<?xml version="1.0" encoding="UTF-8"?>
<!DOCTYPE article PUBLIC "-//NLM//DTD JATS (Z39.96) Journal Publishing DTD v1.1d1 20130915//EN" "JATS-journalpublishing1.dtd">
<article xmlns:xlink="http://www.w3.org/1999/xlink" xmlns:mml="http://www.w3.org/1998/Math/MathML" article-type="other" xml:lang="fr">
	<front>
		<journal-meta>
			<journal-id journal-id-type="publisher-id">IDS</journal-id>
			<journal-title-group>
				<journal-title>IN DIE SKRIFLIG IN LUCE VERBI</journal-title>
			</journal-title-group>
			<issn pub-type="ppub">1018-6441</issn>
			<issn pub-type="epub">2305-0853</issn>
			<publisher>
				<publisher-name>AOSIS OpenJournals</publisher-name>
			</publisher>
		</journal-meta>
 <article-meta>
 <article-id pub-id-type="publisher-id">IDS-48-1862</article-id>
 <article-id pub-id-type="doi">10.4102/ids.v48i1.1862</article-id>
 <article-categories>
 <subj-group subj-group-type="heading">
 <subject>Book Review</subject>
</subj-group>
</article-categories>
 <title-group>
 <article-title>Het die tong mag oor dood en lewe?</article-title>
</title-group>
 <contrib-group>
 <contrib contrib-type="author" corresp="yes">
 <name>
 <surname>Coetsee</surname>
 <given-names>Albert J.</given-names>
</name>
 <xref ref-type="aff" rid="AF0001">1</xref>
 <xref ref-type="corresp" rid="cor1">&#x002A;</xref>
</contrib>
</contrib-group>
 <aff id="AF0001">
 <label>1</label>Gereformeerde Kerk Uitschot, Vermaas, South Africa</aff>
 <author-notes>
 <corresp id="cor1"><label>&#x002A;</label><bold>Email:</bold> <email xlink:href="albertcoetsee@gmail.com">albertcoetsee@gmail.com</email>, <bold>Postal address:</bold> PO Box 24, Vermaas 2727, South Africa
</corresp>
 <fn>
					<p><bold>Book Title:</bold> Spreek lewe! Ontsluit die krag van die Woord in jou lewe</p>
			<p><bold>Author:</bold> John Osteen</p>
			<p><bold>ISBN:</bold> 9978-1-4316-0618-4</p>
			<p><bold>Publisher:</bold> Vereeniging, Christelike Uitgewersmaatskappy, 2013, R129.95&#x002A;</p>
			<p>&#x002A;Book price at time of review</p>
					<p><bold>How to cite this book review:</bold> Coetsee, A.J., 2014, &#x2018;Het die tong mag oor dood en lewe?&#x2019;, <italic>In die Skriflig</italic> 48(1), Art. #1862, 2 pages. <ext-link ext-link-type="uri" xlink:href="http://dx.doi.org/10.4102/ids.v48i1.1862">http://dx.doi.org/10.4102/ids.v48i1.1862</ext-link></p>
				</fn>
</author-notes>
 <pub-date pub-type="epub">
 <day>04</day>
 <month>12</month>
 <year>2014</year>
</pub-date>
 <pub-date pub-type="collection">
 <year>2014</year>
</pub-date>
 <volume>48</volume>
			<issue>1</issue>
			<fpage>1</fpage>
			<lpage>2</lpage>
 <permissions>
				<copyright-statement>&#x00A9; 2014. The Authors</copyright-statement>
				<copyright-year>2014</copyright-year>
				<license license-type="open-access" xlink:href="http://creativecommons.org/licenses/by/2.0/">
					<license-p>AOSIS OpenJournals. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.</license-p>
				</license>
			</permissions>
</article-meta>
</front>
 <body>
 
 <p>In sy boek, <italic>Spreek lewe!</italic>, die Afrikaanse vertaling van <italic>Your words hold a miracle</italic>, fokus John Osteen op die krag van menslike woorde. Sy uitgangspunt is Jesus se stelling in Markus 11:23:<disp-quote>
 <p>Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg s&#x00EA;: &#x2018;Lig jou op en val in die see,&#x2019; en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy s&#x00EA;, gebeur, vir hom sal dit gebeur.</p>
</disp-quote>
		</p>
 <p>Op grond hiervan argumenteer Osteen dat die mens &#x0027;n posisie in sy verhouding met God kan bereik waar dit wat hy s&#x00EA;, wel sal gebeur. Die mens bereik hierdie posisie wanneer jy die Woord van God ken en nie twyfel nie.</p>
 <p>Osteen roep gelowiges gevolglik dwarsdeur sy boek op om oplettend te wees vir dit wat hy &#x0027;n <italic>geestelike wet</italic> noem: &#x0027;n Mens skep jou eie w&#x00EA;reld rondom jou en laat gebeur wat jy voortdurend s&#x00EA;, of dit nou positief of negatief is. Hy haal Spreuke 18:21 aan en beklemtoon dat dit nie <italic>die</italic> tong is wat mag oor dood en lewe het nie, maar <italic>jou</italic> tong. Die mens moet daarom baie versigtig wees met wat hy s&#x00EA;, want hy kan sy woorde tot &#x0027;n se&#x00EB;n, of tot &#x0027;n vervloeking in sy lewe gebruik. &#x2018;Jou woorde is belangrik. Jy kan hel op aarde of hemel op aarde skep met jou mond. Jy kan jou w&#x00EA;reld verander deur jou woorde te verander.&#x2019; (Osteen 2013:56.) Osteen s&#x00EA; by herhaling dat ons vandag is wat ons in die verlede voordurend met ons woorde oor onsself ges&#x00EA; het. Die mens kan, net soos God, dinge met sy woorde skep.</p>
 <p>As iemand sy w&#x00EA;reld wil verander, moet hy begin deur sy woorde te verander na woorde wat direk uit God se Woord kom. Volgens Osteen (2013:21) moet &#x0027;n gelowige di&#x00E9; plekke in die Bybel vind wat oor hom geskryf is &#x2013; gedeeltes wat met sy spesifieke nood verband hou &#x2013; en dan vrymoedig verklaar: &#x2018;Hierdie waarhede behoort aan my en ek sal dit vir my toe-eien.&#x2019; &#x0027;n Gelowige moet hierdie woorde nie net dink nie; hy moet dit egter ook nie bid nie; hy moet dit juis hardop verklaar, want daar is krag in sy woorde. Iemand wat getrou voortgaan om elke dag God se Woord te bely ten spyte van wat sy sintuie vir hom s&#x00EA;, sal nie net self verander nie, maar sy omstandighede sal ook verander. Die geheim, soos Osteen dit noem, is om aan te hou om God se Woord te bely totdat die visuele beeld wat jy van jouself het, verander om met die waarheid van God se Woord in pas te wees. Deur dit te doen, kan &#x0027;n gelowige sy diepste hartsbegeertes en hoogste aspirasies laat waar word.</p>
 <p>
 <italic>Spreek lewe!</italic> is &#x0027;n popul&#x00EA;re boek wat vir die algemene gelowige op straat bedoel is. Osteen het &#x0027;n eenvoudige skryfstyl wat maklik en lekker lees. Dwarsdeur sy boek is dit duidelik dat hy &#x0027;n baie ho&#x00EB; agting vir die Skrif het. Hy beklemtoon tereg dat gelowiges al hoe meer moet besef wie hulle in Christus is, sodat hulle vanuit hierdie besef kan lewe en &#x0027;n positiewe uitkyk op die lewe kan h&#x00EA;.</p>
 <p>Ongelukkig is dit egter net so ver wat die positiewe kommentaar op Osteen se boek kan gaan. My prim&#x00EA;re kritiek op sy boek is die volgende:<list list-type="order">
 <list-item>
 <p>Osteen laat die klem in Markus 11:23 verkeerdelik op die mens se <italic>woorde</italic> val, terwyl die konteks die klem baie duidelik op die mens se <italic>geloof</italic> laat val. Nog meer: Osteen wend geen poging aan om <italic>God se wil</italic> in die lig van Jesus se uitspraak in Markus 11:23 te bespreek nie. Trouens, hy maak nie &#x00E9;&#x00E9;n keer in sy boek van God se wil melding nie.</p>
</list-item>
 <list-item>
 <p>Die aanname dat die beginsel van &#x2018;spreek lewe&#x2019; &#x0027;n geestelike wet is, het tot gevolg dat God nie anders kan as om te doen wat &#x0027;n mens by herhaling s&#x00EA; nie. God is fatalisties daaraan gebonde. Die Skrif maak dit egter duidelik dat God almagtig en vrymagtig is. In dieselfde asem skep Osteen die idee dat dit die mens se woorde is wat genesing, voorspoed en se&#x00EB;n bring en nie God nie.</p>
</list-item>
 <list-item>
 <p>Osteen se belofte dat die beginsel van &#x2018;spreek lewe&#x2019; &#x0027;n onveranderbare geestelike wet is, kan valse vertroue en geweldige trauma by mense veroorsaak. God belowe nie om alle dinge in ons lewe waarvoor ons vra, te verander nie (vgl. 2 Kor 12:8&#x2013;9). Dit sou beteken dat wanneer &#x0027;n gelowige by herhaling iets positiefs oor homself s&#x00EA; en dit gebeur nie, hy nie genoeg geglo het nie. Outomaties sal dit veroorsaak dat so &#x0027;n gelowige in sy geloof begin wankel.</p>
</list-item>
 <list-item>
 <p>Dwarsdeur <italic>Spreek lewe!</italic> val die klem eensydig op die mens. Die hele boek is daarop gerig om die mens te leer hoe hy sy woorde tot sy eie voordeel kan gebruik. Gevolglik is die boek met verwysings na sukses en finansi&#x00EB;le voorspoed deurdrenk. Het Christus en die apostels dan finansi&#x00EB;le voorspoed geniet? Daar kan nie tot &#x0027;n ander konklusie gekom word as dat Osteen se voorskrifte op Voorspoedsteologie neerkom nie. Boonop is daar geen verwysing na hoe die verandering in &#x0027;n mens se lewe ten diepste tot eer van God kan wees nie. Trouens, daar is min oor die eer van God in die boek.</p>
</list-item>
 <list-item>
 <p>Dwarsdeur <italic>Spreek lewe!</italic> word swaarkry as iets beskou wat die mens oor homself gebring het deur iets wat hy ges&#x00EA; het. N&#x00EA;rens is daar enige oorweging dat swaarkry <italic>&#x0027;n beproewing van God af</italic> kan wees wat die mens in sy geloof vorm en laat groei nie (vgl. Jak 1:2&#x2013;4).</p>
</list-item>
 <list-item>
 <p>Osteen se argument dat swaarkry iets is wat die mens oor homself gebring het deur dit wat hy ges&#x00EA; het, het tot gevolg dat die mens nou in vrees vir sy eie woorde lewe. Die beginsel van &#x2018;spreek lewe&#x2019; kom op bygeloof neer wat op vrees teer en nie met die liefde van Christus klop nie &#x2013; liefde wat ons van alle vrees vrymaak (1 Joh 4:17&#x2013;18).</p>
</list-item>
 <list-item>
 <p>Terwyl dit absoluut waar is dat dit wat Christus vir gelowiges bewerkstellig het (bv. vergewing van sondes, die geregtigheid voor God, die ewige lewe), aan alle gelowiges geskenk word, is dit nie waar dat alle beloftes in die Skrif aan alle gelowiges gerig word nie (bv. Abram se belofte van voorspoed in Gen 12:1&#x2013;3 en Hanna se belofte van &#x0027;n kind in 1 Sam 1:15 e.v.).</p>
</list-item>
</list>
		</p>
 <p>Bo en behalwe bogenoemde sake, haal Osteen op verskeie plekke in sy boek sekere Skrifgedeeltes buite konteks aan (bv. Fil 4:19; 1 Pet 2:24); sy herhalende opdrag om nie te bid of te dink nie, maar om te spreek, stem nie met verskeie Skrifuitsprake ooreen nie; die groot hoeveelhede herhaling in sy boek skep ook &#x0027;n gevoel van breinspoeling.</p>
 <p>In die lig van bogenoemde kan ek nie <italic>Spreek lewe!</italic> met vrymoedigheid aanbeveel nie &#x2013; veral nie vir hulle wat nog jonk in die geloof is nie. Alhoewel Osteen se woorde met die eerste oogopslag baie positief en aanloklik klink, laat verdere nadenke in God se Woord hom te veel soos &#x0027;n leermeester klink wat net s&#x00EA; wat mense graag wil hoor (vgl. 2 Tim 4:3).</p>
 
</body>
 
</article>