Abstrak
The Dutch Reformed Church about ‘Church and Society’ before and after 1994 – An evaluation of three documents. In its aim, to guide the members of its congregations in the last days of official apartheid in South Africa in a pastoral and ethical way, the General Synod of the Dutch Reformed Church formulated the documents Church and Society of 1986 and 1990. The General Synod applied its interpretation of biblical norms like love thy neighbour, justice and human dignity, to say that apartheid as the forced separation and unequal, unjust treatment of people of different communities, could not be justified. The church opted for a new societal dispensation in one South Africa, although it left the practical side of it to the chosen politicians. When confronted by the new dispensation in 1994, the study commission that was appointed to help their church members to understand the new South Africa as based on the human rights of individuals, was uncritical about the humanistic-individualistic foundation of the new society. The fruits of their study were sent to be studied in congregations. This movement led to the end of an effort in this regard on the level of the General Synod. Between their approach to apartheid and the new society, the reports before the General Synod of the Dutch Reformed Church did not maintain the same principles, nor did it maintain an ecclesiastical independence. The report of 1998 did not show the same critical approach as the reports on apartheid in 1986 and 1990.
Contribution: This article concentrates on the view of the Dutch Reformed Church on practical apartheid before it officially ended in 1994. The critical approach of practical apartheid as undertaken by this church is investigated through a church historical study of literature. Three documents on church and society eventually came out of the General Synod: Church and Society 1986, Church and Society 1990 and the Church and a new dispensation in 1998. The Dutch Reformed Church, however, did not use the same point of departure before than after 1994.
Keywords: church; Church and Society; Dutch Reformed Church; apartheid; South Africa.
Inleidend
In Die verhaal van die Ned.Geref. Kerk se reis met apartheid ontken Gaum die bewering dat die Algemene Sinode van hierdie kerk in Kerk en Samelewing – 1986 (KS–1986) en Kerk en Samelewing – 1990 (KS–1990) die Suid-Afrikaanse Regering en Nasionale Party napraat in sy distansiëring van apartheid. Gaum verwerp die bewering dat hierdie dokumente ‘maar net ingeval het by wat die regering van die dag toe al klaar gedoen gehad het’. Hy noem die besluite van die Algemene Sinode van 1986 en 1990 oor ‘samelewingsake’ deel van ’n gisting van gedagtes ‘op verskillende vlakke in die Afrikaanse gemeenskap’ waarin daar gelyktydig met sekere oortuigings gekom is (Gaum 1997:53).
Die vraag wat die stelling van Gaum meebring, is of die Nederduitse Gereformeerde Kerk (voortaan in hierdie artikel, NGK), in ’n gisting van denke in die Afrikaanse gemeenskap, as ’n onafhanklike kerklike profeet vry was van invloed uit politieke kringe. Met sy gedagte van ’n gistingsproses waarby kerk en owerheid betrokke was, maak Gaum die kwessie van onafhanklike NGK-uitsprake in 1986 en 1990 juis ’n agendapunt. Boonop veroorsaak bewerings téén ’n onafhanklike NGK in hierdie proses (Strauss 2011:519) dat die invloed van die Algemene Sinode in ’n studie van KS–1986 en KS–1990, ter wille van klaarheid, ondersoek moet word. KS–1986 en KS–1990 kom in die doodsnikke van apartheid voor sy staatkundige afsterwe in 1994, sodat die invloed van die Algemene Sinode in hierdie klimaat nie vermy kon word nie. Die Algemene Sinode van die NGK praat as die breedste vergadering van hierdie kerkverband namens sy samestellende gemeentes oor aktuele sake (NGKO 1998:15; Strauss 2010:54).
Wat die belang van so ’n ondersoek verhoog, is dat die Algemene Sinode van Oktober 1994 kort na die eerste verkiesing van alle stemgeregtige burgers uit die totale bevolking van Suid-Afrika, aan sy Algemene Kommissie vir Aktuele Sake (AKLAS) opdrag gee om na die posisie van die NGK in die ‘nuwe’ samelewing te kyk. Dit is ’n opdrag wat die Kommissie self vra en as dringend beskou. In die sinodebesluit wat volg, kry AKLAS opdrag om lidmate van gemeentes ‘met dringende spoed oor die staatkundige oorgangstyd in Suid-Afrika’ te begelei. ’n Begeleiding wat konsentreer op insig in die proses én ’n meer verbeeldingryke, gemotiveerde aandeel aan die heropbou van die land (NGK 1994:501) was nodig. Hierdie insig impliseer – in ’n kerklike konteks – ’n verteerbare ontleding van die veranderde samelewing na 1994 (Botes 2012:366; De Villiers 1999:19, 24–27) en ’n kerklike stem uit die NGK in die ‘nuwe’ Suid-Afrika: ’n stem wat lidmate profeties pastoraal in die nuwe situasie begelei.
Die tema ‘Kerk en samelewing’ by die Algemene Sinode van 1986, 1990 en ook 1998 kom in hierdie artikel aan die orde. Die veronderstelling is dat die NGK as ’n Woordgetroue kerk in sy benadering tot apartheid in Suid-Afrika in 1986 en 1990 aan die een kant, en die nuwe Suid-Afrika in 1998 aan die ander kant, konsekwente Skriftuurlike vertrekpunte sal vertoon, naamlik dat hy van ’n reformatoriese inslag en ’n kerklike onafhanklikheid sal getuig. Dit gaan immers oor die NGK as ’n erkende gereformeerde kerk. Het hy sy geloofwaardigheid as ’n Woordgebonde kerklike profeet in hierdie proses bevestig?
’n Kerklike aanpak
In die Nederlands gereformeerde kerkordelike tradisie waarin die NGK in hierdie tyd met uitsprake oor kerk en samelewing kom, moet hierdie kerk, behalwe vir sy Woordgetrouheid én relevante situasieontleding, as ’n kerklike profeet ook rekening hou met die NG Kerkorde (NGKO) artikel 21. Hierdie artikel dra tot 1998 die ou bekende Nederlands gereformeerde bepaling, naamlik dat kerkvergaderings ‘kerklike sake en wel op kerklike wyse’ hanteer (NGKO 1986:6; 1990:6; Pont 1981:179). Die Algemene Sinode van 1998 wysig die bepaling na die volgende: kerkvergaderings hanteer ‘sake vanuit kerklike perspektief, in die lig van die Woord van God en op kerklike wyse’ (NGKO 1998:8).
Die bewoording van artikel 21 soos gewysig in 1998, maak die saak duideliker, maar die ou en nuwe artikel 21 lei hoofsaaklik tot dieselfde optrede. Hierdie optrede vra dat die sake wat kerkvergaderings hanteer ’n kerklike aspek of kant het (Nauta 1971:126–127). Die sake op die agenda van die NGK word kerklike sake, of skep die moontlikheid van kerklike uitsprake wanneer dit die boodskap van die Bybel as die werkstroffel of -instrument van die kerk, kruis (De Kock 1975:142–144; Strauss 1994:591; 2010:60; 2013:89–90). Met sy omvattende prinsipiële konstantes vir die lewe, werp die Bybel lig op die saak deur die geestelik etiese kant daarvan aan te sny. Juis omdat die sin-kern van alle aspekte van God se skepping met die sin-kern van die ander aspekte saamhang, en hulle saam as oorspronklike skeppingsgegewes onder leiding van die tiperende aspek van ’n aksie in ’n situasie of samelewingskring funksioneer, kan enige saak ‘onder die son’ in ’n kerklike aspek ontwikkel, in kerklike diens geneem, of kerklik profeties hanteer word (Strauss 2010:2). Só kan geldelike wins uit saketransaksies vir kerklike dankoffers, verwerkte hout vir ’n kansel en ’n beskeie suikerpotjie by koffie as ’n doopvont gebruik word (Nauta 1971:127). Dit beteken dat die Algemene Sinode van die NGK, vanuit die Woord etiese lig op die verhouding van hierdie kerk met alle fasette van die samelewing kan laat val. Hierdie lig moet egter Bybelsgetrou wees én by die ‘gemiddelde’ Skrifgehoorsame gelowige1 oortuigend Bybels-gefundeerd of -getrou oorkom. As ’n kerk praat, moet dit getrou aan die Woord en dus met die gesag van die Here praat. As ’n kerk praat, moet dit wees om te sê: ‘So sê die Here’ (NGKO 1998:9; Strauss 1994:590–591; 2010:59–61; 2018a:1–12).2 Dit beteken dat die kerk deur geïnterpreteerde Skrifbeginsels en nie noodwendig gesiteerde Bybeltekste nie, gelei word en dat KS–1986 en KS–1990 met hulle uitgekristalliseerde verwerkte konstantes ’n bydrae in die kerklike debat oor apartheid lewer (Strauss 20b8b:411–432).
Beide KS–1986 en KS–1990 asook die uitspraak van die Algemene Sinode van 1998 oor die NGK en die opbou van die nuwe Suid-Afrika, moes as kerklike stukke hulle uitsprake uit die Bybel begrond en dit sodoende met goddelike gesag beklee. In die proses moes sosiaal etiese konstantes uit die Skrif die koers aandui.
KS–1986 en KS–1990 kom in ’n tyd waarin P.W. Botha (premier: 1978–1984; en staatspresident: 1984–1989; Kapp 2008a:131) en F.W. de Klerk (staatspresident: 1989–1994; Kapp 2008b:212) die leisels van die Nasionale Regering in Suid-Afrika hou. Beide beoog politieke hervorming weg van apartheid af, omdat die beleid soos dit onder Malan, Verwoerd en Vorster gevolg is, tot stilstand begin knars het. In 1980 reageer Botha op kritiek dat hy die witman van Suid-Afrika uitverkoop. Volgens hom was die Afrikaner die eerste een wat die juk van kolonialisme in Suider-Afrika afgegooi het en daarom moet hy nie ’n nuwe eeu van onreg vir ander minderhede skep nie. Die Afrikaner kan nie voortbestaan as hy nie aan ander op ’n Christelike grondslag die hand bied nie (Scholtz 1988:17–18). In sy skepping van ’n stabiele klimaat vir hervorming, wil Botha langs ’n ‘evolusionêre, konstitusionele weg’ beweeg (De Villiers 1984:71, 166, 332). Waar P.W. Botha blanke beheer as ’n waarborg vir stabiliteit beskou met die Parlement se driekamerstelsel (vir respektiewelik blank, bruinman en Asiaat) en ander hervormings, gaan sy opvolger, F.W. de Klerk, verder deur die Suid-Afrikaanse bestel vir magsdeling aan almal, met stemreg vir alle burgers uit die totale bevolking, oop te maak. Volgens De Klerk was sy voorganger se hervormings nie deel van ’n samehangende geheelprentjie nie. Hierdie gebrek het sy inisiatiewe gestrem. De Klerk aanvaar in die vroeë 1980’s dat die visie van ‘groot’ gebiedsapartheid as regverdige apartheid gefaal het. Daarom is magsdeling deur die hele bevolking, wat hom betref, onafwendbaar (Grobler 2007:176–177; Welsh 2009:267, 355). In die regerende Nasionale Party én die algemene politieke klimaat in Suid-Afrika, groei daar in hierdie tyd ’n breë opvatting dat die einde van apartheid in sig is. Welsh beweer dat Botha se hervormings onder blanke beheer teen 1986–1987 (rondom die verskyning van KS–1986) stoom verloor het. Sy persoonlike optrede was ook meer onvoorspelbaar en onseker (Welsh 2009:257, 263).
Soos die internasionale polities ekonomiese druk op Suid-Afrika toeneem (Grobler 2007:177), sou die kerklike druk op die NGK ook toeneem. Vanweë dié kerk se teologies morele steun aan apartheid, sou kerke wêreldwyd in 1982, as die aangekondigde jaar van kerke wêreldwyd se weerstand teen apartheid, hul druk teen die NGK laat toeneem. As gevolg van swart onrus in die 1980’s, was ’n noodtoestand die Nasionale Regering se enigste opsie om wet en orde in Suid-Afrika te handhaaf (Strauss 2020:7). Twee gebeure met ingrypende kerklike gevolge vermeerder die druk op die NGK. Die eerste is die Hervormingsdag-getuienis in 1980 van agt akademici in hierdie kerk, met kritiek op die stolling van apartheid. Dit was ’n Getuienis wat volgens een van die outeurs, J.A. Heyns, die klimaat in die NGK voorberei het om apartheid vanuit die Algemene Sinode te kritiseer, en KS–1986 en KS–1990 aan te bied (Die Kerkbode 1980:605; Kaapse Kerkargief, of KKA PPV 1375). Vir die Getuienis gaan dit op Hervormingsdag 1980 om die ‘hervorming van die bestaande orde’ in Suid-Afrika. Die tweede saak is die afkondiging van ’n status confessionis téén die Nederduitse Gereformeerde en Nederduitsch Hervormde Kerk se teologiese en morele regverdiging van apartheid. Dit was ’n stap wat deur die Algemene Vergadering van die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke in 1982 in Ottawa geneem is en tot die opskorting van die lidmaatskap van hierdie kerke lei (NGK 1982:97, 1182, 1183, 1203). Die intensiteit van die krisis verhoog wanneer die NG Sendingkerk, ’n jonger NGK, in Oktober 1982 met die konsepbelydenis van Belhar op die status confessionis van die Wêreldbond reageer. Volgens sommige van die outeurs is dit ’n belydenis téén die Bybelse steun aan ’n kerklike en sosiale apartheid (vgl. die betoog van Cloete & Smit 1984:7; Strauss 2012:19–20).3
In hierdie oorverhitte internasionale politieke en kerklike klimaat, sou die Algemene Sinode van die NGK met KS–1986 en KS–1990 (’n hersiende KS–1986) kom. Wat was die Algemene Sinode se reaksie op kritiese uitsprake oor apartheid? Het dit as ’n gereformeerde sinode ’n eie profetiese inslag getoon? Verder, het die NGK sonder tekens van invloed uit die gistingsproses oor apartheid in Afrikaanse geledere gekom?
KS–1986 en KS–1990: Agtergrond
Hoewel J.A Heyns die Algemene Sinode van die NGK van 1982 as ’n reaksionêre sinode beskou het – ’n sinode wat wal gooi teen ‘elke poging tot hervorming’ – besluit die Sinode in die gegewe omstandighede om Ras, volk en nasie en volkereverhoudinge in die lig van die Skrif, ’n pro-apartheidstuk van die Algemene Sinode van 1974, ‘indringend’ te hersien (NGK 1982:97, 1182, 1183, 1203). Sy opdrag aan ’n studiekommissie word nie in detail uitgestippel nie, maar ‘indringend’ toon dat veranderinge in die houding van die NGK oor apartheid oorweeg kan word. Op grond van die belang van die tema vir die kerk, word ’n kommissie van meningsvormers uit die algemene sinodale verband van die NGK aangewys: die voorsitter, ondervoorsitter, aktuarius en skriba van die Algemene Sinode van 1982 en 10 ander persone, waarby dosente van teologiese fakulteite waar NG-predikante opgelei word, asook ander kundiges uit NGK-gemeentes. Behalwe staande besluite van die Algemene Sinode, word NG-lidmate en kerklike instansies binne en buite die NGK én uit die buiteland deur Die Kerkbode genooi om voor die einde van 1983, studiemateriaal aan die kommissie voor te lê. So beland byna 2 000 bladsye op die tafel van die kommissie.4 Die NGK is onder groot druk oor sy steun aan apartheid en wil ’n deeglik oorwoë standpunt gereedkry. Die finalisering van KS–1986 hou die kerk op die lange duur vir byna vier jaar besig – tussen die Algemene Sinodes van 1982 en 1986 (NGK 1986:87–89).
Die studiekommissie verdeel sy opdrag in drie. KS-1986 bestaan uit ’n afdeling oor die Suid-Afrikaanse volke- en rasseproblematiek, ’n afdeling oor die prinsipiële én een oor die praktyk. Die eindproduk word deur konsensus in die kommissie verkry, maar kommissielede wat hiervan verskil, kan alternatiewe aan die Algemene Sinode voorlê (NGK 1986:89). KS–1990, as ’n hersiene KS–1986, volstaan met twee dele: ’n prinsipiële deel en enkele praktiese implikasies (KS–1990:2, 33).
KS–1986 beweer dat die problematiek van Suid-Afrika in die saambestaan van ’n groot verskeidenheid lê, wat nêrens in die wêreld geëwenaar word nie. Die verskille in ras, velkleur, volkskultuur, taal, onderwys, godsdiens en kerk, tesame met die ‘groot verskeidenheid in ontwikkelingspeil, alles in een samelewing’, het ’n groot konflikpotensiaal (KS–1986:5). KS–1990 wys egter nie op ontwikkelingsverskille as die kern van die Suid-Afrikaanse problematiek nie. Vir ’n begronding van sy blanke beheer vir stabiliteit, sou P.W. Botha op hierdie punt by KS–1986 kon aansluit, terwyl KS–1986 én KS–1990 die deur vir F.W. de Klerk met sy demokratiese eenheidstaat, oopmaak.5 KS–1986 én KS–1990 kom na verwikkelinge in die Nasionale Party nadat P.W. Botha reeds al bevestig het dat politieke mondigheid en regte nie van enige deel van die bevolking weerhou kan word nie. In die konteks van ’n verslane apartheid, neig die implikasie van hierdie mondigheid dus na ’n eenheidstaat met politieke regte vir almal. ’n Eenheidstaat wat, deur die prinsipiële aanvaarding van die gelykheid van almal, ontwikkelingsverskille buite rekening laat – vir De Klerk dui ’n eenheidstaat ’n bedeling aan waarin almal as gelykes stem (KS–1990:41).
Oor die roeping van die NGK sê KS–1986, dat die kerk duidelikheid moet kry oor watter eise die situasie in Suid-Afrika aan sy bediening stel, asook oor die wese van die kerk én sy diens in die samelewing. KS–1986 spits hom toe op die NGK en sy funksionering in hierdie samelewing. Sy tema is die NGK en sy taak in die Suid-Afrikaanse samelewing (KS–1986:5); ’n taak wat volgens KS–1986 die bevordering van menswaardigheid (KS–1986:30–32), geregtigheid en vryheid as Bybelse konstantes (KS–1990:37, 40) insluit.
Getrou aan ’n ‘gereformeerde preek’, beslaan die prinsipiële deel 34 van 63 bladsye (bl. 6–40) in KS-1986. Ten einde situasievreemde prinsipiële besinning te vermy, word die onderdele hiervan beëindig met ’n paragraaf oor: ‘Dit beteken …’, ‘Dit alles beteken …’ en ‘Dit alles impliseer …’ (KS–1986:6, 36, 39). Hiermee gee KS–1986 riglyne vir kerklike optrede in die Suid-Afrikaanse situasie. KS–1990 se prinsipiële deel beslaan 30 van 46 bladsye: bladsy 2–32. Hierin word die woorde ‘Dit beteken …’, of ‘Dit behels onder meer …’, of ‘Dit alles beteken …’ (KS–1990:3, 21, 30) gebruik.
’n Studie toon dat 40 paragrawe in KS–1986 direk na J.A. Heyns teruggevoer kan word. Hierby het hy in die gesprekke van die studiekommissie oor die teks van KS–1986 telkens vir die finale formulering gesorg. Na sy verkiesing tot voorsitter van die Algemene Sinode van 1986, neem hy dit op homself om as ’n eenmansfiguur KS–1986 in die binne- en buiteland te ‘bemark’; ’n inisiatief wat hom die titel van ‘Meneer NG Kerk’ besorg. Aanvanklik word hy as dogmatikus-etikus ingedeel by die prinsipiële deel, maar later lewer hy ook insette in die praktiese deel. Heyns is in hierdie stadium oortuig dat apartheid in sy laaste loopgraaf lê, en dat KS–1986 die laaste kans is wat die NGK kry om hierdie worstelende, strompelende beleid profeties krities én pastoraal te begelei (Strauss 2011:518; Williams 2006:196–198).
Hoewel KS–1986, gevolg deur KS–1990, beoog om as kerk profeties-krities met apartheid uit ’n Bybelse oogpunt om te gaan,6 wil KS–1986 en KS–1990 as amptelike kerklike dokumente hulle nie skuldig maak aan die propagering van ’n spesifieke nie-kerklike politieke beleid nie. KS–1986 beëindig sy prinsipiële deel met die stelling dat die kerk die Evangelie moet verkondig én slegs die implikasies van die heil moet uitwys vir die heiliging van die samelewing (KS–1986:40). KS–1990 wys op die toerusting van alle kerklidmate, om op alle terreine vir die koningskap van Christus te stry. Deur sy lidmate te stuur vir die aanvaarding van ’n politieke amp, dra die kerk die styl van die koninkryk in ander samelewingskringe in (KS–1990:31). KS–1986 ‘beklemtoon’ dat die weerhouding van politieke mondigheid en regte aan ’n deel van die bevolking, ’n ernstige aantasting van hulle menswaardigheid is (KS–1986:57). KS–1990 herhaal hierdie eis en beklemtoon dat politieke leiers in ‘verantwoordelikheid …’ aan ’n politieke bestel moet meewerk – ’n politieke bestel ‘wat vir almal vryheid, geregtigheid en ’n menswaardige bestaan sal meebring’ (KS–1990:40, 41). Hierdie visie van KS–1986 en KS–1990 staan in ’n Nederlandse neo-Calvinistiese of gereformeerde tradisie. In hierdie tradisie sluit God se koninkryk ook die praktiese politiek in, waarin Christelik-georiënteerde politici leiding neem om aan Bybels Christelike beginsels gestalte te gee.
As slotopmerking bid KS–1986 dat alle NGK-lidmate toeneem in begrip en fyn aanvoeling, om ‘die dinge’ te onderskei waarop dit werklik aankom (KS–1986:64). KS–1990 spreek die wens uit dat die Here ‘ons vrymaak om ons’ allereers te beywer vir die koninkryk en wil van God, met die sekerheid dat Hy sal sorg vir alles wat ons nodig het (KS–1990:46).
KS–1986 en KS–1990: konstantes vir die Suid-Afrikaanse situasie
In hulle kritiek op die praktyk van apartheid in die tagtigerjare, gebruik KS–1986 en KS–1990 Bybelse konstantes of beginsels as maatstaf. Beide bestempel die Skrif as die ‘enigste maatstaf (of sola scriptura) waaraan standpunte, gesindhede en optredes in die Suid-Afrikaanse situasie (ten diepste – PS) getoets moet word’ (KS–1986:6; KS–1990:3).
Vir beide KS–1986 en KS–1990 beteken hierdie vertrekpunt dat die situasie in Suid-Afrika aan oorwoë konstantes of vaste beginsels as beginpunte gemeet word, en dat die Bybel sulke konstantes gee om rigtinggewend vir kerklike én koninkryksoptrede te wees. Die twee KS-dokumente doen nie uitvoerige eksegese oor hulle Bybelse konstantes nie, maar gebruik dit as uitgekristalliseerde, kort omskrewe norme vir God se kerk en koninkryk.
Aan die spits van hulle kritiek, verwerp KS–1986 en KS–1990 apartheid as ’n sosiale sisteem soos dit in die praktyk hanteer is (KS–1986; KS–1990). Daarmee voldoen hulle nié aan die eis van die Wêreldbond in 1982 nie, naamlik dat die NGK alle vorms van apartheid onvoorwaardelik verwerp. Die vraag van kritiese kerke wêreldwyd is of die NGK ongekwalifiseerd daarteen is: in gees én praktyk. ’n Goeie woord vir enige aspek van apartheid én kerke se teologiese en morele ondersteuning daarvan, stuit hierdie kringe teen die bors. Omdat hierdie ondersteuning die Evangelie aantas – volgens ’n breë oortuiging in hierdie kringe – is ’n genuanseerde afwysing daarvan onvanpas (Cloete & Smit 1984:21; NGK 1994:30–32).
KS–1986 glo heelhartig die volgende:
[D]ie hantering van apartheid as ’n politieke en maatskaplike sisteem wat mense verontreg en een groep onregmatig bo ’n ander bevoordeel, [kan] nie op Christelik-etiese gronde aanvaar … word nie, omdat dit in stryd is met die beginsels van naasteliefde en geregtigheid en … die menswaardigheid van almal … betrokke …, aantas. (bl. 52)
Soos die besinning in die NGK in kommissies, konferensies en sinodes voortgegaan het, het die oortuiging ‘… gegroei dat gedwonge afsonderlikheid en skeiding van volke nie as ’n voorskrif uit die Bybel afgelei kan word nie’. Die poging in die NGK om so ’n voorskrif in die Bybel te vind, moet as ’n fout afgewys word (KS–1986:52).
’n Aantal opmerkings oor hierdie houding van KS–1986 is ter sake:
- In die eerste plek verwerp KS–1986 die ‘hantering’ van apartheid, of letterlik die prakties konkrete kant daarvan (Gaum 1997:73; Heyns 1989:71). Volgens KS–1986 bots die praktyk van apartheid in Suid-Afrika met Christelik etiese beginsels van naasteliefde, geregtigheid en menswaardigheid. Ten einde sy argumente Christelik eties te begrond, meet KS–1986 apartheid deurgaans aan hierdie, syns insiens, Bybelse norme (KS–1986:19, 24, 30, 32–34, 57). Onder die opskrif, Bybels-etiese riglyne, wys KS–1986 op ‘Christelike naasteliefde’, geregtigheid en reg, barmhartigheid, waarheid en die ‘Godgegewe waardigheid van die mens’ (KS–1986:24). KS–1986 verskaf ’n kort omskrywing van elkeen (KS-1986:24–32). Omdat menswaardigheid as ’n norm hier in die standpunte van die NGK deurbreek, motiveer KS–1986 hierdie norm deur die verbinding hiervan aan die herstel van God se beeld in mense. Volgens die Algemene Sinode het die sonde hierdie beeld verduister, maar nie vernietig nie. Die mens het steeds die status van iemand wat deur God met aansien en eer gekroon is. In Christus word die beeld van God met sy heerlikheid, waardigheid en eer – met totale gehoorsaamheid aan God – in die mens herstel. ’n Mensonwaardige behandeling voorkom hierdie herstel én benadeel ook hulle wat as subjekte daaraan skuldig is (KS–1986:31).7
- In die tweede plek impliseer KS–1986 dat dit hier gaan om ’n eenheidstaat of die verskeidenheid onder die inwoners van Suid-Afrika in een samelewing (KS–1986:4). Die mislukking van ‘groot’ apartheid wat op ’n verdeling in ’n aantal volkstate moes afstuur, word nie deur die dokument aangesny nie. Daarmee veronderstel KS–1986 dat ‘klein’ apartheid ook sy tyd gehad het. Met die oog op geregtigheid aan almal én die gelykwaardigheid van alle burgers, kondig die mislukking van groot apartheid ook die einde van klein apartheid aan. Hierdie mislukking behels groot en klein apartheid met afsonderlike geriewe, die bevoorregting van blankes op sekere punte, en praktiese politieke maatreëls wat blanke politieke beheer vir politieke stabiliteit waarborg – laasgenoemde soos deur P.W. Botha voorsien; ’n stabiliteit wat KS–1986 se gelykheid vir almal8 in die weg staan. Dit wil voorkom asof die Algemene Sinode én sy kommissie vir Kerk en Samelewing in daardie dominante groep Afrikaners verkeer wat aanvaar dat apartheid misluk het. J.A. Heyns is deel van hierdie groep en wou met die opstel van KS–1986 die pas aangee.
Die mislukking van apartheid lei tot twee duidelike gevolge onder Afrikaners as die outeurs, waarvan die kern hulle in die NGK bevind. Die eerste is ’n geskokte selfverwyt wat talle Christen-Afrikaners as NG lidmate inhibeer en van hulle ’n identifiseerbare groep maak wat politiek in Suid-Afrika en die nuwe toekoms gelate vanaf die kantlyn gadeslaan; ’n groep wat van buite krities inkyk én aanvaar dat hulle kans op ’n politieke bydrae verspeel is. Die tweede is Afrikaners se, ten minste uiterlike, aanvaarding van die nuwe spelreëls van die samelewing na 1994. Nuwe spelreëls vir sosiaal politiese Suid-Afrika, waarby hulle moet aanpas. Spelreëls wat hulle voorheen nie wou volg nie. Nuwe spelreëls wat Afrikaners as gereformeerde Christene nié eksplisiet krities aan hulle humanisties individualistiese trekke uitwys nie. Die humanisties individualistiese grondwet van 1996 waarborg in hoofstuk II menseregte vir elke individu en gee aan alle burgers die geleentheid om deel te neem aan die bestuur van die land (Rautenbach & Malherbe 1994:8–16) – ’n situasie wat talle Afrikaners en NGK–lidmate stilswyend en kopskuddend aanvaar. Soos sommige dit stel: die situasie kon slegter gewees het én bied aan ons, deur die grondwet, ten minste die regsbeskerming van die howe. Suid-Afrika is nou ’n regstaat wat vanuit en deur die grondwet geregeer moet word (vgl. Rautenbach & Malherbe 1994:21).
KS–1986 en KS–1990 impliseer ’n eenheidstaat
Teen hierdie agtergrond aanvaar KS–1986 by implikasie, dat die politiese toestand in Suid-Afrika in die 1980’s fisiek net ruimte het vir ’n eenheidstaat binne die – ironies – uniale (koloniale) grense van 1910; ’n ruimte waarbinne waarheid, naasteliefde, geregtigheid, barmhartigheid en menswaardigheid die strukture van die politieke en sosiale lewe van inwoners bepaal. Hierdie Skrifbeginsels veronderstel die gelyke aanspraak van alle inwoners – as wettige burgers of besoekers – op regverdigheid.
Volgens KS–1990 ‘verkondig’ die Skrif norme soos liefde, geregtigheid, menswaardigheid en vrede. Die kerk kan kragtens sy roeping nie politieke modelle aan die staatsowerheid voorskryf nie, maar sal vanuit sy profetiese funksie voortgaan om bestaande en voorgestelde modelle aan hierdie norme te toets. Met apartheid staan die kerk voor sterk en emosiebelaaide verskille. Verantwoordelike politieke leiers moet oplossings soek vir die maatskaplike probleme wat in Suid-Afrika bestaan. ’n Bevredigende oplossing moet ‘vir almal vryheid, geregtigheid en ’n menswaardige bestaan …’ bring. Die NGK het gefouteer, deur toe te laat dat ‘gedwonge afsonderlikheid en skeiding van volke … as ’n Bybelse eis gesien is’. Apartheid het ’n ideologies etnosentriese basis gekry, wat daarvan ’n politieke ideologie gemaak het wat dié belange van die blanke minderheid ten koste van dié van ander beskerm. Liefde vir die eie het meermale rassisme geword, wat in strukture en wette uitgedruk is. KS–1990 stel dit baie duidelik:
Apartheid het op so ’n wyse begin funksioneer dat die grootste deel van die landsbevolking dit ervaar het as ’n onderdrukkende sisteem wat deur gedwonge skeiding tussen mense … een groep onregmatig bo die ander bevoordeel. So het dit die menswaardigheid van die medemens aangetas en in stryd gekom met die beginsels van liefde en geregtigheid.
Enige sisteem wat in die praktyk so funksioneer, is in die lig van die Skrif en die Christelike gewete onaanvaarbaar en moet as sondig van die hand gewys word. Enige poging van ’n kerk om so ’n sisteem Bybels-eties te probeer verdedig, moet as ’n ernstige dwaling beskou word, dit wil sê in stryd met die Bybel. (bl. 39–40)
Soos KS–1986, maak KS–1990 in sy beoordeling van apartheid wat ‘op so ’n wyse begin funksioneer’ het, of ‘in die praktyk so funksioneer’, ’n onderdrukkende sisteem deur gedwonge skeiding; ’n sisteem wat om hierdie rede in stryd is met die beginsels van liefde, geregtigheid en menswaardigheid. Soos KS–1986, werk ook KS–1990 met die veronderstelling van ’n eenheidstaat waarin alle burgers op gelyke regte aanspraak maak. Hierdie houding word destyds ook in die Nasionale Party aangetref. Immers, die grense van die Republiek van Suid-Afrika, wat oorspronklik deur koloniale moondhede getrek is, is na meer as ’n eeu steeds ’n aanvaarde gegewe, hoewel dit nou ’n algehele eenheidstaat vir die totale bevolking begrens (KS–1990:39–40; Strauss 2020:7).
Die NGK stel as kerk volgens KS–1986 en KS–1990 nie ’n nuwe politieke bestel voor nie (Gaum 1997:43; KS–1986:53; KS–1990:38). Daarmee gee die kerk by implikasie toe dat die partypolitiek op die praktiese vrywording van onderdrukking die inisiatief in die gesprek neem. Die handhawing van ’n veronderstelde eenheidstaat in KS–1986 en KS–1990, loënstraf egter dié dokumente se stelling dat die kerk hom nie oor politieke modelle vir die toekoms moet uitspreek nie. ’n Geïmpliseerde eenheidstaat – nie-verbaal – is ook ’n keuse.
In hulle opmerkings oor apartheid as ’n liefdelose, onderdrukkende en onregmatig funksionerende sisteem, laat KS–1986 en KS–1990 eersgenoemde se rasse- en volkere-verskeidenheid én verskille in ontwikkelingspeil (KS–1986:5) buite rekening: ’n Verskeidenheid wat Heyns in 1989 nog vermeld (Heyns 1989:73). Dit gaan hier oor ’n verskeidenheid met konflikpotensiaal, wat volgens KS–1986 in die spanningsveld van die kontak tussen mense uit die eerste en derde wêreld gevoed word. Verskille wat in die Westerse geskiedenis sou lei tot die Westerse erkenning van die trappe van gevorderde regering, voordat ’n kolonie in die derde wêreld ’n onafhanklike demokrasie word. Met hulle erkenning van politieke gelykheid as ’n mensereg, móés die KS-dokumente logieserwys die verskeidenheid van die Suid-Afrikaanse bevolking as ’n polities bepalende beginsel laat vaar. In hulle veranderde visie op ’n staatkundige Suid-Afrika, het hulle ook nie na die bewese onstabiele politieke en sosiale kante van sommige demokrasieë in Afrika verwys nie. Dit is ’n gebrek aan stabiliteit wat so laat as 2021 steeds voorkom, en blyk uit onrus en verwoesting in KwaZulu-Natal en Gauteng. ’n Toestand wat in die 1980’s by NGK se lidmate wantroue skep in die betroubaarheid van die Algemene Sinode as ’n nie-humanistiese geloofsinstelling (Strauss 1997:171–173). ’n Wantroue blyk, wat sê dat die Sinode menseregte en verantwoordelikhede inruil vir regte en vryhede vir elke mens bloot omdat hy ’n mens is. ’n Toestand wat ook in die Algemene Sinode van 1998 se kyk op die nuwe land sou deurslaan.
KS–1986 en KS–1990 en die partypolitiek van die dag
Met KS–1986 en KS–1990 se geïmpliseerde eenheidstaat in Suid-Afrika, loop hierdie dokumente naby aan ontwikkeling in die Nasionale Party en onder Afrikaners. Moontlik vertoon hierdie verskynsel die reste van die 20ste-eeuse Afrikaner-eenheidsgemeenskap in kerk, staat en kultuur waarin die NGK as die godsdienstige, die Nasionale Party as die politieke en kultuurorganisasies as die kulturele kant van die gemeenskap funksioneer: ’n gemeenskap wat rondom 1980 in ’n nuwe situasie oor apartheid inbeweeg. Die Afrikaner-eenheidsgemeenskap wat tot KS–1986 en KS–1990 prominent was, met ’n gehegtheid wat selfs in ’n bepaling in die Kerkorde van die NGK opgeneem en weerspieël word.9 Gaum se opmerking in 1997 van ’n gisting van denke onder Afrikaners in die 1980’s, bevestig hierdie eenheidsgemeenskap.
Met hulle aanvaarding van rigtinggewende Bybelse konstantes in ’n geïmpliseerde eenheidstaat, moes KS–1986 en KS–1990 klein en groot apartheid afkeur. Teenoor groot apartheid as ’n interstaatlike vorm van gelykheid en – gelykheid is so gebruik – en daarom geregtigheid, moes daar ’n eenheidstaat met gelyke regte kom (WRK–Argief 280.38 n.d.:13–14); dus ’n staat wat hierdie oortuiging koester en die besonderhede daarvan in die praktiese politiek uitwerk. In KS–1986 en KS–1990 druip die apartheidspraktyk die toets van naasteliefde, geregtigheid, waarheid en menswaardigheid. Hoewel die NGK nie sonder emosie vir sy eie verlede voortgaan nie (KS–1986:51–53; KS–1990:39), ontken hy nie die gelykheid van alle mense as ’n internasionale politieke norm nie. Die kerk se Skriftuurlike konstantes geld vir alle mense in Suid-Afrika en kan nie deur hulle eie voorkeure, politieke keuses of die politieke vryheid van die Afrikaners vervang word nie. Hierdie uitgangspunt word deur die idee van ’n eenheidstaat in die KS–dokumente aanvaar, sonder ’n poging om KS–1986 se aanduiding van ’n verskeidenheid in die Suid-Afrikaanse bevolking, ’n verskeidenheid met groot konflikpotensiaal, te ontleed en deur die kerk as ’n vredesoeker te probeer ontlont. Vanuit hierdie gelykheidsbeginsel, is die NGK oënskynlik sku vir die ontstaan van konflik oor ’n geïmpliseerde ongelykheid. Die anti-apartheidsdruk van kerke oor die wêreld op die NGK, blyk hierin bepalend te wees. Rondom die aanvaarding van ’n eenheidstaat en hulle afskeid aan die verskeidenheid, toon die KS–dokumente druk wat hulle kerklike onafhanklikheid inperk en voorbeelde wat hulle onafhanklike kerklike posisie teenoor die politiek en kerke internasionaal, bevraagteken.
Met KS–1986 en KS–1990 beweeg die NGK nader aan die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke, én soos dit in 1984–1992 blyk, geesgenote in die Gereformeerde Ekumeniese Sinode (Strauss 2004:110–111, 116, 2013:8). In 1992 word die NGK weer ten volle as ’n lidkerk in die Ekumeniese Sinode en in 1998 in die Wêreldbond opgeneem (Strauss 2002:233, 240, 2004:111, 116).
Daar is gewys op J.A. Heyns se aandeel aan KS–1986. Daar is ook gewys op sy kritiek teen praktiese apartheid, veral na die Hervormingsdag-getuienis van 1980.
In 1985 neem Heyns, op versoek van P.W. Botha, die inisiatief om ’n ‘soort teologiese advieskomitee vir president P.W. Botha te vorm’. Hoewel Heyns eers in 1986 die voorsitter van daardie jaar se Algemene Sinode word, wil Botha uit hierdie gesprekke hoor hoe hy, Willie Jonker van Stellenbosch en Tjaart van der Walt van Potchefstroom as hervormingsgesinde teoloë oor sake van die dag dink (Jonker 1998:176–178). Omdat daar nie formele verslae van die gesprekke beskikbaar is nie, moet afleidings uit die blote betrokkenheid van die drie teoloë by die komitee gemaak word. Wat hieruit duidelik is, is die volgende: Heyns het naby aan die hervormingsgesinde president beweeg en eerstehands met die destydse Nasionale Regering se denke in kontak gebly. In 1988 ken die staatspresident die Dekorasie vir Voortreflike Diens aan Heyns toe (Van der Watt 1988:8). As Heyns wou, kon hy in hierdie konteks inderdaad as ’n nie-amptelike hofpriester van die presidensiële hof optree; ’n faktor wat die indruk dat KS–1986 op sekere punte deur regeringsfigure beïnvloed kon gewees het, nie uitskakel nie. Geen direkte lyn vanuit die standpunte in KS–1986 lei egter terug na hierdie bron nie. Wat wel waar is, is dat die kommissie van KS–1986 hierdeur ’n indirekte lyn (deur Heyns) vir inligting en indrukke na die staatshoof gehad het. Intussen was Heyns bekend as ’n selfstandige denker wat standpunt inneem (Van der Watt 1988:7). Dit is nie duidelik of die ‘konneksie’ met die president enige invloed op KS–1986 gehad het nie (Strauss 2021:11; Van der Watt 1988:7). Die opstellers van KS–1986 was wel deel van Gaum se ‘gisting’ in Afrikanergeledere, en daarmee aan die invloede uit hierdie kringe blootgestel – invloede wat moontlik in KS–1986 kon deurwerk.
Die eerste Algemene Sinode na die Sinode van KS–1990, is die Algemene Sinode van 1994. In hierdie stadium was die gebeure rondom KS–1986 en KS–1990 ou nuus. Die Sinode van 1994 besluit dat KS–1990, as ’n hersiening van KS–1986, die NGK se reaksie op ’n bepaalde historiese situasie is en daarom nie hersien gaan word nie (NGK 1994:500–501). Wat die NGK betref, is die sage rondom die KS–dokumente dus nou afgehandel.
Tog sou een saak rondom KS–1990 by die Algemene Sinode van 1994 nawerk.
Daar is getoon dat nóg KS–1986, nóg KS–1990 eersgenoemde se verwysing na die groot verskeidenheid konflikpotensiaal in die Suid-Afrikaanse bevolking, hanteer het. Teen ’n agtergrond van verskille in werksetiek, reageer die Algemene Sinode van 1994 op ’n boodskap, ter vergadering van president Nelson Mandela. In ’n besluit wat die nuwe president van die NGK se voorbidding verseker, word daar ook gewys op ’n beter lewenstandaard vir die bevolking, en die NGK se hulp aan die nuwe Regering se Heropbou en Ontwikkelingsprogram (HOP). Die bewoording van hierdie mosie getuig van versigtige, beheersde afwagting, moontlike samewerking en hoop (Strauss 2013:5).
Van hierdie program kom daar egter niks tereg nie. Die nuwe Regering werk nie deurgaans effektief nie. KS–1986 se verwysing na verskille in die ervaring van die bestuur van ’n land, word na die Algemene Sinode van 1994 algaande ’n skerper werklikheid. Boonop beleef die nuwe staatsowerheid ’n toename in dinge soos misdaad, korrupsie en geweld. Op sy beurt, staan die NGK groter getalle lidmate aan emigrasie af (NGK 1998:418–419). Die KS-dokumente verskyn dus sonder ’n verwysing na negatiewe ervarings van demokrasieë in Afrika. ’n Positiewe motivering vir die norm van gelykheid, laat skynbaar nie ruimte vir die negatiewe kante daarvan in Afrika nie.
Die NGK en die oorgang in Suid-Afrika
Die jaar 1994 lui die doodsklok vir staatkundige apartheid. Op 27 April 1994 gaan die land oor van beperkte stemreg na algemene stemreg, gereël deur die Tussentydse Grondwet van 1993. Die Grondwet van 1996 vervang eersgenoemde (Kleyn & Viljoen 1999:241–244, 259, 270). Onder ‘Die NG Kerk en die oorgang na ’n nuwe Suid-Afrika,’ noem De Villiers hierdie verandering: ‘veel meer’ as ’n nuwe staatkundige bedeling. Volgens hom het die verandering van 1994 tot ‘omvattende en radikale verskuiwinge’ gelei, en min lewensterreine onaangetas gelaat. Die algemene verkiesing van 27 April 1994 sou ’n totaal ‘nuwe Suid-Afrika’ inlui (De Villiers 1999:15).
’n Belangrike verskuiwing is die oorgang na ’n regstaat soos in die Grondwet van 1996 vervat. Hoofstuk 2 van hierdie Grondwet dra ’n handves van (mense-) regte (Kleyn & Viljoen 1999:267–276), wat die reg van die gemeenskap bepaal en die kernmaatstaf is waarvolgens die land se howe sake moet bereg. Die Grondwet van 1996, soos geïnterpreteer en toegepas deur die howe, het hoër regsgesag in die land as die parlement. Dit beteken dat die Republiek in die finale instansie deur die Grondwet met sy Handves, soos gelees deur sy howe as regsorgane, regeer word en as regstaat funksioneer. Die Grondwet met sy klem op individuele regte, maak van Suid-Afrika ’n nie-rassige, nie-seksistiese, liberale demokrasie, wat staan vir die vryheid van die individu; ’n demokrasie dus wat streef na openheid, vryheid, gelykheid en menswaardigheid (Kleyn & Viljoen 1999:241–244, 258–261; Stone 2014:154–155).
Die beklemtoning van die regte van die individu staan lynreg teenoor Suid-Afrika in die apartheidsera met klem op ‘n volkereverskeidenheid bestaande uit ongelyke groepe. Hoewel die NGK en sy Algemene Sinode deel was van die afskeid van apartheid deur Afrikaners sedert 1980 én in die Nasionale Regering van destyds ’n gewillige oor gevind het, verander dit nie aan die feit dat hierdie kerk na 1994 ’n lewensbeskoulik vreemde regering én grondwet het nie; en dat die NGK in die regerende African National Congress (ANC), om lewensbeskoulike redes, nié ’n meewerkende oor sou vind nie.
Kortweg gesê: die Grondwet van 1996, met sy ruim blik op individuele vryheid, ’n vryheid wat deur ander individuele vryhede in die Handves beperk en gebalanseer word, stem nie ooreen met die Christelike vryheid in Galasiërs 5:13 nie.Laasgenoemde is ’n vryheid wat nie ‘misbruik’ word om sonde, volgens die Bybel, te doen nie.
Teen hierdie agtergrond gee die Algemene Sinode van 1994 aan sy Tydelike Kommissie vir Leer en Aktuele Sake (TKLAS) die opdrag, om met ‘dringende spoed’ aan gemeentes leiding te gee oor hulle benadering tot die staatkundige oorgang in Suid-Afrika. Hierdie leiding moet help met insig in die ‘ingrypende en ingewikkelde proses’ en ’n ‘verbeeldingryker en gemotiveerde aandeel’ van lidmate aan versoening en die heropbou van die land verseker (NGK 1994:501).
Die feit dat die Algemene Sinode van 1994 ’n tydelike kommissie taak, ’n kommissie wat funksioneer tydens hierdie Sinode, toon dat die term ‘dringende spoed’ deur die vergadering ernstig opgeneem is. Die voorstellers beklemtoon daarmee die belangrikheid en aktualiteit van die gevraagde leiding. Hierdie dringendheid beland egter op die tafel van die permanente kommissie met dieselfde naam, wat eers aan die Algemene Sinode van 1998 rapporteer (NGK 1998:313–323). Die ‘dringende spoed’ van die studie oor die oorgang na ’n nuwe Suid-Afrika, neem verder af wanneer die Algemene Sinode van 1998 kennis neem van die studiestuk, en dit na ’n gespreksdokument vir gemeentes verander. Daarmee land die saak by kerkrade sonder geestelik etiese leiding oor ‘insig in’ die oorgangsproses, of verdere stappe in hierdie besinning in die NGK. ’n Ander sinodebesluit wat die naaste hieraan kom, is die opdrag aan sy Algemene Kommissie vir Gemeentebediening (AKG), om pastorale riglyne op te stel vir NG lidmate wat ‘ontwikkelings in die huidige samelewing negatief ervaar’ (NGK 1998:518). Die kwetsende implikasie hiervan is egter dat lidmate wat die ontwikkelings negatief ervaar, pastoraal begelei moet word. Hulle het kerklik pastorale bystand (hulp) nodig!
Die opdrag van die Algemene Sinode van 1994 behels twee aspekte: insig in die oorgangsproses, en ’n gemotiveerde, meer verbeeldingryke aandeel aan die versoening en opbou van die land. Beide vra vir ’n kerklik etiese visie en dus ’n gemotiveerde betrokkenheid by die oorgang. Dieselfde kerkvergadering was immers ’n dekade gelede meer indringend betrokke by apartheid.
Die Algemene Sinode van 1994 én 1998 wou met sy opdrag oor die nuwe bedeling weer by die tema ‘kerk en samelewing’ uitkom, maar die motivering ontbreek om die saak deeglik aan te pak. Die hantering van die voorstel oor die NGK en die oorgang, lê ’n louheid ten opsigte van hierdie bedeling in die breedste vergadering van die NGK bloot. Miskien dra die geskokte selfverwyt oor apartheid, ’n skok waarna verwys is, tot hierdie louheid by. Die NGK was soos Afrikaners, nog nie klaar met die verlammende geestelike proses rondom 1994 nie. Wat hierdie louheid bevestig, is die teksgeskiedenis van die betrokke studiestuk van AKLAS. ’n Jaar later, in 1999, verskyn die verslag as ’n artikel van D.E. de Villiers, ’n lid van AKLAS, in ’n teologiese tydskrif (De Villiers 1999:15–38; NGK 1998:89). Die trant van die teks spruit dus nie uit die insette van die lede van die kommissie nie, maar slegs hulle waarneming en goedkeuring, wat waarskynlik nie lank voor die Algemene Sinode van 1998 gegee word nie (NGK 1998:68). Die NGK sou die Suid-Afrikaanse samelewing na 1994 nie met dieselfde erns as voor 1994 benader nie. Formeel gesproke, het die Algemene Sinode ’n studiestuk ter tafel geneem, maar in praktyk sou dit minimale effek hê. Die eis van dringendheid in 1994 degenereer vier jaar later tot ’n ligte golfie (Botes 2012:366; De Villiers 1999:19, 24–27).
Die oorgang in ’n gespreksdokument
Die finale stuk van AKLAS, bevat min omstrede kwessies én sekere konsensuspunte onder NG lidmate wat na 1994 in die land bly (NGK 1998:68–78). Oor die oorgang, wys AKLAS op die transformasie van Suid-Afrika deur die nuwe regering, wat die reste van apartheid wil uitwis en ’n demokratiese, nie-rassige, nie-seksistiese toekoms beoog. Dit is ’n Suid-Afrika wat, syns insiens, gebuk gaan onder werkloosheid, ’n gebrekkige voorsiening van water en gesondheidsorg, ’n tekort aan behuising, sanitasie en voeding en die vraag na die hervorming van grond.
Dit wil voorkom asof AKLAS in hierdie stadium (1998) oordeel dat formele apartheid hierdie probleme nie kon oplos nie. Daarom gee die Kommissie – uit ’n saaklike optimisme – ’n onkritiese voorkeur aan die transformasie van die nuwe Regering en die hervorming van grond, onderwys en opleiding vir almal en ekonomiese gelykheid met eienaarskap, werk en die verkryging van vaardighede. AKLAS is skynbaar daarvan oortuig dat die veranderde nuwe land met sy humanisties individualistiese grondwet en daarop gebaseerde samelewingspraktyke, as ’n model van geregtigheid, Suid-Afrika se probleme sal hanteer. ’n Model wat in 1994 ook in die Westerse demokrasieë verwelkom word. Die onderliggende politieke simpatie van AKLAS blyk uit sy gebruik van die vriendelike term ‘bevrydingsbewegings’, vir instansies soos die ANC en PAC, wat hulle voor 1994 met geweld teen die strukture en draers van apartheid verset het.
Die ontwrigtende uitwerking wat die toepassing van die apartheidsbeleid, asook … militêre stryd tussen bevrydingsbewegings en die vorige regering gehad het, het die instelling van meganismes om die slegte erfenis van die verlede te hanteer en sover moontlik reg te stel, onvermydelik gemaak … In die onderwys is ’n omvattende transformasieproses op gang gebring om die benadeling van swart leerlinge en studente aan bande te lê … (NGK 1998:69)
Onder die oorgang na ’n nuwe Suid-Afrika kritiseer AKLAS die ‘onregmatige vervreemding van swart mense se grond deur vorige regerings’, ’n wanbalans van te veel wit en te min swart mense in die staatsdiens, te min bestuur deur swart mense in private ondernemings en die benadeling van hierdie groep in die onderwys. Vir die Kommissie is transformasie klaarblyklik ’n aanvaarbare metode om hierdie onreg reg te stel. Ten spyte van apartheid wat sleg uit AKLAS se analise van die verlede kom, wys die Kommissie ook op aspekte van ’n morele krisis in die beoogde getransformeerde Suid-Afrika: bedrog, korrupsie, geweldsmisdaad, moord, aanranding, verkragting en skakings. ’n Situasie wat volgens AKLAS uit ’n vaag uitgedrukte ‘samespel’ van faktore uit die verlede en hede ontstaan het. Vir AKLAS is apartheid ’n spook uit die verlede, wat die hede negatief beïnvloed. Apartheid het ‘morele afstomping’ gebring onder hulle wat betrokke was by geweld teen die beleid. ’n Afstomping wat tot die oorsteek van morele grense gelei het, waarin daar gemoor en gemartel is (NGK 1998:69).
AKLAS beskryf die oorgang in Suid-Afrika in ’n anti-apartheidstoon, sonder bevestigende statistiek of verwysings, maar lug ook sy kommer oor ‘die groeiende invloed van misdaadsindikate’ en misdaad in die nuwe land (NGK 1998:69). Hierdie gebrek in sy aanpak, doen afbreuk aan AKLAS se studie en die betroubaarheid van sy gevolgtrekkings. Onder modernisering en sekularisasie wys hy op ’n inkorting van die invloed van die kerk. Die grondwet van 1996 skep afstand tussen die NGK en die staatsowerheid, en die inspraak van hierdie kerk krimp ook by die staat en in die gemeenskap. In die nuwe samelewing neem die openbare invloed van die Algemene Sinode af. Die NGK beleef ’n verlies aan identiteit, ’n liberalisering van die nasionale sedewette, die negatiewe effek van regstellende aksie, sy eie swakker finansiële vermoë en ’n onverwerkte verlede onder lidmate (NGK 1998:69–71). Die kerk gaan deur ’n krisis oor sy gereformeerde identiteit. Hierdie krisis lei tot ’n groot variasie in prinsipiële denke onder lidmate (NGK 1998:69–73). Volgens AKLAS moet die NGK duidelikheid kry oor sy identiteit en rol in die nuwe Suid-Afrika. Kerkvergaderings en lidmate moet op ’n nuwe manier hulle roeping uitleef (NGK 1998:77).
AKLAS se opdrag om die NGK te help met insig in en ’n kerklike greep op die ingrypende oorgangsproses rondom 1994, kom in hierdie verslag in 1998 nie tot sy reg nie. Toegegee dat die ontstaan van die nuwe samelewing ná 1994 en die veranderde posisie van die NGK in hierdie bedeling aandag gekry het. Daar is ook gekyk na aspekte van die rol van die NGK in die nuwe land. Wat ontbreek, raak egter die kern van die opdrag: profetiese leiding oor kerklik etiese insig in die verstaan en beoordeling van die oorgang én van die prinsipiële basis of konstantes waarop die nuwe bedeling rus. Hiervoor is daar geen profeties kritiese aanpak, uit kritiese solidariteit soos byvoorbeeld by Johan Heyns en KS–1986 en KS–1990 teen apartheid nie (Heyns 1977:98–108).
Met die Grondwet van 1996 en ander formele outentieke kaarte op die tafel, kon die Algemene Sinode die geleentheid benut het om die nuwe staatkundige bedeling aan ’n etiese toets te onderwerp en afwykings van die beginsels of konstantes in KS–1986 en KS–1990 aan te toon: norme soos ‘Christelike naasteliefde’, geregtigheid en reg, barmhartigheid, waarheid en die ‘Godgegewe waardigheid van die mens’ (KS–1986:24; KS–1990:40). Hierdie konstantes waarmee die NGK sy teologies etiese steun aan apartheid deur die Algemene Sinode van 1974 hersien het (Strauss 1994:195–214), moes ook maatstawwe gewees het vir AKLAS se ontleding van die Grondwet van 1996 en die grondslae en inrigting van die nuwe bedeling. Die erkenning van die Bybelse aard van hierdie norme, is immers nie bevraagteken nie. Met sy verslag in 1998 kon die Algemene Sinode ’n brug gebou het tussen sy kritiese benadering van apartheid én die liberale demokrasie na 1994: ’n brug van prinsipiële konsekwentheid en kerklik profetiese onafhanklikheid. Dit kon ’n brug wees wat die verloop van sake vir lidmate kon vergemaklik het. Die vermoede ontstaan dat AKLAS of De Villiers se onkritiese hantering van die liberale demokrasie in die breër NGK só omstrede was, dat die studiestuk as ’n gespreksdokument vir gemeentes gegee en so stilweg uitgefaseer is. Daar het van die oogmerk van die hierdie stuk, wat gemeentelede moes help aan insig in die nuwe bedeling, nie veel gekom nie.
Slot
Tussen die konstantes wat die visie van die Algemene Sinode van 1986 en 1990 van die NGK op apartheid bepaal, en die konstantes wat die visie van die Kommissie vir Leer en Aktuele Sake van die Algemene Sinode van 1998 op die bedeling na 1994 bepaal, is daar ’n verskil. Die konstantes van naasteliefde, geregtigheid en reg, barmhartigheid, waarheid en menswaardigheid soos verwoord deur die Algemene Sinode van 1986 en 1990, kom nie weer by AKLAS en die gespreksdokument van die Algemene Sinode van 1998 aan gemeentes voor nie. Behalwe vir ’n gereformeerde kyk op die kerk, aanvaar laasgenoemde die liberale demokrasie van 1994 in Suid-Afrika feitlik kritiekloos as ’n gegewe.
Daar is spore by hierdie drie Sinodes dat die NGK as kerk in sy uitsprake nie los staan van die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse gemeenskap waarin hy funksioneer nie. Amptelike uitsprake van die NGK in 1986–1990 dra gedagtes wat in die Suid-Afrikaanse én Afrikaanse gemeenskap gehoor word én kontak met die Regering van vóór 1994 verraai. Veral KS–1986 en KS–1990 se implisiete erkenning van Suid-Afrika as ’n eenheidstaat, verraai die invloed van ’n breë stroom politieke denke onder Afrikaners. Daarby vertoon die opstellers van die AKLAS-verslag van 1998, die aanvaarde neerslag van heersende staatkundige denke in die land daardie tyd.
Waar KS–1986 en KS–1190 krities ingestel is op apartheid, kan dieselfde nie van die AKLAS-verslag van 1998 oor die bedeling na 1994 gesê word nie. AKLAS gebruik kernelemente van die oorgang kritiekloos en toon ’n onbekookte positiwiteit teenoor transformasie in Suid-Afrika, wat in beginsel of prinsipieel, bots met die betoog vir hervorming van KS–1986 (Heyns 1989:73–75; KS–1986:56).
KS–1986 se ontwikkelingsverskille onder die verskeidenheid van die Suid-Afrikaanse bevolking, het na 1986 van die tafel van die Algemene Sinode verdwyn, maar bly na meer as 30 jaar ’n destabiliserende realiteit in die breë Suid-Afrikaanse gemeenskap. ’n Kru voorbeeld is die onverskillige verwoesting en skade wat die onrus van 2021 in KwaZulu-Natal en Gauteng aangerig het. AKLAS-1998 het in 1998 ’n ligte, onkritiese stempel op destabiliserende elemente in die nuwe Suid-Afrika gesit, en daarna geswyg.
Erkenning
Mededingende belange
Die outeur verklaar dat daar geen finansiële of persoonlike verbintenis is met enige party wat hom nadelig kon beïnvloed in die skryf van hierdie artikel nie.
Outeursbydrae
P.J.S. was die enigste outeur betrokke by die skryf van die artikel.
Etiese oorwegings
Hierdie artikel volg alle etiese standaarde vir navorsing.
Befondsing
Hierdie navorsing het geen spesifieke toekenning ontvang van enige befondsingsagentskap in die openbare, kommersiële of nie-winsgewende sektore.
Data beskikbaarheidsverklaring
Die deel van data is nie van toepassing op hierdie artikel nie, aangesien geen nuwe data in hierdie studie geskep of ontleed is nie.
Vrywaring
Die sienings en menings wat in die artikel uitgedruk word, is dié van die outeur en weerspieël nie noodwendig die amptelike beleid of posisie van enige geaffilieerde agentskap van die outeur nie.
Literatuurverwysings
Botes, D.H., 2012, ‘Die NG Kerk as profeet teenoor die Suid-Afrikaanse Regering 1962–2002: ’n Kerkhistoriese perspektief’, Ongepubliseerde DTh-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.
Cloete, G.D. & Smit, D.J., 1984, ’n Oomblik van waarheid, Tafelberg, Kaapstad.
De Kock, P.B., 1975, Christelike Wysbegeerte: Inleiding, Sacum, Bloemfontein.
De Villiers, D.E., 1984, P.W., Tafelberg, Kaapstad.
De Villiers, D.E., 1999, ‘Die NG Kerk en die oorgang na ’n nuwe Suid-Afrika’, Skrif en Kerk 20(1), 15–38. https://doi.org/10.4102/ve.v20i1.1163
Gaum, F.M., 1997, Die verhaal van die Ned.Geref. Kerk se reis met apartheid 1960–1994: ’n Getuienis en ’n belydenis, Hugenote-Uitgewers, Wellington.
Grobler, J., 2007, Uitdaging en antwoord – ’n Vars perspektief op die evolusie van die Afrikaners, Grourie, Pretoria.
Heyns, J.A., 1977, Die Kerk, NG Kerkboekhandel, Pretoria.
Heyns, J.A., 1989, Teologiese etiek 2/2. Sosiale etiek, NG Kerkboekhandel, Pretoria.
Jonker, W.D., 1998, Selfs die kerk kan verander, Tafelberg, Kaapstad.
Kapp, P.H., 2008a, ‘Botha, Pieter Willem (PW)’, in F. Gaum (red.), Christelike Kernensiklopedie, pp. 130–131, Lux Verbi, Wellington.
Kapp, P.H., 2008b, ‘De Klerk’, in F. Willem (red.), Christelike Kernensiklopedie, pp. 212–213, Lux Verbi, Wellington.
Kerkbode, 1980, Kaapse Kerkargief of KKA PPV 1375.
Kerk en Samelewing, 1986, ’n Getuienis van die Ned.Geref. Kerk soos aanvaar deur die Algemene Sinode, Oktober 1986, Pro Christo, Bloemfontein.
Kerk en Samelewing, 1990, ’n Getuienis van die Ned.Geref. Kerk soos aanvaar deur die Algemene Sinode van die Ned.Geref. Kerk, Oktober 1990, Pro Christo, Bloemfontein.
Kleyn, D. & Viljoen, F., 1999, Beginnersgids vir regstudente, 2e druk, Juta, Kenwyn.
Nauta, D., 1971, Verklaring van de kerkorde van de Gereformeerde Kerken in Nederland, Kok, Kampen.
Nederduitse Gereformeerde Kerk, 1982, 1986, 1994, 1998, Agenda en Handelinge van die Algemene Sinode, s.l., s.n.
Nederduitse Gereformeerde Kerk Kerkorde (NGKO), 1964, Kerkorde van die NG Kerk 1962, NG Kerk-Uitgewers, Kaapstad.
Nederduitse Gereformeerde Kerk Kerkorde (NGKO), 1986, 1990, 1998, Die Kerkorde, s.l., s.n.
NG Kerk-Uitgewers, 1982, Ons glo … die drie Formuliere van eenheid en ekumeniese belydenisse, NG Kerk-Uitgewers, Wellington.
NGK, sien Nederduitse Gereformeerde Kerk.
Pont, A.D., 1981, Die historiese agtergronde van ons kerklike reg I, HAUM, Pretoria.
Rautenbach, I.M. & Malherbe, E.F.J., 1994, What does the Constitution say?, Rand Afrikaans University, Johannesburg.
Scholtz, J.J.J., 1988, Vegter en hervormer – Grepe uit die toesprake van P.W. Botha, Perskor, Johannesburg.
Stone, H., 2014, Weerskant die Rubicon, FAK, Brandfort.
Strauss, P.J., 1994, ‘Kerklike sake, die kerk en die koninkryk van God’, In die Skriflig 28(4), 581–592. https://doi.org/10.4102/ids.v28i4.1520
Strauss, P.J., 1997, ‘Die krisis rondom “meerdere” vergaderings in die Ned Geref Kerk’, Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif (NGTT), 38(3), 171–179.
Strauss, P.J., 2002, ‘Die Ned. Geref. Kerk en sy ekumeniese bande: toenemende isolasie deurbreek’, in F. du Toit, H. Hofmeyr, P. Strauss & J. Van der Merwe (reds.), Moeisame pad na vernuwing – Die NG Kerk se pad van isolasie en die soeke na ’n nuwe relevansie, pp. 181–241, Barnabas, Bloemfontein.
Strauss, P.J., 2004, ‘Die teologiese en morele regverdiging van apartheid en ’n status confessionis: ’n Vergelyking tussen die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke en die Gereformeerde Ekumeniese Sinode se hantering van die saak’, Acta Theologica Supplementum 6, 96–121.
Strauss, P.J., 2010, Kerk en orde vandag, Sunmedia, Bloemfontein.
Strauss, P.J., 2011, ‘Kerk en samelewing in die dokumente “Kerk en Samelewing” na 25 jaar’, Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif (NGTT) 52(3, 4), 511–520. https://doi.org/10.5952/52-3-60
Strauss, P.J., 2012, ‘Die belydenisbeweging teen apartheid’, in P. Theron (red.), Belhar geweeg, pp. 16–20, Brandfort, Kraal.
Strauss, P.J., 2013, ‘Kerkwees in die branding: Die Ned.Geref. Kerk in algemene sinodale verband 1994–2011’, Acta Theologica 33(Suppl. 18), 1–154. https://doi.org/10.4314/actat.v33i1S.1
Strauss, P.J., 2018a, ‘Die Ned.Geref. Kerkorde van 1962: In samehang en voeling met die res van die lewe of werklikheid?’, KOERS 83(1), 1–12. https://doi.org/10.19108/KOERS.83.1.2369
Strauss, P.J., 2018b, ‘Die NG Kerk se profetiese stem teenoor die SA owerheid in die dekade na 1994’, Stellenbosch Theological Journal 4(1), 411–432. https://doi.org/10.17570/stj.2018.v4n1.a19
Strauss, P.J., 2020, ‘Die Ned.Geref. Kerk se afskeid van apartheid: Cottesloe (1960) ’n voorloper van Kerk en Samelewing (1986,1990)?’, In die Skriflig 54(1), 1–9. https://doi.org/10.4102/ids.v54i1.2529
Strauss, P.J., 2021, Die hervorming van apartheid in die 1980’s: die politieke benadering van P.W. Botha en kerklike insette van J.A. Heyns, Ongepubliseer.
Van der Watt, P.B., 1988, ‘Prof. dr. Johan Adam Heyns – anno sexagesimo’, in C.J. Wethmar & C.J.A. Vos (reds.), ’n Woord op sy tyd, pp. 1–8, NG Kerkboekhandel, Pretoria.
Welsh, D., 2009, The rise and fall of apartheid, Jonathan Ball, Johannesburg.
Wêreldraad van Kerke (WRK) Argief 280.38, n.d., Cottesloe contents confidential, pp. 13–14.
Williams, H.H., 2006, ‘J.A. Heyns en die Ned. Geref. Kerk en apartheid’, Ongepubliseerde DTh-proefskrif, Universiteit van die Vrystaat.
Voetnotas
1. Hierdie gemiddelde lidmaat raak die lidmate wat die werk van die gemeentes van die kerk doen, of die meningsvormers van die kerk vorm. Anders gestel: hier gaan dit om lewende lidmate.
2. Kyk KOERS 83/1 vir Die NG-Kerkorde 1962: In samehang en voeling met die res van die lewe of werklikheid? https://doi.org/10/KOERS.83.1.2369
3. Volgens Cloete en Smit word die Belydenis van Belhar aanvaar ‘na aanleiding van die afkondiging van ’n status confessionis rondom die verwerping van ’n morele en teologiese regverdiging van apartheid’ (Cloete & Smit 1984:7).
4. In sy verslag aan die Algemene Sinode van 1986, vermeld die studiekommissie 51 geskrewe stukke van kerklike instansies plaaslik en internasionaal, NGK-predikante én ekumeniese liggame (NGK 1986:87–89).
5. In 1989 voer J.A. Heyns aan dat die Bybelse eise van raadpleging en beraadslaging in Suid-Afrika saamloop met die ontwikkelingspeil van diegene met wie beraad gevoer word (Heyns 1989:73).
6. In sy prinsipiële deel verklaar KS–1986 dat die ‘Heilige Skrif die volkome en vir alle tye gesaghebbende openbaring van God is. Daarom is dit vir ons die enigste maatstaf waaraan standpunte, gesindhede en optredes in die Suid-Afrikaanse situasie getoets moet word’ (KS–1986:6). In sy inleiding onderskryf KS–1990 opnuut hierdie standpunt (KS–1990:3).
7. Die derde vraag van die Heidelbergse Kategismus lei tot die belydenis dat die mens na die ewebeeld van God geskep is, sodat hy God reg kan ken, liefhê, loof en prys. Dit beteken dat die beeld van God in die sondige mens herstel word, as hy deur die Woord en Gees van God in die regte verhouding met God herstel word (NG Kerk-Uitgewers 1982:40).
8. Hoewel KS–1986 hom nie letterlik oor die gelykheid van die hele bevolking uitlaat as ’n maatstaf vir geregtigheid nie, word dit by implikasie as ’n maatstaf vir regverdigheid in die dokument se opmerkings oor sekere konkrete kwessies gebruik. Volgens KS–1986 is gelykheid bepalend in die kerk (KS–1986:15); die gelykwaardigheid of waardigheid van elke mens moet eerbiedig word (KS–1986:19); daar is ’n reg op menseregte (KS–1986:33–34); KS veroordeel apartheid wat ‘een groep onregmatig bo ’n ander bevoordeel’ (KS–1986:52); KS verset hom teen die weerhouding van politieke regte aan ’n deel van die bevolking wat hulle menswaardigheid aantas (KS–1986:57); en beywer hom vir gelyke lone vir gelyke werk én gelyke geleenthede vir gelyke werksmoontlikhede (KS–1986:59).
9. In NGKO (1986:20), artikel 69.2 trag die NGK om die ‘Protestants-Christelike karakter van ons volk te beskerm, te behou en uit te bou’. NGKO (1990:19), artikel 69 laat dit weg. Artikel 69.2 kom van die Algemene Sinode van 1962, wat die internasionaal gekritiseerde Nasionale Regering na Sharpville in 1960, in sy beskerming neem (NGKO 1964:14–15; Strauss 2010:128).
|