Openhartige beoordeling van die Emerging Church

Book Title: Jesus is die EEN! Verloor ons nie die evangelie in die Emerging Church nie?
Author: J. Janse van Rensburg
ISBN: 978-1-920460-26-6
Publisher: Christelike Media Publikasies, 2011, R129.95 *Book price at time of review

Reviewer: Barend J. de Klerk1
Affiliation: 1School of Ecclesiastical Sciences, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa
Postal address: PO Box 20764, Noordbrug 2522, South Africa
How to cite this book review: De Klerk, B.J., 2013, ‘Openhartige beoordeling van die Emerging Church’, In die Skriflig/In Luce Verbi 47(1), Art. #130, 1 page. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v47i1.130
Note: Article republished with corrected reviewer name.
Copyright Notice: © 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

In hierdie boek neem Johan Janse van Rensburg deel aan ’n baie sensitiewe en aktuele diskussie op ’n openhartige, reguit, dog beskeie manier. Die diskussie handel oor die sogenaamde Emerging Church wat in die VSA baie veld gewen het. Hy toon in hierdie boek dat hy ’n indringende literatuurstudie van die emerging-beweging en die belangrikste geskrifte gedoen het, asook die werke van skrywers wat ernstige kritiek oor die vertrekpunte en metodes van die beweging gelewer het. Hy stel telkens die pro- en kontra-emergent-skrywers self aan die woord en gee sodoende aan die leser ’n redelik volledige oorsig van teenoorstaande standpunte.

Janse van Rensburg verdeel die boek in drie groot afdelings, naamlik: ‘Die Jesus van die Skrif’, ‘Die ander teologie’ en ‘Emerge in perspektief’. In die eerste afdeling verduidelik die skrywer uit ’n skriftuurlike hoek dat Jesus die enigste weg tot saligheid is. Hy doen dit deur kort ‘oordenkings’ waarin die één tema deurbreek, naamlik Jesus is die één! Hy verklaar die bekende uitsprake van Jesus oor ‘Ek is die weg en die waarheid en die lewe’, ten opsigte van wat Jesus oor Homself getuig en wat Hy met betrekking tot die komende oordeel en die maak van dissipels verkondig. Hierdie gedeeltes bied uitstekende stof vir persoonlike verdieping in die geloof. Daar is ook telkens kort verwysings in die eerste afdeling na dwalings ten opsigte van Jesus Christus se identiteit, sy koningskap, sy mag om te oordeel en om apostels uit te stuur om dissipels te maak. Die kernboodskap van die Skrif, dat Jesus met sy opstanding die dood oorwin het, word in geen onduidelike terme uitgespel nie.

In die tweede afdeling lewer Janse van Rensburg reguit kritiek op die emergent-beweging deur op die werke van die belangrikste verteenwoordigers van die beweging te fokus, onder andere Rob Bell, Brian McLaren, Doug Pagitt, Alan Jones en Leonard Sweet. Hy betoog dat die invloed van hierdie skrywers ook in werke van gereformeerde Suid-Afrikaanse teoloë deurskemer. Die probleme wat Janse van Rensburg met die standpunte van die emergent-aanhangers uitwys, is dat hulle die evangelie van Jesus Christus by die sogenaamde postmoderne mens wil aanpas. Dit raak veral die eksklusiwiteit van Jesus as die enigste weg tot die Vader. Dit staan teenoor Jesus wat net met sy lewe as weg aangedui word, met die weglating van die kruis en die opstanding, aangesien dit vir die postmoderne mens aanstoot kan gee. Dit raak ook die gelykstelling van gelowe in ’n poging om die moontlikheid vir ’n soort interreligie daar te stel. Die kritiek word gefokus op die emergent-beweging se daarstelling van ’n ander evangelie, ’n ander Jesus, ’n ander manier van kerkwees, ervaring wat verabsoluteer word, die ‘eskatologie’ van die beweging en die gesag van die Skrif.

In die derde deel gee Janse van Rensburg riglyne vir die kerk wat in die een-en-twintigste eeu geroep is om Christus se liggaam te wees. Hy dui aan dat dit die uitdaging van die kerk is om uit ou vasgevalde sisteme, gestaltes en denkpatrone los te kom sonder om van die inhoud van die evangelie of die eie identiteit afstand te doen. Die kerk het ’n duidelike roeping van Christus ontvang om dissipels te maak en dit sal noodwendig konfrontasie met ander godsdienste meebring. Die kerk moet opgebou en uitgebou word. Daar moet meer ruimte vir ervaring geskep word, maar altyd in balans met die gawe van die verstand wat die Here gegee het.

Hierdie boek van Johan van Rensburg is ’n waardevolle wetenskaplike bydrae tot die Teologie, veral die Praktiese Teologie, by name die ekklesiologiese aspek daarvan. Die boek het ook waarde vir gemeentes wat die roeping aanvoel om voortdurend te reformeer, maar wat nie die gereformeerde spoor wil verlaat nie. Die individuele gelowige kan uit hierdie boek materiaal verkry om verkennend aan kerkrade leiding te gee om versigtig reformasie te stimuleer. Die boek is ’n belydenis dat Jesus Christus die Here is en dat nuwe lewe deur sy kruis en opstanding deurgebreek het – daarom die titel: Jesus is die EEN!



Crossref Citations

No related citations found.