About the Author(s)


Piet J. Strauss Email symbol
Department of Historical and Constructive Theology, Faculty of Theology and Religion, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa

Citation


Strauss, P.J., 2022, ‘Johan Heyns en Beyers Naudé as profete teen die Nederduitse Gereformeerde Kerk se steun aan apartheid: Heyns van binne, en Naudé van buite die Nederduitse Gereformeerde Kerk’, In die Skriflig 56(1), a2860. https://doi.org/10.4102/ids.v56i1.2860

Original Research

Johan Heyns en Beyers Naudé as profete teen die Nederduitse Gereformeerde Kerk se steun aan apartheid: Heyns van binne, en Naudé van buite die Nederduitse Gereformeerde Kerk

Piet J. Strauss

Received: 07 Apr. 2022; Accepted: 08 July 2022; Published: 19 Sept. 2022

Copyright: © 2022. The Author Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstrak

Johan Heyns and Beyers Naudé as prophets against the Dutch Reformed Church supporting apartheid: Heyns prophesising from within and Naudé from without. Both Johan Heyns and Beyers Naudé came from a strong Dutch Reformed and Afrikaans background. Both supported and motivated a policy of apartheid in the Dutch Reformed Church and South Africa in their earlier years. As for Naudé, this conviction changed in December 1960 at the Cottesloe consultation of the World Council of Churches in South Africa’s member churches. Heyns changed in the early 1980s on the matter. In October–November 1980, Heyns initiated a public witness linked to Reformation Day in which the apartheid of the time was strongly criticised. This witness made an appeal on churches in South Africa to preach the gospel aimed at the full development of all citizens as people created in the image of God – be it in an inclusive society. In promoting his viewpoint, Heyns remained in the Dutch Reformed Church. Besides being an occasional controversial participant, he had a measured influence on the two documents, ‘Church and Society 1986’ and ‘Church and Society 1990’. In these documents, the Dutch Reformed Church, for the first time, spoke out against the way in which apartheid was implemented. As moderator from 1986–1990, Heyns was at the centre of events when the Dutch Reformed Church was welcomed back into Protestant ecumenic circles after apartheid. In these years, Heyns was a strong and visible force in the Dutch Reformed Church to change its stance on apartheid. He used reform from within to achieve this goal. Unlike Heyns, Naudé opted for critique on the Dutch Reformed Church and apartheid from the outside. As a vehicle for this, he founded his Christian Institute in 1963 and eventually left his church, with the effect that he was excluded from assemblies in the Dutch Reformed Church that decided on matters such as apartheid. It became impossible to find any sign of Naudé’s influence on decisions and declarations of assemblies such as presbyteries and synods against apartheid in the Dutch Reformed Church. Heyns used the norm in Reformed churches that a Reformed church should be reformed from within. In this article, the influence of both Heyns and Naudé on the General Synod of the Dutch Reformed Church to change its stance on apartheid is analysed by means of a study of literature. The purpose is to determine the more effective method of the two for ecclesiastical change. Heyns operated from within and Naudé from without. Heyns became the chairman of the General Synod which spoke out against apartheid in practice, but the church closed its ranks against the critique of Naudé.

Contribution: Considering that both Johan Heyns and Beyers Naudé were members of a congregation of the Dutch Reformed Church as a Reformed church, the question is what the influence of reform was on their stance against apartheid. Both were regarded as prophets against the support of their church during apartheid. In this process, Heyns worked from within his church and Naudé from without. The method of both in this matter is investigated and evaluated. This article fills a gap in theological-historical scientific studies in this regard and adds an own interpretation to the issue.

Keywords: Dutch Reformed Church; church and society; Heyns and Naudé; Christian-Afrikaner families; Heyns’s reformation.

Inleiding

Sedert die betrokkenheid van die Gereformeerde Ekumeniese Sinode (GES) in 1953 en die Presbiteriaanse Wêreldalliansie (PWA) in 1964 in die apartheidsera in Suid-Afrika en die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) se teologiese en morele regverdiging van apartheid – soos in 1982 gepopulariseer – was dit duidelik: hierdie gereformeerde kerke kan hulle nie van apartheid losmaak nie. Die kerke het vanuit hulle kerkwees of verstaan van Skrif en belydenis ’n bepaalde houding teenoor apartheid soos dit in Suid-Afrika bedryf word, ingeneem. In 1988 verander die GES na die Gereformeerde Ekumeniese Raad (GER), terwyl die PWA in 1970 die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke (WBGK) word. In 2010 verenig hierdie twee liggame in die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) (Strauss 2018:115–141).

Die Algemene Vergadering van die WBGK in Ottawa, Kanada, kondig in 1982 ’n status confessionis teen die kerklike of teologiese en morele regverdiging van apartheid af. Teen hierdie agtergrond aanvaar die Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (NGSK) op 01 Oktober 1982 ’n konsepbelydenis: die Belydenis van Belhar (reds. Cloete & Smit 1884:5; Durand 1984:126). Nadat hierdie kerk haar gemeentes geraadpleeg het, finaliseer die Sinode van 1986 vir Belhar as ’n geloofsbelydenis van die NGSK (Botha 2008a:101). In sy redes vir ’n status confessionis sowel as vir Belhar, stel een van die outeurs, Smit (1984), dit soos volg:

Strenggesproke beteken die uitdrukking status confessionis dat ’n Christen, ’n groep Christene, ’n kerk of kerke oordeel dat ’n situasie ontstaan het, ’n oomblik van waarheid aangebreek het, waarin niks minder nie as die evangelie self, hul mees basiese belydenis aangaande die Christelike evangelie, op die spel staan, sodat hulle verplig voel om daarteenoor te getuig en te handel. (p. 22)

Vir die WBGK en NGSK was die stel van ’n status confessionis of verwoording van ’n belydenis die sterkste manier waarop die kerk haarself as ’n geloofsgemeenskap en verkondiger van die Bybelse boodskap kon uitdruk. Prinsipieel handel ’n belydenis immers oor kernwaarhede van die Christelike geloof wat uit die hart van die kerk as ’n Christelike geloofsgemeenskap kom. ’n Belydenis bevat – prinsipieel beskou – die grondoortuigings van ’n kerk oor die geloof (Bouwman 1985:568; Heyns 1977:156). Hierteenoor het die teologiese en morele regverdiging van apartheid, volgens kritici op die Ottawa-vergadering, ’n bespotting van die evangelie gemaak. Vir hulle was dit ongehoorsaamheid aan die Woord en daarom kettery of dwaalleer. Vir die WBGK het sy status confessionis beteken dat hieroor nie verskil kon word sonder om die integriteit van ‘our common confession of Reformed Churches’ in gedrang te bring nie (verbatim-besluit in Nederduitse Gereformeerde Kerk [NGK] 1982:1020–1024).

Anders gestel: met sy besluit oor ’n status confessionis teenoor die teologies morele regverdiging van apartheid,1 het die WBGK aangevoer dat hierdie regverdiging van apartheid die kern van gereformeerde kerkwees – die belydenisse – in gedrang bring. Dit sou beteken dat hulle houding oor die regverdiging van apartheid in Suid-Afrika deur die Algemene Sinode van die NGK – dit waaroor hierdie artikel gaan2 – by kerkmanne soos Johan Heyns (1928–1994) (Botha 2008b:457) en Beyers Naudé (1915–2003) (Meiring 2008:780) ten diepste iets van hulle kerklike vertrekpunt en/of belydenisgrondslag moet blootlê.

As Gaum (2018) ’n populêre artikel in Kerkbode skryf oor Heyns en Naudé in hulle ‘stryd teen’ die NGK se steun aan apartheid (‘van binne [Heyns] of buite [Naudé] die mure van die kerk’), moet hierdie ‘binne’ of ‘buite’ van hulle verstaan van die kerk getuig. Hulle werksmetode van binne of buite hou met hulle kerkbegrip verband en vloei uit hulle soort gereformeerdwees of deel wees van die Nederduitse Gereformeerde [NB] Kerk. Gereformeerdwees of die beginsel van ecclesia reformata semper reformanda3 bly in elk geval die maatstaf in ’n gereformeerde kerk of in talle kerke in die GER, WBGK, of na 2010, die WGGK.

Die voorsitter van die Algemene Sinode van die NGK van 1994, Freek Swanepoel, noem in sy rede op Johan Heyns se begrafnis na die sluipmoord op laasgenoemde op 05 November 1994, ’n ‘profeet wat [algaande meer intensief] van binne die mure van die NG Kerk vir geregtigheid gewerk het’. Dit was ’n proses waarin Heyns in 1980 ’n inisiëringrol in die Hervormingsdaggetuienis teen, in daardie stadium, gestolde apartheid in Suid-Afrika speel en later tot voorsitter van die Sinode van Noord-Transvaal en die Algemene Sinode van die NGK (1986) verkies word. Heyns beweer dat die NGK nie met die kritiese stukke oor apartheid, naamlik Kerk en Samelewing–1986 en –1990 [KS–1986 en KS–1990], te voorskyn sou gekom het nie indien die Hervormingsdag-getuienis nie die klimaat daarvoor help skep het nie. Vir hom was die Getuienis 1980 die eerste saad van ’n grondige beleidsverandering in die NGK. Boonop het Heyns met sy deelname aan die Getuienis hervorming as ’n metode vir verandering in kerk en samelewing onderstreep (Heyns 1989:71; Williams 2006:169, 171, 213, 231).4 Op hierdie punt noem Gaum (2018) vir Naudé, teenoor Heyns, ’n werker van ‘buite die mure’. Naudé se openlike verset teen apartheid sou veral na die Cottesloe-beraad van 07 tot 14 Desember 1960 by hom as ’n predikant van die NGK Aasvoëlkop begin (Potgieter 1994:60).5 Sy eintlike stryd teen apartheid op algemene sinodale vlak in die NGK deur sy Christelike Instituut (CI) sou egter buite die NGK om gevoer word. Na die skietery by Sharpeville op Maandag 21 Maart 1960 waar die Suid-Afrikaanse Polisie 69 swart protesteerders doodgeskiet het, word die Cottesloe-beraad deur die Wêreldraad van Kerke (WRK) vir sy agt lidkerke in Suid-Afrika geïnisieer. Naudé wou na Cottesloe die kritiese toon van die beraad – soos hy dit verstaan – teen apartheid voorsit6 (Strauss 1989:147). Gaum (2018) oordeel dat Naudé ‘buite die mure’ van die kerk aan die ‘struggle’ deelgeneem en die CI as sy werktuig gebruik het.

Die verskil tussen Johan Heyns en Beyers Naudé oor hierdie kwessie en beide se weerstand teen die steun van die Algemene Sinode van die NGK – hierdie kerk in haar mees algemene verband – aan apartheid, lei tot hierdie ondersoek. Die ondersoek ontleed die aanpak van Heyns en Naudé as kerklike profete teen ’n apartheidsgesinde NGK: Heyns van binne en Naudé, aanvanklik ligweg van binne, maar later van buite die NGK. Die slotsom is dat Heyns in die tagtigerjare van die vorige eeu7 sigbare invloed op die besluite van die Algemene Sinode van die NGK gehad het, maar dat hierdie kerk hom, na die stigting van Naudé se CI in 1963, van Naudé vervreem het. Daarom is daar geen teken van Naudé se invloed op die Algemene Sinode in sy verset teen apartheid nie.

Heyns en Naudé: Opgesomde agtergrond

Heyns sowel as Naudé kom uit erkende Afrikanergesinne met ’n Christelik godsdienstige of algemene NGK-inslag. Beide het direkte voorsate wat deur die stryd en ontwrigting van die Anglo-Boereoorlog (1899–1902) gekom, in die twintigste eeu Afrikaners gebly en in die Christen Afrikaner-idioom van die tyd geleef het. Vir Heyns én Naudé se ouers was hulle seuns se keuse om predikant in die kerk te word ’n logiese uitvloeisel van wat hulle vir hulle seuns voorsien het (Potgieter 1994:1–348; Williams 2006:29).

Johan Heyns

Johan Heyns word op 27 Mei 1928 op Tweeling in die Vrystaat as seun van Flip en Maria Heyns gebore. Van jongs af begeer hy om ’n predikant te word. In ’n radio-onderhoud in 1985 sê hy dat sy moeder, naas sy akademiese opleiding, die grootste invloed op sy lewe gehad het (Meiring 1994:177; Williams 2006:1–2). Vanaf 1946–1948 doen hy sy voorgraadse studie aan die Potchefstroomse Universiteitskollege vir die bediening as predikant in die NGK. Die kollege word in 1951 die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) en op 01 Januarie 2004 deel van die Noordwes-Universiteit (Bingle 2008:891). In 1949 skryf Heyns in vir teologie aan die Universiteit van Pretoria (Williams 2006:17). Die dosent wat die grootste invloed op hom het, is H.G. Stoker. Stoker is ’n erkende Calvinistiese wysgeer wat sy Wysbegeerte van die Skeppingsidee met groot invloed aan die PU vir CHO en wyer ontwikkel en, in samehang daarmee, sy verstaan van ’n Christelike wetenskap. Heyns verwoord sy verhouding met Stoker soos volg in ’n radio-onderhoud in 1985:

Wat ek vandag in die teologie probeer uitwerk vind plaas binne die kader en inspirasie van diepgaande Calvinistiese denke, wat ek by daardie werklik groot man [Stoker], een van ons grootste filosowe, gekry het. (verbatim volgens Williams 2006:8)

Na sy Potchefstroomse ervaring waar hy sy BA-graad met lof verwerf, bestudeer Johan Heyns ook Wysbegeerte onder leiding van C.K. Oberholzer aan die Universiteit van Pretoria en onder leiding van D.Th. Vollenhoven aan die Vrije Universiteit in Amsterdam. In 1951 behaal hy sy nagraadse BD-graad in Teologie sowel as sy MA in Wysbegeerte met lof aan die Universiteit van Pretoria. Daarna skuif hy na die Vrije Universiteit vir studie in dogmatiek onder leiding van G.C. Berkouwer. In 1953 promoveer hy hier met ’n doktorale proefskrif oor die grondstruktuur van die modalistiese triniteitsbeskouing (Botha 2008b:457; Williams 2006:9). Sy innerlike gehegtheid aan Potchefstroom, Stoker en dit waarvoor die CHO staan, lei daartoe dat hy in 1962 aan die PU vir CHO nog ’n doktorsgraad in die Christelike Wysbegeerte verwerf (Botha 2008b:457).

Van 1954 tot 1966 bedien Heyns die NGK Ysterplaat en Rondebosch. In 1966 word hy ’n senior lektor in dogmatologie aan die Kweekskool op Stellenbosch en van 1971–1993 professor en hoof van die Departement Dogmatiek en Etiek aan die Teologiese Fakulteit van die Universiteit van Pretoria (Botha 2008b:457).

Vanuit sy band met onder andere H.G. Stoker, ontwikkel Johan Heyns ’n Teologie van Gehoorsaamheid in die Koninkryk wat sy gebondenheid aan die norme van God se Woord as bepalend in ‘kerk en samelewing’ verklaar. ‘Kerk en samelewing’ (KS–1986 en KS–1990) is die titel waaronder die Algemene Sinode van die NGK in 1986 en 1990 haar visie op die Suid-Afrikaanse samelewing met bepalende insette van Heyns formuleer (Williams 2006:196–198, 405–406). Sy band met Stoker verklaar ook Heyns se eksplisiete Afrikanerwees en gemeenskapsgerigtheid. Vanuit sy visie op die totale lewe word sy voorsitterskap van die Algemene Sinode van die NGK van 1986, die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniging (FAK), visevoorsitterskap van die Afrikanerbond (AB) en voorsitterskap van die Akademie vir Wetenskap en Kuns – die laaste drie kom na 1986 (Gaum 2018)10 – logiese uitvloeisels van sy lewenshouding. Williams beweer dat Heyns tot ongeveer 1980 twee aspekte via Stoker in sy visie op die lewe opgeneem het: Eerstens, die lewensomvattende koninkryk van God in die wêreld; en tweedens, ’n verskeidenheid van kultuur, lewenstandaarde en belewing onder mense. Wat Heyns betref, kon hy hierdie oorwegings by ’n regverdiging van apartheid in Suid-Afrika betrek. Deur sy inisiatief vir die Hervormingsdaggetuienis van 1980, het hy egter ’n einde wat geleidelik nader gekom het, aan hierdie regverdiging gemaak. Vir hom persoonlik was die Getuienis sy eerste publieke kritiek op die NGK vir haar steun aan apartheid11 – ’n pad waarvan Heyns nie sou afwyk nie (Williams 2006:169).

Intussen het die woorde van Mias de Klerk, ’n reformatoriese geesgenoot op Potchefstroom en in Pretoria, na aanleiding van dogmatiek in die Teologiese Fakulteit (Afd B) van die Universiteit van Pretoria waaraan ’n moedelose Heyns wou onttrek, vir Heyns as rigtinggewend bygebly. Die volgende woorde onderstreep die hervorming van binne as ’n metode teenoor wegbreek en revolusie van buite: ‘Moenie so gou moedeloos word nie. Bly hier. Kom ons kyk wat ons van binne af kan regmaak’ (Meiring 1994:178).

Heyns kies hervorming van binne uit

Die woorde kritiese solidariteit verwoord die benadering wat Heyns ‘enduit’ gevolg het. Daarmee wou hy sê dat hy die NGK, die apartheidsera in Suid-Afrika en organisasies soos die AB van binne kritiseer om hulle as oortuigde medestanders met hom saam te neem. Hierdie instellings moet, gehoorsaam aan God se Woord en koninkryk, gestaltes in sy lewensomvattende koninkryk word (Heyns 1977:98–108). Heyns wou deur die metode van hervorming afstuur op die koninkryk van God.

Vir Christof Heyns het sy vader onder ‘kritiese solidariteit’ verstaan dat jy lojaal is aan die tradisie waaruit jy kom en ’n bydrae in jou omgewing en die mense rondom jou lewer. Jy moet ’n vertrek- sowel as ’n mikpunt hê. Jy moet deel wees van die geskiedenis om dit te verander. Heyns is in die NG Afrikanertradisie gebore en sou ’n groot deel van sy lewe gebruik om dit uit te bou en te beskerm. Hierdie betrokkenheid moet lojaal sowel as krities wees. ’n Geroepe mens is meer as ’n produk van sy herkoms. Jy moet ’n visie hê oor waarheen alles gaan. Die Afrikaner moenie net gesien word soos wat hy of sy was nie, maar ook soos hy of sy kan wees. Hy of sy is deel van die Suid-Afrikaanse nasie en die mensdom as geheel (Williams 2006:17).

Vir Heyns was hervorming sinvolle verandering van binne uit waarin jy die mense en situasie wat jy wil verbeter moet oorreed. Daarom het hy by talle geleenthede die volgende gesê: In die kerk moet jy nie oordonder nie, maar oortuig. In die kerk dwing jy nie met verbale geweld of manipulering nie, maar deur oortuiging met woorde soos deur die Gees van God gedra. Die kerk verkondig om te oortuig en om van mense bondgenote in die geloof of medegelowiges wat in dieselfde juk trek, te maak (Strauss 2010:17, 61): Ecclesia reformata

Heyns as predikant, dosent, kerk- en gemeenskapsleier, dra ’n Neo-Calvinistiese gereformeerde twintigste-eeuse stempel, hoewel hy nie geskroom het om wyer te delf nie. Hiermee sou hy as ’n hervormer van sy tyd die terrein van die NGK en apartheid betree. Johan Heyns wou in die twintigste-eeuse probleemgeteisterde Suid-Afrika betrokke raak in aansluiting by die prinsipieel verankerde konstantes van die Hervorming van die sestiende eeu. Heyns wou die NGK as ’n apartheidskerk uitdruklik van binne reformeer en in die proses meningsvormers uit die samelewing oorreed. Serfontein (1982) merk op dat Heyns, ‘over the past few years emerged as probably the most important personality, and the key figure in the NGK, regardless of his official position’. As ’n skerpsinnige, ervare waarnemer val dit Serfontein op dat Heyns as persoon die vermoë het om mense om hom vir reformasie te beïnvloed. In hierdie tyd verwys Heyns na homself as ’n brugbouer. Hy loop die risiko dat ander mense met swaar stewels op hom trap. Vir Heyns is die pad van hervorming van binne, waardeur jy jou mense wil oorreed om saam te stem, en na buite, waardeur jy brûe probeer bou, nie maklik nie (Strauss 2002:229). A.B. du Toit noem Heyns ’n profeet van binne: in, met en onder sy mense. Volgens Du Toit het Heyns langs hierdie weg ‘uiteindelik’ meer beteken vir versoening, vrede en kerkeenheid in Suid-Afrika as kantlynkritici12 (volledige stelling in Williams 2006:401) Heyns ervaar ’n gebrek aan begrip en aanvaarding by buitelandse kerke en instansies, maar ook by binnelandse kerklikes (Williams 2006:231). Soms word hy van ’n dubbelpratery beskuldig – gemeet aan sy toehoorders hetsy in die binne- of buiteland. Nederduitse Gereformeerde kritici van binne meen om soms by Heyns ’n impulsiwiteit waar te neem wat meebring dat hy in die buiteland of by konferensies meer aanvaarbare standpunte inneem as dít waarop die NGK besluit het. Kobus Potgieter merk op: ‘Die Heyns wat skryf, is in die kol. Die Heyns wat praat, maak mense kwaad’ (woorde in Williams 2006:230).

Na die Hervormingsdaggetuienis 1980 tot met sy dood in November 1994 sou Heyns hom telkens in die middelpunt van die NGK en sy worsteling na ’n nuwe bedeling in Suid-Afrika bevind. Naas die Getuienis 1980 deur agt NG-dosente teenoor die NGK en ander kerke in Suid-Afrika oor apartheid, let ons op ander uitstaande gebeure rondom die NGK, Johan Heyns, apartheid en verandering: die koms van KS–1986 en KS–1990 met Heyns se insette, en Heyns in die ekumene of kontak van die NGK na buite.

Beyers Naudé

In ’n lewenskets maak Meiring ’n saak daarvoor uit dat Beyers Naudé uit ‘stoere Afrikanerouers gebore’ is (op 10 Mei 1915 te Roodepoort) (Potgieter 1994:20), na ’n Boeregeneraal vernoem is en 20 jaar predikant in die NGK was. Teen hierdie agtergrond het sy leierseienskappe daartoe gelei dat Naudé vroeg in sy loopbaan ‘leiersposisies’ in sinodes van die NGK beklee het (Meiring 2008:780). ’n Biograaf ag Beyers Naudé as ‘gebore om te lei’ (Potgieter 1994:20).

As een van agt kinders van die bekende NG predikant, ds. Jozua Naudé, word Beyers Naudé groot as Afrikaner aan die Wesrand binne ’n ‘piëtistiese en evangelies-calvinistiese’ tradisie.13 Sy vader word die eerste voorsitter van die AB in 1918 en Naudé word op 25-jarige ouderdom in 1940 as die jongste lid van die organisasie ingelyf (Potgieter 1994:20). Aangesien Naudé volgens eie getuienis nie ’n sterk teologiese student was nie, het hy die Bybelse steun van die NGK aan apartheid – vanaf sy studentejare rondom 1935 tot die Cottesloe-beraad van 07 tot 14 Desember 1960 – nie merkbaar bevraagteken nie.14 Sy onvermoë om teologies krities met die NGK se standpunt oor apartheid om te gaan, word op die Transvaalse Sinode van 1948 geïllustreer. Op hierdie sinode is Ben Marais ‘feitlik die enigste’ wat die voorstel dat die NGK apartheid skriftuurlik begrond, bevraagteken. In die vyftigerjare van die vorige eeu gee Naudé aandag aan die rassekwessie onder twee kritiese geeste, professore Ben Marais en Bennie Keet. Vanuit hierdie kringe laat Naudé geleidelik, maar versigtig, sy stem teen apartheid hoor. In 1957 word Beyers assessor of ondervoorsitter van die Transvaalse Sinode. Hy wil egter nie sy standpunt oor apartheid lug nie omdat die kerk en die AB hom kan verwerp (Potgieter 1994:23–26). In 1960 is Naudé een van die NGK van Transvaal se verteenwoordigers by die Cottesloe-beraad (Naudé 1995:48).

Dat Beyers Naudé ter wille van sy aanvaarbaarheid in die apartheidsgesinde NGK en die AB sowel as in apartheidkritiese ekumeniese kringe soms weersprekende houdings inneem en pragmatisties of geskik na omstandighede oorkom, blyk uit literatuur. Aan die konvenor van die WRK by Cottesloe, R. Bilheimer (WRK-Argief 280.38: Cottesloe Contents Confidential, 3) sê Naudé voor die beraad dat die meerderheid gekleurdes tevrede is met hulle lewensomstandighede. Hulle ervaar egter ’n gebrek aan kanale om hierdie tevredenheid te verwoord. Hulle is tevrede met die gewraakte paswette, hoewel daar ruimte vir verbetering is. By geleentheid deel hy Bilheimer waarskynlik vertroulik ook mee dat hy ’n liberale NGK-predikant is en die kerk sal moet verlaat (Luckhoff 1978:48). Dit wil dus voorkom asof Naudé in hierdie stadium aanvaar dat verset teen apartheid nie met ’n bediening in die NGK versoen kan word nie. Die implikasie hiervan is dat steun aan apartheid – Naudé se selferkende gebrek aan kennis van gereformeerde kerkreg kon hom hierin beperk het – vir hom ’n versinde vereiste vir predikantwees in die NGK is. Om die NGK in die apartheidsera van binne te verander, is nie vir hom ’n opsie nie. In die sestigerjare kies hy op ’n piëtisties evangeliese wyse kritiese konventikels, of kringe, binne die gevestigde kerk, of ’n vereniging buite die kerk, om oor kerklike sake soos die ekumeniese verhoudings tussen kerke te gesels – die taak wat Naudé later vir die CI voorsien (De Jong 1987:246; Potgieter 1994:140).

Die Sinode van die NGK in Suid-Afrika (Kaapland) en die Transvaalse Sinode van die NGK, die NGK as enigste oorblywende lede van die WRK in 1960, verwerp die kritiek van Cottesloe op apartheid.15 Hierteenoor identifiseer Naudé openlik met hierdie besluite. Daaroor word hy egter nie deur NG vergaderings getug nie. Boonop word hy in 1963 met ’n gerieflike meerderheid tot voorsitter van die Suid-Transvaalse Sinode verkies. Naudé verenig 209 van die 376 stemme op hom (Naudé 1995:65; Potgieter 1994:83). Sy steun aan Cottesloe beteken nie dat Naudé se aanvaarbaarheid onder sinodegangers in die NGK verflou nie. ’n Anti-apartheidshouding is nie ’n tugwaardige sonde in die NGK nie (Nederduitse Gereformeerde Kerkorde [NGKO] 1964:12; 1986:21); nie in die sestigerjare vir Naudé nie, en nie in die tagtigerjare vir Heyns nie.

Pro Veritate en die Christelike Instituut buite die kerk

Op 15 Mei 1962 begin Beyers Naudé ’n onafhanklike godsdienstige blad, Pro Veritate. Omdat die stigters niemand kry om die redakteurskap te aanvaar nie, neem Naudé die taak op hom. In die eerste uitgawe op 15 Mei 1962 sê hy dat die blad kerklike en geestelike probleme uit die Skrif in oënskou wil neem. Pro Veritate wil ’n ekumeniese blad vir Protestantse Christene wees wat hulle deur gesprek tot ’n dieper eenheid lei (Pro Veritate 1962:3). Ondanks kritiek deur tydskrifte in die NGK (Die Kerkbode en Voorligter), die Ring van Linden waaronder Naudé in Aasvoëlkop ressorteer en predikante en individue, staan Naudé by sy nuwe taak (Potgieter 1994:81). Potgieter wys daarop dat Naudé met ekumeniese studiekringe in die sestigerjare en Pro Veritate ekumenies tipies piëtisties na kerkies binne ’n kerk beweeg. Die Suid-Transvaalse Sinode van 1963 raai lidmate af om aan Pro Veritate deel te neem. Op die laaste dag van die sinode word Naudé versoek om uit Pro Veritate te bedank – ’n versoek waaraan hy nie voldoen nie (Naudé 1995:66; NGK Suid-Transvaal 1963:549–551; Potgieter 1994:84). Vir Naudé (1995:66) is sy redakteurskap van Pro Veritate nie in stryd met die belydenis en taak van die kerk nie.

Met die stigting van die CI op 15 Augustus 1963 in Johannesburg, vertrek die voertuig waarmee Naudé sy eintlike aksie teen die NGK se teologiese en morele ondersteuning van apartheid wou loods. Naudé wou met die CI die pad wat Cottesloe volgens hom gekies het, volg.16 Die CI word ’n ekumeniese organisasie van individue wat poog om die eenheid van die kerk en die koningskap van Christus, namens (let wel) kerke te realiseer (Naudé 1995:64, 66–67). Die afwysende reaksie van die NGK-Sinode van Transvaal in 1961 op Cottesloe word deur Naudé beskou as besluite wat die NGK ‘op ’n pad van byna volkome kerklike en ekumeniese isolasie’ plaas – isolasie binne en buite Suid-Afrika. Die predikant van Aasvoëlkop vrees ook dat die NGK sy profeties kritiese roeping – ten opsigte van apartheid – teenoor die ‘huidige of enige ander regering vir baie jare nie kan vervul nie’ – ’n roeping waarin die NGK deur die sogenaamde ‘verborge magte’ (of bedoel Naudé sinistere magte?) wat haar beheer, gestrem word (Naudé 1995:59).

Twee waarnemings spruit uit hierdie bewerings van Naudé: Die eerste is dat Naudé die ekumene van die NGK kerklik ideologies beperk tot die WRK en hulle wat met hom assosieer. As die NGK haar van die WRK losmaak, is die kerk na bewering geïsoleer. Dit is asof Naudé aan die NGK se spontane assosiasie met gereformeerde kerke in die Nederlands gereformeerde belydenistradisie verbygaan. Wat hom betref, is gereformeerde ekumene nie noemenswaardig of binne die hoofstroom of WRK nie. Hierteenoor besluit die eerste Algemene Sinode van 1962 sonder slag of stoot om lid van die GES te word (NGK 1962:246). Die tweede Algemene Sinode (1966) betree die PWA met 325 stemme teenoor 66 (NGK 1966:526). Boonop versoek dieselfde Algemene Sinode dat die PWA nie in die WRK opgaan nie (NGK 1966:528). Vanuit dieselfde ekumeniese staanplek vra die Breë Moderatuur van die NGK (dit word in 1990 die Algemene Sinodale Kommissie of ASK) (NGK 1990:461) in 1968 dat die Kongregasionalistiese Kerke nié in die PWA opgeneem word nie (Strauss 1989:159). Naudé assosieer hom egter nie met ’n gereformeerde benadering in die ekumene nie.

Die tweede waarneming is dat Naudé die profetiese stem van die NGK aan die Suid-Afrikaanse Regering versmal tot kritiek op apartheid en vergeet dat latere sinodes die besluite van vroeëre sinodes kan hersien. Hy vergeet dat daar kerkregtelik geen verhindering vir reformasie op hierdie gebied is nie. Ten opsigte van verborge magte wat die NGK sou beheer, toon navorsing dat hierdie klag van Naudé na sy bedanking uit die AB op 14 Maart 1963 nie deur die bronne wat hy aan die Sunday Times gegee het, gestaaf word nie. Die verhaal van Naudé se vertrek uit die AB speel tussen Maart en November 1963 af. Hieruit blyk dit dat hy meer as AB-dokumente, wat op invloed van die NGK kan dui, aan die Sunday Times verskaf het. Nadat die stukke wat Naudé aan die Sunday Times gegee het in April 1963 gepubliseer word, ontken hy nog in ’n brief aan die Uitvoerende Raad van die AB op 03 Junie 1963 dat hy sy belofte van vertroulikheid verbreek het (Strauss 1990:362–364).

’n Waterskeidingsjaar

Beyers Naudé se redakteurskap van Pro Veritate in 1962, sy aanvaarding van die direkteurskap van die CI en gevolglike verlies van predikantstatus in die NGK in September 1963, sowel as ’n vertrouensbreuk met Afrikaners in die AB nadat sy lidmaatskap van hierdie organisasie met betwyfeling van sy integriteit as ’t ware in die pers beëindig is, maak van 1963 ’n waterskeidingsjaar vir Naudé se verdere invloed in die meer algemene sinodale verband van die NGK. Cottesloe, Naudé en die CI word in die NGK as prinsipieel vervreemd en persona non grata geëtiketteer.

Ironies genoeg wou die CI volgens sy segsman, Naudé, nie in kompetisie tree met die ekumene van die NGK, die belydenis van kerke betwyfel, of hulle werk oorneem nie. Tog betree die CI die ekumeniese terrein van kerke as sy taak sonder ’n rigtinggewende belydenis – die CI werk in die algemeen Protestants17 – en sonder die sanksie van enige amptelike kerkvergadering (De Gruchy 1979:106). Tipies piëtisties pak die CI kerklike werk aan sonder verantwoording aan ’n kerk. Vir die CI gaan dit nie om die geloofswaarhede van die heilige algemene Christelike kerk soos verteenwoordig in die tradisie van ’n kerk en verwoord in die Apostoliese Geloofsbelydenis nie, maar individue wat meen om die waarheid by die nuwe groepie enersdenkendes te ontdek (Potgieter 1994:91). De Gruchy wys op ongemak by die tradisionele Engelse kerke in Suid-Afrika sowel as ’n wantroue in die CI omdat dit sonder toestemming die werk van die kerke probeer oorneem (De Gruchy 1979:106). De Gruchy (1979:107–109; cf. Naudé 1995:107) is positief oor die rol van die CI om die Afrika Onafhanklike Kerke te help, sy oorheersing van die Study project on Christianity in an apartheid society I en II (Spro-Cas) met kritiek op die ekonomiese strukture in Suid-Afrika, sy morele hulp aan die Swart Bewussynsbeweging in Suid-Afrika met sy rassistiese ondertone en steun vir die belydenisbeweging of ‘Bekennende Kirche’ teen die nasionaal-sosialisme in Nazi-Duitsland. Later erken Naudé (1995:93) dat hy swart jongmense wat in die visier van die Suid-Afrikaanse Regering was, gehelp het ‘om uit die land te vlug’ en die verbode of onwettige African National Congress (ANC) om hulle literatuur in Suid-Afrika te versprei. Wanneer Naudé terugkyk na 1995, oordeel hy dat die CI fouteer het – ‘Een van die ernstigste foute wat ons gemaak het’, is om nie die NGK tot gesprek uit te nooi nie. Die CI was egter oortuig dat die weerstand teen die CI in die NGK so sterk was dat ‘dit eintlik nie sin sou hê nie’.

Naudé (1995:58) loods sy verset teen die NGK as ’n apartheidskerk deur die CI as ’n uitvloeisel van Cottesloe, gebruik ’n piëtistiese teenoor ’n hervormende metode en akkommodeer genoemde anti-apartheidsaksies met hulle ongereformeerde etiese vertrekpunte. Dit vind plaas omdat Naudé met ’n ligte teologiese kam werk en in sommige anti-apartheidsinstellings bondgenote vind wat nie lewensbeskoulike medestanders is nie. Die gevolg is dat Naudé en die CI Christengelowiges saamsnoer rondom ’n anti-apartheidsingesteldheid en nie positiewe kernwaarhede van die Christelike geloof nie. Hy vind nie aanklank by die Neo-Calvinistiese, gereformeerde ekumene wat, soos aangedui, op die kruin van die golf in die NGK van die sestigerjare vaar nie (Strauss 1989:159).

Op 06 September 1963 maak die NGK se Kommissie van Eksaminatore bekend dat Beyers Naudé nie sy ‘status’ as predikant in die NGK kan behou nie omdat die Kerkorde dit onmoontlik maak. Die Kommissie motiveer nie sy besluit nie. Die werk wat die aansoeker buite die kerk beoog, moet volgens die Kerkorde met die verkondiging van die Woord in ‘direkte verband’ staan en die NGK moet die ‘vrye vereniging’ waarin hy wil werk, steun (Strauss 1990:359). Na sy beweerde ‘nagte van intense gemoedsworsteling’ – Naudé neem egter gereeld die ‘breek met’-opsie as hy nie saamstem nie – kondig hy op Sondag 22 September 1963 in die NGK Aasvoëlkop aan dat hy sy predikantstoga verruil vir die direkteurskap van die CI. Sy teks is Handelinge 5:29: ‘Ons moet God meer gehoorsaam wees as die mense.’ Vir Naudé lê sy keuse nie tussen gemeente- en ander Christelike werk nie; nie tussen die kerk en die CI met sy Pro Veritate nie. Die keuse lê tussen geloofsgehoorsaamheid (die CI) of onderworpenheid aan kerklike gesag (die NGK). As hy laasgenoemde – met haar Kerkorde – aanvaar, sal hy sy aansien behou, maar sy siel verloor (Naudé 1995:68–69). In die sewentigerjare antwoord Naudé (1995:99) op ’n vraag in ’n hof dat sy beslissing in 1963 om die predikantsbediening te verlaat die ‘moeilikste besluit van my lewe was’.

Met sy profetiese stem teen die NGK en apartheid sou Naudé voortaan buite die strukture van hierdie kerk – gemeente- en kerkverband – werk. Hierdie opsie beskou hy as geloofsgehoorsaamheid teenoor Bybelsvreemde kerkordelike gesag in die NGK wat, in Naudé se begrip, nie op dieselfde vlak lê as sy CI-roeping nie. Die sielevrede wat hy beleef deur die predikantsbediening in die NGK vir die direkteurskap van die CI te verruil, bevestig vir hom sy oortuiging. Op hierdie punt staan Naudé nie by Heyns se ‘kritiese solidariteit’ waarin jy mense om jou probeer oortuig nie. Hy het nie dieselfde vertroue (en werkbare kennis?) in en van hervorming van binne wat Heyns reeds in die Getuienis 1980 voorstaan nie.

’n Kloof met die Nederduitse Gereformeerde Kerk

As Naudé in 1995 terugkyk op hierdie geskiedenis, oordeel hy dat die CI ’n ‘ernstige’ fout gemaak het om nie met die NGK in gesprek te tree nie. Na 1963 het die NGK in gemeentes en veral in kerkverband, sy rug op die CI gedraai en haar van die Instituut gedistansieer. Die CI was oortuig dat die weerstand in die NGK daarteen so sterk was dat gesprek nie sin gehad het nie. Nog ’n fout van die CI, volgens Naudé, was om die Onafhanklike Kerke te help sonder ’n ‘genoegsame, deeglike’ studie van hulle herkoms, kultuur en behoeftes. Die gevolg was dat die CI net ’n klein deel van hierdie ‘Kerke kon betrek’. Die historiese kerke moet meer doen om te weet waarom hierdie kerke so vinnig groei en om ’n verhouding met hulle te bou. Nog ’n fout van die CI wat Naudé betref, was dat hulle die swart Christene in Suid-Afrika (ongekwalifiseerd) nie van die begin af betrek het nie. Swart mense, so het Naudé verstaan, wou aanvanklik nie deel van die CI word nie omdat hulle Naudé met sy herkoms as NGK-lidmaat en Afrikaner nie vertrou het nie. Die situasie het verander toe die Algemene Sinode van 1966 die CI as ’n ‘dwaalrigting’ verwerp het. Swart mense – Naudé aanvaar naïef dat alles wat Christelik en swart is, anti-apartheid is – het toe besef dat Naudé nie meer sy Afrikanerkleed binne die NGK dra nie (Naudé 1995:93–94).

Nie net sou Beyers Naudé die NGK en apartheid van buite probeer verander na Sharpeville en Cottesloe in 1960 nie, hy sou ook stuit op ’n emosionele laertrek van Afrikaners rondom premier H.F. Verwoerd (1958–1966) en apartheid – ’n laer teen kritiek op apartheid as die beweerde sinvolle weg tot oorlewing vir Afrikaners teenoor kritiese buitestanders, met geen begrip vir die Nasionale Regering, NGK en Afrikaners – in georganiseerde kultuurverband – nie (WRK-Argief 42.3.014/ 2, 3; Strauss 1989:151–154; 1994:208–212). Naudé met sy anti-apartheidshouding en steun aan anti-apartheidsgesindes het dikwels met instansies geassosieer net omdat hulle teen apartheid hande gevat het. Dat die NGK haar van Naudé geïsoleer het en dat die ‘dwaalrigtingbesluit’ deur die Algemene Sinode in 1974 gewysig moes word om die emosionele en onkerklike trant daarvan te skrap – dwaalleraars in ’n gereformeerde kerk word immers getugtig en dit is hier nie eers geïmpliseer nie (NGKO 1974:15; 1990:16) – het die kloof tussen die CI, Beyers Naudé en die NGK verdiep.

Vir meer as 30 jaar (1963–1994), was daar gerapporteerde kontak tussen individuele lidmate en gemeentes in die NGK en Naudé (Strauss 2013:18), maar nie deur meerdere vergaderings (ring, sinode en Algemene Sinode) nie. Daar bestaan nie genotuleerde besluite van NG sinodes (NGKO 1964:5 artikel 18 soos gehandhaaf) wat spruit uit gesprekke met Naudé nie. Naudé se direkte en indirekte invloed op die NGK in algemene sinodale verband of op die Algemene Sinode om apartheid te repudieer, is nie waarneem- of meetbaar nie. Deur sy pos as predikant in die anti-CI-klimaat in die NGK te verlaat, het Naudé sy kanse om na meerdere vergaderings afgevaardig te word, drasties verminder. Daar bestaan van 1963 tot 1994 geen besluite van die Algemene Sinode van die NGK as haar stem in algemene sinodale verband18 wat na Naudé terug te voer is nie. Naudé se invloed op die NGK om in 1986–1998 deur die Algemene Sinode van apartheid af te stap – soos gebeur het – is kerkhistories nie aantoonbaar nie (KS–1986:52; KS–1990:39–40; Strauss 2013:43–46).

Op 20 Oktober 1994 word Beyers Naudé die eerste keer sedert 1962 by die Algemene Sinode met sigbare hartlikheid verwelkom. In sy verwelkoming verwys die voorsitter na ’n besluit wat die vorige dag oor NG kritici van apartheid in die verlede geneem is. Die besluit is in ’n algemene, nie-spesifieke trant. Dit verwys na lidmate, ampsdraers en kerkvergaderings – dit word nie gekwalifiseer nie – wat ’n duidelike stem in die NGK téén apartheid laat hoor het. Die Algemene Sinode erken met spyt dat die NGK in die verlede op ’n ‘onbarmhartige en onsaaklike wyse’ teenoor sulke persone opgetree het (NGK 1994:501). Die algemene trant van hierdie besluit, sonder name en situasies, toon die gesindheid van die sinode, maar bring nie alles in die anti-apartheidsoptrede van ‘sulke persone’ in die reine nie. Inteendeel, die besluit ruim nie die omstredenheid van Naudé, soos tydens die vergadering beweer, uit die weg nie. nie. Naudé moes gevolglik sonder ’n uitgesproke meerderheidsbesluit van die Algemene Sinode met die troosprys van die voorsitter tevrede wees wat hom op eie inisiatief om verskoning gevra en by die besluit betrek het (Strauss 2013:18). Gaum verskil egter van hierdie weergawe van gebeure. Hy noem hierdie besoek van Naudé, wat nie gevra is om te reageer nie, as ’n teken dat die Algemene Sinode – hy bedoel waarskynlik as ’n instansie – met hom versoen het (NGK 1994:516; Strauss 2013:16). Hierdie instansie is egter nie op sy steun aan hierdie gedagte getoets nie. Dit sou deur ’n stemming moes plaasvind.

Naudé is versoenend op die sinode verwelkom, maar sy anti-apartheidsinvloed op die NGK en werksmetodes teen apartheid is nie uitgepluis of oorweeg en deur die Algemene Sinode, as die relevante NGK vergadering, vir gebruik in kerkgeskiedenisboeke gelaat nie.

Johan Heyns en die Hervormingsdaggetuienis

Johan Heyns se hervormende rol van binne die NGK teen hierdie kerk se steun aan apartheid is ’n lywige verhaal wat vanuit talle hoeke geboekstaaf is (Williams 2006:1–472). Vir die doeleindes van hierdie artikel beperk ons ons tot drie uitstaande gebeure soos aangedui. Dit gaan om Heyns se pogings op Algemene Sinodale vlak as die NGK se mees algemene vergadering wat namens die hele kerkverband praat (NGKO 1964:8–9; 2013:10–11): Johan Heyns en die Hervormingsdaggetuienis 1980, KS–1986 en KS–1990, en Heyns in die ekumene of tussenkerklike verhoudings van die NGK soos hanteer deur die Algemene Sinode.

Willie Jonker vertel dat Johan Heyns hom ‘op ’n dag in Oktober 1980’ uit Pretoria gebel het met die idee dat ’n ‘groepie van ons’ op Hervormingsdag 31 Oktober 1980 getuienis lewer oor die kerklike situasie in die apartheidsera (Jonker 1998:157–159). Heyns het met enkele kollegas in Pretoria daaroor gepraat en vra Jonker om dit op Stellenbosch te doen. Daarna is ’n ‘kort getuienis geformuleer en wêreldkundig gemaak’. Die eindredakteur, Hennie Rossouw, was ’n Stellenbosse filosoof en medeondertekenaar. Vir Jonker was die Getuienis ’n algemene oproep tot reformasie deur die kerk in Suid-Afrika met haar gestolde apartheidsbeleid – ’n oproep in die gees van Hervormingsdag gekoppel aan Luther se 95 stellings op die deur van die Kasteelkerk in Wittenberg, Duitsland op 31 Oktober 1517 (Jonker 1998:158; Kuiper 1995:163). In die openbare debat wat volg, word die Getuienis geregverdig deur argumente soos dat die NGK, soos die gestolde apartheidsbeleid, aan ’n innerlike lamheid oor die saak ly en dat duisende bekommerd is oor die nood en polarisasie daarvan onder Christene in Suid-Afrika (KKA K17 – Rapport 1981). Vanuit ’n Potchefstroomse reformatoriese agtergrond reageer koerantman, Willem de Klerk, met die beeld dat die Getuienis ’n ‘visarendjie’ is wat sy lesers oproep tot grondige besinning. Met die Getuienis beweeg ‘ons politiek terug na die wortels van lewensbeskouing’ (Kaapse Kerkargief [KKA] PPV 1315 – Rapport 1980).

Die Hervormingsdaggetuienis 1980 vra (KKA PPV 1375 – Die Kerkbode 5/11/1980a:605), tipies van Heyns, die kerke in Suid-Afrika om owerheid en samelewing van ’n getuienis te bedien oor ‘die beloftes en eise van Gods Koninkryk vir die sosiale werklikheid’. Dit is die strukture en verhoudings in die samelewing. Die hele samelewing as ’n instelling beman deur mense, moet onder die heerskappy van die Bybel kom. Hierdie boodskap werk teen vervreemding en frontvorming onder Christene in Suid-Afrika. Frontvorming rondom apartheid stimuleer die verdeeldheid van die kerk en maak die gemeenskap van die gelowiges tot skande.

Volgens die Hervormingsdaggetuienis benodig Suid-Afrika ‘wedersydse vertroue en aanvaarding’ tussen die ‘bevolkingsgroepe’ as ’n grondslag vir ’n vreedsame samelewing. Owerheid en onderdaan moet die ‘bestaande orde … hervorm, sodat aan elke mens die leefruimte gegun word waarin hy as beelddraer van God tot sy reg kan kom’. Verskille tussen die groepe in Suid-Afrika moenie deur vooroordele, eie belang en selfhandhawing tot ’n ‘bron van botsing gedemoniseer’ word nie. God se herskeppingsgenade kan ontgin word vir die verryking en steun van mekaar in die een liggaam van Christus. Vir die Getuienis – en Heyns (1989:73–75) – gaan dit in die hervorming van die bestaande orde om die vestiging van liefde, geregtigheid en menswaardigheid in strukture, groepe en individue – ’n benadering wat later in KS–1986:53 weerklink.

Die bestaande orde moet hervorm word. Hoewel Heyns nie die eindredakteur van die Getuienis is nie, is sy oortuigings as inisieerder daarvan hoorbaar in talle frases (Heyns 1989:71). In ’n brief in Die Kerkbode van 17 Desember 1980 verduidelik hy nogeens die doel van die Getuienis. Hy beklemtoon die rol van ’n reformerende kerk in die hervorming van die hele samelewing – die Getuienis se ‘bestaande orde’. Die kerke moet besin oor die onbeperkte ontwikkeling van die lewensomstandighede van alle mense. Hulle moet meewerk aan ’n ruimte waarin almal hulle taak as volle mens – reformatories antropologies beskou – kan uitoefen (KKA PPV 1375 – Die Kerkbode 5/11/1980b:792).

Heyns maak dus erns met die hervorming van die bestaande orde uit ’n kerklike hoek. In sy hervorming van kerk en samelewing rondom apartheid, streef Heyns – van binne – ook na ’n hervorming van die houding van die NGK as gereformeerde kerk oor die saak. Agterna beweer hy dat die NGK nie tot die apartheidkritiese KS–1986 en KS–1990 sou gekom het as die Getuienis nie die klimaat help skep het nie. Die Hervormingsdaggetuienis was die saad van ’n grondige beleidsverandering in die NGK (Heyns 1989:71; Hofmeyr 2012:448; Williams 2006:169, 171, 213, 231) en Johan Heyns die inisieerder daarvan (Jonker 1998:157).

Johan Heyns speel ook ’n sleutelrol in die opstel en uitdra van KS–1986.

Johan Heyns, KS–1986, KS–1990 en ekumene

Heyns sou later opmerk dat ’n hervormer van binne dikwels as ’n brugbouer optree. Na binne moet jy ’n brug bou na jou eie mense wat jy wil oorreed, en na buite moet jy ’n brug bou vir begrip en samewerking. Nadat die Getuienis 1980 van Heyns vir talle NG lidmate ’n verligte Afrikaner gemaak het, was hy en Willie Jonker nie aanvaarbaar op die Algemene Sinode van 1982 nie. Heyns word op hierdie sinode as ’n sittende lid van die Algemene Moderatuur uitgestem. Hyself noem die vergadering ’n reaksionêre sinode wat walgooi teen elke ‘poging tot hervorming’. Dit was asof die NGK in die laaste loopgraaf van steun aan apartheid lê. Vir meningsvormers op hierdie sinode was Heyns ongewens (Van der Watt 1988:7; Williams 2006:185). Sy eerste openlike kritiek teen die NGK in sy steun aan apartheid soos verwoord in die Getuienis, was nog nie twee jaar oud nie. Soos hervormers voor hom, ervaar Heyns in 1982 verwerping. Tog sou hierdie gebeure nie sy pogings as hervormer van die steun aan apartheid in die NGK beëindig nie.

Die Algemene Sinode van 1982 besluit om Ras, volk en nasie … van 1974 ‘indringend’ te hersien. Hierdie sinode kan dalk walgegooi het teen elke hervormingspoging, maar hiermee maak hy ’n belangrike deur oop. Heyns se doel om die NGK oor apartheid van binne te hervorm, vind in die studiekommissie vir die hersiening van Ras, volk en nasie … ’n middel wat waarskynlik die NGK se laaste kans is om ’n worstelende, strompelende apartheid kerklik, profeties en krities te begelei. Heyns word as dogmatikus op die kommissie deur die Kommissie vir Kommissies voorgestel en deur die sinode benoem. Vir die sinode van 1982 was Heyns hiervoor die beste van enkele opsies (NGK 1982:97, 1182, 1183, 1203). Só kry hierdie bestrede hervormer dit reg dat meningsvormers op hierdie sinode aan hom nog ’n strategiese geleentheid bied om sy insette op die algemene sinodale vlak van die NGK te lewer.

’n Vergelyking tussen KS–1986 en KS–1990 en gepubliseerde standpunte van Johan Heyns toon later dat ongeveer 40 paragrawe van beide direk na hom teruggevoer kan word. Kommissielede getuig ook van Heyns se beslissende formulerings van KS–1986 in sy geheel. Ras, volk en nasie … is werklik ‘indringend’ hersien (Williams 2006:196–198, 405–406). Heyns se insette van binne of hervormende bydrae kan kerkhistories dus aan KS–1986 sowel as sy hersiene opvolger, KS–1990, gemeet word.

KS–1986 verwerp ’n gekwalifiseerde apartheid of, soos dit genoem is, die slegte kant van apartheid. KS–1986 verwerp die ‘hantering van apartheid as ’n politieke en maatskaplike sisteem wat mense veronreg en een groep onregmatig bo ’n ander bevoordeel …’ Hierdie hantering bots met liefde, geregtigheid en menswaardigheid wat ook in die Getuienis uitstaan ([outeurskursivering]; KS–1986:52). Die gebruik van die woordjie veronreg sonder die ‘t’ lei direk na Heyns.

In dieselfde trant verwys KS–1990 na:

[D]ie beleid van apartheid as politieke sisteem in die praktyk … wat … so … begin funksioneer het dat die grootste deel van die … bevolking dit ervaar het as ’n onderdrukkende sisteem wat deur gedwonge skeiding … een groep onregmatig bo die ander bevoordeel. So het dit die menswaardigheid van die medemens aangetas … in stryd … met die beginsels van liefde en geregtigheid. ([outeurskursivering]; KS-1990:39–40)

Johan Heyns se aanvaarding deur die Algemene Sinode word bevestig deur sy verkiesing tot voorsitter of moderator van die sinode van 1986. Hierdie posisie, sowel as sy bepalende aandeel aan KS–1986, sou van hom in die volgende paar jaar die ‘natuurlike’ draer van KS–1986 en KS–1990 maak (Williams 2006:298). Heyns wat die NGK wou hervorm, is opnuut in die binnekringe verwelkom. Intussen sou Naudé fisiek en profeties buite die NGK bly: onhoorbaar oor die beslissende KS–1986 en KS–1990 sowel as in 1994 met die oorgang na ’n demokrasie in Suid-Afrika. Sy besoek aan die Algemene sinode van 1994 verander nie hieraan nie.

In die lig van bogenoemde, met Heyns as ‘Meneer NG Kerk’, sou hierdie dogmatikus deel in die gebeure wat wêreldwyd as die NGK na apartheid in Protestants gereformeerde ekumene opgeneem word (NGK 1998:508–510, 2002:571–572). ’n Uitstaande voorbeeld is die GER van 1992.

Omdat die ekumene van die NGK met ander kerke in die binne- sowel as die buiteland deur die Algemene Sinode met sy Algemene Sinodale Kommissie (ASK) gevoer word, beweeg Heyns ook na 1986 op hierdie akker. Omdat hy nie by twee agtereenvolgende Sinodes voorsitter of moderator kon wees nie, word hy by die Algemene Sinode van 1990 ondervoorsitter of assessor. Dit beteken dat hy die NGK verteenwoordig by die GER in 1992 – ’n GER wat dit vir die NGK moontlik maak om, ten spyte van laasgenoemde se apartheidsverlede, opnuut volledig lid te wees. In ’n eie formulering veroordeel die GES alle vorms van apartheid as sonde. Heyns en sy medeafgevaardigdes stem saam. Die GER en die NGK was oor apartheid nou in dieselfde stal. Hierdie besluit word egter nie in die verslag van die ASK aan die Algemene Sinode opgeneem nie, maar op hierdie wyse kontinueer die NGK haar lidmaatskap van die GER (NGK 1994:429; Strauss 2002:233). Daaroor is rus en vrede in die mees algemene verband van die NGK. Na Heyns se dood aanvaar die Algemene Sinode van 1998 op dieselfde wyse die ‘joint declaration’ van die WBGK teen apartheid: die Algemene Vergadering van die WBGK in 1997 formuleer ’n ‘joint declaration’ en die Algemene Sinode van 1998 van die NGK aanvaar dit. Daarmee onthef die WBGK die NGK van haar skorsing wat uit 1982 dateer (Strauss 2018:138).

Slot

Johan Heyns en Beyers Naudé was profete teen die steun van NGK in algemene sinodale verband aan apartheid. Heyns werk vir meer as ’n dekade (1980–1994) van binne aan ’n hervorming of verandering van hierdie steun en Naudé bestry apartheid na Cottesloe in 1960 van buite die NGK deur veral die CI. Die gevolge of effek van Naudé se invloed op die NGK is kerkhistories onnaspeurbaar, terwyl Heyns op meer as drie uitstaande punte meetbare insette vir hervorming lewer.

Moontlik dui Heyns se raaiselagtige sluipmoord op 05 November 1994 daarop dat sy hervormings diep ingedring én ontstel het en, in samehang met sy insette op algemene sinodale vlak, as ’n kerklike metode van verandering effektief was. Hierdie fase in Heyns se lewe dui daarop dat die konsekwensies van die Hervorming van die sestiende eeu, soos vertaal deur Heyns in sy Neo-Calvinisme, ook vir kritiek op die NGK in haar steun aan apartheid vertaal kon word.

Erkennings

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydrae

P.J.S. is die enigste outeur betrokke by die skryf van dié artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Die artikel het geen befondsing van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore ontvang nie.

Data beskikbaarheidsverklaring

Datadeling is nie van toepassing op die artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in die artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeur nie.

Verwysings

Bingle, H., 2008, ‘Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO)’, in F. Gaum (red.), Christelike Kernensiklopedie, p. 891, Lux Verbi, Wellington.

Botha, N.A., 2008a, ‘Belydenis van Belhar’, in F. Gaum (red.), Christelike Kern-ensiklopedie, pp. 101–102, Lux Verbi, Wellington.

Botha, W.J., 2008b, ‘Heyns, Johan Adam 1928–1994’, in F. Gaum (red.), Christelike Kern-ensiklopedie, pp. 457–458, Lux Verbi, Wellington.

Bouwman, H., 1985, Gereformeerd Kerkrecht II, De Groot Goudriaan, Kampen.

Cloete, G.D. & Smit, D.J. (reds.), 1984, ’n Oomblik van waarheid, Tafelberg, Kaapstad.

De Gruchy, J.W., 1979, The church struggle in South Africa, David Philip, Cape Town.

De Jong, O., 1987, Geschiedenis der kerk, Callenbach, Nijkerk.

Durand, J.J.F., 1984, Belhar – krisispunt vir die NG Kerke, in G.D. Cloete & D.J. Smit (reds.), ’n Oomblik van waarheid, pp. 123–134, Tafelberg, Kaapstad.

Gaum, F., 2018, ‘Heyns en Naudé – Binne of buite die mure?’, Die Kerkbode, besigtig 15 October 2018, vanaf https://kerkbode.christians.co.za/2018/10/15.

Heyns, J.A., 1977, Die Kerk, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Heyns, J.A., 1989, Teologiese etiek deel 2/2, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Hofmeyr, J.W., 2012, ‘Die Afrikaanse kerke in die twintigste eeu’, in F. Pretorius (red.), Geskiedenis van Suid-Afrika. Van voortye tot vandag, pp. 443–452, Tafelberg, Kaapstad.

Jonker, W.D., 1998, Selfs die kerk kan verander, Tafelberg, Kaapstad.

Kaapse Kerkargief [KKA], K17, PPV 1315, PPV 1375.

Kestell, J.D. & Van Velden, D.E., 1982, Die Vredesonderhandelinge, Human & Rousseau, Kaapstad.

Koffeman, L.J., 2009, Het goed recht van de kerk, Kok, Kampen.

KS–1986 en KS–1990, Kerk en Samelewing – ’n Getuienis van die Ned.Geref. Kerk, Pro Christo, Bloemfontein.

Kuiper, B.K., 1995, The church in history, CSI Publications, Grand Rapids, MI.

Luckhoff, A.H., 1978, Cottesloe, Tafelberg, Kaapstad.

Meiring, P.G.J., 1994, ‘’n Huldigingsartikel: Johan Heyns - Man van die kerk’, Verbum et ecclesia 15(1), 177–184. https://doi.org/10.4102/ve.v15i1.1090

Meiring, P.G.J., 2008, ‘Naudé, Christiaan Frederik Beyers (Beyers)’, in F. Gaum (red.), Christelike Kernensiklopedie, pp. 780–781, Lux Verbi, Wellington.

Naudé, C.F.B., 1995, My land van hoop. Die lewe van Beyers Naudé, Human & Rousseau, Kaapstad.

Nederduitse Gereformeerde Kerk [NGK], 1962, 1966, 1982, 1994, 1998, 2002, Handelinge van die Algemene Sinode, s.l., s.n.

Nederduitse Gereformeerde Kerk [NGK] Suid-Transvaal, 1963, Handelinge van die Sinode, s.l., s.n.

Nederduitse Gereformeerde Kerkorde [NGKO], 1964, Kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, NG Kerk-Uitgewers, Pretoria.

NGKO, 1974, 1986, 1990, Kerkorde, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

NGKO, 1998, Die Kerkorde, Hugenote Uitgewers, Wellington.

NGKO, 2013, Die Kerkorde, s.l., s.n.

Potgieter, J., 1994, ‘Die verhouding tussen Beyers Naudé en die Ned.Geref. Kerk – ’n ekklesiologiese verantwoording’, DTh-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.

Pro Veritate, 1962, 15/5/1962:3.

Serfontein, J.H.P., Apartheid change and the NG Kerk, Taurus, Emmarentia.

Smit, D.J., 1984, ‘Wat beteken status confessionis?’, in G.D. Cloete & D.J. Smit (reds.), ’n Oomblik van waarheid, p. 22, Tafelberg, Kaapstad.

Strauss, P.J., 1983, ‘Die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Gereformeerde Kerke in Nederland: betrekkinge rondom die Suid-Afrikaanse rassevraagstuk’, DTh-proefskrif, Universiteit van Pretoria.

Strauss, P.J., 1989, ‘Ekumene gestol?’, in J.A. Du Rand & J.S. Kellerman (reds.), Diensknegte van die Koning, pp. 146–162, Pro Christo, Bloemfontein.

Strauss, P.J., 1990, ‘Die Afrikaner-Broederbond se beweerde beïnvloeding van die Ned.Geref. Kerk in sy optrede teen die Christelike Instituut’, NGTT 31(3), 357–370.

Strauss, P.J., 1991, ‘Beginsel of metode? Die Ned.Geref. Kerk en apartheid na Cottesloe’, NGTT 32(3), 436–446.

Strauss, P.J., 1994, ‘Die Algemene Sinode van 1966 van die Ned.Geref. Kerk en apartheid’, Studia Historiae Ecclesiasticae 20(2), 195–214.

Strauss, P.J., 2002, ‘Die NG Kerk en sy ekumeniese bande’, in F. Du Toit, H. Hofmeyr, P. Strauss & J. Van der Merwe (reds.), Moeisame pad na vernuwing, pp. 181–241. Barnabas, Bloemfontein.

Strauss, P.J., 2010, Kerk en orde vandag, Sun Press, Bloemfontein.

Strauss, P.J., 2013, ‘Kerkwees in die branding’, ACTA Theologica suppl. no. 18, 1–156.

Strauss, P.J., 2018, ‘Wat het die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke in 1998 en die Wêreldraad van Kerke in 2015 beweeg om die Ned.Geref. Kerk as volle lid terug te neem?’, Acta Theologica 38(1), 115–141. https://doi.org/10.18820/23099089/actat.v38i1.7

Theron, P.F., 1988, ‘Natuur en genade, kerk en volk’, in C.J. Wethmar & C.J.A. Vos (reds.), ’n Woord op sy tyd – ’n Teologiese feesbundel aangebied aan professor Johan Heyns, p. 157, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Van der Watt, P.B., 1988, ‘Prof. dr. Johan Heyns – anno sexagesimo’, in C.J. Wethmar & C.J.A. Vos (reds.), ’n Woord op sy tyd – ’n Teologiese feesbundel aangebied aan professor Johan Heyns, p. 7, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Wêreldraad van Kerke [WRK], WRK-Argief 280.38: Cottesloe Confidential 3, 24, 15, 16.

Williams, H., 2006, ‘J.A. Heyns en die Ned.Geref. Kerk en apartheid’, DTh-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat, Bloemfontein.

WRK-Argief 42.3.014/2,2; 2.3.

Voetnotas

1. In sy Charter van Oktober 1981, verklaar die Alliance of Black Reformed Christians in South Africa, ’n beweging onder voorsitterskap van dr. Allan Boesak, dat die teologiese en morele regverdiging van apartheid ’n bespotting van die Evangelie, verraad teenoor die gereformeerde tradisie en kettery is (reds. Cloete & Smit 1984:20). Hierdie terme word ’n paar maande later deel van die besluit van die WBGK oor apartheid en ’n status confessionis. Die invloed van Boesak en sy Alliance of Black Christians in South Africa op die besluit van die WBGK is onmiskenbaar (Strauss 2018:126).

2. Die Algemene Sinode van die NGK besluit oor ‘beleid’ of algemene kerklike standpunte wat die hele verband en al die gemeentes raak (NGKO 1964:11; 1998:15; 2013:11).

3. Vry vertaal beteken hierdie Latynse spreukwoord: ‘Dit is in die aard van ‘n gereformeerde kerk om voortdurend te reformeer’ (Koffeman 2009:35).

4. Die Getuienis vra onder meer dat owerheid en onderdaan in Suid-Afrika die ‘bestaande orde … hervorm, sodat aan elke mens die leefruimte gegun word waarin hy as beelddraer van God tot sy reg kom’ (KKA PPV 1375 – Die Kerkbode 5/11/1980a:605).

5. Meiring noem Naudé se belewing van die Cottesloe-beraad oor apartheid sy ‘Damaskus-ervaring’ wat ’n radikale ommekeer in sy houding oor apartheid, van positief daaroor tot negatief daarteen, teweeg gebring het (Meiring 2008:780).

6. Die vier mees omstrede besluite van Cottesloe – vir die NGK in die apartheidsera in Suid-Afrika – was dat swart mense in sogenaamde blanke Suid-Afrika nie permanent van stemreg in hulle land van inwoning ontneem kan word nie; dat bruinmense wat geen ander vooruitsig het nie, in die Suid-Afrikaanse parlement verteenwoordig moet word; dat daar nie Bybelse gronde vir ’n verbod op rasgemengde huwelike is nie, hoewel faktore in die gemeenskap dit onwenslik kan maak; en dat wit gemeentes hulle geriewe met ander moet deel waar daar so ’n behoefte is (WRK-Argief 280.38: Cottesloe Contents Confidential, 13–14; Strauss 1983:127–128). Die NGK se afgevaardigdes, waaronder Beyers Naudé, het hierdie besluite gesteun, omdat dit met besluite van NG Kerkvergaderings van vroeër in die twintigste eeu ooreenstem en, hulle insiens, nie teen ’n beleid van differensiasie stry nie. Met hulle steun wou hulle egter ook waarsku dat die uitvoering van afsonderlike ontwikkeling – soos dit in daardie stadium deur die Suid-Afrikaanse Regering genoem is – vasdraai en onreg skep (Strauss 2018:120). Vir Naudé was die vier besluite kernaspekte waarmee hy kon versoen en het die alarm wat daarmee gelui is, in sy verwysingsraamwerk gepas (Strauss 1989:153).

7. Let asseblief op dat wanneer daar vervolgens na spesifieke dekades verwys word, dit dekades in die vorige eeu impliseer.

8. Naudé se vader, ds. Jozua Naudé, was ’n predikant in die NGK. Tydens die Anglo-Boereoorlog van 1899–1902 is hy ’n veldprediker by Boerekommando’s en uiteindelik een van die Zuid-Afrikaansche Republiek van Transvaal se afgevaardigdes na die Vrede van Vereeniging in Mei 1902. Hier is hy een van ses Bittereinder-Boere – teenoor 54 ander Bitttereinder-Boere – wat teen die aanvaarding van die Britse voorstelle vir vrede stem (Kestell & Van Velden 1982:173). In 1918 word Naudé die eerste voorsitter van die Afrikaner-Broederbond (AB) – ’n organisasie waarvan sy seun, Beyers, in 1940 op 25-jarige leeftyd, ook lid word. In hierdie stadium is Beyers die jongste lid van die AB (Potgieter 1994:20). Volgens Potgieter verwys die Sunday Times in 1989 na hierdie tyd in Naudé se lewe as dié van die kroonprins van die Afrikanervolk: ’n toekomstige eerste minister; ’n seun wat die ideale van sy pa voortsit en vernoem word na ’n vriend en held van sy pa wat ’n voorbeeld van ’n Christen vir sy burgers was, naamlik generaal C.F. Beyers (Meiring 2008:780; Potgieter 1994:31). Die jong Beyers word in 1940 dus in hierdie kringe as ’n uitstaande, belowende jong Afrikaner beskou.

9. Heyns het beweer dat sy moeder in sy kinderjare die grootste invloed in sy lewe was. Heyns se tipiese intensiteit in alles wat hy aangepak het, spruit waarskynlik gedeeltelik uit ma Maria se lewensreël: ‘If a thing is worth doing, it is worth doing well’ (Williams 2006:2).

10. Volgens Theron (1988:157) wou Heyns graag – dit was een van die groot temas in sy lewe – met kerk en kultuur ‘in die reine kom’.

11. Williams toon aan dat Heyns sedert 1975 na apartheid, wat tot onreg en uitbuiting lei, as apartisme verwys het. Hy het dus in ’n positiewe apartheid sowel as ’n negatiewe apartisme geglo. Daarom kon hy hom daarmee versoen dat KS–1986 en KS–1990 die negatiewe kante van apartheid verwerp. Heyns se rol in die Hervormingsdaggetuienis was ’n verdere ontwikkeling van hierdie neiging (Williams 2006:397). Soos Cottesloe in 1960 het die Getuienis 1980 beweer dat apartheid, hier waarskynlik ook ’n metode, in ’n doodloopstraat beland het en dat die kerke dit nie so kon laat nie (KKA PPV 1375 – Die Kerkbode 5/11/1980b).

12. Op hierdie punt noem Du Toit nie name nie.

13. De Gruchy (1979:103) skryf dat Naudé se wortels diep in die Afrikanertradisie en -kultuur gelê het en dat hy in sy geestelike vorming aan die teologiese seminarie op Stellenbosch aan die evangeliese Calvinisme blootgestel was.

14. In ’n onderhoud met Potgieter in 1991 erken Naudé dat hy in die aanloop tot Cottesloe dieselfde sentimente as die aartsbiskop van die Anglikaanse Kerk van Kaapstad, Joost de Blank, gehuldig het, naamlik dat die NGK van die Kaap en Transvaal vanweë hulle steun aan apartheid uit die WRK geskors moes word. Naudé openbaar dus weer ’n ingesteldheid van ‘breek met’ as sy alternatief op kerklike hervorming, terwyl die algemene sekretaris van die WRK, Visser ’t Hooft, as ’n Nederlandse Hervormer die pad van oorreding met die NGK wil loop. Volgens Naudé het sy teologiese minderwaardigheid hom daarvan weerhou om sy simpatie met De Blank openbaar te maak (Potgieter 1994:36).

15. Van die NGK se afgevaardigdes na Cottesloe soos P.A. Verhoef sou volhou dat die beraad apartheid nie verwerp het nie, maar die alarmklok wou lui om te sê: Daar is gevaar! Die beleid draai vas in sy uitvoering. W.A. Visser ’t Hooft, die algemene sekretaris van die WRK, beaam hierdie houding in sy vertroulike verslag aan die WRK. Volgens hom was die NGK se afgevaardigdes steeds voorstanders van apartheid, maar nie as ’n absolute beginsel nie. Vir hulle was dit ’n metode, en as die metode onreg meebring, moet dit vervang word (WRK-Argief 42.3.014/2,2). Vir die besluite van Cottesloe, kyk Strauss (1989:147–149; 1991:436–446).

16. Naudé beoog ’n ‘sterk Christelike gemeenskap’ deur die CI wat, ironies genoeg, op die kerklike terrein funksioneer en ’n voorstander daarvan is dat geen kerk op sy eie moet funksioneer nie (Potgieter 1994:80). Sy CI word dus ’n soort bo-kerklike ekumeniese instelling wat self op sy eie funksioneer en die gevestigde kerk ‘op alle moontlike terreine’ wil dien (Potgieter 1994:90).

17. Volgens Naudé bied die NGK nie die basis waarop sy algemene ekumeniese gesprek kan plaasvind nie. Skynbaar was hy daarvoor gereformeerd kerklik te beperk. Naudé (1995:64) praat van ’n mens tot mens- en groep tot groepgesprek.

18. Die Algemene Sinode van 1998 van die NGK noem die Algemene Sinode, as meerdere vergadering, ’n sigbare uitdrukking van die eenheid van die NGK-verband in die ‘breedste sin van die woord’. Kerkordelik hanteer die Algemene Sinode ‘beleid … en spesifieke werksaamhede’ (NGK 1998:44).



Crossref Citations

No related citations found.