Pastorale begeleiding vir mense in krisistye

Book Title: U is ’n God wat my sien
Author: F.P. Viljoen
ISBN: 978-0-86955-200-1
Publisher: Potchefstroom Theological Publications, 2012, R90.00
*Book price at time of review

Reviewer: Friedrich W. de Wet1
Affiliation: 1Practical Theology, North-West University, South Africa
Postal address: PO Box 19120, Noordbrug 2522, South Africa
How to cite this book review: De Wet, F.W., 2013, ‘Pastorale begeleiding vir mense in krisistye’, In die Skriflig/In Luce Verbi 47(1), Art. #708, 1 page. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v47i1.708
Copyright Notice: © 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Focus Review
Open Access

Die goed versorgde teks van U is ’n God wat my sien is een van die eerste voorbeelde van die nuwe reeks stigtelike boeke wat deur Potchefstroomse Teologiese Publikasies (PTP) uitgegee word. Hierdie uitgewer het onlangs besluit om voortaan manuskripte wat vir publikasie oorweeg word in drie kategorieë te onderskei, naamlik vakkundige boeke, populêr-wetenskaplike literatuur en stigtelike boeke. Waar PTP voorheen veral op die uitgee van vakwetenskaplike boeke gekonsentreer het, is dit goeie nuus dat daar nou ruimte geskep word vir die uitgee van meer populêre literatuur. In ons samelewing en kerklike lewe is ’n duidelike behoefte aan materiaal wat vanuit ’n weldeurdagte, gereformeerde vertrekpunt bydraes lewer ter toerusting van Christene vir hulle dienswerk in hierdie wêreld. Eweneens is die behoefte ook daar ten opsigte van leesstof wat troosryke ankers bied vir mense wat met ingrypende krisisse in hulle daaglikse lewens te doen kry.

U is ’n God wat my sien kom uit die pen van ’n skrywer wat duidelik kundig is ten opsigte van die pastorale begeleiding van mense wat met geloofsworsteling in krisistye te doen het. Die manuskrip is in die vorm van kort oordenkings geskryf. Dit dek sleuteltekste uit die Ou en Nuwe Testament wat met bewoënheid op krisissituasies gerig word. Dit het te doen met dié soort krisissituasies waarin gelowiges geneig is om met vrae te begin worstel rondom die teenwoordigheid en doel van God in ons lewens. Die skrywer het die vermoë om telkens ’n sentrale beeldryke gedagte te ontplooi op ’n wyse wat vir mense in nood ’n helder waarheid voor oë kan stel; ’n helder, ongekompliseerde waarheid waaraan hulle kinderlik kan vashou. Die oordenkings word deurgaans volgens ’n trinitariese patroon ontplooi. Volgens hierdie patroon word die soekende, worstelende gelowiges se begin, voortgang en voleinding voortdurend in die drie-enige God se getroue handelings geanker.

Die publikasie sal van waarde wees vir predikante, ouderlinge, diakens en pastorale beraders wat in die krisisfase van ’n geloofsbeproewing troosryke en Skrifgetroue grepe aan mense in nood wil bedien. Dit sou ook as ’n oordenkingboek geskenk kon word aan mense wat deur ’n beproewingstyd gaan en ongekompliseerde ankerpunte vir hulle ontstelde gees nodig het. Die skrywer het ’n gebruikersvriendelike gids aan die einde van die boek ingesluit waarin elke oordenking gerangskik word volgens die bepaalde noodsituasie waarop dit veral betrekking het. Hierdie situasies sluit onder andere die volgende in: As mense jou teleurstel; As jy weerstand ervaar en jou geloof beproef word; As jy God se bestiering nie verstaan nie; As jy ’n onseker toekoms moet ingaan en groot verantwoordelikhede moet dra; As iemand verswak of sterf; As jy geestelik uitgeput is.

Hierdie publikasie word van harte aanbeveel en sal beslis tot geloofsversterking kan dien vir mense wat deur diep waters gaan.



Crossref Citations

No related citations found.