’n Onduidelike paradigma

Book Title: Nuwe leiers vir nuwe werklikhede
Editor: Nelus Niemandt
ISBN: 978-1-4316-0499-9
Publisher: Vereeniging, Christelike Uitgewersmaatskappy, R129.95* *Book price at time of review

Reviewer: Andries le R. du Plooy1
Affiliation: 1Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa
Postal address: PO Box 20031, Noordbrug 2522, South Africa
How to cite this book review: Du Plooy, A.l-R., 2014, ‘’n Onduidelike paradigma’, In die Skriflig48(1), Art. #1825, 2 pages. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v48i1.1825
Copyright Notice: © 2014. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Inhoud
Open Access

Die boek sluit aan by ’n vorige publikasie van die outeur wat in 2007 by Lux.Verbi verskyn het, naamlik Nuwe drome vir nuwe werklikhede.

In die jongste publikasie beklemtoon Niemandt dat die wese van die kerk volgens hom missionaal is; dat daar in die denke oor die kerk ’n paradigmaskuif na die ekumeniese plaasvind; en in die boek handel hy verder oor hoe leierskap binne die ontluikende ekumeniese paradigma lyk; ‘kortom, hoe missionale leierskap in ’n missionale kerk lyk en lewe bring’ (bl. 41).

Die skrywer se pleidooi deur die hele boek is dat daar ’n omwenteling nodig is vir die manier waarop oor die kerk gedink word. Hy beskryf dit dikwels as ’n sprong van ‘Gutenberg na Google’.

Dit is duidelik dat die outeur sterk onder die besef verkeer dat die kerk vanweë aspekte soos globalisering, die tegnologiese ontwikkeling, die vrye beskikbaarheid van kennis (Google) en nuwe vrae oor die kerk en geloof hierdie nuwe werklikheid in die gesig moet staar. Leiers in die kerk moet ernstig poog om nuwe antwoorde te vind.

In hooftrekke word aandag gegee aan aspekte soos:

• ’n definisie van die missionale kerk;
• die behoefte aan nuwe leierskap, in die besonder missionale leierskap;
• ’n nadere verduideliking van missionale leierskap;
• volgelingskap, leierskap en die leiding van die Heilige Gees;
• leierskap, netwerke en waagmoed; en
• missionale spiritualiteit en transformasie.

Uit die eindnote van die publikasie blyk dit dat die outeur homself goed in resente literatuur oor veral die missiologie, die sosiologie en die praktiese teologie ingegrawe het. Hierdie literatuur fokus op die kerk as verskynsel en hoe daar verandering en transformasie behoort te kom. Daar is egter ook heelwat ander bronne uit die reformatoriese ekklesiologie en die dogmatologie wat met vrug en ter wille van die balans geraadpleeg kon gewees het.

Binne die veld van die Missiologie en die Praktiese Teologie sal sekerlik van hierdie boek kennis geneem word. Die tema val binne die diskoers wat toenemend aan die orde kom, naamlik hoe die kerk verander kan word om steeds binne die nuwe werklikhede leiding te kan gee.

By die lees en herlees van die boek het daar heelwat vrae by my ontstaan oor die paradigma waarbinne die outeur homself bevind. By die waardering wat ek het vir die kritiese en insiggewende opmerkings oor die nuwe werklikhede in ons tydsgewrig, oor die gevare van verstarring en van die belangrikheid dat ons steeds as leiers volgelinge van Jesus Christus as die enigste Hoof van die kerk moet wees, is daar tog ’n verdere gesprek oor die volgende aspekte nodig: Die geweldige klem in ons tyd, veral deur missioloë, dat die kerk wesenlik missionaal is, skep die indruk van eensydigheid. Die kerk is in wese eerstens die liggaam van Christus, die volk van God en die tempel of woonplek van die Heilige Gees. Kan die kerk se wese in terme van sy roeping beskryf word? Sonder twyfel word die kerk gestuur om sending te doen, maar dit gaan nie daarin op nie soos wat reeds krities teenoor die vroeëre apostolaatsteologie gestel is. Dit is deel van ons gereformeede belydenis dat die kerk bewaar en vermeerder moet word.

Tans betree ons ’n nuwe fase waarin krities oor die eensydige klem op die sogenaamde missionale kerk geskryf word. Daar is skrywers wat waarsku dat die missionale kerk gaan misluk. Waarom? Omdat dit neig om ’n voertuig sonder enjin te wees; omdat die gestuurdes nie goed genoeg opgelei is nie en omdat daar nie ’n hospitaal is om mense op te vang en verder te versorg nie.

Die boek laat vrae by die leser ontstaan oor die gesag en rol van die gereformeerde leer ten opsigte van die kerk en die regering van die kerk. Word dit wat in die Drie Formuliere van Eenheid oor die kerk oor die dienste en oor die regering van die kerk bely word byvoorbeeld nog as geldig en relevant beskou, of word dit slegs as ’n deel van die geskiedenis geag en dus nie meer as normatief vir die nuwe werklikhede nie?

In die boek word allerlei stellings gemaak, byvoorbeeld dat ons vandag ou sekerhede moet opoffer (bl. 159); dat die kerk op ’n nuwe reis moet gaan, en dat daar nie sekerhede op die reis van volgelingskap is nie (bl. 165); en dat persoonlike transformasie diepgaande is (bl. 181). Indien dit beteken dat ons nie seker mag wees dat die Woord en die Gees die kerk in die geskiedenis en vandag nog geleer het wat om as waar en seker te bely nie, skep dit ernstige vrae.

Samevattend slaag die skrywer egter daarin om die leser oor ernstige geloofsake, oor God, oor sy kerk en oor die toekoms van die kerk in die wêreld te laat nadink. Tog ontstaan daar ook wesenlike vrae oor die paradigma waamee die outeur in hierdie publikasie handel, veral ten opsigte van die gesag en die gebruik van die Skrif en ten opsigte van die gereformeerde belydenisskrifte en hulle nut en toepassing in die nuwe werklikhede van ons tyd waarin die (be)dienaars in die onderskeie kerklike dienste (eerder as die leiers) geroep is om leiding te gee.



Crossref Citations

No related citations found.