Book Review

’n Christosentriese besinning oor ‘Israëlisme’

Book Title: Het Israëlisme en de plaats van Christus: Christocentrische interpretatie van bijbelse profetie

Author: Steven Paas

ISBN: 978-94-0224-114-3

Publisher: Boekscout, 2017, R372,18*

*Book price at time of review

Review Title: ’n Christosentriese besinning oor ‘Israëlisme’

Reviewer:
Philip La Grange Du Toit1 symbol

Affiliation:
1Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Corresponding author: Philip La Grange Du Toit, philip.dutoit@nwu.ac.za

How to cite this book review: La Grange Du Toit, P., 2018, ‘’n Christosentriese besinning oor ‘Israëlisme’’, In die Skriflig 52(1), a2393. https://doi.org/10.4102/ids.v52i1.2393

Copyright Notice: © 2018. The Authors. Licensee: AOSIS. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Hierdie gesamentlike werk onder redaksie van die Nederlandse teoloog Stephen Paas het in Nederlands en Engels (Israelism and the place of Christ: Christocentric interpretation of biblical prophecy) verskyn. Die term Israëlisme word in hierdie boek as versamelterm gebruik vir die beweging onder Christene wat die gedagte voorstaan dat die volk ‘Israel’, wat verstaan word as verwysend na hedendaagse Jode, steeds God se uitverkore volk is. Hiermee saam word gewoonlik verstaan dat daar vir hedendaagse Jode ’n buitengewoon groot mate van heil weggelê is, hoewel dit nie nou al sigbaar is nie (bl. 11). In hierdie werk word daar veral teenoor die basiese vooronderstellings van Christelike Sionisme wat grotendeels met klassieke dispensasionalisme en messianisme saamhang gereageer. As deel van hierdie benadering word die gedagte verwerp dat God enige voorkeur ten opsigte van etnisiteit, biologie of ras het (bl. 33). Terselftertyd stel Paas dit egter duidelik dat die medewerkers aan hierdie boek stelling inneem teenoor die gedagte dat die kerk Israel vervang het ‘als zou God’s belofte van reddende genade in Christus niet do´o´rlopen naar het Joodse volk’ (bl. 32). Antisemitisme word dus ten sterkste verwerp (bl. 34) en verstaan as gelyklopend met die idee van vervanging (bl. 41). Die kerk word eerder as die voortsetting van Israel (bl. 42) en as verbreding van Israel tot alle volke (bl. 24, 28, 32) verstaan. Dit bly egter ’n vraag of die idee van vervanging heeltemal hierdeur vermy word.

In die eerste individuele bydrae gee Erik van Alten ’n uiteensetting van Calvyn se siening oor Israel en die kerk in Handelinge. Hy toon aan dat Calvyn geen diskontinuïteit tussen die kerk en Israel gesien het nie. Die sinagoge het geleidelik deel van die valse kerk geword (bl. 67–68). Gregory K. Beale bespreek Israel se landsbelofte in verhouding tot die nuwe skepping. Hy toon aan dat die landsbelofte in die Nuwe Testament geuniversaliseer word. Hy verklaar die Ou-Testamentiese landsbelofte as ’n tipe van die Christelike lewe in Christus wat deur die liggaamlike opstanding in vervulling begin gaan het (bl. 99–100). Colin Chapman skryf ’n hoofstuk oor die Christelike interpretasie van die profesieë van Esegiël wat oor die herstel van Israel handel (veral Eseg 36–37). Hy reageer veral teen die idee dat die stigting van die staat van Israel in 1948 die vervulling van die Esegiël-profesieë sou wees. Die profesieë is eerder in Nuwe-Testamentiese gelowiges vervul. Deur die konteks van Lukas en Handelinge in ag te neem, stel Bram Maljaars ’n ander vertaling vir Handelinge 3:19–21 voor waarin hy aanvoer dat ὅπως ἄν (Hand 3:19) nie met ‘sodat’ vertaal moet word nie, maar eerder met ‘nou dat’. In ooreenstemming hiermee vertaal hy die subjunktiewe ἔλθωσιν en ἀποστείλῃ (Hand 3:20) onderskeidelik met ‘gekom het’ en ‘gestuur het’ (bl. 173–174). Op hierdie manier verklaar hy Handelinge 3:19–21 as heenwysend na die eerste koms van Christus en nie na sy tweede koms soos die Christelike Sioniste dit verklaar nie.

Joost van Meggelen skryf ’n hoofstuk oor die verstaan van die herstel van God se koninkryk volgens Handelinge 1:6–8. Hy toon aan dat die herstel van Israel se koninkryk deur die verkondiging van die evangelie oor die hele wêreld gerealiseer word (bl. 189). Duane Alexander Miller skryf vanuit ’n missiologiese perspektief oor Israel, die nasies en die opdrag van die kerk. Hy was voorheen ’n Christelike Sionis, maar het na volgehoue kontak met mense in Israel van siening verander (bl. 192–193). Volgens Miller is diegene wat in Christus is die ware Israeliete. Hy verklaar die missie na die heidene as deel van ’n lyn wat vanaf Babel, deur die roeping van Abraham, die Mosaïese verbond, die inkarnasie, die dood van Christus tot by die opdrag van die kerk loop (bl. 206). Theo Pleizier skryf oor die prakties-teologiese oorwegings oor die plek van Israel in Christelike spiritualiteit aan die hand van die motiewe van ‘Gees en waarheid’ in Johannes 4:24. Hy wys daarop dat die plek van aanbidding vanaf die tempel na Christus self verskuif het. Die nagmaal word daarom ook sterk Christologies gedefinieer (bl. 214–215) en as ’n identiteitsmerker van die Christelike gemeente gesien (bl. 217). Raymond Potgieter identifiseer moderne gnostiese trekke in Israëlisme en messianisme. Hy doen dit deur onder andere daarop te wys dat daar in gnostiese denke ’n teenstelling tussen die geestelike en aardse wêreld betaan. ’n Mens moet dus deur middel van ’n mistiese proses of deur die verligting van geheime kennis by die waarheid uitkom (bl. 246). ’n Dualisme is ook te bespeur in die wyse waarop Sionisme voorrang bo die Joodse godsdiens self kry (bl. 246). In die hermeneutiese benadering van Christelike Sioniste, wys Potgieter op die willekeurige manier waarop sekere passasies gebruik word om die moderne staat Israel mee te verdedig (bl. 250).

Owen Palmer Robertson skryf oor die interpretasie van Romeine 11. Die basiese volgorde waarop sy uitleg gebaseer is, is dat die Joodse volk hulle Messias verwerp, dat die heidene daardeur tot geloof kom, dat die Jode jaloers gemaak word, dat die Jode weer glo, en laastens, dat die wêreld die gevolge van die ommekeer van die Jode ontvang (bl. 259). Die redding van die ‘hele Israel’ (Rom 11:26) word verklaar as duidend op die uitverkore Jode van die nasie Israel asook alle uitverkore heidene (bl. 271–274). Stephen Sizer skryf oor die hedendaagse verwagting om die Al-Aqsa moskee in Jerusalem te vernietig om vir ’n derde tempel plek te maak waarin offers weer ingestel moet word. Hy wys byvoorbeeld daarop dat John Haggee, die bekende Amerikaanse Christelike Sionis, glo dat die derde tempel gebou moet word voordat Jesus weer kan kom (bl. 280). Hy redeneer dat die bou van ’n derde tempel nie nodig is nie, omdat Christus die tempel in Homself en sy gemeente vervul het (bl. 291–293). Jos Strengholt reageer teen die interpretasie om Esegiël 14 as heenwysend op ’n letterlike toekomstige herstel van Israel te sien. Hy toon aan hoe hierdie profesie, hoofsaaklik op ’n nie-letterlike manier, reeds by die eerste koms van Christus vervul is. Laastens dui Maarten van Veelen aan hoe Psalm 2 volgens Handelinge 4 deur die dissipels geïnterpreteer word. Hy voer aan dat die Psalm in sy oorspronklike konteks nie bloot ’n messiaanse Psalm was nie, maar ook op die koning van Israel gedui het. Wanneer die dissipels dit aanhaal, maak hulle dit op Christus, wat die nuwe koning van Israel is maar nie deur die Sanhedrin erken word nie, van toepassing. Hierin neem die ongelowige Israel die plek van die heidene in waarvan Psalm 2:1 praat (bl. 323).

Hierdie boek is ’n belangrike bron van navorsing en inligting oor die verstaan van Israel in die Nuwe Testament, asook vir die hermeneutiese uitgangspunte van die verskillende Christelike Sionistiese groepe. Dit is ’n belangrike en nodige onderwerp wat bespreek word, veral in die lig van die toenemende konflik en die jongste verwikkelings in Israel en die Midde-Ooste. Hoewel die werk akademies van aard is, behoort dit by ’n wye gehoor wat in die onderwerp geïnteresseerd is, byval te vind.



Crossref Citations

No related citations found.