Die doel van hierdie biografiese artikel is nie om ‘n finale beoordeling te doen oor die lewe of die akademiese bydrae van Herrie van Rooy nie. Behalwe dat enige mens baie versigtig sou moes wees as jy so iets wou aanpak, het Herrie bowendien tans nog net by die einde van ‘n bepaalde fase in sy lewe gekom. Aangesien Herrie homself in die Ou Testament (OT) verdiep het, is dit seker nie onvanpas om daaraan te dink dat iemand soos Moses volgens die teks eers 80 moes word voordat die Here hom vir die belangrikste werk van sy lewe geroep het nie!
Waar Herrie egter aan die einde van 2014 formeel aftree as professor in teologie, het hy wel by ‘n punt gekom waar ‘n mens dankbaar kan terugkyk oor die ryke lewe wat die Here dusver vir hom beskik het. In hierdie oorsig wil ek aandag gegee aan sy voorgeskiedenis, sy grootwordjare, sy studentelewe, sy huwelik en gesin en uiteraard ook sy werksloopbaan.
Die Van Rooys (oorspronklik: Van Roij, en later: Van Rooij) het teen die sewentiende eeu in die dorpie Dennenburg, geleë net suid van die Maasrivier in Noord-Brabant, in die suidweste van Nederland, gewoon. Willem van Roij, die eerste familielid oor wie daar inligting bestaan, is in ongeveer 1650 gebore (Van Rooy s.a.). Sy kleinseun Michael van Rooij, wat op Huisseling (enkele kilometer suidoos van Dennenburg) gewoon het, is ‘n stamvader die Van Rooys in Suid-Afrika. Een van sy nasate, Cornelis Willems van Roij (alias Kosters) is reeds teen 1708 getroud met ene Emerentiana, sy eerste van drie vroue. Agt kinders is uit hierdie huwelik gebore, waarvan Joannes Cornelis (gebore te Dennenburg op 31 Januarie 1714; kyk Figuur 1) die vierde kind en derde seun was. Joannes Cornelis van Roij is getroud met Maria Janssen Schusselaars en hulle was die ouers van vier kinders, waarvan Michael (gebore te Dennenburg op 23 April 1737) die oudste seun was. Michael (Michaël, Michaëlis) van Rooij is getroud met Adriana van den Bosch (wat onverwags oorlede is op 30 Julie 1788) en was die vader van Henricus (Hendrik, Henri), gebore te Dennenburg op 01 Oktober 1782, die tweede seun en jongste van sewe kinders. Henricus van Rooij is getroud met Clara Kuijpers en hulle was die vader en moeder van Johannes Cornelis, wat op 02 November 1824 te Huisseling gebore is en op 24 Oktober 1857 met sy gesin na Suid-Afrika geëmigreer het.
|
FIGUUR 1: Geboorte akte van Johannes Cornelius van Rooij wat in 1857 na Suid Afrika geëmigreer het. |
|
Oorgrootjie, Johannes Cornelis van Rooj (kyk Figuur 2)
Aangesien Johannes Cornelis van Rooij (alias: Jean Corneille, gebore te Huisseling op 2 November 1824) vroom was en mooi kon sing, kon hy ‘n ‘deurknaap’ word in die kerk te Overlangel waarheen die gesin kort na sy geboorte verhuis het (Arts 2014; Coetzee 1981). Nadat sy pa oorlede is en die plaaslike ekonomie ‘n insinking beleef het, stuur sy ma hom om op 18-jarige leeftyd as onderwyser opgelei te word. Tot op hierdie stadium was die familie stoere Rooms Katolieke. Sy Protestantse onderwyser, Mattheus Quik, het onderneem om hom van enige Bybelonderrig aan Johannes Cornelis te weerhou. Dit het egter nie verhoed nie dat Johannes Cornelis die gesprekke wat Quik met die ander studente gehad het, gehoor het en ook nie dat hy Quik se Bybel ‘skelm’ begin lees het nie. Toe Johannes Cornelis sy familie na ‘n tien jaar lange worsteling vertel dat hy nie meer sekere aspekte van die Roomse leer kon aanvaar nie, het sy broer en susters hom verwerp: ‘Uit die kerk? Uit die huis!’ Hy is selfs verhoed om sy ma op haar sterfbed te besoek – terwyl sý eintlik simpatie met hom gehad het. Hierna vertrek hy na Brussel waar hy ‘n lidmaat van die Vlaams Evangelische Kerk word en in 1855 met Anne Françoise (Anna Francina) Holsters (gebore 31 Oktober 1834, kyk Figuur 3) trou. Drie jaar later vertrek die gesin na Suid-Afrika sodat Johannes Cornelis as rondgaande Christelike onderwyser kon kom werk in dorpe soos Colesberg, Venterstad, Burgersdorp, Cradock, Middelburg en Steynsburg waar hy op 24 Januarie 1889 oorlede is. Sy vrou, wat o.a. ‘n besigheid (J.C. van Rooy & kie.) op die dorp bedryf het, sterf op 28 Augustus 1904 te Steynsburg nadat sy gedurende die Suid-Afrikaanse oorlog tydelik na Nederland moes uitwyk. Daar is tien kinders uit hierdie huwelik gebore waaronder Jacobus Albertus as hulle sewende kind en jongste van vyf seuns.
Oupagrootjie, Jacobus Albertus (Koos) van Rooy (kyk Figuur 4)
Jacobus Albertus (Koos) van Rooy is op 09 Augustus 1868 op die plaas Wonderboom, distrik Albert (Burgersdorp) gebore (Van Rooy s.a.). Hoewel hy aanvanklik ‘n onderwyser aan die Vrye Christelike Skool was, het hy mettertyd met sy teologiese studies aan die Gereformeerde Teologiese Skool te Burgersdorp begin waar hy in September 1892 getroud is met Brechtje (Breggie), die dogter van prof. Dirk en Johanna Willemina (geb. Van Biljon) Postma. Ds. Koos het die Gereformeerde Kerke Postmasburg (as eerste predikant vanaf 1895); Waterberg (Nylstroom) en Pietersburg (vanaf 1898?) en Bethulie (vanaf 1905 tot 1931) bedien.
|
FIGUUR 4: Ds. Jacobus Albertus (Koos) van Rooy |
|
|
FIGUUR 5: Die Van Rooij familie. Ds. Koos, Herrie se oupagrootjie, sit in die derde ry van agter, vierde van links, met sy skoondogter Corrie, Herrie se ouma, vyfde van links, langs hom. Herrie se ouer broer Dirk is op haar skoot, terwyl Dirk Jan, Herrie se oupa, langs haar sit. Herrie se pa Bertus staan in die agterste ry, vierde van links. Herrie se ma Sientjie staan in die tweede ry van agter, agste van links (skuins voor haar man). Vir ‘n volledige lys van die persone op die foto, kyk Van Rooy, s.a. |
|
Jan Leendert van Rooy (s.a.) gee ‘n uitvoerige uittreksel uit AJ (Bertus) van Rooy se publikasie, Die familie van Rooy in Suid-Afrika van 1992. Hierin lig hy die lewe en bydrae van ds. Koos van Rooy breedvoerig toe, insluitend die ontberinge wat hy en sy gesin tydens die oorlogsjare (toe hy veldprediker was) en daarná moes ondergaan. In hierdie artikel gaan ek net die volgende paar sake ten opsigte van dié oupagrootjie van Herrie van Rooy uitlig: Dat ds. Koos ná die oorlog vanaf Waterberg en Pietersburg ‘n beroep na Heidelberg bedank het omdat die bedieningsnood in Waterberg en Pietersburg nog te groot was; Dat hy, deels ter wille van sy gesin, wel die beroep na Bethulie aanvaar het sodat sy gesin in ‘n meer bekende omgewing die trauma van die oorlog kon verwerk; Dat hy op die sinode van 1920, meer as ‘n dekade voordat die Bybel in Afrikaans sou verskyn, voorgestel het dat Totius gevra moes word om die Psalms in Afrikaans in digvorm oor te sit; Dat hy as predikant ook bekend was vir sy begaafdheid en werkywer en hoewel hy onwrikbaar was in sy prinsipiële oortuiging, hy ook beskeie in sy omgang met mense was. Van Rooy (s.a.) noem laastens dat dit vir ds. Koos ‘n absolute hoogtepunt was toe hy, tydens die sinode van 1936 te Bethulie, as voorsitter van die deputate, die manuskrip van die Psalmberyming aan die voorsitter van die sinode, ds. Dirk Postma in die teenwoordigheid van Totius oorhandig het. Ds. Koos en Breggie van Rooy het 10 kinders gehad waaronder Dirk Jan wat hulle derde kind en tweede van vyf seuns was. Uit die beskrywing van die fees wat in 1958 met oog op Ds. Koos se negentigste verjaarsdag gehou is, is dit duidelik dat die Van Rooys ‘n vooraanstaande Suid-Afrikaanse familie geword het.
Oupa, Dirk Jan Van Rooy
Dirk Jan is op 18 September 1896 te Griekwastad gebore en is op die kruin van sy loopbaan, op die oggend van 20 November 1964 te Potchefstroom oorlede (Van Rooy s.a.; Coetzee 1981). Dirk Jan het alreeds op skool goed presteer en het onder andere die Robertson-beurs van die Grey-Universiteitskollege in Bloemfontein, verwerf. Op 24 Desember 1919 trou hy met die een-en-twintigjarige Cornelia Adriana Moerdyk (kyk Figuur 6), ‘n suster van die bekende argitek, Gerard Moerdyk. In 1933 verwerf Dirk Jan ‘n doktorsgraad (in wiskunde) aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam. Hy was vanaf 1915 onderwyser aan die Potchefstroomse Hoër Gimnasium. Nadat hy in 1923 lektor aan die Potchefstroomse Universiteitskollege word, het hy vanaf 1927 tot en met sy aftrede in 1961 as hoogleraar in wiskunde en toegepaste wiskunde aan dieselfde instelling (wat in 1951 die PU vir CHO geword het) gedien. Buiten dat hy hier ook telkens dekaan was (Natuurwetenskappe, 1929 1930; 1951 1952; Lettere en Wysbegeerte 1939 1940; 1948 1949), het hy op verskeie Provinsiale en Nasionale eksamen- en ander rade gedien (Coetzee 1981).
|
FIGUUR 6: Dirk Jan en Corrie (geb. Moerdyk) – Herrie se Van Rooy oupa en ouma. |
|
In 1942 het Dirk Jan van Rooy ‘n volle lid van die Suid-Afrikaanse Akademie geword. Nadat hy deur sy loopbaan verskeie publikasies, waaronder talle wiskundehandboeke, die lig laat sien het, het die Akademie ‘n jaar na sy dood besluit om ‘n jaarlikse Wiskunde olimpiade te hou en om die Dirk van Rooy-medalje daaraan te koppel. Hy was sekretaris van die eerste redaksie van Koers – dieselfde vaktydskrif waarby sy kleinseun Herrie van Rooy steeds betrokke is. Dirk Jan Van Rooy was ook by verskeie kultuurorganisasies betrokke en het gedien as hoofbestuurslid van die Reddingsdaadfonds. Hy het ook aktief aan sport deelgeneem en was in 1920 kaptein van die PUK-span wat die Blaine-beker verower het. Hy het vanaf 1962 op die stadsraad van Potchefstroom gedien en het in 1964 burgemeester geword. As getroue lidmaat van die kerk het eers as diaken en later as ouderling gedien, asook op verskeie deputaatskappe in die kerkverband.
Op 19 November 1964 het die Universiteit van Pretoria besluit om die eregraad DSc aan prof. Dirk Jan toe te ken. Dit is oorweeg om die besluit daardie nag telefonies aan hom oor te dra. Daar is egter anders besluit aangesien hy die volgende dag ‘n vergadering in Pretoria moes lei en vroegoggend vanaf Potchefstroom sou vertrek. Die nuus het hom egter nooit bereik nie, aangesien hy skielik oorlede is toe hy op die punt was om te vertrek. Dirk Jan en Corrie het drie seuns en een dogter gehad met Albert Jacobus as hulle eersteling.
Albert Jacobus van Rooy – Herrie se vader
Albert Jacobus (Bertus), Herrie van Rooy se pa, is gebore te Potchefstroom op 08 November 1920. Hy is op 08 Januarie 1946 te Reddersburg getroud met Andriessina Gertruida (Sientjie) Kotze. Herrie se ma is op 09 September 1920 te Reddersburg gebore as die dogter van Herculaas (Harry) Frederik Kotze en Barendina Johanna Kruger wat in die Reddersburg/Smithfield omgewing geboer het. Harry is mettertyd verafrikaans na Herrie. Nadat Sientjie op Reddersburg matrikuleer, verwerf sy ‘n BA te Potchefstroom met Duits en geskiedenis as hoofvakke. Sy sou later jare ook in hierdie vakke skool gee (Van Rooy 2013). Pa Bertus het op Gimmies in Potchefstroom skoolgegaan en het in 1940 ‘n B.Sc.- graad in wiskunde en toegepaste wiskunde aan die PU vir CHO verwerf. Hierna het hy vir tien jaar in die Kaap by onderskeidelik SANLAM en SANTAM se aktuariële afdelings gewerk en in 1951 saam met sy vrou en hulle twee seuns, Dirk Jan en Herrie, teruggekeer Potchefstroom toe om ‘n Onderwys diploma te verwerf. Hierna het sy studies deeltyds voortgesit terwyl hy vir vyf jaar voltyds onderwyser aan die Hoërskool Florida was. In 1958 trek die gesin, wat intussen ‘n dogter Barendina Johanna (Berdine) gebore op 28 Maart 1954, ryker geword het, Pretoria toe (kyk Figuur 7). In 1960 verwerf hy ‘n D.Ed.-graad waarmee hy ‘n bydrae tot die teoretiese, historiese en empiriese opvoedkunde lewer. Hierna spandeer hy ses maande in Noord Amerika (o.a. te Princeton) met die oog op verdere navorsing in wiskunde asook om die moontlikhede wat die toe splinternuwe rekenaartegnologie kon bied, te ondersoek. Met sy terugkeer na Suid-Afrika het sy werk nie alleen tot nuwe skool sillabusse vir wiskunde gelei nie, maar word hy ook een van die eerste twee vise-presidente van die pas gestigte Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. Bertus was ook ‘n volle lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Soos sy pa was hy betrokke by die Afrikaanse Calvinistiese Beweging en was hy tien jaar lank die sekretaris van die Suid-Afrikaanse Calvyn-kongres, asook voorsitter van die redaksie van Woord en Daad. Hy was ‘n stigerslid van die organisasie wat eers bekend gestaan het as die Instituut vir die Bevordering van Calvinisme en later die Instituut vir Reformatoriese Studie sou word. Dit is uit sy pen wat die genealogiese geskrif Die familie van Rooy in Suid-Afrika in 1992 verskyn. Met ‘n pa wat soveel belangstel in die familiegeskiedenis en ‘n ma wat geskiedenis-onderwyser was, is dit nie moeilik om te verstaan waar Herrie se liefde vir geskiedenis vandaan kom nie.
In die kerk dien Bertus eers as diaken en later ook as ouderling en in die kerkverband is hy ook betrokke by verskeie deputaatskappe (w.o. onderwys en insake ‘n mediese hulpfonds vir predikante). Hy was ook lid van verskeie meerdere vergaderings en is twee keer afgevaardig na die Nasionale Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.
Terugblik
Terugskouend oor Herrie se Van Rooy voorgeslag en sonder om te impliseer dat ‘n mens ‘n willose produk van jou voorsate is, is daar ‘n paar sake wat uitstaan: ‘n liefde vir die Here, vir sy kerk en vir die waarheid; die bereidheid om op te offer, te dien en te help; intelligensie, deursettingsvermoë, suksesvolle loopbane, asook die vermoë om te onderrig. Herrie se pa Bertus, sy ma Sientjie, sy oupa Dirk Jan en sy oorgrootjie Johannes Cornelius was almal onderwysers, en hoewel Herrie soos sy pa en oupa uiteindelik in die akademie beland het, was hy aanvanklik, soos sy oupagrootjie Koos, ‘n predikant. En dan vermeld ek nie eers die ander predikante en onderwysers wat hierdie families opgelewer het nie.
Hoewel ek tot op hierdie punt op die Van Rooy-geslagslyn gefokus het, kom die gene wat elke mens dra van albei ouers, via vier grootouers, agt grootjies en sestien oorgrootjies, sodat enige persoon slegs vier geslagte in die verlede terug hoef te gaan om dertig mense se gene te dra. Daarom word bepaalde lyne ook met omsigtigheid getrek.
Herrie se grootwordjare
Herculaas Frederik (Herrie) Van Rooy is gebore op 07 Augustus 1949 te Kaapstad. Toe Herrie twee jaar oud was, verhuis hulle gesin na Florida in Johannesburg waar sy pa onder andere onderwyser was. Nadat Herrie se eerste drie skooljare in Ontdekkers was, verhuis hulle Pretoria toe waar hy aan Laerskool Pierneef skoolgaan. Volgens Herrie se ma het hy in standerd 1 in Ontdekkers geleer om ‘vas’ te skryf. By Laerskool Pierneef moes hy, tot sy groot frustrasie, weer ‘los’ begin skryf. Dié wat hom ken, sal weet hoe so iets hom vandag nog kan frustreer. Die feit dat hy drie weke na die eerste kwartaal begin het, kinkhoes gekry het, het sake nie veel gehelp nie (Van Rooy 2013).
Herrie was van standerd 6 tot aan die einde van standerd 9 in Hoërskool Wonderboom, waar hy as lid van die leerlingraad verkies is. Hy skryf egter in 1967 matriek aan die Hoërskool Menlopark en slaag met vyf onderskeidings – in al sy vakke (behalwe Afrikaans en Engels), naamlik Wiskunde, Natuur- en Skeikunde, Latyn, sy liefling vak Geskiedenis en Rekeningkunde. Om Rekeningkunde as sewende vak te kon neem, iets wat in daardie jare ongewoon was, was Herrie bereid om gereeld kilometers vêr met sy fiets te ry vir ekstra klasse. Volgens sy vrou is sy skooljare egter nie iets waarna Herrie ooit terugverlang het nie (Van Rooy 2013).
Herrie het in 1968 ingeskryf by die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys. Hoewel hy vir sy koshuis, Over de Voor, se eerste rugbyspan haker, en die eerste krieketspan kolwer en paaltjiewagter was, het hy hom op sy akademie toegespits – soveel so dat hy nie juis aan die georganiseerde studente lewe deelgeneem het nie en homself nooit vir die Studente Raad of die bestuur van die Teologiese Studente Vereniging beskikbaar gestel het nie. In daardie jare moes iemand wat predikant in die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika wou word, eers ‘n B-graad verwerf met vakke soos die Bybeltale en Filosofie tot op ‘n sekere vlak. Herrie behaal die B.A.-graad in 1970 met lof terwyl hy boonop ‘n ekstra hoofvak neem: Grieks, Semitiese Tale én Latyn. Terwyl hy gedurende die volgende twee jaar sy eerste twee jare van teologiese studies suksesvol aan die Teologiese Skool voltooi, verwerf hy terselfdertyd ook ‘n Honneursgraad in Semitiese tale – wat hy ook met lof slaag. Die patroon herhaal homself daarna deurdat Herrie sy M.A.-graad in Semitiese Tale, wat hy ook met lof slaag, tesame met sy derde en vierde jaar op ‘skooltjie’ voltooi. Teen 1974 het Herrie dus drie grade verwerf in dieselfde tyd wat die meeste van sy klasmaats slegs een (Th.B.) voltooi het! Tydens 1975 en 1976 gee Herrie nie alleen deeltyds klas aan die PU vir CHO nie, maar verwerf hy ook ‘n D Litt.-graad.
‘n Mens kan maklik die indruk kry dat Herrie niks anders op Universiteit gedoen het as om daarin te slaag om ‘n dosent se droomstudent te wees nie. Tussen al die studies deur het ene Jacoba Hendrika van der Walt, wat onderwyseres sou word en deesde self ‘n gerekende akademikus en musiekkenner is, egter Herrie se oog by die tafeltennis gevang.… Dr. Jacoba is op 26 Julie 1948 in Kaapstad gebore. Haar pa, Ben (Barend Johannes), ‘n skoolhoof wat jonk oorlede is en haar ma Annice (Anna Catharina, geb. Dreyer), wat van die Agter-Paarl afkomstig was en die kleindogter van ‘n vooraanstaande wynboer was, het Herrie se ouers geken toe laasgenoemde in die Kaap gewoon het. In Jacoba se familie word vertel dat toe haar ouers verloof geraak het, haar pa die diamant vir haar ma se ring by ‘n vriend op Lichtenburg gekoop het. Die onbevlekte diamant van 1 kt is in watte toegedraai en met die pos gestuur! Herrie en Jacoba is op 18 Desember 1971 in Bellville getroud (Van Rooy 2013).
Gereformeerde teologiese studente ontvang gewoonlik aan die begin van hulle vierde jaar in die Th.B.-program ‘preekverlof’ sodat hulle hulle preekgawes in gemeentes kan oefen en die gemeentes hulle ook kan leer ken. Tydens die twee jaar wat Herrie egter met sy doktorale studie besig was, is preekverlof nie aan hom toegestaan nie. Deesdae dink die kerke darem anders hieroor. Dit het egter beteken dat Herrie ietwat ‘uit sirkulasie’ was toe hy uiteindelik beroepbaar gestel is. Die Here het hom egter geroep na die Gereformeerde Kerk Koster waar hy op 27 Februarie 1977 deur sy voormalige kamermaat, ds. Fanie Grobbelaar, as predikant bevestig is. Herrie het al dikwels opgemerk dat hierdie van die gelukkigste jare van sy loopbaan was. Menslik gesproke sou hy seker ook, al was dit net vir ‘n tydjie langer, predikant wou gebly het. Toe Herrie egter een oggend by die konsistorie instap, loop hy hom vas in ‘n afvaardiging van die GKSA-kuratore wat hom en die kerkraad persoonlik kom versoek dat Herrie dit moet oorweeg om voltyds terug te keer PUK toe – dit nadat die eerste versoeke dat hy moes Hebreeus gaan gee al begin het toe hulle skaars ses maande op Koster was. Dit was vir hulle ‘n baie moeilike besluit. By al die werklik besondere prestasies wat hy sedertdien as teologiese professor en top akademiese navorser behaal het, is my indruk dat hy in sy hart steeds predikant is. Teen die tyd dat Herrie in 1980 terugkeer Potchefstroom toe, was sy en Jacoba se vierde spruit al op pad.
Twee word sewe en nog meer
Herrie en Jacoba se eersteling, Bertus (Albertus Jacobus), is kort voordat Herrie sy tweede jaar op ‘skooltjie’ voltooi het op 16 November 1972 gebore (Van Rooy 2013). Bertus is op 26 Maart 1994 te Potchefstroom getroud met Susan (Anna Susanna, geb. Coetzee). Beide het voordat hulle veertig was vol professore aan die Noordwes-Universiteit geword. Hulle het ‘n dogter Jonette (Jacoba Johanna), gebore te Vanderbijlpark op 15 Januarie 2002 en ‘n seun, Herrie (Herculaas Frederik) gebore te Klerksdorp 26 Oktober 2004 (vgl. ook Van Rooy s.a.)
Herrie en Jacoba se tweede kind Bennie (Barend Johannes) in op 16 Januarie 1975 te Potchefstroom gebore (Van Rooy 2013). Bennie, ‘n geoktrooieerde rekenmeester en voormalige hoofuitvoerende beampte by die JD-groep, is op 06 Desember 1997 te Johannesburg getroud met Nicola (geb. Ferreira), ‘n fisoterapeut. Hulle het ook ‘n dogter en ‘n seun albei in Pretoria gebore: Stephanie op 31 Mei 2002 en Hein (Herculaas Frederik) op 10 September 2004 (vgl. ook Van Rooy s.a.).
Herrie en Jacoba se eerste dogter, Annerie (Anna Catharina) is op 16 April 1977 in Potchefstroom gebore kort nadat Herrie op Koster as predikant bevestig is (Van Rooy 2013). Sy is vandag ‘n apteker is en op 17 November 2001 getroud met dr. De Wet Saaiman, tans predikant van die Gereformeerde Kerk Krugersdorp. Annerie en De Wet het twee seuns, Christiaan (Christiaan de Wet) gebore op 29 Januarie 2007 te Queenstown toe De Wet predikant van die Gereformeerde Kerk Queenstown was, en Henri (Henri Frederik), gebore in Durban op 07 Junie 2010 toe De Wet predikant van die Gereformeerde Durban-Noord was (vgl. ook Van Rooy s.a.).
Soos reeds genoem is, is Herrie en Jacoba se vierde kind gebore kort nadat hulle weer in Potchefstroom aangeland het. Herrie (Herculaas Frederik) is op 07 Maart 1980 te Klerksdorp gebore. Nadat Herrie (jr.) aanvanklik ook dosent was, het hy sy doktorsgraad in finansiële wiskunde en statistiek voltooi en is hy tans ‘n risikobestuurder by Nedbank waar hy veral op die aandelebeurs konsentreer. Sy ma noem dat toe Herrie nog baie klein was hy trots gesê het dat sy naam Herrie is, omdat sy pa self sy naam vir hom gegee het! Herrie is op 30 Augustus 2003 getroud met Elize (geb. Van Wyk), ‘n mediese dokter in Midrand (Van Rooy 2013; vgl. ook Van Rooy s.a.).
Herrie en Jacoba se jongste kind, hulle dogter Sinette (Sinette Gertruida), is ook in Klerksdorp gebore en wel op 03 Junie 1983. Sy is tans ‘n kliniese sielkundige in Durban. Sinette is op 01 Desember 2006 in Potchefstroom getroud met Willem (Willem Hendrik) Booysen wat ook in die finansiële wêreld werk. Hulle dogter Isabella (Isabella Jacoba) is op 30 Desember 2012 in Durban gebore (Van Rooy 2013; vgl. ook Van Rooy s.a.).
Terug PUK toe
So het dit dan gebeur dat Herrie in 1980 terug is in Potchefstroom as senior lektor in Semitiese Tale (en Ou Testament). In 1982 word hy medeprofessor en professor in 1983. Herrie word in 1985 aangestel as adjunkdekaan van die fakulteit Teologie en was vanaf 1988 tot 1991 dekaan. Ondertussen het hy voortgegaan om tot en met sy aftrede, soos wat die nood vereis het, Semitiese Tale te doseer. (Op ‘n persoonlike noot: Herrie het in 1988 vir die skrywer Hebreeus II gegee. Ek onthou dat ‘n mens altyd moes sorg dat jou klasvoorbereiding behoorlik gedoen was – veral as die Blou Bulle die vorige Saterdag se wedstryd verloor het. Herrie het eenvoudig nie afskeepwerk geduld nie. Die laaste formele klas wat hy voor sy aftrede gegee het, was ironies genoeg ‘n klas in Hebreeus I waarin die skrywer se seun een van die studente was en waar hulle hom aan die einde van die klas die seënbede van Ps. 134:4 toegesing het.)
In 1998 word Herrie die eerste direkteur van die nuut-gestigte navorsingsfokus area in die Fakulteit Teologie (GKSA 2000:527). In 1999 groei die fokusarea onder sy leiding tot die eerste navorsingseenheid binne die fakulteit – die Eenheid vir Reformatoriese Teologie. Terselfdertyd het Herrie deur ook sy voorbeeld gelei en homself as internasionaal erkende navorser gevestig en ‘n C1 (2002–2007) en later ‘n B2 gradering van die NRF verwerf. Hy was die eerste Geesteswetenskaplike aan die NWU vir wie hierdie eer tebeurt geval het. Dit was ook met sy hulp dat daar sopas (einde 2014) ‘n tweede navorsingseenheid (Antieke Tekste: Teks, Konteks en Resepsie) binne die Fakulteit Teologie gevestig kon word waarvan Herrie as eerste direkteur sal optree.In Herrie geval is die einde van een era – waar hy as professor in teologie emeriteer werklik die begin van ‘n nuwe era en is die fakulteit baie dankbaar dat sy besonderse kundigheid en ervaring nie verlore gaan nie. Buiten sy lidmaatskap van vele akademiese verenigings, sy betrokkenheid by verskeie redaksies (waaronder, soos sy oupa, ook as redakteur van Koers), sy ellelange lys publikasies (insluitend akademiese en nie-akademiese artikels, boeke en handboeke), sy begeleiding aan bykans 40 meesters en doktorale studente, sy optrede by nasionale en internasionale byeenkomste1, vertel sy kollegas watter kosbare bydraes hy in komitees en op vergaderings kon lewer – byvoorbeeld toe die PU vir CHO omvorm is tot die NWU. Ongeag wat die opinie van die meerderheid was, was Herrie altyd bereid om op ‘n gepaste manier eerlik te sê wat hy dink goed en reg is. Herrie se integriteit word in die akademiese konteks baie hoog aangeslaan. Wanneer Herrie van die algemene opinie verskil het, was dit nie om dwars te wees nie, maar omdat daar ‘n ander kant van die saak bestaan wat gehoor moes word. As Herrie sy mening uitgespreek het, was dit nie daarop gemik om in enige mens se “goeie boekies” te wees nie.
Veel meer as net akademie
In hierdie artikel wil ek verder ook fokus op die werk wat Herrie in die kring van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika gedoen het. Behalwe dat hy as beroepe professor in teologie aan die Teologiese Skool Potchefstroom medeverantwoordelik is vir die oplei van studente wat predikante in die Gereformeerde Kerke word, het hy ook oor jare ‘n groot bydrae in die kerkverband gelewer. Hier kan veral sy bydrae tot die 2003-omdigting van die psalms uitgesonder word, asook sy aandeel in die derde, brontaalgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel (Die Bybel in Afrikaans – ‘n direkte vertaling) wat tans voltooiing nader.
Daar is reeds op die Nasionale Sinode van 1997 gerapporteer dat Herrie ‘n leidende rol gespeel het binne die Afrikaanse Psalmkommissie (GKSA 1997:776). Hierdie kommissie het uit 34 lede (w.o. eksegete, musici, letterkundiges en dogmatici) bestaan wat vanuit die Nederduits Gereformeerde Kerk, die Nederduitsch Hervormde Kerk en die GKSA betrek is en het nie alleen die omdigtings beoordeel nie, maar ook gelet op geskikte melodieë. Daar is mettertyd ook lidmate van die Verenigende Gereformeerde Kerk en die Afrikaanse Protestantse Kerk by hierdie kommissie betrek (GKSA 2000:453).
Herrie het voorts, saam met prof. F.W.S. Prinsloo, moeite gedoen om prof. T.T. Cloete, wat die leeue aandeel gehad het in die omdigtings wat uiteindelik aanvaar is, te help met die fynere nuanses van die Hebreeuse teks van die Psalms vir die Psalmberyming in Afrikaans (Van Rensburg 2006:1077). Die 1997-Sinode het Herrie ook aangewys as voorsitter van die deputate vir die nuwe Skrif- en Psalmberymings (GKSA 1997:929). Daar is ook tydens die Nasionale Sinodes van 2000 en 2003 erkenning gegee aan die werk wat Herrie (en ander) in hierdie verband gedoen het. Herrie was ook ten nouste betrokke by verskeie formele gesprekke binne die GKSA oor die Messiaanse karakter van die Psalms en hoe dit in die nuwe omdigting verreken is. Die Algemene Sinode van 2009 het met groot waardering van sy bekwame werk kennis geneem (GKSA 2009:755). Herrie is alreeds vanaf 2003 adviseur van die Nasionale Sinode se deputate vir Liturgiese sake (GKSA 2003:671). Sy vrou Jacoba, na wie se kundigheid reeds verwys is, dien sedert 2000 op hierdie deputate (GKSA 2000:542).
Behalwe die omvattende werk wat Herrie met die omdigting van die Psalms gedoen het, was hy ook deurlopend betrokke by Bybelvertaling. Na ‘n versoek van die Suid-Afrikaanse Bybelgenootskap is Herrie (saam met proff. JC Coetzee, FN Lion-Cachet, JA van Rooy en JJJ [Fika] van Rensburg) vanuit die GKSA benoem op ‘n komitee wat die genootskap oor ‘n nuwe Afrikaanse Bybelvertaling moes adviseer (GKSA 1997:125). Die sinodes van 2000 en 2006 het erkenning gegee vir Herrie se vertaling van 2 Samuel en vir sy opleiding van Bybelvertalers (GKSA 2000:181; GKSA 2006:122). Hierdie verwysings dui net op ‘n fraksie van die werk wat Herrie al ten opsigte van Bybelvertaling gedoen het. Daar is byvoorbeeld nog nie verwys na al sy werk oor die boek Esegiël nie. Hoewel hy dus al baie formele erkenning (akademies en nie-akademies) gekry het vir sy hulp met die jongste Afrikaanse vertaling, is onlangs gehoor met hoeveel dankbare opgewondheid hy vertel hoe hierdie proses werk en hoe mense bereid is om hulle persoonlike tyd en vakansies op te offer om die werk so goed en gou as moontlik af te handel. Alhoewel die vertaalwerk hoogs tegnies is, is dit duidelik dat Herrie met sy hele hart daaraan toegewy is.
Die ruimte ontbreek om vertel van die Bybelstudiegroepe waarby Herrie al vir jare betrokke is; van sy fyn humor wat selfs buitelanders kan laat skater; van sy toekennings vir navorsing in Nederland en België; van sy liefde vir musiek en sport, op welke gebied hy nie alleen graag gholf speel nie, maar ook vroeër ‘n rugbyskeidsregter was. In hierdie verband het sy broer Dirk (Van Rooy 2014) vertel hoe kompeterend Herrie kan wees en hoe hy die kant van die ‘underdog’ sal kies. Daar kan ook verwys word na hoe Herrie probleme met sy gesondheid (veral met sy oë en knieë) moes oorkom om met sy werk te kon voortgaan. Volgens Jacoba (Van Rooy 2013) het Herrie egter nog altyd ‘n vaste wil gehad om sy doelwitte te bereik. Sy vertel hoe hy, toe die kinders jonk was, soos ‘n goeie pa altyd eers gesorg het dat die kinders by die skool en weer terug kom en dat hy dan, nadat hulle as gesin saam tyd spandeer het, weer terug is kantoor toe om maklik tot middernag toe te werk.
Die aspek wat hierdie skrywer die diepste tref, is Herrie se bereidheid tot opoffering ter wille van die Here: sy bereidheid om ter wille van die Here van Koster af PUK toe te kom; sy bereidheid om swaar te kry en te midde daarvan met onsaglike oorgawe sy werk te doen. As dit net van Herrie afgehang het, was hy dalk vandag predikant – en tog het hy sy werk as beroepe professor en akademikus gedoen asof dit sy eerste liefde is. Mag die Here vir Herrie en Jacoba en hulle kroos steeds in die keur van sy seëninge laat deel. Ons bede is dat die Here Herrie in staat sal stel om nog baie jare met vreugde in sy koninkryk te werk – of dit nou in Potchefstroom of by die vakansiehuis in St. Francisbaai of waar ook al in die wêreld is.
Arts, J., 2014, Huisseling van verleden tot heden: Emigratie, De familie Van Rooy in Zuid-Afrika, besigtig op 11 November 2014, by http://www.huisseling.nl/huisselingers/emigratie/#De familie Van Rooy in Zuid-Afrika
Coetzee, J.C., 1981a, ‘Van Rooy, Johannes Cornelis’, in Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek. Deel IV, besigtig op 07 September 2014, by http://www.vanrooy.org.za/SABW_a_Johannes.html
Coetzee, J.C., 1981b, ‘Van Rooy, Dirk Jan’, in Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek. Deel III., besigtig op 11 September 2014, by http://www.vanrooy.org.za/SABW_b7c3_Dirk.html
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 1997, Handelinge van die 46ste nasionale sinode te Potchefstroom, V & R, Pretoria.
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 2000, Handelinge van die 47ste nasionale sinode te Potchefstroom, V & R, Pretoria.
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 2003, Handelinge van die 48ste nasionale sinode te Potchefstroom, V & R, Pretoria.
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 2006, Handelinge van die 49ste nasionale sinode te Potchefstroom, V & R, Pretoria.
Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 2009, Handelinge van die 1ste algemene sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, V & R, Pretoria.
GKSA kyk Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika
Snyman, G., 2014, ‘Herrie (H.F.) van Rooy’, Old Testament Essays 27(2), 352–357.
Van Rensburg, F.I.J., 2006, ‘Psalmberyming in Afrikaans’, Verbum et Ecclesia 27(3), 1077–1094.
Van Rooy, D.J., 2014, Die lewensgeskiedenis van Herrie van Rooy [persoonlike onderhoud (telefonies), 7 November], Potchefstroom & Kleinmond.
Van Rooy, J.H., 2013, Die lewensgeskiedenis van Herrie van Rooy [persoonlike onderhoud, 9 Oktober], Potchefstroom.
Van Rooy, J.L., s.a., Die familie Van Rooy in Suid-Afrika: Nederlandse voorgeslagte, besigtig op 10 Augustus 2013, by http://www.vanrooy.org.za/voorgeslagte.html
Van Rooy, J.L., s.a., Die familie Van Rooy in Suid-Afrika: Jacobus Albertus (Koos) van Rooy, besigtig op 10 Augustus 2013, by http://www.vanrooy.org.za/b7_Koos.html
Van Rooy, J.L., s.a., Die familie Van Rooy in Suid-Afrika: Dirk Jan van Rooy, besigtig op 10 Augustus 2013, by http://www.vanrooy.org.za/b7c3.html
Van Rooy, J.L., s.a., Die familie Van Rooy in Suid-Afrika: Die nageslag van Koos van Rooy, besigtig op 16 November 2014, by http://www.vanrooy.org.za/b7.html#b7c3d1e2f1
Van Rooy, J.L., s.a., Die familie Van Rooy in Suid-Afrika: Die nageslag van Koos van Rooy, besigtig op 16 November 2014, by http://www.vanrooy.org.za/b7.html#b7c3d1e2f2
Van Rooy, J.L., s.a., Die familie Van Rooy in Suid-Afrika: Die nageslag van Koos van Rooy, besigtig op 16 November 2014, by http://www.vanrooy.org.za/b7.html#b7c3d1e2f3
Van Rooy, J.L., s.a., Die familie Van Rooy in Suid-Afrika: Die nageslag van Koos van Rooy, besigtig op 16 November 2014, by http://www.vanrooy.org.za/b7.html#b7c3d1e2f4
Van Rooy, J.L., s.a., Die familie Van Rooy in Suid-Afrika: Die nageslag van Koos van Rooy, besigtig op 16 November 2014, by http://www.vanrooy.org.za/b7.html#b7c3d1e2f5
1. Die volledige beskrywing van Herrie se akademiese voetspoor is bykans net solank soos hierdie artikel. Volgens Jacoba kan sy boek oor die Opskrifte van die Siriese Psalms, waaraan hy al vanaf 1996 werk en wat op die punt is om te verskyn, as die hoogtepunt van sy navorsing beskou word. Herrie is egter al in 2003 deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met die Ds. Pieter van Drimmelen-medalje vir sy teologiese werk bekroon. ‘n Lys van sy akademiese publikasies verskyn in ‘n huldigingsartikel in Old Testament Essays, 27/2 (2014), bl. 352 – 357 (Snyman 2014).
|