Geloofsmomente wat van God se genade getuig

Book Title:Kairoi’ van genade
Author: F. Viljoen (ed.)
ISBN: 978-0-86955-212-4
Publisher: Potchefstroom Theological Publications, Potchefstroom, 2013, R180.00*
*Book price at time of review

Reviewer: Hendrik Goede1
Affiliation: 1Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa
Postal address: PO Box 264311, Three Rivers 1935, South Africa
How to cite this book review: Goede, H., 2014, ‘Geloofsmomente wat van God se genade getuig’, In die Skriflig 48(1), Art. #1803, 1 page. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v48i1.1803
Copyright Notice: © 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

Hierdie publikasie is die tweede in ’n reeks, uitgegee deur Potchefstroomse Teologiese Publikasies, wat gerig is die op die verdieping van prediking, die erediensbelewing, groepsbediening en huisgodsdiens. Die eerste publikasie het op die kerklike kalender gefokus terwyl hierdie boek aandag skenk aan kairoi-momente in die lewe van gelowiges en gemeentes. Die Nuwe-Testamentiese gebruik van die woord kairos om te verwys na ’n besondere of beslissende geleentheid wat ’n voelbare en selfs sigbare en tasbare impak het, is hier van belang. Na aanleiding van hierdie betekenis belig ‘Kairoi’ van genade daardie oomblikke in die gelowige se lewe wat nuwe moontlikhede en geleenthede oopmaak maar ook elke gelowige tot verantwoording oproep. As uitgangspunt word hierdie kairoi as waardevolle geskenke uit die hand van God beskou. Dit is in Christus aan elke gelowige toegedeel en word deur die Gees as ’n openbaring van God se genadige betrokkenheid en ingryping in gelowiges se lewens gebruik.

Die publikasie fokus op die volgende geloofsmomente: doop; voorbereiding, nagmaal en nabetragting; aflegging van geloofsbelydenis; huwelik; begrafnis en troosdiens; bevestiging van diakens; bevestiging van ouderlinge; sending en evangelisasie; en barmhartigheidsdiens. Die onderskeie afdelings is deur predikante en teoloë geskryf wat hulle insigte in die Skrif en praktiese ervaring op ’n verstaanbare en toeganklike wyse met die lesers deel. Elke moment word belig met behulp van agtergrondopmerkings, prediking, gebed, ander relevante teksgedeeltes en sprankelspreuke. Hierdie patroon vergemaklik die leeservaring, terwyl die bladuitleg ook sinvol is. Die genade van God word deurlopend in elkeen van hierdie lewensmomente duidelik uitgewys.

‘Kairoi’ van genade behoort tot ’n wye verskeidenheid lesers te spreek. Die agtergrondopmerkings en preke bied inspirasie vir predikers vir wie prediking oor hierdie momente ’n uitdaging geword het. Die versoeking om in ’n groef te verval, is groot! Die publikasie herinner predikers aan die belang van relevante prediking by geleenthede wat soms as bloot roetine beskou word (miskien veral die bevestiging van ampdraers). Predikante in die pastoraat of beraders sal baat vind by die pastorale inslag van die afdelings. Vir leiers in Bybelstudie- of kleingroepe is daar baie stof tot nadenke en gesprek oor hierdie kernmomente in die lede se lewens. Die stof kan ook deur begeleiers as ’n voorbereiding van lidmate met die oog op huweliksluiting, doop, belydenisaflegging en selfs die bevestiging van ampsdraers gebruik word. Vir elke gelowige is hierdie publikasie ’n kragtige herinnering aan God se genade in elkeen van hierdie kernoomblikke in jou geloofslewe. Daarin sal elke leser troos en bemoediging vind.

Ek beveel ‘Kairoi’ van genade met groot vrymoedigheid aan vir predikers, ampsdraers, pastors en beraders, Bybelstudie- en kleingroepleiers en elke individuele lidmaat. Gelowiges sal aanklank vind by die herinnering aan hierdie momente in elkeen se persoonlike lewe, of die vooruitsig om dit nog te ervaar. Hierdie momente sal dieper betekenis verkry en ’n meer blywende impak op hulle lewe maak. Lesers sal tot selfondersoek en bekering opgeroep word: gryp ek die kairos of die geleentheid aan wat God in Christus en deur sy Gees vir my met my doop, belydenisaflegging, huweliksluiting, deelname aan die nagmaal, bevestiging, ensovoorts geskenk het? Lewe ek vanuit die genade wat God met elke kairos-moment vir my gee? Lees hierdie boek en kom weer onder die indruk van God se oneindige genade en liefde!



Crossref Citations

No related citations found.