’n Nuttige gids om werklik soos ’n bevryde te leef

Book Title: Vier jou bevryding: Die boodskap van Galasiërs vir vandag
Author: A. du Toit
ISBN: 978-1-4316-0188-2
Publisher: Christelike Uitgewers-maatskappy, 2012, R89.95
*Book price at time of review

Review title: ’n Nuttige gids om werklik soos ’n bevryde te leef
Reviewer: Hennie Goede1
Affiliation: 1Unit for Reformed Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa
Postal address: PO Box 263411, Drie Riviere 1935, South Africa
How to cite this book review: Goede, H., 2013, ‘’n Nuttige gids om werklik soos ’n bevryde te leef’, In die Skriflig/In Luce Verbi 47(1), Art. #184, 1 page. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v47i1.184
Copyright Notice: © 2013. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

Die skrywer, professor Andrie du Toit, het diep spore in die studie van die Nuwe Testament in ons land en internasionaal getrap soos die kort biografie op die agterblad van hierdie publikasie duidelik uitwys. By wyse van meer populêre publikasies soos hierdie boek, deel Du Toit die vrug van sy jarelange akademiese arbeid met gelowiges wat andersins nie daartoe toegang sou gehad het nie. Hierdie feit alleen maak die lees van Vier jou bevryding: Die boodskap van Galasiërs vir vandag die moeite werd.

Die boek verdeel Paulus se Galasiërsbrief in 31 dagstukkies aan die hand van ’n baie nuttige indeling van die brief wat duidelik in blokdiagramstyl aangedui is. Elke dagstukkie bevat die relevante verse uit Galasiërs, opnuut deur die skrywer vertaal, nuttige sosiohistoriese agtergrond tot die verse en ’n verklaring van die kernwoorde en -frases, eietydse toepassing van die verse in die vorm van ’n meditasie en ’n gebed wat op die meditasie en vrae vir persoonlike verdieping of groepsbespreking toegespits is. Die indeling van die dagstukkies is logies maar prakties sodat elke stukkie net genoeg pitkos vir die leser bied. Volgens die blokdiagram word sommige afdelings oor meer as een dagstukkie versprei.

Die taalgebruik sal tot ’n breë gehoor spreek, hoewel daar soms verouderde of ongewone Afrikaanse woorde gebruik word, byvoorbeeld toornig (bl. 13), smaad (bl. 49), siteer (bl. 105) en prisonier (bl. 165). Die skrywer se dieptekennis van die Griekse taal en die sosiohistoriese konteks van Paulus en die Galasiërs word oorwegend op ’n verstaanbare wyse aan die leser oorgedra. Sy eie vertalings dra ook by tot die leser se begrip van elke teksgedeelte, hoewel daar net in een voetnoot vermeld word dat die vertalings oorspronklik en/of aangepas is. Lesers wat hierdie eie vertalings in gepubliseerde vertalings soek, sal moontlik oor die oorsprong daarvan wonder. ’n Goeie voorbeeld van die skrywer se eie vertaalwerk is ten opsigte van Galasiërs 3:1: ‘O julle dwase Galasiërs, wie het julle getoor?’ (bl. 98). Met hierdie vertaling verdiep die skrywer die leser se insig in die betekenis van die Griekse teks en die gepaardgaande sosiohistoriese konteks.

Die waarde van die dagstukkies lê na my mening veral in die meditasies wat die toepassing bevat en die vrae vir oordenking of bespreking. Gebruikers wat hulpmiddels vir Bybelstudie gebruik, loop hulle soms vas teen die vraag wat hulle in hulle daaglikse lewensituasie met die boodskap van hierdie teksgedeelte moet doen. Met die meditasies, die aansluitende gebede en die vrae voorsien Du Toit ryklik antwoorde op hierdie vraag. Ek beveel dus sy nuutste werk met groot vrymoedigheid by gelowiges aan. Vier jou bevryding: Die boodskap van Galasiërs vir vandag is ideaal as ’n oordenkingsriglyn vir persoonlike Bybelstudie of as ’n gids en gespreksriglyn vir groepsbybelstudie of in kleingroepe. Predikante en ander gemeenteleiers sal ook daarby baat vind as ’n bron vir prediking en ander bedienings.



Crossref Citations

No related citations found.