About the Author(s)


Piet J. Strauss Email
Faculty of Theology, University of the Free State, South Africa

Citation


Strauss, P.J., 2017, ‘’n Kerkorde in gereformeerde kerke toegepas op die Nederduitse Gereformeerde Kerkorde van 2013’, In die Skriflig 51(1), a2215. https://doi.org/10.4102/ids.v51i1.2215

Original Research

’n Kerkorde in gereformeerde kerke toegepas op die Nederduitse Gereformeerde Kerkorde van 2013

Piet J. Strauss

Received: 01 Nov. 2016; Accepted: 09 Feb. 2017; Published: 28 Apr. 2017

Copyright: © 2017. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

Church order in reformed churches applied to the church order of Dutch Reformed Church of 2013. 1 Corinthians 14:40 with its call for the affairs of the church to be transacted ‘decently and in order’ as well as a general need in churches for stipulations in this regard, form the backbone of the need for church orders. Proper, acceptable church orders are, therefore, focused on the practices of the church: the offices, assemblies, church services, discipline, relations, and other affairs of the church.

In order to be channels for the free flow of, and obedience to the authority and content of the Word of God in church, implementing the church order should not be an aim in itself. The order of a church cannot be a strict law that should be literally applied in church affairs.

A church order should serve the church in its calling to be a church of the Word of God.

Inleiding

Hoewel daar uit meer as een benadering in kerklike kringe besware teen die nut van ’n kerkorde is, word die voorkoms hiervan in gereformeerde kerke nie op ’n amptelike vlak of in die vergaderings wat daaroor die finale besluite moet neem, bevraagteken nie (vgl. Engelhard & Hofman 2001; Nederduitse Gereformeerde Kerkorde [NGKO] 2013; Visser 1999).

Ten minste drie besware teen die blote bestaan van ’n kerkorde kan tans uitgewys word.

Die eerste beswaar kom uit ’n spiritualistiese, neo-pentakostalistiese hoek waarin die werk van die Heilige Gees in die gelowiges as verhewe bo die ‘banale kreatuurlikheid’ van kerklike strukture, ordereëls en vasgelegde ampte beskou word. Hierdie houding vind in die Neo-Pentakostalisme van die laat twintigste, vroeg een-en-twintigste eeue gedrewe ondersteuners (Strauss 2010:28; Trimp 1988:237). Die tweede beswaar kom uit ’n relativerende Postmodernisme wat hom teen die binding van die bepalings van kerkordes en die besluite van sinodes rig. Die derde beswaar spruit uit ’n modernistiese mensgesentreerde individualisme waarin belydende lidmate, waaronder dominees, hulle ‘vryheid’1 van spraak en optrede (Koffeman 2009:329–330) in die kerk oorspeel.

Teenoor bogenoemde besware wil hierdie artikel – vanuit ’n positiewe houding teenoor die verskynsel van ’n kerkorde – die volgende vrae ondersoek: Waarom is daar kerkordes in gereformeerde kerke? Aan watter vereistes moet so ’n kerkorde voldoen? Wat is die doel (aard) van ’n normgedrewe of gereformeerde kerkorde? Hierdie vrae sal in die loop van die artikel aandag kry.

Die ondersoek word tot gereformeerde kerke in die algemeen beperk en op die Nederduitse Gereformeerdee Kerk (NGK) toegepas – die NGK se kerkorde word met voorbeelde aan ’n gevallestudie onderwerp. Die NGK beskou sigself immers as ’n gereformeerde kerk. Hierdie houding is deur die relevante besluite van sy Algemene Sinode wat hieroor kan besluit, in 2007 bevestig (NGK 2007:13–17).

Waarom ’n kerkorde?

1 Korintiërs 14:40

Nauta (1971:8) wys daarop dat die kerk van Christus reeds in die tyd van die apostels ’n behoefte aan ‘een regeling levendig en dringend heeft gevoeld’. Die neerslag hiervan word onder meer in 1 Korintiërs 14 rondom die samekoms van die gemeente aangetref. In die eerste eeue van die kerk se bestaan, die eeue na die eerste koms van Christus na die wêreld, het konsilies ook uitsprake gedoen en bepalings opgestel wat as canones bekend gestaan het. Hieruit het die sogenaamde kanonieke reg van die Rooms Katolieke Kerk ontwikkel.

Die kerke van die sestiende-eeuse Reformasie kon nie sonder ’n ‘nadere regeling’ funksioneer nie. In die lig van die oortuiging dat die Reformasie kerklik omvattend en samelewingsgerig moes wees, het die Hervormers hulle eie kerkordes opgestel. In die Gereformeerde Protestantisme was die Ordonnances Ecclésiastiques van 1541 van Calvyn in Genévè en die Discipline Ecclésiastique van die Franse Gereformeerde Kerk van 1559 (Pont 1981:21, 48) in Parys ‘grondleggend’. Hierdie twee ordes het binne en buite hierdie gebiede in hulle geheel of gedeeltelik, as voorbeeld gedien.

Die NGKO 1962, soos opgestel deur die eerste Algemene Sinode van hierdie kerk in 1962, wou die Dordtse Kerkorde van 1619 (DKO 1619) wees, net aangepas by die eise van die dag (Strauss 2008:274–285; Vorster 1960:13). Dit is die rede waarom dit as historiese voorlopers die kerkordelike besluite van die sinodes van die Nederlandse Gereformeerde Kerk in die sestiende en sewentiende eeue gedien het. Reeds by die Konvent van Wezel in 1568 is daar in die lig van 1 Korintiërs 14:40 besluit op enkele ‘hoofdstukken en artikelen’ wat vir die diens van hierdie Nederlandse kerk noodsaaklik en nuttig is. Hierdie besluite is nie in ’n afsonderlike kerkorde opgeneem nie, maar was deel van die acta of handelinge van die betrokke konvent of sinode. Dit was eers die Sinode van Middelburg (1581) wat die bepalings uit die acta geneem en in ’n eie Corpus Discipline of Kerckenordeninghe opgeneem het (Nauta 1971:8, 9). Van hierdie kerkorde, wat by opeenvolgende sinodes gewysig is, was die DKO van 1619 die kulminasiepunt of finale uitgawe (Pont 1981:19–188; Rutgers 1971).

Nauta (1971:9) toon aan dat die begrip kerkorde met die aard van die kerk as ’n Skrifgebonde geloofsgemeenskap rekening hou en van wette en reglemente as dwingende, detailgerigte mensgemaakte beperkings onderskei moet word. As ’n Skrifgebonde geloofsgemeenskap werk die kerk deur die oortuiging van die gelowiges met Skrifgebonde besluite waaragter die gesag van die Bybel staan (Jonker 1965:6) en nie met dwang of manipulering nie. Die gehoorsaming van hierdie gesag spruit uit die houvas van bybelse waarhede op die hart van mense. ’n Houvas wat, tipies Calvyns deur die Woord en Gees van God bewerk word (Strauss 2010:156). Hierdie houvas moet nie deur mensgeoriënteerde bepalings en onbybelse detail belemmer of ontspoor word nie. So iets neig tot ’n onkerklike formalisme wat die deurwerking en gehoorsaamheid aan die Woord in die hart en lewe van mense strem (Bouwman 1985:327).

Uit hierdie kort oorsig van die historiese ontwikkeling van kerkordes blyk dat 1 Korintiërs 14:40 ’n belangrike begronding by gereformeerdes vir die bestaan van ’n kerkorde is. Dit is opmerklik dat Calvyn as die vader van die gereformeerde Protestantisme ook ’n normatiewe funksie aan die vers toeken. Vir Calvyn beteken ’n gesonde ordereëling vir die kerk ’n sorg vir die stigting en ‘welstand’ daarvan. Hy koppel dit aan 1 Korintiërs 14:40 waarvolgens hy meen ‘alle (kerklike) dinge eerlijk en met orde’ moet plaasvind. Vir hom is hierdie teks wat op die erediens afgestem is, ’n aanduiding vir die noodsaak van orde vir alle kerklike dienswerk. Calvyn noem Skrifgebonde ordereëls of kerklike ‘wetten’ die ‘zenuwen’ van die kerk. Daarsonder raak die kerk ‘geheel misvormd en verstrooid’. ‘Wetten’ wat nie vir ons saligheid noodsaaklik is, of tot die wese van die godsdiens behoort nie (Sizoo s.a.:229).

Nauta (1971:10, 11) ondersteun Calvyn wat van 1 Korintiërs 4:40 ‘een regel’ maak waaraan alle ‘uitwendige’ werk van die kerk gemeet moet word. Volgens hom het die Here aan die kerk die vryheid gegee om op sy eie manier sy uiterlike regering en seremonies binne die raamwerk van die Skrif te hanteer (vgl ook Sizoo s.a.:229). Terselfdertyd trek Nauta vir Calvyn by as laasgenoemde hom sterk teen die ‘geestdrijvers’ van sy tyd uitlaat wat ontken dat die kerk, soos enige gemeenskap waarby mense betrokke is, sonder ’n vorm van organisasie kan funksioneer en verhewe is bo ‘aardse’ verhoudings (Nauta 1971:11, 14).

Prinsipieel en geestelik is hierdie geesdrywers voorlopers van die huidige Neo-Pentakostalisme.

Dat 1 Korintiërs 14:40 by gereformeerdes as ’n locus classicus vir ’n kerkorde funksioneer, blyk ook uit ander oorde as Calvyn, die Konvent van Wesel en Nauta. Van der Linde (1983:7) stel dit prontuit dat daar by die vasstelling van die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) van 1 Korintiërs 14:40 uitgegaan is. Hy gebruik die Afrikaanse vertaling van 1953 vir die vers: ‘laat alles ordelik en welvoeglik toegaan’. Ook oordeel hy dat hierdie ‘ordelik’ en ‘welvoeglik’ op ‘alles’ van die kerk van toepassing is. So iets kan verseker dat die kerk ‘alles … onderhou wat Christus hulle beveel het’. Kruger et al. (1965:11) verwys na 1 Korintiërs 14:40 as ’n omvattende Skrifbevel: die hele kerklike lewe moet Skriftuurlik en ordelik wees. Een van die bekendste werke in Gereformeerde Kerkreg in Afrikaans is dié van Coertzen (1991) met die titel, Gepas en ordelik. Hierdie titel het hy direk aan die vertaling van 1 Korintiërs 14:40 in die Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (NAV) van 1983 ontleen (NG Kerk-Uitgewers 1982:290).

Teen hierdie agtergrond is dit opmerklik dat die enigste Bybelteks wat in NGKO 2013 aangehaal word, 1 Korintiërs 14:40 is (NGKO 2013 1). Hierdie aanhaling spruit uit ’n stukkie teksgeskiedenis.

Dit is bekend dat die Kerkorde van die NGK van 1962 (NGKO 1962) die Kerkorde van die Gereformeerde Kerke in Nederland van 1959 (GKN-KO 1959) as voorbeeld gebruik en hersien het met die oog op die situasie in die NGK. GKN-KO 1959 wou uitdruklik die DKO by die eise van die dag aanpas. Op sy beurt wou die NGK in 1962 verseker dat hyself die Dordtse lyn handhaaf en eietyds is (Strauss 2008:274–285).

1 Korintiërs 14:40 word juis in artikel 1.1 van GKN-KO 1959 gebruik. Hierin word verklaar dat ‘in de gemeente van Christus alles betamelijk en in goede orde behoort te geschieden’. GKN-KO 1959 gee daarom ’n ‘aantal regelen … voor het leven en werken van de kerk’ sodat sy haar roeping volgens die Heilige Skrif en die Gereformeerde Belydenis kan vervul (Nauta 1971:43). GKN-KO 1959 handhaaf dus die tradisie deur 1 Korintiërs 14:40 op die hele lewe van die GKN van toepassing te maak. As uitvloeisel hiervan volstaan GKN-KO 1959 met dit wat Nauta – een van sy opstellers – die ‘nadere regelen’ van ’n kerkorde noem.

Dit laat ’n mens met die vraag: Oor watter sake moet hierdie ‘nadere regelen’ handel? Watter kerklike sake maak ’n kerkorde noodsaaklik?

Sake vir ’n kerkorde

Bouwman wat ’n sterk voorstander van ’n skriftuurlike kerkorde met die oog op die behoeftes van die tyd en omstandighede is, meen dat die algemene reëlings of ‘hoofdbeginselen’ van kerkregering in die Nuwe Testament gegee word. Die sake of onderwerpe waaroor ’n kerkorde moet handel word volgens hom in die Bybel aangedui.

Vir Bouwman benodig die kerk bedienaars van die Woord wat hierdie Woord in die kerk en die wêreld indra, herders en regeerders wat die kudde van die Here regeer en voed en diakens wat die armes versorg. Hoeveel van hierdie dienste (ampte)2 in ’n gemeente(s) moet wees, hoe en vir hoe lank hulle verkies of aangewys word, word egter aan die behoefte van die kerk in ’n sekere tyd oorgelaat. Die praktyk hiervan moet egter Skrifverantwoord wees. Dieselfde vereistes geld vir die bediening van die Woord. Hoe hierdie bediening ingerig word, hoe lank dit duur en hoeveel keer en hoe laat ’n gemeente op Sondag byeenkom, ‘hangt saam’ met die tye en omstandighede van die gemeente. Bepalings hiervoor word met die oog op die goeie orde en welsyn van die kerk gemaak (Bouwman 1985:325).

Steeds op die gereformeerde lyn betoog Jansen (1952;10, 11) dat ’n kerkorde vyf elemente (rubrieke) moet bevat vir die goeie orde van die kerk: die dienste of ampte, kerkvergaderings, seremonies en ander dienste of bedienings waaronder die sakramente en toesig oor die leer, die kerklike tug en die ‘stoffelijke’ sake van die kerk. Deur hulle herhaalde gebruik word sekere reëlings mettertyd gewoontes en in ’n ‘welomschreven ordening’ opgeneem. Met die weglating van die stoflike sake sluit Spoelstra (1989:25) hierby aan.

Nauta (1971:13, 14) glo ook dat ’n kerkorde alleen algemene en duursame bepalings (‘hoofdzaken’) moet bevat. Op die spoor van Calvyn bepleit hy bepalings wat afgestem is op die tyd en plek van geleenthede om die Woord en die sakramente te bedien, die tug uit te oefen en ‘dergelijke’. Hierdie bepalings moet verwarring, weerspannigheid, woelinge en twiste teengaan en op rites en seremonies, tug en vrede betrek word. Volgens Nauta moet ’n kerkorde op die goeie verloop van sake en die Skrifgetroue regering van die kerk mik. ’n Kerkorde is niks meer as ’n hulpmiddel nie. Dit moet die kerk help om sy roeping te vervul, in gehoorsaamheid aan die Woord te lewe en alles tot eer van God te doen. ’n Kerkorde is ’n hulpmiddel waardeur die regering van Christus in sy kerk deur sy Woord en Gees tot sy reg kom en alles bestry word wat dit mag belemmer.

Vereistes vir ’n kerkorde

Indien ’n kerkorde ’n hulpmiddel is wat die Christusregering in die kerk wil verseker, beteken dit dat ’n kerkorde slegs dienende kanale of reëlings kan wees waardeur die gesag en inhoud van die Skrif die kerklike lewe invloei en bepaal (Strauss 2010:15). Hierdie kanale moet die vloei van die Woord in elke faset van die kerklike lewe steun en ’n ordening wees om die gesag of regering van die Woord te verseker. Daarom dat Plomp (1992:38–40) van die kerkreg, en by implikasie ook die kerkordes, as ’n dienende reg of dienende ordes praat.

Om hierdie vloei te bevorder, moet ’n kerkorde nie te min bepalings vir effek bevat of niksseggend wees nie (Nauta 1971:12). Waar die belydenisskrifte van gereformeerde kerke normatief ‘een korte samenvatting (moet wees) van wat de Heilige Schrift omtrent de hoofdwaarheden leert’, moet ’n kerkorde in diens van die Woord en die belydenis ingestel wees op die goeie orde en welsyn van die kerk (Bouwman 1985:325–326). In sy bepalings vir die dienste of ampte, kerkvergaderings, die arbeid of diens en tug van die kerk, moet die kerkorde dinge sodanig reël dat in die kerk se hantering van die Woord, die Woord altyd die finale woord het.

’n Kerkorde wat met te min bepalings die finale seggenskrag van die Woord in die kerk negeer, is nie ’n funksionele kerkorde nie. Daarom dat ’n gereformeerde kerkorde byvoorbeeld die amptelik erkende Woordbediening van behoorlik opgeleide ampsdraers beskerm en bevorder. Maatreëls in hierdie verband kom voor in artikel 48 van die NGKO 2013, wat kansels probeer vrywaar van nie-behoorlik-opgeleide ‘woordvoerders’ van die Woord en reëlings gee om ’n gereformeerde verstaan van die evangelie te verseker (NGKO 2013:12). Waar hierdie bepalings ontbreek, ontstaan die verwarring, woelinge en twiste waarna Nauta verwys. Die NGKO 2013 se bepalings dat die sakramente alleen in ’n amptelike erkende erediens onder toesig van die ampte en amptelik bedien kan word, is ’n poging om hierdie bediening suiwer en Skriftuurlik te laat vloei (NGKO 2013:13, 14). Die groot vraag is natuurlik nie in die eerste plek of die NGKO 2013 eerbiedig word nie, maar of die gesag van die Woord erken en gehandhaaf word. NGKO 2013 wil alleen in diens daarvan wees. Die verontagsaming van ’n kerkorde is ’n verontagsaming van die besluite van die betrokke – met Christusgesagbeklede – meerdere vergadering en as sodanig onbybels en ’n verontagsaming van die vyfde gebod.

So gesien is die gesag, aanvaarding en toepassing van ’n kerkorde in ’n gereformeerde kerk nie ’n dwingende en absolute wet wat ten alle koste uitgevoer moet word nie, maar ’n ordemaatreël wat die heerskappy van die Woord wil verseker. Indien die gehoorsaming van die kerkorde ’n doel op sigself word, of ten koste van die heerskappy van die Woord in die betrokke situasie eerbiedig word, moet die betrokke kerk ruimte skep om dit te verhoed.

Terselfdertyd toon hierdie onderskeid die verskil tussen die kerkorde en die belydenis van ’n kerk aan. Waar eersgenoemde prakties-gerigte ordemaatreëls moet bevat wat in nuwe, dwingende omstandighede gewysig, gerojeer of opgeskort kan word, handel laasgenoemde oor die hoof- of kernwaarhede van die Christelike geloof waarin dit (soos die kerkorde) aan die Bybel ondergeskik is, maar (anders as die kerkorde) uit die hart van die gelowige as altyd-geldende waarhede bely word.3 Anders as kerkordebepalings moet ’n belydeniswaarheid nie tydelik gerojeer of telkens gewysig kan word nie. Dit is immers ’n grondwaarheid in ons verhouding tot God wat uit die hart bely word en as waarheid sy eie tyd moet oorstyg. Hierdie is ’n grondwaarheid wat beslissend vir ’n durende (permanente) verhouding met die Here God is. Dit is nie ’n praktiese ordemaatreël wat by ’n volgende vergadering gewysig kan word nie (Strauss 2010:15, 16). As ’n uitdrukking van die grondwaarhede van die Christelike geloof is belydenisskrifte die diepste uitdrukking van kerkeenheid en bewerk dit – as gemeenskaplike grondwaarhede of geestelike dryfkragte – die eenheid van die geloof en daarmee van die kerk. Kerkeenheid as belydeniseenheid verloor sy duursame karakter indien belydeniswaarhede op losse skroewe staan (kyk die beredenering by Strauss 2005b:562–563).4 In die NGK word persone dus lidmate van gemeentes op grond van hulle instemming – of akkoord gaan – met sy belydenisskrifte.

Teenoor die tendens van te min bepalings, staan die neiging by kerkordes om te oorreglementeer. Die neiging tot te veel detail met te veel bepalings wat gehoorsaam moet word, lei tot ’n kerklike wettisisme – ’n neiging wat kerkeenheid met ’n gedetailleerde kerklike eendersheid verwar;’n eendersheid wat in beginsel enige bevraagtekening van die bestaande kerklike praktyk ontmoedig en daarmee nuwe pogings tot reformasie blokkeer (Strauss 2010:84). Omdat ’n kerkorde mensewerk is, kan so ’n situasie die implikasies van die Woord vir die kerklike lewe verduister omdat dit op mensgemaakte bepalings fokus. Daarom dat iemand soos Nauta (1971:9) daarvoor pleit dat ’n kerkorde algemene en duursame bepalings moet bevat wat die kerk as Woordgebonde instelling anders maak as blote menslike verenigings met hulle grondwette en reglemente: duursame, weldeurdagte bepalings wat op ’n Woordgedrewe kerk ingestel is. Dit is bepalings wat as afgeleide maatreëls self Woordgebonde is en (slegs) kanale (hulpmiddels) is om die deurvloei van die Woord, en daarmee die wil van Christus in die kerk, te verseker; bepalings wat nie met te veel mensgemaakte detail die deurwerking van die detail van die Woord in die kerklike lewe belemmer nie (Bouwman 1985:327). Die begrip kanale wil juis aan ’n Woordgebonde kerklike lewe vloei gee en aantoon dat ’n kerkorde nie juridies dwingend van aard is nie (Smit 1984:86; Strauss 2010:4).

Bouwman koop hierby in wanneer hy oordeel dat ’n ‘algemeene’ kerkorde of kerkorde vir ’n kerkverband ‘weinig (moet) bepaald en omschreven’ sodat ‘formalisme’ gekeer word en ‘Gods Woord zijn beslag op de harten niet verlieze’. Volgens hom moet ’n kerkorde daartoe lei dat kerke insien dat Christus die Koning van sy kerk is en alles in die kerk moet daarom Woordgetrou wees. ’n Kerkorde moet uitgaan van die kernwaarheid dat Christusgesag Woordgesag is; dat die Bybel die Woord van God en daarom ook van sy Seun Jesus Christus is – vgl die Heidelbergse Kategismus antwoord 54 (Bouwman 1985:327).

Bouwman het dus ’n algemene kerkorde vir ’n kerkverband of ’n sinodale verband van gemeentes in die oog. ’n Orde waarbinne mindere vergaderings soos partsinodes, klasses of ringe en kerkrade hulle eie reëlings kan tref. In die toepassing op die NGK word hierop teruggekom.

Belydenis of kerkorde akkoord van die kerklike gemeenskap?

Dit gebeur soms in Suid-Afrikaanse howe dat die kerk gemeenregtelik as ’n vrywillige vereniging (Sadler 1979:176–177) beskou word, met die kerkorde sy kontrak of ooreenkoms van lidmaatskap. Op grond hiervan word die kerkorde as die dokument beskou wat die regte van lidmate omskryf en verskans (Strauss 2010:16). Kerkordes wat in Suid-Afrika onder die Grondwet van 1996 op kerklike terrein die rol moet vervul wat die Handves van Regte in hoofstuk 2 van hierdie grondwet vervul – ’n handves wat grondleggend vir die staat en staatsorgane (waaronder die howe) se hantering van die reg in die land moet wees (Constitutional Assembly 1997:5–17).

In die kerkorde sou lidmate hiervolgens oor die voorwaardes van hulle kerklike lidmaatskap beskik. Of, kerkregtelik uitgedruk: die kerkorde is hulle akkoord of basisdokument van kerklike gemeenskap. ’n Akkoord wat hulle eenheid in die kerkorde as die geskrewe dokument uitdruk.

Hiervolgens word die kerk as ’n mensgestigde vereniging van gelykgesindes verstaan wat dieselfde van God en die Bybel glo en mekaar se regte soos vryheid van godsdiens en spraak by toetrede tot die kerk waarborg. Iewers in die agterkop van sommige voorstanders hiervan word die kerk as ’n vereniging beskou wat ook aan menseregte as ’n universele norm onderworpe is (Strauss 2010:16).

Twee sake maak hierdie standpunt uit ’n konsekwent gereformeerde hoek egter onaanvaarbaar.

Die eerste is dat die ideaal van menseregte wat uit die Verligting of Aufklarung van 1750 en daarna spruit, in sy kern mensgeoriënteerd en mensgerig is. Hierdie regte is bowendien onnodig as die bybelse gebod van naasteliefde uitgeleef word (Strauss 2010:16).

Die tweede is dat kennis en ’n aanvaarding van die kerkorde geen rol by die inskakeling van lidmate deur belydenisaflegging of die doop speel nie. Belydende lidmate word lidmate deur ’n openbare belydenis van geloof en ’n instemming met die betrokke gereformeerde kerk se belydenisskrifte. Dooplidmate word lidmate deur die sakrament van die doop wat hulle ontvang nadat hulle wettige ouers of voogde instemming met die betrokke kerk se belydenisskrifte betuig het en hulle belowe het om hierdie dopeling in die vrese Gods (van die Here) groot te maak.

Hierdie verskynsels of reëlings dui daarop dat die geloofsbelydenisse van die kerk (gemeenskaplike geloofsoortuigings) en nie die kerkorde nie, die akkoord of ooreenkoms van kerklike gemeenskap is. Dit wat lidmate tot ’n eenheid bind is – tipies van die kerk as ’n geloofsinstelling – nie ’n uitwendige, aanvaarbare konktrak nie, maar ’n innerlike, gemeenskaplike geloofsoortuiging soos uitgedruk in hulle geloofsbelydenisse. Laasgenoemde word as hartsoortuigings aan die werking van die Woord en die Gees van God toegeskryf. Dit is geloofsoortuigings waardeur die Here God die gelowiges van ongeloof, verdeeldheid, haat en onreg bevry. Hierdie oortuigings het hulle oorsprong nie in ’n mensgeskrewe statuut van menseregte nie, maar in die vrug van die werk van die Woord en die Gees van God. Die kerk is in die eksterne greep van die Woord en Gees van God in sy aanvaarding van die Bybel as sy norma normans (eerste norm), of in die verwoording van sy kerngeloofsoortuigings of belydenisskrifte (as norma normata), of op die Bybel as tweede norm en in ander besluite onder die Woord en Belydenis (as die derde norm) gebaseer. Uit hierdie waarhede, gedra deur die Gees, groei sy eenheid, opbou, uitbou en respek vir mekaar. Meer nog, hieruit kan sy selfgestelde orde as kanale vir die vloei van die Woord bybelsgetrou groei om sy ordelik-georganiseerde bestaan te verseker (Strauss 2010:16).

Dat die kerklike belydenisse dus die akkoord van die kerklike gemeenskap is, maak nie ’n kanaal vir die Woordgeoriënteerde kerkorde of die erkenning van die Christengelowige se reg op ’n menswaardige bestaan (Koffeman 2009:329–330) onnodig nie – ’n menswaardigheid waarin die beeld van God in die gelowiges herstel word. Die Woord en Gees van God werk immers herskeppend aan ’n omvattende nuwe lewe vir die gelowiges waarop hulle geregtig is omdat hulle God daarmee verheerlik – ’n reg wat deur God self aan hulle verleen word (Ef 4:20–24; Jonker 1984:52–55). Hierdie nuwe lewe is die uitvloeisel van gehoorsaamheid aan God met die hele hart. Word die kerkorde as ’n tydsgebonde orde die akkoord van kerklike gemeenskap, kan dit ontwrigtend op die duursame, stabiele aard van hulle geloofseenheid inwerk. ’n Steeds veranderende kerkorde verander immers gedurig aan die akkoord van kerkeenheid en laat so die inhoud van die saak in onsekerheid (Strauss 2010:16).

Vereistes vir ’n kerkorde toegepas op NGKO 2013

Die groter situasie

Om dit wat tans in die NGK as kerkordemaatreëls deurgaan, goed raak te vat, is ’n kort geskiedenis van sy kerkordelike ontwikkeling rondom NGKO 1962, die eerste NGKO en die voorloper van alle NGKO’s sedertdien, nodig.

Anders as in ’n ander gereformeerde kerk, staan die NGK ‘onder’ die ‘algemene’ Kerkorde van die Algemene Sinode met sy kerkorde-artikels plus die kerkordebepalings van elke streeksinode, of in NGK-terme: sinode. Laasgenoemde is in 1962 behou toe die selfstandige ‘provinsiale’ sinodes (van die ou Kaapland, Vrystaat, Natal en Transvaal) vanuit ’n federale verband (met ’n federale raad met adviserende besluite) in ’n algemene sinodale verband (met ’n algemene sinode met bindende besluite) verenig het. ’n Sinodale verband wat in 1862 met die uitspraak van die Kaapse Hooggeregshof in die Loedolff-saak verbreek is. Hierdie uitspraak het die grense van die NGK in Suid-Afrika (Kaapse NGK) tot die staatkundige grense van die destydse Kaapkolonie beperk. In die volgende 100 jaar het die NGK hierdie patroon dwarsdeur Suider-Afrika gevolg: staatkundige grense bepaal gemeente-, rings- en sinodale grense. Staatkundige grense bepaal dus kerklike grense (vgl Strauss 2016:214–216; Van der Watt 1973:15).

Na 1962 was daar twee beperkings op die kerkordebepalings van die sinodes in die NGK. Hulle bepalings moes binne die artikels van die Kerkorde van die Algemene Sinode as ’n raamwerk bly (NGKO 1960:7, art 35) en hulle moes hierdie artikels nie herhaal of dupliseer nie.

Sedertdien belemmer twee faktore in die NGK die ideale van Bouwman en Nauta vir ’n kerkorde, naamlik Bouwman se ‘weinig bepaald’ en ‘omschreven’ kerkorde wat nie oorreglementeer of in detail bepaal nie, en Nauta (1971:15) se kerkorde met ‘hoofdzaken’ of algemene, duursame bepalings. Die eerste faktor is die neiging by sinodes om in detail op die algemene artikels van die Algemene Sinode uit te brei, ‘anders ontstaan daar probleme en foute omdat kerkmense nie weet hoe nie’. Hierdie tendens het soveel bepalings en reglementerings veroorsaak dat die Sinode van die NGK in die Vrystaat in 1999 sy bepalings geskrap en met ’n beperkte aantal adviserende aantekeninge en minder gewigtige besluite (as die bepalings van ’n kerkorde) by die artikels van die Algemene Sinode vervang het (NGK in VS 1999). Die tweede faktor is onkunde oor die vereistes vir ’n kerkorde by sinodes en hulle kerkordekommissies asook ’n behoefte aan eenvormige kerkordelike denke. ’n Onkunde bestaan, in plaas daarvan dat kennis van die Kerkreg in kerkvergaderings verdiep en die vak in die opleiding van predikante meer klem kry. Kennis van ’n gesonde Kerkreg in plaas van ’n oorreglementering moet die eenvormigheid in die regering en orde van die kerk bepaal.

Op hierdie punt het Jonker by die vorming van die algemene sinodale verband in 1962 en die aanvaarding van NGKO 1962 profetiese woorde gespreek. Merkwaardig genoeg was hy op daardie stadium die jong aktuarius of kerkregkundige van die Sinode van Transvaal – ’n Sinodale figuur eie aan die NGKk wat histories uit ’n besluit van die tweede Sinode van die NGK in Suid-Afrika of Kaapse Kerk in 1826 ontwikkel het; ’n klein kerkordepousie wat soms oor die nodige kennis beskik – soms nie – en die onkerkordelike reglementerende (voorskriftelike detail) neiging in die NGK gestimuleer het (vgl Strauss 1995:421–436).

Jonker (1960) vat die doel van ’n kerkorde goed raak wanneer hy op p. 36 skryf dat NGKO 1962 soos voorgestel, die ‘hele kerklike lewe’ probeer orden ‘deur enkele groot lyne te trek waarin die kerke (samestellende sinodes en hulle gemeentes) in vryheid en verantwoordelikheid met die Bybel in die hand mag beweeg’. Met hierdie ‘enkele groot lyne’ binne die hoofstukindeling van die DKO oordeel Jonker dat die NGKO 1962 bied wat die NGK op daardie stadium kerkordelik nodig het. Sy ‘Bybel in die hand’ met die ‘enkele … lyne’ van NGKO 1962 mik op die regering van die NGK deur die Woord en Gees van sy Hoof, Jesus Christus in ’n ordelike gemeenskap.

Getrou aan die DKO wat die maak van kerkordebepalings nie aan partikuliere of streeksinodes toeken nie, sien Jonker in so ’n reëling (NGKO 1962:7, art 35) ’n houding dat NKGO 1962 as ’n kerkorde van die Algemene Sinode onvoldoende is. Artikel 35 in NGKO 1962 wat aan sinodes ruimte gee om hulle eie bepalings en reglemente op te stel (NGKO 2013:105), bedreig die vryheid in die NGK om die Woord met die ordelike kanale van NGKO 1962 as hulp, in die regering van die kerk te gebruik (Jonker 1960:35). Hierdie is ’n probleem wat uit hierdie oorreglementering van sake spruit. Die gevolg? Die Algemene Sinode verword tot ’n adviserende, koördinerende vergadering soos sy voorganger, die Federale Raad van NG Kerke. Met sy bindende besluite in ’n sinodale verband moes die Algemene Sinode juis hierdie adviserende Raad in ’n federale verband vervang. Volgens Jonker (1960:35) maak die hele kwessie ’n algemene sinode ‘kunsmatig’.

Jonker het twee gebeurtenisse sedertdien reg bewys.

Die eerste gebeurtenis is die voortdurende onrus by – onder meer – die Algemene Sinode oor die onderskeie werksterreine van die sinodes en die Algemene Sinode van die NGK. Die denke oor hierdie werksterreine skipper voortdurend tussen ’n federale en ’n sinodale verband (Strauss 2005a:293–310). Die tweede gebeurtenis hang saam met die huidige invloed van ’n Postmodernisme op die NGK. ’n Relativerende invloed waarin sinodes ’n ander koers kan of mag inslaan as die Algemene Sinode en laasgenoemde net koördineer. Voorbeelde hiervan is die beskrywingspunt van die Wes-Kaapse Sinode by die Algemene Sinode in 2011 oor die doop en hierdie Algemene Sinode se houding oor die duiwel as ’n persoon (Strauss 2015:74–75).

Dit bring ons by die inhoud van NGKO 2013 – beperk tot die artikels met betrekking tot die ampte, vergaderings en die arbeid van die NGK. Die ruimte van hierdie artikel verhinder ’n uitvoerige beoordeling van NGKO 2013.

NGKO 2013 ’n gereformeerde kerkorde?

NGKO 2013 en die ampte

NGKO 2013 hanteer die ampte van artikel 4 tot 17 (NGKO 2013:2–6).

In hierdie artikels kom daar eietydse, algemene en duursame bepalings voor. Dit is praktiesgerigte kanale wat die primaat van die Woord in die GK wil bevorder.

Artikel 4.1 konsentreer op die dienswerk van die gelowiges of kerklidmate. Volgens NGKO 2013 verrig Christus alle bybelse dienswerk in die ‘kerk en koninkryk’ deur sy Woord en Gees en deur die Woord en Gees ‘ondermeer’ deur die ampte. Duursaamheid spreek uit die saamtrek van kerklike dienswerk in die dienende, regerende Hoof van die Kerk, Jesus Christus. Christus wat deur sy Woord en Gees ‘ondermeer’ deur bybelsgefundeerde ampte soos die bedienaar van die Woord, ouderlinge en diakens asook die diens van lidmate werk. Dienswerk het alleen sin as dit die diens en gesag van die Woord bevorder. Dat Christus die regerende Hoof van sy dienende kerk is, is immers ’n altydgeldende belydenis- of kernwaarheid (Jonker 1965:6). Dieselfde geld vir die bybelse waarheid dat Hy mense in ampte of dienste gebruik. ‘Woord en Gees’ binne ‘kerk en koninkryk’ is gereformeerde peilers wat die praktyk rig en begrens. Dit omskryf die gerigtheid en doel van die kanale van ’n kerkorde in hulle breedste verband.

In artikel 4.2 sluit NGKO 2013 aan by die gereformeerde (reformatoriese) anti-hiërargiese beginsel: ‘Die drie ampte is gelykwaardig, maar word in opdrag en werk onderskei’. Geen ampsdraer mag oor ’n ander heerskappy voer nie omdat ‘Christus die enigste Hoof, Koning en Meester van sy kerk is’ (NGKO 2013:2; Strauss 1989:1–14) – ’n Beginsel wat kerkregering deur die Woord alleen, die Sola Scriptura, en daarmee deur Christus alleen, wil bevorder; ’n beginsel wat waak teen enige vorm van menseheerskappy in die kerk. By gereformeerdes is hierdie beginsel op die gelykwaardigheid van kerklike ampte, gemeentes, die verskillende kerkvergaderings en die lede van kerkvergaderings gerig (Strauss 2010:51).

Die begrippe opdrag en werk word deur die eerste NGKO (1962), aan die GKN-KO 1959 ontleen (Nauta 1971:47). Die anti-hiërargiese benadering wil die regering van Christus in sy kerk deur sy Woord en Gees verseker, omdat die gesag van Christus Woordgesag en nie hiërargiese menslike gesag is nie (Jonker 1965:6; Strauss 2010:29).

In sy geheel handhaaf NGKO 2013 algemene en duursame bepalings vir die kerklike ampte. Dit kom voor in die omskrywing van die opdrag van die bedienaar van die Woord, die ouderling en die diaken. Hulle verkiesing of beroeping, diens en diensbeëindiging word eweneens in algemene terme bepaal.

By die bedienaar fokus sy amp of dienswerk op die bediening van die Woord ‘in al sy gestaltes’. Sy bevoegdheid, benaming, beroeping, diens, versorging en emeritering of die beëindiging van sy diens is uit en uit ’n kerklike saak. NGKO 2013 beskou die bedienaars by implikasie as VDM (Verbi Divini Minister); as bedienaars van die Goddelike Woord. Die begrip fokus impliseer dat hulle meer kan doen as die bediening van die Woord, maar dat die swaartepunt hier val. Hulle ampsvervulling moet aan die geloofwaardige bediening van die Woord uitgeken kan word (NGKO 2013:4; art 9). Gekoppel aan die Hoofskap van Christus as ‘ons hoogste profeet en leraar’, ‘enigste Hoëpriester’ en ‘ewige Koning’ in die kerk gaan dit hier om die ‘Christusrepresentatie’ in die profetiese amp (vgl Heidelbergse Kategismus, vraag en antwoord 31; NGK-Uitgewers III 1982:47).

Die amp van die ouderlinge is op die leiding en regering van die gemeente gerig. Dit sluit in dat hulle onderskeidend met die Woord werk, geestelik versorg, toesighou en tug uitoefen. Anders as by die predikant waar die doen van aktiewe huisbesoek tot ’n nie-omskrewe, vae pastorale versorging afgewater is, moet die ouderlinge letterlik huisbesoek doen. Hoe kan die herders van die skape herders wees as hulle nie die skape in hulle omstandighede ken nie?6 Gekoppel aan die Hoofskap van Christus in sy kerk, gaan dit hier om die koninklike amp.

Vir NGKO 2013 fokus die amp van die diakens op ‘praktiese dienswerk’. Hierdie dienswerk sluit geestelike en materiële hulp aan ‘almal’ in nood in, leiding in die barmhartigheidsdiens van die gemeente en die insameling van fondse wat vir hierdie werk nodig is. Hier val die fokus duidelik op die priesterlike hulp van Christus aan mense in nood (NGKO 2013:6, art 15–17).

By al drie ampte kan die kerkraad die besondere ampspligte van persone binne hulle fokus nader omskryf – ’n omskrywing wat by die fokus van die betrokke amp moet aansluit. Predikante in diens van die kerkverband staan in hulle ampsvervulling onder die betrokke instansie van die kerkverband.

Die probleem van NGKO 2013 is nie sy aanduiding van die fokus van die ampte nie. Die probleem is die bykomende bewoordings wat tot onnodige detail neig en wat veronderstel of elders reeds genoegsaam aangedui word. In artikel 9.2 word byvoorbeeld bepaal dat die VDM ’n volgeling van Christus moet wees. Geld dit nie vir alle lidmate nie? Verskil hulle situasie van dié van die predikant? Hoe anders kan die kerk kerk wees? Of gaan dit hier om ’n onkerkordelike klap of naamlose skimp in die rigting van ‘ongeestelike’ predikante?

Artikel 9.3 plaas dieselfde VDM in diens van die kerk – ’n bepaling wat in die situasie en tekstuele konteks van NGKO 2013 nie ’n nuwe gedagte is nie. Net so bevat DKO 1619 geen bepaling dat die Bybel die Woord van God is of watter belydenisskrifte die ou Gereformeerde Kerk in Nederland onderskryf nie. Dieselfde Sinode het die Bybel teen daardie tyd vanselfsprekend as die objektiewe Woord van God aanvaar en was bymekaar om die Dordtse Leerreëls teen die Arminiane te formuleer: om die Dordtse Leerreëls, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus as die Skrifgetroue Drie Formuliere van Eenheid in die verwoording van hulle geloofseenheid te aanvaar (Bouwman 1985:569; Donner & Van den Hoorn s.a.:307 e.v., 320, 325). Onder hierdie omstandighede was ’n verwysing in DKO 1619 na die Skrif en ‘ons’ belydenisskrifte onnodig.

Hoe dit ook al sy, alhoewel NGKO van 1962 tot 2013 oor die kerklike ampte talle wysigings beleef het (NGKO 1964:2–4; NGKO 2013:2–6), het dit tot ’n groot mate by algemene, duursame bepalings gebly. Dit is opmerklik uit persoonlike ervaring dat daar min kerkregtelike debatte op die Algemene Sinode voorkom. Waarskynlik help hierdie toedrag van sake dat wysigings van NGKO hoofsaaklik uit die taakspan of kundiges vir die kerkorde kom. Dit beteken dat die aard van NGKO wesenlik dieselfde bly.

Die vergaderings van die kerk

NGKO 2013 hanteer die vergaderings van die NGK in artikels 18 tot 47.

Twee beginsels bepaal die verhouding van die vier vergaderings in die algemene sinodale verband van die NGK: die kerkraad, die ring, die sinode en die Algemene Sinode. Hierdie twee beginsels word ook deur NGKO 2013 op die verhouding tussen die drie besondere ampte toegepas. Die eerste is dat elke vergadering ’n aangewese, onvervreembare werksterrein het en die tweede dat elke vergadering onder normale omstandighede gelykwaardig aan die ander is. Geen vergadering mag dus oor ’n ander heers op die terrein van laasgenoemde nie. Ten opsigte van die gesag waarmee hulle optree, is die vergaderings van die kerk gelykwaardig, maar hulle word in hulle opdrag en werk onderskei (vgl. NGKO 2013, art 4.2 oor die ampte; Strauss 2010:51–56).

Hierdie anti-hierargiese benadering met ’n eie werksterrein word in NGKO 2013, artikel 20 uitgedruk. Volgens artikel 20.1 het elke vergadering na sy ‘eie aard en funksie ’n kerklike gesag deur Christus aan hulle toevertrou’. Daarby stel artikel 20.2 dat die gesag van die ring oor die kerkraad dieselfde is as die van die sinode en Algemene Sinode, elk na sy eie aard en funksie, oor ‘die kerkverband’ (NGKO 2013:7). Artikel 20.1 verwoord dus die anti-hierargiese beginsel en skep ’n duideliker uitdrukking van die gelykwaardigheid van die gesag waarmee elke vergadering deur Christus beklee word. NGKO 2013 loop hiermee direk in die spore van GKN-KO 1959. ’n Verwoording wat Nauta (1971:121–122) as ’n verryking beskou. Artikel 20.2 wat in gereformeerde kerke gebruik word om die gelykwaardigheid van kerkvergaderings uit te druk, stel dat die ‘gesag’ of ‘zeggen’ (vgl. Pont 1981:180) van die klassis oor die kerkraad dieselfde is as dié van die sinode oor die klassis, ensovoorts. Om een of ander rede word hierdie bepaling in 2011 egter gewysig. Die verhouding tussen die kerkraad en die ring word gehandhaaf, maar die gesag van die sinode en die Algemene Sinode oor die verband van die NGK word sondermeer plaasvervangend vir die verhouding van die sinode teenoor die ring en die Algemene Sinode teenoor die sinode gemaak (NGKO 2011:8). ’n Artikel wat tradisioneel op die verhoudings tussen kerkvergaderings konsentreer, het nou die kerkverband tot die regeergebied (soos in die staat?) van die sinode en Algemene Sinode verklaar – ’n gebied wat ook die kerkraad en die ring by geleentheid kan insluit. ’n Poging wat groter duidelikheid wou bring, het meer mistigheid geskep. Miskien juis omdat daar by die NGK ’n onderskatting van die wysheid van ander gereformeerdes in die saak is. Die saak is ook nie met ander gereformeerde kerke opgeneem nie.

Naas hierdie reëlings in artikels 18 tot 25, word daar twee ander belangrike beginsels vir kerkvergaderings in NGKO 2013 uitgespel. Die een is dat mindere vergaderings nie sonder goeie rede probleme na meerdere vergaderings (waarin meer gemeentes verteenwoordig is) moet verwys en so hulle eie verantwoordelikheid moet ontduik nie. Die ander beginsel is dat kerkmense met kerklike probleme die burgerlike hof eers moet nader nadat hulle alle kerklike kanale vir ’n oplossing uitgeput het (NGKO 2013:7). In ’n tyd waarin kerkvergaderings dikwels op hersiening na die burgerlike hof geneem word, ’n styl wat nie sonder meer kerklik is nie, is hierdie bepaling slegs moreel gebiedend omdat geen kerkvergadering iemand teen sy of haar wil kan dwing nie.

NGKO 2013, artikel 26 tot 47 gee die besondere samestelling en werksterrein van elke kerkvergadering aan. Soos in artikels 18 tot 26 bepaal hy hom hierin hoofsaaklik tot algemene ‘regelen’. Twee sake wat ’n reglementering van die NGK stimuleer, duik egter hierin op. Die een is die vaagheid en oorvleueling in die terrein tussen die sinode en die Algemene Sinode waarop reeds gewys is. Die ander is artikel 47 wat die Algemene Sinode (met sy taak- of steunspanne) magtig om detail reglemente vir werksaamhede op te stel (NGKO 2013:7–12). Die aanvanklike idee van die Algemene Sinode as ’n beleidsinode is daarmee nog ’n nekslag toegedien.

Die arbeid van die kerk
Erediens

Onder die arbeid van die kerk begin NGKO 2013 tereg by die erediens as die vertoonvenster van die geestelike karakter van die gemeente (Barnard 1981:459; Strauss 2010:89). Reformatories en Dordts word die erediens as ’n ontmoeting tussen God en sy gemeente beskou, onder leiding van die Woord en Gees van God deur die ampte. Dit is ’n ontmoeting waarin die Woord die agenda – weer die Sola Scriptura – bepaal.7

Soos die DKO met sy bepaling dat die predikante (as voorgangers in eredienste) en professore die belydenisskrifte van die kerk onderteken, skerm NGKO, artikel 48 op twee maniere vir die suiwer bediening van die Woord in hierdie dienste. Die kerkraad stel die ‘inrigting’ van die erediens vas aan die hand van die liturgiese grondlyne van die Algemene Sinode – grondlyne wat rekening hou met genoemde aard van die erediens en die liturg of prediker as ’n erkende, opgeleide gereformeerde. Sulke liturge moet ’n predikant van die NGK wees, of ’n ander ‘bedienaar van die Woord van gereformeerde belydenis’, of NGK teologiese studente of ouderlinge wat ’n erkende staat van gereedheid soos deur die NGKO bepaal, bereik het (NGKO 2013:12–13). ’n Interessante waarneming is dat dit vir die NGKO by die predikant van ’n kerk anders as die NGK nie om ’n evaluering van die gereformeerde gehalte van hulle kerk gaan nie, maar om hulle individuele of persoonlike ‘gereformeerde belydenis’. Hierdie beginsel bring mee dat predikers uit nie-gereformeerde kerke deur die kerkraad toegelaat kan word, solank hulle van gereformeerde belydenis is. Op dieselfde beginsel vind twee ander verskynsels wat die artikelouteur persoonlik waargeneem het tans plaas: net sekere NGK-predikante word na sekere NGK-gemeentes genooi en gemeentes van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) open hulle kansels tans ook vir (l.w.) sekere NGK-predikante. Tussenkerklike verhoudings bepaal nie meer – dit is die uitvloeisel van ‘volle’ (’n NGK-term) of ‘susterskerkbetrekkinge’ (‘n term in omloop in die GKSA) – watter persone kerkrade op hulle kansels toelaat nie (Strauss 2010:119–124). Die nuwe gebruik toon dat gereformeerde gemeentes of kerke nie noodwendig meer by die blote erkenning van proponents- en predikantsbevoegdheid deur ander gereformeerde kerke of kerkgemeenskappe as erkende ‘susterskerke’ inval nie.

Met hierdie artikel 48 handhaaf NGKO 2013 algemene, duursame bepalings.

Sakramente

By die bediening van die sakramente handhaaf NGKO 2013 steeds sy algemene, duursame bepalings. Dit gee egter wisselende standaarde by die bediening van die doop en die nagmaal as sakramente.

Oor die doop bepaal NGKO 2013, artikel 49.1 dat dit deur ’n (erkende) bedienaar van die Woord bedien word soos in artikel 48 genoem, naamlik dat hierdie bedienaar water en die goedgekeurde liturgiese formulier gebruik en dat die sakrament, behalwe by hoë uitsondering, ‘in die amptelike openbare samekoms van die gemeente bedien’ word (NGKO 2013:13). Die erediens van artikel 48 word nou ’n amptelike openbare samekoms genoem. Die betekenis van die twee begrippe kom ooreen, maar die woorde, amptelike openbare samekoms, wil na alle waarskynlikheid misbruike in byeenkomste wat nie deur die NGK erken word nie, verhoed. Volgens NGKO 2013 kan die bediening van die doop net ’n amptelike kerklike handeling wees. ’n Nie-erkende, nie-amptelike of ‘informele’ doop word nie erken nie. In teenstelling met artikel 49.2 wat oor die nagmaal handel, word daar niks vermeld van wie gedoop kan word of wie hulle kinders kan laat doop nie.

NGKO 2013 is minder omvattend in sy bepalings vir die nagmaal.

Hier word daar nie meer van die ‘erediens’ of ‘amptelike openbare samekoms’ van die gemeente as die ruimte van die bediening gepraat nie. Die nagmaal word eenvoudig ‘ten minste’ vier keer per jaar ‘in elke gemeente’ gevier. Die ten minste vier keer is ’n ou NGK-gebruik, maar ‘in elke gemeente’ loop wat die byeenkoms betref, so wyd soos die Heer se genade.

NGKO 2013, artikel 49.2 laat belydende lidmate van die eie gemeente, dooplidmate wat daarvoor toestemming van die kerkraad gekry het en ‘besoekers’ uit ander NGK-gemeentes en ander kerke tot die nagmaal toe. Die eie lidmate moet belydend of amptelik toegelaat wees, maar ‘besoekers’ van elders word nie gekwalifiseer nie (NGKO 2013:13). Hier kom ’n slordige formulering voor. Dit lyk so omdat dit waarskynlik min in die visier van die Algemene Sinode kom (vgl NGKO 2002:20–21; 2004:21–22; 2007:22; 2011:15).

Enkele verskille by NGKO 2013 oor die bediening van die doop en nagmaal as sakramente skep die indruk dat die toesig by eersgenoemde ter wille van die Sola Scriptura of suiwere leer meer ernstig en amptelik is as by laasgenoemde. By laasgenoemde is daar nie ’n goedgekeurde formulier nie. In praktyk beteken dit dat die goedgekeurde formulier van die kerkverband (Algemene Sinode) as die beter, suiwerder bediening van die Woord by die tekens – meer gelowiges saam verstaan die Woord beter as enkelinge – ontbeer word. Die rykdom van Paulus se ‘… saam met al die gelowiges … begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek’ (Ef 3:18), word dus nie beleef nie. So word die verwoording van geloofseenheid by die nagmaal met ’n maer individualisme vervang.

Die beklemtoning in NGKO, artikel 49.1 van die amptelike bediening van die doop teenoor die byna sorgelose bediening van die nagmaal ‘in die gemeente’ van artikel 49.2, skep groter kerkraadstoesig oor die doop as oor die nagmaal – ’n verskil wat op ’n kerklike devaluering van die nagmaal neerkom. Die vae, onomskrewe verwysing na ‘besoekers’ uit ander NGK-gemeentes en kerke versterk hierdie waarneming. Die hele artikel 49 bly egter by algemene, duursame bepalings.

Hierdie tendens van die NGKO om by algemene, duursame bepalings vir die arbeid van die kerk te bly, word onder die hofies jeugbediening, herderlike sorg, gemeentebediening, gestuurdheid, diens van barmhartigheid, dienswerk, leer en aktuele sake, rentmeesterskap en diensverhoudinge voortgesit. Daaroor word enkele opmerkings gemaak.

Ander arbeid

Artikel 51.3 is ’n niksseggende bepaling oor herderlike sorg. Hieronder word kerkrade getaak om toe te sien dat afgestorwe gemeentelede ‘op ’n Christelike wyse’ begrawe of veras word (NGKO 2013:14). Behalwe dat die artikel die metode – begrawe of veras – onnodig legitimeer, hou dit nie daarmee rekening dat ’n begrafnis uitsluitlik in die hande van familie en vriende is en dat dooies nie vir toesig oor hulle keuse van ’n bepaalde soort begrafnis kwalifiseer nie. Boonop kom begrafnisse in die algemeen ook nie op kerkraadsagendas voor nie. Hierdie waarneming laat die vraag ontstaan of die artikel ’n algemene behoefte in die NGK is, of net die liefhebbery van ’n klein maar invloedryke groep is.

Artikel 52.2 bepaal dat die kerk ‘haar’ deur ’n intensiewe, gespesialiseerde gemeentebediening op kerkvervreemdes rig wat ‘formeel’ nog lidmate van die kerk is, ten einde hulle verhouding met Christus en sy kerk te herstel (NGKO 2013:14). Die vraag is of hierdie bediening wesenlik kan en mag verskil van ’n gemeente wat om die belydenisgedrewe suiwere bediening van die Woord, die sakramente en die handhawing van die kerklike tug draai (Nederlandse Geloofsbelydenis, art 29; NG Kerk-Uitgewers III 1982:29)? Meer nog: word hierdie kerkvervreemdes aan die trekkrag van die kerklike tug as ’n pastorale liefdeshandeling blootgestel? NGKO 2013 self bevat ’n reeks artikels vir die kerklike opsig en tug wat hierin ook oorweeg moet word (NGKO 2013:15–19; artikel 59–66). Hierdie artikels gee genoeg rigtingwysers vir die kerklike tug om daarvan, na luid van artikel 60.1, ’n geestelike handeling in ’n geloofs- en liefdesgemeenskap te maak. Hierdie is ’n pastoraal-gekwalifiseerde handeling wat met sy eis vir geregtigheid en regverdigheid, ook kwasi-judisieel is en met die reëls vir natuurlike geregtigheid moet rekening hou. Hierdie artikels het sedert 1998 ‘ongestoord’ ’n nuwe tydvak in die tugprosesse in die NGK ingelui. Dit is egter sonder ’n genotuleerde motivering by die Algemene Sinode van 2013 met ’n tugreglement ‘gekomplimenteer’ (NGKO 2013:142).

In ’n resente artikel 53 word bepaal dat elke gemeente van die NGK ’n gestuurde van God is – die missio Dei. Artikel 53:1–3 gee ’n gedetailleerde bybelse motivering hiervoor wat vreemd aan ’n kerkorde met sy praktiese kanale of bepalings is. Die hele artikel 53 bepaal ‘prakties’ slegs dat die NGK ’n gestuurde kerk is. Dit gaan hier dus om kerklike stellings en nie kerkordebepalings nie.

Artikel 55 praat van die dienswerk van die gelowiges (NGKO 2013:15). Dit dupliseer egter artikel 4.1.1 en 4.1.2 oor die dienswerk van die gelowiges in kerk en die wêreld en artikel 68 oor die kerk, die maatskappy en vrye verenigings (NGKO 2013:2, 19; Strauss 2014:134–146). Hierdie duplisering vind in ’n sorgelose klimaat plaas waarin voorgestel is dat NGKO, artikel 1 oor onder meer die belydenisse van die kerk, gewysig word om die Drie Formuliere van Eenheid en die drie ekumeniese of algemene belydenisskrifte in te sluit (NGKO 2013:1) – dit terwyl die Drie Formuliere reeds die drie ekumeniese belydenisse woordeliks aanvaar (NG-Uitgewers III 1982:14, 44).

Slot

Op die vraag na die noodsaak en aard van ’n kerkorde is ’n verantwoorde reaksie die volgende: uit sowel die Bybel as die geskiedenis van die algemene Christelike kerk blyk daar ’n behoefte aan kerklike orde te wees. Hierdie behoefte vervang nie die primêre roeping van die kerk om kerk en daarmee draer van Gods Woord te wees nie. Die soort orde wat die kerk as kerk benodig, is ’n Woordgedrewe orde: in sy woorde, handel en wandel. Daarom moet ’n kerkorde slegs ordelike en praktiese kanale aandui waardeur die Woord vrylik en bepalend in die kerk kan vloei. ’n Kerkorde moet die kerk in sy roepingsvervulling dien: ’n orde wat op die kerk as ’n gestuurde geloofs- en liefdesgemeenskap ingestel is.

Die Bybel bied nie ’n klaargemaakte kerkorde nie. 1 Korintiërs 14:40 en ander gedeeltes wys egter dat die gelowiges, of die kerk as ’n instansie van mense wat deur die Here tot kerk geroep en gemaak is, ’n behoefte aan ’n Skrifverantwoorde struktuur en organisasie het.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat hy geen finansiële of persoonlike verbintenis het met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed het in die skryf van hierdie artikel nie.

Literatuurverwysings

Barnard, A.C., 1981, Die erediens, NG Kerkboekhandel van Transvaal, Pretoria.

Bouwman, H., 1985, Gereformeerd Kerkrecht 1, De Groot Goudriaan, Kampen.

Coertzen, P., 1991, Gepas en ordelik, RGN, Pretoria.

Constitutional Assembly, 1997, The Constitution of the Republic of South Africa 1996, Communications, Wynberg.

Donner, J.H. & Van den Hoorn, S.A., s.a., Acta Nationale Synode te Dordrecht, Donner, Leiden.

Durand, J.J.F., 1984, ‘’n Belydenis – was dit werklik nodig?’, in G.D. Cloete & D.J. Smit, ’n Oomblik van waarheid, bl. 39–48, Tafelberg, Kaapstad.

Engelhard, D.H. & Hofman, L.J., 2001, Manual of Christian Reformed Church Government, CRC Publications, Grand Rapids.

Heyns, J.A., 1977, Die kerk, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Jansen, J., 1952, Korte verklaring van de Kerkorde van de Gereformeerde Kerken, 3e dr., Kok, Kampen.

Jonker, W.D., 1960, Die bevoegdheid van die streeksinodes in die nuwe konsepkerkorde, Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif (NGTT) 1(2), 33–37.

Jonker, W.D., 1965, Om die regering van Christus in sy kerk, Pretoria: Unisa.

Jonker, W.D., 1984, ‘Christelike geloof en menseregte’, in D.A. du Toit (red)., Menseregte, bl. 52–55, Tafelberg, Kaapstad.

Jonker, A.D., 1994, Bevrydende waarheid, Hugenote-Uitgewers, Wellington.

Koffeman, L.J., 2009, Het goed recht van de kerk, Kok, Kampen.

Kruger, L.S., Du Plessis, H.L.M., Spoelstra, B. & Spoelstra, T.T., 1965, Handleiding by die Kerkorde, Pro Rege, Potchefstroom.

Nauta, D., 1971, Verklaring van de kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland, Kok, Kampen.

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 2007, Handelinge van die Algemene Sinode, s.n., s.l.

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1964, Kerkorde 1962, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad, (gebruik as NGKO 1962).

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 2002, Die Kerkorde, Lux Verbi.BM, Wellington, (gebruik as NGKO 2002).

Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK), 2004, Die Kerkorde, Lux Verbi.BM, Wellington, (gebruik as NGKO 2004).

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 2007, Die Kerkorde, s.n., s.l., (gebruik as NGKO 2007).

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 2011, Die Kerkorde, s.n., s.l., (gebruik as NGKO 2011).

Nederduitse Gereformeerde Kerk, 2013, Die Kerkorde, s.n., s.l., (gebruik as NGKO 2013).

Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Vrystaat, 1999, Kerkorde, s.n., s.l.

NGK, kyk Nederduitse Gereformeerde Kerk

NGK in VS, kyk Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Vrystaat

NGKO, kyk Nederduitse Gereformeerde Kerk

NG Kerk-Uitgewers, 1982, Die Drie Formuliere van Eenheid en ekumeniese belydenisse, NG Kerk-Uitgewers, Wellington.

Plomp, J., 1992, Kerk en recht, in W. van’t Spijker & L.C. van Drimmelen, Inleiding tot de studie van het kerkrecht, bl. 32–42, Kok, Kampen.

Pont, A.D., 1981, Die historiese agtergronde van ons kerklike reg, vol. 1, HAUM, Pretoria.

Rutgers, F.L., 1971, De geldigheid van de oude kerkenordening der Nederlandse Gereformeerde Kerken, Ton Bolland, Amsterdam.

Sadler, T.H.N., 1979, Die kerklike tughandeling, NG Kerkboekhandel Transvaal, Pretoria.

Sizoo, A., s.a., Johannes Calvijn Institutie, vol. 3, Meinema, Delft.

Smit, C.J., 1984, God se orde vir sy kerk, NG Kerkboekhandel Transvaal, Pretoria.

Spoelstra, B., 1989, Gereformeerde kerkreg en kerkregering, Teologiese Skool, Hammanskraal.

Strauss, P.J., 1989, ‘Geen kerk oor ’n ander’, Acta Theologica 9(1), 1–14.

Strauss, P.J., 1995, ‘Die aktuarius in die NG Kerk’, Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif (NGTT) 36(3), 421–436.

Strauss, P.J., 2005a, ‘Watter sake hoort by meerdere vergaderings?’, In die Skriflig 39(2), 293–310.

Strauss, P.J., 2005b, ‘Belydenis, kerkverband en Belhar’, Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif (NGTT) 46(3 & 4), 560–575.

Strauss, P.J., 2008, ‘Die NG Kerkorde – 1962: Die Dortdse Kerkorde aangepas by die eise van die dag?’, Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif (NGTT) 49(3 & 4), 274–285.

Strauss, P.J., 2010, Kerk en orde vandag, Sunmedia, Bloemfontein.

Strauss, P.J., 2014, ‘Die kerk, maatskappy en vrye verenigings: ’n Studie van die Kerkorde van die Ned Geref Kerk’, Acta Theologica 34(2), 134–146.

Strauss, P.J., 2015, Gereformeerdes onder die Suiderkruis 1652-2011, Sunmedia, Bloemfontein.

Strauss, P.J., 2016, ‘Die naam “Nederduitse Gereformeerde Kerk”’, Acta Theologica 36(1), 213–228.

Trimp, C., 1988, ‘Ambt als dienst?’ in P. Rossouw (red), Gereformeerde ampsbeskouing, bl. 233–242, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Van der Linde, G.P.L., 1983, Die Kerkorde, TG van Wyk, Pretoria.

Van der Watt, P.B., 1973, Die Loedolffsaak en die Ned Geref Kerk 1862–1962, Tafelberg, Kaapstad.

Visser, J., 1999, Die kerkorde in praktyk, EFJS Drukkers, Orkney.

Vorster, J.D., 1960, Die kerkorde vir die Ned Geref Kerke: Besware daarteen en betekenis daarvan’, Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif (NGTT) 1(4), 12–18.

Footnotes

1. Die begrip vryheid word in aanhalingstekens geplaas omdat dit hier natuurlik moet gaan om die vryheid van Galasiërs 5:13: ‘Julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie …’.

2. Die Nederlandse gereformeerdes in die sestiende en sewentiende eeue praat nie van ampte nie, maar van ‘dienste’: dienste in diens van die Koning en Hoof van die Kerk, Jesus Christus (Pont 1981:171).

3. Jonker (1994:6) noem gereformeerde belydenisskrifte ’n samevatting van die essensiële inhoud van die Christelike geloof. Vir Heyns (1977:156) gaan dit hier om die ‘kern van openbaringswaarhede’. Pont (1981:9) praat van die ‘essensiële wat die Heilige Skrif ons leer’, terwyl Durand (1984:45) van die kernsake van die ‘Godsopenbaring in Jesus Christus’ en nie van beuselagtighede praat nie.

4. Vergelyk die immergroen antwoord van die Heildelbergse Kategismus op vraag 54: Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk? Die antwoord: dat die Seun van God … deur sy Gees en Woord in die eenheid van die ware geloof … ’n gemeente … vergader, beskerm en onderhou … (NGK-Uitgewers III 1982:53).

5. Vergelyk NGKO (2013:10, art. 35.2) wat ongekwalifiseerd ook die ‘gemeenskaplike roeping’ van gemeentes in sy gebied aan sinodes toevertrou.

6. Na die predikant word daar natuurlik ook verwys as ’n herder en leraar (Ef 4:11).

7. DKO 1619, artikel 56 wat handel oor die doop as iets wat in die erediens plaasvind, praat van laasgenoemde as die ‘openbare verzameling’ van die gemeente waartydens ‘Gods Woords’ gepreek word (Pont 1981:183).



Crossref Citations

No related citations found.