Article Information

Author:
Jaap L. Helberg1

Affiliation:
1Faculty of Theology, North-West University, South Africa

Correspondence to:
Jaap Helberg

Postal address:
PO Box 509, Potchefstroom 2520, South Africa

Dates:
Received: 20 May 2013
Accepted: 08 Oct. 2013
Published: 13 Mar. 2014

How to cite this article: Helberg, J.L., 2014, ‘Is God (in)konsekwent? Heerskappy, oorweging en aanspreeklikheid in die Dawidsgeskiedenis in die boeke van Samuel’, In die Skriflig/In Luce Verbi 48(2), Art. #863, 10 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
ids.v47i1.696

Copyright Notice:
© 2014. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Is God (in)konsekwent? Heerskappy, oorweging en aanspreeklikheid in die Dawidsgeskiedenis in die boeke van Samuel
In This Original Research...
Open Access
Abstrak
Abstract
Inleiding
Die kennisbron in verband met Dawid
Dawid, Saul en Simeï se verhouding met God en omgekeerd
Die menslike wil en God se wil
God se verbond met Dawid: Verkiesend, onvoorwaardelik, persoonlik
Die volkstelling van Dawid: Wie is die aanhitser?
Samevatting en gevolgtrekking
Erkenning
   • Mededingende belange
Literatuurverwysings
Abstract

As ’n eenheid openbaar die Samuelboeke die aanspreeklikheid van mense in hulle verhouding tot mekaar en tot God. Hierdie artikel ondersoek die vraag na God se konsekwentheid wat ook die vraag impliseer of alles onder sy heerskappy plaasvind. Die bevinding is dat alles onder God se allesoorkoepelende, vrymagtige en persoonlike heerskappy gebeur. Vir die beperkte menslike oorweging is dit geheel en al onpeilbaar anders. Dit is nie ’n nuutskepping oor sy Woord wat die lig bring nie, maar die nuutontdekking in sy Woord. Hy laat reg en geregtigheid geld, maar in ’n nog sterker mate ook sy genade. Uiteindelik is sy konsekwentheid – ‘die dwaasheid van die kruis’ – ten volle geopenbaar in die verwagte Messias, Jesus Christus. In die huidige stukkende werklikheid oefen God ook sy heerskappy uit deur persone wat hulle eie agendas het, selfs bose agendas. So laat Hy gelowiges tot selfontdekking, berou en bekering oor hulle sonde kom. Hulle leef met kinderlike vertroue op God en volgens die groot gebod van die liefde.

Abstract

Is God (in)consistent? Sovereignty, deliberation and accountability in the Davidic history in the books of Samuel. The books of Samuel as a unity reveal the accountability of people in their relations to each other and to God. This article explores the issue of God’s consistency, including the question whether everything happens under his reign. The finding is that everything happens under his all-embracing, all-powerful and personal sovereignty, which is unfathomable by the limited human deliberation. It is not a new creation about his Word which brings the light, but the new discovery in his Word. He asserts justice, and to an even greater extent, his grace. His consistency – ‘the foolishness of the cross’ – is ultimately fully revealed in the expected Messiah, Jesus Christ. In the present broken reality God also asserts his sovereignty through people who have their own agendas, even evil agendas. Thus, He brings believers to self-discovery, remorse and repentance from their sins. They live with childlike trust in God and according to the great commandment of love.

Inleiding

In die harde werklikheid van ons bestaan is daar sake, gebeurtenisse en ervarings wat ’n mens moeilik, indien nie onmoontlik nie, kan verwerk. Aangesien die Skrif leer dat God regeer en in beheer van sake is, dring die vraag hom dikwels aan ’n mens op of God konsekwent is in wat Hy doen. Sommige teoloë soos die invloedryke Ou-Testamentikus W. Brueggemann (1997:367) is van mening dat God in die Ou Testament partykeer inkonsekwent is en dat dit deel van God se aard is. Dit kom volgens hom veral duidelik na vore in 1 en 2 Samuel. Daarin speel die eerste konings, Saul en Dawid, ’n baie belangrike rol. Veral Dawid neem ’n besondere plek in die Ou Testament in en in hom bereik die koningskap sy hoogtepunt (Matt 1:1–17). Die outeurs van die Samuelboeke is oortuig dat God nóú by die geskiedenis betrokke is (2 Sam 7:8–16). Hierdie boeke is ’n uitstekende bron om insig in die heerskappy, oorweging van gebeurtenisse en aanspreeklikheid daarin te verkry. Dit geld ten opsigte van die heerskappy, oorweging en aanspreeklikheid van God, ten opsigte van die konings, van die volk Israel en van die mens in die algemeen. ’n Belangrike vraag in hierdie verband is waarom Saul as koning van die verbondsvolk deur God verwerp word, maar Dawid, ondanks sy ernstige sonde, geskik geag word vir die koningskap (1 Sam 15:10, 23; 16:13–14).

Sommige navorsers meen dat daar ’n dualisme in die Samuelboeke is, naamlik dat die een bron teenoor Dawid goedgesind is, maar die ander een hom afwys (vgl. Goslinga 1968:26). Volgens ander navorsers is Dawid aan dieselfde soort oortredings skuldig as Saul en is God dus onregverdig teenoor Saul en trek Hy vir Dawid voor (vgl. Brueggemann 1997). Ander navorsers meen weer die Ou Testament verskaf menslike antwoorde oor mense se geloof in God ten tye van hulle worsteling met die raaisels van die lewe (Nürenberger 2004:224).

Volgens Brueggemann (2003:xi–xii; 391–396) is die tyd verby om in die Ou Testament na die historiese aspekte te soek. Dit is tans die tyd van die retoriek. Wat die Ou Testament bevat soos dit tans daar uitsien, is imaginitive remembering, dit wil sê die vrug van ’n generatiewe of kreatiewe herskrywing van die gebeurtenisse om vir die herskrywer se eie tyd antwoorde op sake of probleme te bied. Soms het daar herskrywings van opeenvolgende herskrywings plaasgevind. Die gevolg is dat daar weinig, indien enigiets van die werklike geskiedenis of gebeurtenisse oorgebly het. Hierdie retoriek is volgens Brueggemann die saak wat belangrik is.

God was volgens Brueggemann by die proses betrokke op ’n manier wat vir ons onbegryplik is. Daar is volgens hom geregtigheid en genade by God, maar soms is die genade afwesig. Die rede hiervoor is nie net omdat God se optrede nie in menslike taal uitgedruk kan word nie, maar ook omdat daar volgens hom ’n donker kant aan God is. Dit kom veral na vore in God se verhouding met Saul en Dawid. Hierdie verhouding is volgens Brueggemann (1997) inkonsekwent. Hy sê:

It is of enormous interest and importance to us that Israel’s storytellers are, without reflection, justification, or defensiveness – indeed, even without self-awareness – able to render Yahweh as a character of some unreliability ... the text as we have it suggests that Yahweh is inordinarily and irrationaly committed to David. (p. 367)

Dawid word voorgetrek, beweer Brueggemann (1997:371) verder. Hy tree in verskillende sake net soos Saul op, maar word, anders as Saul, nie daaroor veroordeel nie. Dit geld van die volgende vier gebeurtenisse: God laat mense mislei sodat Dawid verhoog kan word (1 Sam 16:1); tweedens gee God Samuel opdrag om na die volk te luister (1 Sam 8:7, 9, 22), maar verwerp Saul oor dieselfde optrede (1 Sam 15:24); derdens elimineer God Saul omdat hy Amalekitiese buit neem (1 Sam 15:18–21), maar sien dieselfde soort optrede by Dawid oor die hoof (1 Sam 30:19–20); God vergewe Dawid (2 Sam 12:13) vierdens, maar wys Saul se sondebelydenis af (1 Sam 15:24).

Hoe moet ’n mens hierdie saak beoordeel, veral in die lig van die eis om geregtigheid (naamlik dat God nie van gedagte verander nie, 1 Sam 15:29) en gehoorsaamheid in 1 Samuel 15:22 en ook elders in die Ou Testament? Watter lig werp Brueggemann se benadering op die mens en ook God se aanspreeklikheid? Watter lig werp die Samuelboeke onder andere ook op Brueggemann se benadering? Eerstens word na die kennisbron oor hierdie saak gekyk.

Die kennisbron in verband met Dawid

Hierdie artikel is toegespits op die Samuelboeke. Die vraag is of daar in die boeke self ’n eenheid is en indien wel, wat daardie eenheid behels in soverre dit die onderwerp raak en of dit ooreenstem met wat die res van die Ou Testament verkondig.

Hier kan nie op die verskillende benaderings oor die samestelling van die Samuelboeke ingegaan word nie (vgl. daaroor Van Seters 2009:1–52; vgl. ook Birch 1998:964, 1199; Herzberg 1968:9–12). Slegs enkele aspekte van hierdie ingewikkelde situasie word bekyk. Seiler (1998:323–326) stel dat daar twee teenstellende benaderings is oor veral die literêre ontstaan, tendens en datering van die troonopvolgingsgeskiedenis (2 Sam 9–20; 1 Kon 1–2). Enersyds is daar die benadering van Leonhard Rost dat hierdie ’n eenheidswerk uit die tiende eeu v.C. is wat positief teenoor Salomo staan. Andersyds meen E. Würtwein en andere dat hierdie ’n koningsvriendelike werk uit daardie tyd is wat later oorgewerk is en vriendelik staan teenoor die dinastie. Seiler self meen daar is baie minder materiaal wat later bygewerk is as wat Würthwein dink. Verder meen hy die houding teenoor Dawid is krities-solidêr. Salomo word hoër as Dawid geag.

Volgens Waltke (2007:662) praat die Bronnekritiek, in navolging van Rost, van die troonopvolgingsgeskiedenis tot lof van Salomo. Noukeuriger gestel, leer hierdie geskiedenis volgens hom dat ’n mens maai wat jy saai. Fox (1999:213) beweer, met verwysing na Flanagan, dat die opstandsverhale nie primêr gaan oor wie Dawid se erfgenaam sal wees nie, maar oor oorlewing.

Volgens Van Seters (2009:345–355) is daar twee botsende weergawes van Dawid se magsverrysing en koningskap in die plek van Saul: die Deuteronomis vorm ’n integrale deel van die groter geskiedenis van die volk. Die Dawidsage daarenteen is ’n uitgebreide revisie met ’n beperkte skopus op die loopbaan van Dawid en sy opvolging deur Salomo. In nie een is daar sprake van die instelling van ’n staat nie, maar van ’n klein groepie oor wie hulle die hoofde was. Ook is dit onwaarskynlik dat Dawid en Saul mekaar geken het. Die Deuteronomis wou die ontstaan van die Judese staat met die heilige geskiedenis van Israel integreer. Die doel was om ’n gemeenskaplike historiese tradisie en identiteit binne die volk Israel onder die een Godheid, Jahwe, die God van Israel, daar te stel. Die Dawidsage daarenteen praat van Dawid se onderdane as die volk Israel en handhaaf deurentyd die onderskeid tussen Juda en Israel as twee aparte state. Volgens die Dawidsage was daar nooit ’n eenheid onder die stamme nie en selfs so laat as die Persiese periode erken die outeur nie die identiteit van die Jode as Israeliete nie. Die sage probeer dus die ouer historiese en ideologiese tradisie van die Deuteronomis ondermyn en daarmee spot. Erik Eynikel (Auld & Eynikel 2010:1–13) bespreek standpunte vir en teen Dawid, gesien in die lig van benaderings oor die verhaal en die geskiedenis in die Samuelboeke. Die debat duur tans nog voort, soms baie vurig.

Vervolgens word die doel van die boek soos dit in sy geheel oorgelewer is, bekyk. Childs (1979:277–278) toon oortuigend die aangewese metode aan om die doel van die Samuelboeke te verstaan, naamlik om na die geheelproduk te kyk en nie in die besonderhede vas te haak nie. Uit die oogpunt van die eindredakteur, was Saul se koningskap van die begin af ’n mislukking, het dit nooit deel gehad aan die messiaanse belofte aan Dawid nie en kon dit dus nie standhou nie. Die finale opset van die boek probeer nie om een van die twee weergawes te onderdruk of om die benaderings op so ’n manier te harmoniseer dat dit die spanning in die teks verwyder nie. Hoewel die vestiging van ’n monargie nie volgens God se oorspronklike plan verloop het nie, was God tog aktief daarby betrokke. Die basiese kwessie van Israel se geloof is nie deur die verandering van die politieke struktuur bepaal nie. Israel, saam met sy nuwe koning, moes steeds vir of teen God besluit (1 Sam 12:25). Hierdie kanoniese strukturering gee ’n teologiese oplossing vir die probleem van die twee tradisies deur die belangrikheid van die historiese benadering te relativeer.

Ander teoloë wys ook daarop dat die doel van die boek nie is om die gewone geskiedenis oor en beoordeling van die eerste konings van Israel te gee nie. Die doel is veral teologies van aard en verkondig die regverdigheid van Jahwe (Goslinga 1968:18–22; Brueggemann 1985:44; Firth 2009:21). Die hoofstukke in die boek het daarom nie oral ’n historiese volgorde nie.

Brueggemann (2003:394–395) sê dat die teksvorming wat op die Ou Testament uitgeloop het ’n moedige, voortgaande interpretasie is en dat interpretasie nooit blote rapportering is nie. Interpretasie is eerder ’n kreatiewe/skeppende proses wat betekenisvolheid identifiseer en artikuleer. Dit word deels in ou nuanses ontdek en deels in die worsteling van ouer betekenisse nadat ’n nuwer teks uitgevind is. Nogtans is dit volgens hom belangrik om te besef dat die getroue kerk in sy eie tyd en plek voortgaan met dieselfde interpreterende prosesse wat by die teksmakers gegeld het en dat die teks dus elke keer wat dit gelees word, geïnterpreteer word.

Volgens Brueggemann (2003) is daar ’n skerp verskil tussen verbeelding as getroue interpretasie en ongedissiplineerde, onkritiese fantasie. Met verwysing na R. Kearney en Bryant sê hy:

It is possible, beyond that distinction, to suggest that imagination is not only an act of initiation, but it is also an act of receptivity through which new interpretations ‘come to us’ and are ‘given to us’ in ways that lie beyond our own generativity. Thus it is possible to see that imagination is a fertile arena in which God’s self-disclosing power calls us beyond our own interpretive horizon so that ‘new truth’ may arise in interpretation. Thus for example: And Jesus answered him, ‘Blessed are you, Simon son of Jonah! For flesh and blood has not revealed this to you, but my Father in heaven’ (Matt 16:17). (p. 397)

Brueggemann haal hierby vir Anderson (1979:35) aan wat sê dat God vandag deur die Skrif met sy volk praat by die raakpunt van ons verbeelding, met ander woorde waar die ‘geïnspireerde geskrif’ die ‘geïnspireerde leser’ ontmoet en die Woord van God word. (Anderson behandel in hierdie boek die terme Word of imagination, narration, liberation en obligation.)

Brueggemann se ernstige poging om reg te laat geskied aan God se selfopenbaring en tegelykertyd ook aan die menslike aandeel in die interpretasie, moet waardeer word. Tog is daar ’n ernstige leemte in hierdie benadering en motivering. Dit maak nie erns met die skerp verskil wat die teks (Matt 16:13–23) aantoon tussen die menslike en God se aandeel, dié van Petrus en dié van Jesus, nie. Jesus beoordeel Petrus se belydenis oor Hom as iets wat nie deur ’n mens geopenbaar is nie, maar deur sy Vader in die hemel. Die gedeelte word verder onmiddellik opgevolg deur Petrus se weiering om te aanvaar dat Jesus sou ly en doodgemaak word en daarna sou opstaan. Jesus se reaksie teenoor Petrus hierop is: ‘Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ’n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat mense wil hê.’

Hiervolgens staan die menslike imagining selfs by iemand soos Petrus wat hierdie grondleggende belydenis oor Christus gedoen het, in konflik met wat God wil hê. Om voortgang te bewerk, moet God as ’t ware iets vanuit die dood na vore laat kom soos by die geboorte van Samuel uit ’n onvrugbare vrou. Daarmee begin die Samuelboeke en die lied van Hanna (1 Sam 2:1–10) benadruk ook dat God se heerskappy geheel en al anders is as wat ’n mens sou verwag (2 Sam 24). Die boeke eindig met die mededeling dat die Here vir Dawid aangehits het om die volk te tel (2 Sam 24), iets wat ook teen die menslike verwagting ingaan. Sowel die Samuelboeke in die Ou Testament as Matteus in die Nuwe Testament loënstraf Brueggemann se benadering. Daarom is Brueggemann (2003) se volgende stelling ’n verskuiwing na ’n ongegronde en te optimistiese benadering van die menslike aandeel in die openbaring van die Skrif:

It is likely unhelpful, in the modern world, to speak of God as ‘author’ of Scripture and more helpful to reflect on God’s authorizing of the text that is produced by human agents in a believing human community. Thus the human documents of Scripture carry divine authority, so that the claim for God’s ‘authorship’ of Scripture is not a literary one, but rather a theological one. In the end, it is adequate to say that ‘we love these books’. We in the church have found them trustworthy, true, and reliable. (p. 398)

Hierteenoor moet egter onthou word dat die Bybel nie bloot aanvaar is omdat mense daarmee saamgestem het nie. In die saamstem is daar ook die uiters belangrike erkenning dat die Bybel ’n korrektief op die menslike benadering is.

Volgens Brueggemann (2003:xii, 396) stem die imagining nie so sterk ooreen met die belydenisse en normatiewe lerings van die kerk as wat Green (1989:70) en Childs meen nie.

Brueggemann maak nie genoeg erns daarmee dat bara (skep) in die Ou Testament net vir God se optrede gebruik word nie (Schmidt 1971:338). Die teologie se taak is nie skeppend nie, maar ontdekkend, naamlik om vas te stel wat God in die Woord sê. Hoewel Firth in sy boek van hierdie benadering uitgaan, gebruik hy die woord skeppend ongelukkig in ’n relatiewe, rekbare betekenis soos in die nie-teologiese spraakgebruik in verband met kuns, letterkunde, ensovoorts (Firth 2009:26). Hy sê die boek is saamgestel deur ’n kreatiewe outeur wat vroeëre materiaal gebruik het, maar tog vrylik te werk gegaan het.

Childs (2000:230–232) lewer grondige kritiek op Brueggemann se benadering van ’n countertestimony in teenstelling met dit wat Brueggemann die kerngetuienis in die Ou Testament noem. Volgens Childs ken Brueggemann ten onregte aan Skrifgedeeltes wat ’n kritiese funksie vervul, ’n onafhanklike rol toe as countertestimony – geheel teen die grein van Israel se kanoniese getuienis in. Hy rekonstrueer stemme waaroor Israel se outeurs reeds ’n oordeel gevel het (Ps 14:1; Jer 15:19; Pred 12:13 e.v.). Sy countertestimony is deel van ’n versinde dialektiek en veronderstel ’n konstante teenoorgestelde. Dit sny die ware toegang na die teologiese betekenis van die klaging as ’n konstitutiewe element van Israel se geloof af. Interpretasie is vir Brueggemann ’n nooit-voltooide handeling van teenstrydige stemme. Die gevolg is dat die God van Israel sowel genadig as meedoënloos is, betroubaar sowel as misleidend, magtig sowel as impotent. Childs oordeel verder dat Brueggemann se postmodernisme dualisties is en sterk met gnostiek ooreenkom. Albei gaan van ’n filosofiese dualisme uit (vgl. ook Bergsma 2000:105–135).

Die bespreking hierbo wys dat 1 en 2 Samuel ’n kennisbron is wat as eenheid lig werp op die kwessie van God se konsekwentheid. In aansluiting by Childs en Goslinga gaan dit dus om wat die boeke soos dit tans daar uitsien, vir ons wil sê.

Dawid, Saul en Simeï se verhouding met God en omgekeerd

Brueggemann se stelling dat Saul presies dieselfde opgetree het as Dawid, en tog nie God se guns kon kry nie, is nie geldig nie. Eerstens word duidelik gemotiveer waaraan Saul hom skuldig gemaak het. Hy kan niemand anders as net homself verwyt vir wat uiteindelik met hom gebeur het nie. Hy is en bly oppervlakkig in sy godsdiens. Dit word uitgedruk in die profeet se woorde, ‘Gehoorsaamheid is beter as offerande’ (1 Sam 15:22).

Diepe en ware berou ontbreek ook by Saul, in teenstelling met Dawid se optrede. Brueggemann (1985) se benadering in sy kommentaar op 1 en 2 Samuel is ’n raker beoordeling van Saul as in sy teologie (Brueggemann 1997) en inleiding (Brueggemann 2003). Hy stel naamlik ‘Dawid is anders as Saul wat in sy angs en opgewondenheid hom anders moet voordoen as wat hy is en wat sonder realiteit van geloof of menslikheid eindig’ (Brueggemann 1985:356). Laastens hou Brueggemann se stelling nie voldoende rekening met die feit dat God dieper kyk en beoordeel as die mens nie (1 Sam 16:7).

Borgman (2008:62) toon aan dat daar nie ’n onomkeerbare lot in Saul se optrede is nie, maar dat hy ’n keuse het. Hy faal waar Dawid wel slaag, byvoorbeeld om ware berou te betoon (Borgman 2008:86, 114, 190). Tog is daar ook wel ’n minder vroom en konsekwente kant by Dawid op te merk. God werk egter nie arbitrêr nie, maar met wie Hy in sy beplanning wil werk (Borgman 2008:144–147).

Die Samuelboeke verkondig dat daar dieper gekyk moet word as wat die mens kan sien. Dit geld veral die mens se verhouding met God, of nog dieper gestel, God se verhouding met die mens. Daar kan nie bloot resepmatig opgetree of geoordeel word nie, want dit raak ’n lewende, persoonlike verhouding tussen God en die mens. In hierdie verband is die begin van die Samuelboeke belangrik, naamlik gebede om uitkoms en gebede vir ’n geboorte, wat God se lewewekkende mag toon. Die lied van Hanna (1 Sam 2:1–10) besing as antwoord daarop die onpeilbare optrede van God. Hy alleen is die heilige God, die rots waarop ’n mens kan vertrou. Sy optrede is in baie opsigte heeltemal anders as en selfs teenoorgesteld aan dié van ’n mens (1 Sam 2:1). ’n Mens moet dus nie hoogmoedig raak en jou dit aanmatig om God se optrede te beoordeel nie. Hy sien nie bloot wat voor oë is nie, maar is ’n God van diepe kennis en Hy toets dade (1 Sam 2:3); Hy spreek reg tot aan die eindes van die aarde (1 Sam 2:10); Hy maak arm en Hy maak ryk; Hy keer selfs die rolle en omstandighede om; Hy is ’n God wat Hom oor dié ontferm wat hulle toevlug by Hom soek soos Hanna; en Hy bewerk uitkoms. ’n Mens oorwin nie deur eie krag nie! Dié wat teen Hom in opstand kom, word vernietig (1 Sam 2:7–10). Dit gaan in 1 Samuel om God se soewereine wil en mag. Hanna se lied roem Hom as die alwetende God (1 Sam 2:3b; Tsumura 2007:71). Die Samuelboeke wil dus nie (bloot) iets oor Dawid sê nie, maar dit handel veral oor God, selfs ondanks Dawid.

Vyandskap speel ’n belangrike rol in wat die Skrif oor Dawid stel. Dawid het vyande van buite, maar ook vyande van binne, selfs in sy binnekring is sy eie bloedkind, Absolom. Verder is daar van sy eie ondersteuners soos Abisai en Joab, wat die eintlike stryd nie peil nie. Hulle houding om geweld te gebruik, maak dit vir Dawid moeilik om reg op te tree (2 Sam 16:9–10). Hulle begryp nie dat ’n mens ook die hand in eie boesem moet steek nie. Anders as Dawid herken hulle hulleself nie in hierdie opsig as ’n vyand teen hulleself in die saak nie, maar wil net selfverdedigend en met geweld optree. Daar is ook nog die skuldlas van Dawid se sonde met Batseba waardeur hy sy eie vyand geword het en wat hom in sy eie gewete en die gevolge van die sonde vasdraai. Hierdie is iets soortgelyks aan Jesus se situasie: Judas pleeg verraad, net soos Absolom en Jesus se eie apostel (Petrus) word vir Hom ’n Satan. Verder is daar ook nog God se vyandskap, naamlik in die motivering van Dawid se volkstelling waar God vir Dawid teen die volk aangehits het (vgl. egter 1 Kron 21:1 wat stel dat Satan dit gedoen het; vgl. ook Klaagl 3:1–20 vir God se vyandige optrede teenoor ’n gelowige).

Wat Saul as Dawid se vyand betref, toon die Samuelboeke dat hy selfgesentreerd en hoogmoedig geword het. God se reaksie is: ‘Ek is bedroef daaroor dat Ek vir Saul koning gemaak het, want hy het van My af weggedraai en nie my opdragte uitgevoer nie’ (1 Sam 15:10–11). Samuel is ontsteld oor die verloop van sake en smeek Jahwe die hele nag om uitkoms, maar Hy bly by sy voorneme. Sy droefheid beteken nie dat sy besluit verkeerd was nie, dit is God se reaksie op Saul se wegdraai van Hom af en van wat Hy vereis. Hy is die onveranderlike God, Hy bly steeds geregtigheid en gehoorsaamheid eis. ‘Die Here het die koningskap van Israel nou van jou afgeskeur en dit gegee aan jou naaste wat beter is as jy. Die Ewige van Israel lieg nie en Hy verander nie van gedagte nie, want Hy is nie ’n mens dat Hy van gedagte sou verander nie’ (1 Sam 15:28–29). Hierdie optrede van God stem ooreen met sy optrede by die sondvloed (Gen 6:6–8).

Die toon aan die begin van die boeke, naamlik die buitengewone geboorte van Samuel en ook die lied van Hanna, dui aan dat God wil hê dat alles – ook die latere koningskap – met hierdie erkenning van God se heerskappy beoefen moet word. Verder ook dat God se heerskappy in hierdie gebroke en sondige wêreld uitgevoer word in en deur en ondanks sondige mense soos in die gebeurtenisse rakende Saul en Dawid.

Die Samuelboeke toon ook aan dat iemand selfs kan faal al is so ’n persoon goed toegerus vir die situasie. Dit stem heeltemal ooreen met dit wat Genesis 1–3 oor die mens leer, naamlik hy was goed geskep en toegerus, maar het nogtans die toets gefaal. ’n Mens kan nie op die mens en selfs sy beste toerusting vertrou nie, maar slegs op God alleen (‘Moet op prinse nie vertrou nie’, Ps 146, berymd).

Dawid se verhouding met Saul hang saam met sy verhouding met Simeï. Sy optrede teenoor Simeï werp belangrike lig op die onderwerp. Simeï het tydens Absolom se opstand teen Dawid vir Dawid geloop en vloek en klippe na hom en sy mense gegooi (2 Sam 16:5–16). Om met klippe te gooi, behels om simbolies, in Tora-styl, ’n oordeelsvoltrekking uit te voer (Lev 20:2, 27; 24:14, 16; Num 15:35; Deut 13:10; 21:21, 24; Bergen 1996:408–409). Simeï hou Dawid blykbaar verantwoordelik vir die dood van minstens sommige van Saul se familie (Cartledge 2001:574). Uit sy oogpunt gesien, het God die koninkryk aan Absolom oorgelewer sodat Dawid s’n tot vernietiging gedoem is.

Anders as Simeï se optrede, is Dawid se optrede teenoor hom en Saul egter heeltemal beheers deur sy verhouding met God en wat Hy van Dawid verwag. Saul en Simeï se optredes is deur hulle eie persoon beheers en is ongetemperd. Soos ook elders, lê Dawid ’n verband met God om Abisai te verbied om sy begeertes uit voer om Simeï te laat doodmaak (1 Sam 26:9–11). Dawid hoop dat indien God vir Simeï opdrag gegee het om hom te vloek, dit tot Dawid se uiteindelike voordeel kan wees deurdat God sy ellende raaksien en hom vergoed vir die gevloek (1 Sam 26:12; vgl. God se optrede in verband met Bileam volgens Deut 23:5; asook Keller 1971:239 – Jahwe is die absolute Heer oor alle vloekspreuke).

Simeï is ’n toets aan Dawid in verband met die koningskap. Waltke (2007:673) oordeel dat Dawid se eed aan Simeï nie opreg is nie, want later maak hy hom tog dood. Hy doen dit net op ’n tegniese punt, deur Salomo dit te laat doen in plaas daarvan om dit self te doen (vgl. ook Cartledge 2001:615). Dawid moet egter meer genuanseerd beoordeel word. Hy het later ten koste van homself erken dat ’n ware regering vereis dat geregtigheid moes gegeld het in hierdie opsig en dat dit voltrek moet word. Dawid kom dus wel nie vry van sy optrede nie. Volgens die Samuelboeke is die mens nie die norm waarop ’n mens moet vertrou nie, maar God en sy Woord. Dawid sien dit juis so in. Daar is magte groter as Dawid aan die werk.

Dawid se reaksie op Simeï se vloekery, sy minagting en sy beskuldiging dat Dawid ’n moordenaar en ’n skurk is, is merkwaardig (2 Sam 16:7–13). ‘Dit is een van die verbasendste wendingspunte in die verhaal met sy oorvloed van menslike verrassings’ (Alter 1999:293). Seruja se seun, Abisai, is verontwaardig oor hierdie verkleinering van die koning en wil Simeï se kop gaan afkap. Dawid weier egter en antwoord met die volgende veelseggende woorde waarin hy twee keer sê dat Jahwe vir Simeï die opdrag gegee het om dit te doen:

Hy vloek so omdat die Here hom beveel het om vir Dawid te vloek! Niemand moet nou vra waarom hy dit doen nie ... My eie bloedkind soek my lewe. Daarom moet julle hierdie Benjaminiet met rus laat dat hy maar vloek, want die Here het hom die opdrag gegee. Miskien let die Here op my ellende en beloon Hy my met iets goeds vir vandag se vervloeking. (2 Sam 16:10, 11–12)

Hierin blyk ’n diepe erkenning van sy sonde, veral dié met Batseba (Cartledge 2001:575–576). Dawid se erkenning van die straf op sy sonde beteken egter nie dat hy Simeï se motivering erken nie (McCarter 1984:376).

In Dawid se woorde klink ’n verdere erkenning van God se allesoorkoepelende heerskappy wat ook hierdie aanmatigende en verkleinerende optrede teenoor hom as koning gebruik om hom tot verantwoording en inkeer te roep. Dawid stel hom ten volle in die hand van Jahwe en wag op wat Hy bepaal. God is die bron van alle regering, nie ’n mens nie. God se werke word gewoonlik in die verborgene uitgeoefen: Hy gryp nie direk in die gebeurtenisse in nie, maar handel deur mense (vgl. Seiler 1998:326).

Dawid se opmerking oor Simeï is nie slegs ’n los of periferiese teks nie, maar vertolk Dawid se hele lewensbenadering – die lewensbenadering wat hom ’n kardinale plek in die Ou-Testamentiese openbaring toeken (vgl. hierbo). Birch (1998:1326) stel dat die naasmekaarplasing van die politieke werklikheidsin en die geloofsvertroue deel is van die charisma wat ’n mens van Dawid boei en hom so ’n invloedryke figuur in die Joodse en Christelike tradisie maak. Die Dawidsgeskiedenis toon dat Dawid God se allesoorkoepelende heerskappy erken, asook die werklikheid van die diep sondige bestaan van die mens en sy samelewing. Almal het daaraan deel. Hierdie feit vra sondebesef, selfontdekking, selfverloëning, berou en bekering. Dit merk ’n mens op by Dawid, maar dit ontbreek by Saul en Simeï (Waltke 2007:672).

In die Samuelboeke gaan dit nie daaroor om skeppend te dink nie, maar om ontdekkend te dink, veral ontdekkend oor jouself. Die bron van hierdie ontdekking is die profetiese Woord van die Here. Dawid erken dit soos duidelik blyk uit sy optrede teenoor Saul en Simeï.

Verder toon die Samuelboeke dat die menslike verantwoordelikheid ten volle geld, maar dat die goddelike genade beheersend is vir diegene wat werklik in Hom glo. Dit word bewys deur die roeping en verkiesing van Dawid. Hy is die jongste van sy broers en is aanvanklik nie eers in ag geneem vir die salwing nie (1 Sam 16:11). Hanna se lied sê: ‘Die Here laat die geringes uit die stof opstaan, Hy hef die armes op van die ashoop af om hulle by vername plekke te laat sit’ (1 Sam 2:8). Dieselfde gedagte word aangetref by die roeping van Abraham (Gen 11:31–12:3), die geskiedenis van Jakob en Esau (Gen 25:23) en die gedagte van ’n oorblyfsel by die profete (Jes 6:13).

Menslike beredenering en oorweging skiet te kort om die allesoorkoepelende wil en optrede van God te peil en daarvolgens te lewe. Caird (1953) sê tereg:

Om te glo dat God die geskiedenis beheers en dat niks buite die sfeer van sy wil gebeur nie, bring geweldige intellektuele probleme, maar daarsonder is daar geen groot geloof nie. (bl. 872)

Die Here is die Ewige en is vrymagtig. Al voel dit vir ’n erg beproefde persoon dat Hy ’n hartelose vyand is (Klaagl 3:1–20), is dit nie so nie en staan Hy in ’n persoonlike verhouding met Israel/die mens. Daarom is Hy ook genadig. Die mens is tyd-ruimtelik gebonde, ook in sy denke. Daarom is die goddelike verkiesing vir ons onbegryplik. Die mens hink op twee gedagtes (Dawid, Petrus), maar nie God nie:

Die Here verstoot ’n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor ’n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer; want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring. (Klaagl 3:31–33)

Brueggemann se nadruk op die skeppende imagining van die mens word deur die Samuelboeke geloënstraf. In plaas daarvan om lig op die sogenaamde donker optredes van God te gee, laat dit ’n mens met onsekerheid oor God se betroubaarheid. Brueggemann se kommentaar op Samuel (1985:356) eindig op ’n positiewe noot in verband met Dawid: ‘So ’n lewe trek saam in blye, onderworpe aanbidding, dieselfde aanbidding waarmee Hanna die narratief begin het.’ Sy inleiding (Brueggemann 2003:402) eindig ook wel op die mooi noot van reformasie, wat met ’n herlesing van die Skrif gepaard moet gaan: ‘Ter wille van die kerk en sy taak (mission) leef lesers van hierdie tradisie uit die Skrif en gee onskuldig, krities, gehoorsaam en hoopvol daarop ag.’ Die totaal andersheid van God se optrede soos in die lied van Hanna gestel word en wat selfverloëning, dankbaarheid en vertroue inhou, ontbreek egter in hierdie slotwoorde.

Peels (2011a:20–22) sê dat God se lankmoedigheid deel is van die credo wat die hele Ou Testament beheers, sonder dat dit die uiteindelike straf uitsluit (vgl. ook Peels 2011b:23–31, 43–47). Volgens Peels kan die wraak van God omskryf word as die straffende vergelding van God wat in koninklike soewereiniteit – trou aan sy verbond – rigtend en strydend opkom vir die eer van sy naam, waak oor die handhawing van sy reg en werk aan die verlossing van sy volk. (Vgl. ook Wessels 2011:508 oor die Woord van God as ’n vuur by Jeremia en wat uitdrukking gee aan die oorredende krag van die Woord, asook dat die Woord valsheid en onwaarheid vernietig.)

Die voorafgaande bespreking toon dat God in verband met Saul, Dawid en Simeï vrymagtig optree, maar tegelykertyd regverdig en genadig is en dat sy genade vir die mens ’n lewe van geloofsvertroue en gehoorsaamheid inhou.

Die menslike wil en God se wil

Soos reeds aan die begin in die lied van Hanna gestel is, leer die Samuelboeke dat die goddelike wil in belangrike opsigte anders is as wat die mens wil, selfs wanneer die mens dit ten beste bedoel. Dit geld vir Saul wat goed begin, maar in moeilike omstandighede misluk (1 Sam 15:11). Dit geld selfs vir ’n opregte profeet soos Natan wat goedbedoelde menslike raad oor Dawid se voorgenome tempelbou gee (2 Sam 7:3–5). Dit getuig oor Simeï se onbeheersde optrede en gevloek – nogal teenoor die gesalfde van die Here, asook die ommeswaai in sy optrede teenoor Dawid toe dit duidelik geword het dat Dawid die oorhand oor Absolom en sy opstand gekry het (2 Sam 19:15–20). Dawid hou juis rekening met die heerskappy van God in alles wat gebeur. As hy sê dat God vir Simeï die opdrag gegee het om hom so te vloek (2 Sam 16:10–11), sê hy nie daarmee dat God Hom aan Simeï geopenbaar het nie, maar dit vertolk sy skuldbesef oor sy sonde met Batseba (2 Sam 12:10). Simeï tree op volgens sy eie wil en agenda. Tog is sy optrede tegelykertyd ’n uitvoering van God se heerskappy, al is dit wesenlik anders en selfs strydig met God se doel, maar het ten doel om Dawid tot selfontdekking te laat kom.

Brueggemann sê dit word duidelik dat die God van Israel diep ingewikkeld is en gedefinieer word deur die ergerlike optrede van die menslike aard wat God se heerskappy uitdaag, maar hom ook daaraan onderwerp – ’n vreemde mengsel van Ja en Nee. Dit is geen wonder nie dat die ontsluiting van die waarheid in hierdie tradisie artistieke narratiewe benodig in order to sound the odd cadences of Davidic reality, divine fidelity paced by the irregular beat of human assertion (Brueggemann 2003:143).

God sien dieper as die mens, én Hy sien oorkoepelend. Hy sien alles. Hoe gebeure inmekaar skakel, is nie vir die mens as skepsels begryplik nie. Dit is soos in Genesis 3 in verband met die slang en die bose mag wat agter hom sit waardeur die mens, wat deur God goed gemaak is, verlei word tot ongehoorsaamheid aan God. Die Skrif gaan glad nie verder op die saak in nie, maar gee breedvoerig aandag aan die mens se verantwoordelikheid en God se straf en sy genade wat verder as dit strek. Dit is vir die mens genoeg om te weet om ’n sinvolle, doelgerigte lewe te kan lei.

God se verbond met Dawid: Verkiesend, onvoorwaardelik, persoonlik

2 Samuel 7 het te make met ‘n hoogtepunt in die geskiedenis van Dawid en die hele verbondsvolk (Kaiser 1978:143). Dit begin met Dawid se voorneme om ’n tempel vir die Here te bou. Hierin word die verskil tussen die menslike oorweging en die goddelike oorweging duidelik getoon soos hierbo gemeld is. Daarna handel dit oor die verbond wat God met Dawid en sy nageslag oprig. Hierin kom veral die persoonlike aard van God se heerskappy of koninkryk na vore: Hy wil nie in ’n gebou woon nie, maar in ’n persoon (Helberg 2011:157). Hy wil iemand hê met wie Hy ’n Vader-kindverhouding beoefen. Daarvoor sal Hy self sorg: een van Dawid se eie seuns sal Hom dien. Indien daardie verhouding deur hom verbreek word, sal hy gestraf word, maar met ’n vaderlike straf en vergewing wat die verhouding nie laat afbreek nie, maar laat standhou. Hierin word die verkiesende optrede van God beklemtoon. Menslike verdienste is nie die oorwegende faktor nie, maar wel genadige goddelike optrede. Dawid kan op niks roem nie. As dit nie vir God se verkiesende genade was nie, sou God sy trou ook aan Dawid onttrek het soos Hy dit aan Saul onttrek het om vir Dawid plek te maak (1 Sam 7:15).

Dawid sien dit ook so volgens sy antwoord op God se verbond met hom (1 Sam 7:20–29). Wat gebeur het en wat Dawid gedoen het, was trouens die ‘wil en besluit’ van God. Dawid is diep onder die indruk van die verhewenheid, almag en grootsheid van God wat alle menslike begrip en tydsbeperking te bowe gaan. Hy druk dit uit in kragtige taal en met terme soos Here God, Here, Almagtige God en vir altyd/ewig. Laasgenoemde uitdrukking word herhaaldelik in die hoofstuk gebruik en het ’n besonder sterk betekenis (1 Sam 7:18–22, 24). Dawid weet dat die God van Israel bo dit wat swak en broos in Dawid se menswees is, uitstyg en dit as ’n geleentheid vir nuwe lewe gebruik (Brueggemann 1985:357).

Dit gaan hier om verkiesing en verbond, maar dit impliseer nie ’n meganiese verhouding nie. Dawid bid ook nog om die vervulling van hierdie onvoorwaardelike verbond. Menslike verantwoordelikheid, ’n pleitgebed en persoonlike omgang met God is steeds deel van die pad wat God met ’n mens loop (1 Sam 7:28–29). Hoewel die verbond onvoorwaardelik is, hang die koning se belewing van die seëninge af van sy gehoorsaamheid aan die Mosaïse verbond (Waltke 2007:661). Die mens bly ’n sondige wese. God se verbond word gewoonlik onmiddellik daarna getoets deur die mislukking van dié wat deur die verbond bevoordeel is (Waltke 2007:654).

Die volkstelling van Dawid: Wie is die aanhitser?

Die redes wat in 2 Samuel 24:1 en 1 Kronieke 21:1 onderskeidelik vir Dawid se volkstelling aangegee word, gee aanleiding tot baie meningsverskil onder teoloë. 2 Samuel 24:1 noem dat God op ’n keer op Israel vertoorn was en dat Hy Dawid teen hulle aangehits het om die Israeliete en die Judeërs te gaan tel. 1 Kronieke 21:1 daarenteen, sê dit is Satan wat teen Israel gekant was en Dawid aangehits het. Hierdie oënskynlike teenstrydigheid word opgelos wanneer erns gemaak word met die allesoorkoepelende heerskappy van God soos in die voorafgaande bespreking gestel is.

Die Samuelboeke sluit af met dieselfde nadruk op die allesoorkoepelende heerskappy van God as aan die begin soos veral blyk uit die loflied van Hanna. Hierdie heerskappy maak byvoorbeeld gebruik van Saul (in die greep van ’n bose gees wat deur God gestuur is), van Simeï (wanneer hy Dawid vloek) en van Dawid wanneer hy ’n volkstelling hou ten koste van die volk en van homself (1 Sam 16:13–14; 2 Sam 16:10, 11; 24:1). Brueggemann (1997:249–250) oordeel dat God ten opsigte van Dawid hier die grense van redelikheid oorskry en iets van ’n demoniese aard vertoon.

Volgens Brueggemann (1997:372) toon Israel se kernbelydenis ’n spanning wat gewortel is in ’n teenstelling in die aard van Jahwe: Jahwe lok Dawid uit tot ’n verkeerde daad sodat Jahwe hom swaar daarvoor kan straf. Daar is iets wispelturigs (capricious), of minstens verborge, in Jahwe se optrede. In wese getuig Israel se countertestimony iets grondig ongeloofwaardigs oor Jahwe, selfs oor sy optrede teenoor Dawid aan wie Hy algehele trou beloof het.

Brueggemann (1997) gaan voort en sê:

Dit wys onbetwisbaar dat Jahwe niemand se gyselaar is nie, nie eens Dawid s’n nie ... Die verbasende countertestimony van 2 Samuel 24 (1 Kron 21) bevestig dat Jahwe se ooreenkomste voorwaardelik is, en uiteindelik sal daar nêrens in die skepping op sy heiligheid, heerlikheid en jaloersheid beslag gelê kan word nie. (bl. 372)

Hierdie laaste opmerking van Brueggemann is belangrik en maak erns met die feit dat God allesoorkoepelend regeer, maar ongelukkig maak hy nie dieselfde erns met die eenheid en algehele andersheid in God se werk en sy ontferming teenoor dié wat hulle afhanklikheid van Hom erken en soos in die lied van Hanna besing nie. Brueggemann verlaat hom in hierdie beoordeling te veel op sy benadering van ’n konstante menslike countertestimony in die Skrif en wat hy meen die funksie daarvan is. Brueggemann maak ook nie dieselfde erns met die Samuelboeke en die Ou Testament se erns met die sondigheid van die mens nie.

God se optrede oor die volkstelling oorskry nie die grense van redelikheid nie, maar is in der waarheid sy handhawing van geregtigheid en van straf op Israel toe hulle Jahwe verwerp en ’n koning soos dié van die ander nasies gevra het (1 Sam 8:5). God straf sonde, maar Hy is tegelykertyd ’n genadige God; uit die oorblyfsel van sy straf maak Hy ’n nuwe begin, lewe uit die dood – ’n verkondiging wat veral ook by die profete voorkom (Helberg 2011:222–223). Om heil by iets of iemand anders as by God wat lewe skep, te soek, bring trouens vanself doodsellende mee – vanself, maar tog steeds onder die allesoorkoepelende heerskappy van God.

Dit wat Dawid en Israel tref, is nie ’n demoniese optrede van God nie, maar wys op die ontsettende gevolge van die sonde. In hierdie stukkende, sondige wêreld gebruik God selfs die Satan (1 Kron 21:1) vir sy doel. Daar is hoop vir diegene wat berou het en om genade bid. Die redes vir God se toorn is heeltemal ongespesifiseerd, maar daar kan by wyse van afleiding redes gevind word soos militêre oorwegings en dus vertroue op iets anders as God (2 Sam 24:3). Die afleiding van Alter (1999:352, 356), naamlik dat die God van hierdie verhaal heeltemal anders is as die God van die hoofverhaal, dat Hy ’n arbitrêre God en Dawid hier ’n strooipop (flat character) is, is beslis nie geldig nie. Die klem val hier voluit op God se allesoorkoepelende heerskappy wat Hom nie teenoor die mens hoef te verantwoord nie.

Peels (2011b:9–22) kyk tereg positief na die onverstaanbaarheid van God en benadruk onder andere die belangrike plek van die gelowige se stilwees voor God in verwondering en lofprysing. Ook die profete het te doen met ’n spanning tussen God se straffende en sy ontfermende optrede. Veral in die boek Jesaja kom hierdie kwessie tot ’n klimaks: God heers egter allesoorkoepelend. Selfs waar dinge verkeerd loop, bly Hy in beheer sonder dat Hy vir die verkeerde in die gebeure geblameer kan word. Inteendeel, Hy is onpeilbaar genadig en ontfermend teenoor Israel en die nasies (vgl. ook O’Kennedy 2011:743). Hoe God se optrede inmekaar steek, is nie duidelik nie. Die feit is egter die volgende: God kan nie geblameer word nie, maar Hy is in volle beheer soos by die verleiding van die mens deur die slang, die bose (Gen 2–3).

Om die straf oor die volkstelling te laat ophou, bring Dawid ’n offer (2 Sam 24:25). Die lydende dienaar van die Here (Jes 53:10) bring ook ’n offer. Hy gee homself, vir die mens. In die Nuwe Dawid word dit ten volle vervul (Matt 27–28). Is dit demonies van God? Hy doen dit as ’t ware aan Homself. Die diepste antwoord is dus die wonder van ‘die dwaasheid van die kruis’: ’n magtelose koning wat oorwin deur gewillig aan ’n kruis te hang en Hom deur sy God te laat verlaat (Matt 27:46). Vir die mens is dit tot verlossing en vreugde, maar is dit billik en regverdig teenoor Hom? Daar is dus vrae oor reg en geregtigheid wat ’n mens nie met jou menslike verstand bevredigend kan antwoord nie, maar alleen deur die geloof in die alleskoepelende heerskappy van God. By Hom het genade en liefde die laaste woord en dit vra dat alles met vertroue in sy hand gelaat word.

Die allesoorkoepelende heerskappy van God is kenmerkend van die benadering van die boek Samuel. In 1 Samuel 2:22–25 word Eli se vermaning aan sy seuns oor hulle sedeloosheid by die tempel en ander goddelose optredes gemeld. Dan hoor ons hierdie vreemdklinkende beoordeling wat dit laat lyk asof God reeds by voorbaat teen hulle wou optree en net na ’n rede gesoek het om dit te doen: ‘Hulle het egter nie na hulle pa se vermaning geluister nie, want die Here het besluit om hulle dood te maak.’ Hulle lyk na slagoffers van God se negatiewe gesindheid teenoor hulle. Dit word gesê as teenstelling tot God se positiewe gesindheid teenoor Samuel: ‘Maar die seun Samuel het grootgeword en die Here en die mense was hom goedgesind’ (1 Sam 2:26). God se optrede is dus nie net ’n gier van sy kant nie. Hierdie gedeelte in die boek wys dat daar wel grond vir God se optrede is, sodat Hy nie aanspreeklik gehou kan word vir die negatiewe gevolge nie. Tegelykertyd wys dit dat God ook in sy allesoorkoepelende heerskappy alles laat gebeur. Niks gebeur sonder dat Hy dit wil of bepaal nie.

Die Samuelboeke bied nie spekulatiewe of metafisiese stellings nie, maar het met bepaalde konkrete situasies te doen (Brueggemann 197:354). Tog verkondig dit God se allesoorkoepelende heerskappy. Selfs uitsprake soos: ‘Ek maak die lig en skep die donker; Ek gee voorspoed en skep rampspoed. Ek is die Here, Ek doen al hierdie dinge’ (Jes 45:7) moet in verband met Dawid verstaan word (vgl. ook Deut 32:39; 1 Sam 2:6–7; Job 5:18; Jes 14:24–27; Elliger 1978:498–503).

Die gebeure rondom Dawid bring dit sterk na vore hoe God se allesoorkoepelende heerskappy geld en met die verhouding tussen Hom en die mens saamhang, veral in die mens se gesindheid, hetsy positief of negatief, asook die implikasies daarvan. Genade én geregtigheid is albei steeds teenwoordig.

Dawid se optrede in verband met Simeï wys dat ’n mens in bepaalde gevalle iemand nie bloot as vyand kan afmaak nie, maar in die vyand en sy optrede tegelykertyd ’n waarskuwing oor jou eie optrede moet herken. Dit wys ook dat ’n mens in God as die vyand jou versoener en verlosser kan herken.

Jahwe lê ’n persoonlike band met Dawid. Dawid reageer met dankbaarheid en die besef van sy eie onwaardigheid (2 Sam 7). Dit kom veral uit in sy reaksie op die profeet Natan se aankondiging van sy straf oor die gebeure met Batseba. Al wat hy kon uitkry, was: ‘Ek het gesondig teen die Here’ (2 Sam 12:13; vgl. ook Ps 51:6: ‘Teen U alleen het ek gesondig’). Die kernrede vir God se weiering van Dawid se voorgenome tempelbou is dat Dawid nie vir Hom ’n woonplek sal bou nie, maar Hy sal vir Dawid een bou (Helberg 2011:156–159). Hiermee wys God op sy absolute heerskappy en sy heel ander aard as dit wat die mens wil hê (2 Sam 7:1–3). Dit wys ook in ’n heel ander rigting as die imaginitive remembering waarvan Brueggemann vir die vorming van die kanon en gedeeltes daarvan praat. Watter bronne ook al in die ontstaan van die Samuelboeke ’n rol gespeel het, die duidelike verkondiging van die boeke in die geheel gesien, is die allesoorkoepelende, regverdige, genadige en onpeilbare heerskappy van God. Dit spreek van revelational remembering – om by Brueggemann se terminologie van remembering aan te sluit. Alles is onder God se heerskappy en bepaling, selfs wanneer Satan vir Dawid aanhits.

Die verkondiging van 1 en 2 Samuel adem dieselfde gees as die res van die Ou Testament deur die sterk vooropstelling van God wat onvoorwaardelik erken en vertrou kan en moet word, byvoorbeeld in verband met die sondeval (Gen 2–3); die onvoorwaardelike opdrag aan Abraham om sy land te verlaat en later om sy seun van die belofte te gaan offer (Gen 12, 22); God se uitdaging aan Job om te bewys dat hy die wêreld beter kan regeer (Job 38–42); God se antwoord aan die verbondsvolk se vertwyfeling (Jes 40:25–31); God wat siek maak en ook gesond maak (Deut 32:39); God wat voorspoed gee en rampspoed skep (Jes 45:7); God se stelling dat dit wat Hy doen, nie ter wille van Israel is nie, maar ter wille van Homself (Eseg 36:32); die getuienis van die psalmdigter dat hy hom nie aanmatig om hom te vermoei met dinge wat bo sy vermoë is nie, maar by God tevredenheid gevind het soos ’n kindjie by sy moeder (Ps 131); God se antwoord op die onbekeerlikheid van die verbondsvolk deur ’n nuwe verbond daar te stel (Jer 31:31–34; Eseg 36:24–32); Klaagliedere (3:31–33) waarvolgens ’n gelowige God as ’n ongenadige en wrede vyand ervaar, maar waarin God desondanks tog as ontfermende God verkondig word; die boek Daniël waarvolgens alles deur God bepaal is, maar daar tog ruimte vir gebed is om uitkoms uit die nood te gee en vir persoonlike prestasie in onderdrukkende omstandighede (Helberg 1995:273–287; 2011:251–252).

Samevatting en gevolgtrekking

Die Samuelboeke as ’n eenheid lê die aanspreeklikheid van mense bloot in hulle verhouding tot mekaar en tot God soos by Saul, Simeï en Dawid. Dieselfde geld ten opsigte van Eli se seuns en Dawid se volkstelling. Die lied van Hanna, asook Dawid se voorgenome tempelbou wys daar is ook ’n groot verskil tussen goddelike en menslike oorweging van sake, selfs ’n profeet se eie oorweging. Alles wat gebeur, gebeur onder die allesoorkoepelende heerskappy van God. Hy werk nie net sigbaar wonderdadig nie, maar ook en veral in die alledaagse gebeurtenisse en die geskiedenis. In die harde werklikheid van hierdie sondige wêreld gebruik Hy selfs persone wat met hulle optrede ’n ander agenda het as Hyself. Dawid is oortuig dat God vir Simeï opdrag gegee het om hom te vloek. So sit daar ook agter Dawid se volkstelling nie net die aanhitsing deur Satan (1 Kron 21:1) nie, maar ten diepste die allesoorkoepelende heerskappy van God. Sy regerende, straffende en verlossende wil is so anders as dié van die mens dat ’n teksverklaarder nie skeppend met die openbaring moet probeer omgaan nie, maar wel ontdekkend. Hy moet ook nie op menslike insig of retoriek uit die bybelse tyd staatmaak nie, maar op die openbaring van God oor sy allesoorkoepelende heerskappy. Hierdie openbaring gee lig om in ’n vyand ’n gesant van God vir jou beswil te herken, ook om in God as jou vyand jou Verlosser te herken, selfs jou Vader soos dit vir die Nuwe-Testamentiese gelowiges in die Ons Vadergebed gegee is.

Die Samuelboeke, as ’n eenheid gelees, wys dat God nie inkonsewent is in sy optrede soos byvoorbeeld teenoor Saul enersyds en Dawid andersyds nie. God gebruik ook nie twee stelle reëls of patrone nie. Sy optrede is ook nie meganies of deterministies nie, maar persoonlik. Synde God is Hy vrymagtig en onpeilbaar in sy optrede. Hy is ongebonde, maar nie onverbonde nie. Hy tree verkiesend op en is nóg aan diegene wat Hom verwerp, nóg aan dié wat Hom aanneem, iets verskuldig. Hy kan nie verwyt word nie en daar kan nie by Hom gespog word deur wie Syne is nie, want daar is geen mens wat nie soms faal nie. God se verlossende optrede begin deur as ’t ware lewe uit die dood te verwek soos om Samuel uit die kinderlose Hanna gebore te laat word. Hierdeur speel Samuel dan ’n grondleggende rol in die totstandkoming van die verbondsvolk se koningskap en die hele verloop van hulle geskiedenis.

Met dié wat Hy verkies, lê God sy verhouding histories vas in ’n verbond. Dit alles doen Hy om sy eie ontwil. Hy het egter begrip vir die hulpeloses, dié wat hulle afhanklikheid van Hom besef, dit erken en hulle toevlug tot Hom neem. Dit gaan gepaard met sondebesef, bekering en aanspreeklikheid soos by Dawid in teenstelling tot Saul geopenbaar word. God is regverdig én genadig, Hy laat onreg nie straffeloos verbygaan nie, maar Hy tree ook nie harteloos op nie. Hy straf nie van harte nie, maar is bedroef as Hy dit doen.

God se heerskappy gaan gepaard met messiaanse verwagtings soos betuig word in die lied van Hanna en in die belofte aan Dawid by die voorgenome tempelbou. In die Messias, wat volgens die Nuwe Testament in Jesus Christus tot volle vervulling gekom het en wat ook die vervulling van die lydende dienaar van Jesaja 53 is, word die diepste antwoord gegee op die vraag of God inkonsekwent is of nie. Die antwoord is die wonder van die sogenaamde dwaasheid van die kruis: ’n magtelose koning wat oorwin deur gewillig aan ’n kruis te hang en Hom deur sy God te laat verlaat (Matt 26:19, 39; 27:46)! Is dit egter regverdig dat Hy, die Onskuldige, moes ly om ons met God te versoen? Daar is baie vrae oor reg en geregtigheid waarop die menslike verstand nie bevredigende antwoorde het nie. Slegs die geloof in die onpeilbare en allesoorkoepelende heerskappy van God gee die antwoord: by Hom het genade en liefde die laaste woord; dit vra dat alles met vertroue in sy hand gelaat word.

Samevattend kan tot die gevolgtrekking gekom word dat die Samuelboeke in die geheel gesien, die aanspreeklikheid van mense in hulle verhouding tot mekaar en tot God blootlê. God is nie inkonsekwent nie, maar sy heerskappy is allesoorkoepelend, vrymagtig, persoonlik, regverdig én genadig, straffend en bekerend en is vir die beperkte en sondige menslike oorweging onpeilbaar. Dit is bewys in die ‘dwaasheid van die kruis’ in die beloofde Verlosser.

Erkenning

Mededingende belange
Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Alter, R., 1999, The David story, Norton, New York.

Anderson, B.W., 1979, The living Word of the Bible, Westminster Press, Philadelphia.

Auld, A.G. & Eynikel, E., 2010, For and against David: Story and history in the Books of Samuel. Uitgeverij Peeters, Leuven. (Bibliotheca Ephimeridum Theologicarum Lovaniensium, 232).

Bergen, R.D., 1996, 1, 2 Samuel, Broadman & Homan, Nashville. (The New American Commentary).

Bergsma, J.S., 2000, ‘Useful for the church? Critique of W. Brueggemann’s “Theology of the Old Testament”’, Calvin Theological Journal 35(1), 105–135.

Birch, B.C., 1998, ‘The first and second Books of Samuel: Introduction, commentary and reflections’, in The new interpreter’s Bible: General articles & introduction, commentary & reflections for each book of the Bible in twelve volumes, Vol. 2, pp. 947–1383, Abingdon, Nashville.

Borgman, P., 2008, David, Saul, and God: Rediscovering an ancient story, Oxford University Press, Oxford. http://dx.doi.org/10.1093/acprof:oso/9780195331608.001.0001

Brueggemann, W., 1985, First and second Samuel, John Knox, Louisville. (Interpretation: A Bible commentary for teaching and preaching).

Brueggemann, W., 1997, Theology of the Old Testament: Testimony, dispute, advocacy, Fortress, Minneapolis.

Brueggemann, W., 2003, An introduction to the Old Testament: The canon and Christian imagination, Westminster John Knox, Louisville.

Caird, G.B., 1953, ‘The first and second books of Samuel’, in The Interpreter’s Bible: General articles & introduction, commentary & reflections for each book of the Bible in twelve volumes, Vol. 2, pp. 853–1176, Abingdon, New York.

Cartledge, T.W., 2001, 1 & 2 Samuel, Smyth & Helwys, Macon. (Smyth & Helwys Bible Commentary).

Childs, B., 1979, Introduction to the Old Testament as Scripture, SCM, London.

Childs, B., 2000, ‘W. Brueggemann’s “Theology of the Old Testament: Testimony, dispute, advocacy”’, Scottish Journal of Theology 53(1), 228–232. http://dx.doi.org/10.1017/S0036930600050742

Elliger, K., 1978, Deuterojesaja, Neukirchener Verlag, Neukirchen-Vluyn. (Biblischer Kommentar Altes Testament).

Firth, D.G., 2009, 1 & 2 Samuel, Apollos, Nottingham. (Apollos Old Testament Commentary).

Fox, E., 1999, Give us a king: Samuel, Saul, and David, Schocken Books, New York.

Goslinga, C.J., 1968, Het eerste boek Samuel, Kok, Kampen. (Commentaar op het Oude Testament).

Green, G., 1989, Imagining God: Theology and the religious imagination, Harper & Row, San Francisco.

Helberg, J.L., 1995, ‘The determination of history according to the book of Daniel’, Zeitschrift für die Alttestamentliche Wissenschaft 107, 273–287. http://dx.doi.org/10.1515/zatw.1995.107.2.273

Helberg, J.L., 2011, Die Here regeer: Openbaringslyn deur die Ou Testament, Administratiewe Buro, GKSA, Potchefstroom.

Herzberg, H.W., 1968, Die Samuelbücher, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.

Kaiser, W.C. (Jr.), 1978, Toward Old Testament theology, Zondervan, Grand Rapids.

Keller, C.A., 1971, ‘rr “verfluchen”’, in E. Jenni & C. Westermann, Theologisches Handwörterbuch zum Alten Testament, Tl. 1, pp. 236–240, Chr. Kaiser Verlag, München.

McCarter, P.K. (Jr.), 1984, II Samuel, Doubleday, New York, (The Anchor Bible).

Nürenberger, K., 2004, Biblical theology in outline, Cluster Publications, Pietermaritzburg.

O’Kennedy, D.F., 2011, ‘Divine forgiveness in the major prophets’, Old Testament Essays 24(3), 731–745.

Peels, H.G.L., 2011a, Traag tot toorn: Een onderbelicht aspect van het Oudtestamentisch Godsbeeld, Theologische Universiteit Apeldoorn, Apeldoorn. (Apeldoornse Studies, 58).

Peels, H.G.L., 2011b, ‘”U komt de stilte toe ...”: Over stilte en stijl in het Oude Testament’, in G.C. Hertog (red.), Stil tot God: Opstellen rond een verwaarloosd theologisch thema, Theologische Universiteit Apeldoorn, Apeldoorn. (Apeldoornse Studies, 57).

Schmidt, W.H., 1971, ‘br’“schaffen”’, in Theologisches Handwörterbuch zum Alten Testament, Tl. 1, pp. 336–339, Chr. Keiser, München.

Seiler, S., 1998, Die Geschichte von der Thronfolge David’s (2 Sam 9–20; 1 Kön 1–2): Untersuchungen zur Literarkritik und Tendenz, Walter de Gruyter, Berlin. (Beihefte zur Zeitschrift für die alttestamentliche Wissenschaft).

Tsumura, D.T., 2007, The first Book of Samuel, Eerdmans, Grand Rapids. (The New International Commentary on the Old Testament).

Van Seters, J., 2009, The biblical saga of king David, Eisenbrauns, Winona Lake.

Waltke, B.K., 2007, An Old Testament theology: An exegetical, canonical, and thematic approach, Zondervan, Grand Rapids.

Wessels, W.W., 2011, ‘My word is like fire’, Old Testament Essays 24(2), 492510.



Crossref Citations

No related citations found.