Article Information

Author:
Jakobus M. (Koos) Vorster1

Affiliation:
1Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom campus, South Africa

Correspondence to:
Koos Vorster

Email:
editor@inluceverbi.org.za

Postal address:
03 Goedehoop Street, Potchefstroom 2531, South Africa

Dates:
Received: 26 Mar. 2015
Accepted: 18 June 2015
Published: 05 Aug. 2015

How to cite this article:
Vorster, J.M., 2015, ‘Die Christelike huwelik – ’n sosiale konstruk of ’n verbondsgegewe?’, In die Skriflig 49(2), Art. #1957, 10 pages. http://dx.doi.org/ 10.4102/ids.v49i2.1957

Copyright Notice:
© 2015. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Die Christelike huwelik – ’n sosiale konstruk of ’n verbondsgegewe?
In This Original Research...
Open Access
Abstrak
Abstract
Inleiding
   • Die huwelik: n sosiale konstruk?
   • Van Eck se bydrae
Die bydrae van Dreyer en Van Aarde
Die bydrae van Yolanda Dreyer
Die huwelik: ’n verbondsgegewe?
Die skeppingsaard van die huwelik
Die herskeppingsaard van die huwelik
Die pneumatologiese aard van die huwelik
Gevolgtrekking
Erkenning
   • Mededingende belange
Literatuurverwysings
Footnotes
Abstrak

In die huweliksetiek van die postmoderne era pleit verskeie christelike teoloë vir ’n eietydse inkleding van die huwelikskonsep. As beginpunt word die standpunt oorweeg dat daar nie sprake van ’n sogenaamde ‘bybelse huwelik’ kan wees nie omdat die huwelik as instelling ’n sosiale konstruk is wat kultureel en tradisioneel bepaal word. So kan alternatiewe saamblyverhoudings deur christene in die huidige postmoderne era as geldig aanvaar word. Na die bespreking van sommige van die outeurs wat hierdie mening huldig se standpunte, pleit hierdie artikel vir die siening dat die huwelik verbondsgegewe en ’n instelling van God is. As sodanig is dit ’n instelling waar man, vrou en God verbind word in ’n interdimensionele spirituele verhouding wat uitstyg bo die patriargalisme en androsentrisme wat tradisioneel aan ’n christelike huwelik toegeskryf is. Deur te let op die skeppingsaard van die huwelik (imago dei en verbond) en die christologiese en pneumatologiese perspektief op hierdie instelling, word betoog dat dit nie maar net ’n sosiale konstruk is nie, maar dat dit ’n goddelike instelling is wat deur hoër beginsels, ontgin uit bybelse openbaring, ingerig behoort te word. As kerke die gedagte van die huwelik as ’n verbondsgegewe bedien, kan hulle bydra tot die vestiging van huwelike wat deur menswaardigheid, liefde, getrouheid en die ontwikkeling van die geestesgawes van man sowel as vrou gekenmerk word.

Abstract

The Christian marriage – a social construct or a covenantal relation. In the postmodern ethics of marriage several christian theologians plead for a contemporary definition of the concept of marriage. They choose as a point of departure that the concept biblical marriage cannot be accepted as valid, because marriage is a social construct determined only by tradition and culture. Alternative forms of cohabitation should also be accepted by christians as valid in the contemporary postmodern environment. Following a discussion of the works of some of these authors who hold this opinion, this article attempts to make a case for the view that marriage should regarded as an institution of God and a covenantal reality, where husband, wife and God are bonded in an interdimensional relationship that overarches the patriarchalism and androcentrism that is usually ascribed to a christian marriage. By paying attention to the creational character of marriage (imago dei and covenant) and the christological and pneumatological perspectives on this institution, the article argues that marriage cannot be seen merely as a social construct, but that it is a divine institution that should be constructed according to the higher moral principles derived from the unfolding biblical revelation. If churches minister the idea of marriage as a covenantal relation, they can contribute to the establishment of christian marriages qualified by human dignity, love, faithfulness and the development of the spiritual gifts of both husband and wife.

Inleiding

In ’n belangwekkende artikel het Browning (2001a:243) aangedui dat die huweliks- en gesinspatrone in die Westerse samelewings groot veranderings ondergaan het. Onder hierdie veranderings kan gewys word op die groeiende egskeidingsyfer, buite-huwelikse geboortes, afwesige vaders as gevolg van globalisering, gewettigde huwelike tussen persone van dieselfde geslag en saamblyverhoudings sonder ’n huwelikskontrak. Hy dui aan dat saamblyverhoudings in die Verenigde State sedert 1970 agtvoudig toegeneem het en dat dit billik is om tot die gevolgtrekking te kom dat dit ook die geval is in ander Westerse samelewings. In ’n ander publikasie skryf hy hierdie verskynsel toe aan globalisering en modernisering (Browning 2001b:4). Hauerwas (1981:155) het ook in ’n vroeëre werk op die ontwikkelende verskynsel gewys en toe al die vraag gevra of die verskynsel op immorele ontwikkeling dui en of dit gesien moet word as die produk van normale kultuurveranderings in ’n snel veranderende samelewing.

Gill (1997:81) en Browning (2001a:247) is albei van mening dat die veranderings negatief bejeën moet word wanneer dit vanuit ’n christelik-etiese hoek beoordeel word. Gill sê dat christene bekommerd behoort te wees oor die verval van twee-ouer gesinne, die toename in tienerswangerskappe, die verspreiding van MIV en VIGS, gay aktivisme en die wydverspreide verwarring oor die vraag na die sosiale en wettige grense van pornografie. Browning (2001a:247) beweer dat sosioloë, psigoloë en ekonome vandag meer gewillig is om te sê dat die veranderende patrone rakende huweliks- en gesinsverhoudinge bydra tot die agteruitgang van kinders se welsyn en die ekonomiese verarming van enkelmoeders. Hy wys egter ook daarop dat navorsers uit bogenoemde dissiplines verdeeld is oor die vraag of die veranderingsproses omgekeer kan word en of dit nie aanvaar moet word as nuwe patrone wat bloot reg bestuur moet word nie.

Hierdie vraag het navorsers in Suid-Afrika oor die afgelope dekade ook geïnteresseer. T.F.J. Dreyer het in 2008 ’n verkennende artikel gepubliseer waarin hy die vraag vra of christene te midde van hierdie veranderinge met ’n morele krisis te doen het. In sy artikel wil hy ’n bewustheid skep dat ons tradisionele antwoorde op vrae rakende seks en die huwelik binne die huidige konteks nie meer daarin slaag om die seksuele moraal waaraan ons gewoond was in stand te hou nie. Daar moet, volgens hom, weer krities na die geykte antwoorde gekyk word, juis te meer omdat die tradisionele evangeliese waardes die neerslag kan wees van teologiese refleksies wat deur historiese kontekste beïnvloed is (Dreyer 2008a:486). Hiervoor beroep hy hom, onder andere, op die kultuurhistoriese gegewens wat deur Van Eck (2007a; 2007b) ten opsigte van die huwelik in die eerste-eeuse Meditereense wêreld verskaf word. Na ’n kort bespreking van Bybelgedeeltes wat tradisioneel as fundering van die christelike huweliksetiek beskou is, sê hy dat dit moeilik is om ons hedendaagse verstaan van die huwelik reglynig met bybelse gegewens te verbind (Dreyer 2008a:490).

Dreyer (2008a) kom tot die gevolgtrekking dat die huwelik as instelling, soos in die tradisionele christelike huweliksbeskouing aanvaar is, nie in die eerste plek ’n instelling van God is nie, maar die neerslag van die kerk se teologiese refleksie oor die eeue heen. Huweliksvorme het onder die invloed van die kontekste en tradisies van die verskillende tye gewissel. Tog maan hy dat die saak van verhouding tussen man en vrou en die seksuele intimiteit wat daarmee gepaard gaan, nie slegs ’n kultureel-sosiale aangeleentheid is nie, maar dat die Bybel en ‘ons’ teologiese tradisie aan ons grondliggende perspektiewe bied om aan hierdie verhoudings ’n sinvolle inhoud te gee en dit te orden. Daarom pleit hy vir die uitbou en bevordering van die sakralisering van die huwelik teenoor die sekularisering daarvan.

Yolanda Dreyer se artikels stel dit meer prontuit. Sy is van mening dat die instelling van die huwelik bloot ’n sosiale konstruk is wat kultureel en tradisioneel bepaal is en van tyd tot tyd ander vorme kan aanneem (Dreyer 2008b:499, 503, 522). Sy kom tot hierdie gevolgtrekking in die lig van ‘postmoderne filosofie en teologie’. Daar sal later in die artikel weer na haar standpunte verwys word. Wat vandag dus ten opsigte van hierdie problematiek aan die orde kom, is die vraag of die huwelik beskou kan word as ’n instelling van God waarin die perspektiewe van die Skrif as norm gestel word, en of dit bloot ’n sosiale konstruk is wat van tyd tot tyd verander en waarin ’n heersende tydsgewrig as norm gestel word. Anders gestel: Is die huwelik ’n sosiale konstruk of ’n verbondsgegewe?

Dreyer (2008a) en Yolanda Dreyer (2008b) se artikels is aanduidings van ’n insiggewende gesprek wat in verskeie uitgawes van HTS Teologiese Studies sedert 2007 oor die huwelik verskyn het. In hierdie verband kan gewys word op Van Eck (2007a; 2007b; 2007c); Dreyer en Van Aarde (2007a; 2007b); Dreyer (2008b; 2011) en Botha en Dreyer (2007; 2013a; 2013b) se kultuurhistoriese studies. Hierdie artikel fokus op bogenoemde vraag in die lig van die gesprek wat in die verskillende uitgawes van HTS Teologiese Studies gevoer word. Die sentraal-teoretiese argument is dat die christelike huwelik in die verbondsverhouding wat God met die mens oprig, gefundeer is en dat God se besondere openbaring in die skepping, herskepping en Pinkster as norm vir die huwelike van christene gestel kan word. Die huwelik tussen christene behoort sodanig as ’n huwelik ‘in die Here’ beskou en opgebou te word. Om die sentraal-teoretiese argument te ontvou, word eerstens aandag gegee aan die stelling dat die huwelik ’n sosiale konstruk is en daarna word die siening dat die huwelik ’n verbondsgegewe is aan die orde gestel.

Die huwelik: n sosiale konstruk?

Met die uitdrukking sosiale konstruk word bedoel dat die huwelik nie as ’n bybelse instelling gesien kan word nie, maar as ’n instelling wat kultuur- en tradisiegebonde is en deur tyd, plek en omstandighede ingeklee word. Die beskouing van die huwelik verskil dus van tyd, plek en kultuur. Die volgende uiteensetting verduidelik Van Eck (2007a; 2007b; 2007c); Dreyer en Van Aarde (2007a; 2007b); Dreyer (2008b; 2011) en Botha en Dreyer (2007; 2013a; 2013b) se standpunte. Hierdie insiggewende artikels gee die agtergrond en die hermeneutiek wat tot die siening lei dat die huwelik beskou moet word as ’n sosiale konstruk wat tradisiegebonde is en wat van situasie tot situasie, en van samelewing tot samelewing kan verskil.

Van Eck se bydrae

Van Eck (2007a; 2007b; 2007c) het ’n besondere studie gedoen oor die huwelik in die eerste-eeuse Mediterreense wêreld en die resultate in drie insiggewende artikels gepubliseer. In hierdie verband kan ook gelet word op die uitgebreide bydrae van De Vaux (1988:19–64). Van Eck gaan uit van ’n sosio-historiese kritiese hermeneutiese standpunt1 en betoog vanuit hierdie perspektief in sy artikels dat daar nie van iets soos ’n bybelse huwelik gepraat kan word nie en dat ’n eenduidige beskouing oor die huwelik nie uit die Bybel afleibaar is nie (Van Eck 2007a:99). Daarom pleit hy vir ’n nuwe debat oor die huwelik in die christelike etiek en kerk waarin die postmoderne beskouing oor die huwelik ook onder bespreking behoort te kom. Teenoor die bestaan van ’n ‘bybelse huweliks’-tese beskryf hy die postmoderne huwelik as een wat deur kameraadskap, die deel van ervarings en wedersydse vertroue gekenmerk word. Twee individue word ‘een’ en albei huweliksgenote se gawes word tot voordeel van mekaar aangewend sonder dat die individualiteit van een van die huweliksgenote opgehef word. Aanpassing in die huwelik funksioneer dus as aanvulling (Van Eck 2007a:83). Hy voer aan dat die kerk, volgens hom, weer ernstig hermeneuties behoort na te dink oor die ‘bybelse’ begronding van die huwelik. Dit is so omdat daar verskillende leefwêrelde in die ou Oosters-Meditereense wêreld bestaan het met verskeie sienings oor en praktyke van die huwelik. Van Eck (2007a:83) vra die vraag, naamlik watter een dan die ‘bybelse huwelik’ is.

Van Eck (2007a:83) betoog dat die huwelik van die eerste-eeuse Mediterreense wêreld verstaan moet word teen die agtergrond van die oostelike gedeelte van die Mediterreense wêreld se kultuurbedding. Die huwelik in daardie tyd het die volgende belangrike eienskappe gehad:

  • In die eerste plek was die huwelik in die sosiale instelling van die familiale ingebed. Die huwelik was ’n onderdeel van die familiale en dit het beteken dat die vrou losgemaak word van die eer van haar vader en die bloedfamilie waarin sy gebore is en dat sy opnuut ingebed word in die eer van haar man en sy uitgebreide familie.
  • Tweedens was die vrou sosiologies, ekonomies en psigologies ingebed in die paternale familie – dus ondergeskik aan die man as die familiehoof.

Derdens is persoonlikheid diadies verstaan. Daarmee bedoel Van Eck (2007a:90) dat die vrou haar eie individualiteit moes opoffer ten gunste van die groep. Sy is deel van ’n manlik-gedomineerde groep waardeur haar identiteit bepaal is. Sonder die groep was sy waardeloos. Met verwysing na Malina en Neyrey (1991:61) wys hy op ’n sprekende voorbeeld hiervan: In daardie wêreld is na individue verwys as die ‘seun van’ of die ‘broer van’. Na vroue is verwys as die ‘dogter van’ of die ‘vrou van’ – ’n duidelike aanduiding dat die vrou altyd ingebed was in die eer van een of ander manlike groepshoof.

Derdens wys Van Eck (2007a:93) daarop dat die huwelik tydens die patriargale periode gedryf is deur die endogamiese ideaal waar mans met vroue uit uitgebreide families trou. In die Israelitiese periode weer, het getalle vir die volk Israel belangrik geword. Dogters het deel van die vader se uitgebreide familie gebly. Seuns kon egter met vreemde vroue trou, maar moes dan saam met hulle vroue deel van die vader se huishouding word. Die huwelikstrategie was agonisties, want dit het gegaan om die verkryging van mag deur getallevermeerdering. Die huwelik was ’n magspel. Die pater familias het sy dogters en skoondogters aangewend vir die vermeerdering van eer en politieke mag. In hierdie periode is die poligame huwelik ook as aanvaarbaar geag.

In die Joodse periode het daar ’n verskuiwing gekom in die Ou-Testamentiese praktyke rakende seksualiteit en huwelik. Van Eck (2007a:96) sê dat die Judeërs tydens die ballingskap en terugkeer nuwe simbole in hierdie verband gesoek het. Hierin het veral die priesterlike reinheidskodes ’n rol gespeel. Afgelei van die heiligheid van God het die Judeërs hulle eie heiligheid (andersheid) tussen al die ander volke beklemtoon. Daar is van die manlike ballinge verwag om hulle huwelike wat met nie-Jode aangegaan is te verbreek en met Joodse vroue te trou. Hierdie huwelikstrategie is deur die instandhouding van die verbond bepaal: ‘asook die voortbring van die “heilige saad” deur ’n “heilige volk” in ’n heilige land’ (Van Eck 2007a:97). Nuwe reëls is ten opsigte van bloedskande, homoseksualiteit en huwelike met vroue wat voorheen getroud was, neergelê. Poligamie was steeds toelaatbaar.

Deur te redeneer vanuit die sosio-historiese en kulturele verskille wat elke periode in die Ou-Testamentiese geskiedenis ingehou het, kom Van Eck (2007a:99) tot die gevolgtrekking dat ’n eenduidige beskouing van die huwelik nie uit die Bybel afleibaar is nie en dat dit dus uiters problematies is om van ’n bybelse huwelik te praat soos in Markus 10:1–12; Matteus 5:23; 19:1–12 en Lukas 16:18 verwoord word. Hy is ook van mening dat Jesus se uitsprake oor die huwelik en egskeiding teen die kultuurhistoriese agtergrond van sy tyd verstaan moet word, soos die huwelikstrategie van die Joodse periode waar dit, soos Van Eck aandui, gaan om die heiligheidskodes en die reinheid van die volk. Jesus sluit dus aan by die gebruike van maar net een van die verskillende periodes. Ook hierdie praktyke kan nie vir alle tye as eties-normatief beskou word nie. Die verstaan van die huwelik vandag kan ook nie uit die Nuwe Testament afgelei word nie (Van Eck 2007b:104).

In ’n opvolgartikel behandel Van Eck (2007b:103) die sienings oor huwelik, egbreuk, egskeiding en hertrou in die eerste-eeuse Mediterreense wêreld. In hierdie kultuurperiode is die huwelik nie as ’n verbintenis tussen twee individue beskou nie, maar tussen twee families. Die huwelik was ingebed in die familiale instelling; vroue was ingebed in die eer van die man en as gevolg daarvan was gereëlde huwelike ’n logiese noodwendigheid. Die huwelik was ook in wese daar vir die totstandkoming van ’n nageslag (Van Eck 2007b:106). Families het oor die huwelik onderhandel. Die voorskrifte van die Tora het bepaal wie met wie mag trou. Die vrou moes oor bepaalde kwaliteite beskik wat tot voordeel van die man en sy status sou wees. Verlowing het beteken dat ’n man en vrou vir mekaar belowe is en dat die vrou in die eer van die man ingebed was. Al het hulle nog nie by mekaar gewoon nie, was die vrou reeds die man se eiendom. Huweliksfeeste is gehou as ’n openbare vertoon van die familie se eer. Die vrou was ook haar man se familie se besitting en die huwelik was die hoogste status wat sy kon bereik.

Egbreuk is verbied omdat dit in alle opsigte as diefstal van die man se besitting gesien is. Egskeiding het beteken dat die vrou van die man se eer losgemaak is sodat sy nie verder skaamte oor hom kon bring nie. ’n Man kon aan sy vrou ’n skeibrief gee op grond van egbreuk, infertiliteit, verwaarlosing, openbare vernedering of die aantasting van sy familie se eer (Van Eck 2007b:121–122). Daar was ook redes wat aangevoer kon word waarop die vrou die man kon versoek om aan haar ’n skeibrief te gee. Wanneer ’n skeibrief gegee is, het die vrou weer die reg van hertrou gehad. Ook in hierdie artikel is die gevolgtrekking gemaak dat die huwelik en alles wat daarmee saamgaan in die eerste-eeuse Mediterreense wêreld totaal verskil van dít wat ons vandag onder verlowing, huwelik, egskeiding en hertrou verstaan. Al hierdie praktyke is androsentries bepaal en kan nie as norm vir ’n sogenaamde ‘bybelse huwelik’ geld nie. Tog meen Van Eck (2007b:126) dat dit nie beteken dat die Bybel niks vir die postmoderne huwelik te sê het nie. Inteendeel, die uitsprake van Jesus (Mark 10:1–12; Matt 5:23; 19:1–12; Luk 16:18) kan gelees word as kritiek op die eerste-eeuse Mediterreense verstaan van die huwelik. Dit stel waardes daar wat as ’n bybelse begronding vir die huwelik, egbreuk en egskeiding beskou behoort te word. Hieraan wy Van Eck (2007c:481) ’n derde artikel.

Volgens Van Eck (2007c:484) moet Matteus 5:27–28 en Markus 12:18–27 beoordeel word as uitsprake in die Sinoptiese Evangelies wat nie na Jesus teruggevoer kan word nie. Jesus se uitspraak oor die huwelik word dan in twee dele uiteengesit, te wete Markus 10:5–9 en Matteus 19:4–6 en 8. Daarin kan sy beskouing oor die huwelik as instelling gelees word. Met verwysing na die navorsing van verskeie outeurs in hierdie verband sê hy ‘dat daar nie alleen ’n verskil bestaan ten opsigte van die identifisering van die outentieke Jesus-logika rakende die huwelik nie, maar ook wat betref die betekenis (bedoeling) daarvan’ (Van Eck 2007c:496). Een siening is dat die uitsprake van Jesus oor die huwelik en wat daarmee saamgaan, teruggryp na ’n tradisie wat nie meer bestaan het nie. ’n Tweede siening is dat die oorspronklike betekenis só deur Matteus en Markus verwerk is dat die bedoeling daarvan nie meer vasgestel kan word nie. ’n Derde siening is dat hierdie gedeeltes as ’n gelykenis gelees moet word, en die vierde is dat Jesus se woorde aandui dat hy in beginsel teen egskeiding was.

Van Eck (2007c:498) self maak die stelling dat Jesus se beskouing van die huwelik nie van sy beskouing van die androsentriese patriargale familie losgemaak kan word nie. Die Jesus-logika toon ’n duidelik anti-familiale tendens. Jesus het ’n anti-patriargaal ingesteldheid gehad en sy uitsprake gaan in teen die androsentriese, hiërargiese en patriargale beskouing van die familie waarin vroue en kinders gemarginaliseer, gedomineer en gesubordineer is. In hierdie opsig verwys Van Eck (2007c:503) na die werk van Kloppenborg. ‘Jesus se inklusiewe, nie-seksistiese en gelykwaardige hantering van die vrou was dus duidelike kritiek op die patriargale samelewing wat die vrou seksisties uitgesluit en gemarginaliseer het’ (kyk Kloppenborg 1990:196). Jesus se uitsprake oor kinders spreek ook van hierdie anti-patriargale ingesteldheid. So ook sy genesing van duiwelbesetenheid en ander geestesiektes.

Van Eck (2007) kom tot die gevolgtrekking dat uitsprake oor die huwelik eintlik as uitsprake teen die marginalisering van vroue en kinders gesien moet word. Jesus het dus eintlik niks gesê oor huwelik, egskeiding, egbreuk en hertrou nie. Jesus se uitspraak in Markus 10:11 en Matteus 19:9:

gaan oor veel meer, ’n afwys van die androsentriese eer wat die nie-menswaardige behandeling van vroue, kinders en nie-dominante mans legitimeer ... Wat Jesus oor die huwelik gesê het, kan nie gebruik word om vandag etiese uitsprake oor egskeiding, egbreuk en hertrou te maak nie. (bl. 509)

Wat die kerk vandag nodig het volgens hierdie argumente is ’n eietydse huweliksetiek wat met Jesus se waardes soos bo bespreek, gevul word.

Die bydrae van Dreyer en Van Aarde

Die vraag of daar gepraat kan word van ’n ‘bybelse huwelik’ word ook uit ’n ander hoek deur Dreyer en Van Aarde bespreek. Hulle beskryf hulle vertrekpunt as ’n krities-hermeneutiese perspektief (Dreyer & Van Aarde 2007a; 2007b). Bogenoemde artikel gebruik Thatcher se boek (1999) as basis. Die bybelse modelle wat Thatcher uiteensit, en die bruikbaarheid daarvan vir vandag al dan nie, word aan die orde gestel en beoordeel. Thatcher (1999) oordeel dat daar nie ’n enkelvoudige perspektief oor die huwelik in die Bybel te vinde is nie, maar dat daar in verskillende kontekste verskillende modelle gedefinieer kan word. Hiermee stem Dreyer en Van Aarde (2007a:630) saam. Die hoofmodelle is die huwelik as ‘verbond’ en ‘eenwording’ en daar is sekondêre modelle, wat as ‘twyfelagtige noodsaaklikheid’, ‘wêreldse vergunning’ en ‘passievolle wedersydse liefde’ getipeer kan word.

Die outeurs is van mening dat die verbondsmodel belowend is, maar dat dit ook problematies is, naamlik dat man en vrou as ongelyke vennote gesien word omdat die verbond op die ongelyke verbondsverhouding tusssen God en mens gemodelleer word (Dreyer & Van Aarde 2007a:631). Hierdie problematiek blyk, volgens die skrywers, uit die verskeie Bybeldele waar die verbond tussen God en mens as voorbeeld vir die huwelik gestel word, en andersom. Die verbondsmodel impliseer ’n androsentriese verbintenis. Ook die ‘eenwordingsmodel’ is problematies omdat dit, gesien vanuit die patriargale sisteem, gebruik is ‘om die vrou in te trek in die identiteit van die man’ (Dreyer & Van Aarde 2007a:644). Die vrou word ’n toevoegsel tot die vlees van die man soos afgelei uit die Genesisteks.

Oor die model van die huwelik as ‘twyfelagtige noodsaaklikheid’, wat, volgens die outeurs, op Thatcher se voetspoor veral in die wysheidsliteratuur van Hooglied en Spreuke te vinde is, gaan dit eerstens om die voordeel vir die man. ‘Die patriargale konteks van Spr. 1–9 toon egter duidelik dat die manier waarop die stem van “Wysheid” geposisioneer word die patriargale sisteem ondersteun het’ (Dreyer & Van Aarde 2007a:637). Met enkele uitsonderings is Prediker se nuanse oor die verhouding tussen man en vrou deur ’n androsentriese perspektief gekleur wat aandui dat alleen mans seksuele genot kan ervaar. Ook die model van die huwelik as ’n ‘wêreldse vergunning’ bied ’n negatiewe beeld van die huwelik. Hierdie stelling word bewys deur Paulus se beskouing in 1 Korintiërs 7 waar die huwelik as instelling begrond word in die vermyding van alle onkuisheid en seksuele immoraliteit. Dit sou beter wees om ongetroud te bly ten einde die Here sinvol te dien. ‘Die huwelik was toelaatbaar, maar nie aanbevole nie’ (Dreyer & Van Aarde 2007a:638). Ook die evangelies het hierdie beskouing gehandhaaf en dit was, volgens hulle, ook Jesus se siening.

Die huwelik as ‘passievolle wedersydse liefde’ is ’n volgende model waarvan Hooglied ’n sprekende voorbeeld is. Of dit hier egter oor die huwelik gaan, is volgens die outeurs ’n ander kwessie. Ook ontsnap die model nie die vooroordele teen die vrou nie, want die spel wat hier beskryf word, het die Israelitiese siening van respektabelheid ondermyn ‘omdat hulle onder andere die geslagspesifieke grense en karaktertrekke oorskry het’ (Dreyer & Van Aarde 2007a:640). Die outeurs is van mening dat hierdie verskillende modelle nie vandag regstreeks as norm vir die huwelik gebruik kan word nie, maar dat die bydrae wat die modelle wel vandag kan lewer, oorweeg kan word.

In hulle verdere kommentaar op hierdie modelle sê die outeurs dat dit elemente bevat wat net nie meer in die een-en-twintigste eeu bruikbaar is nie, maar dat die riglyne wat die Bybel gee nie onbelangrik is nie. Hierdie verskillende modelle moet geëvalueer word in die lig van ’n ‘simfoniese hermeneutiek’, want Bybellees is ’n ‘intertekstuele saak’. Dreyer en Van Aarde (2007a) skryf dat:

Die relatiewe bydraes van verskillende interpretasies moet geweeg word in relasie met een of ander hoër prinsiep wat ’n mens kan help om sin te maak van die individuele mengelmoes of selfs soms kakofonie van die Bybelgedeeltes. (bl. 641)

Hierdie hoër prinsiep wat hulle verkies, is die liefde van Jesus Christus wat die kanon agter die kanon is. Die erkenning van ’n hoër prinsiep (prinsipes) van Dreyer en Van Aarde is ’n belangrike en waardevolle bydrae en sal later in die beredenering in ’n ander verband toegepas word. Volgens hulle kan ’n kombinasie van perspektiewe uit Thatcher se modelle aangewend word om die huwelik vandag te belig met die liefde van Christus as die hoër prinsiep. Bruikbare idees in hierdie opsig is die metafoor van die verbond indien dit nie aangewend word om die vrou te degradeer nie. Met die huwelik as verbond, wil die outeurs die feit beklemtoon dat gelowige mense in die teenwoordigheid van God teenoor mekaar ’n belofte aflê. By hierdie belofte word ‘God en die teenwoordiges as getuie geroep’ (Dreyer & Van Aarde 2007b:676). Daar sal weer na hierdie idee teruggekom word. Die model van ‘vleeslike eenwording’ is ook bruikbaar as dit as ’n lewenslange gelyke vennootskap geïnterpreteer word. Hierdie model kan huwelike vandag diepte en betekenis gee. Minder riglyne kan uit die ander modelle van Thatcher afgelei word.

In ’n volgende artikel gaan die outeurs voort met die beoordeling van Thatcher se modelle en pas dit op die hedendaagse konteks toe (Dreyer & Van Aarde 2007b: 653-681). Die eerste saak wat in die hedendaagse konteks aandag kry, is ‘saamwoonverhoudings’. Na die beredenering van verskeie navorsers se standpunte in hierdie verband kom die outeurs tot die gevolgtrekking dat dit duidelik is dat alle vorme van voor-seremoniële seksuele aktiwiteite nie altyd verkeerd is nie, en dat die Bybel nie aangewend kan word vir ’n normatiewe beoordeling hiervan nie. Die seremonie het, volgens hulle, onlangs eers die voorwaarde vir die huwelik geword en die huweliksvorm was nog nooit ’n onveranderlike instelling nie, want dit het deur die verskillende tydperke verander. ‘Saamwoon, volgens bepaalde voorwaardes, is dus nie ’n bedreiging vir die instelling van die huwelik en die gesin nie. Die vorm van die huwelik het in elke tydperk ingrypende veranderings ondergaan’ (Dreyer & Van Aarde 2007b:660). Die outeurs oordeel dat ’n seremoniële verlowing, soos die gebruik was in die premoderne tyd, in hierdie verband ’n oplossing kan bied.

Die outeurs bepleit ook ’n kultuur van die sensitiewe lees van alle gedeeltes wat oor gesinsvorming, egskeiding en hertrou handel. Volgens Dreyer and Van Aarde (2007b) kom die onderrig van Jesus hieroor dus op die volgende neer:

Die huwelik is opsioneel, maar as daar verkies word om in die huwelik te tree, moet dit monogaam en lewenslank wees. Verder is egskeiding nooit verpligtend nie en moet dit ten alle koste vermy word, behalwe as die party wat die oortreding begaan het, weier om berou te toon. (bl. 671)

Die outeurs se standpunt oor hertrou na ’n egskeiding is soos volg: Volgens Jesus se lering sou ’n hertroue toelaatbaar wees indien daar legitieme redes vir ’n egskeiding was en huweliksgenote probeer het om die huwelik te red (Dreyer & Van Aarde 2007b:672). Die outeurs bespreek nie huwelike tussen gay persone intensief nie, maar gee tog bepaalde insigte weer. Die eerste is dat dit ’n denkfout is om die heteroseksuele huwelik te verabsoluteer en dit ‘bybels’ te noem, want huweliksvorme het deur die eeue heen baie verskil. Die beskrywing van ’n huwelik as ’n wedersydse vennootskap met ’n huwelikspiritualiteit kan baie wyer toegepas word as net op ’n heteroseksuele paartjie. Die outeurs wy egter nie uit oor die verbod op homoseksuele gedrag in die Bybel nie en laat die vraag onbeantwoord.

Die bydrae van Yolanda Dreyer

Yolanda Dreyer is ’n belangrike eksponent in die Suid-Afrikaanse reformatoriese kringe wat die beskouing huldig dat die huwelik ’n sosiale konstruk is wat deur kultuur en tradisie bepaal word. Sy het as Nuwe Testamentikus en navorser in Praktiese Teologie oor die afgelope dekade verskeie navorsingsartikels as alleen- en medeouteur gepubliseer waarin sy die siening verduidelik. Hierdie artikel wil ook haar standpunt weergee en verder met haar in gesprek tree.

As vertrekpunt in haar betoog stel Dreyer (2008b:501), in reaksie op Roberts (2007), dat die huwelik gedesakraliseer moet word. Sy oordeel dat seksualiteit, ten spyte daarvan dat dit ’n biologiese realiteit van menswees is, sterk deur veranderde samelewingsomstandighede beïnvloed word en dat die instelling van die huwelik ’n sosiale konstruk is. In haar benadering van Skriftuurlike gegewens kies sy vir ’n ‘hermeneutiek van suspisie’, veral in haar ontleding van die patriargale huwelik in die Skrif (Dreyer 2011:1). Met die uitdrukking bedoel sy dat daar in Skrifverklaring gekyk moet word na wat agter, in en voor die teks lê. Die historiese agtergrond moet nagevors word, asook die invloed van die vooronderstellings van die huidige leser (Dreyer 2011:2). Vir vroue sal dit beteken dat hulle stories en ervarings waarmee hulle ‘voor’ die teks staan, sal bydra tot hulle verstaan van die teks.2

Die biologiese aspek van die huwelik en seksualiteit benader Dreyer vanuit ’n naturalistiese perspektief en die sosiale aspek vanuit ’n humanitêre perspektief. Hierdie perspektiewe word dan in ’n teologiese benadering saamgeweef wat aan die een kant geïntereseerd is in die verhouding tussen God en mense, en aan die ander kant in die wyse waarop die Bybel die huwelik en seksualiteit hanteer. Sy wys ’n openbaringsmodel af wat, volgens haar, geneig is om die huwelik en seksualiteit in die Bybel letterlik te interpreteer. Sy tipeer dit as ’n essensialistiese model wat nie in staat is om die heteronormatiwiteit en patriargale ondertone van die huwelik in bybelse tye te ontbloot nie (Dreyer 2008b:502).

Dreyer (2008b:502) dui aan hoe die idee van seksualiteit wat aan die Godgegewe ‘heilige huwelik’ gelyk gestel word, ’n mitologiese oorsprong het, en hoe die idee verder deur die loop van die geskiedenis verander het. Godsdienstige norme het verander oor die tyd: van premodern na modern en daarna na postmodern. Mitologiese verhale in die antieke Ooste is verantwoordelik vir die konneksie tussen seksualiteit, die huwelik en godsdiens. Hierdie verbinding het die siening van seksualiteit en die huwelik by die Ou-Testamentiese Israel en later die christendom bepaal. In ’n latere artikel saam met Botha toon Dreyer, met verwysing na die navorsing van Landman (1994), aan hoe hierdie Ou-Testamentiese idee van die huwelik gelei het tot die minderwaardige posisie van vroue in die Afrikaanse kerke in besonder, en Afrikanervroue in die algemeen (Botha & Dreyer 2013a:8). Volgens haar verduidelik die invloed van die mitologiese verhale waarom die verhaal van Adam en Eva in die paradys beskou is as die eerste huwelik en waarom die instelling van die huwelik verbind is met die skepping en die verbond. Die Bybel verskaf nie ’n eenduidige siening van die huwelik en wat daarmee saamhang nie (Dreyer 2011:3)

Deur die geskiedenis het daar ook ’n verskeidenheid vorme van huwelik ontwikkel tussen die parameters van monogamie en poligamie. Na aanleiding van Witte (1997: 2–15) se werk betoog Yolanda Dreyer dat die huwelik in die Westerse Christelike Kerk op vier perspektiewe uitgeloop het, te wete die naturalistiese, sosiale, kontraktuele en die godsdienstig sakramentele. Hierdie vier perspektiewe beklemtoon elk ’n bepaalde aspek van die huwelik, naamlik die religieuse sanksie, die wetlike, die vrywilige verbintenis en die natuurlike oorsprong. Sy vra die vraag, naamlik watter een van hierdie vier aspekte die die belangrikste ‘sê’ het oor die huwelik. Is dit die kerk (insluitende God en die Bybel), die staat, die familie of die natuur? Is die gesag oor die huwelik in die hande van die kerk, die staat, die huwelikspaar, of God en die natuur wat deur enige van die partye werk? (Dreyer 2008b:510; kyk ook Botha & Dreyer 2013b:1). Dreyer behandel voorts, met ’n beroep op Witte (1997:2–12), die verskillende modelle vir die huwelik soos dit binne die verskillende Westerse Christelike tradisies voorkom. Sy dui verder op die verskil in opvatting tussen die Rooms-Katolieke en Protestantse tradisies, en die Protestantse tradisies onderling. Op grond van die mitologiese oorsprong van die huwelik as instelling, die tradisionele wysigings wat die konsep van seksualiteit en huwelik ondergaan het en die verskillende perspektiewe wat binne die christendom self ontwikkel het, pleit Dreyer vir ’n nuwe nie-essensialistiese benadering omdat postmodernistiese filosofie en teologie ’n bewustheid skep van die skade wat aan mense gedoen word wanneer menslike konstrukte (soos die huwelik) as Godgegewe en onveranderlik beskou word (Dreyer 2008b:522).

Na die behandeling van die liberale feminisme, die sosialistiese of marxistiese feminisme, die romantiese feminisme en die feminisme van die bevrydingshermeneutiek stel Dreyer (2011) ’n visie vir die toekoms. Hierdie visie hou in dat daar wegbeweeg word van die dubbele antropologie van ‘manlikheid’ en ‘vroulikheid’. Hierdie dubbele antropologie is kulturele en sosiale konstruksies en is inherent patriargaal. Daar moet beweeg word na ’n menslike samelewing waarin alle vorme van dehumanisering en degradering van mense volgens die dubbele antropologie met suspisie bejeën word. Om te beweeg na ’n ‘outentieke humaniteit’ vir almal moet daar wegbeweeg word van historiese sosiale patrone en menslike skeppings (soos die huwelik in die Bybel). Postmoderne filosofie doen juis dít deur aan te dui dat sosiale konstrukte, soos die ‘bybelse huwelik’, nie Godgegewe en onveranderbaar is nie (Dreyer 2011:5). Die ideale situasie sal bereik word wanneer alle mense gelyk geag word en ’n gelyke geleentheid het om gesonde lewens in die teenwoordigheid van God te leef.

Die huwelik: ’n verbondsgegewe?

Anders as die beskouings wat in die voorafgaande gedeelte beskryf is, beoog hierdie artikel om ’n saak te probeer uitmaak vir die beskouing dat die huwelik uit ’n Christelik-etiese oogpunt as ’n verbondsgegewe beskou kan word. Die voorgestelde beskouing hou al die elemente in wat Van Eck (2007a:83) in sy positiewe waardering van die postmoderne huwelik bepleit. In die proses word in ag geneem dat hierdie konsep nie sonder probleme is nie soos uit die bogenoemde besprekings afgelei kan word. Myns insiens kan die verbondsidee egter tog aanvaar word sonder om patriargalisme daaraan te koppel of dit androsentries te interpreteer. Die verbondsverhouding veronderstel nie noodwendig ’n ongelyke verhouding soos Thatcher (1999:69) aandui nie. Ek sluit by stelling van Dreyer en Van Aarde (2007a) aan wat soos volg lui:

Dit moet toegegee word dat ’n mens versigtig moet wees om nie die verbondsverhouding te gebruik om die vrou tot ’n bepaalde onderdanige posisie te degradeer nie. Dit hoef egter nie te beteken dat die verbond as metafoor vir die huwelik onbruikbaar is nie. (bl. 631)

Hulle beskryf elemente wat betekenisvol kan wees in die beskouing van die huwelik as ’n verbond.

Vir hierdie besinning word’n hermeneutiek van suspisie of ’n kritiese hermeneutiek nie as keuse voorgehou nie, maar wel ’n bybels-teologiese hermeneutiek. Hierdie hermeneutiese model kom kortliks op die volgende neer:

  • die erkenning van die goddelike gesag van die Bybel as die geïnspireerde geskrewe Woord van God wat dien as bron vir geloof en fondament van die christelike lewe. Hierdie belydenis is in verskillende konfessies vervat wat tydens die Reformasie die lig gesien het en hierdie artikel sluit daarby aan. Vir ’n sinopsis van hierdie aspek in gereformeerde belydenisskrifte kan die werk van Beeke and Ferguson (1999:10) geraadpleeg word;
  • die teologiese eenheid van die geskrewe woord wat na vore kom in die openbaring van verskeie deurlopende temas soos, onder andere, die koninkryk van God, die verbond, sterwe en opstanding, lewe, liefde, geregtigheid, verlossing en bevryding, heiligmaking en menswaardigheid. Hoewel Bybelboeke kronologies nie ’n eenheid vorm nie omdat hulle verskillend gedateer kan word, vorm die deurlopende lyne sterk gedagte-eenhede. Daar is ook lyne wat gediskontinueer word, soos dele Ou-Testamentiese etiek wat deur die etiek van Christus as die mensgeworde Woord vervang word. Hierdie perspektief is breedvoeriger gestel in ’n ander publikasie (Vorster 2014). Hierdie benadering as bybels-teologies kan getipeer word en vermy die eensydighede van fundamentalisme en biblisisme soos Douma (1996:363) dit beskryf: ‘die appèl op die Skrif deur gebruik te maak van Bybeltekste op ’n geïsoleerde wyse deur die tekste uit te lig uit hulle onmiddellike kontekste en uit die geheel van die Skrif’ (kyk ook Ritschl 1999:255). Hierdie beskouing verskil ook van die essensialisme wat Dreyer (2008b:502) afwys as ’n ‘openbaringsbenadering’;
  • die voortgaande stelselmatige ontvouing van die openbaring van God teen die agtergrond van die kultuur-historiese en sosio-historiese milieus van bybelse materiaal. Die sosio-historiese agtergrond bepaal egter nie die betekenis van die teks nie, maar is ’n belangrike hulpmiddel in die verstaan daarvan binne die geheel van God se openbaring. Die deurlopende ontvouing van die Godsopenbaring word openbaringsgeskiedenis genoem en is veral in die Protestantse tradisie deur Cullmann (1948:157) en Barth (1961:136) ontwikkel. Dit het ook beslag gekry in die gereformeerde Ou-Testamentiese besinning. Ciampa (2007:254) gee ’n goeie aanduiding van die resente eksponente van hierdie benadering. Hierdie benadering word soms as bybelse teologie, heilsgeskiedenis, ‘salvation history’ of verbondsgeskiedenis getipeer. Hiervolgens word die hele Skrif gesien as die openbaring van God se voortgaande handelinge in die geskiedenis van die verbondsvolk (Reuman 2005:833). Uit die voortgaande openbaring kan inderdaad hoër prinsipes afgelei word wat as verstaansraamwerk vir die interpretasie van tekste moet dien;
  • die lees en beoordeling van dele van die Skrif binne die perspektief van die openbaringsgeheel wat in die kontinue teologiese lyne na vore kom. Die deel moet verstaan word in die lig van die geheel. In hierdie hermeneutiek word by Kaiser en Silva (1994:133) aangesluit wat sê dat die eksegetiese deel van die Skrifinterpretasieproses die grammatikale, historiese en literêre aspekte van die teks ondersoek. Wanneer dit gedoen is, moet die eksegetiese gegewens egter binne die perspektief van die betrokke Bybelboek se totale boodskap, dus die geheel van die lyne van die Skrif, verstaan word. Die ontvouende openbaring, en nie die sosio-historiese konteks nie, is dan bepalend vir die verstaan van die teks;
  • die onderskeiding van deskriptiewe dele in die Skrif, waarin blote gebeure of gebruike beskryf word en preskriptiewe gedeeltes waarin beginsels vir etiese besluitneming en optrede neergelê word. Etiese beginsels behoort nie uit geskiedenisverhale afgelei te word nie, byvoorbeeld om Dawid se hantering van Absolom as ’n model van vaderlike opvoeding te interpreteer of om beskrywings van huweliksverhoudings voor te hou as voorbeelde vir ’n huweliksetiek vir vandag. Etiese beginsels moet afgelei word uit preskriptiewe gedeeltes, soos byvoorbeeld die dekaloog en die opsommings daarvan sowel as die deurlopende teologiese temas van die Skrif.

In die lig van hierdie oorsigtelike aanduiding wat ’n bybels-teologiese hermeneutiek behels, word nou op enkele etiese hoër prinsipes uit die openbaringsgeskiedenis gewys wat gebruik kan word vir die verstaan van die huwelik as’n verbondsgegewe.

Die skeppingsaard van die huwelik

Köstenberger (2004:31) beskou die beskrywing van die skepping van mense as die belangrikste paradigma van God se bedoeling met die huwelik. By hierdie tradisionele siening van die reformatoriese etiek wil ek by ander insigte oor die tradisionele patriargale verstaan daarvan aansluit. Die verhaal van Genesis 1–3 kan beskou word as die beskrywing van die huweliksmodel as ’n skeppingsinstelling. Die feit dat die huwelik by die skepping ingestel is en nie eers soos ander samelewingsverbande na die sondeval gestalte gekry het nie, toon aan dat die monogame heteroseksuele huwelik bedoel is as deel van die aard van menswees. Hoewel die Skrif op ander plekke poligame huwelike bespreek, is hierdie besprekings deskriptief van aard. Die monogame huwelik word egter as die aangewese huweliksmodel voorgeskryf. Die huwelik is ’n monogame, heteroseksuele verhouding (Douma 1993:113). Die Skrif stel nie ander alternatiewe nie. Köstenberger (2004:31, 61) gee hiervan ’n grondige bewys in sy deeglike bespreking van Skriftuurlike gegewens oor die huwelik.

Twee sake is belangrik in hierdie skeppingsinstelling. Die eerste is die feit dat man en vrou na die beeld van God (imago dei) geskape is. Die imago dei konstateer die feit dat mense inherent menswaardig is.3 Daarom is man en vrou voor God gelyk en moet albei as absoluut gelykwaardig gesien en behandel word. Alle ander verhoudingsnorme is aan hierdie hoër prinsipe onderworpe. Die essensie van die huwelik word deur hierdie ingeskape menswaardigheid gekonstateer.

In sy bespreking van die imago dei, opper Barth (1961:116) ’n ander belangrike gedagte. Hy oordeel dat die imago dei beteken dat God die mens geskep het en toe in ’n onlosmaaklike verhouding met die mens getree het. Mense is dus, benewens menswaardig, ook ten diepste verhoudingswesens. Dit geld veral vir die huwelik as ’n skeppingsinstelling. Hierdie verhouding het ’n verbondskarakter. Die huwelik is ’n besondere verbond, want dit is nie net ’n verbond tussen man en vrou nie, maar tussen man, vrou en God in Christus (Ef 5:21–33; Kol 3:18–19; 1 Pet 3:1–7; Köstenberger 2004:31). Gedurende die Reformasie en daarna gedurende die ontwikkeling van die reformatoriese samelewingsbeskouing, is die gedagte van die huwelik as verbond uitgebou. Die artikel van Stackhouse (2005:153) bespreek hierdie ontwikkeling breedvoerig. Hierdie verbondskarakter van die huwelik hou in dat die huweliksverhouding ’n heilige verbintenis is wat deur heiligheid, permanensie (ewige trou), intimiteit en gemeenskaplikheid gekenmerk moet word (Köstenberger 2004:91). Dit gaan dus in die huwelik om die ewige trou wat man en vrou aan mekaar beloof sowel as die toewyding aan die huwelik en aan mekaar wat daarmee saamgaan. Uit die mens se beeldskap van God kan dus afgelei word dat die huwelik ’n verbondsgegewe is wat die menswaardigheid van man en vrou as die hoër prinsipe ag. Hierdie hoër prinsipe skakel ’n patriargale huwelik en ’n androsentriese verstaan van die huweliksverhouding prinsipieel uit. Daarom kan geoordeel word dat die Bybel ’n model vir die huwelik voorhou en dat die uitdrukking ‘bybelse huwelik’ vir christene in alle omstandighede ’n riglyn vir hulle huweliksluiting en huweliksbelewing behoort te wees.

Die herskeppingsaard van die huwelik

Hoewel die mens se menswaardigheid deur die sondeval aangetas is en allerhande verhoudingkrisisse daarna ontwikkel het, word die ingeskape menswaardigheid van die mens nie opgehef nie. Trouens, Christus herbevestig die menswaardigheid in beginsel en herstel gebroke verhoudings. Ook hier word ’n hoër prinsipe aangewys. Dit is die liefdesgebod waarop Dreyer en Van Aarde (2007a:641) wys. Die huwelik moet dus ook vanuit ’n Christologiese perspektief beredeneer word. Soos met die beginsel van menswaardigheid, skakel Christus se samevatting van die wet in die liefdesgebod ook die patriargale en androsentriese definiëring van die huwelik uit. Man en vrou moet in ’n toegewyde liefdevolle verhouding leef en alles wat die Skrif oor die eienskappe van die liefde leer, moet deur die huweliksverhouding gekenmerk word.

Met die herskepping herskep Christus alle verhoudings wat deur die sonde skeefgetrek is (Gal 3:28). Hierdie Skrifgedeelte beklemtoon die hoër prinsipes van menswaardigheid wat in die gelykheid van mense voor God en van die verbondsverhouding na vore kom. Die huweliksvoorskrifte in die huistafels wat in Efesiërs en Kolossense uitgespel word, moet vanuit hierdie perspektief beredeneer en verstaan word asook die Nuwe-Testamentiese voorskrifte oor die plek van die vrou in kerk en samelewing. Die verhouding tussen man en vrou kan dus nie androsentries gedefinieër word nie, omdat so ’n beskouing die hoër prinsipe van menswaardigheid en die huwelik as verbondsgegewe sal teenspreek. ’n Huwelik met patriargale en androsentiese trekke is, Christologies gesien, onhoudbaar.

Die pneumatologiese aard van die huwelik

Die hoër prinsipes van menswaardigheid en verbond wat totale gelykheid tussen die geslagte impliseer, kom verder aan die lig as dit pneumatologies beredeneer word. Die vervulling van die pinksterbelofte in Joël by die Pinkstergebeure in Handelinge 2:17–21, bring hierdie gelykheid na vore. In die beskrywing van die gawes van die Gees in 1 Korintiërs 12 dui Paulus aan dat gelowiges die gawes van die Gees ontvang sonder aansiens des persoons. Hierdie gawes word aan man en vrou gegee. Mans ontvang nie sekere gawes en vroue ander nie. Albei geslagte ontvang gawes en albei geslagte word opgeroep om die gawes te gebruik tot opbou van verhoudings, die huwelik, die kerk en hulle koninkryksroeping. Daar kan ook afgelei word dat mense mekaar se gawes moet respekteer en mekaar ruimte moet gee vir die ontvouing van elkeen se gawes. Toegepas op die huwelik as ’n verbondsgegewe, sou dit beteken dat die man en vrou, as gelyke vennote in Christus en gelykwaardige ontvangers van die gawes van die Heilige Gees, mekaar moet respekteer en ruimte gee om as volwaardige mense te ontwikkel. Die huwelik is die ruimte van toewyding en geestelike groei waarin albei partye hulle volle menswees binne die raamwerk van hulle godgegewe roeping kan uitwerk.

Gevolgtrekking

Die huwelik is, Skriftuurlik gesien, veel meer as ’n blote sosiale konstruk wat kultureel en tradisioneel ingeklee kan word. God het die huwelik ingestel met hoër prinsipes as slegs die beginselbasis. Hierdie prinsipes is die verbond wat liefde, menswaardigheid, gelykheid en die ruimte waarin die geestesgawes vervulling moet vind, opeis. Daarom verg huweliksluiting en gesinsvorming goeie beplanning en geestelike voorbereiding. Die huwelik moenie tot seksualiteit en voortplanting alleen gereduseer word nie. Dit impliseer ’n diep spirituele verhouding wat deur wedersydse liefde, permanensie, heiligheid, intimiteit en gemeenskaplikheid getipeer moet word.

Seksualiteit hoort binne die geborge ruimte van so ’n huwelik. Daarin vind seksualiteit sin en betekenis. Alle owerspel word afgewys, want dit beteken dat die verhouding met God aangetas word. Met owerspel word trou afgesweer en die verbond sodoende verbreek (Bosman 2004:274). Daarom word egskeiding en egbreuk afgewys, behalwe in gevalle waar die trou verbreek word deur kwaadwillige verlating en afbrekende handelinge soos geweld en vernedering. Alles wat die huwelik as verbond bedreig, is destruktief en moet bestry word.

Die huwelik en die gesin as skeppingsinstelling en as verbondsgegewe is die fondament van kerk en staat as samelewingsverbande. Die kerk en staat het daarom elkeen ook ’n funksie in die beskerming van hierdie skeppingsinstelling. Die kerk moet gesinne koester en toerus tot geestelike groei en gesonde verhoudings. Kerke kan dus geen vorme van androsentrisme goedkeur of voorskryf nie. Daarom is Botha en Dreyer (2007:1293) se pleidooi vir die wysiging van die huweliksformulier wat in die Afrikaanse gereformeerde kerke gebruik word, ter sake. Die staat moet die huwelik en gesin wetlik erken en beskerm. Daarom is huwelikswetgewing en wat daarmee saamgaan nodig. By die verbrokkeling van huwelike en gesinne het die staat die plig om toe te sien dat die partye se regte beskerm word en dat die kinders versorg is. As hierdie bousteen van die samelewing nie gekoester word nie, lei dit tot algemene samelewingsverval.

Die oproep tot toewyding aan die huwelik is eweneens aktueel in die hedendaagse sosiaal-etiese diskoers oor huwelik en seksualiteit. Alternatiewe huwelike wat beskou word as blote kulturele instellings wat oop moet wees vir verandering soos tydelike saamblyverhoudings, dit wil sê seksuele verhoudings waarin die paar nie wetlik in die eg verbind is nie en waarin daar nie ag op die permanensie van die verhouding geslaan word nie, bedreig die dieper dimensie van die huwelik as verbondsgegewe.

Toewyding aan die huwelik sal die patriargale en androsentriese huwelikshouding belig en beoordeel of hierdie vorm van huweliksverhouding, wat nog in baie christelike gesinne voorkom, die toets van menswaardigheid, eie aan die verbond tussen God en sy beelddraer, kan deurstaan. Gesien in die lig van die imago dei, die christologiese en pneumatologiese perspektiewe is die huwelik ’n verbintenis van gelykes. Die huwelik is ’n gelyke verhouding waarin albei partye vanuit die gawes wat hulle van die Heilige Gees ontvang kan bydra en mekaar help om geestelik te groei en as volledige mens te ontwikkel. ’n Huwelik waarin die vrou as minderwaardig beskou word en moet leef in die man as ‘hoof’ en enigste ‘broodwinner’ se skaduwee, voldoen nie aan die volle betekenis van die huwelik soos dit in die skepping en die herskepping van alle dinge beslag moet kry nie.

Die beskouing van die huwelik as ’n verbondsgegewe kan ’n belangrike bydrae lewer om die huwelikskrisis van ons tyd aan te spreek. Die toëiening van hierdie konsep behoort hedendaagse kerke te bemagtig om mense te bedien met die hoër prinsipes wat nodig is om huwelike te vestig waarin menswaardigheid, liefde, toewyding, respek en ontluiking van geestesgawes die koersbepalende beginsels is.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig of voordelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Barth, K., 1961, Church dogmatics. Volume III. The doctrine of creation, transl. A.T. Mackay, T&T Clark, Edinburgh.

Beeke, J.R. & Ferguson, S.B., 1999, Reformed confessions harmonized with annotated bibliography of reformed doctrinal works, Baker Books, Grand Rapids.

Bosman, H., 2004, ‘Adultery, prophetic tradition and the decalogue’, in W.P. Brown (ed.), The ten commandments, the reciprocity of faithfulness, pp. 209–218, Westminster John Knox Press, London.

Botha, A. & Dreyer, Y., 2007, ’n Feministies narratief-pastorale perspektief op die huweliksbevestigingsformuliere van die Nederduitsch Hervormde Kerk’, HTS Teologiese Studies 63(6), 1275–1298.

Botha, A. & Dreyer, Y., 2013a, ‘Huwelik en huweliksrolle in die Afrikaanse kultuur en kerklike konteks’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 69(1), Art #1965, 9 p. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v69i1.1965

Botha, A. & Dreyer, Y., 2013b, ‘Veranderende perspektiewe op seksualiteit en die huwelik in ’n postmoderne kerk’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 69(2), Art #1917, 10 p. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v69i1.1917

Browning, D., 2001a, ‘World family trends’, in R. Gill (ed.), The cambridge companion to christian ethics, pp. 243–260, Cambridge University Press, Cambridge.

Browning, D., 2001b. The world situation of families: Marriage reformation as a cultural work, T&T Clark, Edinburgh.

Ciampa, R.E., 2007, ‘The history of redemption’, in S.J. Hafemann & P.R. House (eds.), Central themes in biblical theology. Mapping unity in diversity, pp. 254–308, Baker Academic, Grand Rapids.

Cullmann, O., 1948, Christus und die Zeit. Die Uhrchristliche Zeit- und Geschicht-Aufassung, Evangelisher Verlag, Zurich.

De Vaux, R., 1988, Ancient Israel, its life and institutions, transl. J. McHugh, Darton, Longman & Todd, London.

Douma, J., 1993, Seksualiteit en huwelijk, Uitgeverij van den Berg, Kampen.

Douma, J., 1996, The ten commandments, manual for the christian life, transl. N.D. Kloosterman, P&R Publishing, Philipsburg.

Dreyer, A.E. & Van Aarde, A., 2007a, ‘Bybelse modelle van die huwelik; ’n Kritiese perspektief’, HTS Teologiese Studies 63(2), 625–651. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v63i2.226

Dreyer, A.E. & Van Aarde, A., 2007b, ’n Krities-hermeneutiese perspektief op die huwelik in ’n postmoderne era’, HTS Teologiese Studies 63(2), 653–681. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v63i2.225

Dreyer, T.F.J., 2008a, ‘Die kerk, die huwelik en seks – ’n morele krisis?’, HTS Teologiese Studies 64(1), 463–481. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v64i1.9

Dreyer, Y., 2008b, ‘The “sanctity” of marriage – An archeology of a socio-religious construct: Mythological origins, forms and models’, HTS Teologiese Studies 64(1), 499–527. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v64i1.10

Dreyer, Y., 2011, ‘Women's spirituality and feminist theology: A hermeneutic of suspicion applied to patriarchal marriage’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 67(3), Art #1104, 5 p. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v67i1.1104.

Gill, R., 1997, The world situation of families: Marriage reformation as a cultural work, T&T Clark, Edinburgh.

Hauerwas, S., 1981, A community of character. Toward a constructive christian social ethic, Notre Dame, London.

Kaiser, W.C. & Silva, M., 1994, An introduction to biblical hermeneutics: The search for meaning, Zondervan, Grand Rapids.

Kloppenborg, J.S., 1990, ‘Alms, debt, and divorce: Jesus’ ethics in their mediteranean context’, Toronto Journal of Theology 6(2), 182–200. http://dx.doi.org/10.3138/tjt.6.2.182

Köstenberger, A.J., 2004, God, marriage and family, rebuilding the biblical foundation, Crossway Books, Wheaton.

Landman, C., 1994, The piety of Afrikaans women: Diaries of guilt, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria.

Malina, B.J. & Neyrey, J.H., 1991, ‘Honor shame in Luke-Acts: Pivotal values of the mediterranean world’, in J.H. Neyrey (ed.), The social world of Luke-Acts: Models for interpretation, pp. 25–65, Hendrickson, Peabody, MA.

Reuman, J., 2005, ‘Salvation history’, in E. Fahlbusch, J.M. Lochman, J. Mbiti, J. Pelikan & L. Vischer (eds.), The encyclopaedia of christianity, vol. 4, pp. 832–836, Brill, Leiden.

Ritschl, D., 1999, ‘Biblicism’, in E. Fahlbusch (ed.), The encyclopedia of christianity, vol. 1, pp. 255–256, Brill, Leiden.

Roberts, C.C., 2007, Creation and covenant: The significance of sexual difference in the moral theology of marriage, T&T Clark International, New York.

Stackhouse, M.L., 2005, ‘Covenantal marriage: Protestant views and contemporary life’, in J. Witte, & J.E. Ellison (eds.), Covenant marriage in comparative perspective, pp. 153–181, Eerdmans, Grand Rapids.

Thatcher, A., 1999, Marriage after modernity: Christian marriage in postmodernist times, Sheffield Academic Press, Sheffield.

Van Eck, E., 2007a, ‘Die huwelik in die eerste-eeuse Meditereense wêreld (I): Vroue in ’n man se wêreld’, HTS Teologiese Studies 63(1), 81–101.

Van Eck, E., 2007b, ‘Die huwelik in die eerste-eeuse Meditereense wêreld (II):Huwelik, egbreuk, egskeiding en hertrou’, HTS Teologiese Studies 63(1), 103–128.

Van Eck, E., 2007c, ‘Die huwelik in die eerste-eeuse Meditereense wêreld (III): Jesus en die huwelik’, HTS Teologiese Studies 63(2), 481–513. http://dx.doi.org/10.4102/hts.v63i2.217

Vorster, J.M., 2012, Menswaardigheid, vergiffenis en versoening, Potchefstroom Teologiese Publikasies, Potchefstroom.

Vorster, J.M., 2014, Christelike etiek in ’n sekulariserende samelewing, AOSIS OpenBooks, Kaapstad. http://dx.doi.org/10.4102/aosis.ceiss.2014.01

Witte, J., 1997, From sacrament to contract: Marriage, religion and law in the Western tradition, Westminster John Knox, Louisville Kentucky.

Footnotes

1. Met die uitdrukking sosio-historiese kritiese hermeneutiek word bedoel dat die Skrif slegs verstaan kan word vanuit die sosio-historiese konteks waarin betrokke tekste hulle beslag gekry het. Die Skrif is saamgestel uit losstaande gedeeltes sonder ’n inhoudelike eenheid omdat die sosio-historiese kontekste verskil. Die konteks van die skrywer bepaal die betekenis van die teks en daar kan nie gepraat word van ’n eenduidige bybelse teologie nie.

2. In ’n vorige artikel (Botha & Dreyer 2007:1275) word hierdie hermeneutiek op die metafoor van die kerk as ‘bruid van Christus’ (Ef 5:21-33) toegepas soos dit in die huweliksformuliere van gereformeerde Afrikaanse kerke gebruik word. Hulle dui aan hoe die kerklike toepassing van die metafoor vroue se lewe en identiteitvorming beïnvloed het. Die metafoor, soos gebruik in die formulier, impliseer die onderdanigheid en identiteitsverlies van die vrou. ‘Die negatiewe, beperkende en onmenswaardige boodskappe oor vrou-wees wat deur kultuur en kerk, en in besonder die huweliksformulier oorgedra en deur vroue geïnternaliseer word, het ’n skadelike effek op die vorming van vroue se identiteit’ (Botha & Dreyer 2007:1293). Daarom pleit die outeurs vir ’n transformasie van die metafoor se betekenis en ’n hersiening van die huweliksformulier sodat dit reg laat geskied aan die gelykheid van die geslagte en die identiteitvorming van die vrou. ’n Nuwe bewussyn moet geskep word waarin vroue bewus gemaak word van hulle eie waarde en nuwe identiteit in Christus. Die kritiek van die outeurs op die huweliksformuliere van die Afrikaanse gereformeerde kerke is gepas en behoort die herskrywe van die formuliere te inspireer.

3. Die outeur het die begrip menswaardigheid en die etiese gevolge volledig behandel in die publikasie Menswaardigheid, versoening en vergiffenis (kyk Vorster 2012). In hierdie publikasie is die sienings oor die imago dei en menswaardigheid van verskeie klassieke en resente teoloë verwerk en tot die gevolgtrekking gekom dat menswaardigheid die diepste beginsel van menswees is, en dat dit die hoër prinsiep is waaraan alle menseverhoudinge en instellings wat menseverhoudinge reël, moet voldoen.


 

Crossref Citations

1. Marriage and family in view of the doctrine of the covenant
Jakobus M. Vorster
HTS Teologiese Studies / Theological Studies  vol: 72  issue: 3  year: 2016  
doi: 10.4102/hts.v72i3.3218