About the Author(s)


Sarel van der Walt Email
Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom Campus, South Africa

Citation


Van der Walt, S., 2016, ‘Die mensbeskoulike en samelewingsteoretiese vertrekpunte van ’n onbekende skrywer, toegespits op Hebreërs 10:38–39’, In die Skriflig 50(3), a2058. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v50i3.2058

Note: Hierdie artikel is ’n verwerkte weergawe van ’n gedeelte van ’n hoofstuk van die outeur se proefskrif: ‘Ons weet omdat ons glo!’ ’n Eksegeties-openbaringshistoriese studie vanuit Hebreërs 10:38–11:3 toegepas op die problematiek van die verhouding tussen geloof en kennis.

Original Research

Die mensbeskoulike en samelewingsteoretiese vertrekpunte van ’n onbekende skrywer, toegespits op Hebreërs 10:38–39

Sarel van der Walt

Received: 03 Nov. 2015; Accepted: 25 Feb. 2016; Published: 29 July 2016

Copyright: © 2016. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

The anthropological and theoretical societal views of an unknown author, focusing on Hebrews 10:38–39. This article describes the hypothesis that, regarding his anthropological and societal-theoretical viewpoints, the unknown author of the book Hebrews was not influenced by the thought patterns of the time, but was possibly offering a corrective on the (then) traditional anthropological and societal-theoretical viewpoints. Within the context of the Greco-Hellenistic world and the broad history of revelational lines in the Bible, this article takes as point of departure Hebrews 10:38–39. The article focuses on the question: What were the anthropological and societal-theoretical viewpoints of the unknown author of the book of Hebrews? Firstly, the article focuses on the prevailing perception of the Greek Hellenistic period, especially the known schools of thought during that time. The aim is to briefly describe the anthropological context in which the author of Hebrews wrote. Secondly, the discussion shows how the revelational-historical information in Hebrews offers a corrective on the thought patterns of that time. Thirdly, the article focuses on the way the societal-theoretical point of departure, when confronted with the thought patterns of that time, is illuminated from a correct understanding of the gospel.

Inleiding

Professor Jordaan het deur die jare ’n besondere belangstelling in en kennis van die Hebreërboek openbaar. Sy insigte oor hierdie unieke onderdeel van God se Woord was en is steeds ’n bron van inspirasie vir menige student en kollega se bestudering van Hebreërs. Dit is my voorreg om ’n bydrae tot hierdie huldigingsuitgawe te lewer deur dieper hierin te delf met dank aan professor Jordaan vir die aktualisering van die Hebreërboek in my lewe.

Daar word algemeen aanvaar dat die outeur van die Hebreërboek nie bekend is nie. Verskillende oorleweringstradisies bied nie ’n oplossing op die vraag oor wie die Hebreërboek geskryf het nie (Lane 1991:xlix; Vorster 1990:76). Daar is onder andere voorgestel dat Paulus (Andriessen & Lenglet 1971:9; Borchert 1985:320; Vorster 1990:76), Apollos (Hurst 1985; Lo Bue 1956; Montefiore 1964:18; Vorster 1990:77), Barnabas (Borchert 1985:322; Pixner 1992), Lukas (Allen 1996:3–11), Prescilla (Hoppin 1969) en selfs Klemens van Rome (Calvyn 1963:216; Moffat 1924:xiii) moontlike outeurs van die brief kon wees. Nie een van hierdie tradisies toon egter oortuigend aan dat hulle voorstel met betrekking tot die outeur van die Hebreërboek deurslaggewend is nie. Navorsers aanvaar dus dat die outeur van Hebreërs onbekend is.

Die doel van hierdie artikel is nie om ’n oplossing te probeer bied met betrekking tot die outeurskap van Hebreërs nie, maar eerder om aan te toon dat die Hebreërskrywer, met betrekking tot sy mensbeskouing en samelewingsteoretiese vertrekpunte, moontlik nie soos dit deur sommige aanvaar word (vgl. Brown 1990:73), deur die denkstrome van sy tyd beïnvloed is nie, maar weliswaar ’n korrektief op hierdie tradisies se mens- en samelewingsbeskouing bied (Thompson 2008:21–26). Binne die konteks van die Grieks-Hellenistiese wêreld en binne die breë historiese openbaringslyne in die Bybel, neem hierdie artikel die vertrekpunt in Hebreërs 10:38–39, naamlik:

En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie … Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe. (1983-Afrikaanse Vertaling)

Die artikel fokus op die vraag: Wat was die mensbeskouing en samelewingsteoretiese vertrekpunte van die onbekende skrywer van die Hebreërboek? Eerstens geniet die heersende mensbeskouing van die Grieks-Hellenistiese tydperk aandag, met ’n spesifieke fokus op bekende denkstrome van daardie tyd. Die doel is om die mensbeskoulike konteks waarbinne die Hebreërskrywer geskryf het, kortliks te beskryf. Tweedens toon die bespreking aan hoe bepaalde openbaringshistoriese gegewens soos dit onder andere in die Hebreërboek saamtrek, ’n korrektief op die denkstrome van daardie tyd stel. Derdens fokus die artikel op die wyse waarop die samelewingsteoretiese vertrekpunt, wanneer dit met die denkstrome van daardie tyd gekonfronteer word, vanuit ’n korrekte verstaan van die evangelie belig word.

Die denkstrome van daardie tyd

Filo

Die invloed van Filo op die eerste-eeuse denke word wyd erken (vgl. Freeman 2009:67; Greenlee 1975; Hurst 1990:12). Dit kan daarom aanvaar word dat die gelowiges in Rome aan wie Hebreërs gerig was, ook met Filo se denke in aanraking gekom het. Heel waarskynlik was hulle blootgestel aan die wyse waarop Filo die Ou Testament asook die konsepte geloof en kennis in die filosofiese platonisme hervertaal het. In alle waarskynlikheid was die skrywer van Hebreërs van sy lesers se blootstelling aan Filoniese beskouings bewus, juis vanweë die wye invloed van Filo op die denke van die eerste-eeuse samelewing. Die bestudering van die moontlike invloed van Filo op die destydse samelewing noop ’n mens daartoe om ook die invloed van Plato op Filo in gedagte te hou, aangesien daar by Filo ’n besondere vorm van platonisme te bespeur is (Punt 1997:125; Runia 1995:14) en dit vir ’n beskrywing van talle van Filo se gedagtes relevant is. Filoniese platonisme wat vanaf 50 v.C. tot ongeveer die tweede eeu n.C. gestrek het en die brug tussen Plato en die latere Neoplatonisme van veral Plotinus gevorm het (Snyman 1992:254), het volgens Punt (1997:125–126) sy oorsprong in Aleksandrië gehad (Héring 1970:xii). ’n Ander denkstroom wat ’n invloed op die Hebreërgemeente gehad het, was die Gnostisisme met sy aanvaarding van ’n radikale dualisme tussen die sigbare en die onsigbare wêreld asook ’n besondere klem op kennis. Die afdeling ’Gnostisisme’ fokus spesifiek daarop.

Platoniese invloed op Filo van Aleksandrië

Die unieke kenmerke van ’n suiwer platoniese filosofie het ook op Filo van Aleksandrië ’n invloed uitgeoefen. ’n Suiwer platoniese filosofie bestaan in die kenmerkende dualisme tussen die fisiese wêreld en die ideë- (spirituele) wêreld (vgl. De Villiers 1997a:179; Hurst 1984:42; Williamson 1970:268). Hierdie twee wêrelde word op grond van die metafisiese en epistemologiese onderskei en dit gee tot die volgende kontraste aanleiding: sleg teenoor goed; die oënskynlike teenoor die werklike; asook voorlopige persepsies teenoor werklik kenbare idees (Punt 1997:126).

Volgens Ferguson (1993:364–365) het die platoniese dualisme ook sy inslag in die Aleksandrynse denkwêreld gehad, maar is gedurende die Hellenisme deur die Aristoteliaanse logika gewysig tot ’n simbiose tussen Plato se idee van ’n Eerste Beginsel (die volmaakte idee of vorm) en Aristoteles se Hoogste Verstand (onbeweegbare Beweger). Op hierdie wyse is die platoniese ideë deur die mens as die gedagtes van die goddelike verstand beskou. Filo was die eerste skrywer of filosoof wat hierdie voortreflikheid van die goddelike verstand beklemtoon en op ’n wyse beskryf het waardeur hy dit in harmonie met die Skrif wou bring (Allen 1985:72).

Guthrie (1962:45) wys op die platoniese teorie van ideë en die dualistiese wêreldbeskouing wat oënskynlik in Hebreërs voorkom. ’n Aantal tipiese uitdrukkings wat volgens Punt (1997:126) sterk trekke van ’n platoniese dualisme vertoon, word in Hebreërs aangetref, waaronder ἀπαύγασμα [weerspieëling], χαρακτήρ [direkte voorstelling], ὑπόδειγμα [voorbeeld, voorstelling], σκιά [skaduwee, afskaduwing] en ἀντίτυπος [verteenwoordiging] (vgl. ook Hurst 1990:13–21). Ook die vergelyking tussen die aardse en die hemelse tabernakel in Hebreërs word volgens Runia (1993:77) in terme geskets wat oënskynlik met die samesmelting van bybelse en platoniese taal ooreenstem soos wat ook by Filo aangetref word.

Die platoniese dualisme van Filo van Aleksandrië

Filo het die ganse skepping vanuit ’n platonies-dualistiese vertrekpunt probeer verklaar. Volgens Runia (1993:41) het die konsep van kennis egter ’n sentrale rol in Filo se denke en filosofie gespeel vanweë sy mensbeskouing waarbinne hy die mens as rasionele wese beskryf. Hiermee saam het geloof ook ’n sentrale plek in Filo se gedagtewêreld ingeneem (Williamson 1970:333). Binne die kontras tussen liggaam en siel, die materiële wêreld en die geestelike wêreld, was ware kennis alleen in die onsienlike, die ‘volmaakte idee’ opgesluit. Filo was egter besonder van die grense van menslike kennis bewus (Runia 1993:42). Ware kennis van die geestelike wêreld is nie moontlik nie, aangesien die liggaamlike behoeftes van die materiële wêreld die mens se siel daarvoor afstomp (Williamson 1970:271). Die mens kan dus nie werklik tot kennis van die ‘volmaakte idee’ kom nie. Dit is hier waar Filo die sentraliteit van geloof beklemtoon. Volgens Williamson (1970:331) is geloof vir Filo die wyse waarop die mens uit die kettings van die materiële wêreld, vanuit die gevangeneskap van die liggaam, kan breek om sodoende tot kennis van die geestelike wêreld te kom. Geloof is die waarborg van die onsienbare.

Vir Filo is geloof die wyse waarop mense tot kennis van God kan kom (Williamson 1970:365). Filo gaan selfs so ver om te sê dat geloof in die liggaamlike (materiële) die ekwivalent is van ongeloof in God (geestelike) en dat ongeloof in die stoflike ekwivalent is aan geloof in God (Williamson 1970:335). Filo handhaaf die dualisme van liggaam en siel, maar sien nie die liggaam as ’n gevangene van die siel nie. By Filo is die geloof die belangrikste van alle deugde, maar die τὴν πρὸς τὸ ὂν πίστιν is nie die God van die Bybel nie, maar die god van die filosowe (m.a.w. die filosofiese persepsie van ’n godheid soos by Plato en Aristoteles). Die meeste wat van Filoniese eskatologie gesê kan word, is dat dit op twee skeibare wêrelde fokus: die een fisies en die ander geestelik. By Filo is daar duidelike trekke van die platoniese mensbeskouing, hoewel sekere verskille aantoonbaar is. Hieruit blyk dat Filo nie werklik ’n alternatief op die platoniese dualisme bied nie, maar steeds sy vertrekpunte daaruit neem.

Gnostisisme

Alhoewel die hoofstroom van Gnostisisme eers gedurende die tweede eeu n.C. herkenbaar geword het (De Villiers 1997b:209), bestaan die moontlikheid dat dit alreeds in ’n voorlopige vereenvoudigde vorm gedurende die voor-Christelike periode bestaan het (Connick 1972:14; De Villiers 1997b:209; Helmbold 1975; Punt 1997:135; Wilson 1968:143). In hierdie verband wys Peel (1970:148), Koester (1982:272–276) en Guthrie (1990:694) op die moontlikheid dat Hebreërs téén die Gnostiese leer geskryf kon gewees het.

Die Gnostiese biblioteek met apokriewe evangelies en ander dokumente wat in 1945-1946 te Nag-Hammadi in Egipte ontdek is, toon die Gnostiese uitleg van die evangelie wat deur sekere (eerste- en tweede-eeuse) sektes aangehang is. Connick (1972) vat die Gnostiese oortuigings soos volg saam:

  1. Die hoofkenmerk van die Gnostisisme was die aanvaarding van ’n radikale dualisme tussen die sigbare en die onsigbare wêreld. Gees en materie, lig en donker, goed en sleg is skerp gekontrasteer. Die uiteindelike realiteit (God) is bokant die aarde en onsigbaar vir die menslike wêreld.

  2. Die skepping van die wêreld is dikwels nie aan God toegeskryf nie, aangesien gees en materie onversoenbaar is. Die wêreld is die skepping van engele of selfs van ’n slegte God (demiurg).

  3. Die mens het sy oorsprong aan God te danke, maar die onsterflike gees is vasgevang binne ’n materiële wêreld.

  4. Deur middel van verborge of geheime kennis en toepaslike aanbidding kan die mens se gees bevry word van materie en opvaar na die koninkryk van die lig.

  5. Die verborge kennis raak alleen kenbaar by wyse van ’n bonatuurlike openbaring. (p. 14)

Hebreërs 10:38–39

Openbaringshistoriese lyne

Teen die agtergrond van bogenoemde bespreking van die Grieks-Hellenistiese denkstrome, word die volgende vraag vervolgens aan die orde gestel: Wat is die openbaringshistoriese korrektief wat die Hebreërskrywer op die Grieks-Hellenistiese denke aan die eerste lesers van die Hebreërboek binne hulle bepaalde samelewingsomstandighede bied?

Die regverdige sal uit die geloof lewe

Die fokus van hierdie artikel is Hebreërs 10:38–39 en dit word weergegee in Tabel 1: ‘Die regverdige sal uit die geloof lewe’.

TABEL 1: Die regverdige sal uit die geloof lewe.

Die verband tussen geloof, regverdiging en lewe word ook elders in die Bybel vermeld. Anders gestel: Die raamwerk waarbinne diegene lewe wat glo, is die regverdiging deur God (vgl. Coetzee 1986:10; Du Toit 2006:15). Die beeld z Hebreërskrywer van die mens gee, kan openbaringshistories slegs vanuit die verhouding tussen geloof en regverdigmaking verstaan word (O’Brien 2010:391). Hierdeur word die sentrale lyn van die Nuwe-Testamentiese openbaring voortgesit, naamlik dat die mens in die sonde vasgevang is en slegs deur die geloof geregverdig word.

Die volgende Skrifgedeeltes bring die verband tussen geloof en regverdigmaking openbaringshistories na vore (die Afrikaanse weergawe van die Griekse teks word deurgaans deur die 1933/1953-Afrikaanse Vertaling van die Bybel weergegee. Dit bied ’n meer direkte vertaling van die teks en word uiteengesit in Tabel 2: ‘Deur die geloof word die gelowige geregverdig’.

TABEL 2: Deur die geloof word die gelowige geregverdig.

Uit bostaande tekste blyk dat Lukas en Paulus die (ewige) lewe waarna Johannes verwys as regverdigmaking of vryspraak definieer.

Die versekering in bostaande Skrifgedeeltes is die hernude bevestiging van Jesus se eie woorde toe Hy in Johannes 3:16 aan Nikodemus gesê het: ‘Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.’ (1933/1953- Afrikaanse Vertaling) Hierdie woorde, asook die woorde van Johannes 20:31, koppel geloof direk aan die (vir die menslike oog) onsienbare ewigheid. Die regverdiging van die mens en geloof gaan dus hand aan hand. Op geen ander wyse as deur die geloof nie, kan die gelowige die (tot dusver onsienbare) ewigheid betree. Galasiërs 2:16 beaam dit:

En tog weet ons dat ’n mens nie van sonde vrygespreek word deur die wet van Moses te onderhou nie, maar alleen deur in Jesus Christus te glo. Ook ons het tot die geloof in Christus Jesus gekom, en dit is hoe ons vrygespreek is: deur in Christus te glo en nie deur die wet te onderhou nie, want geen mens word vrygespreek op grond daarvan dat hy die wet onderhou nie.

(Vgl. ook Hand 13:39 en Rom 4:22–24.) Galasiërs 3:11 vat dit saam: ‘… dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik …’. (Sien Tabel 3: ‘Die regverdige sal deur die geloof lewe’)

TABEL 3: Die regverdige sal deur die geloof lewe.

Romeine 1:17b, as ’n aanhaling van Habakuk 2:4, lig dit uit dat geloof die grondslag van die lewe sowel as van die redding vorm. Die konteks van die uitspraak in Habakuk 2:4 is die bedreiging deur die Galdeërs (Babiloniërs). Jerusalem kyk angsbevange toe hoedat hierdie nasie van krag tot krag gaan. Habakuk worstel met die vraag waarom God dit toelaat dat ’n goddelose nasie soveel voorspoed geniet en terselfdertyd as die instrument aangedui word waarmee God sy volk vir hulle sonde straf (vgl. Hab 1:6). Op die uitkyktoring ontvang Habakuk die verrassende antwoord van die Here. Met verwysing na die sondaars, sê God: ‘Kyk, sy siel is opgeblase in hom en nie reg nie. Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe.’

Die gedagte in hierdie antwoord is dat die regverdige nie leef by wat sy oë sien nie (ellende, bedreiging, verdrukking), maar wel by wat hy op grond van God se woord en belofte hoop en glo. Te midde van die bedreiging wat voor oë is, kan die gelowige gerus wees in die geloofswete dat God altyd oor hulle lewe beskik (vgl. Hill & Walton 1991:402–403; Lion-Cachet 1993:77).

In Romeine 1:17 en Galasiërs 3:11b eggo bogenoemde woorde van Habakuk 2:4. Alhoewel die konteks waarbinne hierdie woorde in Romeine en Galasiërs geuiter word dieselfde wesenskenmerke verteenwoordig as in die geval van Habakuk (ellende, bedreiging, verdrukking), is die bedreiging wesenlik anders. Nou nie meer ’n fisiese bedreiging (die Galdeërs) nie, maar ’n geestelike bedreiging (die sonde); nie meer die hunkering na ’n tydelike uitkoms nie, maar na een van ewige aard (die verlossing deur Christus). Dit is daarom te verstane dat die Nuwe Vertaling van die Bybel lees: ‘… want hy wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe’. Die lewe in hierdie sin het ewigheidsbetekenis. Dit impliseer dat diegene wat vanweë die geloof vrygespreek is, juis deur middel van die geloof lewe vanuit ’n wete wat die aardse en die tydelike te bowe gaan. Judas rig dus die aanmoediging tot gelowiges (Jud 1:20): ‘Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof’ (1983-Afrikaanse Vertaling). In dieselfde asem wys Judas dat sy aanmoediging nie hierdie bedeling in die oog het nie, maar dit wat hierna sal gebeur (Jud 1:21b): ‘Vestig steeds julle verwagting op die barmhartigheid van ons Here Jesus Christus wat die ewige lewe aan julle sal skenk’ (1983-Afrikaanse Vertaling). Hierdie ewigheidsverwagting en die rol wat geloof daarin speel, word ondersteun wanneer 2 Korintiërs 2:15–16 en 1 Johannes 5:13 saam gelees word.

Geloof is ’n gawe van God

Hierdie tema vloei nie logies vanuit Hebreërs 10:38–39 voort nie. Indien ’n mens egter in ag neem dat die verse wat hierop volg oor die geloof handel, asook oor geloof se samehang met kennis (wete), en voorts dat die inhoud van die wete (kennis) God as oorsprong het, volg dit dat ’n mens tog ook oor die oorsprong van die geloof moet besin, want dit is die wyse waardeur ons tot kennis of wete kom.

Die volgende Skrifgedeeltes wat in Tabel 4 (‘Geloof as gawe van God’) uiteengesit is, dui daarop dat geloof van God afkomstig is.

TABEL 4: Geloof as gawe van God.

Die geloof wat tot regverdiging en gevolglik tot die lewe lei, kan nie aan die mens self toegeskryf word, asof dit ’n prestasie van die mens op sigself is nie. Geloof is ’n gawe van God (vgl. 1 Kor 12:7–9 en Ef 2:8). Regverdiging wat vanuit die geloof voortvloei, is ook ’n gawe van God. Die (tot dusver) onsienbare ewigheid, wat vanuit die regverdiging voortvloei, is daarom ook ’n gawe van God. Die onsienbare ewigheid kan dus nie anders nie as om deur God se beskikkingsmag alleen deur die geloof gesien te word nie. Die wete van die onsienbare dinge is dus onteenseglik aan die geloof gekoppel.

Openbaringshistoriese lig op die Grieks-Hellenistiese mens- en samelewingsbeskouing

Samelewingsteoretiese vertrekpunte

Van der Walt (2004:49–62) bied ’n samelewingsteoretiese vertrekpunt ten opsigte van die eerste lesers van die Hebreërboek. Die geadresseerdes van Hebreërs was Joodse Christene in Rome wat die Hebreërboek tussen 60 en 69 n.C. ontvang het. Die kern van die evangelieboodskap soos in Hebreërs vervat, is op die realiteit van die toekomstige bedeling gerig wat in en deur Christus reeds aangebreek het. Hiervoor is geloof nodig, maar geloof wat tot ware kennis sal lei. Die Hebreërskrywer wil hierdie geloofskennis versterk, omdat die gevaar bestaan dat die eerste lesers in hulle Joodse kultusdiens kan terugval. Die geloof van die Christene in Rome het, uit die perspektief van die Romeinse owerheid, van hulle ’n politieke bedreiging vir die Romeine gemaak. Aan die een kant het hulle geloof hulle laat uitstaan, maar aan die ander kant moes hulle geloof hulle midde in ’n tyd van vervolging laat vasstaan het. Dit was juis onder keiser Nero dat hierdie Christene vervolging moes verduur. Die versoeking moes groot gewees het om na die bekendheid van die Jodedom terug te val – ’n Jodedom wat in hierdie tyd godsdienstige en politieke immuniteit geniet het en daarom van vervolging vrygestel was.

By die ontvangs van die Hebreërboek het die gemeente uit ’n groot aantal huiskerke bestaan. Die sosiale en ekonomiese gegewens van daardie tyd bevestig dit dat die grootste gedeelte van die Christene van lae sosiale stand was. Die godsdienstige en politieke omstandighede het nie gehelp om hulle omstandighede te verbeter nie.

Die geadresseerdes ontvang die aanmoediging om in die geloof te volhard. Die geloof in Hebreërs is op die toekoms gerig en vir die eerste lesers het dit ’n volhardende lewensingesteldheid behels met die oog op die glorieryke hemelse toekoms wat wag. Die kennis wat dit meebring, kyk verby die dood wat heersend en dreigend is; elke gelowige kan op grond van hierdie geloofskennis volhard, nie meer uit vrees nie, maar vry in die wete dat ’n heerlike toekoms wag.

Midde-in die vervolging was die gelowiges ook aan die invloed van vreemde lerings onderworpe, waaronder Filo se platoniese dualisme asook Gnostisisme. Elkeen van hierdie lerings was in ’n mindere of meerdere mate ’n bedreiging vir ’n korrekte mens- en samelewingbeskouing. Die Hebreërboek verkondig teenoor hierdie dwalings die suiwere evangelie. Geloof is naamlik op die lewende God gerig wat Hom deur sy Seun openbaar het. Redding geskied alleenlik deur geloof hierin. Kennis alleen is nie die bepalende faktor vir redding nie, maar kennis van die onsienlike dinge is alleen moontlik deur die geloof en dit versterk ook die geloof. Kragtens die beloftewoord van God in die verlede, sal Christus in die toekoms weer kom om diegene wat dieselfde geloof deel, op te neem om aan die ewige heerlikheid deel te hê.

Dualisme van liggaam en siel

Die skrywer van Hebreërs sien die liggaam wel as ’n potensiële bron van gevaar, maar nie as ’n gevangenis van die siel nie. In die Hebreërboek is daar nêrens enige verwysing na die liggaam as die vyand van rasionele denke soos die geval by Filo is nie (Williamson 1970:275).

Geloof en kennis

Die objek van Filo se geloof is nie die God van die Bybel nie, maar die god van die filosowe (m.a.w. die filosofiese persepsie van ’n godheid soos by Plato en Aristoteles). As korrektief hierteen beskryf Hebreërs 10:38–11:3 geloof as geloof in dieselfde God wat Homself in die loop van baie eeue openbaar het en wat gelowiges uit die Skrif ken. Williamson (1970:365) toon aan dat daar nie deurgaans ’n korrelasie tussen geloof en die sien van die onsienbare by Filo voorkom nie. In sommige gevalle verbind Filo wel geloof met ’n visie van God, maar dit is uitsluitlik ’n intellektuele visie, die visio Dei van die filosoof (soos hierbo reeds bespreek). Die taal van Hebreërs rakende geloof en sien vorm egter ’n integrale deel van die unieke eskatologiese situasie waarin die lesers hulleself bevind. Williamson (1970:347) toon aan dat Filo die skeppingswêreld as die duidelikste bewys van God se bestaan en heerskappy beskou. Die bewoording van Hebreërs 11:1 en 3 ten opsigte van geloof as bewys van die onsienbare dinge dien as korrektief hierop. Hebreërs 11:3 verkondig duidelik dat die gelowige deur die geloof weet dat die sienbare dinge deur die Woord van God ontstaan het; dat die sienbare dinge nie uit iets wat sienbaar is, ontstaan het nie. Geloof is nie op sigself ’n bewys hiervoor soos wat Filo geloof in die sin van bewys gebruik nie. Geloof géé aan die mens die wete (die bewys) dat God wel bestaan en dat God die wêreld uit niks geskep het (Witherington 2007:301–302).

Eskatologiese beskouing

Hebreërs bied ’n korrektief op die eskatologiese dimensie van Filo. Die meeste wat van die Filoniese eskatologie gesê kan word, is dat dit op twee skeibare wêrelde fokus – die een fisies en die ander geestelik. Hierteenoor is die eskatologiese fokus van Hebreërs op twee aeone gerig, met ander woorde die vooruitskouing op ’n toekomstige bedeling wat tot sy volheid sal kom na afloop van die eerste. In hierdie opsig vertoon Hebreërs trekke van die Joodse eskatologie, maar dan Christologies ingeklee.

Williamson (1970:371) verduidelik hoe die eskatologiese karakter van geloof in Hebreërs 11 die toekomstige dinge ’n werklikheid maak. Volgens Hebreërs 11 is geloof ’n positiewe reaksie op gebeure wat tot op hede deur geen menslike oog gesien kon word nie. Geloof behels egter die herkenning dat ’n keerpunt in die geskiedenis bereik is vandat Christus mens geword het, en dat dinge waarop daar in die verlede gehoop is, werklik begin plaasvind het. Met Christus se koms na die aarde is ’n reeks gebeure aan die gang gesit wat die toekoms nader gebring het en wat hoop en belofte tot werklikheid en volvoering getransformeer het. Hiervan wil Hebreërs 11 getuig. Volgens Williamson (1970:371) is hierdie eskatologiese karakter van geloof nêrens by Filo te bespeur nie.

Die rasionele karakter van redding

Die klem in die Gnostiek val tot ’n baie groot mate op kennis (Nock 1964:7) – in die eerste plek kennis aangaande die mens. Daarom gaan dit vir die mens in die Gnostiek oor vrae soos wie hy is, wat hy was en waaruit hy verlos moet word. Deur rasionele inspanning alleen kan die mens vanuit sy posisie van gevangenskap in hierdie wêreld van die pad tot verlossing bewus raak. Volgens De Villiers (1997b) word:

[h]ierdie kennis verkry […] deur die goddelike roep wat na [die mens] kom en hom van sy hemelse herkoms bewus maak. Die kennis wat deur die roep gewek word, beteken nie slegs dat die mens van sy oorspronklike toestand bewus gemaak word nie, maar dit verleen ook aan hom die vermoë om uit die gevangenis te kom en die terugreis na sy hemelse tuiste aan te pak. (bl. 210)

Die klem op kennis en die moontlikheid van die verkryging daarvan het die navolgers van die Gnostiese beweging ’n intellektuele hoogmoed besorg (vgl. Pagels 1979:121): hulle, en hulle alleen, besit die ware kennis wat tot ’n lewe saam met die ware God kan lei (Thompson 1998:316).

Die aanloklikheid van die Gnostiese leer kon vir die eerste lesers van Hebreërs op die vlak van gevangenskap in hierdie wêreld gelê het asook die moontlikheid om deur die inperkings van die gevangenskap te breek op reis na die hemelse tuiste – veral gemeet aan hulle inperkings en ekonomiese status as uitgeworpenes in Rome. Met betrekking tot hierdie artikel is dit daarom te verstane dat die outeur van Hebreërs in die besonder die aandag op geloof vestig om daarmee die kennisaspek in perspektief te stel. In die Gnostisisme is kennis die bepalende faktor tot verlossing uit hierdie wêreld om daardeur die voleinding te bereik. Geloof word tot ’n funksie van kennis gedegradeer.

In teenstelling met die Gnostiese leer stel Hebreërs dat redding nie van kennis afhanklik is nie, maar van geloof in die hoëpriesterlike offer van Christus (vgl. Heb 10). Käsemann (1984:39) praat van gehoorsaamheid aan die geloof wanneer ’n mens (in vertroue op die goddelike belofte) gewillig deur die teenswoordige tyd van lyding tot by die hemelse toekoms gelei word. Deur die geloof kom ’n mens tot die wete dat daar ’n onsigbare werklikheid is; dat die wêreld nie ontstaan het uit iets wat die mens kan sien nie, maar uit iets wat vir die menslike oog onsigbaar is (Heb 11:3), naamlik dieselfde God wat sy Seun gestuur het om ’n offer te wees vir diegene wat in Hom glo. Geloof in Hebreërs sluit kennis nie uit nie, maar rig die kennis op die ewige verlossing wat bewerk is.

Gevolgtrekking

Die eerste lesers van Hebreërs het in ’n wêreld geleef waarin die Filoniese denke en invloede van die Gnostisisme ’n bepaalde invloed op die mensbeskouing van die Hebreërs gehad het. Dit het voorts ’n bepaalde siening ten opsigte van die samelewing en religieuse vertrekpunte gevorm. Die moontlikheid bestaan daarom dat die verband tussen die gedagtes in Hebreërs en die gedagtes in die histories-kontemporêre stromings van die Joodse Hellenisme verklaar kan word asof Hebreërs as ’n korrektief op laasgenoemde dien, juis om die uniekheid van ’n Christelike perspektief op geloof en kennis te benadruk.

In hierdie artikel is aangetoon hoedat Hebreërs ’n korrektief op invloede bied wat die unieke karakter van die Christelike geloofskennis verdring en ongedaan wil maak. Filo se geloofsbeskouings spruit voort uit ’n dualistiese wêreldbeskouing met platoniese ondertone. By Filo word geloof die beste verstaan met betrekking tot ’n platoniese ruimtelike skema. Die invloed van die Gnostiek het die geloof geheel en al negeer. Kennis was die spil waarom die lewe van die mens gedraai het.

Midde-in ’n tyd van vervolging en ’n wêreld van idees, filosofieë en godsdienste, verkondig Hebreërs die uniekheid van die Christelike geloof, en die bevrydende kennis wat dit teweegbring, naamlik dat geloof op God gerig is. Dit is dus (contra Filo) op die lewende God gerig wat eenmaal in die verlede deur sy Seun gespreek het. Daardeur is nuwe beloftes gegee wat eendag in die toekoms in vervulling sal gaan. Kennis van hierdie onsienlike toekoms is nou reeds deur die geloof sienbaar. Hierdie God wat Homself (contra die Jodedom) genadiglik deur sy Seun geopenbaar het, is (contra die Gnostiek) dieselfde God wat die hemel en die aarde gemaak het. Hy sal (contra Filo) weer kom om diegene wat hierdie dinge glo in heerlikheid op te neem – nie (contra die Gnostiek) op grond van versamelde kennis nie, maar op grond van die hoëpriesterlike offer van Jesus Christus en die mens se geloof daarin.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Allen, D., 1985, Philosophy for understanding theology, John Knox, Atlanta.

Allen, D.L., 1996, ‘The Lukan authorship of Hebrews: A proposal’, Journal of Translation and Textlinguistics 8, 1–22.

Andriessen, P. & Lenglet, A., 1971, ‘De brief aan de Hebreeën’, in W. Grossouw, B. van Iersel & F. Neirynck (eds.), Het Nieuwe Testament, bl. 1–258, Romen & Zonen, Roermond.

Borchert, G.L., 1985, ‘A superior book: Hebrews’, Review and Expositor 82(3), 319–332.

Brown, C., 1990, Christianity & western thought: A history of philosophers, ideas & movements: From the ancient world to the age of the Enlightenment, vol. 1, InterVarsity, Illinois.

Calvyn, J., 1963, ‘The epistle of Paul the Apostle to the Hebrews and the first and second epistles of St. Peter’, transl. W.B. Johnston, in D.W. Torrance & T.F. Torrance (eds.), Calvin’s Commentaries, pp. 1–378, Eerdmans, Grand Rapids.

Coetzee, J.C., 1986, ‘Die gedagtestruktuur (-lyn) van Romeine’, in J.C. Coetzee (red.), Glo – en jy sal lewe! Die brief aan die Romeine – Vir preeklees en Bybelstudie, bl. 6–12, EFJS, Potchefstroom.

Connick, C.M., 1972, The New Testament: An introduction to its history, literature and thought, Dickenson, Encino.

De Villiers, J.L., 1997a, ‘Filosofiese strominge in die Grieks-Romeinse wêreld’, in A.B. du Toit (red.), Handleiding by die Nuwe Testament, band 2: Die leefwêreld van die Nuwe Testament, bl. 173–195, Orion, Halfway House.

De Villiers, J.L., 1997b, ‘Godsdienstige lewe’, in A.B. du Toit (red.), Handleiding by die Nuwe Testament, band 2: Die leefwêreld van die Nuwe Testament, bl. 197–220, Orion, Halfway House.

Du Toit, A., 2006, Hebreërs vir vandag, Christelike Uitgewersmaatskappy, Pretoria.

Ferguson, E., 1993, Backgrounds of early Christianity, Eerdmans, Grand Rapids.

Freeman, C., 2009, A new history of early Christianity, Yale University Press, New Haven.

Greenlee, J.H., 1975, ‘Philo Judeus’, in The Wycliffe Bible Encyclopedia, CD-ROM, Logos Electronic Books.

Guthrie, D., 1962, Hebrews to Revelation: New Testament introduction, Tyndale Press, London.

Guthrie, D., 1990, New Testament introduction, InterVarsity, Downers Grove.

Helmbold, A.K., 1975, ‘Gnosticism’, in The Wycliffe Bible Encyclopedia, CD-Rom, Logos Electronic Books.

Héring, J., 1970, The epistle to the Hebrews, transl. A.W. Heathcote & P.J. Allcock, Epworth Press, London.

Hill, A.E. & Walton, J.H., 1991, A survey of the Old Testament, Zondervan, Grand Rapids.

Hoppin, R., 1969, Priscilla, author of the epistle to the Hebrews and other essays, Exposition Press, New York.

Hurst, L.D., 1984, ‘Eschatology and “Platonism” in the epistle to the Hebrews’, Society of Biblical Literature 23, 41–74.

Hurst, L.D., 1985, ‘Apollos, Hebrews, and Corinth: Bishop Montefiore’s theory examined’, Scottish Journal of Theology 38, 505–513.

Hurst, L.D., 1990, ‘The epistle to the Hebrews: Its background of thought’, in G.N. Stanton (ed.), Society for New Testament Studies, Monograph Series, vol. 65, pp. 1–209, Cambridge University Press, Cambridge.

Käsemann, E., 1984, The wandering people of God: An investigation of the letter to the Hebrews, transl. R.A. Harrisville & L. Sandberg, Augsburg, Minneapolis.

Koester, H., 1982, Introduction to the New Testament, vol. 2: History and literature of ancient Christianity, Fortress, Philadelphia.

Lane, W.L., 1991, ‘Hebrews 1–8’, in D.A. Hubbard & G.W. Barker (eds.), Word Biblical Commentary, vol. 47a, pp. i–clvii, Word Books, Dallas.

Lion-Cachet, F.N., 1993, So sê die Here: Besondere kanoniek van die latere profete, Departement Sentrale Publikasies, PU vir CHO, Potchefstroom.

Lo Bue, F., 1956, ‘The historical background of the epistle to the Hebrews’, Journal of Biblical Literature 75, 52–57.

Moffat, J., 1924, ‘A critical and exegetical commentary on the epistle to the Hebrews’, in A. Plummer (ed.), The international critical commentary on the Holy Scriptures of the Old and the New Testaments, pp. i–lxxxvi, Clark, Edinburgh.

Montefiore, H., 1964, ‘A commentary on the epistle to the Hebrews’, in H. Chadwick (ed.), Black’s New Testament Commentaries, pp. 1–272, Black, London.

Nestle, E., Aland, K., Aland, B., Karavidopoulos, J., Martini, C.M. & Metzger, B.M., 1993, The Greek New Testament, 27th edn., Deutsche Bibelgesellschaft, Stuttgart.

Nock, A.D., 1964, ‘Gnosticism’, Harvard Theological Review 57(4), 1–25.

O’Brien, P.T., 2010, The letter to the Hebrews, Eerdmans, Grand Rapids.

Pagels, E., 1979, Gnosis: Self-knowledge as knowledge of God, Weidenfeld & Nicolson, London.

Peel, M.L., 1970, ‘Gnostic eschatology and the New Testament’, Novum Testamentum 12(2), 141–165.

Pixner, B., 1992, ‘The Jerusalem Essenes, Barnabas and the epistle to the Hebrews’ in Z.J. Kapera (ed.), Intertestamental essays in honour of Jósef Tadeusz Milik, pp. 167–178, Enigma Press, Kraków.

Punt, J., 1997, ‘Hebrews, thought-patterns and context: Aspects of the background of Hebrews’, Neotestamentica 31(1), 119–158.

Runia, D.T., 1993, ‘Philo in early Christian literature: A survey’, in Y. Aschkenasy (ed.), Compendia rerum Iudaicarum ad Novum Testamentum, Section 3: Jewish traditions in early Christian literature, pp. 1–,362 Fortress, Minneapolis.

Runia, D.T., 1995, ‘Platonism, Philonism, and the beginnings of Christian thought’, in D.T. Runia, Philo and the church fathers: A collection of papers, pp. 1–24, Brill, Leiden.

Snyman, G., 1992, ‘Kenteoretiese besinning oor teologiebeoefening aan die Teologiese Skool van Potchefstroom die afgelope twintig jaar’, In die Skriflig 26(2), 247–266.

Thompson, J.W., 1998, ‘The appropriate, the necessary, and the impossible: Faith and reason in Hebrews’, in A.J. Malherbe, J.W. Thompson & F.W. Norris, The early church in its context: Essays in honor of Everett Ferguson, pp. 302–317, Brill, Leiden.

Thompson, J.W., 2008, Hebrews, Baker Academic, Grand Rapids.

Van der Walt, S.P., 2004, ‘“Ons weet omdat ons glo!” ’n Eksegeties-openbaringshistoriese studie vanuit Hebreërs 10:38–11:3 toegepas op die problematiek van die verhouding tussen geloof en kennis’, PhD-proefskrif, Fakulteit Teologie, PU vir CHO, Potchefstroom.

Vorster, W.S., 1990, ‘Inleiding tot Hebreërs’, in A.B. du Toit (red.), Handleiding by die Nuwe Testament, band 6: Die Johannesevangelie – Hebreërs tot Openbaring: Inleiding en teologie, bl. 73–88, N.G. Kerkboekhandel, Pretoria.

Williamson, R., 1970, ‘Philo and the epistle to the Hebrews’, in K.H. Rengstorf (ed.), Arbeiten zur Literatur und Geschichte des Hellenistischen Judentums, vol. 4, pp. 1–602, Brill, Leiden.

Wilson, R. McL., 1968, Gnosis and the New Testament, Fortress, Philadelphia.

Witherington, B., 2007, Letters and homilies for Jewish Christians: A socio-rhetorical commentary on Hebrews, James and Jude, InterVarsity, Illinois.



Crossref Citations

No related citations found.