Wees Jesus se hande en voete deur anders te dink en te leef as die wêreld

Book Title: Net soos Jesus: Wees Jesus se hande en voete in die wêreld

Author: J. Smit

ISBN: 978-1-4316-0769-3, 2013

Publisher: Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy, 2014, R124.00*

*Book price at time of review

Review Title: Wees Jesus se hande en voete deur anders te dink en te leef as die wêreld

Reviewer: Rudy A. Denton1

Affiliation:
1Faculty of Theology, North-West University, South Africa

Email: rudydenton@vodamail.co.za

Postal address: PO Box 20015, Noordbrug 2522, South Africa

How to cite this book review: Denton, R.A., 2015, ‘Wees Jesus se hande en voete deur anders te dink en te leef as die wêreld’, In die Skriflig 49(1), Art. #1970, 1 page. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v49i1.1970

Copyright Notice: © 2015. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

Die tema van hierdie unieke publikasie, Net soos Jesus: Wees Jesus se hande en voete in die wêreld, leer en lei die leser om anders te dink en te leef as die wêreld. Die kernvraag van hierdie publikasie is of Jesus nog ’n impak op die denk- en leefwêreld van die mense van vandag het. Die outeur, Johan Smit, slaag inderdaad in sy doel met die publikasie om deur 38 bybelstudies ’n in-diepte verduideliking te gee van hoe mense anders dink, praat en optree wanneer hulle, in ooreenstemming met bepaalde Skrifgedeeltes, soos Jesus dink en leef. Die inhoud van elke studie word vanuit ’n koninkrykperspektief benader – ’n koninkryk wat naby gekom het soos deur Jesus uitgespel is. Deurentyd word die leser gemotiveer om Jesus as Koning te erken en om volgens die grondwet van sy koninkryk te lewe. Dit lei die leser tot selfondersoek. Verder inspireer en daag dit die leser uit om die grondwet van God se koninkryk as riglyn te aanvaar.

Elkeen van die 38 bybelstudies bespreek ’n bepaalde tema oor verskillende lewenspraktyke na aanleiding van Jesus se woorde en ander Skrifgedeeltes oor dieselfde tema. Die studies is in agt afdelings met verskillende temas verdeel: Die koninkryk het naby gekom; die Nuwe lewe in die koninkryk; Geloof en die koninkryk; Sleutelwoorde in die koninkryk; Nog sleutelwoorde; Gevare wat die koninkryk bedreig; Knelpunte in die koninkryk; en Verhoudings in die koninkryk.

By elkeen van hierdie studies kan die vraag gevra word: Wat sou Jesus doen?; of Wat het Jesus hieroor te sê? Die skrywer volg elke Skrifgedeelte op met vrae oor die onderwerp, sy eie besinning daaroor en ’n gedagte om oor na te dink.

Die publikasie is ’n unieke en handige bybelstudiegids en só geskryf dat gelowiges die inspirasie en uitdaging van die betrokke Skrifgedeeltes kan begryp. Die publikasie lewer ’n waardevolle bydrae tot die ‘Ontdek en beleef’-bybelstudiereeks. Deur die oë en begeleiding van die outeur word gelowiges gelei en uitgedaag om Jesus se hande en voete in die wêreld te wees. Dit inspireer en moedig die leser aan om die uitdaging van selfondersoek te aanvaar en binne die koninkrykperspektief anders te dink en te leef as die wêreld – kortom, om Jesus se hande en voete in die wêreld te wees.

Net soos Jesus: Wees Jesus se hande en voete in die wêreld kan aanbeveel word vir persone wat dieper delf in die bestudering van die Bybel. Dit sal lesers toerus om op praktiese wyses te leef volgens Jesus se riglyne vir die koninkryk. Inderdaad ’n besondere versameling studies, ideaal vir sowel individuele as groepbybelstudie, in een publikasie saamgevat. Die skryfstyl is gemaklik, verstaanbaar en getuig van deeglike navorsing.



Crossref Citations

No related citations found.