About the Author(s)


Piet J. Strauss Email symbol
Department of Historical and Dogmatical Theology, Faculty of Theology, University of the Free State, Bloemfontein, South Africa

Citation


Strauss, P.J., 2026, ‘Die pastor ‘Vader’ Kestell in die Anglo-Boereoorlog: Pastoraal in sy omgang en skryfwerk’, In die Skriflig 60(1), a3250. https://doi.org/10.4102/ids.v60i1.3250

Original Research

Die pastor ‘Vader’ Kestell in die Anglo-Boereoorlog: Pastoraal in sy omgang en skryfwerk

Piet J. Strauss

Received: 01 Sept. 2025; Accepted: 05 Nov. 2025; Published: 26 Feb. 2026

Copyright: © 2026. The Author. Licensee: AOSIS.
This work is licensed under the Creative Commons Attribution 4.0 International (CC BY 4.0) license (https://creativecommons.org/licenses/by/4.0/).

Abstract

The pastor ‘Father’ Kestell in the Anglo-Boer War: Pastoral in his conduct and writings. As a minister of religion in the Dutch Reformed Church of Harrismith, J.D. Kestell joined men of his congregation on commando during the Anglo-Boer War (1899–1902). From the outset, his aim was to serve the Boer forces as a chaplain in a non-military capacity. Throughout the war, he neither carried a weapon nor accepted a military rank. His purpose was mainly to strengthen the faith of the burghers in the triune God and to motivate them to defend the independence of the Republic of the Orange Free State, which Kestell regarded as a gift of God in his providence. This article focuses on Kestell’s non-military role in the Anglo-Boer War as a Reformed minister caring for the spiritual well-being of his own burghers and church members on commando, as well as – if the situation required – English troops in need. Chaplain Kestell’s work centred on preaching the Word of God whenever possible, organising religious activities, and caring for the wounded. In this ministry, Kestell revealed a remarkable capacity to be a pastor and shepherd to men – on both sides – at war. As a minister of the Word, he was sensitive to the needs of individual soldiers (English), burghers (Boers), groups of men, and to the spiritual trends emerging in military gatherings concerning the war.

Contribution: Kestell demonstrated deep sensitivity towards military leaders, especially among the Boers. He had a strong relationship with President M.T. Steyn and the commander of the Free State forces, General C.R. de Wet. The three men shared a common understanding of the Christian calling – whether as minister, military leader, or statesman. At the request of his government, Kestell recorded the minutes of the peace negotiations held from 15 to 31 May 1902, again showing his particular sensitivity to people and their inner thoughts. Kestell was a compassionate and caring pastor, earning the nickname ‘Father’ because of his loving concern for others. This nickname aptly captured his pastoral approach to people during the Anglo-Boer War.

Keywords: Boer; Anglo-Boer War; Kestell; Word of God; military.

Inleiding

In sy gewilde biografie oor John Daniel Kestell (1854–1941) bespreek P.J. Nienaber die bynaam ‘Vader’ Kestell wat Afrikaners aan hierdie NG Kerk-predikant gegee het. Volgens Nienaber getuig hierdie titel van die ‘ganse’ liefde wat ‘sy’ mense vir hom gehad het. Die naam ‘Vader’ is nie eers ná sy dood aan hom gegee nie, maar reeds gedurende sy lewe omdat ‘Vader’ Kestell as ’n besondere geestelike leier hom ontferm het oor die geestelike en materiële welsyn van die mense om hom, veral die Vrystaatse Afrikaners. So het Kestell mettertyd as die vader van sy mense bekend geword.

Hy was klein van postuur, sagmoedig, bemoedigend en positief van geaardheid – eenvoudig, maar ‘diep-innig’ in sy preke en toesprake. Inspirasie het vanaf hom uitgegaan sonder enige groot vertoon – iets wat president M.T. Steyn laat sê het dat ds. Kestell – die president het hom tot die einde van hulle saamwees as ‘dominee’ aangespreek – as ’n veldprediker-pastor in die Anglo-Boereoorlog (ABO) vir hom, as staatshoof van die Republiek van die Oranje-Vrystaat (OVS), meer beteken het as ’n ‘hele kommando’ (Nienaber 1971:91).

Wat uit sy omgang met mense, sowel as uit sy skryfwerk as ’n aktiewe en gewilde skrywer in veral Afrikaans, duidelik blyk, is dat Kestell ’n sigbare en voelbare pastorale of versorgende herdersaanslag gehad het. Hierdie eienskap het sy werk as geloofsleier des te meer effektief gemaak. Die bynaam ‘Vader’ getuig van sy tasbare liefde vir die mense rondom hom. As ’n pastor-prediker wat die pro-oorlogshouding van president M.T. Steyn en sy militêre aanvoerder, generaal C.R. de Wet gesteun het, wou Kestell die Boere-kommando’s as ’n nie-vegtende veldprediker vergesel.1 Hierdie begeerte het uit sy lewensroeping voortgespruit en het volkome by sy persoonlikheid gepas. In 1899 het hy by die ABO betrokke geraak deur die manne van sy gemeente, die NG Kerk Harrismith, op kommando as dominee by te staan. Hy het dus gekies vir die bediening van ’n veldprediker-pastor as ’n verlengstuk van sy gemeentewerk (Van Schoor 1992:80). Sy doel was om die burgers in hulle geloof in die drie-enige God op te bou en, in sy eie woorde, om te help om die ‘heiligheid’ van die onafhanklike Rep. OVS as ’n gawe van die Here te beskerm. Na sy mening moes hierdie beskerming – in 1899 ’n saak van eer vir die Rep. OVS as ’n modelstaat2 – deur ’n defensiewe oorlog teen die aggressiewe, imperialistiese Brittanje verwesenlik word (Kestell s.a.:280; Van Schoor 1992:88).

Sy blywende identifisering met die houding van Steyn en De Wet tydens die ABO sou hom teen die amptelike einde van die oorlog op 31 Mei 1902 die enigste ‘bittereinder’ onder die dominees by die Vrystaatse burgers in die veld maak. Die sogenaamde ‘bittereinders’ was die ongeveer 22 000 Boere wat hulle tot aan die einde van die oorlog – wat van Junie 1900 tot 31 Mei 1902 geduur het – militêr teen die Britte verset het (Pretorius 2001:243; Van der Watt 1980:196).

Hierdie pastorale ingesteldheid of aanslag van ‘Vader’ Kestell as veldprediker-pastor tydens die ABO staan in hierdie artikel sentraal. Wat was dit in die houding en optrede van ‘Vader’ Kestell as veldprediker wat ’n pastorale ingesteldheid verraai en van hom ’n geestelike herder of pastor gemaak het? In hierdie verband word sy benadering tot individue en groepe sowel as vergaderings ondersoek.

Met die Boere-kommando’s

In die slot van sy boek, Met de Boerenkommando’, wat kort ná die ABO verskyn het – som Kestell (s.a.) self sy geestesingesteldheid en bediening as bittereinder-predikant vir die Boere só op:

Nog eens: ik kwel mij niet. Ik dank God dat Hij mij in staat stelde om tot het einde in de commando’s te blijven. En wat betref het verwijt tegen het hooft van de leidslieden des volks geslingerd, dat zij verlijders waren, kan ik dit zeggen dat ik nooit, zelfs niet in de donkerste uren, weten kon wat gebeuren zou, noch weten wat God voor ons volk besloten had – en dit was mij ook helder voor den geest: dat als iedere zaak opgegeven werd, toen zij schijnbaar hopeloos was, dan waren vele van de heerlijkste overwinnigen, die de werelt gezien heeft nooit behaald.

Met innige dankbaarheid tot God voor zijne bewaring in menig doodsgevaar, leg ik nu de pen neder. (p. 285)

Naas die beskrywing van sy geloof blyk die pastorale hart van ‘Vader’ Kestell ook uit die voorwoord van die boek oor sy lewe by die Boere-kommando’s. Hierin vermeld hy dat hy as notulehouer van die Vredesberaad van die Boere op Vereeniging in die laaste twee weke van Mei 1902, hierdie notule as ’n aanhangsel in sy Met de Boerencommando’s wou uitgee, maar dat dit nou in generaal De Wet se De strijd tusschen Boer en Brit die ‘licht’ sou sien. Wat pastor Kestell nie sê nie, is dat hy by die Amsterdamse uitgewers van beide boeke, Höveker en Wormser, ingewillig het dat De Wet se boek eers in Europa gepubliseer word omdat dit daar ’n gewillige mark sou vind. Die pastor-dominee was as ’n gesoute skrywer ook bereid om die manuskrip oor die ABO van hierdie vermaarde generaal3 te redigeer en taalkundig te versorg. Hulle was immers Boere-bittereinders, vriende en geesgenote (vgl. Van Schoor 2005).

Ter wille van die historiese geloofwaardigheid van sy eie boek moes hy primêre bronne gebruik. Van historiese belang is sy werk, Met de Boerencommando’s, as sy eie oor- en ooggetuienis, asook Kestell en Van Velden se amptelik-goedgekeurde notule van Die vredesonderhandelinge van einde Mei 1902, soos in 1982 uitgegee is. Hierdie twee here – onderskeidelik uit die Vrystaat en die Transvaal – is deur hulle republikeinse regerings ‘te velde’ aangewys om die Boere-beraad oor vrede ná die ABO te notuleer (Kestell & Van Velden 1982:4, 13).4

Sonder om dit hier te debatteer, kan gesê word dat ‘Vader’ Kestell se persoonlike beklemtonings en pastorale inslag duidelik blyk uit dit wat hy van die sprekers weergee. Deur die bril van Kestell as notulehouer by die Boere-beraad van 15–31 Mei 1902 oor vrede ná die ABO, kom iets na vore van sy eie oordeel ten opsigte van wat belangrik is en wat in die konteks die toon aangee. Sy empatie met bittereinders soos Steyn, De Wet, De la Rey, Hertzog, Beyers, Botha, Smuts,5 en ander word sonder enige dramatiese vertoon verraai deur die woordkeuses in sy notule. Kestell was ’n sensitiewe taalgebruiker, geroepe predikant en pastor, en boonop ’n oortuigde Boere-bittereinder.

Daar is aangetoon dat Kestell hom by die Vrystaatse magte in die ABO gevoeg het met die uitsluitlike doel om as veldprediker of pastor-dominee ’n bydrae tot die oorlogspoging van sy Republiek, die Oranje-Vrystaat, te lewer. Vir hom was hierdie diens onder die burgers ’n verlengstuk van sy lewensroeping – dit het dus ook ‘van Bo’ gekom. Daarom sou dit Bybels én toepaslik wees vir die situasie. Volgens Kestell was die Bybel die lewensomvattende norm vir diens aan God met die hele hart in elke faset van die lewe. Roepingstrou was vir hom die gehoorsame gevolg van geloof in God. Anders gestel: Kestell wou alleen die Woord van God, en dus God self, onder die mense verteenwoordig, want alle mense is immers geroepe beelddraers van God. Kestell het die verkondiging van die Woord met sy aanvoeling as pastor gekombineer en geïntegreer. Hy was ’n pastor wat die Woord met empatie verkondig het en toeganklik was vir die reaksie van sy hoorders binne hulle situasie.

Die pastorale kant van Kestell se roeping en persoonlike mondering het ook na vore gekom in sy aandeel aan die bekende Vrystaatse Driemanskap.

Kestell deel van Oranje-Vrystaat Driemanskap6

Daar is reeds gewys op die Vrystaatse Driemanskap tydens die ABO: M.T. Steyn, die staatsman; C.R. de Wet, die krygsman; en J.D. Kestell, die godsdiensleier. ‘Vader’ Kestell se stilswyende aanvaarding van hierdie bynaam in die Vrystaatse konteks toon sy diepe identifisering met die Rep. OVS as Boere-republiek en politieke eenheid. Meer nog, sy ‘verwerwing’ en aanvaarding van hierdie bynaam beklemtoon sy sosiale inlywing in ’n gemeenskap waarin Afrikaans en Afrikaners doelbewus en eksplisiet gefunksioneer het.

Kestell was van Britse herkoms en het 46 jaar oud geword in 1900; dus ’n uitgesproke Christen-Afrikaner en Vrystater in die fleur van sy lewe. As bewys van hierdie verbintenisse, én van sy pastorale ingesteldheid, het Kestell in ’n besondere verhouding met Steyn en De Wet gestaan as voorvat-Boere tydens die ABO.

Kestell en Steyn

Vroeg in die ABO wou president Steyn vir ds. Kestell as veggeneraal aanstel. Die vasbeslote veldprediker en pastor het beleefd om tyd gevra om daaroor na te dink, maar het die aanbod daarna – steeds met respek teenoor sy president – van die hand gewys. Hierop het die staatshoof een van sy gevleuelde sêgoed tydens die oorlog geuiter: ‘… van vandag af beskik ek in De Wet oor ’n generaal duisend op die krygsakker en in u, dominee, ’n generaal duisend op die geestelike akker’ (Van Schoor 1992:89). Ná die oorlog het die president, uit sy ervaring met hierdie dominee – hulle was sedert 24 Oktober 1901 saam by die kommando van generaal De Wet (Kestell s.a.:164; Van Schoor 1992:253)7 – bygevoeg dat Kestell vir hom meer werd was as ’n ‘hele kommando’. Dat die president se oordeel oor Kestell as veldprediker en pastor raak was, bevestig hyself met hierdie opmerking (Nienaber 1971:91).

Dat Kestell ’n voorvat-Christen-Afrikaner en erkende Vrystater was, blyk onteenseglik uit sy deel-wees van die Vrystaatse Driemanskap tydens die ABO. Hierdie feit word verder onderstreep deurdat hierdie drie Vrystaters saam in die binnehof van die Vrouemonument begrawe is. Kestell het hom nie aan die Driemanskap opgedring nie, maar is spontaan – asof vanselfsprekend – deur Vrystaatse Afrikaners as deel daarvan aanvaar. Tydens hulle saamwees op kommando het daar ’n hegte band en goeie verstandhouding tussen Kestell, Steyn en De Wet ontwikkel.

Deur sy eie oë gesien, gee Kestell in sy gepubliseerde werk ’n beskrywing van die Driemanskap. Die inhoud van hierdie verhouding dui op veel meer as net nog ’n vriendskap. Hierdie band verklaar ook Kestell se haas op 24 Oktober 1901 om persoonlik by generaal De Wet se kommando en by president Steyn aan te sluit. Sy haas volg op ’n persoonlike, skriftelike uitnodiging van die president self. Volgens Kestell is hy ‘inderhaas’ soontoe – hy kon eenvoudig nie wag nie (Kestell s.a.:172).

Vir J.D. Kestell (gebore 15 Februarie 1845) (Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek I:441) was die jonger M.T. Steyn (gebore 02 Oktober 1857) (SABW II:727) sy ‘beminnelijken en volhardenden president’, vriend, geesgenoot en mentor (Kestell s.a.:164; Strauss s.a.:11; Van Schoor 1992:201). Dat hy juis op 24 Oktober 1901 by sy geliefde staatshoof en De Wet se kommando kon aansluit, het vir Kestell later skerper bygebly as selfs die troudatum van sommige mans onder Afrikaners.

Volgens Kestell het niemand soveel invloed gehad op die volks- en openbare lewe van die Afrikaners as M.T. Steyn nie. As Vrystaatse Afrikaners iemand wil prys, ‘moet hulle onthou om die invloed wat van hierdie Vrystater, republikein, vryheidsdrewer en gelowige Christen uitgegaan het, nog oorvloediger te prys’ (Van Schoor 1992:253). In sy begrafnispreek van Steyn in 1916 noem Kestell die president ’n ‘man van God’ wat tot die wese van dinge kon deurdring. As teksvers neem hy Klaagliedere 5:16: ‘De kroon onzes hoofd is afgevallen!’ (Van Schoor 1992:250). Volgens die getuienis van die dominee8 was president Steyn se geestelike krag, sy vergesigte oor die toekoms van sy volk en sy insig in nasionale vraagstukke ‘verbluffend’ (Van Schoor 1992:342).

Kestell en De Wet

Kestell vertel dat hy vir Steyn liefgehad en vir De Wet gevrees het. As pastor wat begrip en empatie uitgestraal het teenoor diegene met wie hy te doen gehad het, het sy verhouding met Steyn en De Wet – vanweë die aard van hulle onderskeie persoonlikhede – verskil. Volgens Kestell self het De Wet, met sy militêre vermoëns en kommando-styl, die pastor-prediker as’t ware gehipnotiseer. Gevolglik het Kestell militêre sake aan die hoofkommandant oorgelaat en hom op ’n afstand bewonder.

Op sy eie vraag oor waarin sy hoofkommandant se krag gelê het, het Kestell ’n soort sielkundige of gedragsmatige antwoord gegee. As pastor kon hy gedragspatrone lees en dit integreer met sy geestelike versorging. Volgens Kestell was De Wet met niemand intiem bevriend nie, hoewel hy met almal vriendelik was. Soos ’n groot leier was hy altyd so geheimsinnig soos ’n ‘sfinks’ (Kestell s.a.:99–100).

Omdat Steyn, Kestell en De Wet oor ernstige lewenskwessies geesgenote was – en omdat sy kommando, saam met Kestell as veldprediker, onder De Wet se gesag gestaan het – het Kestell as pastor volgens eie getuienis vir generaal De Wet op militêre gebied byna onvoorwaardelik gesteun. Dit was asof Kestell se keuse om as nie-vegtende prediker-pastor te dien hom stilweg laat afsien het van enige behoefte aan militêre vernuf as ’n persoonlike vaardigheid. Hy kon hierdie gawe in vrede aan ander oorlaat en dit in iemand soos De Wet bewonder (Kestell s.a.:99–100).

Kestell en De Wet het saamgestem dat ’n neerlaag in die ABO nie die einde van die Afrikaner hoef te beteken nie. God in sy voorsienigheid het aan die Afrikaner sy bestaan as volk en kultuurgroep gegee en sou – daarvan was hulle oortuig – nie toelaat dat dit verlore gaan nie. Tipies van De Wet as man van daad het hy egter gewaarsku dat die Afrikaner nie sorgeloos oor sy kultuur of volkskap moes raak nie. Die ABO was wel nie die enigste voertuig waardeur die toekoms van die Afrikaner verseker kon word nie, maar elke Boere-republikein moes in hierdie oorlog sy plig doen.

Sedert die twee Boere-republieke (ZAR en Rep. OVS) na die konvensionele fase van die ABO, teen ongeveer die middel van 1900, hulle tot guerrilla-oorlogvoering gewend het, moes elke Boer die Britse oormag teister. Dit was nou ’n kwessie van ‘tref en trap’. Elkeen moes bereid wees om op te offer vir die Afrikaner se staatkundige vryheid as ’n juridiese instrument om sy kulturele vryheid te beskerm – sy geld, goed, gemak en lewe.

Driemanskap eerbiedig Christelike beginsel van eenheid

Om die saak van ‘Vader’ Kestell as pastor in die Vrystaatse Driemanskap saam te vat: as ’n vaderlike en geestelike herder was Kestell versorgend, ondersteunend en begeleidend teenoor Steyn as staatshoof en De Wet as militêre aanvoerder van die Republiek van die OVS tydens die ABO. In albei gevalle het Kestell se betrokkenheid op geestelike versorging neergekom, sodat die betrokke persoon sy toevertroude taak kon uitvoer. As pastor het Kestell leiding in staatsake aan sy geliefde president oorgelaat en militêre kwessies aan die generaal, vir wie hy as generaal byna ‘onvoorwaardelike’ bewondering gehad het. Sy waardering vir Steyn sowel as De Wet – elkeen as bekwame leier op sy eie terrein – het vir Kestell die ruimte geskep om hom volkome op sy roeping, soos hy dit verstaan het, as pastor-prediker toe te spits.

Die samewerking tussen die lede van die Vrystaatse Driemanskap was juis effektief omdat elkeen bekwaam op sy terrein was, hulle oor kernsake eens was, en mekaar se bevoegdheid op eie terrein erken het. Hierdie eenheid het die eie aard of prinsipiële soewereiniteit in eie kring van kerk en staat, en binne hierdie raamwerk ook die rolverdeling tussen dominee, president en generaal gerespekteer (Strauss 2010:125–130).

Kestell was as prediker, pastor, verpleër en motiveerder by die Vrystaters in die ABO teenwoordig om hierdie mense met die Woord van God te begelei, te vertroos en te bemoedig (Kestell s.a.:112; Van Schoor 1992:76). Wat hom betref, kon hy dit met ’n geruste hart aan die president en hoofkommandant van die Vrystaatse magte oorlaat om elkeen sy eie taak te verrig. Behalwe vir sy versorging van gewonde Boere (Kestell s.a.:112), het hy ook gewonde ‘Tommies’ (Engelse soldate) versorg en verpleeg. Hy is veral bekend vir sy hulp aan Engelse na die Slag van Platrand in Natal op 06–07 Januarie 1900. ’n Sersant van die Imperial Light Horse Regiment wat alles aanskou het, het hieroor opgemerk: ‘You are preaching a good sermon today’ (Kestell s.a.:38; Van Schoor1992:84). Die Republiek van die OVS se grense het dus nie vir Kestell die grense van sy kerklike geestelike sorg en preke geword nie. Hy het sy roeping nie – teen die aard van ware geestelike arbeid in – tot staatsgrense beperk nie (Strauss 2010:125–130). Kestell het die bybelse beginsel aanvaar dat kerklike grense, as die grense van ’n geloofsinstelling, strek tot waar die Heilige Gees mense van die Woord van God oortuig (Van der Watt 1973:146).

Die Driemanskap het stilweg die Christelike beginsel gehuldig dat hulle in ’n lewensbeskoulike eenheid met ’n verskeidenheid gawes funksioneer, waarin elkeen sy eie taak na sy aard en roeping bekwaam moes hanteer. As gerespekteerde prediker-pastor kon ’n Godsgehoorsame ‘Vader’ Kestell (s.a.:285) saam met die Psalmdigter sê: ‘My beker loop oor!’ of, soos hy sy Met de Boerencommando’s afsluit: ‘… ik kwel mij niet. Ik dank God dat Hij mij in staat stelde om tot het einde in de commando’s te blijven’.

Tydens die ABO was Kestell lewensbeskoulik en geestelik ’n erfgenaam van die Protestantse Hervorming met die solas: sola gratia, sola scriptura, sola fide en soli Deo gloria – oftewel, deur die genade alleen, deur die Woord alleen, deur die geloof alleen, en aan God alleen die eer (Kuiper 1995:157–248). Hierdie prinsipiële sleutels was sy vertrekpunt as veldprediker-pastor. Getrou aan sy roeping kon hy sy werk aan die einde van die oorlog afsluit deur dank aan die Here te bring vir sy sorg.

Kestell se taak as veldprediker-pastor – ook sterwensbegeleiding

Dit wil voorkom asof die Rep. OVS-kommando’s die veldpredikers as tradisionele dominees uit die gevestigde kerke in breë trekke gerespekteer het. As veldpredikers was hulle, wat die aard en inhoud van hulle werk betref, soos in sommige gereformeerde kerke: in die praktyk tot ’n groot mate aan hulleself oorgelaat. Hierdie werk het in beginsel om die profetiese, priesterlike en koninklike ampte van Christus as Hoof van die kerk (NG Kerkorde 2011:6–7; NG Kerk-Uitgewers 1982:47) gedraai; meer spesifiek dus om prediking en pastoraat. ‘Vader’ Kestell (s.a.:42, 52, 58, 70, 78, 102, 104) het op Sondae ‘veldkerk’ gehou, begrafnisse waargeneem, en bid- en dankdienste in kommando’s gereël. By geleentheid het hy ook kerkdienste vir vroue in die dorpe waargeneem. Aan die begin van die oorlog het Kestell boonop in die amptelike blad van die Vrystaatse NG Kerk, Die Fakkel, verslag gedoen oor godsdiens op kommando. Hierdie publikasie is egter tydens die funksionering van die ABO gestaak.

’n Gebeurtenis in die ABO wat Kestell (s.a.:70–74) diep neerslagtig gestem het, was generaal Marthinus Prinsloo en ongeveer 4000 man se oorgawe aan die Britte op 29 Julie 1900. Dit het op Surrender Hill in die Brandwaterkom naby Fouriesburg plaasgevind. Hierdie oorgawe het sy hoop op oorwinning in wat hy as ’n ‘heilige oorlog’ beskou het, laat wankel, en hom moreel afgetakel en negatief gestem. Ná ’n geestelike worsteling was hy skaam oor sy kleingeloof en, volgens hom, sy pogings om die Here te manipuleer.

Volgens Kestell kan ’n mens nie verwag dat die Here jou gebede vir die staatsowerheid móét verhoor bloot omdat jy sy eise vir tussenstaatlike geregtigheid erken nie. Die Here God is die soewereine God, en mense is geroep tot gehoorsaamheid aan sy regering – maar nie om daardie gehoorsaamheid as ’n mensgesentreerde dwanginstrument te gebruik nie.

Ongeveer ’n maand later het die Boere, wat by Vegkop naby Heilbron saamgetrek het, verneem dat generaal De Wet hulle sou toespreek. Volgens ‘Vader’ Kestell se aanvoeling was die neerslagtige Boere gretig om na die generaal te luister ná die terugslag in die Brandwaterkom. Kestell (s.a.) vertel:

Toen begon hij de burgers toe te spreken in zijn aangenamen, helderen, pittigen stijl. Hij zeide dat het zijn vast vertrouwen was dat God ons helpen en het niet toelaten dat wij als een volk zouden verdwijnen. Maar dit moest ons niet zorgeloos maken. Integendeel, deze overtuiging behoort voor ieder de spoorslag te zijn om van zijn kant het zijne te doen. Elkeen moest zijn plicht doen. (p. 94)

Tipies van Kestell as pastor het hy sy weergawe begin deur te fokus op hoe en wat generaal De Wet vir sy mense gesê en motiveer het – ’n wyse wat elemente van De Wet se persoon weerspieël en wat Kestell as pastor nie kon miskyk nie. Hy wys op die rede waarom die burgers graag na hulle generaal geluister het. Die lewensbeskoulike Christen en Boere-bittereinder Christiaan de Wet het, selfs ná ’n terugslag soos in die Brandwaterkom, nie opgegee nie. Die gees en wil van die Vrystaatse burgers wat hier vergader was, was aanvanklik huiwerig, maar het later weer koers gekry.

Vir die hoofkommandant was die deelname van die Rep. OVS aan die ABO van die begin af – soos ook vir M.T. Steyn9 – ’n saak van geloof in God. By die Boere-beraad van 15–31 Mei 1902, wat die Vrede van Vereeniging voorafgegaan het, sê generaal De Wet opnuut (Kestell & Van Velden 1982):

Die oorlog [ABO] is ’n geloofsaak. As ek dit nie in die geloof kon gedoen het nie, sou ek nooit die wapens opgeneem het nie. Die oorlog was ’n mirakel, en sonder geloof sou dit kinderspeletjies [president Steyn het gepraat van ’n ligvaardige saak – verbatim in Van der Merwe 1921a:250–256; OVS-Volksraadsnotule 1899:15–24] gewees het om die oorlog te begin. Ek het alleen dan met ’n feit te doen [die ABO is die feit] wanneer ek dit uit die weg moet ruim. as ons ons as oorwonne oorgee, sal ons op weinig genade van Engeland kan reken. (p. 85)

De Wet, die militêre leier en strateeg, en Kestell, die veldprediker en pastor, sou saam met staatsman M.T. Steyn die drama in die Brandwaterbekken oorleef. Die generaal het gemotiveer, die staatsman het met sy aanwesigheid en visie geïnspireer, en die pastor het gemoedere met gebede en woorde van geloof opgebeur.10

Vir ‘Vader’ Kestell as prediker-pastor was die militêre weerstand van die ZAR en die Rep. OVS tydens die ABO – selfs ná die terugslag by Brandwaterkom op 29 Julie 1900 – geensins tevergeefs nie. Vir hom was die uiteindelike Britse oorwinning in wat hy as ’n geregverdigde oorlog vir die Boere beskou het, nie ’n teken dat die Here Hom téén die twee Boere-republieke of téén die Afrikaner verklaar het nie.

Aan die einde van Met de Boerencommando’s beklemtoon Kestell (s.a.) met diepe oortuiging:

Laat niemand dat zeggen!

God heeft het afrikaansche volk in den grooten stryd gevormd. Het is niet uitgedelgd: zijn taal is niet vernietigd. De macht van den vijand heeft het wel overweldigd, heeft het als een machtige golf overstroomd, maar de afrikaner zin en geest bestaan nog. Geen swaard kan den wil doen buigen – geen geweld kan den geest onderdrukken. (pp. 279–280)

Kestell proklameer hiermee opnuut die wêreld van die gees en die ware geloof wat nie voor die wêreld van die swaard buig nie. Daarom, meen hy, moet die swaard sy eie onmag besef teenoor ’n geankerde Christelike gees en geloof. Die Britte, met hulle oortuiging, geskoei op die kringe van ’n konsekwente evolusionêre denke dat mag gelyk is aan reg, mislei hulleself.

Selfs ná die ABO, so skryf Kestell (s.a.:280), bly ‘het Afrikaansche volk een onuitdelgbaar element in het britsche rijk’.

Behalwe vir prediking en pastorale sorg moes ds. Kestell ook ander pligte as predikant gedurende die ABO vervul. In die maand ná Prinsloo se oorgawe in die Brandwaterkom het hy saam met die burgers oor ’n brug oor die Valsrivier in die Noord-Vrystaat beweeg.

Den volgenden dag viel mij een pijnlijke plichtsvervulling te beurt’ (Kestell s.a.:84). ’n Swart man is deur ’n Boere-krygsraad ter dood veroordeel omdat hy ‘een blank meisje’ verkrag het. ‘Vader’ Kestell is as pastor en leraar versoek om die veroordeelde vir die dood voor te berei. Vir hom (Kestell s.a.) was hierdie vonnis in die betrokke omstandighede wel aanvaarbaar, maar tog pynlik:

In al de vervulling van mijn ampsplichten had ik nog nooit de zielzorg van een ter dood veroordeelde gehad en nu!

Maar mijn hart ging tot hem uit. Hoewel hij zijn vonnis verdiende zag ik hem nu in zijn uitersten nood slechts als mensch aan. Alle gevoel van veroordeeling verdween in mij: alleen medelijden bleef over – medelijden met zijn volslagene hulpeloosheid. Ten laatste gaf hij zich over. Ik sprak met hem over Jesus en bad met hem. (p. 84)

Weereens bring ‘Vader’ Kestell die boodskap van geloof en gehoorsaamheid na alle mense in ’n gebroke wêreld – omdat die beeld van God in die mens, selfs in die ongehoorsame sondaar, op God se bevel herstel moet word.

Na sy worsteling met die Here na aanleiding van die gebeure in die Oos-Vrystaat op 29 Julie 1900, was Kestell (s.a.:75, 163) as ‘Vader’ geloofsmatig nie weer op moedverloor se vlakte nie. Soos die staatshoof in die Driemanskap dit reeds kort voor die ABO, op 27 September 1899, in die Vrystaatse Volksraad gestel het: ‘As ons betrokke raak, sal ons die stryd tot die bittereinde voer – dan sal die vyand respek vir die kinders van die Afrikaner hê’ (OVS Volksraadsnotule 1899:145–146).

’n Veldprediker stry ook vir ’n regverdige saak

Soos sy president was Kestell (s.a.:5) ook oortuig dat Brittanje in die ABO die aggressor was en dat die Boere, uit noodweer, op selfverdediging geregtig was. Kestell het Brittanje se miskenning van die reg van die ZAR en Rep. OVS op staatkundige onafhanklikheid as ’n groot onreg beskou – ’n miskenning wat, volgens hom, bots met die ‘heilige’ of voor-God-verantwoorde strewe van die Vrystaat na onafhanklikheid (Kestell s.a.:280; Van Schoor 1992:88). Die hatigheid onder lede van die Britse regering, dat die Afrikaner uitgewis moes word omdat hy ’n struikelblok vir Britse imperialisme en magsug in Afrika was, het volgens die veldprediker-pastor Kestell lynreg teen die wil van God ingedruis (Kestell s.a.:42, 285; Van Schoor 1992:95). Dit het openlik met die Woord – met die sesde gebod self – gebots.

Omdat Kestell uit eie ervaring geweet het wat dit is om moedeloos te wees, het hy as bittereinder later ’n begrip ontwikkel vir burgers wat uit neerslagtigheid as ‘hensoppers’ die wapen neergelê het. Wat hy egter nie kon begryp nie, was waarom sommige Boere as joiners die wapen teen hulle eie mense opgeneem het (kyk Grundlingh 1979). Vir Kestell (s.a.:170) as pastor was die begeerte om te join, vanuit sy Christen-Afrikanerhart, ‘moeilijk te begrijpen’. Weereens praat Kestell met ’n pastorale inslag: ’n joiner wat op sy eie mense skiet, verteenwoordig vir hom ’n radikale vorm van verraad – maar die pastor stel dit sagkens, met deernis: dit is ‘moeilijk te begrijpen’.

Die veldprediker-pastor het die ABO betree sonder militêre wapens of skietgoed. Sy wapens was die Bybel, die middele vir die versorging van gewondes en ’n afskrif van die veelgeroemde toespraak van president Steyn in September 1899 in die Vrystaatse Volksraad – die toespraak wat die Rep. OVS se toekomstige betrokkenheid by die oorlog gemotiveer het. ‘Ik verlies liever de onafhanklikheid van de Vrystaat met eer dan die te behouden door oneer of ontrou’ (OVS Volksraadsnotule 1899:23; Van der Merwe 1921a:255). Hoe anders kon dit wees? Die Rep. OVS het reeds in 1889, en weer in 1897, ’n defensiewe verbond met die ZAR gesluit wat bepaal het dat, indien die ZAR bedreig sou word, die Rep. OVS nie afsydig of neutraal sal bly nie. Steyn het dus, weliswaar op ’n nie-wetenskaplike vlak, gewerk met die beginsel van die prinsipiële, strukturele gelykwaardigheid van state, wat in die twintigste eeu as ’n Christelike uitgangspunt in die volkereg erken sou word (Wessels 1977:205).

Generaal de Wet en pastor Kestell was saam met hulle president dit eens: soos enige ander mens bly ’n Christen-staatsman, onder watter omstandighede ook al, by sy woord. Vir Kestell was ’n militêre mag of ’n sterk staatsowerheid nie noodwendig reg nie. Hy wou, as Protestant van gereformeerde inslag, liewer altyd tot eer van God lewe – sy spreuk was immers ook soli Deo gloria! (Oberholster & Van Schoor s.a.:81–82; OVS Volksraadsnotule 1899:23; Van Schoor 1997:162). In hierdie opsig was M.T. Steyn se staatkundige integriteit en insig vir Kestell ‘verbluffend’; en dáárom, het hy geglo, moes die politiek self ook altyd na die eer van God soek.

Die pastor-veldprediker het, op grond van sy rol as pastor en sy belewenis van die emosies van die betrokkenes, kort ná die ABO aan sy swaer, Nico Hofmeyr, geskryf: ‘The armies of England have overthrown us. but the Afrikaner spirit lives!’ (Van Schoor 1992:141). ’n Buitestaander, Loe (1985:210), het in die twintigste eeu tot dieselfde gevolgtrekking gekom: ‘events of the Boer War had guaranteed that Afrikaner nationalism would survive’.

As notulehouer tydens die beraadslagings rondom die Vrede van Vereeniging (15–31 Mei 1902) het Kestell ook hier sy pastorale ingesteldheid en empatie getoon. As notulehouer van die Boere-vredesberaad kon hy dit algaande by die Boere-verteenwoordigers aanvoel: ‘ons het nou gekom by die einde van die bittereinde’ (Kestell & Van Velden 1982:51–175).

Kestell: Twee sake by die Vrede van Vereeniging (31 Mei 1902)

Daar is aangetoon dat Kestell ’n vaardige en bekwame skrywer was. Uit sy skryfwerk wat tot vandag toe bewaar gebly het, blyk sy vermoë om hom vlot en doelgerig in ten minste drie tale uit te druk: Engels, Nederlands en, rondom 1900, die opkomende Afrikaans as skryftaal.

Hierdie taalvaardigheid kom duidelik na vore in Kestell en Van Velden se gedrukte notule oor die vergaderings wat tot die Vrede van Vereeniging gelei het – ’n vredesluiting wat kort voor middernag op 31 Mei 1902 tot stand gekom het tussen die twee Boere-republieke en Brittanje (Kestell & Van Velden 1982:174).

Wanneer daar steeds op die spore van ‘Vader’ Kestell as pastor-veldprediker in die ABO van 1899–1902 voortbeweeg word, verdien die gepubliseerde notule van die vredesonderhandelings aan die einde van Mei 1902 besondere aandag. Hierdie dokument bevestig die stelling dat die ABO van 1899–1902, kragtens die Christelike volkereg, primêr ’n oorlog tussen twee onafhanklike state was, naamlik die ZAR en Rep. OVS as Boere-republieke, teenoor Brittanje as ’n omvangryke imperiale moondheid. Die notule van Kestell en Van Velden is in 1982 gepubliseer onder die titel:

Die Vredesonderhandelinge tussen die Regerings van twee Suid-Afrikaanse Republieke en die Verteenwoordigers van die Britse Regering wat uitgeloop het op die Vrede wat op 31 Mei 1902 op Vereeniging gesluit is.11

In hierdie dokument lê daar ook duidelike spore van ‘Vader’ Kestell as Boere-pastor en veldprediker.

Met betrekking tot die tema van hierdie artikel, handel hierdie spore van Kestell veral oor twee sake: eerstens, die bydraes van die leidende figure onder die Boere tydens die vredesberaad; en tweedens, die uitstaande gebeure wat die uiteindelike besluit van die vergadering beïnvloed het. Dit is juis hierdie twee kwessies wat tot die aanvaarding van die Britse vredesvoorstelle deur die 60 afgevaardigdes van die ZAR en Rep. OVS op die Boere-beraad te Vereeniging gelei het.

Vir hierdie Boere was die Vrede van Vereeniging ’n bittereindervrede, en 31 Mei 1902 het die einde van hierdie bittereinde verteenwoordig (vgl. Van Schoor 2005:245–247).

Leidende Boere voor die einde van die bittereinde

Op grond van dit wat in die daaropvolgende paar dae plaasgevind het, kan daar gesê word dat generaal Jan Smuts, altyd skerp van insig, op die voorlaaste dag (30 Mei 1902) van die Boere-beraad te Vereeniging, die heersende gevoel onder die bittereinders opgesom het toe hy die veelbesproke begrip ‘bittere einde’ aangeroer het. Hy het gevra dat die 60 Boere-afgevaardigdes moet erken dat die einde nou aangebreek het – maar in ’n veel bitterder vorm as wat hulle verwag het. Vir hulle sou die dood sagter en soeter gewees het as ‘die stap waartoe ons nou moet oorgaan’.

Ooreenkomstig die sentrale sin wat sedert die onthulling daarvan op 16 Desember 1913 (Van Schoor 1993:2) op die naald van die Vrouemonument staan – Uw wil geschiede – sê Jan Smuts: ‘ons buk voor God se wil’. Hy vervolg byna profeties:

Niemand sal my ooit oortuig dat die ongeëwenaarde opofferinge wat deur die Afrikaanse volk op die altaar van vryheid gelê is, ydel en tevergeefs was nie. Die vryheidsoorlog van Suid-Afrika is gestry, nie alleen vir die Boere nie, maar vir die ganse volk van Suid-Afrika. Die uitkoms van dié stryd laat ons in God se hand. (Kestell & Van Velden 1982:160)

Jan Smuts kyk vanuit sy bittereinder-posisie wyer as slegs die Afrikaner wanneer hy oor die toekoms van Suid-Afrika besin. Vir hom het die bittereinders, as ’n gerekende faktor in die land, ’n roeping wat verder strek as die oorlewing van die Afrikaner alleen. Daarom verwys hy na die ‘ganse volk’ van Suid-Afrika.

Die bittereinder-generaal, J.H. de la Rey, loop Smuts in hierdie opsig vooruit wanneer hy reeds op 29 Mei 1902 op dieselfde Beraad sê: ‘… hierdie byeenkoms [is] die einde van die oorlog’. Hy vra: ‘Wat is geloof?’ En sy antwoord is ewe kort en deurslaggewend: ’n oorlog in die geloof beteken om te sê: ‘Heer, laat U wil geskied … nie my wil om oorwinnaar te wees nie’. Elke Boer moes sy eie wil opsy skuif en doen soos God hom lei.

Volgens De la Rey het die finale voorstel van Brittanje aan die Boere-beraad nie veel nuwe voordeel vir die Boere ingehou nie, maar beding tog ‘die een en die ander’. Indien die Boere-beraad nou sou besluit om die oorlog voort te sit, sou hulle – in die ellendige toestand wat op die vergadering beskryf is – ‘hierdie volk wat so trou was tot hensop drywe, en so sal die oorlog tot ’n oneervolle einde loop. Afgevaardigdes bedink wat julle doen’ (Kestell & Van Velden 1982:136).

Behalwe dat Smuts en De la Rey met hulle ‘Uw wil geschiede’ ’n verantwoorde vertrekpunt vir die mens se verstaan van God se wil bied, gee hulle ook ’n vertolking met argumente wat vir Kestell besonder aanvaarbaar moes wees. Hierdie argumente het by hom weerklank gevind toe hy in 1913 by die inwyding van die Vrouemonument dieselfde tema uitgelig het, en daarom het hy dit in sy notule van die Beraad in besonderhede weergegee. Die uitdrukking, wat Kestell se mentor, M.T. Steyn, op die Vrouemonument laat aanbring het, (Strauss s.a.: NGB artikel 8) is waarskynlik deur die Boere tydens hierdie krisistyd dikwels bespreek. Dat ‘Uw wil geschiede’ sentraal op die Vrouemonument staan, dui waarskynlik daarop dat die bittereinders, saam met hulle president – die ‘siel van die vryheidstryd’ – hieroor geworstel het en uiteindelik in hierdie sinnetjie die antwoord gevind het. Die saak en oplossing was waarskynlik in 1913 nog so lewend en aktueel dat dit sonder enige noemenswaardige weerstand op die Vrouemonument verewig is (Strauss s.a.:9).

Generaal De la Rey se inset op die Boere-beraad het dadelik steun gekry. Volgens landdros Bosman van Wakkerstroom het die generaal ‘rondborstig’ gepraat: ‘Dit sal vir meer as een van ons lig gee op wat ons moet beslis.’ Kommandant H.S. Grobler van Bethal het bygevoeg dat die:

tyd van veg nou verby is, en daar is ’n volk vir wie ons moet sorg met die feite wat ons voor ons het, sal ek vir die Engelse se vredesvoorstelle voor die beraad moet stem. (Kestell & Van Velden 1982:136–139)

Teen die einde van die Boere-beraad op Saterdag 31 Mei 1902 het generaal De Wet – self ’n bittereinder vir wie deelname aan die ABO ’n suiwer geloofsaak was – verklaar dat dit steeds vir hom só was en dat hy kon voortveg. Tog het hy beklemtoon dat die Beraad ‘tot één doel geraak, want dit sal vir die toekoms van onberekenbare waarde wees’. Daarop het die Boere-beraad van 60 afgevaardigdes die kommissievoorstel van advokate Hertzog en Smuts aanvaar. Hierdie voorstel het die sienswyse van die Beraad opgesom en die Britse vredesvoorstelle met ’n motivering aanvaar. Van die 60 Boere het 54 ten gunste van die voorstel gestem en slegs ses daarteen. Die kern van die motivering was dat ’n voortsetting van die oorlog op hierdie stadium tot die maatskaplike en stoflike vernietiging van die Afrikaner en sy nageslag kon lei. Dit is in die verslag as die enkele grootste rede aangegee waarom die vredesvoorstel van die Britse regering aanvaar moes word (Kestell & Van Velden 1982:168–171).

Die pastor Kestell en die einde van die bittereinde

Die notulehouer en bittereinder het onthou dat hy dieselfde argument in die omgang gebruik het. Hy het daarmee saamgestem. Daarom raak hy teen die einde van sy pasgeskrewe boek, Met de Boerencommando’s, byna dramaties-nostalgies. Hy (Kestell s.a.) som die Boere en die einde van hulle bittere einde só op:

Het onvermurfbare, het harde onverbiddelijke staarde de vergadering in de oogen. Men kon eenvoudig niet tegen de stroom meer op. Men zag dat, hoewel zij uit een militair oogpunt niet overwonnen waren, de oorlog ter wille van het volk niet kon voortgaan. De Boeren hadden aangehouden zoo lang als zij konden – ja maanden, maanden langer dan zij hadden kunnen – en nu Het bittere einde was daar! (p. 273)

Die pastor wat as herder vir sy skape sorg, praat met trots oor die ‘hoofden …’ en ‘het volk’ wat nie ter wille van krygsmanstrots of formele oorwegings onvoorwaardelik aan die Britte oorgegee het nie, maar:

om voor het volk te kunnen zorgen, en in staat te zijn de wonden dat volk toegebracht eenigzins te heelen, was het dat zij zeiden: wij zullen ons niet onvoorwaardelijk overgeven: wij zullen aanbevelen, dat de (Boere-) afgevaardigden het voorstel van Engeland aannemen. (Kestell s.a.:273)

Vir pastor Kestell as bittereinder het dit dus nie om ’n onvoorwaardelike oorgawe van Boer aan Brit gegaan nie, maar om die aanvaarding van die Britse voorstel deur die Boere self – ’n besluit wat hulle uit eie oortuiging geneem het. Daar was vrede, nie omdat Brittanje dit op die ZAR en Rep OVS afgedwing het nie, maar omdat die Boere die Britse voorstelle, hoewel aanvanklik huiwerig en skoorvoetend, selfstandig aanvaar het (vgl. Kestell & Van Velden 1982:121–175; Strauss 2025).

In die slot van Met de Boerencommando’s vertel die veldprediker-pastor dat ’n gees van ‘tegezin in verderen tegenstand’ gaandeweg van die Boere-beraad op Vereeniging besit geneem het. Die besef dat hulle tevergeefs teen hierdie gees probeer stry, het mettertyd tot die meeste Boere deurgedring. Kestell se aanvoeling as pastor het hom in die loop van die debat laat besef dat hierdie onderliggende gees ’n bepalende rol in die Beraad se besluitneming sou speel. ’n Emosionele golf het tydens die Beraad opgebou – aangevuur deur debatte, verslae oor die stand van sake in die ABO, die gemoedstoestand en die omstandighede waarin die afgevaardigdes verkeer het (Kestell s.a.:273).

Die uiteindelike besluit om die Britse regering se voorstelle met 54 teenoor 6 te aanvaar, is dus nie slegs op beredeneerde gronde geneem nie. Kestell as pastor en notulehouer kon hierdie onuitgesproke golf in die verloop van die debat aanvoel. De la Rey se stelling: ‘Gij kunt spreken wat gij wilt, besluiten wat gij wilt; maar wat gij ook doet: hier in de vergadering is het einde van die oorlog’ het die emosionele verset teen ’n voortsetting van die oorlog ontbloot – ’n verset wat vervolgens deur argumente versterk is (Kestell & Van Velden 1982:121–175).

As notulehouer voeg Kestell ’n opmerking van Smuts by dié van De la Rey: ‘Dit is voor ons een groot oogenblik, misschien het laatste, waarin wij als vrij Volk en vrije regeering zullen bij elkaar komen’. Volgens Kestell was argumente vir die voortsetting van die stryd deur die twee republieke op hierdie stadium tevergeefs. Al het die kommando’s, wat voor die Beraad oor die saak geraadpleeg is, opdrag gegee om volhardend te veg vir onafhanklikheid, moes die Beraad op grond van die tendense in die vergadering, volgens De la Rey, besluit ‘nie net vir “uw eigen dorp” nie “maar voor het gansche land”’. Voortveg was dus eenvoudig nie meer ’n uitweg nie (Kestell s.a.:273).

Soos Kestell as pastor dit aan die einde van sy boek Met de Boerencommando’s stel: die harde, onverbiddelike werklikheid het die Boere-beraad nou in die gesig gestaar. Die einde van die spreekwoordelike ‘bittereinde’ was daar. Generaals De la Rey en Smuts het ’n saak bepleit wat die stoere bittereinder, Kestel, self genotuleer en onderskryf het: ‘Daardie aand, kort voor elfuur, was albei Regerings weer in Pretoria’. Vyf minute oor 11 het die eerste Boer en Brit in Melrosehuis die vredesooreenkoms geteken. Vir die Boere-republieke het waarnemende presidente S.W. Burger van die ZAR en C.R. de Wet van die Rep. OVS eerste geteken. Daarna het die lede van hulle regerings gevolg. Heel laaste het Kitchener en Milner namens Brittanje geteken.

Dit was stil …

Waarskynlik wou dominee Kestell met sy notulepen vir oulaas ’n stukkie oor sy geliefde mentor byvoeg:

President Steyn was nie daar nie. ’n Gevaarlike siekte het die president van die Oranje-Vrijstaat verhinder om te doen wat hom die grootste smart in die wêreld sou gegee het. ‘My hand op papier sit waarmee ek die onafhanklikheid van my volk prysgee – dit doen ek nooit!’ Wrede omstandighede wat hy toe weldadig kon noem, het dit so laat gebeur dat hy nie kon doen wat hy nie wou doen nie. (Kestell & Van Velden 1982:174)

As pastor wou Kestell sy geliefde bittereinder-president uitlig in sy persoonlike omstandighede hier aan die einde van die Vrystaat se ‘vryheidstryd’. Kestell doen dit – gesien die omstandighede – vir die soveelste keer op pastoraal deernisvolle wyse. Hy sê nie dat sy president met sy bittereinder-houding stroomop en uitgestoot is nie; hy klee hom egter steeds met dieselfde begrip en respek as voorheen. President Steyn was, ten spyte van alles, tog triomferend: hy hoef nie te doen wat hy nie wou doen nie.

Slot

Kestell was ’n pastor-veldprediker met ’n Christelik-gefundeerde geestelike aanvoeling; ’n pastor wat oplossings gesoek het wat in ooreenstemming met sy Christelike geloof en oortuigings was, en wat met herderlike sensitiwiteit en ontvanklikheid met die mense om hom – as medemense – omgegaan het. Hy was ’n pastor-veldprediker wat deur sy persoonlikheid, insig en aanvoeling by vriend én vyand respek afgedwing het.

Hy was egter nie op persoonlike eer ingestel nie. Hierdie artikel het hierdie stelling met voorbeelde gestaaf. Dit gaan oor ‘Vader’ Kestell – ’n man wat deur sy tasbare omgee en eenvoudige, egte kommunikasie ’n geliefde kerk- en godsdiensleier geword het; ’n realistiese kerkleier wat tegelyk ’n pastor en ook ’n prominente Christelike volks- of kultuurleier was; iemand wat, as geliefde pastor van sy mense, tereg die bynaam ‘Vader’ gekry het.

Erkennings

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel op onvanpaste wyse kon beïvloed nie.

CRediT outeursbydrae

Piet J. Strauss: Konseptualisering, Metodologie, Formele ontleding, Skryf oorspronklike konsep, Visualisering, Projekadministrasie, Sagtewarevalidasie, Skryf- hersiening en redigering, Finansiering. Die outeur bevestig dat hierdie werk ten volle hulle eie is, het die artikel hersien, die finale weergawe vir indiening en publikasie goedgekeur en neem volle verantwoordelikheid vir die integriteit van die bevindings daarvan.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel het alle etiese standaarde gevolg vir navorsing sonder direkte kontak met, en deelname van mense.

Befondsingsinligting

Hierdie navorsing het geen spesifieke befondsing van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële, of nie-winsgewende sektore ontvang nie.

Databeskikbaarheidsverklaring

Die outeur verklaar dat alle data wat hierdie navorsingsartikel en bevindinge ondersteun, in hierdie artikel en literatuurverwysings beskikbaar is.

Vrywaring

Die menings en sienings wat in hierdie artikel meegedeel word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir hierdie artikel se inhoud.

Literatuurverwysings

De Wet, C.R., 1959, Die stryd tussen Boer en Brit, in Afrikaans vertaal deur J.J. Human, Tafelberg-Uitgewers, Kaapstad.

Grobler, J., 2007, Uitdaging en antwoord. ’n Vars perspektief op die evolusie van die Afrikaners, Grourie, Pretoria.

Grundlingh, A.M., 1979, Die hensoppers en joiners. Die rasionaal en verskynsel van verraad, HAUM, Kaapstad.

Kestell, J.D., s.a., Met de Boerencommando’s. Mijne ervaringen als veldprediker, Höveker en Wormser, Amsterdam.

Kestell, J.D. & Van Velden, D.E., 1982, Die vredesonderhandelinge, Human en Rousseau, Kaapstad.

Kuiper, B., 1995, The church in history, CSI Publications, Grand Rapids.

Loe, E., 1985, To the bitter end, Butler en Tanner, London.

NG Kerk, 2011, Die Kerkorde van die NG Kerk, NG Kerk, Pretoria.

NG Kerk-Uitgewers, 1982, Ons glo … die Drie formuliere van Eenheid en Ekumeniese Belydenisse, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.

Nienaber, P.J., 1971, Vader Kestell. ’n Lewenskets van dr J.D. Kestell, Tafelberg, Kaapstad.

Nienaber, P.J., 1976, Kestell, John Daniel, Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek I, 2e druk, pp. 441–443, RGN, Kaapstad.

Oberholster, J.J. & Van Schoor, M.C.E., s.a., President Steyn aan die woord, Sacum, Bloemfontein.

OVS Volksraad, 1899, Volksraadsnotules, 21–27 September 1899, Staatsargief, Bloemfontein.

Pretorius, F., 2001, Almal se oorlog: die Anglo-Boereoorlog (1899–1902), in F. Pretorius (red), Geskiedenis van Suid-Afrika van voortye tot vandag, pp. 235–254, Tafelberg, Kaapstad.

Strauss, P.J., s.a., Uitdrukkings op die Vrouemonument geweeg, Druforma, Bloemfontein.

Strauss, P.J., 2010, Kerk en orde vandag, Sun Press, Bloemfontein.

Strauss, P.J., 2025, Die volkeregtelike status van die afgevaardigdes van die Boerepublieke by die vrede van 31 Mei 1902, Aanvaar vir publikasie in Koers, maar nog nie gepubliseer nie.

Steyn, M.T., 1972, Suid-Afrikaanse Woordeboek II, pp. 727–735, RGN, Kaapstad.

Van der Watt, P.B., 1973, Die Loedolffsaak en die NG Kerk 1862–1962, Tafelberg, Kaapstad.

Van der Watt, P.B., 1980, Die NG Kerk 1824–1905, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Van Schoor, M.C.E., 1992, John Daniel Kestell, Oorlogsmuseum, Bloemfontein.

Van Schoor, M.C.E., 1993, Die Nasionale Vrouemonument, Oorlogsmuseum, Bloemfontein.

Van Schoor, M.C.E., 1997, ’n Bittereinder aan die woord, Geskrifte en Toesprake van Marthinus Theunis Steyn, Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, Bloemfontein.

Van Schoor, M.C.E., 2005, Die Bittereinde Vrede, Kraal, Brandfort.

Van Schoor, M.C.E., 2009, Marthinus Theunis Steyn – Regsman, staatsman en volksman, Protea, Pretoria.

Van Schoor, M.C.E., Malan, S.I. & Oberholster, J.J., 1954, Christiaan Rudolph de Wet 1854–1922, Nasionale Vrouemonumentkommissie, Bloemfontein.

Van Schoor, M.C.E. & Van Rooyen, J.J., 1960, Republieke en Republikeine, Nasionale Boekhandel, Bloemfontein.

Wessels, F.J.H., 1975, Die struktuur van die tussenstaatlike – ’n normatiewe analise, F. Wessels (red.), Op al sy akkers, pp. 61–65, Sacum, Bloemfontein.

Voetnotas

1. Kestell was baie beslis daaroor. In die voorwoord van sy Met de Boerencommando’s sê ds. Kestell (s.a.:4): ‘Ik was nooit gewapend; ik nam nooit als een soldaat aan een gevecht deel; ik bemoeide mij zelfs niet met krygszaken. En toch … streed ik in den grooten strijd hartelijk mede …’.

2. Van Schoor en Van Rooyen (1960:121) sluit ’n hoofstuk oor die Republiek OVS af met die volgende woorde. ‘Aan die einde van die 19de eeu het die twee Boere-republieke op die drumpel van volkome eenwording gestaan – ’n vereniging wat die modeladministrasie van die Vrystaat en die welvaart van Transvaal tot ’n nuwe republikeinse krag sou kon verbind waarin die sterkte van ’n Paul Kruger en die visie van ’n M.T. Steyn as rigsnoer sou dien.’

3. In sy voorwoord erken De Wet (1959:5) as krygsman prontuit: ‘Ik ben geen boekschrijver …’.

4. In die gedrukte Afrikaans-Nederlands-Engelse notule van die vredesonderhandelings wat in 1982 verskyn, verklaar Kestell en Van Velden in ’n ‘voorberig’ dat hulle die oorspronklike dokument nie aan die verskillende berade van die proses kon voorlê vir goedkeuring van die korrektheid van die verloop van hulle vergaderings nie, maar dit wel aan sleutelpersone voorgehou het. Hierdie persone, naamlik president M.T. Steyn (Rep. OVS), waarnemende president S.W. Burger (Zuid-Afrikaanse Republiek [ZAR]), die voorsitter van die Boere-beraad, generaal C.F. Beyers, asook generaals Botha en Smuts (ZAR) en generaals De Wet en Hertzog (Rep. OVS), moes bepaal of dit ’n korrekte weergawe van die gebeure of onderhandelings was. Volgens die skrywers het almal ‘die Notule ’n ware en getroue verslag van die Onderhandelinge bevind’ (Kestell & Van Velden 1982:14). Hiermee het die skrywers aan ’n stap voldoen wat die egtheid van hulle notule bevestig, dit vir historiese navorsers bruikbaar maak en ’n aanvaarbare metode bevestig wat steeds in vergaderings gebruik word.

5. Dit is bekend dat Kestell mede-bittereinders soos president Steyn, en generaals De Wet, De la Rey, Hertzog en Beyers onder sy geesgenote gereken het. Hierdie bittereinders het gehoop dat ‘die republikeinse vlag weer eendag oor ons sou wapper’ (Van Schoor 1992:201).

6. In die negentiende eeu het daar meer as een Driemanskap in die Rep. OVS en ZAR (Transvaal) as Boere-republieke voorgekom. Die Transvaalse Driemanskap wat die uitkoms van die Konvensie van Pretoria in 1881 tussen Brittanje en die ZAR namens die herstelde ZAR na die Eerste Vryheidsoorlog in 1881 onderteken het, is ook bekend (Grobler 2007:214).

7. Kestell was op soek na president Steyn en swerwend ‘tussen die burgers’ toe hy ’n brief van die president ontvang waarin aangedui is waar die dominee hom kon vind. Die dominee kon nie wag nie. ‘Inderhaas is ek te perd daarheen en op 24 Oktober 1901 kom ek in sy laer aan. Ons het mekaar spontaan omhels, en toe hy my versoek om hom voortaan permanent te vergesel, kon ek nouliks my trane bedwing. Van daardie dag af is ’n verbintenis gesluit wat saam met die verbintenis met generaal De Wet in die volksmond as die Vrystaatse Driemanskap bekend sou staan’ (Van Schoor 1992:114).

8. Kestell was onder meer voorsitter van die Vrystaatse Sinode van die NG Kerk in 1916, eindvertaler (Nuwe Testament) van die eerste volledige Afrikaanse Bybelvertaling in 1933, rektor van die Grey-Universiteitskollege (Vrystaatse Universiteit) in 1920 en voorsitter van die Reddingsdaadbond in 1939. In die jare 1933–1934 ontvang hy eredoktorsgrade van drie Suid-Afrikaanse Universiteite. Kestell was ’n voorvat-dominee, ’n kultuurleier en ’n volksleier (vgl. Nienaber 1976).

9. In sy genoemde toespraak ter motivering dat die Rep. OVS aan die kant van sy sustersrepubliek, die ZAR, by die ABO betrokke raak, sê president Steyn dat sy voorstel hom ‘dagen van nadenking en nachten van gebed gekost’ het (OVS Volksraadsnotule 1899:23). In Mei 1900, ’n paar maande na die begin van die ABO, telegrafeer president Steyn aan president Paul Kruger van die ZAR dat hy ’n lafhartige oorgawe aan die Engelse afwys omdat die Boere-republieke hierdie oorlog ‘in den naam des Heren hebben begonnen’ (Van Schoor 2009:243).

10. Talle burgers het gehoop: ‘Alles zal recht komen’. Die generaal was egter onverbiddelik: ‘Alles moest recht gemaakt worden’ (Kestell s.a.:95). By die begrafnis van generaal De Wet in 1922 sê ds. P.S. van Heerden dit in verstaanbare taal: ‘Die oortuiging dat sy weg die eervolle weg was en sy saak regverdig, het hom besiel met moed wat geen moeilikheid gesien het en oor elke hinderpaal geseëvier het’ (Van Schoor, Malan & Oberholster 1954:160).

11. Heel voor in hierdie boek word aangedui dat die oorspronklike (meer Nederlandse) uitgawe in 1909 deur J.H. de Bussy in Pretoria-Amsterdam uitgegee is en dat die huidige Afrikaanse vertaling vir die eerste keer in 1982 deur Human en Rousseau in Kaapstad, Pretoria en Johannesburg gepubliseer is.



Crossref Citations

No related citations found.