Article Information

Authors:
Fika Janse van Rensburg1
D. Francois Tolmie2

Affiliations:
1Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

2Department of New Testament, Faculty of Theology, University of the Free State, South Africa

How to cite this article:
Janse van Rensburg, F. & Tolmie, D.F., 2015, ‘Redaksionele voorwoord’, In die Skriflig 49(2), Art. #2013, 2 pages. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v49i2.2013

Copyright Notice:
© 2015. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Redaksionele voorwoord
In This Redaksioneel...
Open Access

Dit was vir ons as gasredakteurs 'n besondere voorreg om hierdie Festschrift vir ons gewaardeerde kollega, Professor Jan A. du Rand, saam te stel. Toe ons die uitnodigings aan kollegas uitgestuur het en hulle gevra het om 'n bydrae te lewer, was die reaksie deur die bank positief; almal wou graag 'n bydrae lewer om op so 'n manier erkenning te gee aan die reusebydrae wat Du Rand tot die uitbou van die Nuwe-Testamentiese Wetenskap in Suid-Afrika en ook internasionaal gelewer het. Hoe groot en wyd die bydrae is wat hy gelewer het en nog steeds lewer, sal die leser duidelik kan sien uit die eerste artikel in die bundel, waarin die outeur, Fika Janse van Rensburg, Du Rand se lewenslange akademiese liefdesverhouding met die Johannese geskrifte naspeur en sy bydrae as akademikus en as kerklike teoloog in diepte belig. Dit is die bedoeling van elke studie in hierdie bundel om op akademiese wyse erkenning te gee en waardering te betoon vir dié belangrike bydraes wat Du Rand tot sover gelewer het en nog steeds aan die lewer is.

'n Hele aantal artikels in hierdie bundel val binne die navorsingsveld waar Du Rand sy grootste akademiese bydrae gelewer het, naamlik die Johannese literatuur. Wat die Johannesevangelie betref, ondersoek Johannes Beutler die interpretasie van die begrip Ἰουδαῖος in Johannes 3:25 en maak dan 'n nuwe voorstel, naamlik dat dit as ‘Judeër’ verstaan moet word. Gert (Jorrie) Jordaan fokus op die belangrike tema ‘die blydskap om Christus te sien’ in die Johannesevangelie en toon hoe dit op 'n tipies Johannese spiraalwyse hanteer word en 'n klimaks bereik met die sien van die opgestane Christus. Kobus Kok vestig die aandag op die belangrike rol wat die idee van Jesus as Gevolmagtigde van die Vader in die Johannesevangelie speel: Dit funksioneer as Leitmotiv wat Christologie en soteriologie in dié Evangelie integreer. Gert Steyn ondersoek die aanhaling uit Genesis 28:12 (LXX) in Johannes 1:51 vanuit 'n nuwe hoek, naamlik vanuit die vraag na die Vorlage van die teks. Hy doen dit deur middel van 'n vergelyking tussen die teks in Johannes 1:51 en die drie weergawes daarvan in die Corpus Philonicum. In twee artikels bied Jan van der Watt die eerste omvattende oorsig van die navorsing oor die Johannesevangelie in Afrika. Die eerste artikel bied 'n analitiese oorsig van Johannese navorsing in Afrika, en die tweede artikel 'n geannoteerde bibliografie van dié navorsing. Daar is ook een bydrae oor die Johannesbriewe: Dirk van der Merwe toon aan hoe sekere taalkundige effekte in 1 Johannes 2:28–3:10 bepaalde spiritualiteite genereer.

Wat Openbaring betref, is daar ook 'n hele aantal bydraes: Pieter Venter vestig die aandag op 'n ander geskrif as Openbaring waarin apokaliptiek ook 'n belangrike rol gespeel het, naamlik 4Q-Instruksie. Hy toon aan hoe wysheids- en apokaliptiese denke in hierdie geskrif saamvloei en die sentrale rol wat die begrip raz niyeh in hierdie verband speel. Die siening dat Openbaring 'n geweldlose boodskap verkondig – 'n siening wat wyd in die Openbaringnavorsing voorkom – word in Pieter de Villiers se bydrae krities onder die loep geneem. Hy toon aan dat die saak veel meer kompleks is as wat algemeen aanvaar word en dat 'n mens nie tevrede moet wees met maklike antwoorde nie. Martin Pohlmann toon aan dat die visie van die Nuwe Jerusalem in Openbaring 21:1–22:5 meer as net 'n mooi droom vir die hiernamaals is; as dit reg begryp word, kan dit 'n direkte impak op 'n mens se lewe en op die samelewing hê. Die prediking van Openbaring 21:1–6 kom in Gerhard Bothma se studie aan die bod. Hy toon aan hoe 'n literêr-estetiese benadering tot prediking binne 'n verskuiwende kultuur 'n mens kan help om sinvol uit hierdie teks vir ons konteks te preek.

Die Sinoptiese Evangelies kry ook heelwat aandag: Marius Nel (NWU) ondersoek die geskeurde tempelgordyn in die Markusevangelie. Hy wys op die tweërlei betekenis van hierdie gebeure: Dit is 'n aanduiding van God se oordeel, maar illustreer terselfdertyd hoe die weg tussen hemel en aarde geopen word juis op die moment wanneer Christus sterf. Drie bydraes skenk aandag aan die Matteusevangelie: In sy studie wys Alan Culpepper hoe die Matteusevangelie sy Joods-Christelike lesers tydens die afskeiding van die sinagoge begelei om Jesus se onderrig as 'n nuwe onderrig oor geregtigheid en as 'n nuwe Torah te aanvaar. Francois Viljoen skenk ook aandag aan die Torah in die Matteusevangelie. In sy studie fokus hy veral op die sosio-historiese situering wat aanleiding gegee het tot die groot klem op die onderhouding van die Torah. In sy bydrae tree Marius Nel (US) met David Konstan in gesprek oor die interpretasie van interpersoonlike vergifnis in Matteus 18:15–35. Nel argumenteer dat dit nie na die afskryf van finansiële skuld verwys nie (soos Konstan beweer), maar na die vergifnis van morele skuld.

'n Aantal artikels word gewy aan temas uit die Pauliniese literatuur – 'n navorsingsveld waarin Du Rand ook 'n stewige bydrae gelewer het. Hermie van Zyl ondersoek die crux interpretum van die identiteit van die ‘ek’ in Romeine 7:14–25 en maak die keuse dat Paulus oor sy lewe praat vóór hy 'n volgeling van Christus geword het. Hy toon ook aan wat die implikasies hiervan vir die prediking is. Die manier hoe mense loop, is in die antieke tyd beskou as 'n belangrike visuele aanduiding van morele karakter en status. Stephan Joubert wys hoe Paulus sulke stereotipes in 2 Korintiërs 10–13 dekonstrueer deur 'n nuwe vorm van spiritualiteit gekoppel aan Christus se liggaamlike lyding aan die kruis. Pieter Maré belig die manier waarop die metafoor ‘julle is die tempel van God’ in 1 Korintiërs 3:16 op 'n sinvolle manier as 'n etiese kernmoment in 'n postmoderne leefwêreld kan funksioneer. In sy studie toon Francois Tolmie aan hoe Ambrosiaster se uitleg van die Filemonbrief 'n belangrike bydrae kan lewer tot die moderne retoriese analise van die brief.

In die laaste drie bydraes word aandag gegee aan die breër implikasies van die Christelike boodskap – 'n saak wat ook Du Rand na aan die hart lê. Amie van Wyk dink teologies na oor die plek en die betekenis van die koninkryk van God in die teologie en die kerk. Hy vestig die aandag op die feit dat hierdie saak in die verlede óf geïgnoreer is óf onderbelig is en stel voor dat die dogmatiek 'n afsonderlike locus oor die basileiologie kry. Koos Vorster vra die vraag of die Christelike huwelik 'n sosiale konstruk of 'n verbondsgegewe is. Hy voer aan dat die kerk laasgenoemde gedagte ernstig behoort op te neem en dat dit kan lei tot die vestiging van huwelike wat gekenmerk word deur menswaardigheid, liefde, getrouheid en die ontwikkeling van die geestesgawes van beide man en vrou. In sy artikel oor Bybelse spiritualiteit en transformasie plaas Christo Lombaard die konsep ‘transformasie’ binne die akademiese dissipline van Bybelse Spiritualiteit en bied dan 'n bruikbare oorsig van die voorkoms van dié begrip in die Bybel.

Met hierdie bydraes wil al die outeurs hulle erkentlikheid teenoor Du Rand sigbaar gestalte gee. Die groot ver­skeidenheid in die bydraes wil op 'n manier iets sê van die vele maniere waarop hy die studie van die Nuwe Testament in Suid-Afrika en internasionaal beïnvloed het en nog steeds beïnvloed, maar ook van die vele maniere waarop hy ons lewens geraak het – as akademikus, mentor, leiersfiguur en vriend!

Direk ná hierdie voorwoord verskyn 'n gedig wat spesiaal deur Cas Vos – nog een van Du Rand se waarderende kollegas – vir hierdie Festschrift geskryf is, ‘Jou Ithaka’. Die digter gebruik een van Du Rand se geliefde klassieke Griekse outeurs, Homeros, om sy vriend se lewensloop onder woorde te bring.



Crossref Citations

No related citations found.