Book Review

Om gereformeerde te mag glo – ‘n tydige publikasie

Book Title: Om gereformeerd te mag glo

Author: Francois P. Viljoen (ed.)

ISBN: 978-0-86955-277-8

Publisher: Potchefstroom Theological Publications, 2015, R150.00*

*Book price at time of review

Review Title: Om gereformeerde te mag glo – ‘n tydige publikasie

Reviewer: Edmund J. de Beer1

Affiliation:
1Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Corresponding author: Edmund De Beer, edmunddebeer@lantic.net

How to cite this book review: De Beer, E.J., 2016, ‘Om gereformeerde te mag glo – ’n tydige publikasie’, In die Skriflig 50(1), a2054. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v50i1.2054

Copyright Notice: © 2016. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Die subopskrif van die publikasie is: ‘Toeligting van die Nederlandse Geloofsbelydenis’. Die publikasie is egter méér as ‘n toeligting, want benewens die breë toeligting oor die verskillende temas van die Nederlandse Geloofsbelydenis, is daar ook preke, preeksketse, gebede en inspirerende gedagtes wat by die temas aansluit.

Om gereformeerde te mag glo is volgens temas gestruktureer, naamlik die leer oor God (prof. Koos Vorster), die leer oor die mens (dr Piet Fanoy), die leer oor Christus (ds. Maarten van Helden), die verlossingsleer (prof. Bert Floor), die leer oor die kerk (prof. Dries du Plooy) en die leer oor die laaste dinge (prof. Francois Viljoen).

Om gereformeerd te mag glo is die vierde publikasie in die reeks deur die Potchefstroomse Teologiese Publikasies. Die doel van die reeks is nie om ’n wetenskaplike bydrae te lewer nie, maar om as hulpmiddel vir predikante, kerkrade en lidmate te dien. In hierdie opsig slaag die publikasie in sy doel.

Die skrywers slaag daarin om die Nederlandse Geloofsbelydenis, wat reeds meer as 450 jaar oud is, relevant vir die een-en-twintigste eeu te maak. Op bladsy 11 lees ’n mens byvoorbeeld:

Groot, nuwerwetse teleskope kan diep in die heelal inkyk; gene van lewende spesies kan bestudeer word; nuwe, ingrypende tegnologie kan ontwikkel word en laboratoriums onthul al hoe meer van die groot geheimenisse van die skepping … Dit is alles moontlik omdat God geskep het en die wette van natuurlike ontwikkeling neergelê het.

Oor die maagdelike geboorte van Jesus lees ’n mens op bladsy 40:

In die vraag oor die historisiteit (die werklike bestaan) van Jesus is dit nie ons taak om sy vleeswording of maagdelike geboorte te probeer bewys nie … Geen mens kan hierdie dinge bewys nie; ons kan slegs die geopenbaarde Woord van God napraat (bely) en glo.

Oor die leer van die kerk staan daar op bladsy 76:

Die Skrif leer ons dus dat die kerk met hoë agting bejeen moet word, dat die kerk veel meer as ’n sosiale gemeenskap of sosiologiese verskynsel is; veel anders is as ’n besigheidsinstansie wat soos ‘n korporatiewe besigheid bedryf kan word, en dat ons versigtig moet wees om met hierdie liggaam te eksperimenteer, omdat dit die liggaam van Christus is.

Wat die publikasie van besondere belang maak, veral vir predikante, is die 32 preke en preeksketse oor verskillende temas van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Die preke en preeksketse kan as stimuli dien om self preke oor die verskillende afdelings te maak. Ouderlinge kan die preke vir leeesdienste gebruik.

Benewens predikante, behoort enigiemand wat ’n belangstelling in die gereformeerde belydenisskrifte het, die boek interessant te vind. Dit is nie ’n hoogs akademiese geskrif nie, maar dit gee ’n maklik verstaanbare oorsig oor die verskillende temas van die Nederlandse Geloofsbelydenis. Die oorsig word op so ’n wyse aangebied dat dit vir ’n wye leserspubliek toeganklik is. Die skrywers slaag daarin om die relevansie van so ’n ou geskrif vir vandag aan te dui. Gebede en kort inspirerende gedagtes aan die einde van elke hoofstuk gee ’n besondere kleur aan die publikasie.

Die skrywers bou voort op die fondamente van die sestiende-eeuse belydenisskrifte. Die Nederlandse Geloofsbelyenis en die waarhede daarin vervat, word nie bevraagteken nie. Die waarheid en belangrikheid van die belydenisskrif word op so ’n manier beklemtoon dat dit vir die leser duidelik word dat hierdie belydenisskrif nie ’n uitgediende geskrif is nie, maar dat dit vandag nog net so belangrik is as toe dit opgestel is.



Crossref Citations

No related citations found.