Abstract
The significance of the Exodus 24:3–8 allusion in 1 Peter 1:2 for the interpretation of 1 Peter 2:4–10: An exegetical study. The relationship between 1 Peter 2:4–10 and the salutation of the letter has received limited scholarly attention, particularly regarding the phrase ‘for obedience and sprinkling with the blood of Jesus Christ’ in 1 Peter 1:2. This study addressed the possibility that the phrase alluded to Exodus 24:3–8 and provided a hermeneutical key for understanding 1 Peter 2:4–10. The study aimed to determine how the reference to obedience and the sprinkling of Christ’s blood in 1 Peter 1:2 contributed to the interpretation of 1 Peter 2:4–10. Attention was given to the relationship between the Sinai covenant events and Peter’s description of the identity, status, and calling of believers. A grammatical-historical exegetical approach was followed. The argument of 1 Peter was analysed through a thought-structure analysis, while the literary and theological relationship between 1 Peter 1:2, Exodus 19:5–6, 24:3–8, and 1 Peter 2:4–10 was investigated. The study examined relevant Old Testament quotations and allusions in 1 Peter 2:4–10 within their original contexts. The study found that 1 Peter 1:2 intentionally echoed the covenant-ratification event at Sinai. Peter presented believers’ faith-response and their sprinkling with Christ’s blood as the fulfilment of the Sinai pattern. Furthermore, 1 Peter 2:4–10 developed themes already implied in 1:2 by describing believers as a holy priesthood, a royal priesthood, and a holy nation, emphasising God’s presence among them and their calling to worship and proclaim his mighty acts.
Contribution: The study concluded that the reference to Exodus 24:3–8 in 1 Peter 1:2 functioned as an important interpretive key for 1 Peter 2:4–10. Peter portrayed the followers of Jesus as the new covenant people of God, united through faith in Christ, sanctified by the Spirit, and incorporated into a covenant relationship sealed by the blood of Jesus Christ.
Keywords: blood sprinkling; 1 Peter 2:4–10; Exodus 24:3–8; 1 Peter 1:2; new covenant; living stones; spiritual house.
Inleiding
1 Petrus 2:4–10 neem ’n sentrale plek in die eerste Petrusbrief in. Horrell (2008:68) dui hierdie gedeelte aan as ‘one of the richest and most important texts in the epistle’ (vgl. ook Elliott 2000:407; Parker 2017:41–42) is. Die bestudering van hierdie gedeelte is derhalwe van groot belang vir die verstaan van die brief.
Dit is opsigtelik dat hoewel ’n verband tussen 1 Petrus 2:4–101 en die aanhef van die brief deur eksegete aangedui word, die lig wat die aanhef van die brief op 2:4–10 mag werp, nie in diepte ondersoek word nie. Achtemeier (1996:152), Richard (2000:90), Michaels (1988:108) en Williams en Horrell (2023:309–310) bespreek byvoorbeeld kortliks die feit dat die lesers se goddelike verkiesing in sowel die aanhef as in 2:4–10 vermeld word (vgl. ἐκλεκτός in 1:1 en 2:9), maar hulle gee nie aandag aan die moontlikheid dat die drie voorsetselfrases in 1:2 en veral die voorsetselfrase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, tot die beter verstaan van 2:4–10 mag dien nie.
Die lig wat die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, in 1 Petrus 1:2 op 2:4–10 kan werp, word in hierdie artikel ondersoek2. In hierdie ondersoek word agtereenvolgens aan die volgende sake aandag gegee:
- ’n Kort uiteensetting van die gedagtestruktuur van 1 Petrus.
- ’n Moontlike verband tussen die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, enersyds en 2:4–10, andersyds.
- Die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, binne die argument van 1 Petrus 1:1–2.
- Die gebruik van Eksodus 24:3–8 in 1 Petrus 1:1–2.
- Die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, in 1 Petrus 1:2 as ’n verwysing na Eksodus 24:3–8 binne die argument van die gedagte-eenheid van 1 Petrus 2:4–10.
Aan die einde van die artikel word ’n slotsom aangebied.
In hierdie artikel word die grammaties-historiese eksegese soos dit in die gereformeerde tradisie beoefen word, as ’n benadering gevolg (vgl. Breed, Van Rensburg & Jordaan 2008:45–53; Fee 2009:29–132; Jordaan, Van Rensburg & Breed 2011:225–258; Tolar 2002:21–38). Met die ontleding van die gedagtestrukture in die Ou Testament en die Nuwe Testament word aansluiting gevind by die metode van Coetzee (red. 1988:19–37), asook Cotterell en Turner (1989:230–256; vgl. Breed 2026:2).
’n Gedagtestruktuur van 1 Petrus
Breed (2026:2) demonstreer dat 1 Petrus in die volgende agt gedagte-eenhede ingedeel kan word:
- 1:1–2 Aanhef.
- 1:3–12 Lofprysing.
- 1:13–2:10 Geroepenes se heilige lewe.
- 2:11–3:12 ’n Doelgerigte lewe voor die oë van ongelowiges.
- 3:13–4:6 Verantwoordelike optrede deur almal wat deur Christus se lyding en oorwinning na God toe gelei is.
- 4:7–11 ’n Lewe tot verheerliking van God in die lig van die wederkoms.
- 4:12–5:11 Om te deel in Christus se lyding en aan sy heerlikheid.
- 5:12–14 Die slot en seënbede.
Dit is moontlik om die gedagte-eenheid in 1 Petrus 1:13–2:10 in twee kleiner eenhede te verdeel. In die eerste kleiner eenheid (1:13–2:3) word die lesers aangespoor om te word wat hulle reeds in Christus is. In die tweede eenheid (2:4–10) handel Petrus3 oor die identiteit van die lesers.
’n Moontlike verband tussen die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, in 1 Petrus 1:2 enersyds en 1 Petrus 2:4–10 andersyds
Soos reeds gemeld, gee die goddelike verkiesing van die lesers wat in sowel die aanhef van die brief (vgl. 1 Pet 1:1) as in 2:4–10 (vgl. 1 Pet 2:9) vermeld word, ’n opsigtelike aanduiding van ’n verband tussen die twee gedeeltes. Die frase εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ in 1 Petrus 1:2 toon verdere aanduidings van ’n verband aan. Dit is moontlik dat Petrus, soos Williams (2011:57–59) en Williams en Horrell (2023:325) argumenteer, met die naamwoord ὑπακοή in 1:2 die lesers se gelowige aanvaarding van die evangelie van Jesus Christus in die oog het. Indien dit die geval is, kom dit ooreen met die klem wat in 2:4–10 op die lesers se geloof geplaas word in kontras met die ongeloof van ander mense (vgl. πιστεύω en ἀπιστέω in 2:7; Jobes 2022:151–153). Dit is ook belangrik dat Petrus met die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ in 1:2, na die gebeure by Sinai verwys4 (Eks 24:3–8) (vgl. Achtemeier 1996:88–89; Breed 2025:3–4; Feldmeier 2008:58–59). Eksodus 24:3–8 is deel van die groter gedagte-eenheid van Eksodus 19–24, wat Childs (2004:503) beskryf as ‘one great covenant event’ (vgl. ook Breed 2025:2). In 2:9 dui Petrus die lesers aan met die unieke frases, βασίλειον ἱεράτευμα en ἔθνος ἅγιον. Hierdie frases is aanhalings uit Eksodus 19:6 (Septuagint [LXX]) (Carson 2007:1030–1031).
Uit die voorgaande argument kan die gevolgtrekking gemaak word dat daar ’n opsigtelike verband is met die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, as ’n verwysing na Eksodus 24:3–8 en 2:4–10.
Om meer duidelikheid te kry oor die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ in 1 Petrus 1:2, as ’n verwysing na Eksodus 24:3–8 binne die argument van die gedagte-eenheid in 1 Petrus 2:4–10, is dit nodig om eers aan die volgende twee sake aandag te skenk:
- Die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, binne die argument van 1 Petrus se aanhef.
- Die gebruik van Eksodus 24:3–8 in 1 Petrus 1:2.
Die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, binne die argument van 1 Petrus 1:1–2
In die aanhef van 1 Petrus val die klem tot ’n groot mate op wie die lesers van die brief is. Die lesers word in 1:1 uitverkore [ἐκλεκτός] vreemdelinge [παρεπίδημος] wat in diaspora [διασπορά] verkeer, genoem. In hierdie artikel is die benaming, ἐκλεκτός, van belang. Deur die gebruik van hierdie woord bring Petrus ’n besondere status ter sprake wat die lesers met die Ou-Testamentiese Israel deel. Israel word in die Ou Testament dikwels aangedui as die volk wat God verkies het (vgl. byvoorbeeld Deut 7:6–8 en Ps 105:6). Petrus maak reeds in 1:1 duidelik dat die lesers soos Israel ’n besondere plek by God beklee (Achtemeier 1996:81; Schreiner 2003:50). In ’n studie van 1 Petrus gee Williams (2011:43–80) deeglik aandag aan die goddelike verkiesing in die brief. Hy demonstreer dat God volgens 1 Petrus in sy groot genade sommige mense as sy eiendom verkies het en dat hierdie verkiesing vir hulle tot groot blydskap en ook verheerliking van God moet dien. Williams (2011) argumenteer die goddelike uitverkiesing in 1 Petrus:
[I]s unconditional because it has no cause outside of God; it is rooted in his sovereign will and good pleasure. Thus, … human turning to God in conversion is the effect, and not the cause of election. (p. 252)
Petrus gee met die drie voorsetselfrases in 1:2 ’n verdere verduideliking van die goddelike verkiesing wat hy in 1:1 vermeld (Achtemeier 1996:86; Breed 2025:3; Schreiner 2003:52–53; Williams 2011:47). Met die frase, κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς, laat blyk hy dat die goddelike verkiesing van die lesers volgens (vgl. κατὰ) God se voorkennis verloop. Die woord, πρόγνωσις, moet in 1:2 nie verstaan word as alleenlik God se voorafkennis van toekomstige gebeure nie. Die woord verwys hier ook na God se vermoë om hierdie voorafkennis volgens sy goddelike verlossingsplan te verwerklik (vgl. Breed 2025:4–5; Richard 2000:32; Green 2007:19; Williams & Horrell 2023:321).
Met die frase, ἐν ἁγιασμῷ πνεύματος, word die werk van die Heilige Gees met betrekking tot die goddelike verkiesing, aangedui. Met die voorsetsel ἐν saam met die datief ἁγιασμῷ, wys Petrus op die instrument van die Heilige Gees. Deur middel van heiligmaking wat die Heilige Gees bewerk (vgl. die genitief πνεύματος), word die uitverkiesing ’n werklikheid in mense se lewens (Breed 2025:3; Davids 1990:48; Feldmeier 2008:57–58).
In die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, gebruik Petrus die voorsetsel, εἰς, saam met die akkusatiewe ὑπακοὴν en ῥαντισμὸν en dui daarmee gehoorsaamheid asook besprinkeling as die doel van die uitverkiesing aan (Breed 2025:3; Jobes 2022:75–76; Williams 2011:57). Soos reeds aangedui, kan aanvaar word dat Petrus met die woord, ὑπακοή, die lesers se gelowige aanvaarding van die evangelie wat aan hulle verkondig is (vgl. 1:12), in die oog het (vgl. 1:22; vergelyk ook Michaels 1988:11; Schreiner 2003:55–56). Breed (2025:3) verduidelik dat die genitief, Ἰησοῦ Χριστοῦ in 1:2, as ’n genitief van besit saam met die naamwoord, αἷμα, verstaan moet word. Die lesers is dus hiervolgens met die bloed van Jesus Christus besprinkel.
Die voorafgaande bespreking dui daarop dat Petrus in 1:2 die lesers se aanvaarding van die evangelie en hulle besprinkeling met Christus se bloed as die doel van die goddelike verkiesing beskryf. Die verkiesing van die lesers, wat God volgens sy verlossingsplan laat verloop, en wat die Heilige Gees in die lewe van die lesers deur heiligmaking laat realiseer, loop daarop uit dat die lesers die evangelie in geloof aanvaar en dat hulle met Christus se bloed besprinkel word.
Die gebruik van Eksodus 24:3–8 in 1 Petrus 1:1–2
Om duidelikheid te kry oor Petrus se gebruik van Eksodus 24:3–8 in 1 Petrus 1:2, val die fokus vervolgens eerstens op Eksodus 24:3–8 binne sy eie konteks, en tweedens op die betekenis van Petrus se verwysing na Eksodus 19:3–8.
Eksodus 24:3–8 binne sy eie konteks
Eksodus 24:3–8 binne die verbondsgebeure in Eksodus 19–24
Verskeie eksegete is dit eens dat Eksodus 19–24 ’n hegte eenheid vorm (vgl. Breed 2025:2; Sprinkle 2009:17–34). Daar is ’n opsigtelike verband tussen Eksodus 19:5–8 en 24:3–8. In albei gedeeltes word na die verbond [בְּרִית] verwys en in albei gedeeltes word aangedui dat Israel onderneem het om te doen wat die Here sê (vgl. Eks 19:8, 24:5 en 8). In Eksodus 19 word ’n verwagting geskep dat ’n verbond tussen God en Israel bekragtig gaan word en hierdie bekragtiging word in Eksodus 24:3–8 beskryf (Davies 2004:116–117; Sprinkle 2009:27).
Die verbond ter sprake in Eksodus 19–24
In Eksodus word Israel reeds voor die gebeure by Sinai as God se volk aangedui (Fretheim 1991:209). Die verbond wat in Eksodus 19–24 ter sprake gebring word, ‘[…] provide a closer specification of what is entailed in that relationship of what Israel has become as a people …’ (Fretheim 1991:256; vgl. ook Wright 2021:454–455).
Die verbond van Eksodus 24:3–8 hou verband met die verbond wat God met die aartsvaders gesluit het. Die verbond van Sinai is ’n spesifieke verbond binne die konteks van God se verbond met die aartsvaders (Fretheim 1991:209).
In Eksodus 19:5–6 verklaar Moses aan Israel dat hulle in die verbondsverhouding met God ’n besondere status sal ontvang. Hulle sal God se eiendom (vgl. סְגֻלָּה) en vir Hom ’n koninkryk van priesters (vgl. מַמְלֶ֥כֶת כֹּהֲנִ֖ים) en ’n heilige nasie (vgl. וְג֣וֹי קָד֑וֹשׁ) wees. Davies (2004:62–102) het ’n insiggewende studie gedoen van elkeen van hierdie frases. Hy kom tot die gevolgtrekking dat die woord סְגֻלָּה in Eksodus 19:5, ’n spesiale en persoonlike eiendom ter sprake bring en dat die woord ook op eiendom wys in onderskeid van ander eiendom. Volgens die belofte in Eksodus 19:5 sal Israel dus, in onderskeid van ander eiendom, vir God ’n spesiale en persoonlike eiendom wees.
Met die twee frases, מַמְלֶ֥כֶת כֹּהֲנִ֖ים en וְג֣וֹי קָד֑וֹשׁ, word aan Israel ’n nader beskrywing gegee wat dit inhou om God se spesiale en persoonlike eiendom te wees (vgl. Davies 2004:62–63). Met die naamwoord, מַלְכוּת, in 19:6 word Israel aangedui as ’n kollektiewe koninklike groep – ’n koninkryk. Israel se koninklike status vloei voort uit hulle spesiale en persoonlike verhouding met God wat Homself tydens die verlossing uit Egipte as magtige koning aan Israel geopenbaar het (vgl. Davies 2004:70–86; Eks 15:1–21). Die naamwoord כֹּהֵן in die frase מַמְלֶ֥כֶת כֹּהֲנִ֖ים dui die aard van Israel se koninklike status aan. Israel sal vir God ’n koninkryk van priesters wees. Daar kan uit Exodus 19:22 (vgl. ook Lev 10:3; Eseg 19:22 en 1 Sam 2:28) afgelei word dat priesters se toegang tot God die besondere eienskap is wat met die woord, כֹּהֵן, ter sprake gebring word (Davies 2004:98–100). In Eksodus 19:6 word dus aan Israel beloof dat hulle in die verbondsverhouding met God as hulle koning, ’n kollektiewe koninklike groep (koninkryk) sal wees wat as priesters toegang tot God het.
Israel word ook in 19:6 as ’n heilige nasie (vgl. וְג֣וֹי קָד֑וֹשׁ) vir God, aangedui. Dit is opmerklik dat na Israel as ’n nasie [גּוֹי] verwys word. Normaalweg word die woord עַם gebruik wanneer Israel vermeld word (Cody 1964:1; Hamilton 2011:304–305). Die woord, גּוֹי, dui op ’n samehangende politieke entiteit (vgl. Davies 2004:100–101). Hierdie benaming herinner ook aan God se verbondsbelofte aan Abraham. God het beloof dat Hy Abraham ’n groot nasie (vgl. לְג֣וֹי גָּד֔וֹל) sal maak (vgl. Gen 12:2). In ooreenstemming met God se belofte aan Abraham, ontvang Israel in Eksodus 19:6 die versekering dat hulle tussen al die ander nasies óók ’n nasie sal wees. Hulle sal egter ’n heilige [קָדוֹשׁ] nasie wees (Hamilton 2011:304–305). Lemański (2023:17) wys daarop dat heiligheid by uitstek ’n eienskap van God self is (vgl. Jes 6:1–3). Hy (Lemański 2023:18) vestig ook die aandag daarop dat heiligheid iets is wat God ‘[…] can “physically” grant not only to places, objects and times associated with him, but also to people’. In Eksodus 19:6 ontvang Israel die versekering dat hulle in God se heiligheid sal deel. As ’n heilige nasie sal Israel, anders as die ander nasies, geskik wees om in die heilige God se teenwoordigheid te kom en in ’n persoonlike verhouding met hom te leef (Davies 2004:101). Israel se priesterskap sowel as hulle heiligheid in Eksodus 19:6, benadruk dus hulle toegang tot God (Davies 2004:100–101).
Israel se geloofsreaksie
Daar is reeds genoem dat Israel in Eksodus 19 en 24 positief gereageer het ten opsigte van wat aan hulle aangaande die verbond voorgehou is. Uit Eksodus 19:5 wil dit voorkom asof Israel verseker word dat hulle, nadat hulle aan sekere voorwaardes voldoen het, God se eiendom sal word en vir Hom ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie sal wees. Patrick (1985) argumenteer egter tereg dat die verhouding tussen die protasis en die apodosis in Eksodus 19:5, anders verstaan moet word en hy verduidelik dit soos volg:
The protasis, or conditional clause, is a definition of the requirements of the position or vocation designated by the titles of the apodosis. We could paraphrase our conditional thus: Being Yahweh’s own possession, his holy nation and kingdom of priests, entails submitting to his will. The definition is formulated in a conditional statement to make it an offer to Israel which she can accept or reject. (p. 149; vgl. ook Fretheim 1991:213; Moberly 1983:226–227)
Dit is duidelik dat daar nie van Israel vereis is om eers vir ’n tydperk sekere vereistes na te kom alvorens hulle die beloofde status ontvang nie. Vir die bekragtiging van die verbond was dit noodsaaklik dat Israel in geloof op God se woord reageer. In geloof moes hulle die God vertrou wat hulle uit Egipte verlos en liefdevol versorg het en wie hulle na Homself gebring het (vgl. Eks 19:4), vertrou.
Bekragtiging van die verbond in 24:3–8
Die volgende sake in Eksodus 24:3–8 met betrekking tot die bekragtiging van die verbond, verdien aandag:
- Die twaalf gedenkstene: In Eksodus 24:4 het Moses nie alleen ’n altaar gebou nie, maar ook twaalf gedenkstene, volgens die twaalf stamme van Israel, opgerig. Hierdie gedenkstene dui aan dat Israel as geheel betrokke is by die offers op die altaar asook by die besprinkeling van die altaar wat sou volg (vgl. Fretheim 1991:258).
- Die offers en die bloed teen die altaar: Op die altaar wat Moses oprig, word brandoffers geoffer en bulle vir die Here as maaltydoffers geslag. Die beskrywing van die brandoffer in Levitikus 1 (vgl. ook Lev 14:20 en 16:24) bied ’n verduideliking van wat die doel van die brandoffers was. Wenham (1979:55; 63) kom tereg tot die gevolgtrekking dat die hoofdoel van die brandoffer was, ‘to atone for man’s sin by propitiating God’s wrath’. Die diere wat geoffer is, is as losprys vir die skuldige persoon aanvaar en het ook op versoening tussen Israel en God gedui. Die maaltydoffers het gewys op die welstand (vrede) tussen God en Israel (Hilber 1996:182; vgl. ook Breed 2026:6–7). Die twee offers saam ‘[…] speak of reconciliation (atonement; Lv 1.4), or the establishment of a communion with the deity … which would not otherwise be possible’ (Davies 2004:120–121). Die een helfte van die offerdiere se bloed wat teen die altaar gesprinkel is, het God se vergifnis bevestig, gegrond op die offer wat deur God aanvaar is (Carson 2007:1016).
- Die besprinkeling van Israel: Nadat die volk die derde keer onderneem het om alles te doen wat die HERE gesê het (vgl. Eks 19:8, 24:3, 7), het Moses die ander helfte van die bloed op die volk gesprinkel. Alhoewel die besprinkeling van die hele volk ’n unieke gebeurtenis was wat in die Ou Testament slegs in Eksodus 24:8 vermeld word, bied Levitikus 8, wat handel oor die wyding van priesters, tog ook belangrike inligting ten opsigte van die besprinkeling van die volk (Boyd 2021:127; Nicholson 1982:83). In Levitikus 8 is die bloed van die offerdiere met die wyding van Aaron nie slegs teen die altaar gesprinkel nie, maar dit is ook aan liggaamsdele van Aaron gesmeer. Dit kan aanvaar word dat die bloed van die offerdiere God en Aaron so aan mekaar verbind. Aaron word op hierdie manier aangedui as ‘God’s man, his special representative among Israel’ (Wenham 1979:143). Wenham (1979:143) sê tereg: ‘A similar interpretation fits the ceremonies ratifying the Sinai Covenant described in Exod –24. The blood indicates that in the covenant Israel has become the people of God’ (vgl. Breed 2026:7). Israel se besprinkeling met die bloed van die offerdiere bekragtig dus formeel die verbond waarvolgens Israel in hierdie verbondsverhouding, God se spesiale en besondere eiendom is en vir Hom ’n koninkryk van priesters en sy heilige nasie is (vgl. Breed 2026:7).
Israel se aanbidding van God en God se teenwoordigheid by sy volk (Eks 24:1–2 en 9–11)
Nadat die verbond tussen God en Israel in Eksodus 24:3–8 bekragtig is, word in verse 9–11 (vgl. ook v. 1–2) aangedui dat Moses, Aäron, Nadab en Abíhu en die 70 oudstes van Israel, opdrag ontvang het om na die Here toe op te klim. Daar kan aanvaar word dat die 70 oudstes wat vermeld word as verteenwoordigers van die hele volk, teenwoordig was (Robinson 2011:170). Dit wat in Eksodus 24:1–2 en 9–11 beskryf word, het betrekking op die hele volk.
Uit Eksodus 24:1–2 en 9–11 kan twee sake uitgelig word wat vir hierdie artikel relevant is:
- Aanbidding van God: Toe Moses en die volk se verteenwoordigers na die Here opgeklim het, het hulle die opdrag gehad om van ver af neer te buig (vgl. שָׁחָה in Eks 24:1). Met die woord שָׁחָה word aangedui dat hulle God moes aanbid en so word die gebeure wat in Eksodus 24:1–2 en verse 9–11 beskryf word, in die konteks van aanbidding geplaas (vgl. Ryken 2005:778–779). Ná die bekragtiging van die verbond, word Israel dus gelei tot aanbidding van die God aan wie hulle behoort en vir wie hulle ’n koninkryk van priesters en ’n heilige volk is (vgl. Hilber 1996:184).
- God se teenwoordigheid by sy volk: Al was Israel in Eksodus 19:5–6 verseker dat hulle God se eiendom, sy priesterlike koninkryk en sy heilige nasie sal wees, word daar in hoofstukke 19–20 op die afstand tussen hulle en die heilige God gefokus. Eksodus 24:1–2 en 9–11 staan hiermee in skrille kontras. Anders as die verbod om teen die berg op te klim, of selfs net aan die voet van die berg te raak (vgl. byvoorbeeld Eks 19:12–14), kon Moses en die verteenwoordigers van die volk na die Here opklim (Eks 24:1, 9). Anders as die ernstige gevolge vir iemand wat nie ’n afstand met God sou handhaaf nie (vgl. Eks 19:12–13, 21–24), word in Eks 24:9–11 aangedui dat Moses en die ander God gesien het en in sy teenwoordigheid geëet en gedrink het. Daar word ook uitdruklik genoem dat God nie teen die groep opgetree het nie (vgl. 24:11). Nicholson (1982:85) sê tereg van Eksodus 24:9–11: ‘There could be no more decisive a portrayal of God’s drawing near to his people than this’.
Omdat die offers versoening tussen God en Israel bewerk het en omdat die verbond met God bekragtig is, was dit moontlik dat Israel as God se eiendom, sy priesterlike koninkryk en sy heilige nasie, in hierdie innige gemeenskap met God mag wees (Robinson 2011:168). Hierdie nabyheid van God antisipeer ook die meer intieme teenwoordigheid van God by sy volk toe God se heerlikheid later die tabernakel gevul het (Eks 40:34–38; Fretheim 1991:260; Robinson 2011:168).
Die lesers se gehoorsaamheid en hulle besprinkeling met Christus se bloed in 1 Petrus 1:2 as vervulling van die historiese gebeure by Sinai
Met die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, as verwysing na Eksodus 24:3–8 laat Petrus blyk dat hy die historiese gebeure by Sinai (Eks 24:3–8), waartydens die verbond tussen God en Israel bekragtig is, as profeties van aard beskou.5 Hy bemerk in hierdie historiese gebeure ’n patroon (tipe) in God se verlossingsplan en aanvaar dat God in die nuwe bedeling wat met Christus se koms aangebreek het, op dieselfde manier handel (anti-tipe).6
Met die frase, εἰς … ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ in 1 Petrus 1:2, bevestig Petrus aan die lesers dat die versoening van Israel en die bekragtiging van die verbond soos dit in Eksodus 24:3–8 beskryf word, uniek en finaal in Jesus vervul is. Die bloed van die offerdiere wat teen die altaar en ook op die volk gesprinkel is, het aan Israel bevestig dat versoening met God bewerk is, en dat die verbond tussen hulle en God bekragtig is. Anders as Israel, is die lesers met Christus se waardevolle bloed (vgl. τιμίῳ αἵματι in 1 Pet 1:19) besprinkel (1 Pet 1:2). Petrus gebruik die besprinkeling met Christus se bloed as ’n metaforiese uitdrukking vir Christus se offerdood (Williams 2011:59–60). Deur sy bloed is versoening bewerk en is die nuwe verbond tussen God en die lesers bekragtig (vgl. Davids 1990:49; Deterding 1981:60).
Met die frase, εἰς ὑπακοὴν in 1 Petrus 1:2, bring Petrus Israel se gelowige reaksie (vgl. Eks 24:3, 7) ten opsigte van wat aan hulle verkondig is, na vore. Die verbond met Israel is bekragtig nadat Israel gelowig gereageer het. Petrus merk daarin ’n voorafskaduwing van die lesers wat gelowig gereageer het op die evangelie wat aan hulle verkondig is (vgl. 1 Pet 1:12). Soos met Israel, neem geloof in die bekragtiging van die nuwe verbond ook ’n beslissende plek in. Die nuwe verbond is bekragtig met hulle, en slegs met hulle wat tot geloof in Jesus Christus gekom het.
Hoewel daar duidelike ooreenkomste is tussen die historiese gebeure by Sinai en dit wat Petrus in 1 Petrus 1:2 uitdruklik vermeld, is daar ook ’n belangrike verskil. Petrus dui ’n eskalering in die vervulling van die gebeure by Sinai aan. Hierdie eskalering het veral betrekking op Jesus. Met die bekragtiging van die nuwe verbond, neem Jesus ’n sentrale plek in God se verlossingsplan in. Dit is immers deur sy bloed wat die versoening bewerk is en dit is deur die besprinkeling met sy bloed wat die verbond bekragtig is. Dit is ook met die mense wat spesifiek tot geloof in Jesus gekom het, met wie die nuwe verbond bekragtig is.
Dit val op dat die volgende drie sake wat deur die verwysing na Eksodus 24:3–8 in 1 Petrus 1:2 na vore gebring word, nie uitdruklik in 1:2 vermeld word nie:
- Israel se status voor God.
- God se nabyheid by sy verbondsvolk.
- Die roeping van Israel om God te aanbid.
Dit moet in ag geneem word dat Petrus, in die aanhef van die brief, verskeie temas noem wat hy later in die brief verder ontwikkel (Achtemeier 1996:80; Breed 2025:2–3). Dit wil voorkom asof Petrus in 2:4–10 verder aandag gee aan die drie temas wat hier bo vermeld word. Hy noem die lesers in 2:9 ’n koninkryk van priesters [βασίλειον ἱεράτευμα] en ’n heilige nasie [ἔθνος ἅγιον] – ’n aanhaling van Eksodus 19:6. Hy verwys na die lesers in 1 Pet 2:5 as ’n geestelike huis [οἶκος πνευματικὸς], Die geestelike huis van 1 Pet 2:5 dui moontlik op die inwoning van die Heilige Gees en bring dus God se teenwoordigheid na vore. Daar is ook ’n sterk aanduiding dat hy in 1 Pet 2:6 en 1 Pet 2:9 die lesers se roeping onderstreep.
Die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, in 1 Petrus 1:2 as ʼn verwysing na Eksodus 24:3–8 binne die argument van gedagte-eenheid 1 Petrus 2:4–10
Om die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, in 1 Petrus 1:2 as ’n verwysing na Eksodus 24:3–8 se plek binne die argument van 1 Petrus 2:4–10 te ondersoek, verdien vyf sake die aandag.
Die beslissende plek van geloof in God se verlossingsplan
In sowel 1 Petrus 1:2 as in 1 Petrus 2:4–10 word, soos reeds genoem, ’n beslissende plek aan die lesers se geloof in Jesus Christus gegee.
Reeds in 1 Petrus 2:4 kom die lesers se geloof deur die gebruik van die woord, προσέρχομαι, ter sprake. Williams en Horrell (2023:603–604) redeneer oortuigend dat die woord, προσέρχομαι, binne die konteks van 1 Petrus 2:4–5 op die gelowige aanvaarding van Jesus Christus as Verlosser dui. Die deelwoord, προσερχόμενοι, moet as ’n indikatief verstaan word (Kelly 1982:89; Michaels 1988:97; Williams & Horrell 2023:603–604) en dit dien as ’n bywoordelike bepaling by die werkwoord, οἰκοδομέω, in 1 Petrus 2:5. Deur die gebruik van die passiewe werkwoord, οἰκοδομεῖσθε, in 1 Petrus 2:5, word God aangedui as die een wat elkeen wat na Jesus kom, opbou (Elliott 2000:413). Petrus benadruk dus in 1 Petrus 2:4–5 dat dit juis hulle is wat tot geloof in Jesus Christus kom, wat deur God tot ’n geestelike huis opgebou word.
Ook uit 1 Petrus 2:6–7 is dit duidelik dat Petrus wil beklemtoon dat die lesers se geloof in Jesus ’n beslissende plek inneem. Dit is hulle wat in Jesus glo (vgl. ὁ πιστεύων ἐπʼ αὐτῷ in 1 Pet 2:6), wat nie beskaamd (καταισχύνω) sal staan nie. In 1 Petrus 2:7 word aangedui dat dit hulle is wat glo [τοῖς πιστεύουσιν], wat eer [ἡ τιμὴ] ontvang. Hierdie eer staan in kontras teenoor dit wat in 1 Petrus 2:6 vermeld is. Wie glo, sal nie beskaamd staan nie, maar sal eer ontvang (Michaels 1988:104; Williams & Horrell 2023:643–644).
Wanneer Petrus van Jesaja 28:16 in 1 Petrus 2:4 en 6 gebruik maak, laat hy die lesers verstaan dat mense wat tot geloof in Jesus kom, erkenning gee aan Hom wat God vir sy verlossingsplan verkies het (vgl. ἐκλεκτός in 1 Pet 2:4 en 1 Pet 2:6; vgl. ook 1 Pet 1:17) en aan Hom wie in hierdie plan vir God kosbaar is (vgl. ἔντιμος) (Vgl. Achtemeier 1996:154).
Uit die voorgaande argumentasie kan afgelei word dat Petrus in 1 Petrus 2:4–10 weer die beslissende plek van geloof binne God se verlossingsplan, wat hy in 1 Petrus 1:2 aangedui het, na vore bring. In 1 Petrus 2:4–10 brei hy uit op hierdie beslissende plek van geloof. In 1 Petrus 2:4–10 argumenteer hy dat dit hulle is wat tot geloof in Jesus kom, wat God tot ’n geestelike huis opbou. Dit is hulle wat nie beskaamd sal staan nie, maar eer sal ontvang. Wie Jesus verwerp, verwerp die een wat God vir sy verlossingsplan verkies het, en die een wat vir God kosbaar is.
Die status van hulle met wie die verbond met God bekragtig is
In hierdie artikel is reeds genoem dat die status van Israel, met wie God sy verbond bekragtig het, deur die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, in 1 Petrus 1:2 na vore gebring word. Die status van die lesers met wie die nuwe verbond, deur die besprinkeling met Christus se bloed, bekragtig is, word nie uitdruklik in 1 Petrus 1:2 vermeld nie. In 1 Petrus 2:4–10 word die lesers se status twee keer beskryf en hierdie beskrywing kom opsigtelik ooreen met Israel se status soos dit in Eksodus 19:5–6 vermeld word.
In 1 Petrus 2:5 waar Petrus sê dat God die lesers as lewende stene tot ’n geestelike huis opbou, gebruik hy die voorsetsel, εἰς, saam met die werkwoord, οἰκοδομέω, om die doel waarmee God die lewende stene tot ’n geestelike huis opbou, aan te dui (Williams & Horrell 2023:619–620). Die doel is dat die geestelike huis ’n heilige priesterdom [ἱεράτευμα ἅγιον] sal wees. Die feit dat Petrus in 1 Petrus 2:9 die frases, βασίλειον ἱεράτευμα en ἔθνος ἅγιον, uit Eksodus 19:6 aanhaal, bied ’n duidelike aanduiding dat hy ook met die frase, ἱεράτευμα ἅγιον in 1 Petrus 2:5, na Eksodus 19:6 verwys (Williams & Horrell 2023:621–622). Petrus voeg die twee woorde, ἱεράτευμα en ἅγιος, uit die frases, βασίλειον ἱεράτευμα en ἔθνος ἅγιον, van Eksodus 19:6 (LXX) saam tot ἱεράτευμα ἅγιον (vgl. Miller & Murawski 2022:118).
Ook in 2:9 is die lesers se status aan die orde. Nadat Petrus in 1 Petrus 2:8 gewys het op die negatiewe gevolge vir iemand wat nie in Jesus Christus glo nie, sê hy dat hulle wat tot geloof in Jesus gekom het, ’n uitverkore geslag [γένος ἐκλεκτόν], ’n koninklike priesterdom [βασίλειον ἱεράτευμα], ’n heilige volk [ἔθνος ἅγιον] is; ’n volk as eiendom verkry (λαὸς εἰς περιποίησιν). Dit is veral die tweede en derde frases wat vir hierdie artikel van belang is. Petrus benadruk in hierdie vers, aanvullend by sy verwysing in 1 Petrus 1:2, na Eksodus 24:3–8, dat die gelowige lesers met wie die nuwe verbond bekragtig is, soos Israel, vir God ’n koninklike priesterdom [βασίλειον ἱεράτευμα] en ’n heilige nasie [ἔθνος ἅγιον] is.
Daar kan uit die voorgaande tot die gevolgtrekking gekom word dat die status van die lesers wat met die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, in 1 Petrus 1:2 aan die orde was, maar nie vermeld was nie, wel in 1 Petrus 2:4–10 vermeld word. Die verbond wat met Israel bekragtig is, waarvolgens hulle vir God ’n koninklike priesterdom en ’n heilige nasie is, is vir Petrus ’n voorafskaduwing (tipe) van die status van Jesus se volgelinge (anti-tipe). In die nuwe verbond is Jesus se volgelinge soos Israel, as ’n heilige priesterdom (1 Pet 2:5) wat toegang tot die heilige God het. Soos Israel, is hulle in hierdie verbond ’n koninklike priesterdom (1 Pet 2:9). Met God as hulle koning, is hulle ’n kollektiewe koninklike groep (koninkryk) wat as priesters tot God mag nader. Soos Israel, is hulle ook ’n nasie wat heilig is en dus tot die heilige God mag kom. Anders as Israel, is Jesus se volgelinge egter vir Petrus ’n groep wat uit Jode én nie-Jode bestaan, maar wat binne die nuwe verbond één nasie vorm (Carson 2007:1030–1031).
God se teenwoordigheid by hulle wat in Jesus glo
Petrus verduidelik in 1 Petrus 2:4–5 dat gelowiges wat deur God as lewende stene opgebou word, nie langer los stene is nie (vgl. Davids 1990:86; Jobes 2022:147). God bou hulle tot ’n huis (vgl. οἶκος in 1 Pet 2:5) op. Feldmeier (2008:135) en Richard (2000:86) argumenteer oortuigend dat die woord οἶκος in 1 Petrus 2:5, na ’n gebou of ’n tempel verwys. Hierdie tempel is geestelik (πνευματικός in 1 Pet 2:5). Met die byvoeglike naamwoord, πνευματικός, dui hy aan dat die gebou deur die Heilige Gees bewoon word (Miller & Murawski 2022:118; Schreiner 2003:105). Petrus het met die frase, οἶκος πνευματικὸς, ‘the restoration of divine presence – God’s glory – among his people’ (Egan 2016:12) in die oog.
Wanneer in ag geneem word dat Petrus in 1 Petrus 1:2 na Eksodus 24:3–8 verwys en dat die gebeure wat daarin beskryf word, uitloop op God se persoonlike teenwoordigheid by sy verbondsvolk (Eks 24:9–11), kan afgelei word dat Petrus in 1 Petrus 2:4–5 verder handel oor die vervulling van die gebeure by Sinai. God is in die nuwe bedeling ook teenwoordig by sy volk. In hierdie bedeling woon Hy deur die Heilige Gees in die huis wat Hy bou met die mense wat in Jesus glo.
Die roeping van hulle wat in Jesus glo
Dit val op dat Petrus elke keer wanneer hy in 1 Petrus 2:4–10 die status van die lesers aandui, direk daarna hulle roeping bespreek. Nadat hy die lesers as ’n heilige priesterdom aangedui het (1 Pet 2:5), wys hy met die infinitief van ἀναφέρω daarop dat hulle verantwoordelik is om heilige offers [ἱεράτευμα ἅγιον] te bring. Hierdie offers moet vir God aanvaarbaar wees (vgl εὐδοκέω in 1 Pet 2:9). Hierdie offers ‘are first of all something offered up to God as worship [ἀνενέγκαι] and, second, a pattern of social conduct’ (Michaels 1988:101).
In 1 Petrus 2:9b word die roeping van die lesers ook aangedui. Hulle is geroep om die deugde (lof) (vgl. ἀρετή) te verkondig (vgl. ἐξαγγέλλω) van Hom wat hulle uit die duisternis na sy wonderlike lig geroep het. Petrus maak in 1 Petrus 2:9b van Jesaja 43:21 (LXX) gebruik, maar vervang die woord, ἐξαγγέλλω in Jesaja, met die woord διηγέομαι. Michaels (1988:110–111) argumenteer tereg dat die woord ἐξαγγέλλω die klem nie soseer op die uitdra van die evangelie laat val nie, maar op die verheerliking van God (vgl. 1 Pet 2:12; 1 Pet 4:11, 16) vir die prysenswaardige dade wat Hy in Jesus verrig het.
Met die beklemtoning in 1 Petrus 2:5, 9 van die lesers se roeping om God te aanbid, gee Petrus verdere inligting aangaande die vervulling van die gebeure by Sinai, wat hy reeds in 1 Petrus 1:2 met die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, aangedui het. Soos Israel geroep was om God te aanbid (vgl. Eks 24:1), is die nuwe verbondsvolk ook geroep om God te aanbid.
Jesus se sentrale plek in God se verlossingsplan
In hierdie artikel is reeds daarop gewys dat die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, in 1 Petrus 1:2 ’n eskalering in die vervulling van die gebeure by Sinai aandui, en dat hierdie eskalering veral op Jesus Christus betrekking het. ’n Bestudering van 2:4–10 toon dat Jesus as die sentrum van God se verlossingsplan in 2:4–10 verder uitgebou word. Petrus gebruik hiervoor veral drie Ou-Testamentiese Skrifgedeeltes. In 2:4 verwys hy na Psalm 118:22 (117:22 LXX) en in 1 Petrus 2:7 haal hy dieselfde vers aan. In 1 Petrus 2:4 verwys hy na Jesaja 28:16 en hy haal Jesaja 28:16 in 1 Petrus 2:6 aan. Jesaja 8:14 word in 1 Petrus 2:8 aangehaal (Phillips 2013:191). Petrus se gebruik van hierdie Skrifgedeeltes word vervolgens ondersoek.
Psalm 118:22 is deel van ’n lied waarin God geloof word vir verlossing (vgl. Ps 118:1–14, 28) wat Hy aan ’n individu onder lewensbedreigende omstandighede gegee het (vgl. Ps 118:10–14) (Goldengay 2008:354; Mays 1994:374). Met verwysing na ’n klip [אֶבֶן] wat verwerp is, maar wat ’n hoeksteen [לְרֹ֣אשׁ פִּנָּֽה] geword het,7 bevestig hy in vers 22 die radikale verandering wat God in sy omstandighede bewerk het. Die individu het nie aan bouers se vereistes voldoen nie en is afgekeur. Hy is egter as die belangrikste klip, die hoeksteen (vgl. Ps. 118:22 לְרֹ֣אשׁ פִּנָּֽה) in die gebou gebruik. Die lied laat sien (veral v. 23) dat dit die Here is wat hom as hoeksteen gekies het (Mays 1994:377).
In 1 Petrus 2:4 en vers 7 word Jesus as die klip geïdentifiseer wat deur die bouers verwerp is en wat ’n hoeksteen [κεφαλὴν γωνίας] (in 1 Pet 2:7) geword het (Jobes 2022:145). In 1 Petrus 2:4 verwys Petrus nie soos in Psalm 117:22 (LXX), na bouers [οἱ οἰκοδομοῦντες] wat die klip verwerp nie, maar na mense [ἄνθρωπος]. Hierdie mense is in 1 Petrus 2:4 hulle wat Jesus as Verlosser verwerp het in die tyd van Petrus se eerste lesers (Michaels 1988:99; Miller & Murawski 2022:117; Williams & Horrell 2023:609). Omdat ’n hoeksteen die strukturele noukeurigheid (integriteit) in die konstruksie van ’n gebou bepaal, gebruik Petrus Psalm 117:22 (LXX) om te bevestig dat God aan Jesus ’n bepalende plek in sy verlossingsplan gegee het (vgl. Miller & Murawski 2022:120).
Ook met Petrus se verwysing na Jesaja 28:16 in 1 Petrus 2:4 en sy aanhaling van hierdie vers in 1 Petrus 2:8, word die sentrale plek van Jesus in God se verlossingsplan op die voorgrond gestel. Jesaja 28:16 is deel van ’n klein gedagte-eenheid in Jesaja 28:14–22 waarin die verwerping van God se hoekklip (vgl. פִּנָּה in Jes 28:16) deur Juda se regeerders beskryf word (Smith 2007:19, 467; vgl. ook Carson 2007:1024). Die regeerders het hulle vertroue in menslike magte (waarskynlik Egipte) gestel om hulle te beskerm teen die dreigende mag van Assirië. Hulle keuse kom neer op ’n verdrag met die dood en die doderyk (Jes 28:15). In Jesaja 28:16 word die regeerders tot besinning opgeroep, want God het reeds in Sion sekuriteit teen die vyand gegee. Jesaja gebruik die analogie van ’n gebou wat opgerig is en wat nie te midde van dreigende gevaar tot ’n val sal kom nie. God het aan hierdie gebou ’n besondere fondamentklip gegee. Daar kan afgelei word dat hierdie fondamentklip in Jesaja 28:16 op God en sy beloftes, as ’n veilige fondament vir Juda teen die dreigende vyand, wys (Smith 2007:487–488).8 Petrus se verwysing na Jesaja 28:16 laat sien dat hy Jesaja 28:16 as profesie beskou wat in Jesus vervul is (Watts 2005:440). Die lesers mag in hulle moeilike omstandighede9 weet dat God Jesus as die ware sekuriteit aan hulle gegee het. ‘Christ himself is the stone rejected by the builders but given a place of foundational importance by God’ (Carson 2007:1026).
Jesaja 8:14 wat Petrus in 1 Petrus 2:8 aanhaal, is deel van ’n gedagte-eenheid (Jes 8:11–15) waarin die keuse tussen vrees vir God, of vrees vir militêre mag, uitgespel word. Daar word in Jesaja 8:11–15 verwys na sameswerings (vgl. Jes 8:12) wat by Juda en Israel vrees gewek het. Jesaja en sy volgelinge word gemaan om nie soos die res van die mense te vrees nie. Hulle word opgewek om God as heilig te erken en eerder vir Hom bang te wees en Hom te vrees. Indien hulle die Here vrees, sal Hy vir hulle ’n heiligdom [מִקְדָּשׁ] wees (Jes 8:14a) (Smith 2007:225–227; vgl. ook Watts 2005:158). Petrus verwys in 2:8 spesifiek na die woorde klip en rots (vgl. λίθος en πέτρα LXX) in Jesaja 8:14. Met die woorde, klip en rots, word God, anders as byvoorbeeld in Psalm 62:7, nie in Jesaja 8:14 aangedui as ’n veilige skuilplek nie. Die boodskap in Jesaja 8 is dat God vir hulle wat Hom nie as heilig erken en Hom vrees nie, ’n teëstander word. Hyself veroorsaak in Jesaja 8:14–15 dat hulle struikel en val (Smith 2007:19, 119, 225–227).
Met sy aanhaling van Jesaja 8:14 beklemtoon Petrus die gevolge vir hulle wat nie in Jesus as God se hoeksteen glo nie. Hy identifiseer Jesus as die klip [λίθος] en die rots [ἀκρογωνιαῖος] van Jesaja 8:14. Die patroon in Jesaja van mense wat God nie as Heerser aanvaar en Hom as heilig erken nie, vind vervulling in die mense wat in die tyd van Petrus se eerste lesers nie in Jesus glo nie. Deur hierdie aanhaling plaas Petrus die belangrike plek van Jesus in God se verlossingsplan op die voorgrond. Jesus is in hierdie plan die een deur wie die hele mensdom in twee groepe verdeel word. ‘… [A]ll either come to him for forgiveness and life or face condemnation and death’ (Carson 2007:1029).
Wanneer Petrus in 1 Petrus 2:4 na Jesus10 as die lewende steen [λίθον ζῶντα] verwys, het hy 1 Petrus 1:3 in gedagte. In 1 Petrus 1:3 sê hy dat God die lesers deur die opstanding van Jesus uit die dood opnuut verwek het [ἀναγεννάω] (Van Rensburg 2009:111–113). Die gevolg van hierdie verwekking is dat die lesers ’n lewende hoop het (vgl. ἐλπίδα ζῶσαν in 1 Pet 1:3; Richard 2000:85; Williams 2011:63). In 2:4–5 is ’n ander gevolg van Jesus se opstanding uit die dood aan die orde (Jobes 2022:147). Hulle wat in geloof aan Hom as die lewende steen [λίθον ζῶντα] verbind is, ontvang van Hom die opstandingslewe en word self lewende stene [λίθοι ζῶντες] (vgl. Elliott 2000:410).
Die voorgaande bespreking dui daarop dat Petrus, in aansluiting by dit wat hy in 1 Petrus 1:2 met die frase, εἰς … ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, oor Jesus Christus se sentrale plek in God se verlossingsplan duidelik gemaak het, in 1 Petrus 2:4–10 in groter besonderhede verduidelik. Jesus, deur wie se bloed die verbond tussen God en die lesers bekragtig is, maak elkeen wat in Hom glo lewend (1 Pet 2:4–5). In sy verlossingsplan het God aan Hom ’n alles bepalende plek gegee. Soos ’n hoeksteen die betroubaarheid van ’n gebou se fondament bevestig, neem Jesus ook ’n bepalende plek in God se verlossingsplan in (1 Pet 2:4, 6–7). In God se verlossingsplan word die hele mensdom in hulle verhouding met Jesus in twee verdeel. Wie in Hom glo, is verlos en wie Hom verwerp, gaan ewig verlore (1 Pet 2:8).
Gevolgtrekking
Die eksegetiese ondersoek het aangetoon dat die frase, εἰς ὑπακοὴν καὶ ῥαντισμὸν αἵματος Ἰησοῦ Χριστοῦ, in 1 Petrus 1:2 ’n doelbewuste verwysing is na die verbondsbekragtiging by Sinai soos beskryf in Eksodus 24:3–8. Deur hierdie verwysing plaas Petrus die identiteit van sy lesers binne die konteks van God se historiese verlossingsplan. Die gebeure by Sinai funksioneer as ’n tipe wat sy vervulling vind in die nuwe verbond wat deur die bloed van Jesus Christus bewerk en bekragtig is (anti-tipe).
Die ondersoek het verder gewys dat die drie voorsetselfrases in 1 Petrus 1:2 die lesers se uitverkiesing nader beskryf. Die verkiesing verloop volgens God die Vader se verlossingsplan, die Heilige Gees realiseer dit deur heiligmaking en die doel daarvan is die gelowige aanvaarding van die evangelie en die besprinkeling met Jesus Christus se bloed. Die verwysing na Eksodus 24:3–8 bring nie alleen die versoenende betekenis van Christus se bloed en die bekragtiging van die nuwe verbond na vore nie, maar ook die noodsaaklikheid van geloof as antwoord op God se genadige handeling.
Teen hierdie agtergrond blyk dit dat die gedagte-eenheid 1 Petrus 2:4–10 die temas wat reeds in 1 Petrus 1:2 geïmpliseer word, verder ontwikkel en eksplisiet uitspel. Die gelowiges wat deur Christus se bloed in die nuwe verbond ingesluit is, ontvang ’n besondere verbondstatus. Soos Israel (vgl. Eks 19:5–6), is die lesers ’n heilige priesterdom, ’n koninklike priesterdom en ’n heilige nasie. Hierdie status berus egter nie op etniese afkoms nie, maar op geloof in Jesus Christus.
Die studie het ook aangetoon dat Petrus in 1 Petrus 2:4–10 die ander implikasies van die Sinai-gebeure uitwerk wat nie eksplisiet in 1 Petrus 1:2 genoem word nie. Soos die verbondsbekragtiging in Eksodus 24 uitgeloop het op God se nabyheid by sy volk, word gelowiges in 1 Petrus 2:5 opgebou tot ’n geestelike huis waarin God deur sy Gees woon. Soos Israel ná die verbondsbekragtiging geroep is om God te aanbid, word die nuwe verbondsvolk geroep om God te aanbid en Hom te verheerlik. Die doel van die nuwe verbond is dus nie slegs verlossing nie, maar ook gemeenskap met God en sy aanbidding.
Laastens het die ondersoek bevestig dat Jesus Christus die middelpunt van die vervulling van die Sinai-patroon is. Waar die bloed van offerdiere die verbond by Sinai bekragtig het, bekragtig Christus se bloed die nuwe verbond finaal en volkome. Waar Israel deur geloof op God se woord moes reageer, word mense nou deur hulle verhouding tot Christus onderskei. Daarom staan Jesus in 1 Petrus 2:4–10 as die uitverkore en kosbare hoeksteen, sentraal in God se verlossingsplan. Vir gelowiges is Hy die fondament van eer, lewe en sekerheid; vir ongelowiges die klip waaroor hulle struikel.
Die slotsom van hierdie studie is dus dat die verwysing na Eksodus 24:3–8 in 1 Petrus 1:2 ’n belangrike hermeneutiese sleutel bied vir die verstaan van 1 Petrus 2:4–10. Petrus gebruik die Sinai-gebeure tipologies om te verduidelik wie Jesus se volgelinge is: die gemeenskap van mense wat deur God uitverkies is, deur die Gees geheilig is, in geloof op die evangelie gereageer het en deur die bloed van Jesus Christus in die nuwe verbond ingesluit is. As die nuwe verbondsvolk, deel hulle in die status wat by Sinai vooruit-geskadu is – God se eiendom, ’n koninklike en heilige priesterdom, die plek van sy teenwoordigheid en ’n volk wat geroep is om Hom te aanbid en Hom vir sy verlossingsdade te verheerlik. Daarmee word 1 Petrus 2:4–10 nie bloot ’n beskrywing van gelowiges se identiteit nie, maar die ontvouing van die verbondsrealiteit wat reeds in die aanhef van die brief aangekondig is.
Erkennings
Tydens die voorbereiding van hierdie werk, het die outeur ChatGPT (OpenAI) gebruik om te help met die redigering en verfyning van die Engelse opsomming sowel as met die gevolgtrekking van die artikel. Die inhoud is deur die outeur nagegaan en geredigeer en die outeur neem volle verantwoordelikheid vir die akkuraatheid daarvan.
Mededingende belange
Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenisse is wat die skryf van hierdie artikel op onvanpaste wyse kon beïvloed nie.
CRediT outeursbydrae
Douw G. Breed: Skryfwerk – oorspronklike konsep. Die skrywer bevestig dat hierdie werk volledig sy eie is, die artikel nagegaan het, die finale weergawe vir indiening en publikasie goedgekeur het, en volle verantwoordelikheid vir die integriteit van die bevindings aanvaar.
Etiese oorwegings
Etiese goedkeuring om hierdie studie te doen is verkry van die Teologie Navorsing Etiekkomitee van die Noord-Wes Universiteit (Nr. NWU-01336-26-A6).
Befondsingsinligting
Hierdie navorsing het geen spesifieke befondsing van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële, of nie-winsgewende sektore ontvang.
Databeskikbaarheidsverklaring
Die outeur verklaar dat alle data wat hierdie navorsingsartikel en bevindinge ondersteun, in hierdie artikel en literatuurverwysings beskikbaar is.
Vrywaring
Die menings en sienings wat in hierdie artikel meegedeel word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde instelling, befondser, agentskap of dié van die uitgewer nie. Die outeur is verantwoordelik vir hierdie artikel se inhoud.
Literatuurverwysings
Achtemeier, P.J., 1996, 1 Peter. A commentary on First Peter, Hermeneia – A Critical and Historical Commentary on the Bible, Augsburg Fortress, Minneapolis, MN.
Beale, G.K., 2012, Handbook on the New Testament use of the Old Testament: Exegesis and interpretation, Baker Academic, Grand Rapids, MI.
Bock, D.L., 1997, Proclamation from prophecy and pattern: Lucan Old Testament Christology, Bloomsbury Publishing, London.
Boyd, S.L., 2021, ‘Applied ritual: The application of blood and oil on bodies in the Pentateuchal sources’, Biblical Interpretation 29(2), 120–147. https://doi.org/10.1163/15685152-00284P06
Breed, D.G., 2025, ‘Die gebruik van Eksodus 19–24 in 1 Petrus 1:2: ’n Eksegetiese ondersoek [The use of Exodus 19–24 in 1 Peter 1:2: An Exegetical investigation]’, In die Skriflig/In Luce Verbi 59(1), 1–23. https://doi.org/10.4102/ids.v59i1.3151
Breed, D.G., 2026, ‘Die funksionering van die frase κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς as verwysing in die argument van 1 Petrus [The function of the prepositional phrase κατὰ πρόγνωσιν θεοῦ πατρὸς as a reference within the argument of 1 Peter]’, In die Skriflig/In Luce Verbi 60(3), 1–10. https://doi.org/10.4102/IDS.v60i3.3221
Breed, D.G., Van Rensburg, F.J. & Jordaan, G.J.C., 2008, Manlik en vroulik in die kerk: Geslagtigheid en die besondere dienste [Male and female in the church: Gender and the ordained ministries], Potchefstroomse Teologiese Publikasies, Potchefstroom.
Carson, D.A., 2007, ‘1 Peter’, in G.K. Beale & D.A. Carson (eds.), Commentary on the New Testament use of the Old Testament, pp. 1015–1046, Baker Academic, Grand Rapids, MI.
Childs, B.S., 2004, The Book of Exodus: A critical, theological commentary, Westminster John Knox Press, Louisville, KY.
Cody, A., 1964, ‘When is the chosen people called a Gôy?’, Vetus Testamentum 14(1), 1–6. https://doi.org/10.1163/156853364X00018
Coetzee, J.C. (red.), 1988, ‘Gedagtestruktuurontleding en die eksegese van die Heilige Skrifte [Analysis of thought structure and the exegesis of the Holy Scriptures]’, in Koninkryk, Gees en Woord [Kingdom, Spirit and Word], pp. 19–37, NG Kerkboekhandel, Pretoria.
Cooper, M., 2021, ‘To quote or not to quote? Categorizing quotations in the Epistle to the Hebrews’, Journal for the Study of the New Testament 44(3), 452–468. https://doi.org/10.1177/0142064X211049336
Cotterell, P. & Turner, M., 1989, Linguistics and biblical interpretation, InterVarsity, Downers Grove, IL.
Davids, P.H., 1990, The First Epistle of Peter, Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Davies, J.A., 2004, A royal priesthood: Literary and intertextual perspectives on an image of Israel in Exodus, Clark International, New York, NY.
Deterding, P.E., 1981, ‘Exodus Motifs in First Peter’, Concordia Journal 7(2), 58–65.
Egan, P.T., 2016, Ecclesiology and the scriptural narrative of 1 Peter, Pickwick Publications, Eugene, OR.
Elliott, J.H., 2000, 1 Peter: A new translation with commentary, The Anchor Bible, Doubleday, New York, NY.
Ellis, E.E., 2002, ‘The New Testament’s use of the Old Testament’, in B. Corley, S.W. Lemke & G.I. Lovejoy (eds.), Biblical hermeneutics: A comprehensive introduction to interpreting Scripture, pp. 57–89, Broadman & Holman, Nashville, TN.
Evans, C.A., 2014, ‘Exodus in die the New Testament’, in T.B. Dozeman, C.A. Evans & J.N. Lohr (eds.), The book of Exodus: Composition, reception, and interpretation, pp. 448–464, Brill, Leiden.
Fee, D.G., 2009, New Testament exegesis: A handbook for students and pastors, Westminster John Knox Press, Louisville, KY.
Feldmeier, R., 2008, The first letter of Peter: A commentary on the Greek Text, Baylor University Press, Waco, TX.
Fretheim, T.E., 1991, Exodus, Interpretation: A Bible Commentary for Teaching and Preaching, John Knox Press, Louisville, KY.
Goldengay, J., 2008, Psalms, Baker Commentary on the Old Testament Wisdom and Psalms, Baker Academic, Grand Rapids, MI.
Green, G.L., 1990, ‘The use of the Old Testament for Christian ethics in 1 Peter’, Tyndale Bulletin 41(2), 276–289. https://doi.org/10.53751/001c.31657
Green, J.B., 2007, 1 Peter, The Two Horizons New Testament Commentary, Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Hamilton, V.P., 2011, Exodus: An exegetical commentary, Baker Academic, Grand Rapids, MI.
Hays, R.B. & Green, J.B., 1995, ‘The use of the Old Testament by New Testament writers’, in J.B. Green (ed.), Hearing the New Testament strategies for interpretation, pp. 222–238, Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Hilber, J.W., 1996, ‘Theology of worship in Exodus 24’, Journal of the Evangelical Theological Society 39(2), 177–189.
Horrell, G.H., 2008, 1 Peter, New Testament Guides, Bloomsbury Publishing, London.
Jobes, K.H., 2022, 1 Peter, Baker Exegetical Commentary on the New Testament, Baker Academic, Grand Rapids, MI.
Jordaan, G.J.C., Van Rensburg, F.J. & Breed, D.G., 2011, ‘Hermeneutiese vertrekpunte vir gereformeerde eksegese [Hermeneutic premises for reformed exegesis]’, In die Skriflig/In Luce Verbi 45(2/3), 225–258. https://doi.org/10.4102/ids.v45i2/3.14
Kelly, J.N.D., 1982, A commentary on the epistles of Peter and Jude, A&C Black, London.
Lemański, J., 2023, ‘Israel as the living temple of God (Exod 19:5–6)’, Verbum Vitae 41(1), 17–31. https://doi.org/10.31743/vv.14692
Mays, J.L., 1994, Psalms, Interpretation. A Bible Commentary for Preaching and Teaching, John Knox Press, Louisville, KY.
Michaels, J.R., 1988, 1 Peter, Word Biblical Commentary, Word Books, Dallas, TX.
Miller, E.B. & Murawski, B., 2022, 1 Peter: A commentary for Biblical preaching and teaching, Kerux Commentaries, Kregel Publications, Grand Rapids, MI.
Moberly, R.W.L., 1983, At the mountain of God: Story and theology in Exodus 32–34, Bloomsbury Publishing, London.
Nicholson, E.W., 1982, ‘The covenant ritual in Exodus xxiv 3–8’, Vetus Testamentum 32(1), 74–86. https://doi.org/10.2307/1518193
Parker, B.E., 2017, ‘The church as the renewed Israel in Christ: A study of 1 Peter 2:4–10’, Southern Baptist Journal of Theology 21(3), 41–52.
Patrick, D., 1985, Old Testament law, John Knox Press, Atlanta, GA.
Phillips, G.Y., 2013, ‘The use of the Psalms in 1 Peter: An exegetical and hermeneutical study’, PhD thesis, Potchefstroom Campus of the North West University.
Richard, E.J., 2000, Reading 1 Peter, Jude, and 2 Peter: A literary and theological commentary, Smyth & Helwys, Macon, GA.
Robinson, P.R., 2011, ‘The theophany and meal of Exodus 24’, Scandinavian Journal of the Old Testament 25(2), 155–173. https://doi.org/10.1080/09018328.2011.608539
Ryken, P.G., 2005, Exodus: Saved for God’s glory, Preaching the Word, Crossway Books, Wheaton, IL.
Schreiner, T.R., 2003, 1, 2 Peter, Jude, The New American Commentary, B&H Publishing Group, Nashville, TN.
Smith, G.V., 2007, Isaiah 1–39, The New American Commentary, Broadman & Holman, Nashville, TN.
Sprinkle, J.M., 2009, ‘The Book of the Covenant’. A literary approach, Supplement Series 174, Bloomsbury Publishing, London.
Tolar, W.B., 2002, ‘The grammatical-historical method’, in B. Corley, S.W. Lemke & G.I. Lovejoy (eds.), Biblical hermeneutics: A comprehensive introduction to interpreting scripture, pp. 21–38, Broadman & Holman, Nashville, TN.
Van Rensburg, F.J., 2009, ‘The referent of Egeusasthe (You Have Tasted) in 1 Peter 2:3’, Acta Theologica 29(2), 103–119. https://doi.org/10.38140/at.v29i2.2255
Watts, J.D.W., 2005, Isaiah 1–33, in B.M. Metzger, J.D.W. Watts, J.W. Watss, R.P. Martin & L.A. Losie (eds.), Word Biblical Commentary, Thomas Nelson, Nashville, TN.
Wenham, G.J., 1979, The Book of Leviticus, Eerdmans, Grand Rapids, MI.
Williams, M., 2011, The doctrine of salvation in the First Letter of Peter, Society for New Testament Studies, Cambridge University Press, New York, NY.
Williams, T.B. & Horrell, D.G., 2023, A critical and exegetical commentary on 1 Peter, T&T Clark, London.
Wright, C.J.H., 2021, Exodus, in T. Longman III & S. McKnight (eds.), The Story of God Bible Commentary, Zondervan Academic, Grand Rapids, MI.
Voetnotas
1. Let wel: tensy anders vermeld, word in die res van die artikel slegs die hoofstuk en vers aangedui wanneer na 1 Petrus verwys word.
2. Hierdie artikel bou voort op twee van die outeur se vorige artikels. Enkele sinne in hierdie artikel sal gevolglik ooreenkom met die vorige twee artikels. Wanneer die vorige twee artikels as bronne gebruik is, word dit wel in die teks as bronne aangedui.
3. In hierdie artikel word aanvaar dat die apostel Petrus die skrywer van 1 Petrus is (vgl. Michaels 1988:lxi–lxvii; Miller & Murawski 2022:29–33; Schreiner 2003:20–37).
4. Vir die onderskeiding wat in hierdie artikel tussen ’n verwysing na en ’n aanhaling van ’n Ou-Testamentiese Skrifgedeelte gemaak word, vergelyk Beale (2012:29–40), Cooper (2021:456–458) en Hays en Green (1995:226–229).
5. Daar word in die Nuwe Testament ook in gedeeltes soos Hebreërs 9 (vgl. Achtemeier 1996:89) en Markus 14:24 (vgl. Childs 2004:509–511; Evans 2014:448–452) na die gebeure wat in Eksodus 19:3–8 beskryf word, verwys.
6. Vir ’n beskrywing van die tipologiese interpretasie van die Ou Testament deur Nuwe-Testamentiese skrywers, vergelyk Beale (2012:13–27 en 96); Ellis (2002:84–87) en Phillips (2013:47–48); vergelyk ook Bock (1997:49–53).
7. Met hierdie verwysing maak die digter waarskynlik van ’n spreekwoordelike gesegde gebruik (vgl. Goldengay 2008:361).
8. Vergelyk Smith (2007:486) vir ander standpunte wat skrywers oor die fondamentklip van Jesaja 28:16 huldig.
9. Vir ’n kort beskrywing van die moeilike omstandighede waarbinne die geadresseerdes as volgelinge van Jesus geleef het, vergelyk Green (1990:276–278).
10. Die persoonlike voornaamwoord, ὅς, verwys na Jesus (vgl. ὁ κύριος) in 2:3 (Achtemeier 1996:153).
|