Book Review

Gesprek met God as die lewende Heer in gebed

Book Title: Bidden in het besef van Gods tegenwoordigheid

Author: Gerrit Immink

ISBN: 978-90-2397-1122

Publisher: Uitgeverij Boekencentrum, Zoetermeer, 2016, R268,32*

*Book price at time of review

Review Title:
Gesprek met God as die lewende Heer in gebed

Reviewer:
Hennie J.C Pieterse1

Affiliation:
1Department of Philosophy, Practical and Systematic Theology, University of South Africa, South Africa

Corresponding author: Hennie Pieterse, pietehjc@absamail.co.za

How to cite this book review: Pieterse, H.J.C., 2017, ‘Gesprek met God as die lewende Heer in gebed’, In die Skriflig 51(1), a2256. https://doi.org/10.4102/ids.v51i1.2256

Copyright Notice: © 2017. The Authors. Licensee: AOSIS OpenJournals. This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Die hoofgedagte in Immink se navorsing en skryfwerk oor die dimensies van die geloofspraktyk kom in die huidige boek weer na vore soos dit ook in sy twee vorige boeke funksioneer (vgl. In God geloven: Een praktisch-theologische reconstructie, 2003:18; Het Heilige gebeurt: Praktijk, theologie en traditie van de protestantse kerkdienst, 2011:113). Die sentrale gedagte is die eksistensiële verhouding (betrekkings) tussen God en die mens in ’n a-simmetriese situasie. ‘Als het geloof een daadwerkelijke betrekking tussen God en mens is, dan ondervinden we daarvan ook een werking’ (Immink 2003:41). God is ’n persoonlike God met wie die gelowige mens op geestelike vlak deur die werk van Christus en die Gees kan kommunikeer. ‘Onze geestelijke betrokkenheid op God en zijn heil heeft een intersubjectieve structuur: het gaat om een persoonlijke ontmoeting, waarin we ons aangesproken weten door God’ (Immink 2003:277). Hierdie verhouding met God word lewend, dinamies en ’n ontmoeting met God as lewende werklikheid deur die performance in die erediens waarby ons in gebed, sang en die verkondiging van die Woord, deur die werk van die Gees, betrokke raak (Immink 2011:120–122). Die begrip performance hou verband met teater en toneelopvoerings waarin iets in scène geplaas word en die akteurs en toneelgangers tesame betrokke raak. In die performance word energie verwissel en daar gaan ’n kragtige werking daarvan uit. Dieselfde gebeur ook in die erediens waar die geloof geaktiveer word; maar ook in die persoonlike gebed is die biddende mens in gesprek met die lewende God in ‘’n gebeurtenis waarby God en die mens albei betrokke is (Immink 2016:140). In die besef van God se teenwoordigheid, verwag die gelowige mens in die gebed ’n lewende, eksistensiële ontmoeting met God op grond van die verbondsverhouding met Hom (Immink 2016:96–97, 202). Geloof in die kruis en opstanding van Jesus Christus is essensieel en die werking van die heil in ons lewens geskied deur die Drie-enige God: Vader, Seun en Heilige Gees.

Om te bid is om met God in gesprek te tree. Op grond van ’n deeglike eksegese oor gebed in die Ou en Nuwe Testament stel Immink dat ons in gebed oor ons nood kan vra; danksegging en lof hoort ook daarby, asook voorbidding vir die gang van die evangelie en vir die welsyn van alle mense. Die aard van God se teenwoordigheid het ’n meervoudige gestalte in die gebed. As Skepper onderhou en versorg Hy ons lewe – dit bied vertroue en gee ’n anker; wanneer ons in die naam van Jesus Christus bid, glo ons dat Hy ons sonde versoen het, die lyding van die wêreld dra, die dood oorwin het en ons van ondergang red; die Heilige Gees werk in ons lewe en tydens ons gebed – hy gee ons insig in die waarheid van God, maak ons deel van die verlossing in Christus en inspireer ons tot ’n nuwe lewe (Immink 2016:201). So vertrou die bidder op God in ’n lewende, eksistesiële kontak met Hom.

Die outeur (emeritus professor in Praktiese Teologie van die Protestantse Theologische Universiteit) het met omvattende literatuur oor die gebed gewerk: van klassieke werke soos Augustinus, Aquinas, ouer boeke uit die twintigste eeu tot die mees eietydse werke soos John Caputo en John Dominic Crossan (2010) is gebruik. Gerrit Immink behandel in sy boeke die liberale tradisie as die een hoofstroom in die Protestantse geloofstradisie. Hy bevind dat die stroming te veel op die mens en sy gevoel en ervaring klem lê, sodat God, as ons teenoorgestelde, uit die prentjie verdwyn. Die openbaringsteologie van Karl Barth (die ander hoofstroom in die Protestantse tradisie) lê weer te veel klem op die teenoorgestelde kant sodat die inwoning van God se heil in die mens nie heeltemal tot sy reg kom nie. Hy hanteer dus ’n bybelse teologie volgens die gereformeerde tradisie waarin God én die mens (met sy geestevermoë en ervaring) in ’n lewende verhouding te staan kom. Hierdie boek oor gebed bied die leser ’n inleiding tot die eietydse denke volgens Immink se posisiebepaling in ons tradisie, en wel in ’n sekulêre samelewing soos die huidige Nederland. Hy skryf in alledaagse taal en gebruik konkrete belewenisse op so ’n wyse dat gewone lidmate dit kan lees en daarmee identifiseer. Daar is ’n rykdom Skrifverwysings wat hy meestal uitskryf vir mense wat nie meer in die Bybel geletterd is nie.

Hierdie boek oor gebed is ’n grondige teologiese werk wat vir predikante, dosente en teologiese studente uiters belangrik is in die tye waarin ons lewe – veral met die verskynsel van sekularisasie wat by ons ook al meer na vore kom. Hierdie boek word sterk aanbeveel vir almal wat in die gebed belangstel – teologies sowel as gewone gelowiges.



Crossref Citations

No related citations found.