About the Author(s)


H.P. Malan van Rhyn Email symbol
Department of Biblical Studies, Faculty of Biblical Studies and Philosophy, AROS, Pretoria, South Africa

Citation


Van Rhyn, H.P.M., 2026, ‘Die telos van die unieke tipering van die wederkoms as die parousia van die Seun van die Mens’, In die Skriflig 60(3), a3212. https://doi.org/10.4102/ids.v60i3.3212

Note: The manuscript is a contribution to the collection titled ‘Francois P. Viljoen Festschrift’, under the expert guidance of guest editor Prof. Albert Johannes Coetsee.

Original Research

Die telos van die unieke tipering van die wederkoms as die parousia van die Seun van die Mens

H.P. Malan van Rhyn

Received: 27 June 2025; Accepted: 22 Aug. 2025; Published: 20 Jan. 2026

Copyright: © 2026. The Author. Licensee: AOSIS.
This work is licensed under the Creative Commons Attribution 4.0 International (CC BY 4.0) license (https://creativecommons.org/licenses/by/4.0/).

Abstract

The telos of the unique designation of the Second Coming as the parousia of the Son of Man in Matthew 24. This article investigates the unique and purposeful characterisation of the Second Coming of Jesus Christ as ἡ παρουσία τοῦ υἱοῦ τοῦ ἀνθρώπου [the parousia of the Son of Man] as found exclusively in Matthew 24. This phrase, appearing only three times in the New Testament, all within the same chapter, is exegetically and theologically loaded. Using a grammatical-historical and revelation-historical methodology, this study explores the telos [purpose] of this specific revelation within its eschatological context. The study begins with an exegetical analysis of the phrases ὁ υἱὸς τοῦ ἀνθρώπου [Son of Man] and παρουσία [parousia or coming]. The Son of Man, rooted in Daniel 7, is portrayed as a divine, ruling figure, not merely human. The title emphasises Christ’s divinity, kingship, mediatorship, and eternal reign. The term παρουσία, used technically in early Christianity to describe Christ’s eschatological return, signifies his visible, bodily, and glorious presence at the end of time as Judge and King. By combining these two theological concepts into one phrase, Matthew 24 creates what is rhetorically a pleonasm, yet theologically an intensification: a deliberate emphasis on the identity and majesty of Christ in his return. The context of Matthew 24 clarifies the goal of this revelation: to warn the disciples against deception, encourage their perseverance, and comfort them with the certainty of Christ’s return and deliverance.

Contribution: The primary contribution of this study lies in identifying and analysing a theologically dense phrase that has been largely overlooked in scholarly literature. By formulating a comprehensive semantic definition of παρουσία and connecting it to the title the Son of Man, the article offers a new lens for interpreting Matthew 24. This phrase functions not merely as a descriptive term for Christ’s return but as a concentrated theological proclamation of who he is, how he will return, and what the glorious outcome of that return will be. Furthermore, the study demonstrates that this phrase serves multiple revelatory purposes [teloi]: polemical (against deception), pastoral (encouraging the faithful), ethical (calling for readiness and stewardship), and evangelistic (a call to repentance). The church is thus called to hopeful endurance in the face of suffering, armed with the assurance that the Son of Man will come visibly, gloriously, and triumphantly.

Keywords: pariousia; second coming; Son of Man; prophetic speech; Matthews 24.

Voorwoord

Dit is vir my ’n voorreg om ’n bydrae te lewer tot hierdie Festschrift wat opgedra word aan prof. Francois Viljoen. Ek en hy was sedert 1979 vir sewe jaar klasmaats aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) waar ons ons voorberei het om bedienaars van die goddelike Woord te word.

Prof. Viljoen is veral bekend vir sy navorsing oor die Bergpreek van die Here Jesus. In die Evangelie volgens Matteus begin Jesus Christus se prediking met die Bergpredikasie en Hy sluit sy prediking af met die Profetiese Rede. In die Bergpreek waarsku Jesus teen die komende oordeel (Matt 7:21–23), en in die Profetiese Rede brei Hy verder uit oor die oordeel wat met die parousia sal plaasvind. In hierdie artikel word Jesus se tipering van die wederkoms as die parousia van die Seun van die Mens in die Profetiese Rede ondersoek.

Inleiding

In Matteus 24 en 25 word die groot eskatologiese gesprek of preek van ons Here Jesus, die sogenaamde Profetiese Rede, weergegee. In hierdie Skrifgedeelte fokus Hy sterk op sy wederkoms aan die einde van die dae. In sy openbaring van sy koms in Matteus 24 (vv. 27, 37 en 39) gebruik Hy drie keer die frase ἡ παρουσία τοῦ υἱοῦ τοῦ ἀνθρώπου, die wederkoms van die Seun van die Mens. Die kombinasie van ἡ παρουσία met τοῦ υἱοῦ τοῦ ἀνθρώπου in een frase is ’n unieke samestelling in die Nuwe Testament wat uitsluitlik in Matteus 24 voorkom (France 2007:909), soos enige rekenaarsoektog na die frase in die oorspronklike Griekse teks ook sal bevestig.

Die woord παρουσία word slegs vier keer in die Evangelies in die konteks van die wederkoms gebruik – elke keer in Matteus 24 (Van Rhyn & Jordaan 2020:1).

Die uniekheid van die frase laat die volgende navorsingsvraag ontstaan: Wat is die telos van die tipering van Jesus Christus se wederkoms as ἡ παρουσία τοῦ υἱοῦ τοῦ ἀνθρώπου in Matteus 24? Die doel van hierdie artikel is om openbaringshistories, met behulp van grammaties-historiese eksegese, vas te stel wat die geopenbaarde doel van die wederkomsverkondiging aan die hand van ἡ παρουσία τοῦ υἱοῦ τοῦ ἀνθρώπου in Matteus 24 is. Met ander woorde, met watter doel [telos] word die wederkoms aan die hand van die spesifieke frase, ἡ παρουσία τοῦ υἱοῦ τοῦ ἀνθρώπου, in God se Woord geopenbaar?

In die artikel word die twee uitdrukkings ὁ ὑιὸς τοῦ ἀνθρώπου [die Seun van die Mens] en ἡ παρουσία [die wederkoms] eksegeties ondersoek. Die betekenis en implikasie van die unieke samevoeging van die twee konsepte om die wederkoms van Jesus Christus mee aan te dui, word nagegaan. Laastens word daar gepoog om die telos van die openbaring van die wederkoms as ἡ παρουσία τοῦ υἱοῦ τοῦ ἀνθρώπου in Matteus 24 vas te stel.

Die Seun van die Mens

In die frase, ἡ παρουσία τοῦ υἱοῦ τοῦ ἀνθρώπου, is ‘die Seun van die Mens’ die subjek van παρουσία, aangesien τοῦ υἱοῦ as ’n subjektiewe genitief verklaar kan word (vgl. Jordaan 2014:116).

Ladd (1993:144) wys daarop dat ‘die Seun van die Mens’ een van Jesus se voorkeurbenamings vir Homself was. Hy maak ’n driedelige onderskeiding in die gebruik van hierdie benaming: Dit word aangewend met verwysing na Jesus se aardse bediening, na sy lyding en dood, asook met betrekking tot sy eskatologiese koms in heerlikheid (Ladd 1993:147). Hierdie studie fokus spesifiek op die laasgenoemde gebruik, naamlik met betrekking tot die Seun van die Mens wat eskatologies in heerlikheid weer sal kom.

Jesus Christus word nie net as die Seun van die Mens in die Nuwe Testament aangedui nie, maar ook as die Seun van God, soos byvoorbeeld in Matteus 14:33. Sproul (2009) verwoord dit soos volg:

These two titles appearing in this way offer a strong temptation to assume that ‘Son of God’ refers exclusively to Jesus’ deity and ‘Son of Man’ refers exclusively to His humanity. However, approaching these titles in this way would lead us into very serious error. (p. 29)

Sproul (2009:30) dui verder aan dat ‘die Seun van die Mens’ een van Jesus se voorkeurbenamings is om Homself te identifiseer, en dat dit in die verband oor veel meer gaan as bloot beskeidenheid. Die tipering het sy oorsprong reeds in die Ou Testament soos Sproul (2009) dit stel:

References to the figure of the Son of Man are found in Daniel, Ezekiel, and some extra-biblical writings of rabbinic Judaism. Though scholars disagree, the historic consensus is that Jesus adopted the meaning of the term Son of Man as it is found in Daniel’s visionary work. (p. 31)

In Daniël 7:13 en 14 word die Seun van die Mens soos volg beskryf:

חָזֵה֤ הֲוֵית֙ בְּחֶזוְֵ֣י לֵיֽלְי֔אָ וַאֲרוּ֙ עִם־עֲננֵָ֣י שְׁמַי֔אָּ כְּבַ֥ר אֱנָ֖שׁ אָתֵ֣ה הֲוָ֑ה וְעַד־עַתִ֤יּ ק
יֽוֹמַיָּא֙ מְטָ֔ה וּקְדָמ֖וֹהִי הַקְרְבֽוּהִי׃
13
וְלֵ֨הּ יְהִ֤יב שָׁלְטָן֙ וִיקָ֣ר וּמַלְכ֔וּ וְכ֣לֹ עַֽמְמַיָּ֗א אֻמַיָּ֛א וְלִשָּׁנַיָּ֖א לֵ֣הּ יִפְלְח֑וּן
שָׁלְטָנֵ֞הּ שָׁלְטָ֤ן עָלַם֙ דִּֽי־לָ֣א יֶעְדֵּ֔ה וּמַלְכוּתֵ֖הּ דִּי־לָ֥א תִתְחַבַּֽל׃ פ
14

Die Nuwe-Testamentiese titel, ‘Seun van die Mens’, het dus sy wortels in כְּבַ֥ר אֱנָ֖שׁ, wat letterlik ‘soos die seun van ’n mens’ vertaal moet word. Keil (1982:236) verduidelik: ‘The comparison (כְּ, as a man) proves accordingly much more, that this heavenly or divine being was in human form’.

Sproul (2009:31) skryf verder dat Jesus Christus, die Seun van die Mens, in die Ou Testament as ’n goddelike wese beskryf word en nie bloot as ’n hemelse wese soos ’n engel nie. Die klem val dus op die goddelikheid van die Seun van die Mens en nie op sy menslikheid nie. Ladd (1993:156) wys daarop dat die Here Jesus moes ly en sterf om die ewige heerskappy te ontvang.

Ook Fausset (1997) verstaan die Seun van die Mens as ’n titel wat spesifiek met Jesus Christus verbind word. Hy merk op:

This title is always associated with His coming again, because the kingdom that then awaits Him in that belongs to Him as the Saviour of man, the Restorer of the lost inheritance. ‘Son of man’ expresses His visible state formerly in his humiliation hereafter in His exaltation. (p. 635)

Wat dus opvallend is, is dat die Persoon wat in Daniël beskryf word, nie ’n menslike figuur is nie, maar eerder ’n goddelike of hemelse figuur wat met heerlikheid beklee is, maar die voorkoms van ’n mens het. Hy ontvang ewige heerskappy, eer en onverganklike koningskap, en alle volke, nasies en tale vereer Hom. Sy wese is dus goddelik, maar sy gestalte in die visioen is menslik. Hierdie identifikasie lei tot die gevolgtrekking dat die Seun van die Mens Jesus Christus is – God wat in die vorm van ’n mens verskyn. Só gesien is daar teologies ’n sterk ooreenkoms tussen die benaming ‘Seun van die Mens’, wat dikwels met die wederkoms verbind word (Fausset 1997:635), en die betekenisomskrywing van παρουσία, wat in die volgende afdeling bespreek word. Albei begrippe beklemtoon die sigbare aankoms en teenwoordig wees van die Here Jesus as Verlosser en God wat in heerlikheid kom.

Die Seun van die Mens dui dus op Jesus se Godheid, sy Koningskap, sy Middelaarskap en sy ewige regering. Hierdie eienskappe word juis in die Nuwe Testament met die benaming, die Seun van die Mens, beklemtoon eerder as sy menslikheid. Hy is God wat mens geword het, en Hy gaan weer as God in heerlikheid kom soos Openbaring 1:13–20 en 14:1420 ook bevestig.

Dit kan dus onomwonde gestel dat, wanneer die titel Seun van die Mens vir Jesus Christus gebruik word en aan die wederkoms verbind word, dit sy Godheid, sy Koningskap, sy Middelaarskap en sy ewige regering beklemtoon. Jesus Christus openbaar Homself dikwels as die Seun van die Mens, veral wanneer sy wederkoms ter sprake is. Sy telos hiermee is om sy volgelinge daaraan te herinner dat Hy weer sal kom as God, ewige Koning en Middelaar.

Parousia

In hierdie afdeling word die wederkomswoord παρουσία as deel van die uitdrukking ἡ παρουσία τοῦ υἱοῦ τοῦ ἀνθρώπου ondersoek.

In die gereformeerde teologie neem die wederkoms van ons Here Jesus Christus ’n kardinale plek in die raadsplan van God in (Van Rhyn 2017:239), en die begrip word in die Nuwe Testament met verskillende Griekse woorde of sinsnedes weergegee (Coetzee 1984:338–340; Matter 1980:9).Παρουσία is een van die wederkomswoorde en word dikwels as tegniese term gebruik om spesifiek na die wederkoms te verwys (Matter 1980:7).

Die begrip παρουσία kom 24 keer en in nege Nuwe-Testamentiese boeke voor (Wigram & Winter 1978:596). In 17 van hierdie gevalle verwys παρουσία na die wederkoms van Jesus Christus (Hiers 2011:742), insluitend die vier keer wat dit in Matteus (24:3, 27, 37, 39) voorkom.

Morris (1988) wys op die belangrikheid van hierdie begrip vir gelowiges:

From all this it is clear that the Parousia was a concept of great importance for the early Christians. They spoke about it in a variety of ways and referred to it often, probably more often than to any other single doctrine in the NT. They looked with eager longing for the day when Jesus would return. (p. 664)

In die Hellenistiese Grieks is daar nie onderskeid gemaak tussen die profane en die sakrale gebruik van die woord παρουσία nie (Oepke 1964a:859). Die term kon verwys na die heilsame teenwoordigheid van ’n godheid, maar is ook as tegniese term gebruik vir die besoek van ’n regeerder of belangrike amptenaar. Morris (1992:n.p) bevestig hierdie perspektief in sy verklaring van Matteus 24:3. Bruce (1982:56–57) sluit hierby aan deur te beklemtoon dat παρουσία dikwels gebruik is om na die aankoms van ’n koning te verwys – ’n gebeurtenis wat dikwels ’n nuwe bedeling ingelui het. Witthoff (2014) ondersteun hierdie insig en wys daarop dat so ’n koninklike besoek gewoonlik met ’n feestelikheid gepaard gegaan het.

Oepke (1964a:859) merk op dat die παρουσία van ’n regeerder tipies met voorbereiding en eerbewyse gepaard gegaan het en dat dit dikwels hoop vir verbetering vir die onderdane gebring het.

Wuest (1997:34) voer aan dat die eerste Christene die vergelyking tussen die παρουσια van ’n heerser en die παρουσια van Christus duidelik sou herken het. Bruce (1982:57) verduidelik verder dat vroeë Christene waarskynlik gereeld aan Christus se heerlike παρουσια gedink het wanneer hulle die luisterryke ontvangs van aardse heersers aanskou het.

Volgens Oepke (1964a:865) word die konsep παρουσία in die Nuwe Testament, uitsluitlik gebruik in verband met die wederkoms van ons Here in heerlikheid, en nie vir sy eerste koms of geboorte nie. Hy (Oepke 1964a:865) beskryf die term as ‘a technical term for the “coming” of Christ in Messianic glory’.

Dit blyk dat die woord παρουσία dus reeds algemeen bekend was vir die lesers van die Nuwe-Testamentiese geskrifte in die destydse samelewing. Die gebruik daarvan binne die konteks van die evangelie sou vir hulle geen verwarring geskep het nie.

Die gedagte van ’n wederkoms (weer kom) het egter ’n nuwe betekenis wat slegs in die Nuwe Testament voorkom. Hagner (1995:688) ondersteun hierdie siening: ‘“Parousia” now refers not to the visit or presence of an earthly king, as in the Hellenistic world, but is used technically to refer to the return of Jesus’.

Hendriksen (2002) sluit hierby aan:

[T]he term refers to the return or advent of the Lord, his coming in order to bless his people with his presence. This meaning may be viewed as a modification of the sense: ‘the arrival’ or ‘the visit’, of the king or emperor. (p. 861)

Uit bogenoemde is dit duidelik dat die gebruik van παρουσία as tegniese term vir die wederkoms van Jesus Christus in heerlikheid aan die einde van die tyd sy oorsprong in die Hellenistiese konteks het, waar dit vir die aankoms of teenwoordigheid van ’n regeerder of oorwinnaar gebruik is. Die aankoms van die regeerder is met groot voorbereiding voorafgegaan en het met lofprysing en eerbewys gepaard gegaan. Die teenwoordigheid van die regeerder het hoop en verwagting vir verbeterde omstandighede gebring.

Louw en Nida (1996:189) onderskei tussen twee kernbetekenisse vir παρουσία: teenwoordigheid [presence] (85.25) en aankoms [arrival] (15.86). Dit is opvallend dat Louw en Nida nêrens na die wederkoms van Jesus Christus in hulle bespreking van die gebruike van παρουσία verwys nie. Hulle kies boonop 2 Korintiërs 10:10 as voorbeeld om die gebruik van παρουσία in die Nuwe Testament te verduidelik – ’n teks waar dit bloot oor Paulus se fisiese teenwoordigheid gaan. Hierdie teks is egter een van net sewe uitsonderings in die Nuwe Testament waar παρουσία gebruik word sonder verwysing na Christus se wederkoms en waar Jesus Christus nie die handelende persoon van die παρουσία is nie (Hiers 2011:742).

Dit is opvallend dat Louw en Nida in hulle bespreking van παρουσία geen melding maak van die wederkoms van Christus nie en dat daar ook nêrens in hulle woordeboek ’n aparte domein of sub-domein vir die betekenisaspek van ‘wederkoms’ ingeruim word nie. Die enigste relevante aspek onder hierdie betekenismoontlikheid van ‘teenwoordigheid’ wat op hierdie artikel van toepassing is, is dat wanneer παρουσία ten opsigte van Jesus gebruik word, dit beteken dat Hy persoonlik en liggaamlik teenwoordig is.

Volgens Van Rhyn en Jordaan (2020:5) kan die kernelement van die betekenisomskrywing van παρουσία die volgende wees: Jesus Christus sal sigbaar aankom en teenwoordig wees met sy wederkoms.

Die volgende elemente moet ook, aldus Van Rhyn en Jordaan (2020:5), in die betekenisomskrywing van παρουσία vervat word:

  • Die koms van die Here Jesus Christus sal sigbaar wees en Hy sal sigbaar en liggaamlik op aarde teenwoordig wees.
  • Sy goddelikheid en heerlikheid as Here sal duidelik blyk.
  • Sy volgelinge sal voorbereid wees vir sy koms.
  • Gelowiges sal sy teenwoordigheid met lofprysing en eerbewys vier.
  • Hy kom aan die einde van die tyd.
  • Hy kom as Koning of Regeerder, Oorwinnaar, Regter en Here.
  • Sy koms is ’n wederkoms, ’n terugkoms.
  • Sy koms sal troos en hoop vir sy volgelinge bring.
  • Hy kom om ’n nuwe bedeling tot stand te bring deur sy volgelinge se omstandighede te verander.
  • Hy kom om sy volgelinge ewig te verlos.
  • Dit sal ’n wederkoms vanuit die hemel wees.

Op grond van ’n diakroniese en ’n sinkroniese woordstudie formuleer Van Rhyn en Jordaan (2020) die volgende betekenisomskrywing van παρουσία as wederkomswoord:

Dit is die sigbare wederkoms en troosvolle teenwoordig wees van Jesus Christus, vanuit die hemel, by sy mense op aarde, aan die einde van die tyd, in heerlikheid as goddelike Regeerder, Koning, Oorwinnaar, Regter en Here, waarvoor sy mense voorberei het, wat gepaard sal gaan met lofprysing en eerbewys, wat sy volgelinge met hoop sal vervul omdat Hy hulle omstandighede sal verander deur hulle vir ewig te verlos. (p. 8)

Die parousia van die Seun van die Mens

In hierdie afdeling word daar enkele opmerkings gemaak oor die frase ἡ παρουσία τοῦ υἱοῦ τοῦ ἀνθρώπου, wat soos reeds in die inleiding aangetoon is, uniek is aan Matteus 24.

In die afdeling oor die Seun van die Mens is daar reeds daarop gewys dat die frase die Here Jesus se Godheid, sy Koningskap, sy Middelaarskap en sy ewige regering beklemtoon. Indien die gevolgtrekking vergelyk word met die betekenisomskrywing van παρουσία soos hierbo aangetoon, blyk dit dat die frase ἡ παρουσία τοῦ υἱοῦ τοῦ ἀνθρώπου ’n pleonasme is wat toutologies gebruik word. Jordaan (2014:172) definieer ’n pleonasme as ’n stylfiguur wat die gebruik van oortollige woorde behels en dikwels ’n toutologie is, dit wil sê, die gebruik van sinonieme om dieselfde saak aan te dui. Volgens Jordaan (2014:172) het ’n pleonasme die funksie om die uitbeelding te verryk en word dit aangewend om groter duidelikheid te skep of om sekere aspekte sterker te beklemtoon.

Albei begrippe, ἡ παρουσία en τοῦ υἱοῦ τοῦ ἀνθρώπου, het dus betrekking op die Here Jesus en beklemtoon sy heerlike goddelikheid, sy ewige regering of Koningskap, sowel as sy rol as Here en Middelaar. In hierdie geval is daar beslis nie sprake van oortollige woorde nie, maar van ’n doelbewuste duplisering ter wille van beklemtoning – spesifiek dat dit die Here Jesus is wat weer kom, met die klem op sy Godheid, sy Koningskap, sy Middelaarskap en sy ewige regering. In die unieke frase word twee kragtige eskatologiese begrippe saamgevoeg.

Matteus 24 as konteks

In hierdie afdeling word Matteus 24 ondersoek as konteks vir die unieke gebruik van ἡ παρουσία τοῦ υἱοῦ τοῦ ἀνθρώπου en die telos vir die gebruik van die frase binne die raamwerk van die wederkoms.

Die Profetiese Rede word ingelui met Jesus en sy dissipels wat die tempelterrein verlaat. Terwyl hulle wegstap, vestig die dissipels sy aandag op die tempelgeboue. Jesus verseker hulle egter dat alles afgebreek sal word, sodat daar nie een steen op die ander sal bly nie (Matt 24:1, 2). Hierdie woorde gee aanleiding tot die dissipels se vraag: ‘Sê vir ons, wanneer sal hierdie dinge plaasvind, en wat is die teken van u koms [τί τὸ σημεῖον τῆς σῆς παρουσίας] en van die voleinding van die tyd?’ (Matt 24:3)

Hiermee vra hulle eintlik twee dinge: eerstens, wanneer en op watter tydstip hierdie gebeurtenis sal plaasvind; en tweedens, wat die teken sal wees van sy parousia en van die voleinding van die tyd. Uit die bewoording van die vraag blyk dit dat die dissipels die verwoesting van die tempel, die parousia en die einde van die huidige bedeling as gelyktydige gebeure beskou (Hendriksen 2002:851).

Jesus begin sy antwoord met die woorde: ‘Pasop dat niemand julle mislei nie’ (‘Βλέπετε μή τις ὑμᾶς πλανήσῃ’) (Matt 24:4). Volgens BDAG (2000:821) beteken πλανάω in hierdie konteks ‘om te mislei of te bedrieg’. Die Here Jesus waarsku dus teen doelbewuste misleiding en bedrog oor Hom en sy wederkoms. Hierdie waarskuwing is sterk polemies van aard. In Matteus 24:5 voorspel Hy dat baie mense ander sal mislei deur voor te gee dat hulle die Christus is. Om nie mislei te word nie, moet die dissipels Jesus self uit die hemel verwag en nie iemand anders nie. Indien hulle iemand anders sou verwag, sou hulle hulself blootstel aan misleiding. Daarom beklemtoon Jesus in hierdie hoofstuk dat sy koms die parousia sal wees, en dat Hy as die Seun van die Mens sal verskyn.

As deel van sy antwoord, noem Jesus spesifieke gebeure wat sy koms sal voorafgaan:

  • gerugte van oorloë (Matt 24:6)
  • nasies en koninkryke sal teen mekaar opstaan (v.7)
  • hongersnode en aardbewings op verskeie plekke (v. 7)
  • geloofsvervolging, marteling en dood (v. 9)
  • universele haat en verdrukking ter wille van Christus se Naam (v. 9)
  • val, verraad en wedersydse haat (v. 10)
  • optrede van vals profete wat baie sal mislei (v. 11)
  • toename van wetteloosheid en afname van liefde (v. 12)
  • verkondiging van die evangelie van die koninkryk aan die hele wêreld as getuienis vir al die nasies (v. 14).

Jesus se woorde in Matteus 24:6 (ἀλλʼ οὔπω ἐστὶν τὸ τέλος) dui duidelik daarop dat hierdie dinge wel sal gebeur, maar dat dit nog nie die einde is nie – dit is slegs ‘die begin van die smarte’ (v. 8). Jesus se woorde in Matteus 24:14 (καὶ τότε ἥξει τὸ τέλος) dui net soos in vers 6 duidelik aan die wederkoms eers na hierdie gebeure sal plaasvind Hiermee ruim Jesus enige misverstand uit die weg oor die ‘teken’ van sy parousia (Morris 1992:598).

Te midde van hierdie ontstellende gebeure troos Jesus Christus, die Groot Pastor, sy volgelinge om nie ontsteld te word nie. Hy bemoedig hulle dat Hy na al hierdie ontstellende dinge sigbaar en in heerlikheid sal verskyn as Regeerder, Regter en magtige God, wat sy volgelinge met hoop sal vervul en tot in ewigheid by hulle sal bly.

Met sy woorde in Matteus 24:13 (ὁ δὲ ὑπομείνας εἰς τέλος οὗτος σωθήσεται) roep Jesus sy dissipels op tot volharding, ‘Die wat volhard tot die einde toe, sal gered word’.

Hier beteken ὑπομένω, volgens BDAG (2000:1039), ‘to maintain a belief or course of action in the face of opposition, stand one’s ground, hold out, endure’. Die gelowiges moet dus in hulle geloof volhard dat Jesus weer sal kom en standhou tydens die moeilike tye wat die wederkoms voorafgaan.

Die redding (οὗτος σωθήσεται), soos in Matteus 24:13, dui op die finale saligmakende verlossing in Jesus Christus (Ridderbos s.a.:146). Saam met die aanmoediging om te volhard, kom dus ook die troos van ewige verlossing.

Matteus 24:15–22 het geen direkte verwysing na die parousia van Jesus Christus nie en volgens Ridderbos (s.a.:148), behoort dit eerder aan die verwoesting van die tempel, waarna Jesus in vers 2 verwys, verbind te word. Tog wys Ridderbos (s.a.:148) ook daarop dat hierdie verwoesting van die tempel en die verdrukking wat dit sou meebring, ’n voorafskaduwing is van die groot verdrukking wat kort voor die wederkoms sal plaasvind.

Die frase, die parousia van die Seun van die Mens, kom vir die eerste keer in Matteus 24:27 voor. Hierdie vers vorm deel van ’n groter gesprek wat Jesus Christus in Matteus 24:23 begin, waar Hy die dissipels waarsku teen misleiding van ’n valse Christus: Ἰδοὺ ὧδε ὁ Χριστός, ἤ, Ὧδε. Hierdie waarskuwing bou voort op soortgelyke vermanings in 24:5 en 24:11, maar met belangrike nuanses: In Matteus 24:5 word die ‘baie mense’ vervang met ‘vals christusse en vals profete’, waar die misleiding die valse stelling: ‘Ek is die Christus’ is. In Matteus 24:23 is die misleiding die valse stelling: ‘Kyk, hier is die Christus!’ Boonop word daar nou ook gemeld van die groot tekens en wonders deur die misleiers om, indien moontlik, selfs die uitverkorenes te mislei (Matt 24:24). In Matteus 24:26 herhaal Jesus sy waarskuwing dat gelowiges nie op hulle aansprake en gerugte moet reageer dat Hy in ’n binnekamer of in die woestyn is nie.

Hierdie polemiese waarskuwing teen vals aansprake oor die wederkoms lei tot die uiteensetting van die ware feite in Matteus 24:27–31. Om sy volgelinge voor te berei, sodat hulle valse aansprake van die ware wederkoms kan onderskei, gebruik Jesus die volgende vergelyking in Matteus 24:27: ὥσπερ γὰρ ἡ ἀστραπὴ ἐξέρχεται ἀπὸ ἀνατολῶν καὶ φαίνεται ἕως δυσμῶν, οὕτως ἔσται ἡ παρουσία τοῦ υἱοῦ τοῦ ἀνθρώπου.·Hiermee beklemtoon Jesus, volgens Wilson (2022:287), dat die παρουσία van die Seun van die Mens skielik, onmiskenbaar en universeel sal wees. Dit sal so onmiskenbaar wees soos weerlig wat van die ooste uitslaan en sy lig tot in die weste laat skyn, dit wil sê, wat die hele hemelruim vul. Dit sal ’n duidelik sigbare gebeurtenis wees wat geen ruimte laat vir iets wat in die geheim in iemand se binnekamer of in die woestyn sal plaasvind waar niemand dit kan sien nie (Ridderbos s.a.:152). Volgens Tasker (1978:225) sal die wederkoms skielik en allesomvattend wees soos ’n weerligstraal wat die hemel oorspan.

Deur sy wederkoms as die Seun van die Mens met weerlig te vergelyk wat die hele lugruim verlig, maak Jesus dit duidelik dat sy volgelinge geen rede sal hê om te twyfel wanneer Hy weer kom nie, en ook nie of dit werklik Hý is of nie. Hy kom as die Seun van die Mens – dit wil sê, in goddelike heerlikheid – en sy koms sal sigbaar en onmiskenbaar wees soos ’n weerligstraal wat van oos tot wes strek (Evans 2012:406). Jesus gebruik ook hier die woord παρουσία, wat al die elemente van die bogenoemde betekenisomskrywing bevat. Daarmee openbaar Hy die fisiese en sigbare aard van sy wederkoms, met die telos dat sy volgelinge waaksaam sal wees en nie mislei sal word deur valse voorstellings nie. Bowendien sal hulle Hom dadelik herken wanneer Hy weer kom, want sy koms is immers die parousia, en Hy kom as die Seun van die Mens.

Die uitspraak in Matteus 24:28 is moeiliker om te verklaar: ὅπου ἐὰν ᾖ τὸ πτῶμα, ἐκεῖ συναχθήσονται οἱ ἀετοί. Aangesien hierdie vers direk op die voorafgaande volg, is dit logies om aan te neem dat dit ’n uitbreiding op Matteus 24:27 vorm en die onmiskenbare en sigbare aard van die wederkoms verder beklemtoon (Nielsen 1974:48). Soos aasvoëls ’n karkas van ver af herken as aas, so sal die wederkoms vir almal onmiskenbaar wees, aldus Nielsen (1974:48). Combrink (1993:34) sluit hierby aan en verduidelik soos volg: ‘Soos aasvoëls ’n seker teken van aas is, so sal duidelike tekens die koms van die Seun van die mens inlui.’

Die moontlikheid dat ὅπου ἐὰν ᾖ τὸ πτῶμα, ἐκεῖ συναχθήσονται οἱ ἀετοί ’n spreekwoord of vaste uitdrukking is, word deur Ridderbos (s.a.:152) geopper. Die mees waarskynlike verklaring is dat Jesus hier die beginsel van oorsaak en gevolg illustreer. Wanneer ’n dier in die veld vrek, lok dit onvermydelik aasvoëls. Net so sal die wêreld wat in sonde dood is, onvermydelik die oordeel van God ontlok. Hierdie oordeel sal begin met die onmiskenbare wederkoms van die Seun van die Mens (Ridderbos s.a.:152). Nel (2015) se verklaring sluit hierby aan:

Christ’s coming will be sudden and visible everywhere, resembling a lightning flash seen from one horizon to the other (24:27) and will follow only after mankind will have deteriorated morally and spiritually to such an extent that it will resemble carrion ready to be devoured by vultures (24:28). (p. 3)

Jesus waarsku sy volgelinge dus vooruit dat daar baie misleiding oor sy wederkoms sal wees, maar beklemtoon dat sy wederkoms onteenseglik herkenbaar sal wees – soos weerlig wat die hele lugruim verlig. Hierdie onmiskenbaarheid van sy koms word beklemtoon deur die gebruik van die woord παρουσία, soos verduidelik in die betekenisomskrywing, asook deur die gebruik van die frase die Seun van die Mens. Hy tipeer sy koms as die παρουσία en homself as Seun van die Mens om sy sigbaarheid en sy heerlikheid as God, ewige Koning en Middelaar te beklemtoon, sodat sy volgelinge nie deur valse aansprake mislei sal word nie.

In Matteus 24:29 begin die Here Jesus met ’n nuwe deel van sy prediking wat uitsluitlik op die parousia dui, sonder om dit met die val van Jerusalem in verband te bring (Grosheide 1954:367). Hy beskryf groot kosmiese omwentelings wat sy parousia sal voorafgaan en gebruik hiervoor die taal van die Ou-Testamentiese profete (Ridderbos s.a.:153). Te midde van hierdie gebeure, wanneer ‘die kragte van die hemele wat geskud gaan word’ [καὶ αἱ δυνάμεις τῶν οὐρανῶν σαλευθήσονται] (Matt 24:29), sal die teken van die Seun van die Mens aan die hemel verskyn [καὶ τότε φανήσεται τὸ σημεῖον τοῦ υἱοῦ τοῦ ἀνθρώπου ἐν οὐρανῷ] (v. 30).

Die dissipels het in Matteus 24:3 na ’n teken gevra, en dit blyk dat Jesus hierdie vraag direk beantwoord in vers 30: ‘Dan sal die teken van die Seun van die Mens aan die hemelruim verskyn’. Oor wat presies hierdie σημεῖον [teken] behels, bestaan daar egter uiteenlopende standpunte. Sommige verklaarders beskou dit as ’n letterlike teken – soos byvoorbeeld Scaer (2004:384), wat dit onomwonde as die kruis interpreteer. Ander soos Hendriksen (2002:864) en Ekeocha (2024:242), verstaan die teken eerder as Jesus Christus self, wat op die wolke verskyn.

Nel (2015) se waarneming oor die navorsing wat hy in hierdie verband gedoen het, is soos volg:

In its appositional sense, ‘the sign’ refers to the appearance of Christ himself in the clouds of heaven with power and glory, proving that he is the true Christ (or Messiah) and Judge of the whole world. In an objective sense the sign refers to a variety of potential objects and events […]. (p. 5)

Nel (2015) stel sy standpunt so:

It is not imperative to be able to decide amongst these options. What is important is that the sign of the Son of man proclaims the end of the world unconditionally, and herein lays its true significance. (p. 9)

Ook Blomberg (1992:362) voer aan dat dat dit nie noodsaaklik is om reeds op hierdie stadium ’n final keuse te maak oor wat die teken presies is nie.

In hierdie artikel word die benadering van Nel (2015) en Blomberg (1992:362) aanvaar, naamlik dat dit nie nodig is om ’n uitsluitende keuse te maak tussen die verskillende verklaringsmoontlikhede nie, aangesien die primêre funksie van die teken daarin lê om aan te dui dat die parousia nou gaan aanbreek. Hierdie teken verwys in elk geval na Christus self (vgl. Calvin 2010:147), aangesien dit beskryf word as ‘die teken van die Seun van die Mens’ wat op die wolke verskyn.

Die verskyning van die teken sal daartoe lei dat al die stamme van die aarde in rou sal weeklaag, aangesien hulle sal besef dat die Regter op die wolke verskyn. Hierdie besef sal egter te laat kom, en sal gepaard gaan met die wete dat hulle Hom misken het toe hulle in Hom moes glo (Grosheide 1954:368). Die doel van hierdie openbaring van die teken, wat die wederkoms vergesel, is dus tweeledig: Eerstens, om ’n dringende evangeliese oproep tot bekering aan ongelowiges te rig; en tweedens, om die geloof van gelowiges te versterk (Calvin 2010:147).

Die tweede deel van Matteus 24:30 is van besondere belang vir hierdie artikel: καὶ ὄψονται τὸν υἱὸν τοῦ ἀνθρώπου ἐρχόμενον ἐπὶ τῶν νεφελῶν τοῦ οὐρανοῦ μετὰ δυνάμεως καὶ δόξης πολλῆς·

Ook hier verwys Jesus na Homself as Seun van die Mens en beskryf Homself as ἐρχόμενον. Van Rhyn (2024) wys daarop dat dat ἒρχομαι en παρουσία op semantiese vlak nóú verbind is as wederkomsterme en bied die volgende betekenisomskrywing van ἒρχομαι, as wederkomsterm:

Dit is die liggaamlike koms van Jesus Christus met sy wederkoms, van die hemel af na die aarde, waartydens Hy in die openbaar sal verskyn in krag en heerlikheid, om te oordeel en om die gelowiges te verlos. (p. 6)

Die beskrywing van Jesus se wederkoms wanneer Hy op die wolke kom, beklemtoon die heerlikheid waarmee Hy kom en onderstreep sy identiteit as God en Koning (Morris 1992:610).

Matteus 24:31 ontwikkel hierdie tema verder. Hier word dit duidelik dat die verlossing van die gelowiges by die wederkoms van die Seun van die Mens voltooi sal word. Die koms van die Seun van die Mens sal ’n skeiding tussen mense meebring (Turner 2008:583) en die uitverkorenes [τοὺς ἐκλεκτοὺς] sal die ewige heil ontvang. Die doel van die openbaring van die wederkoms, asook van die feit dat engele gestuur word om die uitverkorenes in te samel, is tweeledig van aard: Aan die een kant dien dit as ’n dringende uitnodiging aan ongelowiges om tot bekering te kom, en aan die ander kant dien dit tot troos en versterking van die gelowiges.

In Matteus 24:32–35 gebruik Jesus die voorbeeld van die vyeboom: Soos die boom se takke sag word en begin bot om die nabyheid van die somer aan te dui, so moet gelowiges die voorafgaande gebeure in Matteus 24 herken as tekens van die naderende parousia. Hierdie beeld beklemtoon dat gelowiges moet besef en insien dat die wederkoms op hande is.

In Matteus 24:36 stel Jesus dit onomwonde dat niemand die tydstip van die wederkoms ken nie; slegs die Vader weet dit. Hy vergelyk hierdie onbekendheid, wat op onverwagsheid dui, met die sondvloed in Noag se tyd, wat skielik gekom het (Matt 24:37): ὥσπερ γὰρ αἱ ἡμέραι τοῦ Νῶε, οὕτως ἔσται ἡ παρουσία τοῦ υἱοῦ τοῦ ἀνθρώπου. Op die dag toe Noag die ark binnegegaan het, het die mense nog steeds geëet, gedrink en getrou soos op enige ander dag, καὶ οὐκ ἔγνωσαν ἕως ἦλθεν ὁ κατακλυσμὸς καὶ ἦρεν ἅπαντας οὕτως ἔσται [καὶ] ἡ παρουσία τοῦ υἱοῦ τοῦ ἀνθρώπου. Hiermee word die frase die parousia van die Seun van die mens vir ’n tweede keer in die teks aangetref. Die tertium comparationis dui op die onverwagsheid en onbekendheid van die wederkoms (Hendriksen 2002:869).

Hendriksen (2002:869) formuleer die openbaringsdoelwitte soos volg: ‘The very suddenness of the coming points up the necessity to guard against unpreparedness and carelessness’. Ook Lahti (2024) sluit hierby aan:

The Days of Noah combines the lack of knowledge and the ensuing catastrophe to promote vigilance. The story also implies a dichotomy to those who will survive and those who will not. (p. 10)

In Matteus 24:39 kom die frase, die parousia van die Seun van die Mens, vir die derde en laaste keer voor in Matteus en in die Nuwe Testament. Hier dien dit om te bevestig wat in Matteus 24:36–39 oor die tyd van Noag en die vergelyking met die tyd voor die wederkoms geskryf is, maar dit wys ook vooruit op dit wat geskryf is in verse 40–42.

Matteus 24:40–41 sluit aan by vers 31, waar Jesus sê dat Hy sy engele opdrag sal gee om die uitverkorenes te versamel. Gelowiges moet daarom waaksaam en op hulle hoede wees (Culpepper 2021:481), aangesien nie alle mense gered word nie. Oepke (1964b:338–339) wys verder daarop dat die oproep om waaksaamheid dikwels in samehang met die parousia gegee word.

Nadat Jesus bekend gemaak het dat slegs die Vader weet wanneer die dag van sy parousia sal aanbreek, volg daar nou ’n opdrag wat die doel [telos] van hierdie bekendmaking duidelik aandui: Gelowiges moet waaksaam bly, aangesien hulle nie weet op watter dag hulle Here sal kom nie. Die voegwoord οὖν dui op ’n gevolgtrekking vanuit die voorafgaande openbaring oor die onbekendheid van die tyd van die wederkoms. Die werkwoord γρηγορεῖτε staan in die praesens imperatief en impliseer dus ’n reeds bestaande handeling wat moet voortduur (vgl. Jordaan 2014:49).

‘Die dag’ is ook ’n wederkomswoord, en Van Rhyn (2017:22) formuleer ’n betekenisomskrywing van ἡμέρα, wanneer dit soos volg na die wederkoms verwys: ‘Dit is die spesiaal aangewysde eskatologiese dag van Jesus Christus se wederkoms om te kom oordeel’. Deur na die ‘dag’ te verwys, word die komende oordeel beklemtoon. Volgens Allison (2001:141) het Jesus met sy aankondiging van die komende oordeel ’n duidelike telos: dat die hoorders nie traag sal wees om hulle berouvol te bekeer nie.

Blomberg (1992) stel ook die volgende teloi aan die hand van Jesus woorde oor die onbekendheid van sy wederkoms:

Jesus’ words aptly summarize the thrust of all of 24:36–25:46. Discipleship demands faithful stewardship, not attempts to calculate the timing of the end since such estimates will almost inevitably be mistaken. (p. 367)

Die eerste telos wat Blomberg aantoon, is die etiese aansporing tot noulettende rentmeesterskap. Die tweede openbaringsdoelwit waarna hy verwys, is ’n verbod om enigsins die tydstip van die parousia te probeer bepaal.

In Matteus 24:43 gebruik Jesus nog ’n beeld om die onbekendheid van die dag van die wederkoms te verduidelik: ἐκεῖνο δὲ γινώσκετε ὅτι εἰ ᾔδει ὁ οἰκοδεσπότης ποίᾳ φυλακῇ ὁ κλέπτης ἔρχεται, ἐγρηγόρησεν ἂν καὶ οὐκ ἂν εἴασεν διορυχθῆναι τὴν οἰκίαν αὐτοῦ. Die tertium comparationis is die onverwagsheid wat die wederkoms sowel as ’n dief se inbraak kenmerk. In Matteus 24:44 verskaf Jesus self die openbaringsdoelwit van hierdie vergelyking met ’n dief in vers 43: διὰ τοῦτο καὶ ὑμεῖς γίνεσθε ἕτοιμοι, ὅτι ᾗ οὐ δοκεῖτε ὥρᾳ ὁ υἱὸς τοῦ ἀνθρώπου ἔρχεται. Jesus openbaar dus dat sy wederkoms onverwags sal wees, sodat sy volgelinge voortdurend gereed sal wees daarvoor.

Die bedoeling van die beeld is dus duidelik: Omdat die wederkoms onverwags sal wees, moet Jesus se volgelinge te alle tye gereed wees om Hom te ontmoet.

Gevolgtrekking

Die gevolgtrekking oor die telos van die wederkoms se unieke tipering as ἡ παρουσία τοῦ υἱοῦ τοῦ ἀνθρώπου in Matteus 24 kan dus soos volg beskryf word:

Dit is ’n unieke, doelgerigte openbaringshandeling van God aan sy kerk. Hierdie frase is semanties en teologies gelaai en verbind twee kragtige eskatologiese konsepte: die parousia (die sigbare, heerlike en persoonlike wederkoms van Christus) en die Seun van die Mens (die goddelike Regeerder, Regter en Middelaar). Die betekenisomskrywing van parousia in hierdie artikel bied ’n semantiese raamwerk waarbinne die wederkoms van die Here Jesus as konkrete, historiese en verlossingsmoment verstaan kan word. Tegelykertyd toon die teologiese beskrywing van die Seun van die Mens dat hierdie titel primêr die Godheid, Koningskap en Middelaarskap van Christus beklemtoon, wat ook elemente is wat in die betekenis van parousia as wederkomswoord opgesluit lê.

Hierdie twee begrippe parousia en die Seun van die Mens word slegs in Matteus 24 tot een frase saamgevoeg. Hierdie unieke kombinasie funksioneer nie bloot as ’n beskrywende aanduiding van Christus se wederkoms nie, maar as ’n gesentraliseerde teologiese openbaring van sy identiteit, die wyse van sy koms, en die heerlike gevolg daarvan. Die oënskynlike pleonasme het ’n intensiverende funksie: om met herhaalde nadruk die identiteit en heerlikheid van Hom wat kom te bevestig.

Die telos van hierdie tipering van die wederkoms as ἡ παρουσία τοῦ υἱοῦ τοῦ ἀνθρώπου is multidimensioneel:

  • Deur die gebruik van die frase die Seun van die Mens as handelende van die parousia, word Christus as die komende Een, kerugmaties as die verhewe goddelike Regeerder aangedui, wat kom om te oordeel en te verlos. Die kombinasie beklemtoon dat Jesus nie bloot as ’n menslike figuur terugkeer nie, maar as die Here van die geskiedenis wat in heerlikheid verskyn.
  • Deur die openbaring van sy parousia as sigbaar, liggaamlik, onmiskenbaar en heerlik, wil Christus sy volgelinge troos en bemoedig in tye van misleiding en verdrukking. Dit bevestig die hoop dat die huidige lyding nie die einde is nie, maar dat Hy sal kom om die uitverkorenes te verlos en ’n nuwe bedeling te vestig.
  • Die telos van hierdie openbaring is ook polemies en pastoraal van aard. Jesus waarsku herhaaldelik teen misleiding rondom sy wederkoms. Die beskrywing as ἡ παρουσία τοῦ υἱοῦ τοῦ ἀνθρώπου dien as kriterium waardeur valse aansprake ontbloot kan word.
  • Die onbekendheid van die tyd van sy wederkoms word juis geopenbaar sodat gelowiges in geloof, waaksaamheid en gehoorsaamheid sal volhard en sodoende geroep word tot etiese paraatheid, verantwoordelike rentmeesterskap en voortdurende afwagting.
  • Die beskrywing van die rouklag van die nasies by die verskyning van die Seun van die Mens dien as waarskuwing aan die wêreld. Die telos is ook evangelies: God openbaar die wederkoms om mense op te roep tot berou en bekering voordat dit te laat is.

Die gebruik van ἡ παρουσία τοῦ υἱοῦ τοῦ ἀνθρώπου in Matteus 24 is dus veel meer as slegs ’n beskrywende frase. Dit is ’n teologiese tipering met die doel om die kerk te troos, te waarsku, te versterk, tot gereedheid op te roep en die wêreld tot bekering aan te spoor. Hierdie unieke tipering bevestig die lofwaardige en eskatologiese rol van Christus en roep die kerk tot aktiewe, volhardende geloofslewe in die lig van sy heerlike en gewaarborgde parousia as die Seun van die Mens.

Erkennings

Hierdie artikel is gedeeltelik gebaseer op H.P.M van Rhyn se proefskrif getiteld ‘Die telos van die openbaring van die wederkoms in die Nuwe Testament: ’n Openbaringshistoriese studie, met besondere fokus op die begrip παρουσία’, vir die graad Doctor Philosophiae in Nuwe Testament, Fakulteit Teologie by die Noordwes-Universiteit Potchefstroomkampus, Mei 2017, met promotor Prof. G.J.C. Jordaan. Dit is beskikbaar by: http://hdl.handle.net/10394/25925.

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel op onvanpaste wyse kon beïvloed nie.

Outeursbydrae

H.P.M.v.R. is die enigste outeur van hierdie navorsingsartikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel het alle etiese standaarde gevolg vir navorsing sonder direkte kontak met, en deelname van mense.

Befondsingsinligting

Hierdie navorsing het geen spesifieke befondsing van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële, of nie-winsgewende sektore ontvang.

Databeskikbaarheidsverklaring

Die outeur verklaar dat alle data wat hierdie navorsingsartikel en bevindinge ondersteun, in hierdie artikel en literatuurverwysings beskikbaar is.

Vrywaring

Die menings en sienings wat in hierdie artikel meegedeel word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir hierdie artikel se inhoud.

Literatuurverwysings

Allison, D.C., 2001, ‘First sunday of advent, year A’, in R.E. Van Harn (ed.), The lectionary commentary: theological exegesis for Sunday’s texts, vol. 3, pp. 140–143, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Bauer, W., Danker, F.W., Arndt, W.F. & Gingrich, F.W., 2000, A Greek-English lexicon of the New Testament and other early Christian literature, 3e uitg., University of Chicago, Chicago, IL.

Blomberg, C., 1992, Matthew, B & H Publishing, Nashville, TN.

Bruce, F.F., 1982, 1 and 2 Thessalonians, Word, Dallas, TX.

Calvin, J., 2010, Commentary on a harmony of the Evangelists Matthew, Mark, and Luke, vol. 3, Logos, Bellingham, WA.

Coetzee, J.C., 1984, ‘Paulus se eskatologiese prediking’, in A. Du Toit (red.), Handleiding by die Nuwe Testament. Band V. Die Pauliniese Briewe: Inleiding en teologie, vol. 5, pp. 332–364, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Combrink, H.J.B., 1993, ‘Matteus’, in A.H. Van Zyl (red.), Die Bybel verklaar: 1983-vertaling, pp. 1–41, Lux Verbi, Kaapstad.

Culpepper, R.A., 2021, Matthew: A Commentary, John Knox Press, Louisvill, KY.

Ekeocha, K.K., 2024, Matthew 24–25 as Prophetic-Apocalyptic: Structure, function, and Eschatology, Pickwick Publications, Wilmore, KY.

Evans, A.C., 2012, Matthew, Cambridge University Press, New York, NY.

Fausset, A.R., 1997, The book of Daniel, Logos, Oak Harbor, WA.

France, R.T., 2007, The Gospel of Matthew, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Grosheide, F.W., 1954, Het Heilige Evangelie volgens Mattheus, J.H. Kok, Kampen.

Hagner, D.A., 1995, Matthew 14–18, Word, Dallas, TX.

Hendriksen, W., 2002, Exposition of the Gospel according to Matthew, Baker, Grand Rapids, MI.

Hiers, R.H., 2011, ‘Parousia’, in M. Powell (ed.), The HarperCollins Bible dictionary, 3rd edn., p. 742, HarperCollins, New York, NY.

Jordaan, G.J.C., 2014, Die binnewerk van Antieke Grieks. Die semantiek van grammatiese konstruksies. Handleiding vir eksegete en ander studente van klassieke en Nuwe-Testamentiese Grieks, Teologiese Publikasies, Potchefstroom.

Keil, C.F., 1982, Ezekiel, Daniel, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Ladd, G.E., 1993, A Theology of the New Testament, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Lahti, N., 2024, ‘Argumentation by Parable in Matthew 24–25 as Parrhesia’, Journal of Early Christian History 14(3), 1–26.

Louw, J.P. & Nida, E.A., 1996, Greek-English lexicon of the New Testament: Based on semantic domains, vol. 2, Electronic version of the 2nd edn., United Bible Societies, New York, NY.

Matter, H.M., 1980, Wederkomst en wereldeinde: de zin van de ‘parousia’ in het Nieuwe Testament, J.H. Kok, Kampen.

Morris, L., 1988, The epistle to the Romans, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Morris, L., 1992, The Gospel according to Matthew, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Nel, M., 2015, ‘What is “the sign of the Son of man in heaven” (Mt 24:30)?’, In die Skriflig 49(1), a#1876. https://doi.org/10.4102/ids.v49i1.1876

Nielsen, J.T., 1974, Het Evangelie naar Mattheüs, III. G.F. Callenbach, Nijkerk.

Oepke, A., 1964a, ‘παρουσία, πάρειμι’, in G. Kittel, G. Friedrich & G. Bromily (eds.), Theological dictionary of the New Testament, vol. 5, pp. 858–871, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Oepke, A., 1964b, ‘ἐγείρω, ἔγερσις, ἐξεγείρω, γρηγορέω’, in G. Kittel, G. Friedrich & G. Bromily (eds.), Theological dictionary of the New Testament, vol. 2, pp. 333–339, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Ridderbos, H.N., s.a., Het Evanglie naar Mattheüs. Tweede Deel, Kok, Kampen.

Scaer, D.P., 2004, Discourses in Matthew: Jesus teaches the church, Concordia, St Louis, MO.

Sproul, R.C., 2009, Who is Jesus?, vol. 1, Reformation Trust, Lake Mary, FL.

Tasker, R.V.G., 1978, The Gospel according to St. Matthew: An introduction and commentary, Inter-Varsity Press, Leichester.

Turner, D.L., 2008, Matthew, Baker Academic, Grand Rapids, MI.

Van Rhyn, H.P.M., 2017, ‘Die telos van die openbaring van die wederkoms in die Nuwe Testament: ’n Openbaringshistoriese studie, met besondere fokus op die begrip παρουσία’, PhD-proefskrif, Fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit.

Van Rhyn, H.P.M., 2024, ‘’Έρχομαι as wederkomswoord en die telos van die gebruik daarvan in die boek Openbaring’, In die Skriflig 58(1), a3048. https://doi.org/10.4102/ids.v58i1.3048

Van Rhyn, H.P.M. & Jordaan, G.J.C., 2020, ‘’n Betekenisdefinisie van παρουσία as wederkomswoord’, In die Skriflig 54(1), a2479. https://doi.org/10.4102/ids.v54i1.2479

Wigram, G.V. & Winter, R.D., 1978, The word study concordance, Tyndale, Wheaton, IL.

Wilson, W.T., 2022, The Gospel of Matthew 1–28, William B. Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Witthoff, D., 2014, The Lexham cultural ontology glossary, Lexham, Bellingham.

Wuest, K.S., 1997, Wuest’s word studies from the Greek New Testament: For the English reader, Eerdmans, Grand Rapids, MI.



Crossref Citations

No related citations found.