Amie van Wyk is nie ’n man van harde woorde nie. Juis daarom is hy iemand wat oor ’n stem beskik wat indringend sowel as dringend van aard is. Dit het geblyk uit die aansienlike aantal boeke en artikels, dikwels oor sensitiewe en aktuele onderwerpe, wat hy oor die jare heen gepubliseer het. Dit word eweneens duidelik uit hierdie boek wat baie onlangs verskyn het.
Augustinus is een van die klassieke gestaltes uit die geskiedenis van die Christendom. Hy is bekend vir sy gebeurtenisvolle en dramatiese lewe waarin hy as uiters begaafde, maar enigsins onordelike en soekende jong man aanvanklik met verskillende wysgerige modes van sy tyd geëksperimenteer het. Soos bekend het hy egter uiteindelik sy weg in die Christelike geloof gevind en as invloedryke biskop van die Noord-Afrikaanse hawestad, Hippo-Regius, ’n buitengewoon vol lewe as teoloog, prediker, pastor, kerkleier en selfs vrederegter gelei. In die proses het hy unieke en eiesoortige bydraes gelewer in die wyse waarop aan die Christelike geloof van sy tyd gestalte gegee is. Hierdie oortuigings van hom sou gedurende die daaropvolgende eeue groot invloed in die Katolieke sowel as reformatoriese kerke uitoefen. Daarom word daar tereg na hom as ’n kerkvader verwys.
Die skriftelike nalatenskap van Augustinus is van buitengewone omvang en diepgang. Dit behels ongeveer 12 000 bladsye met 5 miljoen woorde en bevat ’n wye verskeidenheid van geskrifte van verskillende aard wat onder andere Bybelstudies, teologiese, wysgerige en etiese traktate, strydskrifte, preke, briewe en verskillende soorte outobiografiese en ander geleentheidsgeskrifte insluit. Dit is daarom begryplik dat Van Wyk aan die begin van sy studie na iemand verwys wat by geleentheid die opmerking gemaak het dat die besluit om ’n boek oor Augustinus te skryf, alleen in ‘
Behalwe vir ’n kort inleidende hoofstuk aan die begin en ’n kort samevattende hoofstuk aan die einde van die boek, verloop die betoog daarvan basies in vier bewegings waaraan daar telkens ’n hoofstuk gewy word.
Aangesien teologie en biografie by Augustinus so eng saamgebind is, word begin met ’n oorsig oor die kerkvader se gebeurtenisvolle en besinningsryke lewe.
Waar Christelik etiese opvattings altyd op dogmatiese oortuigings berus of ten minste daarmee saamval, word die tweede beweging gevorm deur ’n oorsigtelike weergawe van die vernaamste leerstellige opvattings waardeur Augustinus se etiese beslissings beïnvloed is. Uiteraard word temas soos die triniteitsleer, antropologie, sonde en genade, kerk en sakramente sowel as die eskatologie aan die orde gestel. Dat daar in hierdie proses sterk klem op die koninkryk van God gelê word, verklaar in ’n sekere sin die affiniteit wat Van Wyk vir die denke van Augustinus het. Hyself is immers ’n verteenwoordiger en fynsinnige vertolker van die Potchefstroomse koninkryksteologie.
Uit die leerstellige onderbou wat gebied word, word in ’n derde beweging basiese uitgangspunte vir ’n Christelike etiek afgelei. Alhoewel Augustinus self geen afgeronde etiek in die moderne sin van die woord geskryf het nie, kom sy morele oortuigings verspreid in talle van sy geskrifte voor. Van Wyk oordeel dat die drieslag van geloof, hoop en liefde ’n weliswaar tradisionele, maar nietemin nuttige skema bied om die wyse waarop Augustinus sy etiese uitgangspunte uit sy dogmatiek aflei, sistematies te beskryf. Binne hierdie skema word onder andere gesindhede en motiewe soos geluk, genade, nederigheid, wysheid, genot en toewyding aan die orde gestel.
In die vierde beweging word die implikasies wat uit die voorafgaande vir konkreet etiese vraagstukke voortvloei, duidelik gemaak met die uitvoerige behandeling van veral die huweliks- en politieke etiek.
Dat hierdie boek aan die lewe, werk en teologie van Augustinus gewy word, beteken nie dat Van Wyk Augustinus klakkeloos napraat nie. Ten spyte van die diepe waardering wat hy vir Augustinus het, aarsel hy nie om die problematiese kante van sommige opvattings van Augustinus wat oor die eeue heen skadukolle oor die Christelike tradisie gegooi het, aan te dui nie. Hierdie boek vertel ons dus nie net iets oor Augustinus nie, maar verduidelik ook hoe Van Wyk dink oor die kwessies wat aan die orde gestel word. Die feit dat Augustinus se denke deur ’n besondere diepgang gekenmerk word, lei daartoe dat van sy beskouings op verskillende maniere geïnterpreteer kan word. Van Wyk wys hoe ’n gereformeerde interpretasie van Augustinus verantwoord kan word.
Dit is dus duidelik dat die besluit om ’n boek oor Augustinus te skryf, alleen in ‘
Die benadering wat in hierdie boek gevolg word, is populêr-wetenskaplik van aard. Terwyl die publikasie heel duidelik op deeglike navorsing berus waarin die tersaaklike primêre en sekondêre literatuur grondig bestudeer is, word die materiaal op ’n sodanig toeganklike wyse aangebied dat dit nie net deur akademici nie, maar ook deur ’n breër leserspubliek waardeer sal kan word.