Hierdie bundel bevat nege bydraes ná die inleidende opmerkings van die twee redakteurs. Elkeen van die bydraes is verwerkings van materiaal uit meesterskripsies in Ou-Testamentiese Studies wat aan die Theologische Universiteit Apeldoorn voltooi is. Almal handel oor tekste of temas uit die boek van die profeet Jeremia. Prof. Peels is al meer as 25 jaar hoogleraar in die Ou Testament in Apeldoorn. Sy eie werk oor Jeremia is goed bekend en dit is daarom ook iets besonders dat soveel studente in hulle meesterstudie op Jeremia gefokus het. ’n Tipiese kenmerk van al die studies is die breë kennis van relevante literatuur. Ook word verskillende standpunte, ook van outeurs waarmee nie saamgestem word nie, billik uiteengesit en beoordeel, terwyl die skrywers van die bydraes ook nie huiwer om ’n eie gemotiveerde standpunt in te neem nie.
Lourens Heres bespreek die funksie van visioene vir profesie en die betroubaarheid daarvan. Hy gee aandag aan visioene in die wêreld van die Ou Testament en in die Ou Testament self. ’n Belangrike vraag waaraan hy aandag gee, is hoe die adres van ’n profeet kan onderskei tussen ware en valse aansprake oor visioene. Veral belangrik is die beoordeling daarvan met vorige openbarings van God as maatstaf.
Jelle Hoefnagel gee aandag aan Jeremia 46:13–26 wat handel oor ’n moontlike inval van Nebukadneser in Egipte. Jeremia het die volk dikwels teen ’n valse vertroue op Egipte gewaarsku, sodat ’n oordeel oor Egipte die vertroue op Egipte ondermyn. ’n Kort vergelyking met Esegiël 29 sou moontlik wel paslik gewees het.
Derk-Jan Hoogenboom handel oor vergewing in die nuwe verbond, waar veral Jeremia 31:34 van belang is. Hy bespreek die betrokke vers in die lig van Jeremia 32:31–34 en dui aan dat die idee van vergewing nie veel aandag in die ondersoek gekry het nie. God sal sy volk vergewe en op grond daarvan sal elkeen Hom erken.
Jelle Knol se bydrae handel oor die plek van Jeremia 26 in Jeremia 26–45. Hy toon aan dat hierdie hoofstuk na Jeremia se tempelrede in Jeremia 7 teruggryp. Hy toon ook aan hoe hierdie hoofstuk as inleiding tot die tweede deel van die boek funksioneer. Miskien kon Jeremia 31–34 meer aandag geniet het. Vir wie en wanneer is die hoop bedoel?
Bert Koopman bespreek Jeremia 35 en die Rekabiete. Die datering van die episode vóór 604 v.C. kan wel betwyfel word. Die punt van die episode is inderdaad die gehoorsaamheid van die Rekabiete, wat gestel word teenoor die ongehoorsaamheid van die mense van Juda in die tyd van Jeremia.
Jeroen van Limbeek gee aandag aan die uitdrukking
Jonard Roukens plaas die Babiloniese ballingskap in perspektief. Hy bespreek die drie wegvoerings van mense uit Juda en gee besondere aandag aan die situasie van die Judeërs in Babel, ook in die tyd nadat die Jode toegelaat is om na Juda terug te keer. Van besondere belang is nuwe historiese bronne waarna hy verwys en wat lig werp op die situasie van Jojagin en van ander Joodse families in die volgende eeue. Hy plaas die verkondiging van Jeremia in die perspektief van die verskillende wegvoerings.
Albert Verhoeff bespreek die tweeledige beoordeling van Nebukadnesar, die koning van Babel. Drie keer noem die Here Nebukadnesar sy
Henk de Waard gee aandag aan die inhoud en funksie van Jeremia 44. Hierdie hoofstuk handel oor die Judeërs wat na Egipte gevlug het en vir Jeremia saam met hulle geneem het. God het onheil oor Juda beskik, en so ook oor die Judeërs wat na Egipte gevlug het ná die dood van Gedalja. Jeremia kondig hulle totale ondergang aan. Die toekoms van Juda sou verbind word aan die ballinge in Babel.
Die bydraes het nie ’n gesamentlike tema nie, maar bied tog goeie insig in verskeie aspekte van die boek Jeremia. Akademici en predikante kan by hierdie stukke baat vind, ook met die oog op prediking. Die basiese uitgangspunte van die verskillende bydraes toon wel almal ’n reformatoriese vertrekpunt.