About the Author(s)


H.P. Malan van Rhyn Email symbol
Department of Biblical Studies, Faculty of Educational Studies and Biblical Studies, Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (AROS), Pretoria, South Africa

Citation


Van Rhyn, H.P.M., 2021, ‘Ἀποκάλυψισ en ἀποκαλύπτω as wederkomswoorde in die Nuwe Testament’, In die Skriflig 55(1), a2774. https://doi.org/10.4102/ids.v55i1.2774

Original Research

Ἀποκάλυψισ en ἀποκαλύπτω as wederkomswoorde in die Nuwe Testament

H.P. Malan van Rhyn

Received: 10 May 2021; Accepted: 20 July 2021; Published: 27 Oct. 2021

Copyright: © 2021. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstrak

Ἀποκάλυψισ and ἀποκαλύπτω as words denoting the second coming in the New Testament. Several Greek words are used in the New Testament to denote the second coming of Christ. None of these words can be translated as ‘second coming’. Two of these words are ἀποκάλυψις and ἀποκαλύπτω. This article departed from the viewpoint that God has a telos [purpose] for revealing that Jesus is coming again. Questions arise whether these words, denoting the second coming, can be treated as exact synonyms or whether there are differences in nuance in the meaning of these words. This article is a step in the process to answer these questions. A word study of the concepts ἀποκάλυψις and ἀποκαλύπτω was done and it was investigated how these terms for the second coming of Christ are used in the New Testament. Furthermore, the telos of the revelation regarding the ἀποκάλυψις of Christ in the relevant chapters of Scripture was determined. This is a question that is seldom addressed. For the word study, diachronic and synchronic methods were used. The development of ἀποκάλυψις and ἀποκαλύπτω into suitable words for denoting the second coming was thus tracked from the Old to the New Testament. For the determination of the use of ἀποκάλυψις and ἀποκαλύπτω in the New Testament, as well as for the determination of the telos of the revelation regarding the second coming, exegesis was conducted in the revelation-historical tradition. The result was an original definition of the meaning of ἀποκάλυψις and ἀποκαλύπτω as used in various contexts: ‘It is the triune God’s final revelation of himself in Jesus Christ at his second coming, in glory, in order to fully reveal, fulfil and realise his Word, his master plan, his covenant and his promises and to be in eternal fellowship with his children.’ The telos for the revelation of the ἀποκάλυψις of Christ was determined as warning believers to be prepared, encouraging and comforting them in afflictions and suffering. A theological definition of the meaning of ἀποκάλυψις provides a handy tool for exegetes. Foreknowledge of the telos of the revelation regarding the ἀποκάλυψις could guide exegetes in their endeavours.

Contribution: An original theological definition of the meaning of ἀποκάλυψις and ἀποκαλύπτω was provided and the telos of the revelation regarding ἀποκάλυψις and ἀποκαλύπτω was determined as warning believers to be prepared, encouraging and comforting them in afflictions and suffering.

Keywords: ἀποκάλυψις; ἀποκαλύπτω; ἐπιφάνεια; παρουσία; second coming.

Inleiding1

Die besondere openbaring dat die Here Jesus weer gaan kom, vorm ’n integrale deel van die Godsopenbaring in die Nuwe Testament. Die verwagting van die wederkoms van ons Here Jesus Christus vorm ook ’n integrale deel van die ware geloof (Van Rhyn 2017:60). Die wederkoms word juis in die Nuwe Testament verkondig om inhoud te gee aan die ware geloof (Van Rhyn 2017:60). Om te glo dat die Here Jesus weer gaan kom en om Hom uit die hemel te verwag, staan dus op gelyke voet met die geloof dat Hy mens geword het, gesterf en opgestaan het uit die dood soos wat dit ook in die Apostoliese Geloofsbelydenis bely word. Die wederkoms neem ook ’n kardinale plek in die raadsplan van God in (Van Rhyn 2017:239). Die vervulling van God se beloftes en die voltooiing van God se raadsplan vind juis gestalte in die wederkoms van die Here Jesus (Van Rhyn 2017:135, 136).

Dit is egter opvallend dat die wederkoms met verskillende Griekse woorde of sinsnedes in die Nuwe Testament weergegee word. Die woorde waarmee die wederkoms gewoonlik weergegee word, is ἀποκαλύπτω, ἀποκάλυψις, ἐπιφάνεια, ἒρχομαι, ἡμέρα, παρουσία en φανερόω (Van Rhyn 2017:30). Nie een van hierdie woorde kan egter met wederkoms vertaal word nie (Van Rhyn & Jordaan 2020:1), maar verwys in sekere kontekste na dieselfde heilsgebeurtenis, naamlik die terugkoms van die Here Jesus in heerlikheid.

Dit behoort ondersoek te word waarom daar verskillende woorde in die oorspronklike taal gebruik word om dieselfde saak, naamlik dié van die wederkoms, weer te gee. Ek het reeds in ’n vorige artikel (Van Rhyn & Jordaan 2020:1) voorgestel dat daar ondersoek ingestel moet word daarna of die gebruik van die verskillende woorde ’n saak van willekeur is en of elkeen van hierdie woorde nie dalk ’n spesifieke aspek of aspekte van die wederkoms belig nie. Die moontlikheid dat daar verskillende openbaringsdoelwitte in die gebruik van die verskillende woorde opgesluit kan lê, moet dus openbaringshistories ondersoek word (Van Rhyn & Jordaan 2020:1).

Die eerste stap van so ’n ondersoek sou wees om ’n indringende woordstudie van elkeen van hierdie betrokke wederkomswoorde te doen sodat die betekenisdefinisies van die verskillende woorde met mekaar vergelyk kan word:

Met ’n betekenisdefinisie word bedoel ’n sistematiese samevatting van die teologiese betekenis van die betrokke woord, soos blyk uit die verskillende kontekste waarin die woord in die Nuwe Testament gebruik word. (Van Rhyn 2021:1)

Alleen deur die betekenisdefinisies van die verskillende wederkomswoorde met mekaar te vergelyk, kan daar vasgestel word of daar nuanseverskille in die betekenis van hierdie woorde opgesluit lê en ook wat die implikasies van die moontlike verskille vir die verstaan van die Godgegewe wederkomsopenbaring is (Van Rhyn & Jordaan 2020:1).

Daar is alreeds met so ’n proses begin en ’n betekenisdefinisie van παρουσία as wederkomswoord is daargestel (Van Rhyn & Jordaan 2020):

Dit is die sigbare wederkoms en troosvolle teenwoordig wees van Jesus Christus, vanuit die hemel, by sy mense op aarde, aan die einde van die tyd, in heerlikheid as Goddelike Regeerder, Koning, Oorwinnaar, Regter en Here, waarvoor sy mense voorberei het, wat gepaard sal gaan met lofprysing en eerbewys, wat sy volgelinge met hoop sal vervul omdat Hy hulle omstandighede sal verander deur hulle vir ewig te verlos. (bl. 8)

Ek het die proses nog verder gevoer (Van Rhyn 2021) deur ’n betekenisdefinisie van ἐπιφάνεια daar te stel:

Dit is die skielike, onverwagse en sigbare verskyning en ingryping van Jesus Christus as God met sy wederkoms in manjifieke heerlikheid om te oordeel, sy vyande te vernietig en die gelowiges te verlos. (p. 4, 5)

In hierdie artikel word die proses verder voortgesit deur ’n betekenisdefinisie van ἀποκάλυψις (selfstandige naamwoord) en ἀποκαλύπτω (werkwoord) as wederkomswoorde te formuleer. Die uiteindelike doelwit is dat die betekenisdefinisies van die verskillende wederkomswoorde met mekaar vergelyk kan word. Dit is belangrik om daarop te let dat hierdie artikel, soos wat die titel ook aandui, net fokus op die gebruik van ἀποκάλυψις en ἀποκαλύπτω in die konteks van die wederkoms van Jesus Christus.

In die tweede deel van hierdie artikel word die gebruik van ἀποκάλυψις en ἀποκαλύπτω as wederkomswoorde in die Nuwe Testament nagegaan en word daar gepoog om kursories vas te stel wat die telos [openbaringsdoelwit/te] van die wederkomsverkondiging aan die hand van ἀποκάλυψις en ἀποκαλύπτω is.

Die Griekse begrip τέλος word verklaar as ‘the goal toward which a movement is being directed’ en word vertaal met ‘end, goal, outcome’ (Bauer et al. 2000:998). Τέλος (telos) word in hierdie artikel gebruik in die sin van God se doel of einddoel – dit wat God wil bereik met die openbaring dat die Here Jesus weer gaan kom.

Die telos van die wederkomsverkondiging aan die hand van ’n sekere wederkomswoord kan dus beskou word as God se openbaringsdoelwit of -doelwitte met die gebruik van die woord (Van Rhyn 2021:2).

Ek het reeds voorheen daarop gewys dat die vraag na die telos van die wederkomsverkondiging ’n vraag blyk te wees wat selde gevra word (Van Rhyn 2017:1). Die artikel wil dus ’n bydrae lewer deur aandag aan die navorsingsleemte te gee.

Die woordstudie word, volgens die metode wat Janse van Rensburg et al. (2011:160–173) voorstel, in twee afdelings hanteer. Eerstens word ’n diakroniese woordstudie gedoen wat die ontwikkeling van die betekenis en gebruik van die betrokke woorde deur die eeue probeer vasstel. Daarna volg ’n sinkroniese woordstudie wat die betekenis en gebruik van die woorde in die Nuwe Testament en vroeg-Christelike era probeer vasstel. Die genoemde metode stel die gebruik van slegs twee woordeboeke vir Nuwe-Testamentiese woordstudie voor. Vir die diakroniese woordstudie word die Theological dictionary of the New Testament (TDNT) van Kittel, Friedrich en Bromily (1964) voorgestel en vir die sinkroniese woordstudie die semantiese woordeboek van Louw en Nida (1996a; 1996b), Greek-English lexicon of the New Testament based on semantic domains.

In hierdie artikel word die metode uitgebrei deur ook na ander tersaaklike bronne te verwys.

Heaton (2016:5) toon aan dat Paulus se gebruik van ἀποκάλυψις en ἀποκαλύπτω in drie kategorieë ingedeel kan word. Eerstens word die woorde gebruik om gedeeltelik openbarings van God (as objek) te beskryf. Tweedens word die woorde gebruik om die verwagte volledige openbaring van Jesus Christus (as objek) te beskryf. In die derde kategorie handel dit oor die openbaring of bekendmaking van alledaagse dinge (as objekte). Hierdie artikel fokus nie op alle gebruike van ἀποκάλυψις en ἀποκαλύπτω in die Nuwe Testament nie, maar net op die gebruik daarvan as wederkomswoorde, dit wil sê die tweede kategorie.

Woordstudie van ἀποκάλυψις en ἀποκαλύπτω

Diakroniese woordstudie
Theological dictionary of the New Testament

In die deeglike navorsing van Oepke (1964:556–592) in die TDNT oor die betekenis en gebruik van die woorde ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις, behandel hy die volgende woorde almal saam in die betrokke lemma: καλύπτω, κάλυμμα, ἀνακαλύπτω, κατακαλύπτω, ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις. Aangesien die skopus van hierdie artikel beperk is tot die betekenis en gebruik van ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις as wederkomswoorde, word daar slegs kortliks aandag aan die betekenis van καλύπτω, κάλυμμα, ἀνακαλύπτω en κατακαλύπτω gegee, en ook net om vas te stel of dit enige lig op die verstaan van ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις werp.

Καλύπτω: Die basiese betekenis van καλύπτω is om iets weg te steek of selfs in die grond te begrawe. In die Nuwe Testament word die woord letterlik en figuurlik gebruik. Oepke (1964:557) verwys by die letterlike gebruik onder meer na Matteus 8:24, waar golwe die boot ‘verberg’, en na Lukas 8:16 waar ’n lamp met iets (soos ’n emmer) ‘toegemaak word’. By die figuurlike gebruik verwys hy onder meer na Matteus 10:26 waarin dit gestel word dat niks bedek is wat nie bekendgemaak (geopenbaar) sal word nie. Hieruit is dit duidelik dat ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις die teenoorgestelde is van om iets te begrawe, te bedek, weg te steek, of geheim te hou.

Κάλυμμα: Volgens Oepke (1964:558) is daar in die vroeë literatuur baie betekenisse aan die woord geheg, maar die enigste wat van teologiese betekenis is, is dié van hoofbedekking of sluier. Hy noem onder meer die voorbeeld in 2 Korintiërs 3:7–18 waar Paulus na Moses verwys en dit figuurlik toepas op mense wat nie die evangelie kan of wil verstaan nie. Hulle verstand is versluier, maar by dié wat in Christus glo, is die sluier weggeneem en die waarheid geopenbaar. Die afleiding kan daarom gemaak word dat ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις kan beteken om die sluier weg te neem of om ontsluier te wees sodat die waarheid ontbloot of geopenbaar kan word en iets bekend en verstaanbaar kan wees.

Ἀνακαλύπτω: Die woord word gebruik met die betekenis van ‘om te ontdek’ (ont-dek, ‘uncover’); om ’n pakkie oop te maak sodat die inhoud geopenbaar kan word, en ook om die ware karakter van iemand te openbaar (Oepke 1964:560). Die woord kom in die Nuwe Testament slegs in 2 Korintiërs 3:14 en 18 voor waar dit gaan oor die wegneem van die sluier van onverstaanbaarheid:

Here we have ἀνακαλύπτω in the literal sense, though applied metaphorically. The expression is in contrast to v. 13 and especially v. 15. It gives concise and forceful expression to the immediacy and absoluteness of revelation and fellowship with God in the NT. (Oepke 1964:560)

Κατακαλύπτω: Buite die Nuwe Testament beteken die woord om ’n sluier oor (jouself) te sit; jouself met ’n sluier te bedek. In die Nuwe Testament word die woord slegs in 1 Korintiërs 11:6 e.v. gebruik waar dit daaroor gaan dat vroue nie sonder ’n hoofbedekking moet bid of profeteer nie (Oepke 1964:561).

Ἀποκάλυψισ en ἀποκαλύπτω beteken gewoonlik ‘revelation’ en ‘to reveal’ (Oepke 1964:564), maar Oepke wys ook daarop dat daar buitengewone probleme is met die verklaring van hierdie woorde, aangesien talle verklaarders vooronderstellings aan die verklaring van die woorde heg. Daar kan met Oepke (1964) saamgestem word wanneer hy sê:

We must ask whether this pre-understanding conforms to the data of the NT, whether it does not threaten to undermine these data from the very first. On the other hand, we cannot take refuge in a purely philological exposition of the relevant passages, e.g., by employing such literal renderings as ‘to disclose’ or ‘to unveil’. For this would imply evasion of the theological issue. (p. 564)

Ongelukkig trap Oepke self grootliks in die slaggat waarteen hy waarsku en verval hy in ’n filosofies-teologiese bespreking oor wat (Gods)openbaring is wat nie noodwendig lig op die gebruik van die woorde ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις werp wanneer die wederkoms ter sprake is nie. Wat wel van belang is vir hierdie artikel is dat daar verwag kan word dat Godsopenbaring ’n deurslaggewende rol speel wanneer ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις as wederkomswoorde gebruik word.

Die Ou-Testamentiese godsdiens ken en gebruik baie openbaringsmiddele wat met ander godsdienste ooreenkom soos byvoorbeeld tekens en wonders, mense wat deur die Gees van God begiftig is, sieners, drome en hulle uitlegte, die Urim en die Tummim, priesterlike aanwysings, ekstase en profesieë. Verskillende wyses ter voorbereiding om openbarings te ontvang soos byvoorbeeld om te vas, kom voor (Oepke 1964:571).

By Israel is daar egter ’n nuwe en unieke manier van openbaring. Dit is die lewende God wat Homself aan mense openbaar, teenoor die openbaring van lewelose gode in ander godsdienste (Oepke 1964:571). Volgens Oepke lê die verskil tussen die openbaring van God (as subjek) en gode in die volgende:

  • Jahwe openbaar Homself as die God van die geskiedenis.
  • Hy openbaar Homself as heilig en genadig.
  • Hy openbaar Homself as die Skepper en Onderhouer van die wêreld.

Waar daar gewoonlik by ander volke beperkings op die openbaring van gode gestel is, naamlik dat hulle hulself net aan hulle volgelinge openbaar, kom die beperking nie in die Ou Testament voor nie. Alhoewel God Israel as sy uitverkore volk gekies het, beperk Hy nie sy openbaring net tot hulle nie, maar maak Hy as die enigste ware God Homself ook aan ander volke en gelowe bekend (Oepke 1964:574).

Volgens Oepke (1964:576) word die uniekheid van die Ou-Testamentiese openbaring veral daarin gevind dat die toekoms so ’n groot rol speel: ‘OT belief in revelation is directed to that which is to be’.

Die Nuwe Testamentiese konsep van Godsopenbaring is ’n voortsetting van die Ou Testamentiese konsep. Soos in baie ander opsigte waar die Nuwe Testament die Ou Testament vooronderstel en daarop bou, geld dit ook vir die konsep van Godsopenbaring (Oepke 1964:580).

In die sinoptiese evangelies kom die volgende gebruike van openbaring voor, aldus Oepke (1964:58): Die getuienis van Johannes die Doper (Matt 3:2 e.v.) en ook die aanvanklike prediking van Jesus (Mark 1:15 e.v.) impliseer dat God kom (op pad is) en dat Hy sy koninkryk gaan vestig. Jesus maak dit duidelik dat Hy nie net die koninkryk proklameer nie, maar dat Hy die koninkryk is. Die koninkryk is alreeds in Hom teenwoordig as ’n eskatologiese werklikheid. Voorts is Hy in wese ook self die openbaring van God:

He is the corporeal revelation of God, though at first concealed as everything divine is in this aeon. He is the heavenly Son of Man who will come on the clouds (Mk. 8:38; 14:62 etc.). (Oepke 1964:580)

Hieruit kan die belangrike afleiding gemaak word dat die wederkoms van ons Here Jesus Godsopenbaring sal wees. Van verdere belang is Oepke (1964:581) se standpunt dat Jesus se openbaring by sy wederkoms veral die heerlikheidsopenbaring (doxa) is. Die heerlikheidsopenbaring van die Here by sy wederkoms word ook in die betekenisdefinisie van παρουσία (Van Rhyn & Jordaan 2020:8) as wederkomswoord belig, sowel as in dié van ἐπιφάνεια (Van Rhyn 2021:4, 5).

Die gebruik van ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις as wederkomswoorde dui dus op die selfopenbaring of bekendmaking van God, maar ook die bekendmaking van die heerlikheid van die Here Jesus self. Met sy wederkoms vervul en realiseer Jesus Christus die profesieë van die Ou Testament – vervul Hy die openbaring van die Verbondsgod. Dit gebeur wanneer Hyself geopenbaar word tydens sy wederkoms (Van Rhyn 2017:169).

Die eerste Christelike gemeenskap het geglo dat die Messias wat gekom hét ook die Een is wat sál kom. Tans is Hy in die hemel, maar eendag sal Hy geopenbaar word (Hand 3:21;Oepke 1964:582).

In die Nuwe Testamentiese briewe is openbaring nie net die ontvang van kennis nie, maar dit is om God self te leer ken, aangesien Hy na die mens toe gekom het (Oepke 1964:582, 583). Hiervolgens is openbaring dus God wat na die mens toe kom sodat die mens Hom kan ken.

Openbaring in die Nuwe Testamentiese briewe is sterk eskatologies gerig (Oepke 1964:583).

Uit Oepke se standpunt is dit duidelik dat ἀποκάλυψις veel meer is as net die koms en bekendmaking van Jesus met sy wederkoms, maar dat in sy koms God, sy Woord en raadsplan geopenbaar word as vervulde waarheid. Daarom kan daar ook sprake wees van die ἀποκάλυψις van die δόξα van Christus, van die gelowiges of van hulle σωτηρία (1 Pet 4:13; 1:5; 5:1; Rom 8:18). Dit sal voorafgegaan word deur die ἀποκάλυψις δικαιοκρισίας τοῦ θεοῦ [die openbaring van die regverdige oordeel van God] (Rom 2:5). Die hele openbaringsgeskiedenis staan dus in die lig van die openbaring wat by die wederkoms van Christus sal plaasvind. Die wederkoms is immers Godsopenbaring (Van Rhyn 2017:170).

Johannes het nie die woorde ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις in sy evangelie of briewe gebruik nie en tog speel openbaring ’n belangrike rol in die geskrifte (Oepke 1964:587).

In die boek Openbaring is die konsep van Godsopenbaring nou aan die toekoms verbonde en dit is reeds uit die naam van die boek ’Aποκάλυψις Ἰησοῦ Χριστοῦ af te lei (Oepke 1964:589). Daarby vereis ἀποκαλύπτειν altyd ’n goddelike wilsbesluit (Oepke 1964:590).

Oepke (1964) kom tot die gevolgtrekking dat openbaring in die Nuwe Testament:

… denotes, not the impartation of knowledge, but the actual unveiling of intrinsically hidden facts, or, theologically, the manifestation of transcendence within immanence. What is meant cannot be expressed in purely formal terms, e.g., the crisis of the finite in the light of the infinite etc. (p. 591)

Die konklusie van Anderson (1938:18) oor die betekenis van ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις verdien ook om hier vermeld te word. Hy wys daarop dat hierdie terme, wanneer dit as wederkomswoorde gebruik word, die wederkoms aandui as die finale openbaring van die ewige God en die vervulling van sy raadsplan in sy Seun.

Openbaring behels dat die heilige en genadige God self na mense keer wat verlore is in hulle sonde en die dood. Oepke (1964:591) skryf: ‘This is prepared in the salvation history of the OT and actualised in the incarnation, crucifixion and resurrection of Jesus Christ.’ Volgens hom wag die openbaring van God nou op voltooiing met die parousia. ‘In brief, revelation in the NT is the self-offering of the Father of Jesus Christ for fellowship.’ Openbaring is dus God wat Homself vir gemeenskap met sy kinders bekendstel en oopstel, en dit sal met die wederkoms van sy Seun vervul en verwesenlik word.

Samevattend kan die volgende gesê word oor die standpunt van Oepke (1964:556–592): Hy bespreek eerder die wese van (Gods)openbaring as wat hy op die betekenis van ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις in die konteks van die wederkoms ingaan. Wat egter wel van waarde is vir die studie, is die aanduiding dat ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις ’n wilsbesluit van God behels. Voorts kan die belangrike afleiding gemaak word dat wanneer ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις met betrekking tot die wederkoms van Jesus Christus gebruik word, die wederkoms eintlik Godsopenbaring op sigself is soos wat Anderson (1938:18) ook aandui. Wanneer ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις met verwysing na die wederkoms van Christus gebruik word, is dit veel meer as net die koms of die verskyning van Jesus, maar word God, sy Woord, sy raadsplan en sy verbond geopenbaar, vervul en verwesenlik. Met die wederkoms openbaar God Homself; stel Hy Homself bekend en oop vir gemeenskap met sy kinders. Met die wederkoms val die klem dus meer op die volle openbaring van die drie-enige God as op die blote koms van Jesus Christus. Die wederkoms is egter die tydstip waarop die volle openbaring sal plaasvind.

Oepke toon dus aan hoe die begrip openbaring ontwikkel van die Ou Testament na die Nuwe Testament en dat die hoogtepunt van Godsopenbaring sal plaasvind by die wederkoms van Jesus Christus. Die Ou-Testamentiese begrip het dus ontwikkel van God wat Homself openbaar na die Nuwe-Testamentiese begrip van God wat Homself volledig in Christus met sy wederkoms openbaar.

Sinkroniese woordstudie van ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις
Greek-English lexicon of the New Testament: Based on semantic domains

Louw en Nida (1996b:28) gee die vertaling van ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις onderskeidelik aan as ‘reveal’ (28.38) en ‘revelation’ (28.38).

Die woorde word in die hoofdomein 28 ‘Know’ (Louw & Nida 1996a:334) ingedeel. Indien hoofdomein 28 met die omliggende hoofdomeine vergelyk word, word die volgende duidelik: Woorde in hierdie domein (28) het daarmee te make dat jy sekere kennis het wat jy nie geleer of onthou het nie. Jy het dit ook nie self bedink nie en dit is nie noodwendig verstaanbare kennis nie.

Uit die hoofdomein waarby ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις ingedeel is, is dit duidelik dat kennis van ’n saak by hierdie woorde ’n belangrike rol speel. Die feit dat die woorde by subdomein C ‘Well Known, Clearly Shown, Revealed (28.28–28.56)’ ingedeel word, maak dit duidelik dat Jesus Christus en alles wat met Hom verband hou by sy openbaring tydens sy wederkoms ten volle kenbaar sal wees – geopenbaar sal wees.

Die begrippe ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις word by die subdomein C ‘Well Known, Clearly Shown, Revealed (28.28–28.56)’ ingedeel. Indien C met die ander subdomeine vergelyk word, blyk dit dat dit hier gaan oor kennis wat welbekend is, aangesien dit duidelik bekend gemaak of geopenbaar is.

Die begrippe ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις word verklaar as ‘to uncover, to take out of hiding’, maar daar word daarop gewys dat die gebruik in die Nuwe Testament slegs in die figuurlike sin voorkom, en daarom word die begrippe verklaar as ‘to cause something to be fully known – “to reveal, to disclose, to make fully known, revelation”’ (Louw & Nida 1996a:339).

Indien 28.38, ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις met die ander woorde in die subdomein (28.28–28.56) vergelyk word, is dit duidelik dat al hierdie woorde betrekking het op kennis wat welbekend is, wat ‘well known’ en ‘clearly known’ is. Die verskil is egter dat by ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις daar ’n doelbewuste ‘veroorsaking’ van die welbekende kennis is, dit wil sê dat die kennis geopenbaar word, bekendgemaak word.

Daar is egter ’n leemte te bespeur by Louw en Nida, naamlik dat hierdie woordeboek geen melding maak van die wederkoms van Jesus Christus by die verklaring van ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις nie en dat daar geen hoofdomein of subdomein is vir die woorde wat die wederkoms as inhoud het nie. Die leemte noodsaak die raadpleging van verdere bronne vir die doeleindes van hierdie artikel.

Daar is voorheen (Van Rhyn 2017) daarop gewys dat indien Louw en Nida se verklaring in ag geneem word, die volgende afleiding gemaak kan word:

Die woorde ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις, waar dit vir die wederkoms gebruik word, verwoord die feit dat Jesus Christus en alles wat met Hom verband hou ten volle kenbaar sal wees by sy wederkoms. By sy wederkoms sal Hy inderdaad volledig kenbaar en ten volle geopenbaar wees. (bl. 173)

A Greek-English lexicon of the New Testament and other early Christian literature

Volgens die BDAG (Bauer et al. 2000:112) word ἀποκάλυψις gebruik in die letterlike betekenis van die ontbloting van iets deur die bedekking weg te neem soos om ’n hoofbedekking af te haal. In die Nuwe Testament en in die Vroeë Christelike literatuur het ἀποκάλυψις die volgende hoofbetekenisse, aldus die BDAG (Bauer et al. 2000:112):

  • Making fully known, revelation, disclosure,
  • As part of a book title Revelation.

Dit is duidelik dat net die eerste betekenisgebruik hier ter sprake is. Volgens die BDAG is daar drie moontlike gebruike van die eerste betekenis: om die waarheid bekend te maak, om iets deur visioene te openbaar en om geheime oor die laaste dae te openbaar. Die BDAG maak ’n direkte verwysing na die wederkoms by die derde gebruik: ‘Of the parousia ἐν ἀποκαλύψει’ en verwys na 1 Petrus 1:7, 13; 1 Korintiërs 1:7 en 2 Tessalonisense 1:7.

Die werkwoordvorm, ἀποκαλύπτω, word soos volg deur die BDAG (Bauer et al. 2000:112) verklaar: ‘ … the literal sense “uncover as of head”’ en word gebruik in die betekenis van ‘to cause something to be fully known, reveal, disclose, bring to light, make fully known’.

Daar word onder meer op die volgende gebruike van die woord gewys: ‘ … of the revelation of certain persons and circumstances in the endtime’, soos byvoorbeeld die Seun van die Mens in Lukas 17:30 en die mens van wetteloosheid in 2 Tessalonisense 2:3, 6, 8. Die woord word ook gebruik in verband met die finale oordeel in 1 Korintiërs 3:13.

Die selfstandige naamwoordvorm sowel as die werkwoordvorm kan gebruik word om die wederkoms van Christus mee aan te dui. Die gebruik van ἀποκάλυψις en ἀποκαλύπτω met betrekking tot die wederkoms dui aan dat Jesus Christus dan volledig kenbaar bekendgemaak en geopenbaar sal word. Die openbaring van Jesus Christus met sy wederkoms ontvang dus meer klem as die blote feit van sy koms.

Betekenisdefinisie van ἀποκάλυψις en ἀποκαλύπτω

Uit die diakroniese en die sinkroniese woordstudie blyk dit dat die selfstandige naamwoordvorm sowel as die werkwoordvorm gebruik kan word om die wederkoms van Christus mee aan te dui. Die gebruik van ἀποκάλυψις en ἀποκαλύπτω met betrekking tot die wederkoms dui aan dat die drie-enige God self en alles wat met Hom verband hou, volledig kenbaar bekendgemaak en geopenbaar sal word in Jesus Christus met sy wederkoms. Hierdie openbaring behels ’n wilsbesluit van God. Dit is dus veel meer as net die opdaag of die verskyning van Jesus. God, sy Woord en sy raadsplan, sy verbond en sy beloftes sal geopenbaar, vervul en verwesenlik word. Uit die voorafgaande woordstudie is die volgende ook duidelik: Met die wederkoms van Jesus Christus openbaar God Homself, stel Hy Homself finaal bekend en oop vir gemeenskap met sy kinders. En ook: Met die wederkoms sal die heerlikheid van die Here Jesus duidelik blyk.

Op grond van die bespreking tot dusver kan die volgende betekenisdefinisie van ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις as wederkomswoorde geformuleer word: Dit is die drie-enige God se finale selfopenbaring in Jesus Christus met sy wederkoms in heerlikheid sodat sy Woord, sy raadsplan, sy verbond en sy beloftes volledig geopenbaar, vervul en verwesenlik kan wees en Hy vir ewig in gemeenskap met sy kinders kan wees.

Die telos van die verkondiging van die wederkoms aan die hand van ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις

In hierdie afdeling word die gebruik van ἀποκαλύπτω en ἀποκάλυψις as wederkomswoorde nagegaan en openbaringsdoelwitte geïdentifiseer. In die verklaring van die tersaaklike Skrifgedeeltes word daar hoofsaaklik op hierdie twee aspekte gefokus.

Die werkwoord ἀποκαλύπτω kom 26 keer in 10 Nuwe Testamentiese boeke voor (vgl. Wigram & Winter 1978:70). Indien die 26 keer wat ἀποκαλύπτω in die Nuwe Testament voorkom, nagegaan word, is dit duidelik dat net een spesifiek op die wederkoms van Christus dui, naamlik Lukas 17:30 (vgl. Bauer et al. 2000:112).

Die selfstandige naamwoord ἀποκάλυψις kom 18 keer in nege Nuwe Testamentiese boeke voor (vgl. Wigram & Winter 1978:70). Van die 18 keer wat die woord gebruik word, word dit vyf keer met betrekking tot die wederkoms van Jesus Christus gebruik. Myers (1987:920) toon aan dat ἀποκάλυψις wat wederkoms beteken in die volgende Skrifgedeeltes voorkom: 1 Korintiërs 1:7; 2 Tessalonisense 1:7; 1 Petrus 1:7, 13 en 4:13.

In die bespreking van hierdie Skrifgedeeltes word die Griekse teks van die UBS4 van Aland et al. (2006) aangehaal, asook die Afrikaanse vertaling van die Die Bybel: 2020-Vertaling. Hoofletteruitgawe.

Ἀποκαλύπτω as wederkomswoord
Lukas 17:30

κατὰ τὰ αὐτὰ ἔσται ᾗ ἡμέρᾳ ὁ υἱὸς τοῦ ἀνθρώπου ἀποκαλύπτεται [Dit sal net so wees op die dag wanneer die Seun van die Mens geopenbaar word (outeur se beklemtoning)].

Lukas 17 vorm deel van die Profetiese Rede. Jesus is besig om die mense te waarsku teen oorgerustheid en hy gebruik die mense in Noag en in Lot se tyd as voorbeelde. Hoewel hier duidelik van oordeel sprake is, is die hoofpunt van vergelyking die feit dat die mense onverhoeds betrap sal word deur die wederkoms van Jesus Christus (Stein 1992:440). So sal dit ook wees op die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar sal word – die mense sal onverhoeds betrap word soos in die tyd van Noag en Lot.

Op die begrip die Seun van die Mens word hier nie verder ingegaan, behalwe om te verwys na wat voorheen daaroor geskryf is (Van Rhyn 2017):

Wanneer die titel ‘Seun van die Mens’ vir Jesus Christus gebruik word en wanneer dit aan die wederkoms verbind word, word sy Godheid, sy Koningskap, sy Middelaarskap en sy ewige regering beklemtoon. (p. 42)

Die wederkoms word dus verkondig om oorgerustheid teen te werk en om mense op te roep om gereed te wees vir die wederkoms (Sproul 1999:329). Dit is opvallend dat hier twee begrippe gebruik word wat beide na die wederkoms kan verwys. Buiten ἀποκαλύπτεται word ᾗ ἡμέρᾳ ook gebruik. ‘Die dag’ waarvan hier sprake is, kan soos volg verklaar word: ‘Dit is die spesiaal aangewysde eskatologiese dag van Jesus Christus se wederkoms om te kom oordeel’ (Van Rhyn 2017:255). Hoewel die hoofpunt van vergelyking in Lukas 17:30 nie oordeel is nie, maar oorgerustheid, is hier dus tog ook sprake van oordeel.

Die volgende openbaringsdoelwit kan dus geformuleer word: Die wederkoms word verkondig met die telos om te waarsku teen oorgerustheid en sodat mense gereed sal wees vir die volledige bekendmaking van Jesus Christus wat gaan oordeel (Luk 17:30).

Ἀποκάλυψις as wederkomswoord
1 Korintiërs 1:7

ὥστε ὑμᾶς μὴ ὑστερεῖσθαι ἐν μηδενὶ χαρίσματι ἀπεκδεχομένους τὴν ἀποκάλυψιν τοῦ κυρίου ἡμῶν Ἰησοῦ Χριστοῦ· [… sodat julle, terwyl julle wag op die openbaarmaking van ons Here Jesus Christus, nie in enige genadegawe tekort skiet nie (outeur se beklemtoning)].

In die inleiding van sy eerste brief aan die Korintiërs (1:4, 5) noem Paulus die goeie hoedanighede van die gemeente, wat die vrug van God se genade aan hulle is en waarvoor hy God dank (Ciampa & Rosner 2010:53). Een van die goeie hoedanighede wat Paulus noem, is dat die getuienis van Jesus so stewig onder hulle gevestig is (1 Kor 1:6) dat hulle wag op die openbaring (wederkoms) van ons Here Jesus Christus (v. 7):

The Corinthians had received largely the gifts of the Spirit: the consequence was they waited with patience and desire for the revelation of Christ, when they should enter on that inheritance of which those gifts are the foretaste and pledge. (Hodge 1857:9)

’n Gesonde wederkomsverwagting is dus die gevolg van die vrug van genadegawes wat God gee. Die Korintiërs se wederkomsverwagting word deur Fausset (1997:263) ‘the crowning proof of their “coming behind in no gift”’ genoem.

1 Korintiërs 1:7 kan ook soos volg geïnterpreteer word: Die Korintiërs is vol goeie hoedanighede terwyl hulle wagtend is op die koms van die Here. Indien dit so is, is die wag op die wederkoms bepalend daarvoor dat hulle goeie hoedanighede het (Van Rhyn 2017:176).

Uit 1 Korintiërs 1:4–7 kan afgelei word dat ’n wederkomsverwagting inherent deel van ’n gemeente en van ’n gelowige se geloofmondering moet wees en ook dat ’n wederkomsverwagting goeie hoedanighede in gemeentes en gelowiges stimuleer (vgl. Groenewald 1980:21).

Die volgende telos van die wederkomsverkondiging aan die hand van ἀποκάλυψις kan dus soos volg geformuleer word:

  • Die wederkoms word verkondig sodat gelowiges daarop sal wag en sodat goeie hoedanighede in hulle gestimuleer kan word (1 Kor 1:7).
2 Tessalonisense 1:7

καὶ ὑμῖν τοῖς θλιβομένοις ἄνεσιν μεθʼ ἡμῶν, ἐν τῇ ἀποκαλύψει τοῦ κυρίου Ἰησοῦ ἀπʼ οὐρανοῦ μετʼ ἀγγέλων δυνάμεως αὐτοῦ [… en verligting te gee aan julle wat saam met ons verdruk word. Hy sal dit doen deur die openbaring van die Here Jesus uit die hemel saam met sy magtige engele … (outeur se beklemtoning)].

Paulus is besig om die Tessalonisense te bemoedig in hulle vervolging (2 Tess 1:4). Hy troos hulle wat verdruk word met die feit dat hulle met rus vergoed sal word wanneer die Here Jesus saam met sy engele in ’n vuurvlam weer uit die hemel kom. Hulle verdrukkers sal deur die Here vergeld word. Die Here kom immers as Verlosser, maar ook as Regter (Calvin 2010:316).

Die volgende telos van die wederkomsverkondiging aan die hand van ἀποκάλυψις kan dus soos volg geformuleer word:

  • Die wederkoms word verkondig om gelowiges wat verdruk word te troos met die feit dat die Here met sy wederkoms ’n einde sal maak aan die verdrukking en dat hulle verdrukkers vergeld sal word (2 Tess 1:7).
1 Petrus 1:7

ἵνα τὸ δοκίμιον ὑμῶν τῆς πίστεως πολυτιμότερον χρυσίου τοῦ ἀπολλυμένου διὰ πυρὸς δὲ δοκιμαζομένου, εὑρεθῇ εἰς ἔπαινον καὶ δόξαν καὶ τιμὴν ἐν ἀποκαλύψει Ἰησοῦ Χριστοῦ [Die doel was dat dit duidelik sou blyk dat die egtheid van julle geloof – ’n egtheid wat baie kosbaarder is as goud wat verganklik is, maar nogtans met vuur getoets word – uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Jesus Christus geopenbaar word (outeur se beklemtoning)].

Petrus onderrig die gelowiges oor die sin van lyding en hy verduidelik aan hulle dat hulle geloof deur beproewings gelouter word soos goud deur vuur (Schreiner 2003:67). Hulle gelouterde geloof sal dan lof, heerlikheid en eer tot gevolg hê by Jesus Christus se wederkoms en hulle sal weet dat hulle nie verniet gely en geglo het nie (Mounce 2005:14). ‘The believer shall share in heavenly glory and honor when at the end of his earthly life he enters the presence of Jesus Christ’ (Kistemaker 2002:48). Die wederkoms word derhalwe verkondig sodat gelowiges die sin van lyding sal verstaan en sal weet dat die lyding met lof, heerlikheid en eer vervang sal word.

Die volgende openbaringsdoelwitte kan dus hieruit afgelei word:

  • Die wederkoms word verkondig sodat gelowiges die sin van lyding sal verstaan (1 Pet 1:7).
  • Die wederkoms word verkondig met die telos dat gelowiges sal weet dat die lyding van hierdie lewe met lof en heerlikheid en eer vervang sal word (1 Pet 1:7).
1 Petrus 1:13

Διὸ ἀναζωσάμενοι τὰς ὀσφύας τῆς διανοίας ὑμῶν νήφοντες τελείως ἐλπίσατε ἐπὶ τὴν φερομένην ὑμῖν χάριν ἐν ἀποκαλύψει Ἰησοῦ Χριστοῦ. [Daarom, omgord die lendene van julle verstand, en deur nugter op te tree, hoop volkome op die genade wat tydens die openbaring van Jesus Christus vir julle gebring sal word (outeur se beklemtoning)].

Petrus het so pas aan die gelowiges verduidelik dat hulle meer bevoorreg is as die gelowiges van die Ou Testament (1 Pet 1:10–12). Daarom moet hulle, onder meer hulle hoop volkome vestig op die genade wat aan hulle geskenk sal word by die wederkoms van Christus. Die hoofgedagte van die vers is die feit dat hulle hul hoop moet vestig op die genade waaraan hulle deel gaan kry met die wederkoms, aangesien ἐλπίσατε die enigste werkwoord in die imperatief is, terwyl die ander werkwoorde deelwoorde in die praesens is (Schreiner 2003:77).

Die telos van die wederkomsverkondiging aan die hand van ἀποκάλυψις kan dus soos volg geformuleer word:

  • Die wederkoms word verkondig sodat gelowiges bemoedig kan word deur die feit dat Christus weer gaan kom en sodat hulle hul hoop kan vestig op die genade wat hulle dan sal ontvang (1 Pet 1:13).

1 Petrus 4:13

ἀλλὰ καθὸ κοινωνεῖτε τοῖς τοῦ Χριστοῦ παθήμασιν χαίρετε, ἵνα καὶ ἐν τῇ ἀποκαλύψει τῆς δόξης αὐτοῦ χαρῆτε ἀγαλλιώμενοι. [… wees eerder bly, namate julle deel het aan die lyding van Christus sodat julle ook by die bekendmaking van sy heerlikheid uitbundig sal kan jubel (outeur se beklemtoning)].

Petrus moedig gelowiges aan om bly te wees wanneer hulle in die lyding van Christus mag deel sodat hulle by die openbaring van sy heerlikheid kan oorloop van vreugde (Kistemaker 2002:174). Die openbaring van Christus se heerlikheid is duidelik by sy wederkoms in heerlikheid (Mounce 2005:74).

Die telos van die wederkomsverkoniging aan die hand van ἀποκάλυψις kan dus soos volg geformuleer word:

  • Die telos van die wederkomsverkondiging is dat gelowiges bemoedig kan word wanneer hulle in Christus se lyding deel. Die lyding sal by die wederkoms wanneer die heerlikheid van ons Here geopenbaar word met oorvloedige blydskap en vreugde vervang word (1 Pet 4:13).

Samevattende konklusie

Op grond van die diakroniese en sinkroniese woordstudie kan ’n betekenisdefinisie van ἀποκάλυψις en ἀποκαλύπτω as wederkomswoorde soos volg geformuleer word: Dit is die drie-enige God se finale selfopenbaring in Jesus Christus met sy wederkoms in heerlikheid sodat sy Woord, sy raadsplan, sy verbond en sy beloftes volledig geopenbaar, vervul en verwesenlik kan wees en Hy vir ewig in gemeenskap met sy kinders kan wees.

Die telos van die wederkomsverkondiging aan die hand van die begrippe ἀποκάλυψις en ἀποκαλύπτω kan soos volg saamgevat word:

Die wederkoms word verkondig met die telos om te waarsku teen oorgerustheid en sodat mense gereed sal wees vir die wederkoms (Luk 17:30) en sodat gelowiges daarop sal wag en goeie hoedanighede in hulle gestimuleer kan word (1 Kor 1:7). Die wederkoms word verkondig om gelowiges wat verdruk word te troos met die feit dat die Here dan ’n einde sal maak aan die verdrukking en dat hulle verdrukkers vergeld sal word (2 Tess 1:7) wanneer sy heerlikheid geopenbaar sal word (1 Pet 4:13). Die wederkoms word verkondig sodat gelowiges die sin van lyding sal verstaan (1 Pet 1:7) en bemoedig sal word in die wete dat die lyding van hierdie lewe met lof, heerlikheid, eer (1 Pet 1:7), oorvloedige blydskap en vreugde (1 Pet 4:13) vervang sal word, aangesien hulle in die lyding van Christus deel (1 Pet 4:13). Die wederkoms word verkondig sodat gelowiges daardeur bemoedig kan word en sodat hulle hul hoop kan vestig op die genade wat hulle dan sal ontvang (1 Pet 1:13).

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenis is met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outersbydrae

H.P.M.v.R., was die enigste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel het alle etiese standaarde vir navorsing gevolg.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore nie.

Data beskikbaarheid

Die outeur bevestig dat die data wat die bevindings van hierdie studie ondersteun, beskikbaar is in die artikel.

Vrywaring

Die sienings en menings wat in hierdie artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde verwantskap van die outeur nie.

Literatuurverwysings

Aland, K., Black, M., Martini, C.M., Metzger, B.M., Robinson, M.A. & Wikgren, A., 2006, The Greek New Testament: The complete text of the United Bible Societies’ Greek New Testament, 4th rev. edn. (with morphology), United Bible Societies, New York, NY.

Anderson, J.N., 1938, ‘The “revelation” of Christ’s coming’, The Ministry 11(10), 17–18.

Bauer, W., Danker, F.W., Arndt, W.F. & Gingrich, F.W., 2000, A Greek-English lexicon of the New Testament and other early Christian literature, 3rd edn., University of Chicago, Chicago, IL.

Calvin, J., 2010, Commentaries on the epistles of Paul the apostle to the Philippians, Colossians and Thessalonians, Logos Bible Software, Bellingham, WA.

Ciampa, R.E. & Rosner, B.S., 2010, The first letter to the Corinthians, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Fausset, A.R., 1997, The books of 1 Corinthians, 1 Thessalonians and James, Logos Research Systems, Oak Harbor, WA.

Groenewald, E.P., 1980, Die eerste brief aan die Korintiërs, NG Kerk-uitgewers, Kaapstad.

Heaton, R., 2016, ‘Apocalypse then (and now!): Paul, the Corinthians, and “Apocalyptic”’, New Testament Literature: First Corinthians, Spring, 1–20.

Hodge, C., 1857, An exposition of the first epistle to the Corinthians, Robert Carter & Brothers, New York, NY.

Janse van Rensburg, F.J., De Klerk, B.J., De Wet, F.D.W., Lamprecht, A., Nel, M. & Vergeer, W. (reds.), 2011, Preekgeboorte: Van eksegese tot preek, Potchefstroomse Teologiese Publikasies, Pretoria.

Kistemaker, S.J., 2002, Exposition of the epistles of Peter and the epistle of Jude, Baker Book House, Grand Rapids, MI.

Kittel, G., Friedrich, G. & Bromily, G. (eds.), 1964, Theological dictionary of the New Testament, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Louw, J.P. & Nida, E.A., 1996a, Greek-English lexicon of the New Testament: Based on semantic domains, vol. 1, Electronic ed. of the 2nd edn., United Bible Societies, New York, NY.

Louw, J.P. & Nida, E.A., 1996b, Greek-English lexicon of the New Testament: Based on semantic domains, vol. 2, Electronic ed. of the 2nd edn., United Bible Societies, New York, NY.

Mounce, R.H., 2005, A living hope: A commentary on 1 and 2 Peter, Wipf & Stock, Eugene, OR.

Myers, A.C., 1987, The Eerdmans Bible dictionary, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Oepke, A., 1964, ‘ἀποκαλύπτω, ἀποκάλυψις’, in G. Kittel, G. Friedrich & G. Bromily (eds.), Theological dictionary of the New Testament, vol. 3, pp. 556–592, Eerdmans, Grand Rapids, MI.

Schreiner, T.R., 2003, 1, 2 Peter, Jude, Broadman & Holman, Nashville, TN.

Sproul, R.C., 1999, A walk with God: An exposition of Luke, Christian Focus Publications, Ross-Shire.

Stein, R.H., 1992, Luke, Broadman & Holman, Nashville, TN.

Van Rhyn, H.P.M., 2017, ‘Die telos van die openbaring van die wederkoms in die Nuwe Testament: ’n Openbaringshistoriese studie, met besondere fokus op die begrip παρουσία’, PhD-proefskrif, Fakulteit Teologie, Noordwes-Universiteit, Potchefstroom.

Van Rhyn, H.P.M., 2021, ‘Ἐπιφάνεια as wederkomswoord in die Nuwe Testament’, In die Skriflig 55(3), a2705. https://doi.org/10.4102/ids.v55i3.2705

Van Rhyn, H.P.M. & Jordaan, G.J.C., 2020, ‘’n Betekenisdefinisie van παρουσία as wederkomswoord’, In die Skriflig 54(1), a2479. https://doi.org/10.4102/ids.v54i1.2479

Wigram, G.V. & Winter, R.D., 1978, The word study concordance, Tyndale, Wheaton, IL.

Voetnota

1. Navorsing vir die artikel berus gedeeltelik op navorsing in die skrywer se proefskrif (Van Rhyn 2017).


 

Crossref Citations

1. Φανερόω : ’n Wederkomswoord in die Nuwe Testament
H.P. Malan van Rhyn
In die Skriflig / In Luce Verbi  vol: 58  issue: 1  year: 2024  
doi: 10.4102/ids.v58i1.3011