Vreemdelinge en bywoners

Book Title: Vreemdelingen en bijwoners: Opstellen rond een urgent theologisch thema

Editors: G.C. den Hertog and H.G.L Peels

ISBN: 978-9-07584-737-6

Publisher: Theologische Universiteit Appeldoorn, Appeldoorn, €17.50*

*Book price at time of review

Review Title: Vreemdelinge en bywoners

Reviewer: Nico Vorster1

Affiliation:
1Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Email: nico.vorster@nwu.ac.za

Postal address: PO Box 20004, Noordbrug 2522, South Africa

How to cite this book review: Vorster, N., 2014, ‘Vreemdelinge en bywoners’, In die Skriflig 48(2), Art. #1860, 2 pages. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v48i2.1860

Copyright Notice: © 2014. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

Vreemdelingen en bijwoners bestaan uit 'n reeks opstelle oor die tema van vreemdelingskap. Die opstelle is deur dosente verbonde aan die Teologiese Universiteit van Appeldoorn geskryf en handel oor 'n interessante vraagstuk, naamlik: Wat kan die moderne kerk wat binne 'n post-Christelike era funksioneer, by die Vroeë Christelike Kerk, wat ook in 'n nie-Christelike era geleef het, leer?

Die eerste drie artikels fokus op die Vroeë Kerk se verstaan van hulle vreemdelingskap in die wêreld, terwyl die tweede reeks opstelle Bybeltekste analiseer wat oor vreemdelingskap handel. Die derde groep opstelle bespreek die relevansie van die Vroeë Kerk se benadering tot vreemdelingskap vir die kerk vandag.

In die eerste reeks opstelle gee A. Baars 'n oorsig oor die historiese situasie van die Vroeë Kerk, terwyl J.J. Oosterhuis den Otter die brief aan Diognetus (150 n.C.) bespreek en A.J.T. Ruis Tertullianus se perspektiewe op vreemdelingskap analiseer. Die bespreking van Baars is inderdaad 'n hoogtepunt in die boek. Hy wys daarop dat die vroeë Christene se ervaring van vreemdelingskap aanvanklik 'n sterk missionêre inslag getoon het. Martelaarskap is as 'n besondere offer aan God gesien en is soms op 'n onnatuurlike wyse verheerlik. Terselfdertyd het die gedagte van wêreldmyding egter ook in die vorm van asketiese praktyke na vore getree. Die vroeë Christene was sterk daarop ingestel om hulleself nie deur die heidense praktyke van ander godsdienste te laat meevoer nie.

In die tweede reeks opstelle analiseer H.G.L. Peels die boek Jeremia, spesifiek hoofstuk 29, terwyl M.C. Mulder oor die Jode se heroriëntasie van hulle geloofslewe na die verwoesting van die tempel in 70 n.C. skryf. T.M. Hoffman bespreek die rol van die oikos in die lewe van die vroeë Christene, spesifiek in die lig van die geskrifte van Lukas. Peels se bydrae is, myns insiens, die hoogtepunt in hierdie stel bydraes. Benewens 'n historiese, literêre en eksegetiese ontleding van Jeremia 29, trek hy die lyne vanaf die teks na die hedendaagse Christelike ervaring op 'n relevante wyse deur. Hy waarsku dat Christene in die post-Christelike era enersyds maklik in 'n passiewe vorm van isolasie kan verval, of andersyds in 'n negatiewe vorm van opstandigheid en negatiwiteit. Die egte Christelike gesindheid is egter om in 'n post-Christelike samelewing betrokke te bly deur die uitlewing van die Christelike roeping. Die belange van die Christen hang immers ten nouste saam met die belange van die samelewing.

In die derde reeks opstelle analiseer G.C. den Hertog die etiek van die Vroeë Christelike Kerk, terwyl J. van 't Spyker 'n perspektief op kerkwees in 'n post-Christelike kultuur bied. T.M. Hofmann bespreek die vreemdelingskap van die Samaritane in die Nuwe-Testamentiese tyd. Van 't Spijker maak 'n aantal interessante opmerkings in sy bydrae. Hy wys daarop dat die situasie in die Vroeë Kerk nie noodwendig as normatief vir die kerk in 'n post-Christelike era beskou kan word nie. Die Vroeë Kerk het in 'n pre-Christelike era geleef, terwyl die hedendaagse kerk binne 'n samelewing leef wat van die Christelike geloof afskeid geneem het. Die postmoderne mens is kultureel-antropologies gesproke 'n ander tipe mens as die mens wat in die vroeë Christelike tye geleef het.

Die boek Vreemdelingen en bijwoners bied interessante perspektiewe op die tema van vreemdelingskap en die bydraes is oor die algemeen van 'n goeie wetenskaplike standaard. Tog bevat die boek enkele leemtes. Eerstens toon dit 'n gebrek aan 'n werklike sistematiese omgang met die tema. Dit is byvoorbeeld nie duidelik hoe die opstel oor die Samaritane se vreemdelingskap by die logiese gang van die boek inpas soos dit in die voorwoord uiteengesit is nie. Verder fokus slegs die bydrae van Van 't Spijker op die kontemporêre milieu, terwyl die ander bydraes op die vroeë Christelike era fokus. Die tema van die boek vereis sekerlik meer nadenke vanuit 'n kontemporêre perspektief. 'n Slothoofstuk wat die verskeidenheid perspektiewe in die boek sistematies saamvat en 'n duidelike antwoord op die vraagstuk bied, sou groter koherensie aan die boek gegee het. Tweedens gaan die boek van bepaalde uitgangspunte uit wat nie deeglik beredeneer word nie. Die gedagte dat die kerk in 'n post-Christelike samelewing leef, word as 'n gegewe beskou. Tog is daar baie literatuur binne die godsdienssosiologie wat die teendeel argumenteer. Hier kan na die opkoms van die desekularisasietese verwys word. Hierdie desekularisasietese bevraagteken die tradisionele sekularisasietese van Weber op empiriese gronde. Die boek toon oor die algemeen 'n uiters oppervlakkige analise van die kontemporêre godsdienstige milieu. 'n Derde leemte is dat die basiese vraag wat die boek aan die orde stel, nie werklik duidelik, sistematiese en goed begrond beantwoord word nie. Dit laat die leser uiteindelik met 'n gevoel van onvergenoegdheid.

Ten spyte van bogenoemde kritiek kan die boek wel vir lesers aanbeveel word. Lesers wat in die vroeë Christelike era belangstel, sal veral by die boek baat vind.



Crossref Citations

No related citations found.