Leef ’n lewe met koninkryksimpak

Book Title: Die impak van God se wil: Leef radikaal anders elke dag
Author: S. Joubert
ISSN: 978-1-77000-952-3
Publisher: Christelike Uitgewersmaatskappy, Vereeniging, 2010, R99.95
*Book price at time of review

Reviewer: Piet Venter1
Affiliation: 1Gereformeerde Kerk Potchefstroom-Oos, Suid-Afrika
Postal address: Rocher Street 75, Potchefstroom 2531
How to cite this book review: Venter, P., 2013, ‘Leef ’n lewe met koninkryksimpak’, In die Skriflig/In Luce Verbi 47(1), Art. #125, 1 page. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v47i1.125
Copyright Notice: © 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

Hierdie boek word as ’n Bybelstudieriglyn aangebied wat die gelowige lei om vanuit die verstaan van God se wil ’n impak op die lewe van vandag te maak. Die skrywer toon aan dat die impak van die Christendom op die wêreld besig is om te taan en dat die Christendom in die postmodernistiese wêreld uitgeskuif word na die rand van die samelewing. Hierdie gebeure bring twyfel en ’n verlies van waarde by baie gelowiges sodat dit daartoe aanleiding gee dat baie mense die kerk verlaat. Joubert is van mening dat die groot klem wat die kerk op persoonlike geestelike groei laat val het, nie die nodige vrug in die lewe van gelowiges opgelewer het nie.

Hy verkies daarom om eerder te praat van ’n lewe van ‘koninkrykimpak’. Met impak bedoel Joubert die betekenis van die woord impact soos deur die Webster’s Dictionary gedefineer, namlik ‘to affect of influence, especially in a significant or undesirable manner’. In die ‘impaklewe’ binne die koninkryk van God word die fokus op persoonlike bekering deur die gelowige geplaas en die fokus val op die genade van God en sy kragtige werking in die wêreld. Daar word verder ook op die manier gefokus waarop Christus gelewe het en dat Christus in die lewe van die gelowige méér moet word en die mens self minder.

Die Bybelstudie spring weg met ’n studie van 2 Petrus 1:5–7 wat as vertrekpunt geneem word. Daarna word in 18 sessies gekyk na onderwerpe soos ’n Volgeling van Jesus?; Wie kwalifiseer?; Die Bybel, God se lig op my pad; Effektiewe geloof; Wees in beheer, staan sterk; Maak God groot; Elkeen is my naaste; en Kyk op, dien!

Elkeen van hierdie temas word met drie of vier subonderwerpe uitgebrei en uit Bybeltekste belig. Die Skrif word baie duidelik voorop gestel en die leser werk saam deur die verskillende tekste om die waarhede te ontdek. Daar is in elke onderafdeling ’n inleidende gesprek (opwarming), oefeninge (waartydens met die Skrif self gewerk word aan die hand van analiserende vrae) en nadenke (waar insigvrae gevra word om die leser te help om die Skrif te internaliseer).

Die Skrifverklaring is suiwer en dit word goed in die praktiese lewe van die gelowige ingedra. Die groot wins van Joubert se benadering is die erns van en die fokus op persoonlike heiligmaking van die gelowige aan die hand van ’n Christus-gesentreerde lewenswandel. Hiermee word die postmoderne beskuldiging van skynheiligheid van die kerk die nek ingeslaan. Die fokus val verder op die Woord van God wat sy wil aan die mens openbaar en die beklemtoning van God en wat Hy as God drie-enig in en deur sy koninkryk verrig.

Binne die konteks van die postmoderne denke plaas Joubert tereg die integriteit en die impak van die kerk op haar betrokkenheid by en ware liefdesdiens aan die gemeenskap. Die aksentuering van bogenoemde belangrike sake maak hierdie Bybelstudieboek baie relevant vir moderne gelowiges en vir die kerk in die geheel.

Die boek word afgesluit met ware verhale van moderne gelowiges wat ’n groot impak op die wêreld gemaak het. Die verhale word in nederigheid en eenvoud aangebied en die klem val op dit wat God deur hierdie mense verrig het. Dit dien die doel om die leser die waarhede wat uit die Bybelstudies na vore gekom het as lewenswerklikhede te laat sien en dit inspireer die leser om God te vertrou en dan self ’n impaklewe te leef.

Hierdie Bybelstudieboek sal baie beteken vir gevestigde gelowiges wat begin twyfel aan hulle rol in die koninkryk van God asook vir gelowiges wat kritiese vrae oor die kerk en haar rol in die samelewing van vandag vra. Die boek kan ook baie vrugbaar deur kerkrade gebruik word vir Bybelstudie en nadenke oor hulle eie bediening binne hulle gemeentes asook vir die toerusting van hulle lidmate vir hulle dienswerk na buite.



Crossref Citations

No related citations found.