About the Author(s)


Rudolph M. Britz Email symbol
Theological University Kampen, the Netherlands

Department of Philosophy, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa

Citation


Britz, R.M., 2019, ‘’n Vraag “door de Christelijke predikanten uit Oost-Indië overgezonden”. Die Dordtse Sinode (1618–1619), die sending en die doop van kinders uit nie-Christelike ouers’, In die Skriflig 53(3), a2464. https://doi.org/10.4102/ids.v53i3.2464

Original Research

’n Vraag ‘door de Christelijke predikanten uit Oost-Indië overgezonden’. Die Dordtse Sinode (1618–1619), die sending en die doop van kinders uit nie-Christelike ouers

Rudolph M. Britz

Received: 21 Feb. 2019; Accepted: 06 May 2019; Published: 22 Aug. 2019

Copyright: © 2019. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

A question sent over by the Christian ministers from East-India: The Synod of Dordt (1618–1619), mission and the baptism of children born of non-Christian parents: It is well-known that the renowned Synod of Dordt (1618–1619) decided that children, born of non-Christian (ethnici) parents, but adopted into Christian house holdings in East-India, should not be baptised, unless foundational teaching in the Christian doctrine and confession of faith occurred. It was a decision of theological, ecclesiastical and historical consequence, also for the church in Africa. The decision was taken by a majority vote, since the issue divided the Synod. It gave effect to one of the most significant theological debates in the Synod. The article traces the dispute, with consideration of the differentiating views that arose among the delegates as it was recorded in the original acts of the Synod. The decision had after-effects and repercussions. It would be instrumental in shaping the character of the church in a non-Christian colonial context. The article indicates that the effects of the decision were not necessarily carried by the theology of mission, formulated in such an inspiring way by the Canons of Dordt.

Keywords: Colonialism; East-India; Infant baptism; Mission; Slavery; Synod of Dordt 1618–1619.

Inleiding

Dit is ’n uitgemaakte saak dat die beduidende betekenis en impak van die Nasionale Sinode wat in Dordrecht (1618–1619) vergader het, aan die drie gesaghebbende dokumente verbind word wat gedurende hierdie vergadering beslag ontvang het: die Leerreëls, die Kerkorde en die Statevertaling van die Bybel (ADSND 2014, 1:15–16). Tog het heelwat meer sake in die debatte, adviese en besluite van die Sinode opgeduik. Soms ook onverwags. So is daar – téén die gang van sake en prosedures in – op Vrydag 30 November 1618 gedurende die voormiddag, ’n veelseggende vraag aan die Sinode gestel. ’n Dringende antwoord is bowendien verwag, omdat, ‘de schepen, die naar Indië zouden varen, gereed waren om met den eersten wind te gaan zeilen’ (Acta:44). Die afgevaardigdes van Noord-Holland het dit by die Sinode aanhangig gemaak. Hulle wou weet:

Of kinderen van Heidensche ouders geboren, en nu van Christenen tot huisgenooten aangenomen, behooren gedoopt te wezen, wanneer degenen, die ze ten doop presenteeren, beloven dat zij ze in de Christelijke Religie zullen opbrengen of doen opbrengen. (Acta bl. 44)1

Die antwoord sou dus die ontluikende kerklike lewe in Oos-Indië, dit wil sê in die omstreke waar die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie besig was om ’n handelsryk van stapel te stuur en uit te bou, raak. Klaarblyklik het ’n bepaalde dooppraktyk dáár onduidelikheid en onsekerheid in die hand gewerk en teologiese vrae opgeroep. In Nederland het dit juis al duideliker begin word dat ‘groote ongeregtigheyden voorvallen op de Oost-Indische vaert’ en dat ‘inde Oost-Indien selve de saken van de Religie ende Godesdienst in groote disorder comen verloopen’ (Van Boetzelaer van Dubbeldam 1906:46). Schutte (2002:241) merk ook op dat baie dinge verkeerd geloop het, ‘soms als gevolg van niet te voorspellen omstandigheden en ontwikkelingen en soms door duidelijk menselijke beperkingen en fouten’. Die afgevaardigdes van Noord-Holland het in hierdie verband ’n gravamen ingedien, maar dit is eers heelwat later deur die Sinode bespreek.

Die gestelde vraag raak gevoelige kwessies aan, naamlik slawerny, kolonialisasie, die werk van die vroeg-sewentiende-eeuse gereformeerde kerk en sending in die gewestes van die Nederlandse handelsonderneming, die siening van die verbond, die orde van die kerk en die bediening van die kinderdoop in ’n nie-Christelike bestel. Veronderstel die vraag ’n afstand tussen norm en praktyk? Hoe is daar dus met hierdie vraag omgegaan? Waarop dui die Sinode se antwoord? Watter teologiese keuses is gemaak? Wou die Sinode met die antwoord die goeie orde in die kerk van Christus in Oos-Indië dien?

Dié vraag, ‘door de Christelijke predikanten uit Oost-Indië overgezonden’ (Acta:44), het die doop van kinders, gebore uit ethnici, (wat deur die bronne as ‘heidene’ gebruik en vertaal is),2 maar wat by Christene (soms as slawe) onderdak gevind het, in die oog gehad en het dus gevolglik die sending in die blikveld van die Sinode gebring het. Dit verdien om noukeurig nagegaan te word. Hierdie bydrae gaan derhalwe in op bogenoemde vraag, sowel as op die antwoord van die Sinode.

’n Vraag uit Oos-Indië oorgestuur

Die Kerkraad van Amsterdam sowel as die Klassis waarin die naburige kerke vergader het, sou ’n besondere rol speel in die skep van ’n netwerk en organisasie vir die uitstuur van evangeliedienaars na die Nederlandse en nuutontginde handelsgebiede (Joosse 1992:242–262; Van Boetzelaer van Dubbeldam 1906:19). So is die onderwyser Adriaen Jacobz. Hulsebos (oorl. 1622) in 1615 deur bemiddeling van die Amsterdamse Kerkraad ondersoek, geëksamineer, as predikant toegelaat, en kon hy na Oos-Indië vertrek om daar ’n leidende rol in die tweede fase van die kerklike ontwikkeling te speel, wat in 1624 konkreet in ’n kerkorde vir Batavia uitdrukking sou vind. Dit is Hulsebos wat die vrae oor die doop van kinders uit nie-Christelike ouers gebore, aan die Kerkraad in Amsterdam gestuur het (Joosse 1992:252).

Na aansienlike vertragings, word Hulsebos se vrae tog in Maart en November 1618 deur die Kerkraad behandel (Kuyper 1899:416 e.v.). Kuyper (1899) gee dit weer:

  1. Oft den doop voor goet gekent magh worden, die bedient is door Cooplieden, Ondercooplieden, Assistenten, oft andere persoonen, die daertoe door de Kercke niet sijn geautoriseert.

  2. Oft men de kinderen der Heydenen in Oost-Indien sal mogen doopen, die teenenmaal overgegaen sijn in de familie der Christenen, ende die een Christen hebben, die belouet deseluige in de Christelycke religie op te voeden. (bl. 416–417)

Omdat die Kerkraad waarskynlik groot waarde aan die vrae geheg het, word in November 1618 besluit om dit aan die Noord-Hollandse gedeputeerdes by die Nasionale Sinode in Dordrecht te besorg, met die oog daarop om dit op hulle beurt aan die Sinode voor te lê vir uitsluitsel (Joosse 1992:309). Beide predikante van Amsterdam, Rolandus en Trigland, was deel van die Noord-Hollandse afgevaardigdes en het kennis van die saak gedra. Ds. Rolandus hou egter die eerste vraag buite die Sinode – ‘om de eere van onze Kerkenraet’ (Van Boetzelaer van Dubbeldam 1906:37). Dit is immers vanselfsprekend dat hierdie soort dooppraktyke nie toegelaat kan word nie (Joosse 1992:324). Ds. Trigland dien dus, volgens Kuyper (1899:417), die tweede vraag by die Sinode in. Op hierdie uitsonderlike manier het die vraag oor die bediening van die kinderdoop in ’n sendingkonteks, dus voor die Dordtse Sinode beland.

Terwyl die Sinode op 30 November 1618 besig was om die aard (en die rasionaal) van die kategese aan die jeug uit te pluis, onderbreek voorsitter Bogermann die gang van sake en stel hy die doopkwessie, wat deur die afgevaardigdes van Noord-Holland te berde gebring is, aan die orde. Dit was nog tydens die voormiddagsitting, vermeld die Handelinge, dat die Sinode bekend gestel is met die vraag, oorgestuur deur die Christelike predikante van Oos-Indië.3

Die vraag het sy Sitz im Leben uiteraard in ’n praktiese situasie in Oos-Indië, waarvan die Sinode hom ook nie die volle prentjie sou kon indink nie. Daar word gevra of kinders, gebore uit ethnici (heidene),4 en wat op ’n permanente basis in Christelike huishoudings beland het, derhalwe gedoop behoort te wees of gedoop moet word. Die doop veronderstel onderrig in die Christelike evangelie, wat die vraag dus met die Christelike sending in die algemeen verbind.

Teen 1618 was die aandrang op die Christelike sending in Nederland in omloop (sien bv. Joosse 1992:212 e.v.; Schutte 2002:25 e.v.; Van Boetzelaer van Dubbeldam 1906:16–71). Dit was immers al 20 jaar dat kerke en kerkvergaderings hiermee deur middel van die omvangryke handelsonderneming na oorsese geweste te make gehad het. Dit het nie sonder kerklike begeleiding plaasgevind nie. Die verkondiging van die evangelie in die nie-Christelike wêreld was in die gesigsveld van die State-Generaal, die amptelik erkende kerk, sowel as die handelsondernemings. So was dit aanvaar in die Nederlandse corpus Christianum (sien Joosse 1992:213–230).

Hierdie toedrag van sake het nie net teologiese refleksie oor die sending gestimuleer nie, maar ook allerlei praktiese vrae en aangeleenthede moes uitgeklaar word. Hiermee het die beoefening van die gereformeerde teologie in Nederland ’n fundamentele sendingdimensie bekom. Dit word ’n betekenisvolle karaktertrek van die ortodokse teologie, soos Joosse (1992:96–211) in sy proefskrif aangedui het. In sy oorsigtelike samevatting skryf Joosse dat die sendinggedagtes van die gereformeerde teoloë uit die 17de eeu in die vervulling van die bybelse opdrag gegrond is ‘door middel van de kerkelijke en persoonlijke evangelieverkondiging in verbale prediking of onderricht in een wervend social levensgedrag’ (Joosse 1992:211). Die evangelieprediking is op die uitbreiding van die koninkryk van Jesus Christus of die vermeerdering van die Christelike kerk gerig, ‘terwijl het hoogste doel daarvan werd gezien in der verheerlijking van Gods Naam onder alle volke’ (Joosse 1992:211). Die 2002-bundel, Het Indisch Sion, onder redaksie van Gerrit Schutte, het ook bevind dat die populêre inbeelding dat die gereformeerde kerk van die sewentiende eeu ’n beperkte sig op die sending sou gehad het, en dat sy haar eerder by ’n proses van kolonialisasie laat inskakel het met ’n ‘hoogmoedige racistische mentaliteit’, ’n anachronistiese oordeel is (Schutte 2002:241).

Toe die Dordtse Sinode in November 1618 vergader, was die histories-teologiese konteks, wat in die uitklaar van die belydenis op die punte wat deur die Remonstrante onder verdenking gebring is, dus veel wyer as die algemeen kerklike en plaaslike politieke situasie: die konkrete verkondiging van die evangelie aan die nasies buite die Europese kring sou in die formulering ook meespreek. Immers, die Leerreëls begin met die uitleg van ’n ‘sendingteks’: Romeine 10:14 e.v. Die teks is destyds dikwels in die ortodoks-gereformeerde teologie dienooreenkomstig gebruik. Die uiteensetting van Hoofstuk 1.3 in die Dordtse Leerreëls is dus uit bekende hout gesny. Om mense tot geloof te bring, stel die Sinode dit, stuur God uit genade verkondigers van die vreugdevolle boodskap na wie Hy wil en wanneer Hy wil. Deur hulle diens word mense geroep tot bekering en geloof in Christus, die gekruisigde (Rom 10:14–15; GKSA 1999:589). Dit kon gevolglik nie anders nie: toe hierdie paragraaf gestalte gekry het, moes die bediening van die evangelie in Oos-Indië op die geestelike gesigseinder van die afgevaardigdes na Dordt gewees het.

Die stelling van Hoofstuk 1.3 word trouens ’n belangrike trajek in die Leerreëls. Die Sinode verwerp byvoorbeeld die dwaling wat meen dat dit nie alleen aan die welbehae van God toegeskryf moet word waarom Hy die evangelie eerder na die een as na die ander volk stuur nie. Dit gebeur nie omdat die een volk beter en waardiger is as die ander aan wie die evangelie nie meegedeel word nie (VD1.9; GKSA 1999:597). God stuur uit vrye guns alleen, die evangelie na wie Hy wil, wanneer Hy wil. Vir die Sinode is dit daarom deurslaggewend dat die belofte van die evangelie, naamlik dat elkeen wat in die gekruisigde Christus glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê, aan alle volke en mense aan wie God na sy welbehae die evangelie stuur, sonder onderskeid en willekeur, verkondig en bekendgestel moet word, met die eis van bekering en geloof (2.5; GKSA 1999:599). Wat nie deur die lig van die natuur of die wet van God gedoen kan word nie, doen God self deur die krag van die Heilige Gees en die bemiddeling van die Woord, dit wil sê die bediening van die versoening (3/4.6; GKSA 1999:604).

In die Ou-Testamentiese bedeling is dit aan min mense bekend gemaak, stel die Sinode en die Leerreëls dit, maar in die Nuwe-Testamentiese bedeling, waar die onderskeid tussen die volke nou weggeneem is, openbaar Hy dit aan meer mense. Die oorsaak waarom hierdie bedeling so verskillend is, moet nie aan die waardigheid van die een volk bo die ander of aan die beter gebruik van die lig van die natuur toegeskryf word nie, herbevestig die Leerreëls, maar aan die volledig vrye welbehae en onverdiende liefde van God, in Christus (3/4.7; GKSA 1999:604).

Die Sinode was dus nie deur ’n vraag uit die oorsese sendingsituasie onkant betrap nie. Teologies, kerklik en histories was daar genoeg kundigheid en ervaring om die vraag na sy volle betekenis te skat, en nie net ’n praktiese wenk as oplossing aan te bied nie. Die Sinode sou Vrydag 30 November, Saterdag 01 Desember, en Maandag tot Woensdag, 03 tot 05 Desember, tyd aan die doop van kinders uit nie-Christelike ouers spandeer. Die besluit het op 05 Desember 1618 geval. In die volgende paragrawe word hierdie teologiese debat uit die Handelinge van die Sinode oorsigtelik nageloop.

Die vraag kom ter tafel: Vrydag 30 November 1618

In sy briewe uit Dordrecht (Hales 1673:2:16) aan Lord Dudley Carlton, lig John Hales5 hom goed in oor die verloop van die Vrydagoggend-sitting van die Sinode. ‘The Merchants of Amsterdam’, skryf hy op 02 Desember 1618, ‘having Traffick into the East Indies, took into their Families many of the Youths and Infants of that Country, but doubted whether they were to be baptized or no’ (Hales1673, 2). Hy stel dit eenvoudig:

The question was thus proposed, whether the Children of Ethnick parents adopted into the Families of Christians were to be baptized, if so be they who did offer them to be baptized did undertake that they should be brought up in the Christian Faith. (p. 16)

Die Sinode sou die saak nie ligtelike opvat nie. Elkeen is gevra om dit deeglik te oorweeg, onderling daaroor te beraadslaag en hulle mening in hierdie verband skriftelik by die volgende sitting in te dien (Acta:44). Die stelwyse in die Handelinge van die Sinode onderskryf die gewig wat daaraan toegeken is. Daarvan getuig die keuse van die werkwoorde cogito [om ’n saak deeglik te deurdink, dit te weeg] en delibero [beraadslaging, ook oorweging].6 Die Sinode wou met ’n oorwoë en deurdagte antwoord vorendag kom.

Toeligting en eerste standpunte: Saterdag 01 Desember 1618

Op Saterdag 01 Desember moes die ‘Noord-Hollandse broers’ die questio Indica de baptizandis ethnicorum infantibus aut pueris (ADSND 2014, 1:30.20–21) breedvoeriger toelig. Klaarblyklik slaan die vraag nie net op die doop van (groter) kinders (pueri) nie, maar betrek ook die doopbediening aan infans, klein kindertjies, wat nog nie in staat was om te praat nie. Hulle verduidelik aan die Sinode dat in Oos-Indië, hierdie (inlandse) kinders (klein en groot), dikwels teen die wil van die ouers (saepe ab invitis parentibus), van hulle verwyder (raptio) is, en dan tog nie deur Christene as kinders wettig aangeneem (adoptio) word nie, maar slegs as slawe (mancipium), wat gekoop is (coemi), in hulle huishoudings diens doen. Soms gebeur dit dat hierdie kinders, as hulle groter word, hulle van Christene vervreem en weer in die mag van die heidendom verval.7 Hiermee het die prentjie duideliker geword. Die vraag is dus of kinders, wat op grond van ’n juridies erkende handeling (hulle is as slawe gekoop), deel geword het van ’n Christelike huishouding, nie binne die trefkrag van die Christelike doop gekom het nie.

Die afgevaardigdes van Brittanje (ADSND 2018, 2/2:132–133), Switserland (ADSND 2018, 2/2:137–138) en Bremen (ADSND 2018, 2/2:140–146) was ondertussen gereed om hulle adviese aan die vergadering voor te hou. Ook die Nederlandse professore in die teologie (ADSND 2018, 2/2:149–150) en die gedeputeerdes van die Sinode van Suid-Holland (ADSND 201,2/2:152–154) het die vraag oorweeg en hulle mening toe reeds op skrif gestel. Dié adviese is volgens John Hales voorgelees (Hales 1673:2:18 e.v.; sien ook Acta:44). Op die res moes die Sinode nog wag (Acta:44).

Die vraag het die Sinode verdeel. Aan die een kant word geoordeel dat sodanige klein kindertjies wel gedoop behoort te word. Indien hulle egter groter is, moet hulle eers gedoop word nadat hulle belydenis van geloof gedoen het. Aan die anderkant word gemeen dat, soos Hales dit opsom, ‘the Infants of Ethnick Parents ought not to be Baptized, till they came to be of years to declare their Faith’ (Hales 1673:2:19). Die verskil van mening raak dus die posisie van infans. En nie pueri en puerae (groter seuns en dogters) nie.

Eersgenoemde standpunt is deur die Nederlandse professore, die afgevaardigdes uit Bremen en Groot Brittanje ingeneem. Die deputate van Suid-Holland en Switserland het hierteenoor stelling ingeneem.

’n Standpunt vir die doop van klein kindertjies gebore uit ethnici

Die teoloë uit Groot Brittanje (George Carleton [1559–1628], Biskop van Llandaff, Joseph Hall [1574–1657], John Davenant [1576–1641] en Samuel Ward [1572–1643])8 het positief geadviseer op hierdie vraag. Vir hulle is dit wel ’n voorwaarde dat die kinders onder bespreking op ’n wettige manier by Christene beland het en tereg moet kom. Hales beklemtoon dit ook. Die Christelike doop kan net bedien word aan ‘infants, if they were justly taken, as, if they were given, or bought, or the like, (for it might not be lawful fraudulently or violently to take them from their Parents)’, merk hy op (Hales 1673:2:18–19).

Die advies maak ’n onderskeid. Daar is ’n verskil tussen kinders wat nog nie, en wat reeds oor die gebruik van hulle rede beskik en gevolglik in die Christelike leer onderrig kan word.9 Wat die klein kindertjies betref (de infantibus), is hulle oortuig (puto) dat dit die plig van die hoof van die huishouding (familie, gesin) is om hulle op dieselfde wyse, dit wil sê asof hulle uit Christelike ouers gebore sou wees, ten doop te bring (ac si ex Christianis parentibus nati fuissent).10 Die rede hiervoor is dat hulle inderdaad reeds deel gemaak is van die familie waarin hulle aangeneem is, en dat die hoof van die huishouding, (tensy hy meer verdorwe as ’n ongelowige wil wees, merk hulle op), eervol moet voorsien in die geestelike en fisiese behoeftes van die lede van die huishouding.11

Om die advies aan die Sinode te staaf, word vier argumente ter sprake gebring. Eerstens, die Skrif (Gen 17:12, 13 en 23) gee die deurslag: Op hierdie manier het Abraham almal, dit wil sê almal wat in sy huishouding gebore is, of met geld gekoop is en vrygestel is van enige vreemdeling, volgens sy bevel, in die eerste sakrament van die besnydenis laat deel.12 Tweedens, word op die voorsienigheid en beskikking van God gewys. Hierdie kinders word deur die toedoen van ’n buitengewoon glansende goddelike voorsiening en begenadiging uit die heidendom uitgeroep om binne die mure van die kerk ontvang te word. Predikante sou nie anders kon oordeel nie, as dat dit die goeie wil van God is om die kinders in die geestelike aangeleenthede, wat in die kerk aanwesig is, te laat deel.13 Die derde punt van die argument gaan oor die integriteit van die wyse waarop hierdie kindertjies deur die doop in die kerk opgeneem word: daar is in beginsel geen onderskeid tussen hulle en diegene wat uit Christen-ouers in die kerk gebore is nie. Ten opsigte van die kerk, die belydenis en die verbond, deel hulle dieselfde reg.14 Ten slotte, wys die Engelse teoloë ook op enkele gevalle waar die kerkgeskiedenis hulle standpunt ondersteun.

Met betrekking tot groter kinders wat in staat is om in die beginsels van die Christelike geloof onderrig te word, is hulle oordeel, (alvorens die doop kan plaasvind), dat hierdie onderrig eers moet plaasvind, dat die kinders hulle met hierdie kennis moet vereenselwig en dat hulle die sakrament van die doop opreg moet begeer, sodat die bad van die wedergeboorte hulle sonder die geringste hindernis kan reinig.15 Indien diegene wat so onderrig word hulle inderdaad hierteenoor verset, moet hulle nie gedoop word nie. Dit is hulle finale gevolgtrekking.16

Hiermee het die teoloë van Nederland en Bremen saamgestem.

Die deputate van Switserland en Suid-Holland egter nie. Hales (1673) merk op:

On the contrary the Helvetians and South-Hollanders concluded, that the Infants of Ethnick Parents ought not to be Baptized, till they came to be of years to declare their Faith. Their chief reason was, because Baptism was a Sign of the Covenant: but the Infants of Ethnick Parents are not born within the Covenant, and therefore they cannot be partakers of this Sign. (2, bl. 19)

Reeds op Saterdag het dit dus geblyk dat die weë in die Sinode oor die aangeleentheid sou skei. ’n Pakkende teologiese debat was besig om te ontvou. Die Sinode moes egter vroeër verdaag, omdat die begrafnis van ‘Henricus ab Hell, who died lately’ (Hales 1673:2:19) om 11 uur plaasgevind het. Die vergadering sou eers weer Maandag 03 Desember sy werksaamhede voortsit.

Die menings konsolideer in twee uiteenlopende trajekte: Maandag 03 Desember

Op Maandag 03 Desember, het die orige menings ingekom: Heidelberg (ADSND 2018, 2/2:133–134), Hesse (ADSND 2018, 2/2:134–136), Genéve (ADSND 2018, 2/2:138–140), Emden (ADSND 2018, 2/2:147–148), Gelderland (ADSND 2018, 2/2:150–152), Noord-Holland (ADSND 2018, 2/2:155–157), Zeeland, (ADSND 2018, 2/2:157–159), Utrecht (kontra-Remonstrants) (ADSND 2018, 2/2:159–160), Utrecht (Remonstrants) (ADSND 2018, 2/2:160), Friesland, (ADSND 2018, 2/2:160–161), Overijsel (ADSND 2018, 2/2:161–162), Sabelius, (ADSND 2018, 2/2:163–164, reeds gereed op 30 November 1618), Groningen (ADSND 2018, 2/2:164–165), Drente (ADSND 2018, 2/2:165–166) en die Waalse afvaardiging (ADSND 2018, 2/2:167). Hales rapporteer dat die Sinode geen twyfel daaroor gehad het dat die volwasse kinders (adulti), ‘if they made profession of the Christian Faith they might be baptized, etiam invitis parentibus’ – selfs teen die ouers se wil (Hales 1673:2:20). Die rede is voor die hand liggend: ‘because that after children came to be of years, in case of Religion they depended not from the power of their parents, but might make their own market’ (Hales 1673:2:20). Veronderstel Hales se opmerking, selfs teen die ouers se wil, dat die Sinode daarop bedag was dat die biologiese ouers van die kinders onder bespreking ook in die Christelike huishoudings as slawe aanwesig was, en, dat die Engelse afvaardiging met hierdie moontlikheid eweneens rekening gehou het?

Nietemin, die menings het op ’n ander punt uiteengeloop. Soos Hales (1673:2:20) dit stel: ‘All the difficulty was of infants, and children not yet of discretion to make their choice’. Wat hom opgeval het, was die Noord-Hollanders ‘were expressly against it; whether they were bought, given, taken in War, or howsoever’ (Hales 1673:2:21). Ter wille daarvan om die uiteenlopendheid van standpunte in die Sinode te illustreer, word die advies van die afgevaardigdes van Noord-Holland vervolgens aan die orde gestel.

’n Standpunt teen die doop van klein kindertjies gebore uit ethnici

Uit die staanspoor was die Noord-Hollandse afgevaardigdes duidelik: Hierdie kinders, of hulle pasgebore is, en of hulle al ouer geword het, en of hulle op ’n wettige manier aangeneem is, moet eers in die Christelike godsdiens deeglik en geloofwaardig opgevoed word, bely dat Jesus Christus die enigste Saligmaker is, en self die heilige doop begeer, voordat hulle gedoop kan word.17 Wat hulle betref, staan dit vas dat ons niks mag doen wat nie uit die geloof is nie (Rom 14:23). Wat nie uit die geloof is nie, is sonde (peccatum est). Ons geloof moet waarlik leun (innitor) op die Woord van God (Fides vero nostra Verbo Dei inniti debet), maar, tot op hierdie punt (hactenus), skryf hulle, het hulle niks daarin gevind wat op hierdie soort kinderdoop aandring (suaedo) nie, maar veel wat inderwaarheid die teendeel laat seëvier (envico).18

Hulle voer ’n paar redes vir hulle advies en stellingname aan. Eerstens, is die kinders van ethnici nie inbegrepe (comprehendo) in die verbond van God, waarvan die doop ’n seël is, nie (… cuius sigillum est baptismus, non comprehendatur). Hulle is gebore uit ouers, waarvan die apostel in Efesiërs 2:12 bevestig dat hulle sonder Christus is, vervreemd is van die burgerskap van Israel, geen hoop het nie, en sonder God ronddwarrelend (verso) in hierdie wêreld is.19 Tweedens, wat belowe is aangaande die vergewing van sonde en die genade van die Heilige Gees, wat die doop verseël (obsigno) (ADSND 2018, 2/2:155.31: quae baptismate obsignantur), het nie op hulle betrekking nie, maar word alleen aan die gelowiges en hulle kinders toegedeel (fio), presies soos (prout) wat ons dit, skryf hulle, in die verduideliking van die apostel Petrus in Handelinge 2:39 het, waar hy Jode, wat uit die saad van Abraham afgestam het, toegespreek het. Derdens, wys hulle daarop, verklaar (pronuntio) Paulus in 1 Korinthiërs 7:14 dat diegene wat nie uit gelowige ouers gebore is nie, onrein is. Deur die teken van die afwassing deur die bloed en die Gees van Christus aan onreines te gee, wat is dit anders, vra hulle, as om heilige dinge vir die honde te gooi.20 Dit gaan dus teen die uitdruklike bevel van Christus in Mattheus 7:6 in.

Ons Here Jesus Christus het (vierdens) sy apostels uitgestuur (mitto) na die nasies en hulle beveel om eers te onderrig en dan te doop. Hierdie orde mag nie deur ons omgekeer word nie (ADSND 2018, 2/2:156.10–11: qui ordo a nobis inverti non debet). Vyfdens, het die apostels dan ook niemand anders gedoop nie as diegene wat hulle vantevore met die kennis van die Christelike godsdiens vertroud (imbuo) gemaak het, om dan eventueel (tumdemum) met hulle kinders in die kerk opgeneem te word en die teken van die sakrament van die doop te ontvang (accipio).

Hulle is ook oortuig dat, indien dit verlang word (postulo), baie voorbeelde uit die praktyk van die vroeë kerk voorsien (suppedito) sou kon word om hulle standpunt te staaf.21 In die (destydse) kategese is baie deeglik onderrig gegee en niemand uit die heidene is tot die heilige doop toegelaat nie, tensy hulle toereikend in die Christelike godsdiens onderrig is nie (ADSND 2018, 2/2:156.18–19: nisi qui in religione Christiana satis probe instituti erant). Maar wat deur die Woord van God voorgedra word, is ’n voldoende weergawe en vir hulle aanvoeling blyk dit oortuigend genoeg te wees.22

Hulle bring (net soos die teoloë van Groot Brittanje) eweneens die voorbeeld van Abraham, wat sy huishouding besny het, ter sprake. Maar, nostro iudicio, bring (facio) die teenoorgestelde betekenis na vore. Want eerstens, God sluit sy familie nadruklik (vir ’n bepaalde doel > expresse) deur ’n besondere gebod in en tweedens, volwassenes, wat met Abraham in waarheid God ken en dien, is besny sodat húlle kinders, omdat hulle met hulle deelgenote aan dieselfde verbond is, nie van die besnydenis uitgesluit kon word nie.

Hulle is ook van mening (iudicamus) dat die (wettige) aanneming hier geen betekenis kan inhou nie, omdat die menslike aanneming nie die Goddelike meebring (of verwerf > infero) nie.23 Net so blyk dit ook dat die getuies heel dikwels soos dit hulle gewoonte is om te doen, nieteenstaande die feit dat hulle dit met ’n skoon en vroom voorneme onderneem het, nie hulle beloftes nakom nie. Immers, die getuies word self deur die dood weggeneem, of die kinders word deur hulle ouers óf opgeëis, óf hierbenewens deur geweld verwyder.24

Word hulle dus op ’n genoegsame wyse by Christene opgeneem? Vir die afgevaardigdes word die liefde (charitas) wat ons aan die naaste verskuldig is en wat nie net die liggaamlike nie, maar veral (praecipue) die geestelike welsyn opsoek (quaero) en bevorder (promoveo), inderdaad op ’n voldoende wyse aan die heidenkinders vergestalt, in die sin dat hulle getrou in die kennis en vrees van God opgevoed word. Die uitstel van die ware doop kan hulle nie benadeel nie, omdat dit in die algemeen sonder twyfel geld dat dit later in die kerk ontvang kan word. Dit is nie die uitstel van die doop wat skuldig bevind nie, maar die veragting daarvan.25 Dit dan, volgens die Handelinge (Acta 1621), is die oorwoë mening van:

Iacobus Rolandus Predicant van Amsterdam, Iacobus Triglandis Predicant van Amsterdam, Abrahamus van Doreslaer Predicant van Enkhuysen, Samuel Bartholdus Predicant van Munnekendam, Theodorus Heyngius ouderlinck der kercke van Amsterdam, Dominicus van Heemskerc beyde der Rechten Doctor ende ouderlinck der kercke van Amsterdam. (bl. 10)

Word hierdie advies vergelyk met dié van die teoloë uit Groot Brittanje, is die kontoere van die boeiende teologiese debat duidelik.26 Hier stoel die vertrekpunt van die argument in die geloof, by die integriteit van die geloof. Die Britse geleerdes maak die Abrahamverbond die uitgangspunt en bring die kinderdoop in diens van die gratuïtiewe karakter van die genade van God.

Waar sou die simpatie van die Remonstrante, wat toe nog nie ter vergadering verskyn het nie, lê? Die handjievol Remonstrante uit Utrecht27 wat wel aanwesig was, was van mening dat sodanige kindertjies nie gedoop behoort te word nie. Immers, skryf hulle, op grond van die voordrag van die broeders van Suid-Holland en andere, wat dit so oortuigend aangevoer het, antwoord ons dat geen kinders uit die heidendom, voordat hulle die Christelike geloof bely het, na ons insig gedoop mag word nie.28

Hales skryf dat die voorsitter, Bogerman, op ’n gegewe oomblik aan die debat rigting gegee het. Hy vra vir tyd om die menings met mekaar te vergelyk. ‘And’, gaan Hales (1673:2) voort:

[B]ecause the examples of Abraham and Paul were much stood upon by those who held the affirmative, he proposed these two things to be considered of. First, whether it were likely that in Abrahams Family, when he put circumcision in act, there were any Infants, whose Parents died uncircumcised. Secondly, whether it were likely that in the Families baptized by Paul, there were any Infants, whose Parents died unbaptized … (p. 21)

Hierdie opmerkings sinspeel daarop dat die Sinode wel daarmee rekening gehou het dat die ouers van die kinders, ook die infans, eweneens (as slawe, en ongedooptes) deel was van die Christelike huishoudings waarin hulle (en hulle kinders) opgeneem is. Dit verklaar ook die uitleg van die Abrahamverbond deur die Noord-Hollandse afgevaardigdes. En, dit sou ook niks verander aan die standpunt van die teoloë uit Groot Brittanje nie.

Die saak is dus daar gelaat. Die Sinode het sy werksaamhede hervat met die behandeling van die opleiding van predikante. Om dus later tot die doopbesluit te kom.

Die besluit uitgestel: Dinsdag 04 Desember

Die volgende dag kom die voorsitter, volgens Hales, terug op die aangeleentheid. Omdat die mening van sommiges ‘somewhat ambiguous and obscure’ (Hales 1673:2:26) gestel was, en omdat hy met die opstellers wou beraadslaag, reël Bogerman dat die finale besluit gedurende die volgende sessie sou val, dit wil sê, op Woensdag 05 Desember.

Die besluit val op Woensdag 05 Desember

Die Sinode was nou gereed om ’n besluit te neem. Die Handelinge (wat die besluit verkeerdelik op 03 Desember 1618 plaas) vermeld dat die vergadering eendragtig (consentiens) geoordeel het dat ouer kinders (adultus>adolesco) wat hulle in hierdie omstandighede bevind het, nie tot die heilige doop toegelaat kan word nie, tensy hulle:

  • deeglik (probe) in die beginsels van die Christelike godsdiens opgevoed is,
  • belydenis van die geloof gedoen het,
  • enige rekenskap daarvan kan gee, en
  • self die doop begeer.29

Hierbenewens moes bekwame getuies belowe om hulle verder in die Christelike godsdiens te onderrig. Die Sinode spel ook – betekenisvol – die konsekwensies van hierdie kerklike handeling uit. Diegene wat onder hierdie omstandighede gedoop is, moet (debeo < behoort, moet, is verordineer om) dieselfde reg van vryheid geniet (fruor) wat ander Christene het. Bowendien behoort hulle nie deur verkoping of enige ander vorm van vervreemding van die Christelike here weer in die mag van die heidene oorgegee word nie.30

Die Sinode moes egter ook oor die doop de infantibus etiam ethnicorum (ADDND 2014, 1:31.15) uitspraak doen. Juis omdat daar verskil van mening was. In die geval van klein kindertjies kon daar nog geen onderrig plaasvind nie, en alhoewel, gee die Sinode toe, hulle deur aanneming (assumptio) in Christelike huishoudings ingeplant (ingelyf, insero) kon wees, is met die meeste stemme geoordeel (ADSND 2014, 1:31.17–18: iudicatum quoque potioribus auffragiis fuit) dat hulle nie gedoop kan word nie. Die doop kan wel aan hulle bedien word wanneer hulle die ouderdom bereik het waarin hulle, na hulle begrip, in die eerste beginsels van die Christelike godsdiens onderrig kan word, en dit inderdaad ook geskied het. Daarby moet bekwame getuies belowe om met toewyding toe te sien dat hulle verder en dieper in die Christelike geloof onderrig sal word en dat hulle nie sal toelaat dat hulle weer van die Christelike families en gemeenskap vervreem word nie.31

Hiermee het die besluit van die Sinode geval. Die vraag ‘door de Christelijke predikanten uit Oost-Indië overgezonden’ is geantwoord, met ’n meerderheid. Vir die kerke in Oos-Indië is dit uitgespel: klein kindertjies wie se biologiese ouers buite die Christelike geloof gestaan het, en wat op ’n wettige manier in ’n Christelike huishouding opgeneem is, kon slegs ten doop gebring word nadat hulle onderrig is (en per implikasie) self belydenis van die Christelike geloof gedoen het. Dit het beteken dat slawe se kinders eweneens nie sonder meer deur hulle Christelike eienaars ten doop gebring kon word nie.

Hales (1673:2) het uitgesproke die besluit gekritiseer: ‘A strange decision’, skryf hy:

[A]nd such as, if my memory or reading fails me not, no Church either Ancient or Modern ever gave. When it was objected, what if they were in danger of death? Their answer was, that the want of Baptism would not prejudice them with God, except we would determine as the Papists do, that Baptism is necessary to salvation. Which is as much to undervalue the necessity of Baptism as the Church of Rome doth overvalue it. (p. 27)

Is hiermee ’n ordereëling getref ter wille van die beskerming van die integriteit van die Christelike geloof, waarheid en bediening van die sakramente? Is onaanvaarbare dooppraktyke in die sending en kerke in Oos-Indië hiermee die loef afgesteek? Gaan dit dalk hier om ’n bepaalde sakramentsbeskouing wat op ’n ander patroon geknip is binne ’n nie-Christelike koloniale situasie? Geld daar dus ander norme in ’n konteks waar die kerk reeds oor eeue heen gevestig was en gevolg help gee het aan ’n omvattende Christelike bestel? Is dit veelseggend dat die Remonstrante uit Utrecht hierdie besluit onderskryf het? Ontmoet ’n mens dalk in hierdie meerderheidsbesluit oorspronklike en konsekwente Dordtse sakraments- en sendingteologie? Al hierdie vrae moet in die lig van die adviese wat gedurende daardie twee dae in Desember 1618 voor die Sinode gedien het, die besluite van die vergadering sowel as die uitklaring van die belydenis rakende die uitverkiesing van die verlore mens, uitgepluis word.

Uit die Na-Handelinge van die Sinode blyk dit dat die bewussyn van en aandrang op die goeie orde in die kerk van Christus in die geweste van Oos-Indië ten minste aan hierdie besluit vorm help gee het. Ten slotte word kortliks hierop gewys voordat ’n gevolgtrekking gemaak word.

Om die goeie orde in die kerk van Christus

Op Donderdag 16 Mei 1619, tydens die 162ste sitting, dien ’n lys van sake wat die Sinode in behandeling moet neem. Dit sluit in wie geregtig is om die doop te bedien, die doop aan bejaarde persone, die bediening van die doop buite kerklike vergaderinge, die gewenste proeftydperk vir persone wat uit die ‘Pausdom’ oorkom voordat hulle tot kerkdiens toegelaat word, die goeie orde vir die skole en universiteite, die bevestiging van huwelike met geëkskommunikeerdes en met diegene wat vreemd is aan die gereformeerde kerke, die viering en heiliging van die Sabbat, die aard van die bediening in verborge kerke onder die kruis, (Acta:939) en laastens: ‘Vande voortbreydinghe des Evangeliums in Oost-Jndien, ende andere plaetsen die van d’ onse pleghen besorcht (sic) te worden’32 (Kuyper 1899:150). Die werkwoord wat in die Latynse uitgawe van die Na-Handelinge gebruik is, is commeo, wat (oor en weer) besoek beteken.

Hierdie punt het sy oorsprong in die Noord- en Suid-Hollandse Sinodes, wat oor ’n lang tyd met ’n verskeidenheid kerklike aangeleenthede en onvoorsiene vrae wat in die handelsgebiede aan die orde gekom het, moes handel. Beide het besluit om dit by die Nasionale Sinode aanhangig te maak (Kuyper 1899:184; Van Boetzelaer van Dubbeldam 1906:46–47). Klaarblyklik is die Sinode se bespreking en besluite op 17 Mei 1619 (Acta:939 e.v.) hieroor egter nie genotuleer nie. Op advies van die Noord-Hollandse gedeputeerdes is besluit om die saak amptelik by die State-Generaal te opper (Kuyper 1899:184). Daarmee sou orde op kerklike sake in Oos-Indië gestel word. Op hierdie gravamen is in die inleiding van die artikel hierbo gewys.

Die Sinode (Acta) het gevolglik reg aan die einde van die samekoms Bogerman, Faukelius, Hommius en Polyander benoem:

om vanwege deze Synode de Heeren Staten Generaal te bedanken voor de weldaden, aan onze kerken bewezen, zoo in derzelver goedertierene bescherming, als voor de samenroeping dezer Synode, en meteen aan hunne Hoog Mog. gedienstiglijk te verzoeken, hetgeen in deze Synode is besloten, met hunne toestemming en approbatie te gelieven te bekrachtigen, en door hun gezag ter uitvoering te doen stellen. (bl. 946)

So is daar beslag gegee aan ’n betekenisvolle Request van die Sinode ‘Aan de Doorluchtige, Hoog Mogende Heeren, de Heeren Staten Generaal der Vrije Vereenigede Nederlanden, onze gebiedende Heeren’ (Acta:946 e.v.). Dit sou uit 17 paragrawe bestaan. In die tiende paragraaf33 word die State-Generaal daarop gewys dat God vir die Nederlanders ’n weg geopen het tot verskeie afgeleë gebiede in Indië en elders, wat van die ware en saligmakende kennis van God ontbloot is. Aangesien alle ware Christene (veri Christiani) ‘door de Liefde [charitas = liefde van God], die sy behooren te dragen tot de verbreydinge (propago) van Gods eere onder menschen, ende tot de salicheyt van hare naesten’ (Kuyper 1899:267) met ywer (per zelum) verplig is om alle middele wat hiertoe sal dien, aan te wend, versoek die Sinode in nederigheid gevolglik:

dat uwe Hooch Mog. gelieve met Christelycken ernst ende yver dese saecke te behertighen, ende tot dien eynde te beramen, ende by der handt te nemen alsulcke middelen, als tot voorplantinge (propagatio) des h. Euangeliums in deselve Landen dienstigh ende allerbequaemst sullen wesen. (bl. 267)

Die uitgangspunt, naamlik dat God hierdie weg geopen het, kom ooreen met wat die Leerreëls in hierdie verband uitgeklaar het. Die Christelike sending gaan van God uit en word deur sy liefde en ontferming gedra. Die owerheid het hierin ’n bepaalde rol te speel en moes met gesag hieraan help uitvoering gee. Dit sou uiteindelik meewerk om die kerkordes wat in 1624 en 1643 vir Batavia aanvaar is, op te stel. Ter wille van die goeie orde van die kerk van Christus.

Gevolgtrekking

Teen die tyd dat die Request aan die State-Generaal geskryf is (op 27 Mei 1619 – Acta:945), het die skepe wat op gunstige winde gewag het, lank reeds vertrek. Die uitsluitsel wat oor die doopkwessie op die Sinode gekom het, is ingeskeep en sou van betekenis wees vir die kerklike lewe en sending in Oos-Indië. En bykans 50 jaar later, ook vir die kerk wat ondertussen aan die suidpunt van Afrika oorgeplant is. Immers, verbyvarende predikant Buldaeus het op grond van hierdie besluit, geweier om op 21 Maart 1666, die kind van ’n slavin, Susanna, te doop. Aan die Kaap van Goeie Hoop is die kind in opdrag van die Goewerneur desnieteenstaande die volgende Sondag deur die plaaslike predikant gedoop (sien Schütte 2018:1 e.v.).

Die besluit oor die doop van kinders uit ethnici gebore, het dus ’n lang na-werking gehad. Dit sou ook medebepalend wees vir die verkondiging van die evangelie en gevolglik vormgewing van die kerk in ’n nie-Christelike konteks. In die toepassing van die sendingtrajek wat in die Leerreëls so inspirerend vanuit God onder woorde gebring is, sou hierdie besluit seggenskap kry. Dit was ’n besluit wat op spoedige antwoord staatgemaak het, en wat gevolg gegee het aan een van die mees betekenisvolle teologiese debatte in die Sinode van Dordrecht. Die besluit is met ’n meerderheidstem geneem: kinders uit ethnici gebore en wat in ’n Christelike huishouding opgeneem is, kon nie gedoop word alvorens daar onderrig in die Christelike leer plaasgevind het en belydenis van geloof gedoen is nie. Dit was ’n besluit van teologiese, kerklike en historiese konsekwensie. ’n Duidelike antwoord op ’n vraag ‘door de Christelijke predikanten uit Oost-Indië overgezonden’.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydrae

R.M.B. was die enigste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Data beskikbaarheidsverklaring

Data-deling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur (s) en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeurs nie.

Literatuurverwysings

Acta, sien Acta of Handelingen der Nationale Synode

Acta of Handelingen der Nationale Synode in den Naam onzes Heere Jezus Christus, Gehouden door autoriteit der Hoogmogende Heeren Staten-Generaal der Vereenigde Nederlanden te Dordrecht, ten jare 1618 en 1619, Hier komen ook bij de volledige Beoordelingen van de Vijf Artikelen en de Post-Acta of Nahandelingen, In de tegenwoordige spelling naar de oorspronkelijke Nederduitsche Uitgave onder toezicht van J.H. Donner en S.A. van den Hoorn, s.d., D. Donner, Leiden.

ACTA ofte Handelinghen des NATIONALEN SYNODI Inden name onses Heeren Jesu Christi, Ghehouden door authoriteyt der Hoogh: Mogh: Heeren Staten Generael des Vereenichden Nederlandts TOT DORDRECHT, Anno 1618 ende1619, Hier comen oock by de volle Oordeelen van de vijf Artijckelen, 1621, I.I, Canin, Dordrecht.

ADSND 2014,1, sien Sinnema, D., Moser, C. & Selderhuis, H.J. (reds.)

ADSND 2018,2,2 sien Sinnema, D., Moser, C. & Selderhuis, H.J. (reds.)

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1999, Die berymde Psalms en Skrifberymings, Deputate vir die Calvyn-Jubeleumboekefonds, Kaapstad.

GKSA, sien Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika

Hales, J., 1673, Golden remains, of the ever memorable Mr. John Hales, of Eaton-Colledge, &c. The Second Impression with Additions from the Authours own Copy, viz. Sermons & Miscellanies also Letters and Expresses concerning the Synod of Dort, (not before Printed,) from an Authentick hand, Printed by Tho. Newcomb, (for Robert Pawlet, at the Sign of the Bible in Chancery-Lane), London.

Joosse, L.J., 1992, ‘Scoone dingen sijn swaere dingen’: Een onderzoek naar de motieven en activiteiten in de Nederlanden tot verbreiding van de gereformeerde religie gedurende de eerste helft van de zeventiende eeuw, J.J. Groen en Zoon, Leiden.

Kaajan, H., 1914, De Pro-Acta der Dordtsche Synode in 1618, Martinus Nijhoff, Rotterdam.

Kuyper, H.H., 1899, De Post-Acta of Nahandelingen van de Nationale Synode van Dordrecht in 1618 en 1619 gehouden, naar den authentieken tekst in het Latijn en Nederlandsch uitgegeven en met toelichtingen voorzien, voorafgegaan door de geschiedenis van de Acta, de Autographa en de Post-Acta dier Synode en gevolgd door de geschiedenis van de revisie der Belijdenisschriften en der Liturgie, benevens de volledige lijst der gravamina op de Dordtsche Synode ingediend. Een historische studie door dr. H.H. Kuyper, Bedienaar des Woords te Leeuwarden, Höveker & Wormser, Amsterdam.

Schutte, G.J. (red.), 2002, Het Indisch Sion: De Gereformeerde kerk onder de Verenigde Oost-Indische Compagnie, Verloren, Hilversum.

Schütte, J.L., 2018, ‘The day Dordt caused a storm in Africa: The baptism of children born from slaves’, in ongepubliseerde voordrag by die International Conference 400 Years Synod of Dordt, Dordrecht, 14th–16th November.

Sinnema, D., Moser, C. & Selderhuis, H.J. (reds.), 2014, Acta et Documenta Synodi Nationalis Dordrechtanae (ADSND) (1618/1619), Vol. I. Acta of the Synod of Dordt, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Sinnema, D., Moser, C. & Selderhuis, H.J. (reds.), 2018, Acta et Documenta Synodi Nationalis Dordrechtanae (ADSND) (1618/1619), Vol. II/2, Early Sessions of the Synod of Dordt, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Van Boetzelaer van Dubbeldam, C.W.T., 1906, De Gereformeerde kerken in Nederland en de zending in Oost-Indië in de dagen der Oost-Indische Compagnie, P. den Boer, Utrecht.

Footnotes

1. ADSND 2014, 1:30.9–12: An pueri ex parentibus ethnicis nati, et iam a Christianis assciti in suas familias sint baptizandi, si qui eos offerunt baptizandos/fide-iubeant se eos in religione Christiana educaturos, aut educandos curaturos.

2. Wanneer primêre bronne beledigende taal gebruik het, is dit vir akademiese doeleindes so gelaat. Die outeur onderskryf egter hierdie soort taalgebruik geheel en al nie.

3. ADSND 2014, 1:30.6–9: Noort-Hollandi proposuerant questionem a pastoribus Christianis in India Orientali transmissam, ad quam petebant ut synodus primo tempore respondere vellet, quia naves Indiam petiturae iam paratae erant ut prima tempestate solverent. Sien ook die formulering in Acta (1621:52): ‘Of kinderen van Heydensche ouders geboren, ende nu van de Christenen tot huysgenoten aengenomé, behooren gedoopt te wesen: wanneer die gene die se ten dope presenteren, belové dat syse inde Christelicke Religie sullé opbringen, ofte doen opbringen.

4. Mense wat in ‘heidense’ geloofsisteme geleef het, is so getipeer. Veelseggend is gentibus [nasies] nie in hierdie binne-kerklike gesprek gebruik nie.

5. John Hales (1584–1656), teenwoordig by die Sinode in Dordrecht, was Professor in Grieks aan die Universiteit van Oxford, lid van Eaton College en domheer van Windsor.

6. ADSND 2014, 1:30.12–14: Rogati fuerunt singuli ut de hac questione mature cogitent et deliberent, et proxima sessione sententiam suam scripto exhibeant.

7. ADSND 2014, 1:30.22–27: Questio Indica de baptizandis ethnicorum infantibus aut pueris a fratribus Noort-Hollandis fusius explicata fuit, nimirum infantes seu pueros illos, de quibus quaeritur, plerumque iam ad aliquam pervenisse aetatem, non esse adoptatos in filios a Christianis, sed asscitos tantum in ipsorum familias loco mancipiorum ab iis coemi, raptos saepe ab invitis parentibus, et quandoque iterum a Christianorum familiis alienari et in ethnicorum potestatem redire. Acta:44: ‘… de jonge kinderen waarvan quaestie was, gemeenlijk nu tot eenigen ouderdom waren gekomen, en niet van de Christenen tot kinderen aangenomen, maar alleenlijk in hunne huisgezinnen voor slaven gerekend en dat zij ze menigmaal tegen dank der ouders, ontnamen en kochten; en dat zij wederom somwijlen van de huisgezinnen der Christenen kwamen te vervreemden en wederom in de macht der Heidenen geraken’. Sien ook Acta (1621:52).

8. Die Acta 1621 dos die Britse afvaardiging in deftige taal uit: Vanden Groot-Machtighsten Coninck van Groot-Brittannien, Iacobo I: Gregorius Bischop van Llanda. Iosephus Hall Doctor der h. Theologie ende Deken van Wigorn. Ioannes Davenantius Doctor in de h. Theologie ende Professor publijc inde Academie van Cambridghe/ende Reghent van het Collegie der Coninginne aldaer. Samuel Wardus Doctor der h. Theologie/Archidiaken van Taunton/en Reghent van ’t Collegie van Sydney inde Academie van Cambridghe (bl. 12).

9. Id inprimis supponimus, hosce pueros legitime pervenisse in potestatem Christianorum, quo posito, respondemus aliam esse rationem infantium, qui nondum ad usum rationis pervenerunt, aliam illorum, qiu iam capaces sunt, disciplinae et institutionis Christianae (ADSND 2018, 2/2:132.9–12).

10. Si de infantibus, sermo sit, ad officium patrisfamilias pertinere putamus, ut eos offerat baptizandos, atque ad ministri officium, ut oblatos baptizet, perinde ac si ex Christianis parentibus nati fuissent (ADSND 2018, 2/2:132.12–15).

11. Quandoquidem enim iam facta sunt membra eius familiae, in quam asciti sunt, nisi infideli deterior esse velit, tenetur dominus familiae illorum bono tam spirituali, quam corporali prospicere (ADSND 2018, 2/2:132.15–17).

12. Hoc idem Abrahamo iniunctum, in praevio circumcisionis sacramento, Gen 17:12, 13 et 23, ubi natus domi, et emptus pecunia, ex quibuscunque alienigenis, iubetur circuncidi (ADSND 2018, 2/2:132.17–19).

13. Porro eodem fere videri possunt iure frui, quo nati in ecclesia (ADSND 2018, 2/2:132.23–24). Quinetiam cum tales infantes sint speciali quadam providentia et misericordia divina, e paganismo evocati et intra ecclesia pomoeria recepti, minister non debet aliter iudicare, quam hanc esse Dei voluntatem, ut spiritualium bonorum, quae in ecclesia habentur, fiant participes (ADSND 2018, 2/2:132.20–23).

14. Nam sic ascitum fuisse in familias Christianorum atque adeo in ecclesiam, est instar professionis, sicuti et nasci in ecclesia, unde et ius foederatorum habere censentur (ADSND 2018, 2/2:132.24–26).

15. Ad hos quod attinet, qui idonei sunt ediscendis principiis fidei Christianae, putamus esse cognitione horum principiorum, primo in loco imbuendos, quibus cognitis, si assentiantur, atque sacramentum baptismi serio expetant, absque omni scrupulo regenerationis lavacro abluendos (ADSND 2018, 2/2:133.1–4).

16. Si vero e contra, doctrinae illis traditae refragentur, atque baptismo renitantur, tales neque a dominis suis ecclesiae offerendos, neque si offerantur ab ecclesia baptizandos iudicamus (ADSND 2018, 2/2:133.4–7).

17. ADSND 2018, 2/2:155.15–20: Nobis videri non esse baptizandos, sive infantes illi sint et recens nati, sive adultiores, ut sex, septem, aut plurium annorum, sive etiam sint adoptati, sive bello capti, sive pretio empti, sed prius in religione Christiana probe et fideliter instituendos, donec fidem in Iesum Christum unicum mundi servatorem professi, ipsi ultro edita fidei confessione sanctum baptisma sibi administrari petant.

18. ADSND 2018, 2/2:155.23–25: … in quo tamen hactenus nihil nobis fuit invenire, quod eiusmodi pueris baptizandos esse suadeat, multa vero, quae contrarium omnino evincant.

19. ADSND 2018, 2/2:155.28–29: sine Christo alienos a republica Israelis, spem non habentes et sine Deo versantes in hoc mundo.

20. ADSND 2018, 2/2:156.6–7: Immundis autem signum dare ablutionis per sanguinem et spiritum Christi, quid esset aliud quam sanctum dare canibus?

21. ADSND 2018, 2/2:156.15–16: Posset etiam, si necessitas postularet, huc adduci praxis ecclesiae veteris, quae variae huius rei exempla abunde suppeditaret.

22. ADSND 2018, 2/2:156.19–20: Sed quae ex Verbo Deo allatae sunt rationes sufficere et sententiam nostram evidenter satis demonstrare videntur.

23. ADSND 2018, 2/2:156.27–28: Adoptionem etiam nihil in hac causa posse iudicamus, cum adoptio humana divinam non inferat.

24. ADSND 2018, 2/2:156.29–31: Sicut nec fideiussio multum huc facere videtur, ut quae plerunque fit pro more recepto, et etiamsi fiat aliquando animo pio et cincero, saepissime tamen non praestatur, quod fideiussores morte praeripiantur, vel pueri a parentibus aut repetantur aut etiam vi abripiantur.

25. ADSND 2018, 2/2:157.1–3: Privationem vero baptismi fraudi ipsis esse non posse ab omnibus extra dubium ponitur, secundum receptum in ecclesiis axioma. Non privationem sacramenti damnari, sed contemptum.

26. Dit word versterk as die oorsig, wat Kaajan in 1914 reeds hiervan opgestel het, (Kaajan 1914:221–259) bygelees word. Dit wag uiteraard op verdere uitklaring en ondervraging.

27. Acta 1621:10: ‘Isaacus Frederici Predicant van Utrecht, Samuel Naeranus Predicant van Amersfoort, Stephanus van Helsdingen beyde der Rechten Doctor/Raet des hofs Provinciael van Utrecht/ende ouderlinck der kercke aldaer’.

28. ADSND 2018, 2/2:160.10–13: Ob rationis a fratribus Zuyt-Hollandicis et alliis copiose allatas respondemus nullos ethnicorum liberos videri nobis esse baptizandos, priusquam fidem Christianam profiteantur.

29. ADSND 2014.1:31.9–11: … priusquam in fundamentis religionis Christianae probe fuerint instituti, fidem profiteantur eiusque rationem aliquam reddere queant, baptismum ipsi petant …

30. ADSND 2014, 1:31.12–15: Baptizatos autem iam debere pari libertatis iure cum reliquis Christianis frui, nec venditione aut alia quapiam alienatione ab heris Christianis potestati ethnicorum iterum tradi.

31. ADSND 2014, 1:31.18–23: … antequam ad eam pervenerint aetatem, ut pro illorum captu in primis religionis Christianae initiis institui possint, atque instituantur; et fideiussores idonei spondeant se eosdem porro in fide Christiana plenius instituturos, neque unquam permissorus, quantum quidem ab illis fieri potest, ut a familiis aut communione Christianorum iterum abalienentur.

32. ADNSD 2014, 1:164.9–10: De propagatione euangelii in India orientali, aliisque in locis, ad quae nostrates commeare solent.

33. ADSND 2014,1:181.7–16: Quandoquidem vero omnes veri Christiani, per charitatem quam habere debent erga salutem proximi et per zelum propagandi gloriam DEI inter homines, obstricti sunt omnia adhibere media, quae huic fini serviunt, DEUSque nobis in hisce regionibus viam aperuerit ad diversas lon/ginquas regiones in Indiis atque alibi, quae a veri DEI cognitione sunt plane destitutae, dicta synodus etiam humiliter petit, ut illustrissimis dominationibus vestris placeat Christiano zelo hanc rem sanctam ad animum revocare, et serio ei incumbere, eumque in finem eiusmodo media ordinare ac procurare, quae ad propagationem sancti euangelii in istis regionibus utilia et maxime idonea erunt.



Crossref Citations

No related citations found.