About the Author(s)


Daniel F. O’Kennedy Email symbol
Department of Old and New Testament, Faculty of Theology, Stellenbosch University, Stellenbosch, South Africa

Citation


O’Kennedy, D.F., 2021, ‘Die koninkryk van God in die Ou Testament: ’n Kort oorsig’, In die Skriflig 55(1), a2787. https://doi.org/10.4102/ids.v55i1.2787

Original Research

Die koninkryk van God in die Ou Testament: ’n Kort oorsig

Daniel F. O’Kennedy

Received: 22 July 2021; Accepted: 30 Aug. 2021; Published: 15 Dec. 2021

Copyright: © 2021. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

The kingdom of God in the Old Testament: A brief survey. The kingdom of God is a central concept in the teaching of Jesus, but the question posed by this article is the following: What does the Old Testament say about the kingdom of God? Several Old Testament terms convey the concept of kingdom, kingship and rule of God. This article focuses on the Hebrew and Aramaic ‘technical’ terms for kingdom: mamlākâ, malkût, mělûkâ and malkû. One finds only a few Old Testament references where these terms are directly connected to God, most of them in the post-exilic literature: 1 Chronicles 17:14; 28:5; 29:11; 2 Chronicles 13:8; Psalm 22:29; 103:19; 145:11–13; Daniel 2:44; 3:33 (4:3); 4:31 (4:34); 6:27; 7:14, 18, 27; Obadiah 21. A brief study of these specific references leads to a few preliminary conclusions: The kingdom of God refers to a realm and the reign of God, the God of the kingdom is depicted in different ways, God’s kingdom is eternal and incomparable with earthly kingdoms, the scope of the kingdom is particularistic and universalistic, the Old Testament testifies about a kingdom that is and one that is yet to come, et cetera. It seems that there is no real difference when comparing the ‘kingdom of God’ with the ‘God is King’ passages. One cannot unequivocally declare that ‘kingdom of God’ is the central concept in the Old Testament. However, we must acknowledge that Jesus’s teaching about the kingdom of God did not evolve in a vacuum. His followers probably knew about the Old Testament perspective on the kingdom of God.

Contribution: The concept ‘kingdom of God’ is relevant for the church in South Africa, especially congregations who strive to be missional. Unfortunately, the Old Testament perspective was neglected in the past. The purpose of this brief survey is to stimulate academics and church leaders in their further reflection on the kingdom of God.

Keywords: Kingdom of God; God as King; Rule of God; Dominion of God; Kingship of God; Sovereignty of God.

Inleiding

Selman (1989) skryf die volgende oor die koninkryk van God:

While there seems little doubt that the kingdom of God is the central tenet of Jesus’ teaching, in the Old Testament the role of the kingdom is much more problematic. (p. 161)

Daar word meestal op die Nuwe Testament gefokus wanneer daar oor die koninkryk van God nagedink word. In hierdie artikel word die volgende vraag gevra: Wat getuig die Ou Testament oor die koninkryk van God?

Die bedoeling van hierdie artikel is nie om die konsep1,2 ‘koninkryk van God’ in detail te bespreek, om totaal nuwe insigte na vore te bring of om deeglike eksegese van elke teksgedeelte te doen nie. Die bedoeling is om ’n kort oorsig aan te bied wat akademici en kerkleiers kan help in hulle verdere nadenke oor die konSept. Daar sal op die volgende gefokus word: vorige studies oor die koninkryk van God in die Ou Testament; terme en frases wat na die koninkryk van God in die Ou Testament verwys; die koninkryk van God in die lig van sekere Ou-Testamentiese kerngedeeltes; en God as Koning in die Ou Testament.

Studies oor die koninkryk van God in die Ou Testament

Een van die invloedrykste studies oor die koninkryk van God is in die vorige eeu deur die Ou-Testamentiese geleerde, John Bright (1953), geskryf, naamlik The kingdom of God: The biblical concept and its meaning for the church. Bright (1953:7) skryf die volgende: ‘For the concept of the kingdom of God involves, in a real sense, the total message of the Bible.’ In sy slothoofstuk beskryf hy (Bright 1953:244) die koninkryk van God as die ‘unifying theme of the Bible’. Later het daar kritiese vrae oor Bright se hantering van die konsep ontstaan. Die bybelse teoloog, Childs (1992), maak onder andere die volgende opmerking:

I think it is an accurate assessment to say that Bright’s position is virtually without support among modern critical Old Testament scholars. (p. 633)

Na die publikasie van Bright se boek in 1953 het daar talle studies oor die koninkryk en koningskap van God in die Ou Testament verskyn: Gray (1979); Goldsworthy (1981); Deist & Du Plessis (1985); Jeremias (1987); Brettler (1989); Janowski (1989); Selman (1989); O’Neill (1993), en andere.

Daar moet egter erken word dat daar in die afgelope 30 jaar net enkele akademiese boeke en tydskrifartikels oor die koninkryk of koningskap van God in die Ou Testament verskyn het. Die redes hiervoor is onseker, veral in die lig van die feit dat die koninkryk van God steeds ’n aktuele tema in kerklike kringe is.3 Is dit omdat daar in die vorige eeu te veel hieroor gepubliseer is? Is dit dalk omdat daar ’n groter kloof tussen akademie en kerk ontstaan het?

Daar is ’n keuse gemaak van vier studies wat die afgelope 30 jaar verskyn het: (1) die mees resente artikel wat oor die konsep ‘koninkryk van God in die Ou Testament’ gevind kon word (Barrick 2012); (2) een artikel wat in ’n Suid-Afrikaanse vakwetenskaplike tydskrif verskyn het (Peels 2001); (3) een boek wat volledig oor die konsep handel (Vasholz 1997); en (4) een Ou-Testamentiese teologie wat prominente aandag aan die konsep verleen (Merril 2006).

Vasholz (1997) se boek Pillars of the Kingdom: Five Features of the Kingdom of God Progressively Revealed in the Old Testament is ’n poging om die konsep ‘koninkryk van God’ in die hele Ou Testament na te vors. Sy basiese uitgangspunt is dat die wêreld God se koninkrykskepping is. Die bestudering van die koninkrykstema behels dus die waarneming van hoe God se heerskappy regdeur die Ou Testament geopenbaar word. Hy kyk na al die tydvakke4 in die Ou Testament en rangskik dit onder vyf rubrieke of opskrifte: (1) Koninkrykspolitiek: Die administrasie van God se koninkryk, sy ampte en funksies; (2) Koninkrykspelgrims: Die burgers van ’n sigbare koninkryk verteenwoordig die ewige onsigbare koninkryk van God; (3) Koninkryksvoortgang: Die uitstaande eienskap van die Ou Testament is dat, ten spyte van verskeie rampe wat as ’t ware die koninkryk van God bedreig, die koninkryk steeds voortgaan; (4) Koninkryksprofiel: Die Ou Testament is meer as net die optekening van historiese detail. Die Ou Testament tipeer die aard van God se ewige en geestelike koninkryk; (5) Koninkryksteenwoordigheid: Die maniere waarop God Hom op spesifieke tye en omstandighede openbaar (Vasholz 1997:vi–vii).

Peels (2001:173–189) se artikel kyk vanuit ’n Ou-Testamentiese perspektief na die koninkryk van God. Hy verwys kortliks na relevante Ou-Testamentiese woorde en teksgedeeltes en bespreek moderne navorsing oor die onderwerp. Hy kom tot die gevoltrekking dat daar veral twee karaktertrekke van God se koninkryk in die Ou Testament voorkom: (1) Die skopus van die koninkryk is universalisties sowel as partikularisties; (2) Die Ou Testament getuig aan die een kant van die koninkryk van God as ’n permanent-statiese koninkryk wat ewig is, en aan die ander kant word daar na ’n aktiewe-dinamiese koninkryk verwys wat op aarde voortgesit word. Dit is ’n koninkryk wat alreeds is en wat nog kom.

Die titel van Merril (2006) se Ou-Testamentiese teologie5 is veelseggend: Everlasting Dominion: A Theology of the Old Testament. Merrril struktureer sy teologie in drie hoofdele: (1) God: sy persoon en werk; (2) Die mens: beeld van God; (3) Die koninkryk van God. Hy reken dat ‘koninkryk van God’ die dominante teologiese motief in die hele Ou Testament is.6 Merrill (2006) skryf die volgende:

In the Old Testament view, God the King reigns over heaven and earth, a dominion populated by the heavenly hosts and earthly inhabitants created to praise him and serve him world without end. (p. 278)

Volgens Merril is die koninkryksperspektief alreeds in die eerste sin van die Bybel aanwesig. Genesis 1:1 verwys na die koning (God as Skepper) sowel as sy ryk of gebied (die hemel en die aarde).

Barrick (2012:173–192) se artikel beklemtoon weereens dat God se koninkryk ’n sentrale tema in die Ou sowel as die Nuwe Testament is. Hy verwys kortliks na die woordeskat van die koninkryk en bespreek daarna die volgende: die vervulling van die koninkryksbeloftes; die potensiaal van die ses Ou-Testamentiese verbonde; die fisiese seëninge van die Messiaanse koninkryk; koninkrykshoop; en die bestuur van die koninkryk. Barrick (2012) kom tot die volgende gevolgtrekking:

Our sovereign Lord’s plan for His kingdom will be fulfilled. He has not altered his plan – there is no Plan B. (p. 190)

Na aanleiding van die kort oorsig oor vier vorige studies kan ’n mens die volgende voorlopige opmerkings maak:

  • Die belangrikheid van die konsep in die Ou sowel as die Nuwe Testament kan nie ontken word nie. Sommige geleerdes (o.a. Merril en Barrick) probeer egter om vanuit hulle vooropgestelde siening die konsep in elke gedeelte van die Bybel ‘in te lees’.
  • Die bestudering van die Ou-Testamentiese perspektief is dikwels in die verlede afgeskeep. Aandag word grotendeels aan die Nuwe Testament gewy. Hierdie tendens is nog meer sigbaar in studies van die afgelope dertig jaar.
  • Dit wil voorkom asof die meeste geleerdes wat die konsep in die verlede bestudeer het, ’n noue band met die kerk gehad het.7
  • Heelwat aandag is aan die terme en frases oor die koningskap van God of die ‘God is Koning’-metafoor verleen. Daar is egter min studies oor die gebruik van die spesfieke Ou-Testamentiese terme vir koninkryk van God.

Terme en frases wat na die koninkryk van God verwys

In die bestudering van ’n bepaalde konsep is dit belangrik om na spesifieke bybelse terme en frases te gaan kyk wat die konsep oordra. Die vraag is die volgende: Watter terme en frases in die Ou Testament verwys direk na God se koninkryk?

Die Hebreeuse werkwoord mlk [regeer] kom 347 keer in die Hebreeuse Bybel voor en die selfstandige naamwoord melek [koning] 2 526 keer (Soggin 1997:673–674). In die meeste gevalle word daar na aardse konings en hulle koninkryke verwys. Daar is egter ten minste 42 gevalle waar die selfstandige naamwoord melek na God verwys en die werkwoord mlk word 13 keer met God as subjek gebruik8 (Nel 1997:960; Peels 2001:176).

In die Ou Testament word die volgende terme gevind wat van die wortelvorm mlk afgelei is: Hebreeus – mamlākâ (117x), malkût (91x), en mělûkâ (42x); Aramees malkû (57x). Hierdie terme verwys na ‘koninkryk’, ‘koningskap’ of ‘heerskappy/koningsheerskappy’ en word so in Afrikaanse vertalings vertaal. Daar is slegs die volgende teksgedeeltes in die Ou Testament waar ’n direkte verband tussen bogenoemde terme en God of Jahwe (Here)9 veronderstel word:

  • malkût (7x) – 1 Kronieke 17:14; 28:5; Psalm 103:19; 145:11–13 (4x).
  • mamlākâ (2x) – 1 Kronieke 29:11; 2 Kronieke 13:8.
  • mělûkâ (2x) – Psalm 22:29; Obadja 21.
  • malkû (17x) – Daniël 2:44 (3x); 3:33 [4:3]10 (2x); 4:31 [4:34] (2x); 6:27 (2x); 7:14 (2x), 18 (2x), 27 (4x) (Peels 2001:176; Selman 1989:162).

Die paar mlk-teksgedeeltes wat eksplisiet na die koninkryk van God verwys, kom slegs voor in die boeke Kronieke, Psalms, Daniël en Obadja. Die meeste van hierdie teksgedeeltes het in die na-eksiliese tyd ontstaan. Nel (1997:957) meld dat in latere teksgedeeltes (Kronieke, Ester, Daniël), die abstrakte selfstandige naamwoord malkût verkies word eerder as mamlākâ. Die eksplisiete ‘koninkryk van God’-gedeeltes vertoon nie noodwendig dieselfde patroon nie, omdat albei terme (malkût en mamlākâ) twee keer in die Kronieke boeke voorkom.

’n Mens moet erken dat die wortelvorm mlk nie die enigste term in die Ou Testament is wat die konsep van koninkryk, koningskap en koningsheerskappy oordra nie. Daar is talle ander terme in dieselfde semantiese betekenisveld: rdh [heers, regeer]; mšl [heers, regeer] en die naamwoord memšālâ [heerskappy]; kbš [heers, onderwerp]; špṭ [regeer, reg laat geskied]; dyn [reg laat geskied]; kissē’ [troon]; šlṭ [Aram – heers]; en andere (Barrick 2012:176).

Die koninkryk van God11 in die lig van sekere kerngedeeltes

In die vorige afdeling is beklemtoon dat daar net enkele gedeeltes in die Ou Testament is waar die Hebreeuse en Aramese terme vir ‘koninkryk’ of ‘heerskappy’ voorkom. Spieckermann (2003) skryf die volgende oor hierdie terme:

… none of these well-attested terms, however, is primarily theological. For the most part, they refer to earthly kingdoms and empires … (p. 123)

Spieckerman se opmerking is net gedeeltelik waar. Die teologiese betekenis van die konsep ‘koninkryk van God’ word nie eerstens bepaal deur die term koninkryk nie. Die verhouding tussen God en koninkryk bepaal die ware teologiese inhoud. Vervolgens gaan daar ’n kort oorsig gegee word van hierdie gedeeltes in die Ou Testament waar die term koninkryk eksplisiet met God verbind word.

Die koninkryk van God in Kronieke

Die eerste verwysing in Kronieke na God se koninkryk word in hoofstuk 17:14 aangetref: ‘Ek sal hom vir altyd in my huis en koninkryk (malkût) aanstel, en sy troon sal altyd bestendig wees’ (2020 Afrikaanse Vertaling [2020-AV])).12 Die profeet Natan tree in gesprek met koning Dawid en profeteer oor dit wat YHWH ṣěbā’ôt13 aan hom gesê het om aan sy dienaar Dawid oor te dra (1 Kron 17:7–14). Daar is ’n interessante verskil tussen die 1 Kronieke-weergawe en die parallelle weergawe in 2 Samuel 7. In 2 Samuel 7:16 word daar van ‘jou huis en jou koningskap/koninkryk’ gepraat, terwyl God in 1 Kronieke 17:14 na ‘my huis en koninkryk’ verwys (Klein 2006:382). 1 Kronieke 17 skets ’n noue band tussen Dawid se nageslag en God se koninkryk. Daar word ’n belofte gemaak dat Salomo vir ewig op die troon van Israel sal sit. Die land Israel word as deel van God se ewige koninkryk gesien. Hierdie teks beklemtoon ook dat die twee koninkryke met die toekomstige tempel geassosieer word (Selman 1989:164; Zenger 1986:186).

1 Kronieke 28 vertel verder dat die belofte aan Dawid weer aan sy seun Salomo bevestig sal word:

En uit al my seuns – want die Here het vir my baie seuns gegee – het Hy my seun Salomo gekies om op die troon van die koninkryk (malkût) van die Here oor Israel te sit (v. 5, [outeur se vertaling]).

In hierdie teks word die koninkryk van die Here (Jahwe) aan die koninkryk van Israel gelykgestel deur die gebruik van die frase die koninkryk van die Here oor Israel (O’Neill 1993:131). Jahwe word beskou as Israel se eintlike koning. Hierdie siening is waarskynlik deur die sosio-politiese omstandighede waarin die Kronieke-skrywer hom bevind het, beïnvloed. Daar was nie ’n Dawidiese koning in die Persiese tyd nie, maar hulle kon steeds teenoor die nasies getuig dat die koninkryk aan Jahwe, hulle eintlike koning, behoort (Jonker 2013:161).

1 Kronieke 29:11 vorm deel van ’n dankgebed van Dawid wat strek vanaf vers 10 tot 19. ’n Mens kry die indruk dat die bidder amper nie genoeg woorde het om die grootheid van die Here te beskryf nie:

Aan U, Here, behoort die grootheid en heerlikheid, mag, roem en majesteit. Alles in die hemel en op die aarde behoort aan U, Here. Aan U behoort die koninkryk (mamlākâ). U is verhewe bo alles (1 Kron 29:11 – Nuwe Lewende Vertaling [NLV]).

Talle eienskappe word aan die Here as die Koning van die koninkryk toegeskryf: grootheid, heerlikheid, mag, roem en majesteit. Die doksologie tot die Ons Vader-gebed in Matteus 6:13 het waarskynlik sy oorsprong in 1 Kronieke 29:11–12 (Klein 2006:537). In 1 Kronieke 28:5 word daar op die koninkryk van God oor Israel gefokus. Hoofstuk 29 beklemtoon die feit God se koninkryk meer is as net Israel – alles in die hemel en op aarde is deel van God se koninkryk.

In 2 Kronieke 13 word die laaste verwysing na die koninkryk van God in die Kroniekeboeke gevind. Die historiese konteks van hierdie gedeelte handel oor koning Abia van Juda se oorlog teen koning Jerobeam van Israel. Die Kronieke-weergawe van hierdie verhaal is veel langer as die enkele verse in 1 Konings 15:1–8a waar hy as ’n koning voorgestel word wat met die sondes van sy vader volhard. 2 Kronieke 13 getuig van ’n ‘godvresende’ Abia wat koning Jerobeam en sy onderdane toespreek (Jonker 2013:216) en lui soos volg:

Dink julle regtig dat julle in opstand kan kom teen die koninkryk (mamlākâ) van die Here wat deur die afstammeling van Dawid gelei word? Julle leër is inderdaad groot, maar saam met julle is die goue kalwers wat Jerobeam tot gode verhef het (v. 8 – NLV).

Hier en in 1 Kronieke 28:5 vind ’n mens die enigste twee direkte Ou-Testamentiese verwysings14 na die ‘koninkryk van die Here/Jahwe’.15 Daar word egter verskillende Hebreeuse terme in hierdie twee gedeeltes gebruik, naamlik malkût (1 Kron 28:5) en mamlākâ (2 Kron 13:8). Abia beklemtoon dat die Here ’n onbreekbare verbond met Dawid gesluit het en dat daar altyd ’n afstammeling van hom op die troon sal sit. Hy getuig dat die Here se koninkryk in die hande van ’n familie gesetel is en nie onder sy persoonlike beheer nie (Selman 1989:164). Die teks van 2 Kronieke 13:8 suggereer dat die koninkryk van Dawid aan die koninkryk van die Here gelykgestel word.

Die koninkryk van God in die Psalms

Eksplisiete verwysings na die koninkryk van God kom in slegs drie Psalms voor: Psalms 22, 103 en 145. Al drie Hebreeuse terme wat na koninkryk of heerskappy verwys, kom in hierdie Psalms voor. Dit is interessant dat geeneen van hierdie Psalms tot die sogenaamde Jahwe-malak of troonbestygingspsalms behoort nie (vgl. Ps 47, 93, 96, 97, 98 en 99). Aan die ander kant, moet erken word dat al drie in die opskrifte as Psalms van Dawid getipeer word.16 Volgens Mays (1994b:97) beklemtoon die verhouding met Dawid die sentrale onderwerp van die Psalms, naamlik die koninkryk van God. Die verhouding met Dawid rig die leser om te dink aan die Psalms as ’n uitdrukking van geloof in die heerskappy van God. Dawid wat deur God gekies is as koning, om ’n agent van sy heerskappy oor sy volk en die nasies van die wêreld te wees.

Psalm 22 is een van die treffendste klaagpsalms en word selfs deur Jesus aangehaal wanneer Hy godverlatenheid aan die kruishout beleef (v. 2). Psalm 22 kan na die inleiding (v. 1) in twee hoofdele (vv. 2–22 en 23–32) opgedeel word met verdere onderafdelings.17 Verse 2–22 verwoord die klag van die bidder en verse 23–32 is ’n dankbetuiging. Elke hoofdeel kan weer verder verdeel word. Die laaste onderafdeling (vv. 28–32) fokus op al die nasies van die wêreld wat vir God as Koning sal erken (Terrien 2003:234). Vers 29 verklaar dat God se koninkryk die hele wêreld omsluit en dat Hy oor al die nasies heers: ‘want aan die Here behoort die koningskap (mělûkâ), en Hy heers oor die nasies’ (2020-AV). Die spesifieke ervaring van die psalmdigter van godverlatenheid en sy behoefte aan verlossing word deur vers 29 in breër perspektief geplaas. Die koninkryk van God is wyer as ’n paar persoonlike behoeftes (Graigie 1983:201).

Die tweede teksdeelte word in Psalm 103, een van die bekendste lofliedere in die Psalmboek, gevind.18 Vers 19 sê die volgende: ‘Die Here het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk (malkût) heers oor alles’ (1933/53-AV). Hierdie teksgedeelte beklemtoon dat God se troon in die hemel is, maar dat Hy oor die hemel en die hele aarde heers. Vers 22 sluit by vers 19 aan en getuig dat alles wat Hy gemaak het die Here sal loof ‘op al die plekke van sy heerskappy’ (memšālâ). Daar is geen deel van die kosmos waar Hy nié as ewige Koning heers nie. As Koning roep Hy al die engele, sy leërskare (hemelse magte) en sy dienaars op om die Hom te loof.

Die laaste teksgedeelte word in Psalm 145 aangetref, ’n loflied en akrostiese gedig. Alreeds in die eerste vers word daar na ‘my God, o Koning’ verwys. Psalm145:11–13 sluit hierby aan:

11 Kaf. Hulle maak melding van die heerlikheid van u koninkryk (malkût) en spreek van u mag, 12 Lamed. Om aan die mensekinders sy magtige dade bekend te maak en die glansryke heerlikheid van sy koninkryk (malkût). 13 Mem. U koninkryk (malkût) is ’n koninkryk (malkût) van alle eeue, en u heerskappy ((memšalâ)) duur deur al die geslagte. (1933/53-AV)

Die koninkryk van God strek oor alle eeue; dit wil sê die verlede, hede en toekoms. Hierdie gedagte kom alreeds in Eksodus 15:18 voor (Deist & Du Plessis 1985:105). Twee keer word in hierdie verse na die ‘heerlikheid’ (kābôd) en twee keer na die mag of magtige dade van God se koninkryk verwys. Daar is ’n interessante ooreenkoms tussen Psalm 103 en 145. In albei Psalms word die woorde van Eksodus 34:6 aangehaal waar daar van die Here se barmhartigheid, genade, lankmoedigheid en troue liefde gepraat word (Ps 103:8; 145:8) (Mays 1994a:439). Die Here as magtige Koning is ook die een wat barmhartigheid bewys en elkeen ondersteun wat val (Ps 145:14; kyk ook Brueggemann 1997:240; Terrien 2003:906).

Die koninkryk van God in die boek Daniël

Die boek Daniël is waarskynlik die jongste boek in die Ou Testament en die meeste geleerdes aanvaar dat die finale optekening in die tyd van Antiogus IV Epifanes plaasgevind het (175–164 v.C.). Daar is egter steeds geleerdes wat argumenteer vir ’n datering in die sesde of vroeë vyfde eeu v.C. (Lucas 2012:119–121). Hierdie boek vertoon die duidelikste trekke van die apokaliptiese literatuur in die Ou Testament. Goldingay (1991) skryf die volgende:

The theme that is central to Daniel as it is to no other book in the OT is the kingdom of God. (p. 330)

Die boek Daniël handel oor die manier waarop die heerskappy van God ’n werklikheid word in kontekste waar die Jode ’n gebrek aan politieke mag het teenoor die nie-Jode se politieke mag. God se heerskappy word ’n werklikheid op aarde deur sy transendente mag vanuit die hemel.

Daniël 2 handel oor Daniël se uitleg van koning Nebukadneser se droom. Hy sien ’n beeld wat vier tydvakke in die geskiedenis simboliseer. In vers 37 beklemtoon die teks dat Nebukadneser wel ’n groot koning is, maar dat dit God is wat aan hom die heerskappy, krag, mag en eer gegee het. Daar word egter ook daarop gewys dat die aardse koninkryke kom en gaan, maar dat God se koninkryk vir ewig sal bly bestaan:

Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk (malkû) verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy (malkû) daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke (malkû) verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan. (Dan 2:44 – 1933/53AV; kyk ook Newsom 2014:83).

Na die uitleg van Daniël, lees ’n mens die belydenis van koning Nebukadneser waar hy getuig dat die God van Daniël die grootste van alle gode is en oor alle konings heers (Dan 2:47).

Daniël 3:33 (4:3) sluit by hierdie eerste belydenis van Nebukadneser aan wanneer hy weer verklaar:

Sy tekens – hoe groot is hulle nie, en sy wonders – hoe magtig is hulle nie! Sy koninkryk (malkû) is ’n ewige koninkryk (malkû), en sy heerskappy (šolṭān) is van geslag tot geslag! (2020-AV)

Dit is die eerste keer in die boek Daniël dat die Aramese term šolṭān saam met die term malkû gebruik word wanneer daar na die heerskappy en koninkryk van God verwys word (Pierce 2015:67). Die teks getuig dat koning Nebukadneser oortuig is van God se ewige heerskappy deur die tekens en wonders wat Hy gedoen het, veral die wonder waar God Daniël se drie vriende uit die brandende oond gered het (vgl. Dan 3). Volgens Newsom (2014:135) is die sleutelterminologie in Daniël 3 van die lof aan God in Psalm 145:13 afkomstig.

Dit wil voorkom asof die intensiteit van Nebukadneser se belydenis al hoe groter word. In Daniël 4:31 (4:34) word verklaar dat koning Nebukadneser nie net ’n algemene belydenis uitspreek nie, maar sy oë na die hemel opslaan om God te loof en te prys:

Aan die einde van die tydperk het ek, Nebukadnésar, my oë na die hemel opgeslaan, en my verstand het na my teruggekeer. Ek het die Allerhoogste geloof en die Een wat ewig leef, besing en geëer – Hy wie se heerskappy (šolṭān) ’n ewige heerskappy (šolṭān) is, en wie se koningskap (malkû) van geslag tot geslag duur. (2020-AV)

In Daniël 3:33 (4:3) word daar gepraat van die ewige koninkryk terwyl die ewigheid van die koninkryk in 4:31 (4:34) verder omskryf word (‘van geslag tot geslag’). Die skrywer van Daniël 4:31 (34) kon amper nie genoeg woorde vind om hierdie ewige Koning te loof, prys en vereer nie.

Die vorige teksgedeeltes in Daniël wys op koning Nebukadneser, die Babiloniese koning, se eer aan die ewige God. Daniël 6 verwys na die belydenis van nog ’n aardse koning, naamlik koning Darius van die magtige Persiese Ryk (Merril 2006:554). In die eerste verse van hoofstuk 6 word daar geskryf van Daniël se redding uit die leeukuil, en teen die einde, in vers 27, staan die volgende woorde:

’n Bevel is deur my uitgevaardig dat, in die hele magsgebied (šolṭān) van my koninkryk (malkû), almal met vrees en bewing vervul moet wees vir die God van Daniël. Want Hy is die lewende God wat in ewigheid bestaan; sy koninkryk (malkû) is een wat nie vernietig kan word nie en sy heerskappy (šolṭān) is tot die einde toe’. (2020-AV)

Die ewigheid van God se koninkryk word weereens beklemtoon, en in Daniël 6:28 kom dieselfde gedagte voor as in 3:33 (4:3), naamlik die fokus op die God van Daniël wat ‘tekens en wonders’ doen (Newsom 2014:201).

Daniël 7 is die Ou-Testamentiese hoofstuk waarin die meeste ‘koninkryk van God’-verwysings voorkom (vv. 14, 18, 27). Hierdie hoofstuk vorm deel van die tweede hoofgedeelte van die boek (Dan 7–12), maar vervul ’n belangrike rol om die twee hoofgedeeltes saam te bind (Lucas 2012:110). Vier visioene word in hierdie hoofstukke aangeteken. Die eerste visioen beskryf hoe God op sy troon sit en vier diere verhoor en vonnis. Daniël 7 se visioen word weer in die historiese konteks van ’n Babiloniese koning geplaas, naamlik koning Belsasar:19

En aan Hom is gegee heerskappy (šolṭān) en eer en koningskap (malkû); en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy (šolṭān) is ’n ewige heerskappy (šolṭān) wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk (malkû) een wat nie vernietig sal word nie. (v. 14 – 1933/53-AV)

Daniël 7:13 beskyf die ‘Hom’ (v. 14) as ‘die seun van ’n mens’,20 maar die visioen identifiseer nie hierdie figuur nie. Al wat gesê word is dat hy van die wolke tot by die ‘Oue van Dae’ kom. Deur die eeue was daar talle verklarings vir die identiteit van hierdie figuur.21 Die belangrike punt is egter nie wie hierdie figuur is nie, maar die gesag wat aan hom toegeken word. As mens vorm hy ’n skerp kontras met die ander regeerders wat as vier diere voorgestel word. Hy ontvang van God die ewige heerskappy en ’n koninkryk wat nie vernietig kan word nie. Die ‘seun van ’n mens’ regeer as verteenwoordiger van God, maar hy is nie meer ’n afstammeling van Dawid soos in vorige koninkrykgedeeltes nie (Deist & Du Plessis 1985:114; Goldingay 1991:168).

Die laaste twee verwysings in Daniël 7 kom voor in verse 18 en 27:

maar die heiliges van die Allerhoogste sal die koningskap (malkû) ontvang, en hulle sal die koninkryk (malkû) in besit neem vir ewig en altyd’ (2020-AV).

Die koningskap (malkû), die heerskappy (šolṭān) en die grootsheid van die koninkryke (malkû) onder die ganse hemel word dan gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste. Sy koninkryk (malkû) is ’n ewige koninkryk (malkû), en alle magte (šolṭān) sal Hom dien en aan Hom gehoorsaam wees. (2020-AV)

Die term wat in Daniël 7:18 en 27 vir God gebruik word, is die Allerhoogste (‘elyôn) – dieselfde uitdrukking wat ook in Daniël 4:31 (34) voorkom. In die ander teksgedeeltes word daar na die ‘God van die hemel’ (Dan 2:37) en die ‘God van Daniël’ (6:27) verwys. In die visioen wat in Daniël 7 beskryf word, word die ‘erfgename’ of ‘ontvangers’ van God se koninkryk verskillend uitgebeeld. Vers 14 praat van alle volke, nasies en taalgroepe wat Hom dien, terwyl vers 18 van die ‘heiliges van die Allerhoogste’ praat en vers 27 van die ‘volk van die heiliges van die Allerhoogste’. Die spesifieke Aramese frase qadîšê ‘elyôn [heiliges van die Allerhoogste] kom slegs in Daniël 7 voor (vv. 18, 22, 25, 27). In Hebreeus kan hierdie term ook dui op ‘hemelse wesens’ (vgl. Job 5:1; 15:15; Ps 89:6, 8). Alhoewel daar ander teksgedeeltes in Daniël is wat hemelse wesens veronderstel (Dan 4:5 [8]; 6 [9], 10 [13]; e.a.), verwys die ‘heiliges’ in hoofstuk 7 waarskynlik na mense wat toegewyd aan die Allerhoogste leef (Goldingay 1991:176–177). Volgens Rillera (2019:771) verteenwoodig die ‘seun van ’n mens’ (v. 13) die ‘heiliges’.

Die koninkryk van God in die boek Obadja

Dit is baie moeilik om die presiese ontstaanstyd van die kort profetiese boek Obadja te bepaal.22 ’n Moontlike tyd is kort na die verwoesting van Jerusalem in 586/587 v.C., maar ’n latere datering is nie uitgesluit nie (Simundson 2005:244). Die boek handel oor die Goddelike oordeel teenoor die hoogmoedige koninkryk van Edom en die herstel van Israel. In die laaste vers (v. 21) van Obadja staan die volgende woorde: ‘Dan sal daar verlossers die berg Sion opgaan om die gebergte van Esau te oordeel, en die koninkryk (mělûkâ) sal aan die Here toebehoort’ (1933/53-AV).

Hierdie verse in Obadja (vv. 15–21) vorm die hoogtepunt van ’n profesie oor die dag van die Here.23 God se koninkryk sal op die berg Sion gesentreer wees en deur die verlossing van Israel gekenmerk word. Vers 21 beklemtoon die kontras tussen die berg Sion in Jerusalem en die bergland van Edom – die nageslag van Esau. Die teks sê nie presies wanneer hierdie verlossing gaan plaasvind nie. In die onmiddellike literêre konteks (vv. 19–20) word daar van die bergland van die Edomiete gepraat wat in besit geneem sal word en die Israeliete wat uit ballingskap sal terugkeer. God se koninkryk sal deur die terugkeer uit die ballingskap bewys word deur God wat sy beloftes hou om Israel te herstel. Volgens Selman (1989:176) handel die koninkryk in Obadja vers 21 eerstens oor die korttermyntoekoms, alhoewel die verwysing na die universele oordeel (vv. 15–16) veronderstel dat die langtermyn beskouings nie totaal afwesig is nie. Aan die ander kant beklemtoon Niehaus (2009:541) dat die teksgedeelte doelbewus die triomfantlike beeld van Jahwe se wêreldheerskappy deur middel van die lydende Messias in herinnering roep.

Samevattende gevolgtrekkings

Teen die einde van hierdie bespreking word ’n paar voorlopige gevolgtrekkings aangebied aan die hand van sekere vrae:

  • Hoe word die verskillende terme in die Ou Testament vertaal? Daar is nie eenstemmigheid by geleerdes en Bybelvertalings oor die vertaling van die verskillende Hebreeuse en Aramese ‘koninkryksterme’ nie. In sommige gevalle word dieselfde term met ‘koninkryk’ (kingdom), ‘heerskappy’ (kingly rule/dominion/sovereignty/royal power) en ‘koningskap’ (kingship) vertaal.24 Hierdie feit beklemtoon dat die Ou Testament nie ’n lynregte onderskeid tref tussen God se koningskap en heerskappy, en sy koninkryk nie. God en sy koninkryk is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. Die betekenis van die terme in die Ou Testament wys daarop dat die koninkryk nie net oor ’n gebied (realm) gaan nie, maar ook oor die koningsheerskappy (reign) van God.25
  • Wie is die God van die koninkryk? Verskillende Godsname of frases word gebruik wanneer daar na die God van die koninkryk verwys word: Jahwe/Here (1 Kron 17:14; 28:5; 29:11; 2 Kron 13:8; Ps 22:29; 103:19; 145:10–16; Ob 21; YHWH ṣěbā’ôt26 (1 Kron 17:7–14); God van die hemel (Dan 2:44); God van Daniël (Dan 6:27); Allerhoogste (Dan 4:31[34]; 7:18). Buiten die Godsname word daar na die volgende eienskappe van God verwys: grootheid; mag; heerlikheid en majesteit (1 Kron 29:11; Ps 145:11–13).
  • Vanwaar heers God oor sy koninkryk? Psalm 103:19 beklemtoon dat God vanaf sy troon in die hemel oor sy koninkryk heers. In die onmiddelike literêre konteks word daar van engele en leërskare gepraat wat saam met God as Koning regeer. Die idee van ’n ‘koninklike’ hof word geskep. Nog twee gedeeltes verwys na God se koninklike troon: 1 Kronieke 28:5 en Psalm 103:19. Laasgenoemde teksgedeelte praat ook van ’n ‘troon in die hemel’ terwyl die Kronieke teks ’n sterker band met die aardse troon in Israel veronderstel (‘troon van die koninkryk van die Here oor Israel.’). God as ewige en almagtige Koning is egter nie ’n statiese God wat op sy troon bly sit nie. Hy regeer oor die hele kosmos – in die hemel en op aarde (vgl. 1 Kron 29:11).
  • Wat is die eienskappe van God se koninkryk? (1) Dit is ’n ewige koninkryk wat oor alle eeue en alle geslagte strek (1 Kron 17:14; Ps 145:13; Dan 2:44; 3:33 [4:3]; 7:14). Die koninkryk van God word in hierdie gedeeltes met talle aardse koninkryke vergelyk wat maar net tydelik van aard is (Edom, Babilon, Persië); (2) Die eienskappe van God word ook aan sy koninkryk oorgedra: heerlikheid, mag, grootheid, krag en majesteit (Ps 145:11–13).
  • Wat is die omvang of skopus van God se koninkryk? Die teksgedeeltes getuig op twee maniere hieroor: Eerstens is daar die partikularistiese of nasionalistiese skopus. Daar is ’n spesiale band met Israel as uitverkore verbondsvolk, met Dawid en sy nageslag as uitverkore aardse konings, met Sion (Jerusalem) as uitverkore stad, en met sy tempel as uitverkore ‘huis’ (1 Kron 17:14; 28:5; 2 Kron 13:8; Ob 21). Tweedens is daar die universalistiese skopus van God se koninkryk. Alles in die hemel en op aarde word ingesluit – elke nasie, volk en taal (1 Kron 29:11; Ps 22:29; 103:19; Dan 7:14). Peels (2001:185) wys daarop dat die universalistiese- en partikularistiese sienings nie mekaar wedersyds uitsluit nie, maar mekaar juis aanvul. Hy beklemtoon verder dat daar ook nie noodwendig ’n ‘ontwikkeling’ vanaf die partikularistiese standpunt na ’n meer universalistiese standpunt was nie.27
  • Wie besing God se koninkryk? Volgens die Ou Testament word God se koninkryk nie net deur sy uitverkore volk besing nie, maar selfs deur heidense konings soos Nebukadneser (Dan 2–4), Belsasar (Dan 7) en Darius (Dan 6).
  • Hoe realiseer die koninkryk van God? Was daar verskillende teologiese beklemtonings? Die Ou Testament getuig eerstens van ’n koninkryk van God wat alreeds is (Dan 3:33 [4:3]; 4:31 [4:34]; 6:27). Dit is ’n priesterlik-teokratiese verstaan van God se koninkryk wat in die kultus en daaglikse lewe gevier is (1 Kron 17:14; 28:5; 29:11; 2 Kron 13:8; Ps 22:29; 103:19; 145:11–13). Tweedens is daar die koninkryk wat nog kom, ’n eskatologies-apokaliptiese koninkryk wat verwag word (Dan 2:44; 7:18, 27; kyk ook Peels 2001:180, 186; Spieckermann 2003:124).
  • Hoe openbaar God sy koninkryk? Telkens word genoem dat God sy koninkryk deur mense bekend maak. Daar is ’n sterk beklemtoning van die Dawidiese lyn, maar in Daniel 7:13 word genoem dat die koninkryk deur ’n onbekende figuur, ‘’n seun van ’n mens’ bemiddel word.
  • Is daar ’n noue verband tussen God se koninkryk en God se verbond? Sommige geleerdes beklemtoon ’n noue verhouding tussen ‘koninkryk’ en ‘verbond’ (vgl. Goldsworthy 1981:47; Barrick 2012:180–184).28 In die bespreekte gedeeltes en hulle direkte literêre konteks kom daar verbondstaal voor, maar nêrens word die tegniese term vir verbond (běrît) gebruik nie. Hierdie term word wel in die direkte literêre konteks van Psalm 103:19 aangetref (vgl. v. 18). Die konsepte van ‘verbond’ sowel as ‘koninkryk’ is konsepte wat ’n verhouding veronderstel: die troue Verbondsgod wat in ’n verhouding met sy verbondsvolk staan en die ewige Koning wat in ’n verhouding met sy onderdane staan.

God as Koning in die Ou Testament

Hierdie artikel fokus op die Ou-Testamentiese teksgedeeltes oor God se koninkryk, maar ’n mens besef dat die getuienis oor God as Koning nie hiervan losgemaak kan word nie. Weens beperkte ruimte kan daar nie in detail op die ‘God as Koning’-gedeeltes gefokus word nie. Die volgende vraag ontstaan egter: Is daar ’n verskil tussen die getuienis oor God as Koning en die getuienis oor God se koninkryk?

Volgens Brettler (1989:160) is hierdie metafoor die oorheersende verhoudingsmetafoor met betrekking tot God in die Ou Testament. Dit kom baie meer algemeen voor as metafore soos byvoorbeeld ‘God as vader’. Daar is ten minste 42 keer29 waar die selfstandige naamwoord melek na God verwys, en die werkwoord mlk word 13 keer30 met God as subjek gebruik. Die ‘God is Koning’-metafoor of konsep word nie uitsluitlik deur hierdie wortelvorm oorgedra nie, maar vorm die kern van die getuienis oor God se koningskap.

Uit die statistiek van bogenoemde 55 verwysings kom die volgende verspreiding voor: Psalms (26x); Jesaja (8x); Jeremia (6x); Sagaria (3x); 1 Samuel (2x); en een keer elk in die boeke van Genesis, Eksodus, Numeri, Deuteronomium, 2 Kronieke, Esegiël, Daniël, Miga, Sefanja en Maleagi. Die grootste aantal verwysings is in die Psalms, en daar is ’n afwesigheid in die Wysheidsboeke (Job, Spr, Pred, Hoogl) en 18 ander Bybelboeke.31

Die koningskap van Jahwe is meer prominent in die kultiese tekste en daar is ’n noue verband met die Sionsteologie.32 Om hierdie rede is daar ’n konsentrasie van teksgedeeltes in die Psalms (Nel 1997:961). Mays (1994b:12–22) argumenteer dat hierdie metafoor die sentrum van die Psalms is. Die kern van hierdie Psalms is die sogenaamde troonbestygingsliedere (Ps 47,33 93, 96, 97, 98, 99). Sommige geleerdes koppel hierdie Psalms aan ’n jaarlikse troonbestygingsfees.34 Hierdie Psalms besing egter Jahwe se koningskap sonder dat sy koningskap by ’n jaarlikse fees gevier word. Sion word as die plek van Jahwe se aardse troon gesien (Ps 99:1–4 asook Jes 6:1–5).

Daar is heelwat vrae oor die oorsprong van die metafoor of konsep soos onder andere, die volgende: Het die metafoor van Jahwe as Koning in die tyd van die monargie ontstaan of was daar ’n pre-monargale oorsprong?35 Dit is moeilik om die presiese ontstaanstyd te bepaal, maar die feit is dat hierdie konsep deur die Bybelskrywers ‘teruggeplaas’ is binne die Mosaïsie tradisie en voor die tyd van Israel se aardse konings (vgl. Eks 15:18; Deut 33:5; 1 Sam 8:7; 12:12; vgl. Childs 1992:634).

Dit is baie moeilik om die verskillende metafore en eienskappe van God van mekaar te skei:

  • God die Koning is ook God die Skepper (vgl. Ps 149:2; Jes 43:15). Hy heers oor die skepping, oor die magtige waters (Ps 29:10). As kosmiese Koning is God ook die onderhouer van die hele kosmos (Ps 24; 95) wat selfs vir elke voëltjie sorg (Ps 84:4; vgl. Vasholz 1997:v).
  • God die Koning is die regter en leidsman (Ps 99:4; Jes 33:22; 41:21). As regter oordeel hy regverdig oor die nasies (2 Kron 16:31; Ps 96:10; Jer 48:15; 51:57; Eseg 20:33; Sef 3:15). God as Koning is die een wat strewe na geregtigheid. Hy verbreek die mag van die goddeloses (Ps 10:15–16; vgl. Chilton 2008:514).
  • God is die sterk en magtige Koning (Ps 24:8; Eseg 20:33). Hy is egter ook genadig en barmhartig teenoor alle mense (vgl. Ps 145:1). Hy is nie ’n Koning wat net ver in die hemel woon nie; Hy is ’n Koning wat voor sy volk uittrek (Miga 2:13) en by hulle is (Sef 3:15). Hy is ’n Koning wat lof en eerwaardig is, maar ook Een vir wie enigiets gevra mag word (Ps 5:3; 10:16–18; 44:5; Brueggemann 1997:241).
  • God as groot en kragtige Koning is ook die Alwyse (Jer 10:6–7).

Die ‘God is Koning’-metafoor vergelyk nie net vir God met die Israelitiese konings nie. Wanneer hierdie metafoor gebruik word, wys dit op die onvergelyklikheid van God. Hy kan nie met enige ander god of koning vergelyk word nie. Talle uitdrukkings word gebruik om dit uit te beeld: ‘Koning vir ewig’ (Ps 29:10); ‘Koning vir altyd en ewig’ (Ps 10:16); ‘Koning bo al die gode’ (Ps 95:3); ‘Koning van die nasies’ (Jer 10:7); ‘ewige Koning’ (Jer 10:10); ‘Koning oor die hele aarde’ (Ps 47:3); ‘groot Koning’ (Mal 1:14); ‘roemryke Koning’ (Ps 24:7–10)36, ensovoorts. Hy is die Koning wie se eer, mag, krag en wysheid groter is as enige aardse koning (Brettler 1989:162–163; Nel 1997:963).

God as Koning regeer oor almal en word deur almal vereer: sy uitverkore volk Israel; die heidense waarsêer, Bileam (Num 23:21); koning Nebukadneser van Babilon (Dan 4:34 [37]); al die nasies wat optrek na Jerusalem (Sag 14:16–17); en selfs die serafs (Jes 6:1–5).

Die metafoor word nie elke keer op dieselfde manier gebruik nie. Die spesifieke historiese konteks speel ook ’n rol. Daar was ’n ernstige krisis toe die Jerusalemtempel van God die Koning in 586/587 v.C. verwoes is, en die stad en land hulle aardse koning verloor het. Onder die invloed van die Deuteronomiese teologie is hierdie verlies gesien as ’n mislukking van die konings van Israel en Juda en nie die mislukking van God as Koning nie. Die Goddelike vergifnis het die geopende deur vir ’n herlewing van die konsep van Goddelike koningskap in die na-eksiliese tyd. Dit was ’n tyd van politieke afhanklikheid van die Persiese Ryk, maar ook ’n tyd van godsdienstige onafhanklikheid (Spieckermann 2003:124).

Kan ’n mens sê dat die konsep ontwikkel het? Volgens Spieckermann (2003:124) het daar teen die agtergrond van ’n Deuteronomiese en priesterlike teologie ’n hierokratiese konsep ontwikkel met Israel wat as ’n ‘koninkryk van priesters’ en ’n ‘heilige nasie’ beskou is (Eks 19:6). Spieckermann (2003:124) redeneer dan verder dat hierdie benadering oneffektief begin raak het vanweë ’n inwaartse oriëntasie. Later ontwikkel ’n teokratiese konsep soos beskryf word in Kronieke en Daniël.

Samevattende gevolgtrekking

Na aanleiding van die kort oorsig blyk dit nie asof daar ’n wesenlike verskil is tussen die teologiese insigte in die ‘koninkryk van God’-gedeeltes teenoor die gedeeltes waar die ‘God is Koning’-metafoor voorkom nie. God as Koning openbaar dieselfde eienskappe in sy koninkryk op aarde en in die hele kosmos. Die grootste verskil is dat die ‘God is Koning’-gedeeltes meer verspreid in die Ou Testament en sy historiese tydvakke voorkom met ’n konsentrasie in die Psalms. Die ‘koninkryk van God’-verse kom meestal in na-eksiliese gedeeltes voor. In die verspreiding van teksgedeeltes is daar by albei groepe ’n opvallende afwesigheid in die wysheidsliteratuur.

Daar is wel enkele beklemtonings wat nie in die ‘koninkryk gedeeltes’ voorkom nie. Een verskil is die gebruik van die Godsnaam, YHWH sěbā’ôt. Hierdie Godsnaam kom talle kere in die ‘God is Koning’-gedeeltes voor (Ps 24:10; 84:4; Jes 6:5; 24:23; 44:6; Jer 46:18; 51:57; Sag 14:16, 17; Mal 1:14). In die ‘koninkryk gedeeltes’ is daar net een verwysing in die onmiddelike literêre konteks, naamlik 1 Kronieke 17:7–14. Die rede of redes hiervoor is ongelukkig moeilik om te bepaal.37

Slot

Daar is sommige geleerdes wat die konsep ‘koninkryk van God’ as die sentrale konsep in die Ou sowel as Nuwe Testament beskou (Bright, Merril, Vasholtz; Barrick, e.a.). ’n Mens kan nie met vrymoedigheid verklaar dat ‘koninkryk van God’ die sentrale konsep in die Ou Testament is nie. Daar moet wel erken word dat die ‘God is Koning’-konsep die oorheersende verhoudingsmetafoor oor God in die Ou Testament is (Brettler 1989:160).

In die verlede is daar min aandag aan die Ou-Testamentiese teksgedeeltes verleen waar die Hebreeuse en Aramese terme vir ‘koninkryk’ aangetref word (mamlākâ, malkût, mělûkâ en malkû). Na aanleiding van ’n kort oorsigtelike studie oor die ‘koninkryk van God gedeeltes’ en die ‘God is Koning gedeeltes’ blyk dit dat daar nie ’n wesenlike inhoudelike verskil is nie. Die getuienis oor die eienskappe en omvang van God se koninkryk is dieselfde. God as Koning kan nie van sy koninkryk losgemaak word nie.

Die Nuwe-Testamentiese verstaan van die konsep ‘koninkryk van God’ kan nie los van die Ou Testament beskou word nie. Daar kan aangeneem word dat Jesus sy boodskap oor die ‘koninkryk van God/hemele’ nie in ’n teologiese lugleegte verkondig het nie. Sy volgelinge was waarskynlik bewus van dit wat die Ou Testament oor God se koninkryk getuig.38

Erkenning

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydrae

D.F.O. was die enigste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Databeskikbaarheidsverklaring

Datadeling is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeur nie.

Literatuurverwysings

Allen, L.C., 1983, Psalms 101–150, Word Books, Waco, TX. (Word Biblical Commentary 21).

Barrick, W.D., 2012, ‘The kingdom of God in the Old Testament’, The Master’s Seminary Journal 23(2), 173–192.

Brettler, M.Z., 1989, God is king: Understanding an Israelite metaphor, JSOT Press, Sheffield. (JSOTSupp 76).

Bright, J., 1953, The kingdom of God: The biblical concept and its meaning for the church, Abingdon Press, New York, NY.

Brueggemann, W., 1997, Theology of the Old Testament, Fortress Press, Minneapolis, MN.

Buber, M., 1967, Kingship of God, Allen & Unwin, London.

Childs, B.S., 1992, Biblical theology of the Old and New Testaments, SCM Press, London.

Chilton, B., 2008, s.v. ‘Kingdom of God, Kingdom of heaven’, in K.D. Sakenfeld (ed.), The New Interpreter’s Dictionary of the Bible, vol. 3, pp. 512–523, Abingdon Press, Nashville, TN.

Deist, F.E. & Du Plessis, I., 1985, God and his kingdom, Second impression, Van Schaik, Pretoria.

Goldingay, J., 1991, Daniel, Word Books, Milton Keyness. (Word Biblical Commentary 30).

Goldsworthy, G., 1981, Gospel and kingdom: A Christian interpretation of the Old Testament, Paternoster Press, Exeter.

Graigie, P.C., 1983, Psalms 1–50, Word Books, Waco, TX. (Word Biblical Commentary 19).

Gray, J., 1979, The biblical doctrine of the reign of God, T&T Clark, Edinburgh.

Janowski, B., 1989, ‘Das Königtum Gottes in den Psalmen: Bemerkungen zu einem neuen Gesamtenwurf: Hartmut Gese zum 60. Gebutstag’, Zeitschrift für Theologie und Kirche 86(4), 389–454.

Jeremias, J., 1987, Das Konigtum Gottes in den Psalmen. Israels Begegnung mit dem kanaanäischen Mythos in den Jahwe-König-Psalmen, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Jonker, L.C., 2013. 1 & 2 Chronicles, Baker Books, Grand Rapids, MI. (Understanding the Bible Commentary).

Klein, R.W., 2006, 1 Chronicles, Fortress Press, Minneapolis, MN. (Hermeneia).

Ladd, G.E., 1962, ‘The kingdom of God – Reign or realm?’ Journal of Biblical Literature 81, 230–238. https://doi.org/10.2307/3264420

LeCureux, J., 2012, s.v. ‘Obadiah, Book of’, in M.K. Boda & J.G. McConville (eds.), Dictionary of Old Testament Prophets, pp. 569–573, IVP Academic, Downers Grove, IL.

Lucas, E.C., 2012, s.v. ‘Daniel: Book of’, in M.K. Boda & J.G. McConville (eds.), Dictionary of Old Testament Prophets, pp.110–123, IVP Academic, Downers Grove, IL.

Mays, J.L., 1994a, Psalms, John Knox Press, Louisville, KY. (Interpretation).

Mays, J.L., 1994b, The Lord Reigns: A theological handbook to the Psalms, Westminster John Knox Press, Louisville, KY.

Merrill, E., 1987, Kingdom of priests: A history of Old Testament Israel, Baker Book House, Grand Rapids, MI.

Merrill, E., 2006, Everlasing dominion: A theology of the Old Testament, B&H Publishing Group, Nashville, TN.

Nel, P.J., 1997, s.v. ‘mlk’, in W.A. VanGemeren (ed.), New international dictionary of Old Testament theology & exegesis, vol. 2, pp. 956–965, Zondervan, Grand Rapids, MI.

Newsom, C.A., 2014, Daniel: A commentary, Westminster John Knox Press, Louisville, KY. (Old Testament Library).

Niehaus, J.J., 2009, s.v. ‘Obadiah’, in T.E. McComiskey (ed.), The minor prophets: An exegetical and expository commentary, pp. 495–541, Baker Academic, Grand Rapids, MI.

O’Kennedy, D.F., 2007, ‘Is dit moontlik om die goddelike naam יְהוָה צְבָאוֹת in Afrikaans te vertaal?’, Old Testament Essays 20(1), 185–200.

O’Neill, J.C., 1993, ‘The kingdom of God,’ Novum Testamentum 35(2), 130–141. https://doi.org/10.1163/156853693X00095

Peels, H.G.L., 2001, ‘The kingdom of God in the Old Testament’, In die Skriflig 35(2), 173–190. https://doi.org/10.4102/ids.v35i2.554

Pierce, R.W., 2015, Daniel, Baker Books, Grand Rapids, MI. (Teach the Text Commentary Series).

Prinsloo, W.S., 1994, ‘Psalm 98: Sing ’n nuwe lied tot lof van die Koning, Jahwe’, Hervormde Teologiese Studies 50(1&2), 155–168. https://doi.org/10.4102/hts.v50i1/2.2548

Prinsloo, W.S., 1995, ‘Psalm 97: Almal moet bly wees, want Jahwe is Koning’, Hervormde Teologiese Studies 51(4), 1088–1113. https://doi.org/10.4102/hts.v51i4.1459

Prinsloo, W.S., 1996, ‘Psalm 47: Partikularisme en universalisme. Jahwe is ons Koning én Koning oor die hele aarde’, Skrif en Kerk 17(2), 388–404. https://doi.org/10.4102/ve.v17i2.526

Rillera, A.R., 2019, ‘A call to resistance: The exhortative function of Daniel 7’, Journal of Biblical Literature 138(4), 757–776. https://doi.org/10.1353/jbl.2019.0040

Saaiman, D., 2014, ‘Die koninkryk van God as ’n kontekstueel-paradigmatiese sleutel vir Skrifberoep in die etiek,’ In die Skriflig 48(2), Art. #1759, 1–11. https://doi.org/10.4102/ids.v48i2.1759

Schmidt, L., 1989, s.v. ‘Königtum II. Im Alten Testament’, in G. Müller, H. Balz & G. Krause (eds.), Theologische Realenzyklopädie 19, pp. 327–333, De Gruyter, Berlin.

Selman, M.J., 1989, ‘The kingdom of God in the Old Testament’, Tyndale Bulletin 40(2), 161–183.

Simundson, D.J., 2005, Hosea, Joel, Amos, Obadiah, Jonah, Micah, Abingdon Press, Nashville, TN. (Abingdon Old Testament Commentaries).

Soggin, J.A., 1997, ‘melek king’, in E. Jenni & C. Westermann (eds.), Theological Lexicon of the Old Testament 2, pp. 672–680, Hendrickson Publishers, Peabody, MA.

Spieckermann, H., 2003, s.v. ‘Kingdom of God: OT’, in E. Fahlbusch, J. Lochman, J. Mbiti et al. (eds.), The encyclopedia of Christianity, vol. 3, pp. 123–124, Eerdmans/Brill, Grand Rapids, MI/Leiden.

Terrien, S., 2003, The Psalms, Eerdmans, Grand Rapids, MI. (The Eerdmans Critical Commentary).

Van Wyk, J.H., 2003, ‘Teologie van die verbond of teologie van die koninkryk? Dogmatiese nadenke oor die verhouding tussen die verbond en die koninkryk as sentrale teologiese temas’, In die Skriflig 37(1), 1–26. https://doi.org/10.4102/ids.v37i1.456

Vasholz, R.I., 1997, Pillars of the kingdom: Five featuers of the kingdom of God progressively revealed in the Old Testament, University Press of America, Lanham, MD.

Vriezen, Th.C., 1970, An outline of Old Testament theology, 2nd edn., Basil Blackwell, Oxford.

Wenham, D., 1987, ‘The kingdom of God in Daniel’, The Expository Times 98(5), 132–134. https://doi.org/10.1177/001452468709800502

Wood, J.R., 2019, ‘Writing and rewriting of Psalm 22’, Studies in Religion 48(2), 189–215. https://doi.org/10.1177/0008429819830071

Zenger, E., 1986, s.v. ‘Herrschaft Gottes/Rreich Gottes II; Altes Testament’, in G. Müller, H. Balz & G. Krause (eds.), Theologische Realenzyklopädie 15, pp. 176–189, De Gruyter, Berlin.

Voetnote

1. Die skrywer kon geen Afrikaanse artikel in vakwetenskaplike tydskrifte van die afgelope 30 jaar opspoor wat ’n oorsig bied oor die koninkryk van God in die Ou Testament nie. Weens hierdie rede word die artikel in Afrikaans geskryf. Daar is wel drie artikels van Prinsloo (1994; 1995; 1996) wat op Jahwe as Koning in Psalm 47, 97 en 98 fokus. Verder het daar Afrikaanse artikels van Van Wyk (2003) en Saaiman (2014) verskyn wat die koninkryk van God vanuit ’n dogmatiese en etiese hoek benader.

2. Moontlike sinonieme vir die woord konsep is begrip, idee, denkbeeld, tema of motief.

3. Die skrywer was die afgelope 30 jaar by talle kerklike vergaderings, kursusse, konferensies en die Vennootskap van Gestuurde Gemeentes (VGG) betrokke. In die gesprekke oor die missionale of missionêre rol van die kerk is daar telkens na die koninkryk van God en die verhouding tussen kerk en koninkryk verwys.

4. Genesis 1–11, die patriargale tydperk, die Mosaïese tydperk, die intog, Rigters/Rut, Davidies-Salomoniese tydperk, Neo-Assiriese tydperk, Neo-Babiloniese tydperk, Neo-Persiese tydperk.

5. In Vriezen (1970:338) se Ou-Testamentiese teologie staan ook die volgende: ‘The Kingdom of God may be considered the essential content of the message of salvation.’

6. In Merril se publikasie oor die geskiedenis van Israel, Kingdom of priests: A history of Old Testament Israel (1987), het hy ook verkies om die term koninkryk te gebruik wanneer daar na die volk Israel verwys word.

7. Die titel van Bright (1953) se boek verwys pertinent na die betekenis vir die kerk.

8. Sien die volledige lys van teksgedeeltes by die bespreking van ‘God as Koning in die Ou Testament’.

9. Die Hebreeuse naam YHWH word in Afrikaans met Jahwe of Here vertaal.

10. Die verwysing van die Hebreeuse Bybel (BHS) word eerste geplaas en die Afrikaanse vertalings tussen hakies.

11. Die woord God dien as sinoniem vir die woorde Jahwe of Here wat in die Ou Testament voorkom. Dit is interessant om daarop te let dat die naam Here wat in die plek van die goddelike naam Jahwe gebruik word, vanuit die koninklike sfeer kom (vgl. Brettler 1989:162).

12. Daar word uit verskillende Afrikaanse Bybelvertalings aangehaal. Die spesifieke vertaling sal telkens vermeld word. In die ander afdelings van die artikel word (bv. korter frases) meestal uit die 2020-AV aangehaal.

13. Die Godsnaam YHWH ṣěbā’ôt is moeilik om in Afrikaans te vertaal en verskillende vertalings word aangebied: Here van die leërskare (1933/53 Afrikaanse Vertaling [1933/53-AV]); Here die Almagtige (1983 Afrikaanse Vertaling [1983-AV]; Nuwe Lewende Vertaling [NLV]); Here, Heerser oor alle magte (2020-AV). ’n Moontlikheid is om dit bloot as ‘Here van alle magte’ te vertaal (vgl. O’Kennedy 2007:185–200).

14. Volgens Merril (2006:278) kom die tegniese term koninkryk van die Here/Jahwe slegs in 2 Kronieke 13:8 voor.

15. Die Tetragrammaton YHWH kan in Afrikaans as Jahwe uitgespreek word. Al die Afrikaanse Bybelvertalings vertaal YHWH met ‘Here’.

16. Daar is wel klein verskille in die spesifieke bewoording van die volgende opskrifte: Psalm 22 (’n Psalm. Van Dawid); Psalm 103 (Van Dawid); Psalm 145 (’n Loflied. Van Dawid).

17. Dit is moeilik om die Psalm te dateer, omdat dit waarskynlik ’n lang ontstaansgeskiedenis gehad het. Vers 29 behoort tot ’n gedeelte wat waarskynlik later ontstaan het – in die tyd van die Ballingskap en daarna (Wood 2019:190–191).

18. Die teenwoordigheid van Aramaïsmes en die weerspieëling van Jesaja 40:6–8 in verse 15 en 16 lei daartoe dat die meeste kommentatore die Psalm laat dateer (vgl. Allen 1983:20–21).

19. Belsasar het ongeveer in 549-539 v.C. geleef.

20. Verskillende Afrikaanse vertalings word aangebied vir die Aramese woorde bar ‘ěnoš: ‘die Seun van ’n mens’ (1933/53 AV); ‘iemand soos ’n menslike wese’ (1983-AV); ‘iemand wat soos ’n mens lyk’ (NLV); ‘mensekind’ (2020-AV).

21. Judas Makkabeus, die Joodse bevryder; engel figuur soos Migael of Gabriël; kollektiewe figuur wat die ‘heiliges van die Allerhoogste’ verteenwoordig; die Messias wat deur die Jode verwag word; Jesus Christus wat telkens in die Nuwe Testament na Homself as die ‘Seun van die Mens’ verwys (vgl. Matt 24:30; 26:24; Mark 13:26, e.a.; vgl. ook Lucas 2012:116-117; Rillera 2019:771).

22. LeCureux (2012:570) meld dat geleerdes se verskillende daterings ’n tydperk van ongeveer 500 jaar dek – vanaf die vroeë negende eeu v.C. tot die vierde eeu v.C.

23. By Amos en die ander vroeëre profete word die dag van die Here as ’n dag van straf en vergelding vir Israel beskryf. In die boek Obadja word dit as ’n dag van oordeel oor Edom,’n vreemde volk, beskryf (vv. 15-21).

24. Die 2020-AV gebruik in die meeste gevalle nié die term koninkryk nie, meer eerder koningskap of heerskappy. In die teksgedeeltes onder bespreking is dit net die volgende waar die vertaling koninkryk voorkom: 1 Kronieke 17:14, en Daniël 2:44, 3:33 (4:3), 6:27, 7:18 en 27. In moderne Engelse vertalings (New English Translation; New King James Version, New International Version, New Living Translation, New Revised Standard Version) word die terme meestal met ‘kingdom’ vertaal.

25. Ladd (1962:230–238) vra dieselfde vraag met betrekking tot die Nuwe Testament. Gaan die koninkryk van God oor reign [heerskappy of regering] of oor ’n realm [gebied].

26. Die Godsnaam YHWH sěbā’ôt kom nie in die spesfieke verse voor nie, maar wel in die onmiddellike literêre konteks van 1 Kronieke 17:14 (vv. 7 en 24). Dit is ’n Godsnaam wat veral na die mag van die Here verwys wat groter is as enige aardse mag of koninkryk. Hierdie Godsnaam word telkens in die na-eksiliese profeteboeke aangetref (Hag, Sag en Mal), maar slegs 3 keer in Kronieke (1 Kron 11:9; 17:7, 24).

27. Vriezen (1970:432–433) reken wel dat daar ’n ontwikkeling was vanaf die partikularistiese na die universalistiese siening. Schmidt (1989:330) se standpunt verskil van dié van Vriezen. Hy glo dat die siening van ‘Jahwe as universele Koning’ vóór die van ‘Jahwe as Koning van Israel’ ontstaan het. Volgens hom het laasgenoemde siening eers tydens die ballingskap ontstaan.

28. Buber (1967:108) praat selfs van die verbond by Sinai as ’n ‘koninklike verbond’ en Goldsworthy (1981:47) reken dat die koninkryk van God die inhoud van die verbond is.

29. Numeri 23:21; Deuteronomium 33:5; 1 Samuel 12:12; Psalm 5:3; 10:16; 24:7-10; 29:10; 44:5; 47:3; 7-8; 48:3; 68:25; 74:12; 84:4; 95:3; 98:6; 99:4; 145:1; 149:2; Jesaja 6:5; 33:17, 22; 41:21; 43:15; 44:6; Jeremia 8:19; 10:7, 10; 46:18; 48:15; 51:57; Daniël 4:37; Miga 2:13; Sefanja 3:15; Sagaria 14:9, 16, 17; Maleagi 1:14.

30. Eksodus 15:18; 1 Samuel 8:7; 1 Kronieke 16:31; Psalm 47:9; 93:1; 96:10. 97:1; 99:1; 146:10; Jesaja 24:23; 52:7; Esegiël 20:33; Miga 20:33.

31. Vergelyk Levitikus, Josua, Rigters, Rut, 2 Samuel, 1 Kronieke, Esra, Nehemia, Ester, Klaagliedere, Hosea, Joël, Amos, Obadja, Jona, Miga, Nahum, Habakuk en Haggai.

32. Sion word as die tempel in Jerusalem gesien (Ps 24:7–10), maar ook as die stad Jerusalem (Ps 48:3).

33. In Psalm 47 word verskillende Godsname gebruik om God se koningskap te besing: YHWH [Here]; YHWH elyôn [Here, die Allerhoogste]; ’elōhîm [God)].

34. Vergelyk die bespreking van Prinsloo (1994:156–157) oor die verskillende standpunte rakende die ‘troonbestygingsliedere’.

35. Volgens Jeremias (1987:32–44) het die Jahwe as koningmetafoor ontstaan in die pre-monargale tyd teen die agtergrond van die Kanaänitiese mites en legendes. Israel se siening van God se koningskap is volgens hom ’n herinterpretasie van die mites. Janowski (1989:423) verskil weer van hierdie standpunt en glo dat die metafoor in die pre-monargale tyd afwesig is. Volgens hom is Jesaja 6:5 die vroegste teks wat na God as Koning verwys (‘Ja, my oë het die Koning, die Here, Heerser oor alle magte, gesien’). Deist en Du Plessis (1985:104) kies weer die standpunt dat daar twee ‘lyne’ van oorsprong is: die wêreld van die mitologiese god-koning en die wêreld van die alledaagse politiek in Israel.

36. Die Hebreeuse woorde melek hakābôd word op verskillende maniere in Afrikaans vertaal: ‘Erekoning’ (1933/53-AV); ‘magtige Koning’ (1983-AV); ‘roemryke Koning’ (NLV; 2020-AV). In Engels word dit meestal as ‘King of glory’ vertaal (NASB; NIV; NKJV; NRSV).

37. ’n Mens kan nie sê dat hierdie Godsnaam afwesig is in die latere literatuur nie. Daar is byvoorbeeld ’n groot aantal verwysings na YHWH sěbā’ôt in die na-eksilise profete Haggai, Sagaria en Maleagi (91x). Daar is egter net enkele verwysings in die Kronieke boeke (3x) en geen in die boek Daniël nie (vgl. O’Kennedy 2007:185–200).

38. Wenham (1987:132) skryf onder andere die volgende: ‘… in fact the book of Daniel may be the primary background to the Gospels’ teaching about the Kingdom’.



Crossref Citations

No related citations found.