Trauma − die meedoënlose vyand

Book Title: Trauma − die meedoënlose vyand
Editors: Wentzel C. Coetzer
ISBN: 978-0-86955-209-4
Publisher: Potchefstroom Theological Publications, 2013, R180.00* *Book price at time of review

Reviewer: J.M. Olwagen1
Affiliation: 1Department of Practical Theology, University of Johannesburg, South Africa
Postal Address: PO Box 524, Kingswaykampus, Aucklandpark 2006, South Africa
How to cite this book review: Olwagen, J.M., 2014, ‘Trauma − die meedoënlose vyand, In die Skriflig 48(1), Art. #1794, 1 page. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v48i1.1794
Copyright Notice: © 2014. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Content
Open Access

Coetzer maak dit baie duidelik dat daar in ons samelewing ’n groot behoefte aan ‘genesing’ is. Die titel Trauma – die meedoënlose vyand spel dit duidelik uit en dit word ook regdeur die boek met onderskeiding hanteer. Daar is ’n soeke na maniere om ‘helpers en medewerkers’ (bl. viii) (dienswerkers of beraders) in die verband toe te rus sowel as na verskillende wyses om hoop te bied in traumatiese situasies waarmee die mens daagliks te doen kry. Die boek hanteer die hele spektrum van menswees en veral die gesondheid van die mens in sy totaliteit (gees, siel en liggaam). Die tragedie is egter dat ’n groot hoeveelheid mense wat een of ander trauma beleef dit sonder die ondersteuning en die broodnodige begeleiding van beraders moet deurmaak.

Die wyse waarop die outeur die aktualiteit van trauma vandag sowel as die voorbereiding vir toekomstige trauma beskryf, spreek tot die leser. Coetzer beklemtoon ook God se liefde vir die mens en sy begeerte dat die mens in sy wese gesond sal wees.

Die boek gee aan die leser ’n deeglike agtergrond oor die implikasies van trauma op ’n persoon se lewe en hoe om dit te oorwin. Post-traumatiese stresversteuring (PTSV) word ook bespreek. Die noue verband tussen die gees, siel en liggaam van die mens sowel as faktore wat genesing stimuleer, word onder die loep geneem. Verder word ʼn gebedsessie om mense te help om weer sin in die lewe te vind, as model voorgehou. Die belangrikheid van ’n goed gebalanseerde lewenstyl word beklemtoon asook die voorbereiding vir toekomstige traumas wat op die mens se lewenspad mag kom.

Enkele uitsonderlike bydraes in die boek is byvoorbeeld die deel oor heil en heling (bl. 23); belangrike perspektiewe ten opsigte van tipiese fases van rou; snellers wat PTSV bevorder (bl. 57-74); siekte wat gestimuleer word deur onderdrukte trauma (bl. 99−123); die belangrikheid van die nagmaal (’wanneer harte geruil word op Golgota – ons emosionele verwonding en pyn “oorhandig” ons dus in geloof aan Jesus Christus wat verwond aan die kruis hang’; bl. 129); die rol van die Heilige Gees in die genesingsproses (bl. 158); die rol van pyn (‘pyn het ’n doel – pyn is die leermeester, pyn veroorsaak groei – pyn help ons om skerper te fokus’; bl. 192); praktiese riglyne – wat jy vir jouself kan doen (bl. 198); en die belangrikheid van ’n ondersteuningsraamwerk of ‘support system’ (bl. 226).

Die boek is bedoel vir helpers en medewerkers sowel as enige ander persoon wat die pyn van mense wat seergekry het, raaksien. Hulle sal baat vind by die lees en implementering van die boek se praktiese riglyne. As leser besef jy dat dié boek nie maar net ’n nog boek is wat vlugtig gelees kan word en dan vergete op ’n rak beland nie. Dit is beslis ’n boek om weer en weer te lees. As jy ’n medewerker of helper is, is die boek beslis ’n moet. Dit moet deel van jou toerusting word. Helpers en medewerkers word hierdeur geleer hoe om trauma spreekwoordelik ‘aan te vat’.

Coetzer het daarin geslaag om ’n dieper betekenis en ’n beter begrip van trauma asook die hantering daarvan deur te gee. Die boek sou as ’n gids gebruik kon word deur helpers en medewerkers om hulle beter, en vir meer effektiewe dienswerk, te bekwaam. Dit bevat helder, deeglike en ongekompliseerde lerings met voorgeskrewe praktiese riglyne en illustrasies. Die verwysende illustrasies pas goed in by die selfverduidelikende teks.

Trauma is deel van almal se daaglikse bestaan. Almal beleef seerkry op een of ander stadium in die lewe. Dit wissel net in omvang. Mense in voltydse bediening ervaar dit elke dag.

Coetzer se uitgangspunt is dat daar altyd hoop in Jesus Christus is. Hy stel dit só: ‘’n mens kan die trauma oorleef’ (bl. 241). In Lukas 6:23 (Message Bible) lees ons ‘and it’s trouble if you think that life is all fun and games. There’s suffering to be met, and you’re going te meet it’. Coetzer stel dit so: As mense trauma beleef, beleef God dit saam met hulle.

Die goedversorgde teks is eenvoudig om te verstaan en lees maklik. Die boek is ’n geestelike verryking vir alle lesers en word onvoorwaardelik aanbeveel vir die toerusting en motivering van alle helpers en medewerkers, asook vir diegene wat ʼn passie het om die getraumatiseerde mensdom te help.



Crossref Citations

No related citations found.