Abstract
The influence of the translator’s loyalties and underlying translation philosophy on the translation choices, with reference to the Afr2020 Bible translation. When the reader looks a little deeper than the initial superficial ‘Revised’ Old Translation impression that reading the Afrikaans 2020 translation gives you, then one realizes that a great deal of effort had to be put into leading such a large group of diverse translators to understand the essence of a direct translation and to be able to apply it consistently. But it is precisely here that problems can arise. Due to the nature of skopus and the style of the Afrikaans 2020 translation, this direct translation can be categorised on the side of the more literal translations and it thus has a very high percentage of agreement with the 1953 Old Afrikaans translation. If the direct translation is not just another name or a revision of the so-called word-for-word translation, then what is this direct translation? Van der Merwe referring to this translation also touches on this issue when he says: ‘a ‘direct’ translation of the Bible is not new jargon for a word-for-word translation of the Bible. It is an attempt to ‘interpretively resemble’ in good idiomatic Afrikaans all the communicative clues of the source text in the contexts construed for the source text audience’. This underlying fundamental premise brings a lot of tension to the fore. Van der Merwe also confirms this (2014:294) by stating: ‘attempts to translate ancient texts directly (is) an almost impossible ideal (to) pursue’.
Contribution: This study evaluated the Afrikaans 2020 translation according to its own criteria, the translation brief and to its self-proclaimed nature as ‘direct’ translation in order to try to make an objective evaluation and assessment of this great work. This process also pointed out where the loyalties of the translators lie, and what the underlying translation philosophy is, and how difficult it is to make a distinction between the direct translation method and using archaic words and terms.
Keywords: Bible translation; loyalty of the translator; literal translation; direct translation; target readers; conservative audience; translation team; translation brief; socio-political contexts.
Inleiding
Teks 1:
Vrou, wat maak jy? Die onboetvaardige jongmense moet regtig hul saak in orde kry, hierdie owerspelige jongmense weier om hulle van hulle hoerery te weerhou! Meester, sal u asb help? Ek besweer julle jong mense om nie hier in die pilaargange mekaar aan te kleef nie! Is hier nie enige leermeesters wat die jongmense kan help om te verstaan dat hierdie nie ’n hoerhuis is nie?
Onthou God het bo die gewelf sy woonplek gevestig, en as jy hom gehoorsaam sal Hy vir jou die meetsnoere op mooi plekke laat val!
Teks 2:
Van al die bome van die tuin mag jy na hartelus eet! Noag, sy seuns, sy vrou en sy skoondogters saam met hom het die ark binnegegaan. Hulle was baie geheg aan mekaar. Wees gewaarsku, dat julle nie onsedelik moet lewe nie, ons moet getrou wees aan God. Hy is die Skeppergod wat die hemelkoepel daargestel het. Ons moet Hom alleen dien, want Hy is ’n Besitlike God, maar Noag was egter ontrou en na sy gedrinkery het hy uit sy roes wakker geword en besef wat hy gedoen het. Ek verstout my om te sê Noag moes van beter geweet het.
Hoe sou mens hierdie twee tekste evalueer?
Uit watse vertalings, of tipe vertalings kom hierdie twee tekste?
Die ironie is dat beide hierdie twee tekste, met al die konsepte en uitdrukkings wat gekursiveer is, uit die nuwe Afrikaanse 2020 vertaling (Die Bybel: ’n Direkte Vertaling [Afr2020]) kom, of soos dit tot nou toe in die dokumentasie van die Bybelgenootskap bekend gestaan het Die Bybel: ’n Direkte Vertaling.
Om die Afr2020 te evalueer sal dit goed wees as mens na die vertaalopdrag en die gepaardgaande vertaalprinsiepe en meegaande verklarings kyk en dit as maatstaf gebruik om die vertaling aan sy eie prinsiepe, standaarde en vooropgestelde uitgangspunte en doelwitte te evalueer. Daarom word daar gekyk na die vertaalopdrag en dan ook na wat ’n ‘direkte’ vertaling is, met voorbeelde om die evaluasie te ondersteun. Daar sal eerstens hoofsaaklik voorbeelde aangebied en bespreek word wat die positiewe inslag van ’n direkte vertaling demonstreer en daarna ander voorbeelde waar die direkte vertaalprinsiep nie so suksesvol toegepas was nie. ’n Voortvloeiende vraag is, hoekom is hierdie vertaling gemaak en wat is die onderbou, die fundamentele uitgangspunte en vertaal filosofie vir hierdie vertaling? Wat is die onuitgesproke filosofiese onderbou waarop die vertaling gefundeer is en wat dit gemotiveer het?
Die vertaalopdrag, styl en doel
Die samestelling van die vertaalopdrag vir die Afr2020 het etlike jare geneem. (Geyser-Fouche 2017:9) Op die ou end is die vertaalopdrag as volg geformuleer:
Skep ’n goed verstaanbare, bronteksgeoriënteerde Afrikaanse vertaling van die Bybel wat geskik is vir voorlesing en gebruik in eredienste, asook vir kategese, Bybelstudie en persoonlike gebruik. (Bybeldirektevertaling n.d.a)
Hierdie opdrag word verder gekwalifiseer as ’n vertaling wat ’n getroue weergawe van die semantiese potensiaal van die bronteks moet wees, terwyl beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks so ver moontlik behou moet word. Die vertaling moet van hoë letterkundige gehalte en goed verstaanbaar wees. (Bybeldirektevertaling n.d.b). Smith (2008:173) verduidelik ’n direkte vertaling as volg: ‘A direct translation translates exactly what the original writer said’. Smith (2002) beskryf die aard van ’n direkte vertaling as volg:
Therefore, a direct translation should create the impression of reading the receptor language in the source context. The idiom should be natural to the receptor language, but inferences that the original audience would have drawn from contextual rather than linguistic clues should not be explicated in the translation. (p. 111)
In uitgebreide verklarings in verband met hierdie vertaling, het die Bybelgenootskap dit verder as volg gekwalifiseer, wat by bogenoemde aansluit:
’n Direkte vertaling streef daarna om die bronteks van die Bybel op so ’n manier te vertaal asof die Hebreeuse, Aramese of Griekse spreker/skrywer se woorde ‘direk’ aangehaal word, maar dan asof gewone idiomatiese en hedendaagse Afrikaans gepraat/geskryf word. (Bybeldirektevertaling n.d.c [outeur se eie beklemtoning])
Dit is ’n byna onhaalbare opdrag, om aan beide die oudwêreldse aard en die hedendaagse idiomatiese Afrikaans reg te laat geskied, en daarom kon die Afr2020 nie anders as om die agterdeur oop te hou deur te sê dat hulle nie aan hul eie vertaalopdrag kan voldoen om die vertaling in gewone idiomatiese en hedendaagse Afrikaans weer te gee nie:
Die BDV poog, as ’n direkte vertaling, om die leser eintlik in goeie, maar nie noodwendig algemeen gebruiklike of ‘moderne’ Afrikaans nie, te verplaas in die leefwêreld van die Bybel. (Bybeldirektevertaling n.d.b, [outeur se eie beklemtoning])
Die vertalers van die Nieuwe Bijbelvertaling (NBV) het die ook hierdie probleem ervaar. De Jonge (2006) lig hierdie probleem as volg uit:
Een kerkbijbel in goed Nederlands, die goed voorleesbaar is, verdraagt niet dat daarin de (volgens contemporaine stijlcritici) onverzorgde, vormloze en dorre stijl die de bronteksten eigen is wordt overgebracht. Eén van tweeën: óf men maakt een vertaling in de lage en slordige stijl van de bronteksten, maar dan geen kerkbijbel in goed Nederlands, óf men maakt een kerkbijbel in goed, voorleesbaar Nederlands, maar dan kan de stijl van de oorspronkelijke geschriften daarin niet echt worden overgenomen. (p. 162)
Vir wie word die vertaling gemaak as daar verklaar word dat die vertaling nie noodwendig in algemeen gebruiklike Afrikaans kan wees nie? Dit voel of die Afr2020 in die rigting beweeg waaroor Nord (2016:570) waarsku: ‘If we pretended to translate for a virtual analogon of the source text audience, the texts would not be fully comprehensible to modern readers’. Hierdie waarheid slaan in verskeie plekke deur in die Afr2020.
Van der Merwe (2016:1) het ook hierdie probleem opgemerk:
‘Although it is indeed impossible to fully ‘interpretively resemble’ all the communicative clues of a source text in a ‘direct translation’, it is reasonable to argue that this neither renders the ideal invalid, nor makes it obsolete to explore strategies to come closer to the ideal (as expressed by the commissioners, the churches)’.
Hy herhaal hierdie gevoel van hom een bladsy verder (Van der Merwe 2016:2) ‘some tentative practical and theoretical conclusions are drawn from the practice of pursuing the lofty, but practically impossible, ideal that has been negotiated with the churches’. Smith (2008:178) beklemtoon soortgelyke problematiese uitgangspunte deur te vra: ‘How should a direct translation of the Bible handle information that is implicit in the original, but will be lost in a literal rendering?’ Dat dit ’n probleem vir die Afr2020 is, word heel duidelik. Soos later uitgelig sal word het dit beslis gelei tot inkonsekwente toepassing van die ‘lofty principles’ wat voorop gestel is.
Dit lyk of die Afr2020 besluit het om hierdie probleem aan te spreek deur die oormaat van voetnote in hierdie vertaling in te voeg. Blight (2005:11) noem dat voetnote die volgende kategorieë ingedeel kan word: ‘The major categories of information for which footnotes are appropriate are background information, linguistic information, and interpretational information’. Tog is daar verskeie voetnote in die Afr2020 wat eenvoudig net verwysings na ander verse of soortgelyke woorde is, wat nie veel bydra tot die verstaan van die teks nie. Dit sou baie goed wees om baie meer breedvoerig inligting rondom die diepgaande besprekings oor die beleid ten opsigte van die agtergrond, die ideologiese onderbou, die styl, voetnote, uitleg, ens. te kon kry. Dit wat in die publieke ruim beskikbaar is, is baie gekonsentreer en opgesom en bied meestal nie die dieper agtergrond, insigte en besprekings nie.
Siende dat hierdie vertaling baie sterk steun op die Skoposteorie soos uiteengesit deur Christiane Nord (Van der Merwe 2014:298), is dit goed om uit te lig wat Nord as essensieel beskou in hierdie funksionalistiese model van ’n vertaling. Die woord Skopus is afgelei van die Griekse woord vir doel. Nord (2016:579) onderstreep onder andere die volgende aspekte: Die doel van die vertaling word bepaal deur die vertaalopdrag, wat direk of indirek die situasie waarvoor die vertaling gemaak word, uitspel. Dit wil voorkom of hierdie benadering, die doel van die vertaling ’n alles oortreffende rol speel in die keuses wat gemaak is tydens die vertaling van die Afr2020.
Omdat dit onmoontlik is om alle aspekte van die vertaalopdrag en die doelsituasie op gelyke vlak in aanmerking te neem, is daar uit die aard van die saak ’n hiërargie van hoe die funksionele aspekte van die vertaalopdrag toegepas word. Alhoewel dit nie noodwendig bewustelik is nie, is dit sigbaar uit die keuses wat gemaak is en lojaliteite wat voorrang geniet.
Combrink (2014:1) sluit hierby aan as hy sê dat die vertalers ’n dubbele lojaliteit moet navolg, naamlik teenoor die bronteks sowel as teenoor die opdraggewers. Dit veronderstel dat daar wel spanning is in die uitvoering van die vertaalopdrag. Om die vertaalopdrag uit te voer deur die bronteks so direk as moontlik te vertaal, moet die vertaler bereken wat die funksie van die bronteks wat hy/sy op daardie oomblik vertaal in die oorspronklike situasie was, en dan moet hy/sy dit op so ’n manier weergee asof die oorspronklike outeur direk met ons praat. Dit sluit baie nou aan by Gutt (2010:173) ‘A direct translation presupposes an understanding of the original. … communicating the originally intended interpretation to the receptors’.
Nord (1997:21) onderstreep die belangrikheid van die insig van die vertalers. Die insig in en die verstaan van die vertaalopdrag en die uitvoering daarvan is essensieel in die bereiking van die doel van die vertaling, die skopus, soos uiteengesit in die vertaalopdrag. Die verstaan van die vertalers van wat die vertaalopdrag vra en wil bereik, is van kardinale belang:
The role of the translator is crucial in the translation process. The translator is ostensibly the expert in the translational action and should be responsible both for carrying out the commissioned task and for ensuring the result of the translation process. (Nord 1997:21)
Nord (1997:26) spel die Skoposteorie as volg uit:
‘According to Skopostheorie (the theory that applies the notion of Skopus to translation), the prime principle determining any translation process is the purpose (Skopus) of the overall translational action’.
Mens kan nie anders om as by Wendland (2015:210) aan te sluit nie, waar hy dit as volg stel:
‘The total meaning package of a biblical text includes not only its content (information), but also its expressions of emotion, attitude, preference (value), and purpose’.
Hierdie studie sal poog om hierdie aspekte in aanmerking te neem in ’n poging om ’n objektiewe wetenskaplike evaluasie van hierdie vertaling te maak.
Voorbeelde van ’n vars vertaal benadering!
Met die vertaling van die ou bekende uitdrukkings God van die Leërskare (אֱלֹהֵ֣י הַצְּבָאֹ֑ות), lyk dit beslis of die vertalers die konsep van ’n vars nuwe aanslag waar die waarhede van die oorspronklike direk met ons kommunikeer, goed verstaan het. Dit lyk of die vertalers ingesien het dat die ou geykte uitdrukking HERE van die leërskare nie die beste manier is om hierdie Hebreeuse uitdrukking in Afrikaans te vertaal nie, en daarom het hulle dit met die toepaslike vars formulering van Here, Heerser oor alle magte vertaal. Dit blyk dat dit well konkordant op hierdie manier vertaal is. Ook ander uitdrukkings waar leërskare nie as kwalifisering van die HERE gebruik word nie, is konsekwent gehou by die konsep van heerser oor magte.
’n Volgende voorbeeld waarin die verskil tussen ’n direkte en ’n letterlike vertaling gesien kan word, is in Matt 11:1, met verwysing na die lekseem πόλις (polis).
In Matt 11:1 is daar ’n verwysing na Jesus wat in al die omringende dorpe geleer en gepreek het. By die woord dorp is daar ’n voetnoot wat uitlig dat die Griekse lekseem πόλις (polis) stad beteken, maar dat dit in hierdie konteks beter pas om dit as dorp te vertaal. Dit is ’n baie goeie voorbeeld van waar die direkte vertalingsprinsiep die oorspronklike beter weergee as die letterlike vertalingsprinsiep.
Dit is interessant om op te merk dat die proefuitgawe van Die Nuwe Testament en Psalms: Direkte vertaling reeds ’n verdere aanpassing gemaak het en die woord dorp baie meer gereeld gebruik as wat dit in die elektroniese proefvertaling gebruik word as vertaal ekwivalent vir die Griekse lekseem πόλις (polis).
Dit is prysenswaardig dat die direkte prinsiep konsekwent toegepas is, maar nie noodwendig konkordant nie. πόλις (polis) word nie slegs as dorp vertaal nie (soos mens sou verwag in ’n letterlike vertaling), maar dikwels word dit tog ook as stad vertaal. In Matt 4:5 word die woord πόλις (polis) met stad vertaal in die uitdrukking ‘die heilige stad’.
- Uit sy roes wakker geword
In Gen 9:24 het die Afr2020 doelbewus van die letterlike vertaling van ‘van sy wyn wakker geword’ weggebreek. Dit lui baie mooi idiomaties dat Noag uit sy roes wakker word. Natuurlik kon die Afr2020 nie anders as om ’n voetnoot te plaas om aan te dui dat die oorspronklike Hebreeus nie dieselfde idiomatiese uitdrukking as Afrikaans het nie. Die voetnoot lui dan: sy roes: Letterlik ‘sy wyn’.
- Bloedfamilie en vlees en bloed
In Gen 29:12 vertel Jakob vir Ragel dat hy bloedfamilie van haar pa is. Dit is regtig ’n besondere idiomatiese vertaling wat in min ander vertalings voorkom, maar weereens moes die Afr2020 hul punt duidelik maak dat die oorspronklike nie sê dat hulle bloedfamilie is nie, maar dat dit letterlik sê dat hulle broers is.
Dit is besonders dat Laban in Gen 29:14 op ’n idiomatiese manier antwoord dat hulle ‘vlees en bloed’ is, met ’n voetnoot wat duidelik maak dat die bronteks sê ‘my been en vlees’. Dit is goed dat dit dan ook so vars vertaal is in 2 Sam 19:12. Die feit dat die vertalers nie slaafs die oorspronklike uitdrukkings gevolg het nie, en by die selfde semantiese domein gebly het, is prysenswaardig. Dit is egter opmerklik dat die voetnoot hier eintlik die verkeerde illusie skep deur te meld dat die woorde in die vertaling my broers en my bloedfamilie ook as my been en vlees vertaal kan word, asof eersgenoemde dan ’n meer letterlike vertaling sou wees en dat my been en my vlees vertalings ekwivalente sou wees van die oorspronklike. Dieselfde uitdrukking in die volgende vers word eenvoudig idiomaties vertaal sonder enige verwysing dat die oorspronklike my been en my vlees is.
Dit blyk ’n prinsiep te wees in die Afr2020 dat daar ’n voetnoot by ’n sekere item geplaas is en indien daardie spesifieke fenomeen binne ’n vers of twee vanaf die vorige voorkoms verskyn, daar dan geen voetnoot aangebied word nie. Dit was nie moontlik om bevestiging van hierdie prinsiep op te spoor nie.
Op sekere plekke kan mens die konsep van ’n direkte vertaling baie goed waarneem, maar op ander plekke blyk dit dat daar eerder keuses gemaak is ten opsigte van woordeskat wat ooreenstem met die woordeskat van die 1933 en 1953 Afrikaanse Vertaling (Afr53).
Die Ou Vertaling (Afr53) vertaal Gen 7:7 redelik letterlik as volg: En Noag en sy seuns en sy vrou en die vroue van sy seuns saam met hom het in die ark gegaan vanweë die waters van die vloed. Die Afr2020 het dit baie mooi vars vertaal met: Maar Noag, sy seuns, sy vrou en sy skoondogters saam met hom, het die ark binnegegaan voor die waters van die vloed.
Hier is nie net weggebreek van ’n stokkerige letterlike vertaling nie, maar die oorspronklike is op goeie Afrikaans direk vertaal. Beide woordkeuses en die diskoers verbinding is uitstekend!
Dit blyk egter dat hierdie vernuwende konsep van ’n direkte vertaling net nie deurgaans konsekwent gevolg kon word nie. In Gen 7:13 en vers 18 het die vertaler weer teruggeval op die tradisionele vertaling van seuns se vroue. Dit is nie ’n waterskeidingsvoorbeeld nie, maar dit lig die onderliggende styl van verknogtheid aan die letterlike verstaalstyl en (in)konsekwensie uit. Dit is redelik tipies in hierdie vertaling om soortgelyke tendense op te merk.
’n Volgende voorbeeld wat die verskil tussen ’n direkte en ’n letterlike vertaling mooi uitwys kan in Eks 34:14 gevind word. Hier het die vertalers nie net van die letterlike vertaalprinsiep om van ’n Jaloerse God te praat, weggebreek nie, maar hulle het dit ook reggekry om hul lojaliteit teenoor die prinsiep van ’n vars direkte vertaling swaarder te laat weeg as hul lojaliteit teenoor die konvensies soos dit gevestig is in die letterlike vertaling van die Hebreeuse lekseem קַנָּא (qanna).
Die elektroniese woordeboek in Paratext Key Terms of the Old Testament gee die kern definisie van קַנָּא (qanna) aan as ‘an aggressive response to a threat to reputation or honor’. Die Hebreeuse lekseem קַנָּא (qanna) is deur die Afr53 vertaling konkordant as jaloers vertaal. Maar met die insigte van hedendaagse taalkundige studies word verstaan dat die semantiese raamwerk waarbinne קַנָּא (qanna) figureer is om aan te dui dat jou eer beskerm moet word, en dat jy jouself beywer om jou eer te beskerm. Die Afr53 vertaling het by die tradisionele vertaal ekwivalent gehou deur Eks 34:14 as volg te vertaal:
Afr53 Eks 34:14 want die HERE se Naam is Jaloers – ’n jaloerse God is Hy.
Die vertalers van die Afr2020 het goed by die prinsiep van die direkte vertaling aangesluit deur קַנָּא (qanna) as besitlik te vertaal:
Afr2020 Eks 34:14 omdat die HERE wie se Naam ‘Besitlik’ is, ’n besitlike God is.
In Spr 6:1 word mens vermaan om nie sommer vir iemand anders borg te staan nie. Die borg staan word dan bevestig met ’n handslag:
Afr53 My seun, as jy vir jou naaste borg gestaan het, vir ’n vreemde jou handslag gegee het.
Die Afr2020 het dit baie goed vertaal met die frase: jou hand gee. Hulle het dus weggebreek van die letterlike vertaling en dit idiomaties weergegee wat dus ’n goeie voorbeeld is van hoe dit sou wees as die oorspronklike outeur direk met ons in gewone Afrikaans sou praat, en dit is dan ook wat die oorspronklike vir die leser van daardie tyd sou verstaan.
Die dilemma ten opsigte van die implimentering van die prinsiepe van ’n direkte vertaling teenoor ’n letterlike vertaling sien mens ten opsigte van die vertaling van die Griekse lekseem ἱερός (hieros) (tempel).
In Matt 21:12 het Jesus die tempelterrein1 binnegegaan en almal wat op die tempelterrein aan die koop en verkoop was, weggejaag. Die direkte vertaling maak dit dus duidelik dat die Griekse lekseem ἱερός (hieros) wat letterlik as tempel vertaal kan word, ook ander semantiese waardes het, naamlik om na nie net die gebou te verwys nie, maar ook na die hele tempelkompleks. Hier word die semantiese konsep van sinekdogee baie goed weergegee in die keuse van die woord tempelterrein. Alhoewel die woord tempel gebruik word, verwys dit nie letterlik net die tempelgebou nie, maar na alles wat op daardie terrein ingesluit is.
Die Griekse lekseem ἱερός (hieros) word egter nie konkordant op alle plekke as tempelterrein vertaal nie.
Soms word dit byvoorbeeld as tempelgebou vertaal waar die Satan Jesus wou verlei en Hom na die tempel geneem het, soos beskryf in Matt 4:5 en Luk 4:9.
Dit is egter opmerklik hoe die styl van vertaling in Matt van die vertaalstyl in Hand verskil. Die vertaler van Hand het konsekwent by die tradisionele letterlike vertaal-filosofie gebly deur die Griekse lekseem ἱερός (hieros) in alle kontekste konkordant as tempel te vertaal. ’n Baie voor-die-hand-liggende voorbeeld van waar ἱερός (hieros) as tempelterrein vertaal sou kon word kan in Hand 3:3 gevind word, waar Petrus en Johannes die ἱερός (hieros) binne gegaan het. Dit is duidelik dat wanneer iemand deur die poort gegaan het, hy nie direk in die tempelgebou self ingegaan het nie, maar in die tempelterrein, en tog word dit hier as tempel vertaal:
Afr2020 Hand 3:3 Toe hy sien dat Petrus en Johannes op die punt was om die tempel binne te gaan, het hy ’n aalmoes gevra.
Dit is jammer dat die mooi prinsiep van ’n direkte vertaling ook hier nie meer konsekwent toegepas is nie. Dit blyk nog ’n voorbeeld te wees van waar dit moeilik is om ’n hele span vertalers almal op dieselfde bladsy te kry. Dit is moeilik om van die onderliggende behoudendheid weg te breek. Dit lei ons om die volgende vraagstuk op die tafel te plaas.
Ideologiese grondslag en gepaardgaande vertaal-filosofie
Hoekom is hierdie vertaling gemaak?
Daar is versoeke ontvang van kerke wat nie die 1983 Afrikaanse Vertaling (Afr83) aanvaarbaar gevind het nie, om ’n ander styl van vertaling te maak (Van Rensburg, A. & Van der Merwe 2007:270). Daar is vervolgens navorsing oor die behoefte aan ’n nuwe vertaling gedoen. Hulle (2007:273) meld dat: ‘Die sukses van ’n Bybelvertaling hang nie net daarvan af of ’n teoreties verantwoordbare vertaalmodel gebruik is nie. Dit is veral belangrik dat die behoeftes van die doelgehoor in ag geneem behoort te word en dat die vertaling dus bruikbaar sal wees’. In hul (Van Rensburg & Van der Merwe 2007:275) steekproef oor die gebruik van sekere Bybelvertalings het hulle bevind dat meer as 70% die Afr83 gebruik en net oor die 50% gebruik die Afr53. Uit ’n ander vraag het geblyk dat ’n formele vertaling deur die ouderdomsgroep van 43 tot 51 verkies word, terwyl beide formele en informele deur mense van 39 to 47 jaar verkies word, en dat ’n informele vertaling deur mense van die ouderdomsgroep van 41 to 48 verkies word. Hieruit kan twee afleidings gemaak word. Eerstens dat daar op die vlak van die alledaagse Bybelleser nie so ’n groot behoefte aan ’n formele, meer letterlike vertaling is nie, en tweedens, dat as ’n meer formele vertaling gemaak word, dit nie noodwendig die behoefte van die meeste lede van die nuwe gesag, die toekoms van die kerk aanspreek nie. Dit sal dan ook later duidelik word dat die Afr2020 die behoefte van mense met ’n sterk tradisionele Bybelse agtergrond en voorliefde vir ‘kerktaal’ aanspreek.
Dit het duidelik geword dat die Bybelgenootskap ’n vertaling wou waak wat baie nader aan die letterlike Afr53 vertaalstyl is as aan die betekenisgebaseerde verstaalstyl van die Afr83 vertaling weens ’n onuitgesproke ideologiese vertrekpunt van die Bybelgenootskap, sonder dat hierdie onderliggende ideologiese uitgangspunte en fundamentele grondslag uitgespel is. As mens die styl en taal van die vertaling ontleed, dan kan mens die onderliggende ideologiese onderbou identifiseer. Dit lyk vir my of die sleutel vir die ideologiese grondslag van hierdie vertaling alreeds verskuil is in die verklarings wat vooraf oor die vertaling gemaak is:
Die Afr2020 poog, as ’n direkte vertaling, om die leser eintlik in goeie, maar nie noodwendig algemeen gebruiklike of ‘moderne’ Afrikaans nie, te verplaas in die leefwêreld van die Bybel. (Bybeldirektevertaling n.d.b)
Dit is amper asof moderne Afrikaans nie in lyn is met die styl wat hulle wou navolg nie, en asof die uitbeelding van die Bybelse leefwêreld nie in hedendaagse Afrikaans weergegee kan word nie. Dit is moontlik die rede waarom daar dikwels voorkeur is vir argaïese Afrikaanse woorde is, eerder as hedendaagse woorde en konsepte.
Insig en Lojaliteite
’n Deurslaggewende vraag is, wat reken die vertalers is die mees fundamentele skopus van die vertaling waarop keuses gebaseer is? Wat wil die opdraggewers en die vertaalspan bereik met hierdie vertaling? Die rol wat die verstaan van die direkte vertaal metode en die gepaardgaande lojaliteite en keuses word in hierdie paragraaf uitgelig na aanleiding van praktiese voorbeelde.
Alhoewel Kruger en Crots (2014:149) nie noodwendig op Bybelvertaling fokus nie lig hulle interessante aspekte uit ten opsigte van die etiek van vertalers. Daar word drie etiese vertrekpunte genoem en dit wil voorkom of die vertalers van die Afr2020 baie sterk in die derde kategorie val: ‘Lastly, personal ethics may be seen as founded on loyalty towards the translator’s own system of beliefs’.
In haar bespreking van die Skopus teorie stel Nord (2016:570) dit dat die doel van ’n vertaling voorop staan en daarom is die stelling waar: ‘the end justifies the means’. Dit wil vir my voorkom of die doel wel die middele heilig in baie van die besluite wat geneem is en keuses wat gemaak is.
Die bewustelike of onbewustelike ideologiese grondslag van behoudendheid en die lojaliteit teenoor die letterlikheid van die Ou Afrikaanse vertaling word duidelik deur die styl van hierdie vertaling, woordkeuses en die algemene aanslag. Dit kan duidelik waargeneem word uit die heel eerste paragraaf van hierdie artikel waar woordkeuses baie duidelik ’n behoudend-konserwatiewe aanslag beklemtoon, met keuses van woorde soos hoer en hoereer eerder as prostituut en onsedelikheid, gewelf in plaas van hemelkoepel, meester in plaas van meneer en onboetvaardig in plaas van onwilligheid om tot inkeer te kom, aankleef in plaas van geheg aan mekaar wees, om maar net ’n paar te noem. Dit is interessant dat hierdie keuses nie konsekwent, konkordant toegepas is nie.
Daar is egter aspekte wat vir my tog deurslaggewend is, gemeet aan die vertaalopdrag, naamlik dat die Afr2020 ’n voorlees en studie Bybel moet wees in gebruiklike Afrikaans en ook vir die Kategese. Woorde en konsepte soos onboetvaardige gaan nie dadelik verstaanbaar wees wanneer hierdie teks voorgelees word nie, veral nie vir die kategete nie, om nie eers te praat van hulle reaksie op die mense wat hulle nie van hoerery wil weerhou nie.
Dit pas dan goed by die uitspraak waar gesê is dat die Afrikaans dalk vreemd mag klink, en ’nie noodwendig algemeen gebruiklike of ‘moderne’ Afrikaans’ sal wees nie. Meer duidelik kan die onderliggende filosofie van die vertaling nie uitgespel word nie! Dit is in lyn met wat Wendland (2009:95) uitlig: ‘a foreignizing translation – ‘a deliberate attempt to stage a culturally alien reading experience that avoids the prevalent ethnocentrism common in Western translations’.
In die opskrif in Lukas 10 waar daar verwys word na die stede wat nie wou luister nie, wat nie tot bekering wou kom nie, word hulle as onboetvaardige stede beskryf. In ’n informele opname het 8 uit 10 mense glad nie geweet wat dit beteken nie. Een respondent het gereken dit verwys na asiel stede. Ek het aan die vertalers van die Afr2020 oor hierdie woordkeuse geskryf, maar hulle het gereken dat dit algemeen bekend is in hedendaagse Afrikaans. Soos daardie stede, was hulle onboetvaardig en wou nie erken dat dit ’n argaïese woord is wat nie alledaagse meer gebruik word nie en byna glad nie meer verstaan word nie. Met keuses soos hierdie verklaar hulle: Ons is behoudend en ons wil nie te ver weg beweeg van die behoudende Ou Afrikaanse vertaling nie. As mens Nord se konsep kan gebruik, dan wys dit dat die lojaliteit van die vertalers swaarder oorhang na die kant van die behoudendheid as na die vernuwende taalkundige prinsiep van ’n direkte vertaling. Dit is dus heel duidelik dat hierdie opskrif nie doen wat Fry (1983:235) uitlig as wat opskrif behoort te doen nie: ‘a feature which can help the reader in his understanding of the text’.
Die Afr2020 maak ekstensief gebruik van voetnote, wat aan die een kant voldoen aan die vertaalopdrag dat die Afr2020 ook as ’n studie Bybel gebruik sou kon word, maar aan die ander kant verraai dit baie sterk die fundamentele uitgangspunt en vertaal filosofie onderliggende aan hierdie vertaling. Daar is letterlik honderde verwysings na wat die oorspronklike teks letterlik sou sê, of waarin die meer idiomatiese verstaanbare uitdrukkings verdedig word deur uit te lig wat die letterlike onderbou in die bronteks sou wees.
Deur nou enkele voorbeelde uit te lig, word die spanning tussen die lojaliteit teenoor die prinsiep van ’n direkte vertaling en die onderliggende behoudendheid en lojaliteit tot die letterlike onderstreep.
Die Afr53 vertaal Hoogl 2:7 met die bekende uitrukking Ek besweer julle:
Ek besweer julle, dogters van Jerusalem, by die gemsbokke of by die takbokke van die veld, om nie die liefde wakker te maak of op te wek voordat dit die liefde behaag nie.
In Hoogl 2:7 word die Hebreeus lekseem שׁבע (shaba’) in die Hifil stamformaat gebruik (הִשְׁבַּ֨עְתִּי) (hisba’ti) en dit word as besweer vertaal. Om te verstaan wat dit beteken, is daar na ander plekke in die Hebreeuse Bybel gekyk na waar hierdie spesifieke grammatiese vorm voorkom. Woordeboeke lei mens baie vinnig om te sien dat שׁבע (shaba’) meer dikwels in die Nifal stamformaat voorkom. Hierdie Hifil vorm kom slegs sewe keer voor. Met vier van die voorkomste in Hooglied, die ander voorkomste is in Konings en Kronieke. Al hierdie voorkomste is in die Hifil Perfektum, behalwe in Kronieke waar dit ’n Partisipium vorm is.
As mens na 1 Kon 2:42 kyk, dan merk mens op dat dit daar net soos al die voorkomste van Hooglied in die eerste persoon Hifil Perfektum vorm is.
Die Afr53 vertaal 1 Kon 2:42 konkordant as volg:
Het ek jou nie by die HERE besweer …
Dit is dus konkordant vertaal soos in Hooglied. In 1 Kon 2:42 kom die Afr2020 met die baie mooi vars benadering waarin hulle dit wil duidelik maak hoe die oorspronklike outeur direk met sy mense in verstaanbare taal gepraat het, asof hulle dan ook so direk verstaanbaar met ons in die doeltaal praat.
Die Afr2020 vertaal 1 Kon 2:42 dan as volg:
Het ek jou nie by die HERE laat sweer en gewaarsku nie
vergelykenderwys word 2 Kron 26:13 as volg deur die Afr2020 vertaal:
Selfs teen koning Nebukadneser, wat hom by God laat sweer het, het hy in opstand gekom
As mens na hierdie laaste twee voorbeelde kyk dan sien mens dat hierdie ’n vars benadering is, wat afwyk van die konkordante letterlike konvensie van die Afr53.
In Hooglied verskyn hierdie selfde Hebreeuse werkwoord vier keer in die selfde grammatiese vorm as in die twee voorbeelde hierbo. (Hoogl 2:7, 3:5, 5:9, 8:4). In al hierdie voorkomste is dit dieselfde refrein wat herhaal word:
Afr53 Ek besweer julle, dogters van Jerusalem …
Woordeboeke soos The Abridged Brown-Driver-Briggs Hebrew English Lexicon of the Old Testament (Whitaker et al. 1997), maak dit duidelik dat die Hifil stamformasie hier ’n kousatiewe semantiese potensiaal weergee. Die oorspronklike outeur wou aan sy hoorders ’n ernstige versoek deurgee. Ek sou dan wou voorstel dat hierdie vers as volg vertaal kan word:
Sweer vir my, jong dames van Jerusalem, … dat julle nie liefde sal wakker maak voordat die tyd daarvoor ryp is nie.
Hierdie poging van my is in lyn met hoe die International Standard Version (ISV) en die New International Version (NIV) dit vertaal het:
NIV Promise me, O women of Jerusalem, by the gazelles and wild deer, not to awaken love until the time is right. (Holy Bible, New International Version, Zondervan 1984)
ISV Swear to me, young women of Jerusalem, by the gazelles or by the does of the field, that you won’t awaken or arouse love before its proper time! (The Holy Bible: International Standard Version® Release 2.1 Copyright © 1996-2012 The ISV Foundation)
Die Afr2020 vertaal Hoogl 2:7 (en al die ander herhalings van hierdie refrein) egter as volg:
Afr2020 Meisies van Jerusalem, ek besweer julle …
Dit is opmerklik dat die Afr2020 dit in twee van die ses gevalle reg gekry het om ’n vars direkte vertaling te maak, maar in die ander vier gevalle hier in Hooglied het hulle teruggeval op die byna onverstaanbare woordkeuse van die Afr53. Om die moontlike kritiek van die polisemiese gebruik van die Hebreeuse lekseem שׁבע (shaba’) te verminder, is daar probeer om by so na as moontlik parallelle situasies en ooreenstemmende Hebreeuse werkwoord vorme te bly.
Dit is egter opmerklik dat die Afr2020 nie die aangesprokenes letterlik as dogters van Jerusalem vertaal het nie, maar dit in ’n direkte styl as meisies van Jerusalem2 weergegee het. Dit bring baie vrae na vore.
Hoekom is die aanspreekvorm vars vertaal, maar die res van die sin ’n slaafse navolging van die Afr53?
Die Griekse woord πορνεία (porneia) kom 25 keer in die Nuwe Testament voor en dit word meestal met prostitusie of onsedelikheid vertaal, maar hoofsaaklik in Hand en Op3 waar hierdie lekseem in totaal tien keer voorkom, word dit konkordant as hoerery vertaal:
Hand 15:20 maar dat ons vir hulle moet skryf om weg te bly van dit wat deur afgode besoedel is, van hoerery …
1 Tess 4:3 word as volg vertaal:
Want dit is God se wil dat julle heilig moet leef: dat julle julle sal weerhou van onsedelikheid
Dit moet egter uitgelig word dat die gepaardgaande Griekse sinskonstruksie in hierdie gevalle dieselfde is en dat daar dus nie op grond van taalkundige vereistes of kontekstuele veranderlikes keuses vir die meer konserwatiewe vertaal variant hoerery gekies kan word nie. In beide voorbeelde word dieselfde Griekse werkwoord gebruik. Weerhou julle van hoerery/onsedelikheid: ἀπέχεσθαι … πορνείας.
Indien dit bewys kon word dat die kontekste waarin hierdie lekseem voorkom en gebruik word verskil en daarom met verskillende vertaal ekwivalente vertaal moet word, dan sou mens kon toegee. Die Afr2020 is in essensie nie ’n konkordante letterlike woord-vir-woord vertaling (Van der Merwe 2014:293) nie, waar ’n konkordante vertaalstyl gevolg word nie. Daarom is dit totaal aanvaarbaar en goed dat πορνεία (porneia) met konsepte soos owerspel (Matt 5:32), onsedelikheid (Gal 5:19), seksuele losbandigheid (Efes 5:3) vertaal word.
Gewelf:
Afr2020: Gen 1:6: God het gesê: ‘Laat daar ’n gewelf wees
Die Hebreeuse lekseem רָקִ֖יעַ (raqiya’) (koepel) kom slegs 12 keer in die Hebreeuse Bybel voor. In Ps 19:2 en Dan 12:3 vertaal die Afr2020 hierdie lekseem as hemelkoepel. In Eseg word dit konsekwent (maar nie konkordant nie) as koepel vertaal:
Ook Ps 19:1 word deur die Afr2020 as volg vertaal:
Die hemelruim verkondig die eer van God
en die hemelkoepel maak die werk van sy hande bekend.
In Gen 1:6 het die Afr2020 dit egter as gewelf vertaal.
Hoekom word ’n beter verstaanbare Afrikaanse woord, koepel, in die voetnoot gebruik, maar die vertaalde teks gebruik ’n woord wat net in die Afr83 en in Nederlandse vertaling voorkom, naamlik gewelf.
Soms is die lojaliteit teenoor die Afr53 se letterlike vertaling so sterk dat dit eenvoudig net aangedui moet word. ’n Voorbeeld hiervan is in Gen 2:23 wat sê dat sy vrou genoem moet word omdat sy uit die man geneem is. Daar is ’n voetnoot geplaas: vrou: Of mannin. Dit is nie duidelik of hierdie verwysing enige waarde toevoeg tot verstaan van die jonger lesers van ons dag en tyd nie.
Daar is nie baie mense wat vir jou sal kan sê wat gewelf en mannin is nie, daarom word daar gereken dat die gebruik van woorde soos hierdie voldoen nie aan dit wat die Bybelgenootskap hulself ten doel gestel het nie, naamlik ’n vertaling waarin die oorspronklike outeurs direk met ons praat in ‘gewone idiomatiese en hedendaagse Afrikaans. (Bybeldirektevertaling n.d.c). Dit blyk dat die lojaliteit teenoor die ou letterlike Afrikaanse vertaling hier meer gewig gedra het. Die gebruik van die onverstaanbare en onbekende woorde gewelf en mannin lig weer eens die konserwatiewe ideologiese onderbou uit. Sulke woorde is heeltemal onbekend aan kategete, en dit mis dan die doel wat opgeteken is in die vertaalopdrag as deel van die teikenleser groep. Dit lyk of hierdie vertaling met woorde soos hierdie glad nie in voeling is met ’n teikengroep wat ’n geletterdheidsvlak van matriek het nie.4
Hierdie onderliggende prinsiep van behoudendheid, wat die lojaliteit ten opsigte van ouer sogenaamde letterlike vertalings beklemtoon, kan verder uitgelig word deur die volgende voorbeelde.
Die Afr2020 verwys in Gen 8:13 na Noag wat die deksel van die ark verwyder. In Eks 26:14 en 35:11, om maar net twee voorbeelde te noem, word dieselfde Hebreeuse lekseem מִכְסֶה (mikseh) vertaal as bedekking. Hierdie lekseem kom ook in Numeri 3:25 voor, waar dit as dekkleed vertaal word. Ook hier pas hierdie semantiese variant baie goed.5
In Gen 8:13 word מִכְסֶה (mikseh) as deksel vertaal maar op al die ander plekke met ander mooi betekenisvolle variante vertaal. Daar word gereken dat dit in elk geval semanties problematies is om te sê dat die ark ’n deksel gehad het wat deur Noag oopgemaak is. Die Afr83 het Gen 8:13 dit baie betekenisvol as luik vertaal.
Nog ’n voorbeeld van die geweldige klem op die waarde van ’n letterlike vertaling kan gesien word in Lukas 7:24. Die voetnoot by hierdie vers lui as volg: 7:24 begin praat: Letterlik ‘sy mond oopgemaak’. Dit is ’n uitdrukking om die begin van ’n belangrike uitspraak aan te dui.
Mens sou dit eksplisiet kon maak in die vertaling waar hierdie spesifieke Griekse konstruksie voorkom, met ’n frase soos: Hy het aangekondig. Maar alhoewel dit semanties korrek sou wees, voldoen dit nie aan die onuitgesproke lojaliteit teenoor die letterlike vertaling nie. Met ’n onderbou van letterlikheid wat groter lojaliteit gegee word as ’n direkte vertaal prinsiep, is dit nie toelaatbaar nie.
Dit is opmerklik dat die uitdrukking Hy het sy oë opgehef ook nie konsekwent in die Afr2020 vertaal is nie. Vergelyk Gen 22:4 (opgekyk) en Joh 17:1 (oë opgerig).
- ’n Woord bygevoeg, nie in die bronteks nie
Daar is verskeie plekke in die Afr2020 waar daar in ’n voetnoot gemeld word dat daar ’n woord bygevoeg is. Dit sluit aan by die vraag van Smith (2008:178) ‘How should a direct translation of the Bible handle information that is implicit in the original, but will be lost in a literal rendering?’ waar uitgelig word dat die direkte vertalingsprinsiep soms probleme kan skep met implisiete inligting. Dit blyk egter of die Afr2020 nie net eksplisiete inligting deur voetnote wou duidelik maak nie, maar dat hulle wou aantoon hoe konkordant hulle vertaal, wat in elk geval nie konsekwent toegepas word nie.
In Ps 56:14 word die woord ‘bewaar’ bygevoeg, en dan met ’n voetnoot verduidelik dat hierdie woord nie in die oorspronklike voorkom nie.
Hierdie optrede laat mens geweldig sterk voel dat die direkte vertaling, ten minste sommige plekke en vir sommige van die vertalers maar net ’n ander term is vir ’n stokkerige woord-vir-woord vertaling en daarom moes hulle op hierdie plek waar die oorspronklike nie betekenisvol woord-vir-woord vertaal kon word nie, dit in ’n voetnoot duidelik maak.
Die eerste twee versreëls van Ps 68:36 lui as volg:
God wek ontsag in jou heiligdomme, Israel,
Die God van Israel, Hy gee krag en sterkte aan die volk,
By die woord Israel is daar ’n voetnoot wat aandui dat die naam Israel nie in die bronteks voorkom nie, maar veronderstel word. Deur slegs ’n baie oppervlakkige steekproef te doen sou mens kon toon dat dit net die Afr53 (en die Afr2020) vertaling is wat die naam Israel daar ingevoeg het. As mens na die webwerf www.biblehub.com gaan is daar 28 vertalings van Ps 86 parallel onder mekaar gelys. Die vertalings wissel van die King James tot die Living Translation. Geen van daardie vertalings het die woord Israel hier ingevoeg nie. Die Afr2020 volg dus die konvensie van die letterlike Afr53 teen alle ander vertalings in:
Ps 47:6 onder gejuig bestyg God die troon
Die voetnoot by die woord troon meld dat die woord troon nie voorkom nie, maar veronderstel word. Hierdie inligting is slegs nodig en van belang as die vertaalprinsiep of die vertaalopdrag ’n letterlike vertaling sou vereis. Geen wonder Van der Merwe (2014:293) moes hard probeer om die lesers te oortuig dat die direkte vertaling nie ’n ander naam is vir ’n stokkerige letterlike vertaling nie.
Afr2020 Eks 19:21
Die HERE het vir Moses gesê: ‘Gaan af en waarsku die volk, anders breek hulle deur die grens na die HERE om te kyk, en kom daar van hulle om.
Hier maak die voetnoot dit duidelik dat die woord grens nie in die bronteks voorkom nie: die grens: Hierdie woorde kom nie in die bronteks voor nie, maar word veronderstel. Uit voetnote soos hierdie blyk dit dat die vertaler tog nie die konsep van die direkte vertaling gesnap het nie, maar vasgeval het in die letterlike woord-vir-woord vertalingsideologie van die Afr53.
’n Verdere voorbeeld wat die probleem besonder goed uitlig, kry mens in Eks 33:14 Die HERE het gesê, met ’n voetnoot: Die HERE: Die bronteks lui: ‘hy’.
’n Soortgelyke voorbeeld kry mens in Eks 19:18 waar daar sprake is van die berg wat in vlamme en rook is omdat God daarop neergedaal het. Die nuwe sin begin dan met ‘Die rook …’ Dan is daar ’n voetnoot: 19:18 Die rook: Die bronteks lui: ‘sy rook’. Die vertalers het dus die geweldige druk gevoel om aan te dui dat die Hebreeus die besitlike voornaamwoord het, wat nie letterlik vertaal is nie. Dit is asof daar geen insig is dat enige redelike vertaal prinsiepe anders as die absolute letterlike woord vir woord vertaalprinsiep ook korrek sou kon wees nie.
Dieselfde geld vir Eks 19:12 waar die woord berg in die vertaling voorkom en die voetnoot meld dat die woord berg nie in die bronteks voorkom nie, maar dat dit veronderstel word.
Hierdie verskynsel kom ook in die Nuwe Testament voor:
Afr2020 Matt 28:12 Die leierpriester het toe met die familiehoofde bymekaargekom …
In Matt 28:12 kry mens ’n soortgelyke verwysing in ’n voetnoot: Die leierpriesters: Die bronteks lui ‘hulle’. Dit is dus redelik duidelik dat die letterlike weergee van die oorspronklike bronteks ’n besondere belangrike prinsiep in hierdie vertaling is.
Soms klou die Afr2020 hardnekkig aan die letterlike woord-vir-woord ekwivalensie vas, selfs al maak die vertaling nie baie sin nie, dan word ’n beter verstaanbare ekwivalent in die voetnoot duidelik gemaak. Soms is dit andersom en dan neig die Afr2020 meer na ’n betekenis gebaseerde idiomatiese vertaling en dan word daar in die voetnoot gemeld wat die bronteks eintlik sou sê. ’n Voorbeeld hiervan kan in 1 Sam 24:4 gevind word.
- Voete bedek en Op die hart geslaan
In 1 Sam 24:4 (ook in Rig 3:23) meld die Afr2020 dat Saul in die grot ingegaan het en sy voete bedek het met ’n voetnoot waarin verduidelik word dat hierdie Hebreeuse uitdrukking vertaal kan word met ontlas:
1 Sam 24:4 Op pad het hy by die veekrale aangekom, waar daar ’n grot was. Saul het daar ingegaan om sy voete te bedek.
Maar net ’n paar lyne verder in 1 Sam 24:6 word die Hebreeuse teks idiomaties vertaal maar hierdie keer is daar ’n voetnoot wat dit duidelik maak wat die Hebreeuse teks eintlik letterlik sê:
1 Sam 24:4 lui as volg: Maar daarna het Dawid se gewete hom gepla.
Die voetnoot maak dit duidelik dat die letterlike Hebreeus eintlik sê: Dawid is op die hart geslaan. Dit blyk of dit moeilik was vir die vertalers om konsekwent by een styl te hou.
Voetnote soos hierdie skep die indruk dat alle tale op dieselfde sintaktiese manier werk. Met ander woorde asof die doeltaal nie sintakties van die brontaal kan verskil nie, en daarom blyk dit of formele ekwivalensie die enigste ware en korrekte vertaalprinsiep sou kon wees. Uit hierdie en baie ander voorbeelde blyk dit dat die kriterium om ’n vertaling te evalueer die nabyheid aan die formele ekwivalensie sou wees, soos Gutt (2010:10) uitlig: ‘the quality of the translated text is assessed in terms of its equivalence to the original text’.
Dit is jammer dat daar in so ’n monumentale werk soveel inkonsekwensies voorkom. Dit is ook nie altyd duidelik wat die doel van voetnote is nie. Soms is daar mooi ensiklopediese inligting, of kruisverwysings, maar soms is daar geen waardetoevoeging in die voetnoot nie.
Uitgebreide vertaalspan
Die vertaalspan van die Afr2020 is met reg baie trots op die wye verteenwoordiging van die lede van die vertaalspan. In die Agenda van die Algemene Sinode van die NG Kerk (2015) word dit as volg uitgespel:
1.3.1 Medewerkers aan die BDV. Dat ‘n groot aantal NG Kerk lidmate in verskillende hoedanighede betrokke is by die BDV. Die BSA het 83 eksegete en brontaalkenners op aanbeveling van die kerke aangewys. Dat meestal van spesialiste op ‘n bepaalde boek as eksegete gebruik gemaak word. Dat 59 erkende Afrikaanse skrywers/digters/opgeleide vertalers by die formulering van die Bybelteks in Afrikaans betrokke is. Dat vir die eerste keer 37 vroue aktief betrokke is, terwyl 64 kerklike lesers deur die kerke benoem is. (Naude 2020:882)
Dit was vir my onmoontlik om die ouderdoms verteenwoordiging te kon opspoor. In die Afr2020 gedrukte Bybel word al die medewerkers by die naam genoem. As mens na die naamlys van medewerkers en die woorkeuses wat gemaak is, kyk, dan wil dit wil my voorkom of die gemiddelde ouderdom baie hoër is as wat die ouderdom van die teikengroep van lesers is. Daar word ook melding gemaak van 64 benoemde lesers. Sou dit dalk ’n verskil gemaak het as daar ’n goeie verteenwoordiging in daardie groep was van persone wat uit die kategese en teikengroep ouderdom was? Dit sou dalk sekere van die probleme met die register van sekere woorde kon uitklaar. Du Plooy (2020) beskryf hierdie uitdaging as volg:
Die literêre adviseur moet ook met al hierdie aspekte van die doeltaal rekening hou om goeie woordkeuses en formulering voor te stel. Die intensiteit van begrippe, die register van frases, vaste formuleringe, idiomatiese taalgebruik en ’n eindelose aantal ander moontlikhede moet in ag geneem en oorweeg word. (p. 1035)
Van Rensburg (2005:47) stel dit dat ‘’n Hoërskoolleerling gaan heel moontlik ’n ander tipe Bybel in sy/haar stiltetyd gebruik as wat ’n senior lidmaat in die erediens wil hoor’. Dit dwing die vertaalspan van die Afr2020 dus weer om keuses te maak en dit blyk dat die Afr2020 vir die senior lidmate gekies het.
Mens wonder hoekom hierdie uitgebreide vertaalspan van die Afr2020 nie meer by die NBV, wat in baie opsigte die model is waarop die Afr2020 projek geskoei is, geleer het nie. De Blois and Mewe (2002) noem dat hulle ook probleme ervaar het met ’n groot vertaalspan:
At the level of translation practice, one might conclude that the results of the first efforts turned out to be rather diverse and, in some ways, a little unbalanced. This can be attributed to the fact that the translation team is composed of several mini-teams (each made up of a Biblical scholar and a Dutch language and/or translation expert) and a staff team, all people with different (church) backgrounds, who interpret and/or implement the principles in quite diverse ways, and have different expectations of what the new translation should look like. (p. 16)
Tipering van die Afr2020
Dit wat Naude uitlig oor Afrikaanse Bybelvertalings deur die loop van die geskiedenis, kan lig werp op die tipering van die Afr2020. Naude (2005:168) verwys na al die vorige Afrikaanse vertalings en plaas hulle in die sosio-politieke konteks van hul tyd en maak dit baie duidelik dat geen vertaling ooit los staan van ’n sosio-politieke konteks waarbinne dit gedoen word nie: ‘the translation of the Bible into Afrikaans from the Hebrew and Greek source texts was never an isolated event, but entirely context-specific. And this broader contextual imbeddedness influenced the eventual translations greatly’. Veral hierdie laaste paar woorde is in besonder toepaslik. Alhoewel daar geen sosio-politieke uitgangspunte en agenda in die vertaalopdrag van die Afr2020 oogluikend sigbaar is nie, speel die sosio-politieke konteks en doel waarom hierdie vertaling gemaak moes word ’n deurslaggewende rol in die vertaalkeuses wat gemaak is.
Naude (2005:168) tipeer die Afrikaanse vertalings volgens die volgende historiese tydperke: Eerstens die Hollandse era van 1652 tot 1795. Daarna volg die Britse era tot 1948. In 1948 begin die era van die Afrikaners wat duur tot in 1994 wanneer die Demokratiese era begin. Elk van hierdie genoemde eras het dan ook korresponderende Bybelvertalings. In die Hollandse era kry ons die Staaten vertaling en SJ Du Toit se vertalings. Die Afrikaner era word verteenwoordig deur die Afr53 vertaling asook die Afr83 vertaling. Die Demokratiese era noem hy ook die era van Globalisasie, wat vertalings soos Die Boodskap en die vertaling vir die Dowes voortgebring het, wat baie nader aan parafrases van die Bybel is, as die bronteksgeoriënteerde vertalings van die Afrikaner era. Hy noem ten opsigte van die vertalers van die Afr53, ‘they were reluctant to depart too much from the Dutch as they feared that the new translation might not be accepted’, wat ’n baie duidelike behoudende onderbou toon, en wat dan weer navore kom in die Afr2020.
As mens Naude (2005) se tipologie verder kon neem, dan sou mens kon sê dat die Afr2020 ’n vyfde era verteenwoordig wat moontlike gedateer kan word vanaf 2018 af verder as die era van Herstel of die era van ‘terug na ons diepste waardes en norme’ is. Polities sluit dit dan ook nou aan by die Ramaphosa-era wat herstel wil bring na die verval van die vorige dekade. In hierdie era wil die Afrikaner deur middel van die Afr2020 tog wys dat die vrydenkende benadering van Globalisasie van die Demokratiese era, met die gepaardgaande libelarisme, beide binne die staat en in die kerk, nie die waardes is waarop alle Afrikaners steun nie. Daar ís nog Afrikaanse gelowiges, kerke en vertalers wat behoudend en meer konserwatief is, en wat die beeld van die Afrikaner wil herstel. Hierdie behoudendheid word deur die spesifieke styl en taal waarna daar telkens teruggegryp word duidelik. Die Afr2020 herbevestig dat ‘ons’ as Afrikaners en Kerk en bybelvertalers en Bybelgenootskap nie deel is van die liberale vrydenkende Globalistiese nuwe wêreld-era nie!
Ek sou Naude se tipologie effens fyner wou definieer, naamlik dat alhoewel die 1983 Afrikaanse vertaling in die meer behoudende Afrikaner-era van voor 1994 val, dit al klaar begin wys het dat daar wel ’n groter openheid is en ’n liberale ontwaking onder sekere dele van die Afrikaners begin het deur weg te breek van die letterlike vertaalstyl. Dit was as’t ware die eerste krake in die muur!
Deur die Afr2020 wil die Bybelgenootskap en die Kerk aan die groepe wat nie die vryer dinamies-ekwivalente vertaalstyl van die Afr83 aanvaarbaar vind nie, herbevestig dat hulle nie deel van die liberale stroom wil wees nie en daarom is daar dikwels (bewustelik en onbewustelik) keuses gemaak wat sterker na die bevrediging van hierdie doel oorgeleun het as na ’n vars benadering in die vertaalkunde van ’n direkte vertaling. Die lojaliteit teenoor die konserwatiewe ideologiese grondslag weeg dikwels swaarder as die goed gefundeerde prinsiepe van ’n direkte vertaling. Waar daar tog van die letterlike styl afgewyk word, word dit in die voetnote bevestig wat die letterlike vertaling sou wees.
As mens na Floor (2007) se insiggewende tiperings van vertalings kyk, wat vertalings nie net op die kontrasteerdende eindpunte van Letterlike en Dinamiese vertalings plaas nie, dan sien mens dat die Afr2020 tog aan die konserwatiewe kant met minder interpretasie geplaas kan word.
Met die onderbou van ’n direkte vertaling wat nie ’n letterlike vertaling is nie, beweeg die Afr2020 weg van die groepering van die letterlike vertalings, naamlik ‘Direct resemblance Translation’. In die groepering van ‘Indirect resemblant or interpretive Translations’ kan die Afr2020 dan gegroepeer onder die ‘Close interpretive Translation’ (Floor 2007:12). Hierdie groep het ‘limited form resemblance, significant interpretive resemblance, with significant and even optimal explicitness’. Alhoewel dit grootliks waar is vir die Afr2020 vertaling, is daar tog heelwat voorbeelde waar daar meer interpreterend te werk gegaan is.
Slot opmerkings
Hierdie is ’n vertaling wat beslis ’n nismark aanspreek – Bybellesers wat nader aan die oorspronklike wil kom met ’n voorliefde vir ’n letterlike benadering en moontlik reken dat ’n meer formele register ’n ‘beter’ vertaling is.
Vir my as Bybelvertaler het dit baie baie waarde toevoeg omdat dit eerstens ’n baie deeglike vertaling is, daar is in baie opsigte nuut gedink oor vertaalopsies, en oor vertaalprinsiepe en omdat daar navorsing gedoen is oor die beste grondtekste, ensovoorts. Ek persoonlike kontroleer byna nooit ’n vertaling sonder om ook die Afr2020 as verwysingsvertaling te gebruik nie!
Daar is ’n onmoembare aantal vars vertaal-moontlikhede aangebied, maar tog is daar plekke waar dit blyk dat dit moeilik vir die vertalers was om ’n onderskeid te maak tussen ’n direkte vertaling waar die Bybelse outeurs op ’n vars manier direk met ons praat en ’n vertaling waar die Bybelse outeurs met ons praat in ’n register wat neig na ’n argaïese en/of letterlike Afrikaanse vertaling. In daardie gevalle is daar nie aan die vertaalopdrag voldoen deur ’n goeie leesbare Afrikaans aan te bied nie, waardeur die oorspronklike outeur direk met ons praat in ’n register wat ook vir die kategete en die geslag van die jaar 2020 met ’n matriek gelettertheidsvlak verstaanbaar is nie. Dit voldoen wel aan die behoeftes van Bybellesers met ’n goeie Bybelse agtergrond, wat goeie insig en ervaring het in ‘kerktaal’ of ‘Bybeltaal’, en ’n voorliefde daarvoor het. Hierdie groep maak nie noodwendig deel uit van die leefwêreld van die jonger geslag nie. Op die oog af loop baie van ons Gereformeerde kerke al reeds leeg met ’n bywonersgroep wat rondom 60 jaar is. Hierdie vertaling bevestig dan daardie groep as teinkengroep en vervreem in nog ’n opsig die jeug van ons dag.
Naude (2005) het verwys na die sosio-politieke situasie en gesê:
the translation of the Bible into Afrikaans from the Hebrew and Greek source texts was never an isolated event, but entirely context-specific. And this broader contextual imbeddedness influenced the eventual translations greatly’. (p. 168)
Dit blyk dat die navraag vanuit meer behoudende kerke na ’n vertaling wat bronteksgeoriënteerd is, ’n groot deel van die sosio-kulturele konteks uitmaak waaruit die vertaling gegroei het en daarom word die lojaliteit teenoor moderne Afrikaans op die agtergrond geskuif.
Wanneer die Afr2020 as voorlees-Bybel gebruik word, moet die voorleser in ag neem dat die vertaling bronteksgeoriënteerd is en dat jonger luisteraars wat nie goed geskool is in ‘kerktaal’ of ‘Bybeltaal’ en sekere aspekte van ’n direkte vertaling nie, soms meer verwerkingstyd sal benodig om al die kommunikatiewe leidrade te verwerk:
The most important principle of direct translation is that it assumes readers will use the original context to complete its communicative clues and recover the author’s intended meaning. As compared with indirect translation, this requires extra effort from readers wishing to understand it correctly, but offers the promise of greater resemblance to the source. (Smith 2008:184)
Ten spyte van die feit dat hierdie vertaling van uit die staanspoor bekend wou staan as ’n behoudende vertaling, het hulle hulself ernstig in die voet geskiet deur die vooropgestelde keuses wat bekend gemaak is rakende die gebruik van hoofletters in die verwysing na die Godheid. Dit is juis meer behoudende lesers wat met groot respek na God verwys wat in die grootste mate negatief deur sulke uitsprake geraak is.
Al die opmerkings ten spyt, is dit baie goed dat daar nog ’n goed gefundeerde, in baie opsigte ’n vars vertaling in Afrikaans verskyn het. As iemand die behoefte het om die Woord diepgaande te bestudeer, dan maak hierdie vertaling ’n groot bydrae, en saam met die ryke verskeidenheid van ander Afrikaanse Bybelvertalings verryk dit die verstaan van die oorspronklike teks en boodskap van die Woord van God!
Sonder die bestaan van die Afr2020 sou die kerk baie armer gewees het!
Erkenning
Mededingende belange
Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenis is met enige party wat haar nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.
Outersbydrae
R.v.d.S. is die enigste outeur betrokke by die skryf van die artikel.
Etiese oorwegings
Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing.
Befondsing
Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.
Data beskikbaarheid
Die outeurs bevestig dat die data wat die bevindinge van hierdie studie ondersteun, beskikbaar is in die artikel.
Vrywaring
Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde verwantskap van die outeur nie.
Literatuurverwysings
Blight, R.C., 2005, ‘Footnotes for meaningful translations of the New Testament’, Journal of Translation 1(1), 7–46.
Bybeldirektevertaling, n.d.a, Wat is die vertaalopdrag waarvolgens die vertalers te werk gaan?, viewed 20 March 2020, from http://www.bybeldirektevertaling.co.za/index.php/agtergrond-sp-33973671/56-wat-is-die-vertaalopdrag-waarvolgens-die-vertalers-te-werk-gaan.
Bybeldirektevertaling, n.d.b, Proefvertalings, viewed 20 March 2020, from http://www.bybeldirektevertaling.co.za/index.php/proefvertalings.
Bybeldirektevertaling, n.d.c, Agtregrond, viewed 13 March 2020, from http://www.bybeldirektevertaling.co.za/index.php/agtergrond-sp-86357912.
Combrink, B., 2014, Bekendstelling: Die Nuwe Testament en Psalms: ‘n Direkte Vertaling, viewed 22 March 2020, from http://www.bybeldirektevertaling.co.za/index.php/in-die-media.
De Blois, K.F. & Mewe, T., 2002, ‘T. functional equivalence and The New Dutch translation project’, Acta Theologica Suplementum 2, 214–227.
De Jonge, H.J., 2006, ‘De Nieuwe Bijbelvertaling en de stijl van de geschriften van het Nieuwe Testament’, in R. Buitenwerf, J.W. Van Henten & N. De Jong-van den Berg (reds.), Ambacht en Wetenschap. Elf wetenschappers over De Nieuwe Bijbelvertaling, pp. 153–166, NBG, Heerenveen.
Du Plooy, H., 2020, ‘Literêre aspekte van die 2020-vertaling van die Bybel in Afrikaans en die bydrae van die literêre adviseurs in die vertaalproses’, Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Jaargang 60(4-1), 1028–1046. https://doi.org/10.17159/2224-7912/2020/v60n2a16
Floor, S.J., 2007, ‘Four Bible translation types and some criteria to distinguish them’, Journal of Translation 3(2.1), 1–22.
Fry, E.M., 1983, ‘The use and value of section headings in printed scriptures’, The Bible Translator 34(2), 235–239. https://doi.org/10.1177/026009438303400207
Geyser-Fouche, A.B., 2017, ‘Bybelvertalers en Bybelvertalings die afgelope honderd jaar, in besonder vanuit die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Pretoria’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 73(1), 1–12. https://doi.org/10.4102/hts.v73i1.4741
Gutt, E.-A., 2006, ‘Aspects of ‘cultural literacy’ relevant to Bible translation’, Journal of Translation 2(1), 1–16.
Gutt, E.-A., 2010, Translation and relevance: Cognition and context, 2nd edn., 1–16, Routledge, London.
Kruger, H. & Crots, E., 2014, ‘Professional and personal ethics in translation: A survey of South African translators’ strategies and motivations’, Stellenbosch Papers in Linguistics 43, 147–181. https://doi.org/10.5842/43-0-613
Naudé, J., 2005, ‘The Afrikaans Bible translations and the formation of cultural, political and religious identities in South Africa’, in J. House, R.M. Ruano & N. Baumgarten (eds.), Translation yearbook of the International Association for Translation & Intercultural Studies, pp. 167–179, IATIS, Seoul.
Naudé, J., 2020, ‘Nuwe en ou skatte: Die 2020- Afrikaanse vertaling van die Bybel as ’n hervertaling’, Tydskrif vir Geesteswetenskappe 60(4–1), 869–891.
Nederduitse Gereformeerde Kerk, 2015, Agenda van die Algemene Sinode, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.
Nord, C., 1997, Translating as a purposeful activity: Functionalist approach explained, St Jerome, Manchester.
Nord, C., 2016, ‘Function + Loyalty: Theology meets skopos’, Open Theology 2(1), 566–580. https://doi.org/10.1515/opth-2016-0045
Osborn, N.D., 1982, ‘Basic types of footnotes for Old Testament translations (Based Mainly on RSV and GNB)’, The Bible Translator 33(4), 414–418. https://doi.org/10.1177/026009438203300404
Whitaker, R., Brown, F., Driver, S.R. & Briggs, C.A., 1997, The Abridged Brown-Driver-Briggs Hebrew-English Lexicon of the Old Testament, Logos Research Systems, Oak Harbor, WA.
Paratext 8, 1988, ‘Greek-English Lexicon of the New Testament based on Semantical Domains’, in J.P. Louw & E.A. Nida (eds.), Bible Society.
Paratext 8. ‘Electronic dictionary: Key terms of the Old Testament (KTOT)’, in D. Kroneman (ed.), International Translation Coordinator, SIL International, Dallas, Texas.
Smith, K.G., 2002, ‘Translation as secondary communication. SIL International. 2019. The relevance theory perspective of Ernst-August Gutt’, Acta Theologica Supplementum 2, 107–117.
Smith, K.G., 2008, ‘Direct translation striving for complete resemblance. Conspectus’, The Journal of the South African Theological Seminary 5(3), 169–184.
Van der Merwe, C.H.J., 2006, ‘Biblical exegesis, cognitive linguistics and hypertext’, in A. Lemaire (ed.), Congress volume Leiden 2004, pp. 255–280, Leiden, Brill.
Van der Merwe, C.H.J., 2012, ‘The Bible in Afrikaans. A direct translation – A new type of Church Bible’, Hervormde Teologiese Studies 68, Art. #1204–1208. https://doi.org/10.4102/hts.v68i1.1204
Van der Merwe, C.H.J., 2014, ‘Direkte vertaling van die Bybel as antieke teks: net ’n nuwe benaming vir ’n stokkerige woordelikse vertaling?’, LitNet Akademies 11, 290–315.
Van der Merwe, C.H.J., 2016, ‘How “direct” can a direct translation be? Some perspectives from the realities of a new type of church Bible’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 72(3), a3233. https://doi.org/10.4102/hts.v72i3.3233
Van der Merwe, C.H.J. & Basson, C.S., 2003, ‘’n Nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans. ’n Teoretiese en praktiese oriëntering’, Nederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif 44(3–4), 550–567.
Van Rensburg, A., 2005, ’n Nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans: ’n perspektief op die teorie en praktyk’, Tesis ingehandig te vervulling van Magister Philosophiae in Vertaling, MA Tesis, Universiiteit van Stellenbosch, Stellenbosch.
Van Rensburg, A. & Van der Merwe, C.H.J., 2007, ‘’n Nuwe vertaling van die Bybel in Afrikaans: Die praktiese aanvaarbaarheid van ’n nuwe vertaalmodel’, Nederduits Gereformeerde Teologiese Tydskrif 48(1–2), 270–285.
Wendland, E., 2009, ‘The social sciences and “foreignizing” functional equivalence Bible translation’, Journal of Northwest Semitic Languages 35(1), 95–117.
Wendland, E., 2015, (2018) Survey of translation studies. From the perspective of Bible translation theory & practice, Wendland personal E-Publication, Lusaka.
Voetnote
1. By Matt 21:12 is daar ’n voetnoot by die woord tempelterrein. Omdat daar dikwels voetnote is wat na die bronteks verwys en dit duidelik maak wat die letterlike vertaling van die bronteks sou wees, sou mens ook daardie inligting hier vir ἱερός (hieros) verwag, omrede ἱερός (hieros) in die algemeen letterlik as tempel vertaal word, maar hier wyk dit van die letterlike vertaling af en dit word as tempelterrein vertaal. Daar is egter ’n redelike niksseggende voetnoot wat meld dat tempelterrein na die tempel en al die geboue verwys.
2. Van inkonsekwentheid gepraat, in die boek Hooglied word daar in die inleiding van die boek slegs na Dogters van Jerusalem verwys, maar hierdie term kom glad nie in die teks van die boek voor nie. Daar is dit konsekwent as Meisies van Jerusalem vertaal.
3. Die feit dat die woord πορνεία (porneia) hoofsaaklik net in die boek Hand en Op as hoer, hoereer en hoerery vertaal word, laat my wonder oor die vertaal proses en vertaal oorsig. Hoekom het die teruggrype na die krasse ou Afrikaans net hier deurgeslaan, maar op alle ander plekke is die direkte vertaalprinsiep toegepas sonder om noodwendig die ou Afrikaans na te volg.
4. In ’n persoonlike epos aan my op 24 Februarie 2021 het die projekleier van die Afr2020, Prof B. Combrink die volgende geskryf:
Die Loodskomitee het op 25 November 2005 besluit: 14.1 Ouderdom van die teikengroep
Daar word voorgestel dat daar by die leesvermoë van ’n graad 12-leerling gehou word en dat die betrokke medewerkers en taalkundiges na ’n herformulering van die bewoording in die vertaalopdrag gaan kyk en dit elektronies sirkuleer. Die Begeleidingskomitee het op 7–8 Maart 2007 besluit: 8.1 b) om, op aanbeveling van die LAK, die verwysing na geletterdheidsvlakke uit die Vertaalopdrag weg te laat; Dit beteken dat die vertaalopdrag dus nie gewysig is nie, en steeds gebly het soos dit tans in die 2020-vertaling se Voorwoord weergegee word.
5. By Num 3:25 is daar ’n voetnoot wat na Eks 26:7 en 14 verwys. Vers 14 soos sopas aangetoon is, verwys na ’n bedekking. Vers 7 verwys ook na die lae velle en materiaal wat bo-oor die tabernakel gespan is, maar die Hebreeuse lekseem מִכְסֶה (mikseh) kom nie in vers 7 voor nie. Daar is ’n verwysing na tentdoeke van bokhaar. In sekere vertalings word dit as gordyne weergegee en in ander as tentdoeke wat bo-oor die tabernakel getrek moet word. Dit sal egter vir ’n gewone leser wat na die voetnoot verwys nie onmiddelik duidelik wees hoekom daar vanaf die woord dekkleed na tentdoek verwys word nie. Dit is nie duidelik of so ’n verwysing na iets wat slegs ook ’n voorwerp bedek enige waarde toevoeg tot die verstaan van die lesers nie, veral as die onderliggende Hebreeuse lekseme nie ooreenstem nie.
|