Article Information

Author:
Rian Venter1

Affiliation:
1Department of Systematic Theology, University of the Free State, South Africa

Correspondence to:
Rian Venter

Postal address:
PO Box 43396, Heuwelsig, Bloemfontein 9332, South Africa

Dates:
Received: 16 Mar. 2011
Accepted: 04 July 2011
Published: 1 Oct. 2012

How to cite this article:
Venter, R., 2012, ‘Triniteit en etiek: Van ’n relasionele God tot ’n etiek van die Ander’, In die Skriflig/In Luce Verbi 46(1), Art. #52, 7 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
ids.v46i1.52

Copyright Notice:
© 2012. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Triniteit en etiek: Van ’n relasionele God tot ’n etiek van die Ander
In This Original Research...
Open Access
Abstrak
Abstract
Inleiding
Die Trinitariese herontdekking en die keer na relasionaliteit
   • John Zizioulas
   • Jürgen Moltmann
Weerstand teen ’n sosiale verstaan van die Triniteit
’n Kort apologie vir ’n sosiale Triniteitsleer
Twee stemme oor Triniteit en etiek
   • Volf – Trinitariese konstruksie van identiteit
   • Cunningham – Trinitariese deugde en praktyke
Gevolgtrekking: Identiteit, Triniteit en Alteriteit
Erkenning
   • Mededingende belange
Litteratuurverwysings
Voetnotas
Abstrak

Die artikel ondersoek die vraag of die nuwe waardering vir die leerstuk van die Triniteit enige beduidende etiese implikasies inhou. Meer spesifiek word gekyk of die identiteit van God in die Christelike geloofstradisie nuwe etiese sensitiwiteite kan open. Die sogenaamde Trinitariese Renaissance word kortliks gekarteer en die denke van die teoloë Zizioulas en Moltmann word beskryf om die keer na relasionaliteit te illustreer. Kritiek teen ’n sosiaal-georiënteerde Triniteitsleer word verreken, maar word nie as finaal en afdoende beskou nie. Twee denkers – Volf en Cunningham – val in die soeklig en hoe hulle teologie spesifiek vanuit die Trinitariese belydenis etiese vrae aanspreek en meer spesifiek die probleem van die Ander. Die artikel se gevolgtrekking is dat die Triniteitsleer vrugbare perspektiewe tot die publieke diskoers oor alteriteit kan open. Die Christelike verstaan van God kan ’n beduidende bydrae tot hierdie aktuele vraagstelling lewer. Die Ander word gesien as konstituerend vir eie identiteit; en terselfdertyd word identiteit juis verwesentlik deur ’n omhelsing en versorging van die Ander.

Abstract

Trinity and ethics: From a relational God to an ethic of the Other. The article addresses the question whether the new appreciation for the doctrine of the Trinity could generate significant ethical implications. More specifically it investigates whether the identity of God in the Christian tradition does open new ethical sensibilities. The so-called Trinitarian Renaissance is briefly mapped, and the views of the theologians Zizioulas and Moltmann are described for an illustration of the turn to relationality. Critical resistance to a socially oriented doctrine of the Trinity is taken into account, but it is not considered as final and persuasive. Two theologians – Volf and Cunningham – are studied and how their theology addresses from a Trinitarian perspective ethical issues and specifically the problem of the Other. The article concludes that the doctrine of the Trinity could make a contribution to the public discourse on alterity. The Christian understanding of God could open avenues for understanding a most urgent contemporary problem. The Other is viewed as constitutive for own identity; and at the same time identity is realised by the embrace and care of the Other.

Inleiding

Dit het ’n gemeenplaas geword om van die herontdekking van die Triniteit in die teologie gewag te maak. Ten spyte van die wye bekendheid en die stroom publikasies neem die belangstelling nie af nie. Dit is asof daar telkens nuwe perspektiewe is om te ontgin. Hierdie artikel sluit juis hierby aan. Die uitnodiging om ’n artikel vir die feesbundel ter ere aan professor Koos Vorster voor te lê, het my laat besef dat daar nog talle invalshoeke is wat nie verken is nie. My eie navorsing oor die publieke betekenis van die Trinitariese belydenis kan in diepte win deur dit eksplisiet met die etiek te verbind. Die probleem wat hierdie refleksie wil aanspreek, is juis die vraag na die eiesoortige etiese implikasies van die Trinitariese Renaissance. Veral twee aannames, wat wyd maar meestal implisiet in talle werk aangetref word, verdien verkenning: Die identiteit van God as Trinitaries is opsigself normatief, en ’n verrekening van God se karakter skep ’n antenna vir nuwe etiese sentimente.

Die agtergrond tot hierdie ondersoek – om die etiek pertinent in die kader van die godsleer te plaas – is nie nuut nie. Tradisionele etiese onderskeidinge, ‘outonoom’, ‘heteronoom’ en ‘teonoom’, is allerweë bekend. ‘Teonoom’ verwys spesifiek na die bron van verwysing van die gesagsproblematiek in die etiek. Konvensionele verstaan hiervan stel die wil van God voorop (kyk bv. Grenz 1997:251ff). ’n Tweede benadering sou wees om die dissiplines van Dogmatiek en Etiek nou te verbind; die imperatief word deur die indikatief begrond.

Die argument in die artikel ontwikkel in vyf kort bewegings. Allereers word aandag gegee aan die nuwe belangstelling in die Triniteit en veral die keer na relasionaliteit. Twee spesifieke teoloë kom aan die bod, naamlik Zizioulas en Moltmann. Tweedens word die kritiek op die sosiale Triniteitsleer verreken. Die artikel bied derdens ’n kort apologie vir die sogenaamde ‘praktiese betekenis’ van die Triniteitsleer. Daar word aandag gegee aan twee teoloë – Volf en Cunningham – wat die Triniteit met vrug gebruik in die etiek. Die artikel sluit af met ’n uiteensetting van die etiese kontoere wat ’n Trinitariese oriëntasie mag oplewer.

Die Trinitariese herontdekking en die keer na relasionaliteit

Die uitspraak van Grenz (2004:6) dat die nuwe klem op Trinitariese denke waarskynlik beskou kan word as die grootste bydrae van teologie in die 20ste eeu, word wyd met instemming aanvaar. ’n Standaard kroniek van die geleidelike verduistering van dié belydenis na die patristieke era en die ‘herontdekking’ daarvan bestaan nie. Die invloed van Barth met sy Trinitariese interpretasie van die Woord van God en die spesifieke plasing van dié leerstuk aan die begin van die kerklike dogmatiek kan kwalik onderskat word. Geleidelik het ’n nuwe belangstelling en waardering ontwikkel. Spesifieke kontoere kan maklik uitgewys word en Marshall (2004:186–190) is van besondere hulp hier; hy wys op ses aksente. Die Triniteit word beskou as die basiese en onderskeidende Christelike leerstuk. Hierdie belydenis is die Christelike wyse om God te identifiseer. Die ekonomiese en immanente Triniteit is wesentlik dieselfde en die persoonsmatigheid van die Vader, Seun en Gees word met alle erns bejeën. Die Drie-eenheid moet die karakter van die hele teologie bepaal. Meer voorkeur word verleen aan die Griekse of Oosterse model van die Triniteit. Kärkkäinen (2009:8), wat hom in verskeie werke intensief met Trinitariese verwikkeling besig hou, maak onlangs van veral drie perspektiewe gewag, naamlik die klem op relasionaliteit; op die praktiese betekenis; en die kontekstuele verstaan van die leer oor die Drie-eenheid.

Een van die mees betekenisvolle en verreikende verwikkelinge in die huidige nuwe belangstelling is die klem op die relasionaliteit van God. Dit open nie net moontlikhede om ingrypend oor die spesifiek unieke aan die Christelike verstaan van God te praat nie, maar dit resoneer ook met eietydse waardering vir sosiale alteriteit en andersheid, asook die verstaan van die intieme verweefdheid van fisiese verskynsels binne ’n kwantum-kosmologie. Dat hier tereg sprake is van ’n ‘turn to relationality’ (Shults 2005:5–9) in kontemporêre denke is onteenseglik waar; niks minder as ’n paradigma-verskuiwing weg van substansie-denke is onderweg nie. In ’n insiggewende bundel wat onlangs verskyn het – The trinity and an entangled world (Polkinghorne 2010) – word relasionaliteit juis getematiseer as dit wat die natuurwetenskappe en die teologie in gemeen het.

John Zizioulas
Vir enige teologiese refleksie oor relasionaliteit, gemeenskap en die Ander is die werk van die Ortodokse teoloog John Zizioulas buitengewoon relevant. Hy het bekendheid verwerf met sy bundel van opstelle getiteld Being as Communion (1997)1. Vir die onderhawige vraagstelling sal veral aan twee aspekte van sy denke aandag gegee word: sy waardering van die Kappadosiese vaders en sy verstaan van andersheid.

’n Spesifieke interpretasie en hoogskatting van die Kappadosiërs staan sentraal by Zizioulas se teologie. Hy reken selfs dat die leerstuk oor God ná hulle geen noemenswaardige ontwikkeling ondergaan het nie (Zizioulas 2008:64). Die kontoere van sy interpretasie van die Kappadosiërs kan kortliks opgesom word. Die ‘wat’ vraag is ontologies net so belangrik as die ‘hoe’ vraag. Hier onderskei die Kappadosiërs hulle van hul Hellenistiese denkwêreld. ‘Hupostasis’ word nie langer aan substansie of essensie gelykgestel nie, maar aan ‘persoon’. So word persoon dus ’n fundamentele ontologiese kategorie. Toegepas op die verstaan van die godsleer beteken dit dat substansie of essensie tegelyk met persoonsmatigheid gedink moet word (ibid. 2008:52ff). Substansie gaan nie persoonsmatigheid vooraf asof daar ’n blote essensie kan bestaan nie. Mens kan nie praat van die wese van God sonder om te verwys na die drie persone wat weergee ‘hoe’ God is nie. Daar bestaan nie eers ’n goddelike substansie, en dan drie persone nie. Zizioulas (2008:52) reken hiermee is ’n filosofiese deurbraak gemaak, met ‘profound significance for humanity’. ’n Nuwe ontologie is dus voorgestel. Daar word voorts geargumenteer dat identiteit slegs verstaan kan word in terme van relasionaliteit; ’n persoon bestaan slegs in verhouding met ander (ibid. 2008:57). Zizioulas (1985:88) maak in hierdie verband die merkwaardige uitspraak: ‘To be and to be in relation becomes identical.’ ‘Vader’, ‘Seun’ en ‘Gees’ dui drie persone aan wat hulle identiteit het omdat hulle in ’n bepaalde verhouding met mekaar staan. Identiteit, en dus partikulariteit, word dus deur gemeenskap geskep.

Relasionaliteit bring onvermydelik die idee van ‘andersheid’ (‘otherness’) binne die fokus. Ook dié spreek Zizioulas konsekwent Trinitaries aan. Andersheid is juis ’n voorwaarde vir eenheid, dis absoluut en dis ontologies (Zizioulas 2006:5). Die Ander is ontologies deel van ’n bepaalde persoon se identiteit. Zizioulas betrek dus ‘persoon’ en andersheid op mekaar. Gesien in die lig van die Triniteit verkry andersheid ’n sekere finaliteit (‘ultimacy’); Zizioulas (2006:33) maak van die ‘ontological ultimacy of otherness’ gewag. Hier skei hy weë met diegene wat substansie, en nie relasies nie, hul ontologiese vertrekpunt maak. Die Kappadosiërs het juis hierin geslaag deur vanuit die goddelike hupostases of persone te dink.

Zizioulas is dus suksesvol, op voetspoor van die Kappadosiërs, om persoon, andersheid, relasionaliteit, gemeenskap en identiteit te betrek en saam te dink. Die Triniteit stel hom in staat om dit te kan doen. Dat daar aan sy projek ’n bepaalde ambisie lê, moet nie misgekyk word nie. Hy stel dit duidelik dat die leerstuk oor God fundamentele betekenis het om te verstaan wie ons as mense is; die Triniteit is hier van sentrale betekenis: ‘The doctrine of the Trinity gives us the truth of our own existence’ (Zizioulas 2008:64).

Dat die mens in ’n gevalle staat verkeer, word ernstig deur Zizioulas bejeën. In die menslike bestaan is ’n patologie ingebou wat in ’n vrees vir die Ander, en in ’n drang tot selfbeskerming van die Ander manifesteer. Veral twee motiewe wat by hom aangetref word, kan die deur vir ’n beweeg van die Triniteit na die etiese, kenosis en ekstasis (bv. Zizioulas 1994:354, 359), open. Die verhouding met die Ander is nie op ’n bepaalde waarde gebaseer nie, maar op die blote feit dat die Ander ontologies ’n persoon se identiteit konstitueer. Die self moet hom of haar altyd op die Ander rig, en die Ander as Ander bevestig. Liefde impliseer hierdie selfontlediging en uitbeweeg ten opsigte van die Ander.

Jürgen Moltmann
’n Tweede teoloog wat in die 20ste eeu baanbrekerswerk gelewer het ten opsigte van ’n meer sosiaal-georiënteerde verstaan van die Triniteit, is Jürgen Moltmann. Slegs enkele punte van sy Trinitariese teologie kan hier uitgelig word.

’n Gebruiklike invalshoek by hom is om te vra na benaderings tot die eenheid van God. Hy is veral afwysend teenoor twee aanvangspunte, naamlik dié wat vertrek van die een goddelike substansie; en dié wat vertrek van die goddelike subjek en wat deur byvoorbeeld Tertullianus en Barth onderskeidelik verteenwoordig word. Moltmann stel teenoor dié metafisika van substansie en subjektiwiteit ’n relasionele een. Sy sosiale verstaan van die Triniteit wil die modalistiese tendense van die Westerse beskouing teenwerk (Moltmann 1981:190). Wanneer hy relasie, persoon en verandering in die verhoudings sáám dink, verloor Triniteit ’n rigiede en statiese kwaliteit (ibid. 1981:174). Die eenheid van die Drie-enige God lê in die unieke gemeenskap van drie Persone (ibid. 1983:49). Hy beskou die begrippe ‘persoon’, ‘relasie’ en ‘perigorese’ as drie fundamentele begrippe in sy sosiale siening. Die Christelike geloof het histories ’n verdieping ten opsigte van die verstaan van ‘persoon’ gebring. Ook by Moltmann kry mens die siening dat persoonsmatigheid gedefinieer word in terme van relasionaliteit; om ’n persoon te wees, beteken om in ’n relasie te staan. Om die unieke relasionaliteit en gemeenskap van die drie goddelike persone aan te dui, maak van die begrip ‘perigorese’ gebruik: ‘It is not a single subject in the Trinity, which constitutes the unity; it is that triadic inter-subjectivity which we call perichoresis’ (ibid. 2000:317).

Omdat Moltmann in sy Triniteitsbeskouing vanuit die drie goddelike persone vertrek, is hy uitdruklik afwysend teenoor ongekwalifiseerde monoteïsme (kyk bv. Moltmann 2010:85–100). Hy stel dit baie sterk: indien die Trinitaries-eskatologiese konsep van God monoteïsties verstaan word, ‘then this word explains nothing, but obscures the best’ (ibid. 2010:95).

Die gemeenskap van die Trinitariese God is ‘open and inviting’ (Moltmann 1981:96, 1983:51). Om dié rede kan daar ’n ‘korrespondensie’ tussen God en die mens wees: ‘True human society will share in the inner life of the Triune God’ (ibid. 1983:51). Menslike gemeenskap behoort die Drie-enige God te mirror. Aangesien die Weste met ’n streng monoteïstiese verstaan van God te werk gegaan het, is personalisme individualisties, in plaas van relasioneel verstaan. Hierdie oopheid van die Triniteit is dus soteriologies van aard, want die skepping kan ook in die eenheid van God deel (ibid. 1981:96).

Van besondere belang by Moltmann (2000:313–320, 2010:164–169) se latere teologie is sy verrekening van ruimte by sy verstaan van God en by perigorese. Hy skep die nuwe term, ‘Trinitariese ruimte’. Elke goddelike Persoon is ’n lewende ruimte vir die ander. Hiermee bring hy besondere reliëf by die verstaan van sosiale gemeenskap. Daar word terselfdertyd ruimte gemaak vir die Ander, maar daar is ook inwoning van die Ander. Moltmann (2000:319) stel dit só: ‘God’s being is personal being-there (Da-sein), social being with (mit-sein) and, perichoretically understood, being-in (in-sein).’

Weerstand teen ’n sosiale verstaan van die Triniteit

Die nuwe sensitiwiteit vir ’n konsekwent Trinitariese benadering van God en die klem op persoonsmatigheid en relasionaliteit word nie allerweë met dieselfde entoesiasme en oortuiging gedeel nie. Dit sou ’n eensydige vertelling van die verwikkelinge van die 20ste eeu wees indien die kritiek op die sogenaamde sosiale Triniteitsleer nie kortliks verreken word nie. Die voordeel van die bespreking is dat aspekte, veral historiese verwikkelinge, van die Triniteitsleer-onderwerp ’n hernude studie geword het.

Een goeie voorbeeld van die kritiek word by die jong Evangeliese teoloog van St. Mary’s College, St. Andrew’s Universiteit, Stephen Holmes (2009) aangetref. Hy kan hier as verteenwoordigend van die weerstand gegee word. Die keer na ’n sosiale opvatting van die Triniteit dui veral drie kenmerke aan: klem op die persoonsmatigheid van die drie goddelike hupostases; ’n bepaalde lees van die geskiedenis met ’n voorkeur vir die Kappadosiërs bo Augustinus; en ’n fokus op die etiese bruikbaarheid van die leerstuk. Holmes bevraagteken die oënskynlike vrugbaarheid van die Triniteitsleer vir praktiese aangeleenthede deur op verskillende gevolgtrekkings by voorstanders te wys. Hy beklemtoon die uiteenlopende ekklesiologiese modelle by teoloë soos Zizioulas en Volf. Hy reken die praktiese implikasies word eenvoudig oordryf. Tweedens verwoord hy ’n beswaar wat wyd aangetref word: Die voorstanders van ’n sosiale analogie lees die patristiese teoloë verkeerd. Hy reken dat die Trinitariese relasies slegs as verhoudinge van oorsprong verstaan is, en nie as verhoudinge van wederkerigheid nie. Derdens reken hy dat die fokus van die Skrif op ’n monoteïstiese klem val en dat dit slegs aangevul word deur ‘a brief coda or appendix suggesting that this One God is in fact Triune’ (ibid. 2009:87); dus kan daar nie ’n aanspraak gemaak word dat ’n sosiale verstaan Skrifgegewens meer verantwoordelik weergee nie.

Immanent krities kan enkele vrae aan die wyse van argumentering by Holmes gestel word. Verskillende gevolgtrekkings ten opsigte van praktiese implikasies kan tog nie die geldigheid van die Triniteitsleer vir etiese vrae net so ontdaan maak nie. Dat Zizioulas die eenheid van God anders as Moltmann of Volf konstrueer, is die rede vir die verskillende ekklesiologieë. Dis ’n tweede stap wat debatteer kan word by ’n relasionele waardering van die Triniteitsleer. Om immanente relasies te reduseer tot verhoudinge van oorsprong is ’n eensydige lees van die geskiedenis van refleksie oor God. Die Nuwe Testament se uitspraak oor God as liefde dui op ’n komplekse verhaal van relasionaliteit. Dieselfde geld vir sy kritiek op die Skrifberoep by die sosiale Triniteitsleer. Die Nuwe Testament se getuienis dui op veel-dimensionele verhoudinge tussen die drie goddelike Persone en is eenvoudig nie net ’n byvoegsel by die Ou Testament se verhaal van monoteïsme nie. Die skeiding van die weë tussen die Joodse godsdiens en die Vroeë Kerk het ten diepste te maak met uiteenlopende beskouings ten opsigte van God.

’n Gebruiklike kritiek teen die sosiale verstaan is dat dit nie ’n bevredigende antwoord kan bied op die vraag na die eenheid van God nie. Gresham (1993) wat ’n breedvoerige opsomming gee van die konvensionele kritiek op die sosiale Triniteitsleer, wys ook hierop. Ten spyte hiervan reken hy tog ‘critics cannot completely dismiss the social model of the Trinity’ (ibid. 1993:343), en dat hier ’n ware bydrae te vind is ten opsigte van ’n Christelike godsleer. Die voorstel van Moltmann bied ’n potensiële oplossing, hoewel dit nie vir almal aanvaarbaar is nie.

’n Verdere belangrike oorweging wat dikwels geopper word, is of die Triniteit se funksie werklik ‘prakties’ is. Vergestalt ’n sosiale Triniteitsleer met haar klem op ‘praktiese bruikbaarheid’ nie ’n vertekening van die leerstuk nie? In ’n onlangse proefskrif wat fel kritiek lewer op ’n Trinitariese teologie van godsdienste, maak die skrywer – Johnson (2007) – ’n handige opsomming van die funksies van die Triniteit wat volgens hom ’n Augustiniaanse posisie verteenwoordig. Hy dui ses ‘purposes’ van die Triniteit aan: teologies, doksologies, hermeneuties, antropologies, soteriologies en kerugmaties (ibid. 2007:346–359). Dit bied met ander woorde primêr ’n verstaan van God self, help met aanbidding en die lees van die Skrif, lei tot selfbegrip, verwoord die heilsboodskap en informeer die geestelike lewe. Hierdie aksente is belangrik en moet by alle besprekings van die Triniteitsleer in gedagte gehou word. Die kritiese vraag is of Johnson en diegene wat soos hy dink, nie die funksie van die godsleer as sodanig hiermee verskralend verstaan nie. Indien die Triniteit ’n antropologiese funksie het (mense wat hulself in goddelike lig ontdek, kyk ibid. 2007:352), waarom kan dit nie ook ander heuristiese perspektiewe ten opsigte van ander dimensies van die werklikheid open nie.

’n Kort apologie vir ’n sosiale Triniteitsleer

Die herontdekking van die Triniteitsleer word klaarblyklik nie met dieselfde entoesiasme en waardering bejeën nie. Mens sou selfs van ‘swak’ en ‘sterk’ Trinitariese denkers kon praat en die verskille sny fundamentele vrae aan. Daar is allereers ’n verskil hoe die geskiedenis, veral die patristiese era, en spesifiek uitstaande denkers soos Augustinus en die Kappadosiërs verstaan moet word en hoe hulle bydrae hermeneuties vandag aangewend kan word. ’n Tweede verskil is gesofistikeerd en sny diep: Met watter metafisika behoort mens uitdrukking te gee aan ’n verstaan van God; behoort substansie- en subjektiwiteitsdenke vervang te word met relasionaliteit? Derdens word daar verskil oor die funksie van die belydenis van die Triniteit: Is dit heuristies afgegrens tot singewing van die Christologie en soteriologie, of kan dit veel breër verstaan word as regulatiewe raamwerk vir die hele teologie en eietydse kwessies?

Daar is wye eenstemmigheid dat ’n Christelike godsleer by die heilsgebeure, soos in die Skrif weergegee is, moet aansluit. Dit open, potensieel, die geldigheid om in navolging van Zizioulas en Moltmann by die drie goddelike Persone met teologiese refleksie te begin. Die vraag na goddelike eenheid word dan die opgaaf en nie die veronderstelling nie. Tweedens bied so ’n vertrekpunt, onvermydelik, ook die voordeel om primêr van God in terme van ‘relasionaliteit’ en nie ‘substansie’ nie, te dink. Om die verhoudinge tussen Vader, Seun en Gees, gebaseer op Skriftuurlike getuienis, as primêre data te gebruik, kan kwalik ontken word. ’n Sosiale benadering besit, minimaal gesproke, ’n aantoonbare geldigheid. Die gevolgtrekking van Plantinga, Thompson en Lundberg (2010) verdien vermelding:

Given the current options in Trinitarian discussion, we think that the social Trinity best accounts for the Trinitarian confession and is the most coherent and consistent model that gathers up the personal, dynamic, and relational gains in the doctrine of God and facilitates their application to other doctrines and issues. (p. 146)

Die wyer aanwending van Trinitariese perspektiewe vra egter om verdere verantwoording. Daar is veral teen hierdie verwikkeling by sekere teoloë fel weerstand. Die wesentlike vraag wat hier aangespreek moet word, en dit is waarskynlik ’n fundamentele vraag, is: Watter funksie speel die belydenis oor die werklikheid van die Lewende God in teologiese konstruksie? Een interpretasie van die verwikkelinge in die laaste drie dekades is dat daar ’n poging is om die teologiese, in mees pregnante sin, te verbreed. Daar is ’n aandrang dat die mees aktuele en wesentlike vrae wat die mens konfronteer vanuit die werklikheid van God aangespreek moet word. Die beswaar teen hierdie generatiewe funksie van die Triniteitsleer is moeilik verstaanbaar. Kritici van die sosiale Triniteitsleer bied gebruiklik baie min aan teologiese konstruksie en sosiale betrokkenheid as alternatief.

Ten minste vier argumente verdien aandag, en behoort – minimalisties gesproke – in die huidige teologiese diskoers gerespekteer te word. Die sentrale rol wat die Bybelse motief van die imago Dei speel by ’n teologiese antropologie, die aanwesigheid van die motief van die imitatio Dei by Bybelse etiek, die rol van die Trinitariese belydenis by Christelike inisiasie, spesifiek die doop, en die impak van Godsbeelde op psigiese ingesteldheid verleen geloofwaardigheid dat die godsleer geen beperkte funksie het nie. Fundamenteel-teologies is die godsleer die breedste horison waarbinne antropologiese selfvorming geskied. Hierdie horison word Trinitaries in die Christelike geloofstradisie ingevul.

Die sogenaamde nuwe waardering van die Triniteit, en die meegaande waardering van persoonsmatigheid en relasionaliteit, verdien ten minste ’n plek aan die teologiese tafel. Daar is die belofte dat produktiewe perspektiewe geopen kan word, wat veral ten opsigte van die etiek vrugbaar kan wees.

Twee stemme oor Triniteit en etiek

Dit sou waarskynlik vir die ontwikkeling van die argument sin maak om die standpunte van enkele teoloë, wat met ’n soortgelyke vraagstelling as dié van die artikel worstel, onder die loep te neem. So word die werk dan ook in ’n kort navorsingskonteks geplaas. Veral by die teoloë Miroslav Volf en David Cunningham word belangrike insigte aangetref.

Volf – Trinitariese konstruksie van identiteit
Volf, die Kroasiese teoloog wat sy doktorale werk onder Moltmann voltooi het en nou by die bekende Yale Divinity School in die VSA doseer, het veral bekendheid verwerf met sy werke Exclusion and Embrace (1996) en After our likeness: The church as the image of the Trinity (1998a).2 Twee van sy perspektiewe verdien aandag: Die gedagte van Trinitariese konstruksie van identiteit en die omhelsing van die Ander.

Deur van die bekende uitspraak van die Russiese teoloog Fedorov gebruik te maak – ‘The dogma of the Trinity is our social program’ – stel Volf (1998b) die kern van die probleem aan die orde. Die vraag is in watter opsig en tot watter mate kan God as model vir menslike handeling dien? Volf is deeglik bewus van spesifiek twee beperkings. Omdat die mens onties anders as God is, en noëties menslike kennis van God altyd gebrekkig is, kan terme soos ‘persoon’, ‘relasie’ en ‘perigorese’ slegs analoog en nie eenduidig gebruik word nie. Verder is die beeldskap van God by die mens radikaal gestempel deur sonde en tydelikheid. Hierdie beperkings ontdaan egter nie die leerstuk van enige sosiale invloed en korrespondensie nie. Volf (1998b:406) stel dit versigtig; die Triniteit bied geen plan of sisteem nie, maar ‘it ought to shape our “social vision”’. Die Triniteit kan ’n bepaalde verstaan van die sosiale self informeer. Ten diepste handel dit vir Volf om die idee van identiteit wat deur die karakter en die verhoudinge van die goddelike persone bekendgemaak word; hy praat van ‘the Trinitarian construction of identity’ (ibid. 1998b:420). Die visie van identiteit wat die Triniteit bied, is kompleks en dinamies. Identiteit kan nie herlei word nie, maar dit is ook nie geslote nie. Daar is dus beide grense aan identiteit, maar ook ruimte vir die Ander. Die spesifieke van Trinitariese identiteit wat dit van vae en abstrakte denke onderskei, is volgens Volf (1998b:412) in selfskenking (‘self-donation’) geleë. In die lewe van die Drie-enige God is daar juis hierdie geskiedenis van gawe van die self. Die kern van Volf se standpunt word in die volgende woorde saamgevat: ‘To propose a social knowledge based on the doctrine of the Trinity is above all to re-narrate the history of the cross’ (ibid. 1998b:415). Die Trinitariese selfskenking kan uiteraard nie net herhaal word nie; ’n moeisame proses van vertaling is nodig om iets van selfontlediging ten opsigte van die Ander te beliggaam.

In Volf se teologie hang selfidentiteit en die Ander ten nouste saam; sy Trinitariese visie informeer sy sosiale etiese oortuiging. Min teoloë het tot dusver met dieselfde nuansering en diepgang as Volf geskryf. Vanweë die toenemende plurale aard van die huidige samelewings, byvoorbeeld in terme van kulture, rasse en godsdienste, en die geweld wat verhoudings dikwels kenmerk, is die vraag na houdings teenoor die Ander uiters aktueel en dringend. Volgens Volf kan mens nie oor die Ander praat sonder om die identiteitsvraag aan te sny nie. Hy kies ’n inklusiewe benadering van identiteit (Volf 2002:13), maar veronderstel die onvermydelikheid van grense. Vir identiteit is grense juis nodig, maar dit moet deurdringbaar wees omdat dit dinamies is. Verhoudinge met ander is altyd potensieel ruimtes vir magskonflik, maar dit kan ook potensieel verrykend wees. Sentraal by hom staan die idee van ‘the will to embrace the Other’ (ibid. 2002:16); juis hierin kom die spesifiek eie aan die Christelike geloof tot uitdrukking. Om die Ander te omhels, is om ruimte vir die Ander in ons eie identiteit te maak (ibid. 2002:21). Volf is afwysend om ‘perigorese’ op intermenslike verhoudings toe te pas; hy verkies om eerder van ‘katolieke persoonsmatigheid’ te praat (ibid. 2005:164ff). By perigorese handel dit om ‘reciprocal interiority’ van die Trinitariese persone; juis dit is nie menslik moontlik nie (ibid. 1998a:208–220). By hom is die korrespondensie tussen sy godsleer en sy sosiale etiek, hoewel deeglik gekwalifiseerd, tog duidelik.3

Cunningham – Trinitariese deugde en praktyke
David Cunningham4 se Trinitariese teologie verdien noukeurige kennisname. Hy het as jong teoloog aandag getrek met ’n werk oor die Retoriek (Faithful Persuasion 1990), en het daarna belangrike en kreatiewe werk oor die Triniteit gelewer (These three are one 1998) en meer onlangs ’n omvattende boek oor die etiek (Christian Ethics 2008). Hy is nie net deeglik vertroud met kontemporêre diskoerse oor die Triniteit nie, maar is spesifiek geïnteresseerd in die implikasies van die Trinitariese belydenis. Hier word kortliks gefokus op sy siening van Trinitariese praktyke en deugde.

Cunningham (2003) plaas die nuwe belangstelling in die Triniteit en postmoderniteit in jukstaposisie. Veral die twee aksente van die postmoderne era – relasionaliteit en verskil (‘difference’) – kan Trinitariese teologie se taak vergemaklik. Teenoor moderniteit se aandrang op verdeling, klassifikasie en universaliteit, bied postmoderniteit ’n sensitiwiteit vir netwerke, verhoudings en ’n belangstelling in spesifieke verhale. Dít sluit juis aan by die diskoerse oor die Triniteit wat goddelike relasionaliteit beklemtoon, asook die spesifieke verhaal van die heilsgeskiedenis. Waarskynlik belangriker, is Cunningham se aandrang dat die Triniteit iets uniek te bied het aan die postmoderne era, en dit is relevant vir die huidige ondersoek. Teenoor postmoderne diskoerse wat grondig gekenmerk word deur geweld, bied die Christelike leerstuk oor God ’n verhaal van ‘peaceful, superabundant donation’ (Cunningham 2003:197). Die Trinitariese God is ewig in ’n proses van skenking. Tweedens beklemtoon Cunningham ook die kritiek wat Trinitariese teologie bied op ’n verstaan van persoonsmatigheid wat individualisties en privatiserend is. Die Christelike verstaan van God informeer ’n verstaan van persoon as relasioneel en interafhanklik.

Uit die voorafgaande blyk Cunningham se belangstelling in die verskil wat Trinitariese teologie maak. Hy wys ook op die fokus van onlangse Trinitariese bespreking op die praktyke wat teologie motiveer. Hy is tewens van oordeel ‘the practices of Christian believers … serve as a test of adequacy for Trinitarian theology’ (Cunningham 2003:200). Hierdie vra om meer bespreking.

Die relevansie van Cunningham word duidelik wanneer hy uitvoerig en sistematies oor etiek handel. Moraliteit veronderstel ’n idee van finale goed. Juis daarom is alle etiek in ’n sin teologiese etiek, omdat ‘ultimate concerns’ onvermydelik ter sprake moet kom; ‘our judgments about God (or our gods) definitely shape our character, our habits, our judgments, and our actions’ (Cunningham 2008:54). Christelike etiek word nie gevorm deur die verrekening van God in die algemeen nie, maar deur die uniekheid van ’n spesifieke Christelike verstaan van God. Hy werk dié dan uit, en werk in besonder met ’n deugde-etiek. Morele norme is ‘objektief’, omdat dit ooreenstem met die ware objek van moraliteit – God. Mense kan deur genade deelneem aan dit wat wesentlik tot God se karakter behoort (ibid. 2008:167). Deugde is gawes aan die mens; dit is God se werk in die mens.

Cunningham (2008:162) identifiseer drie Trinitariese deugde: polifonie, deelname en partikulariteit. In kort5 wil hy hiermee die volgende oordra: Oënskynlik teenstrydige praktyke kan gesamentlik bydra tot ’n vervulde lewe; een persoon kan deel van ’n ander word sonder om identiteit te verloor; in gemeenskap is uniekheid ook belangrik. Veral deelname (participation) speel ’n belangrike rol by Cunningham.6 Hy verstaan dit uitsluitlik Trinitaries, en sien dit as wesentlik tot God en verbind dit ook aan die begrip ‘gemeenskap’. Wat hier ter sake is, is deelname ‘in someone – an other’ en ‘dwelling in, and being indwelt by, one another’ (Cunningham 2008:336). Dit is ’n bereidheid om die sigself deur die ander te laat vorm; daarom is dit juis ’n deug. Dit is duidelik dat Cunningham vanuit die Triniteit reflekteer oor die moontlikheid van menslike deugsame praktyk.

Gevolgtrekking: Identiteit, Triniteit en Alteriteit

Wanneer die verskillende gedagtes saamgevat moet word, staan dit uit dat daar by die huidige Trinitariese diskoers sprake is van identiteit in ’n dubbele sin. ‘Triniteit’ is ’n geloofs- en diskoersmatige poging om die heilsgebeure te verteenwoordig. Dit spreek allereers en primêr oor die Christelike verstaan van God se identiteit. Spreke oor God raak onvermydelik ook spreke oor die mens, en dié se identiteit.

Die teologiese besinning oor God in die laat 20ste eeu, het die begrippe ‘persoon’ en ‘relasie’ vooropgestel. Hier vind niks minder as ’n ingrypende metafisiese verskuiwing plaas nie: Finale werklikheid is nie abstrakte monistiese syn nie, maar dit is persoons- en verhoudingsmatig. God is ’n gebeure van dinamiese relasies tussen drie Persone. Twee aksente word gelyktydig geplaas: ‘andersheid’ (Zizioulas), ‘partikulariteit’ (Cunningham), ‘grense’ (Volf) of ‘ruimte’ (Moltmann) is nodig vir gemeenskap; maar gemeenskap impliseer ‘deelname’ (Cunningham), ‘omhelsing’ (Volf) en ‘perigorese’ (Moltmann). Elke persoon het ’n onherleibare eiesoortigheid, maar kan nooit sonder die Ander gedink word nie. Identiteit beteken uniekheid, maar ook innige betrokkenheid by die Ander en wedersydse bepaling. Meer nog: identiteit in terme van die Ander impliseer kenosis en ekstase (Zizioulas). Identiteit word ’n werklikheid waar persoon en gemeenskap saam gedink word.

Wat hier plaasvind, is ’n ingrypende kreatiewe uitwerking waarna God in ’n streng Christelike sin verwys. Anders gestel: Wat hier gebeur is ’n interpretasie van die uitspraak dat God liefde is. In die verlengde hiervan lê dan ook die visie dat die Christelike God skenkend is, gasvry, uitreikend. Dit is die implikasie van ’n dinamiese relasionele verstaan van God. Die Triniteit open ’n eie metaforiese wêreld wat vir die Christelike geloof ’n verrassende blik gee op waarna God verwys. ’n Ongedefinieerde monoteïsme kan nie taal besig wat relasionele kwaliteite besit nie; dit spreek van mag en beheersing. Juis hier lê die Triniteit se potensiaal om ’n bydrae tot die etiek te lewer.

Antropologiese selfvorming in die horison van hierdie sosiale verstaan van God is voor-die-hand-liggend. Indien die self relasioneel beskou word, tree die etiese onvermydelik aan die lig. Identiteit word ’n werklikheid, voltrek, en gemanifesteer in relasies, en juis dit betrek onvermydelik die etiese. Die publieke relevansie van die Trinitariese belydenis kan beswaarlik oorwaardeer word. ’n Relasionele verstaan van God, van finale werklikheid plaas self en Ander in die fokus. Die publieke keersy van die Triniteitsleer is die vraag na Alteriteit; ’n vraag wat waarskynlik in die woorde van die befaamde joernalis Kapuściński (2008:90) ‘the real challenge of our time’ is en waarmee van die mees invloedryke denkers van die 20ste eeu soos Derrida, Levinas en Ricoeur geworstel het. Die bydrae van Trinitariese teologie is dat die konvensionele patologieë – soos diskriminasie en totalisering – vermy word; meer nog, dit informeer etiese praktyk en bring ’n besondere bydrae tot die openbare diskoers.

Die besware wat dikwels teen ’n relasionele verstaan van God geopper word, kom tog vreemd voor. Die belydenis oor die Triniteit open perspektiewe dat die Christelike geloof konstruktief ’n bydrae kan lewer tot die publieke gesprek oor die aard van die samelewing. Dit geld as korreksie op allerlei vertekeninge wat telkens voorkom.

Trinitariese teologie bied ’n optiek, ’n grammatika om na die Ander te kyk en oor die Ander te dink. Die Ander se andersheid is ’n imperatief vir eie identiteit. Die Ander moet aanvaar, en versorg word; juis hierdie gawe aan die Ander is nodig vir die self. Hiermee help die belydenis van die Triniteit.

Erkenning

Mededingende belange
Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Litteratuurverwysings

Cunningham, D.S., 1990, Faithful Persuasion: In Aid of a Rhetoric of Christian Theology, University of Notre Dame Press, London.

Cunningham, D.S., 1998, These three are one: The practice of Trinitarian theology, Blackwells,Oxford.

Cunningham, D.S., 2003, ‘The Trinity, in Vanhoozer’, in K.J. Vanhoozer (ed.), The Cambridge companion to postmodern theology, pp. 186–202, Cambridge University Press, Cambridge.

Cunningham, D.S., 2008, Christian Ethics: The end of the law, Routledge, London.

Fiddes, P.S., 2000, Participating in God: A pastoral doctrine of the Trinity, John Knox, Louisville.

Grenz, S.J., 1997, The moral quest: Foundations of Christian Ethics, InterVarsity, Downers Grove.

Grenz, S.J., 2004, Rediscovering the triune God: The trinity in contemporary theology, Fortress, Minneapolis.

Gresham, J.L., 1993, ‘The social model of the trinity and its critics’ [Die sosiale model van die Triniteit en die kritici daarvan], Scottish Journal of Theology 46, 325–343. http://dx.doi.org/10.1017/S0036930600044859

Holmes, S.R., 2009, ‘Three versus one? Some problems of social trinitarianism’ [Drie teenoor een? Probleme van die sosiale triniteitsleer], Journal of Reformed Theology 3, 77–89. http://dx.doi.org/10.1163/156973109X403732

Johnson, K.E., 2007, ‘A ”trinitarian” theology of religions? An Augustinian assessment of several recent proposals, unpublished Ph.D. thesis, Department of Religion, Duke University.

Kärkkäinen, V-M., 2009, ‘The trajectories of the contemporary “Trinitarian Renaissance” in different contexts’ [Trajekte van die kontemporêre “Trinitariese Renaissance” in verskillende kontekste], Journal of Reformed Theology 3, 7–21. http://dx.doi.org/10.1163/156973109X403697

Kapuściński, R., 2008, The other, Verso, London.

Marshall, B.D., 2004, ‘Trinity’, in G. Jones (ed.), The Blackwell companion to modern theology, pp. 183–203, Blackwell, Oxford.

Moltmann, J., 1981, The Trinity and the kingdom of God, SCM, London.

Moltmann, J., 1983, ‘The reconciling power of the Trinity in the life of the church and the world’, in The Reconciling Power of the Trinity, Occasional papers no 15, pp. 47–60, Conference of European Churches, Geneva.

Moltmann, J., 2000, Experiences in theology, Fortress, Minneapolis.

Moltmann, J., 2010, Sun of righteousness, arise!, Fortress, Minneapolis.

Plantinga, R.J., Thompson, T.R. & Lundberg, M.D. (eds.), 2010, An introduction to christian theology, Cambridge University Press, Cambridge.

Polkinghorne, J. (ed)., 2010, The trinity and an entangled world: Relationality in physical science and theology, Eerdmans, Grand Rapids.

Shults, F.R., 2005, Reforming the doctrine of God, Eerdmans, Grand Rapids.

Smit, D., 2009, ‘The Trinity in the Reformed tradition’ [Die Drie-eenheid in die Gereformeerde tradisie], Journal of Reformed Theology 3, 57-76. http://dx.doi.org/10.1163/156973109X403723

Volf, M., 1996, Exclusion and Embrace: A Theological Exploration of Identity, Otherness, and Reconciliation, Abingdon Press, Nashville.

Volf, M., 1998a, After our likeness: The church as the image of the trinity, Eerdmans, Grand Rapids.

Volf, M., 1998b, ‘The Trinity is our social program: The doctrine of the trinity and the shape of social engagement’ [Die Triniteit is ons sosiale program: Die leerstuk van die Triniteit en die vorm van sosiale betrokkenheid], Modern Theology 14,403–423. http://dx.doi.org/10.1111/1468-0025.00072

Volf, M., 2002, ‘Living with the “Other”’[Lewe met die ‘Ander’], Journal of Ecumenical Studies 39, 8–25.

Volf, M., 2005, ‘The Trinity and the Church’, in P.L. Metzger (ed.), Trinitarian soundings, pp. 153–174, T & T Clark, London.

Volf, M., 2006, The End of Memory, Eerdmans, Grand Rapids.

Volf, M., 2011, Allah: A Christian Response, HarperOne, San Francisco.

Vosloo, R., 2002, ‘The gift of participation: On the triune God and the Christian moral life’, Scriptura 79,93–103.

Vosloo, R., 2004, ‘Identity, otherness and the triune God: Theological groundwork for a Christian ethic of hospitality’ [Identiteit, alteriteit en die Drie-enige God: Teologiese grondslag vir ‘n Christelike etiek van gasvryheid], Journal of Theology for Southern Africa 119,69–89.

Zizioulas, J., 1985, Being as communion, St Vladimir’s Seminary Press, Crestwood, NY.

Zizioulas, J., 1994, ‘Communion and Otherness’ [Nagmaal en die Alteriteit], St. Vladimir’s Theological Quarterly 38,347–361.

Zizioulas, J., 2006, Communion and Otherness, Further studies in personhood and the church, T&T Clark, London.

Zizioulas, J., 2008, Lectures in Christian Dogmatics, T&T Clark, London.

Voetnotas

1.John Zizioulas is ’n metropolitaan van Oosters-Ortodokse Kerk in Pergamon. Veral sy verbintenis as besoekende professor aan die Research Institute in Systematic Theology by King’s College, Londen het die aandag op sy werk in die 1980s gevestig. Buiten sy Being as Communion, het daar ook Communion and Otherness (2006) en Lectures in Christian Dogmatics (2009) in Engels van hom verskyn.

2. Volf, as Direkteur van die Yale Centre for Faith and Culture, spits hom veral op konflikresolusie toe. Sy meer onlangse werke sluit The End of Memory (2006) en Allah: A Christian Response (2011) in.

3. Die rykheid van Volf se sosiaal-etiese visie kan nie in hierdie beperkte opgaaf na behore weergegee word nie. Hy werk belangrike perspektiewe uit oor byvoorbeeld vergifnis, versoening en geregtigheid wat verdere kontoere verleen aan sy sentrale idee van die ‘Embrace of the Other’. Deurgaans kry mens egter die argumentatiewe fokus dat etiese posisies transendentaal begrond word.

4. David Cunningham is huidiglik aan Hope College, Michigan (VSA) verbonde, waar hy ook die direkteur is van die CrossRoads Project wat op geloof, roeping en loopbaan fokus.

5. Die volledige bespreking kan in sy 1998 werk gevind word. Byvoorbeeld die Trinitariese deugde vind neerslag in konkrete praktyke soos ‘peacemaking’ and ‘pluralizing’.

6. Die belangrike werk van Paul Fiddes, Participating in God (2000) moet hier genoem word. Hy stel voor dat imitatio, die navolging van God, gekomplimenteer moet word met die idee van deelname (‘participation’) (kyk Cunningham 2000:29). Dit was veral Thomas Aquinas se bydrae dat Trinitariese persone ‘subsistent relations’ is; God is dus ‘an event of relationships’ (ibid. 2000:36). Die analogie tussen mense en God lê dus nie op die vlak van persoonsmatigheid nie, maar veeleerder op die vlak van verhoudinge. Só kan daar ’n deelname in die relasies plaasvind. Konkreet beklemtoon hy ook dat die integriteit van die self gebalanseer moet word met ’n oopheid vir die Ander, (lees ‘deelname aan die Ander’) (ibid. 2000:22). Die Suid-Afrikaanse teoloog Robert Vosloo, sluit hierby aan. In twee belangrike artikels pleit hy ook vir ‘participation’ as alternatief tot imitatio. Deelname aan God is egter nie esoteries nie, maar word Christologies en pneumatologies gestempel, wat neerkom op ’n deelname aan die lewe (kyk sy artikel 2002). Hy verbind die betekenis van die Triniteit in ’n latere artikel spesifiek in terme van die ‘Ander’ en gasvryheid (kyk 2004). Vosloo is besonder sensitief hoe die Triniteit aan die morele lewe verbind word, en waarsku teen ’n onkritiese kontinuïteit tussen mens en God (2004:82ff). Hierdie blyk veral ’n besondere versigtigheid by Gereformeerde teoloë te wees; sien ook Smit (2009:75) in dié verband.


 

Crossref Citations

1. Resilience of Christian marriages in contemporary society as viewed through the lens of spirituality
Chantal Ferreira, Hannelie Yates, Alfred R. Brunsdon
In die Skriflig/In Luce Verbi  vol: 56  issue: 1  year: 2022  
doi: 10.4102/ids.v56i1.2820