About the Author(s)


Leonie Meyfarth Email symbol
Unit for Reformational Theology and the Development of the South African Society, Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Marius Nel symbol
Unit for Reformational Theology and the Development of the South African Society, Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Citation


Meyfarth, L. & Nel, M., 2023, ‘Israelvisie, die Nuwe Suid-Afrika en “Afrikaners”’, In die Skriflig 57(1), a2917. https://doi.org/10.4102/ids.v57i1.2917

Original Research

Israelvisie, die Nuwe Suid-Afrika en ‘Afrikaners’

Leonie Meyfarth, Marius Nel

Received: 18 Nov. 2022; Accepted: 31 Jan. 2023; Published: 08 Mar. 2023

Copyright: © 2023. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstrak

Israel vision, the New South Africa and ‘Afrikaners’: There is a growing number of Caucasian Afrikaans-speaking believers who are exposed to and accept the teachings of the British Israelite or Israel Vision movement. Some of these believers take their leave of or quit their former places of worship, while others remain and spread the Israel Vision teachings among fellow church members. This article, inter alia, asserts that Caucasian Afrikaans-speaking South Africans are ascribing to Israel Vision teachings in their search for a new identity in a post-apartheid South Africa. It utilises a comparative literature analysis from a Pentecostal perspective. To gain insight into the movement, the article considers the origin, growth and teaching of British Israelism. It furthermore attempts to understand the cultural shifting that some Caucasian Afrikaans-speaking South Africans have experienced since the importation of democracy in 1994 and what types of identity correction could be expected from such a group. When comparing the traditional Afrikaner cultural themes in terms of the Israel Vision teachings, it emerges that, according to the teachings of Israel Vision (and British Israelism), the Caucasian people are what is referred to as the Ten Lost Tribes of Israel – the covenantal descendants of Abraham. God has a specific plan for these tribes. Adherents of these teachings define their identity in these exclusive terms. This article attempts to define what the Bible teaches regarding the old and new covenant as well as exclusivity and inclusivity to evaluate the Israel Vision teachings. It concludes that it results in the rejection of Jesus Christ as the Messiah and Saviour along with an unacceptable exclusivism of people of colour considering Scripture by limiting salvation to the so-called Ten Lost Tribes. This article aims to inform church leaders and Christians as regards the main teachings of the movement and its theological and existential dangers to assist believers influenced by the Israel Vision teachings.

Contribution: This research aims to contribute to the field of practical theology by determining that some white South Africans have attempted to restructure their culture after the forming of a democracy in South Africa (1994) by participation in ideological groups such as the Israel Vision movement and ascribing to British Israelism. The theological and ethical grounds on which these movements rest, pose a threat to the teachings of the traditional Christian denominations in South Africa due to the racist ideology that is inherent in these groups and aim to exclude the majority of South Africans from the faith community.

Keywords: British-Israel; exclusivity; inclusivity; Israel Vision; Afrikaners; doctrine of election; racism; identity.

Inleiding

Die Israelvisie-beweging is ’n godsdienstige groepering wat uitverkiesing op grond van ras onderskryf. Dit word deur vele beskou as ’n beweging wat kortstondig bestaan het as reaksie op die sosiale omwentelings in Suid-Afrika na 1994. Tog is hierdie beweging steeds aktief en veral sosiale media word tans as medium gebruik om hulle boodskap te versprei (Davis 2022). Sedert die totstandkoming van die Nuwe Suid-Afrika in 1994, was daar meer as een terroriste-aanval in Suid-Afrika wat aan bewegings gekoppel word wat Wit Teologie en Israelvisie se lering aanhang. Op 25 Desember 1996 het Boeremag-lid, Johannes van der Westhuizen (selferkende aanhanger van die Israelvisie-beweging), twee bomme laat ontplof en as gevolg van die ontploffings is 71 bruin mense gehospitaliseer (Davis 2022). Verder is daar tussen Desember 2018 en November 2019 ’n komplot oopgevlek waarvolgens die sogenaamde pastoor Harry Johannes Knoesen en ’n verregse terroristegroep beplan het om soveel swart mense as moontlik tegelyk om die lewe te bring. Op 30 Oktober 2002 het die Boeremag agt bomme in Soweto laat ontplof en sodoende miljoene rande se skade aan die spoor-infrastruktuur aangerig (Cruywagen 2022). Volgens die Institute for Security Studies se verslag (Schönteich & Boshoff 2003), is die grondslag van die Boeremag se lering ’n vermenging van politiek en geloof. Alhoewel daar verskeie faksies onder die ‘Afrikanernasionaliste’ bestaan, word daar veral drie ooreenstemmende eienskappe in elk van die faksies waargeneem: die Afrikaanse taal; die Calvinistiese geloofsoortuigings; en die ‘Afrikaner’ se geskiedkundige beywering vir ’n eie grondgebied of ‘volkstaat’. Israelvisie sorteer onder die verskeie faksies wat Afrikanernasionalisme dryf. Israelvisie het geen gesentraliseerde organisasie wat lidmaatskapgetalle kan verskaf of bevestig nie. Tog kan die gewildheid en groei van hierdie beweging gesien word in die aantal groepe op verskeie sosiale mediaplatforms wat aan die beweging se lerings toegewy is. Verwysings word gewoonlik verskans deur terme soos #yeshua, #Yahweh en #boerevolk te gebruik. Sommige geslote groepe op Facebook het duisende aanhangers (Davis 2022). Die Institute for Security Studies (Schönteich & Boshoff 2003) berig dat die ekstremiste nie genoegsame ondersteuning onder ‘Afrikaners’ kan werf nie, maar dat die beweging poog om gewildheid te bekom deur griewe wat die deursnee ‘Afrikaner’ kenmerk, volledig uit te buit. Só word die bewegings as ’n tipe redder van die ‘Afrikanernasie’ voorgehou.

Hierdie studie ondersoek literatuur (en het veral op F.W.C. Neser [1982] se werk Die verlore tien stamme van Israel gefokus) om die wortels en essensie van die beweging te beskryf met die doel om na moontlike oorsake vir die gewildheid daarvan onder Afrikaanssprekendes te vra.

Identiteit is in eiesoortige kultuur en waardes gesetel, en vir individue om deel van die een of ander kultuur te vorm, geld per implikasie dat hulle deels dieselfde identiteit sal hê. Wanneer gemeenskaplike kenmerke soos eiesoortige wêreldbeskouings, ’n gedeelde geskiedenis, morele uitkyk, standaarde en gebruik van ’n spesifieke taal tussen mense bestaan, word eendersheid in onderskeiding van verskille dikwels beklemtoon (Erasmus 2005:234). ’n Belangrike bevinding is dat daar onder wit Afrikaanssprekendes ’n soeke na identiteit is ná die totstandkoming van die Nuwe Suid-Afrika in 1994. Dit het tot gevolg gehad dat Afrikaanssprekendes se magsbasis geërodeer is. Die doelstelling van die navorsing is gevolglik om te bepaal of die navolging van die Israelvisie-beweging deur sommige wit Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners as ’n soeke na identiteit verklaar kan word, en om dan die beweging op teologiese en etiese gronde te beoordeel, wat as riglyn vir lidmate kan dien, wat aan die beweging blootgestel word.

Die eerste doelwit van hierdie artikel is om die oorsprong en belangrikste kenmerke en ideologies-teologiese eienskappe van die Brits-Israeli-beweging te beskryf. Hierop volg ’n bespreking oor die toename onder die teikengroep (te wete wit Suid-Afrikaners) ná 1994 wat die Brits-Israeli-ideologie ondersteun met die doel om oor die moontlike oorsake daarvan te besin. Laastens word gepoog om ’n teologiese en etiese evaluering van die beweging as riglyn vir gelowiges voor te stel, om hulle sodoende toe te rus om die leerstellings en ideologie van die beweging volgens die Bybel te evalueer.

Die navorsing berus op ’n vergelykende literatuuranalise en die sentrale teoretiese argument is dat sommige wit Suid-Afrikaners poog om hulle identiteit te midde van gevoelens van bedreiging en verlies ná die aanbreek van demokrasie in Suid-Afrika te herdefinieer. Deelname aan groepe soos die Israelvisie- en die Brits-Israeli-beweging bevredig klaarblyklik ’n soeke na ’n nuwe identiteit. Gevolglik hang hulle ’n rassistiese ideologie aan, wat die grootste deel van die Suid-Afrikaanse bevolking wat Christelike heil en selfs menswaardigheid betref, uitsluit.

Ontstaan van die Brits-Israeli-beweging

Die Brits-Israeli-beweging het in die negentiende eeu ontstaan vanuit ’n teorie wat die Britse bevolking as die nakomelinge van die tien stamme van Israel, wat tydens hulle ballingskap in Assirië sou ‘verdwyn’ het, beskou. Die tien stamme sou hulle tydens die Joodse diaspora in die Britse Eilande gevestig het. Die veronderstelling is dat die 12 stamme van Israel die ware en enigste uitverkorenes van God verteenwoordig en dat heil tot hulle beperk is (Durham 2008:79). John Wilson (1799–1870), die leier van die Brits-Israeli-beweging, meen dat hy die verborge oorsprong van die nasies van Noord-Europa ontdek het (Barkun 1997:6). Wilson se boek Our Israelitish origin (1845) bevat die eerste beskrywing van die Brits-Israeli-beweging se teorieë.

Die leerstelling is op ’n aantal vasgestelde beginsels gebaseer met ondersteunende Skrifgedeeltes: die tien stamme van Israel is die voorvaders van die Britte; Jode verteenwoordig nie die ware Israel nie en die beperking van bybelse heilsbeloftes op die ‘ware’ Israel – oftewel die werklike uitverkorenes van God – is beperk tot die sogenaamde nageslag van Israel – die inwoners van Angel-Saksiese oorsprong.

Wilson se werk het die Britse middelklas aan die Brits-Israeli-beweging se boodskap blootgestel. Dit het weliswaar nie swaar op bybelse profesieë gesteun nie, maar vergesog genoeg, verbind hy woorde en begrippe uit twee onverwante tale wat min of meer dieselfde klink aan mekaar as ‘bewys’ dat plekname in die Bybel na moderne name en plekke in Brittanje verwys (Barkun 1997:7). Hiermee poog Wilson natuurlik om ’n beweerde noue verbintenis tussen die ontstaan van Hebreeus en Engels aan te toon.

Een voorbeeld hiervan is die woord ‘British’ wat hy as ‘Brit – Ish’ verklaar – die Hebreeuse woorde vir ‘verbond-man’, met verwysing na Jesaja 42:6 en Jesaja 49:8. ‘The “British” people of “Britannia”’, soos Brittanje in die Middeleeue bekend gestaan het, verwys dus na die verbondsmense waarna die Ou Testament verwys. Die gevolgtrekking is dat die inwoners van die Britse Eilande asook hulle nageslag in gekolonialiseerde lande die tien stamme van Israel is (Hebrew Nations n.d.). Sy aanhangers span dieselfde tegniek in om Engelse woorde vanuit Hebreeus te ‘verklaar’. Herbert Armstrong, redakteur van The Plain Truth, ’n tydskrif wat maandeliks 1 292 000 eksemplare versprei en die Israelvisie propageer, is ’n goeie voorbeeld hiervan (Martin 1965:297).

’n Gebeurtenis waarop ’n essensiële deel van die Israelvisie se leerstellings gefundeer is, is die historiese verdeling van die noordelike tienstammeryk van Israel en die suidelike ryk van Juda en Benjamin, wat deur hedendaagse Jode verteenwoordig word. Die skeiding wat na Salomo se bewind plaasgevind het, word as ’n permanente verdeling beskou wat tot nou toe geld. Israel, die ou tienstammeryk, is die verbondsdraers aan wie al die beloftes en seëninge toegeskryf word, terwyl Juda en Benjamin as ’n bastergeslag beskou word, aangesien hulle mettertyd met die afstammelinge van Esau vermeng geraak het. Om hierdie rede is die tweestammeryk deel van God se geswore vyande. Hulle is ‘Jode’; die ware volk van Israel mag nooit as ‘Jode’ beskryf word nie (Malan n.d.). God het die Joodse volk vervloek. Die ware Israel is die Britte (Martin 1965:298). Na die Babiloniese ballingskap (597–531 v.C.) sou Juda (en Benjamin) die koninklike troon inboet en dit aan Engeland oordra waar dit deur die Britse vorstehuis voortgesit is (Malan n.d.).

Die bogenoemde leerstelling beteken dat Israel as heidene beskou is en self nie eers van hulle herkoms bewus was nie. Die Angel-Saksiese inwoners van Brittanje en mense van Britse herkoms wat deur kolonialisme deur die wêreld versprei het, is die ware verbondsvolk. Die implikasie daarvan is dat die beloftes wat aan Abraham gemaak is, die nasate van Israel, die Britte, se verbondsreg is. Dit sluit in dat hulle die uitverkorenes van God is aan wie die beloofde land behoort, mits hulle die egtheid van hulle ras beskerm (Roberts 2003:5).

Brits-Israeli-beweging in die Suid-Afrikaanse konteks

Die Brits-Israeli-ideologie word in Suid-Afrika nagevolg onder die naam ‘Israelvisie’ wat ’n versamelnaam vir ’n verskeidenheid enersdenkende groepe is. Die samebindende faktor is die leerstelling dat God se verkiesing tot sekere wit volke en rasse beperk is, wat dus alle ander volke en rasse uit die genadeverbond sluit (Ankura 2006). Die aanhangers van hierdie ideologie is mense wat hoofsaaklik lidmate van bestaande kerke is en wat die leer stilweg onder medegelowiges propageer.

Brits-Israeli-studiegroepe het reeds in die vroeë twintigerjare van die vorige eeu in Suid-Afrika ontstaan. Volgens die British-Israel World Federation (n.d.) het die Anglo-Israel Almanac in 1914 reeds daarop aanspraak gemaak dat daar Brits-Israeli-groepe in die Britse Eilande, Australië, Suid-Afrika, Kanada en die Verenigde State voorkom. Vanuit hierdie groepe is die Brits-Israel-Wêreldfederasie in 1919 gestig. Op daardie tydstip het 80 bewegings en honderde individue lidmaatskap aanvaar. In Suid-Afrika het die beweging bekend gestaan as die Suid-Afrikaanse Brits-Israeli Assosiasie onder leiding van A.W. Marris wat in 1928 as voorsitter sou dien. Die joernaal The Bulletin is vanaf die vroeë twintigerjare van die vorige eeu tot in November 1927 gepubliseer. Die beweging het met sy aanvang uit 180 lede bestaan (Greyling 1992:50). Aanvanklik was die beweging gewild, veral onder Engelssprekende Suid-Afrikaners van Britse afkoms. Dit was ook deel van die beweging se doel om Afrikaanssprekende witmense te oortuig dat hulle as ’n Ariese ras ook deel van die uitverkose nasie was, en daarom hulle Engelse broers moes aanvaar. In hierdie tyd was daar kwade gevoelens onder baie Afrikaanssprekendes teenoor die Engelse as gevolg van Britse oorheersing en die twee Anglo-Boereoorloë. Die beweging het vanuit die perspektief van ’n Wit Teologie gefunksioneer wat die Britse nasie en koning verheerlik het, wat nie vir die Afrikanervolk (soos dit genoem is) aanloklik was nie. Hulle sou eerder hunker na die vestiging van ’n eie republiek om die Engelse juk af te werp (Greyling 1992:55). Teen die vyftigerjare van die vorige eeu het Afrikaanssprekende studiegroepe ontstaan wat die Brits-Israeli-leerstellings bestudeer het en wat mettertyd hulle eie materiaal begin druk en versprei het. Een van die mees produktiewe skrywers vanuit die Afrikaanssprekende groep was F.W.C. Neser van Vereeniging.

Neser word dus deur die Israelvisie-beweging as een van die voorlopers en vaders van die beweging in Suid-Afrika beskou (Smith 2017). Hy het in 1982 die werk getiteld, Die verlore tien stamme van Israel, gepubliseer. In hierdie werk word die geloofsoortuiging van die Suid-Afrikaanse Brits-Israeli-beweging of kerk van die Verbondsvolk gestel.

Volgens Neser kan die volgende belangrike afleidings oor die Brits-Israeli-beweging onder Afrikaners gemaak word: Sommige van die blanke Westerse nasies verteenwoordig die tien stamme van Israel (Neser 1982:19); die tien stamme is die nageslag van Abraham (p. 19); en God het deur Abraham ’n ewigdurende verbond met die tien stamme van Israel gesluit (p. 41). Die verbond sluit verskeie ewigdurende aspekte in soos:

  • die tien stamme is uitverkies om die volk van God te wees en daarom is hulle bo enige ander nasie verhewe. Die Here van die verbond bemoei hom slegs met hierdie groep mense.
  • Die grondgebied van die Beloofde Land behoort aan hierdie nageslag. Die implikasie is dat Suid-Afrika die besitting van die uitverkore volk van God is op dieselfde manier as wat Kanaän die ewigdurende besitting van Israel geword het. Die land behoort dus aan wit mense wat deel van Israel vorm.
  • Die voorwaarde vir God se verbond is dat die uitverkorenes hulleself van ander nasies moet afsonder en hulle ras suiwer hou deur geen vorm van ondertrouery toe te laat nie. Die beloftes is op Genesis 12:1–4, 18:18, 22:18 en 24:3–8 gebaseer (Neser 1982:25).

Dit is tans geen maklike taak om die omvang van die beweging vas te stel nie, aangesien boeke, eie aan die beweging, nie geredelik in die handel beskikbaar is nie en die beweging vir alle praktiese doeleindes agter geslote deure funksioneer. Dit is nie ’n georganiseerde geloof of denominasie nie; dus het dit nie ’n sentrale punt waar navrae oor die ledetal gedoen kan word nie. Die beweging bestaan uit klein groepe in losse verbintenis met mekaar en eerder as ras-georiënteerde ideologiese groepe funksioneer, en dit is derhalwe té gefragmenteer om lidmaatskap te bepaal. Dat die leerstelling wel gewildheid in Suid-Afrika geniet, word geopenbaar in die grootte van die groepe wat die leerstellings op sosiale media promoveer (Davis 2022).

Alhoewel daar in die akademiese wêreld verskeie teorieë bestaan oor wat die uiteinde sou wees van die tien stamme wat ongeveer in 721 v.C. in ballingskap weggevoer is, sluit dit nie Neser se lering in dat die Israeliete as ’n volk uit Assirië ‘ontsnap’ het nie. S.M. Lyman se artikel getiteld, ‘The lost tribes of Israel as problem in history and sociology’ (1998), bespreek verskeie teorieë. Hierteenoor stel die Israelvisie dat die Germane, Wes-Gote, Hunne en Vandale direkte afstammelinge van ’n deel van Israel is (Venter 1988:516) wat die Britse Eilande in ongeveer 1000 n.C. binnegeval het.

Hierdie beskouing is die een gemeenskaplike faktor te midde van die skynbaar talle onderlinge verskille tussen die onderskeie groepe wat die Israelvisie-beweging aanhang en dit speel ook die oorheersende rol wanneer navolgers van hierdie beweging die Bybel lees (Venter 1988:517). Die hermeneutiese lens waarmee hulle die Bybel asook hulle eie sosiale en politieke situasie lees en interpreteer, is dat wit mense meerderwaardig en uitverkore is. So byvoorbeeld beklemtoon Venter (1988:517) dat dit slegs wit mense van Europese herkoms en niemand anders is nie wat die letterlike afstammelinge van die tien stamme van Israel is. Hulle is voorts in ’n apokaliptiese stryd teen die res van die mensdom gewikkel.

‘Afrikaners’ in krisis

Die begrip Afrikaners word hier in ’n gekwalifiseerde en historiese sin gebruik. Vandag is daar talle wit Afrikaanssprekendes wat nie hulleself as ‘Afrikaners’ in die ideologiese en histories-nasionalistiese sin beskou nie. Wanneer die begrip hier gebruik word, is dit slegs om na daardie groep behoudende Afrikaanssprekende wit mense te verwys wat hulleself steeds só beskryf in teenstelling met ander Afrikaanssprekende mense in die land en waarmee hulle alle ander groepe met hulle teorie van meerderwaardigheid polariseer. Mense is origens huiwerig om met ’n kultuur of kultuurgroep geassosieer te word wat soveel ideologiese bagasie met hulle saamdra (Van Niekerk 2000:368). Daarom is daar Afrikaanssprekendes wat verkies om die term Afrikaners te vermy wanneer hulle na hulleself verwys.

Die veronderstelling van hierdie navorsing is dat sommige ‘Afrikaners’ moontlik ’n sterk aanklank by die Israelvisie- en Brits-Israeli-beweging se leerstellings in die huidige politieke en sosiale klimaat in Suid-Afrika kan vind. Grondbesit wat histories ’n beduidende waarde in die Afrikaanse kultuur vanaf die vroegste tye openbaar, is in die spervuur as deel van regstellende aksie om grondongelykheid in die land in oënskou te neem. Sommige individue en partye waaronder Israelvisie-aanhangers, gebruik ’n definitiewe ras-georiënteerdheid onder sommige verregsgesinde individue en partye, wat tot uiting kom in rassistiese uitsprake om medelandgenote te viktimiseer. Hulle beleef ’n verlies aan identiteit met die vestiging van ’n nie-rassige demokratiese Suid-Afrika in 1994 wat tot groot sosio-politiese veranderings gelei het (Korf & Malan 2002:149). Sodanige veranderings het tipies die potensiaal om verreikende en ingrypende gevolge vir individuele en groepsidentiteit in te hou. Die sosio-politiese veranderings het veral sommige behoudende of konserwatiewe ‘Afrikaners’ genoop om hulle kultuur en identiteit te hersien en te radikaliseer (Korf & Malan 2002:149).

Die eertydse maghebbers wat tot en met 1994 die gesag stewig in hulle hande gehou en eksklusief vir hulleself opgeëis het, het plotseling in ’n minderheidsgroep verander wat by tye deur politieke partye en politici as rassiste en nie-Afrikane beskryf en gestereotipeer is. As deel van die restitusie vir die onreg en gevolglike ongelykhede van apartheid, is (o.a. ook) Afrikaanssprekende wit mense nou onderworpe aan regstellende aksie en grondhervorming. Die voorheen bevoordeelde Afrikaanse heersersklas is nou een van verskeie minderheidsgroepe en sommige beleef hierdie toestand sodanig, dat hulle enigermate aan die regering uitgelewer is (Korf & Malan 2002:150).

Gedurende die apartheidsjare is die begrip Afrikaner tot wit Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners beperk met die uitsluiting van bruin Suid-Afrikaners. ‘Afrikaners’ het hulle identiteit in die politieke stelsel en ideologieë gevind wat op rasseskeiding gebou is en deur swart Suid-Afrikaners (insluitende mense van die gemengde rasbevolking) tereg as diskriminerend, marginaliserend en onderdrukkend beleef is. As gevolg van volgehoue en wydverspreide negatiewe reaksie op wit oorheersing, het sommige wit mense ná die koms van demokrasie in 1994 ervaar dat die nuwe demokratiese regering al hoe minder ruimte vir die ‘Afrikaner’-kultuur en -taal sal laat (terwyl dit juis die historiese band tussen die ‘Afrikaner’ en apartheid was wat skadelik op die oorlewing van die Afrikaanse kultuur ingewerk het).

Volgens Breakwell (soos aangehaal deur Korf en Malan [2002:150]) is daar sekere tipiese gevolge van so ’n sosiale omwenteling. Eerstens lei dit tot ’n herbesinning van die groep se sosiale konteks uit hoofde van die samestelling, grootte, getal en aard daarvan. In die Afrikaanssprekendes se geval is hulle getalle direk geraak, deurdat talle uit hulle geledere ná 1994 na ander lande verhuis het, terwyl daar politieke en selfs kulturele verdeeldheid onder hulle begin posvat het. Dit lei verder ook tot verdeling in nuwe groepe binne die bestaande groepe, wat tot nuwe norm- en waardevorming binne die onderskeie groepe lei, asook ’n herevaluering van die kriteria vir in- of uitsluiting in die groep (Korf & Malan 2002:150). Derdens is daar ’n heroorweging van die groep se ideologieë en duidelike herformulerings wat polarisasie binne die groep bevestig. Verder lei dit tot ’n omwenteling van die sosiale omgewing wat gevolglik ook ’n invloed op bestaande sosiale verhoudings uitoefen (Korf & Malan 2002:150). In hierdie omstandighede word individue en groepe uiteraard met hulle verlede asook hulle toekoms gekonfronteer.

Geloofspraktyke en die kerk speel ’n groot rol in die ontwikkeling van individue se identiteit en morele beredenering, asook in die kulturele konteks waarin persone hulle bevind (Beyers 2017:3). Hierbinne is die rol van die kerk en godsdiens veral belangrik, want geloofspraktyke verskaf die ideologieryke sosiale konteks vir identiteitsontwikkeling wat identiteitsvorming ondersteun (King 2003:199). Net soos wat geloofspraktyke ’n waardevolle bron vir gesonde identiteitsvorming kan wees, het sodanige praktyke ook die potensiaal om ’n struikelblok daarvoor te wees (King 2003:202), aangesien dit sosiale kognisie – die proses waardeur mense oor hulleself en ander dink – direk beïnvloed (Sternberg 1995:424). Dit help hulle nie alleen om te vind waarna hulle soek nie, maar ook om dit wat hulle as ongewens beskou, te vermy (soos interne konflik en angs) en groot hoeveelhede komplekse inligting te verstaan en te integreer. Uiteindelik weerspieël dit die mens se diepste waardes (Sternberg 1995:425). Uiterse geloofspraktyke wat byvoorbeeld die individu se waarde verhef bo dit wat die gemeenskap sal bevoordeel, kan tot ’n vorming van identiteit en sosiale kognisie lei waar individue nie tot hulle omgewing verbind is nie en narsistiese eienskappe en gedrag (patologiese selfliefde) kan kweek (King 2003:202).

Een van die gevolge van die sosiale omwenteling wat verwag word, is die heroorweging en herformulering van wit Suid-Afrikaners se ideologieë wat polarisasie binne die groep bevestig. Dit lei ook tot ’n omwenteling in die sosiale omgewing wat bestaande sosiale verhoudings beïnvloed (Korf & Malan 2002:150). Voorheen eksklusiewe wit woonbuurte, bioskope, klaskamers, kerke en winkelsentra is vandag vir iedereen toeganklik, wat sekere aanpassings van sommige lede van die wit gemeenskap vereis het. Voorafgaande aspekte van verandering is tot ’n sekere mate waarneembaar onder wit Afrikaanssprekende Afrikaners (Korf & Malan 2002:151). Dit dien as verklaring vir hulle gedrag en gesindheid en vind uiting in die Israelvisie-beweging. So lei dit byvoorbeeld tot nuwe norms en kriteria vir in- of uitsluiting (Korf & Malan 2002:150).

Navorsing om te bepaal in welke mate wit Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners die bedreiging van hulle etniese identiteit ervaar (Korf & Malan 2002:149), het bevind dat respondente op twee vlakke bedreig voel: eerstens, dat die ‘Afrikaner’ sal ophou bestaan omdat die identiteit van die groep deur verskillende faktore bedreig word; en tweedens, dat politieke veranderings en onstabiliteit van die politieke stelsel hulle negatief gaan raak (Korf & Malan 2002:149).

Van Niekerk (2000:375) stel voor dat daar vir Afrikaanssprekende wit mense wat in Suid-Afrika woon vyf opsies bestaan: om te emigreer (beweeglikheid); om laer te trek en in die groep op te gaan, dit wil sê om hulle vir ’n volkstaat te beywer (nasionalisties-begronde identiteit wat tot afsonderlike bestaan en ’n aparte grondgebied lei); om die eie identiteit prys te gee deur die taal, Afrikaans, op te offer en te voldoen aan wat beleef word as die eise van die Nuwe Suid-Afrika waar Engels die amptelike voertaal is; om nie-emigrerende wit mense geensins te assimileer nie, maar om aktivisties ’n eie Afrikaneridentiteit te bevorder; en om groepsidentiteit opnuut te ontwerp deur die proses van gesprek, konfrontasie en assimilasie (vernuwing).

Aanklank met die Israelvisie-beweging

Identiteit word gevorm vanuit verskillende aspekte (o.a. taal, gemeenskaplike geskiedenis, morele waardes en eendersheid) (Erasmus 2005:234). Die invloed wat geloofspraktyke op die vorming van die Afrikanernasie se identiteit gehad het, behoort insgelyks geensins onderskat of geïgnoreer word nie.

Die Nederlandse kolonialiste het in 1652 hulle geloofstelsel saam met hulle na Suid-Afrika gebring en dit het as die maatstaf van hulle denkprosesse en aksies in die nuwe land gedien (Van der Merwe 2009:119). Die teoloog A.H. Murray (1947:168) het geargumenteer dat die vroeë Afrikaner se teorieë met betrekking tot ’n plaaslike regering ’n uitvloeisel van hulle ervaring uit hoofde van die kerkbestuur was eerder as wat hulle die Brits-Kaapse regeringsmodel gebruik het.

Die geloofsoortuigings van die kolonialiste is in die Drie Formuliere van Eenheid verwoord: die Heidelbergse Kategismus, die Dordtse leerreëls en die Nederlandse Geloofsbelydenis (Van der Merwe 2009:119). Hierdie dokumente het die reëls vir geloof en lewe in die Protestantse Christene aan die Kaap en in Suid-Afrika verseël, en was vir baie jare deur die meerderheid van Afrikaners as die ware Christelike geloofsoortuiging voorgehou (Van der Merwe 2009:119). Geloof en geloofspraktyke was van meet af aan ’n baie belangrike faset van die ‘Afrikaner’-kultuur. Israelvisie is ook op ’n diep geloof in God en fokus veral op die Abrahamitiese verbond gebaseer (by implikasie die uitverkiesing van die volk), en dit is ’n sterk raakpunt tussen die ‘Afrikaner’-kultuur en Israelvisie-beweging.

In ’n post-apartheid Suid-Afrika is daar ’n herordening van sosiale strukture. Die hiërargie van die verskillende kulture, rasse en gelowe word deurentyd heroorweeg, en die verskillende maniere hoe die verskeie rasse, kulture en gelowe teenoor mekaar staan, word hierby ingesluit (Beyers 2017:2). In reaksie op die vestiging van ’n sekulêre staat in Suid-Afrika, het sommige konserwatiewe kerke en godsdiensgroepe hulleself van liberaal-polities-georiënteerde teologie gedistansieer en hulle by identiteitsbewegings geskaar, waaronder dié wat samehorigheid vis-à-vis volksverband verklaar en dit ook kerklik uitleef, soos byvoorbeeld die ‘Boere-Afrikaners’. Vir diegene wat die Israelvisie-beweging navolg, is dit vanselfsprekend dat Israel ‘blank’ is (Venter 1988:530). Hieruit word die Israelvisie-’vuur’ aangeblaas as voortsetting van die Brits-Israeli-denkrigting (Malan n.d.). Die belangrikste waardes en ideologieë van die Israelvisie-beweging stem grootliks ooreen met die hoofareas van verlies wat die ‘Afrikaner’ ervaar. Die Israelvisie-leerstellings se ideologie kom deels ooreen met die Afrikaner-denkrigting van voor ’n demokratiese Suid-Afrika. Aanspraak op ’n eie identiteit was, en is steeds, vir Afrikaners ’n basiese behoefte (Erasmus 2005:237). Daarom is dit belangrik om te let op die ooreenstemming wat daar bestaan tussen vroeëre Afrikaners en Israelvisie-bewegings se ideologieë.

Die volgende waarde-oriëntering van Afrikaanssprekendes wat as heersersklas Suid-Afrika voor 1994 gelei het, kan soos volg omskryf word:

  • Afrikaanssprekendes se waardes was diep gewortel in die geloof dat hulle ’n goddelike roeping gehad het wat insluit dat hulle die evangelie as deel van die (Westerse) beskawing in ‘donker’ Afrika moes indra en die ‘inboorlinge’ aan Christus moes voorstel. Van der Berg (soos aangehaal deur Van der Merwe [2008:368]) dui aan dat die Afrikaanssprekende se bestaan deur Calvinistiese Christelik-prinsipiële-beginsels geregverdig is (Erasmus 2005:238).
  • Grondbesit is vanaf volksplanting (ongeveer 1870) van groot belang geag (Giliomee 1988:504). Die verband tussen Afrikaanssprekendes en die besit en benutting van landbougrond loop diep en wyd (Erasmus 2005:238).
  • Die groep was slagoffers van Britse oorheersing en hieruit is ’n intense drang na onafhanklikheid en selfregering gebore (Van der Merwe 2008:368), gevoed deur sekere Afrikaanssprekende wit mense se interpretasie van die Ou Testament wat grondbesit op eie bodem aan God se seën koppel.
  • Die Afrikaner was velkleurbewus, en verwerp assimilasie met ander kulture en rasse (Erasmus 2005:238).
  • Sommige Afrikaners was konserwatief en beskou politieke liberalisme as ’n geesteshouding eerder as ’n lewensbeskouing wat direk teenoor die Christelike leer staan omdat die mens, eerder as God, die hoogste maatstaf is (Erasmus 2005:238). Dat liberalisme ’n vermenging van rasse, volke en tale voorgestaan het, is ten sterkste deur konserwatiewe Afrikaners verwerp (Afrikaner Volksparty 2011). Op die webblad van Gelofteland (’n webwerf vir Christen-Afrikanernasionaliste) word liberalisme as ’n direkte teenpool van nasionalisme beskryf en word die oorsprong daarvan met die aankoms van die perswese in Suid-Afrika in 1824 vereenselwig (Scholtz n.d.).

Hierdie gedagtes sluit tot mindere of meerdere mate aan by die belangrikste leerstellings van die Israelvisie, soos onder andere deur Neser (1982) beskryf.

Eksklusiwiteit teenoor inklusiwiteit

Israelvisie se lering bepaal dat verlossing uitsluitlik beskikbaar is vir diegene wat afstammelinge van Abraham is, en dit is slegs beskikbaar aan Brits-Israeli’s (Israelvisie) omdat hulle die ware nageslag van Abraham is. Die basiese leerstelling van die Israelvisie-beweging vereis ’n kritiese evaluering om te bepaal of dit ’n geldige leerstelling is.

Is ’n Israeliet iemand wat ’n bepaalde godsdiens aanhang of in ’n bepaalde geografiese gebied woon, of word ’n Israeliet anders in die Bybel gedefinieer? Elke mens stam vanaf die sondvloed uit die nageslag van Sem, Gam of Jafet (Gen 10–11).

Abraham is ’n Semiet, en so ook al sy biologiese kinders (Ismael, Simran, Medan, Midian, Joksan, Suag en Jisbak) (Gen 17:18–22; 25:1–4). Die verbond wat God met Abraham gesluit het, word met Isak bevestig (Gen 17:19; 26:1–5). Esau en Jakob is ook albei die biologiese nageslag van Abraham, maar God bevestig die verbond slegs met Jakob en gee aan hom die nuwe naam Israel (Gen 28:13–15). Israeliete is dus biologiese afstammelinge van Abraham, Isak en Jakob (Scholtz 2017:5).

Die Israelvisie-beweging leer dat Jesus slegs vir die verlore skape van Israel, wat deur die diaspora tussen die heidennasies versprei het, gekom het om hulle so weer by die Ou-Testamentiese verbond in te sluit. Dit is duidelik dat Jesus en die dissipels hoofsaaklik die evangelie aan die verlore skape van Israel bedien het (Matt 9:35–36; 10:5–6; 15:24). Tog was daar ook twee merkwaardige uitsonderings, te wete die genesing van die Romeinse offisier se slaaf (Matt 8:5–13) en die genesing van die Kanaänitiese vrou se dogter (Matt 15:21–28; Turner & Bock 2005:211). Jesus het gekom om die koninkryk wat aan Dawid belowe was, eerste aan Israel (die volk van die verbond deur Abraham) beskikbaar te stel (Barbieri 1983:56). Hiermee was Jesus se woorde nie teenstrydig met die waarheid dat God se boodskap vir alle mense bedoel was nie (Deut 32:21; Jes 56:3; Ps 22:28; Matt 28:19; Rom 15:9–12; kyk ook Du Plessis 2007:1411).

Paulus bespreek die nageslag van Abraham breedvoerig in die brief and die Romeine.

Paulus se argument in Romeine 4:11, 16 en 18 is dat Abraham beskou word as die eerste wat tot bekering gekom het, aangesien hy nie deur wetsonderhouding nie, maar deur genade deel van God se mense geword het. Tog is hy ook die eerste wat God se verbond ontvang het. Abraham is dus die voorvader van die nie-Jode1 wat deur hulle geloof gered is, sowel as die voorvader van die besnede Jode wat gered is deur hulle geloof in Christus. Die nasies wat uit Abraham voortgebring sou word, sluit nie net die Jode in nie, maar ook nie-Jode – almal op grond van geloof. Israel is dus nou almal wat in Christus glo, hetsy Jood of nie-Jood (Burge & Hill 2012:1238).

In Romeine 9–11 betreur Paulus die verbroke verhouding wat daar tussen die Jode en God is en beskryf die Jode as God se eerste uitverkorenes. Paulus brei uit dat ’n fisiese verwantskap tot Abraham nie op sigself uitverkiesing verseker nie. Jakob is verkies en nie Esau nie. Daarom kan ons as mense nie God se uitverkiesing bevraagteken nie; niemand verdien God se genade nie. Die Jode moes redding verdien deur die werke van wetsonderhouding. Noudat Christus sonde en die dood oorwin het, is die Jode vry van die swaar las van die wet, en is verlossing vir Jode sowel as nie-Jode alleen deur geloof in Christus beskikbaar (Fee, Hubbard & Tappy 2011:649). Net soos die Here slegs sommige van Abraham se nageslag uitgekies het om sy volk te wees, net so kies Hy nou nie-Jode en ’n oorblyfsel van die Jode om sy mense te wees (Carson et al. 1994:1143). Dit is alleen God se belofte wat sommiges sy kinders maak en nie ’n familieboom of afstamming nie (Burge & Hill 2012:1254). Die ware uitverkiesing van die nageslag van Abraham is alleen van toepassing op diegene wat God besluit het om uit te kies, net soos in die aanvanklike belofte (Fausset, Jamieson & Brown 1997:254).

Eksklusiwiteit teenoor inklusiwiteit is ’n tema wat reeds in die Ou Testament openbaar word. Die versekering dat Israel uitverkies is, is geskoei op die feit dat God hulle voorouers uit slawerny in Egipte gelei het, hulle deur die woestyn gelei het en hulle Kanaän as beloofde land gegee het. Hulle het God se mense geword omdat Hy na hulle hulpgeroep geluister het, ingegryp en hulle gered het (Bosch 1991:17).

Die Here openbaar Hom aan Israel as die God van Abraham, Isak en Jakob en sluit met hulle ’n verbond op die berg Sinai. God is vir hulle ’n God wat hulle in die verlede versorg het, asook ’n toekoms aan hulle belowe. God kies die volk van Israel sodat hulle in sy diens kan staan. Die Here verwag onder meer van Israel om weduwees, weeskinders, armes en vreemdelinge te versorg, hulle seuns op die agtste dag te besny en om die ander voorskrifte van die wet te onderhou. Sou hulle versuim om hulle diens te volbring, verval die voordele van uitverkiesing (Bosch 1991:18). Die verbond met Abraham sluit ’n belofte vir die nasies in: dat Abraham en sy nasate (Israel) geseënd is sodat hulle ’n seën vir die nasies sal wees. Die Here as God van Israel is ook die Skepper en Here van die hele wêreld, en daarom kan Israel slegs hulle eie geskiedenis verstaan in die lig van die geskiedenis van die nasies, en nie as ’n aparte geskiedenis nie (Bosch 1991:18). Die belofte vir die nasies in die Ou Testament is dat hulle geroep word om die Here, eers in Silo en later Jerusalem, saam met die uitverkore volk te dien.

In die Ou Testament bly Israel die middelpunt van die verhouding tussen God en die wêreld, en derhalwe koester die groter deel van Israel ’n negatiewe beeld van vreemde nasies. Wanneer die politieke en sosiale omstandighede van die mense van die verbond verbrokkel, ontwikkel ’n sterk teologie van ’n Messias wat die nie-Joodse nasies sal oorwin en die volk uit onderdrukking sal red. Die konteks van die verwagting is Israel se onderwerping aan en oorheersing deur buitelandse magte waaronder Egipte, die Assiriërs, Babiloniërs, Grieke en Romeine. Die vooruitsigte is gewoonlik gekoppel aan die verwagting dat Israel oor die wêreld sal heers en alle nasies sal oorheers. Dit is in hierdie konteks en klimaat waarin Jesus gebore sou word (Bosch 1991:20).

In die Nuwe Testament het Jesus se bediening ’n sterk inklusiewe element. Die armes en die rykes, diegene wat onderdruk word en diegene wat onderdruk, die sondaar en die godvresende word ingesluit. Die missionêre aspek van Jesus se bediening word deur sy ingryping in mense se lewens openbaar. Mense wat pyn ervaar, deur die dood of siekte gebind word, van demone besete is of in sonde of liefdelose selfgeregtigheid lewe, word deur Jesus deur die krag van God vrygemaak (Bosch 1991:32). Op hierdie wyse manifesteer Jesus die koninkryk of koningsheerskappy van God oor die wêreld, wat ook die tema van sy prediking is.

Die vroeë kerk se missie was revolusionêr. Inklusiwiteit teenoor eksklusiwiteit is ’n deurlopende tema in die Nuwe-Testamentiese Christelike kerk. Verhoudings wat politieke en sosiale grense oorbrug het, was die norm. Jood en Griek, burger en slaaf, rykes en armes, man en vrou – almal het mekaar as broer en suster aanvaar (Gal 3:28; Bosch 1991:48). Christus het aan sy dissipels die opdrag gegee om die Goeie Nuus te bring – eerstens in Jerusalem maar ook in die hele Judea en Samaria en tot aan die uithoeke van die aarde (Hand 1:8). Die boodskap moes eers verkondig word aan die Jode wat in Israel bly. Op Pinksterdag met die uitstorting van die Heilige Gees het Petrus die eerste keer die evangelie in Jerusalem verkondig, en daarna het Christen-Jode die boodskap na Judea en Samaria versprei. Die gevolg daarvan was dat die vroeë kerk hoofsaaklik uit bekeerde Jode bestaan het (Cairns 1954:59). Later, in Handelinge 8:5–25, verkondig Filippus die goeie nuus aan diegene wat nie van Joodse herkoms is nie, naamlik die Samaritane. Petrus verkondig die goeie nuus in die huis van Cornelius, ’n Romeinse heiden. Alhoewel die boodskap aanvanklik aan Jode verkondig is, was dit nie lank nie voordat daar ’n groot nie-Joodse kerk in Antiochië ontstaan het. Paulus het vanuit hierdie kerk sy bediening begin om die goeie nuus aan die heidene bekend te maak (Cairns 1954:62).

Die voorwaarde om by die ‘mense van God’ ingesluit te word, is geloof in Christus. Daardeur word Jood en nie-Jood toegang tot die nuwe verbond gebied – elkeen wat glo, sal gered word. Alhoewel daar ’n werklike toekoms vir die nasie van Israel is, is daar nou ’n ander vereiste om deel te wees van God se mense, naamlik deur geloof in Christus Jesus, die Messias.

Gevolgtrekking

Hierdie navorsing het die ontstaan, ontwikkeling en hoofleerstellings van die Brits-Israeli- en Israelvisie-beweging nagespoor met die doel om die toename in die invloed van die beweging ná 1994 in Suid-Afrika sosiologies te verklaar. Die leerstellings van die Israelvisie-beweging sluit aan by sekere waarde-oortuigings van ’n bepaalde groepering binne die ‘Afrikaners’ voor 1994. Een van die hooftemas is eksklusiwiteit, wat ‘Afrikaners’ as die erfgename van die Ou-Testamentiese Abrahamitiese verbond identifiseer op grond daarvan dat sommige Westerse wit mense die nageslag van die tien stamme van Israel sou verteenwoordig. Vanuit die Abrahamitiese verbond sowel as die ander relevante gedeeltes van die Ou en Nuwe Testament, is dit duidelik dat die Here bedoel het dat alle nasies Hom sou dien en dat Israel slegs die instrument was waardeur die belofte aan die nasies vervul sou word. Die seën op en verbond met Abraham en sy nageslag as uitverkore volk, sluit nie ’n fokus op die inkorporasie van die nasies in God se heilsplan uit nie. Hierteenoor is een van die mees prominente leerstellings van die Israelvisie-beweging, dat slegs die nageslag van Abraham verseker kan wees van uitverkiesing en dat geen ander nasie of mense-groep gered sal word nie. Aan die hand van bybelse gegewens is so ’n standpunt van eksklusivisme onaanvaarbaar.

Die ideologie word op die interpretasie van die verbond met Abraham gebaseer, waarin dit uitsluitlik die nageslag van Abraham is met wie die Here in ’n verhouding staan. Alle ander rasse en groepe word daardeur uitgesluit. Wanneer die verbond wat met Abraham gesluit is, nagegaan word, is daar egter ’n duidelike inklusiewe element: Abraham en sy nageslag word geseën sodat die nasies ook daardeur seën kan ontvang. Elke daaropvolgende verbond wat met die nasie van Israel gesluit word, bou voort op die aanvanklike verbond met Abraham en ontwikkel as ’n progressie waarvan die nuwe verbond die klimaks is – die nuwe verbond wat bepaal dat elkeen wat glo, die ewige lewe kan ontvang. Die inklusiwiteit van die nuwe verbond word geopenbaar deur die werk van die dissipels wat die goeie nuus aan alle mense, Jode en Grieke, slawe en vrygeborenes, man en vrou, verkondig het.

Die groot gevaar van die denkwyse is dat diegene wat die Israelvisie- of Brits-Israeli-beweging se ideologie end-uit volg, Christus as Messias en enigste pad tot redding bevraagteken of algeheel verwerp, terwyl dit die meeste ander mense uit God se heilsplan, wat duidelik vir alle mense voorsiening maak, sluit.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeurs verklaar dat hulle geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hulle nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Outersbydrae

Hierdie navorsing was afgehandel terwyl L.M. haar Meestersgraad in Teologie by die Noordwes-Universiteit voltooi het. M.N. was die studieleier van die navorsingsprojek.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing sonder direkte kontak met mens of dier.

Befondsing

Die artikel het geen befondsing van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore ontvang nie.

Data beskikbaarheidsverklaring

Datadeling is nie van toepassing op die artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in die artikel uitgedruk word, is dié van die outeurs en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeurs nie.

Literatuurverwysings

Afrikaner Volksparty, 2011, ‘Hoekom het ons volk so liberaal geword?’, viewed 19 August 2022, from http://afrikanervolksparty.org/index.php/152-ou-web-argief/gawie/4420-waarom-het-ons-volk-so-liberaal-geword.html.

Ankura, 2006, ‘Die Israelvisie’, viewed 30 July 2022, from https://www.ankura.net/2006/05/02/die-israelvisie1/.

Barbieri, L.A., 1983, ‘Matthew’, in J.F. Walvoord & R.B. Zuck (eds.), The Bible knowledge commentary: An exposition of the Scriptures, vol. 2, pp. 13–94, Victor Books, Wheaton, IL.

Barkun, M., 1997, Religion and the racist right, The University of North Carolina Press, Chapel Hill, NC.

Beyers, J., 2017, ‘Religion and culture: Revisiting a close relative’, HTS Teologiese Studies 73(1), a3864. https://doi.org/10.4102/hts.v73i1.3864

Bosch, D.J., 1991, Transforming mission, Obis Books, New York, NY.

British-Israel World Federation, n.d., ‘History’, viewed 30 July 2022, from http://www.britishisrael.co.uk/history.php.

Burge, G.M. & Hill, A.E., 2012, The Baker illustrated Bible commentary, Baker Books, Grand Rapids, MI.

Cairns, E.E., 1954, Christianity through the centuries, Zondervan, Grand Rapids, MI.

Carson, D.A., France, R.T., Motyer, J.A. & Wenham, G.J., 1994, The new Bible commentary, IVP Academic, Downers Grove, IL.

Cruywagen, V., 2022, ‘Right-wing “terrorist pastor’s” dark plan for a bloody coup unravel in high court’, Daily Maverick, 07 May, viewed 20 January 2023, from https://www.dailymaverick.co.za/article/2022-05-07-right-wing-terrorist-pastors-dark-plans-for-a-bloody-coup-unravel-in-high-court/.

Davis, R., 2022, ‘Israel vision – How the religious cult that drove the Boeremag still flourishes online’, Daily Maverick, 29 May, viewed 02 September 2022, from https://www.dailymaverick.co.za/article/2022-05-29-israel-vision-how-religious-cult-that-drove-boeremag-still-flourishes-online/.

Du Plessis, I.J., 2007, ‘Matteus’, in F. Janse van Rensburg & W. Vosloo (reds.), Die Bybel in praktyk, 4de uitg., pp. 1369–1445, Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging.

Durham, M., 2008, ‘Christian identity and the politcs of religion’, Totalitatian Movements and Political Religions 9(1), 79–91. https://doi.org/10.1080/14690760701856408

Erasmus, P.A., 2005, ‘Antropologiese spel met identiteit: Selfrefleksie op die Afrikaner’, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 45(2), 232–243.

Fausset, A.R., Jamieson, R. & Brown, D., 1997, Commentary critical and explanatory on the whole Bible, S.S. Scranton Co, Hartford, CT.

Fee, G.D., Hubbard, R.L. & Tappy, C.G., 2011, The Eerdmans companion to the Bible, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Giliomee, H., 1988, ‘Western Cape farmers and the beginnings of Afrikaner nationalism, 1870–1915’, Journal of Southern African Studies 14(3), 504–507. https://doi.org/10.1080/03057078708708159

Greyling, C., 1992, ‘From hyper-imperialist to super-Afrikaner: The developments within a white theology’, Journal for the Study of Religion 5(2), 47–63.

Hebrew Nations, n.d., ‘Brit-ish’, viewed 19 August 2022, from http://hebrewnations.com/articles/biblical-proof/ba/brit-ish.html.

King, P.E., 2003, ‘Religion and identity: The role of idealogical, social and spritual contexts’, Applied Developmental Science 7(3), 197–204. https://doi.org/10.1207/S1532480XADS0703_11

Korf, J. & Malan, L., 2002, ‘Threat to ethnic identity: The experience of white Afrikaans-speaking participants in postapartheid South Africa’, The Journal of Social Psychology 142(2), 149–169. https://doi.org/10.1080/00224540209603892

Lyman, S.M., 1998, ‘The Lost Tribes of Israel as a problem in history and sociology’, International Journal of Politics, culture 12, 7–42. https://doi.org/10.1023/A:1025902603291

Malan, J., n.d., ‘Die verbondsvolk Israel: Wie is hulle?’, viewed 19 August 2022, from http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Israelvisie.htm.

Martin, W.R., 1965, The kingdom of the cults, Bethany Felllowship, Inc Publishers, Minneapolis.

Murray, A.H., 1947, Die Afrikaner se Kerkgeskiedenis 1803–1910, Haum Uitgewers, Kaapstad.

Neser, F.W.C., 1982, Die verlore tien stamme van Israel, Jotha Drukkers, Wonderboom.

Roberts, C.H., 2003, Race over grace: The racialist religion of the Christian Identity movement, iUniverse, Inc., Lincoln.

Scholtz, G.D., n.d., ‘Liberalisme in die perswese’, viewed 22 August 2022, from http://gelofteland.org/index.php/ons-volk/233-afrikaner-liberalisme/5385-afrikaner-liberalisme-7.html.

Scholtz, J.J., 2017, ‘Israelologie: ’n Bybelsteologiese perspektief oor Israel se verlede, hede en toekoms’, In die Skriflig 51(1), a2231. https://doi.org/10.4102/ids.v51i1.2231

Schönteich, M. & Boshoff, H., 2003, ‘Monograph 81: “Volk”, faith and Fatherland. The security threat posed by the White Right’, viewed 20 January 2023, from https://issafrica.org/research/monographs/monograph-81-volk-faith-and-fatherland.-the-security-threat-posed-by-the-white-right-martin-schonteich-and-henri-boshoff.

Smith, M., 2017, ‘Rightwing religions: Where do they come from?’, IOL News, 17 June, viewed 22 August 2022, from https://www.iol.co.za/news/politics/rightwing-religions-where-do-they-come-from-108250.

Sternberg, R.J., 1995, Psychology: In search of the human mind, Harcourt, Inc., Orlando, FL.

Turner, D.L. & Bock, D.L., 2005, ‘Matthew’, in P.W. Comfort (ed.), The Cornerstone Biblical Commentary, vol. 11, pp. 1–390, Tyndale House Publishers Inc., Carol Stream, IL.

Van der Merwe, J.P., 2008, ‘Waardes as kultuuraspek van die Afrikaner’, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 48(3), 357–373.

Van der Merwe, J.P., 2009, ‘Afrikaner values in post-apartheid South Africa: An athropological perspective’, PhD thesis, University of the Free State, Bloemfontein.

Van Niekerk, A.A., 2000, ‘Afrikanerskap: Ten slotte of opnuut? Nabetragting van André du Toit se Die sondes van die vaders’, South African Journal of Philosophy 19(4), 365–385. https://doi.org/10.1080/02580136.2000.11644284

Venter, P.M., 1988, ‘Israelvisie: Destruksie of dekonstruksie?’, Hervormde Teologiese Studies 44(2), 514–539. https://doi.org/10.4102/hts.v44i2.2225

Wilson, J., 1845, Our Israelitish origin, Ward & Co., London.

Voetnota

1. Hier word verwys na ‘nie-Jode’ in plaas van ‘heidene’ aangesien die term heidene negatiewe konnotasies vir sommige gelowiges inhou.



Crossref Citations

No related citations found.