Die misleiding van Bevryding deur gebed

Book Title: Bevryding deur gebed – Oorwin persoonlike en geestelike struikelblokke deur naby aan God te leef

Author: Neil T. Anderson

ISSN: 978-1-4316-0464-7

Publisher: Vereeniging, Christelike Uitgewersmaatskappy, 2013, R119.95*

*Book price at time of review

Review Title: Die misleiding van Bevryding deur gebed

Reviewer: De Wet Saaiman1

Affiliation:
1Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Email: dsaaiman@isat.co.za

Postal Address: PO Box 1627, Rant-en-Dal 1751, South Africa

How to cite this book review: Saaiman, D., 2014, ‘Die misleiding van Bevryding deur gebed’, In die Skriflig Verbi 48(1), Art. #1878, 2 pages. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v48i1.1878

Copyright Notice: © 2014. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Book Review
Open Access

In die heel eerste hoofstuk van Bevryding deur gebed raak Neil T. Anderson 'n belangrike punt aan wanneer hy die volgende vrae aan die leser stel: ‘As gebed so belangrik is, waarom is dit so moeilik?’ en ‘Wanneer laas het jy God se stem gehoor?’ Hy raak 'n belangrike struikelblok van gebed aan, naamlik die probleem van gefokusde gebed. Een van die grootste worstelings waarmee enige bidder worstel, is om gefokus te bly terwyl dwalende gedagtes en versoekings sy stiltetye onderbreek. Is die vyand besig om jou fokus uit te daag? Is God besig om met jou te praat, maar jy besef dit nie? Miskien behels gebed meer luister as praat.

Anderson verduidelik hierdie onduidelikheid en deel met die leser hoe om veral in jou gebedslewe innerlike vrede te vind. Hy bespreek onder andere die volgende onderwerpe:

  • Wees stil en weet dat Hy God is.
  • Bid en laat die Heilige Gees jou lei.
  • Maak van gebed 'n dialoog in plaas van 'n monoloog.
  • Los persoonlike en geestelike konflik deur gebed op.
  • Oorkom die struikelblokke van die lewe wanneer die hemele oënskynlik stil is.

Anderson moedig die Christenleser aan om verby die ritueel van gebed te beweeg en werklik 'n verhouding met God na te streef. Sy doel is om die leser te leer hoe om saam met die Gees te wandel deur mekaar se laste te deel, dankbaarheid te betoon en vir ander mense met gebed in te tree.

Aan die einde van elke hoofstuk is daar vrae wat ook vir groepstudie en individuele introspeksie geskik is. Materiaal wat voorheen in Gebed deur die krag van die Heilige Gees gebruik is, is in hierdie boek verwerk.

Bevryding deur gebed is 'n vertaling uit die oorspronklike Engels en die vertaling is deurgaans goed.

Hoe beoordeel 'n mens hierdie boek? Die boek en die onderwerp oor gebed is vanuit 'n bepaalde teologiese vertrekpunt geskryf en waarskynlik vir die hoofstroom evangeliese teologiese denke bedoel. Dit is juis hier waar die probleem lê. Anderson se skrywe oor gebed laat die deursnee gereformeerde teoloë met 'n ongemak agter. Sy benadering tot gebed is formalisties en meganies. Dit gee op sy beurt daartoe aanleiding dat gebed bloot as 'n instrument beskou word waarmee die wêreld daarbuite (en selfs God) beheer en gemanipuleer kan word.

Die hele gedagte rondom bevryding en die bediening van bevryding deur gebed bring 'n mens in versoeking om in alles wat rondom jou gebeur, die duiwel se hand te sien. Die gevolg van so 'n denkwyse is dat Christene eerstens van verantwoordelikheid vir hulle eie optrede vrygestel word (‘Dit is die duiwel wat my laat drink het’) en tweedens word Christene in 'n heidense vrees vir die Bose en vir die wêreld rondom hulle vasgevang – in plaas daarvan om as vrygemaakte sondaars met dankbaarheid te leef, om dus as ‘verloste mense te lewe ... as ligdraers te midde van ontaarde en korrupte mense’ (Fil 2:12, 16); ‘uit genade ... gered ... saam met Christus Jesus opgewek’ (Ef 2:5, 6); in al ons swaarkry steeds ‘meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet’ (Rom 8:37, 39). Die Heidelbergse Kategismus, Vraag en Antwoord 1 leer ons tog dat ons enigste troos daarin lê dat ons ‘aan Christus behoort’ en dat Hy ‘met sy kosbare bloed vir al ons sondes ten volle betaal en ons uit alle heerskappy van die duiwel verlos het’.

As kind van God het elke Christen dieselfde toegang tot die hemelse Vader. Jesus het immers gesê dat ons moet bid en vir ons sal gegee word. Ons gereformeerde belydenis beklemtoon dat ons gebede die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis. Gebede is nie towerspreuke en geykte formules om God se spreekwoordelike arm te draai nie.

As resensent kan ek die boek nie sonder voorbehoud vrymoedig aanbeveel nie. Daar is myns insiens net te veel grate wat die vis oneetbaar maak. Soos iemand tereg opgemerk het, om 'n boek soos hierdie van sy grate (dit is: denkstruktuur, die basis waarop die boek geskryf en ontwikkel is) te ontgraat en die vis (dit is: die invulling van die denkstruktuur) te wil oorhou, is 'n onbegonne taak en boonop oneerlik. 'n Mens doen die skrywer 'n onreg aan om te sê dat hy 'n paar mooi sêgoed kwytgeraak het, maar in jou hart weet jy egter dat jy sy denkstruktuur uitgespoeg het.

Gebed is belangrik, dit is immers die asemhaling van die siel. Dit is egter beslis nie soos wat dit deur Anderson in Bevryding deur gebed aan ons opgedis word nie.



Crossref Citations

No related citations found.