About the Author(s)


H.J.M. (Hans) van Deventer Email symbol
School of Basic Sciences, North-West University, Vaal Triangle Campus, South Africa

Citation


Van Deventer, H.J.M., 2016, ‘Die gebruik van “Skrifkritiek”: ’n Herbesinning’, In die Skriflig 50(2), a2159. http://dx.doi.org/10.4102/ids.v50i2.2159

Note: Financial assistance from the National Research Foundation through Incentive Funding for Rated Researchers is hereby acknowledged. The opinions expressed and results arrived at are those of the author and are not necessarily shared by the NRF.

Original Research

Die gebruik van ‘Skrifkritiek’: ’n Herbesinning

H.J.M. (Hans) van Deventer

Received: 13 June 2016; Accepted: 19 Aug. 2016; Published: 30 Sept. 2016

Copyright: © 2016. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

The use of ‘Scriptural criticism’: a Reflection. In the reformed theological world the term Scriptural criticism is a well-known concept. However, no clearly defined definition for this term exists in reformed circles. This contribution endeavours to fill this gap by focusing on the origin of the term specifically in the South African context. Also, it seeks to indicate how the term is used firstly, as having a specific meaning when reference is made to a method of biblical interpretation, as well as secondly, having a more general meaning related to a dogmatic point of view regarding the nature of the Bible and the role of a reader in understanding the Bible. It is suggested that reformed theology in the South African context should rethink the use of this term.

Engaging critical scholarship … require[s] a redrawing of … sociological boundries, a rewriting of ecclesiastical narratives. (Enns 2012:138)

Inleiding

Skrifkritiek is nie ’n begrip wat baie algemeen gebruik word nie. Trouens soos dikwels die geval is met vakspesifieke woordeskat, het hierdie begrip ’n beperkte getal gebruikers. Die min gebruikers, waarvan die meeste hulle in reformatoriese kringe bevind, is weliswaar nie ’n aanduiding dat dit ’n onbelangrike begrip is nie; inteendeel, vir hierdie gebruikers is die woord dikwels ’n gelade term.

Die herbesinning aangaande hierdie term waarop in hierdie artikel gefokus sal word, is tweërlei van aard. Enersyds word op die enger gebruik van die woord gelet, in die sin van ’n metode vir Bybelinterpretasie. Andersyds word na die gebruik van ’n meer algemene benaming, ‘Skrifkritiek’, binne ander kontekste gekyk. Daar word geargumenteer dat ’n herbesinning aangaande die gebruik van hierdie begrip in albei gevalle nodig is.

In ’n artikel wat aandag aan ’n spesifieke term gee, hier Skrifkritiek, sou dit gepas wees om met ’n bespreking van die betekenis van die term te begin. Die betekenis van ’n woord is egter onlosmaaklik aan die konteks verbind waarin daardie woord gebruik word. Aangesien ’n bespreking van verskillende kontekste waarin die begrip gebruik word, deel is van die oogmerk van die artikel, sal die definiëring van die term eerder die eindpunt as die beginpunt van hierdie artikel wees.

Tog is dit nodig om enkele betekenismoontlikhede vir die term vooraf te noem, om sodoende die probleem in verband daarmee duideliker te omlyn. Daarna gaan die aandag in meer besonderhede by die gebruik van die woord bepaal word wanneer na ’n geldige metode van Bybelverklaring verwys word. Voorts word kortliks na die meer algemene gebruik van die begrip in ander kontekste verwys. Laastens gaan by wyse van ’n sintese gepoog word om enersyds die begrip duidelik te definieer en andersyds aan te toon dat ’n herbesinning in verband met die gebruik van die begrip inderdaad nodig is.

Skrifkritiek: Voorlopige definisies, oorsprong en konteks

’n Goeie bron om die gangbare betekenis van ’n vakspesifieke begrip na te slaan, is ’n woordeboek of ensiklopedie wat op daardie vakgebied fokus. Een van Ferdinand Deist se vele bydraes tot die teologiese wetenskap in Suid Afrika is A concise dictionary of theological and related terms (1992). In die Afrikaans-Engels-woordelys word die leser by die lemma, Skrifkritiek, bloot na die Engelse begrip Biblical criticism verwys. Die inskrywing by laasgenoemde term lui soos volg:

Historical-critical inquiry into the origin, growth (redaction), and canonization of biblical books, the nature and forms of biblical literature, and the transmission of the text of the Bible. Also, following from the study of the nature and forms of the literature, the assessment of the historicity of biblical narratives. (Deist 1992:32)

Dit is duidelik dat hierdie definisie poog om ’n breë oorsig te gee van ’n bepaalde benadering wat met die bestudering van die Bybelteks in historiese en literêre kontekste verband hou. Uit hierdie definisie is dit egter nie duidelik wat die doel van hierdie bestudering (inquiry) is nie, behalwe miskien om ’n uitspraak oor die historisiteit van meer spesifiek verteltekste te lewer. Die verbintenis tussen hierdie omskrywing van Skrifkritiek en die histories-kritiese metode van ondersoek val wel dadelik op.

Die Christelike Kernensiklopedie onder redaksie van Gaum (2008) het nóg die term Skrifkritiek, nóg Bybelkritiek opgeneem. By die lemma, Historiese kritiek, bring Compaan (2008:463) die term egter spesifiek in verband met Bybelinterpretasie as ‘’n wetenskaplike metode om die antieke teks van die Bybel te verstaan’. Compaan (2008) noem verder pertinent ’n primêre en sekondêre doel met hierdie benadering:

Die primêre doel is gewoonlik om die bedoeling van die teks in die oorspronklike, historiese konteks te verstaan. ’n Sekondêre doel is om die historiese situasie van die outeur en die ontvangers van die teks en die ware aard van die gebeure waarna die teks verwys, te rekonstrueer. (bl. 463–464)

Die ondersoek na die historisiteit van die teks (‘die ware aard van die gebeure’) word steeds vermeld, maar ’n sekondêre plek word daaraan toegeken. Die verstaan van die antieke teks staan by hierdie definisie voorop, terwyl hierdie aspek by Deist afwesig blyk te wees.1

Die benaming, Skrifkritiek, as blykbare sinoniem vir die Engelse Biblical criticism verdien ’n verdere opmerking sodat dit duidelik kan wees dat hierdie woord binne ’n bepaalde konteks wel as so ’n sinoniem beskou kan word. Dit blyk dat die benaming, Bybelkritiek, vir ’n tydperk aan die begin van die twintigste eeu binne Gereformeerde verband die gangbare verwysing was vir dit wat later as Skrifkritiek bekend sou staan. ’n Reeks artikels van Totius2 wat in die eerste helfte van 1929 in Die Kerkblad verskyn het, gebruik die benaming, Bybelkritiek (kyk Du Toit 1977:75–89). In die volgende twee aanhalings maak Du Toit (1977) dit duidelik dat Skrifkritiek in die oog is:

Maar nou kom die Bybelkritiek met die bewering dat wel ander mense in dié regte sin geskiedenis geskryf het [as die beskrywing van wat werklik gebeur het – beklemtoning oorspronklik], maar dat dit nie die geval is met die Bybelskrywers nie. (bl. 76)

Volgens die Bybelkritiek is dit mos wetenskaplik uitgemaak dat ’n wonder onmoontlik is. (bl. 78)

Wanneer Totius in 1930 in ’n reeks artikels die vraag, Wat is Skrifkritiek?, behandel, kom hierdie temas weer na vore, maar nou onder die benaming Skrifkritiek. Aangaande die karakter van die boek Genesis, word instemmend na die kantaantekening by die Statebybel verwys en Du Toit (1977) postuleer dan teenoor die Skrifkritiek:

Genesis bevat dus historie, geskiedenis. Die boek handel oor sake wat werklik gebeur het. (bl. 44)

Bybelkritiek, oftewel biblical criticism, dra dus van ongeveer 1930 in Gereformeerde kringe eerder die benaming Skrifkritiek.3

Reeds met die vroeë gebruik van die woord is dit nie heeltemal duidelik wat die term beteken nie. Totius (Du Toit 1977) begin sy reeks artikels met ’n twyfelagtige beskrywing van die begrip, asof dit met die gebruik van die woord kritiek in die algemene omgangstaal kon verband hou:

’n Groot deel van diegene wat nog die naam van Christus noem, wil nie meer onder die kritiek van Gods Woord wees nie. Hulle wil nou, omgekeerd, sélf die woord van God kritiseer! (bl. 42 – beklemtoning oorspronklik)

Dit is opvallend dat iemand met sy akademiese agtergrond nie geweet het dat kritiek, soos ook die geval is met die Engelse criticism, of die Duitse Kritik, ’n tegniese term is wat op die ontleding, oftewel analise, van ’n bepaalde (literêre) voorwerp dui nie.4 Later word hierdie interpretasie herhaal wanneer Du Toit (1977) Skrifkritiek in ’n negatiewe sin gebruik:

Natuurlik verstaan ons hier die term Skrifkritiek in ongunstige sin, in dié sin dat deur die mens se verstand kritiek uitgeoefen word op die inhoud van die Skrif. (bl. 50)

As voorbeeld vir sy lesers van hoe Skrifkritiek in die praktyk daar uitsien, verwys Totius (1977) na Wellhausen se vier-bron hipotese met betrekking tot die ontstaan van die Pentateug. Veral die feit dat die wetgewing in die sogenaamde D- en P-bronne volgens hierdie hipotese heelwat jonger materiaal bevat, blyk ’n groot probleem te wees:

In plaas daarvan dat vir die wetgewing die jaar 1492 (sic!) voor Christus vasgestel word,5 die tyd toe Israel by Sinai gelaer het, moet ons nou, volgens die Skrifkritiek, met die wetgewing verhuis na die jare 620 en 450 voor Christus! …

Maar hiermee stel die hedendaagse Skrifkritiek hom dan ook pertinent teenoor die duidelikste uitsprake van die Heilige Skrif. Duidelik sê die Skrif:‘Die Here het met Moses gespreek en gesê’ – en dan volg telkens die wette. (bl. 51, 52)

Alhoewel erken word dat die uitdrukking, ‘Die Here het met Moses gespreek en gesê’ ’n ‘formule’ is (Du Toit 1977:52), word die formele funksie van hierdie literêre tegniek nie verder bedink nie. ’n Literêre konvensie word bloot as bewys vir ’n historiese werklikheid aangebied.6 Hierdie meer rigiede verstaan van die Bybel druis in teen ’n gematigde uitgangspunt wat vroeër by Totius aanwesig was. In ’n artikel wat oor die skoonheid van die Bybel handel en in 1914 in Het Kerkblad verskyn het, meld hy (1977) die volgende:

Die Bybel is geen handboek vir geskiedenis, natuurkunde of sterrekunde nie; … Die Bybel bevat óók mededelinge omtrent die natuur, die geskiedenis, die sterre en soveel meer. En juis omdat die Bybel vir ons is die gesaghebbende, onfeilbare openbaring, daarom het daardie mededelinge vir ons so grote betekenis en mag ons hulle, hoewel hulle bykomstig is, nie verwaarloos nie. (bl. 34–35)

In skerp kontras hiermee staan die volgende wat Du Toit (1930) in Die Kerkblad gepubliseer het:

En selfs by die bespreking van die ontstaan van die Bybelboeke moet ons gedurig ingedagtig wees dat die Skrif omtrent dié ontstaan sekere uitsprake bevat wat vir ons absoluut en gesaghebbend is. (bl. 45)

Wil ons die gesag van die Skrif nie aanrand nie, dan moet ons ál sy uitsprake, ook die wat op historiese en oudheidkundige onderwerpe betrekking het, as bondig, waar en onfeilbaar aanneem. (bl. 54)

Dit is duidelik dat ’n bepaalde verstarring hier na vore kom en direk met ’n dogmatiese tema aangaande die gesag van die Skrif verband hou. Hierdie kentering in denke kan enersyds moontlik na Totius se kennismaking met die werke van die ‘Fundamentaliste’7 uit die VSA herlei word. Andersyds moet ook in gedagte gehou word dat die werk van Johannes du Plessis, waarin Wellhausen se teorie oor die ontwikkeling van die Pentateug plaaslik bekend gestel is (vgl. Du Plessis 1927), in hierdie tyd verskyn het. Reeds in ’n artikel wat in 1926 in Die Kerkblad gepubliseer is, verwys Totius (Du Toit 1977) met instemming na die Fundamentaliste:

Volgens die Fundamentaliste moet in die geloofstryd die eerste en hoogste woord aan die Heilige Skrif gegee word: hý moet self verklaar hoe hy opgevat en verstaan wil wees, en wat ons moet glo. (bl. 32)

Die verband tussen Skrifkritiek en die dogmatiese tema van Skrifgesag word elders baie duidelik getrek wanneer verwys word na Aalders se standpunt aangaande die Mosaïese outeurskap van die Pentateug:

Ook prof. Aalders is ’n gebore vyand van die Skrifkritiek soos dit beoefen word deur manne wat die Skrifgesag in geheel nie of selfs ten dele aanvaar. (Du Toit 1977:49)

Dit is dus veral Skrifkritiek se bevraagtekening van sekere historiese aannames met betrekking tot die Bybel (hier word veral op outeurskap in die Ou Testament gelet) wat tot ’n vasgryp aan ’n dogmatiese tema gelei het. Die gesag van die Skrif is sterk beklemtoon as teenvoeter vir nuwere invloede wat in die vroeg-twintigste eeu ook in Suid-Afrika aangeland het en waarvan die Du Plessis-saak getuig. Hieronder sal aangetoon word hoe ’n dogmatiese argument veel later steeds die onderbou vir die voortgaande bestryding van Skrifkritiek gebied het. Die definisie wat Totius (1977) aan Skrifkritiek gee, beaam die dogmatiese teenkanting:

Skrifkritiek … is die verwerping van pertinente uitsprake van Gods Woord, om daaroor ’n eie mening in die plek te stel. (p. 52)

Die konsekwente historiese metode waarmee Skrifkritiek werk, moes daartoe lei dat sekere aannames met betrekking tot die Bybel ook getoets sou word (Collins 2005:6). Hierdie 'metode' van Skrifuitleg sou in die loop van die twintigste eeu onder skerp kritiek vanuit behoudende teologiese kringe deurloop. Totius (1977:56) merk juis op ‘Die metode self van die Skrifkritiek is verkeerd; want die gesag van Gods Woord word op kardinale punte verwerp’ (beklemtoning oorspronklik). Vanuit ’n meer metodologiese hoek word op een plek die ‘suiwer historiese’ benadering en ’n ‘kritiese standpunt’ as sinonieme gebruik (1977:52).

’n Ander benaming vir Skrifkritiek wat gedurende die vroeg-twintigste eeu gebruik is, is Hoër kritiek. Trouens dit is onder hierdie benaming (oftewel ‘Hogere kritiek’) wat Du Plessis (1927) hierdie benadering tot die Bybelteks binne die (Suid) Afrikaanse8 konteks bekendstel. Die gebruik van hierdie benaming wys daarop dat Du Plessis aansluiting by die werke van Duitse geleerdes vind. Hy verwys na die invloed van Eichhorn in hierdie verband en toon hom as die vader van die term ‘höhere Kritik’ aan. Eichhorn (1803:314, 329, 330) gebruik hierdie term in sy Einleitung in das Alte Testament net in die konteks van sy bespreking van die boek Genesis en meer spesifiek die onderskeid van verskillende outeurs wat vir hierdie boek verantwoordelik was. Reeds aan die begin van die twintigste eeu laat Reid (1908) hom oor die gebruik van hierdie benaming soos volg uit:

It [higher criticism] is not, as supposed by some, an arrogant denomination, assuming superior wisdom, but it has come into use because this sort of criticism deals with the larger aspects of Bible study; viz., with the authorship, date, composition, and authority of whole books or large sections, as distinguished from the discussion of textual minutiæ, which is the sphere of the lower, or textual, criticism.

Hierdie afdeling het daarop gewys dat Skrifkritiek (= Biblical criticism) aan ’n bepaalde metode van Bybeluitleg gekoppel word, te wete die histories-kritiese metode. ’n Ondersoek na die ontstaan van hierdie begrip (veral binne Gereformeerde kring) het aangetoon dat dit vroeg in die twintigste eeu reeds in verband met ’n dogmatiese vertrekpunt rakende die gesag van die Bybel gebring is. In die res van hierdie artikel word die ontwikkeling van hierdie tweërlei betekenis verder nagespoor. Vervolgens word op die metodologiese aard van Skrifkritiek gefokus.

Skrifkritiek as metode(s) van Bybelverklaring: Fundamentele vrae

Hierbo is aangedui dat ’n enger verstaan van Skrifkritiek met ’n bepaalde metode van Bybelverklaring verband hou. In hierdie tegniese sin van die woord het dit bloot op die ontleding (kritiek) van die Bybelteks betrekking om sodoende uiteindelik ’n ingeligte en metodologies geldige verstaan van die teks daar te stel. In hierdie opsig is enige metode wat nagevolg word om die teks te verstaan ’n vorm van Skrifkritiek.9

Uit die bespreking hierbo het dit wel duidelik geword dat Skrifkritiek dikwels in verband gebring is met histories-kritiese metodes wat vir die verstaan van die Bybel aangelê is. Gegewe die konteks aan die begin van die twintigste eeu, is dit te verstane dat metodes wat enersyds in die filosofiese milieu van die negentiende eeu ingebed is, en andersyds erns met die historiese insigte maak wat daardie eeu rakende die antieke tyd en kulture opgelewer het, voorrang sou geniet wanneer die Bybel in akademiese kontekste bestudeer is. Goldingay (1995:28) wys daarop dat Bybelinterpretasie nog altyd (hetsy in antieke Aleksandrië, tydens die Reformasie, of met die ontwikkeling van moderne teorieë) bewustelik of onbewustelik in dialoog met die intellektuele strominge van die dag geskied.

In hierdie afdeling word daarom ook op ander ‘kritiese’ metodes gelet wat in die twintigste eeu ontwikkel het. Dit is duidelik dat die gebruik van ‘gesonde verstand’, die ‘rede’, die ‘wetenskap’ of ‘insig in die feite’ (dus enige intellektuele handeling soos binne ’n akademiese konteks vereis) vir Totius (Du Toit 1977:52) onaanvaarbaar was, aangesien dit die gesag van die Skrif sou ondermyn. Veral die filosofiese onderbou van nuwe metodes, asook die gangbare meer ortodokse vorm van Skrifkritiek, kom dus hieronder aan die bod. Die ontwikkeling van historiese kritiek as vorm van Skrifkritiek kry eerstens aandag.

Davies (2013:2) meld in sy werk, Biblical criticism: A guide for the perplexed, wat juis op persone gerig is wat uit die veld geslaan is deur die konsep van Skrifkritiek, dat die dominante benadering in die akademiese studie van die Bybel gedurende die negentiende en twintigste eeue historiese kritiek was. Aangesien die fokus op die akademiese konteks val (wetenskap soos beoefen aan erkende universiteite), word die wortels van hierdie benadering na ‘the great intellectual revolution in sixteenth- and seventeenth-century Europe’ herlei (Davies 2013:2).

Barton (1998) is meer genuanseerd in sy bespreking van die oorsprong van die histories-kritiese metode, oftewel Bybelkritiek soos hy tereg daarna verwys. Alhoewel hy die invloed van die Verligting in hierdie verband erken, voer hy aan dat die wortels verder terug strek, naamlik tot by die Reformasie:

Faced with an ecclesiastical interpretation of this or that text, the biblical critic does not automatically accept the magisterium of the Church guarantees the meaning proposed is the correct one … (p. 16; beklemtoning – HJMvD)

Om volgens Barton dus bloot die knie voor die kerklike interpretasie van die teks te buig, sou beteken dat die wese van die Reformasie in die gedrang kom. Benewens die feit dat Barton (1998:14) verder aantoon dat die historiese aard van Bybelkritiek aan die begin van die twintigste eeu eintlik betrekking op suiwer literêre, eerder as historiese vraagstukke gehad het (bv. die beskrywing van die komplekse verwantskappe in en tussen tekste), meen hy ook dat metodes wat as histories-krities beskryf word, selfs teen die einde van die twintigste eeu, skaars in kerklike kontekste aangeland het. Die rede wat Barton (1998:18) vir hierdie toedrag van sake aanvoer, is veral insiggewend: [historical criticism] refuses to allow people to mean anything they like by their sacred texts’ (beklemtoning – HJMvD). Dit is juis op hierdie punt waar die paaie dikwels uiteengaan. Die kerklike tradisie aanvaar moeilik dat ’n tradisionele verstaan van ’n teks wat dikwels op ’n naïewe lees van die teks gebou is, in die gedrang kan kom.10 Op hierdie wyse word die Woord, wat reeds in bybelse kontekste telkens nuwe perspektiewe op God en die mens openbaar,11 ondergeskik aan die tradisie gestel.

Dit is moontlik die rede waarom iemand soos Kardinaal Ratzinger (1988), wat later Pous Benedictus XVI geword het, in sy Erasmus-lesing (in 1988) met ’n oënskynlike negatiewe beoordeling van historiese kritiek begin het: ‘To speak of the crisis of the Historical Critical method today is practically a truism'. Sy aanvanklike kritiek teen hierdie metode (hy erken ook ‘the undeniable insights uncovered by the historical method’) is gerig teen die bevraagtekening van kerklike dogma wat dit meegebring het. So stel Ratzinger (1988) byvoorbeeld:

Within that newfound freedom of thought into which the Enlightenment had launched headlong, dogma or church doctrine appeared as one of the real impediments to a correct understanding of the Bible itself.

Verder toon hy aan dat historiese kritiek (in watter vorm ook al) op bepaalde filosofiese grondslae gebou is en hy waarsku daarteen dat hierdie basis tot ’n ‘academic dogma’ kan verstar wat die eksegetiese proses van meet af bepaal en forseer om bepaalde moontlikhede uit te sluit (bv. ’n almagtige God wat in menslike taal aan die woord kom).12 Ratzinger (1988) slaag op die ou einde daarin om ’n gebalanseerde blik op die moderne taak van interpretasie te gee, sonder om in fundamentalisme te verval, wat hy soos volg beskryf:

[Fundamentalists] brand as false in itself and contradictory any application of the historical-critical method to the Word of God. They want to take the Bible again in its literal purity, just as it stands and just as the average reader understands it to be.

Vanuit Ratzinger (1988) se argument blyk dit teoreties moontlik om sowel akademiese as kerklike integriteit te behou indien die akademie bereid is om enersyds selfkrities na sy grondslae te kyk en andersyds geloof as heuristiese sleutel in die hermeneutiese proses te erken. Hy som hierdie teoretiese begronding soos volg op:

[The exegete] must come to acknowledge this faith as a hermeneutic, the space for understanding, which does not do dogmatic violence to the Bible, but precisely allows the solitary possibility for the Bible to be itself. (Ratzinger 1988; beklemtoning – HJMvD)

Hierdie teoretiese moontlikheid om met behulp van Skrifkritiek sinvolle bydraes binne akademiese en geloofsgemeenskappe te maak, word deur talle publikasies ondersteun. Dit staan as empiriese bewyse in hierdie verband.13

Alhoewel hierbo aangetoon is dat Skrifkritiek, wat dikwels gelyk gestel word aan historiese kritiek, veral afgewys word vanweë die konsekwent historiese vrae wat dit stel, is dit nie die enigste wyse waarop die Bybelteks verklaar word nie. Jasper (1998:23) wys daarop dat n verdere akademiese belangstelling reeds gedurende die negentiende eeu te bespeur is. Daarna is verwys as: ‘the universal poetic imagination, synchronically present in the Bible’. Veral sedert die middel van die twintigste eeu het hierdie belangstelling ontwikkel tot wat bekend staan as ’n literêre benadering tot die teks, of om die tegniese term weer te gebruik, literêre kritiek.

Soos die geval is met historiese kritiek, omvat die benaming, literêre kritiek, verskillende metodologiese benaderings tot die interpretasie van ’n teks.14 Hierdie metodes deel egter die vertrekpunt dat betekenis nie in die geskiedenis van die teks (oftewel agter die teks), gesetel is soos die historiese kritiek beweer nie. Betekenis kan hier bepaal word deur slegs aandag aan die literêre en retoriese strategieë te gee wat die samesteller(s) in die teks aangewend het.

Die standaardwerk wat hierdie benadering weerspieël is Alter en Kermode (1987) se boek, The literary guide to the Bible.15 Hierdie werk bied ’n inleidende oorsig tot elkeen van die Bybelboeke waarin die aandag slegs by literêre aspekte bepaal word. Die volgende aspekte van die teks is in hierdie benadering ter sake: temas, tyd en ruimte in vertellings, karakterisering, intrige en struktuur. Geen woord word oor die ontstaansgeskiedenis van die verskillende boeke, die historiese agtergronde of moontlike bronne van die tekste gerep nie. Alles wat vir die verstaan van die teks ter sake is, is opgesluit in die literêre tegnieke wat die teks vertoon.

Moontlik is dit juis hierdie uitsluiting van historiese vrae wat daartoe gelei het dat hierdie benadering byval in teologies-behoudende kringe gevind het. Walter C. Kaiser is in hierdie kringe ’n gerespekteerde naam. In sy goed-begronde, maar terselfdertyd praktiese handleiding vir prediking vanuit die Ou Testament, stel hy die insigte wat die literêre kritiek opgelewer het binne ’n kerklike konteks bekend (Kaiser 2003). Hy verwys instemmend na die goeie insigte van Robert Alter met betrekking tot die verstaan van narratiewe tekste (ibid:71, 73). Ongelukkig gebruik Kaiser die werk van Alter selektief en stel hy die leser nooit aan die filosofiese onderbou van literêre kritiek bekend nie.

Alter (1990) laat hierdie vertrekpunt in sy bespreking van die Jefta-verhaal (Rigters 10–11) deurskemer wanneer hy die volgende opmerk:

Whether or not things happened precisely as reported here, and whether or not the ancient audience conceived this as a literally accurate account of historical events (both questions are unanswerable), it is clear from the way the text is organized that the writer has exercised considerable freedom in shaping his materials to exert subtle interpretive pressure on the figures and events. In such writing it is increasingly difficult to distinguish sharply between history and fiction, whatever the historical intensions of the writers.

Barton (1996:159) is meer onomwonde hieroor in sy beoordeling van literêre kritiek wanneer hy opmerk: ‘… the New Critics tended to suggest that literature had no referential function at all’. Dit beteken dat die teks slegs na sigself verwys en nie na ’n regte wêreld buite die teks nie. Die ironie is opvallend, naamlik dat juis die kwessie van historisiteit wat binne behoudende kringe ’n ongemak rakende die resultate van die historiese kritiek veroorsaak het, deur die literêre kritiek, wat in dieselfde kringe aanvaar is, uit die staanspoor genegeer word. Die volgende voorbeeld behoort die argument te illustreer: die historiese kritiek het op grond van die latere datering van J- en E-materiaal16 in die Pentateug twyfel geskep rakende die historisiteit van persone soos Abraham en Moses. In die literêre kritiek is die vertrekpunt een van die nie-historisiteit van hierdie karakters.

Hiermee word nie ’n pleidooi gelewer dat Kaiser se selektiewe gebruik van die resultate van die literêre kritiek veroordeel moet word en sy toepassing daarvan in behoudende teologiese gemeenskappe laat vaar word nie. Dit is ’n onomwonde feit dat die gebruik van die literêre kritiek nuwe en vars verstaansmoontlikhede open. Die argument is juis dat dieselfde siening gehandhaaf behoort te word betreffend die resultate van die historiese kritiek, oftewel Skrifkritiek soos dit in hierdie artikel gedefinieer word.

Dit is nie akademies verantwoordbaar om die historiese kritiek op grond van ’n bepaalde filosofiese onderbou te verwerp, maar terselfdertyd die literêre kritiek, wat ’n nog meer radikale filosofiese onderbou vertoon, te omhels nie. Die punt is dat die resultate van albei hierdie benaderings in die konteks van selfs ’n behoudende teologiese tradisie gebruik kan word.

Die akademiese konteks waarin ons onsself bevind vra nie bloot dat ons konsekwente vrae moet stel ten opsigte van die onderliggende aannames van nuwere vorms van Bybelkritiek soos die historiese en literêre kritiek nie. Die vraag na die fundamentele vertrekpunte van die grammaties-historiese metode moet ook aan die bod kom. Hierdie metode kan selfs in verband met fundamentalisme gebring word indien ’n Archimedes-punt gevind kan word waarvandaan fundamentalisme beskou kan word.17 Myns insiens verteenwoordig ’n definisie van hierdie begrip wat nie uit ’n gereformeerde of Gereformeerde18 konteks kom nie, moontlik so ’n punt.

Die dokument, ’The interpretation of the Bible in the church’ (Pontifical Biblical Commission 1994), gee die volgende beskrywing van ’n fundamentalistiese interpretasie van die Bybel (beklemtoning - HJMvD):

Fundamentalist interpretation starts from the principle that the Bible, being the word of God, inspired and free from error, should be read and interpreted literally in all its details. But by ‘literal interpretation’ it understands a naively literalist interpretation, one, that is to say, which excludes every effort at understanding the Bible that takes account of its historical origins and development. It is opposed, therefore, to the use of the historical-critical method, as indeed to the use of any other scientific method for the interpretation of Scripture.

Fundamentalism is right to insist on the divine inspiration of the Bible, the inerrancy of the word of God and other biblical truths included in its five fundamental points. But its way of presenting these truths is rooted in an ideology which is not biblical, whatever the proponents of this approach might say. For it demands an unshakable adherence to rigid doctrinal points of view and imposes, as the only source of teaching for Christian life and salvation, a reading of the Bible which rejects all questioning and any kind of critical research.

Hieruit is dit duidelik dat die kritiek uit Gereformeerde kringe wat sedert die vroeë twintigste eeu teen Skrifkritiek as metode van Bybelverstaan ingebring en hierbo bespreek is, beslis onder die noemer, fundamentalisme, tuisgebring kan word soos dit hier beskryf is. Dit sou egter ook nodig wees om te probeer aantoon wat die fundamentele vertrekpunte is waarop hierdie benadering gebou word.19

Daar word dikwels tot ’n mate verontskuldigend na moontlike grondmotiewe van fundamentalisme verwys. So poneer Van Wyk (2002:603) ‘dat die fundamentalisme hom (onbedoeld) skuldig maak aan rasionalisme’. Vorster (2004:595) meen die term fundamentalisme moet genuanseerd gebruik word aangesien dit in ‘kritiese teologiese kringe’20 misbruik word om konserwatiewe denke te stereotipeer. Sonder verdere beredenering of verwysing word die volgende stelling dan gemaak: ‘Hiervolgens is die siening dat die Skrif die Woord van God is, per se fundamentalisties.’ Jordaan (2004) poog om die Gereformeerde teologie tussen fundamentalisme en modernisme te posisioneer. Wat filosofiese onderbou betref ontken Jordaan (2004:258) dat naïewe realisme ’n invloed op Gereformeerde teologie uitoefen (contra Deist 1994 se omvattende wetenskaps-historiese ondersoek, waarna Jordaan glad nie verwys nie). Daar word egter nie positief gestel wat die filosofiese onderbou van die Gereformeerde teologie wel is nie.21 Lombaard (2006:914–915) verbind sy kritiek op fundamentalisme juis aan ’n ‘filosofies-bepaalde waarheidsbegrip’ wat hy na die klassieke Griekse filosofie herlei. In hierdie verband is Snyman (1992:252–263) se uitwys van Platonistiese en positivistiese invloede skynbaar in die Gereformeerde konteks aanvaar, aangesien daar tot op hede geen korrektief as filosofiese vertrekpunt aangebied is nie.22

’n Derde duidelik identifiseerbare benadering tot Bybelverklaring laat nie die klem op die historiese of literêre aspekte val nie, maar op die subjektiewe konteks van die leser van waaruit daardie leser dan ’n bepaalde betekenis konstrueer. Bekende voorbeelde van hierdie benadering sluit die feministiese, bevrydings- en ekoteologiese lesings in. Thiselton (1992:410) verwys na die volgende drie gemene delers by hierdie benaderings: kritiseer bestaande verstaansraamwerke binne dominante tradisies; bied herinterpretasies van die Bybel aan vanuit ’n bepaalde belewingskonteks; en ontwerp of gebruik kritiese hulpmiddels (teorieë) om die misbruik van die Bybel vir manipulasie of onderdrukking bloot te lê. Die sleutel tot die betekenis is dus nie in die historiese omstandighede (agter die teks soos historiese kritiek veronderstel); of in literêre konvensies (in die teks soos literêre kritiek veronderstel) geleë nie, maar eerder in die hand van elke individuele leser wat vanuit sy of haar eie konteks (voor die teks) daardie teks lees. Die leser het dus die grootste aandeel in die bepaling van betekenis. Uit die aard van die saak is hierdie benadering onbeskaamd subjektief en dit maak die deur oop vir meerdere interpretasies van dieselfde teks. Vorster (1998:38) som die resultaat van hierdie leser-geörienteerde benadering tereg op, naamlik dat:

the text has become unstable causing a lot of frustration and feat in those circles where the Bible is regarded as something which has a message and that the message simply has to be discovered’. (p. 38)

Die onstabiliteit van die teks open nie noodwendig die deur vir totale relativisme nie. Stanley Fish (1980:15), die groot eksponent van die leser-geörienteerde benadering, verduidelik soos volg: ‘members of the same community will necessarily agree becasuse they see everything in relation to that community’s assumed purposes and goals’. En verder: ‘This, then, is the explanation for the stability of interpretation among different readers (they belong to the same community).’

Jordaan (1991:8) bring die relatiewe aard van hierdie benadering in verband met dit wat as radikale Skrifkritiek beskryf word waar die goddelike karakter van die Bybel totaal en al uitgeskakel word. Net soos die geval met die definiëring van Skrifkritiek hierbo, blyk hier ook ’n dogmatiese tema te wees wat verband hou met die aard van die Skrif (oftewel Skrifgesag) wat by die bespreking betrek word. Dit wil voorkom asof enige metode wat nie die teks eenvoudig letterlik wil verstaan nie, as ’n belemmering vir die gesag van die Skrif beskou word en daarom in ’n dogmatiese sin van die woord Skrifkrities is.23

In hierdie verband wil ek ’n skynbare ironie uitlig wanneer dit kom by die grammaties-historiese metode. In wese word hierdie benadering gevoed deur ’n strewe om die teks letterlik te verklaar,24 sonder om erns te maak met onder andere die resultate van ’n konsekwente historiese lees van die teks, of die vooronderstellings van ’n literêre lees van die teks. Hierdie verklaring van die teks word deur ’n bepaalde kerklike gemeenskap voorgeskryf om aan daardie gemeenskap se siening en verwagting van die teks te voldoen. Met verwysing na Thiselton se drie kenmerke van leser-geörienteerde benadering, lyk dit asof die grammaties-historiese metode dus hier kan tuishoort, omdat:

  • die voorstanders van hierdie metode binne ’n akademiese konteks veral die dominante histories-kritiese verstaansraamwerk kritiseer;
  • dit die interpretasie van die Bybel inbed en deur ’n dogmatiese vertrekpunt25 rakende Skrifgesag laat voorskryf;
  • hierdie metode ‘ontwerp’ is om akademiese geloofwaardigheid aan iets te gee wat in wese ’n naïewe en letterlike verstaan van die teks binne ’n akademiese konteks wil wees.

Vanuit hierdie gesigspunt is die grammaties-historiese metode dus ook ’radikaal Skrifkrities’, omdat ’n raamwerk van buite die Bybel gebruik word om voor te skryf wat die teks mag beteken.26 Dit is in dieselfde verband dat Lombaard (2006:914) na fundamentalisme kan verwys as ’ons tyd se grootste kettery’.

Nadat kennis geneem is van hoe Skrifkritiek aan verskillende metodes van Bybelverstaan gekoppel word, word voorts kortliks gelet op die gebruik van hierdie begrip wanneer nie noodwendig na Bybelverklaring verwys word nie, maar na ’n bepaalde siening aangaande die Bybel.

Skrifkritiek in ander kontekste

Hierbo is reeds ’n onderskeid getref tussen die gebruik van Skrifkritiek in ’n enger betekenis, as verwysend na ’n metode van Bybelverklaring en Skrifkritiek in ’n breër (dogmatiese) konteks, waar dit die gesag van die Skrif in gedrang kan bring. In hierdie afdeling word kortliks enkele verdere voorbeelde van laasgenoemde betekenis gegee. Hierdie bespreking word tot gevalle beperk waar die begrip in kerkregtelike konteks gebruik word in enkele rapporte wat sedert 2000 by GKSA-sinodes gedien het.27 Telkens slaan dieselfde ondertoon rakende Skrifgesag duidelik deur, net soos in die geval van die metode vir Bybelverklaring hierbo. Interessant genoeg is dit ook juis in hierdie konteks waar die betekenis van die term Skrifkritiek duideliker omlyn word.

By Sinode 2000 is dit veral waar sake van ekumeniese skakeling behandel word dat die benaming Skrifkritiek voorkom. In die sinodehandelinge lees ’n mens van die onbewese beskuldiging van Skrifkritiek teen professore verbonde aan die Teologiese Skool Potchefstroom vanuit die geledere van die Vrye Gereformeerde Kerk in Suid Afrika (hierna VGKSA) (GKSA 2000:228, 236). Waar die saak van die vrou in die amp onder die loep kom, stel die rapport (2000:418) tereg die vraag of verskille oor hierdie saak tussen kerke met wie die GKSA in korrespondensie is, die gevolg sou wees van ’n Skrifkritiese Skrifbeskouing. Ten grondslag van sodanige Skrifbeskouing sou ’n ‘hermeneutiek lê waardeur die Skrif op ’n relativistiese wyse verklaar word’ (2000:418). In die volgende sin word hierdie wyse van Skrifverklaring gelykgestel aan ’n ‘Skrifkritiese hermeneutiek’ waardeur ‘mense aan hulleself en hulle besluite “meer mag en gesag toeskryf as aan die Woord van God (NGB, art. 29)”’. Dit blyk dat die relativering van dit wat as Skrifwaarhede beskou word direk verband hou met dit wat as ‘Skrifkritiek’ beskryf word.28 By implikasie word die feit van ’n objektiewe waarheid en die mens se direkte toegang daartoe gepostuleer.

Dit sou dus te wagte wees dat tydens die daaropvolgende sinode (2003) toe die rapport gedien het wat oor die verskille rakende die vrou in die amp by verskillende kerke uitsluitsel gee, hierdie begrip weer aan die orde sou kom. Die GKSA-deputate kon geen gevalle vind waar verskille in die interpretasie na ‘’n Skrifkritiese hermeneutiek’ teruggevoer kon word nie (GKSA 2003:176, 183). Trouens, die kerke wat tot op daardie stadium anders geoordeel het oor die saak ‘probeer om na die Skrif te luister’, en verwerp nie die Bybel nie (2003:183). ’n Konklusie wat elders gemaak word, is dat ‘… verskil in eksegese nie noodwendig Skrifkritiek beteken nie’ (2003:199). Die vraag ontstaan egter waar die rede vir die verskil in eksegetiese resultate gesoek moet word.

Die antwoord op hierdie vraag dui in net een rigting. Dit is tog dieselfde teks wat in verskillende kerklike kringe gelees word. Die historiese agtergrond van die betrokke teksgedeeltes onder bespreking is reeds goed nagevors, en die deputate sou gemeld het indien die verskille in die verklaring ’n gevolg van ’n meningsverskil rakende die historiese konteks is. Die enigste ander faktor wat ’n invloed op die verstaan van die teks het, is die betrokke leser. Dit illustreer die punt wat sedert die laaste kwart van die twintigste eeu as gegewe deur literatuur-wetenskaplikes aanvaar word en wat hierbo na verwys is: die leser dra by tot die betekenis van ’n teks.29 In die konteks van die GKSA word hierdie gegewe implisiet aanvaar, solank almal in die lesers-gemeenskap natuurlik oor die betekenis saamstem. Die voorstanders sowel as die teenstanders van die vrou in die amp laat uiteindelik hulle eie subtiele, maar steeds subjektiewe oordeel die deurslag gee. Ook bydraes van buite die Bybel- en Kerkwetenskappe bevestig dat dit veral die eksplisiete subjektiewe aard van (lesers-geörienteerde) benaderings tot die teks is waaraan die etiket van ‘Skrifkritiek’ gehang word. Vorster (1995:448) bring ‘Politieke Teologie’ sodanig in verband met hierdie benaming in ’n artikel wat op ’n Prakties-Teologiese onderwerp rakende prediking fokus.

Hierdie kort bespreking het die aandag daarop gevestig dat Skrifkritiek in ander kontekste as Bybelverklaring gebruik word met verwysing na dit wat as ’n relativering van die waarheid in die teks gesien word. Hierbo is reeds daarop gewys dat enige interpretasie ’n mate van subjektiewe oordeel van die verklaarder veronderstel. Dit is juis op grond hiervan dat die VGKSA hoogleraars in Potchefstroom van Skrifkritiek kon beskuldig. Laasgenoemde se subjektiewe oordeel verskil van die subjektiewe oordeel van die betrokke VGKSA-deputate. Dit blyk egter dat in die GKSA die kriterium van ‘na die Woord luister’ eerder die deurslaggewende saak is. In hierdie geval impliseer dit dat daar met meerdere apparate na die Skrif geluister behoort te word, waaronder uiteraard die histories-kritiese benadering ingesluit sal word.

Samevattend

In hierdie artikel is op die gebruik van Skrifkritiek binne ’n bepaalde teologiese tradisie gelet. ’n Aanvanklike definisie het hierdie benaming met ’n bepaalde benadering tot Bybelinterpretasie gelykgestel, te wete historiese kritiek. Daar is aangetoon dat die beswaar teen die gebruik van Skrifkritiek na ’n bepaalde filosofiese grondslag herlei kan word wat ten minste tot die konteks van die Reformasie teruggaan. Verder is aangevoer dat ander benaderings waarvan die resultate met vrug in hierdie teologiese kringe gebruik word, ’n meer radikale filosofiese onderbou vertoon, maar dat dit nie die gebruik van daardie benaderings belemmer of belet nie.

Voorts het die bespreking van die gebruik van hierdie term binne ander velde as die Bybelwetenskappe dit aan die lig gebring dat die benaming gebruik word wanneer daar ‘relativisties’ met die teks omgegaan word, of wanneer daar nie gepoog word om opreg na die Skrif te luister nie. Dit het ook aan die lig gekom dat die mate waartoe die leser se betrokkenheid by die interpretasieproses ’n invloed op die verstaan van die teks het, nog nie genoegsaam binne hierdie tradisie verreken is nie.

In die lig van die voorafgaande word aan die hand gedoen dat oor die gebruik van die benaming Skrifkritiek soos volg herbesin word:

  • As metode vir Bybelinterpretasie kan dit nie uitsluitlik gebruik word met verwysing na die histories-kritiese metode nie, maar dit omsluit alle metodes wat in ’n akademiese konteks aangewend moet word om die teks mee te verklaar.
  • As verwysend na ’n dogmatiese beoordeling van ’n standpunt in sake Skrifgesag sal gebruikers van hierdie term dit duideliker moet omskryf,30 sodat die term nie bloot gebruik word vir die etikettering van persone wat die Bybelteks en die daaraan ondergeskikte belydenis op sommige punte anders verstaan nie.

Aangesien die Bybel as die Woord van God aanvaar word, behoort in die verklaring daarvan ruimte vir meerdere metodes van uitleg te bestaan. Voorts moet daarteen gewaak word dat ’n bepaalde dogma of leserspubliek nie aan die teks voorskryf wat dit kan beteken, om sodoende bloot hulle subjektiewe ervaringswêreld te dien nie. In hierdie opsig behoort hoogleraars in die Bybelwetenskappe met groot verantwoordelikheid in kerklike verband pastorale leiding te gee.31

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finasiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig in die skryf van hierdie artikel kon beïnvloed het nie.

Literatuurverwysings

Alter, R., 1990, ‘Introduction to the Old Testament’, in R. Alter & F. Kermode (eds.), The literary guide to the Bible, pp. 11–34, Belnap, Cambridge.

Alter, R. & Kermode, F. (eds.), 1987, The literary guide to the Bible, Belnap, Cambridge.

Barton, J., 1988, ‘Reading the Bible’, London Review of Books 10(9), 13–14.

Barton, J., 1996, Reading the Old Testament: Method in biblical study, rev. & enl. edn., Westminster John Knox Press, Louisville.

Barton, J., 1998, ‘Historical-critical approaches’, in J. Barton (ed.), The Cambridge companion to biblical interpretation, pp. 9–20, Cambridge University Press, Cambridge.

Brettler, M.Z., Enns, P. & Harrington, D.J., 2012, The Bible and the believer: How to read the Bible critically and religiously, Oxford University Press, Oxford.

Colenso, J.W., 1862, The Pentateuch and the book of Joshua critically examined, Longman, London.

Collins, J.J., 2005, The Bible after Babel: Historical criticism in a postmodern age, Eerdmans, Grand Rapids.

Compaan, A.L., 2008, ‘Historiese kritiek’, in F. Gaum (red.), Christelike Kernensiklopedie, pp. 463–464, Lux Verbi, Wellington.

Davies, E.W., 2013, Biblical criticism: A guide for the perplexed, Clark, London.

Deist, F.E., 1992, A concise dictionary of theological and related terms, Van Schaik, Pretoria.

Deist, F.E., 1994, Ervaring, rede en metode in Skrifuitleg: Wetenskapshistoriese ondersoek na Skrifuitleg in die Ned. Geref. Kerk 1840–1990, Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, Pretoria.

Dell, K.J. & Joyce, P.M., 2013, Biblical interpretation and method: Essays in honour of John Barton, Oxford University Press, Oxford.

Du Plessis, J., 1927, ‘Wat de hogere kritiek is en leert’, Het Zoeklicht , Okt., pp. 305–314.

Du Toit, S.J., 1977, Totius Versamelde Werke, deel 1, onder redaksie van prof. dr. Hertzog Venter, Tafelberg, Kaapstad.

Eichhorn, J.G., 1803, Einleitung in das Alte Testament, vol. 2, Weidmannischen Buchhandlung, Leipzig.

Enns, P., 2012, ‘Protestantism and biblical criticism: One perspective on a difficult dialogue’, in M.Z. Brettler, P. Enns, & D.J. Harrington, The Bible and the believer: How to read the Bible critically and religiously, pp. 126–161, Oxford University Press, Oxford.

Fish, S.E., 1980, Is there a text in this class?, Harvard University Press, Boston.

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 2000, ‘Handelinge van die 47ste sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika’, Administratiewe Buro, Potchefstroom.

Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, 2003, ‘Handelinge van die 48.ste sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika’, Administratiewe Buro, Potchefstroom.

Gillingham, S.E., 1998, One Bible, many voices: Different approaches to biblical studies, Eerdmans, Grand Rapids.

GKSA, kyk Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika.

Goldingay, J., 1995, Models for interpretation of Scripture, Eerdmans, Grand Rapids.

Gros Louis, K.R.R., 1982, Literary interpretations of biblical narratives, vol. 2, Abingdon, Nashville.

Hayes, J.H. & Holladay, C.R., 2007, Biblical exegesis: A beginner’s handbook. 3rd edn., Westminster John Knox, Louisville.

Jasper, D., 1998, ‘Literary readings of the Bible’, in J. Barton (ed.), The Cambridge companion to biblical interpretation, pp. 21–34, Cambridge University Press, Cambridge.

Jordaan, G.J.C., 1991, Skrifbeskouing: Deurslaggewende faktor by Skrifverklaring, PU vir CHO, Potchefstroom.

Jordaan, G.J.C., 2004, ‘Gereformeerde Teologie in die spervuur tussen fundamentalisme en anti-fundamentalisme’, Acta Theologica Supplementum 5, 250–269.

Kaiser, W.C., 2003, Preaching and teaching from the Old Testament: A guide for the church, Baker Academic, Grand Rapids.

Krüger, A.J., 2006, ‘Skrifkritiek, fundamentalisme en grammaties-historiese eksegese’, Die Kerkblad 109(3192), 29–31.

Le Roux, J.H., 1993, A story of two ways: Thirty years of Old Testament scholarship in South Africa, Verba Vitae, Pretoria.

Loader, J.A., 1988, ‘Die waarheid is eties’: Oor die Skrifbeskouing van die etiese teologie’, In die Skriflig 22(86), 42–55.

Lombaard, C.J.S., 2006, ‘Teks en mens: J H le Roux se “Lees van die Bybel binne die konteks van hoofstroom-eksegese in Suid-Afrika”’, Old Testament Essays 19(3), 912–925.

Pontifical Biblical Commission, 1994, The interpretation of the Bible in the church, viewed 14 September 2015, from http://www.catholic-resources.org/ChurchDocs/PBC_Interp.htm

Ratzinger, J., 1988, Biblical interpretation in crisis: The 1988 Erasmus Lecture, viewed 14 September 2015, from http://www.firstthings.com/web-exclusives/2008/04/biblical-interpretation-in-cri

Reid, G., 1908, ‘Biblical criticism (higher)’, in The Catholic Encyclopedia, viewed 14 September 2015, from http://www.newadvent.org/cathen/04491c.htm

Roukema, R., 2005, ‘Schriftkritiek’, in G. Harinck (red.), Christelijke Encyclopedie, vol. 3, p. 1617, Kok, Kampen.

Snyman, G.F., 1992, ‘Kenteoretiese besinning oor teologiebeoefening aan die Teologiese Skool van Potchefstroom die afgelope twintig jaar’, In die Skriflig 26(2), 247–266.

Thiselton, A.C., 1992, New horizons in hermeneutics: The theory and practice of transforming biblical reading, Zondervan, Grand Rapids.

Trible, P., 1996, Rhetorical criticism: Context, method and the book of Jonah, Fortress, Minneapolis.

Van der Walt, B.J., 2009, ‘Die voor- en nadele van die histories- en literêre kritiese hermeneutiek: Hoe om die Bybel te lees dat God met jou praat’, Tydskrif vir Christelike Wetenskap 45(4), 95–120.

Van Deventer, H.J.M., 2005, ‘Why minds are changed: An inquiry into the decisions by the Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) on the role of women in the church’, Koers 70(4), 685–704.

Van Rooy, H.F., 1981, ‘Historiese kritiek en die Ou Testament’, Koers 46(2), 113–123.

Van Rooy, H.F., 2011, ‘A short history of early Hebrew: Cases, articles alphabets and some early texts’, Journal for Semitics 20(1), 1–17.

Van Wyk, J.H., 2002, ‘Fundamentalisme en kritisisme: Nadenke oor Skrifbeskouing en Skrifverklaring – van Augustinus tot Bultmann’, In die Skriflig 36(4), 593–620.

Vergeer, W.C., 1993, ‘Teologie en kenteorie: ’n Reaksie op die artikels van Gerrie Snyman’, In die Skriflig 27(4), 563–582.

Verster, P., 2009, ‘Skrifberoep en die hantering daarvan in sending’, In die Skriflig 43(4), 793–815.

Vorster, J.M., 1995, ‘Vernuwing in die prediking in die lig van hedendaagse lewensbeskoulike tendense?’’, In die Skriflig 29(3), 443–466.

Vorster, J.M., 2008, The challenge of contemporary religious fundamentalism, Unisa, Pretoria.

Vorster, J.N., 1988, ‘The use of Scripture in fundamenatlism’, in J. Mouton, A.G. van Aarde & W.S. Vorster (eds.), Paradigms and progress in theology, pp. 155–175, HSRC, Pretoria.

Vorster, N., 2004, ‘Op soek na ’n weg uit fundamentalisme, rasionalisme en relatiwisme’, In die Skriflig 38(4), 593–621.

Vorster, N., 2005, ‘Voortgesette gesprek oor fundamentalisme’, Die Kerkblad 107(3171), 31–32.

Vorster, W.S., 1998, ‘Towards a post-critical paradigm: Progress in New Testament scholarship?’, in J. Mouton, A.G. van Aarde & W.S. Vorster (eds.), Paradigms and progress in theology, pp. 31–48, HSRC, Pretoria.

Footnotes

1. Hierdie tweeledige karakter van Skrifkritiek word ook deur Brettler et al. (2012:195) onderskryf wanneer hulle in ’n glossarium die volgende ten opsigte van biblical criticism opmerk: ‘The scholarly process of establishing the original, contextual meaning of biblical texts and of assessing their historical accuracy’.

2. Die outeur het van Totius se versamelde werke gebruik gemaak vir hierdie gegewens en verwysings is na hierdie bron. Hierdie artikels is onder andere ‘Geskiedskrywing in die Ou Testament’, ‘Die nuwe opvattinge omtrent die Bybel’ en ‘Die wonders van die Ou Testament’.

3. ’n Ander geval waar Afrikaans vir ’n eiesoortige term in onderskeid van Engels gekies het, is die gebruik van ‘Heilige Skrif’ waar Engels ‘Holy Bible’ het. Alhoewel ‘Holy Scripture’ nie in Engels onbekend is nie, word in Afrikaans feitlik nooit van die ‘Heilige Bybel’ gepraat nie, maar eerder net van die ‘Bybel’.

4. Kyk byvoorbeeld Roukema (2005) se definisie van skrifkritiek: Term die, vaak met een ongunstige betekenis, wordt gebruikt als aanduiding van de methoden van de historisch-kritische en literair-kritische bijbeluitleg die sinds de negentiende eeuw zijn ontwikkeld … ‘Kritiek’ is hier echter niet ongunstig bedoeld maar betekent ‘analyse’(p. 1617). Loader (1988:51) wys daarop dat aan die begin van die twintigste eeu teoloë binne die etiese rigting in veral Nederland Skrifkritiek juis nie as ‘kritiek op God … en daarom oneerbiedig nie’ sien.

5. Dit sou interessant wees om te weet in watter taal (en alfabet) Totius meen hierdie wetgewing gegee is. Van Rooy (2011:15–16) kom op grond van ’n studie na die ontwikkeling van Noordwes Semitiese Tale tot die volgende slotsom: ‘… it is quite clear that the state of the language before the tenth century is not found in the largest part of the Hebrew of the Pentateuch, with perhaps the exception of some very early poems’ (p. 15–16).

6. Enns (2012:152, 155–156) wys op die belang daarvan om antieke literêre konvensies te verreken wanneer dit by die verstaan van sogenaamde historiese dele van die Bybel kom. Historiese kritiek het juis kennis in hierdie verband ontsluit en toegepas.

7. In hierdie konteks het die benaming nog nie die negatiewe konnotasie wat in die loop van die twintigste eeu sou posvat nie. Van Wyk (2002:602) verwys kortliks na die teologiese konteks waarbinne hierdie beweging ontwikkel het.

8. Colenso (1862) het reeds in sy werk meer as 60 jaar vantevore van hierdie metode gebruik gemaak, maar sy werk wat in London gepubliseer is, het aanvanklik nie ’n groot (of enige) impak op die Hollandse en vroeg-Afrikaanse gemeenskap in Suid Afrika gehad nie. Colenso se naam ontbreek selfs in die lys van 100 Ou-Testamentiese geleerdes wat Du Plessis (1927:312–313) as voorstanders noem van die na-Mosaïese ontstaan van die Pentateug. Le Roux (1993:106) meld in sy historiese oorsig dat Colenso se werk saam met hom gesterf het.

9. Totius (Du Toit 1977:42–43) het egter probleme met hierdie verstaan van die term en merk die volgende op: ‘’n Tyd gelede het ons gelees dat van geleerde kant beweer is dat elke teoloog, ja elke teologiese student aan Skrifkritiek [mee]doen’ (beklemtoning oorspronklik). Volgens hom is hierdie stelling genoeg om ‘die leek … heeltemal uit die veld te slaan’.

10. Voorbeelde uit die kerklike konteks wat hierdie stelling ondersteun, sluit wat die GKSA betref, onder andere in die besware teen stemreg van vroue, besware teen die gebruik van kelkies tydens Nagmaal, en besware teen vroue in die ampte.

11. Die Deuteronomistiese korrektief op die optimisme van die Sionsteologie is ’n voorbeeld, of die inklusiewe uitkyk van boeke soos Rut en Jona as teenpool vir ’n eksklusiewe gedagtegang in Esra-Nehemia.

12. Hierdie kritiek is teen sekere eksponente van die historiese-kritiese benadering gerig, maar die punt is ewe geldig vir ’n ‘akademiese dogma’ wat bloot kerklike dogma in stand wil hou, sonder om binne die ruimte van ’n akademiese konteks inklusief ander metodes as gelyke gespreksgenote ook staanplek te bied.

13. Die groot aantal werke van Ou-Testamentici soos Goldingay, Barton en Brueggemann bied voldoende bewys hiervan. Van Rooy (1981) het meer as 30 jaar gelede ook aangetoon hoe die gebruik van histories-kritiese metodes (oftewel Skrifkritiek) ‘met vrug gebruik kan word … om die boodskap [van die boek Esegiël] duidelik te laat spreek, ook vir vandag’ (bl. 122).

14. ’n Omskrywing van die verskillende historiese en literêre benaderings tot die teks val buite die skopus van hierdie artikel. Vir ’n baie oorsigtelike inleiding in hierdie verband word na Gillingham (1998) verwys. Hayes en Holladay (2007) bied ’n meer diepgaande en teoretiese bespreking van verskillende metodes, terwyl Dell en Joyce (2013) op voorbeelde van die toepassing van hierdie metodes, asook evaluasies daarvan fokus.

15. In hierdie artikel word literêre kritiek spesifiek aan benaderings gekoppel wat nie ruimte vir historiese oorwegings tydens die interpretasieproses laat nie. Verdere voorbeeldevan hierdie benadering sluit die versamelwerk onder redaksie van Gros Louis (1982) in asook Trible (1996) se interpretasie van die boek Jona. Barton (1996:20–29) bespreek in meer besonderhede die verwarrende terminologie wat in die Bybelwetenskappe ontstaan het met die opkoms van literêre kritiek in die Literatuurwetenskap. In die Literatuurwetenskap het die term literêre kritiek op studie gedui wat slegs op die teks as artefak fokus, sonder inagneming van die historiese konteks van die ontstaan, terwyl die benaming in die Bybelwetenskappe aanvanklik slegs vir historiese studie (veral bronkritiek) gebruik is soos hierbo reeds opgemerk is. Kyk ook Barton (1988) se gebalanseerde resensie van Alter en Kermode se werk.

16. Hier word na die klassieke bronhipotese verwys; tans sou die benaming nie-P-materiaal eerder gebruik word.

17. Uit eie geledere is hierdie spieël reeds opgehou soos onder andere blyk uit die werke van Van Wyk (2002:605–606) en Vorster (2008). Alhoewel Van Wyk (2002:605) na teoloë uit hierdie konteks verwys wat fundamentalisme afwys, meld hy dat dit tog ’n ope vraag is of fundamentalisme nie tiperend van teologiese denke binne die GKSA is nie. Juis om hierdie rede is dit nodig om wyer as hierdie tradisie na ’n definiëring van die begrip te kyk.

18. In hierdie artikel verwys gereformeerde na ’n meer algemene benadering wat uit die Reformasie voortvloei, terwyl Gereformeerd ’n bepaalde aktualisering daarvan binne ’n meer besondere kerklike tradisie verteenwoordig.

19. Vorster (1988:169–172) het trouens op grond van gedeelde filosofiese uitgangspunte ’n duidelike verband tussen grammaties-historiese eksegese en fundamentalisme aangetoon.

20. Dit is onduidelik wie hierdie groepering is. Indien die uitgebreide aanhaling hierbo korrek is, naamlik dat fundamentalisme enige vorm van kritiese navorsing (wat per definisie veronderstel is om aan ’n universiteit beoefen te word nie) afwys, dan beweeg selfs Vorster ná daaraan om as sodanig getipeer te word.

21. Dalk sou dit as ’n onkritiese omgang met die eie vooronderstellings kon voorkom (kyk Vorster 2005:31).

22. Vergeer (1993:576–581) se poging om iets van hierdie filosofiese onderbou te verwoord, toon gebrek aan akademiese begronding; geen akademiese bron word aangehaal om sy voorstel te ondersteun nie. Indien daarvoor gekies word om teologie aan ’n universiteit te beoefen (daar is ook ander moontlikhede) dan is ’n voorvereiste dat standpunte akademies-begrond moet word.

23. So stel Verster (2009:798) Skrifkritiek teenoor die letterlike opneem van die Skrif.

24. Van der Walt (2009:111–112) kom in sy kritiese bespreking van die historiese en literêre benaderings ook nie weg van die veronderstelling dat ’n antieke teks vir moderne lesers ‘direk toeganklik’ is en ‘letterlik’ verstaan behoort te word nie. Enersyds word die afstand tussen die tyd van die teks en die moderne konteks van die leser feitlik geïgnoreer, terwyl andersyds ’n subjektiewe siening van die teks as ‘eenheid’ gepostuleer word as kriterium vir die lees van die Bybel. Juis sodanige ongetoetste dogmatiese vooronderstellings lê die toepassing van moderne interpretasiemetodes aan bande wat op hulle beurt hierdie vorm van subjektiwiteit kan blootlê (soos Barton 1998:18 tereg opmerk).

25. NGB art. 5 gee die grondslag hiervoor wanneer vermeld word: ‘En ons glo sonder enige twyfel alles wat daarin [d.i. die Heilige Skrif] vervat is ‘ (beklemtoning – HJMvD).

26. Die argument dat die belydenis verander kan word indien dit strydig met die Bybel is, is slegs ’n teoretiese moontlikheid aangesien die belydenis in praktyk ’n hoër posisie as die Skrif inneem, omdat dit juis die norm vir ortodokse Skrifverstaan word. Op onreformatoriese wyse word aan die dogma meer gesag as aan die Bybel toegedig. Trouens, indien hierdie argumentasielyn korrek is, kom so ’n standpunt naby aan ’n kerk wat ‘aan homself en sy besluit meer mag en gesag toe[skryf] as aan die Woord van God’ (NGB art. 29).

27. Die beste getuienis vir hierdie studie is in rapporte vervat wat oor ekumeniese bande en besluite rakende die vrou in die amp handel.

28. Krüger (2006:29) kan daarom in ’n populêre publikasie Skrifkritiek en relativisme as sinonieme voorhou.

29. Elders is hierdie konklusie juis met betrekking tot die saak van die vrou in die amp in besonderhede uitgewerk (vgl. Van Deventer 2005).

30. Hier kan ’n akademies-begronde stel kriteria moontlik ontwerp word sodat die presiese omvang van die begrip in hierdie konteks duidelik kan wees.

31. Ek dra graag hierdie bydrae op aan ’n kollega en vriend, J.J. (Fika) Janse van Rensburg, wat ’n baie groot rol in die begin van my akademiese loopbaan gespeel het toe hy my vir die destydse Departement Bybelkunde van die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys gewerf het. Ek het vroeg ’n belangstelling in metodologiese kwessies rakende die verstaan van die Bybel ontwikkel. Soos die geval binne ’n akademiese konteks behoort te wees, word ’n mens die vryheid gegee om jou idees verder te ontwikkel en in die proses nuwe insigte te ontdek. Hierdie bydrae raak aan sake waaroor ek en Fika verskil, maar wat ons binne ’n akademiese konteks gemoedelik kan debatteer.


 

Crossref Citations

1. DIE GEREFORMEERDE KERKE IN SUID-AFRIKA EN “VROUE IN DIE AMP” 1994-2016
Jacobus Marthinus Vorster
Studia Historiae Ecclesiasticae  vol: 42  issue: 3  first page: 33  year: 2016  
doi: 10.25159/2412-4265/1279