In hierdie boek bekyk Janse van Rensburg en Nel die veelbesproke tema van ‘lewe na die dood’. Die skrywers fokus veral op die verskillende sienings waarmee die bybelse skrywers in aanraking gekom het asook die ontwikkeling van die konsep vanaf die antieke tyd.
Inhoudelik bestaan die boek hoofsaaklik uit drie gedeeltes. Die eerste gedeelte bestudeer wat die Ou Testament geskryf is oor wat op mense na die dood wag asook hoe omliggende kulture hierdie konsep bedink het. Buiten die Ou Testament word daar ook na sienings ten opsigte van die wêreld en tyd vanuit Egipte; Mesopotamië; en die Vedies-Indiese wêreld verwys. In hierdie gedeelte word ook na Israel se siening oor die wêreld en tyd gekyk gedurende die tyd van die konings en tydens die ballingskap. Die invloed van die Zoroastrisme word bespreek asook die ontwikkeling van apokaliptiese denke. Die tweede gedeelte bestaan uit ’n bespreking van die Joodse apokaliptiese geskrifte en hoe die konsep ‘lewe na die dood’ deur hierdie geskrifte beskou en uitgebou is. Die derde gedeelte ondersoek die konsep ‘lewe na die dood’ soos wat dit deur die Nuwe-Testamentiese skrywers uitgebeeld word.
Die inhoud van die boek getuig van deeglike navorsing en bespreek die tema van ‘lewe na die dood’ oor ’n baie wye spektrum van sienings. Die boek behoort aan Christen gelowiges ’n breë idee te gee hoe die mens se sienings oor tyd ontwikkel het en hoe verskillende kulture mense se sienings beïnvloed het. Dit werp ook lig oor die oorsprong van ons eietydse idees. Alhoewel dit ’n redelike gewigtige tema is, is die boek in ’n maklik volgbare trant geskryf.
Oor die algemeen bied die boek ’n baie goeie oorsig oor die onderskeie kulture en hulle sienings. Die oorvertel van die geskiedenis help om die agtergrond waarteen die Joodse geskrifte ontstaan het duidelik in te klee. Die geskiedenis-vertelling mag dalk as ’n oorlading van inligting beleef word deur lesers wat hierdie geskiedenis vir die eerste keer hoor.
Die bespreking en interpretasie van die bybelse tekste geskied vanuit ’n bepaalde Skrifbeskouing. Op bladsye 132 en 134 maak die skrywers hulle Skrifverstaan duidelik:
… [
Die Skrifbeskouing vorm die vertrekpunt vir die teologiese paradigma waarbinne die tema verstaan word. Die boek word deur die tradisionele teologiese paradigma van konfessionele teologie gekenmerk met die geloof dat die Bybel die Woord van God is en chronologies gestruktureerd is. Daar is nie ’n aanduiding van dialekties-krities georiënteerde teologiese denke nie. Hierdie konfessionele teologie word sterk deur argumente ondersteun met betrekking tot die hermeneutiese vertrekpunte van die skrywers.
Die grootste gedeelte van die boek word aan ’n bespreking gewy oor hoe omliggende kulture die mense se sienings beïnvloed het. Daar word ook na kultuur-spesifieke tekste oor ‘hemel en hel’, ‘oordeel’ en ‘ewige straf’ verwys om iets oor God se oordeel en redding te verklaar en te bewys. Na my mening behoort kultuur-spesifieke tekste binne hulle eiesoortige kontekste verstaan en geïnterpreteer te word. Dit kan nie as ’n maatstaf dien van hoe God Hom aan die mens openbaar nie. Die menslike aspek van die outeurs van die Bybelboeke en hulle milieu word wel aangeraak, maar nie in die bespreking van bybelsetekste verdiskonteer nie. Verskillende teologieë en tradisies soos wat veral in die Ou Testament gevind word, word beskou asof dit ’n ontwikkeling in denke is, terwyl dit in baie gevalle mekaar weerspreek. Die aanmerking op bl. 197 ten opsigte van mense wat moontlik sodanig gestremd is dat hulle nie die evangelie kan verstaan nie, is myns insiens ’n non-vraag en ’n aanduiding van teologiese gedagtes waar die mens poog om God binne die mens se teologiese paradigma te begryp. Is geloof nie meer spiritueel as rasioneel nie? Moet geloof met die verstand verstaan word? Is dit nie waarom Jesus juis gesê het dat die koninkryk vir die eenvoudiges is en vir dié wat soos ’n kind glo nie? Die laaste paar bladsye van die boek, probeer myns insiens te hard om God binne ’n bepaalde paradigma te verstaan en te verklaar.
Die boek bied interessante leesstof met betrekking tot ’n tema waaroor mense nog altyd gewonder het, naamlik die lewe na die dood. Indien daar een tema is waaroor daar nie eenstemmigheid is nie, is dit ten opsigte van wat ná die dood op mense wag. In hierdie boek bestudeer Fika Janse van Rensburg en Marius Nel hierdie tema. Die boek word deur ’n bepaalde Skrifverstaan gekenmerk, maar kan ook aan die kritiese leser genoeg stof tot nadenke bied, of selfs as stimulus tot verdere navorsing dien. Die boek getuig van goeie navorsing.