Book Review

‘n Metaforiese teologiese benadering

Book Title: Theology on TIPTOE. Twilight ‘preludes’

Author: Dr P.P. Kruger

ISBN: 987654321098

Publisher: Zero Plus Printers, Pretoria, 2024

*Book price R150.00 at time of review

Review Title: ‘n Metaforiese teologiese benadering

Reviewer:
Jan Harm van Wyk1symbol

Affiliation:
1Unit for Reformational Theology and the Development of the SA Society, Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Corresponding author: Jan Harm Wyk, amiejanvw@gmail.com

How to cite this book review: Harm van Wyk, J., 2025, ‘’n Metaforiese teologiese benadering’, In die Skriflig 59(1), a3163. https://doi.org/10.4102/ids.v59i1.3163

Copyright Notice: © 2025. The Authors. Licensee: AOSIS. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Inleiding

Met hierdie boek het Kruger die teologiese wêreld verras in terme van temas sowel as die behandeling daarvan. Hierdie is ’n insiggewende en deeglik nagevorste werk wat ’n diepgaande lees en noukeurige ontleding vereis, eerder as ’n oppervlakkige beoordeling. Bekende klassieke teoloë soos Augustinus, Calvyn, Bavinck, Berkouwer en Snyman kom gereeld ter sprake. Die skrywer bly getrou aan die klassieke belydenis van die kerk, maar met ’n vars benadering en invalshoek. Die uitgebreide bronnelyste aan die einde van elke hoofstuk getuig van ’n deeglike navorsingsproses.

Bespreking

Hoofstuk 1 handel oor die ‘Die simfonie van sugtendes’. Die skrywer gebruik die metafoor van ’n teater om teologie te benader in plaas van ’n filosofiese raamwerk. Die tema van die koninkryk van God speel ’n deurlopende rol in die boek: ‘We already discern the dawn-twilight of God’s coming kingdom breaking into this penultimate world-scenery’ (p. 15). ‘We are arguing for the reality of embodied faith and the reality of embodied Kingdom’ (p. 114). So word daar ook na die werk van die MD Foundation in Ficksburg verwys en opgemerk dat dit die volgende geloofsvisie het: ‘to make God’s Kingdom visible on earth’ (pp. 128, 120, 137).

In hoofstuk 2 word afskeid geneem van gereformeerde ‘mensgemaakte teïsme’ wat God se bestaan en werksaamheid erken, maar die hiddenness [verborgenheid] van die lewende God in sy openbaring ignoreer. Denkers soos Luther en Bavinck wys in hierdie verband die weg aan. Die skrywer beklemtoon hoe God hom verberg vir enige onregmatige fokus op nasionalisme soos dit in Suid-Afrika en tydens die apartheidsjare by die Doppers gebeur het. Die hoofstuk sluit af met ’n aantal opmerkings in verband met die koms van die koninkryk, wat later weer opgehaal word.

In hoofstuk 3 word die Sinode van Dordtrecht (1618–1619) bespreek, met ’n spesifieke verwysing na Jakob se geveg by die Jabbok met ’n man, en dat hierdie geveg die hidden en revealed gesig van God openbaar (p. 49).

Hoofstuk 4 handel oor Luther se vryheidsparadoks. Luther ontdek dat die goddelike gawe een sonder teruggawe is: Christus ruil ons gebondenheid om vir sy vryheid – ’n werk wat volkome deur die Gees van God bewerkstellig word (p. 57). Luther het in hierdie verband ’n invloed op die Russiese skrywer, Dostoevsky, gehad wat die twee kante van teologie (geloof en twyfel) beskryf het (p. 63).

In Hoofstuk 5 vra die skrywer of ’n benadering soos dié van Lessing in intergeloofsteologie gevolg moet word. Baie Christene is vasgevang in ’n verlammende middelmatigheid en verbeeldingloosheid (p. 72), terwyl die filosoof, Lessing, in die waarheidsaansprake van die drie Abrahamitiese godsdienste belangstel (p. 74). ’n Intergeloofsgesprek word as noodsaaklik beskou, aangesien Bavinck meen dat daar, volgens die Skrif, ook Godsopenbaring onder die heidene is (p. 80). Calvyn het verklaar dat, wat God vir mense besluit het, vir ons onbekend is maar dat dit vroom en menslik is om die beste vir hulle te hoop (p. 81). Vir Calvyn is die skepping ’n teater van God se glorie (pp. 76, 137).

Hoofstuk 6 herbeklemtoon sakramentele ‘vreugdevolle uitruiling’ en ondersoek Artikels 33–35 van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Die sakramentele herfokus is veral gerig op wie God is (p. 95). Die doop is deur Christus ingestel as ’n doop van sy koninkryk (p. 100), en die sakramente moet as dramatiese koninkryksgebeure gesien word (p. 90). Deur die doop word ons in die kerk ontvang en onderskei van nie-Christene (p. 98). Die een onsigbare kerk word sigbaar deur die nagmaal (p. 101). Anders as Zwingli, wat die verlede beklemtoon het, het Calvyn gefokus op wat tans in die nagmaal gebeur (p. 103).

Hoofstuk 7 ondersoek die wonderlike omruiling in grondbesit: comedy of commerce. Hierdie hoofstuk verwys na die misdadige imperialisme en kolonialisme van die Westerse wêreld, insluitend apartheid in Suid-Afrika (p. 111). Daar word veral ook na die nadele van die Grondwet van 1913 verwys. Grondhervorming word nie net met die koninkryk van God in verband gebring nie, maar ook met die nagmaalsgemeenskap. Etnosentrisme word deur ’n nuwe broederskap ondermyn, en een van die mees opspraakwekkende uitsprake in die Nuwe Testament oor ekonomie word in 2 Korintiërs 8 en 9 gevind (p. 129).

Hoofstuk 8 se tema handel oor ‘Wysheids-rebellie: Koninkrykspolitiek as ’n guerrilla drama’. Die koninkryk van God speel hier ’n deurslaggewende rol. Daar word byvoorbeeld genoem ‘the relation of kingdom to politics is crucial for a Christian approach to democracy’ (p. 130), en dat koninkrykspolitiek noodsaaklik is waar koningskinders op die markplein waar die Koning is, optree (p. 146). Die Calvinistiese teologie van die koninkryk van God is teen elke vorm van vergoddeliking van die staat gekant (p. 137). Calvyn het geleer dat mense in ’n volgepakte teater geplaas is en dat hulle onder God se oë lewe (p. 133). Soos Shakespeare gesê het: ‘The play’s the thing wherein I’ll catch the conscience of the king’ (p. 132). Die Katolieke teoloog, Hans Küng, word ’n voorstander van ’n interreligieuse gesprek waar verskillende wêreldbeskouings gesprek voer oor ’n demokratiese staat (pp. 144–145).

Hoofstuk 9 ondersoek die vraagstuk van Christelike identiteit in die interreligieuse dialoog. Hier word sterk aansluiting gevind by Küng. Wat Küng van ander gespreksgenote onderskei, is sy vertrekpunt: ‘Jesus Christus die gekruisigde’– vir hom is daar net een ware religie: God geopenbaar in Jesus Christus (p. 155). Hy was egter ’n groot voorstander van interreligieuse dialoog en dit is hoofsaaklik vanweë sý inspirasie dat die Deklarasie van Wêreldreligieë in 1993 aanvaar is (p. 159). Volgens hom kan God ook mense red in die wêreldreligieë (vgl. die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan). Tog word gevra of Küng nie die goddelikheid van Jesus onderbeklemtoon nie.

Slotopmerkings

Soos aan die begin gemeld, is hierdie ’n diepsinnige werk wat teen dogmatisme, ortodoksisme en ’n oppervlakkige verstaan van Bybeltekste gekant is. Dit poog eerder om ’n beeldryke en genuanseerde verstaan van die evangelie te bevorder.

Eerstens, aan die einde van hoofstuk 2 lewer die skrywer kritiek op outeurs wat poog om die koninkryk van God sigbaar te maak in verskeie aspekte van die lewe, soos in Christelike skole. Hy voer aan dat dit nie moontlik is nie, aangesien ‘the kingdom in this age is only invisibly present in the crucified King’ (p. 33). Tog verwys hy later self na die MD Foundation in Ficksburg, wat veral binne die boederygemeenskap werk met ’n geloofsvisie ‘to make God’s Kingdom visible on earth’ (p. 128). Hierdie teenstrydigheid laat die vraag ontstaan oor die betekenis van ’n teks soos 2 Petrus 3:12, waar mense uitgebeeld word as diegene wat uitsien na die koms van die dag van God en dit probeer bespoedig.

Tweedens, die outeur wys tereg op die nadele van die Grondwet van 1913, wat bruin en swart Suid-Afrikaners ernstig benadeel het. Tog kan geargumenteer word dat ’n selfs groter benadeling reeds honderde jare vóór 1913 plaasgevind het. Volgens historici het swart stamme vanaf ongeveer 1300 n.C. uit Midde-Afrika op onwettige wyse en sonder vergoeding groot dele van Suid-Afrika beset en dit nadat die Khoi-San vir duisende jare oor die ganse Suider-Afrika geswerf en gewoon het. Die benadeling en miskenning van die Khoi-San word steeds nie voldoende in die hedendaagse Suid-Afrikaanse diskoers beredder nie.

Derdens, die skrywer volg ’n unieke teologiese benadering waarin hy saam met Calvyn die skepping as ’n teater van God se glorie beskou (pp. 76, 133, 137). Dit laat die vraag ontstaan of dit metodologies verantwoordbaar is om die volledige teologie van ’n bekende teoloog slegs op grond van een van sy opmerkings te rekonstrueer. Word die openbaring van God in Jesus Christus deur die Heilige Gees nie daardeur verswak of moontlik selfs verduister nie?

Vierdens, ’n finale opmerking oor die formatering en uitleg van die boek: In al die hoofstukke, behalwe die laaste, is die soms uitgebreide bronverwysings in die hoofteks self opgeneem eerder as in voetnote. Hierdie benadering kan leesbaarheid belemmer en verhinder soms die onmiddellike begrip van ’n argument.

Ten slotte, die boek bevestig die woorde van Calvyn, wat die skrywer in die Náwoord van sy preekbundel Die Woord spreek vandag: Boodskap en Besinning (2010) aanhaal: ‘Dit is beter om op die pad van die Heilige Gees te hink as om met die grootste behendigheid daarby verby te stap.’

Literatuurverwysing

Kruger, P.P., 2010, Die Woord spreek vandag: Boodskap en Besinning, Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, Potchefstroom.



Crossref Citations

No related citations found.