Article Information

Author:
Callie F.C. Coetzee1

Affiliation:
1Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Correspondence to:
Callie Coetzee

Postal address:
Posbus 20655, Noordbrug 2522, South Africa

Dates:
Received: 25 Nov. 2013
Accepted: 26 May 2014
Published: 23 Oct. 2014

How to cite this article:
Coetzee, C.F.C., 2014, ‘Die plek en funksie van die Heidelbergse Kategismus in ‘n omkeerstrategie in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika’, In die Skriflig 48(1), Art. #1785, 8 pages. http://dx.doi.org/10.4102/
ids.v48i1.1785

Copyright Notice:
© 2014. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals.

This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.
Die plek en funksie van die Heidelbergse Kategismus in ’n omkeerstrategie in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika
In This Original Research...
Open Access
Abstract
Abstrak
Inleidende opmerkings
Probleemstelling
’n Omkeer-strategie vir die GKSA
Kerk en belydenis
   • Ons glo die kerk
   • Wát glo ons oor die kerk?
   • Die belydenis is deel van die wese van die kerk
      • Wat leer die Skrif?
      • Die Gereformeerde teologie
      • Bedreiginge
Plek en funksie van die Heidelbergse Kategismus in ’n omkeerstrategie
   • Oorspronklike doel en unieke aard van die Heidelbergse Kategismus
   • Prediking en kategese
   • Apologetiese funksie
   • Missionale gerigtheid van die Heidelbergse Kategismus
Samevattende slotopmerkings en ‘aanbevelings’
Erkenning
   • Mededingende belange
Literatuurverwysings
Footnotes
Abstrak

Die herdenking van die 450 jarige bestaan van die Heidelbergse Kategismus (1563−2013) is ’n baie besondere geleentheid. Dit is ’n geleentheid om ons in die ryke erfenis van die 16de-eeuse Reformasie te verheug. Dit is ook ’n geleentheid om met die oog op die toekoms van kerkwees oor die relevansie, handhawing en belewing van hierdie erfenis te besin. Wat die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika betref, word hierdie besinning oor die plek en funksie van die Heidelbergse Kategismus (HK) in besonder in hierdie artikel gedoen in die lig van die sogenaamde omkeerstrategie waarop die Algemene Sinode van 2012 besluit het. Deputate wat die volgende sinode moet adviseer, het onder andere die opdrag om ’n studie te doen ‘… van die suiwerheid en toepaslikheid van die leer wat op elke vlak verkondig word, asook hoe dit verder uitgebou kan word’. In die artikel word beredeneer dat die volgende sake in die besinning oor ’n omkeerstrategie vir ’n kerkgemeenskap in die reformatoriese tradisie aandag sal moet ontvang: Die wese van die kerk, kerk en belydenis en die belydenis as deel van die wese van die kerk. Wat die HK in besonder betref, word aandag gegee aan die unieke aard daarvan, die kategismusprediking en die apologetiese en missionale gerigtheid daarvan omdat dit ’n belangrike onderdeel van die werk van bogenoemde deputate vorm. Die artikel word afgesluit met enkele slotopmerkings en ‘aanbevelings’ dat opnuut oor die kategismusprediking besin word en dat die handhawing van die belydenis in enige omkeerstrategie ononderhandelbaar is.

Abstract

The place and function of the Heidelberg Catechism in a ‘turn-around’ strategy within the Reformed Churches in South Africa. The commemoration of the 450th year of the Heidelberg Catechism (1563−2013) is a special occasion worldwide. It is an opportunity to experience gratitude and joy for the rich heritage of the 16th-century Reformation. It is also an opportunity to reflect on maintaining and experiencing this heritage of being church in the future. As far as the Reformed Churches in South Africa are concerned, this reflection on the future is focused in this article on the so-called turn-around strategy, decided on by the General Synod of 2012. A mandate was given to deputees in this regard, inter alia to undertake a study regarding the soundness and relevance of the doctrine that is proclaimed and how that can be further promoted. It is argued in this article that the following issues should be addressed in reflecting on a turn-around strategy for a church in the Reformed tradition: the essence of the church, church and confession and the confession as part of the essence of the church. As far as the Heidelberg Catechism in particular is concerned, the following points are addressed: the unique character of the Heidelberg Catechism, catechism preaching, the apologetic and missional focus of the Heidelberg Catechism in the light of the task to be dealt with by the abovementioned deputees. It is concluded that special attention should be given anew to catechism preaching and that maintaining the confessions is not negotiable for the church of Christ on her way to his second coming.

Believe me, my Lord, the Church of God will never preserve itself without a Catechism. (Uit ‘n brief van Calvyn aan Somerset, 22 Oktober 1548; Vgl Wallace 1990:97)

Inleidende opmerkings

Saam met kerkgemeenskappe en teologiese fakulteite oor die hele wêreld1 heen kyk ons terug op 450 jaar se geskiedenis van die Reformatoriese tradisie waarin ons staan. Saam met die ander belydenisskrifte uit die 16de en 17de eeu is die Heidelbergse Kategismus (HK) die blywendste herinnering aan ons ontsaglike ryk Gereformeerde erfenis. Die herstigting van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) 154 jaar gelede en die geskiedenis van ons kerke sedertdien kan nie losgedink word van die HK nie.2

Ons kyk ook in ons besinning en roepingsvervulling vorentoe met die oog op die toekoms. Op die vooraand van die finale voleinding, met die tekens van die eindtyd steeds duideliker (vgl. o.a. Mat 24:7, 10), in ’n postmoderne, gesekulariseerde wêreld, word daar geworstel met die vraag hoe om ware kerk van Christus te bly en te wees totdat Christus kom. Wat die GKSA betref, het die Algemene Sinode van 2012 in hierdie verband ’n besondere opdrag aan deputate gegee (vgl. pt. 3, bl. 3 hieronder), bekend as die Deputate: omkeer-strategie (vgl. GKSA 2012:522).

Die GKSA is nie die enigste kerkgemeenskap wat in hierdie onseker tyd met die vraag oor die pad vorentoe worstel nie. Slegs in ons eie land kan die voorbeeld genoem word van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA) wat op die pas-afgelope Algemene Kerkvergadering (AKV) (22–29 September 2013) oor die pad vorentoe vir die NHKA besin het. In die verband van ons onderwerp is dit insiggewend dat daar tydens die AKV ’n afsonderlike werkswinkel aan ’n bespreking oor die saak van die belydenis gewy is. In die aanloop tot en met die oog op die AKV is ’n hele uitgawe van die ‘Tydskrif vir Hervormde Teologie’ (THT) (1[3], 2013) met die oog op die vergadering aan belangrike sake gewy, onder andere met ’n artikel deur prof. Natie van Wyk met die veelseggende titel: ‘Sonder konfessionele identiteit kan die Hervormde Kerk nie die toekoms betree nie’ (Van Wyk 2013:28–53).

Op die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) (Port Elizabeth, 6–10 Oktober 2013) is ’n verslag oor missionale kerkwees goedgekeur met die strekking, ‘die NG Kerk moet homself weggee’ (Jackson 2013:3).3

Die vraag wat vir die kerke van die GKSA van die grootste belang is, is of die geskiedenis en tradisie van die afgelope 450 jaar koers-aanduidend is vir die pad wat voorlê.

Probleemstelling

Die probleemstelling vir hierdie artikel kan dus soos volg geformuleer word: Wat behoort die plek en funksie van die HK in die beplanning en implementering van ’n ‘omkeer-strategie’ vir die kerke van die GKSA te wees?

’n Omkeer-strategie vir die GKSA

Die Algemene Sinode van 2012 (GKSA 2012:509–511) het aan ’n beskrywingspunt vanaf die Streeksinode Vrystaat en KwaZulu-Natal oor ’n omkeerstrategie gevolg gegee. Die beskrywingspunt, oorspronklik van die Gereformeerde Kerk Frankfort, beklemtoon veral twee sake, naamlik dalende lidmaatgetalle in Klassis Oos-Vrystaat en die GKSA en ‘Missionêr gerigte lidmate, kerkrade, gemeentes en kerkverband’ (GKSA 2012:509).

Saam met die beskrywingspunt is ook twee ander sake aan dieselfde deputate opgedra, naamlik ’n beskrywingspunt van die Streeksinode Pretoria oor verdere toerusting van predikante (GKSA 2012:504, pt. 24.14) en ’n beskrywingspunt van die Streeksinode Noordwes oor teologiese opleiding (GKSA 2012:506, pt. 24.15).

In die verband van hierdie artikel is dit belangrik om die volgende sake wat in die beskrywingspunt oor die omkeerstrategie genoem word, in gedagte te hou: Daar word telkens klem gelê op ‘behoorlike begeleiding’, ‘geestelike volwassenheid’ (GKSA 2012:509, pt. 2.2), begeleiding tot ‘geloofsvolwassenheid’ (GKSA 2012:510, pt. 4.2) en ‘nuwe benaderings om die ou waarhede … in die lewe van mense en kerke in te dra’ (GKSA 2012:510, pt. 2.2,). Veral belangrik is pt. 4.7.5 van die opdrag aan die deputate, naamlik om ’n studie te doen ‘… van die suiwerheid en toepaslikheid van die leer wat op elke vlak verkondig word, asook hoe dit verder uitgebou kan word’ (GKSA 2012:511). Uit die voorlopige verslae en ander dokumente van die deputate wat deur die voorsitter tot my beskikking gestel is, blyk dit dat die deputate (tot dusver) nie aan hierdie deel van hulle opdrag aandag gegee het nie. Dit is gedeeltelik teen hierdie agtergrond dat hierdie artikel gesien moet word.

Dit is my oortuiging dat daar nie oor ’n ‘omkeerstrategie’ besin kan word sonder dat ons vir onsself vooraf en opnuut rekenskap gee van die Skriftuurlike kerkbegrip en die plek en funksie van ons belydenis in díe verband nie.

Kerk en belydenis4

Ons glo die kerk
Wanneer ons oor die verhouding tussen kerk en belydenis besin, is dit in die eerste plek belangrik om opnuut te besef dat die kerk deel is van ons belydenis. In die belydenis van Nicea bely ons dit soos volg: ‘Ons glo aan een heilige, algemene en apostoliese kerk.’ Die Latynse vertaling van die oorspronklike Griekse teks van die Nicaeno-Constantinopolitanum (381 n.C.) lui gewoon ‘credo ecclesiam’ [ek glo die kerk] (vgl. Van Wyk 2013:30). Die kerk is ’n instelling van God en word deur Christus geskep, onderhou en beskerm (ibid). Daarom is dit deel van ons geloofsinhoud (Du Plooy 2013:2). Die eerste vraag is daarom nie wat ons van die kerk waarneem nie, maar wat ons van die kerk glo en bely. Die kerk is ’n geloofsaak (Van Genderen & Velema 1992:630).

Wát glo ons oor die kerk?
In die tweede plek moet ons aandag gee aan wát ons oor die kerk glo. Hier kan verwys word na die Belydenis van Nicea, waarna ook reeds hierbo verwys is, die Apostolicum, die Heidelbergse Kategismus (HK), Sondag 21 en die Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikels 27–32.

Die eienskap van apostolisiteit (Nicea) sien op die leer van die apostels soos dit in die Skrif gevind word (vgl. oor die apostolisiteit verder Coetzee 2010:40). Die leer van die apostels is ook bekend as die ‘gesonde leer’ wat deur die kerk gehandhaaf moet word, soos ons onder andere in 1 Timoteus 1:11 en Titus 1:9 lees. Dit kom juis in die sogenaamde ‘pastorale briewe’ voor waar dit oor die praktyk van kerkwees gaan. Die ander eienskappe van die kerk kan egter ook slegs realiseer as die belydenis (dogma, leer) gehandhaaf word. Die eenheid van die een kerk kan slegs daar wees as daar eenheid in die waarheid is. In Sondag 21 van die HK waar die Apostolicum se belydenis oor die kerk verklaar en uitgebrei word, bely ons dat die kerk deur Christus vergader word ‘… in die eenheid van die ware geloof’ (GKSA 2001:48). Die heiligheid sien op die algehele afsondering, die toewyding, die verbondenheid aan Christus alleen as enigste Hoof van sy kerk. Die katolisiteit sien op die ekumeniese karakter van die kerk. Ons bely ‘… saam met al die gelowiges’ (Ef 3:18). In die Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 27 (GKSA 2001:23) bely ons van die ‘… enige, katolieke of algemene kerk’ dat dit ‘… ’n heilige vergadering is van almal wat waarlik in Christus glo …’

Ons bely ook die volmag van die kerk om deur die toepassing van die kerklike tug die belydenis te handhaaf en ware kerk te wees (HK Sondag 31, GKSA 2001:57, 58) en die merktekens van die ware kerk soos ons dit bely in Artikel 29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis5 te handhaaf (NGB Art. 29, GKSA 2001:24).

Die belydenis is deel van die wese van die kerk

Wat leer die Skrif?
In die derde plek moet beklemtoon word dat die belydenis deel is van die wese van die kerk. ’n Kerk sonder ’n belydenis is nie kerk in die Bybelse sin van die woord nie (vgl. Wallace 1990:97 en ook die afdeling oor die Gereformeerde teologie hieronder).

Die kerk is gebou op die ‘… fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is ‘ (Ef 2:20). Calvyn (1984) sê met verwysing na hierdie teks onder andere die volgende:

As die profetiese en apostoliese leer dan die grondslae van die kerk is, dan moet die sekerheid van die leer bestaan het nog voordat die kerk ontstaan het … Want as die Christelike kerk in die begin op die skrifte van die profete en die prediking van die apostels gegrond is, dan het die goedkeuring van die leer, waar dit ookal te vinde is, sekerlik aan die kerk voorafgegaan. Daarsonder sou die kerk nooit bestaan het nie … Wanneer die kerk die leer aanneem en met sy instemming beseël, maak die kerk dit nie geloofwaardig asof dit eers twyfelagtig en onseker was nie; maar omdat die kerk dit as die waarheid van sy God erken, eerbiedig hy dit sonder aarseling vanweë die plig van sy godsvrug. (bl. 155, 156)

Uiteindelik is die vraag (Calvyn 1992):

As die fondament van die kerk die leer van die apostels en profete is waarvolgens gelowiges gebied word om hulle saligheid in Christus alleen te stel, hoe sal die gebou dan staande bly as jy die leer wegneem? (bl. 1302)

’n Ander bekende teks in díe verband is Matteus 16:186 waar Christus self sê dat Hy sy kerk bou op die ‘rots’ van die belydenis van Petrus (v. 16): ‘U is die Christus, die Seun van die lewende God’. Hierdie belydenis van Petrus bevestig dat die ‘belijden van de gemeente mede die grondslag van die kerk vorm (Wentsel 1998:91). Met verwysing na die aanspraak van Rome dat die kerk op Petrus gebou is, noem Calvyn (1992:1381) dit ‘… daardie ou onsin waarmee hulle aanvanklik probeer het om sand in ons oë te strooi… naamlik dat die kerk op Petrus gebou is.’ Volgens Calvyn (ibid) skreeu die hele Skrif daarteen. Hy meen (ibid):

Petrus het in sy eie naam en in die naam van sy broeders bely dat Christus die Seun van God is. Op hierdie rots bou Christus sy kerk omdat Hy die enigste fondament is, soos Paulus sê, en daar benewens Hom geen ander kan bestaan nie. (bl. 1381, 1382)

In die woorde van Christus lê die waarheid opgesluit dat Hy self die boumeester van sy gemeente is en bly. Die apostels vorm daarvan die fondament omdat ‘hun getuigenis [belydenis, eie invoegsel – CFCC] van den Christus de basis zal zijn voor heel de opbouw der gemeente’ (Ridderbos 1970:11). Uit hierdie belydenis van Petrus het die belydenis van die kerk gegroei soos ons dit vandag het, wat volgens Snyman (1977):

... direk wortel in die Skrif, onder die besondere leiding van die Heilige Gees gegroei het, die toets van die eeue deurstaan het, in bloed gedoop is en die rigsnoer is vir elke gelowige om die Skrif reg te verstaan. (bl. 452)

Die kerk is daarom ‘pilaar en grondslag van die waarheid’ (1 Tim 3:15, OAV; ‘draer en beskermer van die waarheid’, NAV [weereens ’n teks uit die pastorale briewe]). Die kerk is die ‘getroue bewaarder van God se waarheid … om te voorkom dat dit in die wêreld tot niet sou gaan ‘ (Calvyn 1992:1281). Die woord wat met ‘pilaar’ of ‘draer’ vertaal is (stulos) word in die Septuagint (LXX) ook vir ’n belangrike deel van Salomo se tempel gebruik, naamlik die pilare van Jagin en Boas (vgl. 1 Kon 7:15, 21; Knight III 1992:181). Vertalings van hierdie selfde woord in Engelse Bybelvertalings, sluit in ‘foundation’, ‘ground’, ‘support’ en ‘bulwark’ (Knight III 1992:181).

Die waarheid (aletheia) word in hierdie teks gebruik as die inhoud van die Christelike geloof as die absolute waarheid (Knight III 1992:181). Knight III (ibid, vgl. ook Du Plooy 2013:3, 4) meen ook:

To remind the church that it is a structure called to uphold the truth of Christianity is also to remind it that it is a household called to manifest that truth in its conduct (my kursivering – CFCC) and to conform to it. (p. 181)

Die belydenis is noodsaaklik om na binne die eenheid te bewaar en na buite die waarheid te openbaar (De Graaf 1940:12).7

Die Gereformeerde teologie
In die Calvinisties-reformatoriese tradisie word die onlosmaaklike eenheid van kerk en belydenis8 steeds beklemtoon en gehandhaaf. Kerk sonder belydenis is in die Bybelse sin van die woord nie kerk nie (Coetzee 2010:39). ‘Die kerk is na sy wese ’n belydende gemeenskap’ (Jonker 1994:3) en het dus ’n konfessionele karakter (vgl. Heyns 1977:151–168). Treffend word dit deur Heyns (1977) gestel:

... die kerk word kerk en is kerk in die daad van sy belydenis, en natuurlik ook omgekeerd: hoe minder die kerk bely, hoe meer word die kerk minder kerk. Die sprekende kerk is die belydende kerk en die belydende kerk is die lewende kerk. (bl. 160)

Praamsma (1971:25) verwys na Barth wat verklaar het dat die belydenis die resultaat is van ’n ontmoeting van die kerk met die Heilige Gees.

Die belydenis kan daarom die hart van die kerk genoem word (Heyns 1977:164). In die belydenis spreek die kerk sigself uit (Heyns 1977:156). Die kerk openbaar sigself as lewende kerk as hy voortdurend met die belydenis besig is, ‘… dit handhaaf en verdedig, preek en onderrig, toets aan die Skrif en formuleringe hersien’ (Heyns 1977:154).

Uit wat hierbo gesê is, volg vanself dat die kerk sy ampsdraers en lidmate aan die belydenis bind. Die binding aan die belydenis word as beginsel baie wyd in kerke van die reformatoriese tradisie gehandhaaf (Coetzee 2010:41) Heyns (1977:165) verklaar kategories: ‘Wie belydenis sê, sê binding, meer nog: sê afdwingbare binding’. Wat die GKSA betref, word die binding aan die belydenis konkreet in Artikel 53 en 54 van die Kerkorde gereël (die sogenaamde ondertekeningsformulier) (GKSA 1980:25, 26). Eweneens word in die onderskeie formuliere (Belydenisaflegging, Doop, Bevestiging van Ampsdraers) telkens instemming gevra (eintlik belydenis vereis) van die waarheid dat die Ou en Nuwe Testament die Woord van God en die volkome leer van die saligheid is, ‘soos dit ook in die Belydenisskrifte van die Gereformeerde Kerke uitgedruk en in die kerk … geleer word’ (vgl. o.a. GKSA 2001:115).

Bedreiginge
Die band tussen kerk en belydenis word van verskillende kante bedreig (vgl. die verwysings hieronder na o.a. Greeff, Van Wyk, Van Niekerk, Müller en Snyman waardeur hierdie stelling gestaaf word). In die verband van hierdie spesifieke artikel word slegs enkele sake genoem.9

In die eerste plek is daar die postmoderne paradigma of tydsgees.10 Die postmodernisme aanvaar dat daar geen absolute waarheid is nie (vgl. Grenz 1996:8; Coetzee 2010:34). Wat die postmodernistiese hermeneutiek betref, word geleer dat ’n teks nie betekenis het nie, maar dat betekenis aan ’n teks toegeken word (Jordaan n.d.:9). Die bedoeling van die outeur van ’n geskrewe teks is vir altyd verlore (Coetzee 2010:36) Die nuwe betekenis van ’n teks berus op interpretasie wat eintlik ’n herskryf van die teks in ’n nuwe konteks is (Jordaan n.d.:10). Uiteindelik word die postmoderne milieu deur relativisme gekenmerk. Daar is selfs die standpunt dat relativisme ’n gepaster term is as postmodernisme (vgl. Janse van Rensburg 2000:11). ‘The postmodern consciousness … entails a radical kind of relativism and pluralism’ (Grenz 1996:14, 15).

Volgens Greeff (2013:52) is die postmoderne tydsgees die grootste en algemeenste faktor wat al hoe meer gelowiges se prioriteite en lojaliteite bepaal en onder andere die gevolg het dat baie mense die kerke verlaat waar nog erns met die belydenis gemaak word. Greeff (2013) haal in hierdie verband Terblanche Jordaan, leraar by Neo-Spektrum in Kaapstad, en iemand wat self sy rug op die tradisionele kerk gedraai het, soos volg aan:

Hulle wil nie dogma hoor nie. Hulle soek relevansie en skram weg van retoriek en cliché. Hulle wil weet hoe om sinvol met die lewe en liefde om te gaan, en het veral ’n behoefte daaraan om veilig te voel in ’n ruimte waar daar ook plek vir andersdenkendes is … Mense wat in ’n postmoderne wêreld leef, wil hulle eie spore trap en nie noodwendig in die spore van ’n kerk, dominee of tradisie volg nie. (bl. 53)

Van Wyk (2013:29) wys ook op die verskynsel dat talle mense wat wel nog ’n band met die kerk wil handhaaf, nie meer waardering vir tradisies en die tradisie-argument het nie. ‘Tradisionele kerke het ongeloofwaardig geraak en hulle tradisies maak nie juis indruk op tydgenote nie’ (ibid). Van Wyk (ibid), sluit hom egter in hierdie verband aan by Theißen (wat hy as ’n liberale protestant bestempel) wat sê dat daar respek vir die Bybel en die kerklike leertradisie moet wees, so nie sal die kerk niks te sê hê nie.

In die tweede plek is daar die standpunte van teoloë wat aan kerke van Gereformeerde belydenis behoort, maar openlik die belydenisskrifte bevraagteken, geringskat of verwerp en van die binding aan die belydenis nie wil weet nie. Die vraag kan gevra word hoe ’n mens dít kan verwerp wat veronderstel is om jou persoonlike geloof te verwoord. Die vraag kan ook gevra word in hoeverre dieselfde standpunte al by dominees en gewone lidmate ingang gevind het.

’n Voorbeeld van die openlike bevraagtekening en verwerping van die belydenis vind ons by Van Niekerk (2005) wat onder andere verklaar:

Die tradisionele belydenisskrifte van die gevestigde kerke bevat myns insiens ’n hele aantal artikels wat nog kwalik ernstig opgeneem kan word deur moderne mense… ’n Mens kan maar net dink aan die Christelike kerke se skeppings- en sondeleer wat vandag ’n yslike verleentheid geword het. (bl. 16)

Wat die binding aan die belydenis betref, verklaar prof. Julian Müller (2006):

Kollegas van ander vakgebiede het by herhaling aan ons gesê hoe dankbaar hulle is dat hulle nie in die teologie doseer nie, want hulle word nie aan bande gelê deur konvensies nie. Hulle kan hulle wetenskap eerlik en onbevange beoefen. (bl. 5)

Dan is daar ook die standpunt dat die belydenisskrifte verouderde, historiese dokumente is wat gekonstrueer is op die kennis wat in die tyd van hulle ontstaan bestaan het (vgl. o.a. Snyman 2007:119). Hierdie standpunt is self verouderd. Augustijn (1969:71) het al in 1969 geskryf: ‘Het lijk mij het beste, om duidelijk te zeggen dat de drie formuliere van enigheid hun tijd gehad hebben.’ Augustijn bly egter in gebreke om inhoudelik, vanuit die belydenisskrifte self, sy stelling te motiveer. Sy standpunt is ook grondig weerlê en beantwoord deur onder andere Van Genderen (n.d.), Van ‘T Spijker (1974), Graafland (1973) en Praamsma (1971).

Plek en funksie van die Heidelbergse Kategismus in ’n omkeerstrategie

Alles wat tot sover oor die belydenis gesê is, het vanselfsprekend ook op die HK betrekking. Met die oog op die besondere herdenking van die 450-jarige bestaan van die HK word daar in die volgende gedeelte spesifiek op enkele relevante aspekte van hierdie belydenisskrif gefokus.

Oorspronklike doel en unieke aard van die Heidelbergse Kategismus
Wat die oorspronklike doel betref wat Keurvors Frederik III met die HK wou bereik, moet die aandag daarop gevestig word dat dit oorspronklik nie net as ’n dokument vir die kerke bedoel was nie. Volgens Verboom (1996):

We merken dan dat de Heidelbergse Cathechismus geen verzameling abstracte waarheden is, maar dat het een leer- en levensboek is, dat sterk betrokken is op de theologie, de kerk en ook de maatschappij van de tijd waarin hy ontstond. (bl. 5)

Keurvors Frederik III wou die hervorming in gereformeerde gees deurvoer. Een van die maatreëls wat hy met die oog daarop getref het, was die uitgawe van ’n leerboek (die HK) om die volk in die kernsake van die Christelike geloof te onderrig (Verboom 1996:15). Verboom (1996:18) verwys ook na Barth wat gemeen het dat een van die doelstellings van die HK is dat dit ’n leerboek vir die geloofsonderrig in kerk, gesin en skool behoort te wees.

Dit is verder belangrik om in gedagte te hou dat die HK ’n besondere ekumeniese karakter vertoon. Jonker (1994:105) noem dit die mees ekumeniese gereformeerde belydenis en Bierma et al. (2005:77) bestempel dit as ‘reformation ecumenism at its best’. Dit is dan ook opmerklik dat die komitee wat met Ursinus en Olevianus aan die opstel van die HK saamgewerk het uit Calviniste, ’n volgeling van Melanchton en ’n Zwingliaan bestaan het (vgl. Schulze 1993:490) Selfs die duidelike invloed van Luther word nie ontken nie (Schulze 1994:199, 200). In die jongste tyd is ook die invloed van Beza aangetoon (vgl. Verboom 2010:160, 161; 2012:124; Bierma et al. 2005:102). Verboom (1996:24) verklaar dat die HK outentiek gereformeerd is, maar daarby verskillende teologiese visies honoreer. Die saambindende element is die krag van die HK, aldus Verboom (ibid).

Verboom (1996:22, 23) wys ook op die eksistensiële, die prakties funksionele en die emosionele karakter van die HK. Die HK is ’n innige persoonlike geloofsbelydenis. Jy kan met die HK lewe en sterwe. Dit is vol menslike gevoelens en ervaringe waarin ook hedendaagse mense hulleself herken (ibid:22–24).

Prediking en kategese
Dit is ’n Bybelse opdrag dat die leer (dogma) ook gepreek moet word (vgl. o.a. 2 Tim 1:13; Tit 1:9; 2:1, 8). ‘Die prediking stimuleer die belydenis en die belydenis normeer die prediking’ (Heyns 1977:158). Dit kan gebeur dat die prediking die belydenisnormering mis ‘… en so geen bydrae lewer tot die opbou van die geïnstitueerde kerk nie’ (ibid). Verwaarlosing van die belydenis, wat die prediking betref, moet uiteindelik op oppervlakkige, moralistiese en humanistiese prediking uitloop. As ons nie die rykdom van ons belydenis besef en waardeer nie, gaan ons juis al hoe meer aan die rykdom van God se Woord inboet (Coetzee 2013:290).

Ook vanweë die indeling in 52 Sondagsafdelings, leen die HK sig uitnemend tot die deurlopende sistematiese leerstellige prediking. D’Assonville (2013:25) wys daarop dat die onderrig en prediking van die Kategismus uitvoering gee aan die opdrag van die Skrif dat die evangelie ‘… verkondig, gepreek, onderrig sowel as geleer en verstaan moet word’ aangesien daar geen teenstrydigheid tussen die Skrif en die Kategismus is nie. Dit het dan ook sedert die reformasie gebeur en onlosmaaklik deel van die kerklike en liturgiese praktyk geword. In Artikel 68 van die Dordtse Kerkorde sowel as die Kerkorde van die GKSA11 het die kerke dit met mekaar gereël (vgl. o.a. Verboom 1996:18).

Die tema van Kategismusprediking is ’n onderwerp op sigself waaroor daar aan die einde onder ‘Slotopmerkings en aanbevelings’ ’n aanbeveling gemaak word . Ek volstaan hier met enkele opmerkings.

Dit is my waarneming dat daar by ons studente aan die Fakulteit Teologie aan die Noordwes-Universiteit (NWU) en die Teologiese Skool Potchefstroom (TSP) ’n gebrek aan kennis en deurleefdheid van die HK (asook die ander belydenisskrifte) is wat waarskynlik na die ouerhuise en gebrekkige kategese in die tuisgemeentes terugherlei moet word.12 Dit is verder my waarneming dat daar in die jongste tyd verwarring en verskil van mening bestaan wat leidinggewing oor Kategismusprediking betref. Saam met bogenoemde gebrek aan kennis en deurleefdheid lei dit by die studente tot verwarring, ’n negatiewe gesindheid en selfs ’n vrees vir die maak van Kategismuspreke wat katastrofiese gevolge vir die bediening moet hê.

Ons moet mekaar as kerke vashou op grond van ons gemeenskaplike belydenis (vgl. Heyns 1977:157). Daarom is dit belangrik om vas te stel tot watter mate Artikel 68 van die Kerkorde nog deur die kerke onderhou word en hoe die ouderlinge toesien dat dit gebeur.

Wat die kategese betref, kan die woorde van Calvyn in die voorwoord tot sy Geneefse Kategismus van 1542 (Calvyn 1981) goedskiks op die HK en die kategese in die GKSA van toepassing gemaak word:

In die kerk is daar altyd daarop ag geslaan en daar is ook noulettend daarvoor gesorg dat kinders behoorlik in die Christelike leer onderwys word … Die werk wat ons nou bekendstel, is niks anders as die gebruik van dit wat eenmaal deur Christene en opregte aanbidders van God waargeneem is nie. Dit het nooit verlore gegaan nie, behalwe wanneer die kerk volkome bedorwe was. (bl. 5)

Apologetiese funksie
Die dogma (of belydenis) is die gesagvolle kerklike geloofsuitspraak oor die ‘gesonde leer’, oftewel die kernwaarhede van die Woord. Die kerk formuleer die dogma met behulp van die diens wat die dogmatiek aan die kerke lewer. Daarom kan dit wat Van den Toren (2011) oor die verhouding tussen Dogmatiek en Apologetiek sê ook goedskiks op die funksie van die belydenis in die apologetiese roeping van die kerk van toepassing gemaak word:

Good dogmatics is the basis of all sound apologetics, for it is precisely the task of dogmatics to show the inner coherence and integrity of God’s self-revelation in Christ and of the understanding of the human condition and the world that this implies ... It is the task of dogmatics to critically trace all our ideas concerning God and his relationship to the world to its proper basis in God’s self-revelation and ultimately in God Himself. (p. 143)

Ook Heyns (1977:157) wys op die apologetiese funksie van die belydenis en dus ook die HK: ‘… as uitdrukking van leersuiwerheid, word deur die belydenis tegelykertyd die afwyking daarvan aangetoon … In die belydenis self kry ons dus ’n bepaalde apologetiese tendens.’ Die belydenis is die wapen waarmee na buite opgetree word (ibid:158).

Missionale gerigtheid van die Heidelbergse Kategismus
Wat die missionale gerigtheid van die HK betref, word hier veral verwys na die baie belangrike en insiggewende artikel van dr. Fritz Krüger (2007:549–570) met die titel ‘The reformed confessions: Embarrassment or blessing to a missionary church?’ As agtergrond stel hy die volgende: ‘Die histories gereformeerde belydenisskrifte kry soms die skuld vir die klaarblyklike gebrek aan sendingywer by kerke van die GKSA, en word selfs ’n verleentheid vir die kerke genoem’ (Krüger 2007:549). By ’n ‘missionêre lees van die belydenisskrifte’ (ibid:549, 550) en met verwysing na Schaff (1877:4) en Schulze (1991:2, 3) sê hy van die belydenisskrifte in die algemeen (Krüger 2007; vgl. ook Hoeksema 1990:4 oor die funksie van ’n belydenis as ‘symbol’ of ‘ensign’):

The very possession of confessions should already stimulate missionary activity ... They are intended to be printed on banners and hung above the doors of our churches – on the outside, inviting in; they are intended to be printed and handed out as summaries of our faith, inviting careful thought and consideration; they are intended to be raised like banners in front of a marching crowd, urging them on to enter the world in the name of Jesus with his message of reconciliation and peace. In this sense, then, there is little difference between an apologetic and a missionary function of the confessions. (p. 551)13

Wat die HK14 in besonder betref, verklaar Krüger (2007) ten opsigte van vraag en antwoord 115 dat:

... it certainly sets out the constitution for all mission. In its unashamedly exclusive stress on our only comfort in life and death being our belonging to and serving of Jesus Christ, it defines both the foundations and the limits of all mission. (p. 552)

Die HK is dus nie ’n steriele leerstellige dokument nie. Dit is ’n pastorale hand wat uitreik na die verlorenes en eensames, die lydendes en huilendes, na hulle wat wanhoop (Krüger 2007:553). Volgens Krüger (2007:553) word die inhoud van die missionêre prediking ook duidelik uitgespel. Die noodkreet van die menslike hart na troos word alleen beantwoord deur die evangelie wat inhou dat Jesus deur sy bloed vir ons sonde betaal en ons van die heerskappy van die duiwel verlos. Die HK stel dit baie duidelik in Sondag 2–4 dat sonde en Satan die oorsaak van alle menslike ellende is. ‘This emphasis of the Heidelberg Catechism makes mission, as gospel teaching, both possible and necessary’ (Krüger 2007:554).

Met verwysing na die HK se belydenis oor die eerste gebod in Sondag 3416 stel Krüger (ibid) verder: ‘This commandment can be called the foundation of all mission: there is only one true God, and He must be worshiped with heart and soul by one and all !’

Wat die oordeelsprediking betref (‘the other side of the coin of our missionary preaching’), verwys Krüger (ibid) onder andere na Sondag 4, 19 en 32.

Die antwoord van die HK wat volgens Krüger (2007:555) op die direkste wyse ons roeping en taak as Christene in die wêreld bely, is die antwoord op vraag 32: ‘Waarom word jy ’n Christen genoem?’17 ‘... [C]ommentaries on the Heidelberg Catechism identify this answer as one of the most missionary in the whole confession’ (met verwysing na Veldkamp en Spykman18). Krüger (2007:555–557) gaan dan voort om die inhoud van antwoord 32 in hierdie verband te verklaar.19

Uiteindelik kom hy by die belydenis oor die kerk, HK Sondag 2120, en sê van hierdie belydenis: ‘This simple statement contains a wealth of missionary perspectives’ (Krüger 2007:558).

Met verwysing na Bosch(1991:389–393) verklaar Krüger (ibid) die feit dat die HK met Christus begin soos volg: ‘This is the missio Dei in the Person of Jesus Christ’.

Dit is Christus wat in die wêreld teenwoordig is deur sy uitverkore volk wat die evangelie aan verlore sondaars bring. Dit is egter Hy wat in sy soewereiniteit sy gemeente deur sy Gees en Woord vergader. Krüger (2007) stel dit soos volg:

Never once is either the initiative or the power in the hands of people, however holy or powerful or rich they might be, for the Word of Christ alone is the saving power in the lives of people (Rom. 1:16). (pp. 558, 559)

Die gemeente van Christus word vergader ‘uit die hele menslike geslag’ omdat alle mense in die ewige dood verkeer. Daarom moet die evangelie aan almal gebring word (Krüger 2007:559).

Alhoewel die evangelie aan individuele persone gebring word, word hulle wat tot die geloof kom, deel van die gemeente, ’n gemeenskap van verlostes. Christus vergader sy kerk. So duidelik word dit gesien by die bediening van die sakramente van doop en nagmaal. Ons het almal deel aan die een brood. By die doop word ons ook in die kerk ingelyf (antw. 74, HK) (Krüger 2007:560).

Krüger (ibid) wys ten slotte daarop dat die twee beloftes ten opsigte van die doop, waarna in die HK verwys word (Matt 28:19; Mark 16:16), albei uit ’n missionêre konteks geneem word: ‘Therefore, mission, the sacrament of baptism and the church as the body of and fellowship with Christ are all intimately connected’.

Samevattende slotopmerkings en ‘aanbevelings’

Die HK is (saam met die ander belydenisskrifte) deel van die wese van die kerk en moet daarom ook ’n wesenlike deel van alle aspekte van die kerklike lewe vorm.

Die opbou en groei van die gelowiges tot ‘geestelike’ of ‘geloofsvolwassenheid’ (vgl. die beskrywingspunt oor die omkeerstrategie) kan alleen gebeur waar erns gemaak word met die vaste kos van die Woord (Heb 5:14), die ‘gesonde leer’ (2 Tim 1:13; Tit 1:9, 2:1, 8), soos dit onder andere in die HK verwoord is. Konkreet gestel, beteken dit dat daar erns gemaak word met die toepassing van Artikel 68 van die Kerkorde. So gesien, behoort die ‘omkeerstrategie’ daartoe te lei dat die kerk opnuut aan die belydenis gebind word.

Dit is gebiedend noodsaaklik dat daar deeglike besinning oor die hele saak van Kategismusprediking plaasvind. Die TSP behoort hierin die inisiatief te neem deur onder andere ’n tweedag-seminaar te reël waarby ook die predikantekorps en kerke betrek word.

Dit sal ’n blye dag wees as die ‘Rooi’ en ‘Blou’ boekies21 weer uitgegee word en hulle regmatige plek in ons huise en kerklike kategese inneem. Dit moet ook deur vertaling en ander metodes vir ons swart kerke toeganklik gemaak word en kan ’n besondere rol in die uitdra van die evangelie op die sendingveld speel.

Die inisiatief moet geneem word om met behulp van kundigheid (wat ook onder ons studente aanwesig is) ’n webwerf te ontwikkel waarop die HK vir jong en volwasse gelowiges en ook vir buitekerklikes toeganklik gemaak en toepaslik en eenvoudig verklaar word. Voorbeelde van sulke webwerwe in die Engelstalige wêreld kan hierin van groot hulp wees.

Die HK het die toets van 450 jaar deurstaan. Na 450 jaar is dit relevanter as ooit. As die GKSA tot met die wederkoms van Christus as lewende kerk in die spoor van die kerk van alle tye wil loop (vgl. Graafland 1973:94),22 sal hy dit doen as hy, saam met die ander belydenisskrifte, die HK as lewende belydenis handhaaf, ook in enige omkeerstrategie.

Erkenning

Mededingende belange
Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Augustijn, C., 1969, Kerk en belijdenis, Kok, Kampen.

Bierma, L.D., Gunnoe, C.D., Maag, K.Y. & Fields, P.W., 2005, An introduction to the Heidelberg Catechism: Sources, history and theology, with a translation of the smaller and larger catechisms of Zacharias Ursinus, Baker Academic, Grand Rapids, MI.

Bogaards, A.H., 2007, Troos, troos my volk (Jes 40:1) Die enigste troos van die Heidelbergse Kategismus: Handleiding by die Heidelbergse Kategismus, Dr A.H. Bogaards, Pyramid.

Bosch, D.J., 1991, Transforming mission: Pardigm shifts in theology of mission, Orbis, Maryknoll.

Calvyn, J., 1981, Calvyn se kategismus, vert. H.W. Simpson, Potchefstroomse Teologiese Publikasies, Potchefstroom.

Calvyn, J., 1984, Institusie van die Christelike godsdiens, bd 1, vert. H.W. Simpson, met medewerking van L.F. Schulze en C.M.M. Brink, Calvyn Jubileum Boekefonds, Potchefstroom.

Calvyn, J., 1992, Institusie van die Christelike godsdiens, bd 4, vert. H.W. Simpson, met medewerking van C.M.M. Brink, Calvyn Jubileum Boekefonds, Potchefstroom.

Coetzee, C.F.C., 2010, ‘Belydenisgebondenheid in ‘n postmoderne era’, In die Skriflig 44(1), 27–45. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v44i1.135

Coetzee, C.F.C., 2013, ‘Kerk en belydenis’, Tydskrif vir Christelike Wetenskap 49(4), 275–293.

D’Assonville, V.E., 2013, ‘‘And thou shalt teach these words diligently ...’: Remarks on the purpose of the Heidelberg Catechism regarding its teaching nature’, In die Skriflig/In Luce Verbi 47(2), 25–31.

De Boer, E.A., 2013, ‘Christology and Christianity: The theological power of the threefold office in Lord’s Day 12’, In die Skriflig/In Luce Verbi 47(2), 32–39. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v47i2.682

De Bruyn, P.J., 1997, Jou enigste troos: Die Heidelbergse Kategismus vir die hedendaagse mens, Potchefstroomse Universiteit vir CHO, Potchefstroom.

De Graaf, S.D., 1940, Hoofdlijnen in de Dogmatiek, Kok, Kampen.

Du Plooy, A. le R., 2013, ongepubliseerde preek gelewer oor 1 Tim. 3:15, 16 by die Gereformeerde Kerk ‘Die Bult’, 11 Augustus 2013.

GKSA, 1980, Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika: Soos gewysig deur verskillende sinodes, Calvyn Jubileum Boekefonds, Potchefstroom.

GKSA, 2001, ‘Belydenisskrifte’, in Psalmboek: Die berymde en omgedigte Psalms en ander Skrifberymings in gebruik by die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, bl. 1–188, NG Kerk Uitgewers, Wellington.

GKSA, 2012, Handelinge van die tweede algemene sinode te Potchefstroom op 4 Januarie 2012 en volgende dae, GKSA, Potchefstroom.

Graafland, C., 1973, Waarom nog gereformeerd? Kok, Kampen. (Theologie & Gemeente, 7).

Greeff, M., 2013, ‘Vriende in vreemde kerke’, Lig Augustus, 52–53.

Grenz, S.J., 1996, A primer on postmodernism, Eerdmans, Grand Rapids.

Heyns, J.A., 1977, Die Kerk, NG. Kerkboekhandel, Pretoria.

Hoeksema, H., 1970, The triple knowledge: An exposition of the Heidelberg Catechism, Reformed Free Publishing Association, Grand Rapids, MI.

In die Skriflig/In Luce Verbi, 2013 47(2). http://www.indieskriflig.org.za

Jackson, N., 2013, ‘NGK moet gemaksones los, homself weggee’, Beeld, 8 Oktober, bl. 3.

Janse van Rensburg, J., 2000, The paradigm shift: An introduction to post-modern thought and its implications for theology, Van Schaik, Pretoria.

Jonker, W.D., 1994, Bevrydende waarheid: Die karakter van die gereformeerde belydenis, Hugenote-Uitgewers, Wellington.

Jordaan, G.J.C., n.d., Postmodernistiese hermeneutiek: ‘n Doodloopstraat: Klasdiktaat, Teologiese Skool Potchefstroom, Potchefstroom.

Knight III, G.W., 1992, The pastoral epistles: A commentary on the Greek Text, Eerdmans, Grand Rapids, MI..

Krüger, J.J.F., 2007, ‘The reformed confessions: Embarrassment or blessing to a missionary church?’, In die Skriflig 41(4), 549–570. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v41i4.320

Müller, J., 2006, ‘Teologie voor nuwe kairos-oomblik’, Kerkbode, 11 November, bl. 5.

Praamsma, L., 1971, Met de kerk van alle eeuwen: Over confessionele trouw en ontrouw, Buijten en Schipperheijn, Amsterdam.

Ridderbos, H., 1970, Het evangelie naar Mattheüs, Kok, Kampen. (Korte verklaring der Heilige Schrift).

Schaff, P., 1877, The creeds of Christendom with a history and critical notes, vol. 1: The history of the creeds, besigtig 26 Oktober 2013, by http://www.ccel.org/ccel/schaff/-creeds 1.html

Schulze, L.F., 1991, Ons glo met die hart, EFJS, Orkney.

Schulze, L.F., 1993, ‘Calvyn en die Heidelbergse Kategismus’, In die Skriflig 27(4), 487–499. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v27i4.1474

Schulze, L.F., 1994, ‘Die teologiese wortels en struktuur van die Heidelbergse Kategismus: ‘n Oorsig’, Hervormde Teologiese Studies 50(1/2), 194–210.

Snyman, W.J., 1977, Nuwe en ou dinge: Uit die skat van die koninkryk, versamel en aan hom opgedra deur sy oud-studente by geleentheid van sy sewentigste verjaardag, red. P.C. Snyman, Pro-Rege, Potchefstroom. (Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, Publikasiereeks, nr 56).

Snyman, G., 2007, Om die Bybel anders te lees: ‘n Etiek van Bybellees, Griffel, Pretoria.

Van Genderen, J., n.d., De reformatorische belijdenis in discussie, Buijten & Schipperheijn, Amsterdam.

Van Genderen, J. & Velema, H., 1992, Beknopte Gereformeerde dogmatiek, Kok, Kampen.

Van den Toren, B., 2011, Christian apologetics as cross-cultural dialogue, Clark, London.

Van Niekerk, A.A., 2005, Geloof sonder sekerhede: Besinning vir eietydse gelowiges, Lux Verbi, BM, Wellington.

Van’t Spijker, W., 1974, Eenheid in verscheidenheid? De identiteitscrisis binnen de Gereformeerde Gezindte, Kok, Kampen.

Van Wyk, N., 2013, ‘Sonder konfessionele identiteit kan die Hervormde Kerk nie die toekoms betree nie’, Tydskrif vir Hervormde Teologie 1(3), 28–53.

Verboom, W., 1996, ‘De voorzienigheid van God’, in W. Verboom, De theologie van de Heidelbergse Catechismus: Twaalf thema’s, de context en de latere uitwerking, pp. 83–108, Boekencentrum, Zoetermeer.

Verboom, W., 2010, ‘Bezielde geloofsverantwoording’, Theologica Reformata 53, 156–161.

Verboom, W., 2012, ‘The Christology in the Heidelberg Catechism and in the Canones of Dordt’, in E. van der Borght & T. van Geest (eds.), Strangers and pilgrims on earth: Essays in honour of Abraham van de Beek, pp. 115–128, Brill, Leiden.

Wallace, R.S., 1990, Calvin, Geneva and the Reformation, Baker, Grand Rapids.

Wentsel, B., 1998, De Heilige Geest, de kerk en de laatste dingen: De Kerk als het saamhorige volk Gods, Kok, Kampen. (Dogmatiek, bd, 4b).

Footnotes

1.ʼn Soektog op Google gee ʼn indruk van herdenkingsgeleenthede en publikasies wêreldwyd. Met die oog op die herdenking van die 450-jarige bestaan van die HK het ook die GKSA saam met die Nederduits Gereformeerde en die Nederduitsch Hervormde Kerk ʼn spesiale uitgawe van ‘In Luce Verbi’ (vol. 47[2], 2013) die lig laat sien. Die nasionale en internasionale bydraes in hierdie publikasie toon die relevansie en belangrikheid van die HK vir die teologiese debat, die kerk en die lewe van die gelowiges duidelik aan.

2.Hierdie stelling word onder andere bevestig deur die volgende: Die reëling ten opsigte van gereelde Kategismusprediking in Artikel 68 van die Kerkorde; die instemming met die belydenis wat vereis word by belydenisaflegging en die bevestiging van ampsdraers; behandeling van die HK as deel van die kategetiese onderrig, ensovoorts.

3.Die NG Kerk se hantering van sake rakende die Belydenis, spesifiek rondom die ‘Belhar-belydenis’, val nie binne die skopus van hierdie artikel nie.

4.Dit is ʼn onderwerp op sy eie. Wat die skopus van hierdie artikel betref, word dus slegs enkele opmerkings gemaak. Vir ʼn breedvoeriger behandeling, vergelyk Coetzee (2013) en die literatuur waarna daar verwys word.

5.Hier speel ook die Kerkorde ʼn onmisbare rol. ‘… met die ontwikkeling van die geref belydenisskrifte in die 16e, 17e eeue veral het die leer (doctrina) en die versorging of regering (disciplina) van die kerk hand aan hand verloop. Die kerklike orde wat toe vasgestel is en sedertdien soms verander en aangepas is, is bedoel om juis hierdie drie merktekens van die ware kerk gestalte te laat kry in die praktyk van ons kerkwees. En, die kern van hierdie bepalinge gaan terug op die gedragskode wat Paulus … in 1 Timoteus en op ander plekke geleer het’ (Du Plooy 2013:6).

6.Mattheus 16:18 word treffend afgebeeld en aangehaal in die bekende ‘Kerkseël’ van die GKSA. Vergelyk in hierdie verband Snyman (1977:448).

7.Ander tekste waaruit die ‘vanselfsprekendheid’, noodsaaklikheid, plek en funksie van die belydenis ook duidelik spreek, sluit onder andere die volgende in: Mattheus 24:9; Johannes 15:21; Romeine 10:9, 10; 12:6; 14:11; 1 Timotheus 6: 12, 13; Hebreers 3:1; 4:14; 10:23; 13:15; 1 Johannes 4:2, 3, 15. Weens die beperkte ruimte kan al hierdie tekste nie hier aan die orde gestel word nie.

8.Wat hier van die belydenis in die algemeen gesê word, is eweneens van toepassing op die HK as een van die bekendste belydenisskrifte in kerke van die Reformatoriese tradisie. In die HK self word verder byvoorbeeld ook ʼn ander belydenisskrif, die Apostolicum, as belydenis ‘verklaar’.

9.Vir ʼn vollediger oorsig, vergelyk Coetzee (2013:283–289).

10.Vir ʼn vollediger oorsig word verwys na Coetzee (2010) en die literatuur wat daar aangedui word. Oor die postmodernisme is reeds geweldig baie gepubliseer. Daarby is dit ʼn gekompliseerde en veelvoudige fenomeen wat in verskillende en uiteenlopende vakdissiplines manifesteer. In hierdie artikel word slegs die kenmerke genoem wat direk gevolge vir die verhouding tussen kerk en belydenis inhou.

11.11.Artikel 68 van die Kerkorde: ‘Die bedienaars van die Woord moet op Sondag, gewoonlik in die tweede diens, die hoofinhoud van die Christelike leer soos vervat in die Heidelbergse Kategismus uitlê en soveel moontlik jaarliks afhandel volgens die Sondagsafdeling daarvan’ (GKSA 2001:184).

12.Die kwessie van onvoldoende kennis van die belydenisskrifte by studente wat vir predikantsopleiding aanmeld, is reeds verskeie kere deur die Kuratorium van die TSP ter tafel geneem.

13.Die standpunt van Krüger word ook gehuldig deur onder andere Hoeksema (1990:5): ‘... the Church of Christ ... are set in the midst of the world to be witnesses of the truth of God. The Church may not be silent ... Its calling is to bear testimony in opposition to the lie. It partly meets this obligation through its confessions or symbols.’

14.Krüger behandel ook die Dordtse Leerreëls en die Nederlandse Geloofsbelydenis. Vir die doeleindes van hierdie artikel word slegs na sy behandeling van die HK verwys.

15.Vraag/antwoord 1: ‘Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ʼn wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.’

16.Vraag/antwoord 94: ‘Wat gebied God in die eerste gebod? Ek moet ter wille van my sieleheil en saligheid alle afgodery, towery, waarsêery, bygeloof, aanroeping van heiliges of ander skepsels vermy en daarvan wegvlug. Ek moet die enige ware God reg leer ken, Hom alleen vertrou, my slegs aan Hom met alle nederigheid en geduld onderwerp en van Hom alleen alle goeie dinge verwag. Ek moet Hom met my hele hart liefhê, vrees en eer. Sodoende sien ek eerder van alle skepsels af as om in die minste teen sy wil te handel’.

17.Antwoord 32: ‘Omdat ek deur die geloof ʼn lid van Christus is en daardeur deel het aan sy salwing sodat ek sy Naam kan bely, myself as ʼn lewende dankoffer aan Hom kan toewy en in hierdie lewe met ʼn vrye gewete teen die sonde en die duiwel kan stry en hierna met Christus in ewigheid oor alle skepsele kan regeer.’

18.Ook De Bruyn (1997:76) wys in sy verklaring van die profetiese amp van die gelowige op ons roeping ten opsigte van sending en evangelisasie; vergelyk ook Bogaards (2007:52).

19.De Boer (2013:32) handel in sy artikel oor die drievoudige amp as ‘teologiese konsep’ en hoe dit uiteindelik in die HK neerslag gevind het. Wat vraag en antwoord 32 betref, verwys hy (De Boer 2013:37) na Olevianus se standpunt dat Christene hulle profetiese roeping vervul deur God met ʼn ernstige, openbare belydenis van die ware geloof te prys; deur onderrig te gee, ook aan hulle werknemers (‘servants’) en deur hulle naaste op te bou in die Here.

20.Vraag/Antwoord 54: ‘Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk? Dat die Seun van God uit die hele menslike geslag vir Hom ʼn gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is, deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof van die begin van die wêreld af tot die einde toe vergader, beskerm en onderhou en dat ek daarvan ʼn lewende lid is en ewig sal bly’.

21.Die sogenaamde ‘Rooi’ en ‘Blou’ (vanweë die kleur van die omslag) boekies verwys na verkorte uitgawes van die HK wat vir baie lank in die kategese vir die jong dooplidmate (voorskools en laerskool) gebruik is, terwyl die volledige HK daarna aan die orde gestel is.

22.Graafland verwoord dieselfde gedagte soos volg: ‘Alleen een kerk, die in een levende betrokkenheid op haar belijdenis de zekerheid van het heil kent en verkondigt, zal in deze onstuimige en verwarrende wereld een pilaar en vastigheid der waarheid zijn, waartoe God haar de belofte en de opdracht gegeven heeft.’



Crossref Citations

No related citations found.