About the Author(s)


H.P. Malan van Rhyn Email symbol
The Unit for Reformational Theology and the Development of the South African Society, Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Department of Biblical Studies, Faculty of Educational and Biblical Studies, AROS, Pretoria, South Africa

Gert J.C. Jordaan symbol
The Unit for Reformational Theology and the Development of the South African Society, Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Citation


Van Rhyn, H.P.M. & Jordaan, G.J.C., 2020, ‘’n Betekenisdefinisie van παρουσία as wederkomswoord’, In die Skriflig 54(1), a2479. https://doi.org/10.4102/ids.v54i1.2479

Original Research

’n Betekenisdefinisie van παρουσία as wederkomswoord

H.P. Malan van Rhyn, Gert J.C. Jordaan

Received: 17 Apr. 2019; Accepted: 07 July 2020; Published: 11 Dec. 2020

Copyright: © 2020. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstract

A definition of the meaning of παρουσία as a concept denoting the second coming. In the New Testament several Greek words are used to denote the second coming of Christ. None of these words can be translated as ‘second coming’. The questions arise whether these words can be treated as exact synonyms and whether there are differences in nuance in the meaning. As a first step to answer these questions, a word study of the concept παρουσία, which is usually used as a technical term for the second coming, is done. In this word study diachronic and synchronic methods are used. Finally, a definition of the meaning of παρουσία is reached: It is the visible second coming and comforting presence of Jesus Christ from heaven to his people on earth, at the end of time, in glory as Godly Ruler, King, Conqueror, Judge and Lord, for which his people have prepared and which will be accompanied by praise and worship, which will encourage his followers with hope because He will change their situation for the better by redeeming them for eternity.

Keywords: New Testament; παρουσία; definition of meaning; second coming; advent.

Inleiding

In die gereformeerde teologie neem die wederkoms van ons Here Jesus Christus ’n kardinale plek in die raadsplan van God in (Van Rhyn 2017:239) en die begrip word in die Nuwe Testament met verskillende Griekse woorde of sinsnedes weergegee (Berkouwer 1961:177; Coetzee 1984:338–340; Matter 1980:9; Noordegraaf 1999:91).

Die woorde waarmee die wederkoms hoofsaaklik in die Nuwe Testament weergegee word, is ἀποκαλύπτω, ἀποκάλυψις – onder andere in Lukas 17:30 en 1 Korintiërs 1:7 (Oepke 1964a:556–592); ἐπιφαίνω, ἐπιφάνεια – onder andere in 1 Timoteus 6:14 (Bultmann & Lührmann 1964a:7–10); ἒρχομαι – onder andere in Matteus 10:23 (Schneider 1964:666–684); ἡμέρα – onder andere in Matteus 7:22 (Delling 1964:947–953); παρουσία – onder andere in Matteus 24:3 (Oepke 1964b:858–871) en φανερόω – onder andere in Kolossense 3:4 (Bultmann & Lührmann 1964b:3–6). Vergelyk ook Plevnik (1997:3) en Mare (1975:338–339).

Die vraag ontstaan waarom daar verskillende woorde in die oorspronklike taal gebruik word om dieselfde saak, naamlik dié van die wederkoms, weer te gee en dit terwyl nie een van die woorde letterlik met wederkoms vertaal kan word nie. Dit moet eksegeties ondersoek word of die gebruik van die verskillende woorde willekeurig is en of elkeen van hierdie woorde nie dalk ’n spesifieke aspek of aspekte van die wederkoms belig nie. Die moontlikheid dat daar verskillende openbaringsdoelwitte in die verskillende woorde opgesluit lê, moet histories openbarend ondersoek word.

Die eerste stap sou wees om ’n indringende woordstudie van elkeen van hierdie betrokke woorde te doen sodat die betekenisdefinisies van die verskillende woorde met mekaar vergelyk kan word. Alleen so kan daar vasgestel word of daar nuanseverskille in die betekenis van hierdie woorde is en wat die implikasies van die moontlike verskille vir die verstaan van die Godgegewe openbaring oor die wederkoms is.

In hierdie artikel word ’n aanvang geneem met hierdie proses deur ’n indringende woordstudie te doen van die begrip παρουσία, wat gewoonlik as tegniese term gebruik word om die idee van die wederkoms mee weer te gee (Matter 1980:7).

Die woord παρουσία word 24 keer en in nege boeke in die Nuwe Testament gebruik (Wigram & Winter 1978:596), naamlik in Matteus 24:3, 27, 37, 39; 1 Korintiërs 15:23; 16:17; 2 Korintiërs 7:6, 7; 10:10; Filippense 1:26; 2:12; 1 Tessalonisense 2:19, 3:13, 4:15, 5:23; 2 Tessalonisense 2:1, 8, 9; Jakobus 5:7, 8; 2 Petrus 1:16, 3:4, 12 en 1 Johannes 2:28. Slegs 17 keer word παρουσία gebruik om die wederkoms van Jesus Christus mee aan te dui (Hiers 2011:742; Van Rhyn 2017:33).

Morris (1988) wys op die belangrikheid van die begrip vir gelowiges:

From all this it is clear that the Parousia was a concept of great importance for the early Christians. They spoke about it in a variety of ways and referred to it often, probably more often than to any other single doctrine in the NT. They looked with eager longing for the day when Jesus would return. (p. 664)

Woordstudie van παρουσία

Die woordstudie word, volgens die metode wat Janse van Rensburg et al. (2011:160–173) voorstel, in twee afdelings afgehandel: Eerstens word ’n diakroniese woordstudie gedoen en daarna ’n sinkroniese woordstudie. Die genoemde metode stel die gebruik van slegs twee woordeboeke vir Nuwe-Testamentiese woordstudie voor. Vir die diakroniese woordstudie word die Theological dictionary of the New Testament (TDNT) van Kittel, Friedrich en Bromily (1964) voorgestel, en vir die sinkroniese woordstudie, die semantiese woordeboek van Louw en Nida (1996), Greek-English Lexicon of the New Testament based on semantic domains. Hoewel die metode nie die raadpleeg van ander bronne as die twee voorgestelde woordeboeke voorstel nie, word die metode in hierdie artikel uitgebrei deur wel na ander bronne ook te verwys. Vir die diakroniese afdeling van die woordstudie word A Greek-English lexicon of the New Testament and other early Christian literature (BDAG) van Bauer et al. (2000) veral ook geraadpleeg.

Diakroniese woordstudie van die begrip παρουσία
A Greek-English lexicon of the New Testament and other early Christian literature (BDAG)

Bauer et al. (2000:780) dui die volgende hoofbetekenisse van παρουσία aan:

  1. the state of being present at a place, presence,

  2. arrival as the first stage in presence, coming, advent,

    1. of human beings, in the usual sense,

    2. in a special technical sense … of Christ (and the Antichrist).

Volgens die BDAG word παρουσία dus in twee hoofbetekenisse gebruik: Eerstens, die staat van om teenwoordig te wees op ’n plek – teenwoordigheid; en tweedens, om op ’n plek aan te kom – die eerste stadium van teenwoordig wees.

Die tweede betekenis van om op ’n plek aan te kom, die eerste stadium van teenwoordig wees, word op twee maniere gebruik: Eerstens, vir die aankoms van gewone mense in die gewone sin van die woord; en tweedens, as tegniese term vir die aankoms en teenwoordig wees van Christus met sy wederkoms. (Die woord kan ook gebruik word om die aankoms en teenwoordig wees van die Antichris aan te dui.) Veral 2.b is dus hier van belang.

Hierdie tegniese gebruik van παρουσία het, volgens die Bauer et al. (2000), in twee rigtings ontwikkel:

On the one hand the word served as a sacred expression for the coming of a hidden divinity, who makes his presence felt by a revelation of his power, or whose presence is celebrated in the cult. On the other hand, παρουσία became the official term for a visit of a person of high rank, especially of kings and emperors visiting a province. (pp. 780–781)

Hierdie mening word ook deur Wuest (1997:33–36) gehuldig. Die feit dat die παρουσία sigbaar sal wees, word ook deur Hendriksen (2002:861) beklemtoon.

Wanneer παρουσία in verband met Christus gebruik word, verwys dit gewoonlik na sy wederkoms: ‘... and nearly always of his Messianic Advent in glory to judge the world at the end of this age …’ (Bauer et al. 2000:781). Bauckham (1983:221) wys ook daarop dat παρουσία daarop dui dat Jesus Christus as Regter en as Koning sal verskyn.

Konklusie: Wanneer παρουσία met Christus as handelende persoon gebruik word, dui dit op sy aankoms en sy teenwoordig wees met sy wederkoms. Die woord hou in dat Christus, wie se Godheid na sy hemelvaart eers verborge was, nou as God sigbaar teenwoordig sal wees en dat Hy sy mag sal toon as God wat regeer. Sy teenwoordigheid as Here sal deur die gelowiges gevier word. Hy is die groot Koning wat sy mense sal kom opsoek en as Regter sal kom om te oordeel.

Hieruit blyk dat die kernelement van ’n betekenisdefinisie van παρουσία die volgende is: Jesus Christus sal aankom en teenwoordig wees met sy wederkoms. Die volgende elemente moet ook in ’n betekenisdefinisie vervat word:

  • Die koms van die Here Jesus Christus sal sigbaar wees en Hy sal sigbaar wees.
  • Sy Goddelikheid as Here sal duidelik blyk.
  • Sy teenwoordigheid sal deur gelowiges gevier word.
  • Hy kom aan die einde van die tyd.
  • Hy kom in heerlikheid.
  • Hy kom as Koning of Regeerder.
  • Hy kom as Regter.
Theological dictionary of the New Testament (TDNT)

Uit die deeglike navorsing van Oepke (1964b:858–871) in die TDNT oor die betekenis van παρουσία, blyk die volgende.

Algemene betekenis: Παρουσία word, volgens Oepke (1964b:858), in twee algemene betekenisse gebruik, naamlik ‘teenwoordigheid’ (‘presence’) en ‘om te verskyn’ – nadat jy op ’n plek aangekom het (‘appearing’). Hay (1962:6) sluit hierby aan en wys daarop dat daar ’n wisselwerking tussen die aankoms en die teenwoordig wees, is. Hy tipeer die aankoms as ’n aksiewoord, en die teenwoordig wees as ’n woord wat teenwoordigheid sowel as aksie veronderstel. Die aksie wat die teenwoordigheid meebring, is om te troos (comfort). Dit is dus nie net kliniese teenwoordigheid nie, maar ’n teenwoordigheid wat troos. Ook Van Rhyn (2017:53, 108, 109) wys op die troos wat die παρουσία van Jesus Christus vir gelowiges inhou.

Voorts wys Oepke (1964b:858) daarop dat πάρειμι, om teenwoordig te wees, gebruik word vir mense (Joh 11:28), maar ook vir dinge soos besittings (Heb 13:5). Παρουσία dui ’n aktiewe teenwoordigheid aan soos byvoorbeeld dié van verteenwoordigers van die gemeenskap (1 Kor 16:17); Paulus self (Fil 2:12); om persoonlik teenwoordig te wees in lewende lywe (2 Kor 10:10).

Πάρειμι kan ook beteken om te verskyn nadat jy (aan)gekom het (to have come), (Matt 26:50; Hand 10:21; 17:6), of om te kom (Lk 13:1). So ook kan παρουσία aankoms (arrival) beteken. Παρουσία kan ook met inval (invasion) vertaal word, met ander woorde, die aankoms van ’n oorwinnaar se leër in ’n vyandige gebied. Dit word ook gebruik vir die aankoms van mense soos Paulus (Fil 1:26).

Παρουσία as tegniese term: In die Hellenistiese Grieks is daar nie onderskeid gemaak tussen die profane en die sakrale gebruik van die woord παρουσία nie (Oepke 1964b:859). Παρουσία kon die heilsame teenwoordigheid van gode aandui, maar is ook as tegniese term gebruik om die besoek van ’n regeerder of belangrike amptenaar aan te dui. Morris (1992:n.p.) huldig dieselfde mening in sy verklaring van Matteus 24:3. Hy verwys byvoorbeeld na die gebruik van παρουσία met betrekking tot die aankoms van koning Mithridates in ’n papirusbron. Bruce (1982:56–57) sluit hierby aan deur aan te dui dat παρουσία gebruik is om na die aankoms van ’n koning te verwys en voeg by dat die koms van die koning gewoonlik ’n nuwe bedeling tot stand gebring het.

Witthoff (2014) se mening sluit ook hierby aan wanneer hy παρουσία verklaar as:

A Greco-Roman political term most often denoting the visitation of a ruler or royal figure and expected welcome and celebration by local leadership and populace prior to arrival, usually some distance outside the city gate. (n.p.)

Wuest (1997:34) voer aan dat die eerste Christene die vergelyking tussen die παρουσια van ’n heerser en die παρουσια van Christus duidelik ingesien het.

Die παρουσία van ’n regeerder het gewoonlik met voorbereiding en eerbewyse gepaard gegaan en het gewoonlik hoop gebring vir die onderdane dat dinge gaan verbeter (Oepke 1964b:859).

When Christians spoke of the παρουσία of their Lord, they probably thought of the pomp and circumstance attending those imperial visits as parodies of the true glory to be revealed on the day of Christ (Bruce 1982:57).

In die Hellenistiese filosofie is die woord toenemend in die sakrale sin gebruik vir die teenwoordigheid van gode waar priesters byvoorbeeld opgetree het (Oepke 1964b:860).

Die Ou-Testamentiese gelowige het die aankoms van God, aldus Oepke (1964b:861), soos volg beleef:

  1. The Coming of God in Direct Self-Attestation and in the Cultus.

  2. The Coming of God in History.

  3. The Coming of Yahweh as World King.

  4. The Coming of the Messiah.

Veral van belang vir die studie is die tegniese gebruik van πάρειμι en παρουσία in die Nuwe Testament. Oor die historiese plek van die konsep παρουσία in die Nuwe Testament, merk Oepke (1964b) op:

Primitive Christianity waits for the Jesus who has come already as the One who is still to come. The hope of an imminent coming of the exalted Lord in Messianic glory is, however, so much to the fore that in the NT the terms are never used for the coming of Christ in the flesh, and παρουσία never has the sense of return. (p. 865)

Wanneer die woord παρουσία in verband met Jesus Christus gebruik word, word dit dus altyd met die betekenis van die wederkoms van ons Here in heerlikheid gebruik en nooit in verband met sy eerste koms – sy geboorte – as mens nie. Van belang is dat Oepke (1964b:865) παρουσία beskryf as ‘a technical term for the “coming” of Christ in Messianic glory’.

Dit blyk dus dat die woord παρουσία vir die lesers van die Nuwe-Testamentiese geskrifte welbekend was vanuit sy algemene gebruik in die destydse samelewing. Die gebruik van die woord, selfs binne die konteks van die evangelie, sou vir hulle in geen opsig verwarrend wees nie – ook nie wanneer dit na die koms van gewone mense of na die koms van die Here verwys nie. Die gedagte van ’n wederkoms was egter ’n nuwe betekenis wat slegs in die Nuwe Testament aan die woord geheg is. Hagner (1995:688) ondersteun hierdie siening: ‘“Parousia” now refers not to the visit or presence of an earthly king, as in the Hellenistic world, but is used technically to refer to the return of Jesus.

Hendriksen (2002) se mening sluit hierby aan:

… the term refers to the return or advent of the Lord, his coming in order to bless his people with his presence. This meaning may be viewed as a modification of the sense: ‘the arrival’ or ‘the visit’, of the king or emperor. (p. 861)

’n Gedetailleerde uiteensetting van die ontwikkeling van die konsep παρουσία in die Nuwe Testament word deur Oepke (1964b:866–870) weergegee onder die volgende opskrifte: Jesus in die sinoptiese Evangelies; die eerste gemeenskap (Handelinge); Paulus; Deutero-Paulus; die briewe van Jakobus, Petrus en Judas; Openbaring; die Evangelie volgens Johannes; en die briewe van Johannes.

’n Groot leemte in die onderafdeling oor die ontwikkeling van παρουσία in die Nuwe Testament is die feit dat Oepke telkens die ontwikkeling van die idee van die wederkoms bespreek en nie die ontwikkeling van die woord παρουσία as sulks nie. Dit verminder die waarde van sy navorsing, aangesien dit van groter waarde sou wees indien hy die verskillende Griekse woorde wat vir die wederkoms gebruik word, met mekaar sou vergelyk en indien hy sou wys op betekenisooreenkomste en -verskille. Dit blyk dat Oepke, sonder beredenering, bykans alle woorde wat oor die saak van die wederkoms handel as sinonieme hanteer.

Oor die ontwikkeling van die woord παρουσία by Jesus in die sinoptiese Evangelies, wat slegs vier maal en slegs in Matteus 24 gebruik word, lei Oepke (1964b:866) die onderafdeling in met: ‘Apart from the actual occurrence of the word, the whole thinking of Jesus is permeated by ideas of parousia. This is true in all strata of the Synoptic tradition.’ Hy staaf die stelling deur onder meer aan te toon dat dit reeds duidelik is in Markus, veral vanaf Markus 8:38, dat Jesus se denke oorheers is deur die idee dat Hy weer gaan kom. Hy getuig byvoorbeeld in Markus 14:62 en verder van sy wederkoms teenoor sy Joodse veroordelaars.

Oepke (1964b) sê voorts:

So far as can be seen, the parousia concept is one of the original stones in the Synoptic tradition concerning Jesus. It is present in fully developed form in the parousia address in Mk. 13 and par., which, strongly influenced though it is by Jewish and primitive Christian apocalyptic, has crystallised around genuine dominical sayings. (p. 866)

Al die sinoptiese Evangelieskrywers onderskei tussen die oordeel oor Jerusalem en die παρουσία, aldus Oepke (1964b):

How far Jesus Himself made this distinction, how far He even made a clear distinction between His resurrection and His parousia, it is no longer possible to say with certainty. He does seem to have envisaged an interval between the first and the definitive restoration, a time of the community. Otherwise there would be no space for the conversion of the Gentiles, and such conversion without the preaching of repentance would be contrary to His basic principles. He probably thought His parousia was imminent. (pp. 866–867)

Hierdie standpunt van Oepke is aanvegbaar, aangesien dit die Godheid en veral die alwetendheid van ons Here Jesus Christus misken. Die feit dat gelowiges altyd gereed moet wees vir die wederkoms, word dikwels verkeerd geïnterpreteer asof die wederkoms immanent sou wees. Die denkfout blyk duidelik uit (Oepke 1964b):

This is supported by many sayings which are hard to interpret in any other sense … The tremendous tension which permeates Jesus’ whole world of thought would also be inexplicable otherwise (p. 867).

Alhoewel die woord παρουσία nie in Handelinge voorkom nie, en die eerste Christengemeenskap dalk geen woord daarvoor gehad het nie, is die vaste geloof in die feit van die wederkoms by hulle onbetwisbaar (Oepke 1964b:867). Om hierdie stelling te staaf, verwys Oepke (1964b:867) na Handelinge 1:11 en 3:20 en verder.

By die bespreking oor die ontwikkeling van die woord παρουσία by Paulus word dieselfde leemte duidelik, naamlik dat Oepke die ontwikkeling van die idee van die wederkoms bespreek eerder as die gebruik van die woord παρουσία. Daar word byvoorbeeld na die Romeinebrief verwys (Oepke 1964b:868) sonder om te meld dat die woord παρουσία nie daarin voorkom nie.

Volgens Oepke (1964b:868) gebruik Paulus παρουσία altyd saam met ’n selfstandige naamwoord, ’n handelende persoon, in die genitief. Dit word gebruik van mense (1 Kor 16:17; 2 Kor 7:6 e.v.; 10:10; Fil 1:26; 2:12), een maal van die Antichris (2 Tess 2:9), en ook van Jesus Christus (1 Kor 15:23; 1 Tess 2:19; 3:13; 4:15; 5:23; 2 Tess 2:1, 8; 1 Kor 1:8 e.v.).

Volgens Oepke (1964b:868) word kleurryke beskrywings van die parousia in 1 Tessalonisense 4:13–18 en 2 Tessalonisense 1:7–2:8, asook in 1 Korintiërs 15:22–28, 50–55 gegee. Oepke (1964b:868) maak ook die aanvegbare stelling: ‘Paul believes that he and most of his readers will experience the parousia, 1 Th. 4:15; 1 C. 15:51.’ Hiermee word die belydenis dat die verkondiging van die apostels in die Skrif geïnspireerde Godsopenbaring is, misken. Die feit dat Paulus soms in die algemeen skryf (met die meeste ander Christene in die oog) en nie noodwendig met homself in die oog nie, word misgekyk.

Oor die ontwikkeling van die woord παρουσία in die sogenaamde ‘Deutero-Paulus’, wys Oepke (1964b:868) daarop dat die sinoniem ἐπιφάνεια in die Pastorale Briewe een maal gebruik word om die liggaamlike verskyning van Christus te beskryf (2 Tim 1:10). Die feit dat Oepke παρουσία en ἐπιφάνεια as sinonieme tipeer, is veelseggend, maar kritiek kan daarteen uitgespreek word dat hy die tipering sonder motivering doen.

Oor die ontwikkeling van die woord παρουσία in die briewe van Jakobus, Petrus en Judas, merk Oepke (1964b:868, 869) die volgende op: Jakobus 5:7 en verder verwys na Christus se parousia. Die verwagting van die parousia is egter baie meer dinamies in 1 Petrus, alhoewel die term nie daar gebruik word nie. Die idee van ’n ‘first advent of Christ at the end of the times’ kom voor in 1 Petrus 1:20. ‘The decisive → ἀποκάλυψις Ἰησοῦ Χριστοῦ is immediately at hand, 1:5, 7, 13. In the light of it believers are strangers and sojourners, 1:17; 2:11.’ Volgens Oepke is daar vae aanduidings van ’n vroeë wederkomsverwagting in Judas. Weereens kan die kritiek geopper word dat die idee van die wederkoms bespreek word eerder as die gebruik van die woord παρουσία.

In 2 Petrus word twyfel oor die wederkoms afgewys, aldus Oepke. Die wederkoms is nie ’n fabel (1:16) nie. Die spotters is verkeerd (3:3 e.v.). Soos wat die wêreld voorheen deur water vergaan het, so sal dit deur vuur vergaan (3:5 e.v.). Vir die lankmoedige God is duisend jaar soos een dag (3:8). Die dag sal so onverwags soos ’n dief kom:

Believers should hasten towards the παρουσία τῆς τοῦ θεοῦ (vl. κυρίου) ἡμέρας, 3:12. In the first instance παρουσία has here the general sense of ‘coming’ or ‘arrival’, but there is a suggestion of the technical meaning too (Oepke 1964b:869).

Oepke (1964b:869) meld dat die woord παρουσία nie in Openbaring voorkom nie, maar sê dat, vanaf die ἐν τάχει van Openbaring 1:1 en die ὁ καιρὸς ἐγγύς van 1:3 tot by die ἔρχου κύριε Ἰησοῦ van 22:20, die boek vol is van die ‘ardent hope of the parousia’. Die boek is, volgens Oepke (1964b), uniek:

The dreadful Messianic afflictions, depicted in visions, issue in lofty portrayals of the parousia in 14:14–20 and 19:11–16, and this in turn is followed by further eschatological events to give us the fullest sketch we have of primitive Chr. eschatology. (p. 869)

Die deurslaggewende profetiese oogmerk is die beklemtoning van hoop vir die geteisterde lesers.

Oor die ontwikkeling van die betekenis waarin die woord παρουσία in die Evangelie volgens Johannes en in die briewe van Johannes gebruik word, stel Oepke (1964b:869, 870) dat die idee van ’n parousia teenwoordig is in 1 Johannes 2:28; 3:2 en in Johannes 21:22 en volgende verse. Volgens Oepke (1964b) is ongerealiseerde sowel as gerealiseerde eskatologie in Johannes se denkwêreld teenwoordig:

Johannine religion, too, is set in the tension of possession and hope. It is characterised only by a stronger inwardness which puts the accent more firmly on possession. Thus φανεροῦσθαι becomes an alternative for παρουσία, 1 Jn. 2:28; 3:2; cf. Col. 3:4. (pp. 869, 870)

Op grond van sy uitgebreide bespreking van die ontwikkeling van die begrip παρουσία in die Nuwe Testament, wat ongelukkig eerder ’n bespreking van die idee van die wederkoms is en nie van die begrip παρουσία nie, kom Oepke (1964b) tot ’n teologiese samevatting: die idee van die parousia gaan enige poging tot presiese sistematisering daarvan te bowe in die individuele Bybelboeke, maar ook in die Nuwe Testament as geheel:

Powerful antitheses exist. Jesus and Paul take a middle line, John and Rev. are at the extreme edges. Thus the NT itself urges us to consult the significance rather than the letter. (p. 870)

Hiermee openbaar Oepke ’n aanvegbare Skrifbeskouing wat die eenheid van die Skrif weerspreek. Die idee dat die verwagting van die parousia nie as ’n doel op sigself beskou word nie, maar dat dit tot volle gemeenskap met God sal lei, is egter belangrik.

Daar kan met Oepke (1964b:870) saamgestem word wanneer hy skryf: ‘The parousia is the definitive manifestation of what has been effected already as an eschatological reality.’

Konklusie: Die idee van die wederkoms is wydverspreid in die Nuwe Testament. Die woord παρουσία kan in die algemeen aankoms of teenwoordigheid beteken.

As tegniese term vir die wederkoms van Jesus Christus in heerlikheid aan die einde van die tyd, het παρουσία sy oorsprong in die Hellenistiese gebruik waar die woord vir die aankoms of teenwoordigheid van ’n regeerder of oorwinnaar gebruik is. Die aankoms van die regeerder is met groot voorbereiding voorafgegaan en het gepaard gegaan met lofprysing en eerbewys. Die teenwoordigheid van die regeerder het gewoonlik met troos en die hoop gepaard gegaan dat die regeerder nou die omstandighede van die onderdane sal verbeter.

As tegniese term vir die wederkoms het παρουσία ook sy oorsprong in die Hellenistiese gebruik om die heilsame teenwoordigheid van gode aan te dui.

Alhoewel die woord παρουσία in totaal slegs 24 keer in nege van die Nuwe-Testamentiese boeke voorkom (Wigram & Winter 1978:596), is die hele Nuwe Testament vol van die idee van die wederkoms.

Vanuit ’n histories kritiese Skrifbeskouing kan die afleiding gemaak word dat daar teenstrydighede (selfs by dieselfde Nuwe Testamentskrywer) voorkom tussen ’n nabye verwagting en ’n verre verwagting van die wederkoms. Sodanige afleiding hou egter nie daarmee rekening nie dat die totale prediking van die Nuwe Testament oor die wederkoms juis deur verskillende aksente en beklemtonings verryk word.

Ongelukkig het Oepke nie konsekwent net met die woord παρουσία gewerk nie, maar ook met die begrip wederkoms, soos deur ander Griekse wederkomswoorde weergegee. Hy self maak dit nie altyd duidelik wanneer hy met die woord en wanneer hy met die begrip werk nie. Dit vertroebel die gebruik van sy navorsing om ooreenkomste en verskille, met ander woorde, wat ook vir die wederkoms gebruik word, vas te stel.

Oepke beskou sommige ander woorde wat ook vir die wederkoms gebruik word, sonder motivering as sinonieme sonder om enige moontlike nuanseverskille in die betekenis in ag te neem.

Hieruit blyk die volgende: Die kernelement van ’n betekenisdefinisie van παρουσία is dat Jesus Christus sal aankom en teenwoordig wees met sy wederkoms. Die volgende elemente moet ook in ’n betekenisdefinisie van παρουσία vervat word:

  • Sy koms is ’n wederkoms, ’n terugkeer.
  • Hy kom as Regeerder, Koning, Regter, Oorwinnaar en Here.
  • Hy kom in heerlikheid.
  • Sy koms sal met voorbereiding deur sy volgelinge gepaard gaan.
  • Sy koms sal met lofprysing en eerbewys gepaard gaan.
  • Sy koms sal troos en hoop vir sy volgelinge bring.
  • Hy kom om aan die einde van die tyd ’n nuwe bedeling tot stand te bring en om sy volgelinge se omstandighede te verander deur hulle vir ewig te verlos.
Sinkroniese woordstudie van die begrip παρουσία

Die sinkroniese woordstudie word aan die hand van Louw en Nida (1996a; 1996b) se semantiese woordeboek, Greek-English lexicon of the New Testament: based on semantic domains (vol. 1 & 2) gedoen. Die woordeboek se waarde lê grootliks daarin dat daar nie net na die ‘woordeboekbetekenis’ van ’n woord gekyk word nie, maar dat dit die semantiese gebruike van woorde duideliker omlyn deur die betrokke woord saam met ander woorde te groepeer wat binne dieselfde betekenisvelde en sub-betekenisvelde, oftewel domeine en sub-domeine, gebruik word. Hierdie groepering maak dit moontlik om die betekenisaanwending van die betrokke woord by wyse van komponensiële analise duideliker af te baken deur dit met die gebruik van ander woorde binne dieselfde semantiese veld te vergelyk. Louw en Nida se aanpak is sinkronies in dié opsig dat hulle woordeboek tot woorde en gebruike binne die boeke van die Nuwe Testament beperk bly.

Louw en Nida (1996b:189) gee twee moontlike betekenisse vir παρουσία aan, naamlik teenwoordigheid (presence) (85.25) en aankoms (arrival) (15.86). Beide is moontlik van toepassing. Die twee betekenisse word onder verskillende domeine ingedeel.

Παρουσία met die betekenis van teenwoordigheid

Die vertaling as presence word onder domein 85, existence in space, geklassifiseer (Louw & Nida 1996a:724–733). Indien semantiese veld 85 (existence in space) met die voorafgaande semantiese velde vergelyk word (80 space; 81 spacial dimensions; 82 spacial orientations; 83 spacial positions; en 84 spacial extensions) is dit duidelik dat semantiese veld 85, waarin παρουσία geplaas is, die klem op die teenwoordigheid in ’n spesifieke ruimte lê eerder as op die ruimte self.

Voorts word παρουσία onder sub-domein A, be in a place, geplaas (Louw & Nida 1996a:724–726). Die sub-domeine word soos volg aangedui:

  1. Be in a Place (85.1–85.31)

  2. Put, Place (85.32–85.54)

  3. Remain, Stay (85.55–85.64)

  4. Leave in a Place (85.65–85.66)

  5. Dwell, Reside (85.67–85.85).

Deur dit in sub-domein A te klassifiseer, en nie in een van die ander nie, kan die betekenis van die teenwoordigheid afgelei word. Dit is ‘eenvoudige’ teenwoordigheid. Deur παρουσία in sub-domein A te plaas, kan afgelei word dat die teenwoordigheid self veroorsaak is, anders as die woorde in sub-domein B waar die teenwoordigheid deur iets of iemand anders veroorsaak is. Deur παρουσία nie in C te plaas nie, kan afgelei word dat die teenwoordigheid nie altyd bestaan het nie. Deur παρουσία nie in D te plaas nie, kan daar afgelei word dat daar nie beweging weg van die plek van teenwoordigheid af is nie. Die feit dat παρουσία nie in E geplaas is nie, maak die afleiding dat daar nie permanente inwoning is nie, duidelik.

Louw en Nida (1996a) verklaar die gebruik van παρουσία binne hierdie sub-domein soos volg:

85.25 παρουσίαa, ας f: the presence of an object at a particular place – ‘presence, being at hand, to be in person’. ἡ δὲ παρουσία τοῦ σώματος ‘when he is with us in person’ (literally ‘… his bodily presence’) 2 Cor 10:10. (p. 726)

Παρουσία word saam met 30 ander woorde in sub-domein 85A geplaas (Louw & Nida 1996a:724–727).

Dit is interessant dat Louw en Nida glad nie in die bespreking van die gebruike van παρουσία na die wederkoms van Jesus Christus verwys nie. Boonop kies Louw en Nida 2 Korintiërs 10:10 as voorbeeld om die gebruik van παρουσία in die Nuwe Testament te verduidelik – ’n teks waarin dit oor die liggaamlike teenwoordigheid van Paulus gaan. 2 Korintiërs 10:10 is egter een van net sewe gevalle in die Nuwe Testament waar παρουσία gebruik word waar die wederkoms nie ter sprake is nie en Jesus Christus nie die handelende persoon van die παρουσία is nie (Hiers 2011:742; Van Rhyn 2017:33).

Indien παρουσία (85.25) met die ander 30 woorde in die sub-domein A be in a place vergelyk word, is dit duidelik dat die ander woorde gewone aan- of afwesigheid aandui en dat παρουσία as ’n baie naby sinoniem gereken word. Vandaar die verklaring ‘the presence of an object at a particular place – presence, being at hand, to be in person’.

Die enigste opmerklike verskil in die verklaring van παρουσία met die ander 30 woorde in die sub-domein is dat παρουσία ook die element van persoonlike teenwoordigheid bevat. Hieruit kan afgelei word dat, indien παρουσία met Jesus Christus as handelende persoon gebruik word, sy persoonlike teenwoordigheid beklemtoon word.

Konklusie: Dit is verrassend dat Louw en Nida by die bespreking van παρουσία geen woord rep oor die wederkoms van Christus nie en dat daar ook nêrens in hulle woordeboek ’n aparte domein of sub-domein spesifiek aan die betekenismoontlikheid van ‘wederkoms’ afgestaan word nie. Al wat onder hierdie betekenismoontlikheid ‘teenwoordigheid’ afgelei kan word en wat op hierdie artikel van toepassing is, is dat wanneer παρουσία ten opsigte van Jesus gebruik word, dit beteken dat Hy persoonlik met sy liggaam teenwoordig is.

Παρουσία met die betekenis van aankoms

Die tweede betekenismoontlikheid, naamlik ‘aankoms’, word in domein 15, Linear Movement, gekategoriseer (Louw & Nida 1996a:181–211). Die domein word voorafgegaan deur domein 14, physical events and states, wat hoofsaaklik oor weerverskynsels soos wind, reën en donderweer handel. Domein 15 word deur domein 16, non-linear movement, opgevolg, wat veral gaan oor woorde wat beweging aandui sonder dat daar van plek verwissel word. Al wat uit hierdie vergelyking duidelik word, is dat παρουσία saam met ander woorde wat beweging aandui en wat dui op verwisseling van plek deur die subjek gegroepeer is.

Voorts word παρουσία in sub-domein F, come, come to, arrive (15.81–15.87) (Louw & Nida 1996a:182), geplaas.

Die vergelyking van sub-domein F, waarin παρουσία voorkom, met die ander sub-domeine, lewer nie ’n beduidende bydrae tot hierdie studie nie, waarskynlik aangesien παρουσία met die betekenis van die aankoms, die wederkoms van Christus, glad nie aan die orde gebring word nie. Dit is ook opvallend dat παρουσία nie in sub-domein G, return, gegroepeer word nie.

Παρουσία word soos volg verklaar:

15.86 παρέρχομαιb; παραγίνομαιa; πάρειμιb; παρουσίαb, ας f; παρίσταμαιe (and 2nd aorist active): to come to be present at a particular place – ‘to come, to arrive, to come to be present’. (Louw & Nida 1996a:192-193)

Die volgende voorbeelde van die gebruik van παρουσία word voorgehou:

παρουσίαb: παρεκάλεσεν ἡμᾶς ὁ θεὸς ἐν τῇ παρουσίᾳ Τίτου ‘but God, who encouraged us with the coming of Titus’ 2 Cor 7:6; τί τὸ σημεῖον τῆς σῆς παρουσίας καὶ συντελείας τοῦ αἰῶνος ‘what will happen to show that it is the time for your coming and the end of the age’ Mt 24:3. (Louw & Nida 1996a:193)

Soos reeds aangetoon, kom παρουσία 24 keer in die Nuwe Testament voor waarvan dit in 17 gevalle na die wederkoms van Christus verwys. Dit is ’n leemte in hulle navorsing dat Louw en Nida ook in hierdie sub-domein glad nie in die verklaring na die wederkoms verwys nie en die eerste voorbeeld wat gekies word, die aankoms van Titus (2 Kor 7:6), is een van net sewe gevalle waar die wederkoms nie ter sprake is nie en Jesus Christus nie die handelende persoon is nie. Die tweede voorbeeld wat genoem word, die vraag van die dissipels in Matteus 24:3, het wel duidelik met die wederkoms te doen, maar steeds word daar glad nie na die moontlikheid verwys dat παρουσία die wederkoms van Jesus Christus kan beteken nie. Daar word egter slegs met behulp van ’n voetnoot (21) by die tweede voorbeeld uit Matteus 24:3 die volgende opgemerk:

Παρουσία was often used in contexts referring to the arrival or appearance of an important person or supernatural being. In later ecclesiastical Greek, ἡ παρουσία occurs in an absolute sense as a specific reference to the second coming of Christ (Louw & Nida 1996a:194).

Die volgende kan afgelei word oor die betekenis van παρουσία waar dit met Jesus Christus as handelende persoon gebruik word: Hy gaan op ’n plek aankom en dit sal ’n wederkoms wees.

Konklusie: Dit is ’n teleurstellende groot leemte in Louw en Nida se navorsing dat daar nêrens in hulle woordeboek enige betekenisvolle melding gemaak word van die betekenis ‘wederkoms van Jesus Christus’ nie, behalwe deur middel van ’n voetnoot. Die leemte sou aangevul kon word deur ’n nuwe hoofbetekenisveld te skep, naamlik ‘die wederkoms van Christus’ waarin al die woorde wat vir die wederkoms gebruik word, gegroepeer word. So sal die moontlike nuanse-verskille wat tussen die verskillende woorde bestaan, ook uitgelig kan word.

Wat ook veelseggend is, is dat παρουσία onder sub-domein F, come, come to, arrive (15.81–15.87), geklassifiseer word en nie onder G, return (15.88–15.92), nie. Die feit dat die sub-domein F en nie G nie ter sake is, mag moontlik daarop dui dat Jesus nooit weg was nie. Hy was immers heeltyd deur sy Gees teenwoordig. Met sy wederkoms sal Hy egter weer liggaamlik (sigbaar) teenwoordig wees.

Die hoofbetekenisveld waaronder παρουσία geklassifiseer word, naamlik liniêre beweging, gee die idee dat Jesus van iewers af gekom het om teenwoordig te wees. Dit stem ooreen met die Apostoliese Geloofsbelydenis dat Jesus in die hemel aan die regterhand van die Vader is, ‘vanwaar Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel’.

Uit die navorsing van Louw & Nida blyk die volgende: Die kernelement van ’n betekenisdefinisie is dus dat Jesus Christus sal aankom en teenwoordig wees met sy wederkoms. Die volgende elemente moet ook in ’n betekenisdefinisie van παρουσία vervat word:

  • Jesus Christus kom om persoonlik en liggaamlik teenwoordig te wees.
  • Hy sal op ’n plek aankom.
  • Dit sal ’n wederkoms vanuit die hemel wees.
Samevattende konklusie

Wanneer παρουσία met Christus as handelende persoon gebruik word, dui dit op sy aankoms en sy teenwoordig wees met sy wederkoms. Die woord se betekenis hou in dat Jesus van iewers af gekom het om liggaamlik teenwoordig te wees.

As tegniese term vir die wederkoms van Jesus Christus in heerlikheid aan die einde van die tyd, het παρουσία sy oorsprong in die Hellenistiese gebruik waar die woord vir die aankoms of teenwoordigheid van ’n oorwinnaar of regeerder gebruik is. Die aankoms van die regeerder is deur groot voorbereiding voorafgegaan en het gepaard gegaan met lofprysing en eerbewys. Die teenwoordigheid van die regeerder het gewoonlik met die hoop gepaard gegaan dat die regeerder nou die omstandighede van die onderdane sal verbeter.

As tegniese term vir die wederkoms, het παρουσία ook sy oorsprong in die Hellenistiese gebruik om die heilsame teenwoordigheid van gode aan te dui.

Die woord hou in dat Christus, wat na sy hemelvaart vir die wêreld onsigbaar is, nou sigbaar as God teenwoordig sal wees en dat Hy sy mag as God sal toon. Sy teenwoordigheid as Here sal deur die gelowiges, wat sedert sy hemelvaart sy liggaamlike teenwoordigheid vanuit die hemel verwag, gevier word. Hy is die groot Koning wat sy mense sal kom opsoek en hulle omstandighede sal verander deur hulle te verlos. Hy sal ook as Regter kom wat sal oordeel.

Die kernelement van die betekenisdefinisie is dus: Jesus Christus sal aankom en teenwoordig wees met sy wederkoms.

Die volgende elemente moet ook in die betekenisdefinisie van παρουσία vervat word:

  • Die koms van die Here Jesus Christus sal sigbaar wees en Hy sal sigbaar, persoonlik met sy liggaam op aarde teenwoordig wees.
  • Sy Goddelikheid en heerlikheid as Here sal duidelik blyk.
  • Sy koms sal met voorbereiding deur sy volgelinge gepaard gaan.
  • Sy teenwoordigheid sal deur gelowiges met lofprysing en eerbewys gevier word.
  • Hy kom aan die einde van die tyd.
  • Hy kom as Koning of Regeerder, Oorwinnaar, Regter en Here.
  • Sy koms is ’n wederkoms, ’n terugkoms.
  • Sy koms sal troos en hoop vir sy volgelinge bring.
  • Hy kom om ’n nuwe bedeling tot stand te bring, om sy volgelinge se omstandighede te verander.
  • Hy kom om sy volgelinge ewig te verlos.
  • Dit sal ’n wederkoms vanuit die hemel wees.

Finale betekenisdefinisie van παρουσία as wederkomswoord

Op grond van die samevattende konklusie kan die volgende betekenisdefinisie van παρουσία as wederkomswoord geformuleer word:

Dit is die sigbare wederkoms en troosvolle teenwoordig wees van Jesus Christus, vanuit die hemel, by sy mense op aarde, aan die einde van die tyd, in heerlikheid as Goddelike Regeerder, Koning, Oorwinnaar, Regter en Here, waarvoor sy mense voorberei het, wat gepaard sal gaan met lofprysing en eerbewys, wat sy volgelinge met hoop sal vervul omdat Hy hulle omstandighede sal verander deur hulle vir ewig te verlos.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeurs verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenis is met enige party wat hulle nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outersbydrae

H.P.M.v.R. is the primêre outeur. Die artikel is deels gebasseer op die navorsing vir H.P.M.v.R. se PhD tesis waarvan G.J.C.J. die promotor was.

Etiese oorweging

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Data beskikbaarheidsverklaring

Die outeurs bevestig dat die data wat die bevindinge van hierdie studie ondersteun, beskikbaar is in die artikel.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeurs en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeurs nie.

Literatuurverwysings

Bauckham, R.J., 1983, Jude, 2 Peter, Word, Dallas, TX.

Bauer, W., Danker, F.W., Arndt, W.F. & Gingrich, F.W., 2000, A Greek-English lexicon of the New Testament and other early Christian literature, 3rd edn., University of Chicago, Chicago, IL.

Berkouwer, G.C., 1961, De Wederkomst van Christus, Kok, Kampen.

Bruce, F.F., 1982, 1 and 2 Thessalonians, Word, Dallas, TX.

Bultmann, R. & Lührmann, D., 1964a, ‘ἐπιφαίνω, ἐπιφανής, ἐπιφάνεια’, in G. Kittel, G. Friedrich & G. Bromily (eds.), Theological dictionary of the New Testament, vol. 9, pp. 7–10, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Bultmann, R. & Lührmann, D., 1964b, ‘φανερόω’, in G. Kittel, G. Friedrich & G. Bromily (eds.), Theological dictionary of the New Testament, vol. 9, pp. 3–6, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Coetzee, J.C., 1984, ‘Paulus se eskatologiese prediking’, in A. Du Toit (red.), Handleiding by die Nuwe Testament. Band V. Die Pauliniese Briewe: Inleiding en teologie, vol. 5, pp. 332–364, NG Kerkboekhandel, Pretoria.

Delling, G., 1964, ‘ἡμέρα’, in G. Kittel, G. Friedrich & G. Bromily (eds.), Theological dictionary of the New Testament, vol. 2, pp. 947–953, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Hagner, D.A., 1995, Matthew 14–18, Word, Dallas, TX.

Hay, J.C., 1962, ‘The origin and meaning of the New Testament term parousia’, PhD thesis, Faculty of Divinity, University of Edinburgh, Edinburgh.

Hendriksen, W., 2002, Exposition of the Gospel according to Matthew, Baker, Grand Rapids, MI.

Hiers, R.H., 2011, ‘Parousia’, in M. Powell (ed.), The HarperCollins Bible Dictionary, 3rd edn., p. 742, HarperCollins, New York, NY.

Janse van Rensburg, F.J., De Klerk, B.J., De Wet, F.D.W., Lamprecht, A., Nel, M. & Vergeer, W., (reds.) 2011, Preekgeboorte: Van eksegese tot preek, Potchefstroomse Teologiese Publikasies, Pretoria.

Kittel, G., Friedrich, G. & Bromily, G. (eds.), 1964, Theological dictionary of the New Testament, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Louw, J.P. & Nida, E.A., 1996a, Greek-English lexicon of the New Testament: Based on semantic domains, vol. 1, Electronic version of the 2nd edn., United Bible Societies, New York, NY.

Louw, J.P. & Nida, E.A., 1996b, Greek-English lexicon of the New Testament: Based on semantic domains, vol. 2, Electronic version of the 2nd edn., United Bible Societies, New York, NY.

Mare, W.H., 1975, ‘A study of the New Testament concept of the parousia’, in G.F. Hawthorne (ed.), Current issues in biblical and patristic interpretation: Studies in honor of Merrill C. Tenney, pp. 336–345, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Matter, H.M., 1980, Wederkomst en wereldeinde: De zin van de ‘parousia’ in het Nieuwe Testament, Kok, Kampen.

Morris, L., 1988, ‘Parousia’, in G.W. Bromiley (ed.), The International Standard Bible Encyclopedia, vol. 3, pp. 664–670, rev. edn., Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Morris, L., 1992, The Gospel according to Matthew, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Noordegraaf, A., 1999, ‘De eschatologische prediking van het Nieuwe Testament’, in W. van ’t Spijker (red.), Eschatologie: Handboek over de christelijke toekomsverwachting, pp. 85–144, De Groot Goudriaan, Kampen.

Oepke, A., 1964a, ‘ἀποκαλύπτω, ἀποκάλυψις’, in G. Kittel, G. Friedrich & G. Bromily (eds.), Theological dictionary of the New Testament, vol. 3, pp. 556–592, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Oepke, A., 1964b, ‘παρουσία, πάρειμι’, in G. Kittel, G. Friedrich & G. Bromily (eds.), Theological dictionary of the New Testament, vol. 5, pp. 858–871, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Plevnik, J., 1997, Paul and the parousia: An exegetical and theological investigation, Hendrickson, Peabody, MA.

Schneider, J., 1964, ‘ἒρχομαι’, in G. Kittel, G. Friedrich & G. Bromily (eds.), Theological dictionary of the New Testament, vol. 2, pp. 666–684, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Van Rhyn, H.P.M., 2017, ‘Die telos van die openbaring van die wederkoms in die Nuwe Testament: ’n Openbaringshistoriese studie, met besondere fokus op die begrip παρουσία’, PhD-proefskrif, Fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.

Wigram, G.V. & Winter, R.D., 1978, The word study concordance, Tyndale, Wheaton, IL.

Witthoff, D., 2014, The Lexham cultural ontology glossary, Lexham, Bellingham.

Wuest, K.S., 1997, Wuest’s word studies from the Greek New Testament: For the English reader, Eerdmans, Grand Rapids, MI.


 

Crossref Citations

1. Φανερόω : ’n Wederkomswoord in die Nuwe Testament
H.P. Malan van Rhyn
In die Skriflig / In Luce Verbi  vol: 58  issue: 1  year: 2024  
doi: 10.4102/ids.v58i1.3011