About the Author(s)


Alta Vrey Email symbol
Unit for Reformational Theology and the Development of the South African Society, Faculty of Theology, North-West University, Potchefstroom, South Africa

Citation


Vrey, A., 2022, ‘’n Feministiese perspektief op eenheid en gelykheid in Efesiërs 6:10–18 se wapenrusting-metafoor’, In die Skriflig 56(1), a2807. https://doi.org/10.4102/ids.v56i1.2807

Original Research

’n Feministiese perspektief op eenheid en gelykheid in Efesiërs 6:10–18 se wapenrusting-metafoor

Alta Vrey

Received: 15 Oct. 2021; Accepted: 18 Feb. 2022; Published: 10 June 2022

Copyright: © 2022. The Author(s). Licensee: AOSIS.
This is an Open Access article distributed under the terms of the Creative Commons Attribution License, which permits unrestricted use, distribution, and reproduction in any medium, provided the original work is properly cited.

Abstrak

A feminist perspective on unity and equality depicted in the Armour Metaphor of Ephesians 6:10–18.

The Holy Spirit and the Word of God are gifts to the whole church. Every believer in Jesus Christ is part of the body of Christ, the temple of God, the household of the Father and the army of the Spirit. One of the main themes of the letter to the Ephesians is unification in Christ between Jews and Gentiles. The author concludes his letter in Ephesians 6:10 with the metaphor of the armour of God: ‘In conclusion, be strong in the Lord [be empowered through your union with Him] and in the power of His might’ (Amplified Bible [AMP]). Our union with Christ, which should be reflected in our union with other believers, empower us to be strong in our fight against evil in this world. Unification cannot be complete if the value of each member is not acknowledged. Although roles may differ, the value of each member is measured by the price that Christ paid on the cross for our redemption. Equality unite; inequality divide. Equality for all members of Christ’s church is essential in the fight against evil powers such as domination and inequality. The writer of Ephesians uses metaphors to convey the message of unification and equality, especially between Jews and Gentiles in the newly formed 1st century church. Unfortunately, the position of slaves, woman and children in the church are still subject to cultural norms and values of the time. The message of this letter to the Ephesians should be filtered through the lens of patriarchy in the 1st-century Mediterranean world. According to Osiek, the whole Mediterranean society was patriarchal. The metaphor of the Roman soldier’s armour is a male image used to describe a spiritual war in which all believers are involved. Equality in today’s society should not be limited by 1st-century cultural boundaries. In Ephesians, the fight against evil should be an example of the unification and equality of gender, ethnicity, social status and age groups.

Contribution: The metaphor of the armour of God describes the spiritual fight against evil powers. Although the image of a male Roman soldier is used, the fight is not limited to male members of the church. Every believer is valuable enough that Christ died for him or her and therefore everyone should be equal in the army of God. The empowering strength of the Holy Spirit should bring equality and unity in the church.

Keywords: Ephesians; armour metaphor; patriarchy; unity; equality; gender; first century church; spiritual warfare.

Inleiding

Die Christologiese en eskatologiese perspektief van Efesiërs word deur Dawes (1998:169) en Mouton (2002:114) bevestig. Die brief het ten doel om die nuwe identiteit wat Christus bewerk het vir die vroeë gelowige gemeenskap te bevestig en te versterk deur van verskillende metafore gebruik te maak. Daar moet vandag na nuwe perspektiewe en benaderings gesoek word om die Bybelse teks in die konteks van die hedendaagse gelowiges relevant te interpreteer (Nortjé-Meyer & Vrey 2016:54). Hierdie artikel poog om die metafoor van die wapenrusting in 6:10–18 vanuit ’n feministiese perspektief te interpreteer in die konteks van die hele brief en die kernboodskap van eenheid en gelykheid wat daarin voorkom.

Die skrywer1 van die brief gebruik hierdie militêre beeld om die geestelike stryd van die Christelike lewe te demonstreer. Die oorlogsbeeld kom ook in die Ou Testament voor, soos byvoorbeeld in Jesaja 59:17: ‘Hy trek geregtigheid aan soos ’n pantser en redding is die helm op sy kop.’2 Heel moontlik het hierdie beeld die skrywer van Efesiërs gemotiveer om die perikoop oor die wapenrusting van God te skryf. Wendland (1999) is van mening dat die hele brief aan die Efesiërs opbou tot die klimaks in 6:10–18 wat oor die stryd van die kerk teen die bose handel. Hy (Wendland 1999:216) skryf dat die eenheid van die kerk in gevaar was as gevolg van die verskil tussen Jode en heidene oor die bonatuurlike magte. Die boodskap wat die skrywer aan die lesers wil tuisbring, is dat die bose magte ’n realiteit is, maar nie ’n bedreiging inhou vir die individu wat in Christus sy of haar beskerming vind nie. Hierdie militêre metafoor beeld die voortdurende geestelike stryd tussen goed en kwaad uit. In 1:3 word daar verwys na die hemel en in sommige vertalings na die hemelruim wat ’n negatiewe en ’n positiewe deel het. In 1:3, 20 en 2:6 word daar na God of Christus se heerskappy in die hemelse sfere verwys, terwyl 3:10 en 6:12 na die bose se doel om God teen te staan en teen die mense van God te werk, verwys. Kreitzer (1997:56) verduidelik hierdie dualisme van die hemelruim as volg: ‘forces of good and evil conduct a campaign for the hearts and minds of people’.

Daar bestaan ’n geestelike wêreld buite die materiële, aardse sfeer. Hierdie geestelike realiteit was deel van die antieke wêreldsiening. Kreitzer (1997:181) voeg by: ‘the image of the soldier armament so as to engage in spiritual battle is one which has found expression throughout history’. Kreitzer (1997:183) sien die boosheid en kwaad waarteen daar geveg word as die sosiale en politieke strukture van die wêreld. Die skrywer van Efesiërs sien egter nie die sosiale strukture soos slawerny of patriargie as boos nie, maar bevestig hulle bestaansreg (5:22–33; 6:5–9). Perkins is van mening dat die vyande wat in Efesiërs beveg word nie menslik is nie, maar geestelik en demonies. Die geestelike wapenrusting bevestig die gelowiges se deelname aan Christus se oorwinning en almag oor alle magte op die aarde sowel as in die hemel (Perkins 1997:144). Ek stem saam met Perkins dat daar ’n geestelike geveg is soos uitgebeeld in die teks, maar ek sien ook die fisiese realiteite van onderdrukking en ongelykheid as iets waarteen steeds baklei moet word.

Gedurende die tyd waarin Efesiërs geskryf is, het eer en skande grootliks die sosiale posisie van ’n individu asook ’n groep bepaal. Malina (1981:29) se definisie van eer is soos volg: ‘A claim to worth and social acknowledgement of that worth and a challenge of a claim to enter into the social space of another’. Eer was in die antieke Mediterreense samelewing as ’n beperkte kommoditeit gesien en daarom het die uitdaging om eer te bekom gewoonlik met die vernedering en veroordeling van die ‘ander’ gepaard gegaan. Volgens Malina se definisie is dit moontlik dat die skrywer van Efesiërs eer vir die vroeë gelowiges eis deur hulle vyand te verneder. Deur die bose as ’n listige verleier te skets, is sy mag verneder en so is aanspraak op eer vir die krag en sterkte van die vroeë Christene gemaak. Asher (2011) se konklusie in hierdie verband is:

By connecting the virtues of the saints metaphorically with the virtues of classical warfare, the author demonstrates that the followers of Jesus rightfully possess honor. The virtues of the opposition – the cosmic forces of evil and their human subjects – however, are of lower quality and shameful; they ultimately reflect the qualities of unworthy foes. (p. 748)

Die primêre motivering agter die metafoor van die soldaat bly egter volgens Asher (2011), die eenheid van die volgelinge van Jesus:

Every verb and noun referring to the followers of Jesus in vv. 10–17 is plural, illustrating what the ancients rightly and widely understood: success on the battlefield was dependent on cooperative and unified effort. The theme of institutional identity is a driving force in the letter. Ephesians is directed to Christian identity formation and growth within the context of the general cultural ethos of the early imperial period. (p. 746)

Die metafoor van die wapenrusting van die gelowige soldaat is ’n hulpmiddel om die positiewe identiteit van die Vroeë Kerk te vestig en hierdie identiteit in duidelike terme met die listige, bose wêreld buitekant die grense van die kerk te kontrasteer. Alhoewel die identiteit van elke gelowige in Jesus se verlossingswerk aan die kruis gesetel is, verdeel die skrywer van Efesiërs die gelowiges in groepe: Jode en heidene (2:11–19, 3:6, 4:17–19); mans en vroue (5:22–33); ouers en kinders (6:1–5); asook eienaars en slawe (6:6–9). Aangesien almal in hierdie groepe sondig is (Rm 3:23–24) en almal verlossing nodig het, word almal wat in Christus glo, verenig (1:7–14) wat gelykheid tot gevolg het in ‘Hom wat alles in almal vervul’ (1:23).

In plaas van kultuurnorme wat patriargale strukture bevorder, is hierdie artikel ’n pleidooi vir ’n feministiese, christologiese perspektief wat diskriminerende persepsies kan oorkom en eenheid asook gelykheid in die kerk kan bevorder.

Die gebruik van metafore in Efesiërs

Warren (2012:284) definieer metafore as ’n ‘figure of speech whereby we speak about one thing in terms which are seen to be suggestive of another’. Sy wys op die spanning wat bestaan tussen dit wat waar is van ’n metafoor en dit wat nie op die realiteit van toepassing gemaak kan word nie. ’n Metafoor benadruk die eienskappe wat ooreenstem tussen die twee sake wat vergelyk word en steek eienskappe weg wat nie van toepassing is nie. In Efesiërs word die identiteit en die karakter van die Vroeë Kerk beskryf en die skrywer gebruik metafore om sy boodskap duidelik oor te dra. McVay (2005:99) se opinie is dat die metafore van Efesiërs die korporatiewe kerk van Christus beskryf. Die Vroeë Kerk word nie net uitgebeeld as die liggaam van Christus, die familie van God, die tempel van God en die bruid van Christus nie, maar ook as die weermag van God. Hierdie metafoor van die soldaat beskryf ’n unieke karaktertrek van die kerk, naamlik die kerk se stryd teen ’n gemeenskaplike vyand, die bose. Reinhard (2005) is van mening dat die geveg egter deur elke individuele gelowige soldaat geveg word vir die groter gemeenskaplike doel, naamlik die eenheid en volwassenheid van die kerk as liggaam van Christus:

Personal piety is for the sake of the universal Church, not just for themselves. Ephesians 6:10–18 is a call to put on Christ for the sake of the unity and maturity of the Church. (p. 521)

Die eenheid in die kerk word bevorder deur elke individuele gelowige wat sy of haar deel doen in die stryd teen die bose.

Aan die einde van die brief aan die Efesiërs gebruik die skrywer die militêre beeld van die Romeinse soldaat om die temas van die brief saam te vat. Die gelowiges word aangesê om die wapenrusting van God aan te trek om sodoende oorwinning te behaal oor die ‘owerhede, magte, wêreldheersers en die bose geeste in die lug’ (6:12). Volgens McVay (2005:91) moedig die skrywer sy lesers aan om die wapenrusting aan te trek in dieselfde volgorde as wat ’n Romeinse soldaat sy wapenrusting sou aantrek. Die metafoor van die wapenrusting beklemtoon die eenheid van die liggaam met die wapenrusting en dien as simbool van die eenheid wat daar in die Vroeë Kerk moes wees. Die gelowiges word deur die skrywer gemotiveer om as eenheid saam te staan teen die bose. Die wapenrusting moet aangetrek word deur alle gelowiges, manlik en vroulik. Die manlike liggaam is ook weerloos en het beskerming net soos die vroulike liggaam nodig.

Die metafoor van die soldaat is nie tot Efesiërs beperk nie. In Jesaja 59 word die oortredings van die mens bespreek en die feit dat die mens hom- of haarself nie kan red nie. In vers 17–18 trek die Here self die pantser en helm aan van die soldaat om dié wat Hom teëstaan te vergeld. Owens (2016:91) beskryf die Jesaja metafoor as volg: ‘Isaiah 59:17 paints this picture of YHWH as a divine warrior preparing for battle by clothing himself with armour, a helmet, a tunic, and a cloak.’ Die Here word as die soldaat in Jesaja 59 uitgebeeld wat vanuit die hemel sy vyande op die aarde beveg. Alhoewel Wenkel (2007:277) van mening is dat die skrywer nie noodwendig in Efesiërs na die beeld van Jesaja terugverwys nie, maak dit sin dat die geveg verskuif het. Na die hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees is die geveg teen die bose nou in die hande van die gelowiges.

In 1 Tessalonisense 5 en in Efesiërs 6 word die beeld van die soldaat met sy wapenrusting aan die mens toegeskryf. Efesiërs se geveg word nie vanuit die hemel gedoen nie; die mag word aan die soldate op aarde gegee om hulle vyande te beveg en te verslaan. Die gemeenskap van gelowiges is die soldate wat vir die oorlog toegerus word. Hierdie gemeenskaplike geveg word deur Fowl (2012:201) bevestig: ‘Taking up the armor of God is a communal practice integrally tied to the unity of the church and the church’s witness to the powers.’ 1 Korintiërs 15:24 sê dat, aan die einde, sal Christus wat die geveg oorwin het die mag aan sy Vader oorgee vir die finale oorwinning. Die kerk moet as eenheid die geveg teen die bose veg totdat God aan die einde die finale oorwinning sal behaal. McVay (2005) glo dat eenheid ’n kerntema in die brief aan die Efesiërs is en dat die metafoor van die wapenrusting eenheid in die gelowige gemeenskap se geveg teen die bose bevorder:

Moving the church into the battle Christ wages in 1 Corinthians 15. One could argue that the author of Ephesians is following a pattern laid down earlier in the letter of identifying the church with a unitary figure. Just as the church is the ‘body of Christ,’ the ‘one new person’ (2:15), the ‘perfect man’ (4:13) and the ‘bride or wife of Christ’, so Christians in community are identified with a single warrior. (p. 94)

Na die sondeval het gebrokenheid en boosheid deel van die mens se bestaan op aarde geword. Jesus het aarde toe gekom om die gebrokenheid te herstel en die bose te oorwin. So het God alles onder die hoofskap van Christus verenig (1:10). Owens (2016) bevestig McVay se siening oor die tema van eenheid in die metafoor van die wapenrusting:

When understood within the context of the entire letter of Ephesians, this action of uniting ‘all things’ in Christ likely encompasses God’s plan to restore the fractured universe (both in terms of humanity and the presence of cosmic evil) that resulted from what is traditionally known as ‘the fall’. (p. 93)

Eenheid is ook volgens Matthews (2007:2) die kerntema van Efesiërs en hy verwys na 1:10, 1:23, 2:15 en 4:1–6 wanneer hy sê: ‘This plan to be united in and filled by Christ will be realised through the Church.’ Eenheid is reeds ’n realiteit vir die gelowige gemeenskap deur die verlossing van Christus en die werking van die Heilige Gees. Nou moet die kerk groei tot volwassenheid in hierdie eenheid. Een van die grootste struikelblokke vir eenheid en gelykheid in die kerk is patriargie.

Patriargie

Die antieke Mediterreense samelewing is gekategoriseer in volwasse, vry mans en dan die ‘ander’, naamlik die vroue, kinders en slawe. Manlikheid is in die antieke samelewing gestereotipeer as die norm waarteen al die ‘ander’ gemeet is (Osiek & Balch 1997:40). Die probleem met stereotipering is egter dat die swak eienskappe van die norm en die goeie eienskappe van die ‘ander’ geïgnoreer word. Die patriargale, manlike wêreld waarin die eerste-eeuse kerk tot stand gekom het se kultuurwaardes rakende gender word duidelik deur die manlike skrywer van brief aan die Efesiërs weerspieël.

Die belangrikste kenmerk van manlikheid was om in beheer en om kompeterend te wees. Daar is op verskeie vlakke uiting aan manlikheid gegee soos byvoorbeeld die beheer wat ’n man oor homself, sy familie, sy vrou en sy huishouding moes uitoefen. Daar is teen tydgenote vir mag, status, eer en goedere gekompeteer.

Die wapenrusting-metafoor dien as ’n kompeterende beeld om die identiteit van die vroeë Christene te versterk en met die ongelowiges te vergelyk. Kompetisie vir eer en status het dikwels tot konflik gelei waarvan oorlog die verreikendste was. Stewart (1997:86) skryf: ‘So men’s labour (ponos) is war …’. Godsdiens het ’n sentrale rol in die antieke samelewing vertolk en dit het veroorsaak dat daar kompetisie tussen verskillende godsdienste ontstaan het (Malina 2001:89). Alhoewel die Artemiskultus die dominerende godsdiens gedurende hierdie tyd in Efese was, het daar volgens Duling (2003:32) ook ander misterieuse godsdienste bestaan soos byvoorbeeld: ‘the Greek Eleusinian mysteries, the Syrian Cybele or the Great Mother mysteries, the Egyptian Isis mysteries and the Greek Dionysian mysteries’.

In ’n oorlogsituasie het die kompetisie oor die eer van die nasie en die familie sowel as die beheer oor die vyand en die grondgebied gegaan. As gevolg hiervan is daar groot klem op die eer van ’n soldaat geplaas. Indien ’n soldaat dapper was, sou hy vereer word al het hy gesterf, maar as hy lafhartig was, is hy en sy familie tot skande gebring.

Die orde van die samelewing het bepaal dat mans en vroue in twee verskillende omgewings geleef het. Vroue is verbied om sekere publieke plekke te besoek. Die plek van die vrou was in die huis. Malina (2001:47) beskryf die vrou se plek in die samelewing as volg: ‘That means they face toward the inside, with a sort of invisible magnet of social pressure turning females inward, toward their space in the house or the village.’ Aan die ander kant word die man se posisie as uitwaarts beskryf – in die huis se publieke areas en in die publieke vergaderplekke van die gemeenskap asook op die oorlogsveld.

Hanson en Oakman (1998:25–26) merk tereg op: ‘ancient Israelites replicated their perceptions of gender in social roles, behaviors, dress, spaces, times, and attitudes’. Gendergelykheid was ’n kultuurvreemde idee in die antieke Mediterreense samelewings. Geen man sou ooit dink aan ’n vrou as sy gelyke nie. ’n Man is met ander mans van dieselfde status en geleerdheid as hyself vergelyk. In hierdie samelewing het die man en vrou verskillende rolle gehad en dit moes vervul word om aan die verwagtings van die gemeenskap te voldoen. Osiek en Balch (1997:55) bevestig die idee van manlike meerderwaardigheid wanneer hulle opmerk: ‘Concepts of basic gender differences confirmed the belief in the inherent superiority of male to female in nature (physis), strength, and capacity for virtue or courage (arete).’ Aristoteles se filosofie het bepaal dat dit die man se natuur was om opdragte te gee, en vroue, slawe en kinders se natuur om gehoorsaam aan die man se opdragte te wees. In teenstelling daarmee het Plato en Sokrates gemeen dat mans en vroue dieselfde physis en arete het en daarom het vroue die vermoë om dieselfde take as mans te verrig. Tog maak hulle voorsiening daarvoor dat dit nie met dieselfde fisiese krag en uitnemendheid gedoen kon word nie (Meeks 1974:170). Filo van Aleksandrië verwys na die skeppingsverhaal en maak die stelling dat mans met gees en intellek geskape is, terwyl vroue slegs sensories en fisies is. Volgens Meeks het daar in die filosofiese skole ’n beweging ontstaan om gelykheid vir mans en vroue as ’n beginsel te aanvaar, maar hierdie filosofie het nie in die praktyk gerealiseer nie. Die filosowe van die tyd was almal manlik: ‘the philosophical school was a closed masculine community from which women were excluded, which yielded only reluctantly to the idea of equality’ (Meeks 1974:171).

In die hiërargie van liggaam het die vroulike liggaam die minderwaardige posisie beklee en is as passief teenoor die energieke, aktiewe en passievolle manlike liggaam beskou (Nortjé-Meyer & Vrey 2016:60). Die onderskeid tussen die manlike en vroulike liggame word ook deur Matthews (2007) bevestig:

The ancient world understood the body to be constituted by the elements, with the male body being hotter and drier than the wetter and colder female counterpart. Because of this, the male body was regarded to be perfect and normative of power, strength and activity, whereas the female body was considered to be an imperfect, inverted norm and consequently impure and passive. (p. 5)

Genderrolle is volgens die liggaamshiërargie verdeel: mans was soldate, jagters, handelaars en regkenners, terwyl vroue se liggame hulle klaarblyklik tot die huishoudelike take en die grootmaak van kinders beperk het (Stewart 1997:86).

Om in die geestelike lewe te kon groei was dit nodig om van die simboliese vroulike na die simboliese manlike beeld oor te gaan. Dit was ’n uitgesproke feit dat dit meer voordelig was om ’n man in hierdie wêreld te wees.

Daar bestaan ’n Joodse gebed waarin mans hulle dank aan God uitspreek dat Hy hulle nie ’n heiden, slaaf of vrou gemaak het nie (Osiek & Balch 1997:55–56). Meeks (1974:167) voer aan dat hierdie gebed sy oorsprong in Plato se drie redes vir dankbaarheid het: ‘that I was born a human being, and not a beast, next, a man and not a woman, thirdly, a Greek and not a barbarian’. Hierdie kultuuragtergrond waarin 6:10–18 geskryf is, moet in ag geneem word wanneer die metafoor van die wapenrusting geïnterpreteer word.

Die metafoor van die wapenrusting en oorlogsbeelde

Gedurende die tyd waarin Efesiërs geskryf is, was die Romeinse militêre teenwoordigheid ’n gedurige herinnering aan die mag en gesag wat die Romeinse Ryk in die destydse wêreld uitgeoefen het. Die wapenrusting wat in Efesiërs 6 uitgebeeld word, is ’n geestelike, simboliese teen-politieke standpunt wat die skrywer maak om aan die gelowiges die boodskap oor te dra dat hulle Leier outoriteit het bo alle aardse mag (1:21), en dit maak hulle as gelowiges magtiger in die geestelike sfere as die wêreldheersers. Efese was ’n stad wat die Romeinse keiserlike mag geken het. Die beeld van die Romeinse soldaat en die oorlog in 6:10–18 moes ’n indruk op die lesers gemaak het, aangesien hulle nie net die simboliese mag nie, maar ook waarskuwings teen die gevaar daarin sou verstaan. Volgens Stewart (1997:86) was die volmaakte man ’n soldaat, en oorlog is as manlike werk gesien. Oorlog was die toets van manlikheid. Die wapens is gesien as aanvullend tot die volmaakte manlike liggaam.

Daar is van die man verwag om sterk te wees – swakheid was nie ’n manlike eienskap nie, maar ’n vroulike eienskap wat skande geïmpliseer het. In 1 Korintiërs 16:13 is daar ’n voorbeeld van die manlike krag wat Paulus onderskryf het: ‘Wees waaksaam, staan vas in die geloof, wees manmoedig, wees sterk.’ 6:10 neem ook die manlike sterkte in die metafoor van die wapenrusting in oënskou: ‘Soek julle krag in die Here en in sy groot mag.’ Krag was noodsaaklik om gevegte te wen en oorlog te maak. Wendland (1999:219) is van mening dat die metafoor van die wapenrusting die gelowige motiveer om sterk te wees en sodoende die bose te oorwin: ‘Various manifestations of divinely-provided “strength” and “standing firm” are metaphorically depicted by means of the extended imagery of a typical Roman soldier’s armor.’

Die gebruik van militêre beelde is nie onbekend in die Nuwe Testament nie. Paulus het gereeld daarvan gebruik gemaak.3 Die beeld van die gewapende Romeinse soldaat in 6:11–17 sou vir die gehoor van Efesiërs bekend wees:

  1. Die Romeinse soldate het ’n breë leergordel gedra. Die gordel het hulle heupe beskerm, maar ook gekeer dat hulle klere nie in die pad kom gedurende die geveg nie. Fowl (2012:205) skryf oor die doel van die gordel: ‘allowing freedom of movement’. Die gordel simboliseer die waarheid wat alle hindernisse verwyder in die stryd, sodat die gelowige vry is om te veg (Jn 8:31–32).

  2. Die borsharnas het die Romeinse soldaat se liggaam tussen die skouers en heupe beskerm – die belangrike organe is deur die borsharnas beskerm (Fowl 2012:206). Die borsharnas simboliseer vryspraak wat gelowiges in die regte verhouding met God plaas en hierdie verhouding beskerm.

  3. Die skoene aan die voete simboliseer die bereidheid om die evangelie te verkondig. Die boodskap van vrede moet deur die gelowiges verkondig word. Owens (2016:99) verbind die boodskap van vrede in 6:15 met 2:11–18 wat die vrede en eenheid tussen Joodse en heidense gelowiges beskryf.

  4. Die Romeinse soldaat het ’n groot skild gedra wat sy hele liggaam teen aanvalle beskerm het. Hierdie vollengte skild is van hout gemaak en met leer oorgetrek (Fowl 2012:207). Die hele liggaam is deur die skild beskerm. Die beeld van ’n skild, pyle en swaarde is algemeen in die Romeinse tydperk gebruik. Die skild is simbolies van geloof. Die vuurpyle van die bose word deur Perkins (1997:146–148) as woorde van die goddeloses verklaar, aangesien pyle simbolies van woorde was.4

  5. Die Romeinse soldate het brons helms gedra wat gespog het met vere aan die bopunt (Thurston 1995:149). Die helm het die soldaat se kop beskerm en is simbolies van verlossing wat in 1:20–2:22 beskryf word. Die helm van verlossing verwys na die gelowiges se nuwe identiteit in Christus wat aan hulle die mag gee om die bose op grond van Jesus se opstanding te oorwin.

  6. Al die verskillende dele van die wapenrusting was tot op hierdie punt vir beskerming en verdediging, maar nou word die enigste aanvalswapen genoem, naamlik die swaard. Die swaard is simbolies van God se Woord soos wat ook in Romeine 10:8, 1 Petrus 1:25 en Hebreërs 4:12 voorkom. Die enigste aanvalswapen wat die gelowige het, is God se boodskap van vrede. Owens (2016:101) glo dat die Woord van God in 6:17 na die evangelieboodskap van Jesus se kruisdood en opstanding verwys wat verlossing vir die mens bewerk het.

Die soldaat word in sy volle wapenrusting uitgebeeld en wel in ’n verdedigende posisie en nie aanvallend nie. Die beeld stel dus ’n soldaat voor wat verdedig dit wat alreeds gewen is, naamlik Christus se geestelike oorwinning oor die magte van die bose. Die boodskap van hierdie metafoor is dat die gelowige reeds die oorwinning oor die bose deur Christus se kruisdood behaal het en dat daardie oorwinning bewaak en verdedig moet word.

Arnold (2010:231) bevestig hierdie siening: ‘Although we might expect Paul to encourage his readers to strive to attain unity in the church, he actually implores them to maintain a unity that already exists.’ Hoe word dit prakties gedoen? Die antwoord word in 6:18 gevind: deur gebed. Die geestelike stryd word in gebed gevoer.

Reinhard (2005:524–527) meen dat die volgorde waarin die wapenrusting voorkom, ’n weerspieëling is van die inhoud van die brief. Die eerste deel van die wapenrusting is die gordel van waarheid (6:14). Reeds in 1:13 word die evangelie van redding die woord van waarheid genoem. In 4:15 word die gelowiges aangemoedig om in liefde by die waarheid te bly en so na volwassenheid te groei. Waarheid is deel van die gelowige se identiteit en bevorder eenheid (4:25). Waarheid is ’n lewensvrug van die gelowige wat in die lig wandel en nie langer deel van die duisternis is nie (5:8–9). Die gevolg van ’n lewe wat in die lig geleef word, is dat dit die vrug van waarheid sal dra en daarom is die gordel van die waarheid eerste in die wapenrusting.

Die tweede deel van die wapenrusting is die borsharnas van geregtigheid (6:14). Geregtigheid is ’n vrug van die lig (5:9). Die proses van geregtigheid word as ’n aflegging van die ou mens en die vernuwing van die gees beskryf wat die gelowige met die nuwe mens beklee (4:22–24). Die derde deel van die wapenrusting is die skoene aan die voete van bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig (6:15). Efesiërs begin in 1:2 met ’n groet van vrede. Christus self is ons vrede (2:14). Die gelowiges word aangemoedig om ’n band van vrede te handhaaf wat die eenheid in die gemeenskap sal beskerm (4:3). Vrede is ’n geskenk van God, maar moet deur die gelowiges uitgeleef word. Die vierde deel in die wapenrusting is die skild van geloof (6:16).

Geloof is ’n gawe van God (4:8–9). Die doel van die genadegawes aan die liggaam van Christus is die eenheid van die geloof (4:11–14). Geloof is ’n geskenk van God, maar dit is die verantwoordelikheid van elke gelowige om sy of haar genadegawes te gebruik om die eenheid van geloof in die gemeenskap van gelowiges te versterk.

Die vyfde deel van die wapenrusting is die helm van verlossing (6:17). Verlossing is ’n geskenk van God (2:5, 8–9) en Christus is die Verlosser van die liggaam (5:23). Die sesde deel van die wapenrusting is die swaard van die Woord (6:17). Die Woord van God is ’n geskenk aan die gelowige wat dit hoor en glo en dan daarop reageer (1:13). Reinhard kry dit reg om te bewys dat die wapenrusting ’n metafoor is wat die skrywer gebruik om die boodskap van die hele brief saam te vat. Tyra (2020:116) is ook van mening dat hierdie metafoor ’n opsomming5 van die Efesiërsbrief is en dat dit die mees uitgebreide bespreking van die wapenrusting in die hele Nuwe Testament vorm.

God gee geskenke en gawes aan alle gelowiges, maar dan het hulle ’n verantwoordelikheid om hierdie gawes en geskenke te gebruik. Selfs die krag om die stryd te beveg, is ’n geskenk van God (6:10). God voorsien voor die tyd wat vir die lewe van eenheid en oorwinning nodig is. Die rede waarom daar ’n geveg is, word deur Reinhard (2005) aangevoer:

Opposition to the unity of the Church by the principalities and rulers is brought with the exhortation to be strengthened in the Lord. This strengthening is in accordance with the riches of Christ, through his armor. (p. 527)

Die karaktertrekke wat die kerk se identiteit bepaal, is geskenke van God wat aan alle gelowiges gegee is. Nou rus die verantwoordelikheid op die gelowiges om die geskenke te gebruik, uit te leef en deel van hulle identiteit te maak. Hierdie gawes en verantwoordelikhede wat deur die wapenrusting uitgebeeld word, is nie tot manlike lede van die gelowige gemeenskap beperk nie. Indien al die gelowiges hulle verantwoordelikheid nakom, sal daar eenheid en gelykheid in die kerk wees.

In die antieke tyd het ’n weermag se generaal ’n toespraak gemaak voor die soldate begin veg het. In hierdie toespraak het hy sy soldate vir die geveg gemotiveer en hulle oortuig dat hulle die vyand kan verslaan. McVay (2005:97) verwys na die parallelle tussen die oorlogstoesprake en die gedeelte in Efesiërs 6: ‘These speeches also emphasize heavily the need for soldiers to have confidence in one another, to be unified in their fight for a common cause.’ Die geveg vir die gelowiges van Efesiërs is egter nie polities nie, maar geestelik. Hierdie geveg is eerder ’n stryd teen Grieks-Romeinse gode en die kultusse van die Romeinse Ryk. Die worstelstryd wat in Efesiërs uitgebeeld word, is korporatief van aard en verwys na die funksionering van die hele kerk en nie net individue se persoonlike gevegte teen versoekings nie. Die hedendaagse stryd is nie meer teen Romeinse gode en kultusse nie, maar teen onregverdige sosiale en politieke stelsels wat eenheid en gelykheid onderdruk. Die kerk word deur al die eeue steeds geroep om oorlog te maak teen die bose en alle magte wat die verlossing van Christus teenstaan. Ons word nie opgeroep om fisiese wapens op te neem in ons hedendaagse stryd nie, maar om geestelik te veg teen onregverdigheid, ongelykheid en enige mag wat eenheid versteur.

Geestelike oorlog

Die vyande van die gelowiges is dieselfde donker magte wat hulle vroeër as kinders van ongehoorsaamheid gevange gehou het (2:2). Slegs deur God se krag kan die gelowiges uit die mag van duisternis gered word en in die lig lewend gemaak word (2:5). Reinhard (2005) beweer dat die oorwinning oor die bose in die eenheid van die kerk lê en daarom probeer hierdie bose magte verdeeldheid onder gelowiges bring:

The goal of the principalities and rulers is to cause disunity within the whole Church. It is through union with Christ, which includes taking up his armor, that we have the strength to withstand the attacks of his enemies. (p. 532)

Matthews (2007:4) bevestig hierdie siening wanneer hy skryf: ‘In Ephesians, the cosmos is inherently a fractured and hostile realm where the Church may expect opposition from either the earthly or heavenly spheres.’

Die strategie waarmee die gelowiges en die bose oorlog maak, verskil, aangesien hulle weermaghoofde verskil. Die hoof van die gelowiges se weermag is Christus, terwyl die bose in beheer is van die donker magte. Die gelowiges se oorlog word deur eenheid tussen die soldate, sterkte en krag gekenmerk (4:3, 4:13, 4:16, 6:10), terwyl die bose magte se oorlogstrategie listig, duister en boos is (6:11–12). Die vyand van die gelowiges word volgens Asher (2011:732) in Efesiërs 6 as ‘shameful and dishonorable’ uitgebeeld. Die strategie van die gelowiges sluit drie motiewe in: krag, wapens en om staande te bly (6:10–14). Gelowiges vind hulle krag in hulle vertikale verhouding met God (6:10). God rus hulle toe met krag en sterkte om die volle wapenrusting aan te trek sodat hulle staande kan bly. Krag word deur Asher (2011:733) as die primêre kenmerk van soldate beskryf en dit het van soldate helde gemaak. Die krag van ’n soldaat is deur sy wapenrusting uitgebeeld. Die doel van die wapenrusting is om die gelowiges se horisontale verhoudings in ’n eenheid met mekaar te bewerk sodat die groep asook die individue in die groep deur God se krag staande teen die aanvalle van die bose kan bly.

Die vyande van die gelowiges veg met pyle en boë (6:16). Asher (2011) vergelyk die posisie van die gelowiges wat staan met die vyand wat kniel:

A common motif was to portray the heavy infantryman in a standing position while an archer was depicted as crouching, especially when setting an ambush (a form of trickery.) The warrior’s armor, the gesture of standing continued to carry the connotations of manliness, warrior identity and strength. (p. 736)

Die posisie van krag was om staande te bly en die gelowiges is deur God bekragtig met ’n geweldige groot krag wat Hy in diegene wat glo (1:19) uitoefen. Christus is deur God se krag uit die dood opgewek en sit tans aan God se regterhand in die hemel vanwaar Hy hoog bo elke mag en gesag, elke krag en heerskappy heers (1:20–21). Aan Christus het God alles onderwerp en Hom as hoof oor die kerk en hoof van die liggaam aangestel. Die gelowiges se doel is om te groei na volwassenheid om soos Christus ’n volwassene te wees en nie langer kinders wat deur golwe van dwaalweë rondgeslinger word nie (4:12–15). Tyra (2020:121) glo dat die gelowige die werk van Christus voortsit deur beklee te word met die wapenrusting deur die kragtige werking van die Heilige Gees. Owens (2016:87) beweer ook dat die kerk as gemeenskap uitgebeeld word as ‘divine-warriors’ wat Christus se werk op aarde voortsit. In 6:10–18 word hierdie krag van Christus in die gelowiges se lewens sigbaar deur die wapenrusting aan te trek en vas te staan op hulle poste. Die wapenrusting maak dit dus moontlik vir die gelowiges om, ten spyte van vurige pyle en listige aanslae van die bose, staande te bly. Asher (2011) skryf in verband met die gebruik van die term worstelstryd soos in 6:12 die volgende:

It is quite likely that the dominant antithesis between strength and deception continues into v.12, describing the struggle between believers and the forces of evil in a metaphor alluding to close combat between the heavily armored believers, who employ strength, and the forces of evil, who rely on tricks and deception. (pp. 739–740)

MacDonald (2004) bevestig McVay (2005) se die siening dat 6:10–18 ’n oproep tot oorlog is:

These enemies are clearly on the outside of the community and threaten it with siege. The enemies are ultimately not earthly, but they are certainly presented as capable of corrupting the society where believers live. (p. 425)

Daar bestaan verskillende menings oor die betekenis van 6:12 wat verwys na die bose magte waarteen die stryd gemik is. Sommiges, soos Perkins (1997:145), is van mening dat dit na astrologie en towerkuns verwys,6 aangesien dit in Efese algemene praktyke was. Die dominerende kultus in die omgewing van Efese gedurende die eerste en tweede eeu was die Artemiskultus7 (Treblico 2004:32). Artemis, die beskermvrou van Efese, asook ander afgode word gesien as die bose magte waarteen gestry moet word en waaroor Christus reeds oorwinning behaal het. Paulus beskryf afgode in 1 Korintiërs 10:20 as bose magte of demone waarteen die stryd gevoer word (Perkins 1997:145). Die skrywer van Efesiërs neem geestelike magte in oënskou, aangesien dit ’n realiteit van die gelowiges in Efese se lewens was. Die gelowiges moet hulleself met die volle wapenrusting van God beklee om gereed te wees om die stryd teen die bose magte te oorwin. Tyra (2020) skryf dat ons nodig het om die geestelike wapenrusting van Christus aan te trek om sodoende deel aan sy oorwinning oor die bose te hê:

Jesus has sent his Spirit into our lives to empower us to cultivate the spiritual, moral, and missional faithfulness our Father in heaven desires and deserves. The Spirit of Christ can and will empower us to stand firm against the devices of the Devil. But, this empowerment is not automatic. (p. 131)

Vandag bestaan die bose steeds, alhoewel dit nie net die vorm van afgode, astrologie, towery en geestesvermoëns aanneem soos meestal in die tyd van die Efesiërs nie. Die bose moet gesien word as alles wat teen God se verlossingswerk staan. Die hedendaagse kerk voer steeds die geestelike stryd teen die bose wat die eenheid en gelykheid waarvoor Jesus aan die kruis gesterf het, wil ondermyn. In hierdie verband skryf Arnold (2010):

The unity and peace the church enjoys is a precious gift from the Spirit that can be easily wrecked. The individual members of the church need to work hard at preserving this unity. (p. 231)

Die goeie nuus van Efesiërs is dat ons deur die Heilige Gees bekragtig is om die wapenrusting op te neem en oorwinning oor die bose te behaal.

Genderkwessie rondom die beskermingsrol

Die identiteit van die Vroeë Kerk word bevestig as sterk en kragtig as gevolg van hulle hoof, Jesus Christus wat alle mag en krag besit. Die manlike beeld van die soldaat en die wapenrusting versterk die identiteit van die gelowiges en het ten doel om aan hulle eer en aansien in die samelewing te besorg. Die kerk word voorgestel as ’n sterk soldaat, geklee in sy wapenrusting en wat, ten spyte van aanvalle van die vyand, staande bly. Hierdie identiteit as soldaat motiveer die optrede van die gelowiges om as ’n weermag in ’n eenheid saam te staan.

In hoe ’n mate die vroulike gelowiges kan identifiseer met die beeld van die manlike soldaat is onduidelik. Warren (2012:292) deel hierdie onsekerheid: ‘Warfare is primarily a masculine metaphor, which many women and children may have difficulty relating to, especially if they have experienced violence.’ Die geestelike simboliek is ook op die vroulike lede van die kerk van toepassing, aangesien dit ook ’n geestelike geveg is en nie net ’n fisiese of kulturele geveg nie. Die gelykheid wat daar tussen die gelowige Jode en heidene is, word ongelukkig nie sigbaar tussen manlike en vroulike lede van die kerk nie. Artemis was die beskermvrou van Efese en ’n toonbeeld van ’n onafhanklike sterk vrou. LiDonnici (1992:409) skryf: ‘Nearly all of the roles of Artemis of Ephesus suggest that the goddess could be understood as the legitimate wife of the city of Ephesus itself: protectress and nourisher.’ Petrovic (2011:154) bevestig dat Artemis die godin van oorlog was: ‘She was a goddess of battle and male initiation.’ Sy het op haar derde verjaarsdag ’n pyl en boog van haar pa, Zeus, ontvang en nie ’n tree teruggestaan vir haar broer, Apollo, nie. Artemis het bekend gestaan as die godin van oorlog wat baie vernuftig met haar pyl en boog was; in so ’n mate dat sy die een man wat sy ooit liefgehad het, Orion, met haar pyl en boog doodgeskiet het toe sy hom vir ’n onbekende spikkeltjie op die horison aangesien het. Artemis en haar broer, Apollo, het volgens oorlewering die kinders van Niobe met hulle pyle en boë doodgeskiet (LiDonnici 1992:410). Die bose se aanvalswapen word dan ook in Efesiërs 6 as vurige pyle beskryf. Teenoor die vroulike godin van beskerming word die gelowiges se identiteit deur die skrywer van die Efesiërsbrief as ’n sterk, manlike Romeinse soldaat beskryf.

Die vraag wat onwillekeurig gevra kan word, is of die skrywer van Efesiërs doelbewus die sterk manlike metafoor van die Romeinse soldaat gebruik in teenstelling met die godin Artemis wanneer die beskermingsrol van die vroeë kerk ter sprake kom. Die gelowige gemeenskap moes saamstaan om hulleself teen die aanvalle van die bose te beskerm. Die beskerming is deur manlike sowel as vroulike gelowiges gedoen. Dit was nie die een of die ander nie, maar alle gelowiges wat aangemoedig word om die wapenrusting aan te trek en staande te bly. Die beskermingsrol in die gelowige gemeenskap word deur die manlike soldaat uitgebeeld; tog is beskerming teen die bose nie ’n genderkwessie nie, maar die geestelike verantwoordelikheid van elke gelowige.

Die totale vervulling van Christus se oorwinning is volgens Shkul (2009:215) iets wat in die toekoms sal gebeur en daarom is die gelowiges in ’n voortdurende geveg met bose magte gewikkel. Fowl (2012:210) stel dit so: ‘Divisions and disunity threatened to falsify the reconciliation accomplished in the death and resurrection of Christ.’ My hoop is dat gelowiges sal aanhou baklei totdat daar in die toekoms totale eenheid en gelykheid in die kerk van Christus is.

Konklusie

Die Efesiërsbrief (1:7–22) begin met die beeld van Jesus wat die gemeenskap van gelowiges gevestig het deur sy oorwinning aan die kruis. Jesus het die gelowiges van geestelike dood gered om saam as sy geestelike liggaam, huishouding, bruid en tempel opgebou te word. Dit is dus gepas dat die brief eindig met ’n oproep aan die gelowiges om in ’n geestelike geveg betrokke te raak (6:11–12). In verband met hierdie geveg skryf Shkul (2009):

The battle has already been fought and won by Jesus Christ and the spiritual battle is about defending oneself against the devil and hostile powers. It is highly significant that the letter closing calls the community for a spiritual battle as Ephesians imagines conflict in spiritual terms. Alternatively, it could imagine spiritual oppression behind any socio-political conflict. (pp. 211–213)

Die werklikheid van die hedendaagse lewe is dat alle vroue nie tevrede is om by die huis te bly en kinders groot te maak nie. Vroue word nie vandag meer as minderwaardige wesens beskou soos in die antiek-Mediterreense samelewing nie. Die metafoor van die manlike soldaat is nie meer ’n weerspieëling van die realiteit van vandag nie. In Suid-Afrika verteenwoordig vroue 30.6% van die nasionale weermag (South African Department of Defence 2019). Volgens Black (1979:41) kan ’n metafoor nie as waar of vals beskou word nie, maar eerder as korrek of nie korrek nie. ’n Metafoor weerspieël die realiteit van die lewe. Die metafore in Efesiërs weerspieël die kulturele en sosiale realiteite van die antieke Mediterreense tyd. Of al hierdie metafore nog ten volle relevant is vir die hedendaagse gehoor, is debatteerbaar. Die metafoor van die wapenrusting wat die soldaat as die volmaakte manlike beeld voorhou, is problematies vir ’n feministiese interpretasie van die teks. In Efesiërs wil die skrywer die sosiale en kulturele strukture as norm gebruik waarvolgens die kerk moet funksioneer. Die uitdaging vir die hedendaagse leser is om die brief se bydrae tot die Christelike teologie raak te sien ten spyte van die skrywer se opinie rakende kulturele genderrolle.

Daar is waardevolle teologiese uitsprake in Efesiërs, maar die verskil in sosiale en kulturele waardes van die antieke Mediterreense tyd en vandag se leser moet in aanmerking geneem word wanneer die brief geïnterpreteer word. Nie alle uitsprake kan nog van toepassing gemaak word op vandag se realiteite nie, byvoorbeeld slawerny (6:6–9) word nie meer as ’n sosiaal aanvaarbare praktyk beoefen nie. Christus het gekom om bevryding, gelykheid en vryheid vir almal te bring. Volgens Lukas 4:18–19 het Hy vrylating vir gevangenes gebring. Vroue is al eeue lank gevangenes van ’n patriargale kulturele en sosiale stelsel. Ons is almal (Jood of heiden, slaaf of vryman, man of vrou) deel van die geestelike weermag van Christus. Ons identiteit en potensiaal lê in die verlossingswerk van Christus – ’n verlossing wat nie van status, etnisiteit, gender of enige ander beperkende faktor afhanklik is nie. Die eenheid en gelykheid wat Jesus bewerk het aan die kruis het die eenheid van Joodse en heidense gelowiges tot gevolg gehad. Die boodskap van Efesiërs se metafore is dat daar eenheid tussen gelowiges bestaan. Die gelowiges word in verskillende metafore as ’n eenheid uitgebeeld: ’n weermag wat saam oorlog maak, ’n tempel wat saam opgebou word, en ’n liggaam met verskillende dele wat saam na volwassenheid groei. Die eenheid wat Jesus bewerk het tussen heidene en Jode het deel van die identiteit van die kerk geword. Ongelukkig het die kultuurwaardes van die antieke Mediterreense samelewings die genderrolle in die Vroeë Kerk gedefinieer en dit is nie nodig dat dit langer so moet wees nie. Matthews (2007) bevestig die toekomsverwagting wat in die brief voorgehou word:

Within Ephesians, the final state of the Church may not be reduced to either a transcendent male of purified female, but rather both genders present images of an even greater future within the divine mystery. Modern egalitarianism perfectly anticipates the undisclosed mystery of the future glorious life. The eschatological state of the Church and individual believers lies beyond the limits of any human anthropological construct, so that both what mature men and mature women will be, and how they will relate to one another, still remains hidden within the mystery of Christ. (p. 8)

Die sterk manlike metafoor van die wapenrusting is ’n produk van die antieke Mediterreense samelewing en kan dus nie gebruik word om vandag steeds kulturele waardes van eeue gelede te bevestig nie. Volgens my sal dit ’n fout wees om die antieke kultuurwaarde van manlike meerderwaardigheid deur die interpretasie van hierdie metafoor te versterk. Ons leef in ’n samelewing waarin daar geveg word om gelyke waarde en regte aan alle mense te promoveer en daarom kan die metafoor van die wapenrusting in 6:10–18 in ons hedendaagse konteks gebruik word om eenheid en gelykheid uit te druk. Alle gelowiges, ongeag gender, status, etnisiteit of ouderdom veg saam in die oorlog teen die bose.

Erkenning

Mededingende belange

Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenis is met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.

Outeursbydrae

A.V. was die enigste outeur betrokke by die skryf van die artikel.

Etiese oorwegings

Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing.

Befondsing

Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.

Data beskikbaarheidsverklaring

Die deel van data is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.

Literatuurverwysings

Arnold, C.E., 2010, Ephesians, Zondervan, Grand Rapids, MI.

Asher, J.R., 2011, ‘An unworthy foe: Heroic, trickery, and an insult in Ephesians 6:11’, Journal of Biblical Literature 130(4), 729–749. https://doi.org/10.2307/23488276

Black, M., 1979, ‘More about metaphor’, in A. Ortony (ed.), Metaphor and thought, pp. 19–43, Cambridge University Press, Cambridge.

Dawes, G.W., 1998, The body in question: Metaphor and meaning in the interpretation of Ephesians 5:21–33, Brill, Leiden.

Duling, D.C., 2003, The New Testament history, literature, and social context, Wadsworth/Thomson Learning, Belmont, CA.

Fowl, S.E., 2012, Ephesians: A commentary, Westminster, John Knox Press, Louisville, KT.

Hanson, K.C. & Oakman, D.E., 1998, Palestine in the time of Jesus: Social structures and social conflicts, Fortress, Minneapolis, MN.

Kreitzer, L.J., 1997, The Epistle to the Ephesians, Epworth Press, London.

LiDonnici, L.R., 1992, ‘The images of Artemis Ephesia and Greco-Roman worship: A reconsideration’, The Harvard Theological Review 85(4), 389–415. https://doi.org/10.1017/S0017816000008208

MacDonald, M.Y., 2004, ‘The politics of identity in Ephesians’, Journal for the study of the New Testament 26(4), 419–444. https://doi.org/10.1177/0142064X0402600403

Malina, B.J., 1981, The New Testament world: Insights from cultural anthropology, John Knox, Atlanta, GA.

Malina, B.J., 2001, The New Testament world insights from cultural anthropology, Westminister John Knox Press, Louisville, KY.

Matthews, B.J., 2007, ‘Christian maturity in Ephesians and Colossians: Distinctly masculine or gender-relativized in Christ?’, Lexington Theological Quarterly 42(1), 1–17.

McVay, J.K., 2005, ‘Our struggle: Ecclesia Militans in Ephesians 6:10–12’, Andrews University Seminary Studies 43, 91–100.

Meeks, W.A., 1974, ‘The image of the androgyne: Some uses of a symbol in earliest Christianity’, History of Religions 13(3), 165–208. https://doi.org/10.1086/462701

Mouton, E., 2002, Reading a New Testament document ethically, SBL, Academia Biblica 1, Atlanta.

Nortjé-Meyer, L. & Vrey, A., 2016, ‘Artemis as matrix for a new interpretation of the household codes in Ephesians 5:22–6:9’, Neotestamentica 50(1), 53–69. https://doi.org/10.1353/neo.2016.0035

Osiek, C., 2006, ‘The New Testament teaching on family matters’, HTS Teologiese Studies/Theological Studies 63(3), 819–843. https://doi.org/10.4102/hts.v62i3.382

Osiek, C. & Balch, D.L., 1997, Families in the New Testament world, Westminister John Knox Press, Louisville, KY.

Owens, M.D., 2016, ‘Spiritual warfare and the Church’s mission according to Ephesians 6:10–17’, Tyndale Bulletin 76(1), 87–103. https://doi.org/10.53751/001c.29411

Perkins, P., 1997, Ephesians, Abingdon, Nashville, TN.

Petrovic, I., 2011, ‘From Artemis to Diana: The goddess of man and beast’, Classical World 105(1), 154–155. https://doi.org/10.1353/clw.2011.0101

Reinhard, D.R., 2005, ‘Ephesians 6:10–18: A call to personal piety or another way of describing union with Christ?’, Journal of the Evangelical Theological Society 48, 521–532.

Shkul, M., 2009, Reading Ephesians: Exploring social entrepreneurship in the text, T&T Clark International, New York, NY.

Stewart, A.F., 1997, Art, desire, and the body in ancient Greece, Cambridge University Press, Cambridge.

South African Department of Defence, 2019, 2018/2019 Department of Defence Annual Report, 402 p. viewed 19 March 2021, from https://www.gov.za/documents/department-defence-annual-report-20182019-20-sep-2019-0000.

Thurston, B., 1995, Reading Colossians, Ephesians and 2 Thessalonians: a Literary and Theological Commentary, The Crossroad Publishing Company, New York.

Treblico, P., 2004, The early Christians in Ephesus from Paul to Ignatius, Mohr Siebeck, Tübingen.

Tyra, G., 2020, ‘Paul’s “Armor of God” discussion: A pneumatological engagement with a critical formation text’, Journal of Spiritual Formation & Soul Care 13(1), 115–131. https://doi.org/10.1177/1939790919894555

Vrey, A., 2016, ‘’n Gender-kritiese ontleding van die groepsidentiteite in die brief aan die Efesiërs’, PhD-proefskrif, Departement Godsdienskunde, Universiteit van Johannesburg, viewed 19 Maart 2021, from https://ujcontent.uj.ac.za/vital/access/BibliographyStatistics/Vrey,%20Aletta.

Warren, E.J., 2012, ‘Spiritual warfare: A dead metaphor?’, Journal of Pentecostal Theology 21, 278–297. https://doi.org/10.1163/17455251-02102007

Wendland, E.R., 1999, ‘Contextualising the potentates, principalities and powers in the Epistle to the Ephesians’, Neotestamentica 33(1), 199–223.

Wenkel, D.H., 2007, ‘The breastplate of righteousness in Ephesians 6:14 Imputation or virtue’, Tyndale Bulletin 58(2), 266–287. https://doi.org/10.53751/001c.29239

Voetnotas

1. Aangesien daar nie konsensus is oor wie Efesiërs geskryf het nie, sal daar in hierdie artikel na die skrywer van Efesiërs verwys word.

2. Die Bybelverwysings is uit die Nuwe Afrikaanse Vertaling (NAV).

3. Voorbeelde van die oorlogsbeeld in die Nuwe Testament word gevind in 1 Tessalonisense 5:8, Romeine 13:12, 1 Timoteus 1:18, 2 Timoteus 2:3–4, 2 Korintiërs 10:3–4, Romeine 13:12 en 2 Korintiërs 6:7.

4. Sien ook 1 Tessalonisense 5:8 en 1 Petrus 5:8–9.

5. Ook Owens (2016) beweer in sy artikel Spiritual warfare and the church’s mission according to Ephesians 6:10–17 dat die wapenrusting ’n opsomming van die hele brief aan die Efesiërs is.

6. Handelinge 19:18–19 verwys na die towerboeke ter waarde van 50 000 silwer muntstukke wat die nuwe gelowiges in Efese verbrand het.

7. Die oproer van Artemisaanbidders in Efese word in Handelinge 19:21–40 beskryf.



Crossref Citations

No related citations found.