<?xml version="1.0" encoding="UTF-8" standalone="yes"?>
<article IDS_85=""><bibl><publisher><pub_name>AOSIS OpenJournals</pub_name><pub_mail>info@openjournals.net</pub_mail><pub_url>www.openjournals.net</pub_url><journal_website>http://www.indieskriflig.org.za</journal_website></publisher><issn><issn_print>1018-6441</issn_print><issn_web>2305-0853</issn_web></issn><title><article_title>Sagaria 2:8(12): ’n Moontlike Afrikaanse vertaling van  ’n moeilike teks </article_title></title><opsomming><opsomming>Geleerdes is dit eens dat Sagaria 2:8(12) een van die moeilikste teksgedeeltes in die boek Sagaria is. Smith (1984:196) skryf die volgende: ‘The expression  ינחלשׁ דובכ רחא [after glory he sent me] is the most puzzling clause in the book.’ Tiemeyer (2004:352) sluit hierby aan: ‘The Hebrew text of Zechariah 2:12 is extremely difficult. The syntactical structure of the verse is unclear and our understanding of its vocabulary is insufficient.’ Vanweë talle onsekerhede en probleme word uiteenlopende vertalings aangebied.  </opsomming><abstract><abstract>Zechariah 2:8(12): A possible Afrikaans translation of a difficult text. Scholars agree that the Hebrew text of Zechariah 2:8 (v. 12 in Hebrew) is extremely difficult to translate. The questions posed by this article is: Does the Masoretic text make sense? Do we need to change the Masoretic text? The article discuses the translation of the following difficult words or phrases: (1); (2) ; 3) the particle ; (4) ; (5) and . The author argues that we do not need to change the Masoretic text and the following possible translation is presented: ‘For thus says the Lord of all powers: After the glory (i.e. the vision) He sent me to the nations who plundered you; truly, the one who touches you touches the apple of his eye.’ </abstract></abstract></opsomming><aug><au><author_name>Daniël F. O’Kennedy1 </author_name><author_affiliation>1Department of Old and New Testament, Stellenbosch University, Stellenbosch, South Africa </author_affiliation></au></aug><correspondence><author_name>Daniël O’Kennedy </author_name><corresponding_email>danieok@nghelder.co.za </corresponding_email><corresponding_postal_address>PO Box 337, Somerset West 7129, South Africa </corresponding_postal_address></correspondence></bibl><xref><article_id>85</article_id><volume>47</volume><issue>1</issue><doi>10.4102/ids.v47i1.85 </doi></xref><history><dates><recieved_date>19 Sept. 2011</recieved_date><accepted_date>11 Jan. 2012</accepted_date><published_date>14 Mar. 2013</published_date></dates><citation><text>O’Kennedy, D., 2013, ‘Sagaria 2:8(12): ’n Moontlike Afrikaanse vertaling van ’n moeilike teks’, In die Skriflig/In Luce Verbi 47(1), Art #85, 6 pages. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v47i1.85 </text></citation></history><copyright><year>© 2013.</year><statement>The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This work is licensed under the Creative Commons Attribution License.</statement></copyright><body><sec_heading>Inleiding	 <paragraph>Geleerdes is dit eens dat Sagaria 2:8(12)1 een van die moeilikste teksgedeeltes in die boek Sagaria is. Smith (1984:196) skryf die volgende: ‘The expression   [after glory he sent me] is the most puzzling clause in the book.’ Tiemeyer (2004:352) sluit hierby aan: ‘The Hebrew text of Zechariah 2:12 is extremely difficult. The syntactical structure of the verse is unclear and our understanding of its vocabulary is insufficient.’ Vanweë talle onsekerhede en probleme word uiteenlopende vertalings aangebied. </paragraph><paragraph>Hierdie artikel poog om die volgende twee vrae aan te spreek: Hoe kan die moeilike teks van Sagaria 2:8(12) in Afrikaans vertaal word?; en Moet die Masoretiese teks net so behou word of moet dit gewysig word? Daar sal kortliks aan die breë literêre konteks aandag gegee word. Die grootste gedeelte van die artikel fokus egter op die vertaling van vers 8(12).2,3 </paragraph></sec_heading><sec_heading>Litêrere konteks van Sagaria 2  <list>Die meeste navorsers aanvaar dat Sagaria 1-8 in drie groot literêre eenhede verdeel kan word: <list_item>1:1–6: Inleiding: Oproep tot bekering </list_item><list_item>1:7–6:15: Visioene en orakels </list_item><list_item>7:1–8:23: Oproep tot bekering: van vas tot fees  </list_item></list><paragraph>Hierdie breë verdeling word gemaak op grond van die drie hoofopskrifte wat elk ’n datum en die inleidingsformule ‘het die woord van die Here tot Sagaria gekom’ bevat (Sag 1:1; 1:7; 7:1). Alhoewel die drie dele in omvang en literêre aard verskil, is daar ‘n herhaling van belangrike woorde en motiewe. Met betrekking tot genre en retoriek is daar ‘n duidelike verskil tussen Sagaria 1:1–6 en 7:1–8:23 aan die een kant en Sagaria 1:7–6:15 aan die ander kant. Sagaria 1:1–6 sowel as 7:1–8:23 bevat mondelinge materiaal wat in ‘n prosastyl geskryf is. Hierdie twee gedeeltes het dieselfde taalgebruik en het waarskynlik in dieselfde tradisie ontstaan. In teenstelling hiermee bestaan Sagaria 1:7–6:15 uit ‘n reeks visioene wat deurspek is met orakels en simbolese dade (Fourie 1991:276–277; Boda 2004:38).  </paragraph><paragraph>Die verhouding tussen die visioene en orakels in Sagaria 1:7–6:15 word deur geleerdes verskillend geïnterpreteer. Sommige geleerdes reken dat die orakels latere byvoegings is en selfs die boodskap van die visioene uitdaag. Ander geleerdes glo weer dat die orakels ‘n integrale deel van die visioene vorm. Ons sluit by laasgenoemde standpunt aan en reken dat die orakels oorspronklik deel van die visioene was (vgl. Redditt 1995:42; Petersen 2002:208). Daar is nie genoegsame gronde om die orakelmateriaal van die visioene te skei nie. Die visioen-genre in die profetiese literatuur bevat gewoonlik verduidelikings en hierdie verduidelikings neem telkens die vorm van ‘n orakel aan (vgl. Am 8:1–3;  9:1–4; Jer 1:11–16; 24:1–10; Eseg  37:1–14 ens.).  </paragraph><list>Sagaria 2:6–13 (10–17) vorm deel van die tweede literêre eenheid. Dit is ‘n orakel wat aan die begin aan die ballinge gerig word en met ’n oproep aan alle mense afsluit  (v. 13[17]). Hierdie orakel kom voor tussen die beskrywing van die derde visioen (die man met die maatlyn) en die vierde visioen (die hoëpriester Josua). Sagaria 2:6–13 (10–17) kan moontlik soos volg gestruktureer word (Floyd 2000:366–367): <list_item>(1) Oproep gerig aan die ballinge: vers 6–12 (10–17)   Oproep om Babel te verlaat: vers 6–9 (10–13) Dubbele oproep om uit Babel te vlug: vers 6-8 (10–12) Motivering vir die oproep om Babel te verlaat: vers 9 (13)   Oproep om Jerusalem se herstel te vier: vers 10–12 (14–16) Dubbele oproep om bly te wees: vers 10a (14a) Motivering vir die oproep: vers 10b–12 (15b-16) (2) Oproep gerig aan alle mense: vers 13 (17) </list_item></list><paragraph>Sagaria 2:8(12) vorm dus deel van die dubbele oproep om uit Babel te vlug (v. 6-8 [10-12]). Elkeen van die oproepe word met die Hebreeuse partikel ויה  [wee] ingelei, waarna ’n verduideliking gegee word. By die eerste oproep word die Godsnaam הוהי gebruik en by die tweede oproep תואבצ הוהי. In die volgende afdeling sal daar bloot op vers 8(12) gefokus word.  </paragraph></sec_heading><sec_heading>Moeilike vertalingskwessies in Sagaria 2:8(12) <paragraph>Daar is ten minste vyf woorde of sinsnedes binne die een vers waaroor daar gedebatteer word of waaroor groot onsekerheid bestaan.  </paragraph><sec_heading>תואבצ הוהי <paragraph>Die Goddelike naam תואבצ הוהי skep ’n vertalingsprobleem. Gevolglik word dit uiteenlopend in moderne tale vertaal. Afrikaans is geen uitsondering nie. Die 1933/1953 Afrikaanse vertaling (1933/1953-AV) vertaal תואבצ הוהי met ‘Here van die leërskare’, terwyl die 1983 Afrikaanse vertaling (1983-AV) asook die Nuwe Lewende Vertaling 2006 (NLV) dit met ‘Here die Almagtige’ vertaal. Die Bybel vir almal/Bybel vir Dowes 2008 (BD) vertaal dit bloot met ‘Here’.  </paragraph><paragraph>Daar is talle vrae by geleerdes oor die oorsprong en presiese betekenis van die woord תואבצ, asook die grammatikale verhouding tussen die twee woorde. Ten minste twee vertalings, naamlik Yahweh Sabaoth (Jerusalem Bible 1966 [JB]) en Herr Zebaoth (Die Bibel) volg bloot die maklikste uitweg en bied ’n transliterasie aan Dit is belangrik dat die ontwikkeling van die Hebreeuse term in aanmerking geneem word. Die meeste geleerdes aanvaar dat die Hebreeuse wortelvorm (אבצ) iets van ‘n aardse militêre konteks weerspieël. Uit hierdie aardse konteks het die woord verder ontwikkel om ook hemelse leërskares of magte in te sluit. Talle geleerdes het voorgestel dat תואבצ הוהי na meer as nét aardse leërmagte of nét hemelse leërmagte verwys (vgl. Schmitt 1972:151). Dit verwys na alles in die skepping, in die hemel en op aarde, naamlik aardse en hemelse leërmagte, bose of demoniese magte en natuurmagte.  </paragraph><list>Daar word voorgestel dat תואבצ הוהי met ‘Here van alle magte’ vertaal word weens die volgende redes:  <list_item>Die woord הוהי moet as ‘n eienaam beskou word en nie as ‘n werkwoord nie. In die meeste vertalings word הוהי met ‘Here’ vertaal.  </list_item><list_item>Die alomvattende betekenis van die woord תואבצ moet in ‘n vertaling weerspieël word. Die woorde alle magte fokus nie net op een betekenis aspek nie. </list_item><list_item>Die grammatikale verhouding tussen הוהי en תואבצ lewer talle vrae op. ‘n Constructus verhouding, soos dit in die vroegste vertalings verstaan is, is die aanvaarbare keuse. Dit is ‘n unieke gebruik in Hebreeus, maar word wel deur buite-bybelse inskripsies ondersteun. Mettinger (1999:920), wat tot op datum die meeste navorsing oor תואבצ הוהי gedoen het, sluit hierby aan as hy skryf: ‘The traditional understanding, viz. as a construct relation, “Yahweh of seba’ôt” seems the most probable solution …’.  </list_item></list></sec_heading><sec_heading>ינחלשׁ דובכ רחא  <paragraph>Die Hebreeuse woorde ינחלשׁ דובכ רחא veroorsaak baie interpretasieprobleme. Smith (1984:196) beskryf dit as ‘the most puzzling clause in the book’ en Clark en Hatton  (2002:110–111) wys onder andere op 11 verskillende interpretasies. ’n Letterlike vertaling vir hierdie frase is: ‘Na/agter heerlikheid het hy my gestuur’. Die vraag is: Maak hierdie letterlike vertaling enige sin vir die moderne leser? </paragraph></sec_heading><sec_heading>Opsomming van verskillende vertalingsmoontlikhede <list>Daar is verskillende maniere waarop hierdie frase hanteer word. Vervolgens word ’n opsomming van die verskeie moontlikhede aangebied. Die verskillende moontlikhede word in drie groepe ingedeel:  <list_item>Eerstens, die frase ינחלשׁ דובכ רחא word as ‘n latere byvoeging beskou en bloot in die vertaling uitgelaat (Gute Nachricht Bibel 1997; Today’s English Version/Good News Bible 1976; Rudolph 1976:86–88).  </list_item></list><list>Tweedens beskou sommige vertalings en geleerdes die teks as bedorwe en probeer gevolglik die Masoretiese teks wysig. Die volgende voorstelle word gemaak:  <list_item>Die woorde דובכ רחא word gewysig na דובכ רשׁא [wie sy heerlikheid gestuur het] (Tekskritiese voorstel van Biblia Hebraica Stuttgartensia 1997 [BHS]).  </list_item><list_item>Wysiging na דובכ חרא [pad/weg van heerlikheid] (Tekskritiese voorstel van Biblia Hebraica 1973 [BHK]). </list_item><list_item>Die werkwoord ינחלשׁ [Hy het my gestuur] word gewysig na ינא חלשׁ [Ek het gestuur] (Tekskritiese voorstel van BHS). </list_item></list><list>’n Derde groep probeer die Masoretiese teks net so behou en sin daaruit maak. Daar is talle voorstelle van geleerdes en vertalings:  <list_item>Die 1933/1953 AV asook Smith (1984:194–196) se vertalings probeer die Masoretiese teks letterlik weergee: ‘Hy het my gestuur agter heerlikheid aan’ (‘after glory he sent me to the nations’).  Die woord דובכ word op ’n verskeidenheid maniere geïnterpreteer:  Sommige reken dat דובכ net ’n ander manier is om na God of YHWH te verwys (New Revised Standard Version 1989 (NRSV); Mason 1977:43; Meyers &amp; Meyers 1987:162; Redditt 1995:60; Sweeney 2000:588–589; Clark &amp; Hatton 2002:111). Die BD bied ’n interessante interpretasie waar die heerlikheid van YHWH met lig vergelyk word: ‘Hy is die lig en Hy het my gestuur’.  Die moontlikheid bestaan dat die ‘heerlikheid’ na die visioen kan verwys. Gevolglik word dit deur sommige geleerdes direk vertaal of bloot in hakies ná die woord heerlikheid geplaas: ‘after the glory (that is, the vision), the Lord sent me’ (JB); Mitchell &amp; Smith 1912:142; Klein 2008:121).  Boda (2004:236) glo dat Sagaria 2 met Esegiël 39:21–29  verbind moet word. Hier word God se eer of heerlikheid met sy oordeel gelyk gestel. Op grond van hierdie gegewens kan dit soos volg verstaan word: ‘after glory – that is, after judgement – the prophet is sent to declare disaster for Babylon’ (Boda 2004:236).  Die New International Version 1984 (NIV) reken dat die heerlikheid na die profeet verwys en vertaal die nomen as ’n werkwoord: ‘after he has honored me and sent me’.  Die Hebreeuse partikel  רחא word soos volg verstaan:  ’n Groot aantal Engelse vertalings vertaal רחא met ‘after’ (King James Version/Authorized version 1611 (KJV); New American Standard Bible 1971 (NASB); NRSV; NIV; New Living Translation 1996 (NLT); NJPS). Die Engelse woord after kan egter in Afrikaans met ‘agter’ (voorsetsel), ‘na/ná’ (voorsetsel of temporele bywoord) en ‘nadat’ (voegwoord) vertaal word. Die Engelse vertalings veronderstel egter die voorsetsel agter (vgl. ook 1933/1953-AV). Sommige beskou רחא as ’n temporele bywoord wat met ‘ná’ in Afrikaans vertaal kan word (vgl. JB; Mitchell &amp; Smith 1912:142; Klein 2008:121). Volgens Rignell (1950:87–88) dien רחא  as ’n voegwoord en kan in Afrikaans met ‘nadat’ vertaal word.  Die 1983-AV en Baldwin (1972:109) vertaal רחא met ‘with’ [met]. Eersgenoemde se vertaling lees ‘met volmag’ en laasgenoemde ‘with insistence he sent me’.  Kloos (1975:729–736) argumenteer dat רחא  ‘n doelsin inlei: ‘in order to obtain glory’.  Stead (2009:122) reken dat die partikel רחא  ook met ‘the sake of’ vertaal kan word: ‘after (or the sake of) his honour sent me against the nations’.  Die New English Translation 1996 (NET) vertaal רחא met ‘for’: ‘that for his own glory he has sent me to the nations’. Sweeney (2000:589) verstaan רחא as ‘n nomen, dit wil sê ‘back of glory’. </list_item></list><list>Daar is verskil van mening oor wie of wat die subjek en objek van die werkwoord stuur is:  <list_item>Geleerdes soos Petersen (1985:172), Hanhart (1998:114) en Tiemeyer (2004:370–372) beskou die ‘heerlikheid’ as die subjek van die werkwoord.  Die NLV sowel as die NASB beskou die Here as die subjek van ‘stuur’: ‘Na ’n tyd van eer het die Here die Almagtige my na die nasies wat jou verdruk het, gestuur’ en ‘After glory He has sent me against the nations’. Die New King James Version 1979 (NKJV) veronderstel dat God die objek van die stuur is: ‘He sent Me after glory’.  Merril (2003:108) se gebruik van hoofletters veronderstel dat God die subjek en objek van die stuur is: ‘After glory has He sent Me to the nations’. </list_item></list><list>Sommige moderne vertalings bied ’n vrye interpretasie as vertaling aan:  <list_item>‘… he sent me on a glorious mission’ (New English Bible 1972 [NEB]). ‘... die mij zijn grootheid heeft geopenbaard’ (De Nieuwe Bijbelvertaling 2004 [NBV04]). ‘Then the glorious Lord All-Powerful ordered me to say’ (Contemporary English Version Revised 2007). ‘’n Mens voel sy magtige teenwoordigheid aan. Hy is die Een wat my met ’n boodskap na die nasies stuur’ (Die Boodskap 2002-vertaling).</list_item></list></sec_heading><sec_heading>Evaluering van verskillende moontlikhede  <paragraph>Dit is baie moeilik om die verskillende moontlikhede te evalueer. Daar word eerstens begin om ’n paar moontlikhede uit te skakel.  </paragraph><paragraph>Die eerste moontlikheid (d.w.s. om dit as latere byvoeging te beskou en weg te laat) word nie aanvaar nie. Feitlik al die antieke en moderne vertalings sowel as die meeste geleerdes aanvaar nie hierdie voorstel nie. Tweedens word verkies om nié die Masoretiese teks te wysig nie. Die tekskritiese apparaat van BHS stel voor dat die werkwoord ונחלשׁ [hy het my gestuur] na ינא חלשׁ [Ek het gestuur] gewysig word. Hierdie voorstel, sowel as die ander twee tekskritiese voorstelle van BHS en BHK, kan nie aanvaar word nie. Daar is nie genoegsame gronde om die bestaande teks te wysig nie. Die oorgelewerde teks word deur die meeste antieke vertalings ondersteun (Van der Woude 1984:53; Fourie 1991:47).  </paragraph><paragraph>Derdens is die beste opsie om te probeer sin te maak vanuit die bestaande Masoretiese teks. Drie moontlike vrae kan ons hiermee help: Is דובכ ’n selfstandige naamwoord of ’n werkwoord?; Na wie se heerlikheid word hier verwys?; en Wie of wat is die subjek en objek van die werkwoord stuur? (vgl. Stead 2009:114).  </paragraph><paragraph>Die NIV reken dat die heerlikheid verwys na die profeet ‘After he has honored me and sent me’. Hierdie voorstel kan nie aanvaar word nie, omdat die Hebreeuse selfstandige naamwoord gebruik word en nie ’n werkwoord nie. Volgens Tiemeyer (2004:370–371) is God die objek van die werkwoord stuur. Die vraag is dan: Wie kan vir God stuur? Volgens Tiemeyer is דובכ die subjek van die werkwoord en kan die beste met ‘eer’ vertaal word. Tiemeyer (2004:370–371) verwoord haar standpunt soos volg: ‘My proposition is to see the whole clause as a metaphorical expression where God is sent by (his) honour to proclaim punishment for the nations.’ Volgens haar pas hierdie vertaling goed in by die res van Sagaria 1–8. God se eer was op die spel omdat Hy sy volk in ballingskap weggestuur het en die tempel verwoes is. Tiemeyer se standpunt is ’n moontlikheid, veral as in ag geneem word dat die woord דובכ en die subjek van die werkwoord stuur, albei as manlik enkelvoud getipeer word. Daar is egter steeds ’n paar vrae, omdat dit nie ’n algemene gebruik van die woord heerlikheid is nie. Mitchell en Smith (1912:141), sowel as die NASB en die NLV, reken dat YHWH die subjek van die werkwoord is en die profeet die objek. Hierdie voorstel maak meer sin as daar na die res van die profetiese literatuur en die onmiddellike konteks gekyk word. Talle profetiese gedeeltes verwys na die Here wat sy profeet stuur (vgl. Jes 6:8; 42:19; Eseg 2:4; Mal 3:1; 4:5 e.a.). Jeremia 25:9 verwys spesifiek na die Here wat sy profeet na die nasies stuur, terwyl Jesaja 66:19 verwys na dié wat die oordeel oorleef het wat na die nasies gestuur word. Die belangrikste argument is egter dat Sagaria 2:9(13) direk na die Here wat die profeet gestuur het, verwys: ‘Dan sal julle weet dat die HERE van alle magte my gestuur het’ (vertaling-DFO).  </paragraph><list>Die Hebreeuse woord דובכ kan op verskillende maniere in Engels vertaal word: ‘honour, glory, distinction, heaviness, weight, abundance, riches, burden, reputation, importance, splendour, distinction’ (Koehler, Baumgartner &amp; Stamm 1995:547–548; Collins 1997:577-587). Met betrekking tot God word דובכ gewoonlik met ‘eer’ of ‘heerlikheid’ vertaal. In Sagaria 2:5(9), die enigste ander teksgedeelte in Sagaria waar die woord דובכ  voorkom, word dit ook met ‘heerlikheid’ vertaal. Die vraag is egter of ons hierdie heerlikheid binne die konteks van Sagaria 2 verder moet interpreteer en of dit net so behou moet word. Mitchell en Smith (1912:142) en Klein (2008:121) se vertaling maak die meeste sin: ‘… after the glory [that is, the vision], the Lord sent me’. Klein (2008) skryf die volgende hieroor:  <list_item>Accordingly, this view believes that Zechariah referred back to his prophetic call, affirming that his prophetic ministry as well as the night vision from the Lord that he was about to relate, both occurred subsequent to receiving his prophetic call. (bl. 121)  </list_item></list><paragraph>Die vraag is of ‘n mens in die lig van hierdie interpretasie דובכ direk as ‘visioen’ kan vertaal en of dit tussen hakies geplaas moet word.  </paragraph><paragraph>Die voorstel dat רחא as doelsin vertaal kan word, kan waarskynlik nie aanvaar word nie. Kloos (1975:732–734) noem ’n paar voorbeelde waar sy reken dat רחא as doelsin vertaal kan word, maar dit is beslis nie ’n algemene gebruik nie. Die sintaksis van die Hebreeuse frase veronderstel nie ’n doelsin nie.  </paragraph><paragraph>Die vertaling van רחא met ‘nadat’, ‘want’ of ‘met’ kom nie algemeen in Hebreeus voor nie. Die partikel רחא word gewoonlik met ‘agter’ of ‘na’ vertaal. Die woord agter dui ruimtelike plasing aan en die woord na temporele plasing (Waltke &amp; O’Connor 1990:192; Van der Merwe et al. 1997:225; Koehler, Baumgartner &amp; Stamm 1994:35).  </paragraph></sec_heading><sec_heading>יכ <paragraph>Gewoonlik word die Hebreeuse partikel יכ met ‘want’ in Afrikaans vertaal. In die LXX word יכ met dioti [want, sedert, dat] vertaal en die Siriese vertaling lees ‘dit wat’. In die Vulgaat word dit bloot uitgelaat en korrespondeer dit met die gebruik van die partikel יכ as ’n inleiding tot die direkte rede. Tiemeyer (2004:357–358) wys daarop dat diegene wat die ‘appel van sy oog’-lesing voorstaan, die partikel met ‘want’ of ‘dat’ vertaal, en יכ as inleiding tot die direkte rede hanteer (vgl. Meyers &amp; Meyers 1987:162; NBV04; NLV; NJPS).  </paragraph><paragraph>’n Derde opsie is om יכ te sien as ’n modaalwoord wat bevestiging uitdruk. Van der Merwe et al. (1997:254) skryf die volgende hieroor: ‘Druk bevestiging van ’n voorafgaande uiting, vermoede of oortuiging van ’n spreker uit.’ Koehler et al. (1995:470) se eerste inskrywing bespreek יכ as ‘n ‘demonstrative particle’ wat beklemtoning aandui en in Engels met ‘verily, indeed’ vertaal kan word. Die partikel יכ kan gevolglik met ‘inderdaad, waarlik, ja’ vertaal word (vgl. NRSV; Petersen 1985:173). Hierdie vertaling maak waarskynlik die meeste sin in die lig van die onmiddellike literêre konteks.  </paragraph></sec_heading><sec_heading>תבבב<paragraph>Die selfstandige naamwoord הבב kom slegs in Sagaria 2:8(12) voor en word deur die meeste vertalings en kommentatore met ‘appel van sy/my oog’ (‘apple of his/my eye’) vertaal. Sommige vertaal dit wel in Engels met ‘pupil of his/my eye’ (vgl. NJPS; Petersen 1985:173). Die Hebreeuse woord ןושׁיא   tesame met ןיא [oog] is die meer algemene frase wat vir oogappel gebruik word (vgl. Deut 32:10; Ps 17:8; Spr 7:2, 9). Die vraag is: Hoekom word die ongewone vorm hier gebruik wat in die Hebreeuse kanon ‘n hapax legomenon is? Volgens Finley (1988:337–338) moet ons weer nuut oor die betekenis van die woord  הבב dink. In die konteks van Sagaria 2 word Babel in ’n negatiewe lig gesien. Volgens hom moet ons na die Akkadiese ekwivalent van הבב gaan kyk. Babel is gesien as die ‘poort van god’ en gevolglik kan תבבב in Sagaria 2:8(12) met ‘poort van sy oog’ vertaal word. </paragraph><paragraph>Finley se hipotese maak sin, maar daar is nie genoeg gronde om dit te aanvaar nie. Waarskynlik dien הבב as ’n sinoniem vir ןושׁיא en kan albei met ‘appel van die oog’ vertaal word. Sagaria 2 beskryf ’n intieme verhouding tussen YHWH en Israel waar YHWH beloof om sy volk wat deur Babel en ander nasies uitgebuit is, te beskerm. Die vertaling ‘appel van sy oog’ pas beter in by hierdie onmiddellike literêre konteks.  </paragraph></sec_heading><sec_heading>וניע <paragraph>Die Hebreeuse woord וניע [sy oog] is een van die sogenaamde 18 tiqqune sopherim in die Hebreeuse Bybel. Daar word gereken dat hierdie wysigings deur skrifgeleerdes in die laaste twee eeue voor Christus en in die vroeë Christelike jare aangebring is. Die moontlikheid bestaan dat die oorspronklike lesing יניע [my oog] deur skrifgeleerdes na וניע [sy oog] verander is weens teologiese redes (McCarthy 1981:69). Skrifgeleerdes het dikwels veranderings aangebring uit vrees vir die misbruik van die Godsnaam. Hier is dit waarskynlik gedoen om die sterk antropomorfisme te vermy (Rudolph 1976:88; Deist 1978:59–60; Fourie 1991:49).  </paragraph><paragraph>Die moontlike wysiging van die grondteks (וניע) na יניע [my oog] word deur enkele antieke tekste en tradisies ondersteun: Rabynse tradisie (Joshua ben Levi, die Tanhuna en Yalkut ha-Makhiri, die Arug van Natan e.a.); sommige Latynse en Griekse tradisies (Codex Washingtonensis en Koptiese uitgawe); Klementynse uitgawe van die Vulgaat; en Qumran fragment 4QXIIe (McCarthy 1981:61–61; Fourie 1991:49). Asada (1896:27) kom wel tot die gevolgtrekking dat Sagaria 2:8(12) nie gewysig moet word as dit met verskeie antieke tekste vergelyk word nie. Sommige kommentatore en moderne vertalings wysig ook die Masoretiese teks (vgl. 1983-AV; JB; NLT; NLV; NBV04; NRSV; Meyers &amp; Meyers 1987:162; Merril 2003:108). Die volgende vertalings behou weer die Masoretiese teks (1933/1953-AV; KJV; LXX; NEB; NET; NIV; NJPS; Smith 1984:194; Stead 2009:115).  </paragraph><paragraph>Daar word verkies om by die bestaande Masoretiese teks te hou. Die LXX weergawes, asook die Siriese vertaling, ondersteun nie die wysiging nie. As ’n mens die Masoretiese teks se lesing aanvaar, beteken dit dat die Godspraak eers in vers 9(13) begin. Indien die gewysigde lesing aanvaar word, begin die Godspraak alreeds in vers 8(12) (Tiemeyer 2004:356).  </paragraph></sec_heading></sec_heading><sec_heading>Slot <sec_heading>’n Moontlike vertaling  <list>Sagaria 2:8(12) is waarskynlik een van die moeilikste teksgedeeltes in die boek Sagaria. Die uiteenlopende vertalings wat deur geleerdes en vertalings aangebied word, bevestig hierdie feit. Sommige mag wel reken dat Sagaria 2:8(12) onvertaalbaar is, maar ongelukkig kan die vertaler nie so maklik hiermee wegkom nie. In die lig van die voorafgaande bespreking word ’n moontlike vertaling aangebied. Daar word verkies om nié die Masoretiese teks te wysig nie, omdat daar nie genoegsame gronde hiervoor is nie: <list_item>Want so sê die HERE van alle magte: Ná die heerlikheid het Hy my gestuur na die nasies deur wie julle uitgebuit is; waarlik, wie aan julle vat, vat aan die appel van sy oog. </list_item></list><paragraph>By die woord heerlikheid word ’n voetnoot geplaas waarin aangedui word dat dit waarskynlik na die derde visioen verwys (Sag 2:1–5[5–9]). In hierdie visioen word beklemtoon dat YHWH se heerlikheid onder die volk sigbaar sal wees, onder andere soos ’n muur van vuur in Jerusalem (v. 5[9]). Sagaria 2:8(12) beklemtoon dat die Here van alle magte sy heerlikheid bekend gemaak het deur die visioen en dat Hy die profeet na Babel en die ander nasies wat hulle uitgebuit het, stuur. Die Here is nie bereid om verder die uitbuiting te duld nie, omdat die volk Israel sy oogappel, sy uitverkore volk is.  </paragraph></sec_heading></sec_heading><sec_heading>Erkenning <sec_heading>Mededingende belange <paragraph>Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie. </paragraph></sec_heading></sec_heading></body><bm><referencing><ref_id>1.<ref_text>Asada, E., 1896, The Hebrew text of Zechariah 1–8 compared with different ancient versions, University of Chicago Press, Chicago.  </ref_text></ref_id><ref_id>2.<ref_text>Baldwin, J.G., 1972, Haggai, Zechariah, Malachi, IVP, Leicester. (Tyndale Old Testament Commentaries)  </ref_text></ref_id><ref_id>3.<ref_text>Boda, M.J., 2004, Haggai, Zechariah, Zondervan, Grand Rapids, Michigan. (The NIV application commentary)  </ref_text></ref_id><ref_id>4.<ref_text>Clark, D.J. &amp; Hatton, H.A., 2002, A handbook on Haggai, Zechariah and Malachi, United Bible Societies, New York. </ref_text></ref_id><ref_id>5.<ref_text>Collins, C.J., 1997, s.v. ‘דובכ’, New International Dictionary of Old Testament Theology and Exegesis 2, pp. 577–587.  </ref_text></ref_id><ref_id>6.<ref_text>Deist, F.E., 1978, Towards the text of the Old Testament, D.R. Church Booksellers, Pretoria.  </ref_text></ref_id><ref_id>7.<ref_text>Finley, T.J., 1988, ‘The apple of his eye’ (babat `enô) in Zechariah II 12’, Vetus Testamentum 38(3), 337–338. http://dx.doi.org/10.1163/156853388X00076, http://dx.doi.org/10.2307/1518063  </ref_text></ref_id><ref_id>8.<ref_text>Floyd, M.H., 2000, Minor prophets: Part 2, Eerdmans, Grand Rapids. (Forms of Old Testament Literature 22)  </ref_text></ref_id><ref_id>9.<ref_text>Fourie, L.C.H., 1991, ‘Die struktuur en kerugma van Sagaria 1–8’, DTh proefskrif, Dept. Ou Testament, Universiteit van Stellenbosch.  </ref_text></ref_id><ref_id>10.<ref_text>Hanhart, R., 1998, Sacharja, Neukirchener Verlag, Neukirchen-Vluyn. (BKAT 14)  </ref_text></ref_id><ref_id>11.<ref_text>Klein, G.L., 2008, Zechariahm, B &amp; H Publishing, Nashville, Tennessee. (The New American Commentary) </ref_text></ref_id><ref_id>12.<ref_text>Kloos, C.J.L., 1975, ‘Zech. II 12: Really a Crux Interpretum?’, Vetus Testamentum 25, 729–736. http://dx.doi.org/10.1163/156853375X00359  </ref_text></ref_id><ref_id>13.<ref_text>Koehler, L., Baumgartner, W. &amp; Stamm, J.J. (eds.), 1994, The Hebrew and Aramaic Lexicon of the Old Testament, vol. 1, E.J. Brill, Leiden.   </ref_text></ref_id><ref_id>14.<ref_text>Koehler, L., Baumgartner, W. &amp; Stamm, J.J. (eds.), 1995,  The Hebrew and Aramaic Lexicon of the Old Testament, vol. 2, E.J. Brill, Leiden. PMid:7895162 </ref_text></ref_id><ref_id>15.<ref_text>Mason, R., 1977, The books of Haggai, Zechariah and Malachi, Cambridge University Press, Cambridge. (The Cambridge Bible Commentary) </ref_text></ref_id><ref_id>16.<ref_text>McCarthy, C., 1981, The Tiqqune Sopherim, Universitätsverlag, Freiburg. (Orbis Biblicus et Orientalis 36)  </ref_text></ref_id><ref_id>17.<ref_text>Merril, E.H., 2003, An exegetical commentary: Haggai, Zechariah, Malachi, Biblical Studies Press, LLC.  </ref_text></ref_id><ref_id>18.<ref_text>Meyers, C. &amp; Meyers, E.M., 1987, Haggai, Zechariah 1-8, Doubleday, New York. (Anchor Bible 25B) </ref_text></ref_id><ref_id>19.<ref_text>Mitchell, H.G. &amp; Smith, J.M.P., 1912, Haggai, Zechariah, Malachi and Jonah, T &amp; T Clark, Edinburgh. (International Critical Commentary)  </ref_text></ref_id><ref_id>20.<ref_text>Mettinger, T.N.D., 1999, s.v. ‘Yahweh Zebaoth’, in K. Van der Toorn, B. Becking &amp; P.W. Van der Horst  (eds.), Dictionary of Deities and Demons in the Bible, Brill, Leiden, pp. 920–924. </ref_text></ref_id><ref_id>21.<ref_text>O’Kennedy, D.F., 2007, ‘Is dit moontlik om die goddelike naam תואבצ הוהי in Afrikaans te vertaal?’ Old Testament Essays 20(1), 185–200. </ref_text></ref_id><ref_id>22.<ref_text>Petersen, D.L., 1985, Haggai and Zechariah 1–8, Westminster John Knox, Philadelphia. (Old Testament Library)  </ref_text></ref_id><ref_id>23.<ref_text>Petersen, D.L., 2002, The Prophetic Literature: An Introduction, Westminster John Knox Press, Louisville, Kentucky.  </ref_text></ref_id><ref_id>24.<ref_text>Redditt, P.L., 1995, Haggai, Zechariah, Malachi, Eerdmans, Grand Rapids, Michigan. (The New Century Bible Commentary)  </ref_text></ref_id><ref_id>25.<ref_text>Rignell, L.G., 1950, Die Nachgesichte des Sacharja: Eine exegetische Studie, C.W.K. Gleerup, Lund.  </ref_text></ref_id><ref_id>26.<ref_text>Rudolph, W., 1976, Haggai, Sacharja 1–8, Sacharja 9–14, Maleachi, Mohn, Güttersloh. (Kommentar zum Alten Testament)  </ref_text></ref_id><ref_id>27.<ref_text>Smith, R.L., 1984, Micah-Malachi, Thomas Nelson, Nashville. (World Biblical Commentary 32)  </ref_text></ref_id><ref_id>28.<ref_text>Schmitt, R., 1972, Zelt und Lade als Thema alttestamentichler Wissenschaft, Gerd Mohn, Gütersloh.  </ref_text></ref_id><ref_id>29.<ref_text>Sweeney, M.A., 2000, The twelve prophets vol. 2, Liturgical press, Collegeville, Minnesota. (Berit Olam)  </ref_text></ref_id><ref_id>30.<ref_text>Stead, M.R., 2009, The intertextuality of Zechariah 1–8, T &amp; T Clark, London. (Library of Hebrew Bible/Old Testament  studies 506)  </ref_text></ref_id><ref_id>31.<ref_text>Tiemeyer, L.S., 2004, ‘Compelled by honour – a new interpretation of Zechariah II 12A (8A)’, Vetus Testamentum 54, 352–372. http://dx.doi.org/10.1163/1568533041694555  </ref_text></ref_id><ref_id>32.<ref_text>Van der Merwe, C.H.J., Naudé, J.A. &amp; Kroeze, J.H., 1997, Bybels-Hebreeuse naslaangrammatika vol. 1, Werkgroep vir Bybelse Hebreeus, Stellenbosch.  </ref_text></ref_id><ref_id>33.<ref_text>Van Der Woude, A.S., 1984, Zacharia, Callenbach, Nijkerk. (Prediking van het Oude Testament)  </ref_text></ref_id><ref_id>34.<ref_text>Waltke, B.K. &amp; O’Connor, M., 1990, An Introduction to Biblical Hebrew Syntax, Eisenbrauns, Winona Lake, Indiana. </ref_text></ref_id></referencing></bm></article>
