About the Author(s)


Douw G. Breed Email symbol
Department of Bibliological Perspectives, Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Citation


Breed, D.G., 2026, ‘Die funksionering van die frase κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς as verwysing in die argument van 1 Petrus’, In die Skriflig 60(3), a3221. https://doi.org/10.4102/ids.v60i3.3221

Note: The manuscript is a contribution to the collection titled ‘Francois P. Viljoen Festschrift,’ under the expert guidance of guest editor Prof. Albert Johannes Coetsee.

Original Research

Die funksionering van die frase κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς as verwysing in die argument van 1 Petrus

Douw G. Breed

Received: 09 July 2025; Accepted: 25 Sept. 2025; Published: 30 Jan. 2026

Copyright: © 2026. The Author Licensee: AOSIS.
This work is licensed under the Creative Commons Attribution 4.0 International (CC BY 4.0) license (https://creativecommons.org/licenses/by/4.0/).

Abstract

The function of the prepositional phrase κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς as a reference within the argument of 1 Peter. A recent study has demonstrated that the author of 1 Peter refers to Exodus 19:3–8 through the prepositional phrase κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς in 1:2. With this phrase, Peter introduces a theme that he further develops in the letter, namely God’s plan of salvation. This article examines the function of the phrase κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς as a reference to Exodus 19:3–8 within the argument of 1 Peter. The phrase’s role within 1 Peter is examined exegetically, employing the grammatical-historical method as practiced in the Reformed tradition. Attention is firstly given to the circumstances of the readers and the distinctive position of the introduction within the letter. God’s plan of salvation as presented in 1 Peter 1:1–2, 10–12, 20, and 2:4–10 is then investigated, followed by an analysis of the divine plan as it appears in Exodus 19:3–8. It becomes evident that Peter brings to the fore various components of God’s plan of salvation indicated in Exodus 19:3–8. Both Israel and the readers are portrayed as God’s elect and included in his divine salvation plan; for both Israel and the readers, God’s decisive victory is emphasised; God’s mercy is shown to be the reason for Israel and the readers inclusion in his plan; God’s faithful preservation is emphasised for both; and the relationship between God and his elect, whether Israel or the readers, is depicted as a covenant relationship marked by his nearness. According to God’s plan of salvation, both Israel and Peter’s readers receive glorious assurances from God regarding their future. The remarkable parallels between the divine plan as revealed to Israel in Exodus 19:3–8 and as articulated in 1 Peter show that Peter regards the historical events at Sinai as prophetic in nature. The plan of salvation in Exodus 19:3–8 serves a type, fulfilled in the antitype that Peter outlines in his letter. Alongside the similarities between the plan in Exodus 19:3–8 and that in 1 Peter, there is also an escalation. In 1 Peter, Christ is placed at the centre of God’s plan and the significance of what happens to God’s elect is heightened.

Contribution: This article has shown how Peter, through his use of Exodus 19:3–8, presents God’s plan of salvation as an escalating redemptive event with Christ at its centre and believers identified as God’s chosen ones. This identity offers profound comfort and steadfast hope for believers in a world of suffering – a message that remains relevant today.

Keywords: 1 Peter 1:2; Exodus 19:3–8; God’s plan; Typology; relationship with God.

Inleiding

In ’n onlangse artikel (Breed 2025:3–9) is aangetoon dat Petrus1 met die drie voorsetselfrases in 1 Petrus 1:22 na die verbondsgebeure verwys soos dit in Eksodus 19–24 opgeteken is. Petrus verwys doelbewus met die voorsetselfrases κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς na Eksodus 19:3–8, met ἐν ἁγιασμῷ πνεύματος na Eksodus 19–23, en met εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ na Eksodus 24:3–8. In 1 Petrus word aanhalings en verwysings3 as ’n besondere ‘compositional technique’ gebruik (Schutter 1989:28–29). Die brief bevat inderdaad ’n buitengewone aantal aanhalings en verwysings (vgl. Carson 2007:1015; Feldmeier 2008:26). Hierdie artikel fokus op die funksionering van die frase κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς (1:2) binne die brief. Ondersoek word ingestel na hoe hierdie frase as verwysing na Eksodus 19:3–8 binne die argument van die brief funksioneer en watter betekenis dit vir die eerste lesers in hulle spesifieke omstandighede gehad het.

Om die funksionering van hierdie frase na te gaan, word in die artikel aan die volgende aandag gegee:

  • Die omstandighede van die eerste lesers.
  • Die besondere plek wat die aanhef van 1 Petrus in die brief beklee.
  • God se verlossingsplan soos dit in 1 Petrus ontvou.
  • Eksodus 19:3–8 waarna in 1:2 verwys word binne sy eie konteks.
  • ’n Samevatting en gevolgtrekking oor die funksionering van die frase κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς as verwysing na Eksodus 19:3–8 binne die brief.

Wat die eksegese in hierdie artikel betref, word die grammaties-historiese model gevolg soos dit in die gereformeerde tradisie beoefen word (vgl. Breed, Van Rensburg & Jordaan 2008:45–53; Fee 2009:29–132; Jordaan, Van Rensburg & Breed 2011:225–258; Tolar 2002:21–38). In die ontleding van die gedagtestrukture van Skrifgedeeltes word by die metode van Coetzee (1988:19–37) en Cotterell en Turner (1989:230–256; vgl. Breed 2025:2) aangesluit.

Die omstandighede van die eerste lesers

Die eerste lesers as nie-Jode

Die feit dat die outeur van die brief die lesers as uitverkore vreemdelinge van die diaspora identifiseer, en dat die brief ’n groot hoeveelheid aanhalings uit en verwysings na die Ou Testament bevat, mag die indruk wek dat Petrus se eerste lesers Jode was wat volgelinge van Jesus Christus geword het. Daar is egter duidelike aanduidings in die brief dat die lesers grotendeels nie-Jode was wat tot geloof in Jesus Christus gekom het. Green (1990:276–277) wys daarop dat die beskrywing van die lesers se verlede volgens 1:14, 18 en 4:3–4 eerder die lewenswyse van iemand uit die heidendom weerspieël (vgl. ook Breed 2024:2–4; Miller & Murawski 2022:33). In hierdie artikel word daarom aanvaar dat Petrus se lesers hoofsaaklik nie-Jode was wat tot geloof in Jesus Christus gekom het. Hierdie feit word in berekening gebring in die ondersoek na die funksionering van die frase κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς binne die argument van 1 Petrus.

Die eerste lesers se lyding

Dit is duidelik uit die brief dat Petrus se eerste lesers aan lyding onderwerp is. Hulle is ter wille van hulle geloof vervolg. Hulle gehoorsaamheid aan God se wil, het met die lewenstyl van die ongelowiges gebots (vgl. 4:14). Daar kan afgelei word dat die ongelowiges hulle uitgeskel (vgl. λοιδορία in 3:9), belaster (vgl. βλασφημέω in 4:4), kwaad van hulle gepraat het (vgl. καταλαλέω in 2:12 en 3:16), hulle beledig (vgl. ὀνειδίζω in 4:14) en sleg behandel het (vgl. ἐπηρεάζω in 3:16; vgl. ook Breed 2022:3; Williams 2012:303–312). Dit is daarom belangrik om die lyding waaraan die lesers onderwerp is in ag te neem wanneer die funksionering van die frase, κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς, binne die argument van 1 Petrus ondersoek word.

Die besondere plek wat die aanhef van 1 Petrus in die brief beklee

’n Gedagtestruktuur van 1 Petrus

Breed (2025:2) toon aan dat dit moontlik is om 1 Petrus in agt gedagte-eenhede in te deel. Die volgende kan as uiteensetting van die agt eenhede dien:

  • Aanhef (1:1–2).
  • Lofprysing (1:3–12).
  • Geroepenes se heilige lewe (1:13–2:10).
  • ’n Doelgerigte lewe voor die oë van ongelowiges (2:11–3:12).
  • Verantwoordelike optrede deur hulle wat deur Christus se lyding en oorwinning na God gelei is (3:13–4:6).
  • ’n Lewe tot verheerliking van God in die lig van die wederkoms (4:7–11).
  • Om te deel in Christus se lyding en aan sy heerlikheid (4:12–5:11).
  • Slot en seënbede (5:12–14).
Die argument van 1 Petrus se aanhef

In 1 Petrus se aanhef word, soos ook in ander Nuwe-Testamentiese briewe (vgl. Williams & Horrell 2023:301–303; vgl. ook Stowers 1986:20), aangedui wie die skrywer en die geadresseerdes is, waar die geadresseerdes woon, en word seënwense uitgespreek. Breed (2025:4–9) gee aandag aan die drie voorsetselfrases κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς, ἐν ἁγιασμῷ πνεύματος en εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ in 1:2 wat deel vorm van die brief se aanhef. Breed (2025:4–9) toon aan dat die skrywer met die drie frases verder uitbrei op die goddelike verkiesing (vgl. ἐκλεκτός) wat in 1:1 vermeld word. Volgens sy betoog verloop die lesers se verkiesing volgens God die Vader se voorkennis [κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς]; die lesers se uitverkiesing word ’n werklikheid deur die heiligmaking wat die Gees bewerk [ἐν ἁγιασμῷ πνεύματος]; en dit het die lesers se gehoorsaamheid as doel [εἰς ὑπακοὴν] asook hulle besprinkeling met die bloed van Jesus Christus [εἰς … καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ].

Temas wat in 1 Petrus se aanhef vermeld word en wat in die brief verder aandag geniet

In die aanhef van die brief lei Petrus ’n hele aantal temas in waarop hy later in die brief verder uitbrei. Hy verwys in 1:1 na die lesers as uitverkorenes [ἐκλεκτός] en gee byvoorbeeld in 2:4–10 uitvoerige aandag aan Christus se verkiesing (vgl. 2:4; 6–8) asook aan die verkiesing van die lesers (vgl. 2:5; 9–10; Williams 2011:43, 61–80).

Met die term vreemdelinge (vgl. παρεπίδημος) in die aanhef (1:1) lei die skrywer ’n belangrike tema in, naamlik die lyding waaraan die lesers onderwerp is (Breed 2024:3). Hierdie tema van lyding kom byvoorbeeld weer in 1:17, 2:18–21 en 3:13–17 na vore. Ook met die woord διασπορά in 1:1 dui Petrus reeds in die aanhef op ’n tema wat deurlopend in die brief aangetref word. In die brief word die Christene voorgestel as mense op ’n eskatologiese reis wat by hulle nuwe verwekking begin (vgl. ἀναγεννάω in 1:3) en by die verlossing, wat gereed is om in die laaste tyd geopenbaar te word, eindig (vgl. 1:5; Martin 1992:152–153).

Daar is duidelike aanduidings dat Petrus ook met die drie voorsetselfrases in 1:2 spesifieke temas aan die orde stel wat in die res van die brief verdere aandag kry. Met betrekking tot die frase κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς is dit belangrik om daarop te let dat die woord πρόγνωσις in die frase nie bloot gebruik word om aan te dui dat God vooruit kennis dra van gebeure nie. Verskeie skrywers (vgl. Achtemeier 1996:86; Breed 2025:4; Hillyer 1992:67; Williams 2011:52–54) toon aan dat die skrywer van die brief die woord πρόγνωσις gebruik om aan te dui dat dit wat gebeur, volgens God se ewige plan plaasvind. Volgens Selwyn (1987:65) is die goddelike inisiatief ’n deurlopende tema in 1 Petrus. ’n Duidelike aanduiding dat God se verlossingsplan as tema in die brief uitgebou word, word in 1:17–21 gevind. In die gedeelte gebruik Petrus die werkwoord προγινώσκω (1:20) en beklemtoon dat die verlossing wat Christus deur sy kosbare bloed bewerk het, volgens God se soewereine en ewige plan en in ooreenstemming met sy bedoeling plaasgevind het (vgl. Breed 2025:4; Williams 2011:52–54).

Dit is duidelik dat die voorsetselfrase ἐν ἁγιασμῷ πνεύματος in 1:2 betrekking het op die werk van die Heilige Gees in gelowiges sowel as die heiligheid van die lesers (vgl. Feldmeier 2008:57–58). Die werk van die Heilige Gees in gelowiges is byvoorbeeld ter sprake wanneer Petrus in 2:5 na geestelike offers [πνευματικὰς θυσίας] verwys. Hierdie offers is geestelik [πνευματικός] omdat dit deur die Heilige Gees in diegene bewerk word wat volgens 2:5 as lewende stene beskryf word (Miller & Murawsku 2022:119). Die heiligheid van die lesers is byvoorbeeld in 1:15–16 aan die orde wanneer Petrus die lesers tot ’n heilige lewenswandel (vgl. ἅγιοι ἐν πάσῃ ἀναστροφῇ in 1:15) oproep.

Deur die frase εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ in 1:2 word twee spesifieke temas aan die orde gestel wat in die brief verdere aandag geniet. Met die akkusatiewe naamwoord ὑπακοὴν in 1:2 verwys Petrus na ’n spesifieke gehoorsaamheid, naamlik ’n gehoorsame geloofsreaksie op die verkondiging van die evangelie (Achtemeier 1996:120; Williams 2011:58–59). Hierdie reaksie van die lesers kom byvoorbeeld in 1:5, 6–9 en 22 aan die orde (Breed 2025:3–4). Met die frase εἰς … καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ verwys Petrus na Eksodus 24:8 (vgl. Davids 1990:49, 325–326; Williams & Horrell 2023:325–326) en wys hy op die nuwe verbond tussen God en die lesers (Breed 2025:4; Carson 2007:1017). Hierdie nuwe verbond is in 2:9 ter sprake wanneer Petrus sê dat die lesers ’n koninklike priesterdom [βασίλειον ἱεράτευμα], en ’n heilige nasie [ἔθνος ἅγιον] is. Petrus haal met hierdie frases βασίλειον ἱεράτευμα en ἔθνος ἅγιον uit ’n Ou-Testamentiese gedeelte aan wat oor die verbond tussen God en Israel handel, naamlik Eksodus 19:3–8.

Dit is duidelik uit die voorafgaande dat Petrus in die aanhef van die brief bewustelik sekere temas aan die orde stel wat hy later in die brief meer volledig behandel. Enersyds kan aanvaar word dat die verdere uitbouing van die temas in die brief waarskynlik tot ’n beter verstaan sal bydra van dit wat reeds in die aanhef ingelei word. Andersyds kan ook aanvaar word dat wyse waarop die temas in die aanhef aan die orde gestel word, waarskynlik tot ’n beter verstaan van die onderskeie temas sal bydra soos dit in die brief voorkom. Omdat die fokus in hierdie artikel op die frase κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς val, word daar vervolgens nader ondersoek ingestel na die tema God se verlossingsplan soos dit in 1 Petrus gevind word.

God se verlossingsplan volgens 1 Petrus

Soos reeds aangedui, is God se verlossingsplan deurlopend in 1 Petrus aan die orde. Daar is egter gedeeltes in die brief waarin hierdie goddelike plan uitdruklik vermeld word en waarin die verskillende komponente daarvan na vore kom. Vervolgens word nou aan hierdie gedeeltes aandag gegee.

Die goddelike verlossingsplan volgens 1:1–2

Twee komponente van die goddelike verlossingsplan kan uit 1:1–2 uitgelig word.

Die lesers as God se uitverkorenes

Soos reeds in die artikel aangetoon, verwys Petrus in 1:1 na die lesers as uitverkorenes (vgl. ἐκλεκτός) en verduidelik hy die uitverkiesing in meer besonderhede met die frase κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς in 1:2. Dit blyk dus dat Petrus reeds in die aanhef van die brief duidelik maak dat die lesers, as God se uitverkorenes, deel vorm van die goddelike verlossingsplan.

Die goddelike plan as God die Vader se plan

Dit is belangrik om daarop te let dat die uitverkiesing in 1:2 volgens God die Vader (vgl. θεοῦ πατρὸς) se plan verloop. Deur na God as Vader te verwys, plaas Petrus die persoonlike en liefdevolle verhouding tussen God en die lesers op die voorgrond (Achtemeier 1996:86). Reeds aan die begin van die brief word die lesers dus verseker dat die verlossingsplan waaroor die brief handel, die plan is van Hom wat in ’n persoonlike en liefdevolle verhouding met hulle staan.

Die goddelike verlossingsplan volgens 1:3–5

Petrus dui in 1:3–5 die verlede, hede en toekoms van God se verlossingsplan aan. Hy wys op die beslissende gebeure van Jesus Christus se opstanding uit die dood waardeur God die lesers nuut verwek het (vgl. ἀναγεννήσας in 1:3); hy wys op die lesers wat in die teenwoordige tyd deur die krag van God bewaar word (vgl. ἐν δυνάμει θεοῦ φρουρουμένους); en hy wys ook op die erfenis wat hulle in die toekoms sal ontvang (vgl. εἰς κληρονομίαν ἄφθαρτον καὶ ἀμίαντον καὶ ἀμάραντον, τετηρημένην ἐν οὐρανοῖς εἰς ὑμᾶς).

Die rede waarom die lesers deel van die goddelike plan is (vgl. Green 2007:23), word aan God se groot barmhartigheid (vgl. τὸ πολὺ αὐτοῦ ἔλεος) in 1:3 toegeskryf.

Die goddelike verlossingsplan volgens 1:10–12

In 1:10–12 maak Petrus duidelik dat God se verlossingsplan reeds lank tevore deur die profete bekend gemaak is. Hy sê dat die Ou-Testamentiese profete oor die verlossing (vgl. σωτηρία in 1:10) wat vir die lesers bestem is (vgl. εἰς ὑμᾶς in 1:10), geprofeteer het (vgl. Breed 2022:3–4). Reeds toe is bekend gemaak dat Christus bestem was om te ly en daarna verheerlik te word (Breed 2022:4–5). Die vervulling van hierdie plan het in die lesers se tyd reeds begin (vgl. Achtemeier 1996:105; Williams 2011:186–187).

Die goddelike verlossingsplan volgens 1:20

Nadat Petrus in 1:18–19 oor die verlossing deur Christus se kosbare bloed gehandel het, wys hy in 1:20 daarop dat Christus voor die grondlegging van die wêreld vooruit geken is (vgl. προεγνωσμένου). Soos reeds gemeld, dui die werkwoord προγινώσκω in 1:20 nie bloot daarop dat God vooruit geweet het wat sou gebeur nie. Achtemeier (1996:131) sê tereg dat die skrywer se primêre bedoeling met 1:20 is om aan te dui dat die verlossing wat deur die dood van Christus bewerk is, verbind is aan God se ewige plan. Hiermee wys die skrywer dat Christus se verlossingswerk nie ’n toevallige gebeurtenis was nie (vgl. ook Green 2006:269–271).

Die goddelike verlossingsplan volgens 2:4–10

In 2:4–10 ontvou ’n groot aantal besonderhede van God se verlossingsplan voor die lesers. In hierdie gedeelte word Jesus Christus die lewende steen (vgl. λίθον ζῶντα in 2:4) genoem. Hy is ’n lewende steen omdat Hy uit die dood opgestaan het (vgl. 1:3) en die ware lewe het (Schreiner 2003:103–104). Met die teenwoordige deelwoord van προσέρχομαι roep Petrus die lesers op om hulleself in geloof aan hierdie lewende steen te verbind. Wie dit in geloof doen, word self lewende stene (vgl. λίθοι ζῶντες in 2:5; Feldmeier 2008:134–135). In God se verlossingsplan is Jesus Christus dus die lewende steen wat lewe gee (Michaels 1988:98). Wie in geloof na Hom toe kom, deel in sy opstandingslewe.

Volgens 2:5 bly die stene wat van Jesus Christus die lewe ontvang het nie enkel stene nie. Hulle word saam met ander lewende stene opgebou (vgl. οἰκοδομέω in 2:5). Schreiner (2003:106–107) toon aan dat die passiewe werkwoord οἰκοδομεῖσθε in 2:5 as indikatief en nie as imperatief verstaan moet word nie. Hy wys daarop dat passiewe werkwoorde in die Nuwe Testament nooit as imperatiewe gebruik word nie, en dat dit slegs twee uit die 48 keer wat die woord in die Septuagint (LXX) voorkom, as imperatief gebruik word (vgl. ook Achtemeier 1996:155; Dubis 2010:47; Williams & Horrell 2023:612–613). Die passiewe vorm van die werkwoord οἰκοδομέω dui daarop dat dit God self is wat die bouwerk doen (Best 1971:101). Petrus wys ook op die doel van hierdie bouwerk: dat die gelowiges tot ’n geestelike huis opgebou word (vgl. οἶκος πνευματικὸς) (Dubis 2010:47–48). Met die frase εἰς ἱεράτευμα ἅγιον in 2:5, dui hy ook aan met watter doel (vgl. εἰς) God die lesers tot ’n geestelike huis opbou (Achtemeier 1996:156), naamlik dat hulle ’n heilige priesterdom [ἱεράτευμα ἅγιον] sal wees. Met ’n aoristus infinitief in 2:5 wys Petrus vervolgens op die doel van die heilige priesterdom: om te offer (vgl. die aoristus infinitief van ἀναφέρω) – geestelike offers (vgl. πνευματικὰς θυσίας). In albei die frases οἶκος πνευματικὸς en πνευματικὰς θυσίας is die werk van die Heilige Gees ter sprake. Die huis wat God opbou is geestelik, want dit is waar die Heilige Gees woning maak (Green 2007:61). Die offers wat die heilige priesterdom bring, is geestelik omdat dit deur die Heilige Gees geïnisieer word (Miller & Murawski 2022:119).

Nadat Petrus in 2:6–8 die kontras tussen hulle wat in Jesus Christus glo en hulle wat Hom verwerp, beklemtoon het, beskryf hy die lesers met vier eretitels wat in die Ou Testament vir Israel gebruik is. Hulle wat in geloof na Jesus gekom het en die ware lewe van Hom ontvang het, is ’n uitverkore geslag [γένος ἐκλεκτόν], ’n koninklike priesterdom [βασίλειον ἱεράτευμα], ’n heilige volk [ἔθνος ἅγιον], en ’n volk as eiendom verkry [λαὸς εἰς περιποίησιν]. Die twee frases βασίλειον ἱεράτευμα en ἔθνος ἅγιον is soos reeds genoem, aanhalings uit Eksodus 19:6 (LXX) en is in 2:9 tussen die twee aanhalings uit Jesaja 43:20–21 geplaas. Die twee aanhalings uit Eksodus 19 is vir hierdie artikel van belang. Die frase βασίλειον ἱεράτευμα in Eksodus 19:6 in die LXX kan óf as ’n byvoeglike naamwoord (βασίλειος) saam met ’n naamwoord (ἱεράτευμα) óf as twee naamwoorde naas mekaar (βασίλειος en ἱεράτευμα) verstaan word (vgl. Davies 2004:66; Elliott 1966:63). Die LXX bied dus nie ‘n definitiewe aanduiding van hoe die frase βασίλειον ἱεράτευμα in 2:9 verstaan moet word nie. Saam met Williams en Horrell (2023:669–670) kan egter aanvaar word dat βασίλειος in 2:9 as ’n byvoeglike naamwoord by die naamwoord ἱεράτευμα gebruik word. Volgens God se plan is die mense wat deur God opgebou is dus ’n koninklike priesterdom – soos Israel verbind aan God as koning, en as priesters, met vrye toegang tot Hom (vgl. Jobes 2005:161; Williams 2011:74). Met die frase ἔθνος ἅγιον maak Petrus duidelik dat hierdie mense, hoewel meestal nie-Jode en uit verskillende nasies, nou een nasie [ἔθνος] vorm. Hierdie nasie is egter ’n heilige nasie [ἅγιος], afgesonder vir God, in sy diens en toegelaat tot sy teenwoordigheid (vgl. Miller & Murawski 2022:125).

Soos reeds genoem, beklemtoon 2:4–10 die uitverkiesing van Jesus Christus sowel as van die lesers. In 2:4 word genoem dat Christus deur God uitverkies [ἐκλεκτός] is. Wanneer Petrus in 2:9 die lesers ’n uitverkore [ἐκλεκτός] geslag (vgl. Jes 43:20) noem, toon dit aan dat lesers se uitverkiesing gegrond is op Christus se uitverkiesing. As lewende stene deel die lesers dus in die uitverkiesing van Christus, die lewende steen (Keener 2021:128; Williams 2011:72–80).

Die ‘reeds’ en die ‘nog nie’ van die goddelike verlossingsplan

In 1 Petrus word daar van twee bedelings melding gemaak. Van Rensburg (2010:210–215, 225) toon aan dat 1 Petrus oor ’n huidige bedeling handel wat vanaf die eerste koms van Jesus tot sy wederkoms strek en wat in 1:20 aangedui word met die frase ἐπʼ ἐσχάτου τῶν χρόνων [aan die einde van die tye]. In 1:5 word met die frase ἐν καιρῷ ἐσχάτῳ (vgl. ook ἐν καιρῷ in 5:6) na ’n toekomstige bedeling verwys. Hierdie bedeling begin met die wederkoms. Uit die frases εἰς τὸν αἰῶνα (1:25), εἰς τοὺς αἰῶνας τῶν αἰώνων (4:11) en εἰς τοὺς αἰῶνας (5:11) kan afgelei word dat die toekomstige bedeling sonder einde is (Van Rensburg 2010:213–215). Volgens God se verlossingsplan leef die lesers dus ‘between the times’ (Feldmeier 2008:71). Hierdie feit verklaar waarom Petrus enersyds byvoorbeeld kan sê dat die lesers erfgename is, maar andersyds dat hulle erfenis in die hemele vir hulle bewaar word (vgl. 1:4). Op soortgelyke wyse het God se oordeel reeds in die huidige bedeling begin (vgl. 4:17), maar sal dit ook in die toekoms voltrek word (vgl. 4:5). Christus is reeds geopenbaar (vgl. 1:20), maar sal tog ook in die toekoms geopenbaar word (vgl. 4:13; 5:1; vgl. ook Van Rensburg 2010:215–218).

Die Skrifgedeelte Eksodus 19:3–8 waarna in 1 Petrus 1:2 verwys word, binne sy eie konteks

Omdat Petrus, soos reeds aangedui, met die frase κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς na Eksodus 19:3–8 verwys, word hierdie Ou-Testamentiese gedeelte vervolgens binne sy eie konteks nader ondersoek. Eerstens word aandag gegee aan die makro-gedagtestruktuur van Eksodus; tweedens aan die verskillende komponente van God se verlossingsplan soos dit in Eksodus 19:3–8 na vore kom; en derdens word die goddelike verlossingsplan binne die onderskeie gedagte-eenhede van Eksodus ondersoek.

’n Makro gedagtestruktuur van Eksodus

In hierdie artikel word die volgende as ’n makro-gedagtestruktuur van Eksodus aanvaar (vgl. Boda 2009:35–36):

  • Gedagte-eenheid A: die verlossing van Israel uit die slawerny in Egipte (Eks 1–15).
  • Gedagte-eenheid B: Israel se trek vanaf die Rietsee tot by Sinai (Eks 16–18).
  • Gedagte-eenheid C: die bevestiging van die verbond tussen God en Israel (Eks 19–24).
  • Gedagte-eenheid D: die bou van die tabernakel en God se inwoning by Israel (Eks 25–40).
Die komponente van God se verlossingsplan soos dit in Eksodus 19:3–8 na vore kom

Die gewigtigheid van dit wat God aangaande sy verlossingsplan aan Israel wil oordra, word op ’n besondere manier in Eksodus 19:3–8 aangedui. Eerstens word Moses volgens Eksodus 19:3 beveel: ‘So moet jy aan die huis van Jakob sê en aan die kinders van Israel verkondig’. Nadat God se verlossingsplan in Eksodus 19:4–7 uitgespel is, volg hierdie opdrag: ‘Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel moet meedeel’ (vgl. Davies 2004:33).

In hierdie uiteensetting van die verlossingsplan in Eksodus 19:3–8 word dit wat God reeds gedoen het, sowel as wat Hy vir die toekoms beoog, duidelik gestel (vgl. Alexander 2017:365). Vyf komponente van hierdie goddelike plan kan onderskei word: (1) God se beslissende oorwinning; (2) God se getroue en liefdevolle versorging; (3) die nabyheid van God by Israel; (4) Israel se uitverkiesing; en (5) ’n versekering met betrekking tot Israel se toekoms, wat vervolgens bespreek word.

God se beslissende oorwinning: Israel word volgens Eksodus 19:4 eerstens herinner aan die beslissende oorwinning wat God reeds tot hulle verlossing oor Egipte behaal het. Vir Israel word beklemtoon dat hulle self hierdie beslissende oorwinning gesien het (Durham 1987:262).

God se getroue en liefdevolle versorging: In Eksodus 19:4 word Israel verder herinner aan God se sorg in die woestyn. Deur middel van die metafoor van ’n arend word God se liefdevolle versorging van die volk in die woestyn sigbaar. Peels (1994:300–303) toon aan dat die frase וָאֶשָּׂ֤א אֶתְכֶם֙ עַל־כַַּֽנְ פֵ֣ינְשָרִ֔ים [en dat Ek julle op arendsvlerke gedra het] nie verwys na arende wat hulle kleintjies leer vlieg nie, maar na hierdie voëls wat hulle kleintjies beskerm met hulle breë vlerkspan. Die beeld van die dra op die vlerke, verwys na specialissima providetttia Dei. Peels sê tereg, ‘The carrying “as on eagle wings” is a picture of God’s watchful loving care for Israel during the wilderness journey’.

Die nabyheid van God by Israel: Uit Eksodus 19:4 blyk dit duidelik dat God die volk nie slegs uit Egipte verlos nie, maar dat Hy hulle ook na Homself gebring het (vgl. die frase וָאָבִ֥א אֶתְכֶ֖ם אֵלָֽי). Israel se besondere plek in God se teenwoordigheid word daarmee onderstreep (Fretheim 1996:232; vgl. ook Wright 2021:338).

Wanneer daar in Eksodus 19:5–6 duidelik gemaak word dat God ’n verbond tussen Hom en Israel beoog, staan die persoonlike verhouding tussen God en Israel op die voorgrond. Israel word volgens Eksodus 19:5 verseker dat hulle God se eiendom (סְגֻלָּה) sal wees – ’n aanduiding van ’n besondere verhouding tussen Hom en Israel. Davies (2004:51–55) kom, na ’n ondersoek na die gebruik van die woord סְגֻלָּה in die Ou Testament en ander geskrifte, tereg tot die gevolgtrekking dat hierdie term Israel se unieke karakter en koninklike verbintenis aandui. Hy (Davies 2004) beweer dat:

Israel, the recipient of the title סְגֻלָּה is the ‘cherished possession’ of the divine king, enjoying the status at least of a favoured royal retainer, if not royal status themselves, and doing so uniquely among the nations. (p. 54; vgl. ook Hamilton 2011:303)

Die stelling in Eksodus 19:5 dat Israel God se persoonlike eiendom sal wees, word in vers 6 verder gekwalifiseer deur twee frases (vgl. מַמְלֶ֥כֶת כֹּהֲנִ֖ים en וְג֣וֹי קָד֑וֹשׁ). Davies (2004:61–102) lewer ’n waardevolle bydrae in sy ontleding van hierdie twee frases. Hy toon aan dat Israel deur מַמְלֶכ֥תֶ כּהֲֹנִ֖ים verseker word dat hulle ’n entiteit met koninklike status sal wees. Israel, wat voorheen slawe van die ‘koning’ van Egipte was, ontvang nou koninklike status in hulle verhouding met God, die Koning (vgl. Eks 15:18), wat hulle uit Egipte verlos het (Davies 2004:86). Met die woord priesterdom [כֹּהֵן] word hierdie koninklike status van Israel gekwalifiseer: dit word gekenmerk deur die essensie van priesterskap (Davies 2004:92), naamlik toegang tot God se teenwoordigheid. Davies (2004:99–100) toon ook aan dat die frase וְג֣וֹי קָד֑וֹשׁ [en ’n heilige nasie] dieselfde aspek van toegang tot God beklemtoon. Hy verbind dit met Jesaja 6:3, Psalm 15, 24 en 99:5, 9 en stel dat die term קָדוֹשׁ in hierdie frase aandui dat Israel geskik is om met die Een wat inherent heilig is, naamlik God, geassosieer te word.

Israel se uitverkiesing: Die goddelik uitverkiesing (vgl. die woord בָּחַר) van Israel word nie uitdruklik in Eksodus 19:3–8 vermeld nie. Fretheim (1991:208–209) is egter korrek wanneer hy sê dat Israel se uitverkiesing in die gedeelte veronderstel word. Davies (2004:97) dui aan dat die frase כִּי־לִ֖י כָּל־הָאָֽרֶץ [want die hele aarde behoort aan my] in Eksodus 19:5 verstaan moet word teen die agtergrond van God se verkiesing van Israel (vgl. ook Patric 1985:231; Wells 2000:27, 44, 50). Volgens Eksodus 19:3–8 is Israel dus as uitverkore volk deel van God se verlossingsplan.

’n Versekering met betrekking tot Israel se toekoms: In Eksodus 19:6 word, soos reeds aangedui, aan Israel die versekering gegee dat hulle vir God ’n heilige nasie (vgl.(ְג֣וֹי קָד֑וֹש) sal wees. Dit is opvallend dat daar met die woord גּוֹי na Israel verwys word en nie met die woord עַם wat normaalweg vir Israel gebruik word nie (Alexander 2017:369; Hamilton 2011:304–305). Dit blyk dat Genesis 12:2 deur die gebruik van die woord ּוֹי ter sprake kom. Volgens Genesis 12:2 het God aan Abraham beloof dat Hy hom tot ’n groot nasie [לְג֣וֹי גָּד֔וֹל] sal maak. In daardie konteks dui die woord גּוֹי op ’n samehangende politieke entiteit (Davies 2004:100–101). Wanneer die woord גּוֹי dus in Eksodus 19:6 na Israel verwys, tree God se belofte aan Abraham weer in die gesigsveld (Lemański 2023:25–26). Wanneer God Israel na die land lei wat aan die aartsvaders beloof is, sal hulle ook ’n nasie (גּוֹי) tussen al die ander nasies wees. Anders as die ander nasies sal hulle ’n heilige (vgl. קָדוֹשׁ in Eks 19:6) nasie wees.

God se verlossingsplan binne die konteks van gedagte-eenhede A, B, C, en D

God se verlossingsplan vir Israel is deurgaans in Eksodus aan die orde. Om die goddelike plan, soos dit in Eksodus 19:3–8 na vore kom, binne die konteks van Eksodus te plaas, word in hierdie artikel gefokus op gedeeltes waarin God sy verlossingsplan uitdruklik aan Israel uitspel. In gedagte-eenheid B is daar geen gedeeltes waarin God sy verlossingsplan voorhou nie. Die besondere komponente van die goddelike verlossingsplan binne gedagte-eenhede A, C en D word nou ondersoek. Aangesien Eksodus 19:3–8 deel vorm van gedagte-eenheid C, word eerstens aan hierdie eenheid aandag gegee, waarna gedagte-eenhede A en D aan die orde kom.

Die goddelike verlossingsplan volgens Eksodus 19:3–8 binne die konteks van gedagte-eenheid C

In gedagte-eenheid C word die een komponent van God se verlossingsplan, soos dit in Eksodus 19:3–8 aan die orde is, sterk beklemtoon: God se nabyheid aan Israel. Die waarskuwings wat volgens Eksodus 19:12–13 en 21–22 tot Israel gerig word, kan die indruk wek dat dit juis die afstand tussen God en die volk is wat voorop staan. Nader ondersoek toon egter dat hierdie waarskuwings daarop gemik is om te voorkom dat die volk, wanneer hulle gelei word om God te ontmoet (vgl. Eks 19:17), sy heiligheid gering sal ag en dat dit dan ernstige gevolge sal inhou (vgl. v. 20).

Die wette en verordenings wat volgens Eksodus 20–23 afgekondig word, stel God se nabyheid by die volk op die voorgrond. Fretheim (1991:203) beklemtoon dat hierdie wette en verordenings in die narratief geïntegreer is, waardeur die persoonlike karakter daarvan op die voorgrond bly. Hy (Fretheim 1991) skryf:

The narrative reveals a lively, pulsating relationship between God and people. It is this same God who gives the law and who gives it as part of an existing interpersonal relationship. The law must thus be understood in personal and interrelational terms. (p. 203; vgl. ook Sprinkle 2004:235–238)

In Eksodus 24:9–11 word die nabyheid van God by Israel besonder kragtig aangedui. Nicholson (1982) sê:

There could be no more decisive a portrayal of God’s drawing near to his people than this; there could be no more vivid a sign of their acceptance by him than what is now vouched to them through their representatives. (p. 85)

Verteenwoordigers van Israel (Davies 2004:118) – Moses, Aäron, Nadab en Abíhu, saam met 70 van die oudstes van Israel – het die berg uitgeklim, die Here gesien en saam geëet en gedrink. Daar was geen negatiewe gevolge nie; volgens Eksodus 24:11 het die Here nie sy hand teen hulle uitgesteek nie.

Die rede waarom hierdie verteenwoordigers van Israel welkom was in God se teenwoordigheid, kan gevind word in die gebeure wat in Eksodus 24:3–8 opgeteken is. Nadat Moses al die woorde en verordeninge van die Here aan die hele volk meegedeel het, het hulle geantwoord dat hulle alles sal doen wat die HERE beveel het. Hulle het brandoffers geoffer en bulle vir die Here geslag as dankoffers. In die lig van Skrifgedeeltes soos Levitikus 1:4, Eksodus 34:15 en Numeri 25:2 kan saam met Hilber (1996:182) aanvaar word dat: ‘[…] the burnt offerings established fellowship through atonement and signified total commitment by the worshiping nation; the peace offerings expressed celebration of covenant fellowship’. Die altaar wat Moses gebou het (Eks 24:4) is vervolgens met die helfte van die bloed besprinkel (v. 5), wat dui op God se vergifnis gegrond op die aanvaarding van die offer (Carson 2007:1016; Childs 2004:506). Daarna het Moses die boek van die verbond aan die volk voorgelees, waarop die volk vir ’n derde keer bevestig het dat hulle alles sou doen wat die Here gesê het (vgl. Eks 24:7). Die ander helfte van die bloed van die offerdiere is toe deur Moses op die volk gesprinkel met die verklaring dat dit die bloed van die verbond is wat die Here met Israel op grond van sy woorde gesluit het (vgl. Breed 2025:4).

Die besprinkeling van die volk met die oorblywende bloed kan verstaan word in die lig van die priesterwyding wat in Levitikus 8 opgeteken is. Tydens die seremonie is die bloed van die offerdier nie alleen op die altaar gesprinkel nie, maar ook op Aäron en sy seuns gesmeer. Wenham (1979:143) sê tereg hieroor, ‘[…] here the blood links God and Aaron, showing in a visible way that he is now God’s man, his special representative among Israel’. Saam met Wenham (1979:143) kan dan afgelei word dat, ‘A similar interpretation fits the ceremonies ratifying the Sinai Covenant described in Exod-24. The blood indicates that in the covenant Israel has become the people of God’. Dit blyk dus dat dit wat reeds aangaande die verbondsverhouding tussen God en Israel bekend gemaak is (vgl. Eks.19:5–6), formeel bevestig word deur die besprinkeling van die altaar sowel as die volk met die bloed van die offerdiere (vgl. Fretheim 1991:258). Die verbond tussen God en Israel word amptelik hiermee bekragtig: Israel word bevestig as God se persoonlik eiendom, as ’n koninkryk van priesters en as ’n heilige volk. In hierdie besondere status mag hulle in God se teenwoordigheid kom.

Die goddelike plan in gedagte-eenheid A

Enkele komponente van God se verlossingsplan soos dit in Eksodus 19:3–8 na vore kom, word in gedagte-eenheid A gevind, naamlik in 3:7–10, 15–17 en 6:5–7. Vyf komponente kan aangedui word.

’n Beslissende oorwinning oor Egipte: Die beslissende oorwinning oor Israel se onderdrukkers word telkens as deel van God se verlossingsplan vermeld. Volgens Eksodus 6:5 moes Moses aan die volk bekend maak dat God met mag die oorwinning oor Egipte sou behaal. Die beeld van God se uitgestrekte arm en sy magtige hand (vgl. byvoorbeeld Eks 3:19–20 to a; 6:5; 15:16) word gebruik om God se magtige optrede te beklemtoon (Meyers 2005:60). Dit is dus duidelik dat die frase ‘wat ek aan die Egiptenaars gedoen het’, in Eksodus 19:4 verstaan moet word in die lig van die versekering wat God reeds voor die uittog aan Israel gegee het dat Hy magtig teen Egipte sou optree.

’n Belofte van ’n land vir Israel: In Eksodus 3:8 word Israel nie alleen verseker dat God hulle uit die hand van die Egiptenaars gaan verlos nie, maar ook dat Hy aan hulle die versekering gegee het dat Hy hulle na ’n land sal laat optrek. Die heerlikheid van hierdie land wat beloof word, word uitermate sterk beklemtoon deur dit te beskryf as ’n uitgestrekte land wat oorloop van melk en heuning (Dozeman 2009:128–129). Daar kan aanvaar word dat die belofte in Eksodus 19:6 dat Israel vir God ’n heilige nasie sal wees, ten nouste met hierdie belofte van ’n land saamhang. Dit is immers in hierdie beloofde land waar Israel, soos ander volke, ’n nasie [גּוֹי] sou wees.

God se ontferming: God se ontferming oor Israel word in verskillende gedeeltes in Eksodus voorgehou as die rede waarom Hy het die volk uit Egipte verlos. In Eksodus 3:7–9, 16 en 6:4 word dit beklemtoon dat God nie afsydig staan teenoor die ellende wat die volk in Egipte ervaar nie, maar dat Hy Hom oor hulle ontferm. Hierdie ontferming word treffend in Eksodus 3:7–9 uitgedruk met werkwoorde soos die volgende: Hy het die ellende van sy volk gesien [רָאָה], hulle jammerklagte gehoor [שָׁמַע], hulle smarte geken [נָכַר] en Hy het neergedaal [יָרַד] om hulle te verlos (Wright 2021:102–103). Die klem op God se ontferming oor Israel wat in hierdie gedeeltes geplaas word, laat blyk dat dit ook die rede is waarom Israel deel van die verlossingsplan is waaroor in Eksodus 19:3–8 gehandel word.

Die verbond met Abraham, Isak en Jakob: Motyer (2005:20) stel dit soos volg: ‘The whole story of Exodus is as covenant narritive’. In die gedeeltes in gedagte-eenheid A waarin God se verlossingsplan vir Israel uitspel word, word God se verbond met Abraham, Isak en Jakob uitdruklik vermeld (vgl. byvoorbeeld Eks 3:15; 6:7). Daarom is Fretheim (1991:209) korrek wanneer hy oor die verbond wat in Eksodus 19:5–6 ter sprake is, sê: ‘Sinai is a specific covenant within an already existing covenant’.

Israel se uitverkiesing: Israel word nie in die gedeeltes van gedagte-eenhede A waarin God sy verlossingsplan bekend maak, uitdruklik as God se uitverkore volk aangedui nie. Wanneer God egter volgens Eksodus 3:7 en 10 sy verlossingsplan vir Israel bekend maak en Israel ‘my volk’ (vgl. עַמִּ֖י) noem, word Israel se besondere status – hulle uitverkiesing – by Hom geïmpliseer (Fretheim 1991:208). God se verwysing na Israel as ‘my volk’ bevestig dus die afleiding wat reeds gemaak is, naamlik dat Israel as God se uitverkore volk deel van sy verlossingsplan is.

Die goddelike verlossingsplan volgens Eksodus 19:3–8 binne die konteks van gedagte-eenheid D

Gedagte-eenheid D fokus hoofsaaklik op die tabernakel wat gebou moes word (Boda 2009:40–41). Tog word een komponent van God se verlossingsplan, soos dit in Eksodus 19:3–8 na vore kom, naamlik God se nabyheid aan Israel ook in hierdie gedagte-eenheid beklemtoon. In Eksodus 25:1–9 word aangedui hoe die tabernakel in God se verlossingsplan inpas, en in vers 8 word die doel daarvan uitdruklik verwoord: Israel moes ’n tabernakel bou sodat God in hulle midde kan woon (vgl. וְשָׁכַנְתִּ֖י בְּתוֹכָֽם). Die klem in Eksodus 25:8 val dus nie op God se inwoning van die tabernakel nie, maar op die feit dat Hy, deur die tabernakel, wel te midde van die volk sou woon (Wright 2021:479).

In Eksodus 32–34 word Israel se sonde met die goue kalf beskryf. Brueggemann (2014) wys op die erns van hierdie sonde:

The act of Aaron and the uncritical response of Israel (see v. 6) constitute a total misconstrual, violation, and rejection of the covenant of Sinai and the God who initiated it. For due cause the Sinai covenant is terminated! (p. 585)

Die feit dat God die volk volgens Eksodus 35:1 weer bymekaar laat kom het en hulle opdrag gee om voort te gaan met die bou van die tabernakel, dui egter daarop dat daar tog ’n weg gevind kon word dat God wel in die midde van sy volk kon woon. Bruckner (2008) merk op:

The people’s creation of the tabernacle demonstrate their true repentance after the golden calf crisis (36:3–7; 39:42–43). God showed forgiveness by dwelling in the midst of Israel’s camp at the conclusion of Exodus (40:34–38). (p. 280)

Die klem wat in gedagte-eenheid D geplaas word op God se inwoning by Israel, bevestig dat sy nabyheid aan sy volk ’n belangrike komponent van God se verlossingsplan is, soos reeds vroeër in die artikel aangedui.

Samevatting en gevolgtrekking

Die slot van hierdie artikel word in twee verbandhoudende dele aangebied. In die eerste deel volg ’n samevatting van die komponente van die verlossingsplan wat in hierdie betoog na vore gekom het. Daaruit kan drie gevolgtrekkings gemaak word, wat in die tweede deel van hierdie afdeling uiteengesit word.

Die onderskeie komponente van God se verlossingsplan wat in 1 Petrus vermeld word, en ook in Eksodus 19:3–8 ter sprake is, word soos volg saamgevat:

  • Israel sowel as die lesers, is as God se uitverkorenes deel van die goddelike verlossingsplan.
  • In Eksodus 19:3–8 en in 1 Petrus word die beslissende oorwinning wat God in die verlede ter wille van sy uitverkorenes behaal het, op die voorgrond geplaas.
  • God se barmhartigheid is die rede waarom Israel asook die lesers deel is van sy verlossingsplan.
  • God se getroue bewaring van sy uitverkorenes word in Eksodus 19:3–8 sowel as in 1 Petrus beklemtoon.
  • Die verhouding tussen God en Israel, asook tussen God en die lesers, word as ’n verbondsverhouding aangedui wat deur God se nabyheid aan sy uitverkorenes gekenmerk word.

Volgens God se verlossingsplan ontvang Israel sowel as Petrus se lesers ’n heerlike versekering van Hom met betrekking tot hulle toekoms.

Vanuit bogenoemde komponente kan ’n drieledige gevolgtrekking gemaak word:

  • Die opsigtelike ooreenkomste tussen die goddelike plan soos dit in Eksodus 19:3–8 aan Israel bekend gemaak word, en soos Petrus dit met die frase κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς in die aanhef aandui en verder in die brief verduidelik, toon dat Petrus die historiese gebeure by Sinai as profeties van aard beskou. Vir hom is die verlossingsplan van Eksodus 19:3–8 ’n tipe wat in die verlossingsplan, soos dit in 1 Petrus ontvou (anti-tipe), vervulling vind. Hierdie artikel sluit aan by Beale (2012) se beskrywing van tipologie (vgl. ook Hays & Green 1995:222–223, 227–229; Marshall 1994:211):

    […] the study of analogical correspondences among revealed truths about persons, events, institutions, and other things within the historical framework of God’s special revelation, which, from a retrospective view, are of a prophetic nature and are escalated in their meaning. (p. 14)

    Petrus aanvaar dus, ‘God works on the same principles in both eras’ (Marshall 1994:211):
  • Alhoewel die verlossingsplan volgens Eksodus 19:3–8 met dié van 1 Petrus ooreenstem, is daar ook duidelike verskille. In die vervulling van die goddelike plan is daar in 1 Petrus ’n eskalering, veral met betrekking tot Christus en die lesers.
  • In 1 Petrus is Christus die sentrum van die goddelike plan. Petrus maak dit duidelik dat Christus reeds voor die grondlegging van die wêreld deur God uitverkies is as die Een deur wie sy uitverkorenes losgekoop sou word. Deur Christus se opstanding uit die dood, wek God sy uitverkorenes opnuut tot lewe. Christus is die lewe en die Gewer van die lewe. Ook wat die toekoms van God se verlossingsplan betref, word Christus in 1 Petrus in die sentrum geplaas. Dit is sy heerlikheid wat by die wederkoms openbaar sal word wanneer die huidige bedeling tot ’n einde kom.
  • Volgens 1 Petrus is daar ’n eskalering in dit wat met God se uitverkorenes gebeur. Deur Jesus Christus se opstanding word hulle deur God nuut verwek, ontvang hulle die opstandingslewe, en word hulle deur God opgebou tot ’n huis waarin die Heilige Gees woon. Hulle is ’n heilige priesterdom wat offers bring wat deur die Gees bewerk word. Selfs die nie-Joodse lesers is deur God in ’n verbondsverhouding ingesluit en deel nou, soos Israel, in die status van ’n koninklike priesterdom en ’n heilige nasie. Volgens God se plan is hulle op pad na ’n heerlike erfenis wat in die hemel vir hulle bewaar word:
  • Petrus het ’n spesifieke doel met die frase κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς as verwysing na Eksodus 19:3–8. Hy versterk die lesers met pastorale bewoënheid in hulle spesifieke omstandighede. Hierdie versterking word in die volgende paragrawe uiteengesit.
  • Die lesers wat in die samelewing met minagting behandel is, word bemoedig deurdat Petrus hulle identiteit volgens God se verlossingsplan uitspel. Al word hulle in die samelewing verwerp, is hulle, soos Israel, steeds God se uitverkorenes wat in ’n verbondsverhouding met Hom leef.
  • Lesers wat as gevolg van die vervolging en lyding moed opgee word daaraan herinner dat hulle volgens die vervulling van God se verlossingsplan vir Israel mag reken op God se magtige bewaring van sy uitverkorenes. Hulle het die sekerheid van die Heilige Gees se inwoning en die wete dat die huidige bedeling waarin hulle intense lyding ervaar, nie finaal is nie. Hulle mag met vreugde uitsien na die finale en ewige bedeling wanneer Christus geopenbaar sal word.
  • Al moes die lesers groot beproewings deurmaak, moes hulle steeds aan God gehoorsaam bly (vgl. byvoorbeeld 3:13–15 en 4:15–16). Volgens God se verlossingsplan is volharding moontlik, omdat hulle immers veranderde mense is. Hulle is deur God nuut verwek en het die opstandingslewe ontvang. Die Heilige Gees woon in hulle en deur sy werk in hulle, kan hulle te midde van beproewings steeds geestelike offers bring.

Hierdie artikel toon hoe Petrus, deur sy gebruik van Eksodus 19:3–8 in 1:2, God se verlossingsplan as eskalerende heilsgebeure voorhou. Hierdie verlossingsplan beklemtoon Christus se sentrale rol en bevestig die identiteit van gelowiges as God se uitverkorenes. Daarby dien dit ook as ’n bron van diepe troos en standvastige hoop vir gelowiges in ’n wêreld van lyding – ’n boodskap wat vandag steeds aktueel en lewenskragtig is.

Erkennings

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel op onvanpaste wyse kon beïvloed nie.

Outeursbydrae

D.G.B. is die enigste outeur van hierdie navorsingsartikel.

Etiese oorwegings

‘n Aansoek om volle etiese goedkeuring is by die NWU Teologiese Navorsing en Etiek Komittee ingedien en etiese toestemming is verkry op 14 Julie 2025. Die etiese goedkeuringsnommer is NWU-01341-25-A6.

Befondsingsinligting

Hierdie navorsing het geen spesifieke befondsing van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële, of nie-winsgewende sektore ontvang nie.

Databeskikbaarheidsverklaring

Die outeur verklaar dat alle data wat hierdie navorsingsartikel en bevindinge ondersteun, in hierdie artikel en literatuurverwysings beskikbaar is.

Vrywaring

Die menings en sienings wat in hierdie artikel meegedeel word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir hierdie artikel se inhoud.

Literatuurverwysings

Achtemeier, P.J., 1996, 1 Peter. A commentary on First Peter, Hermeneia – A critical and historical commentary on the Bible, Augsburg Fortress, Minneapolis, MN.

Alexander, T.D., 2017, Exodus, Apollos Old Testament Commentary, Apollos, London.

Beale, G.K., 2012, Handbook on the New Testament use of the Old Testament: Exegesis and interpretation, Baker Academic, Grand Rapids, MI.

Best, E., 1971, 1 Peter, New Century Bible, Oliphants, London.

Boda, M.J., 2009, A severe mercy: Sin and its remedy in the Old Testament, Pennsylvania State University Press, Philadelphia, PA.

Breed, D.G., 2022, ‘Lydende Nuwe-Testamentiese gelowiges bedien deur die Ou-Testamentiese profete: Eksegese van 1 Petrus 1:10–12 [Suffering New Testament believers ministered by Old Testament prophets: Exegesis of 1 Peter 1:10–12]’, In die Skriflig/In Luce Verbi 56(1), 1–10. https://doi.org/10.4102/ids.v56i1.2809

Breed, D.G., 2024, ‘Lyding – ’n dringende aansporing: 1 Petrus 4:12–19 eksegeties nuut ondersoek [Suffering – an urgent exhortation: 1 Peter 4:12–19 exegetically re-examined]’, In die Skriflig/In Luce Verbi 58(1), 1–10. https://doi.org/10.4102/ids.v58i1.3009

Breed, D.G., 2025, ‘Die gebruik van Eksodus 19–24 in 1 Petrus 1:2 – ’n Eksegetiese ondersoek [The use of Exodus 19–24 in 1 Peter 1:2 – An exegetical investigation]’, In die Skriflig/In Luce Verbi 59(1), 1–23, https://doi.org/10.4102/ids.v59i1.3151

Breed, D.G., Van Rensburg, F.J. & Jordaan, G.J.C., 2008, Manlik en vroulik in die kerk: Geslagtigheid en die besondere dienste [Male and female in the church: gender and the ordained ministries], Potchefstroomse Teologiese Publikasies, Potchefstroom.

Bruckner, J.K., 2008, Exodus, understanding the Bible Commentary series, Baker Books, Grand Rapids, MI.

Brueggemann, W., 2014, ‘The God who gives rest’, in T. Dozeman, C.A. Evans & J.N. Lohr (eds.), The Book of Exodus: Composition, reception, and interpretation, pp. 565–590, Koninklijke Brill, Leiden.

Carson, D.A., 2007, ‘1 Peter’, in G.K. Beale & D.A. Carson (eds.), Commentary on the New Testament use of the Old Testament, pp. 1015–1046, Baker Academic, Grand Rapids, MI.

Childs, B.S., 2004, The Book of Exodus, a critical, theological commentary, SCM Press, Louisville, KY.

Coetzee, J.C., 1988, ‘Gedagtestruktuurontleding en die eksegese van die Heilige Skrifte’, in J.C. Coetzee (red.), Koninkryk, Gees en Woord, pp. 19–37, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Cotterell, P. & Turner, M., 1989, Linguistics and biblical interpretation, InterVarsity, Downers Grove, IL.

Davids, P.H., 1990, The First Epistle of Peter, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Davies, J.A., 2004, A royal priesthood: Literary and intertextual perspectives on an image of Israel in Exodus, Clark International, New York, NY.

Dozeman, T.B., 2009, Exodus, Eerdmans Critical Commentary, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Dubis, M., 2010, 1 Peter. A handbook on the Greek Text, Baylor University Press, Waco, TX.

Durham, J.I., 1987, Exodus, Word Biblical Commentary, Word Books Publisher, Dallas, TX.

Elliott, J.H., 1966, The Elect and the Holy: An Exegetical Examination of 1 Peter 2:4-10 and the Phrase ‘basileion hierateuma’, E.J. Brill, Leiden.

Fee, D.G., 2009, New Testament exegesis: A handbook for students and pastors, Westminster John Knox, Louisville, KY.

Feldmeier, R., 2008, The first letter of Peter. A commentary on the Greek Text, Baylor University Press, Waco, TX.

Fretheim, T.E., 1991, Exodus, Interpretation. A Bible Commentary for Teaching and Preaching, John Knox, Louisville, KY.

Fretheim, T.E., 1996, ‘“Because the whole earth is mine”: Theme and narrative in Exodus’, Interpretation 50(3), 229–239. https://doi.org/10.1177/002096439605000302

Green, G.L., 1990, ‘The use of the Old Testament for Christian ethics in 1 Peter’, Tyndale Bulletin 41(2), 276–289. https://doi.org/10.53751/001c.31657

Green, J.B., 2006, ‘’narrating the Gospel in 1 and 2 Peter’, Interpretation 60(3), 262–277. https://doi.org/10.1177/002096430606000303

Green, J.B., 2007, ‘1 Peter’, The two horizons New Testament commentary, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Hamilton, V.P., 2011, Exodus: An exegetical commentary, Baker Academic, Grand Rapids, MI.

Hays, R.B. & Green, J.B., 1995, ‘The use of the Old Testament by New Testament writers’, in J.B. Green (ed.), Hearing the New Testament strategies for interpretation, pp. 222–238, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Hilber, J.W., 1996, ‘Theology of worship in Exodus 24’, Journal of the Evangelical Theological Society 38(2), 177–189.

Hillyer, N., 1992, 1 & 2 Peter, Jude, Understanding the Bible Commentary Series, Baker Books, Grand Rapids, MI.

Jobes, K.H., 2005, 1 Peter, Baker Exegetical Commentary on the New Testament, Baker Academic, Grand Rapids, MI.

Jordaan, G.J.C., Van Rensburg, F.J. & Breed, D.G., 2011, ‘Hermeneutiese vertrekpunte vir gereformeerde eksegese [Hermeneutic premises for reformed exegesis]’, In die Skriflig/In Luce Verbi 45(2/3), 225–258. https://doi.org/10.4102/ids.v45i2/3.14

Keener, C.S., 2021, 1 Peter: A commentary, Baker Academic, Grand Rapids, MI.

Lemański, J., 2023, ‘Israel as the living temple of God (Exod 19:5–6)’, Verbum Vitae 41(1), 17–31. https://doi.org/10.31743/vv.14692

Marshall, I.H., 1994, ‘Counter-response in favor of C.H. Dodd’s view’, in G.K. Beale (ed.), The right doctrine from the wrong texts? Essays on the use of the Old Testament in the New, pp. 29–51, Baker Books, Grand Rapids, MI.

Martin, T.W., 1992, Metaphor and composition in 1 Peter (Dissertation Series), Scholars Press, Atlanta, GA.

Meyers, C.M., 2005, Exodus, The New Cambridge Bible Commentary, Cambridge University Press, Cambridge.

Michaels, J.R., 1988, 1 Peter, Word Biblical Commentary, Word Books Publisher, Dallas, TX.

Miller, E.B. & Murawski, B., 2022, 1 Peter. A Commentary for Biblical Preaching and Teaching, Kerux Commentaries, Kregal Publications, Grand Rapids, MI.

Motyer, A., 2005, The message of Exodus, The Bibel Speaks Today, Intervarsity Press, Leicester.

Nicholson, E.W., 1982, ‘The covenant ritual in Exodus xxiv 3–8’, Vetus Testamentum 32(1), 74–86. https://doi.org/10.2307/1518193

Patric, D., 1985, Old Testament Law, John Knox Press, Atlanta, GA.

Peels, H.G.L., 1994, ‘On the Wings of the Eagle (Dtn 32,11) – An Old Misunderstanding’, Zeitschrift für die Alttestamentliche Wissenschaft 106(2), 300–303.

Schreiner, T.R., 2003, 1, 2 Peter, Jude, The New American Commentary, B&H Publishing Group, Nashville, TN.

Schutter, W.L., 1989, Hermeneutic and composition in I Peter, J. C. B. Mohr, Tübingen.

Selwyn, E.G., 1987, The First Epistle of St. Peter, Thornapple Commentaries, Macmillan, London.

Sprinkle, J.M., 2004, ‘Law and narrative in Exodus 19–24’, Journal of the Evangelical Theological Society 47(2), 235–252.

Stowers, K.S., 1986, Letter writing in Greco-Roman antiquity, The Westminster Press, Philadelphia, PA.

Tolar, W.B., 2002, ‘The grammatical-historical method’, in B. Corley, S. Lemke & G.I. Lovejoy (eds.), Biblical hermeneutics: A comprehensive introduction to interpreting scripture, pp. 21–38, Broadman & Holman, Nashville, TN.

Van Rensburg, F.J., 2010, ‘Die eskatologie van 1 Petrus: hoop en vindikasie vir tydelike en permanente uitlanders’, In die Skriflig/In Luce Verbi 44(1), 201–228. https://doi.org/10.4102/ids.v44i1.144

Wells, J.B., 2000, God’s holy people: A theme in Biblical theology, Bloomsbury, London.

Wenham, G.J., 1979, The Book of Leviticus, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Williams, M., 2011, The doctrine of salvation in the First Letter of Peter, Society For New Testament Studies, Cambridge University Press, New York, NY.

Williams, T.B., 2012, Persecution in 1 Peter. Differentiating and contextualizing early Christian (Suffering Supplements to Novum Testamentum), Brill, Leiden.

Williams, T.B. & Horrell D.G., 2023, A critical and exegetical commentary on 1 Peter, T&T Clark, London.

Wright, C.J.H., 2021, Exodus, The story of God Bible commentary, Zondervan Academic, Grand Rapids, MI.

Footnotes

1. In hierdie artikel word saam met verskeie eksegete (vgl. byvoorbeeld Miller & Murawski 2022:29–33; Schreiner 2003:21–36) en op grond van interne en eksterne getuienis aanvaar dat die apostel Petrus die outeur van 1 Petrus is.

2. Let wel: Alle Skrifverwysings waar slegs hoofstuk en vers aangedui word, verwys na 1 Petrus, tensy anders vermeld.

3. In hierdie artikel word aangesluit by die beskrywing wat Beale (2012:29–32) gee van ’n ‘aanhaling’ uit en ’n ‘verwysing’ na die Ou Testament. Volgens hom is ’n aanhaling ‘a direct quotation of an OT passage that is easily recognizable by its clear and unique verbal parallelism’. ’n Verwysing na die Ou Testament is, volgens hom, ‘a brief expression consciously intended by an author to be dependent on an OT passage’ en ‘… the telltale key to discerning an allusion is that of recognizing an incomparable or unique parallel in wording, syntax, concept, or cluster of motifs in the same order or structure’ (vgl. Breed 2025:1).


 

Crossref Citations

1. Honouring Francois Viljoen: An introduction to the Festschrift
Albert J. Coetsee
In die Skriflig/In Luce Verbi  vol: 60  issue: 3  year: 2026  
doi: 10.4102/IDS.v60i3.3249