About the Author(s)


    Stephan Joubert Email symbol
    Faculty of Theology, University of the Free State, South Africa

    Citation


    Joubert, S., 2017, ‘Redaksionele voorwoord’, In die Skriflig 51(3), a2272. https://doi.org/10.4102/ids.v51i3.2272

    Redaksioneel

    Redaksionele voorwoord

    Stephan Joubert

    Copyright: © 2017. The Author(s). Licensee: AOSIS.
    This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

    Hierdie akademiese feesbundel word aan professor Jan van der Watt, wêreldbekende Nuwe-Testamentikus, akademikus, navorser, gesinsman, vriend en oortuigde gelowige gewy.

    Jan is op 5 November 1952 in Germiston gebore. Hy het sy hoërskoolloopbaan aan die Andrew Rabie Hoërskool in Port Elizabeth voltooi en is met Shireen getroud. Hulle is die ouers van een dogter en die grootouers van twee kleinkinders. Jan het ’n hele klompie grade verwerf, waaronder ’n DD-graad in Teologie en ’n DLit-graad in Grieks, albei cum laude. Vanaf ’n vroeë leeftyd het hy diep spore in die akademie getrap. Vanaf 1980–1986 was Jan senior lektor en hoof van die Departement Nuwe Testament en Pastorale Teologie aan die Universiteit van Fort Hare. Hierna word hy professor aan die Universiteit van Pretoria waar hy tot en met 2009 ook hoof van die Departement Nuwe Testament was. Hierna het die gesin na Nederland verhuis. Hier is Jan tans nog professor en hoof van die Departement Eksegese van die Nuwe Testament en Brontekste van die Christendom aan die Radboud Universiteit in Nijmegen.

    Jan se kreatiewe akademiese insigte en veral sy vars kyk na metafore en etiek in die Johannesevangelie het wye erkenning onder akademici regoor die wêreld ontvang. Hieruit volg sy indrukwekkende akademiese oeuvre wat die volgende insluit: besoekende professorate as Beeson International visiting Professor te Asbury Theological Seminary (September–Desember 2004), en Mercator International Professor gedurende Februarie–Julie 2005 aan die Friedrich-Wilhelm Universiteit in Bonn. Jan was ook reeds besoekende professor vir langer tydperke aan bekende instellings soos die Katolieke Universiteit van Leuven (2002–2006), die Mercator Universiteit van Duisburg (1990–1991), die Humboldt Universiteit van Berlyn (2000–2001; 2015), die Ludwig-Maximilians-Universität München (2011–2012; 2015), die Teologische Universiteit Kampen (1995; 2005) en te Utrecht (1999). In die VSA is Jan ook geen onbekende nie. As gasdosent hou hy onder andere hier openbare lesings by die Westminster Theological Seminary (1991), asook by Mcaffee Theological Seminary aan die Mercer Universiteit in Atlanta (2015). Tussendeur hou Jan gereeld akademiese gaslesings by verskillende tersiêre instellings regoor Europa, Asië, Suid-Afrika en Brittanje.

    Verskeie buitengewone professorate is reeds aan Jan toegeken. Dit sluit in ’n besoekende professoraat aan die Christelike Universiteit van St Petersburg sedert 2010; ’n buitengewone professoraat by sy ou alma mater, die Departement Nuwe Testament aan die Universiteit van Pretoria (2009–2012); ’n soortgelyke professoraat aan die Noordwes-Universiteit (2010–); asook by die Universiteit van Suid-Afrika (2012–2016).

    Vanweë Jan se indrukwekkende doseer-repertoire het 44 doktorale en 88 magister studente van regoor die wêreld reeds hulle studies suksesvol onder sy leiding voltooi. Geen wonder nie dat ’n wye verskeidenheid akademiese pryse reeds aan Jan toegeken is, insluitende die Pieter van Drimmelen-medalje vir sy bydrae tot Teologie en Bybelvertaling in 2000 vir die Afrikaanse Bybelvertaling, Die Boodskap, asook die Andrew Murray-prys vir Die Bybel AZ in 2003, waarvan hy die redakteur was. In 2006 ontvang hy die Totius-prys vir sy bydrae tot Teologie en Bybelvertaling van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en in 2017 deel Jan die gesogte Jan H. Marais-prys, ook van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, met prof. Jaap Steyn vir sy uitnemende bydrae tot Afrikaans as wetenskapstaal. Vele ander erkennings val Jan gereeld te beurt soos die gesogte Alexander van Humboldt-toekening in Duitsland (1990–2015), die hoogste gradering vir ’n Suid-Afrikaanse teoloog deur die NRF (2002–2009), asook die Universiteit van Pretoria se Navorsingsmedalje in 2008 as een van die 100 ‘Leading minds’ in alle akademiese dissiplines (1908–2008).

    Oor die afgelope jare het Jan homself as leidende rolspeler op verskillende akademiese komitees en organisasies onderskei. Dit sluit die voorsitterskap van die Nuwe Testament Werkgemeenskap van Suid Afrika (2000–2003) in; medevoorsitter van die Johannese Seminaar van die Studiorum Novi Testamenti Societas (1997–2003); ’n Tyndale Fellow te Tyndale House in Cambridge sedert 2004; ’n Mercator Internasionale besoekende professor (2005); lid van die Adviesraad van die Titus Brandsma Instituut in Nijmegen (2010–2016); sekretaris van die Colloquium Johannes (2013–); en Senior Fellow van die Excellence Program TOPOI aan die Humboldt Universiteit te Berlyn (2015).

    Te midde van Jan se voortgesette lidmaatskap van verskeie akademiese verenigings soos die NTSSA, die SNTS, die SBL en die SNTC, dien hy ook in adviserende hoedanigheid op verskeie akademiese rade, byvoorbeeld akademiese adviseur vir die rektor van die Christelike Universiteit van St Petersburg; die Navorsingsprojek vir Nuwe-Testamentiese Teologie aan die Noordwes-Universiteit; asook die doktorale program van die Regent University in die VSA. In dieselfde asem dien Jan op die rade van verskeie teologiese vaktydskrifte soos die NGTT (1989–2012) en Neotestamentica (1995–2006). Ook is hy die wêreldwye algemene redakteur van die Review of biblical literature sedert 2005; area-redakteur vir Johannine literature and general epistles van die 30e volume van De Gruyter (Germany) se Encyclopedia of the Bible and its reception sedert 2004 en senior redakteur van die Oxford dictionary of the Bible and ethics.

    Weens die leidende rol wat Jan regoor die wêreld in die fasilitering van akademiese konferensies speel, is dit veral in sy wye reeks akademiese publikasies waar hy homself op internasionale gebied as ’n uitnemende Bybelwetenskaplike onderskei, en veral as ’n kenner van die Johannesevangelie. Bo en behalwe 68 artikels wat reeds in gerespekteerde vaktydskrifte verskyn het, is Jan ook die skrywer en redakteur van 40 internasionaal-bekende akademiese werke, waaronder Salvation in the New Testament: Perspectives on soteriology (2009 Brill); Eschatology and the New Testament (2011 Mohr Siebeck); The prologue of the Gospel of John: Literary, theological and philosophical perspectives. Papers read at the Colloquium Ioanneum 2013 (saam met R.A. Culpepper en U. Schnelle, 2016 Mohr Siebeck), waar hy as redakteur opgetree het; en Family of the King: Dynamics of metaphor in the Gospel according to John (2000 Brill); en Introduction to the Gospel and letters of John (2010 Clark), waarvan hy die outeur was. Hiermee saam het Jan reeds 129 akademiese referate en gaslesings regoor die wêreld gehou. Tussendeur slaag hy uitnemend daarin om sy teologiese insigte op populêr-bevatlike wyses weer te gee. As bewys hiervan het 34 Christelike publikasies uit sy pen reeds vir die algemene leserspubliek die lig gesien, asook ’n wye reeks populêre artikels.

    Jan van der Watt se akademiese spore lê baie wyd en diep. Kollegas en studente in Suid-Afrika, Europa, Asië en in die VSA het die hoogste waardering vir sy uitnemende akademiese vermoëns, sy kreatiewe nuwe insigte in die Nuwe Testament en sy akademiese eerlikheid. Deur die jare heen het Jan homself nie net as deurleefde kenner en begaafde interpreteerder van die Nuwe Testament onderskei nie, maar ook as ’n paradigmaverskuiwer. Sy nuwe insigte in metafore en uitgebreide siening van implisiete etiek in die Johannesevangelie het nuwe navorsingsmoontlikhede ontsluit, waarvoor hy met reg wye internasionale erkenning geniet. Geen wonder nie dat Jan vandag in teologiese kringe as die mees gesaghebbende kenner van die Johannesevangelie gereken word. Sy leidende rol as redakteur van toonaangewende internasionale publikasies en vaktydskrifte asook sy impak as studieleier vir vele studente wat op hulle beurt reeds gesogte akademiese posisies beklee, is algemene kennis. Maar miskien is dit Jan van der Watt se nederigheid en eerlikheid wat sy mees opvallende karaktereienskappe is. Sy geloof in en lojaliteit aan sy familie, vriende, kollegas en studente is sonder weerga. Jan is ook ’n deurleefde gelowige wat sy teologie tot eer van God beoefen. Daarom is dit ’n groot eer en voorreg om hierdie Festschrift aan ’n formidabele teoloog soos Jan van der Watt op te dra; aan iemand wat ons almal ons vriend mag noem!



    Crossref Citations

    No related citations found.