). Die vertaalde produk word egter steeds beoordeel aan die mate waartoe dit die betekenis en bedoeling van die bronteks weergee en nie los daarvan staan nie (Nida 1964:151). Ten einde ’n vertaalde teks te lewer wat as teks in die doeltaal vir die teikengehoor sin maak, word bepaalde aanpassings gemaak om die middels van die doeltaal op die mees ongedwonge wyse te gebruik (1964:152–153).

Die debatte sentreer dikwels om die verhouding tussen die vertaling en die interpretasie, wat die vermeende strewe na ’n letterlike vertaling verder kompliseer. Wanneer die doelteks boonop metriese psalms is wat gesing moet word, word ’n verdere laag teksverwerking in die proses bygetrek. Die kwessie van interpretasie is verweef met die beskouing van wat vertaling behels.

Bestaande navorsing en besprekings berus tipies op ’n spesifieke aantal tekste wat wissel van ’n fokus op ’n enkele psalm – soos Psalm 137 (Van Rooy 2009) – tot ’n tekstuele analise van vier of meer psalms. Sommige bydraes – veral dié uit populêre blaaie en internetforums – bevat dikwels langer lyste van tekste wat tekens verwys na die weglating van kritiese Skrifgegewens in die Cloete-omdigting (spesifiek d’Assonville 2002). Meijer (2002) verwys met goedkeuring na bydraes in Die Kerkblad waarin Schulze (2002) ’n analise onderneem van Psalm 1–10 en Psalm 13, waaruit ’n persentasie van 30% vir die weglating van materiaal afgelei word. Uit hierdie persentasie word die afleiding gemaak dat die omdigter bewustelik die teologie van die Psalmbundel verander. Sodanige afleidings is enersyds teoreties problematies, gegewe die aanname dat ’n volledig letterlike vertaling moontlik is – selfs binne omgedigte metriese psalms. Andersyds is die afleidings empiries problematies na aanleiding van Kroeze et al. (2011) se bevinding dat selfs ’n vermeende letterlike vertaling soos die King James nie die teoretiese ideaal van 100% ooreenstemming bereik indien daar na elke inhoudsmorfeem van die Hebreeuse grondteks gekyk word nie.

Die probleem met die meeste bestaande navorsing of ander publikasies oor psalmomdigtings is dat dit bykans onmoontlik is om binne die bestek van ’n enkele artikel ’n fyn tekstuele analise van die totale korpus van psalmomdigtings te maak. Dit is ’n leemte, omdat die outeurs dikwels aan die hand van enkele voorbeelde ’n uitspraak oor die volledige korpus tekste wil maak. In hierdie verband beklemtoon Helberg (2006:576) dat dit nodig is om kritiek teen die Cloete-omdigting vanuit die Psalmbundel binne sy Ou-Testamentiese konteks te benader, eerder as om op ‘enkele sogenaamde messiaanse psalms te konsentreer’. Om egter ten minste oor die taalaspekte van die debat uitspraak te lewer en te poog om dit na die totale korpus van tekste te veralgemeen, is dit wenslik om ’n metodologie te gebruik wat in staat is om die totale versameling tekste in die geheel te kan ontleed. Die korpuslinguistiek is juis die metodologie van die moderne taalkunde wat met behulp van statistiese vergelyking van datastelle kan vasstel waar die beduidendste verskille tussen twee stelle taaldata lê.

In hierdie artikel word sodanige korpuslinguistiese vergelyking van die Psalmtekste van die Totius-omdigting en die Cloete-omdigting aangebied. Ter voorbereiding word die geskilpunte in die debatte, wat met taal en met die vertalingsproses te make het, eers geïdentifiseer. Vervolgens word ’n kort oorsig oor die korpuslinguistiek as taalkundige metodologie voorgehou, tesame met ’n uiteensetting van die metodologie wat gevolg is. Daarna word die resultate van die analise en ’n interpretasie aangebied.

Talige dimensies van die Psalmdebat

Twee geskilpunte wat met taal en die konseptualisering van taal en die vertaalproses verband hou, kan geïdentifiseer word. Die eerste geskilpunt hou verband met taalverandering. Hierdie onenigheid strek egter verder: dit dui op ’n geskil of sekere begrippe weggelaat word, of bloot verkeerd gekommunikeer word indien bepaalde woorde (bv. die Godsname, of ‘verbondswoorde’, vgl. d’Assonville 2002) nie op ’n sekere wyse ingespan word nie. Die tweede geskilpunt handel oor die interaksie tussen omdigting, vertaling en liturgiese bruikbaarheid van die omgedigte psalms. Standpunte wissel van die veroordeling van ’n mensgerigte vertaling wat teologiese dwaalleer verkondig, tot ’n standpunt ten gunste van ’n gedeeltelike en gekondenseerde vertaling om liturgies bruikbaarder tekste op te lewer (Kloppers 2000; 2002a). Die kwessie van vertaalnorme (Toury 1995) is onderliggend aan die tweede geskilpunt.

Hierdie twee kwessies kan nie in isolasie van mekaar, óf van die vertrekpunte van die taal- en vertaalwetenskappe beskou word nie. Voordat hierdie sake bespreek word, is dit dus nodig om te let op die vertrekpunte van die twee wetenskaplike dissiplines wat die debat behoort te voed. Hierdie uiteensetting word aangebied in ’n skema wat parallel met Van Deventer (1999:408) se samevatting van die drie agtereenvolgende fases van die ontwikkeling van denke in die hermeneutiek vertoon, naamlik premodernisties, modernisties en postmodernisties. Van Deventer (1999:407–410) dui aan dat daar ’n klemverskuiwing is vanaf ’n fokus op die bedoeling van die outeur (premodernisties) na die teks (modernisties) en na die leser (postmodernisties).

In die taalkunde kan die negentiende eeu as die eindpunt van ’n ekwivalente premodernisme gekarakteriseer word as filologies en histories (De Saussure 1916). Sterk preskriptiwistiese en moralistiese ondertone oor suiwer taalgebruik is aan die orde van die dag in sekere lande – miskien veral ook in die literatuurwetenskap (Shklovsky [1917] 1965). Dit spreek van ’n sterk psigologiese en biografiese bemoeienis met die outeur en die wyse waarop die teks die outeur se idees uitbeeld.4

Gedeeltelik in reaksie teen die historiese benadering, ontwikkel die strukturalisme in die twintigste eeu as ’n tipies modernistiese benadering. In die strukturalisme (bv. Barthes 1964; Bloomfield 1933; De Saussure 1916; Jakobson 1960) word klem op die verhoudings tussen die elemente binne die taalsisteem geplaas. Veral in die Europese tradisie (soos verteenwoordig deur De Saussure, Jakobson & Barthes) is daar ’n verbintenis tussen die betekenis en die verstaan van die taal met die verhouding tussen die woorde binne die teks (sintagmaties), asook die verhouding wat bestaan tussen ’n woord wat in die teks gebruik word en ander woorde wat nie gekies is nie, maar wel betekenisverwant is (paradigmaties).

In die literatuurwetenskap lei dit tot ’n sterk tekssentriese benadering waarin die outeur en die outeursintensie buite die spel geplaas word, omdat die analise van die tekste daarop dui dat daar altyd meer betekenis in ’n teks vervat word en die outeur nie noodwendig almal bedoel het nie. Die postmodernistiese fase ontwikkel enersyds in Europa waar veral Derrida (1967) se analise van die strukturalisme op blinde kolle dui – blinde kolle ten opsigte van die aanname dat woorde in hulle oorsprong tog ’n natuurlik verbintenis met voorafgegewe betekenisse in die buitetalige werklikheid het (wat hy met die begrip logosentrisme verwoord). Andersyds, in die meer konvensionele taalkundekringe ontwikkel verskeie paradigmas vanaf die sewentigerjare van die vorige eeu, waarin die aprioristiese aannames oor die taalstruktuur deur sowel die linguistiese analise as die psigolinguistiese navorsing oor die taalverwerwing by kinders as problematies en onwaarskynlik bewys word (Bybee 2006; Tomasello 2008).

In die postmodernistiese fase verskuif die fokus na die dinamiese interaksie tussen die taalgebruikers en die taalvorm. Die metaforiese begrip van taal as ’n vaste verpakking van ’n voorafbepaalde betekenis (wat ’n wesenlik essensialistiese beskouing is) word laat vaar, ten gunste van ’n meer dinamiese, interaktiewe verstaan van die kommunikasiegebeurtenis. Dit is egter belangrik om daarop te let dat hierdie nie nuwe navorsing is nie, dit is bloot die gewone ontwikkeling van denke in ’n wetenskaplike spesialisasieterrein.

Binne die vertaalteorie kan ’n parallelle ontwikkeling waargeneem word wat in ’n groot mate soortgelyk is aan die ontwikkeling van die Hermeneutiek. Van die verwagting van ’n letterlike vertaling (formele ekwivalensie) waarin die outeur se woorde met die minste moontlike aanpassing in ’n ander taal gestel word, ontwikkel die vakgebied in die tweede helfte van die twintigste eeu. Dit ontwikkel na dinamiese ekwivalensie waar ’n nuwe teks tot stand kom met die bedoeling om die betekenis van die oorspronklike teks in ’n nuwe konteks weer te gee (vgl. byvoorbeeld Nida 1964). Sedertdien is daar egter ’n heelwat meer kritiese ingesteldheid. Die hedendaagse benadering word deur ’n etiese debat gekenmerk oor die spanning tussen die pole waarin die rol van die vertaalproses en die vertaalde tekste nie meer tot simplistiese oplossings gereduseer word nie (Venuti 2008).

Teen die agtergrond van die teoretiese ontwikkeling in die denke oor taal en vertaling word nou met ’n nuwe lens na die debatte oor die Cloete-omdigting gekyk. Een van die belangrike oorspronklike motiverings vir ’n nuwe omdigting was dat die Afrikaanse taal sedert 1936 verander het en die Totius-omdigting verskeie argaïese vorms bevat wat nie meer toeganklik is nie (Vos 2000:35). Van Helden en Coetzee (2006) ondersoek hierdie probleem empiries en kom tot die gevolgtrekking dat sommige woorde inderdaad ontoeganglik vir hedendaagse kerkgangers is. Hierteenoor beweer Kloppers (2000:200) dat die gebruik van ouer woorde steeds prominent in die Cloete-omdigting voorkom en daarom nie die probleem met die Totius-omdigting oplos nie. Hierdie geskilpunt kan maklik empiries besleg word deur vas te stel hoe omvangryk die gebruik van argaïese items in die twee omdigtings is en deur ook vas te stel tot watter mate die argaïese vorms die verstaanbaarheid van die tekste in die gedrang bring. Van Helden en Coetzee (2006) het reeds hierdie navorsing gedoen.

Geen taalkundige ontken die feit dat tale oor tyd verander nie, alhoewel daar soms oor die tempo van verandering verskil word. ’n Periode van 80 jaar is meestal heeltemal voldoende om omvangryke veranderings op leksikale vlak waar te neem. In die geval van Afrikaans sou ’n mens ook meer grammatikale verandering verwag, gegewe die groter omvang van veranderlikheid van die taal aan die begin van die eeu voor dit nog aan standaardisering onderwerp is (Deumert 2004; vgl. ook Kirsten 2013 vir die gevallestudie van die veranderlikheid in Totius se eie Afrikaans).

D’Assonville (2002:5) beweer dat die Cloete-omdigting woorde soos geregtigheid, goedertierenheid en barmhartigheid weglaat; woorde wat volgens hom duidelik woorde is wat met die verbond van die Here te make het. Hierdie aanspraak het sowel ’n taalkundige as ’n vertaalkundige onderbou. Ten opsigte van die woord goedertierenheid dui die jongste uitgawe van die Handwoordeboek van die Afrikaanse taal (Odendal & Gouws 2005:320) aan dat die woord deftig en verouderd is. Dit kan dus bots met die eis wat aan die omdigters gestel is om verstaanbare, hedendaagse taal te gebruik (Van Helden & Coetzee 2006:201–204).

Om hierdie aspek van die geskil te besleg, is dit nodig om vas te stel of hedendaagse sinonieme gebruik is, anders kan die getrouheid aan die bronteks benadeel word. Terselfdertyd moet gewaak word teen die verabsolutering van enkele woorde as die draers van betekenis. Die betekenis van ’n teks moet eerder binne die dinamiese interaksie van die leser en die teks gesoek word as in die gebruik van sekere geykte vorms waarvan sommiges dalk nie meer toeganklik of verstaanbaar is nie. Dit sal op oneffektiewe kommunikasie neerkom, wat júís Kloppers (2000) se beswaar is.

’n Tweede saak wat met argaïsmes verband hou, is die letterlike vertaling teenoor die woordgebruik wat die onderliggende boodskap behou (Cloete 2002; Vos 2000:362), of om die bybelse uitdrukkings en metafore in ’n hedendaagse vorm te vertaal (tegnies, om dinamiese ekwivalensie te probeer bewerkstellig eerder as om ’n verbatim vertaling na te streef wat moontlik steeds ontoeganklik bly). Hieroor is ook verskillende sienings: Kloppers (2000:200) beweer dat Cloete se vertaling steeds te konserwatief is en die Psalms daarom liturgies moeilik sal funksioneer. D’Assonville (2002:4) daarteenoor stel die behoud van die oorspronklike bybelse segswyses en beelde (die koloriet) as ’n vereiste vir die Psalmomdigting. Meijer (2002:10), wat eksplisiet en met afkeuring na die dinamies ekwivalente vertaalbenadering verwys, maak die afleiding dat Cloete nie die Hebreeuse grondteks nie, maar wel die 1983-Afrikaanse Bybelvertaling as basis van sy omdigting gebruik. D’Assonville en Meijer se besware dui aan dat hulle formele ekwivalensie as die geldigste benadering tot die vertaling beskou. Uit hierdie besware blyk dat premodernistiese sienings oor taal en vertaalkunde as vanselfsprekend aanvaar word, teenoor Kloppers se bewering dat Cloete nie daarin slaag om ’n hedendaagse perspektief op die vertaalproses te inkorporeer nie, maar sy taak vanuit ’n modernistiese, teksgesentreerde hoek benader het.

Gedurende die omdigtingsproses het Cloete self ook enkele refleksies oor die proses die lig laat sien. Sentraal tot sy betoog is dat die Psalmbundel bepaalde deurlopende motiewe bevat en dit in die omdigting prominensie behoort te geniet (Cloete 2002). Hy stel verder dat individuele psalms ’n eiesoortige interne struktuur het waaraan die omdigter uitdrukking moet probeer gee (Cloete 1996). Met die oog hierop behoort die leser te verwag dat die kronologie van informasie in die Hebreeuse grondteks nie noodwendig in alle opsigte weergegee word nie, maar dat dieselfde inligting wel binne die geïnterpreteerde struktuur van die psalm sal voorkom. Ook Vos (2000) maak hiervan melding. Hy voer aan dat die fokus op groter struktuurelemente dit moontlik maak om ’n psalm soos byvoorbeeld Psalm 119 korter weer te gee sonder om die teologiese grondwaardes aan te tas. Die teksgesentreerde, dit wil sê strukturalistiese en modernistiese intensie, blyk duidelik uit bostaande nuanse.

In teenstelling met hierdie beskouing van die digter self, val die kritici se gevolgtrekkings op as minder genuanseerd. ’n Voorbeeld hiervan is die opskrif van die bydrae van d’Assonville et al. (2004), ‘Christus self is in gedrang’. Dit wil voorkom asof Cloete en sy adviseurs die Godheid van Jesus ontken. In dieselfde trant konkludeer Van der Dussen (2004:10): ‘In die lig van die bostaande moet ons die Cloete-beryming afwys om ons Skrifgeloof te behou.’ Stellig die sterkste aanspraak wat binne die konteks van die vakgebied Teologie verdoemend kan wees indien dit binne bepaalde geïnstitusionaliseerde strukture van die kerk hanteer word, is dié van d’Assonville (2003) wat skryf:

Dit is ewe-eens skrikwekkend erg as ons agterkom dat dominees en professore van die GKSA in hulle adviese aan die nuwe digter van die 2001-Psalmboek met ’n valse, onbybelse teologie gewerk het.

Dit blyk uit hierdie aantygings dat die kritici van die Cloete-omdigting die bestaan van ’n vaste outeursintensie, wat boonop hermeneuties gesproke uniek kenbaar is, as vertrekpunt neem. Van Deventer (1999) toon in sy analise van die teologiese hermeneutiek aan dat die premodernistiese beskouing grootliks op ’n tradisie van oorgelewerde interpretasies berus. Tog word hierdie interpretasies met universele geldigheid aangehang. Volgens die individuele interpreteerders sal enige redelike persoon wat die teks lees, tot dieselfde gevolgtrekking en interpretasie kom. Afwykings van sodanige interpretasies word as kettery of die afwyking van die ‘moderne wetenskap’, of valse teologie afgemaak. In aansluiting hierby toon Kloppers (2002b:184, 189) dat die konserwatiewe aandrang op onveranderlikheid (van sowel teks as interpretasie) dikwels eerder wortels in nasionalisme en tradisionalisme het en nie noodwendig teologies begrond kan word nie.

Die navorsingsvraag

Die vraag wat uit die voorafgaande bespreking voortvloei en wat in die res van hierdie artikel beantwoord word, is hoe groot die verskille tussen die Totius- en die Cloete-omdigting is. Is daar werklik so ’n omvangryke verskil in die benadering tot ’n omdigting dat die twee omdigtings so verskillend beoordeel word? Hierdie vraag word met behulp van die metode van die korpuslinguistiek beantwoord. Daar word gepoog om deur middel van ’n rekenaarmatige analise van die taal in die tekste vas te stel of daar sleutelwoorde is wat die omdigtings onderskei en die verskille, indien daar is, op taalkundige gronde te probeer interpreteer. Terselfdertyd word die twee datastelle met ’n groot, algemene korpus van Afrikaans vergelyk, naamlik die Afrikaanse Taalkommissie se korpus van nagenoeg 50 miljoen woorde (hoofsaaklik hedendaagse Afrikaans).

’n Belangrike dimensie vir die beantwoording van die vraag wat as verdere motivering vir die seleksie van korpuslinguistiek as metode dien, is die liniêre karakter van die vergelyking tussen die psalmomdigtings en die grondteks in sommige publikasies. D’Assonville (2003) adviseer gewone lidmate wat self die skrifgetrouheid van die Cloete-omdigting wil beoordeel, soos volg:

Vir ons ander wat nie Hebreeus ken nie, is dit ook maklik: Neem die 1933/53 Afrikaanse Bybelvertaling of enige ander goeie vertaling in Engels (bv. die King James Version of die New International Version) of ’n goeie Duitse vertaling. Neem enige psalm uit hierdie Bybel en lê dit langs die betrokke psalm van die nuwe omdigting. Vergelyk dit ook vers vir vers en jy sal baie gou agterkom wat gebeur het.

Ongeag die probleem dat die letterlikheid van die ‘goeie vertaling in Engels’ (Kroeze et al. 2011) hoegenaamd nie so eenvoudig is nie, berus d’Assonville (2003) se argument op die veronderstelling dat ’n vertaling dus sin vir sin, woord vir woord en sintakties die bronteks moet weergee. D’Assonville se mikrobenadering bots met Cloete se makrobenadering om met die groter temas te werk. Dit gee nie voldoende erkenning aan die verskeidenheid eise wat aan ’n psalmomdigting gestel word en wat die afwyking van die mees eenvoudige ooreenstemming met die bronteks onmoontlik maak nie (Van Rensburg 2005; 2006). Van Rooy (2004:764) wys in hierdie verband daarop dat d’Assonville (2002) en d’Assonville et al. (2004) se kritiek teen die vermeende weglating van die kruiswoorde van Jesus in Psalm 31:6 op ’n mislees van die teks berus. Cloete sluit dit wel in, maar nie presies in die bewoording en op die presiese plek waar hierdie lesers dit verwag het nie.

Die moontlikheid om nonliniêre ooreenkomste te vind en dus nie aan ’n blote vers-vir-versvergelyking gebonde te wees nie, maak die korpuslinguistiese ondersoekmetode heelwat kragtiger as ’n tekstuele woord-vir-woordanalise. Hierdie metode en sy toepassing in die konteks van hierdie studie word vervolgens bespreek.

Metodologie

Die korpuslinguistiek as metode is vanaf die sestigerjare van die vorige eeu veral in die Engelstalige akademie ingevoer. Met die opkoms van die persoonlike rekenaar in die tagtigerjare het hierdie metode nuwe stukrag gekry. ’n Versameling masjienleesbare tekste word met behulp van rekenaarprogramme ontleed. Soekterme word in kategorieë geplaas om sistematiese kwantitatiewe gevolgtrekkings oor die tekste te maak. In die aanvangsjare was die grootte van ’n verteenwoordigende korpus ongeveer een miljoen woorde. Met hedendaagse rekenaars is die verwerkingskapasiteit en die stoor daarvan sodanig dat daar geen grense is nie. Hierdeur kan selfs die hele internet as korpus ondersoek word indien die navorser in laefrekwensieverskynsels geïnteresseerd is (McEnery & Wilson 2001:2–25).

Daar is twee voordele aan die korpuslinguistiese metodes verbonde. Die menslike analis is feilbaar, veral indien groot volumes data ontleed word. Woorde kan misgekyk word, of eenduidigheid kan in die slag bly. Daarteenoor is die rekenaar altyd presies en sistematies, indien die instruksies wat dit moet uitvoer, eenduidig is (Biber et al. 1998:4). Dit neem die menslike analis ’n aantal ure se leeswerk om in ’n korpus psalmtekste te tel hoeveel keer ’n woord soos barmhartigheid byvoorbeeld voorkom – met die risiko dat foute gemaak word. ’n Rekenaar wat gepaste programmatuur het, kan hierdie vraag binne ’n breukdeel van ’n sekonde met absolute presiesheid beantwoord. Tweedens ontstaan daar ’n natuurlike bevooroordeelheid by die mens om ongewone patrone raak te sien en die gevaar om die voorkoms daarvan te oorskat (Kahneman 2011:322–333). Die rekenaar word egter nie deur hierdie oorwegings van stryk gebring nie.

Normaalweg word korpuslinguistiek aangewend om die gebruik van taal in verskillende kontekste te ondersoek, of om spesifieke assosiasies en funksies van verskillende grammatikale konstruksies na te gaan (Biber et al. 1998:5–8). Verder word woordeboeke in die huidige tydsgewrig feitlik sonder uitsondering met korpora gemaak (McEnery & Wilson 2001:106–108). Korpora kan egter ook aangewend word om ’n fyner stilistiese of selfs forensiese ondersoek te onderneem, veral indien gespesialiseerde tekste in vergelyking met ’n algemene norm ondersoek word (Kotzé 2007; McEnery & Wilson 2001:117–119). Dit is by laasgenoemde benadering wat hierdie studie aansluiting vind, deur die twee weergawes van die metriese psalms as twee aparte korpora te verwerk en hulle met ’n groot algemene korpus, die Afrikaanse Taalkommissiekorpus, te vergelyk.

Die hooftegniek wat gebruik word, is om frekwensiewoordelyste van albei psalmkorpora te maak. Dit word dan statisties met mekaar vergelyk om die woorde te vind wat beduidend meer of beduidend minder in die twee stelle tekste gebruik word. Hierdie kwantitatiewe bevinding word dan kwalitatief geïnterpreteer (Biber et al. 1998:8–9) om vas te stel wat die aard van die verskille tussen die twee korpora is. So ’n kleinskaalse, direkte vergelyking tussen die twee korpora is die eenvoudigste manier om die twee stelle data te vergelyk en direkte verskille te identifiseer. Die klein korpora (saam is dit minder as 100 000 woorde) word met die groter korpus vergelyk, om vas te stel of die verskille van ’n soortgelyke aard is. Indien eiesoortighede onder die verskille voorkom, verdien dit verdere aandag.

In ’n sekere sin word die metodologie hier induktief eerder as deduktief ingespan. In plaas daarvan om ’n aantal hipoteses oor die verskille te formuleer en dan te gaan toets of daar ondersteuning vir die hipoteses is, word die data aan ’n statistiese prosedure onderwerp. Vanuit die resultate word ’n interpretasie ontwikkel oor die aard van die talige verskille tussen die twee versamelings metriese psalms. Hierdie metode maak daarvoor voorsiening dat nie bloot vir bewyse gesoek word om ’n standpunt te bevestig nie, maar dat die data vanself spreek en die moontlike verskille aandui.

Bevindings

Die twee versamelings psalmomdigtings is van verskillende lengtes. Tabel 1 (‘Aantal woorde in die omdigtings’) verskaf die basiese grootte van die twee verskillende omdigtings:

TABEL 1: Aantal woorde in die omdigtings.

Die verskil in die woordtelling tussen die korpora is ongeveer een derde soos verskeie van die kritici van die Cloete-omdigting beweer. Dit is egter ongeldig om uit hierdie syfers die afleiding te maak dat Cloete ongeveer een derde van die grondteks in sy omdigting weggelaat het, aangesien die Totius-omdigting weer op verskeie punte bywerkings bevat waar Totius, dikwels om die versreëls en strofes sinvol te voltooi, van die tegniek van bydigting (Vos 2000:359) of voortborduring (Van Rensburg 2006:1087) gebruik gemaak het. Die syferverskil van een derde berus op ’n vergelyking van die Cloete-omdigting met die Totius-omdigting en nie tussen die Cloete-omdigting en die Hebreeuse grondteks nie.

Lengte van die Totius- en Cloete-omdigting
Die twee versamelings psalmomdigtings is van verskillende lengtes. Tabel 1 (‘Aantal woorde in die omdigtings’) verskaf die basiese grootte van die twee verskillende omdigtings:

Die verskil in die woordtelling tussen die korpora is ongeveer een derde soos verskeie van die kritici van die Cloete-omdigting beweer. Dit is egter ongeldig om uit hierdie syfers die afleiding te maak dat Cloete ongeveer een derde van die grondteks in sy omdigting weggelaat het, aangesien die Totius-omdigting weer op verskeie punte bywerkings bevat waar Totius, dikwels om die versreëls en strofes sinvol te voltooi, van die tegniek van bydigting (Vos 2000:359) of voortborduring (Van Rensburg 2006:1087) gebruik gemaak het. Die syferverskil van een derde berus op ’n vergelyking van die Cloete-omdigting met die Totius-omdigting en nie tussen die Cloete-omdigting en die Hebreeuse grondteks nie.

’n Woordelysvergelyking tussen die twee omdigtings
Alhoewel daar ’n beduidende lengteverskil tussen die twee omdigtings is, is die aantal woorde (ortografiese eenhede) wat statisties beduidend tussen die twee korpora onderskei, betreklik klein. Daar is slegs 17 onderskeidende sleutelwoorde wat statisties beduidend méér in die Totius-omdigting as in die Cloete-omdigting voorkom, terwyl daar ook slegs 18 beduidende sleutelwoorde in die Cloete-omdigting is indien dit met die Totius-omdigting vergelyk word. Om hierdie bevindings in perspektief te plaas, kan dit voorlopig net met die aantal onderskeidende sleutelwoorde van die twee psalmomdigtings vergelyk word, wat onafhanklik met die Taalkommissiekorpus as kontrolekorpus vergelyk is. Die resultate van al hierdie vergelykings word in Tabel 2 (‘Aantal onderskeidende sleutelwoorde per korpusvergelyking’) aangetoon waarna dit in meer besonderhede bespreek word.

TABEL 2: Aantal onderskeidende sleutelwoorde per korpusvergelyking.

Die statistiese vergelyking van sleutelwoorde is een van die tegnieke wat in outeurskapstudies gebruik kan word. Dit het selfs forensiese toepassings. Volgens Kotzé (2007) dui die relatiewe afwesigheid van statisties beduidende verskille in die woordelysvergelykings daarop dat dieselfde outeur verskillende tekste geskryf het, terwyl ’n groter aantal sleutelwoorde op dokumente dui waar verskillende outeurs betrokke was. Onderwerpspesifieke woorde is vir so ’n vergelyking nie van belang nie, omdat verskillende dokumente oor verskillende onderwerpe kan handel. Grammatikale elemente is egter wel van belang. Dit is uit die data in Tabel 2 duidelik dat daar ’n omvangryke stel verskille tussen die twee onderskeie psalmomdigtings en die algemene Standaardtaalkorpus is, terwyl die onderlinge verskille tussen die twee psalmomdigtings baie beperk is.

Voordat op die vergelyking met die Taalkommissiekorpus gekonsentreer word, is dit insiggewend om na die enkele verskille tussen die twee psalmomdigtings te kyk, omdat die sleutel vir die ondersteuning of die verwerping van aansprake oor groot verskille tussen die twee weergawes daarin vervat is.

Die sleutelwoorde wat kenmerkend van die Totius-omdigting is, word in Tabel 3 (‘Klassifikasie van kenmerkende sleutelwoorde van die Totius-omdigting’) aangetoon. ’n Aanduiding van die klassifikasie van die tipe verskil word ook gegee, waarna die tipes afsonderlik bespreek sal word.

TABEL 3: Klassifikasie van kenmerkende sleutelwoorde van die Totius-omdigting.

Argaïese vorms
Totius gebruik bepaalde argaïese vorms méér, waaronder die leksikale item goedertierenheid soos wat die HAT (Odendal & Gouws 2005:320) dit klassifiseer. Ook die vorm eewge vir ewige (soos in hedendaagse Afrikaans), en die Germaanse (Nederlandse) genitiefsvorm Gods kom meer in die Totius-omdigting voor. Die genitief Gods kom 141 keer in die Totius-omdigting voor en 11 keer in die Cloete-omdigting. Dit bevestig ten dele Kloppers (2000:200) se bewering dat die Cloete-omdigting nie heeltemal aan die argaïsmes ontkom het nie. Daar moet egter tog bygevoeg word dat die argaïsmes beduidend minder in die Cloete-omdigting voorkom.

Grammatikale verskille wat hiermee verband hou en deur die loop van die analise in die tekste geïdentifiseer is, sluit in dat die Totius-omdigtings ook drie voorkomste van die datiefvorm Gode bevat, en verskeie persoonlike voornaamwoorde in die datiefposisie wat in die hedendaagse Afrikaans in onbruik is. Hierdie grammatikale verskynsels is heeltemal in die Cloete-omdigting afwesig. Nog ’n historiese res wat soms in die Totius-omdigting aangetref word – dikwels weens die aantal sillabes wat ’n versreël vereis en vermoedelik veral waar hy sterk op sy Nederlandse voorlopers steun – is werkwoorde wat verbuig (die infinitiefvorm). Vergelyk die volgende drie voorbeelde uit die omdigting van Psalm 148:

1a. Want op sy woord is hul geworde (Ps 148:2)

1b. en bruisend ons sy woord kom melde (Ps 148:3)

1c. die glorie van sy volk verhoë (Ps 148:5).

Die statistiese tegniek om woorde met mekaar te vergelyk en wat in hierdie studie gebruik word, is nie geskik om grammatikale kategorieë te vergelyk nie, tensy die individuele items in die data reeds vooraf geklassifiseer is. Nietemin, sommige woorde is wel tipies van bepaalde grammatikale kategorieë en kan daarom indirek op sodanige grammatikale verskille dui. Die kritiek teen die Totius-omdigting, naamlik dat argaïese vorms voorkom, is dus nie net tot leksikale items beperk soos wat deur Van Helden en Coetzee (2006) bestudeer is nie. Dit sluit ook bepaalde grammatikale konstruksies in. Kirsten (2013) toon aan dat Totius se artikels in Die Kerkblad gedurende 1917–1922 heelwat reste van Nederlandse werkwoordkonstruksies bevat. Sy navolging van die Nederlandse omdigting is nie die enigste rede vir sy eiesoortige grammatika nie, aangesien sy eie idiolek ook nog heelwat Nederlandismes bevat het.

Neweskikkende voegwoorde
Die gebruik van neweskikkende voegwoorde dui op ’n interessante sintaktiese verskil tussen die Totius- en die Cloete-omdigting. Die Totius-omdigting toon dat heelwat meer langer gedagtes met behulp van voegwoorde aan mekaar geheg is, terwyl die versreëls in die Cloete-omdigting geneig is om afsonderlike gedagtes te verwoord, sonder voegwoorde vir ’n aaneenskakeling oor die versreëls heen. Van Rensburg (2006:1086) bevind ook dat ’n aantal psalms uit die Cloete-omdigting inhoudelik in enkelreëls verpak blyk te wees, teenoor die Totius-omdigting wat ‘meer gevalle van enjamberende oorlope’ vertoon. Die korpusdata bied dus bevestiging vir die sintaktiese stylverskil waaraan Van Rensburg (2006:1086) ’n interessante interpretasie heg: Totius se styl is singerig en die woorde vloei, terwyl Cloete se styl meer praterig en rasioneel is. Om hierin meer as net verskille in digterlike styl te lees, sou nie met die data klop nie. Buitendien dui psigolinguistiese navorsing daarop dat neweskikking nie ’n merker van sintaktiese kompleksiteit of die diepe integrasie van komplekse idees is nie. Dit kom wel by onderskikking voor (Biber et al. 2011), alhoewel onderskikkende voegwoorde nie beduidende verskille tussen die twee psalmomdigtings toon nie. Daar is dus nie grammatikale gronde om te beweer dat die Totius-omdigting meer grammatikale komplisiteit bevat nie.

Grammatikale vorms
Verdere onderskeidende grammatikale vorms van die Totius-omdigting is die voorkoms van die bepaalde lidwoord die. Dit dui dikwels op ’n hoër frekwensie van selfstandige naamwoorde, die genitief se, ’n enkele voorsetsel in, en die verkorte vorm hul. Laasgenoemde staan in kontras met die langer voornaamwoordelike vorm hulle wat kenmerkend van die Cloete-omdigting is (sien Tabel 4: ‘Klassifikasie van kenmerkende sleutelwoorde van die Cloete-omdigting’). Dit toon slegs ’n verskil in die keuses tussen woorde met dieselfde verwysing. Geen diepere betekenisse behoort aan enige van die verskille op grammatikale vlak geheg te word nie. Dit is opvallend dat die verskille baie min is, veral gemeet aan die bevindings van Kotzé (2007) in ’n forensiese konteks, waar ’n substansieel kleiner korpus (11 briewe) ’n baie groter aantal verskille in funksiewoorde opgelewer het met ’n kleinerige kontrolekorpus. Soortgelyke grade van getrouheid aan selfs grammatikale besonderhede van die bronteks deur sowel Cloete as Totius is ’n geldige afleiding wat uit die korpusanalise gemaak kan word.

TABEL 4: Klassifikasie van kenmerkende sleutelwoorde van die Cloete-omdigting.

Inhoudswoorde
Laastens word die Totius-omdigting wel deur ’n aantal inhoudswoorde gekenmerk wat van die Cloete-omdigting onderskeibaar is. Hierdie woorde – siel, hart, , ewigheid en heil – kan eers werklik geïnterpreteer word indien die ooreenstemmende onderskeidende woorde van die Cloete-omdigting hiernaas gestel word. Beduidende verskille in die inhoudelike sleutelwoorde is egter ’n beter plek om vir teologiese verskille tussen die twee omdigters te gaan soek. Dit is daarom nodig om eers die 18 woorde na te gaan wat vir die Cloete-omdigtings onderskeidend is (vgl. Tabel 4).

Hulpwerkwoordelike vorms
Drie hulpwerkwoordelike vorms staan in die Cloete-omdigting uit, naamlik bly, kom, word. Al drie hierdie woorde is meerduidig en kan op verskillende grammatikale of leksikale funksies dui. In die geval van bly kan byvoorbeeld soos volg onderskei word tussen:

2a. Adjektief: My hart is ‘bly’, en juigend meld my eer (Totius; Ps 16:4).

2b. Selfstandige werkwoord: Nogtans sal ’k altyd by u ‘bly’ (Totius; Ps 73:10).

2c. Koppelwerkwoord: tog ‘bly’ ons onbevrees (Cloete; Ps 46:1).

2d. Hulpwerkwoord: Moet ek ‘bly’ smeek, aanhoudend hoeveel kere (Cloete; Ps 22:5).

Die funksies (2a–2c) word in soortgelyke proporsie gebruik, maar die aspektuele hulpwerkwoordbetekenis is drie maal so algemeen in die Cloete-omdigting as in die Totius-omdigting (2.13 keer per 1000 woorde in die Cloete-omdigting, teenoor 0.67 keer per 1000 woorde in die Totius-omdigting). Dieselfde geld vir die werkwoord kom wat as selfstandige werkwoord of aspektuele werkwoord gebruik kan word. Die selfstandige gebruik vertoon soortgelyke relatiewe frekwensies, terwyl die aspektuele gebruik drie keer meer in die Cloete-omdigting voorkom (2.28 keer per 1000 woorde in die Cloete-omdigting, teenoor 0.65 keer per 1000 woorde in die Totius-omdigting), byvoorbeeld:

3. en smekend ‘kom’ ek voor Hom staan (Cloete; Ps 142:1).

Die werkwoord word is ook meerduidig. Dit kan as koppelwerkwoord gebruik word om ’n toestand aan te dui waarna ’n sintaktiese onderwerp verander, of om die passiewe vorm in die teenwoordige tyd aan te dui. Die koppelwerkwoordgebruik is soortgelyk by die twee omdigters, maar in die gebruik van die passief is dit in die Cloete-omdigting vier keer meer prominent; ongeveer 5.25 keer per 1000 woorde teenoor die Totius-omdigting waar dit slegs 1.22 keer per 1000 woorde voorkom.

Ander grammatikale vorms
Dit is opvallend dat die Cloete-omdigting meer werkwoordelike gebruik toon, terwyl die Totius-omdigting meer met naamwoorde omgaan. Biber (1988) wys daarop dat formeel geskrewe registers ’n hoër konsentrasie werkwoorde bevat. Hieruit kan afgelei word dat die register in die Totius-omdigting formeler is en dat die Cloete-omdigting se register nader aan die omgangstaal is.

Inhoudswoorde
Die inhoudswoorde wat die twee omdigtings onderskei, is verbasend min en dui op individuele aksentverskille. In die Totius-omdigting staan die mens se siel, hart en uit, terwyl die algemener woord mense in die Cloete-omdigting vooropstaan. In wese word op dieselfde referent gedui. Die verskil moet in verband gebring word met Totius se geneigdheid om uitgebreid te dig en fyner besonderhede by die grondteks toe te voeg, terwyl Cloete eerder gekondenseerd werk. Die oorblywende kenmerkende woorde in die Cloete-omdigting is werkwoorde wat op kommunikasie met God dui: vra, prys en dien. Dit sluit enersyds aan by die een hooftema van die psalms, naamlik lofprysing. Andersyds maak dit sin in terme van die groter aantal verbale grammatikale vorms. By die Totius-omdigting staan die naamwoord en ’n adjektief op die voorgrond, wat met God self verbind kan word, naamlik heil en ewigheid. Hierdie verskille is egter so klein dat dit oordrewe sal wees om meer hierin te lees.

Woordelysvergelyking van omdigtings met die Taalkommissiekorpus
Indien ’n groter datastel van verskille verkry word, kan die verskille tussen die Totius- en die Cloete-omdigting in fyner besonderhede bestudeer word. Hierdie datastel word deur middel van ’n parallelle vergelyking tussen die Cloete-omdigting met die Taalkommissiekorpus, en die Totius-omdigting met die Taalkommissiekorpus onttrek. Soos reeds in Tabel 2 aangetoon is, is daar groter verskille tussen die twee omdigtings ten opsigte van die Taalkommissiekorpus. Die meeste sleutelwoorde wat onttrek is, was soortgelyk tussen die twee psalmomdigtings. Die woord verbond kom byvoorbeeld 13 keer voor in die Cloete-omdigting (0.40 per 1000 woorde) en 18 keer in die Totius-omdigting (0.37 per 1000 woorde). Daar is ’n weglaatbare klein verskil tussen die omdigtings, maar albei gebruik hierdie woord beduidend meer as in die algemene standaardtaal. Enige aansprake dat Cloete bewustelik die begrip verbond in sy omdigting wegdig, is in terme van die data dus nie regverdigbaar nie. Omdat Cloete oor die algemeen minder woorde gebruik, word die meeste individuele woorde ook minder gebruik, maar die begrip verbond is per 1000 woorde net so algemeen in albei omdigtings.

Verskille: Selfstandige naamwoorde, voegwoorde en voorsetsels
Die verskille wat uit hierdie vergelyking blyk, is in werklikheid reeds in die voorafgaande bespreking geïdentifiseer. Selfstandige naamwoorde en werkwoorde in die twee omdigtings is reeds bespreek. Die sleutelwoorde in die Totius-omdigting blyk meer selfstandige naamwoorde te wees, terwyl die sleutelwoorde in die Cloete-omdigting meer werkwoorde is. Neweskikkende voegwoorde in die Totius-omdigting word deur die groter sleutelwoordanalise ondersteun, terwyl die groter gebruik van voorsetsels in die Cloete-omdigting duidelik na vore kom.

Argaïsmes
Die gebruik van woorde wat die HAT as verouderd of deftig aandui, kom algemener in die Totius-omdigting voor, terwyl in die Cloete-omdigting geen sodanige woorde met opvallende frekwensie voorkom nie. Van Helden en Coetzee (2006) se analise, sowel as die aanvanklike motivering vir die nuwe omdigting (Vos 2000) word hierdeur ondersteun, teenoor Kloppers (2000) se gevolgtrekking dat die Cloete-omdigting nie daarin slaag om van die argaïese taalvorme te ontsnap nie. Die grammatikale data ondersteun ook hierdie argument: in die Totius-omdigting kom 13 vorms voor wat die attributiewe -e-verbuiging het (bv. onse, blye, stille) wat in hedendaagse Afrikaans óf in onbruik geraak het, óf wat slegs in ’n plegtige konteks gebruik word. ’n Aantal genitiewe (Israels, Jakobs en Sions) kom ook met beduidende hoër frekwensie in die Totius-omdigting voor.

Inhoudelike woorde
Inhoudelik is die gebruik van ’n aantal adjektiewe in die Cloete-omdigting meer dominant as in die Totius-omdigting. Dit dui deurgaans op die eienskappe van God, byvoorbeeld almagtig, magtig, heilig en getrou.

Die merkwaardigheid van hierdie woorde is dat dit parafrases van die verskillende fasette van die Godheid is wat in die ouer omdigting meer direk met drie verskillende Godsname weergegee is, naamlik Here, Here en God. Cloete word daarvoor gekritiseer dat hy, net soos in die 1983-Afrikaanse Bybelvertaling, nie die onderliggende betekenisse vertaal nie. Die resultate van die kwantitatiewe ondersoek dui egter daarop dat Cloete in die gebruik van die adjektiewe wel hierdie betekenisdimensies in sy omdigting insluit.

Gevolgtrekking

In hierdie artikel is ondersoek na die talige verskille tussen die psalmomdigtings van Totius en Cloete ingestel. Die belangrikste verskille wat uit die analise na vore tree, is dat die Totius-omdigting ouer woordvorme en baie naamwoorde gebruik, terwyl die Cloete-omdigting meer van werkwoorde gebruik maak. Die Cloete-omdigting staan ook nader aan die hedendaagse omgangstaal, sowel in woordgebruik as in formaliteitsgraad.

Geen teologiese verskille blyk uit die analise nie. Terwyl die Totius-omdigting die Godsname op ’n direkte wyse gebruik, vertoon die Cloete-omdigting ’n heelwat groter woordeskat van beskrywende adjektiewe wat dieselfde betekenisse oproep.

In die Cloete-omdigting geld vertaalnorme wat ’n minder letterlike vertolking van die grondteks toelaat, om sodoende groter klem op die struktuurelemente te lê. Dit bring hom in botsing met die verwagtings van sy kritici. Voordat die kritici hulle nie grondig ten opsigte van vertaalnorme verantwoord het nie, kan slegs daarvan kennis geneem word dat kritici ’n verwagting van ’n letterlike vertaling van die metriese psalms het. Die vertaalteorie toon egter dat so ’n verwagting onrealisties is wanneer werklike vertalings bestudeer word.

Die Cloete-omdigting bly egter steeds baie nader aan die grondteks as wat kritici te kenne gee, sodat die verskille tussen die twee omdigtings heelwat minder is as wat die kritici beweer. Die meer omvattende, maar ook gebalanseerde analise van die korpuslinguistiek maak dit moontlik om verby die fokus op enkele eksemplare van afwyking tussen die Cloete-omdigting en die grondteks te kyk. Die bundel word dus in sy geheel in konteks beoordeel en hieruit blyk dat die kritiek teen die Cloete-omdigting waarskynlik nie deur die taal van die teks ondersteun word nie.

Erkennings en mededingende belange

Hierdie artikel verteenwoordig die poging van ’n taalkundige om in die besondere konteks van ’n huldigingsbundel vir sy eie vader, iets van waarde oor ’n teologiese debat met ’n sterk onderbou in die taal van die teks toe te voeg. Ek bied dit graag as blyk van erkenning aan vir die voorbeeld van ’n toegewyde akademikus wat ek kon navolg.

Ek erken met dank die bydrae van Haidee Kruger, wat vorige weergawes van die artikel gelees en waardevolle terugvoer gegee het, sodat verskeie aspekte van die argument verder deurdink kon word. Verder erken ek graag die bydraes van Susan Coetzee-Van Rooy vir die bespreking van verskeie fyner punte, Mariet Steinmann vir die kodering van die data en Althéa Kotze vir die keurige redigering van die Afrikaanse teks.

Die finansiële ondersteuning deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS) aan die outeur word erken, maar die menings wat in hierdie artikel uitgespreek word, moet nie aan die NNS toegedig word nie.

Literatuurverwysings

Barthes, R., 1964, Elements of semiology, transl. A. Lavers & C. Smith, Hill & Wang, New York.

Biber, D., 1988, Variation across speech and writing, Cambridge University Press, Cambridge. http://dx.doi.org/10.1017/CBO9780511621024

Biber, D., Conrad, S. & Reppen, R., 1998, Corpus linguistics: Investigating language structure and language use, Cambridge University Press, Cambridge. http://dx.doi.org/10.1017/CBO9780511804489

Biber, D., Gray, B. & Poonpon, K., 2011, ‘Should we use characteristics of conversation to measure grammatical complexity in L2 writing development?’ TESOL Quarterly 45(1), 5–35. http://dx.doi.org/10.5054/tq.2011.244483

Bloomfield, L., 1933, Language, Allen & Unwin, London.

Bybee, J., 2006, ‘From usage to grammar: The mind’s response to repetition’, Language 82, 711–733. http://dx.doi.org/10.1353/lan.2006.0186

Cloete, T.T., 1996, ‘Die nuwe omdigting van die psalms as kreatiewe werk’, In die Skriflig 30(1), 1–20. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v30i1.1561

Cloete, T.T., 1998, ‘Prof WS Prinsloo en die omdigting van die psalms’, Skrif en Kerk 19(3), 500–512.

Cloete, T.T., 2002, ‘Deurlopende motiewe in die psalms’, In die Skriflig 36(1), 137–146. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v36i1.500

De Saussure, F., 1916, Cours de linguistique général, Payot, Paris.

D’Assonville, V.E. jnr., Kayayan, E. & Schulze, L.F., 2004, ‘Die 2001-Psalmomdigting – Christus self is in gedrang’, Die Kerkblad Maart, 34–35.

D’Assonville, V.E. snr., 2002, ‘Die nuwe Psalmberyming 2001: Weglatings en afwykings van die Hebreeuse teks’, Waarheid & Dwaling 8(2), 406.

D’Assonville, V.E. snr., 2003, Die stryd rondom die suiwer Psalmboek: Stellenbosch 1812 – Rustenburg 1859 – Potch 2003, Esra Verslag, 53(1), besigtig 13 September 2013, by http://proregno.com/2012/10/10/die-stryd-rondom-die-suiwer-psalmboek/

Derrida, J., 1967, Of grammatology, transl. Gayatri Chakravorti Spivak, Johns Hopkins University, Baltimore.

Deumert, A., 2004, Language standardization and language change: The dynamics of Cape Dutch, Benjamins, Amsterdam. http://dx.doi.org/10.1075/impact.19

Helberg, J.L., 2006, ‘Die messiaanse aard van psalms: Hoe dit ’n Nuwe-Testamentiese lees, vertaling en omdigting van die psalms raak,’ In die Skriflig 40(4), 575–596.

Jakobson, R., 1960, ‘Linguistics and poetics’, in T. Sebeok (ed.), Style in language, pp. 350–377, MIT, Cambridge.

Jankowitz, H.J. & Kruger, D., 2010, ‘Die stand van psalmsang in die NG Kerk’, Verbum et Ecclesia 31(1), besigtig 16 September 2013, by http://www.ve.org.za/index.php/VE/article/view/400

Kahneman, D., 2011, Thinking, fast and slow, Farrar, Straus & Giroux, New York.

Kirsten, J., 2013, ‘Totius en die standaardisering van vroeg-moderne Afrikaanse werkwoorde’, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 53(1), 60–75.

Kloppers, E., 2000, ‘’n Nuwe psalmomdigting in Afrikaans: Uitgangspunte, beleid, probleme’, Hervormde Teologiese Studies 56(1), 192–204. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v56i1.1707

Kloppers, E., 2002a, ‘’n Perspektief op die nuwe psalmomdigting – ’n Reaksie op ’n reaksie’, Hervormde Teologiese Studies 58(1), 235–249. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v58i1.549

Kloppers, E., 2002b, ‘Die God is onse God ... Hymns, hymnals and the national identity of the Afrikaner’, Religion and Theology 9(3 & 4), 183–197. http://dx.doi.org/10.1163/157430102X00106

Kloppers, E., 2012, ‘People of God? Singing the psalms as a reflection of identity – Perspectives from South Africa and Scotland’, Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif 53(3/4), 160–169.

Kotzé, E.F., 2007, ‘Die vangnet van die woord: Forensies-linguistiese getuienis in ’n lastersaak’, Southern African Linguistics and Applied Language Studies 25(3), 385–399. http://dx.doi.org/10.2989/16073610709486470

Kroeze, J.H., Van den Heever, C.M. & Van Rooy, B., 2011, ‘Just how literal is the King James version?’, Journal of North-West Semitic Languages 37(1), 27–55.

McEnery, T. & Wilson, A., 2001, Corpus Linguistics, 2nd edn., Edinburgh University Press, Edinburgh.

Meijer, J.G., 2002, ‘Mag gereformeerde kerke die nuwe psalmberyming aanvaar?’, Waarheid en Dwaling 8(2), 7–10.

Nida, E., 1964, Principles of correspondence, in L. Venuti (ed.), The translation studies reader, 3rd ed., pp. 141–155, Routledge, London.

Odendal, F.F. & Gouws, R.H., 2005, Handwoordeboek van die Afrikaanse taal, 5e uitg., Pearson, Kaapstad.

Schulze, L.F., 2002, ‘Totius die vertaler (slot)’, Die Kerkblad, 16 Januarie 2002, bl. 22–24.

Skhlovsky, V., [1917] 1965, ‘Art is technique’, in L.T. Lemon & M.J.Reis (eds. & transl.), Russian formalist criticism: Four essays, pp. 3–24, University of Nebraska Press, Lincoln.

Tomasello, M., 2008, Origins of human communication, MIT, Cambridge.

Toury, G., 1995, ‘The nature and role of norms in translation’, in L. Venuti (ed.), The translation studies reader, 3rd ed., pp. 168–181, Routledge, London.

Van der Dussen, P.E., 2004, ‘28 Oktober 2003: Dag van beslissing vir die GKSA’, Die Kerkpad 8(1), besigtig 16 Januarie 2014, by http://www.kerkpad.co.za/argief/januarie2004/art4.html

Van der Merwe, H.J.J.M., 1963, ‘Opkoms en ontwikkeling van die taalwetenskap’, in Van der Merwe, H.J. J.M. (red.), Inleiding tot die taalkunde, bl. 23–44, Van Schaik, Pretoria.

Van Deventer, H.J.M., 1999, ‘’n Verband tussen die ontwikkelinge in filosofiese hermeneutiek en ontwikkelinge in benaderings tot Bybelinterpretasie’, Koers 64(4), 393–413. http://dx.doi.org/10.4102/koers.v64i4.510

Van Helden, S. & Coetzee, A.E., 2006, ‘Die sosio-historiese en sosio-linguistiese aspekte van leksikale veranderings van die 1936- en 2001-psalmomdigtings’, In die Skriflig 40(2), 199–220.

Van Rensburg, F.I.J., 2005, ‘Psalmberyming as poësieskepping’, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 45(1), 105–116.

Van Rensburg, F.I.J., 2006, ‘Psalmberyming in Afrikaans’, Verbum et Ecclesia 27(3), 1077–1094. http://dx.doi.org/10.4102/ve.v27i3.205

Van Rooy, B., 2014, ‘Die Afrikaanse taalkunde van toeka tot nou’, in W.A.M. Carstens & N. Bosman (reds.), Kontemporêre Afrikaanse taalkunde, bl. 1–26, Van Schaik, Pretoria.

Van Rooy, H.F., 2004, ‘Die nuwe psalmomdigting: Die Messias weggelaat?’ Hervormde Teologiese Studies 60(3), 755–767. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v60i3.600

Van Rooy, H.F., 2005, ‘Messiasverwagting en prediking uit die Ou Testament’, In die Skriflig 39(3), 615–630. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v39i3.405

Van Rooy, H.F., 2009. ‘Psalm 137 en die beryming van wraakpsalms’, In die Skriflig 43(3), 585–600.

Van Rooy, J.H. 2008. ‘Die Psalmboek 2003 as kommunikasiemiddel in die liturgie van die erediens in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika: ’n Himnologiese studie’, PhD-proefskrif, Fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit.

Venuti, L., 2008, The translator’s invisibility: A history of translation, 2nd ed., Routledge, London.

Vos, C.J.A., 2000, ‘’n Perspektief op die nuwe Psalmomdigting’, Hervormde Teologies Studies 56(2 & 3), 357–376.

Vos, C.J.A. & Olivier, G.C., 2002, ‘Die psalms in die liturgie met verwysing na Psalm 8 as liedteks’, Hervormde Teologiese Studies 58(4), 1431–1446. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v58i4.616

Voetnotas

1. Cloete (1996:6–7) gee ’n uiteensetting van die verskil tussen die benamings berym en omdig. Berym dui volgens hom slegs op een aspek van die bewerking van ’n psalmteks na ’n metriese vers wat met ’n bepaalde melodie singbaar is. Die bewerking van die psalms vereis egter heelwat meer; onder andere reëlmatige verslengtes met vaste metrum asook volledig reëlmatige strofelengtes, met die implikasie dat elke strofe tematies ’n samehangende eenheid moet vorm om sinvol gesing te kan word. In hierdie artikel word die term omdigting dus voortaan gebruik.

2.’n Saak wat buite die bestek van hierdie artikel val, maar wat by Kloppers (2002b; 2012) ter sprake kom, is om die ideologiese dryfvere vir die skerp afwysing van die Cloete-beryming te ondersoek. Die nasionalistiese vasklou aan kultuurartefakte vorm deel van ’n groter beweging van taalnasionalisme waar die mite van ’n volmaakte toestand van ’n taal oor tyd ontwikkel. Enige verandering aan die taal na die mitiese punt van volmaaktheid word as agteruitgang in die taal beskou. Daarmee saam word sterk vasgehou aan die simbole en tekste wat met die punt van volwassewording van die taal geassosieer word (sien Van Helden & Coetzee 2006 vir ’n bespreking).

3.Nida (1964:144) identifiseer die glosvertaling as die letterlikste tipe formeel- ekwivalente vertaling. Hiervolgens probeer die vertaler om die vorm en inhoud van die oorspronklike teks so letterlik en betekenisvol as moontlik weer te gee. Tipies is sodanige teks aan spesialiste gerig en is dit nie vir die gewone lesers toeganklik nie.

4. ’n Volledige uiteensetting van al die besonderhede van die teoretiese ontwikkeling in die taalkunde val buite die bestek van hierdie artikel. Vir ’n ouer oorsig, met groot klem op die premodernistiese en modernistiese fases, kan Van der Merwe (1963) geraadpleeg word, terwyl Van Rooy (2014) ’n resenter oorsig oor die twintigste en een-en-twintigste eeu bied. Vername landmerkpublikasies word daarin geïdentifiseer.



Crossref Citations

No related citations found.