About the Author(s)


Andries W.G. Raath Email
Department of History, University of the Free State, South Africa

Citation


Raath, A.W.G., 2017, ‘Transkonfessionalisme, konstruktivisme en Karel Schoeman (1939–2017) oor die Kaapse piëtisme’, In die Skriflig 51(1), a2249. https://doi.org/10.4102/ids.v51i1.2249

Original Research

Transkonfessionalisme, konstruktivisme en Karel Schoeman (1939–2017) oor die Kaapse piëtisme

Andries W.G. Raath

Received: 07 Mar. 2017; Accepted: 06 June 2017; Published: 05 Sept. 2017

Copyright: © 2017. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

Transconfessionalism, constructivism and Karel Schoeman (1939–2017) on Cape pietism. The South African historiographer Karel Schoeman’s (1939–2017) research on 17th and 18th-century ecclesiastical life and Protestant spirituality at the Cape is embedded in the context of transconfessional and transnational pietism research. As such, Schoeman’s transconfessional approach produces important correctives to traditional constructivist pietism approaches. Schoeman’s approach enables him to study Cape Protestant spirituality of the 17th and 18th centuries within the context of pietism being the most significant devotional movement (Frommigkeitsbewegung) of Protestantism after the Reformation, manifesting pietism primarily as a religious phenomenon with astonishing spatial, temporal, social, spiritual, church-confessional and theological complexities that arose around the turn of the 16th to the 17th century from criticism of the existing ecclesiastical and spiritual relations at nearly the same time in England, the Netherlands and Germany. From there it spread to Switzerland, Scandinavia, Eastern Europe and the United States. It contributed to a great extent to the worldwide Protestant mission and has remained an active movement into the present

Inleiding

Die Duitse kerkhistorikus Heinrich Heppe se pionierstudie Geschichte des Pietismus und der Mystik in der reformierten Kirche, namentlich der Niederlande (1879) was die eerste om ’n indringende ondersoek na die Nederlandse gereformeerde piëtisme teen die agtergrond van die piëtisme as transnasionale verskynsel te doen. Heppe beskou piëtisme as ’n spesifieke Protestants-kerklike ontwikkeling. In die lyn van Philipp Jakob Spener (1635–1705) definieer Heppe (1879:6) die piëtisme as die strewe na die voltooiing van die sestiende-eeuse Kerkhervorming, synde ’n blote reformasie van die leerstellige met verwaarlosing van lewensvroomheid, naamlik ‘das Streben nach Vervollständigung der Kirchenreformation des sechzehnten Jahrhunderts als einer blosen Reform der Lehre durch Erweckung der pietas oder eine Reform des Lebens’.

’n Jaar ná Heppe se werk verskyn Albrecht Ritschl se driedelige Geschichte des Pietismus (1880–1886). In hierdie werk gee Ritschl ’n geheelbeeld van die piëtisme, sowel as die gereformeerde en Lutherse variante daarvan. Ritschl kom tot die teenoorgestelde bevinding as Heppe: die piëtisme verteenwoordig nie ’n voltooiing van die Reformasie nie, maar was verantwoordelik vir die deformasie daarvan. Ten spyte van meningsverskille oor die kerkhistoriese gevolge van die piëtisme in die Protestantse wêreld, deel Heppe en Ritschl minstens twee perspektiewe wat vir piëtisme-navorsing van deurslaggewende betekenis is: eerstens, die piëtisme is ’n Protestantse verskynsel van internasionale omvang; en tweedens, die mistiek as kerkhistoriese fenomeen is nie tot die Protestantse spiritualiteit beperk nie, maar staan in direkte verband daarmee.

Heppe se weerstand teen die verabsolutering van die Lutherse (oftewel Spenerse) piëtisme en die implikasies van Ritschl se standpunt dat die Lutherse piëtisme uit die gereformeerde piëtisme voortspruit, het vir langer as ’n eeu navorsing oor die sewentiende- en agtiende-eeuse piëtisme in Nederland rigtinggewend beïnvloed. Piëtisme-navorsing is sedertdien in twee duidelik onderskeibare tendense te onderskei: enersyds, navorsers wat die aard van die piëtisme in die transkonfessionele en internasionale karakter daarvan soek; en andersyds, diegene wat konstruktivisties die nasionale vergestaltings van die piëtisme as normatief vir piëtisme-studie opneem.

Die konstruktivistiese benadering tot die Nederlandse piëtisme beklemtoon die Nadere Reformasie as ’n unieke geestesbeweging wat min verband met die Duitse piëtisme het. Suid-Afrikaanse navorsers soos Hofmeyr en Malan het hierdie benadering gevolg en die inslag en voortgang van die piëtisme aan die Kaap tot die Nadere Reformasie beperk.

Die afgelope twee dekades het Karel Schoeman (1939–2017) se historiografiese publikasies oor die sewentiende- en agtiende-eeuse Kaapse geskiedenis toenemend aandag vir die internasionale en transkonfessionele aard van die piëtisme as Europese verskynsel gevra. Die implikasies van Schoeman se navorsing is vir die historiografiese en teologiese navorsing oor die Kaapse piëtisme van diepgaande betekenis: piëtisme is nie tot die Nadere Reformasie beperk nie – laasgenoemde word as term vir die Nederlandse piëtisme gebruik. Die piëtistiese beïnvloeding van die Protestantse spiritualiteit aan die Kaap vertoon ’n bepaalde transkonfessionele karakter en benewens Lutherse en Nederlandse invloede het Engels-Skotse Puritanisme meegedoen in die identiteitsvorming van die Kaapse piëtisme. In hierdie artikel word veral op twee aspekte van Schoeman se navorsing gefokus: eerstens, wat behels sy transkonfessionele tipering van die piëtisme aan die Kaap; en tweedens, wat is die implikasies daarvan vir piëtisme-navorsing in ’n transnasionale verband.

Karel Schoeman se tipering van die Kaapse piëtisme

Die historiografiese datering van die Kaapse piëtisme

In Nederlandse verband het S. van der Linde die voortou geneem om die term piëtisme konstruktivisties vir die Duitse piëtisme te reserveer en sy voorkeur vir ‘Nadere Reformasie’ ter tipering van die Nederlandse piëtisme uit te spreek (kyk ook Van der Linde 1954:215–225; 1967:5–16; 1973:193–205; 1976a:6–21; 1976b:246–267; 1976c:189–200). Van der Linde se navolger, C. Graafland, brei hierdie onderskeid tussen die piëtisme en die Nadere Reformasie uit deur ’n konstruktivistiese metodologie ter beskrywing van die Nederlandse piëtisme van die sewentiende en agtiende eeu aan te wend. In sy vergelykende studie oor die Reformasie en Nadere Reformasie, tref hy onderskeid tussen die sistematiese en stigtelike skrywers van die Nadere Reformasie. Tot die eerste groep reken hy Guilielmus Amesius (1576–1633), Gisbertus Voetius (1589–1676), Johannes Coccejus (1603–1669) en Hermannus Witsius (1636–1708); tot die laaste groep word Ian Tafiin (c. 1528–1602), W. Teellinck (1579–1629), Jacobus Koelman (1633–1695) en W. à Brakel (1635–1711) gereken. Volgens Graafland (1961) het die Nadere Reformasie ’n geleidelike oorgang na piëtisme beleef – ’n tendens wat in vergelyking met die Reformasie rasionaliserend en verengend afgeloop het. ’n Soortgelyke beperkende visie op die Nadere Reformasie kulmineer by T. Brienen, L.F. Groenendijk, W.J. Op ’t Hof en C. Meeuse in ’n definisie wat poog om hierdie beweging van die piëtisme te onderskei. Uitgaande van die veronderstelling dat die Nadere Reformasie uitsluitlik op die sewentiende eeu betrekking het, definieer hulle hierdie Protestantse godsdiensbenadering as synde die beweging binne die Nederlandse Gereformeerde Kerk wat teen die algemeen verbredende wantoestande en misopvattinge in die Kerk gerig was en wat die verdieping en verbreding van die sestiende-eeuse Hervorming beoog het en met profetiese geesdrif hulle vir die innerlike deurlewing van die gereformeerde leer en die persoonlike lewensheiliging sowel as die radikale en totale heiliging van alle terreine van die lewe beywer het (Brienen et al. 1983:109–113).

Die Duitse skrywer Johannes Wallmann het beslag gegee aan die konstruktivistiese benaderings tot die piëtisme deur histories-kronologies tussen Nadere Reformasie en piëtisme te onderskei (Wallmann 2010):

Wie niemand in Deutschland gegenwärtig noch von einem englischen Pietismus redet, so ist auch die Rede von einem niederländischen Pietismus durch das Aufkommen des Begriffs, ’nadere Reformatie’ problematisch geworden. (p. 414)

Wallmann se kronologiese onderskeid behels dat die Nadere Reformasie ongeveer ’n eeu vroeër as die piëtisme begin en ’n hoogtepunt bereik nadat laasgenoemde ’n aanvang geneem het. Die hooffigure van die Nadere Reformasie, naamlik Ian Taffin (1528–1602), Willem Teellinck (1579–1629), sy broer Eewoud Teellinck (1571–1629), Godefridus Udemans (1581/1582–1649), William Ames (1576–1633), Gisbertus Voetius (1589–1676), Andreas Essenius (1618–1677), Johannes Hoornbeeck (1617–1666), Theodorus à Brakel (1608–1669), en Jodocus van Lodenstein (1620–1677) was gevolglik persone wat gedurende die eerste twee-derdes van die sewentiende eeu – met gedeeltelike teruggrepe op die sestiende eeu – opgetree het (Wallmann 2010:417). Wallmann (2010:417) deel Wilhelm Goeters se standpunt dat hierdie skrywers wat aan die ‘voorbereiding van die piëtisme’ ’n aandeel gehad het, strenggesproke tot die Dordrechtse Ortodoksie behoort en dat die Nederlandse piëtisme eers in 1670 by Johannes de Labadie (1610–1674) ontstaan het.

In vergelyking met die Duitse piëtisme behels Wallmann se kronologie dat die hooffigure van die Nadere Reformasie nie tydgenote van die vroeë Duitse piëtiste is nie, maar eerder van die Lutherse Ortodoksie van die sewentiende eeu. Die hervormingsidee van die piëtisme in die Lutherse Kerk het ’n aanvang by die Lutherse Ortodoksie geneem. Was die Nadere Reformasie die historiese ekwivalent van die hervormingstrewe van die Lutherse Ortodoksie? Anders gestel: Het die Nadere Reformasie kronologies ’n voorsprong op die piëtisme gehad? Volgens Wallmann (2010:418) was die Nadere Reformasie nie die ekwivalent van die piëtisme nie, maar die Nederlandse ekwivalent van die Arndtse vroomheidsbeweging wat, terminologies gesproke, nie tot die piëtisme behoort nie. Die Arndtse vroomheidsbeweging val gevolglik saam met die aanvang van die Nadere Reformasie, terwyl die piëtisme as spirituele beweging eers by Spener begin (Wallmann 2010:218 e.v.). Vervolgens is die Arndtse vroomheidsbeweging grootliks op die verbetering van die individu in die nastrewing van vroomheid gerig (Wallmann 2010:418 e.v.). Die Nadere Reformasie stem daarom eerder met die Lutherse Ortodoksie ooreen as wat dit met die piëtisme saamval (Wallmann 2010:419).

Volgens Wallmann stam die klassieke stigtelike literatuur van die Duitse Lutheranisme nie uit die piëtisme nie, maar uit die Lutherse Ortodoksie. In Nederland was die ‘Oude Schrijvers’ – die stigtelike outeurs van die sewentiende eeu – deel van die Nadere Reformasie. Die Nadere Reformasie vloei dus nie uit die Nederlandse Ortodoksie soos die piëtisme in Duitsland uit die Ortodoksie nie. Die Nadere Reformasie was gevolglik geen navolging van die Ortodoksie in Nederland nie, maar was self die gereformeerde Ortodoksie in praktiese gestalte. Daarteenoor was die klassieke stigtelike boeke van die Lutherane die uitvloeisel van die Lutherse Ortodoksie van die sewentiende eeu en nie van die piëtisme nie (Wallmann 2010:420 e.v.).

In die vroeëre Suid-Afrikaanse piëtisme-navorsing was die neiging om die term Nadere Reformasie vir sowel die sewentiende as die agtiende-eeuse Nederlands-gereformeerde skrywers te gebruik. C.J. Malan gebruik byvoorbeeld die term ‘Oude Schrijvers’ om die Nederlandse kerklike beweging aan te dui wat in Zeeland ’n aanvang geneem en mettertyd deur die hele Nederland versprei het (Malan 1984a:13–36; 1984b:442). Malan identifiseer Voetius as die outeur met die grootste invloed in hierdie beweging. Die strewe van die Nadere Reformasie was om ’n nadere reformasie van die kerklike lewe en alle terreine van die Nederlandse volkslewe te bewerkstellig (Malan 1984b:442). Die stimulus hiertoe was die pleidooie wat reeds by die Sinode van Dordrecht vir die praktiese beoefening van die godsaligheid (praxis pietatis) opgegaan het (Malan 1984b:442). Malan (1984b:443) beperk die Nadere Reformasie tot ’n godsdiensbeweging wat uitsluitlik tot Nederland beperk was en rigtinggewend deur praktiese omstandighede in die Nederlandse Gereformeerde Kerk beïnvloed is. Van hierdie omstandighede was kerklike deformasie, verwêreldliking en toenemende sekularisasie op alle lewensterreine aspekte wat direk tot Nadere Reformasie aanleiding gegee het (Malan 1984b:444). Die gees van verwêreldliking skryf Malan (1984b:445) grootliks aan die invloed van Johannes Coccejus toe. Met die oog op ’n sistematiese studie van die Nadere Reformasie gebruik Malan (1984b:452) kriteria soos geografiese lokalisering, mistieke affiniteite, kerklike betrokkenheid, profeties-historiese bydraes en ’n fase-indeling van die belangrikste skrywers . Die eerste fase was ’n profetiese tydperk, gevolg deur ’n mistieke fase met gepaardgaande verinnerliking van die godsdienstige lewe, en uiteindelik ’n derde fase van verstarring. Die tydperk van die Nadere Reformasie dek, volgens Malan, die hele tydperk van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) se bewind aan die Kaap – vanaf die vestiging in 1652 tot met die einde van die Kompanjie in 1795. Hierdie benadering was bykans die teenoorstaande van dié van Heppe en Ritschl.

Hoewel Karel Schoeman nie ’n tydsaanduiding vir die ontstaan van die piëtisme gee nie, trek hy wel bepaalde piëtistiese lyne tot in die sewentiende eeu deur. Hy (Schoeman 1996:12) identifiseer reeds onder Nederlandse Protestante ’n lankgevestigde piëtistiese stroming wat deur godsdienstige ontwikkelings in Duitsland en die Herrnhutter Broedergemeente beïnvloed is. In die aanvangsfases van die Nederlandse piëtisme ken Schoeman (2011:270–272) ’n belangrike rol aan Jacobus Koelman se invloed toe. Schoeman (2014:300–301) bring die Nederlandse piëtisme-opbloei direk in verband met die stroewe en formalistiese kerklike bediening van die sewentiende en agtiende eeu. Benewens Nederlands-piëtistiese strominge onderskei hy (Schoeman 1997b:123–126) ook vroeë Duitse en Engelse piëtistiese neigings. Voorts beklemtoon hy (Schoeman 1997b:278–280) die taning van die Nederlandse piëtisme teen 1720 en wys op die skouspelagtige opbloei van die piëtisme tydens die Nijkerkse beroeringe van 1749. Hoewel Nederlandse skrywers na ‘Nadere Reformasie’ verwys, verkies Schoeman (1997b:125) om van Nederlandse piëtisme te praat.

Schoeman (1997a:27) beskryf die Kaapse piëtisme as ’n spirituele verskynsel wat na vore getree het nadat die piëtisme in Nederland reeds sy aansien verloor het. Dit word aanvaar dat Theodorus van der Groe (1705–1784) – wat ook uitgebreide korrespondensie met Susanna Bosman (weduwee De Vries) aan die Kaap gehandhaaf het –die laaste verteenwoordiger van die Nadere Reformasie (as Nederlandse piëtisme) was (Schoeman 1997a:27). Hoewel die Kaapse inwoners eerste kontak met die Duitse piëtisme gehad het, het die Nederlandse piëtisme later in die agtiende eeu ’n blywende impak op die Kaapse piëtisme uitgeoefen (Schoeman 1997b:128 e.v.) – ook vanweë die werwing van Duitsers deur die VOC in die Nederlands-Duitse grensgebied (Schoeman 2010a:217–218). Teen die einde van die agtiende eeu vind die opbloei van piëtisme aan die Kaap dus plaas toe dit in Nederland reeds ‘uitgebloei’ was (Schoeman 1997b:279–280). Die lae peil van geestelike lewe aan die Kaap met die meegaande tendense van lang, omslagtige, hoogdrawende preke (‘serebraal vol welluidende retoriek’), het ’n beduidende bydrae tot die voortgaande verbreding van die piëtisme onder die Kaapse gelowiges gelewer (Schoeman 1997b:119). Die aanwesigheid van ’n beduidende getal Lutherse gelowiges van Duitse oorsprong, tesame met die nawerking van die Morawiese sendeling Georg Schmidt en die Herrnhutter-sending, het tot die langwerkende effek van die piëtisme aan die Kaap bygedra (Schoeman 1999:214; 2010b:99 e.v.; 2013:410 e.v.). Die invloed van stigtelike leesstof van Lutherse oorsprong word deur Schoeman (1997a:25) as ’n belangrike bydrae tot verdieping van die piëtisme aan die Kaap beskou. Gedurende die tweede helfte van die agtiende eeu het die piëtisme-beweging ’n sterk neiging tot selfekspressie veral onder Kaapse vroue gehad (Schoeman 1997a:25). Ook onder invloed van die Londense Sendinggenootskap bereik die piëtisme in 1860 ’n hoogtepunt – ’n herlewing waarin ds. Van der Lingen ’n groot aandeel gehad het (Schoeman 2010b:108). Schoeman is daarom van mening dat die piëtisme op Suid-Afrikaanse bodem later as die vergestalting daarvan in Europa na vore getree het en langer ’n modebeweging aan die Kaap was as die Europese eweknie-spiritualiteit.

Die Kaapse piëtisme as transnasionale verskynsel

Karel Schoeman se navorsing oor die piëtisme aan die Kaap het vanaf ’n konstruktivistiese siening tot dié van ’n transkonfessionele standpunt verbreed. In sy biografie oor Susanna Smit (1799–1863) en sy ondersoek na die piëtisme in die vroeë geskrifte van Suid-Afrikaanse vroue figureer die piëtisme aan die Kaap as ’n manifestasie van die Nadere Reformasie (Schoeman 1995:168–169). In sy biografie oor Machtelt Smit (1749–1821) beskryf Schoeman (1997b) die piëtisme egter as ’n transnasionale en transkonfessionele fenomeen, synde deel van ’n beweging wat gedurende die sewentiende eeu onder Protestantse gelowiges van Noord-Europa ontwikkel het in reaksie op wat hulle as die formaliteit en dogmatisme van die amptelike kerkgenootskappe ervaar het. Bowenal is dit in die sewentiende eeu sterk deur die ywerige vertaling van Engelse stigtelike werke in die Duitse taal bevorder (Schoeman 1997b:123–126). Die bedoeling met die piëtistiese beweging was geensins om van die bestaande kerke weg te breek nie. Dit was eerder bedoel om hulle bediening aan te vul deur lidmate wat oor hulle sieleheil besorgd was vir wedersydse stigting en bemoediging bymekaar te bring om naas leersuiwerheid ook aandag aan lewensheiliging en vroomheid te skenk tesame met ’n uitgesproke neiging tot mistiek (Schoeman 1997b:124). Die piëtisme as internasionale en nie-dogmatiese beweging het volgens Schoeman (1997b:124) geensins die lidmate aangespoor om van die bestaande kerke weg te breek nie, maar eerder om hulle bediening aan te vul deur konventikels, klein, informele huisbyeenkomste, gemeenskaplike ondersteuning asook stigting en bemoediging buite die beheer van die kerk, gemeente of predikant. Vervolgens beskryf Schoeman (1997b:124–125) die piëtisme breedweg as ’n spirituele beweging met die klem op persoonlike bekering, geestelike wedergeboorte, sondebesef, ’n hunkering na Christus se inwoning in die gelowige siel, die onderskeid tussen verstandskennis van God en Christus se genadige geskenk van redding, daaglikse en voortdurende selfondersoek en die skep van ’n nuwe alledaagse spiritualiteit waarin teologisering geen plek het nie. Die transkonfessionele ontluiking van die piëtisme word deur Schoeman (1997b:126) deels toegeskryf aan die intense wisselwerking binne die destydse Protestantisme soos die oriëntasie van sommige hooffigure op die Engelse en Skotse Puritanisme.

Die onderskeidende aard en inslag van die Kaapse piëtisme

Tradisionele historiografiese interpretasies van die sewentiende- en agtiende-eeuse spiritualiteit aan die Kaap verskraal dit tot die Nederlandse Nadere Reformasie. Hierdie benaderings het veelal negatief op die piëtisme se invloed aan die Kaap gereageer. Die herdenking in 1952 van Van Riebeeck se aankoms in Suid-Afrika in 1652, het beduidend tot hierdie standpunte bygedra. In die Boekspieël van Suid-Afrika (Komitee vir Boekuitstalling Van Riebeeck-Fees 1952), ’n gepubliseerde uitstallingskatalogus van Nederlandse boeke in Suid-Afrika, ter herdenking van die aankoms van Jan van Riebeeck aan die Kaap op 6 April 1652, word na ’n 1860-kongresrede van John Murray verwys in die opsig dat:

(v)oorheen heeft men uit Holland ingevoerd de predikatie- en gebedenboeken der voorvaderen, gelijk dit nog geschiedt. Bekend is het hoe gewild, vooral in sommige afgekegene districten, de werken van Sluiter, Mel, Smytegelt en à Brakel nog zijn. (bl. 49–40)

Die boeke wat in die katalogus opgeneem is, gee bykans uitsluitlik ’n beeld van die geestelike vroomheidsliteratuur, preekbundels, gebedeboeke, en stigtelike liedere en psalmboeke van Nederlandse oorsprong. Slegs één Duitse bron is opgeneem: die Lutherse Bybel (Komitee vir Boekuitstalling Van Riebeeck-Fees 1952:56–61).

In sy bydrae tot die 300-jarige herdenking van die vestiging van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika maak F.J.M. Potgieter (1952:48) melding van die opkoms van die Spenerse piëtisme in Duitsland asook die ‘verteenwoordigers van die piëtistiese rigting’ in Nederland en dat baie gelowiges aan die Kaap by gebrek aan ware geestelike spyse ‘gedurende die eerste helfte van die agtiende eeu by die opkomende piëtisme besieling gaan put’ het. Vervolgens noem hy (Potgieter 1952:48–49) Willem Teellinck, Gerhard Tersteegen (1697–1769), Wilhelmus à Brakel, Abraham Hellenbroek (1635–1731), Bernardus Smytegelt (1665–1739), Jacobus Borstius (1612–1680), Theodorus van der Groe (1705–1784) en Wilhelmus Schortinghuis (1700–1750) as verteenwoordigers van die piëtistiese rigting – almal eksponente van die Nadere Reformasie. Hoewel die piëtisme op ‘prysenswaardige wyse’ groot nadruk op die vroom lewenswandel gelê het, was die grootste tekortkoming daarvan dat dit die aksent van die Skrif na die subjek verskuif het. Die gevolg daarvan was dat daar nie genoeg ag geslaan is op die feit dat die Woord van God ook norm van die ‘verdowe ervaring’ is nie (Potgieter 1952:49). Waar die Skrif nie sentraal staan nie, kon die piëtisme ook nie streng teosentries wees nie, en kon die leer aangaande die Vader en die Heilige Gees nie tot sy reg kom nie (Potgieter 1952:49). Die belangrikste kenmerke van die piëtisme is, volgens Potgieter (1952):

dat dit alle mense deur ’n langdurige, bange worsteling, die Busskampf, tot bekering wil lei, en dat die bekeerdes hulle dan separatisties in afsonderlike geselskappe of ‘konventikels’ terugtrek. Hierdie wêreldmyding het as noodwendige gevolg dat die godsdiens altyd as iets aparts naas die natuurlike lewe bly staan en nie organies inwerk op maatskappy, volk, staat, kuns, wetenskap, ens., nie. (bl. 49)

In Malan (1981; kyk ook Malan 1984a) se werk Die Nadere Reformasie erken hy dat oor die begrip Nadere Reformasie ’n ‘Babelse spraakverwarring’ heers (bl. 1); dat die onderskeid tussen die terme Piëtisme en Nadere Reformasie moeilik te bepaal is (bl. 1); en dat ‘Nadere Reformasie’ ’n nuwe benaming vir hierdie geestestroming is, maar nie van volgehoue kritiek gevrywaar kan word nie (bl. 2). Vervolgens beskryf Malan (1981:3) die Nadere Reformasie as ’n Nederlandse kerklike beweging uit die sewentiende eeu wat in Zeeland begin en gaandeweg deur die hele land versprei het. Die wortels van die Nadere Reformasie lei Malan (1984a:2–7) hoofsaaklik terug tot Johannes Calvyn (1509–1564), die Skolastiek, die mistiek en die Moderne Devosie. Malan kom tot die slotsom dat die werke van die Nadere Reformasie die godsdienstige ingesteldheid van sewentiende-en agtiende-eeuse Kaapse inwoners bepaal het. Hy (Malan 1984a:43) lei dit af uit beskikbare eksemplare in museums, biblioteke of privaatbesit: ‘Ek het Sluyter, Smijtegelt, à Brakel, Hellenbroek, Mel, Van Lodenstein, Groenewegen en Costerus behandel, omdat ek hulle werke kon opspoor.’ Malan (1984a) voeg by:

Al het ek nie bewyse daarvoor nie, is ek seker dat die werke van die manne van die Nadere Reformasie naamlik Taffin, Willem Teellinck, Amesius, Voetius, Johannes Teellinck, Koelman, Theodorus à Brakel, Van Lodenstein, Comrie en Van der Groe, met net soveel aandag deur ons voorouers gelees is. Of laat ek dit nog breër stel: wie weet hoeveel werke van die meer as 500 skrywers van die Nadere Reformasie (genoem in Bylae A) is nie deur ons voorouers met vrug gelees nie! (bl. 43)

In Malan (1984b) se bydrae tot ’n versamelwerk oor die invloed van die Reformatoriese tradisie, ‘The old authors (Oude schrijvers) and their influence on Calvinism in South Africa’, kom hy tot die volgende slotsom rakende die invloed van die Nadere Reformasie op die vroeë inwoners in Suid-Afrika:

The one point is that they had a very real influence on our ancestors. Yet their influence had not been such that South African Calvinism could be side-tracked. On the contrary. Under the blessing hand of the Lord our God Calvinism has known phenomenal growth at the southern tip of the African continent. Soli Deo Gloria! (p. 466)

Die afgelope drie dekades het Karel Schoeman se historiografiese navorsing oor die sewentiende- en agtiende-eeuse kerklike lewe en spiritualiteit aan die Kaap ook belangrike korrektiewe op die tradisionele verskraling van die Kaapse piëtisme tot die Nadere Reformasie gebring. In sy voorloper-publikasie oor piëtistiese tendense onder vrouegelowiges in Suid-Afrika, stel Schoeman (1995:31 e.v.) die rol van die Londense Sendinggenootskap sentraal. Hy voeg by dat die Nederlandse piëtisme of ‘Nadere Reformasie’ die Christosentriese inslag van die Sendinggenootskap versterk het en dwarsdeur die agtiende eeu tot taamlik diep in die negentiende eeu onder blanke gelowiges van Suid-Afrika werksaam was – binne die raamwerk van die Calvinisme, maar buite die struktuur van die amptelike Kerk. Mettertyd gee Schoeman blyke van sy oorgang vanaf die tradisionele konstruktivistiese piëtisme-interpretasies na ’n transnasionale piëtisme van transkonfessionele aard.

In sy biografie oor J.J. Kicherer en die vroeë sending identifiseer Schoeman (1997b:278–281) ’n sterk piëtistiese stroming wat gedurende die agtiende eeu verder beïnvloed is deur godsdienstige ontwikkelings in Duitsland en die vestiging van die Broedergemeente (of Morawiërs) te Zeist in 1746. Hy maak ook melding van die invloed van die Europese piëtisme waarmee besoekende predikante en lede van die plaaslike Lutherse gemeenskap aan die Kaap in aanraking gebring is (Schoeman 1997b:278–279).

In ’n studie oor die spirituele literatuur van vrouegelowiges aan die Kaap, verreken Schoeman (2010b:98 e.v.) die bydrae van die Duitse bevolking tot die godsdienstige inslag aan die Kaap. Die sendeling Georg Schmidt se koms na die Kaap lei tot ’n onmiddellike opbloei van vroomheid vanweë die aanwesigheid van ’n beduidende aantal Lutherane van Duitse herkoms en die betreklik wye beskikbaarheid van stigtelike leesstof wat die piëtistiese neigings versterk het (Schoeman 2010b:98 e.v.).

In sy biografie oor die vroulike piëtis en sending-yweraar, Machtelt Smit, kom Schoeman (1997b:123–124) tot die gevolgtrekking dat selfs die Nederlandse immigrante na die Kaap nie noodwendig Calviniste was nie, terwyl Duitsers en Skandinawiërs aan die Kaap oorwegend Lutherane was, sodat daar nie-amptelik ‘op godsdienstige vlak dus meerdere godsdienstige strominge aan die Kaap aanwesig’ was en ‘die vernaamste daarvan kan waarskynlik op veralgemenende wyse as piëtisme beskryf word’

As transnasionale godsdiensbeweging beskryf Schoeman die piëtisme as deel van ’n beweging wat gedurende die sewentiende eeu onder Protestantse gelowiges van Noord-Europa ontwikkel het in reaksie op wat hulle as die formaliteit en dogmatisme van die amptelike kerkgenootskappe ervaar het. Dit was ingeskakel by ’n komplekse proses van kulturele en godsdienstige interaksie tussen Protestantse handelsnasies rondom die Noord- en Oossee – Skotland, Engeland, Nederland, Noord-Duitsland, Skandinawië en die Baltiese lande – wat deur skeepsvaarders, koopmanne, studente, reisigers, emigrante en vlugtelinge bevorder is en ook na Noord-Amerika oorgedra is. Dit is ook deur die vertaling van Engelse stigtelike werke in die Duitse taal versprei (Schoeman 1997b:123–124). As breë aanduiding van die piëtistiese spiritualiteit beskryf Schoeman (1997b:124) dit in terme van persoonlike bekering, geestelike wedergeboorte, sondebesef, ’n hunkering na Christus se inwoning in die gelowige siel, die onderskeid tussen verstandskennis van God en Christus se genadige geskenk van kennis van redding, daaglikse en voortdurende selfondersoek, en nederigheid; dus, die skep van ’n nuwe alledaagse spiritualiteit waarin teologisering geen plek het nie.

Schoeman (1997b:126; 2010a:217–218) se ondersoek na die Lutherse piëtisme en die inslag daarvan in die Kaapse nedersetting het toenemend die invloed van die Duitse piëtisme beklemtoon: eerstens in Nederland vir sover daar gedurende die sewentiende en agtiende eeu noue kontak tussen Nederland en die aangrensende Duitse state bestaan het veral deur werwing van arbeiders deur die VOC. Tweedens het dit aan die Kaap deur direkte kontak van die Kaapse inwoners met die Duitse piëtisme (Schoeman 1997b:128), Zinzendorf se Morawiese Broeders (Schoeman 2011:278–279), Duitse himnodie (Schoeman 1997b:130), publikasies van diverse mistiek-piëtistiese inslag (Schoeman 1997b:134), die aktiewe Lutherse gemeente aan die Kaap (Schoeman 1997b:278–281; 1999: 214, 2010b:98), boekverspreiding veral deur die Nederlander Johannes Needer (Schoeman 1997b:134–136; 2001:370–371; 2011: 270–272) en besoekende Duitse sendelinge aan die Kaap voorgekom (Schoeman 2012:410; 2014:300–301).

Die Kaapse piëtisme wat uit diverse piëtistiese rigtings geïnspireer en gevoed is, word deur Schoeman (1997a:25) getipeer as ’n informele, nie-sektariese godsdienstige beweging wat baie aandag aan die lewensheiliging en vroomheid van die individu geskenk het. Dit is deur die bestaan van konventikels, synde klein, informele huisbyeenkomste van gelowiges gekenmerk en het ’n belangrike bydrae tot die opkoms van die sendinggedagte in die agtiende eeu gelewer.

Schoeman identifiseer ’n aantal verskille tussen die Nederlandse en Kaapse piëtisme. Eerstens is dit moontlik dat die sterk Duits-Luthers-Morawiese invloede wat aan die Kaap geheers het in sekere mate ’n teenwig vir die oordrywings van die ‘Presieses’ in Nederland en elders kon verskaf (Schoeman 1997b:279–280) en dat die gees van die agtiende-eeuse Nederlandse piëtisme op daadwerklike wyse onder gelowiges ingevoer en versprei is as teenwig vir die invloed wat so lank deur Lutherane en Morawiërs hier uitgeoefen is (bl. 323). Die vroomheid in Kaapse kringe wat meestal uit onopgeleide mense bestaan het, het veral die vorm aangeneem van die kompulsiewe en meganiese aaneenryging van min of meer toepaslike Skrifaanhalings of geykte passasies uit stigtelike werke om op bykans ‘inkantoriese wyse’ die gewenste stemming van berou, ootmoed of dankbaarheid onder die betrokkenes tot stand te bring (Schoeman 2010b:104–105).

Voorts was die Kaapse piëtisme in sy verwysingsveld sterker Ou-Testamenties gekleurd as in Europa en in ’n groter mate op God die Vader gerig’ Dit kan moontlik as die mees besondere bydrae van die publieke kerk en sy prediking tot die Kaapse piëtistiese stroming gesien word (Schoeman 2010b:104–105). Die kenmerkende piëtistiese stroming in die Suid-Afrikaanse geloofslewe het waarskynlik sy kulminasie bereik in die groot herlewing wat in 1860 tot 1861 binne die Nederduitse Gereformeerde Kerk plaasgevind het (Schoeman 2010b:107).

Konstruktivistiese versus transkonfessionalistiese piëtisme-metodologie: enkele kritiese opmerkings

Die opkoms van die piëtistiese godsdienskultuur in Duitsland word met die opbloei van mistieke bekeringspiritualiteit geassosieer. Spener se piëtisme-begrip was reeds onverbreeklik vervleg met mistiek-georiënteerde sentimente van spirituele selfontwaking en bekering. Met die aanvang van die sewentiende eeu het mistieke spiritualiteit tot ’n mindere mate by die Nederlandse gereformeerde piëtiste voorgekom. Sedert die einde van die sewentiende eeu het die mistieke inslag in die Protestantse spiritualiteit egter beduidend in Nederlandse piëtistiese kringe toegeneem sodat ’n noemenswaardige aantal sektes met mistieke neigings ontstaan het – waarvan Labadiste, Gichteliane, Deurhoviane en Hattemiste van die mees onaanvaarbares was (Schoeman 1997b:125). Private godsdienstige byeenkomste in die vorm van konventikels – deur Jacobus Koelman beskryf as private vergaderings van vromes waarin ’n mens van God en sy Woord tot stigting spreek, mense saambid, sing en mekaar ‘verwakkert’ – sou in die Nederlandse sowel as die Duitse piëtistiese godsdienskultuur blyke van die mistieke beoefening van die geloof gee (Schoeman 1995:168–169). Onder gelowiges aan die Kaap en in pionieromstandighede in die binneland sou hierdie mistieke tendense in die vorm van veral tropologiese Hoogliedmetafore na vore kom. (Raath 2016a:1–11; Schoeman 1995:181–182).

Die gebrek aan bevindelik-mistieke prediking het die teelaarde vir kerklidmate geskep om naas leersuiwerheid ook aandag aan lewensheiliging en vroomheid te skenk en daarmee saam ook ’n uitgesproke voorkeur vir mistiek en die kultivering daarvan in klein informele huisbyeenkomste (Schoeman 1997b:124). Veral die werksaamhede van die Labadiste het die bestaande konventikel-kultuur bevorder en onder piëtiste tot ’n ‘akosmiese mistiek’ (Schoeman 1997b:127) aanleiding gegee.

Die sirkulasie van die mistieke Duitse werke van Jakob Böhme (1575–1624), Johann Arndt (1555–1621) en Gottfried Arnold (1666–1714) onder Kaapse inwoners gee blyke van die toenemende mistieke spiritualiteit wat sedert die aanvang van die agtiende eeu aan die Kaap posgevat het (kyk Schoeman 1997b:134–136). Aan die Kaap sou mistieke vervoering gepaard met intense Bybelstudie, soeke na geestelike gemeenskap en verhoogde vlakke van spirituele bewussyn kenmerkend van piëtiste soos Machtelt Smit word (Schoeman 1997b:284–285).

Die mistieke inslag van die Kaapse piëtisme sou toenemend deur die volgende gekenmerk word: ’n godsdienskultuur van spirituele selflediging, geestelike verheldering en mistieke ervarings, spirituele besinning en die amoreuse rus in Christus asook meditasie, kontemplasie en ekstatiese geestelike belewenisse, insidentele ervarings van geestelike verlating en verwerping van die gelowige siel, en die voortgaande hunkering na die verenigde lewe met Christus (Raath 2016b:170–192). Hierdie tendense, wat parallel tot die Duitse en Nederlandse piëtisme van die agtiende en negentiende eeu aan die Kaap ontwikkel het, vertoon ’n kollektiewe bewussyn van spirituele selfontlediging; geestelike ego-verligting en intense vlakke van persoonlike godsdienstige ervarings – tendense wat reeds sedert die aanvang van die sewentiende eeu eksplisiet of implisiet deel van die piëtistiese spiritualiteit in Duitsland was.

Teen die middel van die agtiende eeu is die Ortodokse elemente van die Protestantse spiritualiteit aan die Kaap tot so ’n mate verdring dat daar van ’n ‘egte mistieke spiritualiteit’ sprake was. Reeds die ‘proto-piëtisme’ van die sewentiende-eeuse en die eerste helfte van die agtiende-eeuse Ortodoksie het duidelike spore van ’n verhoogde post-Reformatoriese spiritualiteit vertoon. Duitse teoloë soos Johann Arndt (1555–1621), Christian Scriver (1629–1693) en Martin Moller (1547–1606) – hoewel tradisioneel beskou as behorende tot die Duitse Ortodoksie – sou as ‘proto-piëtiste’ (oftewel ‘voorloper-piëtiste’) beskryf kon word vir sover hulle die veranderde gees van post-Reformatoriese mistieke spiritualiteit geadem het. Reeds die sogenaamde gereformeerde en Lutherse Ortodoksie het deel gehad aan die nuwe mistieke spiritualiteit wat oor Europa gespoel het. Hierdie ontluikende mistieke kultuur het twee belangrike implikasies gehad: eerstens maak dit die onderskeid tussen Ortodoksie en piëtisme aan die hand van formele onderskeidingskriteria bykans onmoontlik; en tweedens vertoon die piëtisme ná die Hervorming ’n naatlose profiel van verdiepte vlakke van mistieke spiritualiteit – ’n neiging vanaf die objektiewe na die subjektiewe, vanaf die leer na die lewe, en vanaf die leerstellige na die spirituele ego-belewenis.

Die ego-tekste van gelowiges aan die Kaap weerspieël gemeenskaplike tendense van ’n spirituele mentaliteitsprofiel hunkerend na die geestelike eenwording met Christus. Dit impliseer geensins dat gelowiges hulle spirituele belewenisse tot dieselfde mate as medegelowiges ervaar het nie. In die algemeen kan wel opgemerk word dat hierdie piëtistiese godsdienskultuur aan die Kaap ’n belangrike spirituele kragbron onder moeilike en beproewende omstandigede vir gelowiges was. Alhoewel die spirituele belewenisse van Kaapse gelowiges geestelike tendense weerspieël wat nie maklik vir hedendaagse gelowiges toeganklik is nie, dui die ego-nalatenskap van piëtistiese praktisyns op ’n profiel van intense vlakke van spirituele energie en geestelik deurleefde werklikhede wat die fisieke sowel as geestelike uitdagings van die pionierslewe tegemoet getree het. Hierdie godsdienskultuur van Kaapse piëtiste dui op ’n mentaliteitsprofiel wat duidelik-omlynde karakteristieke vertoon: die opbloei van ’n persoonlike, mistiek-getinte, affektiewe en individualistiese spiritualiteit wat in selfontlediging, spirituele illuminasie en mistiek-geneigde belewenisse gekulmineer het, na godsdienstige besinning en die belewenis van spirituele behae gestreef het, praktyke van meditasie en kontemplasie beoefen het, asook belewenisse van ekstase, periodieke ervarings van sielverlating en verwerping gehad het en wat deur die intense hunkering van die menslike siel ter vereniging met Christus oorheers is.

Samevatting

Konstruktivistiese benaderings tot die Kaapse piëtisme bly in gebreke om materiële kriteria te vind om die historiografiese periodisering van die piëtisme te omlyn, om teologiese aanwysers te identifiseer ten einde tot die spirituele mentaliteitsbewussyn van die piëtisme deur te dring en kulmineer in arbitrêre metodes om dit van die Protestantse Ortodoksie te onderskei. Die debat tussen Johannes Wallmann, Martin Brecht en F. Ernst Stoeffler oor die stand van Christian Scriver binne die Lutherse piëtisme is daarvan ’n sprekende voorbeeld. Volgens Stoeffler is Scriver die beduidendste piëtis in die eerste fase van die piëtisme wat van Arndt tot Spener strek. Stoeffler (1971:224) reken Heinrich Müller (1631–1675) en Joachim Lütkemann (1608–1655) in Rostock tot die drie belangrikste eksponente van die Lutherse piëtisme wat deur Arndt tot stand gebring is. Martin Brecht (2003:116 e.v.) beskou Scriver as ’n pseudo-piëtis (Brecht 2003),1 terwyl Wallmann dit ontken. Brecht laat Scriver se beduidende terugval in die mistiek buite rekening terwyl Wallmann die norme vir piëtisme-tipering tot enkele formele kriteria beperk. In terme van die klem wat Scriver op geestelike selfontwaking en bekering, selfreiniging, geestelike selfverligting en mistiek-getinte ervarings plaas, spirituele behaaglikheid beklemtoon, meditasie en kontemplasie bepleit, geestelike ekstase en verlating as spirituele werklikhede erken en bowenal eenwording met God in Christus as hoogste doelwit stel, plaas dit hom vierkant binne die kaders van die piëtisme. Derhalwe is ’n wesenlike leemte van konstruktivistiese tiperings van piëtisme die onderbeklemtoning van mistiek as ’n uitstaande faset van piëtisme, synde ’n transnasionale verskynsel, redusering van mistieke belewenisse tot ’n ‘eksterne’ faset van die sewentiende- en agtiende-eeuse Protestantse spiritualiteit en mistiek nie as ’n materiële komponent van die piëtistiese godsdiensbewussyn verreken nie.

In teenstelling hiermee is piëtistiese tendense grootliks deur verhoogde vlakke van mistieke belewenisse gekenmerk en is daar ’n wesenlike element van eersgenoemde gevorm. Konstruktivistiese omskrywings van die piëtisme in wyer sowel as enger verband neig gevolglik na simptomatiese tiperings, plaas die fokus op die handelinge en optrede eerder as spirituele ego-belewenisse en inklinasies van piëtiste. Dit verhef die piëtistiese metodes en gewoontes tot die normatiewe aanwysers van die piëtistiese godsdienskultuur.

Konstruktivistiese piëtisme-metodologieë neig na die negering van idee-historiese oorgange van een spirituele milieu na ’n ander. Wallman sowel as Van der Linde se fasetipering negeer die piëtistiese inslag van die Ortodoksie. In Nederlandse en Suid-Afrikaanse Nadere Reformasiebenaderings word die piëtistiese inslag by Ortodokse outeurs soos die Lutherse (Martin Moller 1547–1606) en gereformeerdes (Godefridus Udemans 1580–1649; Willem Teellinck 1579–1629; Lewis Baily [oorlede 1632] en Adam Westerman [oorlede 1635] misgekyk. J.W. Hofmeyr beskou die Protestantse Ortodoksie as ’n ‘agtergrondsaspek’ van die Nadere Reformasie. Hofmeyr aanvaar die tydperk van die Ortodoksie as die era tussen die Reformasie en die agtiende-eeuse Aufklärung – naamlik die konfessionele tyd (Hofmeyr 1989:17). Hofmeyr gee toe dat die Ortodoksie nie net ‘blote formalisme en leë verstandelikheid’ was nie, maar dat ‘hierdie ontwikkeling ook baie spesifiek binne die konteks van daardie besondere tyd gesien en beoordeel’ moet word en dat die ‘Reformorthodoxie’ – synde ’n beweging binne die Ortodoksie wat naas getrouheid aan die leer van die kerk die geestelike lewe wou stimuleer – die ‘hooffaktor’ was wat die Duitse piëtisme gelei het (Hofmeyr 1989:19). Vervolgens aanvaar hy Van der Linde se fase-identifisering van die Nadere Reformasie. Volgens hierdie tipering neem die Nadere Reformasie teen ongeveer 1590 ’n aanvang by Ian Taffin en eindig dit ‘êrens tussen 1650 en 1670’, waarna ’n ‘meer konkreet piëtistiese inslag’ te onderskei is (Hofmeyr 1989:23). Wat die Kaapse piëtisme betref, negeer Hofmeyr die piëtistiese tendense wat vóór sowel as ná die einde van die agtiende eeu na vore gekom het. Die implikasie is enersyds dat ’n ‘proto-piëtis’ soos Martin Moller nie verreken word nie en andersyds word Hieronymus van Alphen se invloed uitgesluit.

Ingevolge die beleid van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie – ’n resolusie van 15 Oktober 1654 – moes die Lutherse skrywer Martin Moller se Hoe een yegelick Christen-mensch het lijden en sterven … J. Chr. betrachten sal … (1645) (’n Nederlandse vertaling van Soliloqvia de Passione Iesu Christi 1597), in die sieketrooster se kajuit beskikbaar wees (Van Troostenburg de Bruyn 1884:351). Moller word tradisioneel tot die latere Ortodoksie (1685–1730) gereken. Die Middeleeuse mistiek slaan egter onverbloemd in sy werk deur. Sy Meditationes sanctorum patrum is grootliks op die werke van Bernardus van Clairvaux (1090–1153) gebaseer met die subtitel: ‘Schöne Andechtige Gebet/Tröstliche Spruche/Gottselige Gedancken/… Buszvermanungen/hertzliche Dancksagungen/und allerley nüttzliche Übungen de Glaubens. Ausz den heiligen Altvatern Augustino, Bernhardo, Taulero, und anderen fleissig und ordentliche zusamen gatragen und vendeudtschet/…’. In die voorrede beklemtoon Moller ook die belang van onder andere die Duitse mistikus Johann Tauler (c. 1300–1361) se insigte vir die gebedslewe (Moller 1584):

Ich habe mit allem fleitz ausz den Schriften der alten Väter/S. Augustini, Bernhardi, Tauleri, und andern zusammen gelesen/in eine Ordnung gefasset/für ein jedes eine Spruch ausz heiliger Schrift/welcher gleich die Summa desselben Genettlins anzeiger/gesetzet. (Voorrede)

Hoewel ’n sistematiese katalogisering van gebede aan God die Vader, die Seun en die Heilige Gees in die werk voorkom, is die ondertone van geestelike verligting, bekering, stryd teen geestelike aanvegtinge en spirituele vernuwing immer aanwesig. In sy boek (Moller 1597) Wie ein jeder Christen Mensch … vorm boetedoening en belydenis van sonde ’n belangrike tematiese lyn. Die gelowige siel word vermaan om tot sondebelydenis te kom om God se straffende hand te vermy (Moller 1597):

Höre auch/liebe Seele/auff die scharffe Predigt/welche der HERR den Weibern/die jn beweineten/und seiner lieben Stadt und Lande zur letzte gethan hat. Wie trewlich vermanet er sie/das sie kein Leyden zu Hertzen nemen/und sich zur Busse bekehren sollen. Wie ernstlich verkündigt er jnen die grosse Straffe/die obder sie kommen werde. (p. 195)

Tradisionele konstruktivistiese beperkings op die tydperk van die Nadere Reformasie sluit dié spirituele epog by Theodorus van der Groe af. Volgens Hofmeyr eindig die Nadere Reformasie teen 1670 of 1720, waarna die piëtistiese fase ’n aanvang neem. Hierdie aanduiding laat betekenisvolle Nederlandse piëtiste soos Hiernonymus Simon van Alphen (1746–1803) en die invloed wat sy werke aan die Kaap gehad het buite rekening. In sy werk Van Skeepskis na wakis tot boekrak reken Willem J. van Zijl (1991:231) vir Van Alphen wel by die sogenaamde ‘Oude Schrijvers’ uit die Nederlandse Nadere Reformasie in.

Vroulike piëtiste aan die Kaap en in pioniergemeenskappe in die Kaapse binneland het groot waarde aan Van Alphen se stigtelike poësie geheg. Van Alphen en sy mede-outeur P.L. van de Kasteele se werk se Proeve van stichtelyke mengel-poëzy (1771) vertoon ’n onverbloemde piëtistiese inslag in verse gewy aan ‘allen die Jesus Christus in onverderflijkheid lief hebben’ (Voorrede); Jesus-gesentreerde geloofstoewyding: ‘Immanuël! ach! deed uw Geest ons branden!/Dat ootmoed dat geloof ons kragten gaf! …’ en die Hemelse vereniging met Christus: ‘Laat ik u dan beminnen;/En zingen om mijn lot!/“k Zal van uw” krib beginnen,/Mijn Broeder en mij God!’ (bl. 3–5). Catharina Allegonda van Lier (1768–1801) se ‘Gemeensamen Brieven’ (1806:139) maak met waardering melding van die opbeurende effek van ‘zingen met mijn geliefde Dichters’, Van Alphen en Van de Kasteele se Stichtelijke mengelpoëzij (1782). In die geval van die Voortrekkervrou Susanna Smit (1799–1863) begelei Van Alphen se gedig ‘De vrolijke reiziger’ haar spirituele pelgrimstog na die hemelse oorde: ‘Weg wereldsch gewemel/Ik moet naar den hemel;/Verhinder me niet/Weg zonden! zwijgt lusten!/Ik wil hier niet rusten/In ‘s vijands gebied’ (Van Alphen & De Kasteele 1771:16, v. 1). Die hemelse gemeenskap tussen Christus (die Bruidegom) en die gelowige siel (die bruid) verteenwoordig die hoogtepunt van die hemelse versugting van die gelowige siel: ‘De hemel wagt/Om eeuwig “t is volbragt/Met Jesus” Bruid te zingen’ (Van Alphen & De Kasteele 1771:81).

Omdat die Kaapse piëtisme uitsluitlik tot die Nadere Reformasie beperk word en die fase-indelings van Nederlandse outeurs soos Van der Linde en andere, aangelê word, word die dinamika van die Kaapse piëtisme misgekyk. Schoeman gebruik nie die fasemetodologie van die konstruktivisme nie. Dit stel hom in staat om die ontplooiende en verbreidende aard van die piëtisme aan die Kaap te identifiseer en die verskille met die Nederlandse piëtisme duideliker weer te gee. Schoeman kon byvoorbeeld die neerslag van die piëtisme in die Kaapse opwekkings van die sestigerjare van die negentiende eeu ideë-histories identifiseer.

Konstruktivistiese piëtisme-metodologieë negeer die naatlose verbindingslyne tussen piëtisme-tradisies – veral die inslag van die Duitse piëtisme in die Nederlandse volkslewe en aan die Kaap. Hoewel oorvleuelings tussen die Nederlandse en Duitse piëtismes voorkom, word byvoorbeeld die bloed-en-wonde-teologie van die Herrnhutter-spiritualiteit misgekyk.

Konstruktivistiese piëtisme-metodologieë bly in gebreke om die transnasionale en transkonfessionele inslag van die piëtisme as internasionale fenomeen voldoende in fokus te kry. Sodoende word die ‘bipolariteit’ van die Kaapse piëtisme misgekyk. Die sintetisering van diverse manifestasies van piëtisme vertoon ’n gekompliseerde spirituele profiel met, as konstitutiewe element, die mistieke onderbou daarvan – ’n aspek wat tot tans verwaarloos is.

Konstruktivistiese piëtisme-metodologieë is nie in staat om die transnasionale aard van die mistiek te deurskou nie en verwaarloos die vlakke en aard van mistiek wat in die Kaapse piëtisme werksaam was. Nadere Reformasie-konstruktiviste sluit die nasionale manifestasies van die piëtisme af van die transnasionale en transkonfessionele samevloeiing van diverse mistieke invloede binne die konteks van die Kaapse spiritualiteit van die sewentiende en agtiende eeu. Hierdie insig bring drie belangrike implikasies mee: eerstens word die term Nederlandse piëtisme bo Nadere Reformasie verkies. Tweedens behoort die onderskeidinge binne die piëtisme as transkonfessionele stroming vereenvoudig en tot twee kategorieë beperk te word: die proto-piëtisme wat die piëtistiese geneigdhede van die Ortodoksie insluit; en die mistieke piëtisme waar die mistiek die rigtinggewende element vorm. Laastens verdien die aard, rol en implikasies van die mistieke onderbou van die piëtisme meer aandag as wat tot nog toe die geval was. Die konstitutiewe mistieke onderbou van die vroeë pionier-piëtisme in Suid-Afrika is by geleentheid soos volg beskryf (Raath 2014):

The ego-focus in the wake of mystical experiential spirituality on the frontier also carried with it the desire for piety, moralism and interiorisation of the religious life of individuals. This deepening and individualisation of religious life manifested in autobiographical ego-texts with undertones of mystical experiential spirituality. (p. 108)

Gevolgtrekkings

Karel Schoeman se historiografiese navorsing oor Protestantse spirituele tendense in die sewentiende en agtiende eeu aan die Kaap transendeer die konstruktivistiese geneigdheid tot Skolastieke fase-indelings van die Lutherse en Gereformeerde piëtisme. Sy bydrae ter identifisering van die spektrum van spirituele tradisies wat in die Kaapse piëtisme gekulmineer het, is sodoende méér genuanseerd as vroeëre tiperings wat die Kaapse piëtistiese stroming tot die Nadere Reformasie beperk. Schoeman se transkonfessionele metodologie vermy die (bykans Skolastieke) spitsvondighede wat konstruktivistiese tiperings gebruik om nasionale manifestasies van die piëtisme ‘puristies’ van die breë stroom van Protestantse piëtisme af te grens. ’n Enkele voorbeeld illustreer die konstruktivistiese dilemma in hierdie verband: Die Koningsbergse hofprediker, Conrad Mel (1666–1733), ’n Duitse piëtis, se publikasies was van die mees gelese werke in die agtiende en negentiende eeu in Nederland en aan die Kaap. Dit is in Nederlands vertaal en het ’n warm ontvangs in piëtistiese kringe gehad. Die werk De lust der heiligen in Jehova en Bazuinen der Ewigheid word deur Malan (1984a:41–42) tot die Nadere Reformasie gereken, terwyl die historikus D.W. Krüger 1968:41–44) vir Mel as een van die ‘gereformeerde outeurs’ (oftewel skrywers van die Nadere Reformasie) beskou.

Schoeman se publikasies oor die vroeë Kaapse historiografie staan binne die verbredende internasionale tendens tot bestudering van die piëtisme as ’n transkonfessionele spirituele verskynsel. Dit stem ooreen met Martin Brecht se beskrywing van die piëtisme as ’n transnasionale en transkonfessionele fenomeen van groot kompleksiteit, synde die mees betekenisvolle vroomheidsbeweging (Frömmigkeitsbewegung) in die Europese Protestantisme sedert die Reformasie. As sodanig is dit by uitstek ’n godsdienstige verskynsel waarvan die ruimtelike, tydsmatige, sosiale, spirituele, kerklik-konfessionele en teologiese spektrum verstommende proporsies aanneem by die oorgang van die sestiende na die sewentiende eeu uit kritiek teen die bestaande ekklesiastiese en spirituele verhoudinge wat terselfdertyd in Engeland, Nederland en Duitsland opgevlam het en daarvandaan na Switserland, Skandinawië, Oos-Europa en die Verenigde State van Amerika versprei het. Hierdie het grootliks tot die internasionale Protestantse sending bygedra en sedertdien as aktiewe beweging voortgeleef (Brecht et al 1993, I:1).

Konstruktivistiese tiperings van die piëtisme neig tot beperking van hierdie godsdienstradisie tot die nasionale manifestasies daarvan, wend kunsmatige fase-tiperings aan en kom tot ’n gefragmenteerde siening van piëtisme-verskynsels. Om hierdie rede vermy Schoeman die term Nadere Reformasie. Hy beklemtoon die liniêre voortgang wat die piëtisme in Suid-Afrika gehad het en lê groter klem op die mistiek as konstitutiewe element van die piëtisme – die Kaapse variant daarvan – as wat sowel Suid-Afrikaanse as oorsese navorsers oor piëtisme tot tans gedoen het. Gevolglik is Schoeman huiwerig om ’n definisie van die piëtisme as godsdienstige verskynsel te gee. Sy tipering sou hoogstens as ’n werkbare konseptuele paradigma beskryf kon word. Die piëtisme-begrip sou dus goed ressorteer binne F. Ernst Stoeffler se konseptuele raamwerk, synde ’n historiese beweging binne die Protestantisme waarvan die wortels tot die Zwingli-Bucer-Calvyn-spil van die Reformasie terugspoorbaar is; waarvan die eerste manifestasies binne die Engelse Puritanisme en die Protestantse Kerke van die sewentiende-eeu bemerk kan word; en wat die Lutheranisme deur Johann Arndt (1555–1621), Spener, August Hermann Francke (1663–1727), Johann Albrecht Bengel (1687–1752) en hulle volgelinge beïnvloed het. Verder is dit geradikaliseer deur Gottfried Arnold (1666–1714) en Konrad Dippel (1673–1734); verromantiseer deur Johann Kaspar Lavater (1741–1801), Johann Heinrich Jung (1740–1817) (Jung-Stilling) en andere; en voortgesit binne die hoofvertakkinge van Protestantse denominasies. Piëtisme vertoon ook ’n spirituele etos van godsdienstige selfbegrip wat as bevindelik, Bybels, perfeksionisties en weerstandig (‘oppositive’) teen dogmatisme beskryf kan word (Stoeffler 1976:9).

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Brecht, M., Deppermann, K., Gäbler, U. & Lehmann, H. (eds.), 1993, Geschichte des Pietismus, dl.1., Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Brecht, M., 2003, ‘Ein Gastmahl an Predigten Christiaan Scrivers Seelenschatz (1675–1692)’, Pietismus und Neuzeit 28, 72–117.

Brienen, T., Groenendijk, L.F., Op ’t Hof, W.J. & Meeuse, C.J., 1983, ‘Nadere Reformatie, een poging tot begripsbepaling’, Documentatieblad Nadere Reformatie 7, 109–116.

Graafland, C., 1961, De zekerheid van het geloof: Een onderzoek naar de geloofs-beschouwing van enige vertegenwoordigers van reformatie en nadere reformatie, H. Veenman & Zonen, Wageningen.

Heppe, H., 1879, Geschichte des Pietismus und der Mystik, E.J. Brill, Leiden.

Hofmeyr, J.W., 1989, Die Nederlandse Nadere Reformasie en sy invloed op twee kontinente, Unisa, Pretoria.

Komitee vir Boekuitstalling Van Riebeeck-Fees, 1952, Boekspieël van Suid-Afrika, Katalogus van ’n uitstalling van boeke, atlasse en kaarte in die Suid-Afrikaanse Biblioteek, Kaapstad, 1 Maart tot 5 April 1952, Komitee vir Boekuitstalling, Kaapstad.

Krüger, D.W., 1968, ‘Die gereformeerde leesstof van ons Kaapse voorouers’, In die Skriflig 2(5), 41–44. https://doi.org/10.4102/ids.v2i5.878

Lindberg, C., 2005, ‘Introduction’, in C. Lindberg (ed.), The pietist theologians, pp. 1–20, Blackwell, Malden, MA. https://doi.org/10.1002/9780470776032.ch

Malan, C.J., 1981, Die Nadere Reformasie, PU vir CHO, Potchefstroom.

Malan, C.J., 1984a, Die Nadere Reformasie, 2e uitgawe, PU vir CHO, Potchefstroom.

Malan, C.J., 1984b, ‘The old authors (Oude Schrijvers) and their influence in South Africa’, in B.J. van der Walt (ed.), Our reformational tradition: A rich heritage and lasting vocation, pp. 442–469, PU for CHE, Potchefstroom.

Moller, M., 1584, Meditationes sanctum Patrum …, H.G.V.W., [geen plek van uitgawe vermeld nie].

Moller, M., 1597, Soliloqvia de passione Iesu Christi. Wie ein jeder Christen Mensch/das allerheyligste Leyden und Sterben unsers HERRN Jesu Christi/in seinem Hertzen bey sich selbs betrachten/Allerley schöne Lehren und heylsamen Trost daraus schopffen … Johann Rhambaw, Görlitz.

Potgieter, F.J.M., 1952, ‘Ons Kerk in Kaapland, Ons Nederduitse Gereformeerde Kerk’, in T.N. Hanekom, Gedenkboek by ons derde eeufees, bl. 24–64, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.

Raath, A.W.G., 2014, ‘Petit bourgeoisie, female piety and mystical Pietism on the South African frontier, 1760–1860’, Studia Historiae Ecclesiasticae 40(1), 95–116.

Raath, A.W.G., 2016a, ‘Tropological song of songs metaphors and female mystical pietism in South African pioneer communities, 1760–1860’, Hervormde Teologiese Studies 72(3), 1–11.

Raath, A.W.G., 2016b, ‘The spiritual mentality profile of female pietists on the South African frontier, 1760–1860’, Acta Theologica 36(1), 170–192.

Ritschl, A., 1880–1886, Geschichte des Pietismus, dle. 1–3, Adolph Marcus, Bonn.

Schoeman, K., 1995, Die wêreld van Susanna Smit, 1799–1863, Human & Rousseau, Kaapstad.

Schoeman, K., 1996, J.J. Kicherer en die vroeë sending, 1799–1806, Suid-Afrikaanse Biblioteek, Kaapstad.

Schoeman, K., 1997a, ‘Vroeë geskrifte deur Suid-Afrikaanse vroue, 1749–1865’, Suid-Afrikaanse Historiese Joernaal, 36, 24–47. https://doi.org/10.1080/02582479708671267

Schoeman, K., 1997b, Machtelt Smit en die 18de-eeuse samelewing aan die Kaap, 1749–1799, Human & Rousseau, Kaapstad.

Schoeman, K., 1999, Armosyn van die Kaap: Voorspel tot vestiging, 1415–1651, Human & Rousseau, Kaapstad.

Schoeman, K., 2001, Armosyn van die Kaap: Die wêreld van ’n slavin, Protea Boekhuis, Pretoria.

Schoeman, K., 2010a, Kolonie aan die Kaap: Jan van Riebeeck en die vestiging van die eerste blankes, 1652–1662, Protea Boekhuis, Pretoria.

Schoeman, K., 2010b, Die Bosmans van Drakenstein, 1705–1842, Protea Boekhuis, Pretoria.

Schoeman, K., 2011, Cape lives of the eighteenth century, Protea Boekhuis, Pretoria.

Schoeman, K., 2012, Portrait of a slave society: The Cape of Good Hope, 1717–1795, Protea Boekhuis, Pretoria.

Schoeman, K., 2013, Twee Kaapse lewens: Henricus & Aletta Beck en die samelewing van hul tyd, 1702–1755, Protea Boekhuis, Pretoria.

Schoeman, K., 2014, Hoogty: Die opbloei van ’n koloniale kultuur aan die Kaap, 1751–1779, Protea Boekhuis, Pretoria.

Stoeffler, F.E., 1971, The rise of Evangelical Pietism, E.J., Brill, Leiden.

Stoeffler, F.E., 1976, Continental Pietism and early American Christianity, Wipf & Stock Publishers, Eugene, OR.

Van Alphen, H. & Van de Kasteele, P.L., 1771, Proeve van stichtelijke mengel-poëzij, [geen uitgewer vermeld], Utrecht.

Van Alphen, H. & Van de Kasteele, P.L., 1782, Stigtelijke mengelpoëzij, weduwee Jan van Terveen en Zoon, Utrecht.

Van der Linde, S., 1954, ‘De betekenis van de Nadere Reformatie voor kerk en theologie’, Kerk en Theologie 5, 215–225.

Van der Linde, S., 1967, ‘De Nadere Reformatie en de zending’, Theologia Reformata 10, 5–16.

Van der Linde, S., 1973, ‘De Godservaring bij W. Teellinck, D.G. à Brakel en A. Comrie’, Theologia Reformata 16, 193–205.

Van der Linde, S., 1976a, ‘De prediking van de Nadere Reformatie’, Theologia Reformata 19, 6–21.

Van der Linde, S., 1976b, ‘Gisbertus Voetius’ gedachten over de prediking’, Theologia Reformata 19, 246–267.

Van der Linde, S., 1976c, ‘De ecclesiologie van de Nadere Reformatie’, in S. van der Linde (red.), Opgang en voortgang der Reformatie: Een keuze uit lezingen en artikelen van S. van der Linde, pp. 189–200, Ton Bolland, Amsterdam.

Van Lier, A.C., 1806, Dagboek, gemeenzame brieven en eenzame overdenkingen van L.C., Willem van Vliet, Amsterdam.

Van Troostenburg de Bruyn, C.A.L., 1884, De Hervormde Kerk in Nederlandsch Oost-Indië onder de Oost-Indische Compagnie (1602–1795), H.A. Tjeenk Willinck, Arnhem.

Van Zijl, W.J., 1991, Van skeepskis na wakis tot boekrak, Lux Verbi, Kaapstad.

Wallmann, J., 2010, Pietismus und Orthodoxie, Mohr Siebeck, Tübingen.

Footnotes

1. Brecht (2003) bevind byvoorbeeld:

Scriver war kein Pietist, aber grenzt in manchem an den Pietismus … Hingegen ist Scriver bei der hergebrachten Eschatologie und Ekklesiologie verblieben und lässt keine Neigungen zu Speners Neuorientierung erkennen … Die Forschung wird dem Phänomen deratiger Affinitäten zum Pietismus Aufmerksamkeit schenken müssen. (p. 116 e.v.)



Crossref Citations

No related citations found.