About the Author(s)


Jacob J. Scholtz Email symbol
Independent Researcher, Hermanus, South Africa

Citation


Scholtz, J.J., 2025, ‘’n Ondersoek na die martelare van Openbaring 6–20’, In die Skriflig 59(1), a3243. https://doi.org/10.4102/ids.v59i1.3243

Original Research

’n Ondersoek na die martelare van Openbaring 6–20

Jacob J. Scholtz

Received: 18 Aug. 2025; Accepted: 29 Sept. 2025; Published: 07 Nov. 2025

Copyright: © 2025. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This work is licensed under the Creative Commons Attribution 4.0 International (CC BY 4.0) license (https://creativecommons.org/licenses/by/4.0/).

Abstract

An investigation into the martyrs of Revelation 6–20. Revelation 20 presents a theological minefield, with three firmly entrenched eschatological positions. While two contradictory statements cannot both be true at the same time and in the same sense, two of the three millennial positions must be false. Adopting an indirect approach to the millennial debate, this article’s research question is: When will the martyrs of Revelation 6–20 pass away? A-millennialists and postmillennialists undeniably imply that these martyrs die during a symbolic 1000-year period, experience a form of spiritual first resurrection, and reign spiritually with Christ during the inter-advent period. To assess this claim, the identity of the ‘inhabitants of the earth’ (or ‘earth-dwellers’) was established, along with the period in which they will live. This study found that the term ‘inhabitants of the earth’ functions as a technical term for unbelievers who will live during the eschatological ‘hour of trial’ that will come upon the whole world. During this global hour of trial, or tribulation period, martyrs will be killed by earth-dwellers, the great harlot, the beast that ascends from the bottomless pit, and the false prophet. The ‘great tribulation’, a period out of which some martyrs will come, was also analysed, together with the timing of the beheading of believers for their witness. Only during the final phase of the hour of trial, namely the great tribulation, will it be possible to worship the beast or his image, take the mark of the beast, or refuse to do so and face beheading. Contrary to non-chiliasts, the martyrs of Revelation 6–20 will not die throughout a symbolic 1000-year period (i.e. the inter-advent period) but will rather be martyred during the hour of trial. It is therefore anachronistic to identify those in contact with the earth-dwellers as living outside this eschatological hour of trial.

Contribution: As it is incorrect to suggest that the martyrs of Revelation 6–20 will die during a symbolic 1000-year period, when in reality they will pass away during the specific eschatological hour of trial, both a-millennialism and post-millennialism must be considered false.

Keywords: earthlings; inhabitants of the earth; eschatology; great tribulation; interadvent period; martyrs; hour of trial; tribulation period.

Inleiding

Indien mense kon sê wie hulle vermoor het, sou alle moordsake nie dan opgelos kon word nie? Wanneer Christus die vyfde seël oopbreek, sien Johannes die siele van diegene wat doodgemaak is ‘vanweë die woord van God en die getuienis wat hulle gelewer het’ (Op 6:9 2020-vertaling). Hierdie siele is onder die voet van die altaar in die hemel, en hulle roep met ’n harde stem: ‘Tot wanneer, heilige en ware Here, gaan U uitstel om u oordeel te voltrek, en ons bloed op die aardbewoners te wreek?’ (Op 6:10). Die martelare van Openbaring 6:9–11 vra nie dat God hulle bloed wreek op mense wat reeds gesterf het nie, maar op ‘aardbewoners’ wat op daardie stadium nog (fisies) lewe. Elkeen van hierdie siele wat doodgemaak is ontvang ’n lang wit stola en word aangesê om nog ’n ‘kort rukkie’ te rus, ‘totdat hulle medediensknegte en broers, wat ook soos hulle doodgemaak gaan word, voltallig sou wees’ (Op 6:11).

Openbaring 7:9 beskryf ’n ontelbare skare uit elke nasie, stam, volk en taal. Terwyl hierdie gelowiges (fisies) leef, is hulle oor die hele aarde versprei, maar wanneer hulle God in die tempel in die hemel dien, dra hulle óók lang wit stolas, gewas en wit gemaak in die bloed van die Lam (Op 7:9, 14–15). Hierdie martelare kom uit die ‘groot verdrukking’ (Op 7:14). In Openbaring 20:4 sien Johannes dat die siele van diegene wat onthoof is, lewend geword (ezēsan) het, en ‘saam met Christus regeer, ’n duisend jaar lank’. Hulle is onthoof omdat hulle ‘nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie, en nie die merk op die voorkop of op die hand ontvang het nie’. Die res van Openbaring 20 noem geen verdere martelare nie, en Openbaring 21–22 beskryf die ewige bestel waarin geen gelowige sal sterf nie. Hierdie martelare het deel aan die ‘eerste opstanding’ (prōtē anastasis), en die tweede dood het geen mag oor hulle nie (Op 20:5–6). Die oorblywende dooies het nie lewend geword voordat die 1000 jaar verstryk het nie (Op 20:5). In die lig van hierdie ‘1000 jaar’ (of millennium) ontstaan die vraag: Wanneer sal Christus na die aarde terugkeer?

Premillennialiste (‘chiliaste’) glo dat Jesus ‘pre’ of vóór die 1000 jaar na die aarde sal terugkeer, terwyl postmillennialiste meen dat Christus ‘post’ of die 1000 jaar sal terugkeer. A-millennialiste leer dat daar nie ’n millennium sal wees soos die premillennialisme of postmillennialisme dit verstaan nie (daarom die voorvoegsel ‘a’, wat ‘nie’ beteken). Daar is eenstemmigheid dat Openbaring 19:11–16 na Christus se terugkeer na die aarde verwys. Die uitleg van Openbaring 20 is egter die kernpunt van verskil tussen bogenoemde drie eskatologiese sienswyses: A- en postmillennialiste (gesamentlik ‘nie-chiliaste’) glo dat die eerste opstanding geestelik is (vgl. Op 20:5), hetsy as ’n geestelike wedergeboorte (Botha 2014:221; Gentry 1999:53) of as die oorgangstaat waarin die nie-stoflike deel (siel en gees) van afgestorwe gelowiges die hemel binnegaan (Beale 1999:996–997; Boettner 1977:203; Du Rand 2007:566). Premillennialiste, daarenteen, verstaan Openbaring 20:5 se eerste opstanding as ’n fisiese opstanding van die liggaam (Deere 1978:69; Ladd 1972:266–267; Patterson 2012:353–354). Nog ’n voorbeeld is Openbaring 20:2–7 wat ses keer na ’n 1000 jaar verwys. Nie-chiliaste sê dat hierdie 1000 jaar nie letterlik vertolk moet word nie, maar beskou dit as simbolies vir ’n ‘volledige’ of ‘onbepaalde’ tydperk (Botha 2014:83, 112; Du Rand 2007:566–567; Gentry 1998:82) wat by Christus se eerste koms begin en aan die einde van die inter-adventtydperk verstryk (Boettner 1977:203; Hoekema 1977:164; Storms 2024:159–161). Premillennialiste verstaan dat Openbaring 20 na ’n letterlike tydperk van 1000 jaar in die toekomstige bedeling verwys (Fanning 2020:508; Thomas 1995:409).

Nie-chiliastiese hermeneutiese vertrekpunte en eksegetiese resultate is dit eens dat die ‘1000 jaar’ simbolies verstaan moet word. Volgens nie-chiliasme ontvang sekere mense die ‘eerste opstanding’ geestelik gedurende die interadventtydperk (die simboliese ‘1000 jaar’) en hulle begin van dáárdie punt af geestelik saam met Christus regeer. Indien hierdie siening op die martelare van Openbaring 6–20 toegepas word, sou dit onteenseglik beteken dat mense regdeur die interadventtydperk onthoof word omdat hulle weier om die dier en sy beeld te aanbid en sy merk te ontvang (vgl. Op 20:4). Nie-chiliaste redeneer ook dat aardbewoners die bloed van die martelare regdeur hierdie tydperk vergiet (vgl. Op 6:9–11). Is dit egter wel so? Hierdie artikel ondersoek die geldigheid van die nie-chiliastiese siening oor die martelare van Openbaring 6–20.

In die besinning hieroor verloop die artikel se struktuur soos volg: Eerstens word besin oor wie die ‘aardbewoners’ in Openbaring is en wanneer hulle die martelare se bloed vergiet (vgl. Op 6:9–11). Tweedens, wanneer vind die ‘groot verdrukking’ plaas (vgl. Op 7:14)? Derdens, wanneer vind die onthoofding van die martelare van Openbaring 20:4 plaas? Vierdens, wat is die dryfkrag agter die moorde op gelowiges tydens die eerste deel van die ‘uur van beproewing’? Vyfdens, wanneer sterf die twee martelare van Openbaring 11? En sesdens, gegewe die bevindings van hierdie ondersoek, watter impak het dit op die nie-chiliastiese eskatologie?

Die ‘aardbewoners’ en die martelare van Openbaring 6:9–11

Die martelare van Openbaring 6:9 identifiseer hulle moordenaars as die ‘aardbewoners’ (Op 6:10). Wie is hierdie aardbewoners? Die eerste keer wat Openbaring na die ‘bewoners van die aarde’ (tous katoikountas epi tēs gēs) verwys, is in die brief aan die gemeente in Filadelfia:

Omdat jy aan my opdrag gehoorsaam was om te volhard, sal Ek jou ook bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele bewoonde wêreld gaan aanbreek, om die bewoners van die aarde op die proef te stel. (Op 3:10)

Verdere verwysings in Openbaring na die ‘bewoners van die aarde’ of ‘aardbewoners’ kom verskeie kere voor (Op 6:10; 8:13; 11:10; 13:8, 12, 14; 14:6; 17:2, 8). Al hierdie verwysings dui op ’n groep mense wat ongelowig bly. Die aardbewoners aanbid byvoorbeeld die dier aan wie die draak sy volmag gegee het (Op 13:4, 8). Die aardbewoners se name is nie in die boekrol van die lewe opgeteken nie (Op 13:8; 17:8). Elkeen wie se naam nie tydens die oordeel voor die wit troon in die boek van die lewe opgeteken is nie, sal in die vuurpoel gegooi word (vgl. Op 20:14–15). In Openbaring is die bewoners van die aarde of aardbewoners dus onteenseglik ongelowige mense (Du Rand 2007:202; König 2009:299). Hulle fokus is uitsluitlik op die aarde; hulle dink nie aan God nie en leef sonder hoop in Christus. Vir hulle is die aarde ’n afgod en voorwerp van aanbidding, en daarom tref baie van die oordele waarna Openbaring verwys die natuurlike stelsels van die aarde (Garland 2004:281). Beale (1999:290) beskryf die ‘aardbewoners’ of ‘bewoners van die aarde’ as ’n tegniese term vir ongelowige afgodsaanbidders wat onder verskeie vorms van vergeldende geregtigheid ly. Storms (2024:158–162) beklemtoon eweneens dat die term ‘aardbewoners’ konsekwent na ongelowiges verwys. Die vraag is egter: Is dit reg om hierdie tegniese term slegs soteriologies te omskryf?

Ice (2009:350–354) bespreek die Ou-Testamentiese ontwikkeling van die term en toon aan dat elke wêreldwye verwysing na ‘bewoners van die aarde’ op oordeel dui en byna altyd op die eskatologiese verdrukkingstydperk. Die ‘Jesaja-apokalips’ (Jes 24–27) het duidelike eskatologiese betekenis en verwys ook na die bewoners van die aarde wat deur die Here geoordeel sal word (Jes 24:6, 17). Jesaja 24:4–6 verskaf redes waarom die Here die ‘bewoonde wêreld’ en die bewoners van die aarde sal oordeel. Jesaja 26:21 stel dit soos volg:

Want kyk, die Here gaan uit sy woonplek kom om van die bewoners van die aarde rekenskap te eis oor sondeskuld. Die grond sal die bloed daarop onthul, en nie langer hulle wat daarop gedood is, bedek nie.

Volgens Jesaja 26:21 sal daar rekenskap van die aardbewoners geëis word, terwyl Openbaring 3:10 na beproewing verwys: die aardbewoners sal tydens die ‘uur van beproewing’ (tēs hōras tou peirasmou) op die aarde leef en dan ‘op die proef gestel word’ (peirazō). Hierdie ‘beproewing’ is nie ’n versoeking nie, maar ’n toets om iemand se aard of karakter te openbaar (Bauer et al. [BDAG] 2000:792–793). Die doel is om bekering vir aardbewoners te bewerkstellig, of om hulle te straf omdat hulle hul nie bekeer nie (Ice 2009:353). Tog blyk dit dat ondanks hierdie oordele, geen bekering by die aardbewoners plaasvind nie (Op 6:15–17; 9:20–21; 16:9, 11, 21; Garland 2004:264–265; Ice 2009:353).

Hierdie ‘uur van beproewing’ sal wêreldwyd wees, want dit sal die ‘hele bewoonde wêreld’ (tēs oikoumenōs holēs) raak (vgl. Op 3:10). Die teks verwys nie na ’n plaaslike beproewing soos byvoorbeeld met Smirna die geval was nie (Op 2:10; Brown 1966:310), en ook nie na die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. nie, want laasgenoemde was nie ’n wêreldwye gebeurtenis nie. Die uur van beproewing sal die hele bewoonde wêreld gelyktydig raak, nie net gedeeltelik of sporadies nie. Die uur van beproewing sal nie die hele inter-adventtydperk dek nie, want dan sou die gemeente in Filadelfia dit reeds ervaar het. Inteendeel, gelowiges wat volhard, word juis belowe dat hulle daarvan bewaar sal word (Fanning 2020:177; Garland 2004:262–263). Gemeet aan die tyd toe Openbaring geskryf is, lê hierdie uur nog in die toekoms, want dit gáán nog aanbreek (vgl. Op 3:10). Gedurende die inter-adventtydperk stry gelowiges wel teen bose magte in die hemelruim, die wêreld en hulle eie gevalle natuur (vgl. Joh 16:33; Ef 6:10–18), maar God se toorn-oordele oor die hele aarde vind eers tydens die uur van beproewing plaas.

Die uur van beproewing sal eindig aan die einde van die inter-adventtydperk wanneer Christus na die aarde terugkeer. Christus sê sodra die uur van beproewing verby is, kom Hy gou – ’n verwysing na sy wederkoms (Op 3:11a; Ladd 1972:62–63). Hoe kan die uur van beproewing met die inter-adventtydperk in verband gebring word? Beale (1999:290, [outeur se eie vertaling]) beskryf die tydperk as ’n ‘versterking van die eindtyd se “verdrukking” op ’n sekere stadium in die toekoms’, maar beskou dit as reeds aan die gang en hy staaf sy bewering deur na Openbaring 1:9 en 2:9 te verwys. Alhoewel Johannes en die gemeente in Smirna se verdrukking erg was, word hierdie siening weerlê deur die feit dat dit nie wêreldwyd was nie. Brown (1966:310), [outeur se eie vertaling]) meen tereg dat die uur van beproewing ’n ‘streng eskatologiese of apokaliptiese gebeurtenis’ sal wees. In ooreenstemming met die nie-chiliaste (Du Rand 2007:202), verwys hierdie uur van beproewing ‘na die tydperk wat die finale einde voorafgaan’ en raak dit die ‘hele bewoonde mensewêreld’. In Openbaring is die ‘aardbewoners’ of ‘bewoners van die aarde’ dus ’n tegniese term wat soteriologiese sowel as eskatologiese toespelings het (Garland 2004:335–336; Ice 2009:354). Die aardbewoners is ongelowiges wat gedurende die eskatologiese uur van beproewing sal leef.

Gegewe hierdie begrip van die bewoners van die aarde, en toegepas op Openbaring 6:9–11, ontstaan die volgende vrae: Wanneer vermoor hulle die martelare? Wanneer is die ‘kort rukkie’ verby; en wanneer is die getal martelare ‘voltallig’? Wanneer Christus die vyfde seël oopmaak, is daar reeds siele van martelare in die hemel onder die altaar. Hulle moes dus reeds tydens die oopmaak van die eerste vier seëls gesterf het (Fanning 2020:247; Heil 1993:242; Patterson 2012:183–184). Hulle roep met ’n harde stem (krazō) en vra hoe lank die Here die voltrekking van sy oordeel, om ‘ons bloed’ op die aardbewoners te wreek, gaan uitstel (Op 6:9–10). Sulke gebede is geregverdig, want dit is juis die eskatologiese tyd wanneer God die ongelowige wêreld sal oordeel (Ice 2009:357; Thomas 1992:445). Thomas (1992:445) argumenteer dat hierdie harde uitroep ’n enkele, spesifieke petisie is, nie ’n aanhoudende pleitrede nie. Die martelare rig dus nie hierdie versoek regdeur die inter-adventtydperk nie, maar eenmalig in die uur van beproewing wat reeds aangebreek het (kontra Beale 1999:390), terwyl die aardbewoners nog op aarde leef (Garland 2004:335; Patterson 2012:183–184). Die martelare van Openbaring 6:9–11 vra dus nie dat die Here hulle bloed wreek op mense wat reeds gesterf het nie, maar op aardbewoners wat op daardie stadium nog op die aarde sal wees. Die martelare van Openbaring 6:9–11 (en ook 7:9–17 en 20:4, soos dit later aangetoon word) verwys daarom nie na alle Christen-martelare wat gedurende die hele inter-adventtydperk hulle lewens vir Christus opgeoffer het nie (kontra Ladd 1972:104). Die tydperk waarin hierdie gebeure sal plaasvind, is die uur van beproewing, aangesien dit die tydperk is waartydens die aardbewoners (as tegniese term omskryf) op die aarde sal wees.1

Die martelare word aangesê om nog ’n ‘kort rukkie’ te rus (Op 6:11). Hierdie ‘kort rukkie’ sal eindig wanneer die uur van beproewing eindig (vgl. Op 3:11a). Die moorde op gelowiges sal sekerlik stop en die martelare sal voltallig wees wanneer Christus na die aarde terugkeer (Waymeyer 2016:241–242). God het ’n spesifieke aantal martelare verordineer (Du Rand 2011:50; Mounce 1997:149). Die martelare van Openbaring 6:9–11 is deel van hierdie getal, maar die res van hierdie vasgestelde getal sal nog na hierdie gebeure sterf totdat die groep volledig is. Hulle is nie ‘dieselfde’ martelare as diegene van Openbaring 20:4 wat onthoof is nie (kontra Du Rand 2007:565). Openbaring 6:9–11 en 20:4 beskryf ook nie ‘dieselfde toneel’ nie (kontra Storms 2015:458). Die martelare waarna Openbaring 6–20 verwys, vorm saam die volle, verordineerde getal martelare wat nie die een na die ander tydens die hele inter-adventtydperk sal sterf nie, maar wel almal wat gedurende dieselfde eskatologiese eindtyd, naamlik tydens die uur van beproewing, gaan sterf.

Die ‘groot verdrukking’ en die martelare van Openbaring 7:9–17

In Openbaring 6:12–17 gaan die Here voort om die versoek van die martelare van Openbaring 6:9 te beantwoord (Heil 1993:230; vgl. Op 8:13). Wanneer Christus die sesde seël oopmaak, is die gevolge nie plaaslik nie, maar kosmies van omvang, want die hemel en die aarde word deur hierdie seël se oordeel geraak (vgl. Jes 24:19–21; Op 6:12–14). Die konings van die aarde, die hoofamptenare, chiliarge, die rykes en invloedrykes, elke slaaf en elke vry mens – almal besef dat hulle die ‘groot dag’ van die toorn van God wat op die troon sit, en van die Lam beleef (vgl. Op 6:15–17). Hierdie dag staan bekend as die eskatologiese ‘dag van die Here’ (Fanning 2020:249; Ladd 1972:106–107). Dit is ’n tyd wanneer God buitengewoon, direk en dramaties ingryp om sy vyande te oordeel, sy raadsplan te vervul en Homself te openbaar. Dit verskil van ander tye wanneer God in sy voorsienigheid die skepping meer indirek bestuur.

Die eskatologiese dag van die Here sal onverwags en skielik kom soos ’n dief in die nag (1 Tess 5:2; 2 Pet 3:10). Dit word beskou as die begin van die uur van beproewing. Die hele inter-adventtydperk maak nie deel uit van die eskatologiese dag van die Here nie; slegs die uur van beproewing is deel daarvan. Fruchtenbaum (2004:174) wys op sinonieme wat hierdie dag beskryf: die dag van die Here se gramskap, wanneer Hy gruwelike verwoesting oor al die aardbewoners bring (Sef 1:18); die sewentigste sewetal (Dan 9:27); die groot parskuip van God se toorn (Op 14:19); en die oordeel wat kom (1 Tess 1:10). Nadat die sesde seël oopgemaak is, word gevra: ‘Wie kan staande bly?’ Openbaring 7 toon dat God se engele en ook gelowiges sal bly staan, al sal baie van laasgenoemdes vermoor word (Op 7:1–3, 9–17).

Die martelare van Openbaring 6:9–11 het ’n eenmalige versoek aan die Here gerig, maar dieselfde word nie van die martelare van Openbaring 7:9–17 gesê nie. Die martelare van Openbaring 6:9–11 sowel as dié van 7:9–17 ontvang wit stolas. Laasgenoemdes is ’n groot menigte uit die hele bewoonde wêreld, en hulle kom uit die ‘groot verdrukking’ (Op 7:9, 14). Die verwysing is spesifiek na ‘die’ groot verdrukking (tēs thlipseōs tēs megalēs). Du Rand (2007:311; vgl. Mounce 1997:163–164) stel dit raak wanneer hy sê: ‘Die spesifieke woord, die, wil egter tog op ’n bepaalde traumatiese moment in die algemene vervolging van die Christene verwys.’ In sy profetiese rede sê Jesus dat die ‘gruwel van verwoesting’ waarvan die profeet Daniël praat, op die heilige plek sal staan, waarna Hy na die ‘groot verdrukking’ verwys (Matt 24:15, 21). Hy voeg by dat ‘daar groot verdrukking [sal] wees, soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nog nie was nie, en beslis ook nie weer sal wees nie’ (Matt 24:21). Hierdie groot verdrukking sal die hele wêreld tref (nie slegs Jerusalem nie) en baie mense sal in daardie tyd sterf (Matt 24:22; vgl. Jes 24:6).

Daniël 12:1 beskryf dit as ’n ongeëwenaarde ‘tyd van verdrukking’, en enkele verse later, as deel van dieselfde visioen, word verduidelik hoe lank die ‘verfoeilike afgodsbeeld’ sal bly staan (Dan 12:11). Jeremia 30:7 beskryf ook ’n tyd sonder enige gelyke: ‘Helaas, want daardie dag is groot en sonder gelyke! Dit is ’n tyd van benoudheid vir Jakob, maar hy sal daaruit verlos word’. Hierdie tyd het nog nooit in die geskiedenis plaasgevind nie. Omdat daar nie meer as een ongeëwenaarde tyd van groot verdrukking kan wees nie, dek die ‘tyd van benoudheid vir Jakob’ (Jer 30:7) en die ‘groot verdrukking’ (Matt 24:21; Op 7:14) dieselfde tydperk (Garland 2004:138).

Die uur van beproewing sluit dus ’n fase in wat die ‘groot verdrukking’ genoem word – ’n tyd wanneer die ‘gruwel van verwoesting’ in die heilige plek sal staan (Matt 24:15; vgl. Dan 9:27). Nie alleen sal dit gesien kan word nie, maar enigiemand wat in daardie tyd leef en boonop in die omstreke van Judea woon, moet onmiddellik na die berge vlug (Matt 24:16). Die martelare waarna Openbaring 7:9–17 verwys, sterf dus nie een vir een regdeur die inter-adventtydperk nie (kontra Beale 1999:424), maar kom uit die groot verdrukking – ’n tyd van ongeëwenaarde lyding soos die wêreld nog nooit beleef het en ook nooit weer sal beleef nie. ‘Onmiddellik ná die verdrukking van daardie dae’ sal Christus terugkeer na die aarde (Matt 24:29–30; vgl. Op 3:10–11). Soos Figuur 1 aantoon, sluit die inter-adventtydperk die uur van beproewing in, en die uur van beproewing sluit weer die groot verdrukking in. Hierdie drie tydperke – die inter-adventtydperk, die uur van beproewing en die groot verdrukking – eindig wanneer Christus na die aarde terugkeer.

FIGUUR 1: Die inter-adventtydperk, die uur van beproewing en die groot verdrukking.

Die onthoofding van die martelare van Openbaring 20:4

Soos reeds betoog, is die ‘aardbewoners’ of die ‘bewoners van die aarde’ in Openbaring ’n tegniese term wat verwys na ’n groep ongelowige mense van regoor die hele bewoonde wêreld, wat tydens die uur van beproewing sal leef. Volgens Openbaring 13:7–8 sal die aardbewoners die ‘dier’ aanbid – die een wat volmag oor elke stam, volk, taal en nasie ontvang. Die ander dier wat uit die aarde opkom, dwing die aardbewoners om die eerste dier te aanbid (Op 13:12). Jesus verbind die gruwel van verwoesting wat op die heilige plek sal staan, met die groot verdrukking (Matt 24:15, 21–22). Nie net mislei die vals profeet (oftewel die dier uit die aarde) die aardbewoners deur hulle te beveel om ’n beeld vir die dier op te rig nie, maar hy laat almal doodmaak wat weier om die beeld te aanbid (Op 13:14–15; vgl. 16:13). Hy verplig ook almal om die merk van die dier te ontvang (Op 13:11a, 16–18). Die aardbewoners sal dus nie deur die hele inter-adventtydperk op aarde leef nie, maar spesifiek tydens die uur van beproewing – ’n tyd wat die groot verdrukking insluit. Dit impliseer dat die merk van die dier nie regdeur die simboliese 1000 jaar (aldus nie-chiliaste) ontvang kan word nie, net soos die aanbidding van die dier en sy beeld nie gedurende die hele inter-adventtydperk kan plaasvind nie, maar beperk is tot die 42 maande waarin die dier volmag oor die aarde sal ontvang (vgl. Op 13:4–5, 7). Dit is gedurende hierdie tydperk, die groot verdrukking, dat die martelare van Openbaring 20:4 onthoof sal word omdat hulle ‘nie neergeval het om die dier en sy beeld te aanbid nie, en nie die merk op die voorkop of op die hand ontvang het nie’. Die gesagsfiguur wat hierdie onthoofdings sal aanhits, is die dier uit die aarde, oftewel die vals profeet (Op 13:11a, 15; 16:13).

Nog nooit in die geskiedenis is alle mense regoor die wêreld gedwing om ’n merk op die voorkop of regterhand te ontvang voordat hulle kan koop of verkoop nie (Op 13:16–17). Hierdie gebeure vind dus nie aanhoudend tydens die inter-adventtydperk plaas nie. Indien iemand sou beweer dit het reeds gebeur, bly die ‘naam van die dier’ steeds onbekend, en bly daar steeds die oproep tot wysheid om die ‘getal van die dier’ te bereken (Op 13:17–18). Indien die merk van die dier nog nie ontvang kan word nie, beteken dit dat die dier, sy beeld en die vals profeet, ook nog nie verskyn het nie (Op 13). Tydens die groot verdrukking sal die bewoners van die aarde egter die dier en sy beeld aanbid en die merk van die dier ontvang. Gevolglik sal hulle die wyn van God se toorn drink en in die groot parskuip van sy toorn gewerp word (Op 14:9–11, 17–20). Diegene wat die merk van die dier ontvang en hom en sy beeld aanbid, sal deur die eerste bak met oordeel getref word, en bose swere sal op hulle uitbreek (Op 16:2). Hierdie oordeel het nog nooit in die geskiedenis plaasgevind nie, maar kan slegs tydens die groot verdrukking plaasvind wanneer die vals profeet die aanbidding van die dier en sy beeld verpligtend maak en dit met die dood afdwing. Gelowiges wat in daardie tyd leef en wat ore het om te hoor, word aangemoedig om hulleself aan God se soewereine wil te onderwerp en te weet dat Hy hulle bloed sal wreek (vgl. Op 13:9–10). Baie gelowiges sal hulle lewe tydens die groot verdrukking verloor: party weens die algemene ontberings van hierdie tyd, en ander omdat hulle onthoof word. Sommige sal as gevangenes weggevoer word, en ander deur die swaard gedood word (Op 13:10; 20:4). Tog is hierdie martelare oorwinnaars ‘op grond van die bloed van die Lam en op grond van hulle getuienis. Selfs in die aangesig van die dood het hulle nie hulle eie lewens liefgehad nie’ (Op 12:11; vgl. 15:2–4). Dit blyk dat daardie gelowiges wat tydens die groot verdrukking weier om die dier en sy beeld te aanbid, of die merk van die dier te ontvang, ’n besondere seën sal ontvang: ‘Skryf neer! “Gelukkig is die dooies wat van nou af in die Here sterf. Ja,” sê die Gees, “sodat hulle mag rus van hulle geswoeg, want hulle dade volg hulle”’ (Op 14:13). Hierdie saligspreking sluit nie die seën van ander gelowiges wat sterf, uit nie maar is in die besonder bedoel vir die martelare wat deur die dier doodgemaak word (Thomas 1995:215–216). Tabel 1 som die bespreking tot dusver op.

TABEL 1: Ooreenkomste en verskille tussen Openbaring 6:9–11; 7:9–17 en 20:4.

Die martelare uit die eerste deel van die uur van beproewing

Indien die dier uit die aarde tydens die groot verdrukking vir die dood van die martelare verantwoordelik sal wees (weliswaar met die gesag van die eerste dier, wat sy gesag van die draak ontvang het), ontstaan die volgende vraag: Wie of wat dryf die moord op gelowiges vanaf die begin van die uur van beproewing totdat die groot verdrukking aanbreek (vgl. Op 13:4, 12)? Die aardbewoners word as die martelare se moordenaars aangedui (waarna Op 6:9–11 bv. verwys), maar wie of wat dryf hulle daartoe?

Openbaring 17:1 stel ’n ‘groot prostituut’ bekend wat ‘by baie waters bly’. Hierdie ‘vrou’ word beskryf as ’n ‘groot stad wat heerskappy oor die konings van die aarde het’. Haar invloed sal wêreldwyd wees, aangesien die ‘waters’ waar sy woon ‘die volke en skares en nasies en tale’ verteenwoordig (Op 17:15, 18). Openbaring 17:2 voeg by dat die konings van die aarde met die prostituut gehoereer het, en dat die aardbewoners dronk geword het ‘van die wyn van haar hoerery’. Die verwysing na die aardbewoners wat tydens die uur van beproewing sal leef, plaas hierdie vrou en haar invloed in dieselfde tydsraamwerk, naamlik aan die begin van die uur van beproewing. Verder sê Openbaring 17:6 dat die vrou dronk word van ‘die bloed van die heiliges, en van die bloed van die getuies van Jesus’ (vgl. Op 17:1, 6). Dit is nie die vrou wat dronk word van die aardbewoners se wyn nie, maar die aardbewoners wat vir ’n tyd lank dronk raak van háár wyn. Die gevolgtrekking is dat die groot prostituut se invloed vir ’n bepaalde tyd verantwoordelik is vir die dood van baie martelare. Waarom net vir ’n bepaalde tyd? Omdat sy net vir ’n tyd lank oor die konings van die aarde heers en op die dier sal sit (Op 17:3, 18).

Hierna verander die situasie dramaties: Die prostituut word ‘kaal en verlate’ gelaat, haar ‘vleis’ word geëet, en sy word met ‘vuur verbrand’ (Op 17:16–17). Die koningskap word dan aan die dier oorgegee (Op 17:17). Dit lei tot die gevolgtrekking dat die aardbewoners hulle van die vrou se wyn af wegdraai en hulle eerder aan die dier verwonder, en hom begin volg (Op 13:3; 17:8). Daarom kan afgelei word dat vanaf die begin van die uur van beproewing tot die aanbreek van die groot verdrukking, die groot prostituut – wat oor die konings van die aarde heers en invloed uitoefen oor volke, skares, nasies en tale – mede-verantwoordelik sal wees vir die dood van die martelaar-gelowiges wat in hierdie tyd sterf. Hierdie stelling word nog duideliker wanneer die bediening van die twee martelare in Openbaring 11 in ag geneem word.

Die twee getuies van Openbaring 11

Openbaring 11 beskryf twee getuies wat vir ‘1260 dae’ lank sal profeteer. Wanneer hulle getuienis voltooi is, sal die ‘dier wat uit die onpeilbare diepte verrys’ die twee getuies doodmaak (Op 11:3, 7). Hulle liggame sal in die hoofstraat van die groot stad lê – die stad waar die Here gekruisig is – en die aardbewoners sal daaroor juig en bly wees en vir mekaar geskenke stuur, omdat hierdie twee profete die aardbewoners gefolter het (Op 11:8–10). Weereens, die ‘aardbewoners’ is ’n tegniese term vir ongelowiges wat tydens die uur van beproewing op aarde sal leef. Dit plaas die bediening van die twee getuies dus binne die uur van beproewing, spesifiek vir die ‘1260 dae’ van daardie eskatologiese tydperk. Anders gestel: Die bediening van die twee getuies strek nie oor die hele tydperk vanaf Christus se eerste koms tot sy wederkoms nie. Hulle het nie die afgelope 2000 jaar die aarde met allerhande plae getref nie, en hulle liggame lê ook nie in die strate van Jerusalem tydens die hele inter-adventtydperk nie (vgl. Op 11:6, 8). Net so wek God hulle nie regdeur die inter-adventtydperk uit die dood op nie, en daar is nie herhaaldelik groot aardbewings in Jerusalem waarin ’n tiende van die stad val nie (Op 11:12–13). Hierdie reeks gebeure het nog nooit in die geskiedenis plaasgevind nie; dit sal tydens die eskatologiese uur van beproewing plaasvind, en nie regdeur die inter-adventtydperk nie (kontra Botha 2014:143; kontra König 2009:267–268).

Daar is minstens drie redes waarom die bediening van die twee getuies waarskynlik van die begin van die uur van beproewing af vir 1260 dae in Jerusalem sal plaasvind:

Eerstens, dit blyk dat die gebeure aan die einde van die twee getuies se bediening met die voltooiing van die tweede ramp saamval (Op 11:11–14). Die derde ramp bevat die sewende trompet se oordeel, wat op sigself die sewe laaste plae insluit. Hierdie derde ramp en laaste plae vind tydens die groot verdrukking plaas. Dit impliseer dat die twee getuies reeds van die begin van die uur van beproewing af sal profeteer (Dean 2011:226; Fruchtenbaum 2004:231).

Tweedens, die dier wat uit die onpeilbare diepte sal verrys en die twee getuies sal doodmaak, is dieselfde dier wie se dodelike wond genees is (vgl. Op 11:7; 13:3, 12; 17:8). Hierdie dier verskyn nie eers aan die einde van die groot verdrukking nie (Op 13:3–8; vgl. 17:7). Kort ná die dood van die twee getuies blyk dit dat die dier die heilige plek sal betree en homself as God sal voordoen (vgl. Op 13:6–7; 2 Tess 2:4). Op daardie stadium beveel die vals profeet die aardbewoners om ’n beeld op te rig ‘vir die dier wat deur die swaard gewond is, maar weer lewend geword het’ (Op 13:14b). Jesus waarsku dat wanneer gelowiges die gruwel van verwoesting in die heilige plek sien staan, hulle wat in Judea is onmiddellik na die berge moet vlug (Matt 24:15–22). Dit sou vreemd wees as die twee getuies self nie ook uit Jerusalem vlug nie. Dit dui daarop dat hulle bediening reeds by die aanvang van die uur van beproewing sal begin.

Derdens, indien die twee getuies eers in die tweede helfte van die uur van beproewing optree, sou dit beteken dat hulle aan die einde van die groot verdrukking sal sterf. Christus keer egter direk ná die groot verdrukking na die aarde terug. Die aardbewoners sal nie op daardie tydstip toegelaat word om vir drie en ‘n half dae vir mekaar geskenke te stuur nie. Daarom moet die twee getuies se bediening van 1 260 dae begin by die aanvang van die uur van beproewing, en net voor die groot verdrukking eindig. Tabel 2 som elke verwysing in Openbaring 6–20 op van die gelowiges wat tydens die uur van beproewing sal sterf.

TABEL 2: Martelare in die ‘uur van beproewing’.

Anders as die gelowige martelare, is die aardbewoners ongelowige mense. Tabel 3 gee ’n oorsig van die lewensloop van die aardbewoners in Openbaring en toon dit as ’n teëbeeld van dié van bogenoemde martelare.

TABEL 3: Die ‘aardbewoners’ in die uur van beproewing.

Bevindings en gevolge van die ondersoek

In Openbaring is die ‘aardbewoners’ of die ‘bewoners van die aarde’ ’n tegniese term met soteriologiese sowel as eskatologiese implikasies. Dit dui op ’n groep ongelowige mense van regoor die hele wêreld wat tydens die uur van beproewing sal leef. Hierdie aardbewoners is verantwoordelik vir die dood van die martelare waarna Openbaring 6:9–11 verwys. Die martelare vra nie dat die Here hulle bloed wreek op mense wat reeds gesterf het nie, maar op die aardbewoners wat op daardie stadium nog fisies op die aarde leef (Fanning 2020:245–247; Garland 2004:335; Patterson 2012:183–184; Thomas 1992:441). Hieruit volg dit dat die bloed van die martelare van Openbaring 6:9–11 nie regdeur die interadventtydperk (die simboliese 1000 jaar volgens die nie-chiliaste) gestort sal word nie, maar spesifiek tydens die eskatologiese uur van beproewing.

Die aardbewoners sal gedurende die uur van beproewing leef – ’n tydperk wat die ongeëwenaarde groot verdrukking insluit. Slegs tydens hierdie groot verdrukking sal dit moontlik wees om die merk van die dier te ontvang en die dier en sy beeld te aanbid. Die martelare waarna Openbaring 20:4 verwys – gelowiges wat geweier het om die dier en sy beeld te aanbid en wat nie die merk van die dier ontvang het nie – sal tydens die groot verdrukking onthoof word en nie regdeur die simboliese 1000 jaar soos die nie-chiliaste beweer nie. Daar is wel talle martelare vir Christus tydens die interadventtydperk, maar hulle word nie om dieselfde redes vermoor nie; hulle sterf nie omdat hulle die merk van die dier weier of die aanbidding van die dier en sy beeld verwerp nie. Die martelare van Openbaring 6–20 sal dus nie regdeur die hele interadventtydperk doodgemaak word nie, maar slegs tydens die eskatologiese uur van beproewing, wat die groot verdrukking insluit.

Uit hierdie ondersoek kan ten minste ses gevolge vir die nie-chiliasme geïdentifiseer word soos vervolgens bespreek.

Anachronistiese interpretasie van die rolspelers

Die aardbewoners sal tydens die uur van beproewing in aanraking kom met die twee getuies, die dier uit die see, die dier uit die aarde, die groot prostituut, asook die beeld van die dier. Indien hierdie artikel se argument korrek is, is dit anachronisties om verwysings na hierdie rolspelers buite die uur van beproewing te soek. Ongeag wie of wat die twee getuies is, sal hulle byvoorbeeld nie regdeur die simboliese 1000 jaar op die toneel wees nie, maar slegs gedurende die eerste deel van die uur van beproewing (kontra Botha 2014:143; kontra König 2009:267–268). Net so sal die vals profeet die aanbidding van die dier verpligtend maak en met die dood afdwing, maar slegs tydens die groot verdrukking en nie regdeur die inter-adventtydperk nie (kontra Beale 1999:707–714; kontra Storms 2015:495).

Nie-chiliasme oor Christus se heerskappy

Nie-chiliasme leer dat Christus deur die hele inter-adventtydperk (die simboliese 1000 jaar) regeer, en dat sekere gelowiges ’n eerste, geestelike opstanding ervaar waardeur hulle van dáárdie punt af saam met Jesus regeer. Byvoorbeeld, volgens hierdie beskouing regeer die martelare van Openbaring 6:9–11 slegs tydens die kort rukkie waarin hulle wag, totdat die getal martelare voltallig is. Waymeyer (2016:230; vgl. Deere 1978:69) wys egter tereg daarop dat Openbaring 20:4–6 dit duidelik maak dat Christus se volgelinge die volle 1000 jaar saam met Jesus sal regeer en nie slegs vanaf ’n geestelike eerste opstanding soos wat die nie-chiliaste beweer nie.

Die 1000 jaar as ’n letterlike tyd

Openbaring 20 verwys nie bloot na ’n ‘1000’ nie, maar na 1000 jaar. Wanneer getalle aan tyd gekoppel word in Openbaring – soos byvoorbeeld 1260 dae of 42 maande – word hierdie getalle nie simbolies gebruik nie. Daar is dus geen aanduiding daarvan dat die ‘1000 jaar’ van Openbaring 20 simbolies verstaan moet word nie (Waymeyer 2016:250). Nie-chiliasme maak die fout om getalle sowel as tyd in simbole te verander, wat hierdie artikel as anachronisties beskou.

Die onbepaalde konsepte van Openbaring 20

Openbaring 20 se onmiddellike konteks beskryf onbepaalde konsepte. Johannes skryf byvoorbeeld dat Satan ná die 1000 jaar vir ’n ‘kort tydjie’ (mikros chronos) losgelaat sal word (Op 20:3, 7), en hy mislei dan ’n onbepaalde menigte – ‘hulle getal is soos die sand van die see’ (Op 20:8). Indien Johannes die 1000 jaar as ’n volledige, onbepaalde, of simboliese tydperk wou voorstel, sou hy dit met behulp van onbepaalde konsepte vir tyd en getalle kon doen.

Die funksie van simbole in Openbaring

Hoewel Openbaring vrylik van simbole gebruik maak, is nie alles in die boek simbolies nie. Waymeyer (2016:132–134) stel drie vrae om te bepaal of die 1000 jaar simbolies geïnterpreteer moet word of nie: Lei ’n letterlike interpretasie tot absurditeit? Bied ’n simboliese interpretasie groter duidelikheid? Val dit binne ’n gevestigde vorm van simboliese taal (soos bv.’n hiperbool)? Dit is sinvol om die 1000 jaar as ’n letterlike tydperk te verstaan. Daar is ook geen groter duidelikheid indien die getal simbolies geïnterpreteer sou word nie. Verder pas die 1000 jaar van Openbaring 20 nie in by enige bestaande vorm van figuurlike taalgebruik nie; dit is nie eers hiperbolies nie, want die inter-adventtydperk duur alreeds veel langer as ’n 1000 jaar. Indien God wou aandui dat ’n bepaalde tydperk werklik ’n 1000 jaar sou duur, hoe anders sou die Here dit kon uitdruk?

Hermeneutiese vertrekpunte en die profesie as genre

In hierdie artikel is die nie-chiliastiese hermeneutiese vertrekpunte bloot aanvaar en die eksegetiese resultate van die ‘1000 jaar’ en die ‘simboliese tyd’ op die martelare van Openbaring 6–20 toegepas om te bepaal of die nie-chiliastiese beskouings haalbaar is. Die gevolgtrekking is dat a-millennialistiese en postmillennialistiese beskouings anachronisties, en dus verkeerd is. Vlach (2012:243) sowel as Ladd (1972:14) beklemtoon dit dat al is die Openbaring aan Johannes ’n ontsluiering (apokalupsis) van Jesus Christus, noem die teks vyf keer (Op 1:3; 22:7, 10, 18, 19) eksplisiet dat die genre van die boek profesie is en nie ‘apokaliptiek’ is nie. Alhoewel die profesieë in Openbaring dikwels simbolies uitgebeeld word, lê daar letterlike waarhede agter hierdie simbole – waarhede wat in die geskiedenis (hetsy die verlede, die hede of die toekoms) tot vervulling kom.

Slot

Indien mense altyd sou kon sê wie hulle vermoor het, sou alle moordsake dan nie opgelos kon word nie? Indien die dood van die martelare van Openbaring 6–20 vandag ondersoek sou word, verg dit ’n teologiese ‘vóór-doodse’ ondersoek, en nie ’n post-mortem nie. Hierdie martelare is ’n groep gelowiges wat eers in die toekoms, tydens die eskatologiese uur van beproewing, sal sterf.

Openbaring noem verskeie rolspelers wat verantwoordelik sal wees vir die dood van die martelare: die aardbewoners, die vrou Babilon, die draak, die dier uit die see, die dier uit die aarde, en selfs die beeld van die dier. Die motief vir hierdie toekomstige moorde is reeds bekend: die gelowiges sal volhardend gehoorsaam wees aan die Woord van God en die getuienis van Jesus. Tydens die groot verdrukking sal baie gelowiges onthoof word omdat hulle weier om die dier en sy beeld te aanbid of die merk van die dier te ontvang.

Die martelare van Openbaring 6–20 sal dus tydens die eskatologiese dag van die Here sterf. Tog gee die Here reeds nou al aan hulle bloed ’n eervolle en diep-teologiese stem; nie net sal die Eersgeborene – die Woord van God – die bloed van die martelare wreek nie, maar Hy sal ook kom regeer as Koning van die konings en Here van die heersers tot in alle ewigheid (Op 1:5; 11:15; 19:13, 16).

Erkennings

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel op onvanpaste wyse kon beïvloed nie.

Outeursbydrae

J.J.S. is die enigste outeur van hierdie navorsingsartikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel het alle etiese standaarde gevolg vir navorsing sonder direkte kontak met mense of diere.

Befondsingsinligting

Hierdie navorsing het geen spesifieke befondsing van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële, of nie-winsgewende sektore ontvang nie.

Databeskikbaarheidsverklaring

Die outeur verklaar dat alle data wat hierdie navorsingsartikel en bevindinge ondersteun, in hierdie artikel en literatuurverwysings beskikbaar is.

Vrywaring

Die menings en sienings wat in hierdie artikel meegedeel word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir hierdie artikel se inhoud.

Literatuurverwysings

Bauer, W., Danker, F.W., Arndt, W.F. & Gingrich, F.W., [BDAG] 2000, A Greek–English lexicon of the New Testament and other early Christian literature, 3rd rev. edn., F.W. Danker (ed.), University of Chicago Press, Chicago, IL.

Beale, G.K., 1999, The book of Revelation: A commentary on the Greek text (NIGTC), Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Boettner, L., 1977, ‘A postmillennial response’, in R.G. Clouse (ed.), The meaning of the millennium: Four views, pp. 199–208, IVP Academic, Downers Grove, IL.

Botha, R., 2014, Openbaring ontsluit, CUM, Vereeniging.

Brown, S., 1966, ‘The hour of trial (Rev 3:10)’, Journal of Biblical Literature 85(3), 308–314. https://doi.org/10.2307/3264244

Dean, R.L., 2011, ‘Chronological issues in the book of Revelation’, Bibliotheca Sacra 168(670), 217–226. https://doi.org/10.31826/9781463233051-017

Deere, J.S., 1978, ‘Premillennialism in Revelation 20:4–6’, Bibliotheca Sacra 135(537), 58–73.

Du Rand, J., 2007, Die A tot Z van Openbaring, CUM, Vereeniging.

Du Rand, J., 2011, ‘’n Noodkreet om God se regverdiging of ’n wraakroep om selfgelding? Martelaars aan die voet van die altaar (Op 6:1–11)’, In die Skriflig 45(1), 39–55. https://doi.org/10.4102/ids.v45i1.4

Fanning, B.M., 2020, Revelation, Zondervan, Grand Rapids, MI. (Zondervan Exegetical Commentary on the New Testament).

Fruchtenbaum, A.G., 2004, The footsteps of the Messiah, Ariel Ministries, Tustin, CA.

Garland, A.C., 2004, A testimony of Jesus Christ – A commentary on the book of Revelation, vol. 1, Spirit and Truth, Camano Island, WA.

Gentry, K.L., 1998, ‘A preterist view of Revelation’, in S.N. Gundry & C.M. Pate (eds.), Four views on the book of Revelation, pp. 35–92, Zondervan, Grand Rapids, MI.

Gentry, K.L., 1999, ‘Postmillennialism’, in S.N. Gundry & D.L. Bock (eds.), Three views on the millennium and beyond, pp. 11–57, Zondervan, Grand Rapids, MI.

Heil, J.P., 1993, ‘The fifth seal (Rev. 6:9–11) as key to the Book of Revelation’, Biblica 74(2), 220–243.

Hoekema, A.A., 1977, ‘Amillennialism’, in R.G. Clouse (ed.), The meaning of the millennium: Four views, pp. 155–187, IVP Academic, Downers Grove, MI.

Ice, T.D., 2009, ‘The meaning of “Earth Dwellers” in Revelation’, Bibliotheca Sacra 166(663), 350–365.

König, A., 2009, ’n Perspektief op Openbaring, CUM, Vereeniging.

Ladd, G.E., 1972, A Commentary on the Revelation of John, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Mounce, R.H., 1997, The book of Revelation, rev. edn., (NICNT), Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Patterson, P., 2012, The new American Commentary: Revelation, vol. 39, B&H Publishing, Nashville, TN.

Storms, S., 2015, Kingdom come: The amillennial alternative, Mentor, Ross-shire.

Storms, S., 2024, Our God reigns: An amillennial commentary on Revelation, Mentor, Ross-shire.

Thomas, R.L., 1992, Revelation 1–7: An exegetical commentary, Moody Press, Chicago, IL.

Thomas, R.L., 1995, Revelation 8–22: An exegetical commentary, Moody Press, Chicago, IL.

Vlach, M.J., 2012, ‘The kingdom of God and the millennium’, The Master’s Seminary Journal 23(2), 225–254.

Waymeyer, M., 2016, Amillennialism and the age to come, Kress Biblical Resources, The Woodlands.

Footnotes

1. Antipas is ’n voorbeeld van ’n betroubare getuie wat tydens die inter-adventtydperk, maar vóór die aanvang van die uur van beproewing, doodgemaak is. Hy is vermoor ter wille van Christus se Naam en het sy geloof in Jesus nie verloën nie (Op 2:13). Antipas was ongetwyfeld ’n martelaar, maar hy behoort nie tot die groep martelare waarna Openbaring 6–20 verwys nie. Sy moordenaar(s) is reeds lankal oorlede en is dus nie onder die aardbewoners wat gedurende Openbaring se uur van beproewing nog lewend sal wees nie.



Crossref Citations

No related citations found.